Cilliers, J H
Universiteit van Stellenbosch

Die plek en funksie van die wet in die erediens1

ABSTRACT

The place and function of the law in the worship service

This article takes a brief look at some of the reasons why the law does not always function in a theological sound manner in contemporary worship services, especially those of the Dutch Reformed Church. It consequently addresses certain basic questions, such as a definition of the law, examples of how the law is misunderstood and misused, the theological integration of law and gospel and the inter-relationship between sin, salvation and obedience. The article concludes by putting forward some practical implications for the structuring of the worship service.

1. DIE WET IN DIE EREDIENS: ’N ANAKRONISME?

Moet die wet (hier verstaan as tien gebooie, vgl verderaan), of selfs die samevatting daarvan, werklik nog elke Sondag in die erediens gelees word? Hoe kan die Sinaïtiese wet, afkomstig uit ’n antieke tyd en kultuur, nog enigsins relevant wees vir ’n Christelike gemeente van die derde millennium? Dié vraag word toenemend, en vanuit verskillende oorwegings, gevra.

1.1. Die eerste oorweging sou wees dat die wet, en die aansprake daarvan, gewoon net nie meer pas binne die huidige tydgees nie. Mense wil nie meer voorgesê word wat om te doen of hoe om hulle lewe in te rig nie. Binne die tipiese postmoderne siening is waarheid nie meer absoluut nie, maar relatief en gedifferensieerd, het waarheid baie kante, en is dit histories-kontekstueel (vgl Eagleton 1996:vii; ook Linn 1996:100 ev). Om dus ’n eeue oue dokument voor te lees, afkomstig uit ’n ander kultuur en tyd, en te verwag dat mense hieraan gehoorsaam moet wees, is volgens hierdie siening naïef en moontlik selfs kerklik arrogant. Baie mense soek daarby ook nog ’n religie wat die minimum vra, wat die lewe eerder vergemaklik as bemoeilik (vgl Cilliers 1991:1 ev). Wetsopdragte druis teen die konsumpsiementaliteit van die tyd in en maak moeë mense net nóg moeër. Terwyl daar soveel aansprake op mense in die harde wêreld daar buite is, is die versugting dat die erediens tog ’n ruimte moet bied waarin ons tot rus kan kom, vry van reëls en verpligtinge. Daarom word “vroliker” eredienste verkies, eredienste wat energerend is, eerder as eredienste wat morbied is en jou telkens herinner aan jou tekortkominge (sonde) én jou kommandeer om die onmoontlike te doen. Sienings soos hierdie berus uiteraard op ’n wanbegrip van die wet (vgl verderaan), maar dis waarskynlik wyer versprei as wat ons dink.

1.2. ’n Tweede oorweging is, ironies genoeg, sterk Christelik gekleur. Die vraag wat baie (toegewyde) Christene vra, is: Is ons dan nie vrygespreek van die wet nie? Moet ons dus elke Sondag nog hoor van ons sonde, dit opnuut bely en sowaar ook daarvan vrygespreek word? Die vryspraak van sonde lê tog agter die rug, of hoe? Kinders van God staan immers onder die “sambreel” van Christus en daarom het hulle geen skuld of sonde om te bely nie. God sien my slegs raak in Christus, en daarom is ek rein. Om nou weer by wyse van die wet en skuldbelydenis terug te krabbel, is om die heilsrealiteit wat daar in Christus is te ontken. Mense wat só redeneer, het moeite om te sing: “Voor u wet, Heer, staan ons skuldig” (Liedboek van die Kerk 235:1) of “God, enkel lig, voor u gesig is niks op aarde rein nie. Ons is bevlek, met skuld bedek – kan nie voor U verskyn nie” (Liedboek van die Kerk 238:1). Trek dit nie ’n streep deur die wonder van die verlossing nie? ’n Hele reeks tekste ondersteun op die oog af ook nog sulke sentimente (bv: Gal. 2:16-20; 3:5, 10-13, 23-26; 4:4-5; 5:18; Hand 13:38-39; Rom 1:17; 3:20-24; 5:1-2; 10:3; 1 Kor 6:11; 2 Kor 5:21; Fil 3:8-12; Tit 3:5-8).

1.3. ’n Derde oorweging is histories-ekumenies van aard. Nie alleen bied die Skrif ons geen uitgewerkte, kanoniese liturgie (of ’n aanduiding dat die tien gebooie enigsins in dié verband benut is) nie, maar dit is opvallend dat die gebruik van die tien gebooie in die erediens ook nêrens voorkom in die verskillende hoofstroomkerke van die wêreld nie. Dit is ’n uniek Calvinistiese gebruik en kom slegs voor by kerke wat op die een of ander wyse teruggaan op Calvyn (vgl Barnard 1981:314-340, 544). Daarby kom nog die feit dat die primêre gebruik van die wet om ’n besef van sonde op te wek – soos dit merendeels in NG eredienste gebeur – ’n wegbuiging van Calvyn is.

Dis eweneens duidelik dat die tien gebooie nie as ’n vaste element in die eredienste van die vroeë Christelike kerk gebruik is nie (vir ’n uiteensetting van die geskiedenis, vgl White 1981:38 ev; ook Barnard 1981:153 ev). Etiese dokumente wat hierin ’n sterker rol gespeel het – veral in die kategetiese onderrig – was byvoorbeeld die Didache, die Didascalia van die Apostels en die Apostoliese Konstitusies. Vir ’n groot gedeelte van die Middeleeue het die tien gebooie ook geen verskyning in die erediens gemaak nie – maar eerder gedien as ’n verskerping van die moralisme wat op baie maniere geïnstitusionaliseer is (bv in die kloosterwese en die Roomse bieg).

Die gebruik van die dekaloog in die erediens gaan waarskynlik terug op die sogenaamde kategetiese diens of preekdiens (pronaus) wat in die laat Middeleeue sy verskyning gemaak het en waarin die dekaloog merendeels vanuit kategeties-pedagogiese oorwegings opgesê is. Toe die Hervormers begin het om hulle liturgieë te ontwikkel het hulle onder meer (hervormend) aangesluit by bestaande liturgieë, en is dit veral Calvyn wat die dekaloog die erediens binnegebring en daaraan ’n nuwe teologies-liturgiese betekenis gegee het. Sy Straatsburgse liturgie verloop as volg: Die openbare skuldbelydenis vind plaas aan die begin van die erediens, gevolg deur troosspreuke uit die Skrif, en dan die absolusie. Hierna volg die tien gebooie wat deur die gemeente volgens die twee tafels gesing word, met ’n gebed tussen die twee tafels. Na elke gebod volg ook nog ’n kyrie eleison. Calvyn gebruik dus nie die dekaloog in die eerste plek as ’n spieël vir skuldbelydenis nie (eerste gebruik van die wet), maar eerder as reël vir dankbaarheid (derde gebruik). Hy plaas die dekaloog ná die skuldbelydenis en absolusie, en wel ook voor die preek. Tog is daar aanduidings dat Calvyn die dekaloog ook in sy eerste funksie in die erediens wou inspan – daarom laat hy byvoorbeeld die kyrie eleison na elke gebod bid. In sy Geneefse liturgie ontbreek die dekaloog en absolusie geheel en al, maar in ’n heruitgawe daarvan (’n samevoeging van die Straatsburgse en Geneefse liturgieë) kom dit weer voor. Dus: Calvyn gebruik die dekaloog in die erediens op ’n genuanseerde en gevarieerde wyse. Die vraag is: Het dit nie daarenteen in baie NG eredienste versmal tot ’n stereotiepe liturgiese punt op ’n vasgestelde agenda nie?

2. WAT VERSTAAN ONS ONDER “WET”?

Is dit dus nog nodig om die wet in die erediens te laat funksioneer? Voordat ons hierdie vraag kan beantwoord, moet ons eers ’n aantal begrippe in dié verband uitklaar. Dit is belangrik om daarop te let dat wet en tien gebooie nie identies is nie – alhoewel dit dikwels in die volksmond as sinonieme gebruik word. Wet (of in Hebreeus Torah) is ’n breër begrip as die tien gebooie en dui op die eerste vyf boeke van die Ou Testament, wat onder meer ’n wye spektrum van reëlings vir die godsdiens en alledaagse lewe van die Israeliet bevat. Die tien gebooie (soms ook die dekaloog genoem) is ’n onderdeel hiervan en sou wel as ’n (belangrike) samevatting van die Tora beskou kon word. Die tien gebooie mag nooit losgemaak word van sy verweefdheid met die hele spektrum van Ou-Testamentiese wetgewing nie (ek kom breedvoeriger hierop terug in punt 6).

Met “wet” word dus oorspronklik bedoel: God se wil vir sy volk, soos uitgespel in die eerste vyf boeke van die Bybel. In ’n oordragtelike sin sou ons wel kon sê: Die wet is die uitdrukking van God se (genade) reëls vir sy verbondsvolk, van die wyse waarop Hy wil hê dat daar in sy nuwe wêreld geleef moet word (vgl Balentine 1999:201).

In die Nuwe Testament word die Tora deur die bril van die Christusgebeure geïnterpreteer. Die wet gaan deur die tregter van die verlossing, wat die wet sowel relativeer as radikaliseer. Die tien gebooie gaan déúr die kruis en opstanding en kom in ’n nuwe lig anderkant uit. In die lig van hierdie Nuwe Verbond wat in Christus aanbreek (= die evangelie), verkry die wet ’n nuwe, verdiepte rol en funksie, wat onder meer ook beteken: Indien ons die wet (of die tien gebooie as samevatting daarvan) in die erediens op die regte wyse wil hanteer, sal ons telkens moet vra na die teologiese integrasie daarvan in die geheel van die Bybelse boodskap, oftewel na die verhouding tussen wet en evangelie (vgl Den Boer 1974:251-261).

Ervaring het geleer dat die wet juis in die erediens op ’n twyfelagtige wyse ingespan word wanneer die teologiese en Bybelse fundering van die wet nie reg verstaan word nie. Dan skipper die wet soos ’n corpus alienum in die erediens rond en loop dit gevaar om diensbaar te word aan allerlei kerklike of liturgiese agendas wat nie die toets van goeie teologie kan deurstaan nie.

Dit is van deurslaggewende belang dat ons die Bybelse verbande waarbinne die wet funksioneer, en die teologiese integrasie daarvan met die boodskap van die hele Skrif, goed in die oog moet kry. So ver terug as reeds 1946 het Van Niftrik beweer dat die misverstaan van die verhouding tussen wet en evangelie op ’n manier agter alle ketterye in die kerkgeskiedenis sit (233). Voordat ons stilstaan by dié geïntegreerde verhouding tussen wet en evangelie, let ons eers op twee wanopvattings, wat juis treffend illustreer hoe hierdie integrasie uitmekaar gebreek kán word.

3. TWEE BASIESE MISVERSTANDE

3.1. Nomisme

Een misverstand vind ’n mens in die nomisme (nomos = wet; vgl Cilliers 2000:21 ev). Dit is ’n gedagterigting wat sy bestaan reeds ver terug in die kerkgeskiedenis het en wat verskillende gestaltes kan aanneem, byvoorbeeld as moralisme en piëtisme. In sowel die moralisme as piëtisme vind ’n foutiewe vermenging van wet en evangelie plaas. Hierdie vermenging is ’n natuurlike (sondige) neiging by ons om ons eie “geloofsweg” tot verlossing te probeer skep. Die gevolg is altyd dat die mens op hom- of haarself ingebuig word en nou uit eie religieuse reserwes moet doen wat net God uit genade in ’n mens se lewe kan doen. Die wet word in ’n soort evangelie omskep (moralisme), of die evangelie word in ’n wet verander (piëtisme), maar één ding bly gemeen in al hierdie variasies: Die inisiatief word uit God se hande geneem (vgl Burger 1983:58-59). In sekere sin is dit die mees voor die hand liggende verbuiging van die genade: Ons hou as sondige mense dit nie met die genade uit nie en vlug weg in allerlei handelinge en wette wat dan, ironies genoeg, die plek van die genade in ons lewe moet inneem. In feite word die mens se handeling van die genade ontkoppel en verkry dit ’n selfstandigheid, ’n eie lewe – wat die mens tot die dood toe verkneg.

Die probleem met énige vorm van nomisme is dat dit enersyds nie die krag van die Woord om ons te verlos (wil) begryp nie, en andersyds nog nie die totale onvermoë en korrupsie (corruptio totalis) van die mens voor God verstaan nie. Dit struikel telkens oor die feit dat ons nie ’n vrye wil het om God se wil te doen soos wat ons dit behoort te doen nie (Cilliers 1996:7-8).

3.2. Anti-nomisme

’n Ander, eweneens gevaarlike en onevangeliese mistasting is egter ook die sogenaamde anti- nomisme of, soos dit in die kerklike omgangstaal bekend geword het, goedkoop genade (vgl die steeds klassieke werk van Bonhoeffer, The Cost of Discipleship, 1959, veral 33-91). Hierin word, deels ook uit reaksie teen die moralisme, die genade weer van die gehoorsaamheid losgemaak en so in ’n abstrakte begrip verander. In werklikheid word die mens geheel en al uit die prentjie gehaal, word die feitelike mens as ‘t ware “uitgewis”. En, alhoewel dit op die oog af na ’n roerende beklemtoning van die genade alleen (sola gratia) mag lyk, word die rykdom van die genade uiteindelik tog verskraal, aangesien gehoorsaamheid nie ’n tweede wet naas of ná die genade is nie, maar die rykdom van die genade self (vgl Iwand 1964:33 ev). Anti-nomisme het net sulke fatale gevolge as wanneer ’n mens God by wyse van die moralisme “uitwis”. Dit tas die eer van God net so radikaal aan. Laat die mens net so alleen met hom- en haarself. In die inrigting van ons eredienste sal ons veral ook – ter wille van die genade – moet waak teen hierdie goedkoop genade.

4. DIE TEOLOGIESE INTEGRASIE VAN WET EN EVANGELIE

Die evangelie kán nie, mág nie goedkoop gemaak word nie. God behou die inisiatief in ál sy handelinge met ons – en Hy skenk ook aan ons die genade om gehoorsaam te kan wees. Slegs wie gehoorsaam, glo waarlik; en slegs wie glo, is gehoorsaam. Trouens, die hele teenstelling tussen nomisme en anti-nomisme is niks anders nie as ’n valse teenstelling. Ons sou eerder moes sê: Dit is dieselfde, handelende God wat in sy genade na ons toe kom in evangelie én wet. Dit impliseer ook: Goeie werke is nie wet (in die moralistiese sin van die woord) nie, maar die hoogste en rykste evangelie self. Daar is iets soos die evangelie van goeie werke nie (vgl die Heidelbergse Kategismus 32/86; ook Nürnberger 1981:25-47). Ons moet dankbaar wees, omdat Christus ons deur sy verlossingswerk dankbaar máák. Iets soos ’n ondankbare Christen is ’n on-ding, ’n vierkantige sirkel (vgl Paulus se driftige opmerkings hieroor in Rom 6; ook sy positiewe beskrywing van die wet in Rom 7: 12, 14, ens; ook sy uiteensetting in Gal 3 in verband met die verhouding tussen wet, geloof, die beloftes van God en veral die verbond).

God se Woord aan ons vorm ’n eenheid, is ’n onverdeelbare openbaring van Homself aan die mens, waarin die eer van begin tot einde aan niemand anders toekom nie as aan Hom. God se Openbaringswoord is daad tegelyk. Dit kom daad-kragtig tot ons deur die werking van die Heilige Gees. Maar dit kom tot ons op ’n verskeidenheid van maniere. Die Openbaringswoord kom primêr na ons as verlossingswoord, om ons vry te spreek van die sonde wat God self deur sy wet aan ons geopenbaar het. Dit kom egter ook na ons as wet wat ons sonde blootlê (die sg eerste funksie van die wet) en ons so uitdryf na Christus toe (die tweede funksie van die wet, ook usus elenchticus of usus paedagogicus genoem, en wanneer dit oor meer as net persoonlike sonde maar ook oor samelewingsondes handel, usus politicus). Dit kom ook na ons as riglyn vir ’n lewe van gehoorsaamheid aan God, wat die Here self uit genade deur sy Openbaringswoord in ons bewerkstellig (die derde funksie van die wet, ook usus tertius genoem). In alles bly dit egter die Here wat met ons praat en werk, bly die omsluitende sirkel om al bogenoemde die Openbaringswoord van God wat uit genade na ons toe kom (vir die klemverskille tussen Luther en Calvyn in hierdie verband, vgl Berkhof 1973:206 ev).

Die begrippe sonde, verlossing en dankbaarheid (nie noodwendig in hierdie volgorde nie, vgl verderaan), bied nie alleen ’n goeie samevatting van die belangrikste elemente van die verhouding tussen wet en evangelie nie, maar ook ’n bruikbare sleutel vir die verstaan van hierdie verhouding, en gevolglik dus ook vir die bepaling van die rol en funksie van die wet – onder meer ook in die erediens.

Enige poging om hierdie wesenlike eenheid van God se Openbaringswoord (ten opsigte van ons sonde, verlossing en dankbaarheid) te deurbreek deur dit uit die hande van God te wil haal, eindig noodwendig in een van bogenoemde twee uiterstes van nomisme en anti-nomisme. Die oomblik wanneer jy óf die verlossing óf die sonde óf die dankbaarheid uit die verband met God se Openbaringswoord wil haal, is jy in die doodloopstraat van óf die moralisme óf die goedkoopmaking van die genade. Daarom moet daar telkens gevra word na die teologiese binding, die samehang, ook en veral wanneer jy die wet as ’n riglyn vir ’n dankbaarheidslewe wil voorhou.

5. WAT KOM EERSTE – WET OF EVANGELIE?

Die volgorde van sonde, verlossing en dankbaarheid is vatbaar vir misverstand, veral wanneer jy dit as ’n temporele volgorde verstaan. Dit kan op ’n piëtistiese of metodistiese wyse as resep ingespan word om die handelinge van God in ’n voorspelbare patroon in te dwing (vgl Du Toit 1990:520-525).

Dit is na my mening van teologiese, en daarom ook van liturgiese belang dat ons in ons denke primêr vanuit die verlossing moet begin (vgl McDaniel 1999:1-8). So mag ook byvoorbeeld die liturgie, selfs wanneer dit ons op ons sonde wys of ons oproep tot gehoorsaamheid, uiteindelik niks anders wees nie as ’n viering van die verlossing, oftewel van Christus. ’n Mens sou sekerlik ook met die sonde of dankbaarheid kon begin – alles is immers ingesluit in die verband met God se Openbaringswoord. En tog moet die verlossing altyd voorop staan. Miskien sou ons dit só kon sê: Liturgie is altyd die viering van verlossing uit sonde tot dankbaarheid.

Hierdie viering kan wel verskillende modi aanneem (vgl Saliers 1994:103 ev). Uiteindelik moet die (modus van die) Bybelteks bepaal watter invalshoek jy in jou preek en ook in die inrigting van die erediens moet hê (vgl verder hieroor punt 6; ook Cilliers 1998:69-79). Faktore soos verlossing, sonde en dankbaarheid is kante van dieselfde Bybelteks, maar kan in wisselende mate op die voorgrond staan. Soms lyk dit byvoorbeeld of tekste “rein” indikatief van aard is, en vra dit van predikers/liturge ’n indringende worsteling met die teks om die ander kante van sonde- ontbloting en gehoorsaamheid op ’n teologies verantwoordbare wyse te ontgin. “Verlossing” word immers nooit as ’n abstraksie in ’n Bybelteks beskryf nie. Dis altyd verlossing uit sonde en verlossing tot gehoorsaamheid. Dieselfde beginsel geld ten opsigte van tekste wat skynbaar volkome imperatief is, of niks anders as God se oordeel, en dus ons sonde uitspreek nie. Dis hier van wesenlike belang dat predikers en liturge die inherente samehang tussen die onderskeie hermeneutiese faktore soos dié van verlossing, sonde en dankbaarheid sal honoreer, en ook doelbewus op hulle prediking en erediensinrigting sal laat inwerk.

6. IMPLIKASIES VIR DIE EREDIENS

Die volgende dien as riglyne, as ruimte vir verdere gesprek.

6.1. Die erediens kan nooit sónder die wet wees nie – waarmee nie gesê word dat die tien gebooie elke Sondag gelees moet word nie. In die lig van die wesenlike verband tussen wet en evangelie, soos hier bo uitgespel, sou ons moes sê: Die wet is ’n integrale deel van die evangelie self, is deel van die enkelvoudige Godsopenbaring aan ons. Die wet funksioneer dus in die erediens op ’n eksplisiete of implisiete wyse, of behoort ten minste te funksioneer. Die verskillende funksies van die wet is ’n realiteit, is ingebed in die weefsel van die Christelike (gereformeerde) erediens en speel mee in die verkondiging en belewing van sonde, verlossing en dankbaarheid. In elke erediens is die dinamika van die wisselwerking tussen sonde, verlossing en dankbaarheid dus op die spel. Wie een van hierdie momente buite spel plaas, skaad die wese van die erediens. Dan word die liturgie die prooi van die nomisme of die anti-nomisme, word dit óf onevangelies somber, óf onevangelies triomfalisties, en verraai dit dikwels watter verengde Godsbeeld en/of mensbeeld agter die liturgie skuilgaan.

6.2. Die rykdom van God se openbaring mag nooit gestereotipeer word nie, veral ook nie in die erediens nie. Indien ’n mens die funksie van die wet byvoorbeeld op ’n vaste punt in ’n liturgiese volgorde fikseer, loop jy gevaar om die reikwydte, ja, die wonder van die wet, wesenlik in te kort. Liturgiese stereotipes verskraal die rykdom van God se wet. Die vermoede bestaan dat juis dít moontlik in baie NG eredienste gebeur – indien die wet nie heeltemal weggelaat word in die lig van die tydgees nie (anti-nomisme), word dit uit sy teologiese konteks gehaal en hoofsaaklik ingespan om op ’n moralistiese wyse skuldgevoelens op te roep (nomisme). Skuldbelydenis stol dan tot ’n vaste item op die liturgiese agenda, meestal geplaas aan die begin van die erediens, wat ook nog verder die temporele misverstand in verband met die verhouding tussen wet en evangelie versterk (vgl punt 5). Skuldgevoelens en -belydenis word gesien, of ten minste onbewus gekommunikeer, as ’n voorvereiste vir die ontvangs van die genade. En dit kán tog nie. Skuldbelydenis mag ook nooit gereduseer word tot ’n moment of ’n saak wat afgehandel is nie. Ons hele lewe is immers boetedoening. Hoe heiliger jy is, hoe sondiger is jy. Of anders gestel: Daar is ’n voortdurende beweging uit sonde na verlossing en dankbaarheid in ons lewe. Heiliging en skuldbesef neem gelyktydig toe. Die stereotiepe plasing van die skuldbelydenis, gekoppel met die gebruik van die wet op ’n eilandjie aan die begin van die erediens, versterk egter die metodisties-moralistiese misverstand dat die genade van God temporeel gebonde is. Meer nog, dit kleur lidmate se begrip van die wet van meet af aan negatief. So ’n gebruik is ook, soos aangetoon in punt 1, nie Calvinisties nie. Hierdie stereotipering van die gebruik van die wet aan die begin van die erediens sluit natuurlik nie die moontlikheid uit om die wet wél liturgies korrek hier te benut nie.

6.3. Daar moet juis gewaak word daarteen om die pendulum uit reaksie teen bogenoemde moralistiese misbruik van die wet nou weer na die ánder kant toe te laat swaai. Sonde móét verkondig word en die wet het ’n belangrike (eerste) funksie in dié verband (vir ’n breedvoerige bespreking van die verband tussen sonde, wet en evangelie, vgl Berkouwer 1958:143 ev). Daar is vandag ’n goedkoopmaking van die genade en ’n kwynende sondebesef. Eredienste sonder sondebesef en skuldbelydenis loop gevaar om ’n oppervlakkige en moontlik selfs sentimentele godsdiensuiting te word. Die wet móét ons in ons gewete aanspreek, anders verstaan ons nie die evangelie nie. Die wet moet – ook in sy eerste funksie – verkondig word ter wille van die evangelie (Josuttis 1995:35). Maar hoe dan? Om mee te begin: Die dekaloog is – soos ons reeds by Calvyn gesien het – nie noodwendig die enigste of mees geskikte Skrifgedeelte om die absolusie te begelei nie. Let wel: Die dekaloog kán hiervoor gebruik word, maar dis geen wet (!) van Mede en Perse nie. Ander uitsprake van die Skrif kan ook op ’n gevarieerde wyse, en in aansluiting by die teologiese kern van die spesifieke erediens, hiervoor gebruik word (vgl verderaan hieroor). Dié gebruik van bepaalde Skrifgedeeltes moet egter weer nie ontaard in ’n aaneenryging van ’n string imperatiewe nie. Met hierdie funksie van die wet word eerder die funksie van die blootlegging van ons sonde bedoel, soos dit in (alle) Bybeltekste voorkom. Ons sou kon sê: Die wet, oftewel die verhouding tussen wet en evangelie, is ’n hermeneutiese faktor in die uitleg van alle Bybeltekste: dit lê ons bloot in ons sonde voor God en dryf ons só na Christus toe uit. Elke Bybelteks het ’n wet-kant, ’n wet-modus. Wanneer indikatiewe tekste byvoorbeeld die troos van die evangelie oor ons uitspreek (Die Here het en sal en daarom is julle …), is dit ook ’n ander manier om te sê: Dít waarvan hier sprake is, en wat uit genade aan jou geskenk word, het jy nie van nature nie. Die sonde maak dat jy dit ontbeer.

6.4. Dit is belangrik dat lidmate deur die gebruik van die wet in die erediens tot ’n nuwe waardering van die wonder en gawe van die wet begelei sal word. Baie lidmate is deur jare lange liturgiese stereotipering negatief gekondisioneer – veral met ’n stolling by, en vertekening van, die eerste funksie van die wet. Dit moet verander word. Ons sal opnuut moet verstaan wat die wesensaard van die wet sélf is – veral ook wat sy derde funksie betref. Die wet (Torah) is naamlik ’n gawe van God aan ons. Die Tora is góéd. Dit bevat evangelie én wet. Miskien is die woord “en” hier alreeds te veel – die wet ís ook evangelie. In sy eerste funksie ís dit veroordelend, maak dit dood, ja, maar in sy derde funksie is dit troostend en rigtinggewend. Die wet is die vestiging, uitbreiding, konkretisering en beliggaming van die heil in die eksistensie (Van Ruler 1974:459 ev). In die wet praat God as Vader met sy kinders, is sy vermaning vol liefde en sorg. Die wet is trouens – en ons praat steeds oor die derde funksie – nie alleen maar juridies te verstaan nie, maar ook as raadgewing en lewensleiding wat telkens tot ons in historiese situasies kom, ten einde ons op ons weg deur ons “woestyn” te rig. Die wet spel die kontoere van ’n nuwe wêreld uit, hou God se alternatief voor (vgl Brueggemann 1997:55 ev). As daar dan sprake van dissipline in die wet is, is dit die dissipline, die ritme van God se weg na God se wêreld, ’n ritme en dissipline wat ook in die liturgie voorgehou en gevier word. Die wet spel telkens die oorgang uit die oue na die nuwe uit, neem ons oor die breuklyn tussen gister en môre, gee ons ’n glimps van ’n wêreld waarin alles anders sal wees en kan wees, en nooi ons op grond van die verlossing in Christus uit om hierdie nuwe wêreld in die midde van en teenoor die ou wêreld te lééf.

Daarom mag die wet nooit misverstaan en misbruik word as ’n gestolde waarheid wat op ’n kasuïstiese manier op die lewe afgeforseer moet word nie. Die wet mag nie opgeëis word vir ’n “anti-alles”-houding, wat dan verkeerdelik gelykgestel word met “heiligheid” en waarin geen positiewe, verrassende, nuwe horisonne ooit oopgaan nie. Nee! Die wet het met vryheid te make! Die evangelie spreek ons vry om die wet na te kom, vry vir God en ons naaste, vry vir diens. Ja, om God te dien, is die hoogste vryheid. Die wet is nie ’n vryheidsbederwer nie, maar eerder ’n uitnodiging om die vryheid van die evangelie binne God se ruimtes te lééf en te viér. Daarom is die wet nie ’n naakte en uitmergelende eis: jy moet ... nie, maar veral ’n belofte wat sê: jy sal ..., en ook ’n toestemming: jy mag maar …

In sekere sin sou ons moes sê dat die wet (in sy drie funksies) altyd op ’n paradoksale wyse in ons lewe werk. Dit maak ons dood (jy moet – maar jy kan nie), maar dit dryf ons ook tegelykertyd na Christus toe, waar ons hoor: Ek verlos jou, jy kán nou, jy mag maar, en meer nog: jy moet en sal! Daarom kan ons ook nie anders as om in die prediking en liturgie só paradoksaal te praat nie: Jy kan nie! God doen dit! Maar omdat God dit doen, mag, sal, moet jy dit doen! Ja, ook die moet mag nie ontbreek nie. Die derde gebruik van die wet versag nie die reguit kant van die wet nie, trek nie die wet se tande uit nie. Dit bly inderdaad ook ’n oproep, dikwels ’n vermaning – ten opsigte van die heiliging van die totale lewe. Die tyd waarin ons leef, roep inderdaad om ’n gesonde etiek, en ’n erediens waarin die alternatiewe wêreld van God juis binne die kontoere van die wet uitgespel word.

6.5. Die wagwoord vir die gebruik van die wet in die erediens is liturgiese variasie. Elke erediens draai rondom ’n teologiese kern, wat gevorm word deur die Skrifteks vir die dag. Elke erediens het dus ’n spesifieke aanslag, ’n onherhaalbare uniekheid, ’n bepaalde beklemtoning, ’n kairos. Hierdie unieke kern van die erediens bepaal al die momente van die erediens, van die prinsipiële “bakens” soos die Woordverkondiging, gebed, absolusie en doksologie, tot die inkleding van die fyner besonderhede soos die gebruik van spesifieke liedere, vota en seënbedes. Die ideaal sou wees dat ook die wet dienooreenkomstig in die erediens sal funksioneer, dat die rykdom van die wet vanuit die rykdom van die Skrifteks, ja, die ganse Woord aan die orde gestel word, en dus in ’n geïntegreerde verband tot bogenoemde liturgiese bakens en besonderhede sal staan. Op hierdie wyse word die wet op ’n meer gevarieerde en teologies verantwoorde manier in die konteks van ’n spesifieke erediens geplaas, en nie by voorbaat in ’n liturgiese hoekie vasgeverf nie. Die wet word eerder prinsipieel ingebind in die beplanning en inrigting van die hele erediens, en kan ter versterking van die spesifieke modus van die erediens dien.

Indien die erediens byvoorbeeld sterk wil uitspel wat ons – as gevolg van die sonde – nié is of het nie, sou die wet in sy eerste funksie ’n groter klem in die liturgie kon verkry, en wel ook op ’n verskeidenheid van maniere wat dwarsdeur die liturgie na vore kan kom. Bepaalde Skrifgedeeltes kan gelees word, moontlik in kontras met dít wat in die wêreld aan die gang is. ’n Voorlesing van die saligsprekinge, gekoppel met ’n kontrasterende toneel (op ’n skerm gewerp of uit ’n koerant voorgelees) van ’n wêreld wat allesbehalwe só lyk, sou byvoorbeeld ’n effektiewe, aktuele oproep tot skuldbelydenis kon wees. So ook ’n toneel van armoede, gekoppel met die Ons Vader-gebed om ons daaglikse brood. Of ’n voorlesing van die Kersverhaal, teen die agtergrond van tonele van geweld en terrorisme. Op hierdie kontrasterende wyse kan die wet in sy eerste funksie in ’n nuwe reliëf gebring word en kan skuldbelydenis van sy vaagheid bevry word. Persoonlike en sosiale sondes kan skerper in die lig gebring word, byvoorbeeld deurdat die gemeente die woorde van ’n toepaslike psalm gesamentlik hardop sê. Weer eens: Die dekaloog kan wél ook hier sinvol gebruik word, byvoorbeeld wanneer elke gebod deur die gemeente in die eerste persoon enkelvoud (ek) herhaal of as parafrase opgesê word as persoonlike belydenis dat ons lewe en ons wêrelde nié lyk soos God dit in sy gebod wil nie, en die gebod dan oorloop in die gebed om die verlossing in die volle en finale sin van die woord. Dit moet egter alles liturgies en teologies gekoppel word en bly aan die boodskap van verlossing, wat uiteraard in die teologiese kern van die erediens ingebed moet wees.

Indien die modus van die erediens anders lê, byvoorbeeld as uitdrukking van wat ons (in Christus) alreeds is, en daarom juis moet en mag wórd, kom die derde gebruik van die wet vanself sterker na vore. Hier kan ook bepaalde Skrifgedeeltes hanteer word en, in navolging van Calvyn, in die besonder die dekaloog. Dalk is dit sinvol om ’n reeks te doen waarin een gebod telkens aan die orde kom en op ’n innoverende wyse aan nuwe lewensmoontlikhede gekoppel word, moontlik aan bestaande aksies wat in die gemeente geloods word. Die hele dekaloog hóéf nie elke Sondag gelees te word nie: Die blote repetisie van die dekaloog sonder begrip dien tog geen doel nie, behalwe om dit nog meer teoreties en irrelevant vir baie lidmate te maak. Indien mense die gebod, daarenteen, as verstaanbaar en relevant beleef, kan hulle opnuut die voordeel daarvan, ja, die evangelie daarin vir hulle elkedagse bestaan waardeer – veral ook as dit as bevrydingswoord gehoor word, dit wil sê as dit liturgies gekoppel bly aan die boodskap van verlossing wat in die teologiese kern van die erediens teenwoordig is, of ten minste behoort te wees.

BIBLIOGRAFIE

Balentine, S E 1999. The Torah’s vision of worship. Minneapolis: Fortress Press. Barnard, A C 1981. Die erediens. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Berkhof, H 1973. Christelijk Geloof. Een inleiding tot de geloofsleer. Nijkerk: Callenbach.

Berkouwer, G C 1958. De Zonde 1. Oorsprong en kennis der zonde. Dogmatische Studiën. Kampen: Kok. Bonhoeffer, D 1959. The cost of Discipleship. London: SCM Press.

Brueggemann, W 1997. Theology of the Old Testament. Testimony, Dispute, Advocacy. Minneapolis: Fortress Press.

Burger, C W 1983. Die verhouding wet-evangelie as hermeneuties-homiletiese prinsipe by Hans-Joachim Iwand. Ongepubliseerde DTh-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch.

Cilliers, J H 1991. Voorskrif vir vryheid. Oordenkings en Bybelstudie oor die tien gebooie. Kaapstad: Lux Verbi.

Cilliers, J H 1996. Die uitwissing van God op die kansel. Ontstellende bevindinge oor Suid-Afrikaanse prediking. Kaapstad: Lux Verbi.

Cilliers, J H 1998. Die uitwysing van God op die kansel. Inspirerende perspektiewe op die prediking – om God te sien en ander te láát sien. Kaapstad: Lux Verbi.

Cilliers, J H 2000. Die genade van gehoorsaamheid. Hoe evangelies is die etiese preke wat ons in Suid-afrika hoor? Kaapstad: Lux Verbi BM.

Den Boer, C 1974. Functie van de wet in de prediking. Th Ref 74, 251-261.

Du Toit, B A 1990. Sondebelydenis volgens 1 Johannes. NGTT 31 (4), 520-525. Eagleton, T 1996. The illusions of postmodernism. Oxford: Blackwell.

Iwand, H J 1964. Gesetz und Evangelium (in Nachgelassene Werke 4, Hg Kreck). München: Gütersloh.

Josuttis, M 1995. Gesetz und Evangelium in der Predigtarbeit. Homiletische Studien. München: Chr Kaiser Gütersloh.

Linn, R 1996. A teacher’s introduction to postmodernism. Illinois: National Council of Teachers of English.

McDaniel, J 1999. Preaching grace in the human condition, in Preaching grace in the human condition. Studia Homiletica 3 (ed J McDaniel). Societas Homiletica: Washington DC.

Nürnberger, K 1981. The law-gospel debate as a possible basis for a theological ethic. Th Ev 14, 25-47. Saliers, D E 1994. Worship as theology. Foretaste of glory divine. Nashville: Abingdon.

Van Niftrik, G C 1946. Kleine Dogmatiek. Nijkerk: Callenbach.

Van Ruler, A A 1974. De vervulling van de wet. Een dogmatische studie over de verhouding van openbaring en existentie. Nijkerk: Callenbach.

White, J F 1981. Introduction to Christian Worship. Nashville: Abingdon.

1 Verkorting van ’n verslag goedgekeur deur die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Oktober 2002.