O’Kennedy, D F
Universiteit van Stellenbosch

Wat sê die Bybel oor vernuwing en transformasie in die gemeente? (Deel 1: Ou Testament)1

ABSTRACT

What does the Bible say about renewal and transformation in the congregation? (Part 1: Old Testament)

Many church leaders and congregation members discuss the theme of renewal and transformation in the church. Often they discuss these transformation processes from the perspective of sociology or management sciences. One can learn from these perspectives but it is a pity that in many instances they neglect the biblical basis of renewal. This article is the first in a series of two articles and poses a possible answer to the following question: What does the Bible teach us on renewal and transformation in the church? This article focuses on the Old Testament and the issue is discussed under the following subheadings: (1) birth and growth of the people of God (patriarchs); (2) God’s people in Egyptian slavery; (3) God’s desert people with Torah and tabernacle; (4) God’s people settle in a land; (5) God’s people with a king and temple; (6) God’s people in exile; (7) God’s people restored after exile; (8) sages – part of God’s people. The Old Testament testifies that God’s people reflected on every new phase in their history. In almost every instance there were new ministering structures and new leadership patterns. In many cases we hear new theological viewpoints or a reaction to previous perceptions.

1. INLEIDING

Daar word heelwat in gemeentes regdeur die land oor vernuwing en transformasie besin. Dikwels word hierdie vernuwingsprosesse vanuit die perspektief van die sosiologie en die bestuurswetenskappe bekyk. Gemeentes kan baie by die bestuurswetenskappe leer oor hoe om die kerk reg te bestuur en in die proses ontstaan ’n verhouding tussen teologie en die bestuurswetenskappe.2 Dit is egter jammer dat daar in sommige gesprekke en publikasies oor vernuwing so min gekyk word na wat die Bybel oor vernuwing sê. Die Bybelse begronding word baie dikwels afgeskeep of geïgnoreer.3

Gereformeerde gelowiges verwys telkens na die frase Sola Scriptura (Die Woord alleen) en juis daarom moet die Bybel ’n prominente rol in die hele nadenke oor vernuwing en transformasie inneem. Professor Piet Naudé het tydens die tweede BUVTON-konferensie oor “Verant- woordelike vernuwing” (Stellenberg, 28-30 Aug 2001) die volgende stelling gemaak: “Die Bybel is nie ’n handboek by transformasie nie; die Bybel is die handboek vir transformasie.” Hierdie artikel probeer ’n moontlike antwoord bied op die vraag: Wat sê die Bybel4 oor vernuwing en transformasie?

Die bedoeling van die artikel is nie om ’n indringende prakties-teologiese of ekklesiologiese antwoord oor vernuwing en transformasie te verskaf nie. Daar word ook nie op ’n leksikografiese wyse ’n studie gemaak van Ou-Testamentiese begrippe binne die semantiese veld “nuut” of “vernuwing” nie. Die artikel probeer om ’n breë, algemene oorsig te gee van hoe geloofsge meenskappe volgens die getuienis van die Ou Testament geleef het.5 Vanuit hierdie breë oorsig word ’n paar moontlike riglyne afgelei wat ons in ons nadenke oor vernuwing en transformasie in die gemeentes kan help. Weens die beknopte aard en omvang van die artikel sal daar nie detaileksegese van Skrifgedeeltes gedoen kan word nie.

2. VERDUIDELIKING VAN ’n PAAR KERNBEGRIPPE

Talle begrippe word in hierdie artikel gebruik wat moontlik verwarrend kan wees of wat op verskillende maniere deur lesers verstaan kan word. ’n Paar moontlike verduidelikings word vervolgens bespreek:

Vernuwing en transformasie: Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (Labuschagne & Eksteen 1993:943, 1010) beskryf vernuwing as “handeling, proses, verskynsel om te vernuwe” en transformasie as “gedaanteverandering, herskepping, vervorming”. In hierdie artikel word vernuwing in die gemeente verstaan as ’n proses waarin daar nuut gedink word oor die bediening in die gemeente te midde van veranderde tye (vgl Burger 1991:13-19; Burger 1995:13-21). Hierdie vernuwing is nie bloot gelyk aan verandering nie. Die vernuwing binne die gemeente se doel is6 om die gemeente te help groei om al hoe meer God se wil op aarde uit te leef. Transformasie kan beskryf word as grondliggende of diepgaande vernuwing.

Leierskap/godsdienstige leiers: Onder leierskap word verstaan alle persone in geloofsgemeenskappe wat op die een of ander manier ’n leidende rol vervul het waardeur hulle ander mense se lewe beïnvloed het. Somtyds word die term “godsdienstige leier” gebruik, maar die Ou Testament wys nie altyd op ’n lynregte verskil tussen ’n “godsdienstige leier” en ’n “sekulêre leier” in die gemeenskap nie. Die koning is byvoorbeeld beskou as ’n verteenwoordiger van God wat verantwoordelikheid (ook godsdienstige verantwoordelikheid) vir God se volk moes dra. ’n Mens sou wel kon praat van sekere leiers wat as sogenaamde godsdienstige spesialiste diens gedoen het, soos priesters, profete en wysheidsleraars (Grabbe 1995).

Strukture/bedieningstrukture: Strukture dui op die wyse waarop ’n bepaalde geloofsgemeen- skap homself gestruktureer het om God te aanbid en te dien. Die Bybel bied nie vaste bloudrukke wat direk op ons hedendaagse situasie oorgeplaas kan word nie; tog bied die Bybel sekere breë riglyne wat ons vandag kan gebruik. Die woord “bediening” word verkies, omdat die hele Bybel klem lê op die dienskarakter van leiers en die gemeenskap.7 Daar moet weer eens in gedagte gehou word dat daar nie ’n loodregte skeiding tussen godsdienstige en sekulêre strukture is nie.8

Geloofsgemeenskap/volk van God/gemeente/kerk: Heelwat vrae kan gevra word oor die “kerk” in die Ou Testament aangesien die kerk van Christus nog nie formeel bestaan het nie. Die Nuwe- Testamentiese kerk staan egter nie los van die Ou-Testamentiese tradisie nie. Die woord “kerk” kom nie in die Ou Testament voor nie; tog bied die Ou Testament ’n magdom inligting oor die verstaan van geloofsgemeenskappe. Daar word wel gepraat van die “volk Israel” of “volk van God”. ’n Baie gevalle word die Hebreeuse term הוהי להק (vergadering van Jahwe) in die Septuaginta vertaal met die Griekse term ekklhsia (byeenkoms, kerk, gemeente) wat telkens in die Nuwe Testament gebruik word wanneer daar na kerk of gemeente verwys word (vgl Coenen 1975:291-307; Price 1990:150-151). ’n Meer neutrale woord is waarskynlik “geloofsgemeenskap” wat dui op gemeenskappe wat op grond van ’n bepaalde godsdienstige geloof saamgroepeer. In ooreenstemming met die algemene Afrikaanse gebruik verwys die woord “kerk” na die universele kerk in sy algemene gestalte en “gemeente” na die kerk in sy plaaslike gestalte (Hendriks 1990:21).

3. VERSKILLENDE STRUKTURE EN LEIERSKAP VAN GELOOFSGEMEENSKAPPE IN DIE TYD VAN DIE OU TESTAMENT

Die Bybel getuig hoe die volk van God in verskillende omstandighede gefunksioneer het. Ons lees nie net van voortdurende verandering in strukture en maniere van aanbidding nie. In elkeen van hierdie tye was daar ook verskillende leiers wat na vore getree het. ’n Leierskapspatroon wat in een fase goed gewerk het, was nie noodwendig geskik vir ’n volgende fase nie (Burger 1995:24). Weens bogenoemde redes sal daar in hierdie afdeling op veral bedieningstrukture en die rol van leiers gefokus word.

’n Mens moet verder in gedagte hou dat die sosiale en politieke geskiedenis van Israel ten nouste met die godsdiensgeskiedenis verweef is. In baie gevalle kan dit nie van mekaar losgemaak word nie. Eers in die Nuwe-Testamentiese tydperk kom daar ’n baie groter skeiding tussen kerk en wêreld. Vervolgens word ’n keuse gemaak vir moontlike “tydperke” volgens die getuienis van die Bybel.9

3.1. Geboorte en groei van die volk van God van God10 (aartsvaders)

Die eerste paar hoofstukke in die Bybel vertel vir ons van die geboorte van die volk van God (Why- bray 1995:9). Na die beskrywing van die sogenaamde oergeskiedenis (Gen 1-11) word daar verwys na die lewens van die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob en hulle families (Gen 12-50). Volgens Genesis 12 word Abraham deur God geroep om te emigreer van Mesopotamië na Kanaän. Genesis 12-50 handel oor Abraham en sy nageslag lank voordat daar nog sprake was van Israel as ’n kulturele en politieke eenheid. Uit die Genesisverhale en argeologiese gegewens kan ’n mens aflei dat hierdie mense moontlik ’n seminomadiese bestaan gevoer het. Hulle het hulle deels in nedersettings gevestig en deels ’n rondtrekkende bestaan met hulle troppe kleinvee gevoer (Boshoff 1991:181).

Abraham het waarskynlik met die godsdienste van Haran (Sin) grootgeword, maar in Genesis 12 leer ons hom ken as ’n aanbidder van ’n persoonlike God wat hom roep tot gehoorsaamheid en aan hom beloftes van ’n nageslag en ’n land gee. Abraham word uitverkies om die vader van alle gelowiges te word. Die boek Genesis bied feitlik geen inligting oor die manier waarop groepe gelowiges God aanbid het nie. Ons lees van ’n persoonlike verhouding tussen God en mens en van godsdienstige praktyke soos offer en gebed (Olivier 1982a:35-36). Waarskynlik die belangrikste godsdienstige handeling waaroor getuig word, is God se sluiting van ’n verbond met Abraham en sy nageslag, en die besnydenis as teken van die verbond (Gen 15, 17). Die besnydenis sou tot in die tyd van die Nuwe Testament ’n belangrike rol vervul.

Die individuele gelowiges was deel van ’n gemeenskap waarin talle gode aanbid is met ’n verskeidenheid van godsdienstige praktyke. Daar word selfs op verskillende maniere na God verwys: God van my vaders (Gen 31:42); God van Abraham (Gen 31:53); God van Nahor (Gen 31:53); God van Bet-El (Gen 31:13), ensovoorts (Boshoff 1991:181-188). Die gelowiges funksioneer sonder enige geskrewe woord van God. Buiten die aartsvaders, getuig die boek Genesis van God se verhouding met families asook met die uitgebreide familie of clan. Volgens Genesis het God Hom in hierdie vroeë tyd nie aan ’n politieke groep of koning verbind nie, maar aan ’n familie (Albertz 1994a:25-39).

Daar is slegs ’n paar plekke van aanbidding wat met die aartsvaders verbind word: Sigem (Gen 12:6-7; 33:18-20; 35:1-4, ens); Bet-El (Gen 12:8; 28:10-22; 35:1-15, ens); Berseba (Gen 22:22-31; 26:23-25; 46:1-4). Sommige van hierdie aanbiddingsplekke was vroeër heiligdomme van die Kanaänitiese godsdiens. Oor die aard van die aanbidding by hierdie plekke is daar onsekerheid. Die Bybel verwys egter telkens na die oprigting van ’n altaar vir die Here of na belangrike gebeurtenisse wat daar plaasgevind het (De Vaux 1973:289-294).

In die boek Genesis lees ons hoe God reg van die begin af sekere persone as medewerkers of leiers op aarde gebruik het, leiers soos Noag, Abraham, Isak, Jakob en Josef. Hy het hulle op ’n direkte wyse geroep en vir spesifieke take toegerus. Genesis getuig van ’n intiem persoonlike verhouding met God deur middel van gesprekke, drome, visioene, gebede, beelde, engele, ensovoorts. Hierdie leiers het nie slegs op een terrein leiding geneem nie. Abraham word byvoorbeeld beskryf as ’n militêre leier (Gen 14), priesterlike intersessor (Gen 18:16-33) en profeet (Gen 20:7) (Childs 1992:126).

3.2. God se volk in Egiptiese slawerny

Albertz (1994a:42) reken dat die vroomheid van die Israelitiese families tydens die aartsvadertyd nie werklik as die begin van die Israelitiese godsdiens beskou kan word nie. Die beslissende impetus wat die geskiedenis van Israel se godsdiens in beweging gebring het, was die gebeure in Egipte en daarna.

Genesis 46-50 getuig dat Jakob en sy familie weens hongersnood vanaf Kanaän na Egipte getrek en daar gesterf het. Eksodus 1 getuig van die volk Israel se getallegroei in Egipte, die bedreiging wat hulle vir die farao ingehou het en die daaropvolgende dwangarbeid. In Eksodus
1-13 lees ons van feitlik geen godsdienstige handeling nie. Daar word glad nie melding gemaak van die manier waarop die volk God in Egipte aanbid het nie. Ons lees wel van gesprekke tussen God en Moses en selfs die farao versoek Moses om vir hom te bid (Eks 8:28). Twee prominente godsdienstige en teologiese gebeure word met hierdie tyd in Israel se geskiedenis verbind, naamlik God se openbaring van sy Naam (Eks 3) en die viering van die pasga (Eks 12:41-51).

Tydens die Egiptiese slawerny is daar meer klem gelê op die groot groep en die politieke bevryding, en nie soseer op die tyd van die individuele gelowige en sy familie nie. Die tyd van die El-God en die klein familiebehoeftes is verby. Jahwe word gesien as die God van bevryding (Albertz 1994a:44-52; Le Roux 1996:617).

Tydens die Egiptiese krisis stuur God twee sterk leiers om hulle uit die Egiptiese slawerny te bevry, naamlik Moses en sy broer Aäron. ’n Groot gedeelte van Eksodus 1-13 word gebruik om Moses se lewe te beskryf en nie slegs die volk se omstandighede nie. Om die waarheid te sê, die beskrywing van Moses as leier domineer die boeke van Eksodus tot Deuteronomium. Onder God se leiding word hy die leier van sy volk. Hy is wetgewer, regter, verrig priesterlike take, is profeet, leermeester, tree in vir die sonde van sy volk, is verlosser en beskermer. Kortom, Moses word deur die Bybel voorgestel as ’n held – ’n leier by uitnemendheid. Hy was ’n ware man en dienaar van God (Smit 1995:30-31; Whybray 1995:65).

3.3. God se woestynvolk met die met die11 Tora en die tent van ontmoeting

Vanuit verskillende perspektiewe getuig Eksodus 14-40, Levitikus, Numeri en Deuteronomium van die volk wat uittrek uit Egipte op pad na die beloofde land. Hulle swerf jare in die woestyn en die woestynvolk kry ’n tent van ontmoeting12 of tabernakel om in te aanbid (Eks 25:1-9). Die tent van ontmoeting was ’n opvoubare struktuur wat bestaan het uit goue plate, matte en ander geweefde materiaal en dit kon maklik opgepak en verder gedra word. Hierdie tent het in die middel van die kamp gestaan (Eks 25:8; 29:42-46) en het die verbondsark met die kliptafels gehuisves. Die eer van Jahwe was in hierdie tent van ontmoeting aanwesig (Num 14:10; 16:19; 17:7; 20:6); dit was ’n spesiale simbool van God se teenwoordigheid (Preuss 1995:255).

Die gebeure by Sinai speel ’n belangrike rol in die godsdiens van Israel. In die huidige vorm van die boek Eksodus funksioneer die aankoms van die woestynvolk by Sinai (Eks 19) as ’n inleiding tot ’n hele reeks temas: die teofanie of Godsverskyning te Sinai, die bekendmaking van die wet en die verbondsbeseëling. Hierdie verskillende tradisies is waarskynlik na ’n lang groeiperiode saamgevoeg (Durham 1987:258-261).

Die Bybel getuig dat die volk in die woestyntyd ’n geskrewe woord van God ontvang het . Die ontstaan van die dekaloog of tien gebooie (Eks 20:2-17; Deut 5:6-21) en talle ander wette word aan hierdie tydperk gekoppel. In die huidige struktuur van Eksodus funksioneer die dekaloog as ’n samevattende opsomming van die Tora met verskeie wette en stipulasies as uitbreiding of kommentaar hierop (Childs 1992:134). Verskeie wetsversamelings word ingebed in die narratief 13 van die uittog en omswerwinge in die woestyn; onder meer die Verbondsboek (Eks 20:22-23:33)13; priesterlike wette met die Heiligheidsboek (Lev 17-26); Wettekodeks van Deuteronomium (Deut 12-26), en talle ander godsdienstige voorskrifte (Whybray 1995: 107-132; Blenkinsopp 1992:197-228). Daar was ’n eindelose proses van herinterpretasie van die Tora waardeur die volk voortdurend hulle geloof en geloofspraktyke oordink het in die lig van hulle bevryding. Die boek Levitikus is byvoorbeeld meer konserwatief en Deuteronomium meer radikaal in sy herinterpretasie (Brueggemann 1994:267).

In die woestyntyd kon Moses nie alleen al die werk as leier hanteer nie en Jetro, Moses se skoonpa, kom met ’n nuwe oplossing. Eksodus 18 vertel hoe nuwe leierskap vir die regspraak en reëling van die onderlinge verhoudings gekweek word. Moses moes manne uitsoek met die volgende kwaliteite: bekwaamheid; dienaars van die Here; manne wat die waarheid liefhet, en nie eie voordeel soek nie (vgl Eks 18:21). Die vraag is: Wat lê agter hierdie nuwe manier van bediening? Eksodus 18:14 en 17 getuig van praktiese oorwegings, soos Moses wat uitgeput geraak het en die volk wat lank moes wag. Daar is egter ’n baie belangrike verandering wat na vore tree. God het in die eerste fase sy wil slegs aan Moses bekend gemaak, maar God kan ook meer mense in sy diens gebruik. Die Bybelse teks impliseer dat God vir Moses hierdie praktiese oplossing bevestig het (Eks 18:19, 23). Die eindresultaat van hierdie nuwe leierskapstruktuur was ’n wensituasie vir sowel Moses as die volk (vgl Durham 1987:249-250; Buzzel 1998:91-92).

Later moes Moses vakmanne aanstel om die werk aan die tent van ontmoeting te doen (Eks 31:1-11; 35:30-36:37). Volgens die teksgedeeltes is die vakmanne deur die Gees van God toegerus om hulle spesifieke taak te verrig (Eks 31:3; 35:31). God het Moses verder beveel om leiers aan te stel wat die volk in aanbidding kon lei. Aäron en sy seuns is as eerste priesters aangestel (Eks 28:1-29:37; Lev 8). Die stam van Levi is tot beskikking van die priester Aäron gestel om diensbeurte in die tent van ontmoeting waar te neem (Num 1:50-53; 3-4; 18:1-7; Deut 10:8). Die priesters en Leviete het selfs ’n deel van die gewyde gawes as “betaling” ontvang (Num 18:8-32).

3.4. God se volk vestig hulle in ’n land (Rigtertyd)

Die boeke Josua en Rigters vertel hoe die volk die beloofde land in besit geneem en hulle daar gevestig het.14 Hierdie vestiging het nie beteken dat daar ’n vaste politieke en staatkundige struktuur in plek was nie. Aanvanklik het die twaalf stamme naas mekaar bestaan met Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse wat aan die oostekant van die Jordaan hulle grondgebied gekry het (Jos 13; Rig 1:21-35) (Aharoni & Avi-Jonah 1979:50-51). Daar was verskillende vreemde volke wat oos en wes van die Jordaanrivier gebly het; gevolglik sou ’n mens nie kon praat van die “land” Israel nie.

Moses en Aäron was die belangrikste leiers met die uittog. Ná die dood van Moses neem Josua by hom oor en God beloof om hom te begelei soos Hy vir Moses begelei het (Jos 1:1-9). In die boek Josua word, buiten van die priesters en Leviete, vertel van die volgende leiers: verkenners (Jos 2); leiers van die volksvergadering (Jos 9:15-27), en Eleasar, seun van Aäron (Jos 24:29-33). Ná die aankoms in die beloofde land het ’n boeiende en opwindende tyd ontstaan. Daar was geen behoefte aan staatsamptenare, belastings en permanente militêre leiers nie. Indien gevare van die vreemde volke gedreig het, het God ’n leier of rigter15 geskenk en hom met sy Gees vir ’n spesiale taak toegerus (vgl Rig 3:10; 6:34; 11:29). Die Bybel getuig van minstens dertien rigters wat God gestuur het, met Debora as enigste vrou. Debora16 kan waarskynlik beskryf word as die eerste vrou wat as godsdienstige en “staatkundige” leier in die geskiedenis van die volk Israel opgetree het (Rig 4:1-5:31). Daar word selfs na haar verwys as die “moeder van Israel” (Rig 5:7) (Rendtorff 1986:25-28; Albertz 1994a: 79-82; Preuss 1996:19-21).

’n Mens lees van enkele aanbiddingsplekke in die tyd van die aartsvaders, maar ná Israel se vestiging in die beloofde land is daar sprake van meer aanbiddingsplekke: Gilgal; Silo17 (Rig 21:19 ev); Mispa (Rig 20-21); Gibeon; Ofra (Rig 6:11-24); Dan (Rig 17-18); Ebal (Rig 8:30-35), en Jerusalem (De Vaux 1973:302-311; Fohrer 1973:111-112). Die wetboek of Tora speel steeds ’n belangrike rol (vgl Jos 8:30-35) en daar word verder getuig van belangrike godsdienstige handelinge soos offer, besnydenis en pasga.

3.5. God se volk met konings en ’n tempel tempel 18

Die opkoms van die koningstyd word in 1 en 2 Samuel beskryf en die verhaal van die verskillende konings in Israel en Juda in 1 en 2 Konings, asook in die profeteboeke Amos, Hosea, Miga, Jesaja 1-39 en Sefanja. Heelwat later (waarskynlik tydens en ná die ballingskap) het daar nog ’n weer- gawe van die koningstyd ontstaan, naamlik 1 en 2 Kronieke.

Tydens die Rigtertyd het daar al hoe meer onder die twaalf stamme die behoefte aan groter eenheid ontstaan, maar ook aan die leiding van ’n permanente leier of koning. Saul is teen onge- veer 1025 vC as die eerste koning van die Verenigde Koninkryk gesalf met Dawid en sy seun Salomo daarna. Saam met die koningskap het Jahwisme as ‘t ware ’n staatsgodsdiens geword. Daar was ’n ineenvlegting van godsdienstige en staatstrukture. Ná Salomo se dood (c 925 vC) het die Verenigde Koninkryk in twee geskeur, naamlik in die Noordryk (Israel) en Suidryk (Juda) met onderskeidelik Samaria en Jerusalem as hoofstede.

Teen die tyd van die koningskap het daar reeds groot veranderinge op godsdienstige gebied ingetree. Daar was ’n akkommodering van Kanaänitiese en ander vreemde elemente in die gods- diens van Israel. Hierdie akkommodering is genoodsaak deur die sentralisering van gesag in Jerusalem oor al die mense wat in die land gebly het. Dawid en Salomo was nie net koning oor die Jahwe-aanbidders in die land nie, maar ook oor die Kanaäniete (Boshoff 1991:188).

Die bou en inwyding van die tempel was natuurlik die belangrikste gebeurtenis van gods- dienstige belang in hierdie tydperk. Daar het ’n groter behoefte aan godsdienstige eenheid bestaan. Die verskillende aanbiddingsplekke in die tyd van die Rigters word gesentraliseer tot een “amp- telike” aanbiddingsplek, naamlik die tempel in Jerusalem. Die vraag ontstaan of die sentralisering van die tempel ’n godsdienstige of politieke skuif was. Dit is waar dat die tempel langs die koninklike paleis van Salomo geleë was en dat die godsdiens so “gebuig” is dat dit die belange van die koning en staat gedien het. Die Jahwe-godsdiens moes die koningskap bevestig, die staatsmag sanksioneer, staatsoptrede regverdig, ensovoorts (Le Roux 1996:618). Rowley (1967:78) beklemtoon dat die belangrikheid van die tempel nie slegs lê in die bedoeling aan die begin nie, maar in dit wat die tempel vir die Israelitiese gelowige geword het. Talle gedeeltes in die Bybel getuig oor die waarde van die tempel vir die Israelitiese gelowige in hierdie tydperk en daarna (1 Kon 8; 2 Kron 6; Ps 30; 84; Miga 1:2, ens). Die tempel was die plek waar verskeie godsdienstige rituele en feeste plaasgevind het. Die gebou van die tempel en die simbole binne-in die tempel het die volk herinner aan God se teenwoordigheid, heiligheid, krag en standvastigheid: die Allerheiligste; die verbondsark met die gerubs; die reukoffer- en brandofferaltaar; die twee pilare Jagin en Boas; gegote waterbak, ensovoorts (Ringgren 1966:159-161; De Vaux 1973:312-321). Baie van die godsdienstige handelings wat by die tempel plaasgevind het, was ingestel op die versoening tussen God en mens. Die bekendste hiervan is die sonde- en skuldoffers (Lev 4-5) en die Groot Versoendag met onder meer die bloed- en Asasel-ritueel (Lev 16; 23:27-32; Num 29:7-11) (O’Kennedy 1999:96-101).

Alhoewel die Jahwe-godsdiens in Jerusalem gesentraliseer is, is daar waarskynlik op ander plekke soos Bet-El en Dan ook aanbid (1 Kon 12:29). Hierdie heiligdomme het ouer tradisies as dié van Jerusalem gehad, maar het ontbreek aan die prag van die tempel en die ark as belangrike Jahwe-simbool (Rowley 1967:79).

Die belangrikste leiers in die koningstyd was natuurlik die konings, profete en leiers wat by die tempel diens gedoen het. In die Rigtertyd lees ons byna niks van die Leviete, priesters en ander godsdienstige leiers nie. Ná die bou van die tempel tree hierdie leiers weer sterker na vore. Saam met die koningskap was daar ook ’n staatsamptenary wat in Jerusalem (en later ook in Samaria) gesetel was. Die Ou Testament getuig van twintig konings van die Noordryk tot en met die val van Samaria in 722 vC en van 21 konings van die Suidryk tot en met die val van Jerusalem in 586/587 vC. Die Deuteronomistiese geskiedskrywer het al die konings teologies beoordeel.19 Hulle het gedoen wat goed óf verkeerd was in die oë van die Here en gewandel in die sonde van Jerobeam óf in die weë van Dawid. Volgens die geskiedskrywer het al die konings van die Noordryk hiervolgens oortree. Van al die konings van die Suidryk word ses (Asa, Josafat, Joas, Amasia, Ussia en Jotam) voorwaar- delik en twee (Hiskia en Josia) onvoorwaardelik geloof (Le Roux 1987:126).

Hiskia word beskryf as ’n tweede Dawid wat op God vertrou het en daar word gesê dat daar voor of na hom nie nog ’n koning soos hy was nie (2 Kon 18:4-6). In 2 Konings 23:25 word Josia dieselfde beoordeel. Albei konings het talle godsdienstige hervormings ingestel. Hiskia verwoes hoogtes, laat klippilare stukkend slaan, kap gewyde pale af, reinig die tempel en stel weer die viering van die Paasfees in (vgl 2 Kon 18:4; 2 Kron 29-30). Josia se hervorming begin by die lees van die wetboek (Tora) en die profetes Gulda vervul saam met die priesters ’n belangrike rol (2 Kon 22:3-23:3). Josia herstel die tempel, verwyder onheilige voorwerpe uit die tempel, breek heidense altare af, sit afgodspriesters af, vier gesentraliseerde paasfees, ensovoorts (2 Kon 23:4-27; 2 Kron 34:3-7). In baie opsigte was die hervormings van Hiskia en Josia ’n terugkeer na die waardes en praktyke van die oorspronklike Jahwe-godsdiens (Birch, Brueggemann, Fretheim & Petersen 1999:287-290).

Verskeie profete het in die twee koninkryke opgetree. In die Noordryk (Israel) was dit veral Elia en Elisa wat aan die begin en Hosea en Amos wat aan die einde as profete opgetree het. In die Suidryk (Juda) het die profete Jesaja en Miga (tweede helfte van die agste eeu vC) opgetree. Later het die profete Nahum, Sefanja, Habakuk, Esegiël en Obadja in Juda op die toneel verskyn (Grabbe 1995:70-80). Die profete het ’n belangrike rol gespeel om die Woord van God te verkondig en die volk te wys op hulle sonde. Sommige profete was verbonde aan godsdienstige sentrums en ander het meer onafhanklik opgetree. Die profete was leiers, maar nie in die gewone sin van die woord nie. Hulle was soms vreemde karakters; tog getuig die Bybel dat hulle ’n intieme verhouding met God gehad het – effektiewe “kanale” van kommunikasie tussen God en sy volk. Die voor-eksiliese profete was voortdurend in stryd met die konings, soos Elia teen Agab (1 Kon 18; 21) en Jesaja teen Agas en Hiskia (Jes 7; 37). Die profete het gereken dat die konings as leiers hulle verantwoordelikheid teenoor God en sy volk moes nakom, ’n verantwoordelikheid waarin die konings dikwels gefaal het (Brueggemann 1997:622-625).

In die monargale tyd het die leiers ook verskillende teologiese beklemtonings gehad. Die noordelike profete het byvoorbeeld meer op die Eksodus- of uittogtradisie gefokus terwyl die suidelike profete meer op die Sions- en Dawidiese tradisies klem gelê het (Schmitt 1992::488). Hierdie ou tradisies word deur die profete geherinterpreteer en geaktualiseer vir die spesifieke tyd en situasie (Prinsloo 1988:34).

Dit is interessant om daarop te let dat die Bybel getuig van die gebrokenheid van bekende leiers in hierdie tyd. Ons lees onder meer van Dawid se sonde met Batseba (2 Sam 12); Dawid se hande wat met bloed bevlek was (2 Sam 7), en die wyse koning Salomo se vrouens wat hom verlei het (1 Kon 11).

3.6. God se volk in ballingskap

Israel (die Noordryk) is eerste in ballingskap weggevoer toe die Assiriërs die stad Samaria in 722 vC verwoes het. Juda (die Suidryk) se val het gekom in 586/587 toe die Babiloniërs Jerusalem ingeneem en die tempel verwoes het. ’n Klein groepie ballinge is in 597/598 vC, voor die val van Jerusalem, weggevoer. Wanneer daar verder in hierdie artikel oor ballingskap gepraat word, word daar verwys na die groot Babiloniese ballingskap in 586/587. Die boeke in die Bybel wat waarskynlik in hierdie tyd ontstaan het, is Jeremia, Klaagliedere, Nahum, Habakuk, Esegiël, Jesaja 40-55 en enkele psalms.

Alhoewel die meerderheid van die volk nié in ballingskap weggevoer is nie, moet daar besef word dat die ballinge die room van die volk was, die politieke, godsdienstige en intellektuele leiers.20 Die Assiriërs het die ballinge na verskillende digbewoonde gebiede geneem en vreemde volke in Samaria gevestig. In teenstelling hiermee het die Babiloniërs al die Judeërs volgens families of beroepe in verskillende kolonies geplaas waar hulle met betreklike bewegingsvryheid kon leef en werk (Miller & Hayes 1986:337-338, 432-435; Le Roux 1987:127-128).

Babel was ’n heidense land ver van die tempel in Jerusalem – die volk het nie meer die geleentheid gehad om offers te bring en fees te vier by die tempel nie. Tydens die ballingskapstyd was dit die fami- lie wat die ou gebruike en tradisies so bewaar het dat dit as grondslag vir die nuwe gemeenskap kon dien. Volgens geleerdes was die ballingskapstyd die vrugbaarste ontstaanstyd van Bybelse literatuur. Baie van die verhale en tradisies wat mondelings oorvertel is, is waarskynlik in hierdie tyd opgeteken.

Daar is min inligting in die Bybel oor die manier waarop die volk in ballingskap Jahwe aanbid het. Die Jode by Elefantine in Egipte het hulle eie tempel besit waar offers gebring is, maar dit was waarskynlik nie die geval in Babilonië nie. Jode in Babilonië het God waarskynlik aanbid in ’n nieofferkultus waarin gebed, lofprysing en die lees van die wet belangrike elemente was. Bood- skappe soos wat opgeteken is in Esegiël en die prosagedeeltes van Jeremia was waarskynlik algemeen in hierdie tyd. Hierdie manier van aanbidding kon op enige plek plaasvind (Miller & Hayes 1986:434). Die ballingskap het veral stukrag aan die ontwikkeling van gebed verleen. In ’n geloofsgemeenskap sonder ’n tempel was offer net nie meer prakties moontlik nie. Gebed was ’n belangrike manier waarop hulle hulle verhouding met God uitgeleef het (O’Kennedy 1996:428). Albertz (1994b:377-379) reken dat die klag die belangrikste manier van aanbidding in hierdie tyd was. Talle klaagliedere in Jeremia, Klaagliedere, Habakuk en die Psalms verwoord die volk se klag teenoor Jahwe. Hulle bekla hulle lot teenoor Jahwe, omdat hulle glo dat Hy self verantwoordelik was vir die vernietiging van Jerusalem, die tempel en die monargie (Klaagl 2:1-10; 4:11-16).

Na alle waarskynlikheid het die eerste sinagoge in die tyd van die ballingskap ontstaan. ’n Sinagoge21 was ’n kleiner plek van aanbidding vir mense wat nie by die tempel in Jerusalem kon wees nie (Boshoff 1991:196; Meyers 1992:251-252).

Tydens die ballingskap het die leierskapsrolle drasties verander. Juda is vier eeue lank deur Dawidiese konings geregeer, maar nou is die Dawidiese monarg weggevoer. Ten spyte van die ballingskap kon die Judeërs hulle eie identiteit behou. In elke kolonie het die oudstes na vore getree (Eseg 8:1; 14:1; 20:1, 3; Jer 29:1). Waarskynlik was daar beperkte interne outonomie waardeur hulle toegelaat is om hulleself te “regeer” volgens tradisionele gebruike (Miller & Hayes 1986:420, 433).

Die Bybel getuig onder meer dat die profeet Jeremia en die profeet-priester Esegiël tydens die ballingskap as leiers opgetree het.22 Esegiël was waarskynlik deel van die eerste groep wat reedsin 597 vC weggevoer is. Die boek Esegiël is waarskynlik ons enigste Bybelse bron van informasie oor die eerste jare van ballingskap in Babel (behalwe vir ’n paar fragmente in Jer 29). Hierdie boek meld egter min van die spesifieke manier van aanbidding (Gowan 1998:121). Daniël 1-6 getuig van Daniël en sy vriende wat as staatkundige en godsdienstige leiers tydens die bewind van die Babiloniese konings Nebukadnesar, Belsasar en Darius opgetree het.23

Daar moet verder onthou word dat ’n hele aantal Jode in Israel agtergebly het. Die aard van hulle godsdiensbeoefening is ook onseker. Daar was waarskynlik uiteenlopende reaksies: sommige het begin twyfel oor Jahwe se ware aard; ander het Jahwe verwerp en vreemde gode aanbid; nog ander het ’n soort sinkretistiese geloof gehad, en laastens was daar ook dié wat Jahwe getrou aanbid het (Boshoff 1991:196).

3.7. God se volk herstel ná die ballingskap

Ná die edik van Kores (538 vC), die Persiese koning, keer die volk terug van ballingskap. Ons lees onder meer in Esra, Nehemia, Haggai en Sagaria hoe die tempel en muur van Jerusalem herstel is. Maleagi se profesie en Jesaja 56-66 het ook waarskynlik in hierdie tyd ontstaan.

Nie almal was opgewonde oor die terugkeer en die herstelproses nie. Sommige ballinge het verkies om in Babilon agter te bly. Historiese gegewens wys daarop dat die eerste ballinge ongeveer twintig jaar lank gewag het voordat hulle met die bouery begin het. Hulle was so vasgevang in hulle alledaagse bestaan om ’n nuwe lewe in Juda te begin (Mead 1994:115). Die profetiese stemme van Haggai en Sagaria het hulle aangespoor om die muur en tempel in Jerusalem te herbou. Hulle was betrokke by die breë gemeenskap (herstel van die muur) en die geloofsgemeenskap (herstel van die tempel).

Met die ballingskap was Jahwisme nie slegs beperk tot die land Israel nie, maar het Jahwisme saam met die ballinge na verskeie plekke versprei (Mesopotamië, Egipte en selfs Kreta). In hierdie tyd het ’n hele aantal nuwe vrae ontstaan: Moet hulle slegs in die land Juda bly? Moet hulle Jahwe alleen aanbid? Moet ’n mens gebore word in die Jahwe-godsdiens? ’n Nuwe vorm van Jahwisme het ontstaan wat toegelaat het vir aanbidding in verskeie geografiese en sosiale omstandighede.24 Hierdie nuwe ontwikkeling word dikwels getipeer deur die term Judaïsme Fretheim & Petersen 1999:424-425).25 (Birch, Brueggemann, Die vraag is: Hoe het hierdie na-eksiliese gemeenskap oor hulleself en hulle toekoms gedink? Die Bybel wys ons op minstens drie moontlike antwoorde in hierdie tyd. (1) Esegiël se restorasie- visioen (Eseg 40-48) verteenwoordig ’n siening dat Israel moet funksioneer as ’n priester- heerskappy, ’n nasie wat regeer word deur priesters. Daar is nie plek vir ’n koning nie, slegs vir ’n prins of leier. Hiermee het Esegiël die Dawidiese koningsteologie verwerp – totale skeiding tussen paleis, tempel en stad. (2) Haggai stel voor dat Israel nie slegs ’n tempel moet hê nie, maar ook ’n Dawidiese koning (Hag 2:20-23). (3) Sagaria propageer waarskynlik ’n diargiese model van leierskap waarin die verantwoordelikhede gedeel word deur ’n politieke en ’n godsdienstige leier. Al drie hierdie modelle word aangebied deur die gesag van ’n profeet (Hanson 1987:492-503; Meyers & Meyers 1992:1062; Birch, Brueggemann, Fretheim & Petersen 1999:423-424).

In die tyd ná die ballingskap het die tempel en sinagoges saam bly voortbestaan. Judaïsme in al sy na-eksiliese diversiteit is herstel as ’n geloofsgemeenskap wie se identiteit gevorm is as ’n volk van die boek onder die Tora (Childs 1992:164). Daar het selfs vernuwing in die temple plaasgevind. Met die vernietiging van die eerste tempel en die teologiese werk van die profeet Esegiël sou dit onmoontlik wees om die tweede tempel in dieselfde lig as die eerste tempel te sien. Daar was ’n herlewing van aanbidding in Jerusalem. Die tempel simboliseer nie soseer die nasionale staat of Dawidiese dinastie nie, maar word ’n huis van gebed (Jes 56:7).

Die boeke Esra en Nehemia getuig van ’n groot afstand tussen Israeliet en nie-Israeliet terwyl Jesaja 56-66 die deure van die tempel wyer oopmaak. Selfs vreemdelinge is welkom in die tempel (Jes 56:6-7) en die boek sluit af met ’n belofte dat God al die nasies en taalgroepe bymekaar sal maak (Jes 66:18) (Gowan 1998:171-174).

Met die terugkeer uit die ballingskap het, buiten die profete Haggai en Sagaria, verskeie ander leiers na vore getree: Sesbassar, hoof van die stam Juda; Esra, vroeër staatsamptenaar in Babilon; Nehemia, die skinker van koning Ahasveros van Persië; Serubbabel, die goewerneur van Jerusalem, en Jesua, die hoëpriester. Sesbassar, Serubbabel en Esra het ’n belangrike rol gespeel in die herstel van die tempel en Nehemia in die herstel van die muur. Dit is interessant om daarop te let dat politieke en staatkundige leiers steeds ’n belangrike rol in die geloofsgemeenskap vervul het.

3.8. Wysheidsleraars – deel van God se volk

Buiten die leiers wat ons alreeds bespreek het, getuig die Ou Testament ook van die wysheidsleraars. Die presiese aard van die wysheidsleraars is moeilik om te bepaal, maar hulle was “anonieme” intellektuele leiers wat waarskynlik tot die boonste sosiale en ekonomiese klas behoort het (Blenkinsopp 1995:10-11, 17). Hierdie wysheidsleraars was moontlik aan wysheidskole verbonde. Dit is baie moeilik om die wysheidsliteratuur van die Ou Testament te dateer, maar waarskynlik behoort ’n groot gedeelte van hierdie literatuur tot die tyd ná die ballingskap. In die Hebreeuse kanon word bekende wysheidsboeke soos Job, Spreuke en Prediker26 as deel van die Geskrifte ná die Wet en die Profete geplaas. Die Geskrifte is eers omstreeks 150 nC met kanoniese gesag beklee (Le Roux 1982:256-257). Daar is verskillende teksgedeeltes in die Ou Testament wat beskryf wat die profete en priesters moes doen, maar geen gedetailleerde teksgedeeltes wat na die presiese rol van die wysheidsleraars verwys nie.

Die wysheidsleraars het kritiese vrae oor die lewe gevra wat ander meer “godsdienstige” leiers nie gevra het nie; tog was hulle deel van die geloofsgemeenskap en is hulle wysheid nie geïgnoreer nie. Hulle wysheidsuitsprake vorm ’n groot gedeelte van die Ou Testament (Birch, Brueggemann, Fretheim & Petersen 1999:414). In vandag se kerk sou sommige van hulle dalk as kritiese “ongelowige” lidmate beskou gewees het en glad nie ’n geestelike leiersrol beklee het nie.

4. SLOT: MOONTLIKE RIGLYNE VIR DIE VERSTAAN VAN VERNUWING EN TRANSFORMASIE IN DIE GEMEENTE

Teen die einde van die opvolgartikel (Deel 2) sal verdere riglyne rakende die onderwerp aangebied word. Vervolgens word ’n paar moontlike riglyne na aanleiding van die Ou-Testamentiese oorsig weergegee.

(a) Die Ou Testament getuig van voortdurende vernuwing en transformasie in geloofs- gemeenskappe. In die meeste gevalle was dit nie net blote aanpassing (“adapting”) of verstelling (“tuning”) nie, maar grondliggende transformasie. Die Ou Testament getuig van God se volk wat in elke situasie nuut gedink het oor hulle rol as geloofsgemeenskap. In feitlik al die gevalle was daar nuwe strukture en nuwe leierskapspatrone. In sommige gevalle was daar selfs nuwe teologiese beklemtonings of ’n reaksie op vorige teologiese standpunte. In byvoorbeeld die aartsvadertyd is beklemtoon dat God die God van die familie is, terwyl daar in die tyd van slawerny byvoorbeeld klem gelê is op God as “politieke” bevryder. In ander gevalle is ou tradisies deur byvoorbeeld die profete geherinterpreteer en geaktualiseer om ’n nuwe boodskap vir hulle tyd daar te stel.

(b) Kerkleiers moet versigtig wees om een vaste bloudruk of bedieningsmodel uit die Bybel te haal en dit as die enigste of absolute model te verhef. Daar is nie ’n beeld, metafoor, model of bedieningstruktuur wat vasgegiet was en net so gebly het nie. Die bedoeling van die Bybel is eerder om sekere beginsels te vestig sodat elke geloofsgemeenskap in sy omgewing waarlik volk van God of kerk kan wees.

(c) Die Bybel wys telkens daarop dat God die hoofkarakter is in enige vernuwingsproses. God het vernuwing en transformasie in die tyd van die Ou Testament bewerk en God doen dit vandag steeds. Die Bybel is eerstens ’n getuienis oor God wat in ’n verhouding met sy volk staan. Alhoewel dit somtyds moeilik is om die presiese historiese omstandighede van ’n bepaalde geloofsgemeenskap vas te stel, doen dit nie afbreuk aan eeue se getuienisse oor God nie.

(d) Die Ou Testament getuig dat die meeste bedieningstrukture en leierskapspatrone op ’n bepaalde tyd goed en effektief was. Byvoorbeeld in die woestyntyd was die tabernakel die beste aanbiddingsplek; in die Rigterstyd verskeie heiligdomme; in die monargale tyd die sentrale tempel in Jerusalem, ensovoorts. Weens hierdie rede kan ons nie sê dat ou gemeentestrukture per se sleg is nie. Vernuwing en transformasie se doel is nie om alles van die verlede af te kraak nie. Vernuwing het ten doel om in die lig van veranderde omstandighede te besin oor die beste manier om God in ’n bepaalde tyd te aanbid en te dien.

(e) Die Ou Testament vertel dat daar voortdurend krisisse of veranderinge in die sosiale en politieke omstandighede was wat die volk van God genoodsaak het om te vernuwe. Byvoorbeeld in die tyd van die ballingskap was daar nie ’n tempel nie en kon hulle nie meer offer in Jerusalem soos hulle al die jare gemaak het nie. Hulle moes aan nuwe bedieningsmoontlikhede dink. Sinagoges het in die tyd van die ballingskap ontstaan en gebed het in die afwesigheid van offerande stukrag gekry. In krisistye het God ook besondere leiers soos Moses en die profete geroep om sy volk te help.

(f) Die Ou Testament is eerstens die verhaal van God se pad met families en geloofs- gemeenskappe, nie eerstens God se pad met individue nie. Daar word onder meer op die volgende klem gelê: families, clans of die uitgebreide familie, nageslag en God se uitverkore verbondsvolk. Selfs die profete se bekeringsboodskappe word aan die volk gerig, en die sogenaamde individuele klaag- en lofliedere getuig van ’n individu wat deel is van ’n geloofsgemeenskap (vgl O’Kennedy 1996:428). In die besinning oor vernuwing word daar soms te veel klem gelê op die geestelike groei van individue. Die Ou Testament kan ons help om voortdurend die individu sowel as die geloofsgemeenskap in die oog te hou.

(g) Vernuwing en transformasie het ook te make met die geestelike behoeftes van mense in ’n bepaalde omstandigheid. In die tyd van die Ou Testament het God gehoor gegee aan die mense se godsdienstige behoeftes. God bly dieselfde, maar die mens se behoeftes verskil voortdurend. Toe Dawid vir God in 2 Samuel 7 vra of hy ’n tempel kon bou, het God toegelaat dat ’n tempel gebou kon word, al kon Dawid self dit nie doen nie. God luister na die behoeftes van mense. Volgens die Bybel staan die godsdienstige behoeftes van die mense en die wil van God nie teenoor mekaar nie. Die Bybel beklemtoon wel dat sondige, selfsugtige behoeftes teenoor die wil van God staan.

(h) Leiers het ’n belangrike rol in die geloofsgemeenskappe van die Ou Testament vervul; gevolglik kan daar nie oor vernuwing gepraat word sonder om ernstig oor leierskap na te dink nie. ’n Verskeidenheid leiers en tipe persoonlikhede het in die Ou Testament na vore getree: priesters, Leviete, profete, rigters, konings, wysheidsmanne en -vroue, ensovoorts. In sommige gevalle kan ’n mens praat van amptelike of verkose leiers terwyl leiers in ander gevalle spontaan na vore getree het. Hierdie leiers is deur God geroep en toegerus. In baie gevalle is hulle volgens bepaalde gawes geroep (bv Aäron wat as segsman vir Moses opgetree het).

(i) Vernuwing of transformasie in die Ou Testament het nie beteken dat bloot nuwe godsdienstige strukture of praktyke ontstaan het nie. Alle verandering is nie gelyk aan vernuwing nie. Tydens Hiskia en Josia se hervormings is daar teruggekeer na die oorspronklike waardes van die Jahwe-godsdiens en die profete het soms ou tradisies op ’n nuwe manier geaktualiseer.

(j) Die Bybel kan ook misbruik word om eensydige standpunte oor vernuwing of teenkanting teen vernuwing te begrond. ’n Teksgedeelte soos Rigters 21:25 word soms op ’n fundamentalistiese wyse buite konteks aangehaal om vernuwing teen te staan: “In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.” Ironies genoeg propageer dieselfde teksgedeelte vernuwing. Die primêre krisis waarop die profete ’n paar jaar daarna gereageer het, was die politieke en ekonomiese beleidsrigtings van die konings van Israel en Juda tussen 1000 en 587 vC (Benjamin 1991:136). Aan die ander kant moet erken word dat die Bybel ook misbruik kan word om sekere vernuwende praktyke in gemeentes te begrond.

(k) Indien die geskiedenis van geloofsgemeenskappe in die Bybel in sy geheel bestudeer word, is die kans skraal dat die Bybel misbruik sal word in die nadenke oor vernuwing. Verkeerde afleidings word gewoonlik gemaak op grond van enkele teksgedeeltes wat buite verband aangehaal of versnipper word om ’n bepaalde standpunt te ondersteun.

Die Bybel bly steeds die belangrikste bron waaruit verskillende perspektiewe met die oog op vernuwing en transformasie in die gemeente verkry kan word. Gevolglik mag die Bybel nie afgeskeep of geïgnoreer word nie.

BIBLIOGRAFIE

Aharoni, Y & Avi-Jonah, M 1979. Bybelse Atlas. Durban: Butterworths.

Albertz, R 1994a. A history of Israelite religion in the Old Testament period: Volume 1: From the beginnings to the end of the monarchy (vertaal deur J Bowden). Louisville, Kentucky: Westminster/John Knox Press.

Albertz, R 1994b. A history of Israelite religion in the Old Testament period: Volume 1: From the exile to the Maccabees (vertaal deur J Bowden). Louisville, Kentucky: Westminster/John Knox Press. Benjamin, D C 1991. An anthropology of prophecy. BTB 21, 135-144.

Birch, B C, Brueggemann, W, Fretheim, T E & Petersen, D L 1999. A theological introduction to the Old Testament. Nashville: Abingdon Press.

Bird, P 1987. The place of women in the Israelite cultus, in Miller, P D, Hanson, P D & McBride, S D (reds), 397-419.

Blenkinsopp, J 1992. The Pentateuch: An introduction to the first books of the Bible. New York: Doubleday.

Blenkinsopp, J 1995. Sage, priest, prophet: Religious and intellectual leadership in Ancient Israel. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox Press.

Boshoff, W 1991. God, gode en gelowiges: Opvattings oor God in die godsdiensgeskiedenis van Israel, in Bosman H L, Gous, I G P & Spangenberg, I J J (reds). Purper en flenterlap: Rykdom en armoede in die Ou Testament, 180-200. Pretoria: J L van Schaik.

Brueggemann, W 1994. A social reading of the Old Testament: Prophetic approaches to Israel’s communual life. Minneapolis: Fortress Press.

Brueggemann, W 1997. Theology of the Old Testament: Testimony, dispute, advocacy. Minneapolis: Fortress Press.

Burger, C W 1991. Die dinamika van ’n Christelike geloofsgemeenskap: Nuut gedink oor gemeentes. Kaapstad: Lux Verbi. (Gemeente en bediening 1.)

Burger, C W 1995. Gemeentes in transito: Vernuwingsgeleenthede in ’n oorgangstyd. Kaapstad: Lux Verbi. (Gemeente en bediening 3.)

Burger, C W 1999. Gemeentes in die kragveld van die Gees: Oor die unieke identiteit, taak en bediening van die kerk van Christus. Kaapstad: Lux Verbi. (Gemeente en bediening 4.)

Buzzel, S (red) 1998. The leadership Bible: Leadership principles from God’s Word. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

Childs, B S 1992. Biblical theology of the Old and the New Testaments. Londen: SCM Press.

Coenen, L 1975. s v Church, synagogue. NIDNTT 1, 291-307.

Collins, J J 1992. s v Daniel, book of. ABD 2, 29-37.

Deist, F E (red) 1982. Die Bybel leef. Pretoria: J L van Schaik.

De Vaux, R 1973. Ancient Israel: Its life and institutions (vertaal deur J McHugh). Tweede uitgawe. Londen: Darton, Longman & Todd.

Durham, J I 1987. Exodus. Waco, Texas: Word Books. (WBC 3.)

Finkelstein, I & Silberman, N A 2001. The Bible unearthed: Archaeology’s new vision of Ancient Israel and the origin of its sacred texts. New York: The Free Press.

Fohrer, G 1973. History of Israelite religion (vertaal deur D E Green). Londen: SPCK.

Govan, D E 1998. Theology of the prophetic books: The death and resurrection of Israel. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox Press.

Grabbe, L C 1995. Priests, prophets, diviners, sages: A socio-historical study of religious specialists in ancient Israel. Valley Forge, Pennsylvania: Trinity Press.

Hanson, P D 1987. Israelite religion in the early postexilic period, in Miller, P D, Hanson, P D & McBride, S D (reds), 485-508.

Hendriks, J 1990. Bedieninge in en deur die gemeente: ’n Prakties-teologiese basisteorie. Praktiese Teologie in SA 5/1, 19-42

Hendriks, J (red) 1992. Gemeentes vertel: Verandering in ’n Christelike geloofsgemeenskap. Kaapstad: Lux

Verbi. (Gemeente en bediening 2.)

Labuschagne, F J & Eksteen, L C 1993. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Agste hersiene en verbeterde uitgawe. Pretoria. J L van Schaik.

Le Roux, J H 1982. Die ontstaan en kanonisering van die Bybel, in Deist, F E (red), 251-264.

Le Roux, J H 1987. Teologie in ’n krisis, in Deist, F E & Le Roux, J H (reds). Rewolusie en reïnterpretasie, 101-159. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers. (Die literatuur van die Ou Testament 4.)

Le Roux, J H 1996. ’n Nuwe godsdiensgeskiedenis van Israel. NGTT 37/4, 610-622.

Mead, L B 1994. Transforming congregations for the future. New York: The Alban Institute.

Meyers, C & Meyers, E M 1992. s v Zechariah 1-8. ABD 6, 1061-1065

Meyers, E M 1992. s v Synagogue. ABD 6, 251-260.

Miller, J M & Hayes, J H 1986. A history of ancient Israel and Judah. Philadelphia: Westminster Press.

Miller, P D, Hanson, P D & McBride, S D (reds) 1987. Ancient Israelite religion: Essays in honor of Frank Moore Cross. Philadelphia: Fortress Press.

O’Kennedy, D F 1996. Prayer: An integral part of the Old Testament. Scriptura 59/4, 421-433.

O’Kennedy, D F 1999. “And it shall be forgiven him/them”: The concept of forgiveness in the Pentateuch. OTE 12/1, 94-113.

Olivier, J P J 1982a. Die tyd van die aartsvaders, in Deist, F E (red) 1982, 24-36.

Olivier, J P J 1982b. Israel en Juda as selfstandige kleinstate in die internasionale politieke arena: die Omriede (878-845 vC), in Deist, F E (red) 1982, 130-139.

Preuss, H D 1995. Old Testament theology, Vol 1 (vertaal deur L G Perdue). Edinburgh: T & T Clark.

Preuss, H D 1996. Old Testament theology, Vol 2 (vertaal deur L G Perdue). Edinburgh: T & T Clark.

Price, T D 1990. s v Church. Mercer Dictionary of the Bible, 150-153.

Prinsloo, W S 1988. Die funksionering van die “amp” in die Ou Testament: Die sogenaamde klassieke profete, in Rossouw, P J (red). Gereformeerde ampsbediening, 24-39. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Rendtorff, R 1986. The Old Testament: An Introduction. Philadelphia: Fortress Press.

Ringgren, H 1966. Israeliete religion (vertaal deur D Green). Londen: SPCK.

Rowley, H H 1967. Worship in Ancient Israel: Its forms and meaning. Londen: SPCK.

Schmitt, J J 1992. s v Preexilic Hebrew prophecy. ABD 5, 482-489.

Smit, A T 1995. Begeleiding: Nuut gedink oor leierskap in die gemeentes, in Smit, A T (red). Nuut gedink oor leierskap in gemeentes, 16-34. Kaapstad: Lux Verbi. (Gemeente en bediening 4.)

The center for parish development 1993. Organizational concepts for church transformation. Chicago, Illinois. (Readings in church transformation.)

Van Rensburg, G & Hendriks, J (reds) 1994. Vernuwing in die jeugbediening: Gemeentes aan die woord. Pretoria: Engedi.

Whybray, R N 1995. Introduction to the Pentateuch. Grand Rapids: Eerdmans.

1 Hierdie artikel is die eerste in ’n reeks van twee artikels wat oor dieselfde onderwerp handel. Die tweede artikel sal op die Nuwe Testament fokus.

2 Vgl die boek van die The center for Parish Development met die titel Organizational concepts for church transformation (1993:1-6).

3 Daar is veral drie dinge wat die skrywer lei om hierdie stelling te maak: (1) Die eerste konferensie oor “Verantwoordelike vernuwing” dien as ’n voorbeeld (NG gemeente Stellenberg, 28-30 Aug 2000). Die saak van vernuwing in die gemeente is vanuit verskillende hoeke bekyk en ’n hele aantal aanbiedings en slypskole is gehou. Die skrywer kon geen sessie vind wat spesifiek oor die Bybelse begronding vir vernuwing handel nie. Gelukkig is daar tydens die tweede konferensie meer aandag hieraan verleen (28-30 Aug 2001). (2) Daar is baie min Afrikaanse boeke en tydskrifartikels wat spesifiek oor hierdie aspek handel. In die boek Gemeentes vertel (Hendriks 1992) wat handel oor verandering in gemeentes word daar baie min “vertel” van die rol wat die Bybel gespeel het in die onderskeie vernuwingsprosesse. In ’n Afrikaanse boek oor vernuwing in die jeugbediening (Van Rensburg & Hendriks 1994) word die Bybelse begronding ook afgeskeep. (3) Tydens kerklike vergaderings, konferensies en kursusse wat die skrywer die afgelope elf jaar bygewoon het en waar die saak van vernuwing en transformasie beredeneer is, is die Bybelse begronding dikwels geïgnoreer of afgeskeep.

44 Geleerdes vra heelwat kritiese vrae oor die historiese betroubaarheid van die Bybel en die gebruik van die Bybel om ’n spesifieke praktyk in ’n spesifieke tydvak van Israel se geskiedenis te dateer. Het Abraham bv werklik by Sigem aanbid? As ons bloot op ’n modernistiese wyse na “geskiedenis” kyk, is dit baie moeilik om “objektiewe wetenskaplike bewyse” uit die Bybel te haal. Daar is ook baie min of feitlik geen buite-Bybelse geskrifte en argeologiese navorsing wat ’n mens kan help met inligting oor Israel se geskiedenis vóór die monargale tyd nie. Die Bybel is nie geskryf as ’n geskiedenis- of wetenskaphandboek nie. Die Bybel is egter ’n teologiese getuienis aangaande God en sy volk of kerk; daarom het hierdie getuienis vir ons vandag betekenis. Eeue se getuienis van hoe gelowiges die verhouding tussen God en sy volk of kerk gesien het, is hierin opgeteken. Ons moet wel besef dat die optekening van sommige gebeurtenisse dikwels jare ná hierdie gebeurtenisse opgeteken is. Soms weerspieël hierdie tekste ook die behoeftes en geloof van ’n latere geloofsgemeenskap wat dit opgeteken het. Die Priestergeskrif word bv laat gedateer (sesde of vyfde eeu vC), maar getuig van vroeëre historiese gebeurtenisse (vgl Brueggemann 1994:273). Die feit bly egter staan dat die outeurs en redaktors van die tekste in die Bybel ’n getuienis lewer hoe die volk voor God se aangesig gelewe het.

5 Die skrywer het tien jaar se uitgawes van die NGTT en Praktiese Teologie in SA nagegaan (1992-2002) en kon geen Afrikaanse artikel vind wat ’n algemene oorsig gee van die ontwikkeling van geloofsgemeenskappe in die Ou Testament nie.

6 Sommige NG Kerk-lidmate in SA verkies nie die woord “transformasie” nie vanweë sogenaamde politieke konnotasies.

7 Die woord “bediening” is afgelei van die Hebreeuse woord דבץ en die Griekse woord diakonia.

8 Hierdie stelling geld veral vir die monargale tyd (vgl Brueggemann 1994:264-265).

9 Ou-Testamentiese geleerdes stel verskillende tydperke voor. Hierdie verdeling is ’n subjektiewe keuse van die outeur om ’n paar gedagtes te orden. Die Bybel is ongelukkig nie chronologies of volgens die struktuur van geloofsgemeenskappe gerangskik nie.

10 Net ’n kort verduideliking van terme wat algemeen in hierdie artikel gebruik word: (1) Terme vir God soos “God”, “Jahwe” en “Here” word as sinonieme gebruik. (2) As daar van “volk” gepraat word, verwys dit na God se verbondsvolk wat Hy uitverkies het. Terme soos “Israeliete” en “Jode” word ook soms as sinonieme gebruik. (3) Die term “Israel” verwys streng gesproke na die Noordryk en “Juda” na die Suidryk, maar in die volksmond word die term “Israel” dikwels vir die hele geografiese gebied gebruik. (4) Die godsdiens wat in die Ou Testament gepropageer word, is streng gesproke die monoteïstiese Jahwe-godsdiens van Israel en Juda.

11 Die term “Tora” het ’n breë semantiese veld wat onder meer verwys na instruksie, leiding en gebod. In die boek Eksodus verwys Tora veral na die wil van God waarop die verbond met Israel begrond is (Childs 1992:133).

12 Somtyds word die woord “tabernakel” gebruik, maar in die Ou Testament word dit as die “tent van ontmoeting” getipeer. Die uitdrukking “tent van ontmoeting” kom 133 keer in die Ou Testament voor (Preuss 1995:254-255).

13 Blenkinsopp (1992:197) se indeling van die Verbondsboek is Eks 20:21-23:19, terwyl Whybray (1995:118) Eks 20:22-23:33 aangee. In hierdie artikel word by die verdeling van Whybray asook die 1983-AV aangesluit.

14 Daar is verskeie hipoteses oor die inbesitname van die land: (1) groot militêre aanslag; (2) geleidelike infiltrasie van Israeliete; (3) kleinboere-opstand (vgl Albertz 1994a:70-72; Finkelstein & Silberman 2001:329-339).

15 Miller & Hayes (1986:93) sê die volgende oor die gebruik van die term “rigter”: “Note, however, that the title ‘judge’ appears primarily in the editorial passages of the Book of Judges rather than in the component narratives.”

16 Bird (1987:404) wys daarop dat Mirjam voor die tyd van Debora as leier opgetree het. Eks 15:20-21 getuig dat Mirjam (die suster van Aäron) die Israeliete in ’n oorwinningslied ná die Rietsee-episode gelei het. In Num 12:2-8 word sy saam met Moses en Aäron as een van die leiers van die volk gereken. Bird (1987:415) meen dat sy as kultiese sanger en profeet ’n leiersrol vervul het. Alhoewel Debora ook as kultiese sanger en profeet opgetree het, was sy waarskynlik die eerste vrou wat onafhanklik (sonder die hulp van ’n broer of ander leier) as leier na vore getree het en gevolglik as rigter deur God verkies is.

17 Silo word die sentrale heiligdom van die stamme-federasie.

18 Hierdie afdeling kan onder verskeie subopskrifte bespreek word, bv Verenigde Koninkryk en Verdeelde Koninkryk. Ons verkies egter om dit saam te behandel, omdat die “bedieningstruktuur” en leiers ooreenkom.

19 In die Ou Testament is konings nie volgens politieke of militêre sukses beoordeel nie. Omri, bv, was een van die briljantste leiers wat Israel ooit gehad het. Sy roem het so wyd gestrek dat daar in die Assiriese annale voortaan na Israel as die huis van Omri verwys is. Daar is egter net ’n paar verse in die Bybel (1 Kon 16:15-28) oor Omri opgeteken omdat hy gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here (vgl Olivier 1982b:130-131).

20 Geleerdes verskil oor die aantal ballinge wat weggevoer is, omdat dit baie moeilik is om die presiese getal te bepaal. Die Bybel gee ook verskillende getalle op (vgl Jer 52:28-30; 2 Kon 24:4). ’n Mens kan waarskynlik sê dat daar tussen 5 000 en 20 000 (op die meeste) weggevoer is. Dit beteken dat op die meeste 25% van die Israelitiese bevolking weggevoer is, met 75% wat nog in die land agtergebly het (Le Roux 1987:127; Finkelstein & Silberman 2001:306).

21 Die Griekse woord sunagwgh kom 225 keer in die LXX voor. In baie gevalle is dit ’n vertaling vir die Hebreeuse woord להק (vergadering, byeenkoms, godsdienstige gemeenskap, ens) (Coenen 1975:291-292).

22 Die profete Habakuk, Nahum en Deutero-Jesaja (Jes 40-55) het ook moontlik in hierdie tyd opgetree. Geleerdes verskil egter oor hulle presiese datering.

23 Geleerdes meen egter dat die boek Daniël eers finaal in die tweede eeu vC opgeteken is (vgl Collins 1992:30-31).

24 Dan 9:7 is ’n goeie voorbeeld van hierdie sg internasionale Israel: “… oor die mense van Juda, oor die inwoners van Jerusalem, oor die hele Israel, dié wat naby is sowel as dié wat ver is, ver in al die lande waarheen U hulle verstrooi het oor hulle ontrou teenoor U”.

25 Sommige geleerdes gebruik nuwe benaminge vir Juda en die Jode in hierdie tyd. Juda word nou Yehud, die Aramese naam van die provinsie in die Persiese Ryk en die volk van Juda, word nou genoem Yehudim (Finkelstein & Silbermann 2001:297).

26 Blenkinsopp (1995:9) wys daarop dat wysheid nie beperk is tot die sg wysheidsboeke nie. Daar is ook tekens van ’n wysheidsbeweging, -tradisie of -invloed by die profete, Psalms en andere.