“Om ’n ou tradisie nuut voort te sit.”

’n Nuwe tydskrifredakteur moet hom (in hierdie geval is dit nie “haar” nie) oriënteer met betrekking tot die oorsprong en geskiedenis van die publikasie waarvoor hy medeverantwoordelikheid aanvaar. Ook en veral as hy tot op sekere hoogte ’n nuwe visie vir dié publikasie het, is dit noodsaaklik dat aansluiting by die bydraes en strewes van sy voorgangers gesoek word. ’n Historiese verhaal kan egter op verskillende maniere gekonstrueer en vertel word.

Die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, wat in 1959 met behulp van die P De Waal Neethling Trust tot stand gekom het, se oorsprong word dikwels teruggevoer na twee voorlopers, Die Ou Paaie en Die Gereformeerde Vaandel, wat destyds as teenvoeter vir Johannes du Plessis en andere se tydskrif Het Zoeklicht (later Die Soeklig) bedoel is. Die sogenaamde Du Plessis-saak – wat daarop uitgeloop het dat Du Plessis nie meer aan die Kweekskool in Stellenbosch kon klasgee nie – het gedraai om die persepsie dat Du Plessis en sy kring ’n liberale teologie bevorder het waarin die gesag van die Bybel bevraagteken is.

Van die sake waaroor Neethling en ander sogenaamde “Oupajane” besorg was – byvoorbeeld die idee dat die eerste vyf boeke van die Ou Testament nie deur Moses geskryf is nie, maar uit verskillende bronne saamgestel is – is vandag nouliks omstrede, en word deur die meeste NG-predikante en waarskynlik alle dosente aan die drie teologiese fakulteite wat ’n verbintenis met die NG Kerk het, onderskryf. Die standbeeld van Du Plessis, wat destyds deur sy verontwaardigde ondersteuners in Stellenbosch opgerig is om op ’n afstand as ’t ware verwytend na die Kweekskool te kyk, is inmiddels as ’n simboliese versoeningsgebaar na die gronde van die teologiese fakulteit self verskuif. Die geskiedenis stel dikwels ou konflikte in perspektief.

Dit is verder belangrik om in gedagte te hou dat die NGTT nooit amptelik of wetlik gesproke ’n voortsetting van óf die Die Ou Paaie, óf die Vaandel was nie, maar in ’n tradisie van Stellenbosse tydskrifte so ver terug as die 19de eeu staan. Die kerkhistorikus prof Pieter Coertzen het my onlangs daarop gewys dat ds Abraham Faure, wat allerweë beskou word as die “vader” van die Stellenbosse Kweekskool wat in 1859 gestig is, reeds in 1848 saam met Thomas Pringle en John Fairbairn die Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (waarvan iets in die titel van die NGTT resoneer) opgerig het. Dit moes as teenvoeter dien vir die destydse goewerneur van die Kaapkolonie se inperking van die pers, maar was ook ’n uitvloeisel van Faure se passie vir die onderwys. As sodanig het dit ’n vrydenkende en intellektuele gees geadem.

Teen hierdie agtergrond – en gesien die feit dat die NGTT tans, naas die reusebydrae van die Neethling-trust deur die jare, ook indirek uit staatsubsidies en met die ondersteuning van instansies soos die Fakulteit Teologie aan die US, die Christelike Lektuurfonds en BybelMedia, instandgehou word – kan ’n mens sê dat die tradisie waaruit die tydskrif kom verder terug as die Du Plessis-saak strek, en ook wyer raakpunte het. Ek wil my verstout om te sê dat ook Het Zoekligt / Die Soeklig deel van daardie veelkantige tradisie uitmaak. Dit lê in die aard van tradisies dat dit nie eenduidig is nie, maar deur interne teenstellings en die spore van veranderende kontekste gevorm word.

Elkeen van die diverse publikasies wat tot die NGTT se historiese geheue behoort, sal steeds die karakter en klemtone van die tydskrif moet begelei: identifikasie met die gereformeerde tradisie, ’n verbintenis tot teologiese skoling, verbondenheid met die kerk en die Fakulteit Teologie van die US, en waagmoedige intellektuele besinning.

In die huidige konteks moet die redaksie van die tydskrif uiteraard met nuwe uitdagings en moontlikhede rekening hou, waarvan drie in die besonder aandag vereis:

• Die tydskrif se historiese verbondenheid met die NG Kerk moet gehandhaaf word, maar dan met inagneming van die soeke na sigbare eenheid in die NG Kerk-familie, en die Fakulteit Teologie van die US se ekumeniese strewe, wat onder meer gestalte vind in ooreenkomste met drie kerklike vennote uit gereformeerde kring.

• Die tydskrif moet, in lyn met sy ryke historiese erfenis, steeds die belangrike rol speel om meertaligheid in die teologiese en breër opvoedkundige en akademiese wêreld deur die publikasie van Afrikaanse en Nederlandse artikels, naas die Engelse inhoud, voort te sit, maar ook oorweging skenk aan die wenslikheid om nog meer tale (by name Suid-Afrikaanse tale) te betrek.

• In ’n veranderende en uiters dinamiese publikasiewêreld moet die beskikbaarheid, gehalte en profiel van die tydskrif deur optimale benutting van nuwe tegnologiese moontlikhede, veral op die gebied van die internet, verder uitgebrei word.

Aan my voorganger, prof Coertzen, ’n hartlike woord van dank vir u jarelange leiding van die tydskrif. Dit was ’n liefdestaak waardeur die genoemde waardes wat die tydskrif steeds sal kenmerk, gedien en versterk is. Ook u voortgesette betrokkenheid, onder meer by die P De Waal Neethling Trust, en die historiese kontinuïteit wat daardeur verseker word, word hoog op prys gestel.

Dr. Gerrit Brand (redakteur)

Junie 2011