Olwagen, JM
Universiteit van Johannesburg
Putter, APJ
Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

Die liggaam-van-Christus-metafoor: bediening van die AGS-lidmaat

ABSTRACT

The body-of-Christ-metaphor: ministry of an AFM member

Certain questions can be asked considering New Testament guidelines with regard to the functioning and expectations of an assembly structure surrounding the origin of the AFM church: Is the ministry of the AFM-pastor and member still relevant? Are the pastors successful in effectively guiding their assemblies in making use of their own members for voluntary acts of service? This entails the caring of their member and the execution of the assemblies’ missional command? How can the pastors systematize their ministries in such a way that the equipping task of members can be made more effective? This task implies the discovery and equipping of members for voluntary acts of service in the assembly as described amongst others in Ephesians 4:12. The purpose of this article is to provide a better understanding concerning the body-of-Christ-metaphor: ministry of an AFM assembly member.

1. INLEIDING

Daar word in die artikel gepoog om breë lyne te trek rondom ’n strategiese ontwerp vir die mobilisering van dienswerkers in AGS-gemeentes deur die bediening van lidmate te gebruik vir die uitvoering van die missionale opdrag. AGS-gemeentes is gewoonlik in verskillende rade, diens- en bedieningsgroepe georganiseer. Die meeste gemeentes word vanuit ’n georganiseerde kerkkantoor bedryf en daar is vasgestelde, weeklikse byeenkomste. Heyns (1986:66) meld dat die herder die leier van die kudde is. Die kudde vertrou en gehoorsaam hom/haar ten volle. Die herder het getoon dat hy/sy ’n bekwame leier is en die vertroue van die gemeente waardig is. Daarby is hy/sy ’n behoorlik geskoolde en opgeleide persoon en word sy/haar leiding selde bevraagteken. Die verantwoordelikheid vir die opbouing, administrasie en organisasie van die gemeente rus grotendeels op sy/haar skouers en is hy/sy dikwels die laaste besluitnemende instansie (Putter 2003:1; 2009:154).

Die AGS omskryf die taak van die pastor in Artikel 297 van die kerkwette as: “Die pastor sal, waar toepaslik, ter bevordering van die Koninkryk van God en ter uitbreiding van die Kerk, die volgende pligte ooreenkomstig die Woord van God nakom (Konstitusie van die AGS, 2008:7):

• Bediening van die heilige Evangelie en die sakramente;

• herderlike versorging van die gemeente;

• administratiewe verpligtinge ingevolge die kerkwette aan sy/haar amp verbonde;

• enige sodanige pligte en verantwoordelikhede wettiglik aan hom/haar opgedra, en

• die handhawing van die gedragskode soos deur die Nasionale Leierskap Forum bepaal.

Daar word nou na ’n teologiese metafoor gekyk sodat die verskillende aspekte van bedienings in AGS-gemeentes beter verstaan kan word.

2. TEOLOGIESE METAFOOR

’n Metafoor word gebruik om verskillende aspekte van gemeentes te beskryf. Dit het daartoe gelei dat sekere metafore van die kerk, AGS-gemeentes se identiteit, geestelikheid en kultuur, teologie, ekklesiologie en bediening beïnvloed het. Metafore help ons om na dinge vanuit verskillende perspektiewe te kyk (Vos 2005:31). Volgens Minear (1960:222) is daar nie een absolute metafoor vir die kerk nie. Elke metafoor moet in konteks van al die ander metafore gesien word met deeglike inagneming van die werklikheid. Daar word gepoog om in dié artikel ’n voorlopige maar reeds gedefinieerde metafoor daar te stel wat die vrywillige dienswerk van AGS-lidmate ten doel het.

2.1 Liggaam-van-Christus-metafoor

2.1.1 Verklaring van begrip

Met die ontwaking van humanisme en demokratiese regeringskappe het die Renaissance en moderne Westerse kultuur die “top-down”-manier van dink en vorming van strukture uitgedaag deur ’n “bottom-up”-tendens. Die basiese behoefte aan gemeenskap en die afwesigheid daarvan in die “top-down”-kerkmodel, het die weg vir ’n invloedryke metafoor met ’n nuwe styl gebaan. Die liggaam-van-Christus-metafoor kon die nuwe identiteit verduidelik (Hendriks 2004:49). Heyns (1977:51) meen dat ons hier met ’n metafoor te doen het waarin die rykste betekenisskakeringe voorkom en daarom is dit vir die verstaan van die kerk van die allergrootste belang. Volgens Van Rensburg (1999:1569-1570) word die metafoor dwarsdeur die Efesiërbrief gebruik: “Die liggaamsbeeld wil ons leer van die eenheid wat daar in die kerk moet wees. Almal vorm saam as gelowiges die liggaam-van-Christus en saam doen hulle die werk waartoe Christus hulle roep.”

2.1.2 Liggaam-metafoor as ’n lewende organisme

Die liggaam is ’n lewende organisme wat kan groei of kwyn (Van den Berg 2000:37). Die metafoor spreek van lewe in die kerk omdat elkeen besig moet wees om die gawe wat hulle ontvang het, aan te wend in belang van die geheel (Rom. 12:8; 1 Kor. 12). Paulus gebruik die organisme-gedagte parenteties om die onderlinge eenheid van die lede van die kerk en hul verantwoordelikheid vir mekaar te beklemtoon. Volgens Murphy (1975:308) funksioneer die liggaam soos ’n liggaam waar elke lid as belangrik geag word en lidmate hul eiesoortige, unieke funksies verrig.

2.1.3 Liggaam-metafoor vir dienslewering

Die kerk as liggaam-van-Christus se roeping is om diens te lewer; diens aan God, kerk en samelewing. Die kerk as liggaam is die instrument waardeur Jesus Christus Hom tot die wêreld rig (Heyns 1977:57-58). Vir die uitvoer van die taak om diens aan God, kerk en samelewing te lewer, gee Christus deur sy Gees die nodige gawes aan die liggaam en sy lede (1 Kor. 12:1-11 Ef. 4:7, 11). Roberts (1990:120) stel dit dat “die diens wat lidmate behoort te verrig, die opbou van die liggaam-van-Christus ten doel moet stel en daarom moet die toerusting wat daarmee gepaard gaan dieselfde fokus hê. Die liggaam-van-Christus-metafoor veronderstel ook dat die ideaal vir ’n gemeente is, dat elke lidmaat besig sal wees met die dienswerk wat God vir hulle bedoel het”.

2.1.4 Kernteologiese bespreking

Die metafoor beklemtoon gemeenskap met mekaar en God in Christus waarbinne die Heilige Gees ’n fundamentele rol speel. Die konsep van die gemeente as liggaam-van-Christus baan die weg vir ’n kommunikasiestruktuur binne die gemeente waarin alle lidmate op gelyke vlak in die gemeente betrokke kan raak. Die geleentheid word aan lidmate gebied om die genadegawes soos deur die Heilige Gees aan hulle gegee, te beoefen (Hendriks 2004:50).

2.1.5 Vrae en antwoorde rondom die metafoor

Die metafoor stel die volgende vrae :

• Hoe word eenheid tussen lidmate bereik? Hendriks (2004:50) verklaar dat eenheid bereik word deur lidmate wat getuig van hulle geloof in Christus en in die teenwoordigheid van die Heilige Gees en sy gawes.

• Wie word deur die metafoor bevoordeel? Lidmate wat wedergebore is, die Heilige Gees ontvang het asook die gawes wat Hy gee, word bevoordeel, omdat hulle nou deel van die liefde en van die gemeenskap in die liggaam is. Daarmee saam bevoordeel die metafoor alle ander lidmate, sowel as mense wat die teiken van die kerk se uitreiking vorm.

• Wat is die doel of missie van die metafoor? ’n Persoonlike verhouding met Christus en die Heilige Gees deur gemeenskap met God wat lei tot gemeenskap met ander gelowiges in die liggaam is die doel of missie.

2.1.6 Beoordeling van die metafoor

Die positiewe van die metafoor is dat dit ’n sterk Bybelse basis het wat gemeenskap met mekaar en God beklemtoon. ’n Verdere positiewe uitwerking van die metafoor is dat daar opnuut besin word oor die bediening van die lidmaat. Die metafoor sien mense nie primêr en bloot as sondaars nie, maar as mense wat gered is en gebruik kan word.

In gemeentebouteologie word gepraat van ’n paradigmaverskuiwing ten opsigte van die verstaan van die kerk (Louw 1990:3). So ’n verskuiwing vervang die statiese herder-kudde-model met die dinamiese liggaam-van-Christus-metafoor van kerkwees (Hendriks 1992:123). Ofskoon die kerk in die Nuwe Testament aan die hand van ’n rykdom van beelde of metafore getipeer word, is dit veral die liggaam-metafoor wat telkens in literatuur bespreek word omdat die metafoor verskeie moontlikhede bied met die oog op doeltreffende gemeentefunk­sionering (Nel 1994:243).

Putter (2006:77-78) en Olwagen (2007:56) stel die liggaam-van-Christus-metafoor as bedieningsmodel vir AGS-gemeentes voor. Hulle is van mening dat:

• Die liggaam-van-Christus-metafoor as bedieningsmodel die beste uitdrukking gee aan die plan en wil van God vir die funksionering van sy gemeente en die effektiewe uitvoering van die missionale opdrag (Matt. 28:19);

• Dit die nadele van institusionalisering die beste teëstaan en neutraliseer;

• Waar gemeentes die metafoor as bedieningsmodel gebruik, die grootste en mees dinamiese kerkgroei, kwalitatief en kwantitatief, plaasvind. Die rede daarvoor is omdat daar meer mense betrokke by dienswerk is.

3. CHRISTUS AS HOOF VAN DIE LIGGAAM

Die liggaam-van-Christus-metafoor is ’n organisme, bestaande uit gelowiges wat saamwerk en vir mekaar omgee te midde van hulle verhouding met Christus as Hoof (Olwagen 2007:57). Die lewe van die liggaam vloei vanaf die Hoof, en hulle is deur die Heilige Gees met mekaar verbind.

3.1 Lidmate as deel van die liggaam

Gelowiges word in gemeentelike verband korporatief aangespreek en nie van hulle individualiteit ontneem nie. Alle gelowiges in die liggaam besit afsonderlik ’n eie identiteit, verpligting en taak (1 Kor. 12:12-31), alhoewel daar van individualisme geen sprake mag wees nie. Gelowiges vind hulle ware identiteit eers binne die Christelike gemeenskap. 1 Korintiërs 12:13 wys daarop dat mense deur die Heilige Gees in die liggaam-van-Christus ingedoop word. So word hulle deel van die liggaam.

Die begrip “lidmaatskap” kom as sodanig nie in die Bybel voor nie. Die gelowige word binne die konteks van die liggaam-van-Christus-metafoor ’n lid van die liggaam genoem. Alle lidmate staan gelyk voor die Here. Daar is egter lidmate wat vir besondere gawes geroep is (Ef. 4:12) om die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk.

Die term “leek” word nie in die artikel gebruik nie omdat dit nie voldoen aan die betekenis as lid van die kerk nie en omdat dit vatbaar is vir misverstande. “Leke” word dikwels in volksmond as “onwetend” en geestelik onvolwasse beskou. Die siening mag daartoe lei dat lidmate verval in die “leke”-rol van onaktiewe meelopers (Van den Berg 2000:37). Die gevolg is dat ’n “dominees-kerk” geskep word waar die dominee en die ampte al die werk verrig. Die term “lidmaat” word verkies.

Die AGS-kerk maak ’n onderskeid tussen amptelike en nie-amptelike lidmaatskap. Vir administratiewe doeleindes is slegs gedoopte lidmate amptelik lidmate (Konstitusie van die AGS 2008:4):

“The members of the church shall be composed of persons: who are born again and have received the believers baptism; who are recognised members of a local assembly, and who adhere to and accept the ‘Confession of Faith’ as stipulated in P.3 of the ‘Preamble’ to the constitution”.

Die grootte van die gemeente word ook bepaal deur die aantal gedoopte lidmate. In die praktyk egter is daar egter belangstellende mense wat nog nie gedoop is nie en wat hulle met die gemeente assosieer en as lidmate van die gemeente beskou. Die pastor van die plaaslike AGS-gemeente versorg ook hierdie mense. Strategieë behoort daargestel te word om alle mense, hetsy “amptelike” of “nie-amptelike” lidmate, in ’n potensiaalontwikkelings- en toerustingsmodel wat hulle in staat stel om hulle gawes te ontdek en te mobiliseer, op te neem om sodoende ten volle deel van die liggaam te wees.

3.2 Roeping van die liggaam

Liggaamsgroei vind plaas waar gelowiges as eenheid saamgevoeg is en hulle hul eie unieke funksies vervul (Louw & Nida 1988:69).

Deesdae het die mondigheid van die gemeente so op die voorgrond gekom dat daar selfs gepraat word van ’n tweede hervorming. Die eerste hervorming het die Skrifwoord in die hande van die gelowiges teruggeplaas. Die tweede wil die dienswerk in hulle hande plaas (Heyns & Pieterse, 1990:2). Deur middel van onderlinge bedienings (Van der Walt, 1979:20) oftewel korporatiewe dienswerk (De Klerk, 1978:9) bou die gelowiges mekaar op (Venter 1988:10-11, 20).

Die liggaam-van-Christus word die instrument, die kanaal waardeur die bediening van Christus hier op aarde voortgesit word. Volgens Langerman (1983:9) vind die bediening van die kerk in drie fases plaas. Die dissipels is eers geroep, daarna toegerus en dan uitgestuur om die koninkryk te verkondig. Hierdie roeping is tweeledig van aard, naamlik intern en ekstern.

3.2.1 Interne roeping

Snyder (1977:73) verklaar dat die vroeë kerk besig was met twee belangrike take:

• Die verkondiging van die evangelie

• Die opbou van die gemeenskap van die gelowiges Die bediening is aan die kerk gegee vir die opbou van die gelowiges sodat gelowiges hul dienswerk kan verrig.

• Die einddoel van wedersydse bedienings in Efesiërs 4:13 is: “So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus” (Olwagen 2007:142).

3.2.2 Eksterne roeping

Die identiteit van die kerk is in wese missionaal (Bosch 1991:392). Volgens Hendriks (2004:25) bestaan die gemeenskap van die gelowiges uit lidmate wat betrokke by die wêreld is. Die gebed, “laat U koninkryk kom”, vra ’n missionale praxis in gemeentes (Hendriks 2004:32). Murphy (1975:190) definieer die eksterne roeping van die kerk: “The mission of the church is to establish a rapport with people by our presence among them. Then we proclaim the Gospel to them. This implies to persuade them to make a clear-cut decision for Christ. Finally, we work to incorporate them into worshipping groups”.

3.3 Potensiaal van lidmate

Om lidmate optimaal te mobiliseer om hulle plek en funksie in die liggaam-van-Christus op te neem, sal dit nodig wees om elke lidmaat se potensiaal te ontdek en te ontwikkel. Met die begrip “potensiaal” word aan mense se talente, gawes of vaardighede gedink, die latente vermoëns waaroor lidmate beskik en wat, indien dit geaktiveer word, aangewend kan word om belangrike doelstellings te bereik. Die vraag is of pastors die talente, gawes, vaardighede of potensiaal van die lidmate raaksien. Indien wel, kan hulle dit ontwikkel tot uitbreiding van die koninkryk? Volgens Olwagen (2007:61) sien die Bybel potensiaal in alle lidmate. God as Skepper het ’n bepaalde potensiaal in alle lidmate geplaas en lidmate behoort te ontwikkel om daardie volle Godgegewe potensiaal te ontsluit.

3.3.1 Karakter van die potensiaal

Olwagen (2007:61) meen dat God mense gebruik as sy instrumente om die goeie nuus te versprei. Derhalwe gee God ’n verskeidenheid genadegawes aan lidmate om in diens van die koninkryk te staan. Genadegawes stel lidmate in staat om onder leiding van die Heilige Gees spesiale take tot opbou van die gemeente te verrig. Schwarz (2001:42) beweer dat tot 80% van alle Christene onseker is oor hulle gawes wat aanleiding gee tot, soos hy dit beskryf, die kritieke toestand in die kerk. As ’n gemeente wil groei, behoort die pastors dringend aandag te skenk aan die ontdekking en toerusting van hulle lidmate. Die groei van ’n gemeente of liggaam staan in direkte verhouding tot die mate waarin alle lidmate van die liggaam hulle diens verrig soos onder andere in Efesiërs 4:12 uiteengesit (Murphy 1975:41). Maxwell (1993:103) is van mening dat mense die pastor se mees waardevolle bate is terwyl die groei van ’n gemeente of liggaam afhang van die mate waarin elke lid van die liggaam hul diens vervul. Conner (2000:107-108) meen dat die groei in gemeentes bepaal word deur die vermoë van ’n leier om deur mense te werk. Goeie leiers ontwikkel spanne waarin hulle saamwerk vir die uitvoer van die missionale opdrag.

3.3.2 Ontwikkeling van lidmaatpotensiaal

Daar is by wetenskaplikes uiteenlopende benaderingsverskille as dit kom by ontwikkelingsteorieë, juis omdat wetenskaplikes die probleem vanuit verskillende hoeke benader. Meyer en Van Ede (1990:51) wys daarop dat hierdie verskille in wese gegrond is in die mensbeskouing wat as uitgangspunt geneem word. Meyer en Van Ede (1990:97) is van mening dat optimaal ontwikkelde persone die vermoë het om hulle potensiaal ten volle te ontwikkel.

Oor die faktore wat tot optimale ontwikkeling lei is daar veral twee standpunte wat algemeen deur wetenskaplikes ondersteun word. Sekere psigoloë meen dat optimale ontwikkeling slegs onder gunstige omstandighede kan plaasvind, terwyl andere meen dat persone ten spyte van nadelige omstandighede optimaal kan ontwikkel (Meyer & Van Ede 1990:97-98). Wat van belang is, is dat beide uitgangspunte in werklikheid bevestig dat die lidmaat latente ontwikkelingspotensiaal het (Olwagen 2007:63). Richards en Bergin (1997:102) bevestig ook dat alle mense onbeperkte potensiaal het en stel dit soos volg: “As creations of God, eternal identities have noble, infinite potential”.

Potensiaal dui op latente vermoëns wat, indien dit geaktiveer word, aangewend kan word om sekere doelstellings na te streef. Ontwikkeling dui daarop dat dit analoog is aan die ontwikkeling van ’n foto vanuit ’n negatief. Die volle potensiaal en eienskappe van die finale foto lê in die negatief opgesluit maar die potensiaal wat in die film vasgelê is, moet eers ontwikkel word voordat die volkome beeld bereik kan word.

Volgens Olwagen (2007:63) kan die twee begrippe saamgevoeg word. Potensiaalontwikkeling kan dan gedefinieer word as die proses waardeur die latente vermoëns van mense ontwikkel word. Die potensiaalontwikkelingsproses is ’n voortdurende proses aangesien alle mense voortdurend in ’n proses van groei en verandering is. In die lig van die studie beteken dit dat mense se ingeboude of latente geestelike gawes op sodanige wyse ontwikkel behoort te word dat hulle uiteindelik sinvol God se doel met hulle lewens kan bereik.

3.4 Gawes en bediening

Gawes en bediening is nodig vir die uitvoer van die sendingopdrag soos in Matteus 28:19 uiteengesit is. Om aan die roeping en uitvoering van die kerk se missionale opdrag gehoor te gee is daar volgens die apostel Paulus aan lidmate elkeen ’n gawe(s) gegee met die oog op die bediening van die liggaam en die bereiking van die wêreld (Murphy 1975:xi). Talle skrywers, waaronder MacArthur (1973:133), Banks (1980:63) en Pedersen (1984:32), stem saam dat alle lidmate in ’n gemeente ’n gawe(s) ontvang het en verantwoordelikheid behoort te aanvaar om dit tot heil van die gemeente uit te leef. Möller (1983:50) meen dat elke geestelike gawe gegee word met die oog op een of ander funksie wat in die liggaam-van-Christus verrig word.

3.4.1 Verskeidenheid van genadegawes

Die woord charisma is ’n breë en omvattende woord vir genadegawes, ’n guns wat iemand ontvang sonder enige verdienste van hulle eie (Möller 1997:57). Verskeie definisies is al voorgehou ter verduideliking. Paulus se bedoeling in die noem van die besondere gawes in Efesiërs 4:11 was nie om ’n volledige lys van dienste weer te gee nie (Hendriksen 1976:195). Dit gaan oor geskikte persone wat deur die Heilige Gees daargestel is om bepaalde take en dienste te verrig (Grosheide 1960:66) en om mense wat deur die Heilige Gees met gawes toebedeel is (Phillips 1993:117).

In sistematiese studies het dit die norm geword om die gawes te kategoriseer. Skrywers het hulle eie perspektiewe rondom die saak en daar bestaan nie eenstemmigheid nie. Groepering kan op verskeie maniere plaasvind, afhangende van watter uitgangspunt ’n skrywer het (Jackson 1982:181). Volgens MacGorman (1974:35) is die klassifisering van die gawes nie vanuit die Skrif gefundeer nie. Nêrens poog die Skrif om die gawes te klassifiseer nie. Van Schalkwyk (1988:29) waarsku dat die vrymag van God nie aan bande gelê moet word deur die baie kategorieë waarin die gawes van die Heilige Gees geplaas word nie. Dit blyk uit die bestudering van die Nuwe Testament dat sekere gawes nouer met mekaar skakel as ander. Daar is oorvleueling en ineenvloeiing. Sekere gawes word saam geklassifiseer vanweë die aard en funksionering daarvan. Met die liggaam-van-Christus-metafoor word die interafhanklikheid en onderlinge belang van die gawes beklemtoon in die sin dat alle gawes essensieel vir die gesonde funksionering van die gemeente is.

Daar bestaan nie “hoër” of “laer” klas gelowiges nie, soos daar ook nie eksklusiewe voorkeurgawes bestaan nie. Daarom behoort alle gelowiges ’n bydrae tot diens in die gemeente te lewer. Die wese van dienswerk maak ook geen verskil tussen lidmaat en ampsdraer nie. Alle gelowiges beoefen hulle dienswerk deur middel van die gawes.

God gee aan individuele gelowiges verskillende gawes om verskillende dienste op ’n diversiteit van diensterreine te verrig. Alle gelowige beoefen hulle funksie ooreenkomstig die gawe(s) wat hulle ontvang.

3.4.2 Verskeidenheid van bedieninge

Wanneer word ’n bediening as funksioneel beskou, in die lig van Stedman (1972:41) se stelling, dat ’n bediening die sfeer is waarbinne ’n gawe deur ’n lidmaat funksioneer? Olwagen (2007:69) is van mening dat ’n latente genadegawe in die praktyk van weinig nut vir die koninkryk van God is as dit nie beoefen word nie. Die oomblik wanneer hierdie gawe beoefen word, vind bediening plaas, hetsy binne of buite gemeentelike verband, of dit deur die gemeente erken word of nie en of dit kortstondig, sporadies of voortdurend van aard is. Die ideaal is dat die beoefening daarvan op ’n voortdurende basis sal wees en dat dit deur die gemeente erken en bevestig word. Fenhagen (1977:21) verklaar dat ’n “bediening, handeling” alleenlik in sy Naam beoefen behoort te word en nie iets is wat lidmate uit hul eie behoort te beoefen nie. Hy meen dat dit iets is wat Christus in, deur en met mense doen. Warren (1995:16-17) meen dat gemeentes vanself sal groei as hulle gesond is, terwyl Fenhagen (1977:134) noem dat die liggaam alleenlik gesond sal wees wanneer die gelowige aktief betrokke is met die funksies waartoe God hulle geroep het.

3.4.3 Verskeidenheid van werkinge

Stedman (1972:42) definieer die verskeidenheid van werkinge as volg: “The term refers to the degree of power by which a gift is manifested or ministered on a specific occasion, and also to which gift manifests through whom on what occasion ...” Dit is die prerogatief van God om te bepaal wat deur die verskillende bedieninge en die beoefening van die gawes vermag moet word. So byvoorbeeld het Johannes die Doper nie een wonderwerk gedoen nie. Nogtans verklaar Jesus in Matteus 11:11 dat daar onder dié wat uit vroue gebore is, nie een opgestaan het wat groter as hy is nie. God bepaal deur wie Hy watter gawe wil gee. Vervolgens enkele gedagtes rondom die praktiese implikasie van die liggaam-van-Christus-metafoor.

4. BEDIENING VAN DIE AGS-LIDMAAT

Klemverskuiwings maak dit nodig vir die kerk om indringend haar selfverstaan te hersien en ’n nuwe prakties-teologiese ekklesiologie te ontwikkel. Onder ’n prakties-teologiese ekklesiologie word verstaan ’n metafoor vir kerkwees wat nie soseer konsentreer op die wese van die kerk nie, maar op die lewe van die kerk. Dit is ’n poging om die wese van die kerk in terme van haar funksie te verstaan. ’n Prakties-teologiese ekklesiologie toets die konfessionele basis van die kerk krities aan die gehalte, kwaliteit en volwassenheid van lidmate wat in die wêreld gestalte moet gee aan die boodskap van die kerk. Die vraag is nie of mense aan die ware kerk behoort nie, maar eerder of hulle ware en lewende lidmate van die kerk is (Louw 1992:121).

Vanweë die toenemende proses van sekularisasie, vertegnisering, rekenarisering, meganisering en kommersialisering vandag bestaan daar ’n toenemende behoefte by mense na humaniteit en intimiteit. Met die oog op dié belangrike eksistensiële behoeftes kies die prakties-teologiese ekklesiologie die liggaam-van-Christus-metafoor. Die verstaan van die kerk as liggaam-van-Christus gee die beste uitdrukking aan die primêre funksie van die kerk in die een-en-twintigste eeu met ’n verwagte toename in probleme soos armoede en geweld en die uitleef van die funksie van die kerk deur versorging, diens en gemeenskap (Louw 1992:124).

In die liggaam-van-Christus-metafoor tree die pastor op die agtergrond en word die bediening van die lidmaat herstel. Waar lidmate se bydrae moontlik voorheen as minderwaardig beskou is, val die klem in die liggaam-van-Christus-metafoor op die priesterlike bediening en geestelike gesag van die gelowiges (Mark. 16:17; 1 Pet. 2:9; Op. 5:10).

Olwagen (2007:71) meen dat ’n gaping tussen pastors en lidmate oor die jare so ontwikkel het omdat die kerk van die Bybelse patroon van gemeente-wees afgewyk het. Die kerk het ’n instituut en organisasie geword in plaas van organisme. Dit het al meer gegaan om die elite, titels, status en professionalisme. Een van die grootste struikelblokke wat die plaaslike gemeente verhinder om as liggaam-van-Christus te funksioneer, die onderskeid is wat daar gemaak word tussen “geestelikes” en “lidmate”. Alle Christene is geroep om volk van God te wees (1 Kor. 1:2; Ef. 4:1,4; 2 Tim. 1:9). Daarom is alle mense veronderstel om dienswerkers te wees.

4.1 Rol van die besondere ampte

Navorsing (Olwagen 2007:158-185) bevind dat ’n direkte verband tussen hoë vlakke van betrokkenheid van pastore en lae vlakke van lidmaatbetrokkenheid in bedieningsvelde bestaan. Die statistieke toon die dringendheid van die vestiging en verdere ontwikkeling van vrywillige dienswerkerspanne in gemeentes. Die klem op die dienswerk van die gelowiges en die ontwikkeling van die individuele gawes is gemik op die regstelling van ’n fundamentele probleem, “klerikalisme” (Hendriks 1994:187-188).

In die klassieke Reformatoriese model is die besondere ampte op gelyke vlak met gemeentelede en is daar geen sprake van ’n hiërargie of ampsbemiddeling nie.

Die besondere ampte word as essensieel beskryf. Die belangrikste rede waarom die beson­dere amp binne die Gereformeerde kerke met die term essensieel beskryf kan word, is omdat die amp in die Skrif gefundeer word en nie van tyd en omstandighede afhanklik gemaak kan word nie. Oor die feit dat die besondere ampte as instelling ’n Bybelse gegewe is, is daar geen onduidelikheid nie (Heyns 1992:54).

Versteeg (1988:49-53) beklemtoon eweneens die essensie van die besondere amp deur ’n onderskeid te tref tussen amp en diens. Alle gelowiges is tot diens geroep, maar alle dienswerk het nie ’n amptelike karakter nie. In Efesiërs 4:11-12, kry diens volgens hom ’n amptelike karakter wanneer dit daarop gerig is om ander gelowiges (vgl. Ef. 4:11 - heiliges) te help om dienswerk te verrig. Versteeg (1988:53) stel dit dat die werk van besondere ampte die karakter het “van een dienst ten dienste van het dienen van alle anderen in die kerk”.

Die besondere ampte verseker dat die dienste van lidmate sinvol ge­koördineer word en nie kontraproduktief is nie. Die besondere ampte werk ook stimu­lerend en vormend, die besondere ampte voed die liggaam-van-Christus. Versteeg (1988:57) is van mening dat die diens van gelowiges afhanklik is van die besondere ampte. Hy gaan sover om te sê: “... zo kan en zonder de dienst van de ambtsdragers geen func­tioneren van de gelovigen zijn”.

In die Reformatoriese model word die besondere ampte en die ge­meente duidelik van mekaar onderskei. Die besondere ampte en die gemeente staan in ’n afhanklike verhouding tot Christus. Tog word daar ’n bepaalde gesag aan die besondere ampte gegee soos gesimboliseer in hulle ordening en bevestiging wat dikwels in die praktyk lei tot die ontwikkeling van “klerikalisme” en “hiërargieë”.

4.2 Organisasie en strukture

Die liggaam-van-Christus-model sluit nie organisering en strukture uit nie. Dit verskil van die meer institusionele kerk daarin dat:

• Die institusionele model nie tot die primêre verhef word nie, maar op sekondêre vlak die liggaam-van-Christus dien;

• Die besondere ampte in die kerk nie hiërargies bepaal word nie, maar funksioneel volgens die gawes wat Christus gee;

• Die onderskeid tussen die besonder ampte en die lidmate wegval;

• Die gawes van lidmate geïdentifiseer word en elkeen opgelei word om hulle bediening in die liggaam-van-Christus te vervul.

Deemer (1976:94) sê: “As the church sees itself more and more as the body of Christ, it will grow, strengthen, prosper, and lead its people; and it won’t have to worry about preserving the institution... I can envision nothing in the church of the future that would contribute more to its healthy spiritual growth”.

4.3 Eerste gemeentes na Pinksterdag

Reg in die begin van die eerste gemeente was daar persone wat as leiers en voorgangers in die gemeente na vore getree het, te wete die apostels. Gou is daar egter besef dat hierdie leiers nie in staat was om al die gemeentelike funksies te vervul nie. Diakens is gekies en aangestel om met die nodige taak van die versorging van die weduwees en die bediening van die tafels behulpsaam te wees. Die apostels kon hulle besig hou met gebed en die bediening van die Woord (Hand. 6:1-7). Renwick (1958:19) se waarneming is dat alhoewel in die breër kerk die tydelike ampte van apostels, profete en evangeliste, en in die plaaslike gemeente die meer permanente ampte van ouderlinge, en diakens bestaan het, die betrokkenheid van gewone lidmate saam met die voorgangers in die algemene aktiwiteite van die gemeente ’n kenmerk van die eerste gemeentes was. Neill & Weber (1963:29) beskryf hoe gewone lidmate ook deelgeneem het aan die liturgie, lering, dissipline, Christelike diens en getuienislewering.

4.4 Waarom institusionalisering in die kerk plaasgevind het

Waarom het die kerk sy aanvanklike liggaam-van-Christus-karakter ten koste van institusionalisering of te wel die herder-kudde-karakter prysgegee? Wat was die rede(s) wat aanleiding gegee het daartoe dat die vroeë lewenskragtige gemeentes van Pinksterdag wie se godsdienstige lewe hoofsaaklik bestaan het uit ’n grenslose onderwerping aan die gesag en praktyke van die kerk, gegroei het tot ’n kerk waar die werking van die Gees plek moes maak vir menslike hiërargieë en uiterlike simbole?

Snyder (1975:49-50) meen die drie sentrale elemente van die Mosaïese verbond was die offer, priesterskap en tabernakel. Gekoppel aan die Mosaïese wet, het dit die basis vir die verbondverhouding tussen God en sy volk gevorm. In die Nuwe Testament verneem ons dat Christus self die vervulling van die offer, priesterskap en tabernakel is.

• Christus self is ons Hoëpriester (Heb. 4:14; 8:1);

• Die algemene priesterskap het oorgegaan op alle gelowiges (1 Pet. 2:9; Open. 1:6);

• So ook is Christus die ware en volmaakte offer (Heb. 7:27; 9:14) en die vervulling waarvan die tabernakel die heenwysing was (Heb. 8-9). Die gelowiges self, die kerk, word nou ’n lewende en heilige offer (Rom.12:1,2) asook die tabernakel of tempel waarin die Heilige Gees woon (2 Kor. 6:16).

Vir meer as ’n eeu het die kerk aan hierdie waarhede vasgehou, maar daarna toegegee aan die versoeking om die gemeenskap van die heiliges in ’n institusie te verander. Solm (1926:38-39) voer aan dat die natuurlike mens ’n gebore vyand van die Christendom is. Enersyds is daar die verlange na verlossing deur Jesus, maar andersyds is daar teenstand hierteen. Die natuurlike mens wil onder die wet bly. Hulle weerstaan die vryheid van die evangelie en begeer ’n wettiese en sigbare institusie.

Kerkgeboue van goud en edelgesteentes, indrukwekkende gewade, plegtige seremonies en ander tekens van die gesag van klerikalisme en die hiërargie het hierdie neiging bevredig en die verwêreldliking en institusionalisering van die kerk aangeblaas tot op ’n vlak wat uiteindelik aanleiding gegee het tot die Hervorming.

4.5 Invloed van Montanisme op institusionalisering

≠Daar woord laastens kortliks gekyk na die invloed van Montanisme op institusionalisering in die vroegste Kerk. Volgens Burger en Nel (1987:21-24) was daar reeds teen die middel van die tweede eeu ’n mate van wêreldgesindheid in die kerk en geestelike louheid te bespeur. Die inspirasie en leiding van die Heilige Gees wat kenmerkend was van die vroeë kerk het afgeneem. ’n Afname in die voorkoms van die gawes van die Heilige Gees was te bespeur (Renwick 1958:34). Daar is begin om ’n onderskeid tussen “geestelikes” en “gewone lidmate” te maak. Voorgangers is al hoe meer gesien as priesters wat die heil deur middel van die sakramente aan leke meedeel. Die wederkomsverwagting het ook ernstig afgeneem. Die negatiewe invloed van Gnostisisme met klem op die rede het ook grootliks tot hierdie toestand bygedra. Al hierdie faktore het daartoe bygedra dat die kerk al hoe meer in formalisme verval het.

Die toestand het aanleiding gegee tot die opkoms van ’n vernuwings- of herlewingbeweging. Montanisme kan waarskynlik gesien word as die eerste van sulke bewegings in die kerkgeskiedenis. Montanus het volgens Renwick (1958:34) beweer dat hy ’n spesiale openbaring van die Heilige Gees ontvang het en ’n begeesterde herlewingsveldtog begin. Die beweging het egter gekies om hulself te onttrek en af te skei om ’n eksklusiewe en geslote groep te vorm. Hy meen dat dit die hoofrede was waarom Montaniste in buitensporighede en fanatisme verval het.

Groeiende ontevredenheid oor die toestand van die kerk noodsaak Montanus om teen ongeveer 156 n.C. ’n nuwe beweging te stig. Hulle was uiters toegewyde Christene wat op die leiding van die Heilige Gees gesteun het. Die charismata het vrylik voorgekom, byvoorbeeld glossolalie, profesie en genesing. In hulle aanbidding en dienste het hulle teruggekeer na die eenvoud, vryheid en spontaneïteit van die vroegste Kerk, waar alle gelowiges in die eredienste gedeel en meegeleef het. Die verwagting van die spoedige wederkoms van die Here bereik ook ’n nuwe hoogtepunt.

Montanisme het ook in dieselfde strik as menige reaksie-beweging teen die toestand van die kerk in die latere kerkgeskiedenis getrap. So ’n reaksiebeweging raak dikwels ongebalanseerd in hulle reaksie. Dit het in vele opsigte met die Montaniste gebeur. ’n Gesonde verwagting van die wederkoms is deur wilde spekulasies daaroor vervang. Spontane aanbidding het in wilde ekstase, geesdrywery en entoesiasme met onbeheerste fanatisme verval. Vryheid het in ongebondenheid verander. Profesie is oorbeklemtoon ten koste van die Skrif. Ware heiligmaking het in wettisisme en onverdraagsaamheid teenoor ander ontaard. Renwick (1958:35-36) stel dit dat die leiers in die kerk verhef is en beskou is as diegene wat die sake van God in hulle hande gehad het.

5. VERANTWOORDELIKHEID VAN DIE PASTOOR

In die liggaam-van-Christus-metafoor word die verantwoordelikheid van elke lidmaat van die liggaam beklemtoon. Volgens die Nederduitse Hervormde Kerk van Afrika (1989:38) word predikante aangemoedig om hulle lidmate bewus te maak van die taak wat elkeen van hulle in die kerk behoort te verrig. Verder behoort predikante daarop te konsentreer om hulle gemeentelede te begelei tot die besef waar hulle self vir die opbouing van die gemeente verantwoordelik is.

In die AGS speel die pastore ’n belangrike rol in die vesting van ’n bedieningsmetafoor vir vrywillige dienswerkers in gemeentes. Die navorsingsbevindings toon die hoë vlakke van betrokkenheid van pastore in die bedieningsvelde Olwagen (2007:179). Die statistieke toon verder die dringendheid van die vestiging en verdere ontwikkeling van vrywillige dienswerkerspanne in gemeentes. Die proses begin by hulle. Hulle is verantwoordelik om die paradigmaskuif na ’n liggaam-van-Christus-metafoorgemeente te maak deur die potensiaalontwikkeling en toerusting van hulle lidmate, en hulle dan te bemagtig om vrywillige dienswerk te beoefen.

Blackaby en Blackaby (2001:18-20) beklemtoon die verantwoordelikheid van pastore om God se doelwit vir hulle lewens na te streef as hy geestelike leierskap soos volg definieer: “Spiritual leadership is moving people to God’s agenda”. Die vraag wat gestel word is: Wat is God se agenda? Blackaby en Blackaby (2001:127) beskryf die hooftaak van die pastoor soos volg: “It is to take their people from where they are to where God wants them to be.” Daarom is dit belangrik dat pastore gemeentemobilisasie as ’n prioriteit sal sien en dit as een van hulle primêre leierskapsfunksies sal implementeer.

Conner (2000) verwys in sy boek: “Transforming your Church” veral na twee paradigmaskuiwe wat die pastor behoort te maak om die gemeente te mobiliseer deur ”gewone lidmate” te bemagtig vir vrywillige dienswerk. Die implementering van paradigmaskuiwe word deur die skrywer as imperatief beskou vir die sukses van die doelwit. Die paradigmaskuiwe word soos volg gestel.

• “A leadership shift from ministers to equippers” Conner (2000:93-112);

• “A ministry shift from consumers to contributors” Conner (2000:113-134).

In kort beteken dit dat:

• Pastore meer lidmate sal toerus vir vrywillige dienswerk (vgl. Ef. 4:11-12);

• Toegeruste lidmate vrywillige dienswerk sal verrig (vgl. 1 Pet. 4:10).

6. SLOT

In die artikel kon daar gekyk word na die liggaam-van-Christus-metafoor, asook die AGS-kerkstruktuur en hoe die AGS histories deur sekere ontwikkelingsfases gegaan het en dat daar binne hierdie algemene ontwikkeling ook ’n ontwikkeling in die bedieningspatroon was. Die kerk is as liggaam-van-Christus-metafoor ondersoek en as ’n Bybelse alternatief voorgestel. Lidmaatpotensiaal, die karakter en veral die ontwikkeling daarvan word as ’n noodsaaklikheid vir die effektiewe uitvoering van die missionale opdrag beskou. Die verskeidenheid gawes en bedieninge wat aan die kerk gegee word, is ondersoek, ook besondere ampte wat gelowiges vir hulle dienswerk toerus. Om die missionale opdrag suksesvol uit te voer, behoort lidmate hulle dienswerk uit te leef. Die onderskeid wat daar tussen “geestelikes” en ”gewone lidmate” ontstaan het, is uitgewys. Die pastor is verantwoordelik om die invloed van institusionalisme teen te staan deur ”gewone lidmate” te bemagtig vir vrywillige dienswerk.

BIBLIOGRAFIE

Apostoliese Geloof Sending Van Suid-Afrika – Konstitusie: 2008. AGS Hoofkantoor. Pretoria.

Banks, R 1980. Paul’s Idea Of Community. Exeter: Paternoster.

Blackaby, H & Blackaby R 2001. Spiritual Leadership. Nashville: Broadman & Hofman.

Bosch, D J 1991. Transforming Mission: Paradigm Shifts In Theology Of Mission. New York: Orbis.

Burger, IS vd M & Nel, M 2008. The fire falls in Africa. Vereeniging: Christian Publishing Company (CUM).

Conner, M 2000. Transforming Your Church. Ventura: Renew.

Deemer, P 1976. Fulfilling the body of Christ, in Strough, F C & Strough, U T (eds). Realities And Visions, New York: Seabury, 92-98.

De Klerk, J J 1978. Herderkunde. Pretoria: N G Kerk-boekhandel.

Fenhagen, J C 1977. Mutual Ministry. New York: Seabury.

Grosheide, F W 1960. Die Brief Van Paulus Aan Die Efesiërs. Kampen: NV Uitgewersmaatscappij.

Hendriks, H J 1992. Strategiese Beplanning In Die Gemeente. Beginsels In Die Praktyk Van Gemeente Vernuwing. Wellington: Hugenote Uitgewers.

Hendriks, H J 1994. Missionêre gemeentebou. Praktiese Teologie in Suid-Afrika, 9(2):180-191.

Hendriks, H J 2004. Studying Congregations In Africa. Paarl: Paarl Printers.

Hendriksen, W 1976. Ephesians. Edinburgh: Banner of Truth.

Heyns, J A 1977. Die Kerk. N G Kerk-boekhandel, Pretoria.

Heyns, L M 1986. ’n Prakties-Teologiese Ondersoek Na Die Kerklike Strukture Van Die Nederduitse Gereformeerde Kerk. DTh-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Heyns, L M 1992. Die Besondere Amp – Essensieel Of Funksioneel? Theologia Evangelica 25(3):52-58.

Heyns, L M & Pieterse, H J C 1990. Eerste Treë In Die Praktiese Teologie. Pretoria: Gnosis.

Jackson, C J 1982. Die Funksionering Van Die Charismata In Die Opbou Van Die Gemeente. DD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Langerman, J L 1983. Apostolic Faith Mission Of South Africa: A Revitalization Of The Theological Concepts Of Church Ministry. DMin-dissertation, Fuller Theological Seminary.

Louw, D J 1990. Charisma En Amp: Op Soek Na ‘n Koinoniale Diensmodel Vir Gemeentebou. Ned. Geref. Teologiese Tydskrif, 31(1):220-239.

Louw, D J 1992. Die Ontwerp Van ‘N Prakties-Teologiese Ekklesiologie Vir Gemeentebou. Praktiese Teologie in Suid-Afrika, 7(2):119-136.

Louw, J P & Nida E A (ed) 1988. Greek-English Lexion Of The New Testament Based On Semantic Domains. Vol 1 & 2. New York: United Bible Societies.

MacArthur, J 1973. The Church, The Body Of Christ. Grand Rapids: Zondervan.

MacGorman, J W 1974. The Gifts Of The Spirit. Nashville: Broadman.

Maxwell, J C 1993. Developing The Leader Within You. Nashville: Thomas Nelson.

Meyer, W F & Van Ede D M 1990². Ontwikkelingsteorieë, in Louw, D A (red). Menslike Ontwikkeling. Pretoria: HAUM, 51-99.

Minear, P 1960. Images Of The Church In The New Testament. Philadelphia: Westminister.

Möller, F P (Jnr) 1997. Words Of Light And Life. The Work Of The Holy Spirit In The Life Of The Believers. Vol 6. Hatfield: Van Schaik.

Murphy, E F 1975. Spiritual Gifts And The Great Commission. South Pasadena, California: Mandate.

Nederduitse Hervormde Kerk van Afrika, 1989. Algemene Kerkvergadering. Agenda Van Die Algemene Kerkvergadering 1989. Pretoria: NHKA Kerkargief.

Nel, Malan 1994. Gemeentebou. Halfway House: Orion.

Olwagen, J M 2007. Gemeentemobilisasie deur die ontdekking, ontwikkeling en toerusting van die lidmaat vir dienswerk. DLitt et Phil-Proefskrif, Universiteit van Johannesburg.

Pedersen, D J 1984. The Local Church As An Expression Of The Body Of Christ: A Practical Theological Enquiry. MTh-dissertation, Universiteit van Suid-Afrika.

Phillips, J 1993. Exploring Ephesians. New Jersey: Loizeaux Brothers.

Putter, A P J 2003. Die mobilisering van lidmate in ’n tipiese AGS gemeente Robertsham. MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, Johannesburg.

Putter, A P J 2006. Die voortgesette akademiese ontwikkeling van die AGS-pastoor. DLitt et Phil-Proefskrif. Universiteit van Johannesburg. Johannesburg.

Putter, A P J 2009. Voortgesette Teologiese Opleiding as instrument vir AGS-pastors om onrealistiese rolverwagtinge te bestuur. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 24 (1),149-172.

Renwick, A M 1958. The Story Of The Church. Michigan: Zondervan.

Richards, P S & Bergin, A E 1997. A Spiritual Strategy For Counseling And Psycotherapy. Washington DC: American Psychological Association.

Roberts, J H 1990. Die Brief Aan Die Efesiërs. Skrifuitleg vir die Bybelstudent en gemeente. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Schwarz, C A 2001. The 3 Colours Of Ministry. Barcelona: Zondervan.

Snyder, H A 1977. The Community And The King. Madison: Intervarsity.

Solm, R 1926. De Geschiedenis Der Kerk In Hare Grondtrekken Geschets. Nijkerk: Callenbach.

Stedman, R C 1972. Body Life. Ventura: Regal.

Van den Berg, C J 2000. Tersaaklike Pauliniese Perspektiewe Op Die Christelike Identiteit Van Die Lidmaat. MTh-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit.

Van Rensburg, F J 1999. Efesiërs, in Vosloo, W en Janse van Rensburg, F (reds). Die Bybellennium, Eenvolumekommentaar. Vereeniging: CUM. 1567-1580.

Van Schalkwyk, J 1988. Gemeentebou – Ons Opdrag. Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.

Venter, C J H 1988. ’n Nuwe Testamentiese profiel van ’n gemeente wat homself opbou, in Venter, C J H (red). God Bou Op Deur Die Woord. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O., 10-27.

Versteeg, J P 1988. Het karakter van het ambt volgens Ef 4:7-16, in Rossouw, P J (red). Gereformeerde Ampsbediening. Pretoria. N G Kerk-boekhandel. 47-74.

Vos, C J A 2005. The Poetry Of The Psalms. Pretoria: Protea.

Warren, R 1995. The Purpose Driven Church. Michigan: Zondervan .

TREFWOORDE

Liggaam van Christus, Roeping, Lidmaat, Potensiaal, Bediening

KEY WORDS

Body of Christ, Calling, Member, Potential, Ministry

KONTAKBESONDERHEDE

Dr. Koos Olwagen

Fakulteit Geesteswetenskappe

Universiteit van Johannesburg

JOHANNESBURG

E-pos: koelma@telkomsa.net

Dr. Andries Putter

Fakulteit Praktiese Teologie

Noordwes-universiteit (Potchefstroomkampus)

POTCHEFSTROOM

E-pos: andriesputter@telkomsa.net