Die erediens as ’n omvattende kunswerk – as Gesamtkunstwerk
ABSTRACT
The worship service as an encompassing work of art – as Gesamtkunstwerk
In the course of history the focus regarding the senses has shift constantly. The liturgy in the early church was a spontaneous event where all the senses played an integrated role. During the Middle Ages the visual of the sacrament became over-emphasised at the cost of the sonic event, where choirs performed but the congregation did not take part in the singing. The visual, sacramental aspect was also over-emphasised at the cost of the cognitive aspect. During the Reformation the sonic event of singing and the cognitive aspect of understanding were rediscovered, but in the post-Reformation period the cognitive aspect became over- emphasised at the cost of the visual, as well as sonic aspects. In this article an appeal is made for an imaginative church service where all aspects of human experience and all dimensions of art are creatively integrated into a Gesamtkunstwerk – an encompassing experience through which a totally new universe is opened up.
Human beings require both “sound” and “sense” to complete their understanding of reality. We are neither pure mathematical intellects nor pure “sense” or “sound” users; having transformed the brain’s pure mathematical logic into scripts that “say” and scores that “sound”, we then seek to unite the two into fully satisfying rituals celebrative of the whole human experience (Hoffman 1988:265).
1. INLEIDING
Die erediens in die reformatoriese kerke word dikwels uitgelewer aan uiterstes – enersyds aan dié van liturgiese geyktheid, en andersyds aan dié van eindelose eksperimentering sonder vaste punte of hooftemas. Alhoewel die verwagtings van lidmate uiteenlopend is en daar by baie ’n aandrang op liturgiese vernuwing en eksperimentering bestaan, is daar ook ’n sterk verwagting dat die erediens ’n vertroude afloop moet hê. Empiriese studies het aangetoon dat die erediensbesoeker verlang na ’n singewende sentrum (Daiber et al 1978:97). Slegs wanneer daar genoegsame oriëntering en sekerheid ten opsigte van die afloop van die erediens bestaan, kan die erediensganger hom/haar volledig in die gebeure van die erediens inlaat of oorgee (Daiber 1992:15). Mense kom dus na die erediens met verwagtings van gebeure wat sin maak en wat sin gee. Die erediensgebeure maak ook eers werklik sin binne ’n bepaalde mate van orde – wanneer al die handelinge, spreke, tekste, beelde en musiek sinvol by mekaar aansluit.
Die eenheid van die erediens waarin alle sintuie en handelinge gesamentlik ’n rol speel om die evangelie te kommunikeer, is deur die eeue telkens bedreig deur eensydige klemtone. Die reaksie teen eensydighede het dikwels oorreaksies en nuwe eensydighede tot gevolg gehad. In hierdie artikel word die (oor)beklemtoning van sekere aspekte in verskillende tydvakke bespreek en die gevolge daarvan vir die erediens aangetoon. Die belang van ’n hegte eenheid word beklemtoon, sodat die volle omvang van sien, hoor, praat, doen, gevoel en verstand ter sprake en “tot spreke” kom, en die gawes van soveel lidmate moontlik benut word. Die erediens moet as ’n Gesamtkunstwerk ingerig word met ’n eenheid van spreke, musiek, beeld, kuns, poësie en fisieke handelinge.
2. VANAF DIE VROEË KERK NA DIE MIDDELEEUSE LITURGIE: DIE VISIO OORBEKLEMTOON
Die byeenkoms van die gelowiges in die vroeë kerk was ’n spontane byeenkoms, waartydens die handelinge wat uitgevoer is ook spontaan geskied het. Daar was nie ’n duidelike onderskeid tussen sang en spraak soos ons dit vandag ken nie – die sang was waarskynlik ’n soort praatsang. Die ouditiewe omgewing as geheel het dus baie verskil van die huidige. Die handeling van die nagmaal was in die vroeë kerk ook ’n spontane gemeenskapsmaal waar geloof deur die visuele handeling sigbaar ervaar en bely is. “Early Christian worship was as much a sonic as an optic event” (Foley 1992:5). Daar was ’n ongebroke eenheid tussen praat en sing, tussen praat en sien. Geloof is deur die volle sintuiglike ervaring van hoor, praat, sien, voel en doen ervaar. Dit was byeenkomste waar elkeen iets kon bydra ooreenkomstig sy/haar gawes (vgl 1 Kor 14:26).
Met verloop van tyd het hierdie eenheid versteur geraak en geleidelik het die gelowiges in die erediens al hoe meer passief begin raak. Die visuele aspek is geleidelik meer beklemtoon en later ook oorbeklemtoon, deur indrukwekkende katedrale, uitermate versierde kerkgeboue met ’n oormaat beelde en ander visuele elemente. Die visuele aspek van die nagmaal is ook oorbeklemtoon sodat veral die sien van die offer die belangrikste geword het. Liturgiese agteruitgang in die Middeleeuse liturgie waarteen die Hervormers veral beswaar gemaak het, kan soos volg saamgevat word (vgl Hustad 1994:221-222):
• Die liturgie van die Woord het min betekenis. Die Woordverkondiging tree in die agter- grond – die kerklike taal, Latyn, is onverstaanbaar vir die gewone mense. Die priester staan boonop met die rug na die gemeente, sodat hy in elk geval nie duidelik gehoor kan word nie. Die handeling van luister word minder belangrik.
• Die nagmaal word ’n offerhandeling met mistieke krag. Daar word terugbeweeg na die Ou-Testamentiese offergedagte en die tafel word met die altaar vervang. Die priester doen alles – hy gebruik selfs nagmaal namens die gemeente en die gemeente neem slegs die handeling waar: “The congregation’s devotion was focused on the host itself, on seeing the offering of the sacrifice ...” (Hustad 1994:222). Die aktiewe handeling van fisieke deelname aan die tafel word vervang met die handeling van “passiewe” waarneming.
• Sang deur kore word oordrewe en ingewikkeld – die gemeente verstaan nie die tekste nie en dikwels nie die musiek nie. Die gemeente self sing nie meer nie.
• Die gemeente word gereduseer tot passiewe toeskouers: hulle neem nie deel aan gebede, geloofsbelydenisse, skuldbelydenisse of met spontane uitroepe nie. Alles word as magiese gebeure gesien en so gaan die verskillende handelinge se betekenis- moontlikhede verlore.
3. DIE HERVORMING – DIE AUDIO VERAL BEKLEMTOON
Die verhaal word vertel van die stadskriba van Lemgo wat deur sy burgemeester, ’n aanhanger van die “ou geloof”, na die groot stad gestuur is om te gaan kyk wat hulle daar met die geloof doen. Toe die skriba terugkom met die berig: “Hulle almal sing reeds!”, het die burgemeester geantwoord: “Ag, dan is alles verlore!” (Möller 1995:4-5 – eie vertaling).
Hierdie verhaal is ’n illustrasie daarvan dat die Hervorming ’n beweging was wat veral singend onder die volk deurgevoer is. Ein neues lied wir heben an – so lui die eerste reël van die eerste Lutherlied (1523/24) waarmee die Hervorming as sangbeweging begin het. Musiek het deur die loop van die geskiedenis deurgaans ’n belangrike rol in die Christelike kerk gespeel. Ook rondom die tyd van die Reformasie het die clerus in die gemeentes en die schola in die kloosters opgetree en het die tydsgebede ’n geordende verloop met onder meer psalmsang gehad. Möller (1995:14) toon aan dat dit veral die dwang en wetmatigheid van hierdie sang was wat deur Luther gekritiseer is. Die rede waarom die volk in die handeling van die mis eintlik geen lus gehad het om te sing nie, en deur die clerus en schola bedien moes word, is geleë in die klem wat die kerk op die offerhandeling geplaas het – dit waarmee die klerici plaasvervangend vir die hele volk versoening moes bewerkstellig: “Das Volk wohnt stumm diesem Geschehen bei, dessen Höhepunkt die Elevation der Hostie und die visio des Volkes ist, dem die Hostie mit den Worten gezeigt wird: Hoc est corpus Christi” (Möller 1995:14).
Die offergebeure kon deur die sang slegs versier en geïntensiveer word, omdat die offergebeure in wese visuele of visionêre gebeure was. Sang by die offerhandeling was slegs van sekondêre belang. Die gemeente wat hulle in sang uitdruk, was dus veral die hoorbare kenmerk van die Reformasie, téénoor die gemeente in die Roomse mis wat bykans in stilte op die aanskoue van die verhoogde offer gewag het. Die groot onderskeid wat met die Reformasie teweeggebring is, is dat die gemeente aktiewe deelnemers geword het. Die klem het nie meer op die klerici gelê nie, maar op die hele gemeente wat moes doen. Vir Luther veral het dit ook nie ’n radikale wegbeweeg van die visuele dimensie beteken nie, maar eerder ’n herstel van die ouditiewe dimensie: die hoor van die Woord, en die wedersydse sing en hoor van die lied.
Luther se kritiek op die “ou” lied was dat dit sonder die Woordverkondiging geskied het. “Darum, wenn nicht Gottes Wort gepredigt wird, ist’s besser, daß man weder singe noch lese noch zusammenkomme ... wie bisher in Klöstern und Stiften geschehen, wo sie nur die Wände angeblökt haben” (Luther, in Möller 1995:5). Die nuwe in die “nuwe lied” was die samehang van sang en verkondiging. Zwingli en Calvyn se aandrang op Godskennis en selfkennis in die spieël van God se Woord was ’n daad van Aufklärung waardeur die volk mondig moes word en tot handeling moes kom (vgl Knellwolf 1989). Dat hierdie daad egter nie onvoorwaardelik tot nuwe sang gelei het nie, blyk by Zwingli wat van mening was dat die handeling van cognitio deur die sang versteur sou word. By Calvyn moes die sang met verstand en matigheid geskied, om juis die handeling van die cognitio nie in gevaar te stel nie. “Die besondere geskenk aan die mense is tog dat hulle kan sing in die wete wat hulle sê. Hart en gevoel moet die verstand navolg, wat egter nie moontlik is, as ons die lied nie in ons gedagtes ingeprent het nie” (Calvyn, in Jenny 1983:224 – eie vertaling).
Vir Luther is die wonder wat ons oë bied veel geringer as die wonder wat ons met die ore waarneem (Luther, WA 49:352). Dit gaan vir hom in die eerste plek om die audio, wat die eintlike bron van Singen und Sagen, dit is sang en spreke is. Die Heilige Gees begin sy werking deur die hoor, en die geloof kom deur die gehoor tot stand. In die gehoor as die oorspronklikste van alle sintuie, gryp die evangelie die mens so diep dat die Heilige Gees hom/haar tref as hemelse musiek – op so ’n wyse dat die mens gewoon nie anders kan as om daarvan te sing en te spreek nie.
4. DIE NA-REFORMATORIESE TYDVAK – DIE COGNITIO OORBEKLEMTOON
In die na-Reformatoriese tydvak is die gesproke woord as verkondiging oorbeklemtoon. Daar is slegs op die gesproke woord staatgemaak en mense is geleer om beelde en simbole diepgaande te wantrou (vgl Volp 1991:283; Marti 1989:12-13). Musiek is ook ingegrens tot ideaal-tydvakke, soos die Middeleeue, Reformasie en Barok, en is in die huidige eeu weer uitgelewer aan die vereistes van verstaanbaarheid en singbaarheid. Wanneer daar egter ’n versteuring kom tussen die cognitio, die audio en die visio, en die een verwaarloos word, soos in die huidige kerklike praktyk veral ten opsigte van die visio gebeur (vgl Kloppers, W C 1997:107-130) en waar ’n ander oorheers, soos tans ten opsigte van die cognitio gebeur, kom die geloof self in die gedrang.
Singen und Sagen sind notwendiger Ausdruck des Glaubens, der aus dem Hören lebt. Singend ist der Glaube in seinem Element, nämlich im Element des Evangeliums, das zugleich ins klare, elementare Sagen drängt und das Singen davor bewahrt, sich bloß in der Ekstase oder im Rausch zu verlieren. Beide müssen beieinander bleiben, das Singen und das Sagen. Beide müssen auch an der Quelle bleiben, nämlich im Hören des Evangeliums (Möller 1995:15 – my kursivering).
Die samehang van visio, cognitio en audio as volle medewerkers aan die omvattende geloofservaring moet weer deur die teologie ontdek word. ’n Horende sing kan die oë nuut laat oopgaan vir die visio van die sakrament en kan die verstand helder maak vir kennis van God en van die self. ’n Teologie wat die innerlike samehang met musiek verloor het, is volgens Luther sinloos, omdat dit nie meer die geheimenisvolle samehang van sing en sê, sang en spreke, erken nie. Sing en sê moet bly by die bron, naamlik die hoor van die evangelie.
5. DIE LITURGIE AS GESAMTKUNSTWERK
Die begrip Gesamtkunstwerk is veral deur die komponis Richard Wagner ten opsigte van die (musiek)drama geyk. Daarmee is die samespel van alle aspekte van musiek, klank, spreke, beeld, lig, handeling en dies meer tot eenheidswerk getipeer. Hierdie idee begin reeds in die laat agtiende en negentiende eeue ontwikkel as reaksie op die radikale outonomie van kuns as sodanig en die skerp onderskeiding tussen die kunsgenres van die moderne – ’n reaksie dus op die versplintering, ontworteling, desintegrering en Heimatlosigkeit as gevolg van die modernisme (Borchmeyer 1995:1282-1289). Die idee en die begrip is dus, as ’n reaksie op die modernisme, in sekere sin “postmodernisties”. Die begrip Gesamtkunstwerk hou egter ook verband met die sisteemfilosofie (Behne 1998:989-990) – dít wat deur die postmodernisme met agterdog bejeën word. Vanuit die postmodernisme blyk die beginsel en idee van die Gesamtkunstwerk dus ten opsigte van sekere kenmerke aanvaarbaar, en ten opsigte van ander weer onaanvaarbaar. Dit sluit egter aan by die gegewe dat die postmodernisme nie eenduidig beskryf kan word nie (vgl Hambidge 1995:78). In sekere gevalle is die postmodernisme ’n reaksie op en teen die modernisme, en in ander gevalle is dit die radikale deurvoer van aspekte van die modernisme tot in die verste konsekwensies. Tendense van die postmodernisme (teenoor sisteemfilosofieë en eenheidsdenke) is fragmentasie, diskontinuïteit, die afwesigheid van ’n singewende sentrum, ’n uitbreek uit gevestigde waardes en strukture, die bevraagtekening van transendensie, sekerheid, binding, samehang en eenheid (Hutcheon 1988:57; Van Zyl 1996:3). Hierdie postmodernistiese eienskappe van fragmentasie, diskontinuïteit, versplintering en dies meer is egter óók kenmerke van die modernisme – dít waarteen daar juis gereageer is met die idee en die begrip Gesamtkunstwerk, soos aangetoon (vgl Borchmeyer hier bo).
Alhoewel die begrip Gesamtkunstwerk vanweë die assosiasie met sisteemfilosofieë en eenheidsdenke dus in ’n mate in onguns verval het, kan die saak steeds funksioneer as alternatief en reaksie op sekere radikaal-modernistiese tendense binne die postmodernisme – veral waar die erediens ter sprake kom. Die afwesigheid van ’n singewende sentrum, fragmentasie, disintegrering, diskontinuïteit, versplintering, die bevraagtekening van transendensie en ’n gebrek aan diepere waarheid of verwysingskrag, is immers aspekte wat onversoenbaar is met die inherente aard en bedoeling van die erediens. Dit gaan in die erediens juis om die oordra van diepere waarhede, om ’n singewende sentrum, eenheid, kontinuïteit en ander aspekte wat hiermee verband hou.
Teenoor huidige tendense in die inrigting van eredienste, waar lidmate dikwels nie weet wat die rigting en afloop van die erediens gaan wees nie (en hulle dus nie volledig kan “inlaat” nie); waar eindelose eksperimentering plaasvind; waar eenheid, binding, sentrum en struktuur ontbreek; waar geen oorhoofse en oorkoepelende temas bestaan nie; waar musiek en tekste lukraak bymekaargegooi word; waar die moontlikhede van verkondiging deur ’n veelheid van kunsvorme ontken word; waar “kuns” verwater tot ’n veelheid van massamedia en mass art clips; waar die kunsgestalte (die können) van die erediens besig is om verlore te gaan, en waar die erediens mass entertainment geword het, pleit teoloë toenemend vir die herwinning van die kunsgestalte van die erediens, vir Leitmotive – eenheidstemas waardeur sentrum en ’n hegte struktuur verkry kan word – en vir die benutting van alle kunsvorme, asook die (kuns)vermoëns of gawes van alle lidmate, sodat die evangelie in haar volle omvang sinvol en singewend verkondig kan word.
Die begrip Gesamtkunstwerk kry dus in die teologie en in die besonder in die liturgiewetenskap nuwe (en dringender) betekenis. Hauck (1978) bepleit teenoor die enkelwetenskappe (wat, soos hier bo aangetoon is, in die moderne skerp uitgekristalliseer het) ’n Zusammenschau van alle kunste en handelinge, sodat die kerkgebou en die kultusartikels, die wyses van Woordverkondiging, die handelinge en die musiek – sodat deur al hierdie aspekte gesamentlik die kunsvolle gestalte van die erediens in geheel spreek:
Am Gottesdienst, wo das Kirchengebäude und die Kultgeräte, die Arten der Wort- verkündigung, die Handlungen und die Musik, das Miteinander von Priester und Gemeinde, die Kunstaussage des vom Gesamtkunstwerk der Liturgie erfüllten Raumes erst das Ganze ausmachen, wird offenbar, wie fragwürdig es ist, seine Bestandteile den Einzelwissenschaften zu überlassen und die gebotene Zusammenschau nicht zu erreichen (Hauck 1978:405 ev – my kursivering).
Bastian (1991:349) bepleit, in aansluiting by Hauck, ’n verskeidenheid én eenheid van religieuse kommunikasievorme. Die vraag na die samespel van kunsvorme en ander media ontwyk in groot mate nog die teologiese probleemhorison. Enkeldissiplines delf gekompliseerde insigte uit tekste, liturgieë, kunsbeelde, preekteorieë, ensovoorts, maar ’n Zusammenschau van religieuse kommunikasievorme word nie bereik nie. Volgens Bastian is die Gesamtkunstwerk van die vroeë Middeleeue (voor die skeeftrekkings van die laat Middeleeue) nie deur die Reformasie ter syde gestel nie, maar omgebou – en wat die gemeentelied en die Gutenberg-tegniek betref, selfs uitgebou. Hy pleit dat argitektuur en liturgie, prediking en Bybel, beeld en musiek as mediale kontekste verstaan en weergegee word in die samewerking van alle elemente in die Gesamtkunstwerk van die Christelike erediens. “Die God van die Bybel vra sekerlik nie net na die ore nie, maar ook na die oë, die voet en die hand ... Wanneer hierdie dubbelbeeld/eenheidskou herwin word, kom die vergete Doppelverkündigung van woord en beeld na vore” (vgl Bastian 1991:351).
Teks, beeld, kuns, musiek en stilte vorm ’n “dubbelverkondiging” deur ’n verskeidenheid moontlikhede van uitdrukking en ervaring. Die herontdekking van die beeldende/visuele kuns en liggaamlike simboolhandelinge in die laaste tyd het ook daartoe bygedra dat die postulaat van die Liturgie as Gesamtkunstwerk weer na vore getree het (vgl ook Kloppers, W C 1997:23-50, 66-127, 366-372). Met die herontdekking van die terapeutiese en simboliese dimensie van musiek is weer die kommunikatiewe handelingsfunksie van musiek in die erediens ontsluit (vgl Kloppers, E C 1997). Kuns in sy verskeidenheid van vorms is, soos teologie en godsdiens, wyses waarop daar aan die werklikheid duiding gegee word, waarop die werklikheid “uitgespreek” word. Kuns en musiek kom ook dáár ter sprake (tot spreke) waar geloof ter sprake (tot spreke) kom – dit is ’n spreekvorm van die geloof.
Die erediens as die kultiese handeling van ’n gemeenskap van mense is in sigself die kunsvorm van die geloof (vgl Hahne 1991). Dit is ’n kompleks van vorme wat betekenis buite hulleself om dra en wat verlede, hede en toekoms in ’n kreatiewe spanning omsluit. Die kuns (en daarby inbegrepe die erediens as kunsvorm) het ’n katarsiese dimensie wat daarin geleë is dat ’n komplekse samespel van kommunikatiewe en kontemplatiewe tekens ervaar word, wat ruimte (speelruim) vir die outentieke ervaring bied en waaruit ’n integrasie van moontlike boodskappe tot Gesamtkunstwerk volg. Deur die kuns en die erediens “as kuns” kry ons ’n nuwe perspektief op die werklikheid. ’n Kunsvolle inrigting van die liturgie kan die verbeelding prikkel en tot nuwe geïnspireerde en verbeeldingryke verstaan van tradisionele simbole aanleiding gee. “We should see liturgy as an art form and truth as an artistic construct. What we need now is greater attention to art as a proper, indeed divine, goal of liturgical life” (Hoffman 1988:123, 148). ’n Nuwe liedboek aan die begin van die nuwe eeu kan hopelik ook daartoe bydrae dat die reformatoriese ideaal van die samehang van audio, visio en cognitio opnuut ontdek word.
6. PRAKTIESE MOONTLIKHEDE
In die Liedboek van die Kerk (2001) is ’n groot verskeidenheid nuwe lied- en liturgiese vorme opgeneem wat die geleentheid bied tot ’n baie meer kreatiewe en kunsvolle inrigting van die erediens tot ’n Gesamtkunstwerk. Moontlikhede vir meerdere deelname en betrokkenheid word gebied wat tot dusver onbekend was in die Afrikaanse reformatoriese kerke. Benewens nuwe vorme, soos akklamasies en response, die gebruik van (’n verskeidenheid) voorsangers in afwisseling met die gemeente en kanons (waar ’n gemeente meerstemmig kan sing), is daar ook liedere wat uitstekend as “prosessieliedere” vir die kantory, kerkraad of kinders kan funksioneer. Hierdeur word die geleentheid gebied dat lidmate ook op meerdere wyses kan deelneem en hulle gawes geakkommodeer kan word.
Soos aangetoon, is vastigheid en sekerheid in die erediens belangrik. Vir die erediensganger om hom/haar volledig in die gebeure van die erediens in te laat of hom/haar daaraan oor te gee, moet daar genoegsame oriëntering en sekerheid ten opsigte van die verloop en afloop van die erediens bestaan. Hierdie oriëntering kan prakties gebied word deur ’n gedrukte liturgie in die hand. Deur middel van ’n gedrukte liturgie kan die erediensbesoeker onmiddellik ’n oorsig kry van die tema en subtemas, van dít wat in die erediens gaan gebeur en van dít wat van hom/haar verwag gaan word. Sodoende kan die lidmaat hom/haar reeds voorberei op besondere handelinge én op die saak wat te berde sal kom. Die voordeel van ’n gedrukte liturgie is dat die liturgie veel meer spontaan kan verloop, sonder voortdurende aankondigings (marching orders – vgl Wolterstorff 1992:273). Op ’n gedrukte liturgie kan die tekste van die votum, seëngroet en selfs gebede gegee word. Dit beteken dat die response ook effektief kan funksioneer – spontaan, maar beplan, en sonder aankondiging. Op ’n gedrukte liturgie kan die visuele voorstellings en bepaalde handelinge verduidelik word en die verband tussen liedere en tekste uitgewys word, sodat lidmate vooraf reeds die omvattende betekenis van die liturgiese gebeure en ruimte waarin hulle hulle bevind, kan verstaan.
Met enkele voorbeelde word aangetoon hoe ’n veelheid van liedvorme, liggaamlike handelinge en uitbeeldings kan meewerk om ’n eenheidswerk te vorm. In die liturgie vir Hervormingsondag 2002 het ons die klem op die ekumeniese aspek laat val – die reformatoriese kerke is immers steeds deel van die een, heilige, algemene Christelike kerk. Die oorkoepelende tema was die voortgang van die evangelie oor die hele wêreld en die boodskap wat altyd nuut (reformerend) verkondig moet word. Daar is naas die orrel van verskeie musiekinstrumente gebruik gemaak. So is die meerdere gawes van lidmate en veral jongmense benut. Die gebruik van meerdere gawes is uitgebrei deur ’n kantory wat bestaan het uit lede van Bybelstudiegroepe wat liedere gesing het wat die gemeente nog nie goed geken het nie. Hierdie funksie kan vanselfsprekend deur ’n afgeronde koor vervul word, maar deur juis van ad hoc-groepe gebruik te maak word daar by lidmate die bewussyn gekweek dat elkeen se gawes erken en gebruik word – verskillend by verskillende geleenthede. ’n Verdere vorm van liggaamlike handeling is ook verkry deur die funksionering van ’n intog- en uittoglied: die kantory met die instap en die volle gemeente met die uitstap (Lied 160 en Lied 317). Die toeligting op die liturgie, die motivering om spesifiek in dié erediens van ’n uittoglied gebruik te maak, was die volgende: Die gemeente stap singend uit. Dit is simbool van die onafgebroke gebed, lofsang en verkondiging wat verder gedra word, die wêreld in. Om verwarring te voorkom met te veel gelyktydige handelinge is die liedere in dié geval nie in kanon gesing nie. Die geloofsbelydenis is wel in kanon gesing (Lied 179). Deur die meerstemmigheid van die kanon is die omvattendheid van die geloofsbelydenis deur verskillende groepe en stemme en van mense oor die wêreld, aangedui.
Die liturgie is omraam deur ’n oggendlied (Lied 556) aan die begin en ’n aandlied (Lied 567) aan die einde. Daarmee is die voortdurende verkondiging en voortgang van die evangelie uitgebeeld: van die oggend tot die aand. In die teks van die slotlied is dit nog meer uitgebreid weergegee: ook van oos na wes. Op die liturgie is die volgende as toeligting by die slotlied (Lied 567) gegee: ’n Ekumeniese lied as simbool van die Christendom oor die hele wêreld wat onafgebroke, soos die son wat opkom en ondergaan, sy Naam bely. God slaap nooit – Hy luister na almal se liedere en gebede. Die teks van die lied is konkreet uitgebeeld deur die sirkelbeweging van die sang: van oos na wes en weer terug – onophoudelik word God se lof verkondig. Op die liturgie is dit só aangedui:
Slotsang Lied 567 Die dag wat U, o Heer, gegee het ...
Oosteblok Die dag wat U, o Heer, gegee het is nou verby, die nag kom aan;
soos U ons môrelied ontvang het, neem nou ons naggebed ook aan.
Middelblok Dieselfde son wat hier aan ‘t kwyn is, bring oor die see weer oggendlig –
voortdurend klink deur mensestemme ’n bede of ’n lofgedig.
Westeblok Soos sonder einde son en skemer steeds om die hele aarde gaan,
so sing en bid ons broers en susters
waar hul ook al voor U kom staan. (Ps 19:3-5)
Oosteblok Ons dank U, Heer, dat U nie slaap nie, by U bly dit voortdurend dag;
terwyl dit donker hier by ons is,
hou U deur heel die wêreld wag. (Ps 121:3-4)
Almal U trou staan vas – net aardse ryke laat onderdane in die steek;
u ryk brei uit en groei voortdurend,
tot u Dag groots in glorie breek. (Ps 46:7)
Die betekenis van die erediens is visueel uitgebeeld deur ’n kunswerk teen die muur wat ’n sonsopkoms en -ondergang gesuggereer het – die sikliese gang van die wêreld, maar in besonder die (voort)gang van die evangelie oor die wêreld. Die voorstelling was ook op die liturgie afgedruk. Hierdie visuele aspek het natuurlik naas die visuele van die beweging met die intog en uittog en dit wat saamgeval het met die beweging van klank in die slotlied, gefunksioneer. Soos in die aangetoonde voorbeeld is die verband met sekere psalmtekste in die liedere aangedui – in aansluiting by ooreenstemmende psalmlesings in die liturgie. Daarmee is die belang van die Psalms as binding aan die tradisie van die Bybel en as belangrike ekumeniese simbool beklemtoon. Juis die ekumeniese aspek noodsaak dit dat Psalms ook in meerdere vorms gebruik word, en nie in verstarde, eensydige vorms, soos dikwels in die gereformeerde kerke as die enigste moontlikhede gesien word nie. Die verskillende wyses waarop die Psalms in die liturgie ontsluit kan word, kan groot betekenis vir die erediens as Gesamtkunstwerk hê. Hierdie moontlikhede moet nog omvattend ontgin word (vgl Kloppers 2002:55).
Musiek- en beeldgeletterdheid, ’n aanvoeling vir poësie, toepaslike retoriek en liggaamlike sensitiwiteit (’n bewussyn van gepaste liggaamstaal/-houding) is ’n sleutel vir liturgiese kom- petensie. Liturge moet ’n bewuste, kritiese omgang met taal, begrippe, beelde en musiek hê (vgl Bieritz 1989:123; Marti 1994:266). Om die erediens as eenheidswerk, as kunswerk in te rig, vereis deeglike beplanning. Hierdie beplanning moet gedoen word ooreenkomstig die Kerkjaar en hoogtepunte in die gemeente. Alhoewel elke erediens ’n kunswerk behoort te wees kan die groot feesdae as die swaartepunte dien waarop die erediens as omvattende Gesamtkunstwerk ingerig word.
7. SAMEVATTING
Mense kom na die erediens met verwagtings ten opsigte van dít wat sin maak en wat sin gee. Die erediensgebeure maak eers werklik sin binne ’n bepaalde mate van orde en wanneer al die handelinge, spreke, tekste, beelde, musiek en stilte sinvol en verbeeldingryk by mekaar aansluit. In die erediens as kunsvorm word die geloof op ’n besondere wyse verklank én sigbaar uitgebeeld. Deur die omgang met alle kunsvorme kan “spreekruimte” geopen word, ruimte geskep word vir die outentieke “tot spreke kom” van die geloof. Wanneer al die menslike sintuie en ervaringsdimensies in die erediens dus geïntegreerd met alle dimensies van kuns in ’n Gesamtkunstwerk “ter sprake” kom, word daar ruimte vir die kreatiewe geloofservaring geskep en word ’n heelal gevorm wat voorheen nie bestaan het nie – ’n heelal van orde, ’n gans ander gebied: die heelal van God ...
... ritual’s power lies in its artistic capacity to present an alternative world where time and space unfold in structured ways indicative of pattern, plan and purpose – despite the temptation to view the world as random, chaotic and accidental ... At its best, ritual is the experience of pattern. In content and form it imposes order.
Together sense and sound create a universe that did not exist beforehand ...
(Hoffman 1988:155, 265 – my kursivering).
BIBLIOGRAFIE
Bastian, H 1991. Auge und Ohr, Sehen und Hören: Eine Revision theologischer Mediendidaktik, in Zilleßen et al, 339-352.
Behne, K-E 1997. Musikästhetik, in Finscher, L (Hrsg). Musik in Geschichte und Gegenwart, Sachteil 6. Kassel: Bärenreiter, 989-990.
Bieritz, K-H 1989. Predigt-Kunst? Poesie als Predigt-Hilfe, in Valtink, E (Hrsg). Sperrgut Literatur. Plädoyer für ein Spannungsverhältnis von Literatur und Theologie. Hofgeismarer Protokolle 261/1989, 101-128.
Borchmeyer, D 1995. Gesamtkunstwerk, in Finscher, L (Hrsg). Musik in Geschichte und Gegenwart, Sachteil 3. Kassel: Bärenreiter, 1282-1289.
Daiber, K-F, Dannowski H, et al 1978. Gemeinden erleben ihre Gottesdienste. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus.
Daiber, K-F 1992. Gottesdienst unter den Bedingungen der gegenwärtigen Gesellschaft. Für den Gottesdienst 39/40, 9-20.
Finscher, L (Hrsg) 1995 & 1997. Musik in Geschichte und Gegenwart, Sachteile 3 & 6. Kassel: Bärenreiter.
Foley, E 1992. Foundations of Christian music: The music of pre-Constantinian Christianity. Nottingham: Grove.
Hahne, W 1991. De arte celebrandi, oder: von der Kunst Gottesdienst zu feiern: Entwurf einer Fundamentalliturgik, 2. Aufl. Freiburg iB: Herder. Hambidge, J 1995. Postmodernisme. Pretoria: J P van der Walt.
Hauck, K (Hrsg) 1978. Frühmittelalterliche Studien. Jahrbuch des Instituts für Frühmittelalter-forschung der Universität Münster, 12. Band. Berlyn: De Gruyter.
Hoffman, L A 1988. The art of public prayer: not for clergy only. Washington: Pastoral Press.
Hutcheon, L 1988. A poetics of postmodernism. Londen: Routledge.
Hustad, D P 1994. Music of the Reformation, in Webber, R E. The complete library of Christian worship. Vol 4: Music and the arts in Christian worship. Nashville: Star Song, 221-227.
Jenny, M 1983. Luther, Zwingli, Calvin in ihren Liedern. Zürich: TVZ.
Josuttis, M 1991. Der Weg in das Leben: Eine Einführung in den Gottesdienst auf verhaltenswissenschaftlicher Grundlage. München: Kaiser.
Kloppers, E C 1997. Liturgiese musiek as kommunikatiewe handeling in ’n postmoderne era. DTh-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.
Kloppers, E C 2002. “Woorde in die mond gelê?” Psalmomdigting en die proses van kanonvorming. Acta Theologica 22/1, 42-56.
Kloppers, W C 1997. Die kommunikatiewe vermoë van die parateks van kerkpublikasies. DTh-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.
Knellwolf, U 1989. Die Musik im reformierten Gemeindegottesdienst, in Musik in der evangelisch- reformierten Kirche: eine Standortbestimmung. Institut für Kirchenmusik der Evangelisch-Reformierten Landeskirche des Kantons Zürich, 45-86.
Liedboek van die Kerk 2001. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Luther, M 1883. Werke. Kritische Gesamtausgabe. Weimar: Weimarer Ausgabe (WA).
Marti, A 1989. Geleitwort, in Musik in der evangelisch-reformierten Kirche: eine Standort-bestimmung, 9-14. Zürich:TVZ.
Marti, A 1994. Verordnet aus dem Volk? Kirchengesang zwischen Herrschaftsinstrument und Mittel der Emanzipation. Musik und Gottesdienst 1, 6-16.
McKim, D K (ed) 1992. Major themes in the Reformed tradition. Grand Rapids: Eerdmans.
Möller, C 1995. Ein neues Lied wir heben an. Der Beginn des reformatorischen Singens im 16. Jh. und die Einführung eines Evangelischen Gesangbuches am Ende des 20. Jh. Referat beim zweiten ökumenischen und interdisziplinären Seminar zum Kirchenlied, Kloster Kirchberg.
Van Zyl, I 1996. Wat is postmodernisme nou eintlik? Bylaag by Nasionale Koerante, 6 Maart 1996.
Volp, R 1991. Ästhetik als Anfrage gegenüber einer Kirche in der Defensive. Beobachtungen zum Gestaltungsproblem der Religion, in Zilleßen et al, 277-294.
Webber, R E 1994. The complete library of Christian worship. Vol 4: Music and the arts in Christian worship. Nashville: Star Song.
Wolterstorff, N 1992. The Reformed liturgy, in McKim, D K (red). Major themes in the Reformed tradition, 273-304. Grand Rapids: Eerdmans.
Zilleßen, D (Hrsg) 1991. Praktisch-theologische Hermeneutik, Ansätze – Anregungen – Aufgaben. Rheinbach- Merzbach: CMZ Verlag.