Cilliers, J H
Universiteit van Stellenbosch

Die verhouding tussen Skrifbeskouing en prediking

ABSTRACT

The relationship between views on Scripture and preaching

This article explores the shift that has taken place in preaching as a movement from explicatio to applicatio, towards a renewed interest in the function of Scripture as an integrated part of the whole homiletical process. It takes a look at certain essential characteristics of Scripture, such as its human and divine structure, as well as its unique message. In conclusion, a number of implications for preaching are put forward, for example the need to approach the Bible both as a linguistic phenomenon and as the Word of God, and the necessity to preach Scripture in a way concurrent with its character and intention.

1. INLEIDING

Die prediking is baie lank tradisioneel beskryf as ’n beweging “van teks na preek” (vir literatuur, asook kritiek daarop, vgl Bohren 1974:143 ev). Die basiese gedagtegang hieroor was op die oog af eenvoudig en min of meer as volg: tussen die antieke Bybelse teks en die huidige hoorder of leser gaap ’n eeue oue kloof, wat so goed moontlik deur die prediker oorbrug moet word. Dit word gedoen deurdat die prediker met korrekte eksegese die sentrale boodskap of tema van die teks moet vasstel en dit met so min inmenging (inlegkunde) moontlik na die hoorder moet oordra, en hom in die proses ook voorsien van ’n gepaste toepassing. Dikwels was hierdie applicatio niks anders nie as ’n gedwonge analogie tussen historiese en kontemporêre situasies in die trant van: “Ons is ook maar net soos Petrus van ouds, nie waar nie?” Of: “Ook vandag nog worstel ons net soos Paulus teen die vyande van die evangelie.” Maar, ten spyte van al die kontinuïteite wat daar tussen sekere historiese situasies mag bestaan, is dit tog duidelik dat daar veel meer diskontinuïteite is, of dat die diskontinuïteite ten minste net so treffend of opvallend soos die kontinuïteite is. Die verloop van die geskiedenis is nie net volgens stringente lyne nie, maar veral ook volgens kontingente onderbrekings. Ons is nié “net soos” Petrus nie, en ons worstel nié “net soos” Paulus teen die vyande van die evangelie nie. Daarvoor is die klowe van tyd, kultuur en konteks eenvoudig té groot (vgl Cilliers 1994:19 ev).

Wat bogenoemde manier van prediking nog meer twyfelagtig maak, is die stereotiepe moralistiese toevoeging wat gewoonlik daarmee gepaardgaan. Dan word die preek ’n tydlose drie- stap-oefening, ’n geykte uiteensetting van beginsel, toepassing en, natuurlik, vermaning (vgl Cilliers 1996:98). Iets soos:

• “Vandag se teks sê vir ons …” (reduksie van die teksbetekenis tot ’n algemene beginsel of waarheid).

• “Toegepas op ons situasie beteken dit …” (preskriptiewe toepassing van die waarheid op mense se lewe).

• “Daarom moet/behoort ons …” (vermaning tot nuwe optrede).

En tog is daar lank vasgehou aan hierdie paradigma waarin die prediker as ‘t ware soos ’n skubaduiker diep onder die waters van die geskiedenis moes induik, die kosbare koraal (of morele les!) moes vind, om dit so ongeskonde moontlik bo die water uit te bring en in die hande van die wagtende ontvangers te gee (Croatto 1987:66). Of soos ’n chirurg wat die teks met steriele handskoene (korrekte eksegese, histories-kritiese metodes, ens) moes opereer om tot die kern van die waarheid deur te dring (Long 1990:342; ook Peterson 1987:107 ev). Tekste is benader asof dit geslote houers was wat oopgekraak moes word om by die verborge diamant van die geheimenis wat daarin weggesteek is uit te kom.

Hierdie uitgangspunt het egter al hoe meer in die spervuur gekom, om ’n hele reeks redes. Ek noem slegs vier (in aansluiting by Long 1990:342-343):

Eerstens: Daar is lank nie meer eenstemmigheid onder Bybelwetenskaplikes oor wat dan nou die enigste of legitieme interpretasiemodel sou wees nie. Inteendeel, die denkrigtings in dié verband staan soms lynreg teenoor mekaar. ’n Konglomeraat van interpretasiemetodes is tans op die hermeneutiese horison te bespeur, byvoorbeeld dié van die feminisme, liberalisme, postliberalisme, postmodernisme en resepsie-estetiese. Hierdie verandering in die hermeneutiese landskap het sonder twyfel ingrypende invloed op die prediking: die pad “van teks na preek” is nie meer so bekend en helder verlig soos daar voorheen veronderstel is nie.

Tweedens: Daar word al hoe meer aanvaar dat die histories-kritiese metode, trouens, álle metodes, nie neutraal is of kan wees nie, maar opkom uit bepaalde ideologiese voorveronderstellings in verband met die aard van betekenis. Die steriele handskoene was toe nié so steriel nie. Wat egter nié beteken dat die prediker sónder ’n deeglike, wetenskaplike omgang met die teks kan klaarkom en as ‘t ware sonder die handskoene of, erger nog, met septiese handskoene ’n chirurgiese ingreep op die teks kan aandurf nie. Volgens Eugene Peterson behoort ’n prediker wat met sulke septiese handskoene (twyfelagtige metodes, gebrek aan metodes, gewoon eksegetiese luiheid) op die teks opereer net so seker gedagvaar te word as ’n mediese dokter wat dit sou waag om só op ’n pasiënt te opereer (1987:109-110). Dit is die uitdaging, die spanning van eksegese: die handskoene is nooit steriel nie, maar mag ook nooit septies wees nie.

Derdens: Die verstaan van die aard van teksuitleg het ingrypend verander – veral met die bydraes van figure soos Ricoeur en ander. Terwyl predikers in die verlede dikwels die uitlegproses as ’n aktiwiteit verstaan het wat afgehandel is ná die kern van waarheid ontdek is, beklemtoon Ricoeur dat uitleg – enige uitleg – ’n voortdurende proses is, waarin die teks telkens herbesoek moet word in die voortskrydende proses van teks – maar ook bestaansuitleg. Deur middel van tekste verstaan ons nie net “waarhede” nie, maar ten diepste ook onsself – en ons bestaan is té kompleks om in ’n enkele uitleggebeurtenis vasgevang of verklaar te word (Ricoeur 1973:141 ev). Tekste onthul nie net nie, dit verberg ook tegelykertyd en nooi ons so telkens uit tot ’n nuwe omgang met die teks. In hierdie proses van verhulling en onthulling word ons bestaans- en verstaanshorisonne voortdurend bevestig, maar ook geïntensiveer en oorskry (vgl Vos 1996:58 ev).

Vierdens: Die siening van wat die Skrif is, en hoe dit funksioneer, het verander. Saam met die verskuiwing in hermeneutiese paradigmas het daar ’n onvermydelike skuif in die Skrifbeskouing gekom. Ricoeur meld hom met sy nou al klassieke onderskeidings, of multidimensionele benaderings tot tekste, weer eens hier sterk aan. Vir hom hang die verklaring of verduideliking van die teks saam met die analitiese struktuur van die teks, terwyl die verstaan daarvan te make het met die intensionele eenheid van die diskoers. Die interpretasie van die teks het te make met die selfverstaan van die leser en gemeenskap vóór die teks, dit wil sê met die gepaste appropriasie (Ricoeur 1976:74). Die feit dat die Bybel ’n boek vol metafore is, en dus nie net op ’n deskriptiewe manier oor God praat nie, maar veral op ’n ver-beeldingryke wyse, kom ook tans weer sterk in heroorweging (vgl Soskice 1985:148). Die metafore van die Bybel kan juis nie gereduseer word tot één, klinkklare kern van waarheid nie, maar verteenwoordig eerder ’n multitafereel wat as kontrabeelde, as “imaginative shock” téénoor verbeeldinglose reduksies funksioneer (Riegert 1990:72-74). Die grootste winspunt van hierdie en ander skuiwe is na my mening die feit dat daar juis ’n nuwe belangstelling in die gegewene van die Bybelse teks ontstaan het, ’n herontdekking van die moontlikhede en die beperkings, juis ook in soverre dit die prediking raak. In die ou paradigma van die beweging van “teks na preek” het die teks – teen die bedoeling van predikers in – aan die kortste end getrek. Terwyl elemente of brokstukke van die teks (’n “boodskap”, idees, temas) oor die brug gedra is, het die teks self agtergebly, dit wil sê die teks met sy literêre weefsel, vol retoriese wendings en strategieë, maar ook in sy weerbarstigheid, sy oneffenheid. Brueggemann is waarskynlik reg as hy sê dat ons die teks in groot mate mak gemaak het, dit gereduseer en getrivialiseer het (1989:7). Terwyl “mooi” en dikwels ook moralistiese boodskappe by wyse van gekunstelde historiese analogieë oor die kloof gedra is, het die teks agterweë gebly, is dit nie die kans gegun om as teks te kon uitpraat nie. Terwyl daar probeer is om die sap (inhoud) van die lemoen (teks) uit te druk, is die skil (vorm) agtergelaat – tot nadeel van die prediking (Long 1996:127 ev).

In hierdie artikel wil ek veral by die implikasies van predikers se Skrifbeskouing vir hulle prediking stilstaan. My uitgangspunt is dat daar inderdaad ’n onlosmaaklike verband tussen hierdie twee sake is, trouens, dat daar niks is wat predikers se prediking só bepaal as juis hulle Skrifbeskouing nie (vgl Cilliers 2002:70). Só Skrifbeskouing, só prediking; só prediking, só Skrifbeskouing. Of predikers hierdie feit nou eksplisiet verwoord, en uit hierdie oortuiging preek, en of dit meer implisiet agter hulle prediking lê, hierdie verband ís daar en kan gewoonlik ook uit die prediking afgelees word. ’n Analise van konkrete preke lê gewoonlik bloot watter Skrifbeskouing in hierdie preke virulent is – of nie (vir konkrete voorbeelde, vgl Cilliers 1998:59 ev; ook 2000:56 ev).

Die vrae wat natuurlik gevra sou kon word, is: Watter soort Skrifbeskouing is dan voordelig vir die prediking? Hoe moet ons die aard en boodskap van die Skrif verstaan, veral binne die huidige paradigmaskuiwe? Is daar ’n ander manier om “oor die kloof” te kom, en indien wel, hoe? Die volgende – wat bloot by inleidende opmerkings sal moet bly – is na my mening hier van belang:

2. DIE BYBEL IS ’n VOLLEDIG MENSLIKE WOORD

Die Bybel is ’n volledig menslike woord, dit wil sê, ’n boek soos enige ander boek, literatuur soos enige ander literatuur. Die Bybel het nie direk uit die hemel geval en is nie deur engele geskryf nie. Inteendeel, dit is deur ménse geskryf, deur ’n aantal histories aanwysbare figure (en indien nie histories aanwysbaar nie, steeds deur ménse), wat met hulle eie individualiteit en grammatikale vaardighede (of gebrek daaraan), hulle kenmerkende skryfstyle, woordkeuses en persepsies, die ses en sestig boeke van die Bybel vir ons nagelaat het. In hierdie ses en sestig boeke tref ons dan ook ’n ryke verskeidenheid van genres, literêre strategieë en verhaalontplooiings aan. Die Bybel bruis letterlik van égte menslikheid en van égte skrywerskreatiwiteit.

Dit bring onder meer mee dat daar op die oog af ook, vanweë die menslikheid van die persepsies en vertolkingsprosesse, ’n hele aantal feitelike teenstrydighede in die Bybel voorkom (dink maar net aan die soms uiteenlopende maniere waarop die Sinoptiese Evangelies oor die lewe, sterwe en opstanding van Jesus berig). Met die eerste lees wil dit voorkom asof sekere verhale gewoon net nie klop met ander verhale oor dieselfde gebeure nie. Beteken dit nou dat die historiese gebeurtenis as gebeurtenis onder verdenking geplaas word? Dat die feitelike realiteit as onderbou van byvoorbeeld die Jesusverhaal in die gedrang kom? Nee, maar wel dat die vertolkingsprosesse van hierdie gebeure en feite tog nie anders plaasgevind het as deur ménse nie.

Dit impliseer verder dat die Bybel – indien ons dit op ’n verantwoordelike wyse wil lees – met behulp van historiese en linguistiese wetenskappe bestudeer behóórt te word, wetenskappe waarin onder meer gevra word na die sosiale agtergronde van die Bybel (die sogenaamde wêreld agter die teks), die literêre aard van die teks self (die wêreld in die teks), asook die werkings- en vertolkingsgeskiedenis van die teks (die wêreld voor die teks; vir ’n opsommende bespreking, vgl Smit 1987:26 ev).

Daar sit nie magiese krag in die Bybel se woorde as sodanig nie. Die letters van die Bybel gloei nie in die donker nie. Dit is gewoon letters op papier, gedruk met ink, volgens voorgeskrewe (menslike) drukprosesse. Op ’n meer dogmatiese manier gesê: die openbaring van God is groter as die Bybel, gaan ook die Bybel vooraf. Die Bybel is slegs die boekstawing van God se openbaring, en hierdie boekstawing is deur ménse gedoen. Kortom: die Bybel is nie God self nie, en mag dus ook nie naas of in die plek van God skuif om ’n voorwerp van aanbidding te word nie (die sg Bibliolaterie; vir ’n uitgebreide bespreking van sommige van die maniere waarop die Skrif al beoordeel en vertolk is, vgl Vaessen 1997:36 ev).

Daar sit egter iets geweldig bevrydends, ja, troosryks in die menslike aard van die Skrif. Dit onderstreep naamlik die feit dat God in mensetaal praat. Dat God nie sy wil vir ons deur ’n groot megafoon uit die hemel oor die aarde heen laat weergalm het nie, maar dat Hy – letterlik by wyse van spreke – ook in die gebrokenheid van ons mensetaal Hom ingelaat het. Dis ’n wonder: God praat Grieks en Hebreeus, en uiteindelik ook Afrikaans! God se stem word verwoord en verklank in woorde en klanke wat ook ék kan verstaan! Trouens, ons sou kon sê dat die Skrifgeworde Woord (die Bybel) net so ’n groot wonder is as die Mensgeworde Woord (Jesus). Die motief van die inkarnasie (menswording) sit ook agter die boek wat ons die Bybel noem. Wie iets hiérvan verstaan, kom opnuut in verwondering oor die neerbuigende aard van God se openbaring.

Calvyn skryf dikwels oor die aanpassing van God by mense. Dit het alles te make met die pedagogiese motief in die heilsekonomie: ons sou God nie geken het as Hy Hom nie na ons toe neergebuig en met ons op só ’n menslike wyse gepraat het dat ons Hom kon verstaan en kon weet dat Hy naby ons is nie. Sy Woord val nie op ’n geheimnisvolle wyse uit die wolke nie, maar kom tot ons in verstaanbare begrippe, grammatika en woorde (vgl Berkouwer 1975:176). As gevolg van die swakheid van ons kapasiteit, praat God binne die grense van ons vermoëns: “Because our weakness cannot reach his height, any description which we receive of Him must be lowered to our capacity in order to be intelligible. And the mode of lowering is to represent Him not as He really is, but as we conceive of Him” (Calvyn Inst 1/17/13; ook 1/11/3; 2/11/13; 2/16/2).

Dit is ’n geweldige gedagte. Want dit impliseer ook dat ’n mens, soos jy na Jesus kan kyk en alles behalwe God raaksien – maar eerder ’n tipiese Joodse man – jy ook die Bybel kan lees en niks ander as (’n ryke verskeidenheid van) literatuur kan opmerk nie. Om die parallel ’n bietjie verder te trek: Daar was nie ’n stralekrans rondom die kop van die kind Jesus nie, ons Kerskaartjies ten spyt. Daar was nie ’n hemelse wasigheid in die stal wat die strooi in goue drade en die stof in blinkertjies omskep het nie. In die krip lê ’n Kind met krom beentjies wat skop, met naeltjies aan sy vingers en tone, met geklemde vuisies wat in toe ogies vroetel. Wat uit die stal opklink, is nie harpmusiek nie, maar die steungeluide van ’n baba (vgl Cilliers 1991:37-38). Luther skryf treffend:

“Jesus was nie ’n spook nie, maar het onder mense gewoon; Hy het oë, ore, ’n mond, neus, bors, lyf, hande en voete gehad net soos ek en jy, melk by sy ma gedrink, saam met ons geëet en gedrink, was toornig, het gebid, getreur, geween.”

Die Bybel moet nie – ook in die prediking – in ’n blinkerige Kerskaartjie omskep word nie. Nie in ’n boek met vergulde, maar onmenslike en onwerklike woorde nie. Daarvoor is God se inkarnerende toenadering tot ons, ja, sy aanpassing by ons, te groot. Maar, dis inderdaad God wat Hom by ons aanpas …

3. DIE BYBEL IS ’n VOLLEDIG GODDELIKE WOORD

Die Bybel is ’n volledig goddelike Woord, dit wil sê anders as enige ander boek, anders as enige ander literatuur. Dit mag na ’n volslae teenstrydigheid klink, maar moet eerder ’n wonder genoem word. Binne die ruimtes van menslike taal word God se Woord gehoor! Om terug te keer na die motief van die inkarnasie: Van Christus het die kerkvaders gesê: vere deus et homo (waarlik God én mens), en van die Skrif mag ons ook bely: waarlik goddelik én menslik.

Ons mag daarom nie sê dat net sekere gedeeltes van die Bybel wel God se Woord is, maar ander dele waarskynlik nie. Eerder dat alles in die Bybel tegelykertyd menslike én goddelike woorde is. Die Bybel is nie deur engele geskryf nie, maar deur mense, maar dit was mense wat op ’n besondere wyse deur die Heilige Gees geïnspireer is (vgl bv 2 Pet 1:20-21).

Daarom kan en moet ons – na my mening – met net soveel oortuiging vashou aan die vier klassieke kenmerke wat deur die kerkvaders ten opsigte van die Skrif geformuleer is, naamlik dat dit gesag het, dat dit noodsaaklik, duidelik, en genoegsaam is, dit wil sê dat die kanon geslote is en ons nie in buite-Bybelse bronne moet soek na hierdie unieke stem van God nie (Berkouwer bespreek hierdie kenmerke van die Skrif in extenso; 1975:240 ev).

Die Bybel hoef nie verdedig te word nie. Dit spreek vanself. Al sou jy in die lig van die menslike aard van die Bybel heelwat kon sê oor die feitelike teenstrydighede in die teks, sou jy in die lig van die goddelike aard daarvan kon wys op die werkingsgeskiedenis van die Bybel. Duisende, nee, miljoene mense kan getuig dat die boodskap van die Bybel hulle lewe wesenlik verander het. Dit is immers die doel van die Woord van God – dit kom om ons te verander (Luther: sermo dei venit mutaturus). Groot kerkfigure soos Augustinus, Luther en Barth het ’n pertinente ervaring met God vanuit spesifieke Skrifgedeeltes gehad – en die wolk van getuies kan in dié verband sonder twyfel baie uitgebrei word. Inderdaad. Die Bybel is ’n instrument in die hand van God, deel van dié proses waardeur Hy deur sy Woord en Gees sy kerk van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou (HK 21/54).

Daarom word die boodskap van die Bybel ook nie net deur literêr wetenskaplike metodes ontsluit nie – hoe belangrik dit ook al mag wees – maar ten diepste deur die innerlike getuienis van die Heilige Gees self (testimonium spiritus sancti internum). Dis egter belangrik om nie uit die oog te verloor dat die een nie teenoor die ander staan nie. Wie die menslike en goddelike karakter van die Skrif teenoor mekaar stel, loop gevaar om eensydig te word en juis nie die unieke stem van die Skrif te hoor nie.

Dit bly die heerlike, onbegryplike wonder: Die woorde van die Bybel is deur mense geskryf, en tog gebeur dit dat dit tot jou kom as niks anders nie as die Woord van God. Die woorde van die Bybel gloei nie in die donker nie, en tog kan dit ’n (goddelike) gloed in jou donkerste uur oor jou laat val. ’n Mens dink aan wat Christoph Blumhardt hieroor te sê gehad het (aangehaal deur Lejeune 1938:266, vry vertaal):

“Dikwels, wanneer ’n mens ’n Bybelwoord lees, is dit soos ’n woord wat glad nie deur mense geskrywe is nie, soos ’n woord wat hom losmaak van alle menslike rede, en is dit omsluit in ’n wolk van goddelike krag, van goddelike handeling. Dan gaan dit in ons hart in, en begryp ons glad nie dat so iets moontlik sou kon wees nie. Ons het dit geensins verstaan nie, of het geglo dat dit hoegenaamd nie vir ons die moeite werd sou wees om die Woord nog te lees nie, want dis so bekend aan ons, alreeds vanaf ons skooldae. En skielik kom so ’n woord tot ons, soos ’n magtiger engel, wat met ’n heilige hand ons hart aanroer, en ons liggaam en siel word geopen, en ons asem iets in van ’n hemelse Woord, van die Woord wat wonders doen, wonders aan ons hart, wonders in ons gevoel, in ons denke, wonders in alles wat ons is.”

Inderdaad: God se Woord inkarneer in menslike woorde – om ons te transformeer.

4. DIE BYBEL HET ’n UNIEKE BOODSKAP

Die Bybel het ’n unieke boodskap. Wie iets anders as hierdie boodskap in die Bybel wil hoor, oorvra die Skrif. Die bedoeling van die Bybel is byvoorbeeld nie om (histories of wetenskaplik eksakte) informasie oor allerlei sake te gee nie. Die Bybel is nie ’n handboek vir geologie of kosmologie of die mediese wetenskap of fisika of noem maar op nie. Origenes het byvoorbeeld al gewaarsku dat Genesis 1 nie eksakte historiese inligting oor die presiese, kronologiese ontstaan van die skepping wil gee nie, maar eerder ’n teologiese uitspraak wil maak: God, en nie die gode nie, het die hemel en aarde geskep. Net so het mense soos Augustinus en Calvyn al daarop gewys dat jy nie sterrekunde vanuit Bybelse gegewens kan bedryf nie, in elk geval nie as jy ’n goeie sterrekundige wil wees nie. Waarom nie? Omdat die Bybel – op ’n menslike manier – in die taal en konteks van sekere tye praat. Wie allerlei informasie (of geheime kodes) uit die Bybel wil aflees, mag dit dalk doen onder die oortuiging dat hulle “Skrifgetrou” wil wees, maar in werklikheid is hulle Skrifontrou, aangesien die unieke karakter van die Skrif nie eerbiedig word nie. Dan word dinge wat op die periferie lê tot die sentrum verhef. Dan word die Bybel oorvorder. Dan is dit net so goed jy probeer – met respek gesê – vanuit ’n kookboek allerhande afleidings maak oor hoe om ’n kernreaktor te bou. So ’n benadering mis die punt van die Skrif.

En wat is hierdie punt? Jy sou dit seker op baie maniere kon saamvat, maar na my mening hoor ons iets hiervan in 2 Timoteus 3:15 waar Paulus vir Timoteus raad gee:

Jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Jesus Christus.

Die heilige Skrif waarvan Paulus hier praat, is nie die ganse kanon soos ons dit vandag ken nie – dié was nog nie saamgebundel nie – maar waarskynlik die Pentateug en die boek Levitikus. Hierin, sê Paulus, hoor ons alreeds die boodskap van verlossing in Jesus Christus. Dít is die punt, die sentrum van die Skrif, en ek gebruik dit ook hier in ’n oordragtelike sin, in terme van die Ou en Nuwe Testament. Jy sou dit ook anders kon sê: Die boodskap van die Bybel is dié van die verlossende handelinge van die drie-enige God, veral soos dit blyk in Jesus Christus. Daarom kan Paulus ook sonder skroom aan die Korintiërs sê:

Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor 2:2).

Dit is alleen vanuit hierdie sentrum dat ons bogenoemde vier kenmerke van die Bybel as Woord van God kan waardeer. Die Bybel dra gesag, maar nie wanneer dit kom by uitsprake oor sterrekunde of argeologie of fisika nie, maar wel wanneer dit handel oor hierdie unieke boodskap: God maak verlossende bemoeienis met die mens. Die Bybel is noodsaaklik, want nêrens elders in die wêreld, nie in enige ander boek, word die boodskap van God se genadige ingrype só vertel as juis in die Bybel nie. Die Bybel is duidelik, is in sekere sin glashelder, nie omdat dit foutloos praat oor dinge soos medisyne of kernkrag nie, maar omdat dit ’n boodskap van verlossing verkondig, wat, alhoewel dit veelkleurig is, ook eenvoudig is, só eenvoudig dat ’n kind dit kan verstaan. Ja, selfs die blindes kan tas dat die dinge wat in die Bybel voorspel is, plaasvind (NGB 5). Die feit dat daar dikwels so ’n verwarring oor die betekenis van die Bybel is, het meer te make met óns oogklappe, óns ingewikkeldheid as met die eenvoud van die Bybel. Ons het inderdaad genade nodig om dit te (begin) verstaan!

Die Bybel is ook genoegsaam, dis volmaak. Niks meer is nodig nie. Daarin het God immers sy hart uitgepraat.

Hierdie unieke boodskap kan net in die geloof aanvaar word. Die bedoeling van die Bybel is nie bloot dat ons dit sal analiseer en dissekteer as linguistiese of historiese fenomeen nie – alhoewel dit, soos ek reeds gesê het, nie onbelangrik is juis vir die verstaan van die boodskap nie – maar die bedoeling van die Bybel is veral om gehoor en gehoorsaam en gelééf te word. Uiteindelik het dit weinig sin vir ’n dorstige om die put met water in die woestyn vanuit ’n wetenskaplike hoek te bevraagteken (watter argeologiese strata het dié verskynsel tot gevolg gehad? Presies hoe is die H2O hier onder die aarde gevorm?). Eerder moet die dorstige daarvan drink – en leef.

5. IMPLIKASIES VIR DIE PREDIKING

Wat het dit nou alles te sê vir die prediking van die Woord? Ten minste die volgende:

• Predikers mag nooit agter ’n sekere siening van die Bybel as “onfeilbare Woord van God” skuil en dit as ’n sjibbolet gebruik om eksegeties lui te word nie. Om te preek is harde (wetenskaplike, eksegetiese, linguistiese, hermeneutiese) arbeid aan die teks. Maar in dié sin is dit ook ’n ontdekkingstog, open dit moontlikhede om telkens weer nuwe dimensies in die teks te ontdek, nuwe wêrelde te betree, wat nie sonder die wetenskaplike arbeid aan die teks as menslike dokument sou kon gebeur het nie. Predikers mis gewoon baie wanneer hulle met ’n Skrifbeskouing opereer wat hulle huiwerig maak om werklik met die teks as linguistiese fenomeen om te gaan – al word hierdie huiwering ook gebore uit ’n bepaalde respek vir die goddelike aard van die Skrif. Om die Skrif werklik aandagtig te lees, en telkens weer te her-lees, vra ten minste die volgende: Om aandag te gee aan die fundamentele kode van elke teks (bv om nie die saligsprekinge in ’n lys vermaninge te verander nie); om die rigting of trajeksie van die teks te honoreer, dit wil sê ook in die prediking uitvoering te gee aan die bedoeling of intensie van die teks; om noukeurig te let op die historiese plasing van die teks (histories, literêr, sosio-ekonomies, ens); om die aanhaakpunte tussen teks en lesers raak te sien en te ontgin, dit wil sê om die teks te lees met ’n houding van verwagting dat selfs die skynbaar bekendste of oninteressantste teksgedeelte ’n vars woord van genade vir die prediking inhou (vgl Wilson en Gaventa 1998:397-401).

• Wetenskaplike metodes mag juis nie op hulle beurt só krities en afbrekend met die Skrif omgaan dat predikers hulle vertroue daarin verloor of hulle verwagting prysgee dat God se stem inderdaad hier in die voeë van die teks mag opklink nie. Wetenskaplike metodes is hulpmiddels om die boodskap van die teks beter te hoor, nie muilbande wat die mond van die teks toebind nie. Om te preek het jy wetenskaplike metodes nodig, maar jy preek nie wetenskaplike metodes nie.

• Predikers moet fokus op die sentrale boodskap van die Skrif, en hulle nie laat vaswikkel in allerlei (vernuftige) redenasies oor periferiese aangeleenthede nie. Die verskriklike moontlikheid bestaan trouens dat die eksessiewe belangstelling in periferiese aangeleenthede ’n (onbewuste) poging is om jou verleentheid met die skandaal van die sentrale boodskap te verberg. Dit ís moontlik dat predikers, terwyl hulle spitsvondig en gloeiend oor randverskynsels in spesifieke tekste debatteer, presies die teenoorgestelde kan doen en dink as wat die sentrale boodskap van daardie tekste van hulle vra. Daarom moet predikers veral ook daarop let dat hulle die sentrale boodskap van die Bybel (nl dat God mense uit genade red) nie met hulle preekinhoud of -styl dwarsboom nie. Predikers praat helaas dikwels só asof God nie ’n reddende, werklike teenwoordigheid is nie, asof Hy nie die Een is wat was, is en wat kom nie. Hierdie manier van praat noem ons moralisme, of sterker, die uitwissing van God op die kansel. Luther het sonde gedefinieer as annihilatio Dei, uitwissing van God, en onder meer daarmee bedoel: Sonde is om te leef asof God nié ís nie, asof Hy afwesig is, asof die boodskap van die Bybel, ja, die evangelie van Jesus Christus nie die waarheid is nie. Moralistiese predikers leef onder die illusie dat hulle God by wyse van spreke (letterlik: in die taalhandeling van die preek) moet aktiveer. Asof God nié aktief is nie! Asof Hy nie (telkens) die inisiatief neem in sy verhouding (verbond) met ons nie! Ja, natuurlik kan God nié “uitgewis” word nie, maar ons praat en leef só asof Hy dood is. En erger nog: Ons doen dit met vroom taal, met godsdienstige klanke vanaf die kansel (vgl Cilliers 1996:108).

• Omdat die Bybel ’n boek is waarin God self in mensewoorde aan die woord kom, is die prediking van hierdie Woord nie bloot die deurgee van informasie oor die verlossing nie, maar deel van die verlossende handeling van God self. Die Woord – en daarom ook die prediking – informeer nie bloot nie, dit performeer (uitvoerend van aard). Bekend is die uitspraak van Calvyn dat onder die woorde van die prediker ook die bloed van Christus op die hoorders drup, en die poorte van die paradys voor hulle oopgaan. Iets van die wonder van die Skrifgeworde Woord, ja, ook van die Mensgeworde Woord skyn af op die prediking: In die werklikheid van mensewoorde klink die werklikheid van God se Woord op.

• Kortom: Predikers moet dus die Skrif as menslike én goddelike dokument ten volle honoreer. Navorsing het getoon dat moralistiese prediking, interessant genoeg, juis hierdie verband uitmekaarhaal. Trouens, van die tipiese kenmerke van die moralisme is óf ’n onthistorisering van die teks (dws om die Bybel te hanteer asof dit ’n tydlose versameling van woorde uit die hemel is), met gepaardgaande verskynsels soos allegorie, óf om juis die kernboodskap, ja, die teologie van die Skrif, naamlik die genadige handeling van God, te verantropologiseer en in morele oproepe tot selfverbetering te verander (vgl Greidanus 1970:85-86). In plaas van die evangelie word dan eerder ’n kontrolelysie vir innerlike, godsdienstige evaluering gebied. Maar dít kan niemand troos nie. Nie in lewe nie, en ook nie in sterwe nie.

BIBLIOGRAFIE

Berkouwer, G C 1975. Studies in Dogmatics. Holy Scripture. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans. Bohren, R 1974. Predigtlehre. München: Kaiser.

Calvyn, J sj. Calvin’s Institutes. Florida: Mac Donald Publishing Company.

Cilliers, J H 1991. ’n Greintjie van God is genoeg. Oor God se teenwoordigheid in lyding. Kaapstad: Lux Verbi.

Cilliers, J H 1994. God vir ons. ’n Analise en beoordeling van Nederduitse Gereformeerde volksprediking(1960-1980). Kaapstad: Lux Verbi.

Cilliers, J H 1996. Die uitwissing van God op die kansel. Ontstellende bevindinge oor Suid-Afrikaanse prediking. Kaapstad: Lux Verbi.

Cilliers, J H 1998. Die uitwysing van God op die kansel. Inspirerende perspektiewe op die prediking – om God te sien en ander te láát sien. Kaapstad: Lux Verbi.

Cilliers, J H 2002: Die geheim van die prediking: om na die stem van die teks te luister. Verbum et Ecclesia 23 (1), 67-79.

Cilliers, J H 2000. Die genade van gehoorsaamheid. Hoe evangelies is die etiese preke wat ons in Suid-Afrika hoor? Kaapstad: Lux Verbi BM.

Croatto, J S 1987. Biblical Hermeneutics: Toward a theory of reading as the production of meaning. Maryknoll, New York: Orbis Books.

Greidanus, S 1970. Sola Scriptura. Problems and Principles in preaching historical texts. Toronto Canada: Wedge Publishing Foundation.

Lejeune R 1938. Christoph Blumhardt und seine Botschaft. Band 4. (S.l): Rotapfel-Verlag. Long, T G 1990. The use of Scripture in Contemporary Preaching. Interpretation 44, 341-352. Long, T G 1996. Preaching and the literary forms of the Bible. Philadelphia: Fortress.

Peterson, E H 1987. Working the angles. The shape of Pastoral Integrity. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans. Ricoeur, P 1973. The Hermeneutical Function of Distanciation. Philosophy Today 17, no 2-4, 129-141.

Ricoeur, P 1976. Interpretation theory, discourse and the surplus of meaning. Fort Worth: Texas Christian University Press.

Riegert, E R 1990. Imaginative shock: Preaching and metaphor. Ontario: Trinity Press.

Smit, D J 1987. Hoe verstaan ons wat ons lees? ’n Dink- en werkboek oor die hermeneutiek vir predikers en studente. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Soskice, J M 1985. Metaphor and religious language. Oxford: Clarendon Press.

Vaessen, J C 1997. Tussen Schrift en preek. Ontwerp van een analysemodel voor de bijbelinterpretatie in preken met gebruikmaking van de tekstuele hermeneutiek van Paul Ricoeur. Kampen: Kok.

Vos, C J A 1996. Homiletiese flitse in die hermeneutiese spieël van Paul Ricoeur (1). Praktiese Teologie in Suid-Afrika. Vol 11 (1), 58-67.

Willson, P J & Gaventa B R 1998. Preaching as the Re-reading of Scripture. Interpretation 52 (4), 392-404.