Viljoen, FP
Noordwes-Universiteit (Potchefstroom)

Jesus se genesing van besetenes in die lig van drie voorbeelde uit die Evangelies

ABSTRACT

Jesus’ Healing of Demonised Persons in the Light of Three Examples from the Gospels

In view of present day reports of often disputable practices of exorcism on the one hand and critical views that the devil, demons and exorcism form part of an outdated worldview on the other hand, a study is made of Jesus’ healing of demonized persons. A survey is made of three examples of Jesus’ healing practices to identify the features of demonic possession and Jesus’ healings. According to the Gospels demon-possession was a stark reality, but Jesus demonstrated his absolute authority over Satan and his demons in a unique way.

OPSOMMING

In die lig van hedendagse berigte van dikwels twyfelagtige praktyke van demoonuitdrywing aan die een kant, en kritiese standpunte dat die duiwel, demone en eksorsie deel vorm van ’n vergange wêreldbeeld aan die ander kant, word ’n studie gemaak van Jesus se genesing van besetenes. Ondersoek word gedoen na drie voorbeelde van Jesus se genesings om eienskappe van besetenheid en Jesus se genesing te identifiseer. Volgens die Evangelies was demoon-besetenheid ’n wrede werklikheid, maar Jesus het sy absolute gesag oor die duiwel en demone op ’n unieke manier bewys.

1. INLEIDING

Binne sommige evangeliese en charismatiese kringe word soms opspraakwekkende, maar ook twyfelagtige uitsprake gemaak oor ervarings met demone en die uitdrywing daarvan 1. Bedenklike Skrifgebruik word soms aangewend om hieraan ’n teologiese basis te verleen (vgl. Janse van Rensburg & Cilliers 1998:34). Die gevaar is ook groot dat vreemde en onverklaarbare gedrag van mense eenvoudig aan duiwelbesetenheid toegeskryf word (Gibbons 2001:19; Strecker 2002:117). Die vraagstuk raak nog meer gekompliseerd met die herlewing van tradisionele Afrika- godsdienste met hulle geloof in towery en die inwerking van die geesteswêreld op die samelewing. Hierbenewens stimuleer spiritistiese filosofieë denke oor geestesaktiwiteite in die moderne samelewing (vgl. Vergeer 2002:373). Hierteenoor bestaan daar sedert die epogmakende werk van Strauss (1846, herdruk in 1973) oor die mitiese aard van die wonderverhale van die Evangelies groot huiwering onder navorsers om te veel af te lei uit die wonders wat aan Jesus toegeskryf is. Veral wanneer dit by eksorsies as sodanig kom, word dit problematies vir diegene wat wetenskaplik met siekte wil omgaan. Die woorde van Bultmann (1953:5) word dikwels in dié verband aangehaal: “It is impossible to use electric light and the wireless and to avail ourselves of modern medical and surgical discoveries, and at the same time to believe in the New Testament world of demons and spirits”. Dunn noem hierdie tendens “The flight from dogma” (2003:25), die “exit (from) Revelation and miracle” deur “scientific criticism” (2003:29).

Onder moderne godsdienswetenskaplikes is daar ’n groeiende skeptisisme teen die bestaan van die engeleryk en veral die bose (vgl. Joubert 2000:196; Van Aarde 1987:23: Viljoen & Floor

2006:27). Davies (1995:99) en Strecker (2002:117) staan skepties teenoor die Bybelse getuienis oor eksorsie, aangesien hulle van mening is dat ook die Bybelskrywers die “possession paradigm” volledig oorgeneem het. Du Plessis (2005:165) beskou die Satan en sy magte as deel van ’n vervloë mitologiese wêreldbeeld. In ander gevalle word huidige psigologiese (Goodman 1988:15) en sosio- politiese (Guijarro 2002:159) teorieë as modelle oorgeneem om berigte van demoonbesetenheid en bevryding te interpreteer. Pilch (2000:32) kategoriseer eksorsie onder die noemer ”symbolic healing” waar die siek persoon in kontak gebring word met die mitiese wêreld. Sodanige metodes van genesing is slegs effektief “when they are taken literally and their symbolic identity is not recognized. When they are demystified, they tend to lose their effectiveness” (Pilch 2000:35).

Eksorsie was blykbaar ’n gebruik onder die Jode toe Jesus na die wêreld gekom het. Dit gee daartoe aanleiding dat sommige navorsers die eksorsies van Jesus gelyk wil stel met soortgelyke pre-moderne praktyke. Davies (1995:104) skryf: “Jesus was a ‘Medium’ … he was a spirit- possessed healer … the overall parameters of his role in first-century Palestine are nothing unusual”. Tog bevraagteken Kampling (1986:247) op goeie gronde of eksorsie werklik algemeen voorgekom het. In vergelyking met die Nuwe Testament bestaan daar in buite-Bybelse bronne relatief min getuienis oor eksorsie.

In die lig van hierdie tendense ontstaan die vraag hoe Christene wat getrou wil bly aan die boodskap van die Nuwe Testament2 , maar ook wil rekening hou met bevindings van die modern wetenskap die eksorsie-verhale van die Nuwe Testament moet interpreteer. Hoort hierdie verhale by ’n primitiewe, voorwetenskaplike verstaan van siekte wat deesdae onaanvaarbaar is in die lig van die moderne mediese wetenskap? Of is die wêreldbeeld van die verhale nog geldig en bied dit ’n korrektief op die moderne wetenskaplike wêreldbeeld?

Dit is nie my bedoeling om in hierdie artikel bogenoemde wêreldbeelde as sodanig te beoordeel nie. Ek het elders hierdie vraagstuk bespreek en probeer aantoon hoe Skrifuitsprake oor Jesus as Christus en Here steeds geldig is vir die Christendom van vandag (vgl. Viljoen 2002). My benadering in hierdie artikel is om drie voorbeelde van demoonuitdrywing wat in die Sinoptiese Evangelies beskryf is, kortliks te ondersoek en om daaruit kenmerke af te lei van besetenheid en hoe Jesus se demone uitgedryf het. Ek is van mening dat die identifisering van hierdie kenmerke rigtinggewend kan wees vir Christene ten opsigte van die komplekse vraagstuk van demoongekweldheid en die verantwoordelike hantering van sodanige verskynsels in die huidige samelewing.

2. VOORBEELDE VAN DEMOONUITDRYWING IN DIE EVANGELIES

In die Evangelies (en Handelinge) word daar dikwels berig oor die aktiwiteit van demone en die magte van die duisternis wat hulle teen die Seun van God en die Kerk opstel. Daar bestaan ongeveer 48 verwysings na eksorsie in die Sinoptiese Evangelies en Handelinge3 (Leahy 1990:78; Sorensen 2002:122). Uit die veelvuldige verwysing na demone en die beskrywing van die verskeidenheid van aktiwiteite van demone, is dit onmiskenbaar dat die evangeliste die bestaan van duiwelbesetenheid as ’n harde en wrede werklikheid beskou het4 (Möller 1987:175). Hoewel daar binne histories-kritiese ondersoeke heelwat bedenkinge oor die historiese geloofwaardigheid van die detail van die narratiewe bestaan, blyk dit dat berigte dat Jesus demone uitgedryf het deur verskeie onafhanklike lae van die Evangelie-tradisie bevestig word (Twelftree 1993:130). “Taking everything into consideration, there is no reason to doubt the historical fact of exorcistic activity of Jesus” (Strecker 2002:118). “It would be flying in the face of the evidence and a grave abuse of the historical-critical method to dispute the essential historicity of the Gospel narratives which depict Jesus as a successfull exorcist” (Dunn & Twelftree 1998:176).

Volgens die Evangelies het demoonuitdrywing ’n wesentlike deel van Jesus se optrede uitgemaak (Evans 1990:488; Van Zyl 1992:20). Hollenbach (1981:568) toon aan dat ”quantitavely the exorcism played a large role in Jesus’ career”, “qualitatively … exorcism figured prominently in Jesus’ own understanding of his career” en “it was in connection with this particular activity that he drew upon himself the wrath of all the important public authorities of his time”. Dunn & Twelftree (1998:171) skryf: “There can be no doubt that Jesus had the reputation of a successful exorcist”.

In die Sinoptiese Evangelies word vyf voorvalle van demoonuitdrywing deur Jesus uitgebreid beskryf 5:

• Die besetene in die sinagoge van Kapernaum (Matt 1:23-28 // Luk 4:33-37);

• Die besetene(s) van Gadara (Gerasa) (Mark 5:1-20 // Matt 8:28-34 // Luk. 8:26-39);

• Die Kanaänitiese dogter wat demoonbesete was (Mark 7:24-30 // Matt 15:21-28);

• Die geestelik versteurde seun (Mark 9:14-29 // Matt 17:14-21 // Luk 9:37-42); en

• Die man wat blind en stom was vanweë demoonbesetenheid (Matt 9:32-34 // Luk. 11:14 (Matt 12:22-23 verwys moontlik na dieselfde gebeurtenis).

• Die derde, vierde en vyfde van bogenoemde voorbeelde word vervolgens ondersoek6 om eienskappe van demoonbesetenheid en Jesus se manier van demoonuitdrywing daarin te identifiseer 7.

3. DIE KANAÄNITIESE DOGTER WAT DUIWELBESETE WAS

Die genesing van die Kanaänitiese (Mark 7:24-30; Matt 15:21-28) dogter speel in ’n heidense konteks af. ’n Heidense vrou het na Jesus toe gekom en Hom gesmeek om ’n demoon uit haar dogter te dryf. Matteus sowel as Markus plaas hierdie voorval na ’n afdeling wat oor konflik tussen Jesus en die Fariseërs handel. Blykbaar kontrasteer albei die evangeliste die weerstand van die godsdienstige elite met die nederige geloof van die heidense vrou (Gundry 1993:374; Luz 2001:339). “The receptivity of the Gentiles is brought sharply into focus in this story, as it stands after the section on Jewish legalism” (Twelftree 1993:89). Van Bruggen (1990:290) skryf in die verband: “In verrassende tegenstelling tot de ongelovige houding van Israël staat het optreden van een heidense vrouw”. Matteus 15:22 identifiseer die vrou as Kanaänities en gebruik (waarskynlik opsetlik) die naam van Israel se antieke vyande. “Het illustreert ... dat Israël bezig is, eigen brood te verspillen” (Van Bruggen 1988:169). Markus 7:26 beskryf haar as Grieks wat Siro-Fenisies gebore is. Heidene geniet ook die seëninge van die evangelie.

Albei evangelies berig dat hierdie heidense vrou Jesus om hulp genader het. Matteus 15:22 rapporteer die woorde van die vrou: Ελέησόν με υίός Δαυίδ ή θυγάτηρ μου κακώς δαιμονίζεται (Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ’n duiwel,en dit gaan baie sleg) 8. Die gebruik van die Messiaanse titel “Seun van Dawid” deur ’n heidin is opmerklik. Matteus beklemtoon dat die heidense vrou Hom as die Joodse Messias erken het, terwyl die Joodse godsdienstige leiers Hom verwerp het.

Dit het baie sleg gegaan met die dogter. Die uitdrukking wat Matteus gebruik (ήθυγάτηρ μου κακώ δαιμιυίζεται) (15:22) dui daarop dat sy erg gedemoniseer was. Markus 7:25 berig dat sy ’n onrein gees gehad het. Afgesien van hierdie algemene stellings, word daar niks berig oor die simptome as sodanig nie.

Albei berigte rapporteer Jesus se gesprek met die vrou oor die vraag of Hy haar moet help of nie. Die onmiddellike reaksie van Jesus was skynbaar onsimpatiek. Hy het haar aanvanklik nie geantwoord nie, maar later tog wel: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel gestuur” (Matt 15:24). ’n Moontlike verklaring van hierdie reaksie van Jesus en die volgehoue geloof van die vrou, word hier nie verder ondersoek nie. Wat wel nou ter sake is, is dat Jesus uiteindelik haar versoek toegestaan het. Daaruit blyk dit dat daar ’n duidelike verband bestaan tussen die geloof van die vrou, wat deur die woord en Gees van Jesus tot stand gebring is, en die wonder wat plaasgevind het. Volgens Matteus 15:28 het Jesus pertinent van die vrou se groot geloof (’n kenmerkende tema in Matteus – Hagner, 1995:442) melding gemaak. Luz (2001:341) beskryf die resultaat van die vrou se geloof: “The unconditional trust in the Lord and Son of David also includes the concrete experience of healing”. Dit is wel opmerklik dat klem gelê word op die geloof van die ma en nie van haar dogter nie. Hoewel Jesus soms die genesing van siekes in verband bring met die pasiënte se geloof (bv. Matt 9:22; Mark 5:34; Luk 8:48), doen Hy dit volgens die Evangelies nooit in die geval van demoonbesetenheid nie.

Hoewel die dogter nie self teenwoordig was nie, was die antwoord van Jesus aan haar ma genoeg om die dogter te genees 9. Sy wil is onmiddellik deur die bose gees gehoorsaam. Van die oomblik af dat Jesus op haar ma se versoek geantwoord het, was die dogter gesond. Die gesag van Jesus het oor die demoon gegeld selfs al was die besete persoon nie teenwoordig nie. Hierdie is die enigste voorbeeld in die Nuwe Testament waar ’n besetene oor ’n afstand genees is. Daar word ook nie melding gemaak van ’n bevel van Jesus dat die demoon moes wyk nie. “So great is Jesus’ power that he has not needed to pronounce a word of exorcism in the presence of the demon” (Gundry, 1993:375). Volgens Matteus 15:28 het Jesus die vrou bloot verseker dat haar versoek toegestaan is en volgens Markus 7:29 het Hy haar vertel dat die demoon van haar dogter gewyk het. “Van daardie oomblik af was die dogter gesond” (Matt 15:28). Toe die ma by die huis kom, het die dogter op die bed gelê en die duiwel was uit haar uit. Die wonder van uitdrywing was skielik en volledig. Die bose gees wat haar geteister het, is uitgedryf deur die “onweerstaanbare gesag van die Seun van God” (Coetzee 1969:85).

4. DIE GEESTELIK VERSTEURDE SEUN

Markus se weergawe van die genesing van die versteurde seun (Mark 9:14-29) is meer as twee keer so lank as die van die ander twee evangeliste (Matt. 17:14-21; Luk 9:37-42). Matteus en Lukas laat drie dele, wat in Markus voorkom, uit 10:

• Markus 9:14-16: Die dispuut tussen die skrifgeleerdes en die dissipels wat nie daarin kon slaag om die demoon uit die seun te dryf nie.

• Markus 9:21-24: Die gesprek tussen Jesus en die seun se pa.

• Markus 9:26-27: ’n Grafiese beskrywing van hoe die demoon uit die seun gewyk het en die toestand van die seun na die genesing.

Al drie die evangeliste skryf dat hierdie voorval plaasgevind het direk na Jesus se verheerliking op die berg. Soos by sy doop, het die stem uit die hemel verklaar dat Jesus die geliefde Seun van God is (Matt 17:5; Mark 9:7; Luk 9:35). Soos die doop gevolg is deur die versoeking in die woestyn, word die verheerliking op die berg gevolg deur hierdie konfrontasie met die bose magte. Terwyl Petrus, Johannes en Jakobus saam met Jesus op die berg van verheerliking was, het die ander dissipels onsuksesvol probeer om die bose gees uit die seun te dryf. Sy pa het hom na die dissipels toe gebring met die hoop dat hulle hom sou kon gesond maak. Die feit dat hulle in hulle poging gefaal het, lei tot ’n konfrontasie tussen die skrifgeleerdes en die dissipels.

Al drie die evangeliste berig dat die seun se pa Jesus genader het om hulp. Die pa beskryf die toestand van sy seun. Die pa se aanvanklike beskrywing van die seun se toestand word in Markus 9:17-18 weergegee, maar word gevolg deur ’n verdere beskrywing van sy toestand in verse 21-22 en die optrede van die seun in verse 20 en 26 11. Sy pa berig dat die gees sy seun stom gemaak het (Mark 9:17). Matteus 17:15 berig dat hy maansiek was (σεληνιάζεται). Die simptome wat genoem word sluit geweldige stuiptrekkings, skuim om die mond, gekners op sy tande, doofheid en stomheid in. Die duiwel het hom op die grond laat val en laat rondrol. Die simptome by die seun kom enigsins ooreen met dié van epilepsie (Hagner 1995:505) 12.

Die aanslae het gereeld voorgekom deurdat die bose gees hom in vuur of water neergegooi het om hom dood te maak. Die dissipels wat nie saam met Jesus op die berg van verheerliking was nie, het probeer om die duiwel uit te dryf, maar kon nie daarin slaag nie. Volgens Markus 9:29 het die dissipels wel die gesag ontvang om bose geeste uit te dryf, maar dat hulle geloof te kort geskied het toe hulle deur die gewelddadige demoon gekonfronteer is. Toe Jesus verneem dat die dissipels hierdie keer nie in staat was om die demoon uit te dryf nie, het Hy geantwoord: “Ongelowige en ontaarde geslag … hoe lank moet Ek nog saam met julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra?” (Matt 17:17; vgl. Mark 9:19; Luk 9:41). Jesus verwys na die gebrek aan geloof van die dissipels en sy woorde het in die eerste plek op sy dissipels betrekking. Deur van ”ontaarde geslag” te praat, verbreed Jesus wel sy skopus om ook na die toestand van die mense te verwys onder wie Hy sy bediening verrig het13 .

Na Jesus se klagte gee Hy opdrag dat die seun na Hom gebring moes word. Die verskriklike aard van die gees blyk uit die manier waarop die gees die seun laat reageer het toe hy na Jesus gebring is: “Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond” (Mark 9:20). Toe Jesus die gees skerp aangespreek het, het die gees ’n uiters gewelddadige manier gewyk: “Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit kom uitgegaan. Dit het gelyk asof die seun dood is” (Mark 9:26). Berigte van gewelddadige vertrek van bose geeste is algemeen in die antieke wêreld (Twelftree 1993:96). Leahy (1990:87) merk op: “Just as a retreating army still burn and destroy as much as possible before evacuating its position, so this enemy exerted the utmost malice of which he was capable as he reluctantly obeyed the Christ of God”.

Markus beskryf die gesprek tussen Jesus en die seun se pa (Mark 9:21-24). Jesus begin deur navraag te doen oor hoe lank die seun al aan die toestand gely het, waarna die pa antwoord dat dit al van jongs af so was en dat dit lewensbedreigend vir die seun was. Hy sê dan: ”As U tog iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons”. Jesus antwoord: “Vir die een wat glo, kan alles”. Die punt wat Jesus maak, is dat nie die grootte van ’n mens se geloof bepaal of die wonder kan plaasvind of nie “but that they will not put limits on what God can do” (Page 1995:162). Die pa antwoord: “Ek glo … help my waar ek nog ongelowig is” (Mark 9:24). Die man bely dat sy geloof ver van volmaak af is. Tog beskryf Markus dit as die model van Christelike geloof. In antwoord op sulke geloof, doen Jesus wonders. Matteus voeg die logion by van geloof wat berge kan versit

– geloof wat so groot is soos ’n mosterdsaadjie – (Matt 17:20) om die belangrikheid van geloof vir ”miraculous healings” te beklemtoon (Luz 2001:410).

Al drie die evangelies berig dat Jesus die bose gees skerp aangespreek het (έπετίμησεν) (Matt 17:18; Mark 9:25; Luk 9:42). Hierdie woord is soms as tegniese term gebruik om geeste ondergeskik te stel (Gundry 1993:491; Page 1995:162). “The phrase is also well known in the magical literature in the context of incantations seeking to control demons and gods” (Twelftree 1993:95). Met die frase word Jesus se gesag oor die demoneryk bevestig. Markus berig ook dat Jesus vir die gees opdrag gegee het om nie weer na die seun terug te keer nie (Mark 9:25). Dit blyk dat dit moontlik was dat ’n bose gees na ’n bevryde kon terugkeer (vgl. die gelykenis van die rustelose demoon in Matt 12:43-45; Luk 11:24-26) 14.

Jesus doen geen beroep op hoër gesag nie. Hy gebruik ook nie magiese materiale nie. Jesus spreek bloot die demoon aan deur een van die simptome wat die demoon bewerk het te noem, naamlik dat dit ’n stom en dowe gees was.

’n Ongewone element in Markus se verhaal is dat dit gelyk het asof die seun dood was na die eksorsie (Mark 9:26). Jesus het hom aan die hand geneem en opgehelp. Die gebruik van hande met gesondmaking was blykbaar algemeen in die Joodse wêreld (Twelftree, 1993:96). Page meen dat daar ’n dieper bedoeling met die gebeurtenis bestaan: “Presumably, Mark saw the imagery of resurrection as being particularly appropriate to characterize the change that Jesus had wrought in the boy. Jesus had given him an opportunity to begin a new life” (Page 1995:163)15 . Matteus en Lukas verwys albei na die uitkoms van die eksorsie as genesing. Matteus 17:18 gebruik έθεραπεύθη en Lukas 9:42 ίάσατο.

Matteus 17-19-20 en Markus 9:28-29 bevat ’n epiloog waarin die dissipels Jesus vra waarom hulle self nie in staat was om die demoon uit te dryf nie. Aangesien hierdie die enigste berig is dat Jesus se dissipels nie in staat was om ’n demoon uit te dryf nie, is die gedeelte van besondere betekenis. Volgens Matteus 17:20 was die rede onvoldoende geloof by die dissipels. Op grond van vorige ervaring dat hulle demone kon uitdryf, het die dissipels nie geheel en al op God vertrou nie, maar op hulle eie vermoë begin reken. Volgens Markus 9:29 antwoord Jesus op ’n unieke manier op hulle vraag: “Hierdie soort goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie”. Aangesien die Nuwe Testament nêrens van voorvalle berig waar eksorsie deur middel van gebed plaasgevind het nie, ontstaan die vraag wat hierdie woorde beteken. Dit dui blykbaar daarop dat goddelike krag nie onder menslike beheer staan nie. Jesus het met eie gesag opgetree, maar sy dissipels moes God altyd daarvoor vra (Gundry 1993:492; Van Bruggen 1990:327). Die manifestasie van die krag van God kom slegs in reaksie op ’n gesindheid van vertroue en afhanklikheid op God wat deur nederige gebed verwoord word.

5. DIE MAN WAT BLIND EN STOM WAS VANWEË DEMOONBESETENHEID

Daar bestaan verskil van mening oor die verhouding tussen drie berigte:

• Matteus 9:32-34 (genesing van ’n stom man)

• Matteus 12:22-24 (genesing van ’n stom en blinde man)

• Lukas 11:14-15 (genesing van ’n stom man).16

Dit wil voorkom asof die gevalle in Matteus 12:22-24 en Lukas 11:14-15 dieselfde voorval beskryf, aangesien albei weergawes berig dat Jesus ’n man genees het wat stom was. Matteus 12:22-24 voeg by dat hy blind was. Die berigte in Matteus 12:24-32 en Lukas 11:15-26 word gevolg deur die kontroversie oor Beëlsebul. Matteus 9:32-34 beskryf ook die eksorsie van ’n demoon wat ’n man stom gemaak het gevolg deur die beskuldiging dat Jesus dit met die mag van die prins van die demone gedoen het. Die meeste Nuwe Testamentiese navorsers beskou die twee weergawes van Matteus as ’n doeblet, hoewel daar sommige is wat beweer dat hy twee verskillende gebeurtenisse beskryf (bv. Page 1995:164).

Albei weergawes in Matteus berig dat die besetene na Jesus toe gebring is. Dit stem ooreen met ander berigte dat Jesus nooit na die besetenes gesoek het nie.

Die verwysings na blindheid en doofheid as die gevolg van demoonbesetting is opvallend. Elders in die Evangelies is daar voorbeelde van stom en dowe mense wat genees is, maar waar geen demoniese werking vermeld word nie (Matt 9:27; 20:30; Mark 7:31-37; Joh. 9). Die uitdrukking κωϕόν δαιμονιζόμενον dui op ’n demoon wat doofheid veroorsaak. In Matteus 12:22 word berig van ’n man wat blind en stom was, omdat hy deur ’n demoon beset was. Toe Jesus hom van die mag van die bose bevry het, kon hy praat en sien. Soos in die geval waarvan in Matteus

9:32-34 berig is, is dit duidelik dat demoon-besetenheid as iets anders beskou is as gewone fisieke siekte of gestremdheid. Die doofstomheid en blindheid was die fisieke manifestasies van demoniese aktiwiteit in die menslike liggaam.

Nie een van die berigte vermeld detail oor die eksorsie as sodanig nie. Al drie berigte vermeld die verbasing van die menigtes en die kritiek van die Fariseërs wat gelei het tot die Beëlsebul- kontroversie.

Na albei die berigte in Matteus 12:22-23 en Lukas 11:14 dat Jesus ’n besete man wat blind en stom was genees het, volg perikope oor die terugkeer van bose geeste: “Wanneer ’n bose gees uit ’n mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na ’n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het’ … aan die einde is so ’n mens slegter daaraan toe as aan die begin” (Matt 12:43-45, vgl. ook Luk 11:24-26). Hierdie waarskuwing sluit by die destydse populêre geloof aan dat die woestyn die natuurlike habitat van demone was, maar dat hulle voortdurend op soek was na permanente blyplek in die liggame van mense of lewende wesens (Evans 1990:494). “The main lesson is that before there can be permanent dispossession of a demon there must be a spiritual repossesion of the victim” (Leahy, 1990:104). Daarom is die wedergeboorte van die slagoffer nodig. Die Heilige Gees moet so ’n mens se lewe vul. Iemand wat deur die Heilige Gees beheer word, word met God se guns begenadig (Viljoen & Stoltz 2005:272). So iemand is ’n nuwe mens wat in staat gestel word om God te eer en aan sy skeppingsdoel te beantwoord.

6. KENMERKE VAN BESETENEHEID EN JESUS SE DEMOONUITDRYWING

Uit die drie voorbeelde kan ’n aantal kenmerke van besetenheid en Jesus se manier van genesing geïdentifiseer word.

6.1 Besetenheid en siekte

Die kritiese vraag kan gevra word of mense in die tyd van die Nuwe Testament nie bloot alle vorme van onverklaarbare siektes aan demone-aktiwiteit toegeskryf het nie (bv. Davies 2995:99; Du Plessis 2005:168). Twelftree (1993:55) praat by geleentheid van “a blurring of the distinction between healing and exorcism”. Op grond van noukeurige histories-kritiese ondersoek kom Dunn & Twelftree (1998:178) tot die gevolgtrekking “by no means all illnesses were attributed to demons and demon-possession”. Hierbenewens toon Theissen (1983:85) aan dat berigte van eksorsie en gesondmaking in die Jesustradisies van mekaar onderskei moet word as onafhanklike genres met elk hul eie motiewe. Strecker (2002:121) stel die verhouding tussen siekte en besetenheid pertinent: “Possession in the world of the New Testament is not a disease per se. On the contrary, certain diseases are looked upon as possible indications of possession”. Sorensen (2002:136) redeneer dat Markus oor die algemeen ’n duidelike onderskeid tussen siektes en besetenheid maak, terwyl die onderskeid by Matteus en Lukas-Handelinge soms vaer is.

Dit blyk dat die Evangeliste onderskeidend berig hoe Jesus besetenes en siekes genees het. Markus 7:24-30 en Matteus 15:21-28 beskryf hoe Jesus die Kanaänitiese dogter genees het deur in besonderhede te fokus op haar besetenheid. In albei hierdie Evangelies word die berig opgevolg deur ’n beskrywing hoe Jesus onderskeidend talle mense met allerlei siektes en gestremdhede gesond gemaak het (Mark 7:32; Matt 15:29-31). Met die genesing van die geestelik versteurde kind, skryf al drie die Sinoptiese Evangelies dit pertinent aan demoonbesetenheid toe. Matteus en Lukas berig dat Jesus ’n man(ne), wat vanweë besetenheid blind en stom was, genees het, terwyl Matteus 15:29-31 beskryf hoe Jesus ander stom en dowe mense genees het, maar die gebreke nie aan besetenheid toeskryf nie.

6.2 Karakter van die besetenes

Sommige navorsers beweer dat demoonbesetenheid in die Evangelies bloot die uitdrukking was van asosiale gedrag. Demoonbesetenes sou mense wees wat vanweë hulle onaanvaarbare gedrag uit die samelewing verstoot is (Parker 1975:437). Uit die voorbeelde wat ondersoek is, blyk egter dat so aanname nie geldig is nie.

Die dogter van die Kanaänitiese vrou is binne haar gesin verdra. Oor die rede waarom die vrou die kind nie persoonlik na Jesus toe gebring het nie, kan gespekuleer word. Die seun wat deur sy pa na Jesus toe gebring is, is ook steeds as seun aanvaar. Die man(ne) wat stom en blind was, is deur die gemeenskap na Jesus toe gebring vir genesing. Hierbenewens word elders in die Evangelies ook na stom en blinde mense verwys sonder dat hulle as demoonbesete beskou is. Dit sou buitendien vreemd wees om iemand wat blind of stom was summier as asosiaal te beskou en daarom uit die samelewing te verstoot.

Uit hierdie drie voorbeelde blyk dat dit onwaarskynlik was dat hierdie demoonbesetenes uit die samelewing verwerp was.

6.3 Dramatiese konfrontasie in Jesus se teenwoordigheid

Kontemporêre berigte van dramatiese konfrontasies tussen demoonbesetenes met Jesus, toon uitdruklike ooreenkoms met die getuienis oor die geestelik versteurde seun. Met die ander twee voorbeelde was daar waarskynlik nie dramatiese konfrontasies nie.

’n Dramatiese en ontstellende konfrontasie het plaasgevind toe die geestelik versteurde seun deur sy pa by Jesus gebring is. Die duiwel het die seun ontsettende stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond (Mark 9:20). Hierteenoor was die Kanaänitiese dogter nie naby Jesus toe sy genees is nie, wat so ’n persoonlike konfrontasie uitsluit. Die dogter se ma het wel ter wille van haar voor Jesus neergeval. Die ma se optrede kan nie as konfrontasie beskou word nie, maar ’n betoning van eerbied en smeking om hulp. Met die genesing van die stom en blinde man(ne) word daar nie van konfrontasie berig nie.

Die dramatiese konfrontasie van die demoon in die versteurde seun met Jesus, word beklemtoon deur die feit dat die insident plaasgevind het na Petrus se belydenis (Mark 8:29 et par.) en Jesus se verheerliking op die berg (Mark 9:2-8 et par.). Die stem uit die hemel het pas bevestig dat Jesus die geliefde Seun van God is – ’n posisie wat onmiddellik deur die bose uitgedaag word 17.

6.4 Demoonuitdrywing oor ’n afstand

Twelftree (1993:145) noem voorbeelde uit die Joodse en Hellenistiese literatuur waar eksorsie oor ’n afstand heen plaasgevind het. Die genesing van die Kanaänitiese dogter is die enigste voorbeeld in die Evangelies waar Jesus ’n demoon uitgedryf sonder dat die slagoffer teenwoordig was. Die evangeliste wil in hierdie beskrywing beklemtoon dat Jesus se mag so groot is dat Hy nie eers nodig gehad het om die demoon te besweer of naby die besetene te wees nie.

6.5 Geloof en genesing

Uit die voorbeelde wat ondersoek is, blyk dat daar ’n indirekte verband tussen geloof en genesing bestaan. In die verhaal van die Kanaänitiese dogter word daar nie van haar geloof berig nie, maar dié van haar ma. Markus en Matteus beskryf die dogter se genesing op ’n manier waardeur die nederige geloof van die heidense ma met dié van die godsdienstige elite gekontrasteer word. In die geval van die geestelik versteurde kind, kom geloof van die dissipels en die seun se pa ook eksplisiet aan die orde. Jesus verwyt sy dissipels saam met die ontaarde geslag van ongeloof, met die gevolg dat hulle nie die demoon uit die seun kon dryf nie (Mark 9:19; Matt 17:17 en Luk 9:41). Markus 9:21-24 berig verder hoe die seun se pa Jesus om hulp genader het, omdat hy in Hom geglo het. Jesus verwys uitdruklik na die belangrikheid van geloof: “Vir die een wat glo, kan alles” (Mark. 9:23), terwyl die pa die onvolmaaktheid van sy geloof bely: “Ek glo ... help my waar ek nog ongelowig is” (Mark 8:24). In die geval toe mense (’n man(ne) wat blind en stom was na Jesus toe gebring het, word daar nie eksplisiet na geloof verwys nie. Geloof kom wel implisiet aan die orde. Die mense het die man(ne) na Jesus toe gebring, blykbaar omdat hulle geglo het dat Hy in staat was om die besetene(s) te genees.

Uit die voorbeelde blyk dat Jesus in antwoord op die geloof van omstanders, die besetenes genees het. Wat telkens opmerklik is, is dat daar nie sprake is van die geloof van die besetenes nie, maar van persone wat namens hulle intree .18

6.6 Besweringsformules en gebed

Aune (1980:1532) meen “the great gulf which some New Testament scholars would place between ‘the powerful word of the Son’ and ‘magical incantations’ is simply non-existent. The short authoritative commands of Jesus to demons in the Gospel narratives are formulas of magical adjuration”. Twelftree (1993:157 ff.) skryf dat magiese middele, die inroep van “power-authority”, gebedsformules en die besweringsformule όρκιζω destyds algemeen in gebruik was by eksorsie- praktyke. Eksorsiste in die tyd van Jesus ”conducted their healing using a conspicious or recognizable power-authority, incantations and prayers” (Twelftree 1993:160).

McCasland toon egter aan dat Jesus nie bepaalde formules gebruik het om die bose geeste uit te dryf nie. “He cast out demons by his personal command, not by means of any kind of formulae, incantations, ritual or magical objects” (McCasland 1951:112). Vir Jesus was dit nie nodig om ’n beroep te doen op ’n eksterne gesagsbron (“power-authority”)19 nie. Daarom het Jesus nie die bekende besweringsformules van destyds gebruik nie. Om die demoon uit te dryf het Hy selfs nie die naam God aangeroep soos wat ’n mens sou verwag nie! 20. Die Evangeliste beklemtoon Jesus se eie gesag wanneer Hy deur die demone gekonfronteer word (Sorensen 2002:138). In Markus 9:25 word pertinent berig dat Jesus in eie gesag optree: “Ek gebied jou”. Die emfatiese έγώ wat hier gebruik word, word selde elders vir die bediening van Jesus gebruik (Twelftree 1993:164). Hierdeur word beklemtoon dat Jesus met eie gesag optree.

Met die genesing van die Kanaänitiese dogter word daar niks berig van ’n bevel of besweringsformule dat die demoon moes wyk nie. Daar word bloot vertel dat Jesus haar ma verseker het dat haar versoek toegestaan is (Matt 15:28) en dat die demoon van haar gewyk het (Mark 7:29). In die geval van die maansiek seun, berig al drie die Sinoptiese Evangelies dat Jesus die gees skerp aangespreek het. Hoewel dieselfde woord (έπιτιμάω) wel in magiese literatuur van destyds gebruik is om die bose skerp aan te spreek, was dit die woord όρκιζω wat destyds algemeen as eksorsie-formule gebruik is .21 In die geval van die doof en stom besetene(s) word niks van ’n besweringswoord berig nie.Terwyl Jesus volkome met eie gesag die demone uitgedryf het, is dit anders met sy dissipels. Die dissipels kon nie die geestelik versteurde seun genees nie, blykbaar omdat hulle op eie vermoë begin reken het en nie geheel en al op God vertrou het nie. Dit is daarom dat Jesus opmerk dat “hierdie soort goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie” (Mark 9:29).

Jesus het met eie gesag opgetree, maar sy dissipels moes op God vertrou om demone uit te dryf.

6.7 Gewelddadige reaksie op eksorsie

Uit die drie voorbeelde wat ondersoek is, word daar slegs in die geval van die geestelik versteurde seun berig van ’n gewelddadige reaksie toe die demoon gewyk het. Toe Jesus die demoon aanspreek, het die gees hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry voor hy uit hom gewyk het. Daarna het dit gelyk asof die kind dood is (Mark 9:26). Met die ander twee voorbeelde word daar nie van sodanige reaksie berig nie. In die geval van die Kanaänitiese dogter is ’n gewelddadige wyk van die demoon onwaarskynlik. Matteus 15:28 berig dat die dogter oombliklik gesond was toe Jesus haar ma verseker het van haar genesing.

6.8 Magiese middele

Dit was gebruiklik in destydse eksorsie-tegnieke dat middels gebruik is, byvoorbeeld hare, water, takke van tamariske, potskerwe en amulette (Twelftree 1993:156). Dit is egter opvallend dat Jesus nie van sodanige middele gebruik gemaak het nie (Sorensen 2002:138).

Uit die voorbeelde wat ondersoek is, blyk dit dat Jesus slegs woorde gebruik het 22. Die gebruik van hande, veral die oplê van hande was kenmerkend van Jesus se bediening. Die feit dat Jesus die geestelik versteurde seun na die uitdrywing met sy hand opgehelp het, kan nie as magiese middel beskou word asof Jesus van enige eksterne middel magiese krag moes ontvang nie.

6.9 Terugkeer van bose geeste

Na beide die berigte in Matteus 12:22-23 en Lukas 11:14 dat Jesus ’n besete man wat blind en stom was genees het, volg perikope oor die terugkeer van bose geeste (Matt 12:43-45 en Luk 11:24-26). In die lig hiervan skryf Leahy (1990:103): “Our Lord has clearly condemned the practice of an exorcism which, by its failure to give the sufferer immunity from future demon possession, demonstrates its unsatisfactory character”. Jesus se argument oor ’n bose gees wat uit ’n mens uitgegaan het, maar later weer terugkeer, dui hierdie gevaar aan: “Wanneer ’n bose gees uit ’n mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na ’n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het’ … aan die einde is so ’n mens slegter daaraan toe as aan die begin” (Matt 12:43-45, vgl. ook Luk 11:24-26). Hierin is die groot leemte van heidense praktyke van eksorsie geleë. Daar bestaan nie so iets soos ’n geestelike vakuum nie. Daarom is die wedergeboorte van die slagoffer nodig. Die Heilige Gees moet so ’n mens se lewe vul. Demoon-besetenheid is ’n aaklige karikatuur van wat dit beteken dat die Heilige Gees in ’n mens woon.

7. SLOT

Getuienis van demoniese aktiwiteite en allerlei bevrydingspraktyke in die huidige samelewing, maak verantwoordelike Skriftuurlike besinning oor die onderwerp noodsaaklik. Hoewel die konsep van die bose in sommige kritiese kringe as deel van ’n vergane wêreldbeeld beskou word, beskryf die Evangelies dat die duiwel en demone ’n wrede werklikheid is. Besetenheid was nie maar iets waaraan asosiale gedrag of onverklaarbare siektes toegeskryf is nie. Uit die Evangelies blyk die verhoogde konfrontasie van die bose teen Jesus tydens sy aardse optrede, maar ook die beslissende triomf van Jesus oor die bose. Hoewel demoonuitdrywing nie uniek was aan Jesus nie, blyk dit uit die Evangelies dat die manier waarop Jesus demone uitgedryf het, uniek en onweerstaanbaar was. Jesus het in eie reg met eie Goddelike gesag opgetree. Uit die Evangelies kom die aard van demoonbesetenheid aan die lig wat lig kan werp op die komplekse vraagstuk van pastoraat aan demoongekweldes. Dit sal Christene die moeite loon om die kenmerke van demoonbesetenheid te onderskei en te let hoe Jesus demone uitgedryf het, voordat hulle waag om op naïewe wyse die moeilike probleem te probeer hanteer.

Hoewel die kerk vandag nog worstel met die gebrokenheid van die skepping en die inwerking van die bose, is dit duidelike dat die Koninkryk van God deurgebreek het. Die evangeliste getuig van Jesus Christus se absolute gesag oor die duiwel. Bose geeste wyk voor die onbeperkte gesag van die Seun van God.

BIBLIOGRAFIE

Aune, DE 1980. Magic in early Christianity. Aufstieg und Niedergang der römischen Welt, ii.23.2:1507-1557.

Bultmann, R 1957. History and eschatology. Edinburgh: University Press.

Bultmann, R 1953. The New Testament and Mythology, in Bartsch, HW (ed). Kerygma and Myth. London: SPCK, 1-24.

Coetzee, JC 1969. Satan, die sataniese magte en die sonde, in Du Toit, S et al. (reds). Die koninkryk van God. Potchefstroom: Herald, 76-95.

Davies, SL 1995. Jesus the healer. Possession, trance and the origins of Christianity. New York: Continuum.

Du Plessis, I 2005. Jesus die keuse. Eerlike geloofsvrae oor die Jesusgesprek. Wellington: Lux Verbi. BM.

Dunn, JDG 2003. Jesus remembered. Christianity in the making, volume 1. Grand Rapids & Cambridge: Eerdmans.

Dunn, JDG & Twelftree, GH 1998. Demon-Possession and Exorcism in the New Testament, in Dunn, JDG (ed). The Christ and the Spirit. Collected essays. Volume 2. Pneumatology. Edinburgh: T & T Clark, 170-186.

Evans, CF 1990. Saint Luke. New Testament Commentaries. London: SCM Press.

Gibbons, BJ 2001. Spirituality and the occult. From the Renaissance to the modern age. London & New York: Routley.

Goodman, FD 1988. How about demons? Possession and exorcism in the modern world. Folklore today. Bloomington: Indiana University Press.

Gundry, RH 1993. Mark. A commentary on his apology of the cross. Grand Rapids: Eerdmans.

Guijarro, S 2002. The politics of exorcism, in Stegemann, W, Malina, B & Theissen, G (eds). The social setting of Jesus and the Gospels. Minneapolis: Fortress Press, 159-174.

Hagner, DA 1995. Matthew 1-13. Word Biblical Commentary. Vol. 33A. Dallas: Word Books.

Hollenbach, PW 1981. Jesus, demoniacs, and the public authorities: a Socio Historical study. Journal of the American Academy of Religion, 49:561-588.

Janse van Rensburg, J & Cilliers, JHJ 1998. ’n Poimenetiese ondersoek na ’n basisterorie vir die pastoraat aan okkultgekweldes. Acta Theologica, 18(2):33-49.

Joubert, S 2000. Is die duiwel los? Nuwe-Testamentiese perspektiewe op die stryd tussen Christus en die bose. In die Skriflig, 24(2):195-206.

Kampling, R 1986. Jesus von Nazareth – Lehre und Exorzist. Biblische Zeitschrift, 30:237-248.

Klutz, T 2004. The exorcism stories in Luke-Acts. A Sociostylistic reading. Cambridge: University Press. (Society for New Testament Studies – Monograph series, no. 129).

Leahy, FS 1990. Satan cast out. A Study in Biblical Demonology. Edinburgh: Banner of Truth Trust.

Luz, U 2001. Matthew 8-20. Hermeneia - A critical and historical commentary on the Bible. Minneapolis: Fortress Press.

Möller, FP 1987. Pentecostal perspectives on the activity of demonic powers, in De Villiers, PGR. (ed). Like a roaring lion. Essays on the Bible, the church and demonic powers. Pretoria: UNISA, 173-191.

Ouweneel, WJ 2003. Geneest de zieken! Over de bijbelse leer van ziekte, genezing en bevrijding. Vaassen: Medema.

Parker, ST 1975. The Decapolis Reviewed. Journal of Biblical Literature, 94:437-441.

Page, SHT 1995. Powers of evil. Grand Rapids: Baker Books.

Pilch, JJ 2000. Healing in the New Testament. Insights form Medical and Mediterranean Anthropology. Minneapolis: Fortress Press.

Sorensen, E 2002. Possession and exorcism in the New Testament and early Christianity. Wissenschaftliche Untersuchungen zum Neuen Testament 2. Reihe. 157. Tübingen: Möhr & Siebeck.

Stauffer, E 1948. Die Theologie des Neuen Testaments. Gütersloh: Bertelsmann.

Strauss, DF [1846] 1973. The life of Jesus critically examined. London: SCM.

Strecker, C 2002. Jesus and the demoniacs, in Stegemann, W, Malina, B & Theissen, G (eds). The social setting of Jesus and the Gospels. Minneapolis: Fortress Press, 117-134.

Theissen, G 1983. The miracle stories of the early Christian tradition. Philadelphia: Fortress Press.

Twelftree, GH 1993. Jesus the exorcist: A contribution to the study of the Historical Jesus. Tübingen: Mohr/Siebeck.

Van Aarde, AG 1987. Demonoly in New Testament times. in De Villiers, PGR (ed). Like a roaring lion. Essays on the Bible, the church and demonic powers. Pretoria: UNISA, 22-37.

Van Zyl, HC 1992. Die duiwel ontmasker – ’n Nuwe Testamentiese perspektief. Universiteit van die Vrystaat Teologiese Studies, 6:9-22.

Van Bruggen, J 1988. Marcus. Het evangelie volgens Petrus. Commentaar op het Nieuwe Testament. Kampen: Kok.

Van Bruggen, J 1990. Matteüs. Het evangelie voor Israel. Commentaar op het Nieuwe Testament. Kampen: Kok.

Vergeer, WC 2002. Okkultiese binding en bevryding. ’n Nuwe-Testamentiese perspektief. In die Skriflig, 36(3):369-395.

Viljoen, FP 2002. Jesus sonder Christus of Christus sonder Jesus? In die Skriflig, 36(4):555-572.

Viljoen, FP 2004. Gebed in die lewe van Jesus volgens Lukas. In die Skriflig, 38(4):623-642.

Viljoen, FP & Floor, L 2006. Goeie en slegte engele: ’n perspektief uit die Bybel. In die Skriflig, 40(1):35-56.

Viljoen, FP & Stoltz, HJ 2005. Die Heilige Gees in die Evangelie volgens Lukas. Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 46(1&2):260-273.

TREFWOORDE

Eksorsie: getuienis van die Evangelies, Demoon: Demoonuitdrywing, Besetenheid, Magie

KEY WORDS

Exorcism: Evidence from the Gospels, Demon: Demon-deliverance, Demon-possession, Magic

Dr Francois P Viljoen
Noordwes-Universiteit
Potchefstroom-kampus
POTCHEFSTROOM

2531

SBBFPV@puknet.ac.za

1 Ouweneel (2003:185-186) bespreek ’n aantal van sulke twyfelagtige ervarings waar “kankerdemonen” en “aidsdemonen” na bewering uit slagoffers gedryf is waarna hulle gesond geword het

2 Die hart van die Nuwe Testament is die verlossingwerk van Christus en die oorwinning van die Satan en sy magte: “Victory over Satan was the sign of the dawning of God’s rule” (Guijarro 2002:172). Dit is vanselfsprekend dat hierdie konfrontasie sou lei tot groter prominensie aan die aktiwiteite van die bose: “Die Allgewallt der Civitas Diaboli ist erschüttert. Die Civitas Dei muss im Anbruch sein!” (Stauffer 1948:105).

3 Die aantal kan ongeveer halveer word wanneer parallelle tussen die Evangelies en doeblette in ag geneem word

4 Davies (1995:91 e.v.) toon parallelle tussen die eksorsieverhale oor Jesus in die Evangelies en ander berigte van eksorsie uit die destydse samelewing. Volgens hom moet die “werklikheid” van Jesus se eksorsies verklaar word in terme van destydse eksorsiese tegnieke, kulturele gebruike en bygelowe

5 Sorenson (2002:123-124) bied ’n volledige lys met al die verwysings.

6 Die beskrywing deur die verskillende evangeliste word gesamentlik bespreek. So ’n benadering het sy beperking deurdat nie spesifiek aandag gegee kan word aan die eie aard van elke outeur in die weergee van die gebeurtenis nie. Klutz (2004) het die benadering gevolg deur slegs die eskorsie-verhale van Lukas en Handelinge te ondersoek by wyse van ’n sosiohistoriese lees van die teks. Die gevolg is dat hy kan fokus op die linguïstiese styl en situasie-bepaalde keuses van die outeur.

7 Die elemente en eienskappe wat geïdentifiseer word, kan aangevul word met ’n ondersoek van die ander voorbeelde

8 1983 Afrikaanse vertaling

9 Twelftree (1993:145) noem voorbeelde uit Joodse en Hellenistiese geskrifte waar vertel word van eksorsiste wat besetenes oor ’n afstand kon genees. Hy maak daaruit die afleiding dat toe Jesus dogter van die Kanaänitiese genees het, Hy van soortgelyke tegniek gebruik gemaak het

10 Evans (1990:422-424) en Luz (2001:405) bespreek die manier waarop Lukas en Matteus die verhaal van Markus gekondenseer het, en die aspekte waarop die onderskeie outeurs klem lê

11 Bultmann (1957:211) lei hieruit af dat Markus twee soortgelyk verhale saamgevoeg het, naamlik verse 14-20 wat die kontras tussen die Meester en sy dissipels beskryf en 21-27 wat oor die paradoks van ongelowige geloof handel. Op grond van Redaksie Historiese oorwegings toon Twelftree (1993:92-93) aan dat dit nie hierdie twee-verhaal-hipotese noodsaak nie. Die komponente “fit the common ‘form’ of an exorcism story” (Twelftree 1993:93).

12 Vanweë die buitengewone aard van epilepsie is sommige verklaarders van mening dat die mense van destyds hierdie simptome bloot aan demoonbesetenheid toegeskryf het (Page 1995:161). Dit blyk egter dat die oorsprong veel erger is

13 Die eggo van Deuteronomium 32:5 is herkenbaar in Jesus se klagte (Twelftree 1993:94).

14 “The Babylonian material illustrates the ancient belief in the re-entry of demon into a person” (Twelftree 1993:95). Daar bestaan onder andere voorskrifte vir die dra van amulette nadat demone uitgedryf is.

15 Twelftree (1993:96) is egter van mening dat dit ’n byvoeging van die vroeë kerk is, wat hulle na- Paasfees-geloof deurmee sou verwoord

16 Hierdie insident(e) word nie deur Markus beskryf nie. Twelftree (1993:54) is daarom van mening dat dit beswaarlik teruggevoer kan word tot die historiese Jesus

17 Soos Jesus se doop gevolg word deur die versoeking in die woestyn, word Jesus se verheerliking op die berg gevolg deur die konfrontasie van die bose mag (Viljoen & Stolz 2005:265).

18 Met die genesing van die besetenes in die sinagoge van Kapernaum en van Gerasa is daar nie van geloof sprake nie. Jesus het ook mense genees ten spyte van ongeloof

19 ’n Algemene bron van “power-authority” is gesoek deurdat die name van magtige figure uitgeroep is om daardeur hulle hoër gesag in te roep (Twelftree 1993:160)

20 Die Evangelies (veral Lukas) berig telkens hoe belangrik gebed in die bediening van Jesus was (Viljoen 2004:638).

21 όρκιζω is destyds as besweringsformule gebruik om superieure mag in te roep om die wens van die eksorsis uit te voer (Twelftree 1993:164).

22 By twee ander geleenthede toe Jesus die doofstom man (Mark 7:33) en die blindgeborene (Joh 9:6) genees het, het Hy wel van speeksel gebruik gemaak. Dit as sodanig dui egter nie daarop dat Jesus van middels gebruik gemaak het tydens eksorsie nie