O’Kennedy, DF
Universiteit van Stellenbosch

Wat sê die Bybel oor vernuwing en transformasie in die gemeente? (Deel 2: Nuwe Testament)1

ABSTRACT

What does the Bible say about renewal and transformation in the congregation? (Part 2: New Testament)

Many church leaders and congregation members discuss the theme of renewal and transformation in the church. Often they reflect on these transformation processes from the perspective of the sociology or management sciences. One can learn from these perspectives, but it is a pity that in many instances they neglect the biblical basis. This article poses a possible answer to the following question: What does the Bible teach us on renewal and transformation in the church? It is the second in a series of two articles discussing the same theme. The first article focused on the Old Testament while the current article focuses on the New Testament discussing the issue under the following sub- headings: (1) the time of Jesus and his twelve apostles before the first congregation; (2) the first New Testament congregation in Jerusalem; (3) new challenges for the congregation in Jerusalem; (4) the congregation in Antioch, and (5) several congregations in Asia Minor and surrounding areas. At the end the author suggests a few possible biblical guidelines for the understanding of renewal and transformation in the church. The New Testament testifies that the church of Christ reflected on every new phase in their history. In many instances there were new ministering structures and new leadership patterns.

1. INLEIDING

Daar word heelwat in gemeentes regdeur die land oor vernuwing en transformasie besin. Dikwels word hierdie vernuwingsprosesse vanuit die perspektief van die sosiologie en die bestuurswetenskappe bekyk. Gemeentes kan baie by die bestuurswetenskappe leer hoe om die kerk reg te bestuur en in die proses ontstaan ’n verhouding tussen teologie en die bestuurswetenskappe.2 Dit is egter jammer dat daar in sommige gesprekke en publikasies oor vernuwing so min gekyk word na wat die Bybel oor vernuwing sê. Die Bybelse begronding word baie dikwels afgeskeep of geïgnoreer.

Hierdie artikel probeer om ’n moontlike antwoord te bied op die vraag: Wat sê die Bybel oor vernuwing en transformasie? Geleerdes vra heelwat kritiese vrae oor die historiese betroubaarheid van die Bybel en die gebruik daarvan. Die Bybel is nie geskryf as ’n geskiedenis- of wetenskaphandboek nie. Die Bybel is egter ’n teologiese getuienis aangaande God en sy volk of kerk; daarom het hierdie getuienis vir ons vandag betekenis. Eeue se getuienis oor hoe gelowiges die verhouding tussen God en sy volk of kerk gesien het, is hierin opgeteken. Ons moet wel besef dat ’n spesifieke gebeurtenis soms eers jare na die gebeurtenis self opgeteken is. Byvoorbeeld, volgens die meeste geleerdes is die boek Handelinge eers ná 70 nC (tussen 70-90 nC)3 opgeteken, dit wil sê, lank na die ontstaan van die eerste gemeente (Marshall 1989:46-48; Polhill 1992:27-31; Witherington 1998:660-63).

Burger (1999:300)4 maak die volgende stelling: “Die vernuwing van die gemeentes of geloofsgemeenskappe waarbinne ons leef, is ’n sentrale saak in die Bybel. Die waarheid is dat die aanvanklike motief vir die skryf van die Bybelboeke juis gemeentevernuwing of -herstel van die een of ander aard was.” Hierdie artikel probeer om bogenoemde stelling vanuit ’n spesifieke hoek te ondersteun. Die bedoeling van die artikel is nie om ’n indringende prakties-teologiese of ekklesiologiese antwoord oor vernuwing en transformasie te verskaf nie. Daar word ook nie op ’n leksikografiese wyse gekyk na wat die Nuwe Testament oor die begrippe “nuut” of “vernuwing” sê nie. Die artikel probeer om ’n breë, algemene oorsig te gee van hoe geloofsgemeenskappe in verskillende omstandighede volgens die getuienis van die Nuwe Testament geleef het. 5Vanuit hierdie breë oorsig word ’n paar moontlike riglyne afgelei wat ons in ons nadenke oor vernuwing en transformasie in die gemeentes kan help. Weens die beknopte aard en omvang van die artikel sal daar nie gedetailleerde eksegese van Skrifgedeeltes gedoen kan word nie.

2. VERSKILLENDE BEDIENINGSTRUKTURE6 EN LEIERSKAPSPATRONE VAN GELOOFSGEMEENSKAPPE IN DIE TYD VAN DIE NUWE TESTAMENT 7

Die Bybel getuig hoe elke geloofsgemeenskap in verskillende omstandighede gefunksioneer het. Ons lees nie net van voortdurende verandering in bedieningstrukture en maniere van aanbidding nie. In elkeen van hierdie tye was daar ook verskillende leiers wat na vore getree het. ’n Leierskapspatroon wat in een fase goed gewerk het, was nie noodwendig geskik vir ’n volgende fase nie (Burger 1995:24). Weens bogenoemde redes sal daar in hierdie afdeling op veral bedieningstrukture en die rol van leiers gefokus word.

2.1 Tyd van Jesus en sy twaalf apostels vóór die eerste gemeente8

Ons lees die verhaal van Jesus en sy apostels soos opgeteken deur die verskillende Evangeliste.9 Die bediening in Jesus se tyd sentreer rondom Jesus en sy twaalf apostels wat ’n heeltemal nuwe geloofsgemeenskap vorm te midde van die bestaande Joodse godsdiens met sy vaste strukture en leiers. In die tyd van Jesus bestaan daar reeds die volgende elemente: aanbiddingsplekke soos die tempel en sinagoges; godsdienstige praktyke en rituele soos die besnydenis en pasga; godsdienstige leiers en groeperings soos rabbi’s, priesters, skrifgeleerdes en Fariseërs. 10 Die Nuwe Testament vertel dat ’n hele aantal van hierdie strukture en praktyke in die tyd van Jesus bly voortbestaan het, maar dat daar ook ’n totaal nuwe geloofsgemeenskap tot stand gekom het. Daar is egter ’n paar vrae wat beantwoord moet word: Kan ons praat van ’n geloofsgemeenskap van Jesus? Kan ons sê dat die apostels rondom Jesus alreeds ’n spieëlbeeld van die latere kerk is? Verskeie faktore help ons om positief op hierdie vrae te antwoord. Dunn (1991:104-105) meld onder meer die volgende ses redes: (1) die gebruik van die term ἐκλησία (Matt 16:18; 18:17); (2) Jesus kies twaalf apostels wat as ‘t ware verteenwoordigers van die hele Israel moet wees (Matt 19:28; Luk 22:29); (3) Hy verwys na die twaalf as God se kudde (Luk 12:32), ’n metafoor vir Israel wat telkens in die Ou Testament gebruik is (Jes 40:11; Eseg 34:11-24, ens); (4) Jesus dink aan die twaalf as ’n familie (Mark 3:34-35), sy kinders wat hulle tot Hom en sy koninkryk bekeer het (Matt 18:3); (5) gedurende sy laaste avondmaal op aarde beskryf Jesus hulle verhouding in terme van die nuwe verbond (Mark 14:24; 1 Kor 11:25), en (6) volgens Lukas 8:3 en Johannes 12:6 was daar ’n vorm van “organisasie” by die volgelinge van Jesus (Luk 8:3; Joh 12:6). Bogenoemde ses redes ondersteun dus die standpunt dat daar ’n geloofsgemeenskap rondom Jesus was.

Aan die ander kant moet ons erken dat ons oor geen direkte bewyse beskik dat Jesus ’n kerk gestig of spesifieke bedieninge ingestel het nie. Verskeie van Jesus se volgelinge het hulleself nie beskou as ’n nuwe godsdiens naas die Joodse godsdiens nie. Die volgelinge van Jesus het Hom as Persoon gevolg en gedurende die beginfase was Jesus alleen verantwoordelik vir die bediening en lering (Pelser 1990:3; Dunn 1991:105-106). Dudley en Hilgart (1987:69) tipeer Jesus as ’n charismatiese leier wat ’n klomp volgelinge opgebou het deur die krag van Hom as persoon, sy leringe en sy dade (Mark 12:37).

Elkeen van die Evangeliste beskryf leierskap in die geloofsgemeenskap rondom Jesus op ’n unieke wyse. Byvoorbeeld, Matteus sien die kerk as ’n gemeenskap van dissipels. Soos die dissipels van die Joodse rabbi’s, leer hulle van hulle rabbi Jesus Christus. Die Christelike dissipels self word nie later rabbi’s nie – Jesus is en bly die enigste rabbi. Volgens Johannes is leierskap meer informeel. Die gesag lê in die Heilige Gees en nie in enige menslike figuur nie. ’n Dissipel is nie soseer leier oor ander Christene nie, maar eerder ’n voorbeeld vir ander persone (Bartlett 1993:85, 111).

Pelser (1990:5) meld dat die twaalf apostels nie beskou kan word as die eerste amptelike “ampsdraers” van die Jesusbeweging nie. Aan die ander kant reken Bartlett (1993:188) dat die twaalf apostels die enigste voltydse godsdienstige leiers van die Nuwe-Testamentiese tyd was. Geleerdes kan verskil oor die spesifiek “amp” wat die twaalf beklee het. Feit bly egter dat Jesus hulle as leiers geroep het om ’n kardinale rol op aarde te vervul. Dit is om hierdie rede dat Hy ’n hele nag in gebed deurgebring het voordat Hy die twaalf apostels aangewys het (Luk 6:12-13) (Versteeg 1978:10-11).

Jesus het selfs aan sy twaalf apostels mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om siekes te genees (Matt 10:2). Dit is tog interessant om daarop te let dat die Evangeliste ook die apostels se gebrokenheid ten toon stel. Hulle word soms negatief voorgestel, leiers wat nie insig het in Jesus se visie nie, en word selfs beskryf as kleingelowiges (Edwards 1985:51). Buiten Jesus en die apostels was daar ander leiers wat ook na vore getree het. Volgens Matteus 23:34 stuur Jesus profete, wyse manne en leraars na die skrifgeleerdes en Fariseërs toe.

2.2 Die eerste Nuwe-Testamentiese gemeente in Jerusalem11

Die boek Handelinge getuig van die ontstaan van die eerste Christelike gemeente in Jerusalem. Roloff (1993:75) tipeer die eerste twee dekades van die kerk in Jerusalem as ’n eksperimentele fase, omdat verskeie strukturele “modelle” na vore getree het. In hierdie tyd was daar ook nog ’n “institusionele afhanklikheid” teenoor die Jodedom. ’n Mens moet wel besef dat dit baie moeilik is om op grond van Handelinge ’n definitiewe prentjie van die eerste gemeente in Jerusalem te verkry. Dunn (1991:106-109) meld onder meer dat ’n mens twee prentjies uit Handelinge kan aflei: (1) In die eerste prentjie word die twaalf apostels as die vaste leiers gereken en ander ondergeskikte ampte ontstaan mettertyd. (2) Volgens die tweede prentjie is die bediening en gesag baie meer spontaan en charismaties van aard; leierskap het verskeie vorme aangeneem voordat ’n vorm van administrasie gebaseer op die Joodse sinagoge ontstaan het. Dunn se siening beklemtoon die diversiteit binne die gemeente in Jerusalem. Dit is egter onseker of die Jerusalemgemeente beweeg het van ’n vrye na ’n meer gevestigde struktuur. In die lig van Dunn se verskillende prentjies kan ’n paar breë penstrepe getrek word.

Volgens Handelinge 2:46 het die eerste gemeente in die tempel saam met die Jode bymekaargekom, asook in kleingroepe by huise. Die onderskeie praktyke van hierdie eerste gemeente was gereelde byeenkomste waar lering onder leiding van die apostels plaasgevind het asook “fellowship” by huise. Lukas beskryf hierdie “fellowship” by die huise as broodbreking en lofprysing (Hand 2:46-47) (Robinson 1996:200).

Die vraag ontstaan: Watter leierskapstruktuur het binne die eerste gemeente gegeld? Die eerste leierskap van die kerk in Jerusalem was die twaalf apostels wat getuies was van dit wat hulle gesien en gehoor het. Die twaalf se presiese rol en funksie in die eerste gemeente is onduidelik, maar hulle belangrikste funksie was nié om na mense buite Jerusalem uit te reik nie. Petrus het ’n belangrike gesagsposisie vervul. Sy gesag was waarskynlik gesetel in sy charismatiese karakter en kan nie noodwendig as institusionele gesag beskryf word nie (Roloff 1993:76). Daar het moontlik ’n kring apostels ontstaan wat aan sekere kriteria moes voldoen. Dit is onseker wat hierdie vereistes was, maar ons lees wel in 1 Korintiërs 9:1 dat Paulus sy apostelskap verdedig en indirek aandui dat ’n apostel Jesus moes gesien het en vrug op sy arbeid moes hê (Conzelmann 1975:151-152).

Die boek Handelinge wys daarop dat die leierskapsrol van die apostels oorgeneem is deur ’n groep ouderlinge, sowel in die Jerusalemgemeente as in die nie-Joodse gemeentes soos Efese. Die eerste verwysing na ouderlinge kom voor in Handelinge 11:30. Alhoewel daar nie presiese verwysings na die instelling van die ouderlinge voorkom nie, kan ’n mens volgens Lukas aanvaar dat die ouderlinge ’n groep leiers van Judea verteenwoordig (vgl Hand 15). Dit mag wees dat hierdie Christenleiers vir die Christelike gemeente opgetree het soos ouderlinge van die Jode vir die Joodse gemeenskap opgetree het. Die Nuwe Testament getuig dat hulle wel ’n administratiewe funksie gehad het (Pelser 1990:12; Bartlett 1993:130; Roloff 1993:81). Jakobus die broer van Jesus was waarskynlik die voorsitter 12 of president tot en met sy sterwe in 62 nC (Hand 15:5 ev; Gal 2:9) (Robinson 1996:200).

Handelinge 15:22 meld die volgende: “Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om mense uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië te stuur.” In hierdie stadium van die gemeente se geskiedenis blyk dit dat die apostels saam met die ouderlinge leiding geneem het en dat die gemeente heelwat inspraak gehad het. Die laaste verwysing na ouderlinge in Handelinge veronderstel dat daar ’n verandering in die leierskapstruktuur ingetree het. Handelinge 21:17-18 beskryf hoe Paulus vir Jakobus besoek en dat al die ouderlinge daar teenwoordig was. Dit is interessant om te let op die opvallende afwesigheid van die twaalf apostels. Conzelmann (1987:180) wys daarop dat hierdie afwesigheid ooreenkom met die werklike feite. Die leierskap van die Jerusalemgemeente is oorgedra van die twaalf apostels na Jakobus en die ouderlinge.

2.3 Nuwe uitdagings vir die gemeente in Jerusalem

Volgens Handelinge 2, 4 en 5 wil dit voorkom of die gemeente klein genoeg was vir die twaalf apostels om self die materiële bestuur en versorging binne die gemeente te hanteer. Die gemeente in Jerusalem het gegroei en nuwe uitdagings het ontstaan. Die teks van Handelinge getuig die volgende oor hierdie groei: “In daardie tyd, toe die gelowiges nog steeds meer geword het …” (Hand 6:1); “… en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs ’n groot aantal priesters het gelowig geword” (Hand 6:7);13 “… jy sien, broer, hier is duisende Jode wat gelowige geword het …” (Hand 21:20).

Die verhaal van die eerste gemeente wys daarop dat die groei ’n bron van seën vir die gemeente was, maar ook wrywing veroorsaak het (Witherington 1998:249). Die teks van Handelinge gee nie vir ons ’n gedetailleerde beskrywing hoe hierdie groei hanteer is en watter bedieningstrukture in plek gestel is nie; tog bied Handelinge 6 vir ons ’n moontlike antwoord. In Handelinge 6:1-7 lees ons dat weens die getallegroei daar ’n probleem tussen die Hebreeussprekende en Griekssprekende lidmate ontstaan het.14 ’n Praktiese probleem met betrekking tot die versorging van weduwees noodsaak die gemeente om weer oor hulle bediening na te dink. Sewe mans word gekies om met die versorging van die weduwees te help sodat die twaalf apostels kan fokus op die verkondiging van die woord. In gereformeerde kringe is tradisioneel aanvaar dat die sewe mans as die eerste “diakens” gesien moet word. Die vraag is of die Bybelteks so ’n siening ondersteun. Ongelukkig bied Handelinge 6 geen direkte ondersteuning vir so ’n standpunt nie. Die term διάκονος word glad nie in die Griekse teks gebruik nie, slegs die woorde “sewe mans” (Louw 1986:59; Polhill 1992:182-183).15

In Handelinge 6:3 staan die volgende woorde: “Nou, broers, soek sewe mans sonder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak kan aanstel.” Volgens hierdie Skrifgedeelte is leiers op grond van hulle karakter en nie noodwendig volgens hulle gawes gekies nie (vgl ook 1 Tim 3). Hulle verkiesing16 was waarskynlik ’n erkenning van hulle charismatiese gesag wat reeds in die gemeente gegeld het.17 Die sewe mans se charismatiese gesag word gebruik in die verkondiging van die evangelie ten spyte van gevaar en teenkanting (Hand 6:8-10; 8:4-25) (Dunn 1991:107).

Volgens Handelinge 7 en 8 het Stefanus en Filippus oorgegaan tot ander leierskapsrolle. Lukas tipeer hulle as “brugfigure” wat lei tot die volgende fase van sending en getuienis, in hierdie geval buite Jerusalem, maar steeds binne die grense van Israel (Witherington 1998:251). Ons lees ook dat die funksies van die sewe mans aan ouderlinge oorgedra word. Volgens Handelinge 11:30 het die ouderlinge die geld bestuur wat vir behoeftige mense bedoel was en in Handelinge 20:35 lees ons hoe Paulus die ouderlinge van Efese aanmoedig om hard te werk sodat hulle die armes kan help (Bartlett 1993:134). Daar was gevolglik nie ’n waterdigte onderskeid tussen die funksie van die ouderlinge en die bediening van die sewetal nie.

2.4 Die gemeente in Antiogië

Handelinge 11:19-29 getuig dat die ontstaan van die gemeente in Antiogië die resultaat was van die vervolging van gelowiges ná die dood van Stefanus. Roloff (1978:515) reken dat hierdie gemeente alreeds in die dertigerjare ná Christus as ’n onafhanklike gemeente ontstaan het. Roloff se standpunt is ’n moontlikheid, maar kan nie op grond van die Bybelse teks bevestig word nie. Wat die Handelingeteks wel bevestig, is dat gelowiges in Antiogië vir die eerste keer Christene genoem is (Hand 11:26). Hier in Antiogië het ’n gemeente van Jode en nie-Jode ontstaan wat moontlik die model van die “nuwe kerk” in die res van die gebied was (Robinson 1996:201). Die stad Antiogië het die sentrum geword van die politiese, militêre en ekonomiese kommunikasie tussen Rome en die Persiese gebied, en tussen Palestina en Klein-Asië. Hierdie belangrike stad het gevolglik die wegspringplek van die uitbreiding van die evangelie geword (Meeks 1983:10).

Die bedieningstruktuur van die gemeente in Antiogië het verskil van dié in Jerusalem. Waar die ouderlingsbediening volgens Handelinge so prominent was in Jerusalem, is dit die profete en leraars wat hier leiding geneem het (Hand 13:1-3). Alhoewel Lukas die vroegste kerk as ’n eenheid en ooreenstemmend in organisasie probeer skilder het, was daar in werklikheid duidelike verskille ten opsigte van bedieningstrukture (Pelser 1990:13; Dunn 1991:108).

Aan die begin was Barnabas die belangrike leiersfiguur in Antiogië. Hy was ’n Hellenis, maar het die volle vertroue geniet van die Jerusalemleiers wat hom na Antiogië gestuur het. Sy opdrag was om lering aan te bied vir die nuwe lede van die gemeenskap wat geen blootstelling aan die Joodse tradisies gehad het nie. Die effektiwiteit van sy werk was van so ’n omvang dat hy ekstra hulp nodig gehad het vir die lering van nuwe nie-Joodse lede; gevolglik het hy na Tarsus gegaan om Paulus, die bekeerde Fariseër, te werf. Barnabas het twee missionêre uitreike na sy geboorteland Siprus gelei en saam met Paulus het hy na Klein-Asië gegaan. Antiogië was die gemeente wat vir Paulus en Barnabas “aan die genade van God opgedra het” vir die sendingwerk wat hulle gedoen het (Hand 14:26). Onder die profete en leraars van Antiogië was daar die eerste keer twee leiers uit Afrika (Simeon wat ook Niger genoem is en Lucius van Sirene) en Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het (Hand 13:1) (Kee 1995:197; Robinson 1996:201).

Ten spyte van verskillende bedieningstrukture was daar ’n goeie verhouding tussen die gemeentes van Jerusalem en Antiogië. Gelowiges in Antiogië het bygedra tot ’n hulpfonds vir medegelowiges in Judea (Jerusalem) wat hongersnood ervaar het (Hand 11:29). Daar was ook talle besoeke van leiers uit Jerusalem: profete, onder andere Agabus (Hand 11:27); Petrus en verteenwoordigers van Jakobus (Gal 2:11-12), en Farisese of “wettiese” besoekers (Hand 15:1).

2.5 Verskeie gemeentes in Klein-Asië en omliggende streke

Die Nuwe Testament beskryf hoe die evangelie van Jesus Christus buite Jerusalem en Antiogië versprei het en nuwe gemeentes gevorm is. In hierdie afdeling sal daar eers ’n paar algemene opmerkings gemaak word waarna enkele spesifieke beklemtonings van sekere Bybelboeke uitgelig sal word.

Die kerk het uitgebrei en verskeie gemeentes het in Klein-Asië en omliggende streke ontstaan. Volgens Romeine 15:19 het Paulus die boodskap verkondig vanaf Jerusalem tot in Illirikum. Hy het kerke geplant in die suidelike provinsies van Klein-Asië, in Masedonië en Griekeland, in Wes- Asië waar hy Efese sy basis gemaak het en ook in Kreta. Dit is egter onseker of hy kerke in Spanje geplant het (Rom 15:24). Oral het hy stede sy sentrum gemaak om die woord verder te laat versprei (Hand 19:10). Die briewe van Petrus beskryf ’n groep gemeentes langs die suidkus van die Swart See en sy omgewing (Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië) (1 Pet 1:1). Handelinge 16:6-7 getuig dat hierdie gebiede (Frigië en Galasië) die dele was waar Paulus verhinder was om die woord te verkondig. Die boek Openbaring vertel ons iets meer van die sewe gemeentes in Wes-Asië of die hedendaagse Turkye. Daar was waarskynlik geen formele organisatoriese verband tussen die verskillende gemeentes nie; tog lees ons van natuurlike affiniteit tussen gemeentes in dieselfde provinsies (Kol 4:15-16; 1 Tess 4:10). Gemeentes het hulle eie administrasie en geestelike dissipline hanteer (2 Kor 2:5-10).

In baie gevalle het Paulus die Joodse sinagoge as wegspringplek gebruik waar hy dan as rabbi gepreek het. Na verloop van tyd het ’n aparte ekklesia van Joodse en nie-Joodse bekeerlinge (gelowiges) met sy eie ouderlinge ontstaan (Robinson 1996:201). Die familie het ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van hierdie gemeentes. In die Pauliniese briewe word daar, soos in Handelinge, beskryf dat die gemeentes bestaan het uit families wat in die huise van sekere gelowiges bymekaargekom het (vgl Rom 16:3-5, 10-11; 1 Kor 16:15-16, 19; Kol 4:15, ens) (Ascough 1998:5). Die vroeë Christelike gemeentes het nie net bestaan uit mense van die laer sosiale klasse nie.18 Mense van verskillende sosiale en ekonomiese klasse binne die Grieks-Romeinse gemeenskap was by die gemeentes betrokke. Daar was wel ’n gebrek aan mense uit die heel boonste vlak (aristokrate en senators) en die heel onderste vlak (huurlinge en landbouslawe) (Cousar 1996:66-67).

Dit is onseker wanneer die Nuwe-Testamentiese gemeentes bymekaargekom het. Handelinge 20:7 verwys na ’n spesifieke tyd van samekoms, maar geleerdes en Bybelvertalings verskil oor die interpretasie daarvan. Sommige reken dat die Griekse woorde μα τω σαββάτων verwys na die Saterdagaand (GNB; NEB), terwyl ander praat van Sondag of die eerste dag van die week (NAB; NIV; NRSV).19 Dit is ook onseker hoe hierdie gemeentelike byeenkomste ingerig is; tog verskaf 1 Korintiërs 11-14 vir ons ’n paar riglyne. Waarskynlik was ’n sentrale deel van die byeenkomste die samekoms om ’n tafel vir die gesamentlike maaltyd of nagmaal (1 Kor 11:17-33). Volgens 1 Korintiërs 14:1-40 was daar gebed, lofprysing en charismatiese aktiwiteite soos die spreek in tale en profetiese woorde. Die doel van die byeenkomste was om die gelowiges in hulle geloof op te bou (McNicol 2000:254).20

Die Griekse Ou Testament was die Heilige Geskrif van al hierdie gemeentes tesame met ander geskrifte en mondelinge oorlewerings. Die sleutel tot sy verstaan was waarskynlik ’n duidelike opsomming van die evangelie (1 Kor 15:1-4). Verder was daar ander tradisies oor Jesus se bediening en lering wat oorgedra is (1 Kor 11:2, 23-25; 2 Tess 2:15).

Daar is ’n hele aantal vrae wat rondom bedieningstrukture en leierskap in hierdie gemeentes gevra kan word. Wat was die rol van die leiers? Kan ’n mens van ampte 21 in al hierdie gemeentes praat? In die volgende bespreking sal moontlike antwoorde in die lig van enkele Bybelboeke weergegee word.

2.5.1 Bedieningstrukture en leierskap volgens die Pauliniese briewe22

Paulus gebruik verskillende metafore of beelde om die kerk van Christus te beskryf, maar sy tipiese beskrywing is die kerk as liggaam van Christus (Ridderbos 1977:362). In Romeine 12, 1 Korintiërs 12 en Efesiërs 4 word in duidelike taal beskryf wat hiermee bedoel word.23 Volgens hierdie Skrifgedeeltes het elke lid van die Christelike gemeente ’n genadegawe (charismata) van die Heilige Gees ontvang tot opbou en toerusting van die gemeente om ’n eskatologiese teken te wees na binne en na buite. Die lede van die liggaam van Christus het verskillende funksies of bedieninge waarsonder die liggaam nie kan funksioneer nie. Paulus beklemtoon dat bediening in die gemeentes aan almal behoort, nie net aan ’n paar uitverkorenes nie (Du Rand 1988:90-91; Dunn 1991:110-111).

Ons het gewys op die charismatiese struktuur wat deel was van die Pauliniese gemeentes. Ellis (1997:92) beklemtoon dat daar ook ’n ander kant van Paulus se bediening was: “There is evidence that, along with an unstructed or ‘free’ charismatic ministry, an appointed ministry was also present in the Pauline churches.” Hierdie “appointed ministry” is ook gegrond in die feit dat die Heilige Gees vir persone sekere gawes gee. Paulus erken dat sekere lede van die liggaam ’n meer gereelde bedieningsfunksie verrig het.

Die apostel het ’n unieke bediening binne die Pauliniese gemeentes verrig, veral die apostel Paulus. Hy is persoonlik deur die opgestane Christus aangestel (1 Kor 9:1; Gal 1:1, 15-17); hy was ’n suksesvolle sendeling en kerkplanter (1 Kor 3:5-6, 10; 9:2; 15:9-11; 2 Kor 10:13-16), en hy het ’n besondere eskatologiese rol vervul (Rom 11:13-15; 1 Kor 4:9). Die apostel word ook eerste vermeld onder die bedieninge van die plaaslike gemeente (1 Kor 12:28) asook in die meer algemene lys van bedieninge (Ef 4:11). Waarskynlik was hierdie rol beperk tot die sfeer van sy sendinggebied of the gemeentes wat hy gestig het (Gal 2:7-9; 2 Kor 10:13-16). Paulus het geen poging aangewend om leiding te neem in die Jerusalemgemeente nie (Hand 21) (Dunn 1991:111-112). Dit wil voorkom of daar baie buigbaarheid in terme van leierskap in die Pauliniese gemeentes was, maar in elke brief word daar tog vermeld dat hulle Paulus se gesag in terme van geloofsleer sou aanvaar. Hierdie gesag van Paulus was geestelik van aard en nie bedoel as dwingende gesag nie (2 Kor 10:8; 13:10). 24 Alle bedieninge was gerig op dienslewering (Bartlett 1993:54).

Buiten die apostel was daar ook ander meer gereelde bedieninge in die Pauliniese gemeentes. Daar word onder andere verwys na die profete en leraars (1 Kor 12:28). Die rol van die profeet was om nuwe openbarings aan die gemeente oor te dra terwyl die leraar ou openbarings moes oordra. Daar is geen aanduiding dat dit formele “ampte” was nie. Die gawe van profesie is nie net aan profete gekoppel nie en die gawe van lering is nie net deur leraars beoefen nie (1 Kor 12:10; 14:1, 5, 26, 39) (Dunn 1991:12). Die brief aan die Efesiërs verwys verder na evangeliste en herders (pastors), terme wat selde in die Nuwe Testament vir spesifieke gemeenteleiers gebruik word (vgl Hand 21:8; 2 Tim 4:5). Laasgenoemde gawes of bedieninge kan waarskynlik in dieselfde lig as dié van profete en leraars beskou word; dit is nie duidelik of hierdie terme na formele “ampte” verwys nie (Muddiman 2001:198-199).25

’n Mens vind beskrywings van medewerkers of hulpwerkers wat saam met Paulus van die een gemeente na die ander rondgegaan het. Hierdie hulpwerkers soos Timoteus, Silvanus, Sostenes en andere help hom selfs met die skryf van die briewe (1 Kor 1:1; 2 Kor 1:1; Fil 1:1; 1 Tess 1:1; Filem v 1). Die presiese funksie van hierdie hulpwerkers is onseker. Waarskynlik het hulle van Paulus se apostoliese gesag aan die gemeentes oorgedra. Buiten hierdie rondgaande medewerkers is dit duidelik dat Paulus die belangrike rol van plaaslike leiers erken. Paulus verwys na geestelike leiers soos Stefanus wat waarskynlik die leier van ’n huiskerk was (1 Kor 1:16; 16:15-18), asook leiers soos Priscilla en Akwila (Rom 16:3-5; 1 Kor 16:19). Paulus moedig selfs die gemeente aan om erkenning te gee aan die leiers van die plaaslike gemeente (vgl 1 Tess 5:12-13) (Bartlett 1993:39-42).

Filippense 1:1 verwys na die ἐπισκόποι en διακόνοι maar verder in die brief is daar geen verwysing na die funksie of gesag van hierdie leiers nie. Dit is te betwyfel of hierdie bedieninge die direkte voorlopers was van die tweede-eeuse ampte van biskop en diaken. Die term ἐπισκόποι kom net hier in die Pauliniese briewe voor en wanneer dit later in die Pastorale briewe voorkom, verwys dit na ’n meer uitgebreide rol. In die meerderheid gevalle waar Paulus διακόνος of διακόνοι gebruik, handel dit nie oor armeversorging nie, maar oor dienswerk wat met die evangelieverkondiging te make het (Rom 12:6; 1 Kor 3:5; 2 Kor 3:8; 5:18; 6:4) (Pelser 1990:10).

Buiten die bedieninge wat volgens gawes gestruktureer was, het die gedagte ook posgevat dat daar betaalde gemeenteleiers moes wees. Paulus meld egter dat hy nie van hierdie voorreg gebruik gemaak het nie (1 Kor 9:11-15; 2 Tess 3:7-10; 1 Tim 5:18). Dit is onseker wat die omvang van betaalde geestelike werkers in die tyd van die Nuwe Testament was. Ellis (1997:100) reken egter dat Paulus nie sou gespog het oor sy weiering vir “reg op onderhoud” as alle geestelike werkers sy voorbeeld gevolg het nie. Volgens Ellis was dit ’n meer algemene praktyk om betaling vir sekere bedieninge te ontvang.

Ter opsomming kan gesê word dat die Pauliniese konsep van kerk en bediening verskil van die dissipelskapmodel van Jesus se vroeë bediening. ’n Mens vind by Paulus ’n konsep van charismatiese gemeenskap wat gekarakteriseer word deur wedersydse afhanklikheid van mekaar deur middel van lering en ander bedieninge. Elke lid van die gemeente het ’n verantwoordelikheid teenoor die hele liggaam van Christus; daarom moedig Paulus alle lidmate aan om mekaar te onderrig, te vermaan, te versorg, te bemoedig, ensovoorts (Rom 15:14; 1 Kor 12:25; Kol 3:16; 1 Tess 5:14-15). Hierdie konsep verskil ook van die patroon wat in Jerusalem ontwikkel het waar ’n groep ouderlinge amptelik verantwoordelikheid geneem het. Vir Paulus is die Joodse onderskeid tussen priester en volk opgehef. Almal moet betrokke wees by die bediening alhoewel sommige by ’n meer gereelde bediening binne die gemeente betrokke is (Dunn 1991:113-114).

2.5.2 Bedieningstrukture en leierskap volgens die Pastorale briewe

Die Pastorale briewe reflekteer ander sieninge oor bedieningstrukture en leierskap as die Pauliniese briewe.26 Waarskynlik verwys hierdie briewe na die situasie in die Pauliniese kerke in die laaste kwart van die eerste eeu of selfs later (Dunn 1991:114).

Die teks van die Pastorale briewe skep die indruk dat die kerk nie eintlik meer gesien word as ’n gemeenskap van gelowiges nie, maar eerder as ’n geïnstitusionaliseerde grootheid. As gevestigde instelling is die kerk enersyds die “draer en beskermer van die waarheid” (1 Tim 3:15) en moet sy andersyds die dwaalleer bestry. Die Pastorale briewe beklemtoon dat ordereëls sowel as bedieninge (ampte) nodig is vir ’n gevestigde grootheid om te bly voortbestaan. Die bedieninge word nie noodwendig teenoor die charismata gestel nie; daar word slegs meer prominensie aan die bedieninge verleen.27 Daar is slegs twee kort verwysings na die charismata (1 Tim 1:18; 4:14) en kan nie vergelyk word met die talle verwysings in die Pauliniese briewe nie.

Drie verskillende terme word in hierdie briewe gebruik wanneer daar na die vaste bedieninge of ampte verwys word: (1) eerstens die term πρεσβυτέρος Tim 5:1,28 17-19; Tit 1:5); (2) daar word tweedens verwys na die Griekse term ἐπισκόπος wat met ouderling, opsiener, opsigter of biskop vertaal kan word (1 Tim 3:1-7; Tit 1:7-9)29; (3) derdens word daar in 1 Timoteus 3:8-13 verwys na διακόνος (diaken). Bogenoemde Skrifgedeeltes gee vir ons ’n uiteensetting van die persoon en pligte van hierdie bedieninge.30 Dit is opvallend dat daar heelwat aandag verleen word aan die etiese en morele kwaliteite van die ampsdraers, terwyl daar min gesê word oor hulle spesifieke rol en funksie (veral ten opsigte van die diakens). Die rol van Timoteus en Titus is onseker binne hierdie hiërargie van bedieninge alhoewel die inhoud en gerigtheid van die briewe veronderstel dat hulle ’n groter verantwoordelikheid en gesag beklee het (Lemaire 1973:159-161; Pelser 1984:186-188; 1990:13-14; Cousar 1996: 177-178).

2.5.3 Bedieningstrukture en leierskap volgens ander Nuwe-Testamentiese boeke31

If the Pastorals evince a development within the first-century Christianity towards the greater institutionalization of Ignatius and the great Church of the second century onwards, we must also recognize a counter-tendency within the first century which seems to run in the opposite direction. The clearest witness to this resistance to institutionalization is the Fourth Gospel and the Johannine epistles; but we can also detect signs of it in Hebrews and Revelation (Dunn 1991:118).

Hierdie standpunt van Dunn wys daarop dat die Nuwe-Testamentiese gemeentes nie gestop het by ’n meer institusionele bedieningspatroon nie. Daar is weereens nuut gedink oor kerkwees in ’n veranderde wêreld. Die individualisme van die Johannesevangelie is een van die kenmerkendste eienskappe van hierdie boek. Daar word gefokus op die individu se persoonlike verhouding met God deur sy Gees (Schweizer 1959:112; Schnackenburg 1964:94). Soos Paulus word aanbidding in charismatiese terme beskou, maar teenoor Paulus is daar geen konsep van charismatiese gemeenskap nie. Bartlett (1993:89) meld egter dat Johannes feitlik geen direkte opmerkings oor bedieningstrukture en leierskap in die kerk maak nie. Van ampte in die Evangelie en briewe van Johannes is daar feitlik geen sprake nie. Daar is geen beklemtoning van apostelskap, ouderlinge, opsieners of diakens nie (Roloff 1978:517; Pelser 1990:7; Bartlett 1993:107-108). Johannes tipeer homself wel as ’n πρεσβυτέρος die opskrifte van 2 en 3 Johannes, maar dit is onseker of hierdie benaming te make het met ouderdom of die ouderlingsamp. Daar kan egter met sekerheid aanvaar word dat hierdie eretitel na ’n gesagsposisie binne die gemeente verwys (Strecker 1996:218-219).32 Soos in die Johannese geskrifte is daar in die Johannese apokalips (Openbaring) ’n opmerklike afwesigheid van enige idee van hiërargie en amp. Gemeentelede word gereken as konings en priesters (Op 1:6; 5:10), almal is dienaars van God (Op 7:3) en heiliges (Op 5:8). ’n Mens vind geen verwysing na opsieners, diakens, leraars of herders nie. Die enigste bedieninge wat vermeld word, is dié van profeet (Op 2:20; 10:7; 11:10), getuie of martelaar (Op 2:13; 11:3; 17:6). Daar word wel verwys na die ouderlinge rondom die hemelse troon (Op 4:4), maar dit het nie dieselfde betekenis as die aardse πρεσβυτέροι nie (Schweizer 1959: 112; Pelser 1990:7-8).33 Openbaring 2 en 3 handel oor briewe wat aan sewe gemeentes binne die Pauliniese sendinggebied gerig is, wat teen hierdie tyd beslis sekere leierstrukture moes gehad het. Dit is egter opvallend dat Johannes die leiers ignoreer en die gemeentelede direk aanspreek en wys op die oordeel van die Here (Roloff 1978:517).

Dunn (1991:119) reken dat van al die nie-Pauliniese briewe, Hebreërs en 1 Petrus die meeste ooreenkomste met die Pauliniese briewe toon. 1 Petrus vorm waarskynlik ’n halfwegpunt tussen Paulus en die Pastorale briewe, terwyl Hebreërs tussen Paulus en Johannes staan. Volgens Hebreërs is daar wel aktiewe leiers of voorgangers in die gemeente wat die woord moet verkondig (13:7), moet voorleef (13:7), moet wag hou oor die gemeente se lewe (13:17) en moet onderrig (5:11-6:8). Daar word geen ander bedieninge of ampte aan individue toegesê nie; inteendeel, die gemeente as geheel moes verantwoordelikheid vir onderlinge diens en vermaning aanvaar (6:10; 10:25; 12:15). Die kenmerkendste eienskap van Hebreërs is die manier waarop die bediening fokus op Jesus Christus as die enigste apostel (3:1) en priester (2:17; 3:1; 4:14-5:10, ens). Sy priesterskap is volmaak, verhewe en finaal sodat daar nie meer ruimte is vir ’n priesterlike middelaar in die Christelike gemeenskap nie (Dunn 1991:119-120).

Die eerste brief van Petrus is primêr gerig aan lesers in ’n plattelandse gemeenskap terwyl baie van die eerste gemeentes ’n stedelike karakter gehad het (Elliot 1982:63).34 In 1 Petrus vind ’n mens steeds die Pauliniese konsep van charisma. Petrus moedig elke gelowige wat ’n genadegawe ontvang het aan om die ander daarmee te dien (1 Pet 4:10) en hy som die charismata op in terme van woorde en diens (1 Pet 4:11). Hierdie opsomming in vers 10 en 11 kom ooreen met die Pauliniese gawelyste (Rom 12; 1 Kor 12); dit verwys na die individuele gawes tot diens aan ander en verskaf die twee basiese kategorieë van gawes (Achtemeier 1996:297-298).

Die titel van priester word nie aan ’n individuele Christen toegeken nie, maar aan die kerk as geheel. Die totale bediening word beskryf in terme van priesterlike diens (1 Pet 2:5, 9). Die titel van herder en opsiener (ἐπισκόπος) verwys slegs na Jesus, en profete word beskryf as persone van die verlede (1 Pet 1:10-12). Volgens 1 Petrus 5:1-5 was die ouderlingsbediening ’n vaste instelling met bepaalde verantwoordelikhede. Die uitsluitlike verwysing na ouderlinge (nie ook diakens en opsieners nie) kan dui op ’n minder gevorderde kerklike organisasie in vergelyking met die beskrywing in die Pastorale briewe (Achtemeier 1996:321). Dunn (1991:116) reken dat 1 Petrus verwys na ’n stadium in die kerk se geskiedenis waarin hulle die model van die Joods- Christelike kerkorde aanvaar het sonder om die buigbaarheid en vryheid van die Pauliniese charismatiese gemeenskap te verloor.

3. SLOT: MOONTLIKE BYBELSE RIGLYNE VIR DIE VERSTAAN VAN VERNUWING EN TRANSFORMASIE IN DIE GEMEENTE

Hoe moet gemeenteleiers oor vernuwing en transformasie dink? Na aanleiding van die beknopte voëlvlug deur die Nuwe Testament word ’n paar moontlike riglyne aangebied.35

(a) Die Nuwe Testament getuig van voortdurende vernuwing en transformasie in geloofsgemeenskappe. In die meeste gevalle was dit nie net blote aanpassing (“adapting”) of verstelling (“tuning”) nie, maar grondliggende transformasie. Die Nuwe Testament getuig van die kerk van Christus wat in elke situasie nuut gedink het oor hulle rol as geloofsgemeenskap. In feitlik al die gevalle was daar nuwe strukture en nuwe leierskapspatrone. Die Nuwe Testament is vol verhale, briewe, boodskappe, preke en visioene wat ons wil oproep om nie maar te berus in die bestaande toestand van die kerk nie, maar in die Naam van die Here alles in ons vermoë te doen om gemeentes meer in lyn met die wil en plan van die Here te bring (vgl Burger 1999:300-301).

(b) God Drie-enig is die hoofkarakter wat vernuwing in sy kerk bewerk. God is die hoof van sy volk in die Ou Testament en God is die hoof van sy kerk in die Nuwe Testament (vgl Hendriks 1986:72). God was nooit afwesig in enige tyd van die kerk se geskiedenis nie; daarom sal God altyd die hoof van sy kerk bly. Veral in die Nuwe Testament word dit baie duidelik uitgestippel dat die struktuur van die kerk prinsipieel onderskei kan word van elke menslike gemeenskap of vereniging. Die uitwendige groei van die kerk word aan God toegeskryf en elke mens wat deur God in diens van die kerk gebruik word, is maar net werktuie in diens van God: “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg” (Hand 2:47). 36Die resultaat van die verkondiging is die uitbreiding van die Woord van God (vgl Hand 6:7; 12:24; 19:20). Dit is egter nie net die opvatting van Lukas nie. Ook Paulus is oortuig dat God vir hom die deur geopen het (vgl 1 Kor 16:9; 2 Kor 2:12; Kol 4:3); God het van Paulus ’n apostel vir die nie-Jode gemaak soos Hy van Petrus ’n apostel vir die Jode gemaak het (Gal 2:8; 2 Kor 3:5); God het hom gebruik om heidennasies tot gehoorsaamheid te bring (Rom 15:17-19). Ook die inwendige opbou van die gemeente is nie soseer die sukses van die mense nie, maar die werk van God en sy Gees (Hand 9:31; 1 Kor 3:6; Kol 1:6, 10, ens) (Schnackenburg 1964:23).

In die Bybel is dit duidelik dat God se Gees na gelang van die behoefte en in antwoord op nuwe situasies ’n gemeente op ’n nuwe weg lei. God se Gees voer die werk van Christus verder, is kragtig, kreatief, dinamies, misterieus en skakel mense in by sy werk (vgl Joh 3:1-8; 16:7-11; Hand 2:1-4; Rom 8:1-17; 1 Kor 12; 2 Kor 3:18, ens) (Burger 1999:157-164). Om hierdie rede moet daar in afhanklikheid van God en sy Gees biddend na die regte bedieningstruktuur vir ’n bepaalde gemeente gesoek word. Selfs die beste bedieningstruktuur maak nog nie die gemeente tot be-Gees-terde liggaam van Christus nie (Pelser 1990:16).

(c) Daar kan geen vernuwing wees sonder gehoorsaamheid aan die wil van God nie. Gemeentewees handel oor mense wat in die teenwoordigheid van God op aarde leef; daarom kan daar nie vernuwing in gemeentes kom as God lidmate se lewe nie deur sy Heilige Gees aanraak en vernuwe nie. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor 5:17-18). Jesus roep sy volgelinge op tot ’n nuwe manier van leef (vgl die bergrede). In die Nuwe- Testamentiese briewe word die gemeente herinner aan die beloftes van God, maar ook opgeroep tot gehoorsaamheid en navolging (vgl Ef 1-3; 4-6). Die Nuwe Testament getuig egter nie net van individue nie, maar van families en totale geloofsgemeenskappe wat vernuwe is.

(d) Daar is ’n bepaalde verband tussen gebed en vernuwing. Volgens die Nuwe-Testamentiese geskrifte vervul gebed ’n integrale rol in die aanwysing van nuwe leiers asook in die neem van belangrike besluite wat vernuwing binne die geloofsgemeenskap raak: Jesus het ’n hele nag in gebed deurgebring voordat Hy die twaalf apostels aangewys het (Luk 6:12-13); die gelowiges het gebid voor die aanwysing van Mattias (Hand 1:24), by die aanwysing van die sewe mans (Hand 6:6), die uitstuur van Barnabas en Paulus (Hand 13:1-3), ensovoorts (Versteeg 1978:9-11, 23-24).

(e) Vernuwing vra groter deelname van alle lidmate. Die groot verskil tussen die bediening in die Ou Testament en dié van die gemeentes in die Nuwe Testament kan volgens Versteeg (1985:20) beskryf word met die woorde “verteenwoordiging” en “deelname”. Israel tree op namens die volke, die hoëpriester namens die priesters, die priesters namens die Leviete, die Leviete namens die ander Israeliete, en die mans namens die vroue. Onder die nuwe bedeling van die Nuwe Testament word die struktuur van die gemeente gekenmerk deur deelname. Niemand tree meer op namens iemand anders nie. Dit is om hierdie rede dat die Nuwe Testament wys op die genadegawes wat die Heilige Gees vir elkeen gee tot opbou van die hele gemeente (Rom 12:1-8; 1 Kor 12; Ef 4:1-16).

(f) Kerkleiers moet versigtig wees om een bedieningsmodel uit die Bybel te haal en dit as die enigste of absolute model met die oog op vernuwing te verhef. Daar is nie ’n Bybelse beeld, metafoor, model of bedieningstruktuur wat vasgegiet was en net so gebly het nie. Die bedoeling van die Bybel is eerder om sekere beginsels te vestig sodat elke geloofsgemeenskap in sy omgewing waarlik kerk van Christus kan wees. Die Nuwe-Testamentiese gemeentes het nie soseer vaste strukture voorgehou nie. Bartlett (1993:188) maak die volgende opmerking hieroor: “The New Testament from left (Paul) to right (the Pastorals) shakes us from our careful institutional rigidity lest we miss the moving of the Spirit and the reality of our fellow Christians.” Nêrens word daar in die Nuwe Testament ’n uitgewerkte bloudruk gegee van hoe die gemeente moet funksioneer nie. As ’n vaste bloudruk so belangrik vir God was, sou dit wel deel van sy Woord gewees het.

(g) Vernuwing beteken nie dat alles in die verlede sleg of onbybels was nie. Die Nuwe Testament getuig dat die meeste bedieningstrukture en leierskapspatrone op ’n bepaalde tyd goed en effektief was. Daar is byvoorbeeld in die tyd van die Pauliniese briewe meer klem gelê op die charismata of gawes van die Gees. In die tyd van die Pastorale briewe was daar ’n groter behoefte aan geordende bedieninge. Vernuwing en transformasie se doel is nie om alles van die verlede af te kraak nie. Vernuwing is ook nie gelyk aan verandering nie. Vernuwing het ten doel om in die lig van veranderde omstandighede te besin oor die beste manier om God in ’n bepaalde tyd te aanbid en te dien.

(h) In die tyd van die Nuwe Testament was daar voortdurende krisisse of veranderings in die sosiale en politieke omstandighede wat die kerk genoodsaak het om te vernuwe. Hierdie krisisse was geweldige uitdagings en het vir die gelowiges ’n geleentheid gebied om nuut te dink oor hulle eie voortbestaan. Handelinge 11:29-29 getuig byvoorbeeld dat die krisis van die vervolging ná Stefanus se dood gelei het tot die ontstaan van die nuwe gemeente in Antiogië.

(i) Vernuwing het te make met die geestelike behoeftes van mense in ’n bepaalde omstandigheid. In die tyd van die Nuwe Testament het God gehoor gegee aan die mense se geestelike behoeftes. God bly dieselfde, maar die mens se behoeftes verskil voortdurend. Sewe mans word byvoorbeeld gekies omdat daar ’n behoefte was aan groter versorging van Griekssprekende weduwees (Hand 6:1-7). Volgens die Bybel staan die geestelike behoeftes van die mense en die wil van God nie teenoor mekaar nie. Die Bybel beklemtoon wel dat sondige, selfsugtige behoeftes teenoor die wil van God staan.

(j) Leiers het ’n belangrike rol in die geloofsgemeenskappe van die Nuwe Testament vervul; gevolglik kan daar nie oor vernuwing gepraat word sonder om ernstig oor leierskap na te dink nie. Daar moet eerstens gewys word op die feit dat Jesus in die Nuwe Testament as rolmodel vir leierskap voorgehou word. Buiten Jesus lees ons van ’n verskeidenheid leiers en tipe persoonlikhede: apostels; ouderlinge en diakens, profete, herders, leraars, evangeliste, ensovoorts. Hierdie leiers is deur God geroep en op grond van bepaalde karaktereienskappe en gawes verkies (vgl Hand 6:3; Gal 1:1; 1 Tim 3:1-13, ens). In die Nuwe Testament is dit baie duidelik dat daar nie net die bediening of “amp” van leraar, ouderling en diaken was nie (vgl 1 Kor 12:28; Ef 4:11). Daar is ook geen omvattende ampsbeskouing in die Nuwe Testament nie (Swanepoel 1996:105). Die Nuwe Testament lê nie soseer klem op die verskil tussen verskillende “ampte” en die gewone gelowige nie. Die kerkordelike ontwikkeling van die amp vanaf die tweede tot in die vierde eeu was ’n verskuiwing weg van die meer dinamiese situasie soos in die Nuwe Testament beskryf word. Dit wil voorkom of die hele ontwikkeling van die “amp” soos dit vandag binne die NG Kerk se Kerkorde verstaan word nie so maklik Bybels fundeerbaar is nie en eerder ná die tyd van die Nuwe Testament ontstaan het (Louw 1990:222).

(k) As daar oor vernuwing gepraat word, kan die saak van diversiteit nie geïgnoreer word nie. Die Nuwe Testament beskryf die diversiteit van die Christelike kerk op verskillende maniere. Verskeie beelde of metafore word vir die kerk van Christus gebruik: geroepenes; volk van God; liggaam van Christus; bruid van Christus; tempel van die Gees, en getuie. Buiten dié prominente beelde, wys Minnear (1960:28-65) onder meer op 32 “minor images of the church”. 37 Die diversiteit is nie net beperk tot beelde of sienings van die kerk nie, maar word ook gereflekteer in ’n verskeidenheid bedieningstrukture. Daar was selfs diversiteit binne een gemeente soos die eerste gemeente in Jerusalem (vgl 2.2).

(l) Alhoewel vernuwing en transformasie in die Nuwe Testament meer fokus op stedelike gemeentes, word plattelandse gemeentes nie hiervan uitgesluit nie. Die prominente Nuwe- Testamentiese boeke wat inligting verskaf oor die vroeë gemeentes (Handelinge en die Pauliniese briewe) verwys na stedelike geloofsgemeenskappe. Die plattelandse kultuur van Palestina is agtergelaat en die Grieks-Romeinse stad het die dominante omgewing vir die Christelike beweging geword (Meeks 1983:11). Daar is egter wel sekere boeke soos 1 Petrus wat meer op die platteland fokus (Elliot 1982:63). Daar moet egter in gedagte gehou word dat die stedelike opset in die Grieks-Romeinse wêreld nie heeltemal met ons hedendaagse stedelike omgewing vergelyk kan word nie. In sekere sin gee die Bybel vir ons universele riglyne wat geld vir die bediening regdeur die wêreld; bedieninge in verskillende geografiese, sosio-ekonomiese en politieke omstandighede.

(m) In die hedendaagse besinning oor vernuwing, geestelike groei en herlewing word daar baie van die rol van kleingroepe gemaak (vgl Van der Spuy 1998; Schwarz 1998:32-33). Die Nuwe Testament beskryf ’n kerk wat in wese uit kleiner groepe bestaan en by huise bymekaargekom het (Hand 2:46; 16:40; Rom 16:5; 1 Kor 16:19; Kol 4:15; Filem v 2, ens). Alhoewel daar getuig word dat 3 000 mense op pinksterdag tot bekering gekom het (Hand 2:41) en dat duisende Jode gelowig geword het (Hand 21:20), word daar nie veel verwys na groot gemeentes met groot aanbiddingsruimtes nie.38 Die belangrikste rede hiervoor was waarskynlik vanweë die vervolging van Christene regdeur die Romeinse Ryk (vgl Hand 6:8-15; 8:1-3; 12:1-5, ens). Alhoewel die saak van kleingroepe nie altyd direk ter sprake kom in die Nuwe Testament nie, word daar heelwat oor die beginsels van kleingroepe vermeld: liefdevolle verhoudings; aanvaarding van mekaar; onderlinge sorg; gemeenskap met God en met mekaar, ensovoorts (vgl Donahue & Robinson 2001:17-52).

(n) Vernuwing en transformasie het ook te make met die skep van ’n nuwe kultuur binne ’n geloofsgemeenskap; daarom moet daar nie net aandag gegee word aan die dinge wat sigbaar is nie, maar ook aan die dinge wat nie voor die hand liggend en sigbaar is nie (Grierson 1994:10). Die Nuwe Testament getuig van ’n geloofsgemeenskap wat ’n hele nuwe kultuurverandering moes ondergaan. Van ’n hoofsaaklik Joodse geloofsgemeenskap tot ’n nuwe geloofsgemeenskap waarin Jood, Griek en ander nasionaliteite deel geword het van die volk van God.

(o) Vernuwing beteken dat die kerk ’n visie of droom vir die toekoms het. Die kerk in die Nuwe Testament het nie net by hulle daaglikse bestaan vasgesteek nie. Daar word ook in eskatologiese terme oor die toekoms gedink. Die vroeë Christene het moed gekry om nuwe geloofs- gemeenskappe te vorm, omdat hulle ’n visie gehad het oor dit wat nog moes kom – die vervulling van die koninkryk van God, die nuwe hemel en nuwe aarde (Op 4; 7:9-17; 21, ens) (vgl Russel 1994:97-98). Om hierdie rede moet gemeentes in gedagte hou dat vernuwingsprosesse op aarde altyd onvolmaak en voorlopig sal wees.

(p) Vernuwing in die gemeente word somtyds gekortwiek deur sosiale probleme binne die breë gemeenskap. In byvoorbeeld 1 Korintiërs 11:17-26 word daar gepraat van onreëlmatighede by die nagmaal waar die ryk en arm lidmate nie met mekaar oor die weg gekom het nie. Hierdie problem was deel van die kultuur van daardie dag en is ook in die gemeente ingedra. Vernuwing beteken dat die kerk ’n nuwe gemeenskap moet vestig, ’n heilige priesterdom, ’n geloofsgemeenskap wat gebou is op God se waardes en nie die breë gemeenskap se waardes nie (vgl 1 Pet 2:1-17).

(q) Vernuwing beteken ook om strategies die regte besluite te neem in ’n bepaalde omgewing. Een belangrike voorbeeld in die Nuwe Testament is die ontstaan van die gemeente in Antiogië (Hand 11:19-30). Hierdie belangrike stad was strategies geleë en het gevolglik die wegspringplek van die uitbreiding van die evangelie geword. In daardie stadium sou ’n gemeente in ’n onbelangrike dorp of stad nie soveel trefkrag vir die verspreiding van die evangelie gehad het nie. God het ook byvoorbeeld ’n strategiese persoon soos Paulus tot bekering geroep (Hand 8) om as bekeerde Jood en Romeinse burger ’n belangrike rol te vervul.

(r) Die Nuwe Testament kan misbruik word om eensydige standpunte oor vernuwing of teenkanting teen vernuwing te begrond. Voorstanders van gemeentevernuwing waar daar in opstand gekom word teen die geïnstitusionaliseerde kerk met vaste “ampte” sal hulle maklik op sekere briewe van Paulus beroep. Persone wat hierteen gekant is, sal hulle byvoorbeeld weer op die Pastorale briewe beroep.

(s) Indien die geskiedenis van geloofsgemeenskappe in die Bybel in sy geheel (ook Ou Testament) bestudeer word, is die kanse skraal dat die Bybel misbruik sal word in die nadenke oor vernuwing. Verkeerde afleidings word gewoonlik gemaak op grond van enkele teksgedeeltes wat buite verband aangehaal of versnipper word om ’n bepaalde standpunt te ondersteun. Gemeenteleiers moet versigtig wees om net op een Bybelboek te fokus wanneer vernuwing in die Bybel bestudeer word.

Die Bybel bly steeds die belangrikste bron waaruit verskillende perspektiewe met die oog op vernuwing en transformasie in die gemeente verkry kan word; gevolglik mag die Bybel nie afgeskeep of geïgnoreer word nie. Die NG Kerk se leuse is Semper Reformanda. Mag ons as kerk altyd reformerend wees in die lig van die Bybel.

BIBLIOGRAFIE

Achtemeier, PJ 1996. 1 Peter: A commentary on first Peter. Minneapolis: Fortress Press. (Hermeneia.) Ascough, RS 1998. The formation of the Pauline churches. Mahwah, New Jersey: Paulist Press.

Bartlett, DL 1993. Ministry in the New Testament. Minneapolis: Fortress Press. (Overtures to Biblical theology.)

Burger, CW 1995. Gemeentes in transito: Vernuwingsgeleenthede in ’n oorgangstyd. Kaapstad: Lux Verbi. (Gemeente en bediening 3.)

Burger, CW 1999. Gemeentes in die kragveld van die Gees: Oor die unieke identiteit, taak en bediening van die kerk van Christus. Kaapstad: Lux Verbi. (Gemeente en bediening 4.)

Burger, CW & Nell, I (reds) 2002. Draers van die waarheid: Nuwe-Testamentiese visies vir die gemeente. Stellenbosch: BUVTON. (Gemeente en bediening 7.)

Coenen, L 1975. sv Bishop, presbyter, elder. NIDNTT 1, 188-201.

Coertzen, P 1995. Ampte in die kerk. NGTT 36/3, 343-352.

Collins, JJ 1992. sv Daniel, book of. ABD 2, 29-37.

Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians: A commentary on the first epistle to the Corinthians. Philadelphia: Fortress Press. (Hermeneia.)

Conzelmann, H 1987. Acts of the apostles: A commentary on the Acts of the apostles. Philadelphia: Fortress Press. (Hermeneia.)

Cousar, CB 1996. The letters of Paul. Nashville: Abingdon Press. (IBT.)

De Villiers, JL 1983. Die Handelinge van die Apostels Deel 2. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers. (SBG.) Donahue, B & Robinson, R 2001. Building a church of small groups: A place where nobody stands alone. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.

Dudley, CS & Hilgert, E 1987. New Testament tensions and the contempory church. Philadelphia. Fortress Press.

Dunn, JDG 1991. Unity and diversity in the New Testament: An enquiry into the character of earliest Christianity. Tweede druk. Londen: SCM.

Du Rand, JA 1988. Charisma en amp – ’n Pauliniese eksegetiese verkenning, in Rossouw, PJ (red). Gereformeerde ampsbediening. Pretoria: NG Kerkboekhandel, 75-94.

Edwards, RA 1985. Uncertain faith: Matthew’s portrait of the disciples, in Segovia, FF (red). Discipleship in the New Testament. Philadelphia: Fortress Press, 47-61.

Elliot, JH 1982. A home for the homeless: A socialogical exegesis of 1 Peter, its situation and strategy. Londen: SCM Press.

Ellis, EE 1997. Pauline theology: Ministry and society. New York: University Press of America. Grierson, D 1984. Transforming a people of God. Melbourne: JBCE.

Hendriks, HJ 1986. Vernuwing in die bedieningstruktuur. NGTT 27/1, 72-85. Heyns, L 1993. Die amp in ’n krisis: ’n terreinverkenning. NGTT 34/3, 354-362.

Johnson, LT 1999. The writings of the New Testament: An interpretation. Hersiene uitgawe. Minneapolis: Fortress Press.

Kee, HC 1995. Who are the People of God? Early Christian models of community. New Haven & Londen: Yale University Press.

Lemaire, A 1973. The ministries in the New Testament: Recent research. Bib Theol Bul 3, 133-166.

Louw, DJ 1990. Charisma en amp: Op soek na ’n koinonale diensmodel vir gemeentebou. NGTT 31/2, 220-239.

Louw, LK 1986. Dienswerk: ’n Eietydse bedieningsmodel vir die opbou van die gemeente. Kaapstad: Lux Verbi.

Marshall, IH 1989. Acts. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans. (TNTC.)

McNicol, AJ 2000. sv Church. Eerdmans Dictionary of the Bible, 252-254.

Meeks, WA 1983. The first urban Christians: The social world of the apostle Paul. New Haven: Yale University Press.

Minnear, PS 1960. Images of the church in the New Testament. Philadelphia: Westminster Press.

Muddiman, J 2001. The epistle to the Ephesians. Londen & New York: Continuum. (Black’s New Testament Commentaries.)

O’Kennedy, DF 2003. Wat sê die Bybel oor vernuwing en transformasie in die gemeente? (Deel 1: Ou Testament). NGTT 44/1 & 2, 132-146.

Pelser, GMM 1984. Die Pastorale briewe, in Du Toit, AB (red). Die Pauliniese briewe: Inleiding en teologie.

Pretoria: NG Kerkboekhandel, 174-198. (Handleiding by die Nuwe Testament 5.)

Pelser, GMM 1990. Die bedieninge in die Nuwe Testament: ’n Ondersoek na historiese wording en prinsipiële regverdigbaarheid. Praktiese teologie in Suid-Afrika 5/1, 1-18.

Polhill, JB 1992. Acts. Nashville, Tennessee: Broadman Press. (The New American Commentary 26.) Ridderbos, H 1977. Paul: An outline of his theology. Tweede druk. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans. Robinson, DWB 1996. sv church. NBD (derde uitgawe), 199-202.

Roloff, J 1978. sv Amt/Ämter/Amtsverständnis: Im Neuen Testament. Theoligische Realenzyklopädie 2, 509-533.

Roloff, J 1993. Die Kirche im Neuen Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht. (GNT 10.)

Russel, KA 1994. In search of the church: New Testament images for tomorrow’s congregations. New York: Alban Institute.

Schnackenburg, R 1964. De Kerk in het Nieuwe Testament. Antwerpen: Uitgverij Patmos.

Schwarz, CA 1998. Natural Church Development: A guide to eight essential qualities of healthy churches. Carol Stream: ChurchSmart Resources.

Schweizer, E 1959. Gemeinde und Gemeindeordnung im Neuen Testament. Zürich: Zwingli Verlag.

Strecker, G 1996. The Johannine letters: A commentary on 1, 2 and 3 John. Minneapolis: Fortress Press. (Hermeneia.)

Swanepoel, AC 1996. Eietydse ampsbediening en bedieningstrukture vir ouderlinge en diakens in die Nederduitse Gereformeerde Kerk – ’n Kerkregtelike perspektief. NGTT 37/1, 104-114.

The center for parish development 1993. Organizational concepts for church transformation. Chicago, Illinois. (Readings in church transformation.)

Van der Spuy, D 1998. Herlewing deur omgeegroepe. Kaapstad: Struik.

Versteeg, JP 1978. Het gebed volgens het Nieuwe Testament. Amsterdam: Buijten & Schipperheijn.

Versteeg, JP 1985. Kijk op de kerk: De structuur van de gemeente volgens het Niewe Testament. Kampen: JH Kok.

Whitherington, B 1998. The acts of the apostles: A socio-rhetorical commentary. Grand Rapids: Eerdmans.

1 Dit is die tweede artikel oor dieselfde onderwerp. Die eerste artikel het op die Ou Testament gefokus (vgl O’Kennedy 2003:132-146).

2 Vgl die boek van die The Center for Parish Development met die titel Organizational concepts for church transformation (1993:1-6).

3 Polhill (1992:27) meld dat geleerdes die optekening van die boek Handelinge dateer tussen 57-59 nC en 150 nC. Die verhouding tussen Handelinge en Lukas lei die meeste geleerdes om ’n datum tussen 70 tot 90 nC te verkies.

4 Burger (1999:300-304) wys onder meer op drie sentrale Bybelse riglyne ten opsigte van vernuwing in die gemeente. In hierdie artikel sal ’n paar verdere riglyne aangebied word.

5 Die skrywer het die afgelope tien jaar (1992-2002) se uitgawes van die NGTT en Praktiese Teologie in SA nagegaan en kon geen Afrikaanse artikel vind wat ’n algemene oorsig gee van leierskap en bedieningstrukture in die Nuwe Testament nie. Een insiggewende Afrikaanse artikel van Pelser (1990:1-18) het wel vroeër verskyn en bied ’n algemene oorsig van bedieninge in die Nuwe Testament. In my artikel word die Nuwe Testament vanuit ’n ander hoek benader en ook anders gestruktureer. Ná die voltooiing van hierdie artikel het ’n Afrikaanse boek Draers van die waarheid: Nuwe- Testamentiese visies vir die gemeente (Burger & Nell 2002) verskyn. Die inhoud van hierdie boek kon ongelukkig nie in hierdie artikel verreken word nie.

6 Vgl O’Kennedy (2003:133-134) vir ’n verduideliking van verskillende kernbegrippe soos “vernuwing en transformasie”, “bedieningstrukture”, “leierskap” en “geloofsgemeenskap”.

7 Daar is verskillende perspektiewe rakende die struktuur en leierskap van die geloofsgemeenskappe in die Nuwe Testament. ’n Mens kan die saak ook vanuit verskillende hoeke bespreek. Sommige geleerdes verkies om te fokus op die perspektief wat ’n spesifieke Bybelboek bied (vgl Roloff 1993; Bartlett 1993). Die skrywer probeer om onder ’n paar breë opskrifte die ontstaan en ontwikkeling van die verskillende geloofsgemeenskappe weer te gee en nie slegs te fokus op elke outeur of Bybelboek nie. By 2.5 sal daar wel vanweë groter duidelikheid op sommige Bybelboeke gefokus word.

8 Daar moet in gedagte gehou word dat daar ’n hele aantal jare tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament verloop het. Die historiese vertellings van die Ou Testament eindig met Esra en Nehemia in die vyfde eeu vC, terwyl die Nuwe Testament die verhaal ongeveer 400 jaar later verder neem met die geboorte van Jesus. Die boek Daniël is waarskynlik die Ou-Testamentiese boek wat die laaste neergeskryf en geredigeer is (in ongeveer 164 vC finaal opgeteken). Hierdie boek vertel egter min van die omstandighede van die geloofsgemeenskappe in daardie tyd (Collins 1992:29-37). Aangesien ons in hierdie artikel op die Bybel fokus, gaan daar nie na die intertestamentêre tyd verwys word nie. Heelwat inligting oor hierdie tyd is wel in buite-Bybelse bronne en in apokriewe boeke beskikbaar.

9 Elkeen van die vier Evangeliste het ’n unieke wyse waarop hulle die bediening in die tyd van Jesus uitbeeld. Matteus se Evangelie maak ’n unieke bydrae terwyl Lukas se insigte ook in Handelinge na vore kom en Johannes s’n in sy Evangelie, briewe en apokalips. Geleerdes wat die Nuwe Testament se siening oor kerk en bediening bespreek, verwys selde na die bydrae van Markus (vgl Schweizer 1959; Schnackenburg 1964; Roloff 1978; 1993; Dunn 1991; Bartlett 1993, et al). Vgl wel die bydrae van Russel (1994:11-21) oor Markus se verstaan van ’n alternatiewe gemeenskap.

10 Daar was ´n verskeidenheid van groeperings binne die Judaïsme in Jesus se tyd: die Sadduseërs was eintlik die belangrikste politieke party en die konserwatiewe “establishment”; die Selote was ’n nasionalistiese en gewelddadige godsdienstig-politieke party; die Fariseërs was êrens in die middel van die godsdienstig-politieke spektrum, maar was meer geïnteresseerd in die interpretasie van die wet as in politiek, en dan die Esseners wat ’n baie geslote gemeenskap in Qumran gevorm het (Dunn 1991:104).

11 ’n Mens kan argumenteer dat die eintlike kerk eers ná pinksterdag in Jerusalem begin het; gevolglik het die eerste Nuwe-Testamentiese gemeente in Jerusalem ontstaan. Aan die ander kant moet ons wel erken dat verskillende geloofsgemeenskappe reeds voor die tyd bestaan het.

12 Volgens tradisie (vgl Eusebius) was Jakobus die eerste biskop van Jerusalem wat deur Jesus self aangestel is.

13 Goeie versorging deur die Jerusalemgemeente kon moontlik daartoe bygedra het dat sommige priesters gelowig geword het. Polhill (1992:183) wys daarop dat daar heelwat arm priesters in Palestina was wat glad nie deur die Joodse tempelkultus versorg en ondersteun is nie. Hulle het min gemeen gehad met die “Sadducean priestly aristocracy”.

14 Agter hierdie berig kan die skeuring tussen die Hellenisties-Joodse en die Palestyns-Joodse groeperings verskuil lê (Roloff 1978:514; Pelser 1990:5).

15 Swanepoel (1996:108) reken dat daar ten spyte van meningsverskil tog in aansluiting by die kerklike tradisie aanvaar moet word dat hier van die diakenamp sprake is. Pelser (1990:5) se standpunt verskil radikaal van dié van Swanepoel: “Dit is vandag nie meer denkbaar dat iemand die ontstaan en legitimering van die diakenbediening hierop kan terugvuur nie.” Al wat met sekerheid gesê kan word, is dat hierdie sewe mans leiers in die gemeente was.

16 Al die leiers wat gekies is, het Griekse name gehad. Waarskynlik was almal gebore Jode, behalwe Nikolaus.

17 Dit is interessant om daarop te let dat volgens Hand 6:6 dit die skare gelowiges was wat vir hulle gebid en hulle die hande opgelê het, en nie die twaalf apostels nie (Marshall 1989:127; Witherington 1998:249).

18 Hierdie siening is onder andere deur Adolf Deissmann in sy boek Light from the Ancient East (1928) gehuldig.

19 Geleerdes verskil hieroor, omdat daar letterlik in die Grieks staan “op die eerste van die sabbat”. Die vraag is of Lukas die Joodse of Romeinse manier van tydsberekening gebruik het. Volgens die Joodse metode van tydsberekening het die nuwe dag begin met die sonsondergang van die vorige dag, dit wil sê Saterdagaand. Volgens die Romeinse tydsberekening het die nuwe dag begin met dagbreek. Hiervolgens sou die gelowiges vergader het op die aand van die Sondag (eerste dag van die Joodse week) of Saterdag (die eerste dag van die Romeinse week) (De Villiers 1983:110; Witherington 1998:606).

20 Volgens McNicol (2000:254) het hierdie aanbiddingsbyeenkomste drasties verskil van ander godsdienstige byeenkomste in die Grieks-Romeinse wêreld met die volgende vier sentrale elemente: (1) tempel of huis van die spesifieke god; (2) offers word gebring om die god te behaag; (3) daar was ’n spesifieke altaar waar die offerhandeling plaasgevind het, en (4) ’n priester is aangestel om as middelaar tussen die god en mens op te tree.

21 Die eerste vraag handel oor die benaming “amp” wat algemeen in die NG Kerk gebruik word. Daar is al heelwat oor die ampte in die kerk geskryf, maar vanweë ’n gebrek aan plek sal daar nie nou in detail hieraan aandag verleen word nie. Selfs die term “amp” word nie eers deur geleerdes as ’n Nuwe- Testamentiese term gereken nie (Du Rand 1988:79). Versteeg (1985:30) sê die volgende hieroor: “Het woord dat in het Nieuwe Testament als ambtsaanduiding gebruikt wordt is het woord diakonia dat ‘dienst’ betekent.” Coertzen (1995:351) stel voor dat daar moontlik van die begrippe “diens” en “ampsdiens” of “geordende diens” gebruik gemaak moet word. Die huidige “ampsbegrip” is in ’n krisis en daar sal steeds indringend hieroor besin moet word (vgl Heyns 1993:354-362).

22 Tradisioneel is Romeine tot 2 Tessalonisense as die vroeëre Pauliniese briewe beskou en die Pastorale briewe as latere Pauliniese geskrifte. Hierdie standpunt word nie meer vandag deur alle Nuwe- Testamentiese geleerdes ondersteun nie. Feitlik al die kritiese geleerdes aanvaar dat Paulus die outeur van die volgende sewe briewe is: Romeine, 1 en 2 Korintiërs, Galasiërs, Filippense, 1 Tessalonisense en Filemon. Die meeste kritiese geleerdes aanvaar dat die Pastorale briewe nie deur Paulus geskryf is nie terwyl daar ’n groeiende konsensus ontwikkel dat 2 Tessalonisense, Kolossense en Efesiërs nie- Paulinies of deutero-Paulinies is (Cousar 1996:165-167; Johnson 1999:271). Dit val buite die skopus van hierdie artikel om die outeurskap breedvoerig te bespreek en die breë verdeling Pauliniese briewe en Pastorale briewe word gehandhaaf. Daar kan egter aanvaar word dat Paulus ’n groot invloedsfeer gehad het in die verskillende gemeentes.

23 Daar is talle studies geskryf oor hierdie drie hoofstukke in die Bybel. Vgl Du Rand (1988:83-93) en Bartlett (1993:46-52) vir ’n meer gedetailleerde beskrywing.

24 Volgens Hand 20:17-38 word Paulus voorgehou as die modelouderling wat die ouderlinge van Efese leer en oplei. Volgens Lukas het Paulus as modelouderling die regte lering oorgedra. Hierdie regte lering behels onder meer dat hy “sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo” (Hand 20:21) en om die “evangelie van genade te verkondig” (Hand 20:24). Paulus as modelouderling is bereid om te ly ter wille van die suiwer leer van die evangelie (Hand 20:19, 23-24) en is onwillig om homself as leier te verryk (Hand 20:34-35). Die ouderlinge word opgeroep om die armes te ondersteun soos Paulus gedoen het (Hand 20:34-35) (Bartlett 1993:132-133).

25 Muddiman (2001:199) reken dat hierdie terme verwys na ’n verhouding tussen die rondreisende en plaaslike kerkleiers. Evangeliste is die missionêre opvolgers van die apostels soos die herders (pastors) die plaaslike opvolgers van die profete is.

26 Bartlett (1993:153) maak die volgende opmerking: “Nonetheless, when I read the Pastorals, I feel as if I have stepped into another thought world than that of the undoubtedly genuine epistles. I am also persuaded that this is a later world, not a century later, but decades later.”

27 Versteeg (1985:42) sê die volgende h ieroor: “Ook in de pastorale brieven is de band tussen ambt en charisma niet door te snijden. Heel het Nieuwe Testament – inclussief de pastorale brieven – laat verbondenheid van ambt en charisma zien.”

28 In die NAB word die Griekse term <bad greek copy> in v 1 met “ouer man” vertaal en in vers 17 en 19 met “ouderling”.

29 Dit is interessant om daarop te let dat die term <bad greek copy> slegs een keer in die Pauliniese briewe voorkom (Fil 1:1). Ellis (1997:95) reken dat hulle rol volgens die Pastorale briewe uitgebrei word. Daar is heelwat geskryf oor die gebruik van die Griekse terme <bad greek copy> en <bad greek copy> , maar hierdie debat val buite die skopus van hierdie artikel (vgl Coenen 1975:199; Louw 1986:56-57; Bartlett 1993:168-169). Die NAB vertaal albei Griekse terme met “ouderling” en maak gevolglik ’n keuse dat albei woorde na dieselfde amp verwys.

30 Cousar (1996:178) wys daarop dat hierdie karaktereienskappe nie beperk is tot leierskap in die Christelike gemeente nie. Heelparty van hierdie eienskappe kom voor in Hellenistiese literatuur wat ’n verskeidenheid van beroepe beskryf.

31 Bartlett (1993) bespreek die bediening in die Nuwe Testament, maar verwys glad nie na die volgende Nuwe-Testamentiese boeke nie: Filemon, Hebreërs, Jakobus, briewe van Petrus, Judas en Openbaring.

Alhoewel daar min oor leierskap en bedieningstrukture uit hierdie boeke afgelei kan word, kan hulle nie totaal geïgnoreer word nie (vgl Roloff 1993). Die skrywer kon nie veel inligting oor bedieningstrukture en leierskapspatrone in Filemon, Jakobus en Judas opspoor nie.

32 Die NAB vertaal albei opskrifte met “van die oudste”

33 Daar is ook sprake van die <bad greek copy> in die briewe aan die sewe gemeentes. Die vraag is of hulle beskou moet word as aardse leiersfigure in die gemeentes of as hemelse verteenwoordigers (Dunn 1991:120)

34 Elliot (1982:63) wys daarop dat die Pauliniese briewe, Handelinge en Openbaring verwys na die stedelike wortels van die Christelike gemeenskap. Jakobus, Hebreërs, die Johannese literatuur, die Petrusbriewe, Judas en sommige van die Evangelies verwys ook na plattelandse gemeenskappe. Alhoewel 1 Petrus hoofsaaklik aan ’n plattelandse gehoor gerig is, beteken dit nie dat hierdie brief nie stedelinge bereik het nie.

35 Sommige van hierdie riglyne is reeds in die eerste artikel aangestip en word hier vanuit die Nuwe Testament belig (vgl O’Kennedy 2003:143-145).

36 Vgl ook die passiewe vorm van die werkwoord in Hand 2:41; 5:14, en 11:24.

37 Bartlett (1993) meld onder meer dat verskillende skrywers verskillende beelde beklemtoon: Paulus: die liggaam van Christus en die bediening van genade (46-53); Matteus: ’n gemeenskap van dissipels en die kerk as familie (82-85); Lukas/Handelinge: gemeenskap van die Gees; dissipels; broers; Christelike gemeenskap as die weg; ekklesia (134-146); Pastorale briewe: kerk as huishouding van God (1 Tim 3:14-15; Tit 1:7) (177-179).

38 Daar was wel oorgangstye waarin daar in die tempel en sinagoge byeengekom is sowel as by huise (vgl Hand 2:46). Teenoor die Nuwe Testament getuig ’n groot gedeelte van die Ou Testament van ’n geloofsgemeenskap wat by die tempel in Jerusalem bymekaargekom en openbare godsdienstige feeste gevier het (bv Groot Versoendag).