Van die Redaksie

Dit is ’n voorreg om hiermee aan u die laaste uitgawe van die NGTT vir 2003 te bied. Die tydskrif bevat nogmaals ’n wye verskeidenheid artikels uit verskillende velde van die teologie. Daar is ook artikels uit ander vakwetenskappe wat verband hou met kerk en teologie. Dit is goed dat hierdie wisselwerking tussen vakwetenskappe bestaan en ons nooi graag skrywers uit ander vakwetenskappe om in die NGTT te publiseer wanneer hulle oor onderwerpe skryf wat met die teologie of die kerk in verband staan. Baie dankie ook aan al die skrywers wat artikels voorgelê het vir publikasie. Uit die aantal artikels en die gehalte daarvan kan u as leser sien dat dit goed gaan met die tydskrif. Baie dankie vir u ondersteuning.

Ek wil in die besonder verwys na die artikels van James B Krohn, John Calvin, the theologian en Victor d’Assonville, Woordverkondiging by Calvyn – enkele implikasies vir die opbou van die kerk in Afrika. Sowel Krohn as d’Assonville is jong teoloeë wat onlangs gepromoveer het met proefskrifte oor Calvyn: Krohn oor Knowing the triune God en d’Assonville oor die begrip Doctrina by Calvyn. Hulle artikels in hierdie uitgawe is die teks van referate wat hulle in Mei 2003 tydens ’n Calvyn-seminaar op Stellenbosch gelewer het. Wat baie verblydend is, is dat ons met hulle twee nuwe en jong stemme in die Calvyn-navorsing in Suid-Afrika het, iets wat baie hoopvol is. Mag hulle, en ook ons ander jong teoloeë, baie vrugbaar wees in die voortgang van hulle navorsing.

P Coertzen (Redakteur)

Fakulteit Teologie

Universiteit Stellenbosch

September 2003