Lategan, B C
Universiteit van Stellenbosch

Geskiedskrywing, kondisionering en die konsekwensies vir teologiese vernuwing: ’n begripsanalise van T N Hanekom se tipering van die “liberale rigting”

ABSTRACT

Historiography, conditioning and the consequences of theological renewal: concept analysis of T N Hanekom’s typification of the “liberal movement”

This article analyses the way in which T N Hanekom, a prominent church historian who held the chair in Church History at the Theological Seminary in Stellenbosch in the sixties and seventies of the previous century, interpreted and used the concept “the liberal movement”. His penetrating and comprehensive description of the rise and fall of the liberal movement in Europe and South Africa during the nineteenth century is based on a very specific understanding of what “liberal” means. Not only did he link it with a whole cluster of negative associations, but created an attitude and mindset that make it very difficult for his students to deal constructively and effectively with the political, social and theological changes that accompanied the transition to a democratic dispensation in South Africa at the end of the previous century.

1. AGTERGROND

Die doel van hierdie kort analise is om te illustreer hoe ons persepsie van die verlede ons vermoë om oor die toekoms te dink beslissend bepaal. Die onmiddellike fokus is op die wyse waarop professor T N Hanekom, die bekende kerkhistorikus van Stellenbosch, die instelling van sy studente ten opsigte van die sogenaamde “liberale rigting” beïnvloed het. Die wyer konteks is die huidige situasie van die kerk in Suid-Afrika, met name die NG Kerk en die wyse waarop die uitdagings van die tyd gehanteer word.

Die aanleiding tot hierdie analise is die hernieude belangstelling wat die vakgebied Geskiedenis, en spesifiek die Historiografie of die skryf van geskiedenis tans geniet (vgl bv Iggers 1996; Rüsen 1997; Goertz 1995, 2001). Ons is bevoorreg om in ’n tyd te lewe waarin geskiedenis weekliks indien nie daagliks nie as ‘t ware voor ons oë gemaak word. Gedurende ons leeftyd het ingrypende sosiale veranderinge plaasgevind – in verskillende wêrelddele, maar ook in ons eie land. Wat veral fassinerend is, is om waar te neem hoe die gebeure van ons tyd verstaan en vasgelê word, met ander woorde hoe ons geskiedenis geskryf word. Ons sien byvoorbeeld dat nie alle gebeure opgeteken word nie, maar dat ’n sekere seleksie gemaak word: De Klerk se beroemde toespraak by die opening van die parlement in 1990, Mandela se vrylating kort daarna, die eerste demokratiese verkiesing van 1994 en ander soortgelyke prominente momente word as ‘t ware die ankerpunte waaromheen ander gebeure geweef word, maar wat terselfdertyd ook die effek het dat baie ander besonderhede eenvoudig vervaag. Naas seleksie (wat ook vervaging impliseer), is daar ook interpretasie. Om die betekenis van die gebeure na behore te verstaan is dit nodig dat hulle in ’n breër raamwerk geplaas en die verbande uitgewys word. So word die skryf van geskiedenis terselfdertyd ’n singewende aktiwiteit. Deur die vermoë om te midde van die warboel van kleiner gebeure wat mekaar in snelvuur elke dag en feitlik elke uur opvolg, tendense raak te sien en lyne deur te trek, kry die losstaande gebeure ’n sekere kontinuïteit, ’n sekere samehang en daardeur ook ’n bepaalde sin, betekenis en waarde. Die skryf van (nuwe) geskiedenis impliseer egter ook onvermydelik dat ’n hersiening van die verlede soos dit tot dusver verstaan is, plaasvind. Die huidige debat oor die skryf van ’n geskikte nuwe geskiedenishandboek (of -boeke) vir gebruik op skool, illustreer hierdie proses baie goed. Nie alleen moet bestaande handboeke op gereelde basis ten opsigte van hulle feitelike gegewens bygewerk en aangevul word om die jongste stand van sake te weerspieël nie, maar die heersende interpretasie van hierdie gegewens word deurlopend krities heroorweeg en waar nodig hersien (vgl Grundlingh 1990). Om net een voorbeeld ter illustrasie te noem: Waar skoolhandboeke in die verlede 1652 skynbaar as vanselfsprekend as die eintlike beginpunt van Suid-Afrika se geskiedenis beskou het, is dit in die lig van resente gebeure lank nie meer die geval nie. Trouens, die uitgangspunte en perspektiewe is nog so uiteenlopend dat daar lank nog nie sprake van ’n eenvormige “Suid-Afrikaanse” geskiedenis kan wees nie. Vir die huidige sal voorlopig nog met “deelgeskiedenisse” verlief geneem moet word.

Die kritiese heroorweging van die gangbare grondslae van geskiedskrywing vorm die kern van ’n intense debat wat die afgelope twee dekades binne die kring van algemene historici gevoer word (vgl oa Goertz 1995, 2001; Iggers 1996; Rüsen 1997). Wat al hoe duideliker word, is dat geskiedenis en geskiedskrywing nie soseer met die verlede te doen het nie, maar baie meer met die hede en veral met die toekoms. Die optekening en die herinnering van die verlede is ’n manier om die ervaring van kontinuïteit te verseker, om sin van die hede te maak en rigting vir die toekoms te vind (vgl Assmann 1999:19-25, en veral Koselleck 1995 se gebruik van die begrip “vergangene Zukunft” om die aard van geskiedskrywing te tipeer).

Van deurslaggewende belang is om die sinskeppende aard van die historiograaf se werk ten volle te erken en konsekwent daarmee rekening te hou. Daarmee word nie bedoel dat feite en die kontrolering van hierdie feite sover moontlik nie vir die historikus belangrik is of dat geskied- skrywing fiksie is nie. Die feit/fiksie-debat onder historici woed al sedert Ranke en het in inten- siteit sedert die “linguistic turn” in die loop van die twintigste eeu verder toegeneem (vgl Iggers 1996:87-96). Waarom dit hier gaan, is die insig dat wat die historikus vaslê nie die verlede is nie (dit is onherroeplik verby), maar sy/haar/die gemeenskap se herinnering van die verlede. Om onthoubaar te wees moet hierdie herinnering onvermydelik op ’n bepaalde wyse gestruktureer word. Feitlik sonder uitsondering gebeur dit in narratiewe of vertellende vorm wat die nodige kontinuïteit en logiese volgorde aan die herinnering verskaf. Omdat hierdie herinnering nie alles wat gebeur het vaslê nie, maar slegs die hoofmomente of aspekte uitlig van wat vir die verteller van besondere belang is, verteenwoordig elke vertelling ’n deelperspektief op die verlede. Die plek wat die fotograaf uitkies waarvandaan hy/sy ’n opname maak, het ’n beslissende invloed op die komposisie van die foto en op die perspektief van waaruit die werklikheid waargeneem word. In die geval van geskiedskrywing word die vertelling verder in ’n wyer raamwerk geplaas om die langtermyninvloed van gebeure duidelik te maak.

Vir die doel van die analise wat volg, is dit belangrik om die verklarende en singewende funksie van geskiedskrywing in gedagte te hou. Dit maak dit nie alleen moontlik om sekere patrone in die wirwar van (skynbaar onsamehangende) daaglikse klein gebeure raak te sien nie, maar ook om die kontinuïteit met die verlede te bewaar – ’n aspek wat vir individuele en groepsidentiteit van die grootste belang is. Meer nog – geskiedskrywing verskaf ’n sekere toegang tot die verlede, ’n wyse om die hede te verstaan en te hanteer en ’n riglyn om die toekoms te gestalt en te vorm. Geskiedskrywing het dus geweldige verklarende en manipulerende potensiaal. Dit kan (dikwels onbewustelik) ’n bepaalde perspektief op die werklikheid en die lewe vaslê en bestendig. Omdat dit altyd ’n deelperspektief verteenwoordig, is die skadusy van geskiedskrywing die gevaar van eensydigheid, van vooroordeel en van ideologie. Dit is nie vreemd dat die oorheersende ideologieë ’n historiese basis het nie, dit wil sê dat die regverdiging vir die ideologie in die geskiedenis self gesoek word nie – of liewer, in die wyse waarop hierdie geskiedenis gekonstrueer en aangebied word.

Naas die dokumentêre funksie van geskiedskrywing het dit dus ook ’n heuristiese en oriënteringsfunksie wat ’n sleutel verskaf vir die ontsluiting van die verlede, vir die hantering van die hede en vir die ontwerp van die toekoms.

2. HANEKOM SE TIPERING VAN DIE “LIBERALE RIGTING”

Teen hierdie agtergrond word die grondtendens van Hanekom se benadering tot en beskrywing van die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis van nader bekyk. ’n Omvattende analise is in die bestek van ’n enkele artikel nie moontlik nie. Daarom word daar op slegs een leidraad gekonsentreer, naamlik Hanekom se gebruik, beskrywing en evaluering van die sogenaamde “liberale rigting” in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis. Aan die hand van sy gebruik van die begrippe “liberaal”, “liberalisme” en “liberale rigting” word ’n tendens merkbaar wat nie slegs ’n geslag van gereformeerde teoloë – met name sy eie studente – op ’n heel bepaalde wyse gekondisioneer het nie, maar ook die rol van die NG Kerk in die laaste helfte van die twintigste eeu beslissend bepaal het. Die liberale rigting in Suid-Afrika. ’n Kerkhistoriese studie is in 1951 deur die CSV- Boekhandel in Stellenbosch uitgegee. Dit was die verwerking van Hanekom se proefskrif vir die DTh-graad wat hy etlike jare vroeër aan die Universiteit van Suid-Afrika behaal het. Die publikasie van hierdie boek het Hanekom as die leidende kerkhistorikus van sy tyd gevestig en sonder twyfel ’n belangrike rol in sy beroeping as hoogleraar na die Teologiese Kweekskool in Stellenbosch gespeel.

In hierdie werk en in sy latere studie oor Helperus Ritzema van Lier demonstreer Hanekom sy vakkundigheid en sy buitengewone vaardighede as kultuurhistorikus. Meer as ’n suiwer historio- graaf het hy ’n fyn ontwikkelde aanvoeling vir kulturele strominge en is hy in staat om met sy teologiese opleiding ’n unieke dimensie aan sy werk as geskiedskrywer toe te voeg. Hy is duidelik tuis in die Europa van die negentiende eeu en veral in Nederland, en volg die nuanses van die kom- plekse proses wat die opkoms van die liberale rigting voorberei en begelei met ’n trefsekerheid wat telkens verbaas. Sy werk besit die gravitas wat intellektuele werk van hoogstaande gehalte kenmerk en hy vertoon ’n omvattende begrip van sy onderwerp wat alleen deur gedetailleerde kennis en noukeurige analise ontsluit kan word.

Hanekom skryf oor ’n beweging wat presies ’n eeu vantevore sy hoogtepunt in Suid-Afrika bereik het en wat die Kaapse kerk in die grootste krisis van sy bestaan tot dusver gedompel het – ’n krisis wat nie alleen die kerk tot in sy wese verdeel het nie, maar ook tot botsings in die geregshof en met die politieke maghebbers van die dag gelei het (Hanekom 1951: 494-498).1 Die nagevolge van hierdie stryd is tot diep in die twintigste eeu gevoel en sommige van die teologiese vrae wat dit opgewerp het, is selfs vandag nog nie besleg nie. Dit is dus nie ’n tema wat sonder ’n sekere mate van ontsag benader kan word of waaroor ligtelik tot ’n oordeel gekom kan word nie. Die verskille was fundamenteel. Dit is met eksistensiële intensiteit beleef en gedebatteer, soms met verreikende persoonlike gevolge. Hanekom beskryf hierdie proses met deernis en begrip en maak dit duidelik dat die stryd aan albei kante eerbaar en ook minder eerbaar gevoer is (492). Hoewel daar nie twyfel kan wees waar sy simpatie lê nie, gee hy nogtans blyke daarvan dat die uitkoms nie bevredigend was nie en dat ’n derde alternatief in retrospek gesien tog miskien wenslik was (495).

Wanneer ons in die vervolg Hanekom se tipering van die liberale rigting analiseer, is die doel nie om sy werk as sodanig te kritiseer nie. Die hoë algemene vakkundige en intellektuele aard daarvan is reeds onderstreep. Die bedoeling is ook nie om die argumente pro en contra die liberale rigting teen mekaar op te weeg of tot ’n uiteindelike oordeel oor die houdbaarheid van hierdie argumente te kom nie. Daarvoor is die saak te kompleks vir ’n kort analise en het die debat intussen ander wendinge geneem wat ander vrae na vore gebring het. Dit gaan ten slotte om ’n geestestroming wat voor Hanekom sy oorsprong het en ook nie deur sy studie afgesluit is nie.

Die vraag wat hier gevra word, is historiografies van aard en ook baie meer beperk in skopus: Hoe tipeer Hanekom as geskiedskrywer die liberale rigting en watter invloed het hierdie tipering op ’n volgende geslag van teoloë se vermoë om die vrae wat deur ’n nuwe tydvak opgewerp word, te hanteer? Die vermoede is dat die tipering (bewustelik of onbewustelik) ’n bepaalde grondinstelling weerspieël wat die perspektief van ’n volgende geslag van teoloë op ’n heel bepaalde wyse gekondisioneer het.

Reeds in die inleiding is daar op die sinskeppende aard en kondisionerende effek van geskiedskrywing gewys. In sy presidentsrede by die 2002-kongres van die Internasionale Nuwe Testamentiese Vereniging (SNTS) in Durham, het professor J T Dunn die kwessie van kondisionering vanuit ’n ander invalshoek benader. Hy het aangetoon hoe navorsing op die gebied van die Nuwe Testament dikwels gedra word deur denkraamwerke en keuses waarvan die ondersoeker nie eens meer bewus is nie. Dit is wat hy in rekenaartaal die “default setting” of terugvalposisie noem. Die wyse waarop die oordra van die vroegste Jesus-tradisies deur Nuwe- Testamentiese navorsers voorgestel word, is byna sonder uitsondering deur ’n skryf- of boekkultuur bepaal. Hierdie “default setting” of terugvalposisie dink vanuit skriftelike bronne, dokumente, teksoorskrywers en redakteurs en sien die Evangeliste in die eerste plek as Evangelie- skrywers. Dit verg nogal heelwat inspanning en deursettingsvermoë om hierdie terugvalposisie te verander en doelbewus vanuit ’n orale of mondelinge kultuur te dink. Dit behels dat daar aan die Evangeliste as vertellers en tradente gedink word en aan hulle gehore as luisteraars. Dunn wys daarop hoe moeilik hierdie verstelling is en hoe maklik navorsers weer na die ou posisie terugval, veral as hulle self nie deel van ’n mondelinge kultuur is nie.

Verder is dit belangrik om in ag te neem dat Hanekom ’n eeu na die opkoms van die liberale rigting skryf. Alhoewel hy hom hoofsaaklik by bronne uit die negentiende eeu bepaal, is sy perspektief op hierdie gebeure ongetwyfeld beïnvloed deur wat intussen gebeur het. Die naspel van die botsing tussen voor- en teenstanders van die liberale rigting in die Kaapse kerk het sy dramatiese hoogtepunt in die Du Plessis-saak gevind. Dit het op Hanekom, wat kort na hierdie gebeure sy studie aan die Teologiese Kweekskool begin het, ’n diep indruk gemaak en beslis sy perspektief op die saak in ’n bepaalde rigting gestuur. Stellenbosch was in die tyd van Du Plessis ’n plek van buitengewone intellektuele gisting en vernuwing. Elders word die rol van Du Plessis en die klimaat wat in Stellenbosch geheers het in meer besonderhede bespreek (vgl Lategan 2002). Vir die oomblik is dit voldoende om daarop te wys dat die afloop van die saak Du Plessis se teenstanders in volle beheer van die Teologiese Kweekskool en van teologiese opleiding in die NG Kerk gelaat het. Kerklike toesig is met hernieude ywer op hierdie opleiding toegepas en ’n demper is op enige afwykende denke geplaas. Die klimaat was allermins gunstig vir die ontwikkeling van ’n kritiese bewussyn. Die behoefte aan intellektuele ondersoek en kritiese debat op Stellenbosch is buite die teologiese diskoers bevredig in aanverwante dissiplines, by name in die Departement Filosofie en in ’n mindere mate in die departemente Semitiese Tale en Grieks (vgl Lategan 2001a:66-67). Die kritiese metodologie waarmee Du Plessis sy teologie bedryf het, is na sy afsetting ook nie meer toegepas nie.

Dit is teen hierdie agtergrond, met die lot van Du Plessis vars in die geheue, dat Hanekom as jong teoloog met sy studie begin. Ongetwyfeld het ook ander invloede op hom ingewerk en die werk aan sy doktorale studie het eers veel later begin toe hy reeds in die bediening gestaan het. In die proefskrif self gee hy geen nadere verduideliking waarom hy juis hierdie tema gekies het nie. Sy fokus is doelbewus op die negentiende eeu. Tog bevat die inleiding die volgende enigmatiese sin: “Wie die verskynsels van ons tyd wil verstaan in hul onderlinge samehang, sal altyd rekening moet hou met die groot krag en beheersende invloed van vroeëre denkrigtinge” (ix). Hierdie kriptiese verwysing na die hede laat vermoed dat hy wel geïnteresseerd is in die gevolge van hierdie strominge vir sy eie tyd, maar dat hy doelbewus teruggryp na ’n vorige eeu om hulle invloed in hulle voller omvang en vanuit ’n langer tydperspektief te verstaan.

Hanekom stel dit vir hom as taak om die “chaotiese begripsverwarring” wat daar ten opsigte van die begrip “liberalisme” bestaan op te klaar. (Interessant genoeg beweer hy dat die neiging in wye kringe bestaan om “alles waarvan ons nie hou nie, eenvoudig as liberalisme te bestempel en te veroordeel” (x).) Hy wil hierdie begripsverheldering bereik deur eerstens sekere van die konnotasies wat normaalweg met die begrip geassosieer is uit te sluit. Tweedens beskryf hy die begrip konsekwent in negatiewe terme en derdens vrywaar hy die teenpool, naamlik die ortodoksie, van ’n soortgelyke kritiese analise.

Die eerste (en verrassende) skuif wat hy maak, is om vryheid uit te sluit van die “wesens- inhoud” van die liberalisme. “Die grondslae en geesteskenmerk van die liberale beweging is nie te vind in die strewe na vryheid nie, maar in sy verwerping van gesag. In sy ware wese was die liberale rigting van die negentiende eeu geen vryheidsbeweging nie, maar ’n revolusionêre agitasie, gesagsverwerping in beginsel” (x; kursief in die oorspronklike teks). Die historiese agtergrond is die Aufklärung en die Franse Rewolusie wat in wese teen die gevestigde orde en bestel gekant is. Terwyl die Calvinisme vryheid gesien het as ’n genadegawe van God wat ’n hoë verantwoordelikheid en heilige roeping op die mens lê, is vryheid vir die liberalisme ’n natuurlike reg, die onvervreembare, persoonlike besit van elke mens (xi). Dit is daarom “histories onverantwoord en prinsipieel onhoudbaar” om die liberalisme “te krediteer met al die seëninge van die vryheid en selfs met die vryheidsgedagte van Calvyn” (1951:xii, vn 2 – vgl ook p 28-29).

Verder verrassend (maar konsekwent met sy eerste skuif) is om die idee van volksverteenwoordiging, vrye kiesreg, ’n vrye pers, die skeiding tussen kerk en staat en selfs die idee van ’n konstitusie verdag te maak. Laasgenoemde beskryf hy as ’n “rewolusionêre woord” (xi) en weerspieël dit as ’n vryheidsgees wat ’n “verkeerde rigting gekies het”. In lyn hiermee is die misplaaste aandrang op die natuurlike regte van die mens en die handhawing van gelyke regte aan alle mense, wat op sy beurt aanleiding gee tot die sosialistiese strewe en die romantiese pleitbesorging vir die minderbevoorregtes en die “natuurvolkere” (xii).

Op staatkundige gebied kom die liberalisme “op as antitese teen die absolutisme; op maatskaplike terrein as protes teen die bestaande orde en sy misstande; op kerklike terrein as die verwerping van die gesag, hetsy Skrifgesag, belydenisbinding of kerklike tug” (xii).

Dit moet daarom nie verbaas nie dat van ’n kritiese bewussyn in die bedryf van teologie binne hierdie konteks weinig sprake kan wees, soos later in meer besonderhede aangetoon sal word.

Die tweede skuif wat Hanekom maak, is om liberalisme konsekwent met negatiewe assosiasies te verbind. Die enigste waardevolle bydrae is volgens hom die protes teen magsmisbruik en despotiese gesag (x). Vir die res oorheers pejoratiewe beskrywings van hierdie rigting. Om slegs enkeles te noem:

Die opkoms van die rasionalisme is “fataal’ vir die godsdienstige lewe. Die agtiende eeu vertoon ’n “donker beeld” van godsdienstige verval en ontwrigting. Die “bloedarme belydenis”van die “vulgêre rasionalis van die agtiende eeu” probeer maar net “om sy eie waan te prikkel en sy eie waarde te handhaaf” (4). Kant “bedreig” die grondslae van die Christendom met sy kritiese standpunt (6). Hoewel die Franse Revolusie die vryheid van godsdiens herstel tot voordeel van die Protestantisme, het “die hele omwentelingswoede wat die mens aangegryp het” ’n “bange stryd en sware lyding vir die Kerk van Christus op aarde gebaar”. Dit lei tot ’n “skrikbewind vir die Kerk, en die revolusionêre denkbeelde sou orals die saad van stryd en onrus strooi” (8). Nederlandse teoloë wat in die negentiende eeu weens “onregsinnigheid” onder verdenking gekom het se beskouings is “handig misbruik” in Suid-Afrika, en in Nederland het die Universiteit van Leiden “ in slegte reuk te staan gekom” vanweë die invloed van Borger (14). Schleiermacher met sy nadruk op die natuurlike afhanklikheidsgevoel van die mens rangeer “die hele godsdienstige lewe ... op die gevaarlike syspoor van die subjektiwisme” (35). Die liberalisme het ook in Suid-Afrika posgevat “om ’n stryd aan te bind teen die bestaande orde en teen die gesagsfaktore op elke terrein van die lewe” (78). Die invloed hiervan gee aanleiding tot “koue konvensies en versteende vormlikheid in die maatskaplike en kulturele lewe; doodsheid en koudheid ontsier die kerklike en godsdienstige lewe” (90).

Opvallend is die noue verband wat Hanekom lê tussen die koms van ander kerke aan die Kaap aan die einde van die agtiende en begin van die negentiende eeu en die opkoms van die liberale rigting. Die NG Kerk kla oor hierdie kompetisie as ’n bedreiging vir sy belange en die “rustelose bedrywigheid” van ander kerke en sektes (136). Maar dit is veral die koms van ’n aansienlike aantal sendinggenootskappe wat hierdie tendens versterk. Hulle interkerklike grondslag beteken dat konfessionele verskille opgeoffer word in belang van hulle gemeenskaplike taak: die kerstening van die heidene (143). Die sendelinge is “vroom manne in elke opsig, maar ook meermale yweraars vir ’n Christendom wat bo alle geloofsverdeeldheid verhewe is” (143). Vanuit so ’n vertrekpunt is dit nie maklik om entoesiasties aan ekumeniese bedrywighede deel te neem nie.

Meer veelseggend is egter dat die “gees van verdraagsaamheid” in daardie dae selfs verder gaan en die saak van “die verontregte, veral op politieke gebied” bepleit (159). Dit lei tot die strewe na verandering, na meer “Liberale en Regtvaardige gevoelens” teenoor “andersdenkendes en teenoor die inboorlingrasse veral” (159). Dit is moeilik om tot ’n ander gevolgtrekking te kom as dat die opneem van die stryd teen verontregting en die pleit om gelyke behandeling en regte vir swart mense deel van die liberale agenda is en daarom vanuit ’n NG perspektief afkeurenswaardig is. Die gedagte van gemeenskaplike verantwoordelikheid, die sogenaamde “algemeene Welzijn” (87), asook die algemene strewe na “vooruitgang” (126) word op dieselfde wyse verdag gemaak.

Op soortgelyke wyse word negatief geoordeel oor die bedryf van teologie in liberale kringe. Die gedagte van verskillende bronne ten grondslag van Bybelse manuskripte word as “negatiewe Skrifkritiek” (35, 37) getipeer, wat ’n bedreiging vir die “gereformeerde leer” inhou.

Die konsekwente negatiewe tipering van die liberale rigting word versterk deur die wyse waarop die teendeel van die liberale rigting deur Hanekom voorgestel word. Hierdie teenpool word selde in besonderhede uitgespel, maar meestal met redelik breë beskrywinge aangedui as “die Kerk”, “die Kerk van Christus” of nog meer omvattend as “die Christendom”. Teenoor die liberale rigting staan die “leer van die Kerk” (9, 22 et passim), die “grondwaarhede” (34) of “ou tradisionele waarhede van die Christendom” (35), die “ou geloof” (58), die “ou gereformeerde vaders” (58), die “ortodokse rigting” (492). Wat hierdie basiese opvattings insluit, word slegs enkele kere in die boek en dan ook net kursories opgesom, byvoorbeeld “die leer van die Drie- eenheid, die Godheid van Christus, die uitverkiesing en soveel ander waarhede wat behoort tot die geloofsleer en -lewe van die Christene van alle tye” (40).

Hierdie konsekwente en meestal ongenuanseerde negatiewe tipering van die liberale rigting het gesindhede in die kerk, onder gelowiges, maar veral onder sy studente op ’n heel bepaalde wyse gekondisioneer. In praktyk bereik wat hy in sy inleiding juis afwys, naamlik ’n onvoorwaardelike veroordeling van hierdie rigting en die assosiasie daarvan met alles wat sleg en verwerplik is. Wat ook al die saaklike korrektheid van Hanekom se oordeel was (en waarop ons hier onder weer terugkom), daar kan geen twyfel wees oor die vormende invloed wat dit op sy studente gehad het en hoe dit hulle “terugvalposisie” (vgl Dunn se “default setting”) vasgelê het nie. Hierdie terugvalposisie geld egter nie alleen vir die liberale rigting as sodanig nie, maar geld eweseer vir ’n negatiewe basishouding ten opsigte van vryheid, gelykheid, ’n kritiese bewussyn, verteenwoordigende regering, kiesreg, persvryheid, menseregte en selfs die konsep van ’n konstitusie. Is dit dan nog verbasend dat ’n geslag wat met hierdie instelling grootgeword het probleme ervaar met die sosiale en politieke transformasie wat die land in volle omvang in die laaste dekade getref het? Is ’n genuanseerde oordeel te verwagte en kan dit anders as dat alles wat nie met die bekende of tradisionele ooreenstem nie as “liberaal” afgemaak word? Weer eens, dit gaan hier nie om die verdediging van die negentiende-eeuse opvattings van die liberalisme (wat in menige opsig problematies is) nie, maar om die anatomie van ’n geestesingesteldheid (“mindset”) en die proses waardeur so ’n ingesteldheid gekweek en vasgelê word.

Van groot belang is om in die historiese konteks waarin Hanekom sy studie onderneem in gedagte te hou. Ons het reeds daarna verwys dat sy eie opleiding in die teologie begin het nie te lank na die afloop van die Du Plessis-saak nie. Waar sy boek se hooffokus is die krisis waarin die Kaapse kerk gedompel is gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu as gevolg van die opkoms van die liberale rigting, lê daar ’n tweede, meer resente krisis tussen die skryf van die boek en die gebeure waaroor dit handel, naamlik die krisis wat deur die Du Plessis-saak veroorsaak is. Saaklik is die twee krisisse met mekaar verwant, omdat albei die resultaat is van die botsing tussen “liberale” en “behoudende” kragte – in die twintigste eeu versinnebeeld deur die Het Zoeklicht en Die Ou Paaie. Hanekom self beskryf sy boek as die “eerste deel” van ’n meer omvattende studie en belowe om in die tweede deel die latere verloop van die stryd (vermoedelik in die twintigste eeu, insluitende die Du Plessis-saak) te behandel. Ongelukkig het hierdie tweede deel agterweë gebly en kan ons net vermoed wat Hanekom in gedagte gehad het. Die belangrike punt vir die doel van hierdie analise is nie wat die vermoedelike inhoud van die tweede deel kon wees nie, maar die feit dat die bestaande studie vanuit ’n post-Du Plessis-perspektief geskryf is.

Daar kan min twyfel bestaan dat hierdie gebeure veral vir Hanekom, as historikus en as iemand wat dit van naderby beleef het, van buitengewone belang was en dat dit ’n sterk invloed op sy eie sieninge uitgeoefen het. Elders is die impak van die gebeure op die NG Kerk en spesifiek op die bedryf van teologie in Stellenbosch in meer besonderhede bespreek (Lategan 2001, 2002).

Vir die doel van hierdie analise is die belangrike punt die effek wat hierdie gebeure op wetenskapsbeoefening op Stellenbosch in die algemeen en op die beoefening van teologie in die besonder gehad het. Wat ook al oor Du Plessis se opvattings en veral sy teologiese standpunte gesê kan word, kan daar min twyfel wees dat hy een van die leidende geeste van sy tyd was. Hy het die respek en agting van sy kollegas afgedwing met sy baanbrekende navorsing en sy intellektuele statuur. Hierdie respek het veel wyer gestrek as net teologiese kringe – kollegas uit ander fakulteite het hom met dieselfde agting bejeën. Hy was oortuig dat natuurwetenskap en teologie in beginsel nie met mekaar in botsing is nie en het doelbewus uitgereik na kollegas in ander dissiplines. Hy het die belangrikheid van kritiese en onafhanklike ondersoek beklemtoon en ’n klimaat op Stellenbosch help skep wat gekenmerk is deur intellektuele gisting, ’n algemene kritiese bewussyn en optimisme oor dié wat die wetenskap en ’n rasionele instelling tot probleme kan vermag.

In die teologie het hy ’n veel vryer en onkonvensionele benadering as wat tradisioneel die geval was, voorgestaan en aktief beoefen. In vele opsigte was hy ’n verteenwoordiger en voortsetter van die liberale rigting wat juis deur Hanekom in sy studie ondersoek is. Die botsing met die kuratorium en uiteindelik met die kerkowerhede het nie uitgebly nie. Die afloop van die saak behoort tot een van die mees omstrede en ongelukkigste episodes in die geskiedenis van die Kaapse kerk (vgl Malan 1933; Gerdener 1943; Nash 1997).

Vir die beoefening van teologie (met name op Stellenbosch) het die Du Plessis-sage ver- reikende gevolge gehad. Die teenstanders van Du Plessis het die uitgerekte stryd in die hof verloor, maar nogtans hulle eintlike doelwit bereik deur Du Plessis van sy leeropdrag te onthef en te verhoed dat hy verder vir teologiese studente klasgee. Die behoudende rigting in die gees van Die Ou Paaie het voortaan met hernieude ywer oor die teologiese opleiding op Stellenbosch toesig gehou en verseker dat wat hulle as “regsinnig” beskou het, die kriterium vir toelating tot die bediening bly.

Die resultaat van hierdie ontwikkelinge was tweërlei: Aan die een kant is die behoefte aan kritiese ondersoek en die interdissiplinêre gesprek met ander wetenskappe elders bevredig (vgl Nash 1997; Lategan 2002). Met name die filosofie en die studie van antieke tale het ’n speelruimte en alternatiewe tuiste vir studente in die teologie gebied.

Vir dosente in die teologie was die situasie egter anders. Hier het leertug en kerklike toesig gegeld. Dit is veral by die beroeping van dosente na die Kweekskool dat die vraag na die behoudendheid van kandidate ’n belangrike rol gespeel het. Diegene wat as “liberaal” beskou is, is gewoonlik met sukses geweer. Die beroepingsprosedure was nie onfeilbaar nie en soms is “niebehoudende” kandidate beroep (Dawid Bosch is een van die opvallende uitsonderings – wat die beroep terloops nie aangeneem het nie, maar dit was die uitsondering).

Die beroeping van Hanekom pas in hierdie patroon. Daar is geen gegewens beskikbaar oor wat as die belangrikste oorwegings gegeld het by sy verkiesing nie. Hy was ’n uiters bekwame en gerespekteerde akademikus in eie reg en sy aanstelling was ongetwyfeld vanuit wetenskaplike oogpunt ’n aanwins vir die Kweekskool. Aan die ander kant was sy standpunt oor die liberale rigting welbekend. Hy het deurgaans negatief daaroor geoordeel en daar kan met ’n redelike mate van sekerheid aanvaar word dat dit nie sy kanse benadeel het nie.

Die belangrike vraag is nou oor die invloed wat hierdie sameloop van omstandighede – die atmosfeer in die kerk na die Du Plessis-stryd en die opvattings van Hanekom op ’n volgende geslag teologiese studente – uitgeoefen het.

3. KONDISIONERING EN DIE KONSEKWENSIES VIR HUIDIGE TEOLOGIESE UITDAGINGS

Hanekom was natuurlik nie die enigste dosent aan die Kweekskool nie en baie ander invloede het ’n rol gespeel in die vorming van die studente wat in hierdie tyd studeer het. Nogtans was hy as professor in Kerkgeskiedenis die verantwoordelike persoon vir die behandeling van die liberale rigting en sy gevolge. Sy verwerkte doktorale proefskrif was die voorgeskrewe boek vir hierdie afdeling van die werk. In sy voorlesings het hy dit uitvoerig behandel en sy sienings met dieselfde intensiteit en oortuiging oorgedra.

Wat was die invloed op sy studente en op die wyse waarop teologie bedryf is? Dis weer eens belangrik om te beklemtoon dat sekere aspekte van Hanekom se kritiek op die liberale rigting nie ongegrond was nie. Die rigting is gedra deur ’n te optimistiese vertroue op die rede en ’n te groot verwagting van wat deur menslike ontwikkeling en vooruitgang vermag kan word. Die oortuiging dat godsdiens en wetenskap sonder meer versoenbaar is, het die wesenlike verskille verdek. Daar was ook ’n sekere ongeduld, indien nie arrogansie nie, by sommige kampvegters van die liberale rigting teenoor diegene wat hulle as “agtergeblewenes” beskou het, en die gemeentelike lewe het sekerlik in baie gevalle gely onder die verdeeldheid wat daar onder predikante as gevolg van die stryd bestaan het. Aan die ander kant is die wyse waarop daar met andersdenkendes deur die kerklike owerhede omgegaan is en die onvermoë om die nuwe ontwikkelinge te hanteer, belangrike faktore waarom die stryd so baie verwydering, skade en verbittering veroorsaak het.

Dit is egter nie die bedoeling om hier weer die stryd te herleef of om tot ’n bepaalde oordeel ten opsigte van teologiese standpunte of van die reg en onreg in hierdie ongelukkige tyd in die kerk se geskiedenis te kom nie. Die uitgangspunt aan die begin was om te illustreer hoe ons persepsie van die verlede ons vermoë om oor die toekoms te dink beslissend bepaal. In hierdie geval het die kondisionering van die persepsie van die verlede op twee vlakke geskied. Die eerste was die konseptuele vlak waarop die verstaan van ’n verskynsel in die verlede op ’n heel bepaalde wyse gefilter, herdefinieer en vasgelê is. Die tweede is die oorredings- of dwangstrategieë wat deur magsinstansies gebruik is om hierdie persepsie te sanksioneer en te normeer.

Vir die doel van hierdie artikel bepaal ons ons by die eerste vlak. Wat is die “terugvalposisie” (“default setting”) wat deur Hanekom se hantering van die tema by ander ten opsigte van die liberale rigting gevestig is? Afgesien van ’n konsekwent negatiewe assosiasie met die rigting, is die definiëring duidelik omlyn. “Liberaal” of “liberalisme” het niks met ware (evangeliese) strewe na vryheid te doen nie, maar met die verwerping van gesag. Dit is ’n rewolusionêre agitasie, gesagsverwerping in beginsel (x). (Konsekwensie: Die strewe na bevryding, by name die sogenaamde Bevrydingsbeweging, is verdag.) Die agitasie vir die gelyke regte vir alle mense gaan terug op die aanspraak van die natuurlike reg van die mens as onvervreembare, persoonlike besit van elke mens. (Konsekwensie: Die handhawing van menseregte en die aandrang op ’n handves van menseregte is teen die wil van God.) Die wortel is die humanisme en die gees van die Franse Rewolusie wat die bestaande orde omver wil werp. (Konsekwensie: Enige inisiatief wat die bestaande orde bedreig, is rewolusionêr en word deur negatiewe kragte gedryf. Die effek is dat die bestaande orde per definisie gesanksioneer word.) Die pleit vir die minderbevoorregtes en die “natuurvolkere” spruit voort uit die Romantiek (xi). (Konsekwensie: Sosiale geregtigheid is nie primêr teologiese/kerklike verantwoordelikheid nie.) Die gelykstellingsidee (tussen blank en “gekleurd”) is deel van hierdie humanistiese, rewolusionêre gees. (Konsekwensie: Die weerstand teen apartheid spruit voort uit ’n misplaaste humanistiese strewe – die skeiding van mense op etniese/rassegrondslag is nie noodwendig verkeerd nie.) Die aandrang op ’n vrye pers en op die kiesreg is deel van die liberale aanslag. (Konsekwensie: Die pers kan beperk word as dit nodig is, die idee van vrye verkiesings is verdag.) Die kritiese omgang met die Skrif is die resultaat van rasionalisme en gesagsverwerping. (Konsekwensie: Vermy nuwere benaderings in die teologie en die hermeneutiek.) Die aandrang op die konstitusie as basis vir die staatkundige bestel het sy wortels in die Franse Rewolusie. (Konsekwensie: Christene kan nie met volle oorgawe die konstitusie ondersteun of die gedagte van konstitusionele reg as die basis van die regspraak aanvaar nie.)

Hierdie “terugvalposisie” bepaal die vertrekpunt, vorm die instinktiewe reaksie op enige impuls wat skynbaar in stryd met hierdie uitgangspunt is. Die terugvalposisie is ’n matriks wat op gebeure geplaas word, die raamwerk wat die “werklikheid” omsluit en daaraan sin en kohesie gee.

Die terugvalposisie is nie onveranderlik nie. Om een voorbeeld te noem: Deur ’n lang en moeisame proses het die idee van “menseregte” uiteindelik wel aanvaarding in NG kringe gevind, na vele en herhaaldelike insette (vgl bv Du Toit 1984; De Villiers 1984). Die terugvalposisie kan in enige (lewende) tradisie hersien en verstel word, maar nie sonder aansienlike en volhardende insette nie.

In die geval van Hanekom se hantering van die “liberale rigting” is die terugvalposisie nie verander of verstel nie, maar bevestig en verder verdiep. Die meerderheidstandpunt in die Du Plessis-stryd het die amptelike, gesaghebbende posisie geword, ten spyte van heftige verset. Hierdie terugvalposisie is nie deur Hanekom krities ondersoek nie, maar versterk. Trouens, hy het daaraan ´n veel dieper basis verleen deur die wortels van die Du Plessis-stryd in die geskiedenis terug te voer tot in die agtiende en veral negentiende eeu. Hierdie verlenging na agter het aan die terugvalposisie ’n besef van historiese kontinuïteit verskaf wat dit nog dieper ingebed het in die gemoed en denkwyse van die geslag predikante na 1930.

Die omvattende en deurtastende beeld wat Hanekom van die liberale rigting geskep het en veral die emotiewe assosiasies wat daarmee gepaardgegaan het, het die skering en inslag gevorm van die geslag predikante wat saam onder sy invloed gevorm is. Hierdie terugvalposisie is nie deur almal volgehou nie – sommige het mettertyd na die teenoorgestelde pool van hulle leermeester gemigreer. Nogtans was dit ’n invloedryke vorming wat dit baie moeilik – vir sommige onmoontlik – gemaak het om die nuwe bedeling met entoesiasme te aanvaar omdat dit skynbaar soveel van die vrese van die terugvalposisie bevestig het. Nog meer – dit het die meerderheid van ’n volgende geslag konstitusioneel ongeskik gemaak om ’n konstruktiewe bydrae tot ’n nuwe en uitdagende tyd te lewer. Soveel energie moes eers bestee word om die skering en inslag te hersien en te verander dat daar min oorgebly het om aan die vernuwing van die teologie en aan die ontwikkeling van ’n nuwe uitdrukking van die gereformeerde tradisie te wy. Hierdie taak is – by verstek – grotendeels aan ander lede van die familie oorgelaat.

BIBLIOGRAFIE

Botman, R & Petersen, R M (reds) 1996. To remember and to heal. Theological and psychological reflections on truth and reconciliation. Kaapstad: Human & Rousseau.

Botman, R 2001. Belhar and the white DRC: 1974-1990. Scriptura 76, 33-42.

Botman, R 2002. Hiéroor moet eerlike patriotte praat. Rapport 31 Maart 2002, 15.

Cane, M 2000. Jean Baudrillard. In radical uncertainty. Londen: Pluto Press.

De Villiers, D E & Kinghorn, J (reds) 1984. Op die skaal: Gemengde huwelike en ontug. Kaapstad: Tafelberg.

Dunn, J T 2002. Altering the default setting: Re-envisaging the early transmission of the Jesus tradition. Presidential address at the annual meeting of the Studiorum Novi Testamenti Societas. (Verskyn eersdaags in New Testament Studies.)

Durand, J J F 2002. Ontluisterde wêreld. Kaapstad: Lux Verbi.

Du Toit, 1984. Menseregte. ’n Empiriese en teoretiese ondersoek vanuit teologies-etiese perspektief. Ongepubliseerde navorsingsverslag vir die Werkgroep Religie van die RGN-ondersoek na Tussengroepverhoudinge.

Gerdener, G B A 1943. Die boodskap van ’n man. Lewenskets van prof J du Plessis. Stellenbosch: CSV. Goertz, H-J 1995. Umgang mit Geschichte. Eine Einführung in die Geschichtstheorie. Reinbeck bei Hamburg: Rowohlt.

Goertz, H-J 2001. Unsichere Geschichte. Zur Theorie historischer Referentialität. Stuttgart: Reclam.

Hanekom, T N 1951. Die liberale rigting in Suid-Afrika. ’n Kerkhistoriese studie. Stellenbosch: CSV.

Hanekom, T N (red) 1952. Ons Nederduitse Gereformeerde Kerk. Gedenkboek by ons derde eeufees 1952. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Hanekom, T N 1959. Helperus Ritzema van Lier. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Iggers, G G 1996. Geschichtswissenschaft im 20. Jahrhundert. Göttingen: Vandenhoeck.

Lategan, B C 2001. Preparing and keeping the mind-set in tact. Reasons and forms of a theology of the status quo. Scriptura 76, 63-75.

Lategan, B C 2002. Hoe onthou ons 350 jaar van Gereformeerdheid? Referaat gehou by die konferensie 350 Jaar Gereformeerdheid in Suid-Afrika. Stellenbosch, Februarie 2002. Lückhoff, A H 1978. Cottesloe. Kaapstad: Tafelberg.

Malan, F S 1933. Ons kerk en prof Du Plessis. Kaapstad: Nasionale Pers.

Moorrees, A 1937. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afika 1652-1873. Kaapstad: SA Bybelvereniging.

Mostert, N 1992. Frontiers. The epic of South Africa’s creation and the tragedy of the Xhosa people. Londen: Pimlico.

Nash, A 1997. Wine-farming, heresy trials and the “whole personality”: the emergency of the Stellenbosch philosophical tradition, 1916-40. South African Journal for Philosophy 16, 55-69.

Naude, P J 2001. The DRC’s role in the context of transition in South Africa: Main streams of academic research. Scriptura 76, 87-106.

Olivier, P L (red) 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Robinson, P J 1959. Die verhouding van die NG Kerk tot sy Bantoe-dogterkerke. Bloemfontein: Sendelinge Vereniging.

Rüsen, J 1997. Was heisst: Sinn der Geschichte? (Mit einem Ausblick auf Vernuft und Widersinn), in Müller, K E & Rüsen, J (Hrsg). Historische Sinnbildung. Problemstellungen, Zeitkonzepte, Wahrnehmungshorizonte, Darstellungstrategien. Reinbeck: Rowohlt, 17-47.

Scholtz, G D 1956. Die geskiedenis van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika 1842-1885. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Scholtz, G D 1965. Die geskiedenis van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika 1885-1910. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Schulin, E 1998. “Ich hoffe immer noch, dass gerstern besser wird.” Bermerkungen zu einem von Jörn Rüsen gewählten Motto, in Blanke, H W, Jaeger, F & Sandkühlelr (Hrsg). Dimensionen der Historik. Köln: Böhlau, 3-12.

Spoelstra, C 1906. Boustoffen voor de geschiedenis der Nederduitsch-Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika Deel 1. Amsterdam-Kaapstad: Hollandsch Afrikaansche Uitgevers Maatschappij.

Spoelstra, B 1963. Die “Doppers” in Suid-Afrika 1760-1899. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Strauss, P J (red) 1991. Byderwets en Gereformeerd. Kerkregtelike opstelle opgedra aan prof P B van der Watt. Bloemfontein: Pro Christo-Publikasies.

Van Aardt, P 1991. The Huguenots at the Cape: Disaggregating historical mythology and commemorations. Unpublished Honours paper, University of South Africa.

Van der Watt, P B 1973. Die Loeddolff-saak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1862-1962. Kaapstad: Tafelberg.

Van der Watt, P B 1976. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652-1824. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Van der Watt, P B 1977. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1866. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Van der Watt, P B 1980. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1866-1905. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Van der Watt, P B 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

1 Tensy anders vermeld, kom alle verdere aanhalings van Hanekom uit hierdie bron en word daar voortaan slegs die betrokke bladsynommers tussen hakies gegee.