“Om reg te doen” – prosesse, prosedures en verskuldigde reg in die kerk
ABSTRACT
“To act justly” – processes, procedures and due process in the churh
D J Galligan in his book Due Process and Fair Procedures. A Study of Administrative Procedures (1996) writes, “If justice is the first virtue of law and politics, then procedural justice is an essential element in its attainment. For no matter how good and just the laws and political principles supporting them may be, without suitable procedures they would fail in their purpose.”
This article is about fair procedures and processes in the government of the church. It traces the origins of fair procedures in the church and describes the situation with regard to fair procedures in a few Reformed Churches.
1. TER INLEIDING
1.1. ’n Teologiese perspektief
In die gereformeerde wêreld is kerkreg en kerkregering ’n teologiese onderneming. Wat volg, word dus in die eerste plek vanuit ’n teologiese perspektief en nie ’n bugerregtelike perspektief aangebied nie. Miskien is dit een van die tekortkominge van gereformeerde kerkreg en kerkregering, ten minste in Suid-Afrika, dat daar te min werklike gesprek tussen kerkregtelikes en juriste oor hierdie soort sake plaasvind. Hoe dit ook al sy, gegewe die teologiese vertrekpunt, gaan daar gekyk word na die relevansie van prosesse en verskuldigde reg vir die kerk; ’n aantal begripsonderskeidinge; die herkoms en aard van prosesse en verskuldigde reg in die kerk, en die stand van sake daarvan by sommige individue en kerke in die gereformeerde wêreld.
1.2. Relevansie
Is prosesse en prosedures relevant vir die kerk? Is dit iets waarmee kerke hulle moet bemoei? Daar is diegene wat meen dat prosedures en die beskerming van individue se regte iets is wat nie tuishoort in ’n vrye vereniging van mense wat toegewy is aan die leerstellinge en voorbeeld van Jesus Christus nie (Vondenberger 1996:166). Baie Christene sien ook aangeleenthede soos prosesse en prosedures as ongeestelik en onversoenbaar met die kerk. Die werklikheid van kerke se bestaan toon egter dat hulle voortdurend met prosesse en prosedures te doen het. In die Ned Geref Kerk, soos sekerlik ook in ander kerke, ontstaan daar byvoorbeeld dikwels geskille tussen predikante en kerkrade na aanleiding van wangedrag deur predikante, ontevredenheid oor die bekwaamheid of geskiktheid van ’n predikant in ’n spesifieke pos en die finansiële vermoë van ’n gemeente wat met verloop van tyd verander en dan meebring dat die band tussen gemeente en predikant losgemaak moet word. In al hierdie gevalle is daar dan bepaalde prosesse wat gevolg moet word en prosedures wat nagekom moet word ten einde te verseker dat die verskuldigde reg aan alle partye toekom (vgl Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1998, art 12 met gepaardgaande besluite; sien ook Scanlon 1977:106). Dit het ongelukkig al te dikwels gebeur dat kerke skuldig bevind is omdat hulle óf nie hulle eie prosedures nagekom het nie óf doodgewoon nagelaat het om aan ’n individu sy/haar verskuldigde reg te laat toekom. Hierbenewens het talle bewegings en gebeure in die wêreld van vandag, soos die Burgerregbeweging in die VSA, die roep om vroueregte, die stryd van die armes in Sentraal- en Suid-Amerika en ook die stryd teen apartheid in Suid-Afrika, die aandag só gevestig op die regte van mense en die gevolglike prosedurele waarborge wat daar moet wees om hierdie regte te beskerm (Vondenberger 1996:169) dat kerke dit nie kan bekostig om dit maar eenkant te laat nie. Prosesse en prosedures is relevant vir kerke en behoort die nodige aandag te ontvang. Tereg het Stevens al in 1991 geskryf: “De authenciteit van onze Kerk is in het geding, indien wij ons er niet op zouden toeleggen om in de canonieke rechtsorde toereikende en toegankelijke wegen te traceren tot voorkomen, beheersen en oplossen van conflicten” (Stevens 1991:145). Uit die aard van die saak is dit belangrik vir kerke dat hulle prosesse en prosedures in die verlenging sal lê van die waardestelsel wat onderliggend is aan die bestaan van die kerk. Hieraan word onder meer in die volgende afdeling aandag gegee.
2. BEGRIPPE EN INHOUDE
D J Calligan onderskei in sy boek Due Process and Fair Procedures. A Study of Administrative Procedures (1996) tussen prosesse en prosedures. ’n Proses dui volgens hom op die totale juridiese of administratiewe handeling wat ook die besluit insluit waarop dit kan uitloop. Hy meen dat die einde van ’n proses nie noodwendig net ’n besluit hoef te wees nie – dit kan byvoorbeeld ook net ’n ondersoek of ’n bepaalde handeling behels (Calligan 1996:8). ’n Prosedure, aan die ander kant, is die verskillende stappe wat geneem word of middele wat gebruik word om by ’n besluit uit te kom, ’n bepaalde handeling uit te voer of ’n geskil op ’n bepaalde wyse te besleg. Die prosedure is daar om te help dat die proses wat aan die gang is tot die regte einde gebring word (Calligan 1996:5). In onderskeid van talle sosiale prosesse en prosedures wat deurentyd plaasvind, word regsprosesse en -prosedures daardeur gekenmerk dat hulle onder die gesag van sekere vasgestelde regstandaarde plaasvind wat die aard en omvang van die gesag waarmee opgetree word, bepaal. Hoe minder die vasgestelde regstandaarde, hoe groter die ruimte vir die uitoefening van diskresie en die moontlikheid van magsmisbruik.
Vir Calligan is prosedures hulpmiddele, enersyds om toe te sien dat ’n wet korrek toegepas word, en andersyds om te help dat die doelstellings van ’n betrokke wet verwesenlik word. Benewens hierdie funksies is dit baie belangrik dat prosedures op individuele vlak ook moet help verseker dat elke individu regverdig behandel word – die sogenaamde “fair treatment”-rol van prosedures (Calligan 1996:xviii), ook genoem “die beskerming van verskuldigde regte” – “due process” – of net “regsbeskerming”. Vir Scanlon is prosedures eweneens nuttig vir die uitvoering van reëls en die vasstelling van feite, maar dan het dit ook ’n baie belangrike simboliese funksie as openbare uitdrukking van partye se reg teenoor mekaar en teenoor gesagsdraers. In hierdie simboliese funksie van prosedures vind Scanlon ’n baie sterk grond vir adversiewe prosedures in ondersoeke omdat hy meen dat dit die beste moontlikheid bied vir die beskerming van betrokkenes se regte (Scanlon 1977:100).
Wat die inhoud van verskuldigde regsprosedures betref, stem skrywers grootliks saam dat dit formeel gesproke daarop neerkom dat ’n betrokkene by ’n regsproses verseker kan wees dat daar nie in die proses arbitrêr opgetree sal word deur die gesagsdraers nie en dat daar van hulle verwag kan word om hulle besluite en handelinge met opgawe van redes te regverdig (vgl Scanlon 1977:96; Coppens 1991:13). Inhoudelik kom dit volgens Paul Golden, met verwysing na die Anglo-Amerikaanse regstradisie, daarop neer dat daar byvoorbeeld waarborge moet wees dat die aangeklaagde ingelig sal word oor moontlike optredes wat kan inbreuk maak op sy/haar regte; dat daar waarborge sal bestaan om gehoor te word in die verdediging van sy/haar regte; dat die reg om die aanklaers te konfronteer eweneens gewaarborg sal word; soos ook die reg om nie deur sy/haar aanklaers verhoor te word nie (Golden 1988:63). Golden verwys ook na die regsproses wat reeds in die 1917-uitgawe van die Code of Canon Law opgeneem is en waarin voorsiening gemaak is vir ’n onafhanklike regbank, die reg van die individu om deur ’n advokaat verteenwoordig te word, die reg op ’n spoedige verhoor en die reg tot appèl (Golden 1988:63). In Suid-Afrika formuleer T H N Sadler die reëls van die sogenaamde fundamentele billikheid, wat in enige ondersoek nagekom moet word, soos volg: (i) Audi alterem partem, dit wil sê, luister na die ander kant – geen mens mag onverhoord veroordeel word nie. (ii) Nemo iudex in sua causa – niemand mag ’n regter in sy eie saak wees nie; ’n persoon kan nie self besluit oor die klag wat hy/sy teen ’n ander persoon ingebring het nie. (iii) Onpartydigheid – ondersoeke moet op ’n billike en eerlike manier en in goeie trou gedoen word. Daar mag nie by enige lid van die vergadering werklike of skyntekens van partydigheid of vooroordeel wees nie. (iv) Die ondersoekliggaam moet sy aandag aan die ondersoek bestee – daar moet op die werklike meriete van die saak ingegaan word en die aandag mag nie afgelei word deur irrelevante feite of oorwegings nie en die magte van die ondersoekliggaam mag ook nie aan ’n ander liggaam oorgedra word nie (Sadler 1997:186-193). Soortgelyke formulerings oor die inhoud van verskuldigde reg in prosedures kom in baie internasionale en nasionale dokumente en verklarings voor. Ook die nuwe Suid-Afrikaanse Grondwet bevat in hoofstuk 2 ’n Handves van Regte wat onder meer bepaal dat elkeen die reg het op administratiewe optrede wat regmatig, redelik en prosedureel billik is (art 33(1)); elkeen wie se regte nadelig geraak word deur administratiewe optrede het die reg op die verskaffing van skriftelike redes (art 33(2)) terwyl artikel 34 bepaal dat elkeen die reg het dat ’n geskil wat deur die toepassing van die reg besleg kan word, in ’n billike openbare verhoor beslis sal word voor ’n hof of, waar dit gepas is, ’n ander onafhanklike en onpartydige tribunaal of forum. Artikel 8 (1) van die Grondwet bepaal dat die Handves van toepassing is op die totale reg en dat dit die wetgewende, uitvoerende en die regsprekende gesag en alle staatsorgane bind terwyl daar in artikel 8 (2) bepaal word dat ’n Bepaling in die Handves van Regte ’n natuurlike of ’n regspersoon bind indien en in die mate waarin dit toepasbaar is met inagneming van die aard van die reg en die aard van enige plig daardeur opgelê (Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, Wet 108 van 1996).
Ten slotte, in hierdie afdeling oor begrippe en inhoude is dit belangrik om kennis te neem van die volgende opmerkings van Galligan en Scanlon oor die konteks waarbinne prosedures figureer. Galligan wys naamlik daarop wys dat prosedures altyd gekoppel is aan die waardes en standaarde van die konteks waarbinne hulle gebruik word (Galligan 1996:6) terwyl Scanlon aantoon dat deur te voldoen aan ’n stelsel van verskuldigde reg in sy prosedures ’n instelling daardeur sy morele aanvaarbaarheid verhoog (Scanlon 1977:94). Hierdie waarnemings is uit die aard van die saak baie belangrik omdat dit tot gevolg het dat verskillende waardestelsels hulle ook noukeurig oor hulle prosesse en prosedures moet verantwoord met die oog op hulle morele aanvaarbaarheid in die gemeenskap.
3. DIE OORSPRONG EN AARD VAN PROSESSE EN PROSEDURES IN DIE KERK
3.1. Die oorsprong
Daar is verskillende standpunte oor die oorsprong van reg en die gevolglike klem op die beskerming van regte en die gepaardgaande prosedures wat in plek moet wees. Sommige is van mening dat die klem op die beskerming van die individu se reg sy diepste grond in die waardigheid van die mens vind (Vondenberger 1996:166). James Barr maak ’n saak daarvoor uit dat die reg in die Bybel oor honderde jare heen ontwikkel het en dat dit eintlik op ’n natuurlike teologie berus wat meebring dat daar groot ooreenkomste kan wees tussen die regstelsel wat byvoorbeeld in die Bybel by Israel gevind word en dít wat by omringende en selfs verder verwyderde volke aangetref word. “... natural theology does not at all deny revelation: in most forms, it implies rather a sort of universal or general revelation, available and accessible to human beings through their being human. If the biblical laws, or some of them, can be seen to have grown and developed over a long period of time, and thus in a mode different from a once-for-all promulgation of the whole thing by the voice of God to Moses in person, then we are by implication moving to the idea of human beings pondering legal problems of the society, noting difficulties and unclarities in existing law, offering suggestions and reforms, and all this on the basis of thoughts and experiences which they as human beings can formulate, understand and act upon. Even if total and absolute revelation has an essential part in the whole process, that process as a whole has nevertheless the air of something like the operation of natural theology” (Barr 1989:9-10). Terwyl daar toegegee kan word dat daar baie ooreenkomste is tussen die reg soos dit in die Bybel gevind word en die reg by ander volke en selfs godsdienste, bly die vraag of daar nie tog groter en dieper godsdienstige en teologiese kontekste is waarbinne die reg wat in die Ou Testament en ook in die Nuwe Testament gevind word, verreken moet word nie. Wat hier van reg in die algemeen gesê word, geld dan in die besonder ook vir die prosesse en prosedures waarvan daar in die Bybel sprake is.
3.2. Die aard van prosesse en prosedures in Israel en in die kerk
3.2.1 Die rol van die Skrif
In die eerste plek kan daar gestel word dat die beoefening van reg en die gepaardgaande prosedures ten einde toe te sien dat die reg verwesenlik word hoegenaamd nie iets is wat vreemd is aan die Bybel en aan die lewe van die volk van God nie.
Die titel van hierdie voordrag begin met ’n aanhaling uit Miga 6:8. Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God. Die woorde om reg te doen kom net so voor in die Nederlandse Statevertaling, waartoe die Sinode van Dordrecht (1619-1619) besluit het, en ook in die Afrikaanse vertaling van 1933. Die 1983- Afrikaanse vertaling lui: ... dat jy reg sal laat geskied ... Die Hebreeuse woord wat in Miga gebruik word vir “om reg te doen” is misjpat, waaroor A van der Woude skryf: “Met het doen van Misjpat is gedoeld op het praktizeren van de door de YAHWEH gestelde levensorde ... Het gaat om de handelen van de mens waardoor hij anderen tot hun recht laat komen” (Van der Woude 1977:217). In sy kommentaar op Miga 6:8 gee Theo Laetsch misjpat weer as “do justly” en skryf dan die volgende: “‘Do justly’ denotes not merely the doing of justice, but the establishment of justice, of proper norms of judgement” (Laetsch 1965:280). In sy boek To Act Justly, Love Tenderly, Walk Humbly. An Agenda for Ministers skryf Walter Brueggemann: “To do justice: To sort out what belongs to whom, and to return it to them. In this prophetic tradition justice presumes social entitlements ... Israel has a social vision in which every family, clan and tribe has its rightful place of power. Where these entitlements are fully honored, there is justice, assuring each the power for life, access to public decisions, fair treatment in court. Where the entitlements are distorted or usurped, there is injustice against which powerful intervention must be made” (Brueggemann 1986:16).
“Om reg te doen” is ’n vertaling van die Hebreeuse misjpat wat in Grieks weergegee word met krima. Van krima skryf Herntrich Büchsel in die Theological Dictionary of the New Testament die volgende: “Orginally ... this word means the ‘decision’ of the judge ... In 1 C 6:7 krima bears the sense of a legal action or process ... It can thus have the sense of a judicial decision. But it can also mean the right which someone has, namely the oppressed (Büchsel 1965:942). 1 Korintiërs 6 is juis die gedeelte in die Nuwe Testament waar die gemeente opgeroep te word om nie na die wêreldlike regters toe te gaan met hulle geskille nie, maar om dit self te hanteer. Dit is interessant dat P J Tomson met verwysing na hierdie gedeelte juis aantoon dat dit vanweë die eie morele standaarde van die gemeente is dat hulle opgeroep word om hulle eie regsake te hanteer (vgl Tomson 1990:98).
Benewens dit wat in Miga 6 en 1 Korintiërs 6 gevind word oor die beoefening van reg, is daar ook talle ander plekke in die Skrif waar daar verwys word na die beoefening van reg soos dit ook op prosedures betrekking het word. Van Psalm 99:4 wat eweneens verwys na misjpat, skryf Hans Joachim Kraus: “Yahweh loves justice. This statement provides Ps 99 with its real design. The justice that is operative in Israel is not an alien, general justice. Yahweh has founded it; He has ‘created’ it” (Kraus 1989:272). In sy artikel “Deuteronomy and Human Rights” vergelyk G Braulik artikels van die Universele Verklaring van Menseregte met dit wat hy in Deuteronomium vind en kom hy tot die volgende slotsom: “... the human rights discussion was at first a product of the Enlightenment. People spoke of ‘fundamental rights’ for the first time in France (in 1770) and of ’natural rights’ (1779) which belongs autonomously to all human beings because of their nature and dignity. According to Deuteronomy, on the other hand, human rights are, as we have noted theonomous and are mediated by Israel. In other words: human rights, as defined in Deuteronomy, are part of a liberation or redemption, through which God gives his people a just social order and thus brings them justice” (Braulik 1998:225). Baie van dit wat in die Ou Testament gevind word oor onder meer prosesse en prosedures word weer in die Nuwe Testament herhaal en word gevind in gedeeltes soos Matteus 18:15-17, 1 Korintiërs 6 en 1 Timoteus 5:19-20.
Dit is dus duidelik dat nie net reg as sodanig nie, maar ook die beoefening daarvan en die vasstelling van behoorlike norme vir regspleging baie sterk figureer in die Skrif. Dit lei tot die verdere gevolgtrekking dat ten spyte van die ontwikkeling wat tereg in Israel se reg gekonstateer kan word, daar tog ook bepaalde konstanthede is wat deur die hele openbaringsgeskiedenis loop en wat sowel op die inhoudelike van die reg as op die formele beoefening daarvan betrekking het.
3.2.2 Die teologiese konteks
Ter wille van ’n lengtebeperking op hierdie artikel gaan daar nie uitvoerig ingegaan word op die teologiese peilers wat vir kerklike prosesse en prosedures behoort te geld nie. Daar word met die volgende volstaan, hoewel daar uit die aard van die saak veel meer gesê sou kon word.
In die beoefening van kerklike prosesse en die vasstelling van kerklike prosedures behoort daar in die eerste plek voortdurend rekening gehou te word met die feit dat die kerk ’n unieke maaksel van God Drie-enig is waarvan Jesus Christus die enigste Here en Hoof is. Christus regeer sy kerk deur die Heilige Gees en hierin maak Hy gebruik van die Woord en die ampte, oftewel die ampsdienste – om hulle dienskarakter te beklemtoon – in die kerk. Die ampte tree nie op ’n individuele wyse op nie, maar oefen hulle verantwoordelikheid gesamentlik uit in die onderskeie verbandsvergaderinge. Die kerk bestaan uit die gedoopte en belydende lidmate en funksioneer as ’n gemeenskap van persone en ook as ’n instituut, oftewel ’n vaste instelling met bepaalde ooreengekome gesagstrukture. Die kerk manifesteer telkens as ’n plaaslike gemeente van gelowiges, maar elke plaaslike gemeente het ook die roeping om eenheid te soek met ander manifesterings van die kerk van Christus. Die soeke na eenheid kan ook manifesteer as ’n verband van kerke wat hulle in trou aan mekaar verbind op grond van ’n gemeenskaplike belydenis van hulle geloof en ’n kerkorde waartoe die verband van kerke hulle verbind. Die ampte se dienswerk is om die gelowiges toe te rus tot die opbouing van die gemeente en kerkverband wat die sowel die vermeerdering van lidmaatgetalle as die verdieping van lidmate in Christus behels (sien Coertzen 1991). In Christus is die kerk vry, ook teenoor die staat as dié samelewingsverband wat gesag dra oor ’n bepaalde gebied en die reg het om bindende wette te maak. Die kerke se vryheid beteken dat hy die reg het om hom met kerklike en geloofsake besig te hou en sy eie interne orde na die eise van sy wese as kerk in te rig, weliswaar met dié beperking dat die kerk deurentyd ten opsigte van die orde van die staat aanspreeklik is en hom steeds ten opsigte daarvan moet kan verantwoord, veral waar sy interne orde verskil van dié van die staat (Coertzen 2002). As ’n laaste teologiese peiler vir kerklike prosesse en prosedures kan daar verwys word na die geloofswaarheid dat die kerk geroep word tot die bediening van geregtigheid juis op grond van die feit dat die kerk bestaan uit ’n gemeenskap van mense wat in Jesus Christus geregverdig is (Stevens 1991:147).
Van al hierdie teologiese peilers behoort die kerk hom steeds te vergewis en dit in berekening te bring in die beoefening van sy prosesse en die formulering en toepassing van sy prosedures.
4. PROSESSE, PROSEDURES EN VERSKULDIGDE REG IN DIE GEREFORMEERDE WÊRELD
In die volgende word daar na die standpunte van sommige gereformeerde teoloë en die situasie in sommige gereformeerde kerke verwys.
Deur die jare het kerkregtelikes en amptelike kerkvergaderinge van gereformeerde kerke verskillende standpunte ingeneem oor die noodsaaklikheid, aard en plek van prosesse en prosedures in die kerk en die beskerming van individue se regte.
Daar is diegene soos R M Britz wat juis op grond van sy siening van die soewereiniteit van Christus standpunt inneem téén reëls en regulasies (dit beteken eintlik prosedures) in die kerk. Christus se Hoofskap in die kerk moet volgens hom bely en nie bepaal word nie, tot uitdrukking kom en nie gestipuleer word nie. Reëls en regulasies getuig van ’n selfgesentreerde en nie ’n Christusgesentreerde kerk nie (Britz, Die Kerkbode, 1/1991). In sekere sin herinner hierdie standpunt baie aan dié van Rudolph Sohm wat alle reg as in stryd met die wese van die kerk gesien het. Daar moet egter verreken word dat daar klaarblyklik meer mense in gereformeerde kerke is wat soortgelyke standpunte huldig.
Dan is daar diegene soos Rutgers (De Jong 1918), Monsma (Van Dellen & Monsma 1918) en Nauta (1971) wat wel die noodsaaklikheid daarvan erken dat verskuldigde reg ’n rol moet speel in kerklike ondersoeke, maar baie bedag is daarop om enige bindende voorskrifte ten opsigte van byvoorbeeld prosedures te maak. Rutgers erken beginsels soos dat niemand onverhoord veroordeel moet word nie en dat niemand volkome betroubare getuienis kan aflê in ’n saak waarin van sy/haar naaste betrekkinge betrokke is nie. Hierdie beginsels wat moet figureer, vind egter net aanklank in die mens se gewete en morele gevoel en mag nie in reëls neergelê word nie (De Jong 1918:65). Monsma wil eweneens nie iets soos ’n Code Penal in die kerk hê nie, maar erken tog in sy aantekeninge by die Kerkorde van die Christian Reformed Church dat onpartydigheid, geleentheid tot selfverdediging, bystand van die partye in ’n ondersoek en betroubare getuienis baie noodsaaklik is. Hy is ook daarteen dat ondersoeke volgens ’n stel baie tegniese prosedurereëls gevoer moet word; dit moet eerder deur vryheid en billikheid na die vereistes van elke saak gekenmerk word (Van Dellen & Monsma 1968:305-306). Hoewel Nauta toegee dat iemand ter wille van regsekerheid sou kon aandring op vaste reëls vir kerklike ondersoeke, verkies hy self dat dit nie gedoen word nie omdat dit beperkinge op die bevoegdheid van kerkvergaderinge sou kon plaas om na die behoefte van die betrokke ondersoek op te tree (Nauta 1971:,408-409). Die dogmatikus G C Berkouwer neem ietwat van ’n tussenposisie in. In die lig van Matteus 18 en Titus 3:10 meen hy dat ’n “proses” ’n vereiste is vir kerklike tugoefeninge. Hy waarsku egter terselfdertyd sterk teen tughandelinge wat opgaan in die saaklike toepassing van ’n stel regsreëls. Daar moet steeds in die tugoefening ruimte wees vir die intense verwagting dat ’n sondaar tot bekering kan kom. As dit nie die geval is nie, word die handeling volgens hom bloot ’n gereglementeerde tegniek waaruit die liefde gewyk het (Berkouwer 1972:196). Dit is natuurlik presies op ’n punt soos hierdie waar dit blyk hoe noodsaaklik die teologiese begronding van kerklike prosesse en prosedures is. Juis al in die skryf van die prosedures behoort daar voorsiening gemaak te word dat die moontlikhede en doelwitte van byvoorbeeld die kerklike tug verwesenlik word.
Daar is wel ook gereformeerde kerke wat gebruik maak van vaste prosedurereëls vir hulle kerklike prosesse. Reeds in 1971 het die Christian Reformed Church in North America die volgende insake prosedurereëls genotuleer: “Rules of procedure are not mere technicalities but basic principles for right and decency and good order” (Acts of Synod 1971:158 in De Ridder, R R & Hofman, L J 1994:167; Engelhard & Hofman 2001:171). In 1977 het die Sinode van dié kerk artikel 30 van hulle Kerkorde uitgebrei om te lees: “When written charges requiring formal adjudication by an ecclesiastical assembly are made, the relevant provisions of the judicial code shall be observed.” Vanaf 1994 lees die betrokke artikel in hulle Kerkorde soos volg: “If invoked the Judicial Code shall apply to the processing of appeals and written charges” (Church Order 1994; CRCNA, art 30). Toe die Judicial Code in 1977 ingestel is, het die Sinode ’n deeglike begronding daarvoor gegee wat daarop neerkom dat daar deeglike voorsiening gemaak word vir skriftelike klagtes en antwoorde, die reg om gehoor en verteenwoordig te word, duidelike spesifikasie van klagtes, die daarstelling van ’n duidelike en vaste prosedure en die moontlikheid van arbitrasie. Daar is ook voorsiening gemaak vir ’n vaste “Judicial Code Commission” wat uit nege lede bestaan en wat die Sinode oor appèlle en klagtes moet adviseer (Judicial Code of Rights and Procedures, art 22-24, in Engelhard & Hofman 2001:191-192).
Die Ned Geref Kerk self het in sy huidige Kerkorde prosedures waarmee daar gewerk word in die geval van kerklike prosesse, te wete arbeidsgeskille, appèlle, tugondersoeke en die beslegting van geskille (KO 1998, art 12, 23, 58-64; Riglyne vir die beslegting van kerklike geskille [Riglyn 1[).
Reeds die heel eerste Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika (1824) het ’n “Algemeen Reglement voor het Bestuur de Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika” opgestel. Die vyfde afdeling van die Algemene Reglement was “een Reglement op de uitoefening van Kerk. Opzigt Tucht”. In dieselfde afdeling is daar ook bepalinge betreffende geskille en appèlle (Dreyer 1936:223 ev). Dat die dokumente nie die gevolg was van diepgaande teologiese besinning oor prosedures in die kerk nie blyk al uit die titel van die Algemene Reglement wat bloot net daarna verwys dat dit ’n dokument vir die bestuur van die kerk is. Die doel van die tug word ook net aangedui as “de handhaving van den Godsdienst, byzonder der Hervormde Leer en de Zuiverheid van zeden ...” (Dreyer 1936:223).
Toe die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk in 1962 vir die eerste keer sedert 1862 gekonstitueer het, is daar nie ’n Tugreglement in die nuwe Kerkorde opgeneem nie. In 1974 is daar egter weer ’n Reglement vir die Uitoefening van Tug en die Beslegting van Geskille as ’n afsonderlike reglement in die Kerkordebundel opgeneem. In 1998 is daar weggedoen met ’n afsonderlike reglement vir die uitoefening van tug en die beslegting van geskille. Die bepalings van die reglement is by wyse van besluite direk ná die onderskeie Kerkorde-artikels gepubliseer. By dieselfde Algemene Sinode van 1998 is daar ook baie meer uitgebreide besluite oor appèlprosedures by artikel 23 van die Kerkorde ingevoeg en is daar ook Riglyne vir die Beslegting van Geskille in die Kerkordebundel opgeneem. ’n Baie belangrike toevoeging tot die Kerkorde van 1998 was ’n heeltemal nuwe artikel 12 met gepaardgaande besluite wat handel oor die wyses waarop die band tussen predikante en ander werknemers van die kerk en die betrokke kerkvergaderinge losgemaak kan word. Hier is daar telkens noukeurige prosedurereëls uitgespel. By die Algemene Sinode van 2002 is die prosedurereëls vir amptelike tugondersoeke as artikel 63 in die Kerkorde as sodanig opgeneem (Kerkorde van die Ned Geref Kerk 2002).
Voortgaande teologiese besinning het die kerk in 2002 ook daartoe gebring om eksplisiet by artikel 2 van die Kerkorde te verklaar: “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk reël sy eie interne orde op grond van sy onvervreembare roeping en interne bevoegdheid as kerk van Jesus Christus en ook op grond van sy reg tot vryheid van godsdiens,” terwyl daar by artikel 23 wat handel oor appèlle ’n artikel 23.2 bygevoeg is wat die volgende bepaal: “Lidmate, ampsdraers en amptenare van die Nederduitse Gereformeerde Kerk mag hulle nie tot die burgerlike hof wend in hulle beswaar teen kerkvergaderinge se besluit(e) nie, voordat hulle nie éérs die kerklike middele tot hulle beskikking aangewend en uitgeput het nie.” Nadat die opsig- en tugbevoegdheid oor ampsdraers in 1998 net aan kerkrade toegeken is in ’n poging om die burgerregtelike aanspreeklikheid van meerdere vergaderinge te probeer verminder, het die Sinode van 2002 uit ekklesiologiese oorwegings en op grond van die gewaarborgde reg tot vryheid van godsdiens besluit om meerdere vergaderinge weer eens by die opsig en tug oor ampsdraers te betrek.
Die prosedurereëls van die Ned Geref Kerk bevat nie eksplisiete bepalings ten opsigte van die verskuldigde regte van individue in kerklike prosesse nie. Die meeste van die regte word egter wel vervat in die bepalinge van die onderskeie prosedures. Tot in hierdie stadium laat die kerk nie toe dat partye verteenwoordig kan word in kerklike prosedures nie. Daar kan egter wel adviseurs vir die betrokkenes optree. Dit blyk dat daar steeds ruimte is vir verdere navorsing en teologiese besinning oor die aard en inhoud van prosesse en prosedures in die kerk.
5. TEN SLOTTE
Toegepas op reg in die algemeen skryf Calligan die volgende oor prosedures: “If justice is the first virtue of law and politics, then procedural justice is an essential element in its attainment. For no matter how good and just the laws and political principles supporting them may be, without suitable procedures they would fail in their purpose” (Calligan 1996:xviii). Uit die voorafgaande het dit hopelik geblyk dat wat hier gesê word van reg in die algemeen in die besonder ook van die regsprosesse en prosedures in die kerk geld. Prosesse en prosedures in die kerk is inderdaad nie net irrelevante tegniese aangeleenthede wat niks met geloof en vervulling met die Heilige Gees te doen het nie. “Om reg te doen” en aan mense hulle verskuldigde reg te gee is ’n wesenlike opdrag aan die kerk wat toegewyde teologiese arbeid en die daadwerklike uitvoering daarvan vra.
BIBLIOGRAFIE
Barr, James 1990. Biblical Law and the Question of Natural Theology, in Veijola, Timo (red). The Law in the Bible and its Environment. Publications of the Finnish Exegetical Society 5. The Finnish Exegetical Society in Helsinki. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
Berkouwer, G C 1972. De Kerk II. Kampen: J H Kok.
Braulik, G 1998. Deuteronomy and Human Rights, in Skrif en Kerk, Jrg 19 (2).
Britz, R M 1991. In die tug moet dit méér om Christus se Heerskap gaan, minder om rëëls. Die Kerkbode 13 September 1991.
Büchsel, H 1965. Krino, in Kittel, G. Theological Dictionary of the New Testament Vol III. Vertaler en redakteur: George W Bromiley. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans Publishing Company.
Brueggemann, W, Parks, S & Groome Thomas H 1986. To Act Justly, Love Tenderly, Walk Humbly. An Agenda for Ministers. New York, Mahwah: Paulist Press.
Coertzen, P 1991. Gepas en ordelik. ’n Teologiese verantwoording van die orde vir en in die kerk. RGN-studies in Metodologie. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria.
Coertzen, P 2002. Freedom of Religion and Religious Education in a Pluralistic Society. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif Vol 43, no 1 & 2:185-196.
Coppens, E C 1991. Rechtsbescherming Vroeger, in H Warnink. Rechtsbescherming in de Kerk. Werkgroep Nederlandstalige Canonisten. Leuven: Peeters.
De Jong, J 1918. Verklaring van de Kerkenordening van de Nationale Synode van Dordtrecht van 1618-1619. College-voordrachten van prof F L Rutgers over Gereformeerde Kerkrecht. Deel IV, art 71-86, Van de Censuur en Kerkelijke Vermaning. Rotterdam: Libertas Drukkerij.
De Ridder, R R 1994. Manual of Christian Reformed Church Government. Grand Rapids, Michigan: CRC Publications.
Dreyer, A 1936. Boustowwe vir die geskiedenis van die Nederduits Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika Deel III, 1804-1836. Uitgegee deur die Jaarboekkommissie van die Raad van die Nederduits Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Nasionale Pers Bpk.
Engelhard, David, H & Hofman, Leonard J 2001. Manual of Christian Reformed Church Government. 2001- hersiening. Grand rapids, Michigan: CRC Publications.
Galligan, D J 1996. Due Process and Fair Procedures. A Study of Administative Procedures. Oxford: Clarendon Press.
Golden, Paul L 1988. Administrative and Judicial Procedures, in Swidler L J & O’Brien, Herbert. A Catholic Bill of Rights. Kansan City MO: Sheed & Ward.
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 1996. Wet 108 van 1996.
Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1998, met gepaardgaande reglemente en besluite van kerkregtelike aard. Wellington: Hugenote Uitgewers.
Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met Reglemente, Kerkordelike Riglyne en Funksionele besluite soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Oktober 2002. Wellington: Lux Verbi-BM.
Laetsch, T 1965. Bible Commentary. The Minor Prophets. Saint Louis Missouri: Concordia Publishing House. Nauta, D 1971. Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: J H Kok. Kraus, Hans-Joachim 1989. Psalms 60-150. A Commentary. Vertaal deur Hilton C Oswald. Minneapolis: Augsburg.
Sadler, T H N 1979. Die Kerklike Tughandeling. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Stevens, P 1991. Ecclesia Sancta Simul et Purificanda. Op zoek naar verdere rechtsbescherming van de gelovige in de Kerk, in Warnink, H. Rechtsbescherming in de Kerk. Leuven: Peeters.
Tomson, Peter J 1990. Paul and the Jewish Law: Halakha in the Letters of the Apostle to the Gentiles. Assen/Maastricht: Van Gorcum; Minneapolis: Fortress Press.
Scanlon, T M 1977. Due Process, in Pennock, J Roland & Chapman, John W (reds). Due Process. New York: New York University Press.
Van Dellen, I & Monsma M 1968. The Revised Church Order Commentary. A Brief Explanation of the Church Order of the Christian Reformed Church. Grand Rapids, Michigan: Zondervan Publishing House. Van der Woude, A S 1977. Micha. Nijkerk: G F Callenbach BV.
Vondenberger, Sr Victoria 1996. Effective Due Process is Possible in the Church, in Studia Canonica, 30.