Meiring, P
Universiteit van Pretoria

 

ABSTRACT

Reconciliation in South Africa in the wake of the Truth and Reconciliation Commission: the role of the Dutch Reformed Church

The question is frequently debated whether the South African Truth and Reconciliation Commission (TRC) facilitated or hindered reconciliation in South Africa. The author, who served on the TRC, discusses various answers to the question, quoting from the experiences and views of victims, perpetrators, as well as the general public in this regard. Turning to the challenges to the faith communities contained inter alia in the Final Report of the TRC, he mentions five specific challenges that, while being important to all churches, are of specific relevance to the Dutch Reformed Church (NG Kerk), a denomination that over many years provided theological and practical support to the system of apartheid.

1. VERSOENING: HOË VERWAGTINGS ÉN ERNSTIGE BEDENKINGE

We have been wounded but we are being healed. It is possible even with our past of suffering, anguish, alienation, and violence to become one people, reconciled, healed, caring, compassionate and ready to share as we put our past behind us to stride into the glorious future God holds out before us as the Rainbow People of God” (Desmond Tutu, in Meiring 1999:388).

1.1. Met die afsluiting van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) se werksaamhede in Oktober 1998 was daar groot verwagtings, nie net oor die “waarheid” oor die apartheidsverlede van Suid-Afrika wat nagevors en beskryf is asook oor die wyse waarop die behoeftes van apartheidslagoffers en amnestie-aansoekers gehanteer is nie, maar veral ten opsigte van die rol wat die WVK sou speel om versoening in die land te bewerkstellig. Die woorde van die voorsitter van die kommissie tydens die afsluitingseremonie (hier bo aangehaal) getuig van dié hoë verwagtings.

1.2. Tog was daar talle bedenkinge toe die WVK sy deure gesluit het. Was Suid-Afrikaners in Oktober 1998 nader aan mekaar as drie jaar tevore toe die Kommissie met sy werksaamhede begin het? Terwyl sommige ’n vriendelike oordeel gevel en daarop gewys het dat die WVK inderdaad die tafel vir versoening begin dek het, was daar talle wat anders oor die saak gedink het. Vanuit die Engelse gemeenskap het Anthea Jeffery ernstige kritiek teen die prosedure van die menseregteskendingsverhore ingebring. Vanuit die Afrikaanse kring het Dan Roodt se opstel Om die Waarheidskommissie te vergeet heelwat aandag getrek. Ook binne die geledere van die WVK was daar bekommernis dat daar nie aan die hoë verwagtings voldoen sal kan word nie:

A common critism of the Commission is that it has been strong on truth, but has made little or no contribution to reconciliation. History will judge whether or not this particular critisism is accurate. It is, nevertheless, worth making two points in this regard. The first is that, while the truth may not always lead to reconciliation, there can be no genuine, lasting reconciliation without the truth … Secondly, it is readily conceded that it is not possible for one commission, with a limited life span and resources, on its own to achieve reconciliation against the backdrop of decades of oppression, conflict and deep divisions (TRC Report, Vol 5:306).

2. NÁ VIER JAAR: HET ONS OP DIE PAD VAN VERSOENING GEVORDER?

2.1. Vier jaar in die geskiedenis van ’n samelewing is ’n baie kort tydjie, te kort om ’n behoorlike oordeel oor die geslaagdheid van die WVK-proses te vel. Die finale verslag van die Amnestie- komitee, wat eers teen die einde van April 2002 sy werksaamhede afgesluit het, moet ook nog verskyn. Maar daar kan tog al ’n paar opmerkings gemaak word.

Een van die belangrikste slaagvoorwaardes vir ’n proses soos dié van die WVK, het Jose Zalaquett, die sameroeper van die destydse Chileense Waarheidskommissie verklaar, is dat die volk eienaarskap daarvoor moet aanvaar. As die breë publiek, slagoffers én oortreders nie die versoeningsproses vir hulle toe-eien nie, is daar min hoop op blywende resultate (Meiring 1999:379 ev).

Dat Suid-Afrika onherroeplik deur die WVK gestempel is, is waar. Elkeen in die land is deur die proses geraak. Daarvoor het die publisiteit wat die WVK geniet het en die daaglikse rapporte oor die radio, televisie en koerante gesorg. Hoe het Suid-Afrikaners gereageer?

2.2. Vir die oorgrote meerderheid van die 21 400 slagoffers wat voorleggings gemaak het, veral dié wat in tydens een van die 140 openbare verhore hulle getuienisse gelewer het, was dit ’n genesende ervaring. Daar was uitsonderings, soos in die geval van die Biko-gesin wat hulle ontevredenheid tot in die Konstitusionele Hof gevoer het. Maar as ’n mens deur die getuienisse van die duisende slagoffers blaai, val dit op hoe die een ná die ander getuig hoeveel die proses vir hulle beteken het: om te kon vertel én om uit te reik na dié wat hulle kwaad aangedoen het, om te vergewe én te versoen. Wat van individue waar was, het ook van gemeenskappe gegeld. Vir die WVK-kommissarisse was dit volgens hulle eie berig ’n onvergeetlike ervaring om getuies te wees van die “generosity of spirit, from those who had so long carried the burden of loss and tragedy” (TRC Report, Vol 5:306 ev).

2.3. Vir die groot meerderheid van die oortreders van alle kante van die politieke spektrum, van die veiligheidsmagte én van die bevrydingsbewegings wat om amnestie aansoek gedoen het, was die verlening van amnestie vanselfsprekend ’n geweldige geskenk. Toe die WVK-rapport in 1998 gepubliseer is, is daar berig dat 7 124 oortreders aangemeld het. Alhoewel die WVK-wetgewing dit nie van oortreders vereis het om in die openbaar verskoning aan te teken of om vergifnis te vra van dié wat benadeel is nie, het dit in sommige gevalle wel gebeur. Gewoonlik was die reaksie positief, soos in die gevalle van Eric Taylor, Brian Mitchell, Beth Savange, Amy Biehl, Diale en Makgale en talle ander.

“Soms,” het Tutu verklaar, “het die Here ’n mens se voete onder jou uitgeslaan oor wat op die mees onverwagte tye en plekke gebeur het, oor die genade en grootmoedigheid en vergewensgesindheid wat Hy in mense se harte gegiet het. Waarlik, ons God is ’n God vol verrassings” (Meiring 1999:386).

2.4. ’n Negatiewe faktor wat die versoeningsproses in die afgelope vier jaar beslis beïnvloed het, was dat die regering – ten spyte van aanvanklike beloftes – nog nie so met die uitbetaling van reparasie aan slagoffers en hulle gesinne begin het nie. Van sommige reparasievoorstelle is werk gemaak. Kleiner bedrae geld is oorbetaal aan slagoffers wat dringende interimhulp nodig gehad het. Simboliese reparasie (grafstene, monumente, die inrigting van museums, die verandering van straatname en plekname, ens) is aan die orde, en ook gemeenskapsreparasie (die oprigting van hospitale, klinieke, trauma-eenhede, skole, ens). Institusionele reparasie (tov onderwys, ekonomiese beplanning, politieke en regstrukture, ens) vind reeds plaas. Maar van die belofte van ’n beduidende bedrag wat jaarliks, ses jaar lank, aan slagoffers oorbetaal moes word om hulle op die pad na herstel te plaas, het min gekom. In sy uitspraak in die Biko-saak het die Konstitusionele Hof geoordeel dat die amnestieproses wel billik is, omdat die ruim aanbod van amnestie aan oortreders deur ewe ruim reparasie aan slagoffers gebalanseer sou word (TRC Report, Vol 5:170 ev). Vier jaar het intussen verloop en die uitbetalings is nog nie gemaak nie. Talle menseregteorganisasies en slagoffergroepe het die afgelope tyd ernstige beswaar aangeteken – en met goeie reg daarop gewys dat dit nie net die integriteit van die WVK-proses in gevaar stel nie, maar ook die moontlikheid van versoening in die land inhibeer.

2.5. Wat van die breë publiek? Hoe het Suid-Afrikaners oor die algemeen op die werk van die WVK gereageer? Het hulle dit as vordering op die pad na versoening ervaar? Dis moeilik om ook hieroor ’n finale oordeel te vel. Maar in die algemeen kan gekonstateer word dat die groot meerderheid van swart en bruin en Indiër-Suid-Afrikaners – diegene wat die afgelope jare hoofsaaklik aan die ontvangkant van apartheid gestaan het – die werk van die WVK positief beleef het. Van tyd tot tyd was daar kritiek, byvoorbeeld toe aartsbiskop Tutu na die mening van baie alles in sy vermoë gedoen het om sekere blankes – by name oud-staatspresident P W Botha – tegemoet te kom.

Blanke Suid-Afrikaners, Engelse sowel as Afrikaners, was egter ambivalent in hulle beoordeling. Terwyl sommige hulle met die WVK-proses vereenselwig het, was die meerderheid sigbaar afwesig. Dit was waarskynlik te wagte. Om week ná week met die aaklighede van die verlede gekonfronteer te word, om die hand in eie boesem te steek oor jou eie betrokkenheid – sy dit net as iemand wat onregverdige voordeel uit die apartheidsisteem getrek het – was nie maklik nie. Reaksies het gewissel. Wat die Amerikaanse terapeut Elizabeth Kübler-Ross destyds geskryf het oor individue wat in ’n bestaanskrisis gewerp word, geld klaarblyklik ook van gemeenskappe (Meiring 1999:383 ev). Die krisis waarin die onthullings van die WVK die blanke gemeenskap gedompel het, het veroorsaak dat talle vanuit ’n posisie van ontkenning gereageer het, ander weer vanuit woede, of deur te rasionaliseer, of deur in ’n diep depressie te verval. Sommige het egter deur al die stadia heen die punt van aanvaarding, ’n nuwe bevryding, bereik.

2.6. In 1998, net voor die finale verslag van die WVK gepubliseer is, het ’n A C Nielson (MRA)- opiniepeiling bevestig wat die kommissarisse teen dié tyd reeds geweet het: dat die meerderheid blankes die werk van die WVK negatief beleef het, dat hulle van mening was dat die feite wat aan die lig gekom het nie meegehelp het om versoening in Suid-Afrika te bewerkstellig nie (Meiring 1999:384). Sedertdien het dinge nie veel verander nie. ’n Onlangse landswye opiniepeiling berig dat terwyl meer as 90% van alle swart en bruin Suid-Afrikaners hulle tevredenheid met die proses uitspreek, blankes steeds verdeeld is: een derde was positief oor die bydrae wat die WVK ten opsigte van versoening in die land gespeel het, een derde negatief, en een derde onbeslis in hulle oordeel (Institute for Justice and Reconciliation, Kaapstad, Nov 2000).

2.7. Die debat wat in die pers opgevlam het nadat president Thabo Mbeki in Mei 2002 aan ’n aantal Oos-Kaapse ANC- en PAC-oortreders wie se aansoeke deur die WVK geweier is, wel amnestie toegestaan het, nog vóórdat die finale verslag van die Amnestie-komitee ontvang is, het ook wye implikasies vir die versoeningsproses. Sommige sien dit as ’n wolk oor die werk van die WVK, ander weer as ’n tweede versoeningsfase in die land. Hoe dit ook al sy, die moontlike afkondiging van ’n algemene amnestie sal die toekomstige versoeningsproses beslis beïnvloed.

Dat daar egter vir alle Suid-Afrikaners nog ’n lang, moeisame reis op die pad van versoening wag, staan vas. Watter bydrae kan die kerke in die land – by name die N G Kerk – lewer? Om te verstaan watter uitdagings daar wag, is dit nodig om eers kortliks te verwys na die rol wat die kerke wel tydens die WVK-jare gespeel het.

3. DIE VERSOENINGSROL VAN DIE KERKE – BY NAME DIE NG KERK – TYDENS DIE WVK-PROSES

3.1. Reeds gedurende die vroeë negentigerjare van die vorige eeu – toe die moontlikheid van die aanstelling van ’n Waarheids-en-Versoeningskommissie bepleit is – was die kerklike gemeenskap betrokke. Nie alleen was kerkleiers en ekumeniese organisasies by die opstel van konsep- wetgewing betrokke nie, maar was daar, volgens Alex Boraine (ondervoorsitter van die WVK), by sommige ’n sterk gevoel dat die geloofsgemeenskappe in die algemeen – en die kerke in die besonder – die waarheids-en-versoeningsproses moes lei. Dit het om verskeie redes nooit gebeur nie. Alhoewel sommige kerke by apartheid gemoeid was, was dit in die eerste plek die destydse staat se verantwoordelikheid – en moes die staat ook ná 1994 die inisiatief neem en die koste aangaan om so ’n kommissie aan te stel. Buitendien het geen kerk of godsdienstige groep die finansiële vermoë gehad om dit te doen nie (Boraine 2000:179 ev).

3.2. Tydens die uitgerekte WVK-proses het die kerke ’n baie belangrike rol gespeel om inligting oor die WVK te versprei en om slagoffers sowel as oortreders te begelei deur ’n proses wat vir hulle en hulle gesinne dikwels traumaties was. Tydens menseregteskendingsverhore het amps- draers sowel as lidmate as briefers (begeleiers) opgetree. Ook wat die begeleiding van amnestie- aansoekers betref het die kerke – by name die NG Kerk – ’n rol gespeel (Meiring 1999:125 ev).

3.3. Konferensies en versoeningslypskole wat deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en ander ekumeniese organisasies gereël is, asook verklarings wat van tyd tot tyd uitgereik is, het ’n bydrae gelewer. Dit was ook waar van inisiatiewe wat vanuit die NG Kerk gekom het, soos die Verklaring van die Ring van Stellenbosch wat tydens ’n openbare verhoor in die Paarl oorhandig is (15 Okt 1996) asook die Ope Brief wat deur Beyers Naudé en honderde ander NG ampsdraers en lidmate onderteken is (Meiring 1999:81 ev, 160 ev, 288 ev).

3.4. Maar dit was veral tydens die getuienisgeleentheid wat vir alle geloofsgemeenskappe geskep is (Oos-Londen, 17-19 Nov 1997) dat die verskillende kerke en ekumeniese liggame die geleentheid benut het om hulle eie verlede onder die loep te neem én om hulle rol in die versoeningsproses te beoordeel. Vir die NG Kerk was dit nie vanselfsprekend dat hy voor die WVK sou verskyn nie. Johan van der Merwe beskryf in sy hoofstuk in Moeisame pad na vernuwing op ’n plastiese manier hoe moeilik dit vir die Algemene Sinodale Kommissie was om uiteindelik sover te kom om die moderator van die Algemene Sinode, ds Freek Swanepoel, na Oos-Londen te stuur (Du Toit et al 2002:117-127). Maar uiteindelik hét ds Swanepoel gekom, en op die laaste sittingsdag die NG Kerk se verbintenis tot versoening in Suid-Afrika herbevestig. Op die gehoor – veral op die voorsitter, aartsbiskop Tutu – het dit ’n groot indruk gelaat (Meiring 1999:285 ev).

In baie opsigte was die Oos-Londense byeenkoms merkwaardig. Nie net het die kerke en die ander geloofsgemeenskappe – die Moslems, Hindoes, Jode, ensovoorts – die kans gekry om hulle eie rol tydens die apartheidsjare te beoordeel nie, maar ook om hulle verbintenis tot versoening te herbevestig. Onverwagte tonele het afgespeel. Toe die verteenwoordiger van die Anglikaanse Kerk, biskop Michael Nutall, opstaan om te praat het hy sy hand diep in sy eie boesem gesteek. Die Engelse gemeenskap, ook sy eie kerk, het in die verlede dikwels die vinger na die Afrikaanse kerke gewys, maar diep onder die oppervlak, het Nutall gesê, was rassisme en vooroordeel net so sterk aan die werk. Hy het voortgegaan:

In a strange way I think many white Anglicans in the CPSA owe an apology to the Afrikaner community for their attitude of moral superiority … Perhaps, Chairman, I could ask Professor Piet Meiring in his capacity as a member of the Commission kindly to receive this expression of apology from a bishop of the “Engelse Kerk” (TRC Report, Vol 5:387; Meiring 1999:277 ev).

Dié woorde is met applous begroet. ’n Soortgelyke tafereel het afgespeel toe pastoor Isak Burger en dr Frank Chikane, leiers van die wit en swart faksies van die Apostoliese Geloofsending, hulle verhaal van verwydering en versoening kom vertel het (Meiring 1999:285 ev).

Ds Freek Swanepoel se voorlegging het wye aandag geniet. Hy het die verhaal vertel van die moeisame pad wat die kerk moes loop, van entoesiastiese voorstander van apartheid tot op die punt waar die kerk sy skuld met skade en skande moes bely. Swanepoel egter het voortgegaan en die NG Kerk se verbintenis tot versoening herbevestig: Die onbegrip, onwilligheid en ongehoorsaamheid van baie lidmate en ampsdraers en aspekte van die nood in die samelewing, het hy verklaar, moet met skaamte bely word.

Teenoor hierdie mense vra die NG Kerk om verskoning en erken dat sy stem van protes en deernis te sag was. Ons droom van ’n land waarin mense mekaar aanvaar en waarin elke mens sy bydrae gee vir vreedsame naasbestaan (Meiring 1999:286 ev).

Die kommissarisse sowel as die gehoor het met waardering geluister. Hulle was gereed om die NG Kerk se verbintenis te aanvaar. Uit die bespreking wat op Swanepoel se verklaring – én veral op die daaropvolgende verklarings van die Verenigende Gereformeerde Kerk en die Ope Brief van Beyers Naudé en ander (wat in die afwesigheid van Naudé deur Nico Smith voorgedra is) – gevolg het, was dit egter óók duidelik: Die NG Kerk se woorde moet in dade omgesit word. Die uiteindelike lakmoestoets vir die NG Kerk sou wees: Hoe gaan dit met die versoeningsproses in die NG Kerkfamilie? Hoe vinnig vorder die NG Kerk op die pad na die herstel van kerkeenheid in eie geledere? (Meiring 1999:288 ev).

4. FINALE VERSLAG VAN DIE WVK: DIE ROL WAT KERKE EN GELOOFSGEMEEN- SKAPPE TEN OPSIGTE VAN VERSOENING BEHOORT TE SPEEL

’n Jaar ná die Oos-Londense gebeure het die WVK sy finale verslag aan president Mandela oorhandig. In die verslag is deeglik kennis geneem van die kerke en ander geloofsgemeenskappe se bydrae. ’n Lang hoofstuk is aan die Faith Community Hearing gewy (TRC Report, Vol 4:59-92). Die waardering van die kommissie is geboekstaaf. Maar die WVK het ook ’n aantal uitdagings aan die kerke en die geloofsgemeenskappe gerig:

Faith communities enjoy a unique and privileged position in South African society. They are widely respected and have far-reaching moral influence. As such, they should play a key role in healing and reconciliation initiatives (TRC Report, Vol 5:316).

Wat die genesingsproses in die land betref, is enkele voorstelle gemaak: die hou van versoeningsbyeenkomste asook die oprigting van traumasentra. Wat die herverdeling van bronne betref, was die vrae: Sou die kerke kon help met die bemagtiging van agtergeblewenes? Sou hulle bereid wees om wat hulle het met ander te deel? Sou hulle bereid wees om ’n land audit van hulle eie besittings te onderneem, om grond wat hulle deur die jare bekom het terug te gee of so aan te wend dat almal daaruit voordeel kon trek? Sou die kerke, soos in die verlede, wat onderwys, gesondheidsdienste en gemeenskapsontwikkeling betref, hulle plek vol staan? Wat sou die kerke se bydrae tot nasiebou wees? Oor die verhouding met die staat is veral ten opsigte van die kapelaansdiens voorstelle gemaak. Maar dit was veral oor die rol wat die kerke en die geloofsgemeenskappe ten opsigte van versoening kan en moet speel, dat heelwat sake in die WVK-rapport aangestip is (TRC Report, Vol 5:316 ev):

4.1. Kan die godsdienstige groepe maniere vind om met mekaar te kommunikeer, om konflik te voorkom en intergodsdienstige begrip te ontwikkel?

4.2. Kan die groepe gemarginaliseerdes, ook mense met antisosiale gedrag, opvang?

4.3. Kan die groepe ’n kultuur van verdraagsaamheid en vredevolle naasbestaan help kweek?

4.4. Kan maniere van aanbidding ontwikkel word wat taal- en kultuurverskille transendeer?

4.5. Kan hulle lidmate van swart en wit bevolkingsgroepe aan mekaar blootstel?

4.6. Kan hulle ’n forum, soos ’n vredeskorps, op die been bring om met talle versoeningsprojekte te help?

4.7. Kan die godsdienstige groepe “teologieë van versoening” ontwikkel?

Dit is duidelik dat die kerke in die land – by name die NG Kerk – op hierdie uitdagings sal moet reageer.

5. VYF UITDAGINGS AAN DIE NG KERK

Versoening is ’n brose besitting. Dit kom nie vanself nie. Dit het die WVK deeglik ervaar. Tydens ’n slypskool in Sebokeng (21 Jun 1997) het kanunnik Ben Photolo vertel hoe moeilik dit is, hoe die WVK die mite ontmasker het “that things can be done with magic dust, to bring people together and then they just start working together” (TRC Report, Vol 5:435). Watter bydrae sal die kerke, veral die NG Kerk, kan lewer om die versoeningsproses aan te help?

5.1. Die begrip versoening moet behoorlik gedefinieer word

Dit het vroeg al, gedurende die eerste weke van die WVK, duidelik geword dat daar ’n verwarring oor die begrip versoening heers. Wat is die versoening waarna ons streef? Wat hou dit alles in? Die WVK- kommissarisse self was verdeel oor hierdie saak. Terwyl die regsgeleerdes en die politici ’n minimalistiese definisie voorgestaan het (“Moenie te veel verwag nie. Wees bly as die gevegte op straat tot ’n einde kom, as die stof gaan lê. Verklaar dit tot versoening”), het Tutu en sy mede- baruti op die WVK met ’n meer verhewe, maksimalistiese, definisie gewerk. Tutu was lief om 2 Korintiërs 5:16-21 aan te haal en om daarop te wys dat ware versoening eers werklik moontlik is waar mense deur die offer van Christus met God versoen is. Op dieselfde wyse het Tutu die verteenwoordigers van ander geloofsgemeenskappe aangemoedig om vanuit die diepste bronne van hulle eie tradisies te help met die definiëring van hierdie begrip (Meiring 1999:386 ev). Die verwarring is nooit heeltemal opgeklaar nie. Tot aan die einde van die lewe van die WVK het kommissarisse van mekaar verskil. In sy minderheidsverklaring het advokaat Wynand Malan hom vir oulaas nog teen die godsdienstig gelaaide begrip van “versoening” uitgespreek (TRC Report, Vol 5:439, 442).

Ook buite die WVK is die debat gevoer. Talle navorsers het gepleit dat die begrip verhelder moes word – anders gaan die versoeningsproses skade ly. As ons nie weet wat versoening regtig is nie, hoe sal ons mense op die weg daarheen kan begelei? (Breytenbach 2002:6; Hamber 1997:3 ev). Die vraag is selfs gestel of daar nie – sy dit vir ’n bepaalde tyd – na ’n alternatiewe, minder belaaide woord gesoek moet word nie. Kan die NG Kerk ’n bydrae in die debat lewer, ’n verhelderende woord spreek?

5.2. ’n “Teologie van Versoening” moet ontwikkel word

Interessant genoeg was dit een van die uitgesproke uitdagings wat die WVK aan die geloofsgemeenskappe gerig het:

The Commission recommends that: religious communities develop theologies designed to promote reconciliation and a true sense of community in the nation. Particular consideration could be given to the role of whites as beneficiaries of apartheid, with regard to reconstruction and reconciliation; the empowerment of black people and those who have suffered gross violation of human rights to move beyond “victimhood” in regaining their humanity; the characteristics of good citizenship, the rule of law and the “common good” in society; (and) the articulation of a global ethical foundation which is in keeping with the major beliefs of the various religions (TRC Report, Vol 5:317).

Daar is ’n positiewe maar ook ’n potensieel gevaarlike kant aan dié uitdaging. Wat laasgenoemde betref: om van kerke te vra om ’n teologie te ontwerp wat die nasionale ideologie, die ideale van die huidige samelewing, omskryf en legitimeer, is onbillik en kan uiteindelik daartoe lei dat ons die hart van die evangelie aantas. Die NG Kerk het met sy “apartheidsteologie” die afgelope dekades het ’n baie duur les in dié verband geleer.

Maar dit neem nie weg dat ons entoesiasties kan meewerk aan die ontwikkeling van ’n Bybelse, evangeliese, teologie van versoening nie: ’n teologie waarin inderdaad aan al die aspekte van versoening (vertikaal en horisontaal), die proses van versoening, die koste van versoening, die dialoog met ander godsdienste, ensovoorts, aandag gegee word. Interessante bydraes is reeds vanuit NG Kerk-geledere gemaak, in sinodestukke (Du Toit et al 2002:102 ev), in openbare voorlesings en by talle konferensies en slypskole (vgl Breytenbach 2002:1-9). Een van die mees bruikbare pogings om ’n neutedop-teologie van versoening vir gemeentelede aan te bied, is opgeneem in die handboek Op pad na versoening, wat gedurende die Jaar van Hoop (2001) aan alle gemeentes van die NG Kerk gestuur is. Die omvangryke bydrae van Fanie du Toit wat talle aspekte van versoening soos dit in die Bybel aan die orde gestel word, beskryf (VAM-kommissie 2001:4-33), asook dié van Piet Naudé wat aandag vra vir wat die gereformeerde belydenisskrifte oor versoening te sê het (op cit, 34 ev) verdien spesiale vermelding. Die proses moet egter voortgesit word. Ou- en Nuwe-Testamentici, sistematiese teoloë, etici, kerkhistorici, praktiese teoloë en godsdiens- en sendingwetenskaplikes van al drie teologiese fakulteite van die NG Kerk het ’n groot verantwoordelikheid in dié verband. Van baie kante word daar na die NG Kerk met sy sterk gereformeerde tradisie gewys om leiding te help gee.

5.3. Die soeke na die “waarheid” duur voort

Gedurende die WVK-jare is hard gewerk om ’n billike weergawe van “die waarheid’ oor Suid- Afrika se apartheidsverlede op die tafel te kry. Uit die getuienisse van al die baie slagoffers en amnestie-aansoekers is gegewens versamel. Uitgebreide voorleggings van politieke partye en ander belangegroepe is oorweeg. Addisionele inligting is versamel. Die WVK het immers die opdrag gehad om so ’n duidelike beeld moontlik van die verlede te gee, waarin feite en motiewe behoorlik verwerk is. Die slagoffers en hulle gesinne het die waarheidsproses nodig gehad. So ook die oortreders. Vir baie was dit die eerste tree op die weg na herstel, vergifnis en versoening. Maar die nasie het dit net so nodig gehad om na die waarheid te luister, om daarmee gekonfronteer te word, beskaam te word, daarmee te worstel – en uiteindelik om te ervaar hoe die waarheid ’n mens vry kan maak.

Maar die proses is nog lank nie verby nie – en hier lê die uitdaging vir die NG Kerk, soos ook vir die ander kerke in die land. Twintig duisend slagoffers kon praat, kon ervaar dat hulle stemme ná al die jare gehoor word, kon uiteindelik genesing ervaar. Maar in ons land is daar nog miljoene slagoffers van alle bevolkingsgroepe wat met ewe veel pyn en frustrasie in hulle harte loop. Daar is dié wat as gevolg van apartheidswette gearresteer en tronk toe gestuur is, die miljoene wat uit hulle huise verskuif is, wat op talle maniere verontreg, verneder en beledig is. Daar is talle blankes wat óók gely het, wat in aanvalle beseer is, wat deur bomontploffings vermink is, wat geliefdes in die grensoorlog verloor het. Verdien hulle nie ook die kans om hulle verhale te vertel, om genesing te ervaar nie? Sou die kerk die proses kon voortsit deur mense in elke gemeente aan te moedig om mini-waarheidskommissies te hou, waartydens wit en swart, oud en jonk, slagoffers en oortreders, kon byeenkom om hulle stories te vertel, om mekaar se waarhede te ontdek?

“Africa is a place of story telling,” het Ellen Kutswayo geskryf. “We need more stories, never mind how painful the exercise my be. This is how we will learn to love one another. Stories help us to understand, to forgive and to see things through someone else’s eyes” (aangehaal uit Vugt en Cloete 2000:196).

5.4. Geregtigheid en versoening is twee kante van die selfde muntstuk

In ’n land waarin daar geen geregtigheid is nie – waarin die mense nie die reg op alle terreine van die lewe ervaar nie – is daar min kans op versoening. Versoening en geregtigheid het mekaar nodig, dit is twee kante van die selfde muntstuk. Versoening kan daarom nooit goedkoop wees nie. ’n Mens kan nie oor versoening praat as jy nie in dieselfde asem ook oor mense se verantwoordelikheid teenoor mekaar praat nie. In ’n land waarin een deel van die bevolking ryk is en ’n ander deel nie weet waar vanaand se kos vandaan gaan kom nie, kan ’n mens nie oor versoening praat sonder om ook oor armoede, vereensaming en magteloosheid te praat nie. Om ongemaklike sake soos regstellende aksie, reparasie-belasting en die grondkwessie op die agenda te plaas is nie oral gewild nie, maar dis nodig – as versoening ons erns is. Geen wonder dus dat die WVK die kerke juis op hierdie punt uitgedaag het nie. Sien die NG Kerk kans om sy lidmate op dié pad te begelei? Om self die pad te loop? Om die hand in eie boesem te steek, om sy eie bevoorregte posisie te heroorweeg, om sy eiendomme so aan te wend dat almal in die samelewing die voordeel daarvan trek? Om sy lidmate aan te moedig om hulle hande ter wille van reparasie en restitusie diep in hulle sakke te steek?

In Oos-Londen het ds Freek Swanepoel die NG Kerk verbind om op die pad van versoening en geregtigheid te loop. Verstaan ons die implikasies daarvan – en sien ons daarvoor kans? Te dikwels het kerke – ook die NG Kerk – ’n goedkoop versoening voorgestaan, wat die gelowiges alte maklik van hulle verantwoordelikheid kwytgeskeld het. Brandon Hamber praat van die “Dr Jekkyl en Mr Hyde”-gedaantes van versoening. In ons pogings om versoening te bewerkstellig kan ons óf alles wat om ons gebeur – die pyn en lyding, die geweld – vierkant in die oë kyk en hanteer, óf ons kan “versoening” as ’n handige, bose, verskoning gebruik om weg te kyk, te maak asof hierdie narighede nie bestaan nie (Hamber 1997:3 ev).

5.5. Lidmate moet op die pad van belydenis, vergifnis en versoening begelei word

Om by versoening uit te kom moet lidmate op die weg van skuldbelydenis en vergifnis begelei word. Om jou skuld te erken en te bely is nie ’n maklike saak nie. Die WVK-wetgewing het dit, vreemd genoeg, nie as ’n verpligting vir amnestie-aansoekers gestel dat hulle moes sê dat hulle jammer is, dat hulle om vergifnis moes vra nie. Maar dit moet van die kerk se kant duidelik gestel word dat ware versoening nie kan plaasvind as die oortreders – ook hele gemeenskappe wat ander verontreg het – nie bereid is om openlik voor God en voor mekaar hulle skuld te bely en om vergifnis te vra nie. Sou die NG Kerk sy lidmate deur sy prediking en sy pastoraat op dié pad – wat dikwels ’n eensame en traumatiese pad is – kon begelei?

Meer nog, kan die kerk die slagoffers, die veronregtes, help om te vergewe? Onder die NG Kerk se lidmate is daar óók mans en vroue met wie skokkende dinge gebeur het, wat moet leer om te aanvaar en te vergewe. Vergifnis, dit het die WVK-proses ons geleer, kan nie gereël of georkestreer word nie. Soms het dit gebeur, byna teen alle verwagtings in, dat oortreders en slagoffers mekaar omhels het, dat versoening plaasgevind het. Maar dikwels het die nie gebeur nie.

’n Mens moet daarmee rekening hou, staan daar heel nugter op die laaste bladsy van die WVK- verslag, dat mense in ’n gegewe omstandigheid nie kan vergewe nie, maar dat hulle tog wel gelei kan word om in vrede saam te leef, dat hulle hulle daartoe kan verbind om na vredevolle oplossings te soek. In ’n onlangse doktorale proefskrif het Christo Thesnaar ’n waardevolle analise van die proses van heling en versoening tussen slagoffers en oortreders in die post-WVK-periode gemaak, wat die ernstige aandag van predikante en terapeute verdien (Thesnaar 2001:22 ev).

Versoening moet nie net begelei en bewerkstellig word nie, stel die verslag dit verder. Versoening moet gevier word. Die kerklike gemeenskappe word in hierdie verband deur die WVK versoek om eredienste en seremonies te reël waartydens mense nie net gelei word tot skulderkenning en vergifnis nie, maar waar versoening op ’n verbeeldingryke manier gevier word. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het tydens die WVK-jare besondere versoeningsdienste gehou wat vir baie véél beteken het. Die Rite of Reconciliation wat gebruik is, word tans in talle kerke gebruik. Ook die Suid-Afrikaanse Katolieke Biskoppekonferensie het spesiale versoeningsliturgieë ontwikkel. In Thesnaar se proefskrif (2001:186 ev) asook in die handboek Op pad na versoening wat die VAM-kommissie vir gemeentes van die NG Kerk opgestel het, word eweneens voorstelle gemaak en wenke deurgegee. Sou die NG Kerk daarop kon voortbou? Bygesê: elke bydrae wat van die kant van die NG Kerk kom, sal in die oë van die ekumeniese gemeenskap geweeg word aan hoe ver die kerk op die pad na versoening en eenheid in die NG Kerkfamilie vorder.

Versoeningsdienste moet plaaslik in gemeenteverband gehou word, maar uiteraard ook ekumenies aangepak word. In baie gevalle – en dit was spesifiek deel van die WVK-voorstelle – sal dit intergodsdienstig gehou moet word. Is die kerk gerat om antwoorde te verskaf op al die teologiese en praktiese vrae wat hierdeur op die tafel geplaas word?

5.6. Sterk leierskap is nodig

Om versoener in die samelewing te wees, om te help om brûe tussen mense en gemeenskappe op te rig, vra sterk oortuiging, sterk senuwees en ewe sterk leierskap. Dis dikwels harde en ondankbare werk. Op ’n brug word getrap, oor brûe word geloop! Christus, die groot Versoener, het sy lewe op die spel geplaas – en Hy verwag van ons om sy voorbeeld te volg. In die dertigerjare van die vorige eeu het Dietrich Bonhoeffer die kerk teen die euwel van “goedkoop genade” gewaarsku, en vir “duur genade” gepleit. Ons sal ons lidmate in die jare wat voorlê moet leer om te verstaan hoe gevaarlik “goedkoop versoening” kan wees, hoe onmisbaar “duur versoening” is. Kan die kerk sulke leiers kweek?

In die WVK-verslag word – soos ook in die NG Kerk – veel van die rol van jongmense gemaak. Die toekoms behoort immers aan hulle. Die WVK-versoek aan die kerke was om nie net reconciliation forums te vestig waardeur lidmate in die kuns van versoening afgerig kan word nie, maar veral dat daar vir jongmense ’n vredeskorps (peace corps) gestig moet word, wat wit en swart jeugdiges by vredesprojekte betrek. Sien die sinodale jeugkommissies van die NG Kerk vir hierdie uitdaging kans?

6. SLOT: “ONS WAS GEWOND, MAAR ONS IS GENEES …”

Dié woorde van Desmond Tutu, die dag toe die WVK-verslag aan die president van Suid-Afrika oorhandig is, het uit sy hart gekom: “We have been wounded but we are being healed. It is possible … to become one people, reconciled, caring, compassionate and ready to share as we put our past behind us, to stride into the glorious future God holds before us as the Rainbow People of God.” President Mandela het die verslag met ’n glimlag ontvang. “Ek aanvaar die verslag soos dit is, met al sy onvolmaakthede as dié hulp wat die WVK ons bied om by versoening en nasiebou uit te kom” (Meiring 1999:377). Die vraag is: wat maak die kerke – by name die NG Kerk – met die verslag?

BIBLIOGRAFIE

Boraine, Alex 2000. A Country Unmasked. Oxford: Oxford University Press.

Breytenbach, Cilliers 2002. Using exegesis: on reconciliation and forgiveness in the aftermath of the TRC. Ongepubliseerde artikel.

Du Toit, Flip, Hofmeyr, Hoffie, Strauss, Piet & Van der Merwe, Johan 2002. Moeisame pad na vernuwing. Bloemfontein: CLF-Uitgewers.

Hamber, Brandon 1997. Dr Jekyll and Mr Hyde: Problems of violence prevention and reconciliation in South Africa’s transition to democracy. Johannesburg: Centre for Violence and Reconciliation.

Jeffery, Anthea 1999. The Truth about the Truth Commisison. Johannesburg: SA Institute for Race Relations.

Meiring, Piet 1999. Kroniek van die Waarheidskommissie. Vanderbijlpark: Carpe Diem.

Roodt, Dan 2000. Om die Waarheidskommissie te vergeet. Dainfern: Praag.

Thesnaar, Christoffel H 2001. Die proses van heling en versoening: ’n Pastoraal-hermeneutiese ondersoek van die dinamika tussen slagoffer en oortreder binne ’n post-WVK-periode. Doktorale proefskrif, Universiteit van Stellenbosch.

Truth and Reconciliation Commission 1998. Truth and Reconciliation Commission of South Africa. Report, Vol 1-5. Cape Town: TRC.

Tutu, Desmond 1999. No future without forgiveness. Londen: Rider.

Van Vugt, Willaim E & Cloete, Daan 2000. Race and Reconciliation in South Africa. Lanham: Lexington Books.

VAM-kommissie 2001. Op pad na versoening. Pretoria: NG Kerk.