Van Niekerk, A
Universiteit van Pretoria

Praktyk-opleiding as deel van teologiese opleiding

ABSTRACT

Training in Practice as Part of Theological Training

Many churches in South Africa are considering ways to respond to major national problems such as poverty, HIV/AIDS and violence or crime. Surveys show that most Dutch Reformed congregations are not very skilled in this area, and that the theological education does not have the capability to guide congregations to become involved in a well-researched and well-tested manner. Practice research and practice training are procedures that can be followed to meet this challenge. Where academic work primarily produces publications, practice research leads to actions, products or processes first, with publications as an off-spin. Certain adjustments would be required to make the integration of practice learning and practice research into the theological course possible. An adjustment to our view of theology would be that academic work must be seen as a second order activity, namely reflection on the faith and life of the church, and not as the primary source of knowledge and understanding – as tends to happen if the theological debate is confined to theologians. It would also be necessary to adjust the structure of the academic program to make it possible for academics to do these procedures, and to motivate them to do so.

Die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria het begin met ’n reeks besprekings met die oog op ’n nuwe kurrikulum vir die teologiese opleiding. Die riglyn wat gegee is deur die rektor van die Universiteit, prof Callie Pistorius, het die gesprekke beïnvloed: die beplanning moes met ’n skoon vel papier begin. Daar moet nie maar net aanpassings aan die huidige struktuur gemaak word nie, die opleiding moet van nuuts af bedink word – in die mate wat so iets natuurlik moontlik is.

In hierdie artikel gaan dit oor die vraag: beantwoord die teologiese wetenskap en die gemeentes van die NG Kerk aan ons roeping om vanuit ons belydenis sinvol te antwoord of te reageer op die groot probleme van die land, soos armoede en MIV/vigs? Indien nie, wat is die probleem? Hoe kan dit reggestel word?

1. DIE PROBLEEM

Die probleem wat in hierdie artikel bespreek word, bestaan uit twee dele:

1.1 Gemeentes se onvermoë om met geesdrif en kundigheid by die groot probleme van die land, soos armoede en MIV/vigs betrokke te raak. Hierdie probleem blyk duidelik uit Kerkspieël 2004:

• 63.1% van die totale aantal NG-gemeentes onderneem gemeenskapsontwikkelings- projekte; 63,4% van hulle, of 40% van die totale aantal gemeentes, het voedingskemas (Schoeman en Bisschof 2004: 38). Voedingskemas kan egter beswaarlik as ontwikkeling beskou word – dit werk eerder teen ontwikkeling omdat dit afhanklikheid bevorder. Dit is ’n basiese uitgangspunt van ontwikkelingswerk wat iemand soos MER reeds in die dertigerjare beklemtoon het (Steyn 2004:297,298). Van die gemeentes wat projekte het, het 25.0%, of 16% van die totale aantal gemeentes, werkklasse – wat, afhangende van die aard van die klas, waarskynlik ’n beter metode is. Gegewe die aard van die Christelike barmhartigheid en die omvang van armoede en nood, is hierdie pogings egter onvoldoende.

• Slegs 12% van die totale aantal gemeentes het ’n MIV/vigs strategie. Schoeman en Bisschoff (2004:38-39) merk tereg op dat gemeentes nie sal kan voortgaan om hierdie krisis te ignoreer nie.

Wat is die oorsaak van die probleem? Twee moontlikhede word genoem: Gemeentes verstaan te min van hulle missionêre roeping in die wêreld en/of die stryd om oorlewing en instandhouding laat nie ruimte vir gerigtheid na buite nie: “Net minder as die helfte van die gemeentes is of sterwend of besig met ’n oorlewingstryd ... klein plattelandse gemeentes en gemeentes met minder as 600 lidmate is in ’n stryd om oorlewing” (Schoeman en Bisschoff, 2004:21,22.

Die gevolgtrekking is veelseggend: “Gemeentes het ’n behoefte aan ’n behoorlike strategie en roeping, veral as missionêre gemeenskap. Te veel gemeentes funksioneer sonder ’n strategie en is net op oorlewing en instandhouding ingestel. ’n Behoorlike ingesteldheid op diens aam die gemeenskap ontbreek by baie gemeentes”. Die volgende oplossing word genoem: “Kleiner en plattelandse gemeentes gaan in die toekoms swaarder kry. ’n Unieke bedieningspatroon, wat wyer strek as net ’n predikantspos, behoort vir die kategorie van gemeentes ontwikkel te word” (Schoeman en Bisschoff 2004:42,43).

Hierdie stelling is belangrik, en plaas ’n hele lys vrae op die agenda. Hoe moet hierdie “unieke bedieningspatroon” lyk? Wat beteken “wyer as net ’n predikantspos” in praktyk? Hoe sal ons die “veranderde omstandighede” kan verreken, veral as hulle voortdurend weer verander? Dit is nie net die kerk en die teologie wat met sulke vrae besig is nie. Die Universiteit van Pretoria se strategie vir 2002-2005 b klemtoon die noodsaaklikheid van entrepreneurskap, sodat mense wat nie formeel in diens geneem kan word nie, tog vir hulleself werkgeleenthede moet kan genereer.

1.2 Die tweede probleem is: Die onvermoë van die teologiese opleiding om gemeentes te begelei om ’n behoorlike missionêre diens aan die gemeenskap te lewer.

In Augustus 2003 is ’n verslag, Verslag oor Voortgesette Teologiese Opleiding, wat deur Markdata vir die kuratorium van die NG Kerk-opleiding gedoen is, bekendgestel. Die verslag berus op ’n telefoniese navraag wat by 400 predikante in die vier Transvaalse sinodes gedoen is. Op die vraag watter besware hulle teen hulle eie opleiding het, het 75% van die respondente verwys na: “Nie praktykgerig/te akademies/te abstrak”. Die beswaar wat die tweede meeste stemme gekry het, het net 5,6% verteenwoordig!

Ook uit ander oorde word na hierdie probleem verwys. ’n Predikant van die kerk, wat deeltyds aan die Teologiese Fakulteit by die Universiteit van Pretoria doseer het, skryf in sy doktorale proefskrif: “Ek vermoed dat daar toenemend ’n kloof sal ontstaan tussen teoloë wat hulleself as postmodern beskou en die hoofstroom van die kerk waar ’n modernistiese of pre-moderne teologie domineer” (Bosman 2001:441,442).

Gevolgtrekking: Die eerste probleem wat aangedui kan word, is die gaping tussen die gemeentes en die gemeenskap. Die tweede probleem is die gaping tussen die teologiese opleiding en die gemeentes.

In hierdie artikel word veral aandag gegee aan die tweede probleem, die gaping tussen die teologiese opleiding en die gemeentes. Hoe het die gaping ontstaan? Daar word eers na die tradisionele en huidige strukture gekyk, en daarna word aandag gegee aan moontlike veranderings.

2. DIE TRADISIONELE STRUKTUUR VAN DIE TEOLOGIESE OPLEIDING

Die tradisionele struktuur is dat die teologie gevoed word uit die Woord, die tradisie (bestaande teologie) en die wetenskappe. Die teoretiese kennis wat opgedoen word, word in die praktyk toegepas. Dit kan as volg voorgestel word:

Image62067.PNG

Hierdie struktuur was voldoende in ’n tyd toe die teoloog, predikant en lidmaat se leefwêrelde redelik naby mekaar was. Indien die leefwêrelde egter verder uitmekaar beweeg, moet meer moeite gedoen word om te verseker dat teoloë en predikante die talle leefwêrelde van die gemeenskap kan ken en begryp. Teoloë en predikante gaan steeds Sondae kerk toe, doen inkopies en neem deel aan sport en kulturele aktiwiteite. Maar wat nodig geraak het, is ’n doelgerigte en gestruktureerde vorm van plaaslike betrokkenheid en interaksie met die ander. Daar moet letterlik in verhouding getree word met die arme, die owerhede, die industrie en andere. Dit is in wese waaroor sending gaan: die verhouding met die ander en in besonder ook met die onbekeerde ander.

Daar is egter sekere ontwikkelings in die akademiese wêreld wat sodanige kommunikasie eerder teenwerk as bevorder.

3. DIE HUIDIGE AKADEMIESE STRUKTUUR

In die afgelope dekade of twee het daar by die universiteite ’n struktuur ontwikkel wat as ’n aangepaste vorm van die tradisionele struktuur beskou kan word. Dit neig om die teologie te vervreem van die daaglikse praktyk van die kerk. Die aanpassings in die struktuur is die onbedoelde gevolg van die beleid wat gevolg word om akademici aan te moedig om meer navorsing te doen.

Dosente se werk sentreer tradisioneel om doseerwerk en navorsing. Doseerwerk vind volgens’n vaste program plaas, maar navorsing hang van die dosent self af. Die beleid om navorsing te bevorder lei tot die volgende proses:

• Aanname: Die aanname is dat navorsing gestalte vind in publikasies en proefskrifte;

• Beloning: Om navorsing aan te moedig, gee die regering groot subsidies vir gepubliseerde artikels. Dit is tans sowat R70 000 per artikel wat deur twee vakgenote goedgekeur is. Daarvan kom sowat R6 000 in die dosent se navorsingsfonds (nadat bladgelde betaal is);

• Teikenleser: ’n Artikel en ’n proefskrif moet deur 2 vakgenote goedgekeur word voor dit gepubliseer of aanvaar word; so word mede-akademici in werklikheid die lesers vir wie ’n akademikus skryf;

• Bron van inligting: Ander publikasies word as vernaamste bron van inligting gebruik. Publikasies is die mees toeganklike bron. Die belangrikheid van publikasies as bron kan gesien word in die gebruik van bronnelyste by artikels en proefskrifte. (Die impak van die internet sal waarskynlik al meer voelbaar raak, en mag bydra tot die verskuiwing van ’n leeskultuur na ’n virtuele kultuur en werklikheidservaring, en van die tradisie as bron na die globale teologiese gesprek as bron van inligting).

Dit kan as volg illustreer word:

Image62156.PNG

Hierdie struktuur het verskeie, meestal onbedoelde, gevolge:

• Twee relatief geslote inligtingsisteme ontstaan: Die proses waar publikasies uit publikasies voortkom en teoloë vir ander teoloë skryf, bevorder ’n relatief geslote inligtingsvloei in die kring van vakgenote. Daarmee saam ontwikkel daar in die kerk ’n soortgelyke inligtingsvloei los van die teologie. Die gevolg is dat die mense in die teologie sowel as die mense in die kerk hulle eie inligting onderling uitruil en relatief afgeslote van mekaar begin funksioneer;

• Globale eerder as plaaslike teologie ontstaan: Die fondse wat uit publikasies gegenereer word, word eerder benut vir oorsese besoeke (akademiese skakeling, die internasionale gesprek) as vir plaaslike praktyknavorsing;

• Fragmentasie in die teologie en die wetenskappe: Die beloning vir publikasies moedig individuele akademici aan om eie navorsing- en publikasiedoelwitte na te jaag, maar nie om by die kerk en by mekaar betrokke te wees nie – tensy hulle in ’n span saamwerk, wat selde kan gebeur. Dit bevorder fragmentasie. ’n Aantal NG-studente van die Teologiese Fakulteit, Universiteit van Pretoria, wat in die jaar 2003 betrokke was by die gemeentejaar, het in ’n brief aan die dosente hulle “frustrasie oor die fragmentasie van die kursus (brokkies) en gemeentejaar” te kenne gegee. Dit het gelei tot ’n reeks besprekings deur die NG-dosente, waarin daar oor “groter integrasie van teologiese dissiplines” besin is (sien Notule van NG Dosenteraad, 19 en 30 Januarie 2004);

• Die wetenskaplike waarheid lei skade: Die praktyk dat ’n ander akademikus bloot aangehaal kan word om ’n stelling te legitimeer lei volgens Stephen Neill, ’n Nuwe Testamentikus en sendingwetenskaplike, tot die neiging in die Bybelwetenskappe “to treat a possibility as though it were a probability, and then a little later to treat it as though it were a certainty”, en: “Because some view has an eminent name attached to it, because it has been often repeated on authority ... it comes to be assumed ... that it has a far greater measure of certainty than can legitimately be ascribed to it” (Neill 1964: 248, 346).

Die gaping tussen teorie en werklikheid het ’n dieper oorsprong in die waarheidsbegrip waarmee ons werk.

4. VERSKILLENDE WAARHEIDSBEGRIPPE

Teorie en praktyk is tans onversoenbaar omdat hulle begrip van waarheid verskil.

Die opleiding vertoon nog die invloed van die Griekse gees, wat idees en beginsels belangriker ag as hulle “toepassing” (Bosch 1994:421). Dit lei daartoe dat teologie soms (meestal onbewustelik) beskou word as die plek waar waarheid en kennis ontstaan of ontwikkel word. So skryf Piet Naudé in Kerkbode, 8 en 9 Junie 2001 onder die opskrif Hê geduld op die pad van die waarheid: “Lidmate moet egter respek hê vir geleerdes wat op die rand van kennisontwikkeling en internasionale teologiese debat staan ... Hulle veg in die voorste linie van die waarheidstryd. Hulle word eerste getref deur allerhande strominge lank voordat dit grondvat en lidmate bereik. In dié sin is hulle profete van ’n onverwagte en dikwels onthutsende môre ... Daar moet egter ook by geleerdes begrip en respek wees vir lidmate se allerheiligste geloof. Vir die feit dat tradisies nie grense is wat oornag verskuif kan word sonder ’n groot invloed op die praktiese geloofslewe nie. Om met nederigheid te luister na die waarheid by gelowiges ...” In hierdie beskouing is teoloë duidelik op die voorpunt, gerig op môre, die toekoms, die ontvouing van nuwe waarhede. Lidmate, daarenteen, is gerig op die verlede, die tradisie. Hulle moet gehelp word om aan te pas maar hulle gee nie die toon aan nie.

Indien ons waarheid egter beskou as iets wat met die praktyk van die daaglikse werklikheid te doen het eerder as met die internasionale debat, het lidmate ’n voorsprong op die teoloë – en nie andersom nie.

Die praktyk is anders as die wetenskap. In die praktyk is die mens betrokke by die werklikheid. Praktiese besinning vra na die wyse waarop daar suksesvol met betrekking tot dit waarby ’n mens betrokke is, gehandel kan word. Die waarheid van ’n insig word gemeet aan sy effektiwiteit in die toepassing daarvan. Waar die einde van wetenskap ’n konseptuele representasie is, byvoorbeeld ’n publikasie, is die einde van praktiese besinning ’n handeling of ’n produk (Heidegger 1998:32-112 en 2001, met erkenning aan Riaan Ingram).

Die Bybelse waarheidsbegrip is verbind aan die praktyk en die besinning daaroor. Hierin verskil dit van die Griekse benadering wat die waarheid in die ideëwêreld soek. Bybelse wysheid is praktiese lewenskunde. 1 Johannes beskou waarheid, liefde en lewe as onlosmaaklik van mekaar. Die Woord het vlees geword. Waarheid kan slegs in verhoudinge van liefde – dws die praktyk – waarheid wees. Die liefde tot God moet gebeur met die hele hart, siel, krag en verstand, as ’n eenheid. Waarheid kan slegs verstaan word as dit nie net gedink word nie, maar ook gedoen word.

Hierdie waarheidsbegrip kom in ons tyd op verskillende maniere in die teologie – en spesifiek in die sendingwetenskap – na vore.

David Bosch se hoofstukke oor “New Testament Models of Mission” (1994:pp15-178) neem as vertrekpunt die stelling van Martin Kähler uit 1908 dat die Nuwe Testament nie geskryf is deur wetenskaplikes wat op hulle gemak die bewysmateriaal kon verifieer voordat hulle pen op papier gesit nie. Hulle het nie die luukse geken van ’n kerk wat sterk staan in die wêreld nie. Hulle was in ’n noodtoestand weens hulle gespanne verhouding met die wêreld – ’n verhouding wat van die kerk se kant of bepaal is deur hulle brandende geloof en roeping om Jesus Christus aan die Mediterreense wêreld voor te stel. Hierdie uitgangspunt, wat sending sien as die moeder wat geboorte gee aan teologie, word deur Nuwe Testamentici van ons tyd bevestig (Bosch 1994:16,489). As ons nadink oor die waarheid is dit ter wille van ons roeping in die wêreld. Nog ’n sendingwetenskaplike, Wilbert R Shenk (1995: 71) stel dit so: “The theological task is always to penetrate as deeply as possible into the great existential question that hangs over a culture. At the same time, a parallel movement must be made into God’s Word ...”

As die teologie die Woord en die konteks bymekaar moet bring, is teoloë en lidmate van mekaar afhanklik op die pad na die waarheid.

Andrew Kirk, ’n teoloog wat ’n leeftyd aan teologiese opleiding in Suid-Amerika en Engeland gewy het, het ’n fundamentele verskil in die uitgangspunte van die teologieë in die noorde en die suide waargeneem. In die noorde word die teologie se geldigheid getoets aan die vraag: voldoen dit aan die vereistes van die wetenskap? In die suide, waar die teologie van bevryding die paradigma bepaal, is die fokus op “it’s ability to inspire people to be agents and embodiments of the life of God’s new creation in Jesus Christ” (p.7).

Ons beoefen ’n noordelike teologie in ’n suidelike konteks. Daarom sukkel ons gemeentes om in die gemeenskap betrokke te raak en die teologie sukkel om hulle daarin te begelei.

’n Teologie wat die waarheid volgens die wetenskap nastreef sal verskil van ’n teologie wat die Bybelse waarheid nastreef. Tog is die wetenskap en die Griekse nalatenskap nie sonder waarde nie en kan dit vrugbaar benut word in diens van die Bybelse waarheid. Ons moet die gedissiplineerde wetenskaplike denke van die noordelike teologie nie verloor nie. Ons moet dit behou, nie as einddoel nie, maar in diens van die vraag wat die teologie van die suide vra.

Die voorstel om praktyknavorsing sterk in ons opleiding in te bring en dit in gesprek te bring met die internasionale (lees: noordelike) teologiese debat, kan gesien word as ’n poging om die beste van die noorde en die suide in ons teologie met mekaar te verenig.

Die doel van die teologiese wetenskap moet wees om gemeentes en Christene van alle denominasies in alle gemeenskappe te begelei om op so ’n vaardige en kundige wyse by die nood van mense betrokke te raak dat mense se kwaliteit van lewe verbeter en die verlossing wat Jesus Christus bied duidelik verstaan kan word.

Die vraag wat vervolgens aandag kry, is: hoe kan daar in die teologiese opleiding ruimte gemaak word vir ’n wetenskaplik-teologiese betrokkenheid by die daaglikse lewe van die gemeentes en die talle Suider-Afrikaanse gemeenskappe?

Dit is belangrik om te weet dat dit nie net die teologie is wat die nodigheid van betrokkenheid by die praktyk insien nie. Dit blyk uit inisiatiewe wat die huidige rektor van die Universiteit van Pretoria geneem het.

5. UP SE STRATEGIE 2002 - 2005

Toe prof Callie Pistorius in 2001 rektor geword het van die Universiteit van Pretoria, het hy innovasie as tema van sy visie vir die universiteit gekies. Die tema word verder uitgewerk in UP se strategiese plan: Inspiring the Innovation Generation: 2002-2005 Strategic Plan.

Innovasie word in die strategiese plan gedefinieer as ’n nuwe idee + aanvaarding in die mark. Dit impliseer dat innovasie produkte en dienste as doelwit het, en nie in die eerste plek publikasies nie. Produkte en dienste word naas artikels en proefskrifte erken word as uitsette van die wetenskaplike of akademiese arbeid. Die verskil tussen die twee uitsette kan as volg beskryf word:

a) Die aanvaarding van die twee soorte navorsingsuitsette is afhanklik van verskillende partye:

• Die publikasie van ’n artikel sowel as die verkryging van ’n Ph.D. is afhanklik van goedkeuring deur twee mede-akademici, onafhanklik van die goedkeuring deur die mark/gemeenskap, en

• Produkte en dienste is afhanklik van die goedkeuring deur die mark, onafhanklik van die goedkeuring deur akademici.

b) Die produksie van die twee uitsette word ondersteun deur verskillende steunstelsels:

• Die proses om publikasies en Ph.D’s te produseer is goed gedefinieer en georganiseer. Dit lei tot finansiële beloning, bevordering, gradering by die NRF en die hoogste prys, befondsing vir ’n sentrum van uitnemendheid, maar

• Die proses om produkte en dienste te produseer is nie goed gedefinieer of gevestig nie. Die proses word gekoppel aan konsepte soos entrepreneur en inkubator, maar die befondsing van projekte word op ad hoc-basis gedoen.

Nie een van die twee stelsels is spesifiek ontwerp om diens aan die armste deel van die bevolking te lewer nie (’n doelwit wat juis in die universiteit se strategie heel prominent is):

• Die direkte beloning vir die publikasie van ’n artikel is nie genoeg om praktyknavorsing in die arm gemeenskap te befonds nie, maar is amper genoeg vir die skrywer om ’n reis oorsee te onderneem, en

• Bestaande inkubators by die universiteit is blykbaar eerder gerig op die bevordering van tegnologie vir die globale, kapitaalryke ekonomie as vir die armes om ons.

Hierdie leemte sal waarskynlik aandag kry. Die rol wat die universiteit kan speel in die bestryding van die groot probleme soos armoede in die Suid-Afrikaanse gemeenskap word sterk beklemtoon in die strategiese plan. Dit sluit in:

• Plaaslik relevant (p28:1.6.3) “Responsiveness to the … needs of the country … A closeness to the community is necessary to understand the community. A sound understanding of the community is, in turn, necessary to make a relevant impact”;

• Nasionale uitdagings (p14:13.1): “Important national issues that need to be addressed include rural and economic development, crime prevention, job creation and urban renewal…. Combating poverty is a high priority … the HIV/AIDS pandemic is a national crisis ….” Die kerke is reeds met al hierdie probleme in arm gemeenskappe besig;

• Afrika-konteks (p28, 1.6.3): “… the University of Pretoria (should) also play a prominent role in Africa. The opportunities and challenges of the NEPAD initiative and the African Union should be embraced” (dieselfde gedagte kom voor in die visie van die universiteit, tov die universiteit se “prominent role in Africa”), en

• Begeleiding van studente tot entrepreneurskap (p45): “These incubators and business hives can provide opportunities for students to develop and experiment with ideas, technologies and business ventures in an entrepreneurial manner ...”

Die wyse waarop steun aan praktykopleiding en praktyknavorsing met die oog op plaaslike uitdagings gebied word, verdien om beter ontwikkel te word.

Die onderskeid wat Kirk aantoon tussen die teologieë van die noorde en die suide stem ooreen met die onderskeid tussen die navorsingsuitsette wat hierbo genoem is. Dit lyk asof die teologie in die noorde meer gerig is op publikasies en die teologie in die suide op handelinge in die praktyk. Daar is egter ook voorstelle om teorie en praktyk met mekaar in wisselwerking te bring.

6. TEOLOGIESE BETROKKENHEID BY DIE LEWE VAN DIE KERK

Die voorstel wat hier voorgelê word kan as volg geformuleer word: Dat ’n struktuur of strukture daargestel word om deur praktykopleiding en praktyknavorsing ’n spiraal van interaksie tussen die teologie en die praktyk te bewerk.

Dirkie Smit (2002:99) verdedig ’n benadering wat teologie en praktyk op mekaar betrek: “Teologie is die nadenke van die geloof wat wil verstaan. Dis daarom nie napraat nie, nie blote herhaling nie, maar denke, vrye, kritiese denke, dog nadenke. Teologie is ’n tweede orde-aktiwiteit... Die primêre, eerste orde-aktiwiteit is die lewe van die gemeenskap en tradisie, maar omdat die gemeenskap selfkrities wonder of hulle reg glo, reg praat, reg lewe, word teologiese nadenke gebore”.

Dit is reg dat die praktyk ’n sekere voorrang geniet. Smit beklemtoon taal, praat, nadenke, verstaan, maar sluit aanbidding en lewe daarby in: “Taalvaardigheid in die tale Kanaäns vra die vermoë om, met lewe en woorde, in getrouheid aan die Skrifte te leef, te dink en te praat ... Teologie is op die een of ander wyse diensbaar aan dié taal” (Smit 2002:105, sien ook 101). ’n Mens kan vra: sluit die “op een of ander wyse” in dat die teologie nie net taal en woorde moet voortbring nie, maar ook nuut ontwerpte, gepas bedinkte bedieninge, of, in gewone taal, produkte en dienste vir die kerklike bediening? Nie net wysheid nie, maar ook tegniese vaardigheid? ’n Mens sou een aspek wou byvoeg by die dinge wat Smit noem en dit is die vraag of die kerk reg doen, of ons die regte dinge doen en of ons dit op die regte manier doen, wat betref die opbou van die kerk en ons verantwoordelikheid ten opsigte van die nood van die wêreld.

Die verhouding kan as volg voorgestel word:

Image62349.PNG

In hierdie struktuur word die belangrikheid van die teologie en die praktyk erken. Die teologie word daardeur betrek by die worsteling van die kerk en die gemeenskap met belangrike uitdagings. Die teoloë wat die Ou en Nuwe Testament bestudeer kan belangrike bydraes lewer tot die debatte oor sake soos grondhervorming; die bestryding van armoede; ons verhouding met die skepping; die vrugbaarheid en onvrugbaarheid van mense; die verhouding tussen die godsdienste en die oorname van aspekte uit ander godsdienste – en ander soortgelyke sake wat hewige konflik in mense en lande se lewens veroorsaak. Daar was immers reeds in daardie tyd soortgelyke fundamentele vrae. Die teologie, insluitende die internasionale teologiese gesprek en die wetenskaplike aard van die teologie, moet bewaar en uitgebou word. Die interaksie met die praktyk, as deel van die akademiese werk, byvoorbeeld deur middel van praktyknavorsing, wil waarde daarby voeg. By die vrae wat in die teologiese gesprekke gegenereer word, word daar nuwe vrae toegevoeg wat uit die lewe van die kerk kom. Dit behoort waarde toe te voeg tot die teologiese gesprek. ’n Deurleefde werklikheidsbesef is immers belangrik vir die teologiese studie.

Belangriker nog as die bydrae wat die teologie kan lewer in die soeke na antwoorde op vrae waarmee die gemeenskap worstel, is die bydrae wat die teologie kan lewer om daardie vrae te verdiep en te verander. Dit is opmerklik dat Jesus deelgeneem het aan debatte met mense wat van hom verskil het, en dat hy die vrae wat hulle aan hom gevra het, dikwels met ’n teenvraag geantwoord het. So help hy om die bedoelings van die vrae te toets en by die regte vrae uit te kom.

Die teoloë kan hierdie bydrae egter net lewer as hulle deur deelname vertroud is met die heersende stryd van die geeste. Die teologiese besinning moet binne-in die debatte van ons tyd geplaas word en daarmee in interaksie kom. Hierdie teologiese inset tot die praktyk moet nie bloot populariserend wees of resepte voorskryf nie, maar moet waarde toevoeg deur wetenskaplike praktyknavorsing en teologiese denke werksaam te maak in die fundamentele kwessies in die kerk en die gemeenskap. Dit moet die aard en inhoud van die inligtingsvloei in die gemeenskap help vorm.

Indien hierdie benadering aanvaar word, moet die teologiese opleiding so gestruktureer word dat die interaksie tussen teologie en praktyk in die opleiding ingebou word. In die verband word begrippe soos praktykopleiding en tegniese vaardigheid, praktyknavorsing, en wysheid vervolgens bespreek.

7. PRAKTYKOPLEIDING EN TEGNIESE VAARDIGHEID

Praktyknavorsing moet onderskei word van:

• Praktiese werk, wat gewoonlik beskou word as die toepassing van teorie;

• Ervaring, wat ook gewoonlik vaardigheid bring, maar meestal spontaan of ongeordend gebeur, en

• Praktykvorming, wat dui op die vorming van die hele mens en nie noodwendig wetenskaplik van aard is nie.

Praktykopleiding is ’n leer-deur-doen metode van opleiding waarin daar nie net oor ’n saak teoretiseer word nie. Dit moet tegniese vaardigheid en insig bring.

Tegniese vaardigheid “is die kundigheid om iets voort te bring of te produseer deur die bewerking van gegewe materiaal … ook die kundigheid om ’n kunswerk voort te bring, oordele in ’n logiese denkproses te vorm of ’n oortuiging in die gemoed van iemand anders te bewerkstellig” (Rossouw 1993:76).

Tegniese vaardigheid kan tot mag lei. Die moderne wetenskap is gebou op Francis Bacon se bekende uitspraak: Scientia est potentia. Kennis is mag. “Die doel van die wetenskap het die rasionele beheersing van ervaringsverskynsels geword met die oog op die praktiese nut wat so ’n beheersing vir die mens kan hê” (Rossouw: 81). Wetenskap en tegniek kombineer die mens se verstand en sy krag, en vermeerder hierdie vermoëns op ongekende wyse.

In teologiese opleiding sal tegniese vaardigheid wel ’n belangrike doelwit moet wees. Die opleiding moet mense voorberei vir die bediening, en in die bediening geld gehoorsaamheid aan die Groot Gebod dat ons God moet liefhê met al ons krag en verstand. Ons sal dit wat ons doen, so vernuftig en vaardig as moontlik moet doen. Die Christelike teologie sal boonop ’n invloed wil uitoefen op die doelwit van die aanwending van hierdie vaardighede, ook deur die universiteit. Die doelwit moet nie bepaal word deur die waardes van die heersende kultuur of ideologie nie, maar deur die liefde vir God en die medemens, en ons verantwoordelikheid teenoor die skepping. Die teologie moet probeer om die vaardighede van wetenskap en tegniek in diens te stel van die heil en heelheid van die mens en die skepping.

In hierdie opsig verskil die teologiese en kerklike wyse van aanwending van die tegniese vaardighede van die wyse waarop die moderne wetenskap dit dikwels aanwend.

8. PRAKTYKNAVORSING

Praktyknavorsing is ’n sistematiese en geordende ondersoek en analise van ’n gegewe praktiese werklikheid. Waar praktykopleiding vaardigheid moet bring, wil praktyknavorsing insig en begrip bring. Die insig en begrip moet bevrugtend inwerk op die ander vorm van wetenskaplike werk, naamlik literatuurstudie en/of teorie.

Praktyknavorsing is belangrik om verskillende redes, waaronder:

• Dit dra by daartoe dat die teoretiese besinning in al die teologiese dissiplines en die ondersoek van die praktyk in wisselwerking kom, wat wedersyds bevrugtend behoort te wees;

• Dit bied die geleentheid om werklikhede in die praktyk, soos die nood in die land eerstehands te ervaar en te leer verstaan, en te besin oor die roeping van die kerk om op gepaste wyse op hierdie nood te reageer;

Praktyknavorsing kan lei tot praktiese lewenskunde soos in die Ou Testamentiese wysheid, en in die Griekse filosofie soos die Stellenbosse teoloog HW Rossouw dit beskryf.

Die moderne wetenskap met sy strewe na mag en die nut van die mens verskil van die wysheidskuns van die Griekse filosofie. “Vir die Grieke was wysheid voor alles ’n kuns of ’n vaardigheid, die kuns naamlik om volwaardig mens te wees – om so in die reine te kom met die werklikheid dat jy bestaansvervulling en bestaansvoldoening kan vind. Wysheid is die kuns van ’n gelukkende en daarom gelukkige menslike bestaan ... Die wyse man is dié een wat weet hoe om met passende gesindhede en toereikende handelinge, dit wil sê met die regte etos, te antwoord op die aansprake van die lewensituasies waarin hy teregkom ... die vermoë om jou weg te vind te midde van die dinge waaroor jy geen mag het nie” (Rossouw 1993:76,78,98).

Die Griekse wysheid soos wat HW Rossouw dit beskryf is besonder aantreklik: die respek vir en aandag aan die werklikheid; die antwoordende eerder as beheersende verhouding met lewensituasies; wysheid as navigasiekuns (p 78) en as akkommodasiekuns (p 80); die erkenning van die menslike maat en beperkinge (p 98). “Die mens is naas benutter ook bewoner van die werklikheid. Sy diepste nood is ’n woningnood ...” (p 85). Die doel van “verstaan” is nie om mag te verkry en te manipuleer nie, dit is ontvanklikheid en openheid vir die volle aanspraak van die totale werklikheid (p86).

Die teologie moet hierdie benadering sy eie maak. Dit hoort tuis in die teologie, soos wat Spreuke tuis hoort in die Bybel. Saam met ons krag en verstand moet ons God met ons hart en siel liefhê. En die kerk moet net soos ander mense luisterend lewe: ook ons kan nie, as ons in ’n gemeenskap gaan werk, met ons oplossings begin nie. Ons kan eers probeer om ’n antwoord te gee vir daardie besondere nood nadat ons iets daarvan begryp het.

Praktyknavorsing kan beskou word as ’n poging om hierdie benadering konkreet toe te pas, deur die wyse waarop die teologie met respek aandag gee aan die totale werklikheid; deur met openheid en aandag te probeer om lewensituasies te verstaan; deur te soek na ons plek in hierdie deel van die wêreld; deur ’n bietjie te gaan navigeer in ’n konkrete plek. Praktyknavorsing is ’n poging om ons eie rol in Suider-Afrika te vind, op soek na ’n gelukkende en gelukkige manier van leef, om woning te maak en tuis te kom in Afrika. Tog sou die teologie iets wou byvoeg by die doelwit om gelukkend en gelukkig te lewe, om jou te akkommodeer in die groter geheel, om ’n weg en ’n woning te vind, en bestaansvervulling

… al sal ons dit met oorgawe steun en nastreef. Die Christen kan haar bestaan prysgee vir andere, en eerder as om geluk te vind, in stryd kom met die dinge en met haarself. Die byvoeging het daarmee te doen dat die liefde die grootste genoem word deur Paulus, en dat Johannes sê dat wysheid sonder liefde nie die ware wysheid is nie.

Die Griekse denke het waarheid en liefde nie aan mekaar gekoppel nie. Medelye met swakkes, ellendiges, hulpbehoewendes, soos dit in die Christelike etos gevind word, was onbekend. Die Griekse geneeskunde, sê Jongsma (1968:45-46) was gerig op die gesonde mens, die ideale mens in geestelike en liggaamlike ewewig. Dit is Jesus Christus wat die idee van genade en barmhartigheid gebring het.

Die doel van praktyknavorsing sal veral moet wees om die teologie – en die ander wetenskappe op die kampus – baie nader aan die nood van die groot getalle ellendiges en hulpbehoewendes in ons subkontinent te bring. Dat ons nie maar net self ’n pad kry en self lewensvervulling ervaar nie, maar dat ons ’n pad kry saam met die wat in nood is, en lewensvervulling ervaar in diens aan die wat in ellende leef – deur saam met die mense wat in nood is die beskikbare wysheid en tegniese vernuf heilsaam funksioneel te maak vir hulle nood.

9. DIE ROEPING VAN DIE KERK

Praktykopleiding moet so gedoen word dat die beste elemente van die bogenoemde benaderings vir die teologie en die kerk benut kan word.

Teorie en praktyk is tans onversoenbaar omdat hulle doelwitte verskil. Die teologie se doelwit word gemeet aan publikasies; die praktyk se doelwit aan ’n lewende gemeente, bv. kerkbywoning en bydraes.

Nie een van die twee voldoen noodwendig aan die Bybelse riglyne vir die kerklike bediening nie. Beide publikasies en groot gemeentes met groot bydraes kan verkry word met suksesresepte wat ’n ent verwyder kan wees van sê maar, Bonhoeffer se siening van die “koste van dissipelskap”.

Die kloof tussen teologie en praktyk kan oorbrug word as albei in diens gestel word van die kerk se roeping as getuie in die wêreld. Omdat sy geroep is, raak die kerk by die wêreld betrokke. Daar doen sy ervaring op, en leer sy. Dit is die eerste orde-aktiwiteit. As sy besin oor wat gebeur het, en vra na die betekenis daarvan, ontstaan daar teologie, die tweede orde-aktiwiteit. Die teologie is die geheue van die kerk. Hier vind die kerk die neerslag van ervaring, van moontlike wyses van doen en dink deur die eeue, wat waargeneem, opgeteken, georden en interpreteer word. Hier kan die plaaslike kerk in haar huidige konteks gespreksgenote vind om haar gedagtes en handelinge in ’n eie, besondere konteks te toets en te beplan. Dit lei tot optrede en tot nóg ervaring, wat weereens in die teologie neerslag moet vind en verwerk moet word sodat die kerk haar beplanning kan aanpas en verbeter.

Die gaping tussen wetenskap en praktyk kan alleen oorkom word as die “ter-wille-van” van albei met mekaar versoen is. Die doel van teologiese opleiding kan byvoorbeeld as volg lees: Die doel van teologiese opleiding is om die kerklike roeping te ondersteun deur die uitdagings van die 21ste eeu in Suider-Afrika intellektueel en intuïtief te begryp en te deurdink en daarop ’n respons te lewer wat teologiese integriteit het en wat kontekstueel relevant en strategies en tegnies doeltreffend is.

10. ’N SPIRAALBEWEGING TUSSEN TEORIE EN PRAKTYK

Die herstrukturering van die teologiese opleiding kan slegs slaag as die regte prosedure gevolg word. Die volgende stappe kan oorweeg word:

• Debat, wat lei tot konsensus oor die aard van die herstrukturering wat nodig is.

• Besluite van die beleidmakende instansies.

• Opstel van ’n werkplan, bv. vir die vind van bronne en sluit van ooreenkomste.

• Plan vir oorskakeling na die nuwe struktuur.

Om ’n interaksie en spiraalbeweging tussen teorie en praktyk te bewerk, sal ’n aantal stappe vereis, byvoorbeeld:

• Die behoeftes van die kerk – dit wat die kerk van ’n afgestudeerde student (sal) verwag, moet nagevors word;

• Die behoeftes van die gemeenskap – dit wat die gemeenskap van ’n afgestudeerde student (sal) verwag, moet nagevors word;

• Die vereistes wat die Woord aan beide die kerk en die gemeenskap stel: waar moet ons verander en vernuwe?

• Die intervlakke tussen praktiese opleiding en die res van die teologiese kursus moet identifiseer word, en

• Die mees gepaste wyse van praktiese opleiding, gegewe bogenoemde, moet ontwerp word en aangepas word by die kapasiteit van die Teologiese Fakulteit – of die kapasiteit moet vergroot word.

As die opleiding by wyse van ’n spiraal plaasvind, moet praktykopleiding telkens in die spiraal opgeneem word deur die praktykopleiding elke jaar so te beplan dat dit uit die teorie voortkom en weer ’n inset in die teorie maak – of dit nou die verhouding tussen antieke kulture en religie en die van Afrika is, of die wyse waarop geloof in die praktyk ervaar en verwoord word, of die etiese kwessies van ons tyd, of die groot uitdagings van MIV/vigs en armoede, ens.

Om bogenoemde te bereik, sal meer werk beteken en goeie beplanning vereis. Die nodige kapasiteit moet by die huidige bygevoeg word.

Om dosente se verhouding met die praktyk te versterk, sal eerstens kennis geneem moet word van die wyse waarop gevestigde belange versterk word deur die bestaande sisteem. Die skryf van artikels is ’n relatief eenvoudige en betroubare metode om fondse te genereer wat vir die universiteit, die fakulteit en die dosent ’n uiters belangrike bron van inkomste geword het.

Die fondse uit publikasies is te min vir goeie praktyknavorsing, en om elders fondse te soek vereis baie werk met onsekere resultate. Dosente sal gehelp moet word om hulleself in ’n nuwe veld met nuwe uitdagings te vestig. ’n Eerste stap kan wees om die aanname ten opsigte van die uitkoms van navorsing te verbreed en om, naas publikasies, ook tegnologie (bv. dienste en produkte) as uitset te erken en te ondersteun.

11. SAMEVATTENDE GEVOLGTREKKING

Praktykopleiding kan slegs ren volle tot sy reg kom as die hele aard van die bediening en die opleiding verander. Dit is dalk die beste verwoord in Kerkspieël 2004 se suggestie dat “’n unieke bedieningspatroon – wat wyer strek as net ’n predikant se pos – ontwikkel word”.

Om die moontlikheid te laat realiseer is egter afhanklik van steun deur die kerke en die universiteite. Dit kan nie deur een deel van die kerk – byvoorbeeld die teologiese opleiding – alleen gedoen word nie. Wat uiteindelik nodig is, is waarskynlik dat die leiers van die kerke wat betrokke is by die teologiese opleiding stappe moet neem om die groot verskeidenheid aksies in elke kerk met mekaar te integreer of te laat resoneer.

Een so ’n saak wat reeds uitgekristalliseer het, is die nodigheid om praktiese oplossings te vind vir die knellende nood in plaaslike gemeenskappe. Nuwe bedieningspatrone is daarvoor nodig. Steun is nodig om die entrepreneurskap in plaaslike gemeeentes te begelei en ondersteun – dit is nie iets wat ’n leraar sommer op sy eie goed kan doen nie. Hulpbronne wat nodig is, soos kundigheid, fondse en vennootskappe, kan soms plaaslik ontgin word, maar moet soms op sinodale vlak ontwikkel word.

Nuwe omstandighede vereis nuwe bedieningspatrone. Praktykopleiding is een manier waarop daar na ’n gepaste nuwe patroon gesoek kan word.

BIBLIOGRAFIE

Blair, T (voorsitter) 2005. Our common interest. Report of the Commission for Africa. www.commissionforafrica.org. Londen.

Bosman, L 2001. ’n Narratiewe beskouing van die pastoraal-terapeutiese self in ’n postmoderne samelewing. Doktorale proefskrif, Univesiteit van Pretoria.

Heidegger, M 2001. (2de uitgawe). Identität und Differenz. Tweetalige editie. Amsterdam: Boom.

Heidegger, M 1998. Zijn en tijd. Vertaal deur M Wildschut. Nijmegen: SIN.

Jongsma, MW 1968. Geneeskunde en ethiek in: Roscam Abbing, P.J.: Om de mens. Ethiek in wetenschap en beroep. Leiden: A.W Sijthoff.

Kirk, Andrew: The theology of Mission and the mission of theology. Valley Forge: Trinity Press International.

Markdata, 2003. Verslag oor Voortgesette Teologiese Opleiding. Kuratorium van die NG Teologiese Opleiding aan die Universiteit van Pretoria.

Naude, P 2001. Hê geduld op die weg van waarheid. Algemene Kerkbode, 6 en 9 Junie 2001, p13.

Rossouw, HW 1993. Universiteit, wetenskap en kultuur. Kaapstad: Tafelberg.

Schoeman, K en Bisschoff, J: Kerkspieël 2004. Verslag van die sewende wetenskaplike opname van die Ned Geref Kerk in Maart 2004 in opdrag van die Algemene Sinode.

Shenk, Wilbert R 1995. Write the vision. The church renewed. Valley Forge: Trinity Press International.

Smit, DJ 2002. In diens van die tale Kanaäns? Oor sistematiese teologie vandag. Ned Geref Teologiese Tydskrif, Maart en Junie.

UP Strategie: Inspiring the Innovation Generation: 2002-2005 Strategic Plan. Universiteit van Pretoria.

TREFWOORDE

Teologiese opleiding, Teorie en praktyk, Praktyknavorsing

KEY WORDS

Theological training, Theory and practice, Practice research

Dr Attie van Niekerk

Fakulteit Teologie

Universiteit van Pretoria Pretoria

2000

Attie.vanniekerk@up.ac.za