Emosies en die uitdrukking van emosies in die Ou Testament
ABSTRACT
Emotions and the expression of emotions in the Old Testament
The subject of emotion is a largely neglected topic in biblical studies and deserves extensive treatment. If one glances, for example, through the indexes and tables of contents of Old Testament encyclopedias and monographs on its theology, one searches in vain for a contribution on “emotion/emotional expressions”. Emotions are, however, such fundamental characteristics of human nature that no culture, including that of the Hebrew Bible, can be fully comprehended without also taking cognisance of this central feature of humankind. This contribution (1) surveys and evaluates some of the studies that have been published up to now on this subject field. It furthermore illustrates (2) what interesting results may be gained when emotions such as shame and distress (depression) are approached in terms of certain insights from the disciplines of cross-cultural psychology and fear from the perspective of cognitive anthropology.
1. INLEIDING
Die tema van emosies het tot nou toe nie veel aftrek by Bybelgeleerdes gekry nie. Dit gaan tog, sou sommige redeneer, in die Bybel oor teologie en dan word sulke eg menslike aangeleenthede soos emosies maar afgeskeep. Dit is daarom ook nie vreemd wanneer ’n mens deur die indekse van Bybelensiklopedieë of monografieë oor die teologie van die Bybel blaai, dat verwysings na, of inskrywings oor, emosies maar bra dun gesaai is nie. Emosies is egter so ’n fundamentele aspek van menswees dat geen kultuur, ook nie dié van die mense van die Bybelse tye, na behore verstaan kan word as daar nie ook kennis geneem word van hierdie belangrike menslike faset nie. Op bykans elke bladsy van die Bybel lees ons van menslike emosies. Reeds aan die begin van die Bybel, waar die verhaal van die skepping van die mens vertel word, verneem ons van “skuld” en “skaamte” (Gen 3:8). ’n Bietjie later (Gen 4) word vertel dat Kain baie “kwaad” was en dat “sy kop (letterlik vertaal) gehang het” (v 5), wat deur sommige verstaan word as ’n toestand van depressie1
Die rede dat die aspek van emosies ’n lang tyd in die menswetenskappe, waaronder ’n mens ook die teologie sou kon insluit, nie die aandag gekry het wat dit verdien nie, is omdat die gevoelsfeer gesien is as deel van die mens se irrasionele, onkontroleerbare sy, wat nie waardig is om bestudeer te word nie. Daarteenoor staan die verstand wat beskou word as die setel van die rasionele en kontroleerbare. Hieraan is ’n veel hoër waarde toegeken. Gelukkig het hierdie stand van sake in die laaste paar dekades verander en het die studie van emosies in die dissiplines van die sielkunde, antropologie, biologie en filosofie baie sterk op die voorgrond getree. Emosies is nie ’n negeerbare aanhangsel tot menswees nie, maar ’n integrale aspek daarvan. Ook in die Bybelwetenskappe is daar ’n hernude sensitiwiteit vir die belang van emosies te bespeur. Een voorbeeld hiervan is ’n onlangse boek van die twee Switserse Ou-Testamentici, Schroer en Staubli (1998). Hulle bestudeer sekere Bybelpassasies en maak op grond van die beskrywing van nieverbale handelinge en simboliese uitdrukkingsvorme ’n rekonstruksie van die mens se belewing van sekere sentrale emosies.
Schroer en Staubli se studie is egter voorafgegaan deur ’n aantal studies wat op ’n indirekte wyse op emosies in die Ou Testament gefokus het. Ek sê “indirek” omdat in nie een van dié titels die begrip “emosie” pertinent genoem word nie. Die eerste studie in dié verband is die een van Dhorme (L’emploi métaphorique des noms de parties du corps en hébreu et en akkadien 1923) wat met sy analise van die metaforiese verwysing na liggaamsdele baie interessante afleidings in verband met emosies maak. ’n Ander, ook baie leesbare studie van min of meer dieselfde tyd (1926), wys op die noue samehang tussen “soul and body” (Pedersen se Israel, its Life and Culture). Die eerste werklike studie op die gebied van Ou-Testamentiese emosies is die een van Wolff (Anthropologie des Alten Testaments 1977). Hy bied dit aan as ’n “antropologie”. Wolff, synde ’n teoloog, het, soos ’n mens sou kon verwag het, na die tema van emosies vanuit ’n teologiese gesigshoek gekyk. Dis dan ook nie onverwags dat hy juis as gevolg van hierdie benadering skerp kritiek van Schroer en Staubli ontlok het nie. Hulle beskuldig hom naamlik van “teologiese vakblindheid” (“theologische(r) Betriebsblindheit” – Schroer & Staubli 1998:125).
As ’n mens die invalshoek met betrekking tot die studie van emosies in die Ou Testament tot by Wolff moes opsom, sou die uitspraak wat Johnson gemaak het oor die samehang tussen sekere liggaamsdele en die ervaring van emosies die stand van die navorsing tot in daardie stadium (1973) baie goed saamvat. Hieroor sê Johnson die volgende: “… the various members and secretions of the body, such as the bones, the heart, the bowels, and the kidneys, as well as the flesh and blood, can all be thought of as revealing psychic properties” (1949:88).2 Ook die studie van Schroer en Staubli hoort in sekere sin nog tuis in hierdie paradigma. As ’n mens egter psigologies na die verskynsel van emosies kyk, behels dit meer as net die feit dat die ervaring van sekere emosies met sekere liggaamsdele verbind kan word. Word ’n psigoloog soos Parkinson se basiese definisie van emosies ernstig opgeneem, is die hoofaspekte van enige emosie die volgende: “... appraisal of the situation, bodily response, facial expression, and changes in action readiness” (1994:503). Die lokalisering van emosie in sekere liggaamsdele is daarom net een faset van ’n baie meer omvattende emosionele ervaring.
Wat die Ou Nabye Oosterse wêreld betref, is sekere van die nieverbale uitdrukkingsvorme van emosies op ’n insiggewende manier deur Gruber bestudeer (Aspects of Nonverbal Communication in the Ancient Near East 1980). Sy studie het egter ’n beperkte fokus. Hy bestudeer hoofsaaklik die ekspressievorme van vreugde, woede en wanhoop. Vergelyk ’n mens hierdie spektrum van emosies met die tipologie van ’n psigoloog soos Izard (1977), wat tien universele basiese emosies identifiseer (verwondering, vreugde, belangstelling, wanhoop, vrees, woede, afkeur, smaad, skaamte en skuld), is dit duidelik dat die studie van emosies, wat die Ou Testament betref, nog in ’n vroeë stadium is.
Emosies kan vanuit verskillende hoeke bestudeer word. ’n Mens sou dit op ’n evolusionistiese wyse, soos deur Darwin voorgestel het, kon benader. In terme van hierdie teorie word emosies verstaan as menslike response op herhaalde uitdagings vanuit die omgewing waarin die mens ’n stryd voer om te oorleef. Aan die een kant berei emosies die mens voor om op maniere te reageer wat sy/haar kans op oorlewing verhoog. Aan die ander kant het emosies ook ’n kommunikatiewe funksie, naamlik om aan ander mense jou diepste gevoelens bekend te maak. Weer eens staan die gedagte van oorlewing op die voorgrond (Hinton 1999:3). In ’n onlangse artikel van die Ameri- kaanse geleerde Smith (1998) maak hy hierdie “internal maintenance function” van emosies van toepassing op die psalmtaal en kom tot die volgende insiggewende gevolgtrekking. ’n Mens moet dit lees teen die agtergrond dat daar seker geen ander Ou-Testamentiese literêre korpus is (behalwe miskien die boek Klaagliedere) waarin daar ’n groter konsentrasie van emosionele gemoed- stemminge gevind word as juis in hierdie boek nie. Smith sê: “In short, emotions are not part of an interior world of feeling separate from external communication to others. Instead, emotions play a larger role in communicating to others and preparing the self for action. Applied to ancient Israelite cult, emotions expressed in prayer convey the speakers’ pain and joy to the community and God. The emotions expressed in the Psalms help those who pray move toward appropriate action” (Smith 1998:436).
’n Mens sou egter ook emosies vanuit ’n fisiologiese perspektief kon benader. Dit behels dat daar gefokus word op die liggaamlike belewing van emosies. Geleerdes wat in hierdie tradisie staan, redeneer dat emosies ten beste verstaan kan word indien die biologiese prosesse wat daarmee saamhang, ondersoek word (Hinton 1999:4).
Emosies sou voorts ook in terme van ’n kognitiewe raamwerk ondersoek kon word. Die kognitiewe tradisie kan teruggevoer word na Aristoteles. Hoewel hy die fisiologiese aspek in emosies erken, is hy van mening dat die kognitiewe element (opvattings wat emosies vergesel) primêr is. Om byvoorbeeld die emosie van woede na behore te verstaan, sê hy, moet daar vasgestel word (1) wat die gemoedstoestand van woedende mense is, (2) wie die mense is teen wie die woede gerig is en (3) wat die rede vir die woede is (Hinton 1999:6). Een van die vertakkings van die kognitiewe benadering tot emosies is die teorie van kognisie soos verteenwoordig deur Lakoff en Kövecses (1995; sien ook Kövecses 1990). Hulle opereer met die beginsel dat die metafore en metonimieë, met betrekking tot sekere emosiewoorde in die taal-/literêre skat van gegewe kulture, die fisiologiese belewing van daardie spesifieke emosie getrou reflekteer. Nadat hulle die kognitiewe strukture van woede in Amerikaanse Engels ondersoek het, maak hulle die volgende afleiding: “... if we look at metaphors and metonymies for anger in the languages of the world, we will not find any that contradict the physiological results” (Lakoff & Kövecses 1995:220).
Uit hierdie paar algemene opmerkings behoort dit duidelik te wees dat die ondersoekveld van emosies baie opwindend is en dat ’n mens verskillende brille kan opsit om na hierdie interessante sy van menswees te kyk. In die volgende paar opmerkings wat ek gaan maak oor emosies in die Ou Testament, gaan ek aansluit by die fisiologiese en kognitiewe tradisies. As ’n mens Izard (1977) gelyk gee dat daar minstens tien basiese menslike emosies is, is dit duidelik dat daar in die bestek van so ’n artikel net na enkele aspekte daarvan gekyk kan word. Ek wil graag in hierdie artikel, onder meer, aantoon dat insigte uit die kruiskulturele psigologie en kognitiewe antropologie baie sinvol aangewend kan word om sekere emosies in die Ou Testament beter te verstaan. Vooraf word daar egter ’n paar opmerkings oor die beskrywing van Goddelike emosies gemaak. Te dikwels word emosies net met mense geassosieer. Wat die Bybel betref, is dit nie heeltemal waar nie. Daarin vind ons ook aangrypende beskrywings van God se emosies.
2. “MY LIEFDE BRAND TE STERK”: OOR GODDELIKE EMOSIES IN DIE OU TESTAMENT
Een van die eerste verwysings wat in die Ou Testament aangetref word in verband met ’n Goddelike emosie, is in Genesis 6:6 waar God na die sondeval die uitspraak maak dat dit Hom“berou” (nḥm) het dat Hy die mens gemaak het. As gevolg hiervan voel Hy “diep seergemaak”.3 Dieselfde Hebreeuse wortel (nḥm, “om berou te hê/om jammer te wees oor”) wat in Genesis 6:6 met berou in verband gebring word, word in Hosea 11:8 weer eens met God verbind. In ’n onvergelyklike beskrywing oor wat in God se hart gebeur wanneer Hy dit oorweeg om die oordeel oor Efraim-Israel af te kondig, bedwing Hy sy voorneme met die woorde: “My hart is omgekeer in my. My liefde/medelye (nḥwmym) brand te sterk.” In sy studie oor die berou van God in die Ou Testament, maak Jeremias die volgende treffende opmerking oor hierdie uitspraak: “Maar nou vind daar egter onverwags ’n geveg plaas waaraan Israel geen deel het nie, want die lokaliteit daarvan is God se eie ‘hart’. Teenoor God se gloeiende toorn, stel ’n ander mag homself op, wat ewe sterk ‘brand’, maar wat dapper teenoor God se toorn stelling inneem: God se niḥûmîm” (1975:54; my vertaling uit die Duits).4
God kan egter ook lag en dan veral met genoegdoening oor die val van die goddelose (Ps 2:4; 37:13; 59:9; vgl. Korpel 1990:170). ’n Ander emosie wat om verstaanbare redes dikwels met God geassosieer word, is toorn. Van die 714 gevalle waarin die verskillende begrippe vir “toorn/woede” in die Ou Testament voorkom, verwys 518 na die Goddelike toorn en ’n skrale 196 na die woede van mense (Baloian 1992:5).
Daar is egter sekere gemoedstoestande wat nooit met God verbind word nie. God kan nooit in wanhoop verval en rou nie. Vergelyk in teenstelling hiermee die kleurryke routoneel van die Kanaänitiese hoofgod El as hy verneem van die dood van Baäl: “Daarna het Latipan, die genadige god, van sy troon afgekom en op die voetstoel gaan sit en van die voetstoel het hy op die grond gaan sit. Hy het strooi wat sy rou simboliseer op sy kop gestrooi ... as kleed het hy ’n lendedoek aangetrek, Hy het (sy) gesig met ’n klip gekrap en die baard met ’n skeermes” (Ugaritiese teks KTU 1.5 VI 11-18; vir die vertaling, vgl Kruger 1995:172).
Voorts word vrees nooit by die God van Israel gevind nie. Daarteenoor beleef die Kanaänitiese godin ‘Anatu vrees op ’n eg menslike wyse: “Look! ‘Anatu saw the two gods, with her the feet began to totter, at her back, the spine loosened, her face began to sweat, the joints of her spine shook, the small of her back too” (Teks KTU 1.3 III 29-32; vertaling is gedoen deur De Moor 1987:10). Ook skaamte en skuld is eg menslike emosies wat nooit met God in verband gebring word nie.
3. EMOSIES IN DIE OU TESTAMENT IN KRUISKULTUREEL-PSIGOLOGIESE PERSPEKTIEF
3.1. Skaamte
Hier bo is verwys na die belangrike studie van sekere emosies deur Gruber (1980). Gruber grond sy ondersoek op ’n sentrale beginsel in die kruiskulturele psigologie wat sy oorsprong by Darwin het en wat opereer met die beginsel dat daar sekere eienskappe is wat mense universeel met mekaar deel. Een hiervan is die belewing van sekere emosies. Gruber pas dan hierdie beginsel toe op sy studie van die emosies van vreugde, toorn en wanhoop in die kulture van die Ou Nabye Ooste. In hierdie paragraaf sal aangedui word dat die beginsel ook interessante resultate kan lewer wanneer dit van toepassing gemaak word op die emosie van skaamte, ’n emosie wat nie deur Gruber behandel word nie.
Die emosie van skaamte was van deurslaggewende belang in die beskawings van die Ou Nabye Ooste waarvan die Bybel ook deel was.5 Deist het in sy boek The Material Culture of the Bible: An Introduction, wat postuum gepubliseer is (2000), insiggewend geskryf oor die sosiale funksie van die emosie van skaamte in die ou kulture. Skaamte was in daardie kulture ’n kragtige maatreël om mense te forseer om sekere sosiale kodes te gehoorsaam. Daar was niks erger as om beskaam te word nie: “To be ‘shamed’ is to be ‘ostracized’, gossiped about and jeered at” (Deist 2000:293; sien ook Botha 1998, 2002).
Die huidige bespreking handel oor hoe die emosie van skaamte beleef is en nie wat die sosiale funksie daarvan was nie. In ’n onlangse publikasie (1999) oor skuldervaring vat die Duitse Egiptoloog, Assmann, die onderskeie belewingsvorme van die tweelingemosies, skuld en skande, baie goed saam. Hy sê: “Skuld gaan nie weg nie, dit hoop net op6 en dit moet, soos daar gesê word,
gedelg word. Met skande is dit anders: skande ontstaan deurdat dit sigbaar word. Skande sluit twee aspekte in: die oortreding en die blik van die ander. Kom die oortreding nie aan die lig nie, word skande nie ervaar nie. Skuld word egter ook daar ervaar waar dit nie blootgelê word nie” (Assmann 1999:106; my vertaling). Daar kan daarom verstaan word dat skuld en skaamte twee heeltemal teenoorgestelde psigologiese reaksies by die mens ontlok: die een wat skaamte ondervind, vrees blootstelling, terwyl die mens wat ’n skuldgevoel beleef ’n behoefte daaraan het.
Let ’n mens op die ervaring van skuld, veral in die Psalmboek, is dit duidelik dat dit laasgenoemde ervaring (verlange tot openbaarmaking) by die bidder bewerk. Vergelyk byvoorbeeld die volgende uitspraak van die psalmdigter (Ps 32:5) oor sy skuldervaring: “My sonde het ek U bekend gemaak en my ongeregtigheid het ek nie weggesteek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely. U het my sondige ongeregtigheid vergewe.” Voorts is “guilt, unlike shame … a legal concept” (Taylor 1986:57). ’n Persoon is skuldig as hy sekere wette, wat van ’n menslike of Goddelike oorsprong kan wees, oortree. Met ander woorde, skuld word altyd ervaar as skuld teen iemand. Weer is daar treffende Bybeltekste wat hierdie nuanse van skuld reflekteer: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë” (Ps 51:6); “Hoe kan ek hierdie groot sonde doen en so teen God sondig” (Josef in Gen 39:9).
’n Derde inherente bestanddeel van die skuldervaring is die behoefte om te herstel of reg te maak wat verbrou is: “He cannot wipe it (die skuld – PAK) out, for what is done is done. But by paying in some way he can make up for it” (Taylor 1986:62). Ook van hierdie innerlike drang tot restitusie in die belewing van skuld is daar voorbeelde in die Bybel. Een van die mooiste voorbeelde is seker die storie van Saggeus in Lukas 19: “Ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug” (v 8).
Skande/skaamte, daarenteen, “kan ’n mens nie deur berou en ’n verbeterde insig regmaak nie” (Assmann 1999:107; my vertaling). Taylor (1986:60) sê ook tereg: “Neither punishment nor forgiveness can here perform a function.” Die mens bloos nie as gevolg van ’n skuldbewussyn nie. Dit gebeur wanneer hy skaamte ervaar. Dan “keer hy in homself” omdat hy “skaam voel teenoor/voor ander”. Ook die sielkundiges Piers en Singer, in hulle klassieke onderskeid tussen skaamte en skuld, benadruk die verskil in belewenis tussen hierdie twee emosies: “Whereas guilt is generated whenever a boundary (set up by the superego) is touched or transgressed, shame occurs when a goal (presented by the ego ideal) is not being reached. It thus indicates a real shortcoming” (Piers & Singer 1953:11). As skaamte dan ervaar word as ’n gevoel van verleentheid (“a real shortcoming”) omdat iets verkeerds gedoen is, sou ’n mens, in terme van die basiese definisie van emosie soos deur Parkinson voorgestel (“Emotional reactions typically include four of the following components: appraisal of the situation, bodily response, facial expression, and changes in action readiness”, 1994:503), kon verwag dat sodanige emosie in die een of ander liggaamlike reaksie gemanifesteer word. Darwin, die grondlegger van die studie van nieverbale kommunikasie, het die volgende te sê oor die gewaarwording van skaamte: “Under a keen sense of shame there is a strong desire for concealment. We turn away the whole body, more especially the shame, which we endeavour to hide in some manner” (1872:322). ’n Ander sielkundige, Tomkins, dui presies aan in watter liggaamsdeel die ervaring van skaamte die sterkste gekonsentreer is: “... awareness of the face by itself is an integral part of the experience of shame” (1962:133).
Indien hierdie inligting uit die sielkunde in verband gebring word met daardie Ou-Testa- mentiese passasies waarin daar sprake is van skaamte, lewer dit die volgende resultate op (sien Kruger 1996):
1. In gevalle waar hierdie emosie ervaar word (bv 2 Sam 19:6; 2 Kron 32:21; Esra 9:7; Jer 2:37; 7:19; 14:3-4; 31:19; 48:39; 51:51; Eseg 7:18; Dan 9:7, 8), word die omstandighede wat tot die skaamte gelei het in ’n negatiewe lig beskou: die vereiste standaard is nie bereik nie (vgl die definisie hier bo).
2. In lyn met die psigologie van skaamte is die gesig die lokus waar hierdie emosie sigself manifesteer (2 Sam 19:6; Jer 51:51; Eseg 7:18).7 In ses gevalle (2 Kron 32:21; Esra 9:7; Ps 44:16; Jer 7:19; Dan 9:7, 8) word daar met behulp van ’n genitiefverhouding eksplisiet melding gemaak van “die skaamte van die gesig”. Dit verwys nie soseer na “openbare skande” (“öffentliche Schande”), soos Klopfenstein (1972:35) voorstel nie, maar eerder na “a heightened self- and face-conciousness” (Tomkins 1962:133, 144).
3. Soos reeds aangedui, lei die ervaring van skaamte tot liggaamlike aksies wat primêr daarop gerig is om weg te kom van die situasie wat die skaamte veroorsaak het, of toevlug word geneem tot die een of ander vorm van verberging. Die volgende aksies in die Ou Testament kan vertolk word as pogings wat tipies daarop gemik is om die sigbaarheid van die gesig te verminder: “om die rug te draai vanweë skaamte” (Jer 48:39; sien ook 14:3)8, “om die kop met die hande te bedek” (Jer 2:37)9, “om die gesig afgewend te hou” (Esra 9:6). Dikwels word hierdie emosie, wat jou oorval en jou as‘t ware “toedek”, in die Psalms beskryf in terme van klere-beeldspraak: “om met skaamte bedek/beklee te wees” (35:26; 44:16; 69:8; 71:13; 109:29; 132:18).
3.2. Depressie
’n Onlangse artikel oor depressie in die Ou Testament (1998) deur die bekende Finse Ou- Testamentikus Veijola word soos volg deur hom opgesom:
Depression is too serious to be left to doctors and psychologists. It is wholly on a par with cancer, with the difference that depression remains a great mystery to medical science. It is impossible for another person to realize the pain brought on by a deep depression, and even the patient himself has a hard time putting it into words. It is despair beyond despair, a Hell on earth. The Old Testament contains many references to depression, proving that depression is not just an ailment of our times but a price that at least some people have had to pay for their life throughout the ages (1998:483).
Depressie het ’n bepaalde lyftaal wat Pfau (1994:10) soos volg teken: “Die lewensgevoel van depressie is wesenlik een van ‘om gedruk te wees’ (‘Depression’). Die liggaam van depressiewe mense bring dikwels tot uitdrukking wat hulle ervaar: bewegings is beperk, stadig en moeisaam.” Pfau gaan dan voort om uitvoerig aan te haal uit die boek van ’n psigiater Kuiper waarin laasgenoemde sy depressiewe toestand soos volg verwoord: “In die plek van lewensvreugde kom daar ’n martelende, duistere stemming ... die impuls om op die een of ander wyse aktief te wees, het vervaag. Die wêreld het sy kleur verloor, alles word grys; in uitsonderlike gevalle vervloek mense selfs hulle eksistensie en die dag van hulle geboorte. Dikwels gaan met hierdie ellende nog ’n martelende angsgevoel gepaard wat tot paniek kan ontwikkel en wat dikwels ondraaglik is. By sware depressie kom dikwels slaapsteurnisse voor en eetlus verdwyn” (Pfau 1994:10; my vertaling uit die Duits). Die Ou Testament teken vir ons ’n hele aantal van hierdie simptome van depressie.
3.2.1 Depressie word gemanifesteer in sekere liggaamshoudings/bewegings
Soos hier bo aangedui, kom depressie heel dikwels tot uitdrukking in bepaalde liggaamshoudings. In sy studie (1984) oor die wyse waarop emosies in liggaamshoudings tot uitdrukking kom, bied Espenschied die volgende fenomenologie van “Unlust” aan, waaronder depressie ook sou kon ressorteer: “Die afwaartse (liggaams)houding is oorheersend: die kop hang, die gesig word langer, die hande hang slap … Vandaar die verwarring met moegheid. Iemand wat tot die dood toe moeg is, is soos iemand wat rou. Die ontnugterde en neerslagtige persoon is weifelagtig in sy optrede, want lusteloosheid word ten eerste verraai deur ’n verlies in tempo; beweging word ingeperk en dit kan in ekstreme gevalle tot totale passiwiteit lei” (Espenschied 1984:99; my vertaling uit die Duits).
Wat die “afwaartse (liggaams)houding” betref, is daar talle voorbeelde in die Ou Testament wat hierdie gemoedsbelewing illustreer. Hier bo is reeds verwys na Kain wat sy gesig letterlik “laat hang het” (Gen 4:6). In die Psalms is daar verskillende passasies wat tekenend is van hierdie ineengekrimptheid as gevolg van die ervaring van depressie: “Ek dwaal rond soos iemand wat treur oor ’n moeder, ek is bedruk en inmekaar geboë (Ps 35:14); “Ek is krom en erg inmekaar geboë, die hele dag lank dwaal ek bedruk rond” (Ps 38:7)10 ’n Soortgelyke liggaamsgebaar, wat in dieselfde kategorie tuishoort, kom na vore by Elia tydens sy Karmel-ervaring (1 Kon 18). Na die episode met die Baälprofete word daar van Elia vertel dat hy “op die top van Karmel geklim het, hom op die grond neergebuig het en sy aangesig tussen sy knieë gedruk het” (v 42). Die beste verklaring vir hierdie liggaamshouding is nog steeds om dit te sien as ’n uitdrukking van ’n depressiewe toestand (vgl Gruber 1980:350-353, 598; Kruger 1989:62-63).
As verteenwoordigend van die “gevoel van totale passiwiteit” wat oor ’n mens spoel in so ’n toestand van diepe terneergedruktheid, kan gelet word op Dawid se reaksie met die afsterwe van die kind wat Batseba vir hom gebaar het: Hy “lê op die grond” (2 Sam 12:16). In soortgelyke omstandighede doen Agab die volgende: “Agab het op sy bed gaan lê, hy het sy gesig weggedraai en nie geëet nie” (1 Kon 21:4). Die boek Klaagliedere bevat ook talle verwysings na intense belewings van depressie. Dikwels word hierdie passiwiteit uitgedruk met die begrip “sit”: Sion “sit” (1:1), Juda “sit” (1:3) en die oudstes van die dogter van Sion “sit” (2:10).
Die toestand van depressie kan egter ook ’n omgekeerde uitwerking tot gevolg hê, naamlik “die onrustige/doellose ronddwaal”. Barré (2001:177) meld dat in ’n staat van depressie persone tekens kan toon van óf “psigomotoriese vertraging” (“psychomotor retardation”) óf “psigo- motoriese beweging” (“psychomotor agitation”). Hy gee vervolgens ’n lys van “psigomotoriese beweging” soos dit in die literatuur van die Ou Nabye Ooste na vore kom. Hierdie lys sluit die Soemeriese literatuur van die derde millennium vC in. Afgesien van Psalm 35:14 en Psalm 38:7, waarna reeds verwys is, noem Barré ook die volgende (2001:183-185): “Hoekom moet ek bedruk ronddwaal omdat my vyande my verdruk?” (Ps 42:10); “Ek dwaal bedruk rond, sonder sonlig” (Job 30:28); “Ek dwaal rond terwyl ek treur” (Ps 55:3). Soos te verwagte is, word voorbeelde hiervan ook in Klaagliedere aangetref: “Jerusalem onthou die dae toe sy geboë rondgedwaal het (in rou)” (1:7; sien ook 3:19).
Ook van “psigomotoriese vertraging” (“psychomotor retardation”) is daar minstens een voorbeeld in die Ou Testament. Vroeër is alreeds verwys na Agab wat in sy depressiewe toestand in totale passiwiteit verval het. Dat hy geneig was tot depressie, skemer ook later in die Nabot- storie (1 Kon 21) deur. Hierdie keer word dit egter gemanifesteer as “psigomotoriese vertraging” (“psychomotor retardation”). Die volgende word gesê: “Toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur, ’n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het met die sakkleed geslaap en ’aṭ rondgeloop” (v. 27). Die Hebreeuse woord ’aṭ word meestal gesien met verwysing na ’n toestand van bedruktheid (sien ook die nuwe Afrikaanse vertaling [NAV]), ’n betekenis wat in hierdie verband wel sin maak, maar wat nie vertolk wat daar letterlik in die Hebreeus staan nie. ’aṭ verwys na die wyse waarop water beweeg wanneer die oppervlakte redelik gelyk is, naamlik “stadig” (vgl Jes 8:6). Die beweging wat Agab dus hier uitvoer is ’n “stadige rondloop” (sien die ou Afrikaanse vertaling [OAV]) wat ’n aanduiding is van “psigomotoriese vertraging” as gevolg van ’n intense depressiewe toestand.
3.2.2 Depressie manifesteer in eet-, slaap- en ander steurnisse
Een van die vroegste bekende voorbeelde van ’n beskrywing van ’n depressiewe toestand word weergegee in ’n Akkadiese teks (BAM 3 234). Dit handel oor ’n persoon wat al sy besittings verloor het en wat as gevolg daarvan deur sy mense verwerp word (vgl die voorbeeld van Job). Die gevolg is depressie. Reël 4-9 van die teks lui soos volg:
He always gets melancholy, speaking but not acceptance, shouting but no answer, the cursing in the mouths of people is much, he is apprehensive when lying (in his bed), he contracts lameness … his body, towards god and king he is full of anger, his limbs are “poured out”, he is panicking from time to time, he does not sleep day and night, he always sees confused dreams, he contracts lameness all the time, he has little interest in food or beer, he forgets the words that he has spoken (Stol 1999:65).
Weer eens is die Psalmboek ’n bron waar verskeie soortgelyke depressiesimptome beskryf word: slapeloosheid, verlies van eetlus, gevoel van intense eensaamheid, ensovoorts. ’n Mooi voorbeeld hiervan is Psalm 102: “Ek voel uitgedroog en platgeslaan soos gras, ek het alle eetlus verloor. Vanweë my harde gesug het ek net vel en been geword. Ek is soos ’n pelikaan in die woestyn, soos ’n uil tussen murasies. Ek kan nie slaap nie; ek het geword soos ’n eensame voël op ’n dak” (vv 5-8). Job vertel van vergelykbare gewaarwordings in Job 7 en 30 (v 26-31). Van eetlusverlies in sodanige omstandighede lees ons ook by Elia (1 Kon 19:6, 7) en Agab (1 Kon 21:4-5).
3.2.3 Depressie word gemanifesteer in ’n negatiewe oordeel oor die lewe en die koestering van doodsgedagtes
In die fenomenologie van depressie waarna hier bo verwys is, is genoem dat hierdie toestand ’n mens kan laat verval in totale uitsigloosheid, in so ’n mate dat die eie geboortedag vervloek word. In die Ou Testament was daar minstens vier mense wat deur hierdie ervaring geteister is: Elia, Jeremia, Job en Jona. “Vervloek is die dag waarop ek gebore is, laat die dag waarop my moeder my in die lewe gebring het, nie geseënd wees nie. Vervloek is die man wat aan my vader berig gebring het: ‘Jy het ’n seun’, ’n berig wat hom baie bly gemaak het ... Waarom is ek gebore? Om moeite en kommer te beleef en my hele lewe lank verneder te word?” (Jer 20:14-20; vgl ook Job 3:3-12). Dat dit in hierdie omstandighede verkiesliker is om te sterf as om te leef word deur Elia (1 Kon 19:4) en Jona uitgespreek: “Laat ek nou maar sterf, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe” (Jona 4:3).
4. EMOSIES IN DIE OU TESTAMENT IN KOGNITIEWE VERBAND: ANGS/VREES AS VOORBEELD
Tot in hierdie stadium is daar oorwegend opmerkings gemaak oor die fisiologiese aspek van emosies, met ander woorde hoe dit beleef word. Die kognitiewe benadering van emosies sluit in ’n mate hierby aan, maar maak gebruik van ’n ander invalshoek. Dié benadering, soos gepropageer deur Lakoff en Kövecses (1995; sien ook Kövecses 1990), argumenteer dat die wyse waarop emosies in ’n gegewe taalkorpus beskryf word (in terme van metafore en metonimieë) nie kognitief neutraal is nie, maar dat dié informasie ’n betroubare refleksie is van die manier waarop sekere emosies in daardie spesifieke kultuur beleef is. Ek het die kognitiewe model van Lakoff en Kövecses in verband met woede en vrees/angs in Amerikaanse Engels van toepassing gemaak op die tekening van dieselfde emosies in die Ou Testament en het tot verrassende gevolgtrekkings gekom (sien Kruger 2000; 2001). Ek bied hier net die resultate van die toepassing van hierdie model aan (wat metonimieë betref) op laasgenoemde emosie (vrees/angs).
4.1. Die belewing van angs/vrees in die Ou Testament
Kövecses (1990:70-73) identifiseer die volgende reeks van metonimieë in verband met vrees in Amerikaanse Engels: (1) fisieke agitasie, (2) toename in hartklop, (3) bloed verlaat die gesig, (4) hare staan regop, (5) krieweling op die vel, (6) onvermoë om te beweeg, (7) val van liggaamstemperatuur, (8) onvermoë om asem te haal, (9) onvermoë om te praat, (10) onvermoë om helder te dink, (11) verloor van beheer oor die ingewande en blaas, (12) sweet, (13) senuagtigheid in die maag, (14) droogheid in die mond, (15) skree, (16) verwarde/verbaasde kyk en (17) impuls om te vlug. Word hierdie model van vreesbelewing op gegewens in die Ou Testament toegepas, blyk dit dat die meeste van hierdie metonimieë ook in hierdie korpus aangetref word. Van die sewentien metonimieë wat hier bo genoem is, is daar net drie (5, 7, 12) wat nie in die Ou Testament voorkom nie. Daar lees ’n mens nêrens dat iemand hom “koud skrik” nie (7), ook nie dat daar vanweë skrik “sweet op die gesig uitslaan” nie (12), ook nie dat iemand “hoendervleis” ondervind as gevolg van skrik nie (5). By verskeie geleenthede word daar egter melding gemaak van die fisieke agitasie as gevolg van die vreeservaring: “bewe” (Gen 42:28; Eks 19:16; 1 Sam 16:4, en ook dikwels op ander plekke), “sidder” (Eks 15:15; Ps 48:7; 55:6), “bibber van angs” (Eks 20:18; Jes 7:2), “knieë knak” (Nah 2:10; vgl ook Dan 5:6); die toename in hartklop (Job 37:1; Ps 38:11; Jer 48:21; 49:22), bloed wat die gesig verlaat (Nah 2:11; Dan 5:6, 9; Jer 30:6), hare wat orent staan (Job 4:14-15; Eseg 27:35), die onvermoë om te beweeg (Eks 15:16; Jes 13:7; Dan 10:8; Hab 3:16), asemnood (Jos 2:11; Dan 10:17), die onvermoë om ’n woord te uiter (Ps 48:6; Dan 10:15), die onvermoë om helder te dink (Jes 21:4; Dan 5:6)11, die verloor van beheer oor die funksie van die blaas (Eseg 7:17) 12, senuagtigheid in die maag (Jer 4:19), droogheid in die mond (Ps 22:16), ’n benoude kreet (Jer 4:31), ’n verwarde kyk (Jes 13:8) en ’n drang om te vlug (Ps 48:6; Jer 26:21).
5. AFSLUITING
In sy hoofstuk oor “Das geistige Bild des Hebräers” (1980:101 ev) sê die Duitse teoloog Köhler die volgende oor emosies in die Ou Testament: “In die algemeen kan daar opgemerk word dat die emosionele lewe van die Hebreër deur sterk opwellings en heftige gevoelens gekenmerk is” (1980:110; my vertaling uit die Duits). Dit wat Köhler hier van die Ou-Testamentiese mens sê, is waar van alle mense. Geen mens is sonder gevoelens nie en die Israeliete het nie noodwendig sterker emosies ervaar as ons vandag nie. Wat miskien wel waar is, is dat die Ou Testament te dikwels net teologies verstaan is en dat daar nagelaat word om ook deeglik kennis te neem van die mens en sy gevoelens waaroor hierdie versameling boeke inderdaad tog ook handel. Word hierdie mense daarom verstaan as mense van vlees en bloed met emosies net soos ons, begin dit moontlik raak om met hulle te assosieer. Ons eie emosionele en religieuse lewe kan in die lig van die voorbeelde wat daar beskryf word ’n nuwe dimensie kry. Baldermann (1993) praat in hierdie opsig, om maar een voorbeeld te noem, van die assosiatiewe krag van menslike emosies in die Ou- Testamentiese klaagpsalms. Hy sê dat sodanige beskrywings van intense menslike angs en ellende die moderne religieuse mens help om “sy eie angste tot taal te maak” (1993:44) omdat hierdie literêre genre ’n onuitputlike woorde- en beeldeskat daarvoor bied. Dieselfde sou gesê kon word van die vreugde-emosie wat insgelyks woorde/beelde soek om werklik taal te word. En waar vind ’n mens ’n meer geskikter en uitnemender bron hiervoor as juis die Ou-Testamentiese lofpsalms?
BIBLIOGRAFIE
Assmann, J 1999. Das Herz auf der Waage, in Scharbert, T & Assmann, J (Hrsg). Schuld, 99-147. München: Wilhelm Funk.
Baldermann, I 1993 (1988). Einführung in die Bibel. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
Baloian, B E 1992. Anger in the Old Testament. New York: Peter Lang.
Barré, M L 2001. “Wandering About” as a Topos of Depression in Ancient Near Eastern Literature and in the Bible. JNES 60/3, 177-187.
Bastian, T & Hilgers, M 1990. Kain – Die Trennung von Scham und Schuld am Beispiel der Genesis. Psyche 44, 1100-1112.
Botha, P J 1998. The “Enthronement Psalms”: A Claim to the World-Wide Honour of Yahweh. OTE 11(1), 24-39.
Botha, P J 2002. “The Honour of the Righteous Will be Restored”: Psalm 75 in its Social Context. OTE 15(2), 320-334.
Darwin, C (Darwin. F, red) 1872. The Expression of Emotions in Man and Animals. Londen: John Murray.
De Moor, J C 1987. An Anthology of Religious Texts from Ugarit. Leiden: Brill.
Deist, F E 2000. The Material Culture of the Bible: An Introduction. Sheffield: Sheffield Academic Press.
Dhorme, E 1923 (1963). L’emploi métaphorique des noms de parties du corps en hébreu et en akkadien. Paris: Librairie Orientaliste Geuthner.
Drewermann, E 1981. Strukturen des Bösen I. Verlag Ferdinand Schoningh: Paderborn.
Espenschied, R 1984. Das Ausdrucksbild der Emotionen. München: Ernst Reinhardt.
Gruber, M I 1980a. Aspects of Nonverbal Communication in the Ancient Near East. Rome: Biblical Institute Press.
Gruber, M I 1980b. Was Cain Angry or Depressed? Background of a Biblical Murder. BAR 6/6, 35-36.
Hinton, A L 1999. Introduction: Developing a Biocultural Approach to Emotions, in Hinton, A L (red). Biocultural Approaches to Emotion, 1-37. Cambridge: Cambridge University Press.
Isaac, E 1983. 1 Enoch, in Charlesworth, J H (red). The Old Testament Pseudepigrapha, Vol 1, 5-89. New York: Doubleday.
Izard, C E 1977. Human Emotions. Londen & New York: Plenum Press.
Jeremias, J 1975. Die Reue Gottes: Aspekte alttestamentlicher Gottesvorstellung. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.
Johnson, A R 1949. The Vitality of the Individual in the Thought of Ancient Israel. Cardiff: University of Wales Press.
Klopfenstein, M A 1972. Scham und Schande nach dem Alten Testament. Zürich: Theologischer Verlag.
Köhler, L 1980 (1953). Der Hebräische Mensch. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
Kövecses, Z 1990. Emotion Concepts. New York: Springer-Verlag.
Korpel, M C A 1990. A Rift in the Clouds: Ugaritic and Hebrew Descriptions of the Divine. Münster: Ugarit.
Kruger, P A 1989. On Nonverbal Communication in the Baal Epic. Journal for Semitics 1/1, 54-69.
Kruger, P A 1995. Some Further Indicators of Rank Symbolism in the Baal Epic. Ugarit-Forschungen 27, 169-175.
Kruger, P A 1996. The psychology of shame and Jer 2:36-37. Journal of Northwest Semitic Languages (JNSL) 22/2, 79-88.
Kruger, P A 2000. A Cognitive Interpretation of the Emotion of Anger in the Hebrew Bible. JNSL 26/1, 181-193.
Kruger, P A 2001. A Cognitive Interpretation of the Emotion of Fear in the Hebrew Bible. JNSL 26/2, 77-89.
Lakoff, G & Kövecses, Z 1995 (1987). The cognitive model of anger inherent in American English, in Holland, D & Quinn, N (reds). Cultural models in language and thought, 195-221. Sixth Edition. Cambridge: Cambridge University Press.
Laniak, T S 1998. Shame and Honor in the Book of Esther. Atlanta: Scholars Press.
Lapsley, J E 2000. Can These Bones Live? The Problem of the Moral Self in the Book of Ezekiel (BZAW 301). Berlin: De Gruyter.
Parkinson, B 1994. Emotion, in Colman, A M (red). Companion Encyclopedia of Psychology, 483-503. Londen: Routledge.
Pedersen, J 1926 (1943). Israel, its Life and Culture. Londen: Oxford University Press.
Pfau, B 1994. Körpersprache der Depression. Stuttgart: Schattauer.
Piers, G & Singer, M S 1953. Shame and Guilt: a Psychoanalytic and Cultural Study. Springfield: Charles Thomas.
Röhser, G 1987. Metaphorik und Personifikation der Sünde. Tübingen: Mohr.
Scarry, E 1992. Der Körper im Schmerz. Frankfurt: Fischer.
Schroer, S & Staubli, T 1998. Die Körpersymbolik der Bibel. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
Smith, M S 1998. The Heart and Innards in Israelite Emotional Expressions: Notes from Anthropology and Psychobiology. JBL 117/3, 415-426.
Stol, M 1999. Psychosomatic Suffering in Ancient Mesopotamia, in Abusch, T & Van der Toorn, K (reds). Mesopotamian Magic, 57-68. Groningen: Styx Publications.
Taylor, G 1986. Guilt and Remorse, in Harré, R (red). The Social Construction of Emotions, 57-73. New York: Blackwell.
Tomkins, S 1962. Affects, Imagery, Conciousness, Vol 2. New York: Springer.
Veijola, T 1998. Nöyrtyminen Jumalan edessä: rohkeutta elämään (Humility before God: Gaining the Courage to Live). Teologinen Aikakauskirja 103, 483-490.
Wolff, H W 1977 (1973). Anthropologie des Alten Testaments. Derde uitgawe. München: Kaiser Verlag.
1 Sien bv Gruber (1980b). Die OAV (1953- Afrikaanse vertaling) bied hier ’n letterlike vertaling aan (“hy het sy kop laat hang”), terwyl die NAV (1983- Afrikaanse vertaling) dit weergee met “en hy was bedruk”. Ander sien weer in hierdie gebaar van Kain ’n uitdrukking van skaamte (Bastian & Hilgers 1990). In terme van ’n psigo-analitiese uitgangspunt interpreteer Drewermann (1981:124) dit as ’n uitdrukking van trots en selfingekeerdheid.
2 Sien ook die studie van Wolff (1977) wat in hierdie verband aandag gee aan die “siel”, die “vlees”, die “gees”, die “hart” en die “ingewande” (lewer, gal, niere).
3 Die NAV se “Dit het Hom diep gegrief” laat ’n belangrike element van die belewing van die emosie van smart weg, naamlik dat dit baie dikwels ’n “fisieke” kant het. Omdat die emosie van smart so ’n intense emosie is, kan die mens dit volgens Medvei (vgl sy 1949-boek Mental and Physical Effects of Pain, soos aangehaal deur Scarry 1992:28) baie dikwels net in “dit voel vir my asof”-metafore beskryf. Sekere metafore in dié verband benoem die oorsaak (die agent/wapen) van die smart, ander meld weer die liggaamlike pyn wat as gevolg daarvan beleef word. Vergelyk hier die woorde van Simeon aan Maria: “’n Swaard sal deur jou eie siel gaan” (Luk 2:35).
4 niḥûmîm is die Hebreeuse woord vir medelye/tere liefde. Die hart word in die Ou Testament 26 maal in verband met God gebruik en druk gewoonlik die een of ander wilsbesluit van God ten opsigte van die mens uit (Wolff 1977:90-95). Hosea 11 is een van die min plekke waar die hart geassosieer word met ’n Goddelike emosie.
5 ’n Mens kan nie meer byhou met al die literatuur wat ten opsigte hiervan verskyn nie. Ek verwys hier net na twee onlangse studies wat die huidige stand van navorsing oor skaamte baie goed weergee, naamlik dié van Laniak (1998) en Lapsley (2000).
6 Dat hierdie konseptuele metafoor van skuld as ’n “las wat kan ophoop” ook sentraal in die Ou- Testamentiese belewing van skuld is, is duidelik uit passasies soos Ps 85:3 en Miga 7:18. Vgl in hierdie verband die studie van Röhser (1987).
7 Dit is interessant om daarop te let dat die NAV die “gesig” in eersgenoemde twee passasies weggelaat het.
8 Dit is verkiesliker om hier te vertaal: “hulle bedek hulle koppe (in skaamte)”. Die NAV se weergawe: “hulle koppe hang” dui nie op skaamte nie maar eerder op ’n manifestering van depressie.
9 Hierdie gebaar word meestal as ’n uitdrukking van rou bestempel, wat dit beslis nie is nie (sien Kruger 1996). Vgl ook die NAV se weergawe: “sonder dat jy jou sin gekry het”.
10 Albei die vertalings van die psalmpassasies kom van Barré (2001:182-183).
11 Die “bang” wat hier deur die NAV vertaal word, lees letterlik: “sy gedagtes het hom verskrik”.
12 ’n Problematiese teks soos Job 18:11, wat die NAV vertaal met: “Hy word van alle kante met gevaar gedreig, dit volg hom net waar hy gaan”, hoort heel waarskynlik ook tuis in hierdie kategorie. ’n Ander moontlike vertaling sou kon lui: “The terrors of death suddenly beset him and make him piss over his feet” (NEB). Van die verloor van beheer oor funksies van die ingewande in geval van skrik is daar nêrens in die Ou Testament sprake nie. Vgl egter die volgende beskrywing in die pseudo-epigrafiese geskrif 1 Henog 60:3: “(Then) a great trembling and fear seized me and my loins and my kidneys lost control” (vertaling is uit Isaac 1983:40).