Die waarde en funksie van liturgiese musiek
ABSTRACT
The Value and Function of Liturgical Music
It appears that the contribution of music in worship services is much under estimated in many church traditions. However, liturgical music should contribute towards a deeper experience of the worship service. In liturgical music, the general features of music can be applied in such a way that the liturgical moments of praise, thanksgiving, humility, confession of sins and prayers are rendered from the depths of the heart. Liturgical songs should be of a high standard. However, they should be sober to support the message of the text. Therefore, this music must complement a dignified and trustworthy expression of the contents of the words that are being sung.
INLEIDING
Liturgiese musiek in die brandpunt
Volgens talle kerkmusici verkeer liturgiese musiek1 in Suid-Afrika in ’n krisis. Verskeie artikels in die jaarblad van die Suid-Afrikaanse kerkorrelistevereniging, Vir die Musiekleier, getuig hiervan: “Wat skort met ons Kerkmusiek?” (Heyns 1988:19); “Tot hiertoe en nie verder met ons kerkmusiek” (Troskie 1992:46) en “Kitch in die Kerk” (Van der Merwe 1995:4). Volgens Temmingh (1993:18) is die oorsaak van hierdie “jammerlike situasie” die kerkmense wat “snert” in die kerk wil hoor, omdat
hulle buite die kerk daaraan gewoond geraak het .2
Hierteenoor is daar hedendaags talle mense wat beweer dat melodieë van tradisionele kerkmusiek uit die sestiende tot die negentiende eeu onsingbaar is. Huisamen (1997:16) betwyfel byvoorbeeld die voortbestaan van hierdie tipe tradisionele kerksang en kerkmusiek. Hy is van mening dat die tradisionele musiek grootliks verantwoordelik is vir die afname van lidmaatgetalle. Hy beweer verder dat lidmate rondreis tussen gemeentes op soek na dienste waar daar ’n groter bevrediging is van geestelike behoeftes en waar daar sangvernuwing is. Benewens die “verouderde” musikale styl beweer hy dat ook ander faktore, soos die poëtiese taalgebruik, die tradisionele liedere onverstaanbaar maak (Huisamen 1997:16).
Die invloede van die musikale styl van charismatiese en ander vernuwende bewegings kan nie geïgnoreer word nie. Al hoe meer lidmate word uit die geledere van die tradisionele Protestantse kerke gewerf. Dit lyk asof die Protestantse kerke se klem op die korrekte inhoud van die geloofsbelydenis, stigtelikheid in die erediens en die beklemtoning dat die kerklied nie net gaan om die “lekker sing” nie3 verantwoordelik is vir die vervreemding van sommige lidmate. Dié lidmate word bekoor deur die hartlike lofprysing en aanbidding van die Pinkstertradisie (Huisamen 1997:20).
Orrelspel of enige ander vorm van instrumentale musiek, soos in die Protestantse kerke, voor, tydens en na die erediens, kan ’n atmosfeer skep wat ooreenstem met die liturgiese bedoeling en inhoud van ’n bepaalde erediens. Helaas is dit nie altyd geslaagd nie. Luisteraars verstaan dikwels nie die musiek nie of hulle vul dit met ongepaste subjektiewe betekenis. Hierdie subjektiewe interpretasie deur luisteraars stem nie noodwendig ooreen met die bedoeling van die musikant nie (Strydom, 1994a:383).
Huisamen (1997:46) meld ook dat die postmoderne mens nie meer so maklik opgewonde raak oor preke (monoloë) wat vanaf kansels verkondig word nie. Volgens hom het mense ’n behoefte aan meer as net ’n preek. Hulle wil aktiewe deelnemers wees. Hulle wil aan hulle gevoelens uiting gee deur te sê en te wys wat hulle beleef. Sang en musiek speel hierin ’n belangrike rol.
Die waarde van liturgiese musiek word onderwaardeer
Ten spyte daarvan dat liturgiese musiek in die brandpunt staan, wil dit voorkom asof die waarde van musiek in die teologie en godsdiens wêreldwyd grootliks verwaarloos word (hoewel dit nie ontken kan word dat daar hier en daar opbloei plaasgevind het nie). So skryf Maconie (1990:59) van “the profoundly erroneous abandonment of musical philosophy by the centres of religion”. Irwin (1993:ix) merk op dat “phenomenological evidence from the world’s religions demonstrates that the association of music and religion is nearly universal … but its theoretical grounding has often been omitted or slighted in theological systems”. Jones (1999:4) stel die vraag: “Why does God use music? Isn’t it a fluffy, rather inefficient way to communicate? We like to think that the really important parts of life and worship can be said with cardboard words”.
Selfs in Joodse studies word opgemerk dat “the role of music in contemporary worship is practically unresearched and undiscussed … the written text was deserving study, whereas the musical means by which it was presented was not” (Hoffman 1989:31).
Dat daar krag van die musiek uitgaan, is nie te betwyfel nie. Ter wille van Godsverheerliking in die erediens is dit aktueel en nodig dat die waarde en funksie van liturgiese lied ondersoek word. Die doel van die liturgiese lied is om ’n opregte lofsang tot eer van God te laat opklink, waarvan die musiek ’n getroue draer moet wees. Die waarde van die liturgiese lied lê daarin dat die teks Bybelgetrou en die musiek ’n waardige en getroue draer van die teks sal wees. Die funksie van die liturgiese lied lê in die opbou van die gemeente, die versterking van die gemeenskap van gelowiges (1 Kor 14:26 )4 en die uitdrukking van lofprysing teenoor God (Ef 5:19-20 ),5 wat bewerk word deur verkondiging, geloofsantwoord, pastoraat en evangelisasie.
Liturgiese musiek kan ’n bydrae maak tot ’n dieper belewenis van die ontmoetingsgebeure in die erediens. Martin Luther (1968[1529-1530]:639) skryf aan Lüdwig Senfl, hofkapelmeester in München:
“Et plane iudico, nec pudet asserere, post theologiam esse nullam artem, quae musicae possit aequari, cum ipsa sola post theologiam id praestet, quod alioqui sola theologia praestat, scilicet quietem et animum laetum, manifesto argumento, quod diabolus, curarum tristium et turbarum inquietarum autor, ad vocem musicae paene similiter fugiat, sicut fugit ad verbum theologiae.“6
Musiek het die vermoë om dieper dimensies aan die erediens te verleen as wat met woorde alleen gedoen kan word. Die doel van hierdie ondersoek is om te bepaal watter unieke waarde musiek as sodanig tot die Protestantse erediens toevoeg, sodat die feeskarakter van die erediens ten volle tot sy reg kan kom. In hierdie artikel beperk ek my tot teoretiese aspekte. In my verhandeling het ek die teorie met liedvoorbeelde toegelig (vgl. Viljoen, 2005).
DIE EIENSKAPPE EN FUNKSIES VAN LITURGIESE MUSIEK
Musiek besit die krag om mense te beïnvloed. Die karakter van musiek en die effek wat dit bewerkstellig berus op verskillende elemente van klank en die verhouding tussen hierdie elemente. In sy eenvoudigste vorm kan musiek assosiasies, sensasies, stemmings en emosies oproep. Musiek kan die gevoel van die oomblik reflekteer of dit verander, maar kan ook ’n spesifieke gevoel skep of versterk. Musiek besit ook die krag om emosie te beïnvloed, omdat dit suggestiewe, oorredende en selfs afdwingbare elemente bevat (Viljoen 2001:425). In die musiekbegeleiding van die liturgiese lied is daar gewoonlik van hierdie elemente teenwoordig. So kommunikeer musiek die onbeskryflike, die onuitspreeklike, die onsegbare meer intensief en subtiel as woorde (Willock 2005:87).
Liturgiese musiek (teenoor musiek in die algemeen) is nie prinsipieel ’n stilistiese kategorisering nie, maar in besonder een van funksionaliteit (Blankenburg 1979:37; Strydom 1994b:49). Liturgiese musiek moet met die gebruik van musikale elemente in die algemeen ’n spesifieke funksie in die liturgie vervul, byvoorbeeld om die lof van God te verkondig, skuld te bely, tot God te bid, die boodskap van verlossing oor te dra en die gemeenskap van die gelowiges te versterk (vgl. Kruger 2002: 31-37).
Die reformatore het ernstig besin oor die funksie van liturgiese musiek. Luther vat die teologiese betekenis van gemeentesang in die voorwoord van die Babstchen Gesangbuch van 1545 raak saam. Gemeentesang moet die blydskap van diegene wat deur Christus van hulle sonde en dood verlos is, vertolk. Wie in hierdie verlossing glo, kan nie nalaat om vrolik daarvan te sing nie (Barnard 1981:267).
Liturgiese musiek vervul ’n funksie
Liturgiese musiek is musiek vir en van die erediens. Liturgiese musiek is musiek wat ’n spesifieke funksie in die erediens of liturgie moet vervul. Kruger (2002:33) verdeel kerkmusiek (as ’n faset van liturgiese musiek) funksioneel in die volgende kategorieë:
Kerugmatiese kerkmusiek, om die boodskap van verlossing oor te dra.
Koinoniale kerkmusiek, om die gemeenskap van gelowiges te versterk en individuele gelowiges saam te bind aan verskillende aspekte van die Christelike lewe.
Liturgiese musiek, wat meestal tydens die erediens direk tot God gerig is, het betrekking op momente van lofprysing, dank, verootmoediging, skuldbelydenis en gebed 7.
Die kriteria wat verskillende mense gebruik om te bepaal of liturgiese musiek (in die algemeen) funksioneel is of nie, word bepaal deur persoonlike Skrifbeskouing, belydenis, kerksiening en die siening van die liturgie. ’n Mens kan daarom moeilik kriteria vir kerkmusiek vir alle tye objektief beoordeel (Kloppers 1997:177).
Benewens die teks van ’n lied dra musiek as sodanig ook betekenis. Uiteraard lê die betekenis op ’n ander vlak as die teks en is moeiliker om te beoordeel (Pahl 1998:11).
Kwaliteit, gehalte, styl en integriteit
Die gehalte van musiek in die erediens kan aan twee kriteria gemeet word. Die musiek moet eerstens van hoë kwaliteit wees en aan musikale vereistes voldoen. Tweedens, al is die musiek teoreties hoe voortreflik, maar ondersteun en vervul nie die gepaste funksie daarvan in die erediens nie, is die liturgiese musiek nie sinvol nie vir die bepaalde doel nie.
Die erediens is ’n “heilige” gebeurtenis waar God ontmoet word. Of dit nou ’n hoog liturgiese of sober gereformeerde erediens is, die byeenkoms is volstrek uniek. Nie alle musiek, al is die kwaliteit daarvan hoe goed, is geskik vir die erediens nie. Die musiek moet diensbaar wees of diensbaar gemaak word aan die lof van God (Kloppenburg 1997:40).
Die aard en styl van ’n lied hou verband met die musiektradisie waaruit die lied ontstaan het, en dié tradisie kan nie van die mense wat dit tot stand gebring het, geskei word nie. Die verskeidenheid style en die keuse daarvan vir die erediens kan beter verstaan word as aspekte soos musikale dialek en register in berekening gebring word (Pass 1989:93). Die musikale dialek verwys na die algemene musikale styl van die musikus en kan ’n verskeidenheid registers verteenwoordig. Die musikale register is die styl wat gekies word om ’n bepaalde funksie te vervul. Kruger (2002:29) sê tereg, ten einde die funksionaliteit van kerkmusiek te verseker moet daar by die keuse van kerkmusiek rekening gehou word met die musikale dialek (dit hou ook verband met die kultuur van die gelowige), terwyl die keuse van kerkliedere vir liturgiese gebruik weer beïnvloed word deur die musikale register.
Musiek as kommunikasiemiddel
Kommunikasie in die erediens vind nie net op die intellektuele verstaansvlak plaas nie, maar ook op die ervaringsvlak (Müller 1988:42). Hamilton (1999:34) sê tereg dat die evangelie gekommunikeer word, om mense in ’n lewende verhouding met God te bring. Hy gaan verder deur te skryf dat musiek met hierdie ervaring behulpsaam kan wees en daarvoor as gawe van die Heilige Gees waardeer moet word. Johansson (1984:99) skryf aan die ander kant dat, tegnies gesproke, die teks nie die belangrikste element van ’n liturgiese lied is nie. Die teks gee feite weer, maar die musiek self gaan verder as die blote weergawe van feite. Die musiek lei die luisteraar tot die belewenis en oortuiging (deur musikale ondersteuning) van die waarheid van hierdie feite.
Dit is wel so dat die teks van die lied hoofsaaklik die inhoud van die lied bepaal. Die musiek moet ondergeskik wees aan die teks, in dié sin dat dit die Woord moet interpreteer en dra. Maar die liturgiese lied en liturgiese musiek funksioneer as beleefde (wat op ’n besondere manier beleef word) geloofsantwoord (lof, dank, belydenis, gebed) op God se Woord. Hierbenewens kan dit ook
’n Woordverkondigingsfunksie hê deur die assosiasies wat deur musiek geskep word, byvoorbeeld by die aanhoor van ’n koraalverwerking van ’n bekende psalm. So “verkondig” musiek dus deur middel van assosiasie (Kloppers 1997:179; Willock 2005:85).
Die missionêre mag van musikale en liturgies- verantwoorde liturgiese musiek bestaan nie alléén in die gesproke Teologie nie (Honders 1978:78). Die kerk het, buiten die gesproke woord, ook die gesonge woord om die boodskap van versoening tot die dieptes van die siel te laat deurdring. Die gesproke woord alleen het nouliks daartoe toegang. Die dieptes van die siel bepaal waar die menslike beslissings val. Volgens moderne Psigologie is dit die plek waar die mees beslissende gebeurtenisse afspeel (Honders 1978:79). Die teksinhoud, asook die musikale styl van liturgiese musiek kan bydra tot geesgeïnspireerde, nugter, verantwoorde, verstaanbare en oortuigende kommunikasie waarmee uitgereik kan word na ander buite die kerk (Strydom 1994a:290; Viljoen 1990:137). Bekendheid en vertroudheid met musiek is noodsaaklik om die nodige funksie te vervul in die erediens. Sinstrelende genot en persoonlike smaak mag nie die dryfveer agter liturgiese musiek wees nie, maar as die musiek nie ’n gevoel van bevrediging gee nie kan dit die teks eerder blokkeer as ondersteun (Van Groningen 1979:17).
Orrelspel vóór, tydens of ná die erediens is ’n algemeen aanvaarde gebruik in Protestantse Kerke. Liturgies is dit nie noodsaaklik nie, maar wanneer orrelspel effektief en sinvol gebruik word, kan dit dien om ’n atmosfeer te skep wat ooreenstem met die liturgiese bedoeling en inhoud van die bepaalde erediens. Daar kan aan die orrelspel ’n bepaalde inhoud verleen word, deur doelbewus by die teks of tema van die erediens aan te sluit en dit musikaal te vertolk. ’n Bepaalde liturgiese lied se melodie kan as uitgangspunt gebruik word vir die skep van so ’n komposisie of verwerking. In dié proses dien die betrokke melodie om die teks wat daarmee saamgaan in die gedagtes van die luisteraars op te roep. Orrelspel (of ander instrumentale musiek) sou by hierdie funksie van verkondiging kon inskakel as die woordkonnotasie opvallend genoeg is (Müller 1988:42). Koraalvoorspele kan gekies word op grond van hulle tekskonnotasie of aansluiting by die kerklike jaar of by die Skriflesing en prediking van die betrokke diens. Die musikale verklanking van daardie teks dien so ’n sinvolle en nadenkende, meditatiewe (Strydom 1994a:384), liturgiese handeling.
Musiek kan ook die onbeskryflike, die onuitspreeklike, die onsegbare meer intensief en subtiel as woorde kommunikeer (Johansson 1984:96; Willcock 2005:89). Vir Calvyn neem die “gesonge gebede” ’n ononderhandelbare plek in die erediens in. So het die vroeë kerk dit beoefen, betoog hy in die Institusie III, 20, 31-32. Die melodie gee immers aan die gebede affektiewe diepgang wat dikwels ontbreek in die gesproke woord (Institusie III 20.37) (Sizoo 1956:433). ’n Goeie voorbeeld is dat die gesproke “Amen” aan die einde van ’n erediens (gewoonlik deur die liturg namens die gemeente uitgespreek) vervang kan word met die gesonge verwerkings van die “Amen” (deur die gemeente self) soos in die Liedboek (Lied 312 tot 315).
Die verskillende elemente in musiek roep sensasies, stemminge en emosies op. Die karakter van liturgiese musiek en die effek wat dit bewerkstellig, berus op die verskillende elemente van klank en hulle relasie tot mekaar. Hierdie elemente is dieselfde as die van musiek oor die algemeen, naamlik toonhoogte, frekwensie, toonkleur, intervalle, melodieë, toonduurtes, ritme en tempo.
Liturgiese musiek as pastoraat
Viertel (1985:115) onderskei twee funksies vir gemeentesang, naamlik die lof aan God en onderlinge geloofsopbou. Met musiek moedig gelowiges mekaar aan en vertroos mekaar (Kloppers 1997:179; Viljoen 1990:137). Routley (1978:94) verwys ook na die “tiny miracle of healing people through church music”. Met die oog hierop het die Heilige Gees sang en musiek as ’n genadegawe aan die gemeente gegee (Strydom 1994a:289).
Liturgiese sang en liturgiese musiek kan bydra tot ’n gemeente se geestelike groei en die ontwikkeling van ’n gesonde, ewewigtige spiritualiteit. Daarvoor is gebalanseerde musiek nodig, liedere waarvan die emosionele en intellektuele aspek in ewewig is (Johansson 1984:71).
• Die skep van atmosfeer
• Die begrip “sfeer of atmosfeer” is moeilik te definieer. Elke erediens het atmosfeer. Lidmate voel dit aan. Atmosfeer word grootliks deur gewoonte gevorm en positief waardeer (De Roos 1946:26)
Alle sintuie word by die vorming van atmosfeer betrek. Van der Leeuw (1955:122) verbind atmosfeer aan die diens van die woord. Hy stel in die uitdrukking “dienst des Woords” die “Woord” nie gelyk aan “Skrif” is nie, maar aan “Logos”. “Logos” is die openbaring in Christus, God in die vlees, Immanuel. Dit gaan vir hom om ’n Godsontmoeting deur Christus. God se openbaring word ontvang deur middel van alle sintuie. Dat alle sintuie by die ontvang van die openbaring ingeskakel is, beteken dat die sintuie gebruik moet word om die gehoor te versterk. Geloof kom deur te hoor - die ander sintuie moet die gehoor ondersteun. Die reuk-, smaak- en tassintuig tree byvoorbeeld by die sakramente in.
Dit is hoofsaaklik die gehoor, en in ’n mindere mate die gesig, wat atmosfeer in die erediens skep en aanvoel. Wat die gehoor betref, lewer die akoestiese elemente van die gesproke woord, die toon daarvan, die kerkmusiek en stiltes ’n bydra. Die inrigting van die kerkgebou, houding en gebare van die liturg is die visuele elemente. Behalwe gedagte-assosiasie is daar nie nog ’n element wat sfeer só sterk beïnvloed soos musiek nie (De Roos 1946:28).
Die atmosfeerskeppende funksie van instrumentale musiek moet nie misken word nie. Goedgekose voor-, tussen- en naspele asook die gepaste begeleiding van die liturgiese lied, is een van die nuttigste wyses om die korrekte atmosfeer te skep. Musiek gee intensiteit aan wat ons sê en doen. Musiek help om uitdrukking te gee aan gevoelens wat dikwels moeilik (of glad nie) op verbale vlak geartikuleer kan word. Die erediens is ’n kommunikatiewe gebeure en kommunikasie vind nie net op die intellektuele verstaansvlak plaas nie. Dit lê ook op die ervaringsvlak (Müller 1988:42). Hoewel ons Calvyn se waarskuwing in gedagte moet hou dat die Woord nie uit die sentrum verdring mag word nie, moet daar ruimte gemaak word vir die skep van atmosfeer in die ontmoeting en gesprek met God.
Die skepping van atmosfeer in die erediens is die werk van die Heilige Gees en die gemeente moet dit van God soek, afbid en verwag. Maar die werk van die Heilige Gees mag nie as verskoning gebruik word vir luiheid en swak beplanning ten opsigte van atmosfeer nie.
Die aard van die erediens kan weergegee word met twee begrippe wat die atmosfeer bepaal, naamlik ontmoeting en viering. In die erediens ontmoet God sy gemeente en die gemeente ontmoet die Here feesvierend en met blydskap. As die atmosfeer in die erediens dan opreg wil wees, sal dit iets van die ontmoeting en die viering op stemmingsvolle wyse moet weergee. Aan die een kant moet die atmosfeer eerbiedig wees. Wat in die erediens gebeur, gebeur coram Deo, in die teenwoordigheid van God. Aan die ander kant moet daar ’n feestelike atmosfeer heers, maar nie in die sin van joligheid en familiariteit nie (Müller 1988:31).
Bewustelik of onbewustelik dra die gemeentelede tot die atmosfeer by wat tydens die erediens heers. Die gebou, die taal, die kommunikasie en veral die sang en musiek dra by tot die skep van atmosfeer. Die mens is soms geneig om musiek nugter en intellektueel te oordink en die gevoelsmatige stemmingsfunksie daarvan te ignoreer. Daarom word musiek in die gereformeerde erediens dikwels bloot saaklik gebruik om sang te begelei. ’n Groter bewustheid is nodig vir die stemmingsfunksie van musiek. Begeleidingstegnieke behoort gebruik te word om sinvolle atmosfeer rondom die liedteks te skep. So gesien open sang en musiek deure vir deelname, wat uitloop op ’n feestelike ervaring van die erediens (Müller 1988:33).
Toonsetting van liedtekste
Die toonsetting van liedtekste moet in ’n musikale idioom en styl wees wat nie vreemd aan die luisterervaring en begripsvermoë van die gemeente is nie (Strydom 1994a:256). In 1985 pleit Roux (1985:322) vir ’n nuwe liedboek waarin digters met die vereistes vir die strofiese liedvorm vertroud moet wees, om betekenisvolle, begryplike, funksionele Afrikaanse Psalmsang daar te stel. In die Liedboek van die Kerk wat in 2001 verskyn het, is daar aan heelwat van hierdie behoefte uitvoering gegee, byvoorbeeld met die toonsetting van Bybeltekste (Lied 266 (Matt. 6:9- 13), 272 (Ps. 43:3,4), 516 (Hab 3:17-19), 569 (Ps 145:15-16)), Belydenis-liedere (Lied 259 (Apostoliese Geloofsbelydenis) en Bybelgetroue liedere (Lied 286 (“Here God van liefde)). Effektiewe musikaal-liturgiese kommunikasie binne die huidige samelewing met sy kulturele, sosiologiese en psigologiese gevarieerdheid, ook in die kerk, vra die implementering van ’n verskeidenheid liedvorms met ’n verskeidenheid style en idiome.
’n Kerklied se verstaanbaarheid en kommunikatiewe trefkag hang hoofsaaklik af van die oortuigende verhouding tussen die teks en die melodie. Die boodskap van die teks moet literêr en musikaal só verpak wees dat dit inderdaad by die gemeentelede tuiskom. Musiek beskik oor die vermoë om emosioneel veel sterker aan te spreek as die gesproke woord. Dit rig ’n direkte emosionele appél op die mens, dit spreek affektief aan (Strydom 1994a:258). In die liturgiese lied is die teks die hoofsaak, maar die melodie en harmonie moet die betekenis van die teks ondersteun, intensiveer en verduidelik – alhoewel dit nie opdringerig moet wees nie (Van Groningen 1979:19).
Die eis van nugterheid geld vir liturgiese musiek, en die musikale beperkinge van ’n gemiddelde lidmaat moet ook in gedagte gehou word. Melismatiek (melodiese reeks tone op een lettergreep) in die melodie, moet tot die minimum beperk word en sekwense (ritmiese en melodiese herhaling op ’n ander toonhoogte) moet spaarsamig gebruik word. Prinsipieel is daar niks te sê teen kontrafakte (’n melodie wat oorgedra word op verskillende tekste) nie, maar daar moet gewaak word dat so ’n uitruilbare melodie nie die aandag van die bepaalde teks aftrek nie (De Roos 1946:140).
Musiek (melodie en harmonie) moet die natuurlike vloei van die woorde, ritme, aksente, frasering, toonhoogte en betekenis interpreteer en dra. Die karakter van die musiek of die melodie moet aanpas by die karakter van die teks. Die kriteria vir die melodieë is direk gekoppel aan die funksie van die musiek in die liturgie. Vir gemeentesang moet die melodie nie te moeilik wees nie, byvoorbeeld met groot spronge, groot omvang, onseker toonaard of te veel melismas nie. Aan die ander kant moet gewaak word teen ’n eentonige en swak melodie wat vanweë die gebrek aan beweging, klimakspunte, te veel repetisies, sekwense of gepunteerde note die hoorder verveel (Kloppers 1997:183).
Balans behoort gehandhaaf te word tussen musikale element, hetsy harmonie, melodie of ritme. Dominansie van een of meer van hierdie element kan wel in bepaalde omstandighede funksioneel wees, maar die musikus moet dit kundig kan beheer. Geen musikale element behoort egter só dominant word dat dit oor die teks heers nie.
Samevatting
Benewens die teks van ’n lied dra die musiek (melodie, harmonie, ritme) as sodanig ook betekenis. Al is hierdie musiek hoe voortreflik, maar ondersteun en voldoen nie aan liturgiese eise in die erediens nie, is die liturgiese musiek nie doeltreffend nie.
Liturgiese musiek kan funksioneer as geloofsantwoord, Woordverkondiging en pastoraat. Die atmosfeerskeppende funksie van musiek moet nie onderskat word nie. Die erediens is ’n kommunikatiewe gebeure en kommunikasie vind nie net op die intellektuele vlak plaas nie, maar ook op die ervaringsvlak.
Die toonsetting van liedtekste moet in ’n musikale idioom wees wat nie vreemd aan die luisterervaring en begripsvermoë van die gemeente is nie. Die kerklied se verstaanbaarheid en kommunikatiewe trefkrag hang hoofsaaklik af van die oortuigende verhouding tussen teks en melodie.
EIENSKAPPE EN FUNKSIES VAN DIE LITURGIESE LIED
Liturgiese liedere vorm ’n bepaalde deel van liturgiese musiek. Deur die eeue heen het liturgiese liedere, in watter vorm ook al, ’n rol gespeel in die erediens. Liedere word immers in opdrag van God gesing. In Efesiërs 5:18 staan die opdrag: “... laat die Gees julle vervul en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere”. Die apostel Paulus moedig die gelowiges aan om vreugdevol te leef en te “sing met julle hele hart tot eer van die Here”.
In die erediens word daar uit dankbaarheid vir die verlossing in Jesus Christus tot lof van die Here gesing. Calvyn beklemtoon dat die mens so geskape is dat sang die mees natuurlike en spontane manier van uitdrukking van lof is (Strunk 1950:346).
Wat is dan die spesifieke eienskappe en funksie van hierdie liturgiese lied wat geskik is vir lofprysing, aanbidding, skuldbelydenis of geloofsbelydenis in die erediens?
Die liturgiese lied is Godsgerig
Liturgiese sang is gerig op die God van die openbaring. “Sy openbarende optrede ter verlossing is die grond en die oorsaak van die himniese aktiwiteit” (Bingle 2000:143). Die lof aan die drie-enige God in die “Verkiesingsjubel” van Skrifberyming 1-1 (Ef 1:1-14) (Psalmboek, 2003 ) en Lied 205 (“Bring lof aan die Vader”) (Liedboek, 2001) is goeie voorbeelde hiervan.
Bingle verduidelik dat die openbaring as handeling van God primêr bepalend is vir die ontstaan en diversiteit van die liturgiese lied. Dit is primêr die openbaring wat die liturgiese lied laat ontstaan (Bingle 2000:141). Daarom spreek dit vanself dat die lied Bybelgetrou en belydenisgetrou sal wees (Müller 1988:43; Viljoen 1990:113).
Liturgiese lied is openbaring-in-responsiewe-aksie
Die diversiteit van die lied in verskillende vergestaltings word veroorsaak deur, en het ten nouste te make met, die mate waarin en die wyse waarop die openbaring in die liedere vergestalting vind. Die lieddiversiteit beklemtoon ook die responsiewe karakter van die liturgiese lied daarin dat dit in ’n gegewe situasie die openbaring in die werklikheid vertolk en sodoende voortdurend na die eis van die historiese en literêre konteks aktualiseer (Bingle 2000:141).
Goddelike openbaring en himniese respons is twee dimensies van dieselfde komplekse gebeurtenis van ’n Godsontmoeting. Die sang wat gelowig opklink uit die keel word deur die sanger ervaar as deel van dieselfde verlossingsenergie wat die aksie van God is. Die openbaring is dus nie net die oorsaak van die sang nie, dit vind aktualisering in die sang. Die openbaring se betekenis word ontsluit in die responsiewe taal wat deur die openbaring ontlok word (Bingle
2000:144).
Liturgiese lied is geloofsuitdrukking
Die aktualisering van die openbaring word ook artikulering van die openbaring in ’n belydenis van geloof. Die lied maak van ’n feit in die openbaring ’n werklikheid in die geloof. God se openbaring word lewende dogma. Liturgiese sang is dus articulus fidei (verwoording van die geloof) en homologia (erkenning, belydenis) van die geopenbaarde geloof (Heb 4:14 ).8 Omdat die lied deur die openbaring veroorsaak word en lei tot dogmavorming, word hierdie belydenisinhoud van die lied ook deur die openbaring bepaal (Bingle 2000:144; Viljoen & Verhoef 2003:205).
Die funksie van sang in die gemeente word verwoord onder andere in 1 Korintiërs 14:159 , Efesiërs 5:19 10, Kolossense 3:1611 en Jakobus 5:13 12. In die kerksang word die geloofsrespons van die gemeente op liefde, genade, bemoeienis en spreke van God verneem. Liturgiese sang is dus gebed, aanbidding, lofprysing, skuld- en geloofsbelydenis (Strydom 1994a:288).
Liturgiese sang is verkondiging
Omdat die kerklied hoofsaaklik aan die antwoordkant lê, wil dit nie sê dat alle woorde van kerkliedere altyd in die tweede persoon geskryf moet wees om God altyd direk aan te spreek nie. In die psalms word die tweede persoon afgewissel met eerste en derde persoon. Die antwoord kan ook in derde persoon gedoen word deurdat God se werke verkondig word in die gees van dank, aanbidding, blydskap, bewondering of uit klagtes oor eie nood en smart, byvoorbeeld in Psalm 66:5: ”Kom hoor wat God gedoen het ...” Die kerklied kan iets oor God sê, maar ook oor en aan mense. Die antwoord kan ook in die eerste persoon aangebied word byvoorbeeld in Psalm 103:1: “Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie” (De Roos 1946:124). Deur die Woord kom die gemeente in die lied aan die woord en word die dade van God verkondig. So dien die lied tot verdere opbou van die medegelowige. Deur die lied word geloof versterk en eenheid bewerk (De Klerk 1990:156).
Blankenburg (1979:306) beskryf hoe daar in die erediens verskillende verkondigingsmodaliteite geïmplementeer word en dat elke modaliteit sy eie, unieke funksie het. Die Skriflesing laat byvoorbeeld die verkondiging hoor vanuit die tyd waar die Woord skrif geword het. Die geloofsbelydenis, gebede en liedere doen dit vanuit die verstaan van die Woord binne ’n bepaalde kerkhistoriese situasie. Strydom (1994a:21) onderskei tussen die vertikale karakter van die lied (lof en danksegging), en die horisontale karakter (verkondiging, lering en vermaning asook aanbidding tot wedersydse geloofsopbou) (1 Kor 14:12 13, Kol 3:16 14). Kerksang bestaan daarin dat verkondiging, belydenis en aanbidding onskeibaar saamvloei (Strydom 1994a:288; Pahl 1998:7,8).
Persoonlike aard en dienskarakter van die liturgiese lied
In liturgiese sang, wat ’n gemeenskaplike handeling is en algemene belydenis uitdruk, mag die persoonlike aard van die belydenis nie misken word nie, maar dit moet in geloofsverband met God en medegelowiges verwesenlik word. Hoewel die lied ’n sterk persoonlike karakter mag hê, bly die liturgiese lied nie ’n “ek-lied” wat bloot uit eie ontroering gebore word nie, maar dit word ’n “ons-lied” wat doksologies uit gemeenskaplike lewende dogma ontspring (Bingle 2000:144). Gemeenskaplike sang van die gemeente kom telkens in pastorale verband ter sprake in 1 Korintiërs 14:15-17 (“mekaar opbou”), Efesiërs 5:19 (“onder mekaar sing”) en Kolossense 3:16 (“onderrig mekaar”).
Liturgiese sang dra ’n onderlinge dienskarakter (Honders 1978:74). Omdat dit ’n korporatiewe handeling is, beskik dit oor ’n besondere koinoniale vermoë: dit bind gelowiges saam (Pass 1985:121). Die liturgiese lied bestaan uit aansporings- en vermaningselemente (Vos & Pieterse 1997:58). Liturgiese sang bewerk geestelike opbou, verseker konstruktiewe groei na aanleiding van die verkondiging, dit vertroos en moedig aan (Pass 1989:113). Wisselsang versterk hierdie vermoë van gemeenskaplike sang (Jenny 1982:65). Liturgiese sang is ’n kragtige medium vir onderlinge bemoediging (Trimp 1983:96) en onderlinge geloofsbou (Strydom, 1994a:289).
Objektiwiteit en subjektiwiteit van die liturgiese lied
Dit is nie regverdig om aan die kerklied die voorwaarde te stel dat dit volstrek objektief moet wees nie. In die geloof sluit objektiwiteit en subjektiwiteit mekaar nie uit nie. Die persoonlike geloof, en nie dié van die gemeente nie, maak die sondaar regverdig. Aan hierdie persoonlike en subjektiewe geloof mag die gelowige in sy lied uiting gee (De Roos, 1946: 139).
Die beoordeling hiervan is ’n moeilike onderneming, omdat daar ’n sterk subjektiewe element in die oordeelsvorming lê. Die kerklied is immers nie minder belydenis as die belydenisgeskrifte nie.
Die liturgiese lied as kunsvorm
Die liturgiese lied is ’n kunsvorm wat bestaan uit taal en musiek. In die liturgiese lied word hierdie kunsvorm aangewend om aan God lof te besing en ’n draer te wees van die gelowige se diepste geloofsoortuigings. Daarom moet dit as kunsuiting waardig en hoogstaande wees maar nie ingewikkeld en hoogdrawend nie, die woordinhoud moet aan taalkundig poëtiese vereistes voldoen en die melodieë van hoogstaande gehalte wees (Müller, 1988:43).
Die liturgiese lied is ’n manier van praat
Sang en spraak het albei te doen met kommunikasie. Daar bestaan egter ‘n verskil byvoorbeeld ten opsigte van die stemmodulasie en die mate van ritmiese ordening. Sang is spraak op ‘n verhewe toon of geïntensiveerde spraak. Dit is ’n volwaardige kommunikasie medium. Sang in die erediens funksioneer net soos die belydenis, nie net as antwoord op God se Woord nie, maar ook as verkondiging (Kloppers, 2003:13).
Tussen sing en praat kom verskeie modulasiegraderings voor, na gelang van hoe die teks of musiek klem ontvang. Gelineau (in Strydom 1994a:280) onderskei verskeie vokale voordragstyle in die loop van die voordraggeskiedenis. Hy rangskik hulle vanaf maksimale teksoriëntasie tot maksimale musikale oriëntasie, naamlik spraak, proklamasie (spraaksang), musikale meditasie (psalmmodiëring), kantilering (chant), sillabiese melodiesang (strofiese liedere, musikale ekspressie met die klem op die teks), akklamasies (musikaal gestileerde liturgiese uitroepe soos “amen” en “halleluja”) en vokalise (woordelose jubelsang). Liedere in die gereformeerde erediens neig meer na maksimale teksoriëntasie as na maksimale musikale oriëntasie. Tog kan daar ook aan die ander voordragstyle oorweging geskenk word ter wille van liturgiese verryking.
As manier van praat, is die liturgiese lied ook ’n medium waarmee uitgereik kan word na die afvalliges, verdwaaldes en ongelowiges, as dit op verstaanbare wyse geskied (1 Kor 14:15)15 en 24-25 )16. “Hoe” daar gesing word, is van belang. Daar moet met die “gees” én met die “verstand” gesing word (De Klerk & Smit, 2002:121), geesgeïnspireerd, nugter en verantwoord, sodat daar verstaanbaar, oortuigend gekommunikeer word (Strydom, 1994a:290).
Samevatting
Die doel en funksie van die Bybelgetroue en Godgerigte liturgiese lied is in hoofsaak die opbou van die gemeente, die versterking van die gemeenskap van die gelowige en die uitdrukking van blydskap en lofprysing teenoor God, wat bewerk word deur verkondiging, geloofsantwoord, pastoraat en evangelisasie.
GEVOLGTREKKING
Op grond van die eienskappe van liturgiese musiek is dit duidelik dat musiek meer kan sê as wat woorde alleen kan doen.
In liturgiese musiek kan die eienskappe van musiek in die algemeen so aangewend word dat liturgiese momente van lofprysing, dank, verootmoediging, skuldbelydenis en gebed uit die dieptes van die siel vertolk word.
Liturgiese musiek verskaf ’n dieper dimensie aan die geloofsantwoord, Woordverkondiging en pastoraat. Die atmosfeerskeppende funksie van musiek dra grootliks daartoe by. Die erediens is ’n kommunikatiewe gebeure en kommunikasie vind nie net op die intellektuele verstaansvlak plaas nie, maar ook op die ervaringsvlak.
Liturgiese musiek is ’n bepaalde tipe musiek, wat ’n duidelike funksie binne die raamwerk van kerklike aktiwiteite moet vervul. As die funksie van die kerklied in ooreenstemming is met die kerugmatiese (verkondiging), koinoniale (gemeenskap van heiliges deur middel van kommunikasie) en liturgiese17 (toppunt en bron van kerklike aktiwiteite, die openbare gesig van die kerk) modaliteite van die kerk, kan dit daartoe bydra dat talle liedere sinvol geïntegreer kan word in die liturgie en kerklike aktiwiteite.
Indien die toonsetting van liedtekste in ’n musikale idioom gedoen word wat eie is aan die luisterervaring en begripsvermoë van die gemeente, verhoog dit die verstaanbaarheid en kommunikatiewe trefkrag van die teks. Dan kan dit op ’n besondere manier bydra tot die opbou van die gemeente, die versterking van die gemeenskap van gelowiges en die uitdrukking van blydskap en lofprysing aan God, wat bewerk word deur verkondiging, geloofsantwoord, pastoraat en evangelisasie. Die waarde en funksie van liturgiese musiek moet effektief ontgin word.
BIBLIOGRAFIE
Barnard, AC 1981. Die erediens. Pretoria: NG-Kerk Boekhandel.
Bingle, JP 2000. Die verhouding tussen Openbaring, Dogmavorming en Doksa-uiting in die liturgiese lied. Potchefstroom: PU vir CHO (ThM-Verhandeling).
Blankenburg, W 1979. Kirche und Musik. Göttingen: VanderHoeck & Ruprecht.
De Klerk, BJ & Smit, EJ 2002. Pneuma en nous in die gereformeerde kerklied. Perspektiewe uit 1 Korintiërs 14: 15 en die tradisie, toegespits op die musiek en poësie van die kerklied. In die Skriflig, 36(1):105-124.
De Klerk, TC 1990. Die rol van eredienssang in die opbou van die gemeente. Potchefstroom: PU vir CHO (ThM-Verhandeling).
De Roos, SP 1946. Beginselen van Kerkmuziek. Amsterdam: Uitgeverij H.J. Paris.
Hamilton, MS 1999. The triumph of the praise Songs. How guitars beat out the organ in the worshipwars. Christianity Today, 43(7):29-35.
Heyns, C 1988. Wat skort met ons kerkmusiek? Vir die Musiekleier, 8:19-28.
Hoffman, LA 1989. Musical traditions and tensions in the American Synagogue, in Collins, M; Power, D. & Burnim, M. (eds), Music and the experience of God. Edinburgh: T & T Clark, 25-39.
Honders, AC 1978. Klinkend geloof. ‘S-Gravenhage: Uitgeverij Boekencentrum BV.
Huisamen, E van N 1997. Kom ons sing die kerk weer vol. Kaapstad: Lux Verbi.
Irwin, J 1993. Neither voice nor heart alone: German Lutheran Theology of music in the age of Baroque. New York: Peter Lang.
Jenny, M 1982. Das Lied des Einzelnen – das Lied der Gruppe – das Lied der Gemeinde. Musik und Kirche, 52(2):55-65.
Johansson, CM 1984. Music and ministry. A Biblical counterpoint. Peabody: Hendrickson.
Jones, D 1999. Music as Spirit. Credenda agenda, 11(5):4-5.
Kloppenburg, W 1997. De Galerij. Op zoek naar een nieuw profiel van die kerkmusicus. Het orgel, 93(11):39-42.
Kloppers, EC 1997. Liturgical music: Worship or war? Hervormde Teologiese Studies, 53:172-184.
Kloppers, EC 1998. Liturgiese musiek as kommunikatiewe handeling in ’n post-moderne era. Pretoria: UNISA (D.Th.-Proefskrif).
Kloppers, EC 2003. Musiekbediening? ’n Prinsipiële begronding. Vir die Musiekleier, 30(23):11-19.
Kruger, D 2002. Die funksionaliteit van die laat twintigste-eeuse kerklied. In die Skriflig, 36(1):19-43.
Liedboek 2001. Liedboek van die Kerk. Wellington: N.G. Kerk-Uitgewers.
Luther, M 1968. Kritische Gesamtausgabe. Briefwechsel (1529-1530), Send schreiben an Ludwig Senfl mit Zusätzen. Weimar: Hermann Böhlaus Nachfolger.
Maconie, R 1990. The concept of music. New York: Oxford University Press.
Müller, J 1988. Die erediens as fees. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Pahl, I 1998. Music and Liturgical Celebration: Presidential Address. Studia Liturgica, 28(1):1-13.
Pass, DB 1985. A Theological theory concerning the role of music in the church. The implications of a biblical model of the church for church musicology. Johannesburg: University of the Witwatersrand (D. Phil- Thesis).
Pass, DB 1989. Music and the church. Nashville: Broadman.
Psalmboek 2003. Die berymde en omgedigte Psalms en ander Skrifberymings in gebruik by die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Paarl: N.G. Kerk- Uitgewers.
Routley, E 1978. Church music and the Christian faith. London: Collins.
Sizoo, A 1956. Johannes Calvijn - Institutie of onderwijzing in de christelijke godsdienst. Delft: Meinema.
Strunk, O 1950. Source readings in music history. From Classical antiquity through the Romantic era. New York: W.W. Norton.
Strydom, WML 1994a. Sing nuwe sange nuut gebore. Liturgie en Lied. Bloemfontein: NG Sendingpers.
Strydom, WML 1994b. Besinning rondom die ontwerp van ’n Protestants-himnologiese estetika. Acta Academica, 1994(1):1-82.
Temmingh, R 1993. Kerkmusiek in krisis. Vir die Musiekleier, 13:17-19.
Trimp, C 1983. De gemeente en haar liturgie. Kampen: Van den Berg.
Troskie, A 1992. Tot hier toe en nie verder met ons kerkmusiek. Vir die Musiekleier, 12:46.
Van der Leeuw, G 1955. Wegen en grenzen. Amsterdam: Paris.
Van der Merwe, J 1995. “Kitsch” in die kerk? - oor vernuwing en vervlakking in ons Kerkmusiek. Vir die Musiekleier, 15 (12):4-10.
Van Groningen, JP 1979. Congregational Song, based on Reformed- Calvinistic Principles. Potchefstroom: PU vir CHO (M Mus-verhandeling).
Viertel, MS 1985. Kirchenmusik zwischen Kerygma und Charisma. Jahrbuch für Liturgik und Hymnologie, 29:111-123.
Viljoen, AM 2005. Musiek meer as woorde. Die doel, waarde en funksie van liturgiese musiek in die erediens. Potchefstroom: PU vir CHO (MA-verhandeling).
Viljoen, FP 2001. Song and music in the Pauline epistles. Paul’s utilisation of Jewish, Roman and Greek musical tradtions to encourage the early Christian communities to praise God. In die Skriflig, 35(3):423-442.
Viljoen, FP 1990. Die betekenis van “Psalmois, Humnois” en “Odais Pneumatikais” in Kolossense 3:16 en Efesiërs 5:19. Potchefstroom: PU vir CHO (ThD-Verhandeling).
Viljoen, FP & Verhoef, AM 2003 Die aard in kriteria vir dogmatiese liedere. Drie omdigtings van Schutte (AGS) Venter. In die Skriflig, 37(2):203-221.
Vos, CJA & Pieterse, HJC 1997. Hoe lieflik is u wonings. Studies in Praktiese Teologie. Pretoria: RGN Uitgewers.
Willock, C 2005. Music understanding faith. Pacifica, 18(1):85-97.
TREFWOORDE
Liturgiese musiek, Liturgiese lied, Kerklied, Erediens
KEY WORDS
Liturgical music, Liturgical song, Church song, Worship service
1 Met liturgiese musiek bedoel ek die musiek wat in die Christelike erediens gebruik word. Eweneens gebruik ek die term liturgiese lied as die musikale vertolking van ’n liedteks in die Christelike erediens. Die terme kerkmusiek en kerkliedere word gewoonlik wyer gebruik om ook ander konvensies in te sluit, bv. Oratoria, Passies en omvangryke orrelwerke. In hierdie artikel beperk ek my tot die liturgiese musiek en lied as sodanig
2 Hierdie artikels figureer grootliks binne die tradisionele kerkmusiekparadigma
3 Swak gemeentesang kan maklik agter die dekmantel van hierdie verskoning weggesteek word.
4 1 Kor 14:26: ”Elke keer as julle bymekaar kom, het elkeen gewoonlik ’n bydrae om te lewer: ’n psalm, ’n onderwysing, ’n openbaring, ’n ongewone taal of klank, ’n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop”.
5 Ef 5:19-20: ”... en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus”
6 Vertaling: “Ek is sterk daarvan oortuig en spreek dit onomwonde uit dat daar naas die teologie geen kuns is wat op gelyke voet met die musiek geplaas kan word nie, want buiten teologie is musiek die enigste kuns wat in staat is om vreugde en vrede in die hart te gee soos dit ontstaan uit die studie van die wetenskap en geleerdheid. Die bewys daarvan is dat die duiwel, wat die oorsaak is van jammerlike bekommernisse en rustelose moeilikhede, vlug voor die klank van musiek byna soos hy dit doen voor die Woord van God.” Die term ”liturgiese musiek” wat Kruger as ’n bepaalde kategorie van kerkmusiek gebruik, is verwarrend. Haar onderskeiding van Kerugmatiese en Koinoniale musiek is deel van liturgiese musiek in die algemene sin soos ek dit in hierdie artikel gebruik
7 Die term ”liturgiese musiek” wat Kruger as ’n bepaalde kategorie van kerkmusiek gebruik, is verwarrend. Haar onderskeiding van Kerugmatiese en Koinoniale musiek is deel van liturgiese musiek in die algemene sin soos ek dit in hierdie artikel gebruik
8 Heb 4:14: “… laat ons vashou aan die geloof wat ons bely”.
9 1 Kor 14:15: ” ... ek moet met die gees die lof van die Here sing, maar ook met die verstand”.
10 Ef 5:19: ”sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van Jesus Christus”.
11 Kol 3:16: ”Die Woord van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing”.
12 Jak 5:13: ”As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing”.
13 1 Kor 14:12: ”As julle julle toelê op die gawes van die Gees, streef dan na dié wat tot opbou van die gemeente dien ...”
14 Kol 3:16: ”Die Woord van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid”.
15 1 Kor 14:15: ”Ek moet met die gees lof aan God sing, maar ook met die verstand”
16 1 Kor 14:24-25: “As almal God se boodskap verkondig, en daar kom ’n ongelowige of ’n buitestander binne, dan word hy deur almal in die gewete aangespreek en kom hy tot selfondersoek. Die verborge dinge kom aan die lig. En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid en openlik te getuig: ”Waarlik, God is hier by julle!”.
17 „Liturgiese lied“ in die enger sin van die woord soos hierbo bespreek.