Wat moet ons as Christene nog glo? ’n Persoonlike verantwoording1
ABSTRACT
What should we as Christians still believe? A personal account
The problem that scientific knowledge poses for the authority of Scripture and for what we must believe as Christians is discussed in this article. Under various headings the view is put forward that biblical faith and science do not oppose one another (they can and must walk the way together), that we must hold on to the transcendency of God as well as to the fact that He enters into a meaningful relationship with people by revealing Himself to us, that the nature of this revelation is such that it is both thoroughly from God and thoroughly mediated through humans, and that the Bible as the witness of God’s revelation should be appropriated by each generation both with freedom and with respect for the apostolic tradition it contains.
1. DIE PROBLEEM
As Christene van gereformeerde oriëntasie bely ons dat die hoofkenbron vir wat ons oor God moet glo die Bybel is. Dis nie dat ons ander bronne totaal uitsluit nie, maar ons bely dat daar finaal maar een besondere bron is wat aan ons die wese, hart en wil van God kan blootlê, en dit is die Bybel. Ook al bely ons dat God Hom by uitstek in ’n mens – Jesus Christus – bekendgemaak het en dat ons deur die Heilige Gees in ’n persoonlike verhouding met Christus gestel word, is kennis oor2 Christus vir alle praktiese doeleindes slegs bekombaar deur die Bybel.3 Vir die meeste Christene is daar dus nie ’n meer direkte toegang tot kennis oor God as deur die Bybel nie. Laasgenoemde bly die klassieke oorsprongsdokument van die Christelike godsdiens.
Maar dis presies op hierdie punt waar die probleme vir ’n groeiende aantal Christene aan die begin van die derde millennium na Christus begin opstapel. Die wêreld wat ten grondslag lê van en verweef is met die verhale en gegewens in die Bybel word toenemend deur baie Christene as uit pas met eietydse kennis en die algemene lewensgevoel ervaar. Miskien nie altyd uitgesproke so nie, maar dan wel so dat dit ’n stille erosie in mense se betrokkenheid by Bybelse waarhede en die kerk se leer tot gevolg het. Ja, in ’n pre-kritiese stadium van die mens se geskiedenis is die wêreld van die Bybel en die een waarin mense geleef het nie as botsend beleef nie. Selfs al was daar ’n groot tydsafstand tussen die ontstaan van die Bybel en sy latere lesers was daar in die algemene lewensuitkyk nie so ’n groot verwydering nie. Daar is baie meer direkte aanklank gevind by die Bybel se leefwêreld. Maar as kinders van die Aufklärung word ons toenemend gekonfronteer met inligting en insigte wat dit moeilik maak om die Bybel gladweg na te spreek. Baie van wat ons in die Bybel aantref, het gewoon weggeraak agter mense se intellektuele horison (Polkinghorne 1991:64). Byvoorbeeld, in die Bybel lees ons dat God die wêreld in ses dae geskep het, maar ons weet dat die wêreld oor miljoene jare heen ontstaan het (vgl Joubert 1997:1-22). Ons lees dat Adam en Eva die eerste mensepaar was, maar die paleontologie leer dat die mens se oorsprong veel ingewikkelder is as die Bybelse voorstelling daarvan, en dat daar in elk geval nie ’n enkele oerouerpaar was waaruit ons almal ontstaan het nie. Ons lees van ’n paradystoestand vry van sonde en dood aan die begin van die menslike geskiedenis, met ’n sondeval later wat dood in die skepping ingevoer het, maar die wetenskap weet van geen tyd waarin daar nie gebrokenheid en dood was nie; trouens, dood word beskou as ’n integrale bousteen van die lewe, sonder dood is lewe nie moontlik nie (vgl Durand 1981:171). Ons lees van ’n drieverdieping-kosmos (hemel, aarde en onder die aarde, vgl Eks 20:4) en van ’n aarde wat gegrondves is op sy fondamente (vgl Spr 38:4; Jes 48:13), maar ons weet daar is nie regtig ’n “bo” en ’n “onder” nie, en dat die aarde gesuspendeer is in die uitspansel en in posisie gehou word deur swaartekrag. En so kan ons voortgaan.
Hierdie diskrepansies tussen die “verpakking van data” in die kerk se gesagsboek en ons eie leefwêreld het die potensiaal om die geloofwaardigheid van die Bybel – en dus wat ons moet glo – in die gedrang te bring. Op die minste stel dit groot uitdagings aan ons uitleg van die Bybel, om so die Bybel nog “in spel” te hou. Gelukkig het kreatiewe en teksgetroue uitleg meegebring dat ons al op ’n manier met hierdie teenstrydighede vrede gemaak het. Ons herinner ons voortdurend daaraan dat die Bybel nie ’n natuurwetenskaplike handboek is nie, dat dit met ’n antieke wêreldbeeld opereer, maar dat dít nie noodwendig die eintlike teologiese insigte in gevaar stel nie. Die “verpakking” van die Bybelse boodskap is miskien outyds, uit ’n vergange wêreld, maar die boodskap self is ewig. Die wesenlike inligting oor God en die verlossing van die mens bly onaangetas en onfeilbaar. Hier het ons met ewige waarhede te doen wat deur geen verandering en ontwikkeling in kennis omvergegooi kan word nie.
In elk geval, so het ons nog tot onlangs gedink. Maar nou gaan daar stemme op wat die kaarte ook op hierdie tot nog toe onaantasbare terrein deurmekaar krap. Wanneer die maagdelike verwekking van Christus, sy Goddelike herkoms, sy opstanding en hemelvaart as antieke mites sonder werklike substansie aangedui word, gaan dit nie meer oor relatief onskuldige sake rondom ’n antieke wêreldbeeld wat die kernleerstukke van die Bybel, soos geformuleer deur die kerk, onaangeraak laat nie. Dan gaan dit oor wesenlike sake, waaroor ons die aanvoeling het dat as dit sou val, daar nie veel sou oorbly om te glo nie. Vandaar die vraag in die titel van dié bydrae: Wat moet ons as Christene nog glo? Dis ’n vraag wat met groot intensiteit en emosie gestel word, want dis ’n rug-teen-die-muur-vraag, ’n vraag uit die laaste loopgraaf.
2. GELOOF EN WETENSKAP
In die huidige denkklimaat kan die gestelde vraag nie net teologies beantwoord word nie, omdat dit presies die resultate van die wetenskap is wat die teologie voor nuwe probleme en uitdagings stel. Ja, seker, daar sal altyd mense wees wat sê: Almiskie, wat die wetenskap ook al te sê het, ek glo steeds wat ek glo. Geloof laat hom nie so maklik deur die wetenskap omverwerp nie. Maar op die lange duur is so ’n houding nie volhoubaar nie. Die een of ander tyd haal jou eie leefwêreld jou in en móét jy dit in verband bring met jou geloofsinsigte. Ons kan daarom nie anders as om eers aandag te gee aan die verhouding tussen geloof/teologie en wetenskap4 nie. Ons moet oorhierdie verhouding eers ’n prinsipiële uitgangspunt stel voordat ons voortgaan om die vraag: Wat moet ons as Christene nog glo? te beantwoord.
Sedert die opkoms van die moderne kritiese denke en die daaruit voortvloeiende (natuur)wetenskappe was die verhouding tussen geloof en wetenskap op sy beste nog altyd ’n wankelende een wat tot vele misverstande en wedersydse reaksionêre optredes en vervreemding gelei het.5 Nog vars in die geheue is die veroordeling van Galileo Galilei deur die Roomse Kerk van die Middeleeue weens eersgenoemde se “ketterse” uitsprake wat die geosentriese wêreldbeeld van die Bybel met ’n heliosentriese een wou vervang. En dis maar eers onlangs – na meer as 350 jaar – dat die Roomse Kerk vrede gemaak het met Galilei en erken het dat die kerk verkeerd was en Galilei toe al die tyd reg. Liewers laat as nooit, lui die spreekwoord, maar was dit nie dalk te laat nie? Is die hedendaagse verskynsel van ’n volslae gesekulariseerde Europa nie die rekening wat betaal moes word vir die onverkwiklike skeefloop van die verhouding tussen geloof en wetenskap nie? Of was dit maar die noodwendige opbreek van ’n vals corpus Christianum? Hoe sal ’n mens weet? Die punt is, dinge kon dalk anders verloop het as die kerk vinniger was om vrede te maak met die resultate van die wetenskap.
“Vrede maak met die resultate van die wetenskap” – dít is die saak waaroor dit ten diepste gaan. Te lank was daar ’n soort koue oorlog of beleefde wapenstilstand tussen geloof en wetenskap. Te lank het die kerk in Suid-Afrika gedink hy kan aan die opmars van die kritiese denke ontsnap. Maar as daar ooit twyfel was of ons die “oorlog” gespaar sou bly, het die onlangse debat rondom die Nuwe Hervorming finaal die twyfel verwyder. Ons sal nie weer na die relatief onskuldige paradystoestand van ’n kritiekvrye lees van die Bybel kan terugkeer nie. Pandora se kissie is oopgemaak, die kritiese vrae is uit, die Bybel (en die kerk se leer) het in die spervuur beland. Ons sal die ongemaklike vrae die hoof moet bied, want dit het nou deel van die kerk se verantwoordelikheid geword. Ons sal moet rekenskap gee van waarin ons regtig glo, ons sal antwoorde moet verskaf aan elkeen wat ’n verduideliking eis oor die hoop wat in ons lewe (1 Pet 3:15). En dit sal antwoorde moet wees wat spesifiek rekening hou met die resultate van die wetenskap.
Hoekom? Omdat ons nie dualisties in twee wêrelde kan lewe nie. Die Bybelskrywers het dit nie gedoen nie; ons kan ook nie. Ons kan nie met die een hand vashou aan ’n rasionele, Westerse wêreldbeeld en tegnologie, en met die ander hand aan insigte wat lynreg hiermee bots nie. Ons kan nie van Maandag tot Saterdag die beginsel van evolusie in die skepping aanvaar (let wel: nie 6evolusionisme wat God by voorbaat uitskakel nie6) en Sondag ’n ander hoedjie opsit en maak asof ons van geen sout of water weet nie. Óf ons moet die een aanvaar en die ander verwerp, óf – en dit is my standpunt – ons moet ’n modus vivendi vind waar Bybelse geloof en wetenskap sáám op weg kan gaan.
Is dit moontlik? Ja, maar met wedersydse respek tussen die onderskeie reisgenote. Die egte gesprek staan nog in sy kinderskoene, want in die verlede was dit eerder ’n geval van koppe stamp. Maar dit wil tog lyk asof die saam-op-weg-wees ’n nuwe fase met baie moontlikhede betree het. Ek motiveer soos volg:
• Eintlik is geloof en wetenskap al eeue lank saam op weg, hoewel hortend en stotend, soos reeds genoem. Vandat die kritiese Bybelondersoek op die toneel verskyn het, het ons nog altyd probeer om die insigte van die wetenskap te paar met Bybelse gegewens. Wat in die inleidende paragrawe gesê is rondom die skepping van die wêreld in ses dae en die verband met die beginsel van evolusie, is ’n goeie voorbeeld. Hierdie nadenke het ons ten minste gebring by die ware aard van Genesis 1-2 se skeppingsverhale77 en dat daar nie werklik ’n botsing tussen ’n Bybelse skeppingsgeloof en die insigte van die wetenskap op hierdie punt hoef te wees nie. Hierdie insigte bly egter nog te veel beperk tot akademiese kringe. Die gesprek sal nou doelbewus na die kerklike publiek uitgebrei moet word. Lidmate moenie met die beskuldiging kom dat dinge vir hulle weggesteek word nie. Egte wetenskap en geloof staan nie teenoor mekaar nie. En daar sal meer doelbewuste pogings aangewend moet word om in die prediking aandag te gee aan wat werklik die kern van die Christelike belydenis uitmaak en wat meer op die rand lê.
• Die Bybel self is ’n goeie voorbeeld van die gesprek tussen geloof en wetenskap. Afgesien van die opdrag om God ook met ons hele verstand lief te hê (Matt 22:37), is die wysheidsliteratuur van die Ou Testament seker een van die sprekendste voorbeelde van algemene, praktiese wysheid (= kennis, wetenskap) wat sy weg in die Bybel gevind het (vgl Polkinghorne 1991:70-71). Daar was vir die Ou-Testamentiese mens geen diskrepansie tussen alledaagse getoetste ervaring (wetenskap) en geloof in die bonatuurlike redding en trou van God of die uitleef van die tien gebooie nie. Ook die Nuwe Testament staan hier nie terug nie. Paulus huiwer nie om die algemene wysheid van sy tyd, soos deug- en ondeuglyste, in sy geskrifte in te sluit as goeie voorbeelde van “Christelike” sedes en gedrag nie (vgl Van Zyl 1992:126). En die boek Hebreërs is sekerlik een van die uitsonderlikste voorbeelde van ’n Bybelskrywer wat die Christelike evangelie in denkkategorieë verpak het wat ook die denkende (Joods-) Hellenistiese mens van sy tyd sou aanspreek. Die intellektuele kraglopie van ’n hemelse tempel waarin Christus permanent sy intrek geneem het, is ’n doelbewuste poging om ’n uitgediende offerkultus te vervang met een wat in terme van Joods-Hellenistiese konsepte meer sin sou maak.
• Daar is vandag ’n groeiende aantal wetenskaplikes (en teoloë!) wat vanuit ontdekkings en insigte in die natuurwetenskap met nuwe oë na die Bybel begin kyk, en verrassend ontdek dat daar raakpunte met die wetenskap is. 88Veral vanuit die kwantumfisika iswetenskaplikes enersyds baie meer oop vir die onvoorspelbare, die misterieuse, die wonder, wat groter begrip bring vir die konsep God binne die wetenskap. Daar is selfs ateïstiese wetenskaplikes wat dit (skoorvoetend) toegee. Gelowige wetenskaplikes gryp dit weer met albei hande aan om doelbewus die gesprek met die teologie op te neem. Andersyds is daar groter beskeidenheid by wetenskaplikes oor die sogenaamd onbe- twisbare resultate van die wetenskap. Beter begrip van die beperkings van die weten- skaplike metode, die inherente subjektiwiteit van alle ondersoeke, sowel as die meer- duidigheid van sogenaamde objektiewe gegewens, bring mee dat wetenskaplikes ook baie meer oop is vir egte diskussie en die aanvaarding van die voorlopigheid van hulle resultate.
• Daar is maar één werklikheid wat deur sowel teologie as wetenskap – elkeen vanuit sy eie hoek – bestudeer word. As God werklik die Skepper en Onderhouer is van alles wat bestaan, is die skepping ’n werklikheid wat na sy Maker verwys (Ps 19:1: “Die hemel getuig van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend”), en dan moet wetenskap en teologie noodwendig in die grond van die saak met dieselfde werklikheid besig wees. Daarom behoort daar nie stryd tussen wetenskap en teologie te wees nie.9 Die natuurwetenskap het net in sekere sin ’n makliker taak op hande omdat sy beoefenaars doelbewus hulle ondersoeke beperk tot die kontroleerbare werklikheid, ’n werklikheid wat deur die mens getransendeer word en dus gemanipuleer kan word. Die teologie se onderwerp is egter die Allerlaaste Werklikheid, naamlik God. Hier is dit weer Gód wat óns transendeer in die ondeurgrondelikheid van sy wese, liefde en genade. Hy is nie manipuleerbaar nie; inteendeel, die mens is vir kennis oor God afhanklik van openbaringsmomente waarin God Hom uit genade bekendmaak (Polkinghorne 1991:59). Daarom speel in die teologie, van die mens se kant gesien, dinge soos persoonlike betrokkenheid, intuïsie, sensitiwiteit, kulturele konteks en geloofstradisies ’n baie groter rol as in die wetenskap. Maar dit beteken nie dat die teologie nie ook met die werklikheid besig is nie. Dit is ’n drogredenasie wat dikwels in die verlede voorgehou is dat die wetenskap hom met die werklikheid besig hou en die teologie met persoonlike en onkontroleerbare oortuigings wat daarom nie algemene geldigheid geniet nie en dus geïgnoreer kan word. Die teologie van Karl Barth, dié teoloog van die twintigste eeu, hoewel magistraal in sy omvang en intellektuele diepgang, het ook nie veel bygedra om die gesprek tussen teologie en wetenskap te bevorder nie, aangesien Barth met sy streng openbaringsteologie (senkrecht von oben) ’n uitsonderingsposisie vir die teologie gereserveer het. (Sommige het Barth selfs verwyt dat hy ’n ghetto-teologie bedryf.)10 Maar, sonder om die teologie sy eie aard te ontneem, sal die rasionele gehalte van die teologie, in die sin van sy raakpunte en gesprek met die wetenskap, nie langer agterweë kan bly nie, anders kan teologie hom inderdaad in ’n ghetto bevind (Polkinghorne 1996:44). Andersyds het die wetenskap ook veel te leer by die teologie, spesifiek die geloofskennis dat agter die kontroleerbare werklikheid daar ’n Allerlaaste Werklikheid is wat aan alles sin en betekenis gee.
Wanneer ek pleit vir ’n saam-op-weg-wees van teologie en wetenskap bedoel ek nie dat die teologie resloos uitgelewer is aan die resultate van die wetenskap en elke nuwe teorie wat op die horison verskyn teen wil en dank moet omhels nie. Die wetenskap lewer nou ten ene male nie altyd klinkklare, onfeilbare resultate nie. Die werklikheid is kompleks, en dis eers na baie probeerslae, argumente en teenargumente, eksperiment op eksperiment, en die uitvoer van uitgebreide kontroles dat verfyning van resultate en ’n soort konsensus mettertyd mag ontstaan. Feite benodig altyd interpretasie, veral as ons na die minder eksakte wetenskappe beweeg, om nie eens van die hermeneutiese menswetenskappe te praat nie.
Wat ek probeer sê, is dat die teologie deeglik moet kennis neem van en in pas moet wees met die werklikheidsbeeld wat die wetenskap oor tyd heen vir ons oopmaak. Want dít is die werklikheid waarin die mens van vandag leef. Wat meer is, die oopmaak van die werklikheid deur die wetenskap is ook ’n ontdekkingsreis wat vir ons Gód oopmaak. Die Boek van die Natuur is net so ’n besigwees met God as wanneer ons die Boek van die Skriftuur opneem. Daarom staan wetenskap nie teenoor geloof, teologie en Bybelse insigte nie. En as daar botsings is – en daar ís en sal altyd wees – is dit nie die tyd vir teologie en wetenskap om mekaar vanuit hulle onderskeie loopgrawe met grofgeskut te bestook nie. Dan is dit juis die tyd om saam op weg te wees totdat daar by sinvolle antwoorde uitgekom word. Die teologie moet afstand doen van ’n soort gepriviligieerde posisie waarin hy hom soms teen die “aanslae” van die wetenskap wil verskans. Ons skuld dit veral aan ons denkende lidmate, sodat hulle nie vertroue verloor in die boodskap van die Bybel en die kerk nie.
3. TRANSENDENSIE EN OPENBARING
Die vorige punt het gehandel oor die teologie wat moet vrede maak met die wetenskap. Dit is ’n sine qua non vir ’n eietydse belewenis en belydenis van geloof. Dit is die een kant van die muntstuk. Maar daar is ook die ander kant, naamlik die ononderhandelbare van ’n Bybelse geloof, dit waarsonder die Christen nie werklik Christen kan wees nie. Dit gaan oor wat die basiese toonaard van die Bybel vorm, oor wat die Bybel ten diepste wil deurgee omtrent die Christelike lewensuitkyk en -wandel. Dit gaan oor daardie werklikheid wat die Bybel vir ons oopbreek wat die oorkoepelende verstaanshorison vorm waarmee die lewe benader moet word.
Die een visie wat die eie aard van die Bybel uitmaak en wat ons móét glo, is dié van ’n transendente, persoonlike God. Dit is die sogenaamde teïstiese Godsbeeld. Vir my is dit ’n ononderhandelbare. As ons hierdie perspektief verloor, kan ons maar net sowel die deure van die kerk sluit. Dis ’n perspektief wat nie maar net insidenteel in die Bybel voorkom sodat ’n mens dalk mag wonder of dit werklik so belangrik is nie. Nee, dit vorm die skering en inslag van en die oorkoepelende raamwerk waarmee die Bybelse verhaal gelees moet word. As ’n mens hierdie perspektief probeer wegredeneer of kleineer, verstaan jy gewoon nie wat die Bybel wil sê nie. Of dit nou Abraham is wat God se roepstem in Ur hoor, asook die latere verbondsbeloftes sy eie maak, of Moses wat ’n ontmoeting met die onsigbare God op Sinai het, of die eksodusvolk wat God se blywende teenwoordigheid in wolk, vuur en tabernakel ervaar, of Elisa se visie van ’n onsigbare leër van perde en strydwaens wat Samaria beskerm (wat sy adjudant nie kon sien nie en waarvoor sy oë geopen moes word), of die profete wat God se perspektief op Israel se doen en late helder raaksien en aan ’n halsstarrige volk deurgee (“so spreek die Here”), of Petrus, Jakobus en Johannes wat ’n visie ontvang van Jesus se verheerliking op die berg, of die apostels en ander gelowiges wat die opgestane en verheerlikte Jesus sien, of Paulus wat die opgestane Here op die Damaskuspad ontmoet, of dieselfde Paulus wat tot in die derde hemel weggeruk word en onuitspreeklike dinge hoor, of die Hebreërskrywer wat praat van gelowiges wat die onsienlike sien en onwrikbaar daaraan vashou, of Johannes wat ’n hemelse visie van die geslagte Lam langs die troon van God het, die Lam wat die lotgevalle van die wêreld in sy hande hou – dit maak nie saak wat die aard van die visie is of hoe dit geïnterpreteer moet word nie, wat duidelik is, is dat gelowiges leef vanuit die God-faktor, vanuit die oortuiging dat God daar is, dat Hy saak maak, en dat Hy hierdie wêreld rig en lei na sy uiteindelike bestemming toe. Sonder hierdie transendente perspektief is daar geen Christendom moontlik nie.
Die perspektief wat ten nouste met dié van ’n transendente, persoonlike God verweef is, is dat God nie net selfgenoegsaam in sy transendensie is nie, maar dat Hy Hom openbaar. Hy tree in gesprek en maak bemoeienis met mense. Trouens, as dit nie daarvoor was nie, sou ons geen begrip van ’n transendente God gehad het nie. En dít is wat die aard van die Bybel vorm: dis van huis uit ’n openbaringsboek, ’n samevatting van openbaringsmomente. Soos Schneiders (1991:46) dit stel: “Scripture is a medium of the divine self-gift for all who approach it in faith.” Voor ek verdere opmerkings oor die aard van openbaring in die Bybel maak, wil ek dit eers duidelik stel dat wát ’n mens ook al oor openbaring sê, dit ’n ononderhandelbare is, iets wat die Christen móét glo. Ons moet aanvaar dat deur openbaring ’n werklikheid geopen word wat, enersyds, onbekend vir die mens sou gebly het as dit nie vir die openbaringsmoment was nie, en wat, andersyds, noodsaaklik is vir sinvolle menslike bestaan. Dit gaan hier oor insigte wat ’n mens net ten koste van jou totale heil kan ignoreer. Openbaringsinsigte is dus lewensnoodsaaklik, nie net ten opsigte van jou uiteindelike heil (“waar jy die ewigheid gaan deurbring”) nie, maar ook vir die lewe hier en nou. Openbaring is ’n deurligting van die werklikheid voorhande met ’n visie van die Werklikheid agter die werklikheid. En hierdie Werklikheid is net so reëel en belangrik soos die een wat ons met ons gewone sintuie ervaar. Want die “gewone” werklikheid en die werklikheid van God is nie van mekaar los te maak nie. Die transendente God is terselfdertyd die Een wat die geskape werklikheid tot stand gebring het en dit steeds onderhou met sy wese, teenwoordigheid, liefde en genade. So gesien, is openbaring niks anders nie as ’n in verband bring van hierdie werklikheid met die Allerlaaste Werklikheid.
Dit is vervolgens ook nodig om iets oor die aard van Bybelse openbaring te sê. In die vorige paragraaf is klem gelê op die bonatuurlike dimensie daarvan (openbaring open ’n reële perspektief op God). Hieraan mag geensins afbreuk gedoen word nie. Maar nou moet die organiese en kontekstuele karakter van openbaring ook aangesny word. Daarmee word bedoel dat God se openbaring nooit los van mense en hulle konkrete omstandighede deurgegee word nie. Dít is juis wat die Bybelse openbaring so uniek maak. Ja, daar is besondere transparante oomblikke van min of meer direkte ontmoetings met God, maar dit geskied nooit buite om wat mense op daardie oomblik kan verstaan en “vat” nie. Openbaring is daarom tegelyk die ontkleding van die Goddelike dimensie en die bekleding daarvan met die aardse.
Hierdie insig open die perspektief van voortgang en kontrole in Bybelse openbaring. Juis omdat God Hom in konkrete omstandighede aan mense bekendmaak, is daar altyd ruimte vir verdere ontplooiing van die openbaringsgebeure. ’n Goeie voorbeeld van voortgang is die koms van die Seun van God na die wêreld. Hoe ’n mens ook al oor “Christus in die Ou Testament” dink, by terugskou kan jy moeilik ontken dat daar spore van ’n messiaanse verwagting in die Ou Testament waarneembaar is wat gaandeweg ’n ryker vulling ondergaan, totdat dit uiteindelik in die lewe en werk van Jesus Christus ’n realisering kry wat alle destydse verwagtings te bowe gaan. Die skrywer van die Hebreërboek vertel hiervan wanneer hy sê dat die Seun die kulminasie is van die lang proses van God se spreke tot sy volk (Heb 1:1). In Christus het God Hom uitgespreek, Hy het wesenlik niks meer vir sy volk te sê nie. Nog ’n voorbeeld is die opstandingsgedagte. Omtrent niks hiervan is in die Ou Testament sigbaar nie. Maar godsdiens-historiese ontwikkelings in die sogenaamde tussentestamentêre tydvak, gepaardgaande met inherente geloofsoortuigings van die Jahwisme (dat die lewende God nie die God van dooies is nie maar van lewendes – God is die God van Abraham, Isak en Jakob), kry uiteindelik hulle vervulling in die opstanding van Jesus en in die oortuiging dat in Christus God met ’n nuwe mensheid begin het, ’n mensheid wat ook vir diegene wat aan Christus verbonde is ’n werklikheid is. Op sy beurt voed dit weer die verdere openbaring van die wederkoms van Christus, wat ook die koms van ’n nuwe hemel en nuwe aarde sal bring. En ook hierdie openbaring hou die potensiaal van verdere ontplooiing in, want die besonderhede hiervan is tans nie in ons wildste drome voorstelbaar nie.
Die insig oor die voortgang van openbaring bring mee dat Bybelse openbaring dinamies is. Dit is nie iets wat as ’n eenmalige, onbegryplike postulaat gestel word en soos swaar granietblokke op mense neergegooi word, en daarmee is dit klaar nie. Ja, openbaring kom van God af, dit gaan oor dinge wat mense nie kan bedink nie (vgl 1 Kor 2:9: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet”), maar dit is ook net so waar dat openbaring organies groei en saamhang met die bevatlikheid van gelowiges. God lê sy gedagtes in die harte van mense, daar ontkiem dit en word dit ryp, en vervolgens word dit in konkrete omstandighede as sowel menslike oortuiging as Goddelike openbaringswaarheid geformuleer.11 Daarom is ek persoonlik nie so negatief oor dievoorstelling van die Bybel as “die woorde van mense oor God” nie. Solank daarmee saam net met ewe veel oortuiging gesê word dat die Bybel in besondere sin die Woord van God is. Hierdie twee formulerings sluit mekaar nie uit nie; saam is hulle die uitdrukking van die twee gesigte van die Bybel: honderd persent die woord van mense en honderd persent die Woord van God. Ons het die Woord van God nie anders as in mensewoorde nie.
Hierdie insig bring mee dat Bybelse openbaring ook kontroleerbaar is. Wanneer dit oor godsdiens gaan, is daar baie vals aansprake in omloop. Enigeen kan beweer dat hy of sy ’n openbaring van God gehad het. Dit kan selfs die mees onsinnige goed inhou. Iemand kan sê dat hy die openbaring ontvang het om alle prostitute uit die weg te ruim ten einde die mensdom van hierdie Godonterende bedryf te bevry en so ook die verspreiding van die MI-virus te bekamp. Intuïtief voel ons aan dat dit ’n verwronge insig is; dit kom nie van God af nie. Daarom dat openbaringsaansprake en -insigte nooit net spesifiek individuele aangeleenthede is nie. Dit moet altyd deur die geloofsgemeenskap getoets en aanvaar word.12 En dit is die rede waaromgeloofstradisies so belangrik is. Uiteindelik is die Bybel niks anders nie as die samevatting van oorgelewerde geloofstradisies wat die toets van die tyd oorleef het. Een so ’n tradisie is byvoorbeeld die belydenis oor Christus se heilsweg. In 1 Korintiërs 15:3-4 getuig Paulus dat wat hy ontvang het, hy ook oorgelewer het, naamlik dat Christus gesterf het vir ons sondes, begrawe is en op die derde dag opgewek is. Dit is nie bloot persoonlike opvattings en interpretasies wat hier deurgegee word nie, maar getoetste, gekontroleerde en kontroleerbare insigte. Daarom dat Paulus voortgaan om die getuies van Christus se opstanding op te noem. Dit is ook die rede waarom ons van ’n apostoliese Christendom mag praat. Die getuienis oor Christus se opstanding rus op die gesaghebbende, getoetste en kontroleerbare verkondiging van die apostels, wat aanvaar en bely is deur die vroeë kerk. In die einste 1 Korintiërs 15 is Paulus juis besig om ’n nieapostoliese opvatting te bestry, naamlik dat Christus se opstanding nie ’n saak van die liggaam is nie, maar eintlik net geestelik verstaan moet word. Dus, ten spyte van die verskille in die vroeë kerk is daar ’n eenheid van belydenis en oorlewering wat nie ontken kan word nie. Selfs waar persoonlike interpretasie baie sterk op die voorgrond tree, soos by die viervoudige weergawe van die Jesus- gebeure deur vier individuele outeurs (die vier Evangelies), waar selfs iets ordinêrs soos persoonlike navorsing ’n belangrike rol gespeel het (vgl Luk 1:1-4), moet ons aanvaar dat hierdie interpretasies gebruik gemaak het van die outentieke mondelinge Jesus-tradisie. Dit is nie wilde, willekeurige interpretasies, soos ons later in die apokriewe Evangelies aantref nie, maar dit staan in historiese kontinuïteit en saaklike identiteit met die oorspronklike Jesus-verkondiging (vgl Du Toit 1985:276-277). Dit is dan ook die rede waarom die kerk nie anders kan as om ook in kontinuïteit met hierdie tradisie te bly nie, as dit nog kerk in voortsetting van die vroeë kerk wil wees. Die kerk kan nie op ’n ander tradisie appelleer nie. Soos Schneiders (1991:78) dit stel: “At the heart of all valid preaching of the Gospel in every age is the ‘apostolic faith’, that is, the Christ- event as it was experienced by his disciples in Jesus of Nazareth.”
Die kontroleerbaarheid van die Bybelse openbaring laat ’n belangrike raakpunt met die wetenskap ontstaan. In die verlede is die teologie dikwels verwyt dat hy sy insigte agter openbaringskategorieë verskans en dat dit daarom nie regtig ’n wetenskap is wat met geverifieerde insigte werk en op publieke aanvaarding aanspraak kan maak nie. In die lig van die bostaande uiteensetting is dit duidelik dat so ’n verwyt met ’n halwe waarheid opereer. Weliswaar is daar in die teologie altyd ’n allerlaaste, ononderhandelbare element, weens die herkoms en aard van sy kennis. Maar dat dit eenvoudig afgemaak kan word as bloot persoonlike en ongetoetste oortuigings, strook nie met hoe Bybelse geloofswaarhede tot stand gekom het en steeds vir waar gehou word nie. Omdat die teologie met geloofstradisies opereer wat die tand van die tyd oorleef het, gaan dit hier juis nie oor ongetoetste oortuigings nie. Oor geslagte heen het dit deel geword van baie mense se werklikheidsbelewing. Daarom appelleer dit ook op redelike gronde om as ’n getroue weergawe van die (allerlaaste) werklikheid aanvaar te word. Net soos wetenskaplike insigte oor tyd heen algemene erkenning begin geniet het, ten spyte van detailaangeleenthede wat nog onopgelos mag wees (bv aspekte van menslike evolusie), behoort daar ook groter erkenning te wees vir tyd-getoetste Bybelse openbaringsinsigte, ten spyte daarvan dat verdere slyping en nadenke steeds mag plaasvind.
4. OPENBARING EN GEBRUIK VAN DIE BYBEL
Alles wat tot sover gesê is, pleit vir die Bybel as unieke en onvervangbare bron in die bekom van openbaringskennis. Die vraag is net hoe die Bybel vandag gebruik moet word sodat dit presies hierdie rol kan bly vervul in die kerk se lewe.
Dit is nie so eenvoudig om hierdie vraag te beantwoord nie, tensy ’n mens natuurlik ’n volslae fundamentalistiese weg opgaan, iets wat vir my nie ’n opsie is nie (êrens draai die fundamentalisme se jas altyd vas). In die loop van die argument hier bo het dit reeds duidelik geword dat daar twee brandpunte in die gebruik van die Bybel is waaraan ons gelyktydig moet vashou: eerstens, dat ons as Christene vandag nie anders kan as om vanuit ’n wetenskaplik bepaalde wêreldbeeld te opereer nie, maar tweedens dat ons ook moet vashou aan die teïstiese Godsbeeld van die Bybel, waar God as die transendente wat Hom openbaar aan mense, voorop staan. Met hierdie twee brandpunte as uitgangspunt verken ek die terrein van die gebruik van die Bybel nou verder.
Die geskiedenis van die uitleg van die Bybel toon dat daar in die verlede nie net een manier was waarop die kerk die Bybel gebruik het nie. Tog kan ’n bepaalde lyn aangetoon word, wat daarop neerkom dat die kerk deur wisselende tye en metodes heen die Bybel altyd “lewendig” gehou het vir die lewe van die kerk. Die volgende sou as ’n (oorvereenvoudigde) oorsig kon dien:13 In die pre-kritiese fase (wat eintlik die hele tyd tot en met die Aufklärung in die agtiende eeu geduur het) was Bybeluitleg vir alle praktiese doeleindes in diens van die kerklike dogma. Binne hierdie denke het allegorie baie eeue lank die botoon gevoer as die gewildste uitlegmetode, ten minste tot en met die tyd van die reformasie in die sestiende eeu. Met die aanbreek van die Reformasie het daar ’n kentering gekom. Die Reformatore het wegbeweeg van allegorie en aangedring op slegs één Skrifbetekenis, naamlik die letterlike. Maar steeds was daar nog nie ’n ware historiese bewussyn waarmee daar met die Skrif omgegaan is nie. Laasgenoemde het eers met die kritiese Bybelwetenskap in die tyd van die Aufklärung aangebreek. Toe het die besef gedaag van die garstige Grabe (“afgryslike sloot”)14 wat die tyd van die Bybel van ons eie tyd skei. Hiermee het die pendulum weer na die ander kant van die spektrum geswaai, ten minste in sekere kringe. Die sogenaamd histories-kritiese metode het ontwikkel waarmee daar probeer is om die Bybel “te red uit die kloue van die kerklike dogma”. Hiervolgens is die Bybelboeke as blote godsdiens-historiese bronne vir die lewe van Israel en die vroeë kerk beskou en gebruik. Maar op die lange duur het dit nie bevredig nie, en ’n koersaanpassing is gemaak. Hoewel die histories- kritiese metode steeds met ons is en sal bly, is sy “skerp ideologiese tande getrek”. Dit staan tans in die skadu van baie ander metodes wat juis probeer om die boodskap en saak waaroor dit in die Bybel gaan, op te vang en duidelik te maak vir die gelowige gemeenskap. Hoewel hierdie metodes almal hulle unieke bydraes in hierdie verband lewer, kan ek nie nou op die besonderhede daarvan ingaan nie. Ek wil eerder ’n oorhoofse benadering aandui wat ons kan help om die Bybel so te gebruik dat dit vir ons ’n antwoord gee op die vraag: Wat moet ons nog glo?
Die Bybel self help ons ’n hele ent met so ’n oorhoofse benadering. Die klassieke Christelike houding ten opsigte van die Skrif was dié van respek en vryheid (vgl Polkinghorne 1991:61). Dink hier aan Jesus wanneer Hy na die Skrif (ons Ou Testament) verwys: “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is … maar Ek sê vir julle” (bv Matt 5:21). Hier gaan dit oor sowel respek vir die Skriftradisie (“julle het gehoor dat daar gesê is”) as vryheid (“maar Ek sê vir julle”). ’n Mens kan natuurlik beswaar aanteken en sê dat ons tog nie vir Jesus in hierdie Skrifgebruik kan navolg nie; Hy was immers die uniek Goddelike en gesagvolle interpreteerder van die Skrif. Maar die interessante is dat Jesus se manier van doen die patroon is wat ons deur die hele Nuwe Testament aantref. Ook Paulus en die ander Nuwe-Testamentiese skrywers gebruik die Skrif so dat dit telkens duidelik is dat hulle die Skrif ernstig neem, maar dit terselfdertyd vanuit die Christusgebeure op ’n kreatiewe manier interpreteer om aan te toon dat nie die Judaïsme nie maar die openbaring in Christus die legitieme voortsetting van die Ou-Testamentiese Godsopenbaring is.
Ek meen dat in vryheid en respek vir ons ’n weg lê vir ons eie omgang met die Skrif. Ek handel eers oor vryheid. Weens die aard van die ontstaan en samestelling van die Bybel, en gesien in die lig van die wetenskaplike denkklimaat en die stand van die Bybelwetenskap vandag, kan ons nie anders nie as om die Bybel ook met die volle inset van ons kritiese vermoëns te lees. Wat bedoel ek met krities? Dit is nodig om hierdie term goed te omskryf omdat dit soveel negatiewe konnotasies oproep. Ek verduidelik dit aan die hand van die volgende voorbeeld: In Matteus 5-7 (die sg bergrede) en Lukas 6:20-49 (die sg vlakterede) tref ons twee parallelle weergawes van een van Jesus se preke aan. Matteus se bergrede is veel langer as Lukas se vlakterede. Verder kom baie van die parallelle materiaal wat by Matteus in die bergrede opgeneem is nie in Lukas se vlakterede voor nie, maar verspreid in die res van sy Evangelie. Gekonfronteer met hierdie gegewens kan ’n mens twee weë volg: harmoniëring of ’n kritiese lees. Harmoniëring kan op twee maniere geskied: deur te sê dat Jesus by twee geleenthede ’n preek gelewer het wat min of meer dieselfde gedagtes bevat het en dat die langer preek deur Matteus weergegee is en die korter een deur Lukas. Of ’n mens kan sê daar was slegs een preek, Matteus gee die volledige weergawe en Lukas slegs ’n opsomming. ’n Kritiese lees (my opsie) sal egter al die gegewens teen mekaar opweeg en die volgende scenario as ’n moontlike rekonstruksie van die historiese gebeure aanvaar: Jesus het by verskillende geleenthede korter en langer uitsprake gemaak. Hierdie uitsprake is in die mondelinge tradisie oorgelewer en sommige hiervan het saamgegroei tot ’n vorm wat in die sogenaamde Q- bron opgeneem is. Hierdie vorm is waarskynlik die een wat ons in Lukas 6 aantref. Matteus het hierdie vorm ook by Q gekry, maar verkies om dit deur die gebruikmaking van ander Q-materiaal uit te bou tot ’n langer rede omdat hy die spesifieke oogmerk gehad het om Jesus as die groot leermeester en gesagvolle herinterpreteerder van die Wet van Moses voor te stel. Histories het Jesus dus na alle waarskynlikheid nooit so ’n lang rede êrens op ’n berg by een geleentheid uitgespreek nie, soos Matteus dit voorstel. Ook Lukas se weergawe gee vir ons nie die presiese hoe, waar en wanneer nie. Maar dat Jesus sulke uitsprake gemaak het, hoef ons nie te betwyfel nie.
Wat probeer ek met hierdie kritiese voorstelling van sake sê? Minstens vyf dinge: a) Dit is onmoontlik om te probeer agterkom presies hoe Jesus se aardse bediening verloop het. Slegs die breë trekke is sigbaar; b) elke Evangelis het op ’n kreatiewe manier omgegaan met die Jesus- materiaal tot sy beskikking ten einde ’n unieke teologiese prentjie van Jesus aan sy lesers voor te hou; c) hierdie verskillende prentjies is histories en saaklik nie wesenlik in stryd met die aardse Jesus se optrede en prediking nie; d) ’n kritiese omgang met die Skrif hou die voordeel in dat ’n mens reg laat geskied aan die literêre en historiese vorm van en voorstellings in die Skrif. Dit stel ons in staat om op ’n onbevange manier “bondgenootskappe” aan te gaan met al die wetenskappe tot ons beskikking ten einde by die essensie van die Skrifboodskap uit te kom sodat ons dit nuut kan interpreteer vir eietydse vraagstellings; e) ’n kritiese omgang met die Skrif word begrens deur 15 ’n mens se geloofsvertrekpunte.15 Die kritiese Bybelwetenskap moet in diens staan van die Skrifgetuienis en die Christelike evangelie en dit nie probeer uithol nie. In my boek beteken dit dat kardinale Skrifgegewens nie bevraagteken word nie. Ek trek byvoorbeeld nie die opstanding van Christus as werklike gebeure in twyfel nie. Want hier kom ons voor ’n grenswerklikheid te staan waaroor daar nie met die werktuie van die kritiese Bybelwetenskap beslis kan word nie. Hier aanvaar ek dat die Bybel oor ’n realiteit praat wat die kritiese wetenskap te bowe gaan. Dit geld ook vir ’n terrein soos die historiese Jesus-ondersoek. Historiese ondersoek as sodanig kan nie die “ware” Jesus ontdek nie (vgl Johnson 1999:70-74). Dit lê nie binne sy taakomskrywing en vermoë nie, want “wie Jesus werklik was”, het te make met die interpretasie van gegewens. En laasgenoemde het die Evangelies reeds gedoen met hulle weergawe van Jesus as komende van God. Enige moderne historiese ondersoek wat pretendeer om die “ware Jesus te laat opstaan”, is op sy minste net so ’n bevooroordeelde, ideologiese interpretasie van Jesus as waarvan die Evangelies beskuldig word. Die verskil is net dat die Evangelies se interpretasie die gesag van die apostoliese tradisie het, waarvan die kerk vir sy lewe afhanklik is.
En dit bring my by die aspek van respek.
Respek vir die Skriftradisie en vir wat dit ten diepste wil sê, is net so belangrik as ’n kritiese ingesteldheid ten opsigte van die gebruik van die Bybel. In dié bydrae pleit ek juis daarvoor – ten spyte van verskillende interpretasies – dat ons moet aanvaar dat die Skrif, as die draer van die openbaring van ’n transendente persoonlike God, van realiteite praat. Dit gaan in die gebruik van die Bybel, soos sommige daarvan wil maak, nie oor die blote identifisering van taalhandelinge, verhaaltegnieke of retoriese strategieë wat ons net wil beweeg tot die aanvaarding van die een of ander simboliese of “teologiese” waarheid sonder dat dit ingebed is in historiese werklikhede nie. Ons kan en moet aanvaar dat die Nuwe Testament getuienis lewer oor die feitelikheid van die Christendom se Stigter, Jesus Christus. Dit is nie maar net verhewe fiksie wat ons op ’n etiese of simboliese vlak aanspreek nie. Ek kan my geloof nie net daarop bou nie. Skrifgebruik moet uitgaan van die veronderstelling dat ons hier met werklikhede te doen het.
Ja, dit is soms moeilik om die werklikhede van die Bybel te aanvaar, want dit bring ons voor ’n vreemde wêreld te staan.16 Maar ten spyte van die vreemdheid slaag die Bybel steeds daarin om oor Lessing se garstige Grabe tot ons te bly spreek (vgl Polkinghorne 1991:65). Daarom bly die Bybel ’n bevrydende boek; dit bevry ons van ons rasionalistiese denke. Ons mag dus nooit toelaat dat die probleme wat opgeroep word deur ’n kritiese omgang met die Skrif tot ’n soort metafisiese beginsel verhef word wat die Bybel gyselaar hou en verhoed dat sy eintlike betekenis vrygestel word nie. So ’n houding lei tot moedversaking en geloofsverlamming, wat ons dan probeer verdoesel met ’n soort kwasigeleerdheid. Nee, respek vir die Skrif beteken juis dat ek die wil sal openbaar om in verbinding te bly met die oorspronge van die Christendom, om betekenis te bly ontdek in die Bybelse verlede. Al kom die oortuigings en mense van hierdie verlede soms ook hoe vreemd voor, is daar tog ’n kontinuïteit in die menslike natuur wat ten grondslag van die veelheid van menslike kulture lê. Ons moet die wil en respek vir die Skrif aan die dag lê om hierdie kontinuïteit te bly ontdek. Op slot van sake kan niemand sonder respek vir ’n geloofstradisie leef nie. Ons geloofstradisie is die Bybel, soos geïnterpreteer deur die kerklike belydenis deur die eeue. Maar agter alles staan God wat Hom verbind het aan die oorsprong, oorlewering, versameling en blywende betekenisgenerering van hierdie tradisie.
5. SAMEVATTING
In hierdie bydrae probeer ek die vraag beantwoord: Wat moet ons as Christene vandag nog glo? Die diskoers wat gevoer word ten einde hierdie vraag te beantwoord, kan tot die volgende punte gereduseer word:
• As uitgangspunt moet aanvaar word dat die wetenskaplike wêreldbeeld van ons dag nie ’n vyand van die Christelike geloof is nie. Hiermee moet ons vrede maak, hoe moeilik die vraagstukke ook al is waarmee ons so gekonfronteer word. Maar meer positief gestel: ons moet die deurwinterde wetenskaplike resultate juis aangryp as ’n Godgegewe manier om ons horisonne van Skrifverstaan te verbreed. Skrifverstaan is egter nooit uitgelewer aan wetenskaplike resultate nie, dit kapituleer nie by voorbaat voor elke wetenskaplike aanspraak nie, maar tree selfstandig daarmee in gesprek.
• Die kernsaak van die Bybel is om ons aan die transendente, persoonlike God, die Skep- per van hemel en aarde, voor te stel. Dit is die Allerlaaste Werklikheid agter die werk- likheid van die sintuie en die wetenskap. Aan hierdie Werklikheid moet ons bly glo, anders verloor ons die één perspektief wat die grondslag vorm van die Christelike geloof. Hiermee saam moet ons vashou daaraan dat God Hom geopenbaar het aan mense, ’n openbaring wat ons in staat stel om die transendente God op ’n persoonlike manier te leer ken. Dat God ernstig is met hierdie persoonlike ontmoeting word deur die organiese aard van die openbaring bevestig, dit wil sê: dit hou rekening met die bevatlikheid van mense, en dit staan nooit los van hulle konkrete omstandighede nie. Hoewel dit God is wat Homself bekendstel, ontdek mense God se openbaring asof hulle self tot daardie insigte gekom het. Dit impliseer verder dat daar dinamiese voortgang in die openbaring is, asook dat daar voortdurende kontrole deur die geloofsgemeenskap plaasvind of hulle werklik die stem van God gehoor het. In feite kom dit daarop neer dat God se openbaring langs die weg van geverifieerde geloofstradisies oorgelewer word, en daarom ook vanuit redelike gronde kan aanspraak maak op aanvaarding. Die Bybel is grootliks die neerslag van hierdie getoetste geloofstradisies.
• Die organiese aard van die totstandkoming van die openbaring bring mee dat dit op dieselfde organiese manier lewend gehou moet word. Elke geslag moet glo dat God in hierdie Skrif met hulle besig is. Ons moet daarom hierdie Skrif lewend hou en toe-eien, en wel in respek en vryheid. Vryheid laat die weg oop vir ’n kritiese omgang met die Skrif. Kritiese omgang staan egter altyd in diens van boodskapontsluiting; dit beteken nie dat die basiese aannames en uitgangspunte van die Skrif bevraagteken word sodat die boodskap self uitgehol en ontkrag word nie. Daarom word vryheid en kritiese omgang altyd begrens deur respek vir die Skriftradisie. Dit behels ’n vrywillige binding aan daardie tradisie wat deur die eeue getoon het dat dit oor die vermoë beskik om in elke geslag die boodskap van God se bemoeienis met die mens in Jesus Christus, nuut te laat ontkiem en te laat vrug dra. Die Skrif kan dit doen omdat dit op die realiteit van God se werk in Jesus Christus rus en steeds deur God kragtig en lewend gehou word.
BIBLIOGRAFIE
Achtemeier, P J 1999. Inspiration and authority. Nature and function of Christian Scripture. Peabody: Hendrickson.
Baird, W 1992. History of New Testament research. Volume one: From deism to Tübingen. Minneapolis: Fortress.
Barrett, P 2000. Science & theology since Copernicus. The search for understanding. Pretoria: Unisa.
Bavinck, H 1967. Gereformeerde Dogmatiek. Band I. Vyfde onveranderde druk. Kampen: Kok.
Conzelmann, H 1969. Der erste Brief an die Korinther. Göttingen: Vandenhoeck. (KEK.)
Du Toit, A B 1985. Die historiese Jesus en die verkondigde Christus van die Evangelies, in Du Toit, A B (red). Handleiding by die Nuwe Testament, Band IV. Die sinoptiese Evangelies en Handelinge: Inleiding en teologie. Pretoria: NGKB.
Durand, J J F 1981. Skepping, mens, voorsienigheid. Pretoria: NGKB. (Wegwysers in die dogmatiek 5.)
Fretheim, T E & Froehlich, K 1998. The Bible as word of God in a postmodern age. Minneapolis: Fortress.
Grant, RM & Tracy, D 1989. A short history of the interpretation of the Bible. Tweede revisie en vergrote uitgawe. s l: Fortress.
Heyns, J A 1978. Dogmatiek. Pretoria: NGKB.
Johnson, L T 1999. The humanity of Jesus. What’s at stake in the quest for the historical Jesus?, in Crossan, J D, Johnson, L T & Kelber, W H. The Jesus controversy: Perspectives in conflict, 48-74. Harrisburg: Trinity.
Joubert, G 1997. Die groot gedagte. Abstrakte weefsel van die kosmos. Kaapstad: Tafelberg.
Polkinghorne, J 1991. Reason and reality. The relationship between science and theology. Londen: SPCK.
Polkinghorne, J 1996. The faith of a physicist. Reflections of a bottom-up thinker. Minneapolis: Fortress.
Schneiders, S 1991. The revelatory text. Interpreting the New Testament as sacred Scripture. San Francisco: Harper.
Van Huyssteen, W 1987. Teologie as kritiese geloofsverantwoording. Teorievorming in die sistematiese teologie. Pretoria: RGN. (RGN-studies in navorsingsmetodologie 2.)
Van Selms, A 1967. Genesis. Deel I. Nijkerk: Callenbach. (PNT.)
Van Zyl, H C 1992. Die grondslag van Paulus se etiek in die eerste Korintiërbrief: Riglyne in die hedendaagse moraliteitsverskuiwing, in Breytenbach, C & Lategan, B (reds). Geloof en opdrag. Perspektiewe op die etiek van die Nuwe Testament. (Scriptura S9a, Spesiale uitgawe.)
Verhey, A D 1995. The Holy Bible and sanctified sexuality. Interpretation 49, 31-45.
1 Oorspronklik as referaat gelewer by die Teologiese Dag van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat op 4 Februarie 2003.
2 Met kennis word natuurlik nie bloot kognitiewe feite bedoel nie, maar kennis wat voortvloei uit ’n persoonlike ontmoeting en verhouding met God-in-Christus-deur-die-Heilige-Gees. Uiteraard veronderstel sulke kennis baie meer as wat ’n mens uit ’n boek – selfs die Bybel – kan kry. Dit gaan immers oor intieme kennis: om te ken en geken te word. Tog neem die Bybel steeds in so ’n persoonlike verhouding ’n sentrale plek in.
3 Tracy (in Grant & Tracy 1989:177) maak ’n onderskeid tussen openbaringsgebeure en die tekste wat gesagvolle getuienis lewer oor hierdie gebeure, in ons geval die Christusgebeure en die apostoliese getuienis daaroor soos vervat in die Nuwe Testament. Maar weer eens, vir ons is die toegang tot hierdie Christusgebeure slegs bekombaar deur die Nuwe Testament.
4 Net ’n terminologiese opheldering: Dit is enigsins ’n oorvereenvoudiging om te praat van “geloof/teologie en wetenskap”, so asof teologie nie ook ’n wetenskap is nie. Maar ter wille van goeie kommunikering sluit ek my by hierdie populêre onderskeiding aan. Met “wetenskap” word dus primêr die natuurwetenskappe (Engels: die sciences) bedoel, hoewel die ander wetenskappe wat op die teologie impakteer nie uitgesluit word nie. Verder, “teologie” dui op die wetenskaplike besinning oor wat Christene glo op grond van die Bybel, en “geloof” is die aanduiding van die aard van die teologie se kennis. (Oor die aard van teologie as gesistematiseerde geloofstaal, kyk Van Huyssteen 1987:151-168.) In hierdie bydrae funksioneer geloof en teologie egter grootliks as sinonieme.
5 Vir ’n goeie oorsig oor hierdie verhouding, kyk Barrett 2000.
6 Vir ’n bespreking van die onderskeid tussen evolusie en evolusionisme, kyk Heyns 1978:105-108.
7 In Gen 1-2 het ons inderdaad met twee verskillende skeppingsverhale te doen wat deur die skrywer “probleemloos” langs mekaar geplaas word (vgl Van Selms 1967:62-63).
8 Bekende name wat ernstig probeer om die wêrelde van geloof en wetenskap te integreer, is Ian Barbour (bv Religion in an age of science), Arthur Peacocke (bv Theology for a scientific age) en John Polkinghorne (1991, 1996), om nie meer te noem nie.
9 Vgl in hierdie verband hoe een van die groot geeste in die gereformeerde teologie, Herman Bavinck, oor die verhouding tussen algemene en besondere openbaring skryf. Hy sê dat gesien deur die bril van die besondere openbaring dit juis die algemene openbaring is wat “natuur en genade, schepping en herschepping … met elkander in onverbrekelijk verband houdt” (1967:294). Die algemene openbaring sorg daarvoor dat die Christendom nie ’n sektariese verskynsel word, van sy katolisiteit beroof word, of dat die genade vyandig teenoor die natuur word nie (1967:294).
10 Vgl Van Huyssteen (1987:23-36) se beredenering van die probleem rondom Barth se teologie.
11 Achtemeier (1999:78) gaan selfs so ver om te sê dat die Skrif die neerslag is van die geloof en die selfrealisering van die Christelike gemeenskap in sy worsteling om sy eie identiteit en rol te verstaan wat aan hom toegeken is in God se heilsplan vir die wêreld. ’n Mens hoef nie volledig met Achtemeier se formulering saam te stem nie, maar dit druk iets uit van die organiese manier waarop God Hom aan mense geopenbaar het, waarvan ons die neerslag in die Bybel het.
12 Vgl 1 Kor 14:29 waar die profete wat in die gemeente optree mekaar se uitsprake moet beoordeel. In die lig van 1 Kor 12:1-3, waar dit duidelik is dat profesie soms kan ontspoor, is sulke kontroles nodig (vgl Conzelmann 1969:243-244, 288-289).
13 Vir ’n goeie, vollediger oorsig, kyk Grant in Grant & Tracy 1989:3-148.
14 Die uitdrukking garstige Grabe kom van G E Lessing wat in die 18de geleef het. Hy het die uitdrukking gebruik om die kloof tussen geskiedenis en geloof – dat daar ’n groot skeiding tussen historiese en geloofswaarhede is – aan te dui. Op grond hiervan het hy die beroemde (berugte?) uitspraak gemaak dat toevallige historiese gebeure nie die basis kan vorm van ewige (geloofs)waarhede nie (vgl Baird 1992:168). Ek pas Lessing se uitdrukking – garstige Grabe – egter meer in algemene sin toe, naamlik om die kloof tussen die eie tyd en die antieke aan te dui.
15 Let wel: geloof het niks te make met irrasionele aannames nie. Geloof is eerder ’n gehoorsame aangryp van ’n werklikheid wat groter is as jy self. Geloof is ook nie ’n blinde sprong in die duister nie, maar die aanvaarding van ’n insig op die betroubare woord van getoetste getuienis. En selfs al kan geloof nie alles uitspel en verduidelik nie, beteken dit nog nie dat dit irrasioneel is nie, want in geloof weet ons eintlik baie meer as wat ons kan verduidelik, en verstaan loop soms verduideliking vooruit (vgl Polkinghorne 1996:27, 37)
16 Vreemdheid is egter ’n relatiewe begrip. As jou lewe van kleins af deur die “vreemde” etos van die Bybel geïnformeer en gevorm is, is die Bybel nie meer ’n ou boek in ’n nuwe wêreld nie, maar ’n bekende en vertroude boek wat jou lewe rig en lei, omdat jou ingesteldheid dan een is van ’n openheid vir en gehoorsaamheid aan die vormende impak van die Bybel op jou lewe (vgl Verhey 1995:35). Froehlich (in Fretheim & Froehlich 1998:46-48) weer vergelyk die wêreld van die Bybel met die aanleer van ’n vreemde taal. Hoe meer ’n mens met die idioom van die Bybelse taal vertroud raak, hoe meer maak dit vir jou sin en kan jy jou daarmee vereenselwig – dit selfs kritiseer, maar dan van binne uit: as iemand wat die spelreëls ken en weet waar om die streep te trek.