Godsdiensopvoeding op skool – enkele aannames in die konsepbeleid
ABSTRACT
Religious education at school – certain assumptions regarding the draft policy
At the beginning of April 2003 the Department of Education released its draft policy on religion in education for comment. The policy is based on certain ideological assumptions about the relation between state and school, neutrality and neutral religion education, value-free education, the relation between values and religion, as well as between multiculturality and religious diversity. These assumptions have been addressed by commentators in newspapers and other public media, but in a sporadic and often uncritical way.
The purpose of this article is to identify these assumptions, to list them systematically and to discuss them from a philosophical point of view. It is argued that
i. the assumptions are untenable;
ii. the policy is an attempt to justify state inference with the internal affairs of public schools, and
iii. it deprives School Governing Bodies of their constitutional right to make their facilities available for the religious instruction of their choice.
As long as these and other assumptions of the current or revised policy on religion in education are not adequately addressed, the debate on any such policy will continue.
1. INLEIDING
Godsdienstige oortuigings lê aan die hart van ons menslike bestaan. Daarom is dit begryplik dat daar soveel emosie loskom rondom die nuwe konsepbeleid van die Departement van Onderwys wat godsdiensbeoefening wil reguleer. ’n Tweede rede vir die oorweldigende reaksie op die beleid is dat dit die staat se dogma van neutraliteit op ’n tipies totalitêre wyse op skole wil afdwing. Dit is nie aanvaarbaar vir enige gelowige nie – of hy of sy van Christelike, Joodse, Hindoe of Moslem oortuiging is.
Wat in gesprekke oor die onderwerp dikwels ontbreek, is die aannames waarop die voorgestelde beleid berus. Dit word wel sporadies aangeraak, maar is nog nie sistematies beskryf en krities geëvalueer nie. Die doel van die artikel is om in hierdie behoefte te voorsien. In die eerste deel word sekere tendense in die dokument (wat slegs aan enkele persone en instansies beskikbaar gestel is vir kommentaar) uitgelig. In die tweede deel word die aannames ten grondslag van die tendense bespreek. Die gevolgtrekking is dat die aannames onhoudbaar is en dat die beleid beheerliggame ontneem van hulle konstitusionele reg om hulle fasiliteite beskikbaar te stel aan die godsdienste van hulle keuse.
2. TENDENSE IN DIE BELEIDSDOKUMENT
Vir die doel van die artikel is die volgende beginsels en kenmerke van die beleid, die kern van die beleid self en die voordele van ’n leerprogram oor godsdiens in die onderwys belangrik. (Die bladsyverwysings is na die konsepbeleid, soos op 25 April 2003 van die Departement van Onderwys ontvang.)
2.1 Beginsels en kenmerke (p 3-6)
• Die beleid vloei direk voort uit sekere konstitusionele waardes soos burgerskap, menseregte, vryheid van gewete, godsdiens, denke en geloof.
• Die publieke skool is verantwoordelik vir onderrig of leer oor godsdiens op ’n wyse wat verskil van die godsdienstige opvoeding wat deur die huisgesin en kerk verskaf word.
• Godsdiensopvoeding op skool is ’n akademiese program, met duidelike uitkomste vir onderrig en leer oor godsdienste.
• Onderrig oor godsdiensdiversiteit moet verskaf word deur opgeleide, professionele opvoeders.
• Skole moet ’n omgewing skep wat bevorderlik is vir respek en verdraagsaamheid teen- oor leerders met ander waardes. Daar moet aanvaar word dat waardes nie noodwendig ingebed is in godsdienstige oortuigings nie.
• Deur aan godsdiensopvoeding sy regmatige plek op skool te gee kan morele waardes ingeskerp word deur kennis te neem van ander godsdienste en waardesisteme. So word
• ’n bydrae tot morele herlewing gelewer.
2.2 Die essensie van die beleid
In die lig van bogenoemde vertrekpunte word ’n beleid voorgestel wat nie die godsdienstige belange van sekere gelowe bevorder nie, maar begrip vir godsdiens en godsdienste, respek vir verskeidenheid en toegang tot alle waardesisteme verseker. Tegelyk word die burgery beskerm teen onregverdige diskriminasie op grond van godsdiens, geloof en gewete (soos in die konstitusie gewaarborg).
Die beleid onderskei tussen onderrig of leer oor godsdiens en godsdienste aan die een kant en godsdiensbeoefening volgens ’n spesifieke geloofsoortuiging aan die ander kant. Eersgenoemde is die verantwoordelikheid van die skool, laasgenoemde dié van die ouerhuis en geloofsgemeenskap (p 9).
Eersgenoemde moet deel wees van die kurrikulum, laasgenoemde nie (p 11-12). Die rede vir hierdie onderskeiding is dat die staat neutraal moet wees met betrekking tot godsdiens in alle openbare skole. Gevolglik mag sulke skole godsdiens beoefen buite die formele kurrikulum, maar nie in skooltyd nie (p 11).
2.3 Die voordele van ’n program in godsdiensopvoeding
Enkele voordele word op bladsy 14-15 gelys:
• Die program is – soos enige ander leerprogram – op duidelik geformuleerde uitkomste gebaseer.
• Dit moet sy eie kennisveld identifiseer en ontgin. In die proses word kennis gegenereer wat in pas is met die konstitusionele reg tot vryheid van godsdiens en denke (p 13).
• Deur nie enige spesifieke geloof te bevorder nie word daar verseker dat leerders vry is van godsdienstige diskriminasie. Die staat is positief neutraal teenoor alle geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika. Openbare skole, as verlengstukke van die staat, behoort ook neutraal te wees (p 14).
• ’n Program in godsdiensopvoeding kan leerders onderrig oor godsdiensverskeidenheid, maar hulle tegelyk aanmoedig om te dink in terme van ’n nuwe nasionale eenheid in Suid-Afrika (p 14).
Bogenoemde leerprogram moet aangebied word deur entoesiastiese en professionele onderwysers en nie deur kerklui nie. Die program moet die verskillende godsdienste binne een algemeen teoretiese raamwerk behandel. Dit moet bestaan uit een leerprogram en koherente studiemateriaal, wat ontwerp is vir leerders uit verskillende geloofsoortuigings. Slegs professionele onderwysers, wat godsdienstig neutraal is, het die vermoë om so ’n program in godsdiensopvoeding uit te werk – ’n program wat die opvoedkundige missie van openbare skole in ’n demokratiese Suid-Afrika moet dien (p 16-17).
3. ENKELE AANNAMES IN DIE VOORGESTELDE BELEID Bogenoemde tendense berus onder meer op die volgende aannames:
3.1 Die staat het die reg om in te meng in skole
In die beleid word daar aanvaar dat die staat die reg het om in die interne aktiwiteite van ’n skool in te meng, omdat die staat die skool finansieel ondersteun. Vanuit die filosofiese perspektief dat elke lewensvorm soewerein in eie kring is, is hierdie aanname egter onhoudbaar. Die staat, as ’n demokraties verkose instelling, mag nie sy grense uitbrei na niestaatlike domeine (soos skole, kerke, besighede, ens) nie. Skole is nie onderdele van die staat nie, in watter mate die staat hulle ook al finansieel mag ondersteun. ’n Skool is ’n niedemokratiese instelling met sy eie bevoegdheidsfeer, wat deur alle ander lewensvorme en instellings (insluitend die staat) eerbiedig moet word. Hierdie standpunt geld nie net vir die skool nie, maar ook vir alle ander opvoedkundige inrigtings (kolleges, technikons, universiteite, ens) (sien Strauss 2002a).
In die Verenigde State van Amerika is daar ’n variasie op die tema. Daar word aanvaar dat die staat die reg het om gesekulariseerde openbare skole finansieel te ondersteun, maar nie onafhanklike skole met ’n godsdienstige inslag nie. Die aanname is dat die staat nie ’n bepaalde godsdiens finansieel mag ondersteun nie, maar slegs dit waaroor hy beheer het (soos openbare skole, wat per definisie sekulêr is). Hierteenoor argumenteer Skillen (1997:5-6) tereg dat kinders vry moet wees om die opvoeding van hulle keuse te ontvang – sy dit sekulêr, Christelik, Joods, Moslem of enige ander – sonder enige vorm van benadeling of diskriminasie deur die staat. “Government funding for the education of citizens should flow equitably to all children … Secularised schools (whether independent or not) should be neither privileged nor disadvantaged. Christian schools should be neither privileged nor disadvantaged.”
3.2 Die skool is ’n verlengstuk van die staat
In die konsepbeleid, en in gesprekke daaroor, word daar dikwels gewerk met die aanname dat die skool ’n verlengstuk van die staat, of van ’n ander lewensvorm soos die huisgesin, is. In die beleidsdokument word dit letterlik so gestel op bladsy 14: “As an extension of the state, public schools will also assume a position of neutrality.”
Die aanname is eweneens problematies. Suid-Afrika het ’n gedifferensieerde samelewing, met ’n verskeidenheid van niestaatlike lewensvorme wat langs mekaar, maar duidelik onderskeie van mekaar, bestaan. Elkeen van hulle het sy eie interne struktuur en bevoegdheidsfeer. Dit geld ook van die staat. Staatsteun vir hierdie niestaatlike lewensvorme (soos die skool) verander hulle nie in verlengstukke van die staat nie.
Die skool is ook nie ’n verlengstuk van enige ander lewensvorm (soos die huisgesin of kerk) nie. Hierdie argument word dikwels gevind in kommentaar op die beleid in koerante en ander media. So argumenteer Van Zyl (2003:4) byvoorbeeld dat die skool ’n verlengstuk van die ouerhuis is omdat ouers by die doop belowe het om hulle kind “in die leer te onderrig en te laat onderrig”. Die ouers se verantwoordelikheid om hulle kinders in die Christelike leer voor te gaan begin tuis. Niks kan dit vervang nie. “Maar verder, ouers het die reg om as verlengstuk hiervan hul kinders in die skool binne ’n Christelike etos te laat opvoed. Daar móét ’n manier wees om hierdie reg uit te oefen, ook binne ’n sekulêre staat.”
Na my mening is daar ’n manier, sonder om die skool as ’n verlengstuk van die ouerhuis te sien. Dié reg word uitgeoefen wanneer Christenouers hulle verantwoordelikheid in skoolverband nakom en hulle beywer vir ’n beheerraad wat hulle geloofsoortuiging onderskryf. Selfs al is die meerderheid van die beheerraadslede nie Christene nie, waarborg die konstitusie (15/2) dat die regte van minderhede beskerm moet word en daar nie teen hulle gediskrimineer mag word nie.
Die skool is dus ’n niestaatlike lewensvorm wat nie ’n verlengstuk van enige ander lewensvorm is nie en sy eie bevoegdheidsfeer het. Laasgenoemde beteken dat die skool, as opvoedkundige instelling, sy eie bepalende en strukturele beginsel het. Dit moet erken en gerespekteer word deur alle ander lewensvorme, insluitend die staat. Die staat gee nie aan skole die reg om te bestaan nie, net so min as wat dit aan kerke, huisgesinne, sportklubs, ensovoorts die reg gee om te bestaan. Die skool is ’n opvoedkundige instelling in eie reg. As sodanig moet die skool vry wees van staatsinmenging – iets wat ongelukkig nie gebeur wanneer die staat ’n neutrale, multireligieuse program op skole afdwing nie.
Soos die skool, het die staat ook sy eie bevoegdheidsfeer. Dit beteken dat die staat nie ’n allesomvattende grootheid is, waarvan skole slegs onderdele of verlengstukke is nie. Wanneer dit gebeur, het ons ’n totalitêre staat, waarin die staat gemagtig word om sy vleuels oor alle niestaatlike lewensvorme uit te brei. Die staat se basiese taak is om toe te sien dat skole werklik skole is. In die proses moet die staat toesien dat skole se toelatingsvereistes en medium van onderrig nie diskriminerend is nie, dat menseregte nie geskend word nie, dat die regte van minderhede beskerm word en dat die regsbelange van skole geïntegreer word met die openbare regsorde (Strauss 2003).
Maar daar eindig sy bevoegdheid. Indien die staat die intrinsieke rigting van ’n skool wil voorskryf, oorskry hy sy bevoegdheid en ontaard hy in ’n totalitêre instelling. Dit is ongelukkig die geval met die beleid onder bespreking. Dit laat skole nie toe om hulle eie lewensrigting te bepaal of die godsdiens van hulle keuse uit te lewe nie. Laasgenoemde is ook onkonstitusioneel, omdat dit die beheerrade ontneem van die reg om hulle fasiliteite beskikbaar te stel vir die godsdiens(te) van hulle keuse.
3.3 Neutrale godsdiensopvoeding is moontlik
Dit is seker die belangrikste aanname in die konsepbeleid en een wat tot op datum die meeste reaksie ontlok het. Met neutrale godsdiensopvoeding word bedoel dat alle kinders ’n program moet deurloop wat suiwer akademies is en gegrond is op die demokratiese waardes in die grondwet. Dit beteken veral dat kinders van ’n spesifieke geloofsoortuiging nie in staatskole in hulle eie geloof onderrig mag word nie. Verder word aangeneem dat godsdiensopvoeding in diens van morele hervorming moet staan, maar hierdie doel kan slegs bereik word as waardes neutraal aangebied word.
Met hierdie aanname het die opstellers van die beleid nie kennis geneem van die huidige debat in die filosofie van die wetenskap nie. Uit die werke van internasionaal erkende denkers soos Habermas, Ricoeur, Chomsky, Kahn en Popper is dit duidelik dat wetenskap altyd beïnvloed word deur voorveronderstellings (sien Lategan 1994:879-880; Strauss 2002b). Daar is dus nie so iets soos neutrale wetenskapsbeoefening nie. Waarom is hierdie insig nie verreken nie – veral as daar voorgegee word dat godsdiensopvoeding suiwer akademies moet wees?
In haar kommentaar op die beleid wys Van Niekerk (2003:9) daarop dat die multigodsdiensmodel wat in die beleid voorgestel word nie neutraal is nie, maar eintlik ’n monogodsdiensmodel is, wat sy sinkretisme noem. Van Zyl (2003:4) noem dit “die ideologie van sekularisme”. Met watter naam dit ook al gedoop word, die voorgestelde model is nie neutraal nie, maar dit verteenwoordig ’n standpunt waarin die vertikale dimensie van die godsdiens nie tot sy reg kom nie. Vir persone van alle geloofsoortuigings is dit onaanvaarbaar dat God vervang word deur horisontale en suiwer humanitêre oorwegings.
Dat sekularisme nie neutraal is nie, maar voortvloei uit ’n bepaalde geloofsoortuiging, word duidelik verwoord deur Skillen (1997:1): “Deep faith commitments govern every form of society, so the idea of a secular society itself arises form faith – faith in human autonomy and a closed universe. The strongest worldwide reaction against this myth is now being mounted by Muslims, not by Christians.”
3.4 Waardes kan godsdiensvry wees
Volgens die konsepbeleid moet die program in godsdiensopvoeding die morele hervorming in die land dien deur sekere waardes in die grondwet te bevorder (p 7-9). Dit kan egter slegs gebeur as die waardes “neutraal” aangebied word. Op bladsy 6 word die aanname soos volg verwoord: “Schools should also show an awareness and acceptance of the fact that values do not necessarily stem from religion.”
In die konteks van die huidige debat wys Van Zyl (2003:4) tereg daarop dat daar nie so iets soos waardevrye opvoeding bestaan nie. Alle waardes is ingebed in godsdienstige oortuigings. Om godsdiensbeoefening te verbied en dit te vervang met ’n suiwer “akademiese” blootstelling aan alle godsdienste, is om weer ’n ander vorm van indoktrinasie in te voer: die kind word gebreinspoel deur die sekularisme.
Die feit is dat die waardes van individue en gemeenskappe voortdurend verander. Waarom sou ’n kind dit respekteer? Slegs vertikale norme en waardes, wat in ’n bepaalde godsdiens ingebed is, kan effektief wees omdat dit die nodige gesag dra. Die antwoord is dus om die etos en geloof van elke godsdienstige gemeenskap te eerbiedig as ’n mens morele hervorming wil bevorder. Waardes wat godsdiensvry is, kan dit nie doen nie.
3.5 ’n Program in godsdiensopvoeding kan nasionale eenheid bevorder
Hierdie aanname is onderliggend aan verskeie stellings in die beleidsdokument, maar word eksplisiet verwoord op bladsy 14:
... a programme in Religion Education ... can teach students about a world of religious diversity, but at the same time it can encourage pupils to think in terms of a new national unity in South Africa.
Naas die godsdiensmodel wat die beleid nastreef (aanname 3 hier bo), word hier ’n tweede doel gestel, naamlik om nasionale eenheid te bevorder. Om in terme hiervan te dink word gestel teenoor “a world of religious diversity”. Aanhangers van die verskillende godsdienste moet dus bekeer word tot ’n alternatiewe “religieuse” ideaal: ’n nuwe nasionale eenheid in Suid-Afrika.
Die apartheidsera was tereg gekritiseer oor sy ideaal van ’n nasionale godsdiens, maar ’n soortgelyke ideaal kom weer hier na die oppervlak. Die ideologie van Christelik-nasionale onder- wys het verskuif na “peoples education” en postmoderne neutrale onderwys, wat ’n nuwe nasionale eenheid moet skep. Tegelyk blyk die politieke ondertoon van die dokument die duidelikste uit bogenoemde aanhaling.
3.6 Onderwysers kan neutraal wees
Volgens die beleid (p 18) moet godsdiensopvoeding aangebied word deur professionele onderwysers, wat neutraal moet staan ten opsigte van ’n spesifieke godsdiens. Hierdie aanname word geknel deur dieselfde oorwegings as die moontlikheid van ’n neutrale godsdiensopvoedingsprogram (aanname 3 hier bo).
Die feit is dat ’n onderwyser in “neutrale godsdiensopvoeding” die een of ander tyd moet verduidelik wat die aard en plek van godsdiens in die lewe is. Wanneer dit gebeur, sal sy of haar spesifieke (geloofs-)oriëntasie na vore kom, maak nie saak wat die leerprogram of kurrikulum voorskryf nie. Die uitdaging is egter nie om sulke oriënterings en keuses te vermy nie (iets wat in elk geval onmoontlik is), maar om met verantwoordelikheid en integriteit, met respek en verdraagsaamheid op te tree, en wel op grond van ’n spesifieke geloofsoortuiging. Die wetenskap kan net baat by akademici en onderwysers wat die intellektuele eerlikheid het om hulle diepste oortuigings en vertrekpunte openbaar te maak, en dit nie wegsteek nie (soos in die beleidsdokument verwag word).
3.7 Multikulturaliteit beteken godsdiensdiversiteit en diskriminasie
’n Laaste aanname in die beleidsdokument is dat verskillende kulture noodwendig neerkom op verskillende godsdienste en dat dit diskriminasie in die hand werk. Dit blyk veral uit die sterk terme waarin die beoefening van ’n spesifieke godsdiens op skool verbied of veroordeel word (p 11).
Hierdie aanname is egter ook nie houdbaar nie. Multikulturele skole is nie noodwendig verdeel met betrekking tot hulle lewens- en wêreldbeskouing nie. Gewoonlik is die een of ander beskouing in die skool dominant. Dan is dit deel van die interne vryheid van die skool om self ’n rigtingkeuse te maak.
Volgens die grondwet (15/2) is hierdie taak aan die skool se beheerliggaam opgedra. Beheerliggame kan hulle fasiliteite beskikbaar stel vir godsdienstige aktiwiteite, op voorwaarde dat dit op gelyke basis tot beskikking van alle godsdienste gestel word. Indien ’n beheerliggaam so besluit, kan daar dus uit die Bybel (of enige ander heilige geskrif) gelees en gebid word, onderhewig aan laasgenoemde voorwaarde.
In sy kommentaar op die beleid beveel Kok (2003:2) aan dat die beheerliggaam van elke skool riglyne vir die beoefening van godsdiens moet opstel ten einde te verseker dat geen onbillike diskriminasie plaasvind nie. Op hierdie wyse kan die reg tot vrye kulturele en godsdienstige aktiwiteite vir alle groepe verseker word, of hulle in die meerderheid of in die minderheid is.
4. KONKLUSIE
Daar is waarskynlik meer aannames ten grondslag van die beleid as bogenoemde sewe. Hierdie sewe is egter voldoende om te bewys dat sekere basiese aannames in die dokument nie houdbaar is nie. Solank die aannames nie aangespreek en konsensus daaroor bereik word nie, sal die debat voortduur. Verder, indien die Departement die konsepbeleid (of enige aangepaste beleid oor die onderwerp) aanvaar, oortree die staat op ’n terrein wat buite sy bevoegdheidsfeer lê. Dit is die reg van beheerliggame om – onderhewig aan duidelike voorwaardes – oor godsdiensbeoefening in skole te besluit.
Hierdie reg is in die grondwet verskans.
BIBLIOGRAFIE
Department of Education 2003. Policy: Religion in Education. Pretoria. Kok, F 2003. Godsdiens: ATKV sê oor skole. Volksblad, 1 Mei 2003.
Lategan, LOK 1994. Is Christelike wetenskap moontlik? ’n Dogmaties-filosofiese perspektief. Hervormde Teologiese Studies 50/4, 877-893. Republic of South Africa 1994. Constitution.
Skillen, JW 1997. Is there a place for “Christian Politics” in America? Voordrag gelewer by ’n seminaar by Redeemer College, Ontario, Kanada. Mei 1997.
Strauss, DFM 2002a. Historical and systematic considerations relevant to an assessment of the position of the university. Tydskrif vir Christelike Wetenskap (spesiale uitgawe), 1-12.
Strauss, DFM 2002b. The contemporary challenge to Christian Scholarship. Tydskrif vir Christelike Wetenskap 38 (3 & 4):217-231.
Strauss, DFM 2003. State and School – a “neutral affair”? Voordrag by die Departement Filosofie, UV, Bloemfontein.
Van Niekerk, J 2003. Asmal nie baie deursigtig. Volksblad, 15 April 2003.
Van Zyl, HC 2003. Krap aan oortuigings. Volksblad, 22 April 2003.