Die rol van die patriargale diskoers in pastorale gesprekke
ABSTRACT
The role of the patriarchal discourse in pastoral conversations
The stereotypical patriarchal discourse has been part of humankind for thousands of years. Since the Second World War, rapid changes have occurred in the roles fulfilled by women. The traditional family with male headship, where the husband is employed and the wife is supposed to be at home, looking after the children, hardly exists any more.
These changes have created new problems, which put pressure on both sexes. A power struggle between the sexes; uncertainty in terms of fulfilling a specific gender role; violence against women; men overreacting to the point of being weak; absent fathers, and increasing stress in a post-modern society.
The pastor utilising the narrative approach can assist people to look differently at their own stories and guide them to view their own stories from a new perspective. Specific conversational questions, genograms, eco maps and reframing are ways in facilitating story-telling, story-listening and story-development.
This article uses the metaphor of a minefield. The “mines” are the different problems in the patriarchal discourse; the pastor is the hearing aid being utilised by the sapper to listen to old noises in a new way. The study unfolds with a creative tension between defusing and explosion concerning a narrative approach towards the patriarchal discourse in pastoral family therapy.
1. INLEIDING TOT ’N MYNVELD
Hierdie artikel handel oor die invloed van mense se onbevraagtekende idees, daardie verwagtings van wat die man en wat die vrou se rol is. Daar word spesifiek gekyk na die invloed van die patriargale diskoers in die pastorale situasie. Die pastor is deel van die gesprekke oor die patriargale diskoers, binne ’n pastorale ontmoeting, maar ook deel van die groter storie tussen die geslagte.
’n Diskoers het te doen met idees, persepsies en oortuigings wat in ’n kulturele konteks bestaan en onbevraagtekend aanvaar word as die waarheid. In hierdie artikel word die diskoers vanuit ’n narratiewe perspektief aangespreek. Die narratiewe benadering werk graag met metafore. Die “metafoor” wat vanself in die gesprek na vore kom, behoort toegelaat te word om die terapie te lei (Combs & Freedman 1994:68-69). In hierdie geval word die beeld van ’n mynveld gebruik om die ontlonting van die patriargale diskoers in die pastoraat aan te dui.
2. NARRATIEWE BENADERING (PRAAT-PRAAT DEUR DIE MYNVELD)
Die narratiewe model se werkwyse is kortliks om in die verhaal wat vertel word, ’n insident of situasie te ontdek (“unique outcome”) wat teenoor die problematiese, dominante storie staan. Die term “unique outcome” is heel eerste deur Michael White aangewend. Dit verwys na die onverwagte, onbeplande en soms verrassende onderliggende stories wat mense se lewe kan verander (Müller 2000:55; 2001:64). Deur die terapie vind mense nuwe betekenis in die verskille en herskryf of hervertel hulle ou probleem-versadigde storie (Freedman & Combs 1993:291-303).
Die onderbou van enige nuwe storie lê dus reeds onderliggend; dit moet net opgespoor word. Elke nuwe sensasie of stimulus, interpersoonlike transaksie, of dit nou bewustelik of onbewustelik is, word deur ons denkprosesse in ’n storievorm gegiet en dikwels so bewaar (Müller 1996:19-20).
Mense wat hulp soek by ’n terapeut kan beskryf word as mense wat voel dat hulle lewenstories ingeperk word en dat die beskikbare opsies óf pynlik óf onbevredigend is. Die narratiewe pastoraat is betrokke in die fasilitering van ervarings in nuwe stories – lewenstories wat mense bemagtig, hulle gelukkig maak en hoop vir ’n beter toekoms skep (Combs & Freedman 1994:69).
Aan die hand van ’n gevallestudie gaan daar na die invloed van die patriargale diskoers in die pastorale situasie gekyk word.
3. GEVALLESTUDIE: TRANE VAN BLYDSKAP
Die egpaar is nege jaar getroud en albei werk voltyds. Sy voel dat hy nie in staat is om enige emosie teenoor haar of hulle kinders te wys nie. Hy word woedend wanneer hy met haar probeer gesels en die gevoel kry dat sy sommer dadelik weet wat hy nou eintlik probeer sê. Sy reaksie is: “Dan hoef ek niks verder te sê nie, want sy weet tog klaar wat ek wil sê.” Sy sê hy bly só lank stil dat sy aanneem hy het klaar gepraat en omdat sy nie presies weet wat hy nou eintlik bedoel nie, sê sy dan maar wat sy dink hy moes gesê het.
Verbatim
T1: Ek is nie ’n grootprater nie. Ek sukkel om myself uit te druk. Ek is bereid om te kom praat, maar dit is vir my sleg as sy vir my besluit
P22 : Kan julle aan ’n spesifieke gebeurtenis dink toe dit gebeur het?
C3: Ja, verlede week toe ek probleme by die werk gehad en hy vir my raad gegee het. Ek wou net aan hom verduidelik hoekom dit nie so goeie plan was nie. Toe het hy hom vir my vererg en ’n gat deur die gangdeur geslaan.
P4: Wat wou jy sê deur die gat in die deur te slaan?
T5: Ek is “gatvol” vir haar teenargumente! Sy dink sy weet alles.
P6: Wat doen dit aan jou as dit vir jou lyk of sy altyd met teenargumente maak of sy alles weet?
T7: Hoekom moet ek nog moeite doen? Dit voel of ek my tyd mors. Ek kry daardie gevoel!
P8: Vertel my ’n bietjie meer van hierdie gevoel, is dit ’n goeie of ’n slegte ding, en wat maak jy met die gevoel?
T9: Dit is sleg. Ek probeer liewer vlug. Ek hol na ’n omgewing waar ek emosionele beheer het. Eintlik waar daar geen emosies is nie. Gewoonlik na die garage.
P10: As ek jou reg verstaan, is emosies eintlik iets slegs. Iets wat van die lyf weggehou moet word of waarvan daar weggevlug moet word. (Hy knik instemmend.) Waar kom die idee vandaan dat emosies ’n slegte ding is en dat jy jouself nie goed kan uitdruk nie?
T11: Ons hele familie dink so.
P12: Dink hulle so oor hulleself of dink die hele familie so oor jou?
T13: Hulle dink so oor al ons Von Helsdingens.
P14: Kan jy dink aan ’n voorbeeld oor hoe die familie optree sodat emosies ’n slegte ding is, wat nie uitgedruk en gewys mag word nie?
T15: Die hele familie is in trane by elke troue. Almal huil, maar niemand praat daaroor nie, want hulle kry skaam.
C16: Julle mans sal soms na die tyd daaroor spot en grappies maak.
P17: As die trane kon praat, wat sou hierdie trane wou sê?
T18: Trane van blydskap. Ek het op my eie troue gehuil omdat ek bly was.
P19: Is hierdie trane van blydskap ’n goeie of ’n slegte ding?
C20: Dit is ’n goeie ding.
P21: Help my, asseblief. As dit ’n goeie ding is, hoekom steek julle dit dan weg en hoekom is julle dan skaam vir die trane?
T22: Ek het nog nooit so daaraan gedink nie. Miskien is ons so in die gewoonte om te huil en skaam te wees sonder om te daaroor te dink. Die mans in ons familie het nog altyd ons emosies gehanteer deur dit weg te steek. As ek nou daaroor dink, is die emosies altyd daar, dit mag net nie gewys word nie. Dit is net by troues dat dit uitglip en dan huil almal saam.
P23: Ons weet nou dat jy wel emosies het. Ons weet ook dat jy met die idee grootgeword het dat emosies nie gewys mag word nie. Ons weet dat daardie storie nie goed werk in julle huwelik nie. Hoe dink jy kan jy in die toekoms jou emosies wys in die lig van ons gesprek en die opmerking wat jy gemaak het dat dit goeie trane is, trane van blydskap?
Die gesprek het ontwikkel waar hy self besluit het dat hy mag wys hoe hy voel. Hy het erken dat die lang uitgerekte gesprekke doelbewus was om aan die een kant beheer oor sy eie emosies te behou en om aan die ander kant presies te beplan wat hy wil sê. Sy woede was eintlik oor die gemak waarop C kon reageer en skynbaar moeiteloos meestal korrekte aannames maak oor hoe hy “voel”, wat dan eintlik volgens hom ’n geheim moes gewees het. Die patriargale stereotipes van hoe ’n man op emosies en dergelike dinge “moet” reageer, het so tot ’n lewenskrisis ontwikkel.
Die “unique outcome” was die beeld van almal wat huil, maar niemand praat daaroor nie en waar hy self besef het die trane van blydskap is iets goeds.
4. DIT IS BETER EN MOOIER AAN DIE ANDER KANT VAN DIE MYNVELD
Ons is op soek deur die narratiewe na ’n nuwe, beter, mooier storie. ’n Storie wat uit die ou storie vloei deur die huidige heen op pad na die toekoms. Om weer die beeld van die mynveld te gebruik: die narratiewe benadering is die instap met jou luisterapparaat in die mynveld, en om só fyn te luister na die seine dat die landmyne gesystap óf uitgehaal en onskadelik gestel kan word.
5. MET OF SONDER ’N PLAN DIE MYNVELD IN? NIE PLANLOOS NIE
Net soos sekere tegnieke en reëls geld wanneer daar na landmyne gesoek word, is daar riglyne in die narratiewe benadering. Net so min as wat die sappeur voor die tyd presies weet waar hy deur ’n ongekarteerde mynveld gaan beweeg, net so min weet die terapeut voor die tyd waarheen die gesprek gaan lei.
Die doelwit is om aan die ander kant uit te kom, die myne skadeloos te stel en so lewens te red. Wat ons weet, is: luister fyn, want jou lewe is op die spel; wees bedag op klein, skynbaar onbeduidende opmerkings, daaronder lê dalk ’n landmyn, en moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Die grootste risiko hier is dat die terapeut te vinnig praat en te stadig luister.
6. OM TE WEET EN NIE TE WEET NIE?
Die narratiewe terapeut se uitgangspunt bly een van “not knowing” (vgl Jordaan 1996:3-5; Lowe 1991:41-43). Die narratiewe terapeut is deel van die gesprek, hy/sy is persoonlik betrokke en het sy/haar eie belewenis van die gesprek.
Net soos dit onwaarskynlik is om fisiek onaangeraak deur ’n mynveld te beweeg, net so is dit vir die terapeut onwaarskynlik om emosioneel onaangeraak deur die gesprek te beweeg.
Jy moet eerlik met jouself wees, in voeling met jou ervaringswêreld. Wat doen die gesprek aan jou? Ervarings van empatie, neutraliteit, ongemak, woede, instemming en soveel meer kan in jou na vore tree. Hier moet die terapeut dit kan herken, erken en hanteer. Dit is belangrik om bewus te wees van jou eie subjektiwiteit (White 1998:72-73).
7. ELKE MYNVELD VERSKIL
Mense besoek meestal terapeute om die een of ander probleem aan te spreek. Hulle verwag dat die ooglopende probleem gehanteer moet word. Een van die eerste doelwitte in die narratiewe benadering is die ontwikkeling van ’n alternatiewe storie, wat nie so deurdrenk is met die probleem nie (Freedman & Combs 1996:42).
Jou rol as terapeut is om deur die gesprekke van mense hulle eie stories te hoor en om sensitief te wees vir die bestaan van verskillende diskoerse sonder om dit op die gesprek af te dwing. Die terapeut moet mense se eie stories vir hulleself laat praat. Hy/sy sal wel deur die stel van sekere vrae en die uitlig van sekere insidente die gesprek begelei. Die terapeut is deel van die proses en daar is nie sprake van ’n objektiewe buitestander nie.
Daarom is dit natuurlik vir die pastor-terapeut om ook in die gesprek gebonde te bly aan sy/haar eie geloofsoortuiging. In die natuurlike ontwikkeling van die gesprek kan dit ook nie anders as dat die betrokkenes uiteindelik self hulle eie uitgangspunte ondersoek en dit in verhouding bring met die Groot Storie van Jesus Christus en sy verlossingswerk nie.
8. STEREOTIPES IN DIE TRADISIONELE PATRIARGALE GESIN
Die tradisionele gesin bestaan uit ’n vader, wat die broodwinner en beskermer is, en die moeder, wat na die huiswerk omsien. Sy sorg ook vir die gesin se emosionele welstand en kyk na die kinders. Die tradisionele gesin was patriargaal (Balswick & Balswick 1998:143). Die man het voor die tegnologiese era fisiek ’n voorsprong bo die vrou gehad en daarom die harde werk buitenshuis gedoen. Die vrou se fisieke verbintenis met die geboorteproses het haar met kinders verbind en sy het al hoe meer betrokke geraak by hulle versorging en by die take binne die huis (Balswick & Balswick 1998:154). Die verskille kan meestal as kultureel gekondisioneerd beskou word.
Tabel 1: ’n Uiteensetting van stereotiepe rolverwagtings
Man | Vrou |
Broodwinner Beskerm teen gevare Buitenshuis, bv tuin en natuur Voertuie diens Gebreekte goed herstel Elektroniese/elektriese apparaat Groot finansiële besluite, bv huis Tugtigingsrol tov kinders Rugby, bier, jag en die buitelewe Dominerend, neem besluite Onemosioneel, ongevoelig Praat nie oor persoonlike sake nie Seksueel aktief (jagter) Sterk, hard en ru Taakgeoriënteerd Tuisteskepper | Tuisteskepper Wil beskerm en vertroetel word Binnenshuis, bv versiering, bak Klere maak, blomme rangskik Huis skoonmaak Kosmaak, strykwerk Klein finansiële besluite en inkopies Speel hoofrol in kinderopvoeding Teepartytjies, skoonheidsbewus Inskiklik, aanvaar man se gesag Emosioneel, toon gevoelens Praat maklik oor persoonlike sake Seksueel passief (prooi) Sag, teer en sensitief Mensgeoriënteerd |
9. DIE MAGSWANBALANS TUSSEN DIE GESLAGTE
Die magswanbalans binne ’n gesin word nie net deur die breër kultuur ondersteun nie, maar selfs aangemoedig. Dit geskied deur die dominante stories in die gemeenskap oor klas, seksuele oriëntasie, ras, geslag, ensovoorts, wat die wanbalanse in stand hou (Freedman & Combs 1996:68). Ons stories van die werklikheid bepaal hoe ons die werklikheid waarbinne ons leef, han- teer. Freedman haal vir David Reiss aan: “Indeed the family is sustained by, and contributes to, the constructions of the community in which it lives” (Freedman & Combs 1996:68).
Alhoewel die gevallestudie nie in die tradisionele patriargale gesin se patroon val nie, is die invloed van sy familie van oorsprong baie sterk sigbaar. Dit skep die fondament van die patriargale diskoers in sy lewe, idees wat onbevraagtekend aanvaar word as die waarheid. Mans mag nie emosie toon nie, want dit is ’n vorm van swakheid. Hulle moet altyd in beheer wees en aggressie is aanvaarbaar.
Die insidensie van mishandeling, verkragting en gesinsgeweld in Suid-Afrika is onaanvaar- baar hoog. Lewis maak die volgende opmerking: “Violence against women is often the result of unequal relationships between men and women in a particular society” (Lewis 1999:119-120). Lewis verwys na Suid-Afrika as ’n land met baie seksistiese en patriargale idees. Geweld is algemeen in samelewings as gevolg van die lae status en waarde van vroue in die gemeenskap. Die gevallestudie verwys na ’n man wat ’n gat in ’n deur slaan in sy woedebui, wat ’n vorm van gesins- geweld is.
10. DIE OORSAKE VAN DIE VERANDERING BINNE DIE GESLAGTE SE ROLVER- WAGTINGS
Die huisgesin is al eeue lank hoofsaaklik patriargaal gestruktureerd. In die eerste eeu het die man die vernaamste posisie in die huishouding beklee, met sy vrou en kinders volledig ondergeskik aan sy gesag (Joubert 1996:37). Veral in die Romeinse wêreld het die vader lewenslange mag oor sy gesin gehad, selfs nadat die kinders getroud is. So ’n vader het die reg gehad om sy kinders as slawe te verkoop en hulle selfs om die lewe te bring. Hierdie mag van lewe en dood is eers in die jaar 374 nC deur keiser Valentinianus herroep (Malina, Joubert & Van der Watt 1995:6-7).
Die Tweede Wêreldoorlog het die geleentheid geskep waardeur vroue die eeue oue patroon van die man wat buite die huis werk en die broodwinner is, en die vrou wat binne die huis werk, kon begin wysig. Die vroue moes noodgedwonge in die fabrieke werk, aangesien al die mans op die oorlogsfront was. Dit was die begin van die twee-inkomste-gesin (Gerkin 1997:161).
Na die Tweede Wêreldoorlog was die vroue nie bereid om hulle nuutgevonde vryheid af te staan nie, want hulle het die vryheid, hoër inkomste en eie inkomste geniet. Met die verskuiwing na elektronika en die rekenaarera het die man se fisieke voorsprong verlore geraak. Dit het die speelveld tussen mans en vroue baie meer gelyk gemaak, aangesien intellektuele vermoëns tans die pas aangee. Balswick en Balswick (1998:154) wys ook op die impak van voorbehoedmiddels wat kleiner gesinne moontlik gemaak het.
Die realiteit is dat daar ’n ver pad gestap is in die Westerse wêreld van toe tot nou. Van die tendense wat volgens Browning (1997:21) die veranderinge in rolle moontlik gemaak het, is:
• Die beweging in die Westerse samelewing na individualisme.
• Die groei van materialisme, asook regerings se toenemende invloed in die gewone mens se lewe deur sosiale wetgewing.
• Die kragtige sielkundige veranderinge, as gevolg van bogenoemde tendense, het mense beïnvloed.
• Die invloed van die patriargale stelsel wat, alhoewel dit aan die afneem is, steeds ’n beduidende invloed het.
Hierdie tendense is interaktief en beïnvloed mekaar deurlopend.
11. DIE GEVOLGE VAN DIE VERANDERING BINNE DIE GESLAGTE SE ROLVER- WAGTINGS
Die veranderinge het daartoe gelei dat nóg mans nóg vroue heeltemal seker is van watter rol hulle moet vervul. Die man wat nie die vrou wil domineer en alle besluite namens haar wil neem nie, kan die gevaar loop om ruggraatloos, selfs pateties, voor te kom. Sekere vroue, op hulle beurt, word dan gefrustreerd met hulle mans, indien dié nie die leiding neem en optree binne die raamwerk wat hulle van hulle huweliksmaat verwag nie (Browning 1997:69). Hierdie onsekerhede lei tot verwarring, besluiteloosheid, frustrasies, teleurstellings en ’n ambivalensie tussen man en vrou.
Sommige Christene probeer terugkeer na die tradisionele patriargale gesinstrukture waarin die rolle duidelik uitgespel is. Ander neig weer om individualisme te oordoen, wat selfvervulling die enigste dryfveer maak (Balswick & Balswick 1998:164-165; Gerkin 1991:14-15).
Die gevallestudie bevestig die veranderinge; albei werk voltyds en die vrou is baie meer selfgeldend in hulle huweliksverhouding, veral as hy nie wil praat nie. Sy beleef dit uiters frustrerend dat hy nie met haar ’n “normale gesprek” kan voer nie. Die man beleef dit bedreigend en reageer aggressief daarop; totdat hy self gesnap het dat om sy emosies te wys nie iets slegs is nie. Hy moet nou ’n nuwe storie skep om in ’n nuwe verhouding met sy vrou te leef.
12. OM TOT VERHAAL TE KOM
In die narratiewe pastoraat word die verhaal nie net gesien as ’n manier om informasie vry te stel nie, maar inderdaad as ’n manier om letterlik en figuurlik tot verhaal te kom. Mense word gelei om hulle stories op so ’n wyse te vertel en te hervertel dat daar herinterpretasie en rekonstruksie plaasvind (Müller 1996:104-105). Nuwe lewensverhale skep ’n nuwe toekoms.
Die pastorale terapeut se taak in die narratiewe gesprek kan kortliks soos volg saamgevat word (vgl Müller 1996:104-105):
Help die gesin om hulle verhaal van nood so geartikuleerd moontlik te vertel.
1. Lei die gesin om die storie van die verlede te vertel. Dit gaan oor hulle eie geskiedenis en dié van gesinne van herkoms.
2. Help die gesin om die storie van die toekoms te vertel. Daar moet nou ’n verbintenis tussen die twee stories geskep word; die beeld van ’n omleidingsoperasie en bloed wat vloei word gebruik. Wanneer daar ’n vloei tussen die storie van die verlede en die storie van die toekoms ontstaan, skep dit eintlik ’n nuwe huidige storie.
3. Deur die positiewe herstrukturering van die verledeverhaal word dieselfde stel feite in ’n ander, meer aanvaarbare storie omskep.
4. Op grond van die geherstruktureerde verledeverhaal kom die toekomsverhaal ook onder rekonstruksie. Die nuwe toekomsbeeld word deur middel van verbeelding geskep.
Die terapeut kan in die lig van genoemde materiaal ’n beter begrip van die problematiek tussen die geslagte hê. Die volgende kan dien as riglyne:
• Die verstaan van die gesin se huidige situasie en die herkenning van die probleem is noodsaaklik. Terselfdertyd kan gefokus word op die sterk punte van die gesin, byvoor- beeld die energie wat reeds afgestaan is om die probleem te probeer hanteer, ongeag die suksesse daarvan. Die terapeut kan deur die volgende vrae aan hom-/haarself te vra ook probeer om op ’n kreatiewe wyse die gesprek so te stuur dat dit die patriargale diskoers na vore bring (Freedman 1996:68; Burnham 1993:146-159):
► Watter invloed het die patriargale rolle in die pastorale proses?
► Wie word deur die huidige gesinstruktuur bevoordeel of benadeel?
► Wie sal die meeste geaffekteer word indien die patrone verander, positief en negatief?
► Wie neem die besluite in die gesin?
► Indien die gesin ’n spesifieke probleemstelling maak, is dit enigsins moontlik dat die probleem onderliggend verbind kan wees met die patriargale denkpatrone?
► Wat voed die probleem?
► Wat onderdruk of verminder die probleem?
► Wie word deur die probleem bevoordeel?
13. DIE GENOGRAM
Die genogram is ideaal om antwoorde van bogenoemde vrae aan ’n raamwerk te koppel. Dit is ’n diagram waarop familiebande, ouderdom, geslag en mylpale soos geboortes, huwelike, egskeidings en sterftes ingevul word.
Genogram-byskrifte (Milller 1991:56-57)
Die genogram verhelder die patrone binne ’n gesinstruktuur oor geslagte heen (Müller 1991:55-57). Tydens die invul van die genogram behoort daar spesifiek aandag aan emosionele bande en die patriargale rolle binne die verskillende generasies gegee te word.
14. VLOEI VAN DIE VERLEDE DEUR DIE NOU NA DIE TOEKOMS
Daar word uitgegaan van die standpunt dat ’n storie wat ’n vloei het van die verlede deur na die toekoms die nodige veranderingspotensiaal bevat wat by daardie betrokke sisteem pas (Müller 1996:105). Dit wil sê, die potensiële oplossing lê reeds êrens verskuil in elke mens se verhaalreservoir en moet weer gevind word. Die narratiewe benadering is by uitstek die ideale benadering om ’n bewustheid vir die patriargale diskoers te skep. Elke generasie het sy eiesoortige vrae en probleme met die patriargale stelsel.
15. ONS TOEKOMSSTORIE
Ons toekomsstorie behoort een te wees waarin die man nie oor die vrou heers nie en die vrou nie oor die man probeer heers nie; waarin elkeen se behoeftes en belange ewe swaar weeg; waarin die een nie ten koste van die ander wen nie; waarin ons as samelewing sterker standpunt inneem teen verkragting en gesinsgeweld; waarin daar nie sulke vaste voorafopgestelde idees oor die rolle is nie, maar waarin die mees geskikte persoon vir die taak dit kan doen, ongeag geslagspersepsies.
In die narratiewe benadering voel ons nie gemaklik met voorskriftelikheid wat ’n vaste patroon op alle huwelike probeer afdwing nie. Wanneer mense self ’n plan vind wat hulle na die ander kant van die mynveld kan lei, word hulle bemagtig vir die toekoms. Die gevaar is om te gou te dink jy is deur die mynveld en dan in jou euforie ’n myn raak te trap. Ons is steeds op pad aangesien dit ’n voortgaande proses is.
16. DIE GROOT STORIE
Deur die Groot Storie van Jesus Christus word ons geroep tot en sensitief gemaak vir die uitoefening van die regte keuses. Die narratiewe pastoraat maak mense se goeie en slegte stories oop, terwyl dit ook die moontlikhede van alternatiewe, beter stories vir die toekoms ontgin. Dit fasiliteer die maak van nuwe keuses; dit gaan uit van die veronderstelling dat ons self kan kies en dat ons nie magtelose pionne is wat blind in ’n mynveld inploeter en net hoop vir die beste nie.
So kon ons ook die gevallestudie “Trane van blydskap” beleef as ’n stukkie ontwikkeling in die rigting van ’n alternatiewe verhaal. Dit verteenwoordig ’n klein, maar betekenisvolle ontwikkeling weg van die stereotipe diskoers van gewaande manlike krag en die onderdrukking van emosies.
Wanneer ’n alternatiewe verhaal besig is om te ontwikkel, ’n verhaal waarin daar opgestaan word teen ’n neerdrukkende dominante storie, soos die patriargale diskoers, vind daar bemagtiging plaas. Waar daar bemagtiging is, is daar ook identiteitsontwikkeling en die hoop op ’n beter toekoms. In die woorde van Kundera (1998:152):
“Who was dreaming? Who dreamed this story? Who imagined it? She? He? Both of them?”
BIBLIOGRAFIE
Balswick, J O & Balswick, J K 1998. The Family, A Christian Perspective on the Contemporary Home (negende druk). Grand Rapids, Michigan: Baker Book House.
Browning, D S 1997. From Culture Wars to Common Ground, Religion and the American Family Debate. Westminister: John Knox Press.
Burnham, J B 1993 (vyfde uitgawe). Family Therapy. First steps toward a Systemic Approach. Londen: Routledge.
Combs, G & Freedman, J 1993. Invitations to New Stories. Therapeutic Conversations. New York: W W Norton & Company.
Freedman, J & Combs, G 1994. Narrative Intentions, in Hoyt M F (red). Constructive Therapies. New York: The Guilford Press.
Freedman, J & Combs, G 1996. Narrative Therapy. A Social Construction of Preferred Realities (vyfde uitgawe). New York: W W Norton & Company.
Gerkin, C V 1991. Prophetic Pastoral Practice, A Christian Vision of Life Together. Nashville: Abingdon Press.
Gerkin, C V 1997. An Introduction to Pastoral Care. Nashville: Abingdon Press.
Joubert, S 1996. Die huwelik in die Nuwe Testament. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 11/2, 37-47.
Jordaan, W 1996. Postmodernisme en die huwelik. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 11/2, 1-13.
Kundera, M 1998. Identity. Kent: Mackays of Chatham PLC, Chatham.
Lewis, S 1999. An Adult’s guide to Childhood Trauma. Kaapstad: David Philips Publishers.
Lowe, R 1991. Postmodern Themes and Therapeutic Practices: Notes towards the definition of Family Therapy. Part 2. Dulwich Centre Newsletter No 3 School of Social Science, Queensland University of Technology 41-52.
Malina, B, Joubert, S & Van Der Watt, J 1995. Vensters wat die Woord laat oopgaan. Halfway House: Orion- Uitgewers.
Müller, J C 1991. Grafika as hulpmiddel in die pastorale gesprek. Skrif en Kerk Jrg 12/1, 54-63.
Müller, J 1996. Om tot verhaal te kom: Pastorale gesinsterapie. Pretoria: RGN. (RGN-studies in Praktiese Teologie.)
Müller, J 2000. Reis-geselskap. Die kuns van verhalende pastorale gesprekvoering. Wellington: Lux Verbi.BM.
Müller, J 2001. Therapy as fiction writing. NGTT, Deel 24, Nommers 1 & 2, Maart en Junie 2001, 64-70.
White, M 1998. Re-Authoring Lives Interviews & Essays. (Eerste herdruk.) Adelaide: Dulwich Centre Publications.
1 Francois Neethling is ’n doktorale student aan die Universiteit van Pretoria. Hierdie artikel reflekteer van die navorsing wat hy vir sy MA (pastorale gesinsterapie) gedoen het onder dieselfde studieleier, prof J C Müller, wat verbonde is aan die Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria.
2 Die gesprek is gevoer deur W G F Neethling.