Oosthuizen, R de W
Universiteit van Fort Hare

Die “oop gesprek”: historiese diskoers in die Bybelwetenskappe met spesifieke verwysing na Bybelse argeologie1

ABSTRACT

The open-ended nature of the historical discourse in the study of the Old Testament, with specific reference to Biblical archaeology

The relationship between “text” and “context” forms an integral part of the current debate regarding the authority of Scripture, in as far as the truth (authority), in one way or another, is being defined in terms of the world (historical context) out of which the text emerged. Notwithstanding certain developments in the field of Biblical scholarship as well as archaeology, the discipline of Biblical archaeology continues to survive as the framework within which these two disciplines join forces, and, quite possibly, may enter into the historical discourse in meaningful dialogue with each other. Of decisive importance for Biblical archaeology is the foundation on which this dialogue takes place. After all, the basis on which the dialogue takes place has a determining influence on the collection and interpretation of archaeological data, and its use, similarly, in connection with the understanding and interpretation of the Bible.

“Would you tell me, please, which way I ought to go from here?”

“That depends a great deal on where you want to get to,” said the Cat.

“I don’t much care where -” said Alice.

“Then it doesn’t matter which way you go,” said the Cat.

“- so long as I get somewhere,” Alice added as an explanation.

“Oh you’re sure to do that,” said the Cat, “if only you walk long enough.”

Alice felt that this could not be denied, so she tried another question.

“What sort of people live about here?”

“In that direction,” the Cat said, waving its right paw round, “lives a

Hatter; and in that direction,” waving the other paw, “lives a March

hare. Visit either you like, they’re both mad.”

“But I don’t want to go among mad people,” Alice remarked.

“Oh you can’t help that,” said the Cat, “we’re both mad here. I’m mad.

You’re mad.”

– Lewis Carroll, Alice’s Adventures in Wonderland2

1. INLEIDING

Die beginsel om die tekskodes in hulle kulturele konteks te verstaan en om rekening te hou met die historiese gesitueerdheid van daardie tekste is goed gevestig in die Ou-Testamentiese wetenskap (Deist 1986:36). Dat daar ’n verband tussen hierdie wêreld “agter” die teks en die wêreld “van/in” die teks is, word algemeen aanvaar. Presies wat die verband is en die wyse waarvolgens die verband gelê kan word, hou wetenskaplikes/Ou-Testamentici dekades lank al besig. So, byvoorbeeld, het Johann Gustav Droysen (1808-1884) met betrekking tot dié vraagstuk ’n onderskeid getref tussen Uberreste en Bericht (Lemche 1999:1). Laasgenoemde dui op (die) interpretasie soos vervat in ’n teks – soos die Ou Testament – terwyl eersgenoemde dui op historiese informasie of inligting tot beskikking van die historikus.

Onderliggend aan die aanvaarding van die konsepverslag Skrifgesag en Skrifgebruik tydens die sinodesitting van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gedurende 1986 is onder meer die verhouding tussen die “teks” en “konteks”. Die debat oor die Bybel tree veral na vore rondom die vraag na die gesag van die Skrif as Woord van God. So merk prof P Potgieter (2002:9) op: “... in die gereformeerde teologie was dit nog altyd ’n grondliggende vertrekpunt dat die konteks (verband) van elke Skrifgedeelte ernstig opgeneem moet word”. In hierdie verband word ’n sekere klem geplaas op die menslike karakter van die Skrif/Bybel, wat die gesag van die Bybel – as Woord van God – sou ondermyn. Die soeke na antwoorde wat vanuit hierdie problematiek na vore tree, word in die algemeen gekategoriseer as ’n “nuwe hervorming” (Potgieter et al 2002:4; Naudé 2002:12). Die gesprek wat hieruit voortvloei, word gesien teen die breë agtergrond van die soeke na ’n nuwe geestelikheid (Jordaan 2002:18) wat “klaarblyklik in baie gevalle nie meer binne die ortodokse Christendom bevredig word nie” (Muller 2002:6).

In die openbare media word die gesprek onder meer gevoer in terme van die verhouding tussen die Christelike geloof aan die een kant en die wetenskap aan die ander kant (Jackson 2002:9; Waldner 2002:22). Die gesprek met betrekking tot die historiese agtergrond waarteen die Bybel gelees moet word, tree ook na vore rondom die vraag na die verhouding tussen die “verkondigde Jesus” en die “historiese Jesus” (Nicol 2002:13) , God se openbaring, die historisiteit en gesag van die Bybel, en so meer. Die debat rondom die historiese karakter of aard van die Skrif lei dikwels tot ’n geloofskrisis. Die wyse waarop die debat gevoer word, wil voorts geloof en wetenskap teen mekaar afspeel. In dié verband word ’n direkte verband gelê tussen die “gesag, inspirasie en die onfeilbaarheid van die Skrif” wat “staan of val by die algehele foutloosheid van die skrif” (Du Toit 2002:10). Die gesag (inspirasie) van die Bybel word gekoppel aan historisiteit, of eerder ’n bepaalde verstaan van wat die historisiteit behels.

Dit is insiggewend dat daar na die gesprek verwys word as “die oop gesprek” (Strydom 2002:9; Waldner 2002:20). Deur ongenuanseerde uitsprake laat die debat egter nie altyd reg geskied aan die problematiek wat hier ter sprake kom nie, veral omdat die aard van die wetenskaplike gesprek dikwels misgekyk word, of ten minste verkeerdelik vertolk word. 3Die aard van die wetenskaplike gesprek behels meer as om net ’n onderskeid te tref tussen die “gebeure” en die “boodskap” of vertelling (Nicol 2002:13).4 Die eiesoortige aard en karakter van die wetenskaplike gesprek, in dié geval sou ons kon praat van die “historiese diskoers”, word in die Bybelwetenskappe in sekere sin op die spits gedryf deur die vakwetenskap “Bybelse argeologie” waarin die verhouding tussen die teks en die konteks veral na vore tree.5

Ontwikkeling in metodes van Skrifuitleg saam met die skerp toename in argeologiese data het daartoe bygedra dat opnuut besin word oor die verband tussen die literatuur (Ou Testament) en die materiële nalatenskap van Ou Israel. Die aard van die bronnemateriaal benadruk die noodsaak van ’n meer omvattende strategie6 wanneer daar gekyk word na die geskiedenis (of aspekte van die geskiedenis) van Ou Israel (Scheffler 1988:665; Ahlström 1993:36). In dié opsig is die toenemende gebruik van argeologiese gegewens veral van belang 7 (Dever 1987:209; Mazar 1990; Clements 1991:3; Levy 1995; McNutt 1999:3) aangesien dit veral ’n bydrae lewer met betrekking tot die sosiokulturele en religieuse lewe in Palestina (Scheffler 1999:556). Die verbandlegging tussen die argeologiese data en die Ou Testament bly uiteraard problematies. Die eiesoortige problematiek van Bybelse argeologie behels juis dat dit as ’n historiese ondersoek met twee stelle gegewens, dit wil sê argeologiese gegewens en dokumentêre gegewens, as databasis werk. Nieteenstaande sekere verwikkelings op die gebied van die Bybelwetenskap aan die een kant en van die argeologie aan die ander kant, bly die dissipline “Bybelse argeologie” voortleef as die kader waarin die twee dissiplines by mekaar aansluit, 8 en bes moontlik in ’n sinvolle dialoog met mekaar kan tree (Dever 1982:103-107; Craffert 1998:343). Die wyse waarvolgens die verband tussen bogenoemde twee aspekte gelê word, staan veral in die brandpunt.

2. DIE IMPLISIETE WETENSKAPSFILOSOFIESE BASIS VAN (TRADISIONELE) BYBELSE ARGEOLOGIE (1930-1960)9

Bybelse argeologie het beslag gekry as ’n reaksie teen die resultate van die histories-kritiese benadering tot die Bybel en die implikasies daarvan vir die eksegese van die Ou Testament (Olivier 1988:4-13; Burger 1990:2-6). Hierdie reaksie het hom, onder meer, ten doel gestel om die historisiteit en daarmee saam die betroubaarheid van die Bybel te bewys deur gebruik te maak van argeologiese data (Scheepers 1988:6). Die hoofsaaklik teologies gemotiveerde doelstelling het die werkswyse (metode) en die resultate (interpretasie) van Bybelse argeologie vooraf bepaal, sonder dat tot ’n eksplisiete metodologiese en wetenskapsfilosofiese verantwoording gekom is (Scheepers 1988:35). Gevolglik het Bybelse argeologie met ’n bewysvoeringsmetodiek (verifikasiebeginsel) gewerk en hoofsaaklik ’n induktiewe benadering gevolg in soverre inferensiële geldigheid betref. Volgens dié interpretasiemodel het die kriteria van empiriese waarneembaarheid bepaal of ’n teorie (hipotese) wetenskaplik korrek (waar, objektief) is of nie. Die basiese uitgangspunt van die logiese positivisme, naamlik die epistemologiese en ontologiese status van empiriese waarneming, het vervolgens die basis gevorm vir die dialoog tussen die argeologie en die Bybel, sonder dat die wetenskapsfilosofiese uitgangspunt en die metodologiese konsekwensies daarvan vir Bybelse argeologie eksplisiet gestel is (Gibbon 1989:37). Gebaseer op bogenoemde voorveronderstelling is, deur die gekontroleerde insameling van “feite” (artefakte) en op grond van induktiewe veralgemening, tot bepaalde wette gekonkludeer (Van Huysteen 1986:22), waarvolgens die betrokke samelewing verklaar word.

Bybelse argeologie, onder die invloed van die logiese positivisme, het vervolgens veral op ’n induktiewe wyse te werk gegaan. Die “feite” (artefakte) is ontdek, sistematies ondersoek, en daaruit is sekere logiese afleidings en veralgemenings (hipoteses) gemaak oor die leefwêreld van die Bybel. Wetenskaplike kennis van die leefwêreld van Ou Israel is vermeerder deur die akkumulasie van empiries waargeneemde gegewens. Deur dié werkswyse te volg het Bybelse argeologie aan ’n bepaalde interpretasiemodel ’n empiriese basis verskaf, wat as voldoende verklaring gefunksioneer het vir die materiële nalatenskap. Waarheid is veral gedefinieer in terme van empiriese waarneembaarheid (verifikasie).

The normal procedure proposed for converting a proposed law (a theoretical proposition) into a real, that is, highly confirmed law was to test the theory in which it was embedded in the manner already discussed. That is, a set of hypotheses derived from the theory was to be given an empirical interpretation and compared with empirical observations; if the predicted and disclosed observations were the same, the hypotheses were provisionally accepted and the theory was confirmed (Gibbon 1989:23, eie beklemtoning).

Om die leefwêreld van die Bybel te beskryf is tradisionele argeologie (Bybelse argeologie soos deur die sogenaamde ou skool bedryf) veral gekenmerk deur tel-opgrawing. Tradisionele argeologie het hoofsaaklik belang gestel in artefaktuele en epigrafiese materiaal en het veral deskriptief te werk gegaan. Die ruïnegeoriënteerde benadering was veral aangewese op stratigrafie en artefaktipologie waarvolgens die evidence tot beskikking van die Bybelhistorikus gestel is (Brandfon 1987:11). Die stratigrafiese metode (Wheeler-Kenyon-metode) karakteriseer die werkswyse van Bybelse argeologie tot ’n spesifiek ruïnegeoriënteerde dissipline (Olivier 1989:49).

Die minimum eise wat geld vir wetenskaplikheid (volgens die logiese positivisme), wat veral gesetel is in die feitelikheid (empiriese waarneembaarheid) en die logika (juiste wetenskaplike argumentering), is net so oorgedra na die implementering van argeologiese data in die Bybelwetenskappe (Van Huysteen 1986:21; Craffert 1998:351). Met behulp van die materiële gegewens is die feitelikheid (wetenskaplikheid) en daarmee saam die waarheid (historiese korrektheid) van die Bybelse teks geverifieer. Dié (hoofsaaklik induktiewe) benadering het egter ’n onhoudbare probleem geskep vir sowel die argeologie as die Bybelwetenskap deurdat die interpretasie van die materiële kultuur vooraf bepaal word deur bepaalde Bybelse (geloofs-) veronderstellings.

3. DIE VERANDERENDE STATUS EN ROL VAN TEORIE IN BYBELSE ARGEOLOGIE

Verskeie faktore het ’n rol gespeel in die neiging om weg te beweeg van die logies-positivistiese uitgangspunte ten opsigte van wetenskapsbeoefening soos dit neerslag gevind het in die Bybelse argeologie. Sekere tekortkominge in die logies-positivistiese verklaringsmodel het die standaard- wetenskapopvatting van binne verder verswak deurdat dit nie die model se eie verwagtings en voorveronderstelling gestand kon doen nie. Veral is die gedagte van teorie-neutrale waarneming bevraagteken (Gibbon 1989:38), as gevolg van die groeiende bewuswording dat aspekte soos onder meer sosiale faktore, subjektiewe belang en ook die konkrete opgrawingsproses self bepalend inwerk op die navorsingsproses.

Na aanleiding van die kritiese rasionalisme van Popper (1968) waarvolgens die erkenning dat kennis waar is tot die teendeel bewys word (falsifikasie-beginsel), aanvaar is, het die besef posgevat dat wetenskap ’n sosiale (menslike) aangeleentheid is. Objektiewe kennis berus nie soseer op die waarneming van vanselfsprekende teorievrye feite nie, maar realiseer deur die intersubjektiewe dog kritiese ooreenstemming van ’n bepaalde groep se denke (Van Huysteen 1986:42). Kuhn (1970) het die wending weg van die logiese positivisme verhaas deur die wetenskaplike ondersoek te definieer in terme van ’n probleemoplossingsmodel (Van Huysteen 1986:66). In die lig van die besef dat alle kennis teoriebemiddeld is, het Kuhn die aard van wetenskaplikheid probeer verklaar in histories-sosiologiese terme. Hy beskou wetenskap as ’n handeling wat plaasvind binne ’n bepaalde paradigma (1970:viii) of verwysingsraamwerk.

Ook onder die beoefenaars van die argeologie is al hoe meer krities nagedink oor argeologie as wetenskap en die implikasies daarvan vir die metodes wat gevolg word. Die kritiese nadenke vanuit die argeologie self is deur die teenstanders van die nuwe bewuswording en belang van teorie (in reaksie teenoor tradisionele argeologie) getipeer as New Archaeology sedert dié term deur Joseph Caldwell in 1959 op die vakgebied van toepassing gemaak is (Binford 1983b:107; Gibbon 1989:61). “Nuut” dui in hierdie verband op ’n nuwe hermeneutiek of filosofiese benadering in die argeologie waar die gebruik van ’n eksplisiete model sentraal figureer (Clarke 1972:54). Die situasie kan onder meer toegeskryf word aan die opkoms van Siro-Palestynse argeologie en die groeiende professionaliteit in die dissipline wat daaraan ’n selfstandige plek toegeken het naas die Bybelwetenskappe (Dever 1985:59). Die kritiese nadenke vanuit die argeologie het ook ’n invloed gehad op die implementering van argeologiese data vir die interpretasie van die Ou Testament. Spesialiste uit die natuurwetenskappe en sosiale wetenskappe het ook tot die terrein van Bybelse argeologie toegetree. Hierdie ontwikkeling in Bybelse argeologie hou verband met die afsterwe van die mees prominente figure in die dissipline en die opkoms van ’n nuwe geslag argeoloë wat sterk onder die invloed van die Amerikaanse antropologie staan (Dever 1985:49). Die belang van ’n wetenskaplike werkswyse en die funksie van teorieë in Siro-Palestynse argeologie tree meer bewustelik na vore (Dever 1985:50).

Die besef dat kennis teoriebemiddeld is, het daartoe gelei dat die waarde van hipoteses (teorie) ook in Bybelse argeologie sy beslag gekry het. Daar is tot die besef gekom dat teorie noodsaaklik is om die magdom gegewens te verwerk en te interpreteer, wat tot beskikking van die wetenskap gestel word as gevolg van die verfyning van opgrawingstegnieke asook deur meer doelbewuste multidissiplinêre (en interdissiplinêre) benaderings wat die bestudering van die materiële kultuur uit die verlede betref. Die nadenke oor die aard van die argeologie as ’n wetenskap lei mettertyd tot die herdefiniëring van onder meer die definisie, doel, data en metode van die argeologie (Dever 1985:31-74; Miller 1987:55-63; Nel 1987:18-28; Olivier 1989:49-60; Hill 1972:61-109; Scheepers 1988:11-14; Craffert 1998:335-364). Hierdie rasionalisasie in die argeologie het veral die vorm aangeneem van metodologiese vraagstukke in die soeke na ’n objektiewe interpretasie van die verlede.

Die vraagstelling behels ook ’n herwaardering wat betref die aard van die verlede, met ander woorde, die betekenis en rol van die materiële nalatenskap en die huidige interpretasie daarvan (Shanks & Tilley 1987:1). Die basiese problematiek behels die interpretasie van die verlede, wat meer is as net ’n spesifieke vorm van oudheidkunde. Gegewe die aard van die argeologiese rekord is dit nie voldoende om die artefakte te beskryf nie. Die vraag na die betekenis van die argeologiese data moet ook beantwoord word.

The only way in which we can understand their meaning – if you will, the way in which we can state the archaeological record in words – is by knowing something about how these material things came into being, about how they have been modified, and about how they acquired the characteristics we see today. That understanding is dependent upon a large body of knowledge that links human activities (i e dynamics) to the consequences of those activities that may be apparent in material things (i e statics) (Binford 1983b:9).

In die herwinning van die materiële kultuur van die verlede het die besef deeglik posgevat dat die argeologie nie meer kan volstaan met die herwinning en bestudering van artefakte (entiteite op sigself) as sodanig nie. Die dissipline van die hedendaagse argeologie word gevolglik gekenmerk deur verskeie vorme van historiese vertelling, sosiale (re)konstruksie en die plasing van artefakte in ’n bepaalde konteks (Shanks & Tilley 1987:29).

4. ARGEOLOGIE PROBEER DIE PROSES VAN VERANDERING IN DIE SAMELEWING VERKLAAR

Namate die argeologie tot ’n selfstandige dissipline ontwikkel het en die opgrawingsmetodes en klassifisering van data verfyn is, is daar al hoe meer tot die besef gekom hoe noodsaaklik ’n teoretiese verwysingsraamwerk of model vir die interpretasie van die magdom gegewens uit die verlede is. Die afwesigheid van ’n eksplisiete teoretiese apparatuur in die argeologie het die akkumulering van betekenislose data tot gevolg (Clarke 1968:22). Uit reaksie teen tradisionele argeologie vind daar ’n klemverskuiwing plaas in New Archaeology. Die argeologie probeer nou nie meer net die samelewing (artefakte as entiteite op sigself) beskryf nie (Nel 1987:19), maar probeer ook om die kulturele prosesse te verklaar (Binford 1972:87).10 Ontwikkeling in die dissipline het ’n klemverskuiwing van ’n ruïne-georiënteerde historiese benadering na ’n breër streeksgeoriënteerde benadering tot gevolg, waarby ingesluit word sosiokulturele prosesse van die verlede (Olivier 1989:49; McNutt 1999:13).

Argeologie probeer vervolgens om ’n konstruksie daar te stel met betrekking tot die kultuurgeskiedenis (Binford 1972:81). Die konstruksie sluit in ’n studie van die leefwyse van die betrokke gemeenskap wat verantwoordelik is vir die argeologiese rekord (Binford 1972:78). Alhoewel tradisionele argeologie erkenning gegee het aan die behoefte om die leefwyse van gemeenskappe te bestudeer, is daar nie besef dat dit ook die dinamiese prosesse in die samelewing insluit nie (Binford 1983b:6). Die beskouing dat gedrag waarneembaar is in die materiële neerslag van ’n bepaalde kultuur, het tot gevolg dat argeoloë nie meer fokus op artefakte in isolasie van gedrag nie.

These archaeologists have replaced dependance on cognitive explanation with a focus on material remains as a reflection of past behavioral patterns (Watson LeBlanc & Redman 1971:63, eie beklemtoning).

Die logiese konsekwensie van bogenoemde posisie behels dat die doel van die argeologie is om die struktuur van die materiële nalatenskap (remains) te korreleer met die gedrag (behavioral elements) van ’n kulturele sisteem (Watson, LeBlanc & Redman 1971:63). Die doel van die argeologie is om, na aanleiding van die voorafgaande, betekenis te skep deur middel van die interpretasies11 wat op ’n koherente en legitieme wyse gekorreleer kan word met die argeologiese rekord (Renfrew 1982:9). Die materiële nalatenskap kan alleen verstaan word wanneer die verband gelê word tussen menslike gedrag (human activities) en die konsekwensies daarvan soos uiterlik waarneembaar is in die argeologiese rekord (material things, i e statics) (Binford 1983a:19). Die objek wat deur argeologie bestudeer word, sluit die prosesse in waarvolgens ’n bepaalde kultuur funksioneer. Artefakte kom voort uit en funksioneer in ’n bepaalde kultuursisteem. Gevolglik is daar ’n empiriese oorsaaklikheidskakel tussen die kulturele sisteem, die verskeidenheid van relasies en die materiële effek daarvan, naamlik die argeologiese rekord. Die argeologie het met ander woorde te doen met die sosiokulturele sisteme en kultuurprosesse van die verlede (Sharer & Ashmore 1979:508). Kultuur kan hiervolgens beskou word as ’n buitesomatiese aanpassingsisteem (extra-somatic adoptive system) wat lei tot die integrasie van ’n gemeenskap met sy omgewing en met ander sosiokulturele stelsels (Binford 1965:205). 12 In die sisteem13 word die betekenis van die gevolg (artefak) herlei tot die funksie daarvan binne die sisteem (Hodder 1986:23). Die argeologiese data word bestudeer as sisteme in die geheel met hulle subsisteme soos tegnologie, sosiologie en ideologie, nou verwant en interafhanklik in ’n stel funksionele dele (Binford 1962:17). Dié benadering staan ook soms bekend as ’n funksionele model (Sharer & Ashmore 1979:58) of sisteemteorie:

Called the systemic view of culture, it proposed that culture is a complex, systemic, integrated, adaptive, extrasomatic and material-based organization of behaviour, and not a mental phenomenon. As a cultural system, it was presumed to be composed of a number of closely interrelated operational subsystems and functional contexts, in particular functional, technological, social and economical (Gibbon 1989:70).

Om bogenoemde gestand te doen, onderskei Binford tussen tegnofakte, sosiofakte en ideofakte (Sharer & Ashmore 1979:59). Tegnofakte sluit in alle artefakte wat funksioneer ten opsigte van die oorlewing van die samelewing. Sosiofakte dui op die aspekte wat die samelewingsorde in stand hou. En ideofakte funksioneer om sekuriteit, wellbeing en die onbekende te verklaar. Alhoewel Binford se benadering algemeen tuishoort binne die funksionele modelle van kultuur, het die werk van Binford en sy studente ’n belangrike bydrae gelewer tot die aanvaarding van ’n konseptuele raamwerk wat kulturele prosesse bestudeer deur ’n eksplisiete deduktiewe benadering te volg (Sharer & Ashmore 1979:513).

Die dinamika van die kulturele proses kan toegeskryf word aan ’n verskeidenheid faktore. Elke aspek van die materiële nalatenskap hou verband met die ander en funksioneer op ’n bepaalde wyse in die kulturele sisteem (kultuur) (Binford 1965:205). Binford (een van die prominentste eksponente van New Archaeology) definieer kultuur gevolglik in terme van ’n materialistiese ekosisteem, met ander woorde, as die mens se totale betrokkenheid by sy sosiologiese en ekologiese omgewing en nie net as die akkumulering van ’n aantal artefakte nie (Scheepers 1988:12). Volgens die benadering vind daar ’n wisselwerking plaas tussen die normatiewe, behavioristiese en materiële aspekte van kultuur. Die argeologie moet gevolglik die proses van kulturele verandering probeer verduidelik deur die faktore te identifiseer wat verantwoordelik is vir die verandering, asook om die aard van die verandering te beskryf binne die kulturele sisteem. Onder die invloed van die sosiaal-antropologiese vraagstelling en ekologiese bewuswording ontwikkel die argeologie verskeie inter- en multidissiplinêre benaderingswyses en word effektiewer metodes toegepas wat aan die natuurwetenskappe ontleen is. Die werkswyse van die argeologie verskuif na ’n interdissiplinêr georiënteerde en breër streeks- en sosio-antropologiese benadering (Olivier 1989:49-60). Die veranderde benadering in die argeologie en ontwikkeling in metodologie het tot gevolg ’n verskuiwing van ’n induktiewe na ’n meer hipoteties-deduktiewe metode van wetenskapsbeoefening, tesame met ’n klemverskuiwing weg van die positivistiese filosofie (Gibbon 1989:61). Aandag word geskenk aan die verskillende ekologiese, demografiese en kulturele faktore wat oor ’n gegewe tydperk menslike bestaan beïnvloed (Dyson 1993:201).14

Die impak van die metodologiese ontwikkelings op die gebied van die argeologie en antropologie en (Ou-Testamentiese) historiografie lei tot ’n skerper ingesteldheid op die langtermyn – longee durée – gebeure, in onderskeid van die spesifieke, korttermyn- – histoire evenementielle – gebeure (Moorey 1991:173-174). Die fokus is met ander woorde nie op enkele gebeure alleen nie.15 Dié wending in argeologie sluit ten nouste aan by die sogenaamde “Annales”-skool. Die Annales-skool, so genoem na aanleiding van die wetenskaplike tydskrif Annales wat in 1929 verskyn het onder leiding van Marc Bloch en Lucien Fevbre (Dyson 1993:201), fokus veral op die mens van die verlede (geskiedenis) in sy totaliteit, eerder as op enkele geïsoleerde gebeure,16 omdat daar nie eenstemmigheid is oor die moontlikheid om wyd uiteenlopende benaderings onder een noemer saam te groepeer nie. Dié denkrigting wat oor dekades heen strek, sluit ’n wye verskeidenheid denkrigtings en benaderings in, en: “Like many intellectual groups, it cannot fairly be reduced to a handful of phrases or rote methods” (Chippendale 1993:34). Nadruk word gelê op die langtermyn- historiese prosesse waarvolgens sekere aspekte (soos grafgebruike) van menslike gedrag in die samelewing verduidelik kan word.

For the Annalists, however, understanding of the past would be considerably enhanced by the identification and explication not merely of historical facts and events but also the patterns which they form and of the processes both determined and contingent, both intended and unintended – which underpin them (Baker 1984:9).

Braudel (1980) onderskei in hierdie verband tussen drie vlakke van gebeure in die verlede. Die basiese vlak, genoem die longuee durée, behels ’n interpretasie van die aspekte wat oor ’n baie lang tydperk voorkom en menslike gedrag beïnvloed.17 Elke spesifieke aspek (particular event) is, met ander woorde, deel van en word beïnvloed deur “very long-term continuities which are both the aggregate of previous events, and structures and beliefs which form those events” (Hodder 1987:3). Knauf (1991:43) beskou dit as ’n proses van menslike, sosiale, politieke, ekonomiese en tegnologiese evolusie. Dié perspektief probeer ’n makrogeskiedenis verhaal (Knapp 1993:11) deur die relasie tussen die voortgesette kulturele aktiwiteite en die ruimtelike (en moontlik) demografiese aspekte aan te dui.

Annales scholars have long stressed the need to move the focus of historical studies from a focus on battles and cabinet meetings to a consideration of the long term processes – ecological, demographic and cultural – that have slowly shaped the fundamental pattern of human existence (Dyson 1993:201).

Die volgende vlak, die conjuncture, behels die ekonomiese en sosiale patrone soos dit neerslag vind binne die bestek van verskeie generasies (Bintliff 1989:8). Op dié vlak word breë tendense aangedui en is daar ’n bepaalde patroonmatigheid18 identifiseerbaar (Hodder 1987:2). Argeologiese gegewens word dikwels binne die kronologiese raam van die mediumtermynvlak geïnterpreteer.

Braudel’s medium term is the timescale most frequently dealt with by archaeologists, the picture given of a site or landscape over several generations or centuries. Permeating past societies are medium term pressures of which most contemporaries are inadequately unaware (Bintliff 1989:87).

Die derde vlak behels gebeure, L’historìe evenementielle, dit wil sê, historiese fenomene wat kronologies binne die bestek van verskeie dekades tuishoort en beskawings en wêreldbeskouing(s) insluit. Individuele gebeure word tot dié vlak gereken, dit wil sê, as “the traditional history of individual men or women and of the ephemera of brief happenings” (Hodder 1987:2).

Argeologiese data kan kronologies binne enige van bogenoemde vlakke gekategoriseer en daarvolgens geanaliseer en geïnterpreteer word (Brandfon 1987:32). Die term Bybelse argeologie dui hiervolgens op ’n interdissiplinêre aktiwiteit en nie op die tradisionele hantering van argeologiese data om die Bybelteks te staaf of bloot net ’n historiese agtergrond of konteks daar te stel nie. Van deurslaggewende belang vir Bybelse argeologie is die basis waarop hierdie dialoog (interpretasie) plaasvind (Dever 1982:107; 1990:31). Die basis waarop die dialoog plaasvind, het immers ’n bepalende invloed op die versameling en interpretasie van argeologiese data; die gebruik daarvan vir die verstaan en interpretasie van die Bybel (Dever 1985:61). Die sukses al dan nie van dié dialoog hang juis af van die kompetensie en integriteit van die gespreksgenote in twee eiesoortige maar terselfdertyd verbandhoudende dissiplines.

5. KONKLUSIE: DIE OOP GESPREK …

In reaksie teen die sogenaamde tradisionele argeologie het daar ’n nuwe waardering na vore gekom vir die rol wat teorie speel in die interpretasie van argeologiese gegewens. Die hoeveelheid data wat beskikbaar gestel word deur argeologiese opgrawings noodsaak ’n teoretiese apparatuur ten einde ’n verantwoordbare interpretasie daar te stel. “Scientific work implies the use of theories. All knowledge is mediated through theories” (Le Roux 2001:444).

Sonder ’n teoretiese apparatuur is dit nie moontlik om die data wat betrekking het op die materiële nalatenskap van die samelewing waaruit die Bybel ontstaan het, in verband te bring met menslike gedragspatrone binne die betrokke samelewing nie (Chapman & Randsborg 1981:2). 19 In dié verband het die moderne argeologie as dissipline sy beslag gekry.

Modern professional archaeology emerged when interpretive schemes began to be applied to the evidence of prehistory. Archaeologists and other scientists now generally refer to interpretive schemes as models. A model is essentially a form of hypothesis; it is constructed and tested according to the scientific method (Sharer & Ashmore 1979:50).

Alhoewel daar redelike eenstemmigheid bestaan ten opsigte van die herwinning van die argeologiese data, is daar grootliks verskille wat die interpretasie daarvan betref (Ben-Tor 1992:7), wat lei tot die totstandkoming van verskillende skole.20 Die ontwikkeling in metodologie dra nie net daartoe by dat die databasis van die argeologie verbreed word nie, maar lei ook tot ’n verandering wat die interpretasie van die argeologiese gegewens betref. Dit behels onder meer ’n kreatiewe dialoog tussen verlede en hede.

The artefact then is not in itself; it emerges in the social practice of archaeology. So archaeology’s object is not an eternal image. Archaeology is an act of excavation, act of writing. Archaeology is a specific act of engagement with the past (Shanks & Tilley, 1987:133, eie beklemtoning).

In die algemeen is daar aanvaar dat die bydrae van die argeologie veral kontekstueel van aard is, met ander woorde, dit verskaf ’n konteks vir die gebeure soos verhaal word in die Bybelteks. Wat bedoel word met konteks is egter nie altyd duidelik nie en word meestal gedefinieer in terme van ’n histories-geografiese gekonstrueerde analogie (historio-geographically constructed analogy) (Thompson 1978:76), wat na parallelle soek tussen die teks en die antieke Nabye-Oosterse ontstaanswêreld van die teks. Die argeologiese data kan egter nie beperk word tot ’n kontekstuele funksie alleen nie.

A legitimate understanding of how to do biblical archaeology need not be limited to seeking correspondences between historical events and corroborative archaeological evidence (Brandfon 1987:37, eie beklemtoning).

Historiese argeologie (met die fokus op mense en gebeure) sluit nie die bydrae van antropologiese insette (met die fokus op proses in die kulturele sisteem) uit nie (Moorey 1991:149). Die ontwikkeling op die gebied van metodologie en wetenskapsfilosofie, ook wat Bybelse argeologie betref, dra daartoe by dat daar opnuut gevra word na die aard van materiële kultuur en die rol daarvan in die interpretasie van die verlede. Nieteenstaande die problematiese aard van Bybelse argeologie kan die gesprek voortgaan wat die aard en rekord van die argeologiese nalatenskap en die relasie daarvan tot die literêre nalatenskap van Ou Israel betref. Ontwikkeling in die vakgebied Bybelse argeologie open nuwe moontlikhede vir die gesprek tussen die materiële nalatenskap van Ou Israel en die literêre nalatenskap van dieselfde gemeenskap.

Yet almost no historian of Israelite religion seems to have realized that archaeology’s most usefull contribution to biblical studies in the future may lie in another direction, in its increasing capacity for writing social and economic history and thus providing a setting in which events described in biblical accounts may become credible (Dever 1987:221, eie beklemtoning).

Bybelse argeologie is nie soseer ’n poging om die historiese situasie te rekonstrueer in die positivistiese sin van hoe dinge werklik was nie (Deist 1981:28). Veral ook in die lig daarvan dat material culture nie “a simple nor a direct reflection of human behaviour” verteenwoordig nie (Hodder 1986:2). Argeologie voorsien die Bybelwetenskaplike nie net van ’n spieël waarin die verlede bloot gereflekteer word nie (Shanks & Tilley 1987:95). Teenoor die tradisionele historiese benaderings wil ’n historiese verstaan nie ’n rekonstruksie maak van die destydse samelewing waaruit die teks sou ontstaan het nie, maar ’n sosiale konteks konstrueer wat die verlede meer begryplik maak.

The relation between archaeological data and historical events in Israel’s history is accordingly redefined, allowing the archaeological evidence to be seen not as unsatisfactorily limited but as an entrée to a new and broad historical inquiry (Brandfon 1987:30-38, eie beklemtoning).

In dié opsig gaan die gesprek voort en kan ons inderdaad praat van ’n “oop gesprek”.21 Wat veral van belang is in die gesprek en die soeke na ’n oplossing, is dat die verskillende gespreksgenote reg moet laat geskied aan die aard van die gesprek. Dit behels, onder meer, dat die gesprek ook reg moet laat geskied aan die aard van die bronnemateriaal tot ons beskikking. Uiteraard stel die aard van die gesprek en die wetenskapsfilosofiese (teologiese) basis waarop die gesprek plaasvind sekere beperkings daar, en dit moet gerespekteer word. In verband met die rol van teorie en die tekortkomings inherent daaraan, merk Le Roux (2001:444) op: “Although they are powerfull descriptive and explanatory tools to scrutinize the text they must, however, be treated in a playful manner” (eie beklemtoning). In ons soeke na antwoorde mag ons dan ook nie uit die oog verloor nie dat ons steeds deur ’n dowwe spieël kyk en ’n raaiselagtige beeld sien (1 Kor 13:12). Dit kan ons egter ook nie daarvan weerhou om met alle eerlikheid deel te neem aan die “historiese diskoers” nie.

BIBLIOGRAFIE

Ahlström, GW 1993. The history of Ancient Palestine from the Paleolithic Period to Alexander’s Conquest. Sheffield: JSOT Press.

Baker, ARH 1984. Reflections on the relations of historical geography and the Annales school of history, in Baker, A & Gregory, D (reds). Explorations in Historical geography. Cambridge: Cambridge University Press, 1-27.

Ben-Tor, A (red) 1992. The Archaeology of Ancient Israel. New-Haven: Yale University Press.

Binford, LR 1962. Archaeology as anthropology. American Antiquity 28, 217-225. 1965. Archaeological Systematics and the Study of Cultural Process. American Antiquity 31, 203-210.

Binford, LR 1972. An archaeological perspective. New York: Seminar Press.

Binford, LR 1983a. In pursuit of the past. Decoding the archaeological record. German Democratic Republic: Thames & Hudson.

Binford, LR 1983b. Working at archaeology. New York: Academic Press.

Bintliff, J 1989. Cemetery populations, carrying capacities and the individual in history, in Roberts, Charlotte A, Lee, Francis & Bintliff, John (reds). Burial Archaeology: Current research, methods and developments. Oxford: BAR British Series 21, 85-104.

Brandfon, FR 1987. Kinship, culture and “Logue Duree”. Journal for the Study of the Old Testament 39, 30-38.

Braudel, F 1980. On History (vertaal deur Sarah Matthews). Chicago: University of Chicago Press. Burger, J 1990. Biblical archaeology – a misnomer? Theologica Evangelica XX111 (2), 2-6.

Burr, G 1990. The joker is wild, the text untameable, in Bapty, I & Yates, T. Archaeology after structuralism: Post-structuralism and the practice of Archaeology. Londen: Routledge, 36-59.

Carrol, L 1958. Alice’s adventures in wonderland. Londen: Macmillan.

Chapman, R & Randsborg, K 1981. Approaches to the archaeology of death, in Chapman, R, Kinnes, I & Randsborg K. The archaeology of Death. Cambridge: Cambridge University Press, 1-24.

Chippendale, C 1993. Ambition, deference, discrepancy, consumption: the intelectual backgound to a postprocessual archaeology, in Yoffee, N & Sherratt, A. Archaeological Theory: Who sets the agenda?. Cambridge: Cambridge University Press, 27-36.

Clarke, DL 1968. Analytical Archaeology. Londen: Methuen.

Clarke, DL (red) 1972. Models in archaeology. Londen: Methuen.

Clements, RE (red) 1991. The world of Ancient Israel. Cambridge: Cambridge University Press.

Craffert, PF 1998. Biblical Archaeology as an Academic Discipline: In search of its Academic Identity. A Journal of Contemporary Religious Discourse 5, 335-364.

Deist, FE 1981. The problem of History in the Old Testament. OTWSA 24, 23-39.

Deist, FE 1986. Die skrywer, sy teks en sy gehoor, in Deist, FE & Vorster, W (reds). Woorde wat ver kom. Kaapstad: Tafelberg, 16-36.

Dever, WG 1982. Retrospects and prospects in Biblical and Syro-Palestinian archaeology. Biblical Archaeologist, 103-107.

Dever, WG 1985. Syro-Palestinian and Biblical Archaeology, in Knight & Tucker (reds). The Hebrew Bible and its modern Interpreters. Chico, California: Scholars Press, 31-74.

Dever, WG 1987. The contribution of Archaeology to the study of Canaanite and Early Israelite Religion. Ancient Israelite Religion, 209-247.

Dever, WG 1990. Recent archaeological discoveries and biblical research. Londen: University of Washington Press.

Drinkard, JF, Mattingly, GL & Miller, JM 1988. Benchmarks in Time and Culture. Atlanta, Georgia: Sholars Press.

Dyson, SL 1993. From New to New Age Archaeology: Archaeological Theory and Classical Archaeology – a 1990 perspective. American Journal of Archaeology 97, 195-206.

Du Toit, PW 2002. Bybel-foute tas nie boodskap aan. Kerkbode 169 (4), 10. Gibbon, G 1989. Explanation in Archaeology. Oxford: Basil Blackwell.

Hill, JN 1972. The methodological debate in archaeology, in Clarke DL (red). Models in Archaeology. Londen: Methuen & Co Ltd, 61-109.

Hodder, I (red) 1982. Symbolic and Structural Archaeology. Cambridge: Cambridge University Press. Hodder, I 1986. Reading the past. Current approaches to interpretation in Archaeology. Cambridge: Cambridge University Press.

Hodder, I 1987. Archaeologuy as long-term history. Cambridge: Cambridge Univerity Press.

Hodder, I 1989. The meaning of things: Material culture and symbolic expression. Londen: Harper Collins. Holladay, JS 1987. Religion in Israel and Judah under the Monarchy: an explicitly archaeological approach, in

Miller, PD, Hanson, PD & McBride, SD (reds). Ancient Israelite Religion. Philadelphia: Fortress, 249-299. Jackson, N 2002. Debat duur voort. Burger, 8 Mei, 9.

Jordaan, W 2002. Kerke kan aanpas by veranderende wêreld. Rapport, 19 Mei, 18.

Knapp, AP 1993. Society and Polity at Bronze Age Pella: An Annales Perspective. Sheffield: Sheffield Academic Press.

Knauf, EA 1991. From history to interpretation, in Edelman, DV (red). The fabric of History: Text, artifact and Israel’s past. Sheffield: Sheffield Academic Press, 26-65.

Kuhn, TS 1970. The structure of scientific revolutions. Tweede uitgawe. Chicago: Pan Books.

Lemche, NP 1990. On the use of “system theory”, “macro theories” and “evolutionistic thinking” in modern OT research and Biblical Archaeology. Scandinavian Journal of the Old Testament 2, 73-88.

Lemche, NP 1999. On the problems of reconstructing Pre-Hellenistic Israelite (Palestinian) History. University of Aarhaus. Denmark.

Le Roux, J 2001. No theory, no science (or: Abraham is only known through a theory). Old Testament Essays 14 (3), 444-457.

Levy, TE (red) 1995. The Archaeology of society in the Holy Land. Londen: Leicester University Press. McNutt, P 1999. Reconstructing the Society of Ancient Israel. Londen: SPCK.

Mazar, A 1990. Archaeology of the Land of the Bible (10000-586 BCE). New York: Doubleday.

Miller, M 1987. Old Testament History and Archaeology. Biblical Archaeologist, 55-63.

Moderatuur (Sinode van Wes- en Suidkaapland, NG Kerk in SA) 2002. Kerk vs wetenskap. Burger, 13 Feb, 11. Kerk v/s en wetenskap. Kaapse Draai (Blad van die Sinode van Wes-en-Suidkaapland) 4, iv.

Moorey, PRS 1991. A Century of Biblical Archaeology. Louisville, Kentucky: John Knox.

Muller, P 2002. ’n Ou Vervorming. Kerkbode 168 (3), 6.

Naudé, P 2002. Tweede reformasie is kerk se onbetaalde rekening. Algemene Kerkbode 169 (8), 12.

Nel, WAG 1987. Die belang van argeologie vir die Bybelwetenskap. Theologica Evangelica XX (3), 18-28.

Nicol, W 2002. Woelinge in kerk: Navorsing oor Historiese Jesus lewer probleme. Die Burger, 29 Mei, 13.

Olivier, JPJ 1988. A Land flowing with milk and honey. Some observations on the modes of existence in Ancient Israel. Ned Geref Teologiese Tydskrif XXIX (1), 2-13.

Olivier, JPJ 1989. Biblical Archaeology. Why and How? Acta Academica 21(3), 49-60.

Olivier, JPJ 1994. Kantaantekeninge ten opsigte van die sosio-ekonomiese opset tydens die regering van koning Manasse van Juda. Ned Geref Teologiese Tydskrif XXXV (2), 171-184.

Oosthuizen, R de W 2001. Genesis 12-25 in die lig van grafgebruike en grafvertellinge gedurende die Ystertydperk in Palestina. DTh-tesis, Universiteit van Stellenbosch.

Popper, K 1968. The logic of scientific discovery. Londen: Hutchinson. Potgieter, P 2002. Die Bybel is steeds God se rigsnoer. Kerkbode 168 (10), 9.

Potgieter, P (et al) 2002. VS teoloë sê Bybel ís Woord van God. Kerkbode 168 (10), 4.

Renfrew, C 1982. Theory and explanation in archaeology. New York: Academic Press.

Shanks, M & Tilley, C 1987. Social theory and Archaeology. Cambridge: Polity Press.

Sharer, RJ & Ashmore, W 1979. Fundamentals of Archaeology. Londen: Benjamin/Cummings Company, Inc.

Scheffler, E 1988. Op weg na ’n komprehensiewe geskiedenis van Ou-Israel. Hervormde Teologiese Studies 44(3), 665-683.

Scheffler, E 1999. Die ontstaan (vestiging) van Israel as ’n komplekse gebeure. Old Testament Essays 12(3), 555-578.

Scheepers, CL 1988. Argeologie en die Abrahamtradisies: ’n Wetenskapsfilosofiese beoordeling van die metodologie van John van Seters. DTh-tesis, Universiteit van Suid Afrika, Pretoria.

Scheepers, CL 1990. A methodological debate in Biblical Archaeology. Old Testament Essays 3(3), 325-339.

Strydom, W 2002. Alles in die Bybel is tydloos. Kerkbode 168 (4), 9.

Tilley, C 1982. Social transformation, social structures and social change, in Hodder, I (red). Symbolic and Structural Archaeology. Cambridge: Cambridge University Press, 26-38.

Thompson, TL 1978. A new attempt to date the patriarchal narratives. Journal of the American Oriental Society 98 (1), 76-84.

Van Huysteen, W 1986. Teologie as kritiese geloofsverantwoording. Pretoria: RGN.

Vorster, W 1987. Op weg na ’n post-kritiese Nuwe-Testamentiese Wetenskap. Hervormde Teologiese Studies 43(3), 374-395.

Waldner, M 2002. Die groot kerkdebat. Rapport, 15 Sep, 20.

Watson, P, LeBlanc, SA & Redman, CL 1971. Explanation in Archaeology: An Explicitly Scientific Approach. Londen: Columbia University Press.

Westermann, C 1985. Genesis 12-36. Londen: SPCK.

1 Die artikel volg uit die proefskrif Genesis 12-25 in die lig van grafgebruike en grafvertellinge gedurende die Ystertydperk in Palestina, ingelewer vir die graad Doktor in die Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch (Oosthuizen 2001).

2 Burr (1990:36) verwys na die anekdote ter illustrasie van die moontlikhede wat opgesluit lê in die relasie tussen sosiale antropologie en argeologie in erkenning van die metaforiese aard en nie-rasionele grondslag van denke en handeling. Ten opsigte van die interpretasie van die artefak (argeologiese rekord of materiële nalatenskap) merk Shanks & Tilly (1987:95) op: “It is the rhetorical performance of the museum, its act of interpretation and persuasive intention which opens up meaning.”

3 In hierdie verband merk Le Roux (2001:444) op dat “no scientific work is possible without theory”.

4 Al sou ons aanvaar dat “die wetenskap” en “die teologie” elk ’n eie terrein en doelstellings het wat van mekaar sou verskil (Moderatuur 2002:iv), behels teologie as wetenskap veel meer as die bevestiging of versterking van die geloof in God.

5 Die basiese problematiek behels meer as om net die teks in konteks te lees, dit wil sê as blote agtergrond gebaseer op oënskynlike ooreenstemmings tussen elemente in die teks en die argeologiese rekord (Westermann 1985:59). Die relasie tussen die geskiedenis van Israel en die literatuur van Israel (Ou Testament) is baie meer gekompliseerd. Dit behels onder meer ’n poging om moontlike sosiale betekenissamehang(e) te konstrueer en sodoende die teks histories te verstaan (Vorster 1987:387).

6 ’n Komprehensiewe benadering tot die geskiedenis van Israel, soos oorgelewer onder meer in die Ou Testament, impliseer ’n konstruksie van die geskiedenis van Israel (samelewing) wat nie eksklusief afhanklik is van die literêre bronne alleen nie.

7 Naas die literatuur van Ou Israel self, sowel as kontemporêre literatuur vanuit die Ou Nabye-Ooste, bly argeologiese data die belangrikste bron tot beskikking van die historikus wat ’n geskiedenis van Ou Israel of sekere aspekte daarvan wil verduidelik (Ahlström 1993:21).

8 Craffert (1998:343) verwys na dié vorm van argeologie as “a redesigned form of Biblical archaeology” na aanleiding van die invloed van new archaeology en die opkoms van Siro-Palestynse argeologie.

9 “But it is important to recognize that our individual biases, along with contemporary ideologies and social ideals, are likely to influence our interpretations of the archaeological data, just as they do when we interpret biblical texts; that is, a certain amount of subjectivity is inevitable in interpreting material culture, just as it is in interpreting texts” (McNutt 1999:13).

10 Die studie van die leefwyse van vroeëre samelewings word verkry deur ’n analogiese strategie te volg. Kontemporêre gemeenskappe word bestudeer en die kennis wat so opgedoen word, word op ’n analogiese wyse informatief aangewend om die lewenswyse van ’n vervloë samelewing te beskryf (Binford 1972:85).

11 Argeologiese data is in ’n sekere sin van die woord stom en kan slegs inferensieel “ter sprake kom” (Scheepers 1990:337).

12 Hodder (1982:117) wys daarop dat die betekenis van artefakte nie slegs tot die funksie daarvan in die sisteem gereduseer kan word nie, aangesien kultuur op sigself sinvol is (meaningfully constituted). “Culture then is not reducible. It just is” (Hodder 1989:3).

13 Die toepassing van sisteemteorieë om samelewingsprosesse te verklaar aan die hand van wetenskaplik bewysde wette, tree na vore teen die agtergrond van ’n enkelvormige konsep van kulturele evolusie waarvolgens die samelewing ontwikkel. Dié eenvormige konsep is vroeg in die twintigste eeu verwerp en mettertyd vervang met ’n meervormige konsep wat kulturele evolusie betref, ook bekend as kulturele materialisme of multiliniêre kulturele evolusie (Sharer & Ashmore 1979:510). Die epistemologie onderliggend aan die natuurwetenskappe word oorgedra na die argeologie en sisteemteorie funksioneer as die heuristiek om sodoende ’n makroteorie daar te stel (Lemche 1990:73-87).

14 Thomas E Levy (1995) benadruk ’n interdissiplinêre benadering wat sosiokulturele verandering interpreteer in die lig van die interafhanklikheid van kulturele en omgewingsfaktore.

15 “Thus there is among some of us, as historians, a lively distrust of traditional history, the history of events – a label which tends to become confused, rather inexactly, with political history” (Braudel 1980:28).

16 Die holistiese benadering wat die mens en sy (sosiale) verlede betref, impliseer in die praktyk ’n belangstelling vir die algemene sowel as die besondere, spesifieke situasie (Knapp 1993:7) in die sin dat: “Archaeology has always been concerned with the meaning, measurement, and duration of time, and its relation to material culture.”

17 “First, over the very long term, there are permanent, slow-moving or recurrent features” (Hodder 1987:2).

18 “Social structure is considered to reside in the network of observable patterns of interactions between individual actors. The notion of structure employed becomes equivalent to pattern” (Tilley 1982:28).

19 In dié verband kan gepraat word van ’n paradigmaverskuiwing (Scheepers 1990:327).

20 Hill (1972:6) onderskei in dié verband die volgende vier paradigmas (benaderingswyses) in argeologie: die morfologiese paradigma, beklemtoon numeriese, statistiese en taksonomiese benaderings wat detailanalise van die artefakte betref. In die antropologiese paradigma val die klem op die identifisering van ooreenstemmings tussen die variasies in argeologiese data en die relasie daarvan tot variasie in ’n sosiale struktuur sisteem. Die ekologiese paradigma fokus op argeologiese data as ’n netwerk van gemeenskaplike aanpassings ten opsigte van omgewing- (environment) en ekologiese sisteme, insluitend kontekstuele aspekte soos fauna en flora, etologie (gedragskunde), ekonomie en demografiese aspekte. In die geografiese paradigma word gefokus op die verbinding tussen argeologiese terreine en die verspreiding daarvan oor ’n geografiese gebied, ruimtelike relasies en wedersydse invloede vanuit die geografiese gebied op die ruimtelike relasies.

21 In hierdie verband merk Jordaan (Rapport, 19 Mei 2002:18) op, na aanleiding van die vraag van Jesus: “Wie, sê die mense, is Ek?” dat “elke vroeë of huidige belydenisskrif, elke onrustige gedagte, elke Jesus-seminaar, elke geskrif of proefskrif wat bemoeienis maak met die wese en betekenis van Jesus”, ’n toelaatbare antwoord op die uitnodiging probeer gee.