Eer en skaamte as sleutelkonsepte in Chrysostomos se eksegese van 1 Korintiërs
ABSTRACT
Honour and shame as key concepts in Chrysostom’s exegesis of 1 Corinthians
Many studies have shown that honour and shame were core social values in the ancient Mediterranean world. Claims that are being made in these studies are usually based on classical writings. Unfortunately these scholars seldom consult patristic writings. In this article it is argued that the ancient theologians were aware of these social values. It will be shown that honour and shame were key concepts in Chrysostom’s exegesis of Paul’s First Letter to the Corinthians. This is understandable since the ancient theologians were children of the Mediterranean world, and therefore they had first-hand knowledge of these values. Modern scholars who take the historical-critical approach serious, have come to realise how important it is to read the Bible according to its appropriate cultural context. This includes appreciation of honour and shame as social core values. These scholars will benefit from reading Chrysostom because he too employed shame and honour in his exegesis of biblical texts.
INLEIDING
In die afgelope paar jaar het daar talle studies oor sosiale waardes verskyn waarin daar aangetoon is dat eer en skaamte kernwaardes was in die antieke wêreld (vgl Malina 2001:27 ev; 1996:20; Pilch & Malina 1993:106-107; Peristiany 1966; Gilmore 1987). Daar word dan gewoonlik aangevoer dat hierdie sosiale waardes ’n baie sterk invloed uitgeoefen het op die lewe van mense in die Mediterreense wêreld. Dit moes dus noodwendig ook waar wees van die wêreld waarbinne Jesus en sy dissipels geleef het (Neyrey 1998:3). As ons dus sê dat ons die antieke dokumente moet lees in terme van die kulturele konteks waarbinne dit ontstaan het, beteken dit noodwendig dat ons ook ag moet slaan op eer en skaamte as kernwaardes (Neyrey 1998:4). Dit is dan ook die rede waarom geleerdes vandag al hoe meer besef dat ons die heersende sosiale waardes in ag moet neem wanneer ons die Nuwe Testament lees (Neyrey 1998; Malina & Rohrbaugh 1993; 1998).
Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit belangrik dat ons weet hoe ons die terme eer en skaamte gebruik: Eer word gewoonlik gedefinieer as ’n waarde wat deur die gemeenskap aan jou toegeken word (vgl Pilch & Malina 1993:106-107). Die teenoorgestelde hiervan is skande. Dit is wanneer jou eer deur die gemeenskap ontneem word. Skaamte, daarenteen, is ’n positiewe eienskap. As jy skaamte het, beteken dit dat jy besorg is oor jou eer. Die teenoorgestelde hiervan is skaamteloosheid, en dit is wanneer jy nie besorg is oor jou eer nie.
Wanneer ’n mens moderne studies oor die funksionering van bogenoemde kernwaardes in die antieke wêreld fynkam, val dit jou gou op dat die navorsers hulle feitlik uitsluitlik op klassieke geskrifte beroep wanneer hulle hulle standpunte wil staaf. Feitlik nie een van hierdie navorsers kyk na die patristiese geskrifte nie (die enigste uitsondering is Botha wat al heelwat geskryf het oor die sosiale waardes soos dit gereflekteer word in die geskrifte van Ephraem die Siriër, sien Botha 1998; 1999; 2000; 2002).
Dit is baie jammer dat die antieke teoloë se geskrifte oor die hoof gesien word. Teoloë soos Chrysostomos het eerstehandse kennis van hierdie waardes gehad, omdat hulle inderdaad in daardie wêreld grootgeword het. Trouens, Chrysostomos spel eksplisiet uit in sy homilieë op 1 Korintiërs dat die sosiale waardes van eer en skande ’n belangrike rol gespeel het in sy wêreld. Hy sê soos volg:
Maar die mense van ons tyd word deur alles oorweldig, nie slegs deur die begeerte na eer nie, maar ook, aan die ander kant, die vrees vir belediging en oneer. Dus, sou iemand jou prys, is jy opgeblase, maar as hy jou blameer, is jy terneergedruk (Homilia xxxv.12, eie vertaling).
Omdat Chrysostomos terdeë bewus was van die belangrikheid van waardes soos eer en skaamte, is dit nie vreemd nie dat hy dit ook ingespan het wanneer hy die Skrif uitgelê het. In hierdie artikel gaan ons dus kyk hoe Chrysostomos eer en skaamte aangewend het in sy boek Homilia in Epistulam i ad Corinthios. Dit bestaan uit 44 preke en in hierdie preke eksegetiseer hy Paulus se Eerste Brief aan die Korintiërs (sien Migne 1866:9-382; Schaff 1889).
EER EN SKAAMTE IN CHRYSOSTOMOS SE EKSEGESE
Ons sal vervolgens vyf perikope selekteer uit Chrysostomos se preke oor Paulus se Eerste Brief aan die Korintiërs. Ons sal dan spesifiek kyk in watter mate Chrysostomos eer en skande as sleutelkonsepte gebruik om die betrokke passasies vir sy lesers te ontsluit.
Hofsake tussen gelowiges (1 Kor 6)
Chrysostomos bespreek Paulus se argument dat gelowiges nie medegelowiges na die regbank toe moet sleep nie (1 Kor 6). Hy sê dit is ’n skande as ’n ongelowige regter ’n gelowige moet beoordeel (Homilia xvi.4). ’n Mens behoort eintlik te bloos wanneer dit gebeur. Chrysostomos vergelyk dit met ons huislike sake. Hy sê dat wanneer ons rusies in ons huis het, ons tog nie mense van buite sal roep om dit op te los nie (Homilia xvi.6). Ons sal te skaam wees as dit wat in ons huis gebeur na buite uitgelap word. Dit behoort ons nog skamer te maak as dit wat in die kerk gebeur (daar waar selfs die nagmaal gehou word) na buite uitgelap word.
Chrysostomos erken dat daar mense sal wees wat dadelik sal vra of daar dan van hulle verwag word om eerder verlies te ly en benadeel te word. So iets lei tot skande (Homilia xvi.10). Hierop antwoord Chrysostomos dat ons verder as die aardse moet kyk. Dit mag dalk beteken dat ons hier op aarde skande verduur, maar ons moet ons oog gevestig hou op die hiernamaals wanneer die God van heerlikheid ons met eer beloon (Homilia xvi.10-11).
Immers, Christus self het slegte dinge verduur. Verder stel Chrysostomos dit baie duidelik dat dit hoegenaamd nie God se begeerte is om ons met skaamte te beklee nie (Homilia xvi.10-11). Veel eerder wil Hy aan ons eer gee. Ons verduur egter die skaamte omdat ons kan uitsien na die voorreg om eendag deur God ontvang te word.
Liefdesmaaltyd (1 Kor 11:17-34)
In sy eksegese van die liefdesmaaltyd maak Chrysostomos ruim gebruik van die konsepte van eer en skaamte. Volgens Chrysostomos (Homilia xxvii.4) het Paulus juis hierdie konsepte in sy agterkop wanneer hy in 1 Korintiërs 11:20 sê: As julle dan as gemeente saamkom, is dit nie meer die nagmaal van die Here wat julle vier nie ... (NAB). Chrysostomos lig dan vyf aspekte uit ten opsigte waarvan hy meen dat die Korintiërs skande gemaak het. Hy sê dat Paulus in die heel eerste plek hiermee gesuggereer het dat die Korintiërs hulleself oneer aandoen met hulle optrede tydens die liefdesmaaltyd, omdat hulle hierdie maaltyd op die ou end gedegradeer het van dít wat dit bedoel is om te wees tot sommer ’n gewone ete. Dit is immers ’n besondere eer om te weet dat ’n maaltyd aan die Here behoort, maar nou beroof hulle dit van hierdie grootheid en eer (Homilia xxvii.4). Dit, sê Chrysostomos, is die Korintiërs se eerste fout, naamlik om skande te bring oor die tafel van die Here.
Die tweede fout wat die Korintiërs maak, volgens Chrysostomos, is om skande te bring oor die armes (Homilia xxvii.4). Om nie vir armes om te gee nie, selfs al is jy honderd persent nugter, is ’n groot skande. Maar in die derde plek is dit ook ’n skande om jouself dronk te drink. Die Korintiërs het hulleself dus behoorlik oneer aangedoen, omdat hulle hulle tegelykertyd skuldig gemaak het aan albei bogenoemde skandes: Terwyl hulle dronk was, het hulle terselfdertyd die armes oor die hoof gesien! (Homilia xxvii.4).
Die vierde groot fout wat die Korintiërs gemaak het, volgens Chrysostomos, was om ook oneer te bring oor die kerk as sodanig. Deurdat hulle oneer oor die maaltyd gebring het, en dit tot ’n gewone maaltyd gedegradeer het, het hulle ook die plek waar die maaltyd gehou is, gedegradeer tot sommer ’n gewone huis (Homilia xxvii.4). Chrysostomos sê dit is wat Paulus ook bedoel wanneer hy vra: Of het julle nie eerbied vir die gemeente van God nie?
Maar daar is ook ’n vyfde daad wat oneervol was: Die Korintiërs het veroorsaak dat die armes skaamte beleef. Die armes se skaamte was nie soseer omdat hulle ’n gebrek aan kos gehad het nie, maar omdat hulle sonder eer hanteer is. Chrysostomos sê dat Paulus hierdie argument spesifiek benadruk in vers 22 wanneer hy vra: Wil julle die armes verneder? Dit wys dat Paulus besef het dat die armes hartseerder was omdat hulle sonder eer hanteer is, as oor die feit dat hulle sonder kos was (Homilia xxvii.4). Met hierdie opmerking benadruk Chrysostomos ook vir ons hoe belangrik eer en skaamte in die antieke wêreld was.
Chrysostomos gaan voort deur te sê dat Paulus dan probeer om die Korintiërs skaam te maak deurdat hy Jesus se woorde aanhaal: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle.” Hy wys dan daarop dat Christus baie meer eer gehad het as die Korintiërs. Tog was Jesus bereid om die tafel te deel met die oneervolles, terwyl die Korintiërs dit nie wou doen nie (Homilia xxvii.5). Hy sê verder dat wanneer ons sien dat erfgename dinge doen wat ingaan teen die wil van hulle gestorwe ouers, ons hulle dikwels skaam maak oor hulle optrede deur hulle te herinner aan hulle vader se sterwenswoorde. Chrysostomos verduidelik dat dieselfde ook vir Paulus geld. Hy wou die Korintiërs skaam maak oor hulle gedrag; daarom dat hy die woorde (= die instellingswoorde van die nagmaal) herroep wat Jesus daardie nag kort voor sy dood geuiter het (Homilia xxvii.5).
Dit alles maak dat wanneer ons die liefdesmaal vier, ons nooit ons medegelowiges oneer mag aandoen nie (Homilia xxvii.5). Ons mag ook nie die Tafel van die Here oneer aandoen nie (Homilia xxvii.6).
Die gawes van die Heilige Gees (1 Kor 12)
Die konsepte van eer en skaamte word dikwels deur Chrysostomos aangewend wanneer hy kommentaar lewer op Paulus se bespreking van die gawes van die Heilige Gees (1 Kor 12). Chrysostomos sê dan dat sekere gelowiges in die gemeente baie maklik voel dat hulle minder eer het op grond van die bepaalde gawe wat hulle ontvang het (Homilia xxix.4). Hy wys hulle dan daarop dat ’n mens nie na die gawe as sodanig moet kyk nie, maar eerder na die persoon wat die gawe gee. En omdat al die gawes van dieselfde persoon af kom, naamlik van die Gees van God, het al die gelowiges in die gemeente dieselfde eer. As een persoon se gawe van die Gees af gekom het en die ander s’n van ’n engel af, sou dit inderdaad meegebring het dat die een gelowige meer eer as die ander gehad het.
God het juis verskillende gawes aan gelowiges gegee om ons sodoende teen oneer te beskerm, volgens Chrysostomos (Homilia xxix.5). Elke gawe bring sekere verantwoordelikhede mee, en as ons bepaalde gawe ’n te groot las vir ons sou meebring, sou dit tot ons oneer lei. Daarom dat God ons hierteen wil beskerm (Homilia xxix.5). Chrysostomos sê verder dat omdat daar ’n verskeidenheid van gawes is gelowiges saam een liggaam kan vorm en daarom ook oor gelyke eer beskik (Homilia xxx.5). As hulle almal dieselfde was, sou hulle nie ’n liggaam kon vorm nie, en dan sou almal ook nie dieselfde eer gehad het nie (Homilia xxx.5).
Paulus skryf dat al die gawes van dieselfde Gees, van dieselfde Here en dieselfde God afkomstig is (1 Kor 12:4-6). Hierop antwoord Chrysostomos dat Paulus hiermee wou aantoon dat hierdie drie Persone dieselfde eer het en dat Hulle daarom ook één is (Homilia xxix.4).
Moderne geleerdes (Botha 1995:2; Malina 1993; Rohrbaugh 1996) het reeds aangetoon dat die antieke mense die hoof, en veral die oog, beskou het as dié deel van die liggaam wat die meeste eer het, terwyl die voete die minste eer het. Dit word inderdaad eksplisiet ook deur Chrysostomos gesê (Homilia xxx.3; xxxi.1). Hy voer aan dat dit juis opmerklik is dat Paulus dan ook die oog (as die eerbaarste deel) en die voet (as die mins eerbare deel) as voorbeelde gebruik wanneer hy die gemeente as ’n liggaam voorstel (Homilia xxx.3).
Botha (1995:2) wys ook daarop dat hoogte eer simboliseer, en iets wat laag is weer oneer of skande aandui. Ons kry hierdie gedagte ook by Chrysostomos (Homilia xxx.3). Hy sê dat dit opmerklik is dat die voet nie met die hoof kommunikeer in Paulus se beeld nie, maar wel met die hand. Die hand is net ’n bietjie hoër as die voet en het daarom ook net ’n bietjie meer eer as die voet. Dit gebeur ook met ons, omdat ons nie jaloers is op mense wat baie hoër is as ons en gevolglik baie meer eer het nie. Ons jaloesie is gewoonlik afgestem op hulle wat net ’n bietjie meer eer as ons het (Homilia xxx.5).
Hierna (Homilia xxxi) gee Chrysostomos ’n baie interessante verduideliking van 1 Korintiërs 12:21-24. (OAB:21 En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.22 Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk;23 en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid,24 terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee.)
Sommige antieke teoloë het geglo dat wanneer Paulus hier praat van dele van die liggaam wat “swak” en “minder eerbaar” lyk en dit stel teenoor die meer eerbare dele, hy na die oë en voete van die mens verwys. Chrysostomos erken dat sekere teoloë hierdie vers so interpreteer, maar hy self reken dat die “minder eerbare” dele eerder na die mens se geslagsorgane verwys (Homilia xxxi).
Hy maak dit ook baie duidelik in sy betoog dat daar buitendien geen deel van die liggaam is wat in elk geval sonder eer is nie. Die hele liggaam het eer, omdat die Maker van die liggaam soveel eer het (Homilia xxxi.2). Dit is dan, volgens Chrysostomos, waarom Paulus so uitdruklik byvoeg dat sekere dele van die liggaam minder eerbaar “lyk”. In der waarheid het hulle nie minder eer nie. Dit l´yk net of hulle minder eer het.
Vervolgens verduidelik Chrysostomos wat Paulus bedoel as hy sê dat ’n mens se geslagsorgane (volgens Chrysostomos se interpretasie) minder eer het (Homilia xxxi). Hy verduidelik dan dat hierdie organe in der waarheid nie minder eer het nie, maar dat hulle eerder meer eer geniet. Ons kan dit duidelik sien in die feit dat selfs arm mense wat feitlik nakend rondloop steeds hulle geslagsorgane sal bedek. Omdat dit so baie aandag kry, beteken dit noodwendig dat dit baie eer moet hê. Ons kan dieselfde beginsel ook duidelik in ons huise sien. Ons sal geen aandag aan ’n slaaf in ons huis gee nie, omdat die slaaf geen eer het nie. Dit wat nie aandag kry nie, het ook nie eer nie.
Chrysostomos (Homilia xxxi) voeg dan by dat ons ook nie moet aanneem dat ons geslagsorgane geen eer het omdat dit met klere bedek moet word nie. Om sy punt te bewys haal hy die voorbeelde van diere aan. Diere het geen klere of skoene of ’n dak oor hulle kop nodig nie, tog beteken dit nie dat hulle om daardie rede meer eer het as mense wat wel ’n behoefte aan hierdie dinge het nie.
Een van die redes waarom jou geslagsorgane soveel eer het, volgens Chrysostomos (Homilia xxxi), is dat dit so ’n belangrike funksie vervul. Die menslike voortplanting is van hierdie orgaan afhanklik. Chrysostomos voeg by dat dit ook die rede is waarom Romeinse wetgewing dit verbied dat iemand ’n eunug gemaak word. Dit is wel so dat die geslagsorgane dikwels veroorsaak dat iemand dinge doen wat oneer bring. Maar dan wys Chrysostomos daarop dat dit nie die liggaamsdeel self is wat vir die oneervolle daad verkwalik kan word nie. Ons sal mos ook nie die wyn blameer vir die oneervolle dade van ’n dronkaard nie.
Verder wys Chrysostomos ook daarop dat Paulus sê dat ons “die liggaamsdele wat vir ons minder eerbaar lyk, met oorvloediger eer beklee” (Homilia xxxi.3). Die rede hiervoor, sê Chrysostomos, is om te verseker dat al die lede van die liggaam (dws, die gelowiges in die gemeente) presies ewe veel eer het. Op so ’n wyse word daar voorkom dat daar enige verdeeldheid in die gemeente ontstaan.
Maar dan vra Chrysostomos ’n baie praktiese vraag. Hy sê dat baie mense sal wonder hoe dit prakties binne ’n gemeente gebeur dat iemand met minder eer oorvloediger eer verkry (Homilia xxxi.3). Dan wys hy op voorbeelde soos die verlore seun wat meer eer gekry het as die oudste seun wat tuis gebly het. Hy wys ook op die man wat twee talente gekry het, wat dieselfde eer ontvang het as die man wat vyf talente gekry het. Chrysostomos benadruk dit dat as een lid van die gemeente oneer kry, dit op die ou end sleg reflekteer op die hele liggaam. Daarom moet ons weet dat daar geen persoon in die gemeente is wat minder eer as die ander het nie (Homilia xxxi.4).
Die liefde (1 Kor 13)
Ook in sy eksegese van die lied oor die liefde (1 Kor 13) maak Chrysostomos ruim gebruik van die konsepte van eer en skaamte (Homilia xxxii). Chrysostomos begin sy betoog deur te verduidelik dat ’n mens twee soorte liefde kry. Om die verskil te illustreer verwys hy na Josef en Potifar se vrou (Gen 39). Laasgenoemde is ’n voorbeeld van hoe diaboliese liefde werk. Josef was ’n voorbeeld van die liefde wat Paulus beskryf.
Heel eerste het Josef vir Potifar se vrou herinner aan haar man ten einde haar skaam te maak oor haar gedrag. Chrysostomos wys ook daarop dat Josef nie na Potifar as “haar man” verwys het nie, maar as “my heer” (Homilia xxxii.13). Daarmee wou Josef, volgens Chrysostomos, Potifar se vrou herinner aan sy eie status as slaaf en dat dit as oneervol beskou is vir haar as meesteres om met ’n slaaf gemeenskap te hê. Hy wou haar skaam maak en het so probeer om haar te herinner aan die groot eer wat sy as meesteres geniet het.
Chrysostomos voer aan dat iemand wat waarlik liefhet nooit sal omgee om dinge te doen wat skaamte oor hom- of haarself bring nie (Homilia xxxiii.2). ’n Mens kan dit duidelik sien by dié wat lief is vir geld. Hulle sal selfs skaamtelose dinge doen om nog meer geld in die hande te kry. Iemand wat die prysenswaardige soort liefde het, sal dus des te meer bereid wees om skaamte te verduur ter wille van liefde.
Om bogenoemde te staaf wys Chrysostomos daarop dat pa’s, selfs al is hulle goeie filosowe en oratore, hoegenaamd nie skaam is om saam met hulle kinders te hakkel of te stotter nie (sumpsellizontes). Ook die mense wat toekyk, is nie skaam daaroor nie. En as hierdie kinders later verkeerd doen, sal die ouers steeds nie skaam wees vir hulle nie, maar die kinders bly help en hulle probeer beskerm asof hulle hulle met goue vlerke bedek. Dit alles is vir Chrysostomos voorbeelde van wat Paulus bedoel met die woorde die liefde handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie (1 Kor 13:5).
Hierna haal Chrysostomos ook die liefde van Dawid en Jonatan aan om te bewys dat ware liefde ’n mens daartoe sal bring om selfs jou skaamte te ignoreer. Jonatan was die seun van ’n koning met baie eer, terwyl Dawid ’n vlugteling sonder enige eer was. Maar dit het nie gemaak dat Jonatan te skaam was om Dawid lief te hê nie. Hierop het Saul vir Jonatan daarop gewys dat sy liefde vir Dawid skande oor hom bring. Hy het hom toe soos volg uitgekryt (NAB): “Jou rebelse ellendeling! Jy verkies mos die seun van Isai tot jou eie skande en tot skande van jou ma wat jou in die wêreld gebring het” (1 Sam 20:30). Selfs hierdie woorde het Jonatan nie oorreed nie. Daarom verklaar Chrysostomos eksplisiet dat iemand wat waarlik liefhet glad nie die woord skaamte ken nie (Homilia xxxiii.2).
Die kollekte vir Jerusalem (1 Kor 16)
Paulus het die gemeente in Korinte aangemoedig om ’n kollekte bymekaar te maak vir die gemeente in Jerusalem (1 Kor 16). Hy sê dan aan die Korintiërs dat hy wil hê hulle moet maak “soos hy dit in die gemeentes van Galasië gereël het”. Chrysostomos sê dan dat Paulus die Galasiërs byhaal om die Korintiërs skaam te maak. Hulle sou nie graag wou hê dat die Galasiërs as beter as hulle gesien moes word nie, en sou daarom baie makliker ingestem het om in te val by Paulus se voorstel (Homilia xliii.1).
Verder voeg Paulus by dat “elkeen elke Sondag na sy vermoë iets tuis moet opsy sit en dit opspaar”. Chrysostomos sê dat ook hierdie reëling in terme van eer en skaamte gesien moet word. Paulus wil op so ’n manier voorkom dat die gelowiges skaam kry oor hulle klein bydraetjies. As hulle dit met een slag bring, is dit baie groter (Homilia xliii.2).
Hierna doen Chrysostomos ’n beroep op sy gemeente om ook ’n bydrae vir die armes te maak (Homilia xliii.3). Hy sê hy weet dat sy gemeente weer gaan sê dat hy hulle probeer skaam maak deur hierop te hamer. Maar dan beroep Chrysostomos hom op Paulus wat nooit skaam was om aanhoudend te vra dat daar vir die armes gegee word nie. Buitendien hoef ’n mens nie skaam te wees om te vra dat gelowiges moet gee vir die Here wat honger is nie. Christus het mos juis gesê: “Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet” (Matt 25:35).
Chrysostomos sê dat hy om hierdie rede nie ’n oomblik skaam is om ’n beroep op mense te doen om vir armes te gee nie (Homilia xliii.3). Hy sê dat as iemand in so ’n geval skaamte aan die dag lê, dit ongetwyfeld ’n skaamte is wat van die duiwel af kom (Homilia xliii.3). Net soos ’n generaal nie skaam is om kos van sy soldate te vra nie, net so is Chrysostomos ook nie bang om te vra dat die gelowiges vir die armes moet gee nie.
’N VERANDERDE SOSIALE WAARDESISTEEM
Sosiale studies wat fokus op eer en skaamte in die Mediterreense streek het aanvanklik die hele streek as een groot eenheid hanteer. Neyrey (1998:8) erken dat daar al hoe meer stemme opgaan (soos dié van Herzfeld 1987) wat nie geneë is met so ’n veralgemening nie. Daar moet beslis ’n groter onderskeid gemaak word tussen die verskillende areas. Sosiale waardes kan van een gebied tot ’n ander verskil en daar kan selfs verskille wees tussen die verskillende sosiale klasse. Die sosiale studies maak dus tot dusver te veel van veralgemenings gebruik.
Dit is juis by hierdie stelling wat ons met hierdie artikel wil aansluit. Daar word ook nie in sosiale studies genoegsaam onderskeid getref tussen die sosiale waardes van sekulêre gemeenskappe en dié van Christengemeenskappe nie. Moderne geleerdes wat oor sosiale waardes skryf, laat dikwels na om aan te toon dat hierdie waardes nie altyd net so gegeld het in Christengemeenskappe nie. Gelowiges het nie dieselfde waardesisteme as ongelowiges gehad nie. Dikwels het hulle dit wat deur die heidene as eervol beskou is presies omgedraai. ’n Mens kan dit duidelik sien in die patristiese era. Die sekulêre wêreld sou groot eer aan iemand toeken wat baie rykdom gehad het, terwyl die Christene juis die askete vereer het, wat hulle hiervan losgemaak het.
Dit bring mee dat ons nie vandag sommer goedsmoeds die waardesisteme van die antieke sekulêre wêreld kan gebruik om die Nuwe Testament te lees nie. Ons sal voortdurend in gedagte moet hou dat die gemeentes aan wie Paulus byvoorbeeld geskryf het, dalk ’n ander waardesisteem nagevolg het. Ons kan hierdie waarheid duidelik sien in Chrysostomos se preke oor Paulus se Eerste Brief aan die Korintiërs.
Chrysostomos verduidelik telkemale dat gelowiges ’n ander waardesisteem navolg as dié van die heidene. Hy sê dat dit wat hy as eervol beskou nie noodwendig deur die ongelowige as eervol beskou word nie (Homilia vii.2). As voorbeeld verwys hy na die kruisiging van Jesus. Chrysostom sê dat die sekulêre wêreld dit as oneervol beskou omdat dit fokus op die swakheid van Christus. Vir hom is dit egter ’n teken van eer, omdat hy daarin God se liefde vir die mens aanskou. Voorts sê Chrysostom dat presies dieselfde geld vir die geloofswaarheid dat Christus ’n dienskneg geword het. Hy sê dat hy in verwondering staan daaroor omdat dit wys op God se sorg vir die mens. Maar dan erken hy dat so iets baie negatief beleef word deur die heiden en dat dit vir laasgenoemde uiters oneervol is om ’n dienskneg te wees (Homilia vii.2).
Dit is natuurlik waar dat ons nie kan aanneem dat dit wat Chrysostomos vir ons beskryf presies net so aan die orde was in die tyd van die Nuwe Testament nie. Aan die ander kant is dit wel ook waar dat die sosiale waardesisteem in die antieke wêreld eintlik baie eeue lank konstant gebly het. Rohrbaugh (1996:9) sê selfs dat die Mediterreense wêreld vandag nog deur eer en skaamte beheer word. Trouens, wanneer ’n mens hierdie sosiale waardes bestudeer, kom jy baie gou tot die besef dat selfs die moderne Westerse wêreld in groot mate deur eer en skaamte gedryf word (vgl Rohrbaugh 1996:33). Die simbole van eer is dalk net ietwat anders. In die lig van bogenoemde kan dit dus inderdaad voordelig wees om ondersoek in te stel oor hoe eer en skaamte in Chrysostomos se tyd “gewerk” het en hoe dit sy interpretasie van Bybelse tekste beïnvloed het.
Chrysostomos stel dit duidelik dat eer as sodanig nie wonderlik is nie. Dit is belangrik om jou af te vra wié dit is wat die eer aan jou toeken. Dit is om hierdie rede dat dit vir gelowiges maklik is om die aardse sisteem van eer te ignoreer. Chrysostomos verwys byvoorbeeld na Dawid en Absalom. Eersgenoemde is deur God vereer, en laasgenoemde deur die mense (Homilia 1.3). Natuurlik is dit baie meer werd om deur God vereer te word.
Chrysostomos illustreer dit ook met ’n ander voorbeeld. Hy sê, gestel iemand staan op die punt om ’n koninkryk te verkry. Net voordat hy sy koninklike purper kleed verkry, bied iemand hom eerder ’n nuttelose kompliment aan. Niemand sal so dom wees om die kompliment te aanvaar in plaas van die koninklike kleed nie. Presies net so behoort sy lesers ook eerder die eer van God as die heel belangrikste te ag (Homilia i.6). Om die waarheid te sê, ’n mens behoort eintlik skaam te wees, volgens Chrysostom, as wêreldse eer as ’n opsie aan jou voorgehou word (Homilia i.6).
Die apostels se lewe is gekenmerk deur allerhande oneervolle sake. Chrysostom sê die apostels was dikwels honger en is as veroordeeldes gebrandmerk (Homilia xiii.1). Hy voer dan aan dat ons net so nie die eer van die wêreld moet soek nie, maar veeleer die gevare en oneervolle dinge wat die apostels moes deurgaan.
God is ’n God van eer en heerlikheid. Daarom, volgens Chrysostom, is dit hoegenaamd nie God se voorneme om skande en bespotting oor ons te bring nie (Homilia xvi.10). Om die waarheid te sê, God gun ons presies die teenoorgestelde. Dit is dan ook die rede waarom God van ons verwag om nou oneer te verduur en ons van wêreldse dinge te onthou. God wil ons op so ’n manier van groter eer voorsien (Homilia xvi.10).
Dit is dus duidelik dat die sosiale waardesisteem van Chrysostomos se gemeente diepgaande verskil het van die sekulêre gemeenskap waarin dit geopereer het.
SLOTOPMERKINGS
Dit is natuurlik belangrik dat ons elke antieke teks sal lees binne sy kulturele konteks. Dit behoort ’n integrale deel van die eksegetiese proses uit te maak. Maar ons moet nie die fout maak om te dink dat hierdie stap regtig so nuut is soos soms voorgegee word nie. Uit bostaande is dit baie duidelik dat eer en skaamte reeds in die vierde eeu nC sleutelkomponente was in Chrysostomos se eksegese. Dit is daarom jammer dat patristiese werke so dikwels verwaarloos word in ons eksegetiese prosesse. Een van die redes hiervoor is natuurlik dat moderne eksegete dikwels nie die eksegetiese metodes van die antieke teoloë hoog skat nie (veral as gevolg van die gebruikmaking van allegorie deur teoloë van die Alexandrynse skool). Nogtans is dit belangrik dat ons in gedagte sal hou dat die antieke kommentare steeds as waardevolle bronne beskou kan word. Navorsers wat hulle spesifiek toespits op die sosiale waardes van die antieke wêreld sal veral baat kan vind deur ook hierdie patristiese bronne te raadpleeg.
BIBLIOGRAFIE
Botha, PJ 1995. Eer en skande as kernwaardes in die Bybel. Pretoria: Ongepubliseerde klasaantekeninge.
Botha, PJ 1998. Polarity and divine economy in Ephrem the Syrian’s hymn “De Crucifixione V”. Acta Patristica et Byzantica, vol 9, 23-34.
Botha, PJ 1999. Honour and shame as pivotal values in Ephrem the Syrian’s vision of paradise. Acta Patristica et Byzantica, vol 10, 49-65.
Botha, PJ 2000. Social values and textual strategy in Ephrem the Syrian’s sixth hymn on the fast. Acta Patristica et Byzantica, vol 11, 22-32.
Botha, PJ 2002. The paradox between appearance and truth in Ephrem the Syrian’s hymn “De Crucifixione IV”. Acta Patristica et Byzantina, vol 13, 34-49.
Gilmore, DD 1987. Honor and shame and the unity of the Mediterranean. American Anthropological Association Special Publication 22. Washington, DC: American Anthropological Association.
Herzfeld, M 1987. “As in your own house”: Hospitality, ethnography, and the Stereotype of Mediterranean Society, in Gilmore, D (ed). Honor and shame and the unity of the Mediterranean. American Anthropological Association Special Publication 22. Washington: American Anthropological Association.
Malina, BJ 1996. The social world of Jesus and the Gospels. New York: Routledge.
Malina, BJ 2001. The New Testament world. Insights from cultural anthropology. Kentucky: Westminster John Knox Press.
Malina, BJ & Rohrbaugh, RL 1993. A social-scientific commentary on the synoptic Gospels. Minneapolis: Fortress Press.
Malina, BJ & Rohrbaugh, RL 1998. A social-scientific commentary on the Gospel of John. Minneapolis: Fortress Press.
Migne, PG 1866. Patrologiae cursus completus, series graeca. Paris 61:9-382.
Neyrey, JH 1998 Honor and shame in the Gospel of Matthew. Kentucky: Westminster John Knox Press.
Peristiany, John G 1966. Honor and shame: The values of Mediterranean Society. Chicago: University of Chicago Press.
Pilch, JJ & Malina, BJ 1993 (1998). Handbook of Biblical Social Values. Peabody: Hendrickson Publishers.
Rohrbaugh, RL 1996. The social Sciences and New Testament Interpretation. Peabody: Hendrickson Publishers.
Schaff, P 1889. A select library of the Nicene and post-Nicene Fathers. Vol 12: Saint Chrysostom: Homilies on the Epistles of Paul to the Corinthians. Grand Rapids: Wm B Eerdmans Publishing Co.