Van die Redaksie
Dit is aangenaam om hiermee die eerste uitgawe van die NGTT vir 2004 aan u bekend te stel.
Soos u sien, is daar twee nuwe redaksielede, tw drr André Olivier en Johan Cilliers. Ons sê aan albei baie welkom. Ons hoop julle sal lang en aangename jare op die redaksie dien. Terselfdertyd sê ons totsiens aan drr Ben du Toit en Coenie Burger wat gevra het om nie langer op die redaksie te dien nie – Coenie vanweë talle ander verpligtinge en Ben, dink ek, om meer van sy aftreetyd te hê vir gholf. Ben het vir baie jare waardevolle diens gelewer sowel as redaksielid as ook Redakteur van die Tydskrif. Ons gun hom ’n welverdiende rustyd. Aan albei sê ons baie dankie.
By die Fakulteit op Stellenbosch is een van ons medewerkers, prof Elna Mouton vanaf April 2005 benoem as Dekaan van die Fakulteit. Tot dan dien sy as Visedekaan. Ons sê graag baie geluk en ook baie sterkte aan Elna met die groot verantwoordelikheid wat na haar kant toe kom. Nog steeds by die Dept Nuwe Testament – verwelkom ons graag ook vir dr Jeremy Punt as nuwe dosent aan die Fakulteit te Stellenbosch.
Die artikels in hierdie uitgawe strek weer oor ’n wye veld. Dr Han skryf oor Calvyn se gebruik van Augustinus. Dit is ’n artikel wat hy uit sy baie goeie proefskrif geskryf het. Catherine du Toit se artikel gaan oor die beeld van die Protestantisme by verskillende skrywers. Van Coenie Burger en Cas Wepener verskyn daar drie artikels oor die predikantsamp –’n baie ter sake tema van ons dag. Die res van hierdie reeks sal DV in die volgende uitgawe verskyn. Die eerste artikel van hierdie uitgawe gaan oor die Psalmberyming van Pierre Simond, die oudste teologiese en literêre werk wat vanaf 1699 in Suid-Afrika geskryf is en in 1704 in Amsterdam gepubliseer is. Nog is dit nie die einde van die verhaal nie. Waar die uitgawe van 1704 net die beryming van ongeveer ’n derde van die Psalms bevat, is Simond se beryming van al 150 Psalms ongeveer ’n jaar gelede in die Wolfenbüttel Biblioteek in Duitsland herontdek. Dit is in 1706 in Lille uitgegee. Wie het gesê daar is niks nuuts oor die Hugenote van Suid-Afrika te sê nie! Die artikel is in Engels omdat dit by ’n internasionale konferensie voorgedra is.
Ons hoop u sal dit baie geniet om hierdie uitgawe van die NGTT te lees.
P Coertzen (Redakteur)
Fakulteit Teologie
Universiteit Stellenbosch
10 Maart 2004