Burger, C W en Wepener, C J
BUVTON, Universiteit van Stellenbosch

Die predikantsamp. Deel 2: Op soek na ’n Bybelse visie van die amp: Ironieë en verrassings.

ABSTRACT

The office of the minister. Part 2: In search of a Biblical vision for the office: Ironies and surprises.

In this second article in our series on the office of the minister, the Bible will be looked at as a source for clarity on the essence of this office. People are often disappointed when they cannot find clear answers on questions concerning for example the office of the minister in the Bible, or that the answers that they find are not the answers they were actually looking for. The Bible however is often clear on other aspects regarding the office of the minister. Without giving the pretence of a complete Biblical inquiry on the office of the minister, six aspects on which the Bible is clear are presented and discussed after a very preliminary survey of the Old- and New Testament in this regard. Thereafter the six aspects is presented. These aspects will later, along with the findings from articles 1, 3 and 4 in this series, be used in order to formulate a systematic model for the understanding of the office of the minister in the fifth article.

uit die rots, uit die ding

in Kades, die stad

op die sande van Sin,|

breek U waters brak

D.J. Opperman

1. INLEIDING1

In hierdie artikel word ’n eerste poging aangewend om die kontekstuele uitdagings wat daar tans aan die amp van die predikant gebied word aan te spreek. Hier sal spesifiek gekyk word na die Bybel as bron om lig op die saak te werp. Na ’n kort verkenning van leierskap in die Ou- en Nuwe Testament word gekyk na ’n aantal konstantes. Hierdie konstantes aangaande leierskap in die Bybel word dan bespreek onder vyf noemers, te wete die belangrikheid van leierskap; die vraag of daar konstante gegewens is wat deurloop in die ampte ten spyte van die wisseling van kontekste; ’n deurlopende diensmotief; die feit dat leierskap selde in net een persoon setel; en laastens ’n kyk na die pogings om profeet, priester en koning te sien as die drie basiese leiersfunksies.

Die bedoeling van hierdie spesifieke artikel is geensins om ’n volledige oorsig oor die Bybelse getuienis aangaande die amp te gee nie. Daarvoor is die materiaal te omvangryk en kompleks. Daar is ’n drieërlei doel met hierdie artikel. In die eerste plek word gewys op die feit dat ons op heelwat van die spesifieke vrae oor die amp waarmee ons na die Bybel kom, geen enkelvoudige, duidelike antwoord gaan kry nie. Tweedens word aangetoon dat die Bybel oor sekere aspekte van die amp of leierskap (wat ons as minder belangrik beskou?) wel duidelike riglyne gee. Derdens, word ’n paar van die duidelike riglyne oor leierskap kortliks aangetoon.

2. INDIEN JY DIE REGTE ANTWOORDE WIL KRY MOET JY OOK DIE REGTE VRAE VRA

Meer mense het al die ervaring gehad dat hulle met dringende vrae na die Bybel kom in die hoop om duidelike en onomwonde antwoorde te kry en dan nie die antwoorde kry wat hulle gehoop het hulle daar sal vind nie. Dit kan ook met ’n mens gebeur indien jy na die Bybel kom met die hoop om duidelike aanwysings te kry oor wat predikantwees presies beteken. Indien jy ’n klinkklare omskrywing soek van watter tipe leiers daar in gemeentes behoort te wees en presies wat elkeen se taak is, kan jy redelik bedroë daarvan afkom.

Daar kan natuurlik meer as een rede wees vir hierdie teleurstelling. Dit kan wees dat ons spesifieke goed soek in die Skrif, dáár dit net so wil hoor en dan teleurgesteld is as ons dit nie kry nie. Ons oortuiging is egter dat dit om meer gaan. Soms word ook eerlike soekers teleurgestel deurdat die antwoorde net nie so duidelik in die Bybel staan as wat ons dit sou wou hê nie. Hier sou ’n hele aantal voorbeelde gegee kan word van onderwerpe wat uitloop op sulke teleurstellings. Om slegs ’n paar voorbeelde hier te noem wat betrekking het op die amp van die predikant:

• Was daar vaste ampte in die Nuwe Testament?

• Kom hulle gesag van bo of van onder af?

• Was hulle betaal of nie betaal nie?

• Is leiers aangewys deur God of deur die gemeente?

• Presies waar is die predikantsamp ingestel?

• Was die predikantsamp ’n voltydse amp?

Tiller (1988:432) merk in hierdie verband op dat ’n hernude teologiese verstaan van die Skriftuurlike begronding van die amp twee aspekte beklemtoon. Eerstens dat geen moderne patroon van bevestigde bedienaars aanspraak daarop kan maak dat dit konformeer aan die klein bietjie wat ons weet van hoe dié bediening in die Nuwe Testament gelyk het nie, “and therefor to claim Biblical authority for a particular pattern is hazardous” (sien ook Knox 1983:2). Tweedens dat indien die funksies van die amp in die Nuwe Testament apart beskou word van die organisasie daarvan, elke lid van die laos dan aktief daarin betrokke is (Tiller 1988:432). Knox (1983:3) is ook van mening dat die Nuwe Testament onteenseglik die vorm van organisasie en prosedures verswyg. ’n Kort diachroniese voëlvlug rakende leierskap in die Ou Testament en die amp van die predikant in die Nuwe Testament bevestig hierdie vermoedens en oortuigings.

2.1 Die Ou Testament

Hierdie oënskynlike onduidelikheid in die Bybel het onder andere te doen met die voortdurende verskille in die konteks en behoeftes van samelewings binne nuwe kontekste. O’Kennedy (2003) noem ’n paar voorbeelde van hoe nuwe sosiale situasies in die Ou Testament met hulle eie unieke uitdagings nuwe behoeftes rondom leierskap na vore roep. So byvoorbeeld wys hy daarop hoe God in die aartsvadertyd mense geroep het vir spesifieke take en hulle daarvoor toegerus het soos Noag, Abraham, Isak, Jakob en Josef, alhoewel hulle nie slegs op een terrein leiding geneem het nie (O’Kennedy 2003:136). Met die krisis van die Egiptiese slawerny stuur God weer sterk leiers, te wete Moses en Aäron, en Moses gee onder andere leiding as wetgewer, regter, in die verrigting van priesterlike take, as profeet en ook as leermeester. Gedurende die woestyntyd kon Moses nie meer alles alleen hanteer nie en het hy uitgeput geraak en wou God meer mense in sy diens gebruik, en gevolglik word manne aangestel met besondere kwaliteite, naamlik “bekwaamheid; dienaars van die Here; manne wat die waarheid liefhet, en nie eie voordeel soek nie” (O’Kennedy 2003:137). Hierdie duidelike verskille in die aard van leierskap afhangende van die situasie waarin die volk hulleself bevind het, kan ook aangetoon word in die Rigterstyd, die Koningstyd, die Ballingskap en ná Ballingskapstyd, asook met die Wysheidsleraars (vergelyk O’Kennedy 2003:138–143 asook Burger 1995:24). “Although religious needs seem remarkably similar from society to society, the religious institutions and religious specializations which develop to meet them vary considerably” (Grabbe 1995:212). Wat belangrik is hier is dat daar ’n verskeidenheid leiers, afhangende van die situasie, in die Ou Testament aantoonbaar is, en dat dit dus imperatief is om die Bybel in sy geheel te bestudeer indien kennis bekom wil word aangaande die aard van Christelike leierskap.

2.2 Die Nuwe Testament

Nie alleen wisselinge in konteks in die Ou Testament het ’n invloed gehad op die tipe leierskap wat benodig word nie, maar ook in die Nuwe Testament toon skrywers soos Barrett (1985) en Manson (1948) hierdie toedrag van sake aan. Barrett (1985:31) praat van Paulus, 1 Petrus, die Johannese literatuur en Handelinge as die boorgate waarin hy die ontwikkeling naspeur. 2Opsommenderwys sien enkele van die ontwikkelinge (onder andere Barrett 1985:31-53) as volg daaruit, soos wat die ontwikkeling diachronies nagespeur kan word vanaf ’n vroeë Pauliniese gemeente:

• Die Pauliniese briewe: elke lidmaat in die kerk het in ’n sekere sin ’n rol gehad, met elkeen ’n eie unieke funksie (soos die ledemate van ’n liggaam). So byvoorbeeld gee Romeine 12 sulke funksies en resorteer daaronder profesie, diakonie (na alle waarskynlikheid diens aan behoeftiges), diegene wat onderrig, bemoedig, gee en leiding gee. Hier kry ons dus erkende plekke en rolle in die gemeenskap wat gevul moes word en elkeen wat so ’n posisie beklee, het ’n spesiale plek van verantwoordelikheid en outoriteit verkry, terwyl sommige rolle soos persone in beheer van die finansies wat wel moes funksioneer weer verswyg word (Barrett 1985:32 ook Kruse 1993:603). Oor die syn episkopoi kai diakonois waaroor in Filippense geskryf word, is Barrett van mening dat ons geen idee kan hê wie hierdie mense was nie. Wat ons wel uit latere gegewens kan aflei is dat die diakonoi vir die armes moes sorg en dat die episkopoi die finansiële amptenare was. Die beste raaiskoot van Barrett (1985:34) is, “It is possible that the episkopoi were those in Philippi who decided that a gift should be sent to Paul and made the money available, and that the diakonoi were those who saw to the transmission of the gift”.3 Charismatiese leierskap het dus in die vroeë Pauliniese gemeentes gefunksioneer, maar dít te same met “amptelike” dienaars. 4

• In 1 Petrus (wat uit ’n latere era as die vorige briewe dateer) kry ons die begrip presbyteros wat met betrekking tot die ampswerk gebruik word en ’n pastorale funksie gehad het. Hier word die amp nou vergoed, kry gesag en is ’n voltydse beroep. ’n Werk wat gedoen moet word, ’n pastorale werk gerig op Woordverkondiging, liefdes- dienswerk en dissipline (Barrett 1985:42). Dit is hier belangrik dat 1 Petrus die wyse waarop hierdie funksies uitgevoer moet word, beskryf as “deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees” (5:4).

• Daar word dikwels geargumenteer dat dít wat Johannes in Openbaring beskryf as dit wat hy in die hemel sien, gebaseer is op dit wat hy in die kerk op aarde gesien het. So vra Barrett (1985:44) dan of die beeld van die Lam op die troon met die ouderlinge daar rondom nie dalk die beeld van ’n biskop of leierleraar saam met sy ouderlinge is nie?5 Verder sou ’n mens vanuit die bestaan van valse apostels en profete kon aflei dat daar ook ware apostels en profete moes gefunksioneer het, en dat beide groepe rondreisende leraars was. Met ander woorde ’n veranderde konteks wat nuwe uitdagings gebied het aan leierskap. Die beeld van die leraar afleibaar uit 2 en 3 Johannes is iets in die lyn van ’n plaaslike leier in elke gemeente met ’n groep rondreisende predikers en leraars. In sy Evangelie gebruik Johannes weer twee benamings, naamlik die “herder” wat die taak gehad het om ander gelowiges te versorg, en “getuies” met die taak om dit wat hulle gehoor en beleef en gesien het aangaande Jesus oor te vertel (Barrett 1985:48). 6

• Die boek Handelinge gee weer verwysings oor die twaalf apostels se getuienistaak, eerder as hulle leierskap. Hierdie twaalf het hulle toegelê op prediking (dikwels saam met tekens en wonders), getuienis oor Christus se opstanding, onderrig en gebed (Kruse 1997:742). Ook Paulus en Barnabas se bediening word in Handelinge met die woord apostels getipeer en het die prediking van die Evangelie en die lering en aanmoediging van nuwe Christelike gemeenskappe behels (ook gepaardgaande met tekens en wonders). Alhoewel Paulus en sy reisgenote nie self getuies was van die opstanding nie was hulle bediening redelik in ooreenstemming met dié van die twaalf en was die verheerlikte Christus deur die Gees betrokke in hulle bediening. Die een groot verskil was egter dat Paulus en sy kollegas se bediening hoofsaaklik aan die heidene was (Kruse 1997:742). Handelinge 20 wys verder hoe Lukas oor die werk van leraars gedink het, wat eerstens behels dat dit die Heilige Gees self is wat hulle aanwys. Gevolglik word daar nie voorsiening gemaak vir die aanwysing deur die leraars vir opvolgers nie, maar die Heilige Gees word vertrou om meer leraars aan te wys. En dié wat hy aanwys is leraars wat nie voltyds in die bediening is nie, nie betaal word nie, wat goed sou doen om soos Paulus vir hulle eie lewensonderhoud te werk, wat God se kudde versorg as herders en sy Woord verkondig. “The whole drift of the speech is away from a professional, subsidized ministry to an unpaid, part-time one” (Barrett 1985:53). In Handeling 6 word ook sewe persone aangewys vir diens in die kerk in Jerusalem, spesifiek die daaglikse versorging, aangesien die twaalf nie meer alles alleen kon hanteer nie. Twee van hierdie sewe (Stefanus en Filippus) het egter later ook gepreek wat gepaard gegaan het met tekens en wonders. Hier sien ons dus hoe die grootte van die gemeente en gepaardgaande verandering in bedieningsbehoeftes van die gemeente in Jerusalem ’n verandering in die inrigting in die leierskap vereis. ’n Laaste groep wat vanuit Handelinge hier genoem kan word is die profete wie se bediening voorspelling, die ontvangs van spesifieke aanwysings, vermanings en aanmoediging ingesluit het (Kruse 1997:743).

• In die Pastorale briewe begin daar nou ’n terminologie van die bediening ontwikkel. Kernbegrippe hier is diakonoi wat spesifieke take verrig het, die presbyteroi of oudstes wat aansien geniet waarvan die mees bekwames ook episkopoi genoem is, aangesien nie alle ouer mans leiers is nie. Die ouderlinge se taak was om te regeer, en die biskoppe moes die huishouding van God bestuur en ook onderrig (Kruse 1993:603).

Die voorafgaande voorlopige opmerkings aangaande leierskap in die Bybel wys daarop dat ’n finale klinkklare omskrywing van die taak van die predikant vanuit die Bybel ’n lastige onderneming is. Daar sou inderdaad ’n keuse gemaak kan word om ’n model op een boek in die Bybel se siening aangaande die taak en rol van leiers te bou, maar só ’n aanpak sou nie as verteenwoordigend van die Reformasie se tota Scriptura gesien kan word nie. So die vraag bly, wat kan ons dan wél uit die Bybel wys word aangaande leierskap en meer spesifiek die taak van die predikant?

3. OF SOEK ONS NET VERKEERD?

’n Probleem is soms dat ons so teleurgesteld is dat die Bybel sekere vrae nie onomwonde antwoord nie, dat ons nie raaksien dat daar oor ander aspekte van leierskap en amp wel baie duidelik gepraat word nie. In die voorafgaande oorsig is daar byvoorbeeld geen direkte Nuwe Testamentiese opdrag aangaande spesifieke blywende ampte nie soos die van leraar nie. 7 Verder het al die verskillende ampte ook nie bly voortbestaan nie, en kan die leraarsamp beskou word as ’n sinvolle ineenvloeiing van ’n aantal funksies in verskillende Nuwe Testamentiese ampte soos apostel, profeet, herder, leraar, maar dan spesifiek met die fokus van Woordbediening (vergelyk Heitink 2001). Dit is met ander woorde nie moontlik om ’n klinkklare definisie en omskrywing van die leraarsamp van die Nuwe Testament te gee nie. ’n Ander aanpak word in hierdie verband vereis.

Dit is belangrik dat ons daarom in hierdie verband die vraag vra: is daar ander sake rondom leierskap waaroor wel baie duidelik gepraat word? Indien dit so is mag die sake dalk in die geheel van ons ampsverrigting belangriker wees as wat ons besef.

4. VYF ASPEKTE WAAROOR DIE SKRIF KONSTANT IS

Sonder dat ons die pretensie het dat hierdie ’n volledige Bybelse ondersoek na die amp is, sou ons uit die geraadpleegde literatuur ten minste ses aspekte van leierskap wou noem waaroor die Bybel wel ’n konstante boodskap het.

4.1 Die belangrikheid van leierskap

Ten opsigte van die belangrikheid van leierskap bestaan daar ’n algemene patroon regdeur die Bybel. ’n Patroon wat ons oral in die Bybel (oa Eks 2 en 3) sien, is onder andere die volgende: Dit is dikwels so dat wanneer ’n krisissituasie opduik op ’n plek die Here besluit om iets te doen en daarvoor iemand roep om op te tree in die situasie. Hierdie optrede van God en gebruik van spesifieke leiers vir spesifieke situasies is nie net waar van Eksodus nie, maar ook van Abraham, Dawid, die dissipels en Paulus om maar enkeles uit te sonder. Die ampte wissel, maar daar is altyd die een of ander soort voorganger. Gemeenskappe vereis na hulle wese leiers, en God gebruik telkens hierdie leiers om sy volk op spesifieke wyses in spesifieke omstandighede voor te gaan.

Hier is dit belangrik om ook op te merk dat daar reeds in die Nuwe Testament ’n aktiewe rol aan die gemeente gegee word (vgl ’n teks soos Jer 31:34). Daar is ’n skuif sigbaar in die Nuwe Testament waar gemeentelede ’n sterker rol kry en elkeen ook die Heilige Gees ontvang. En alhoewel die rol van leierskap hier skuif en die gemeente self ’n belangrike funksie verkry, word leierskap geensins uitgesluit nie.

4.2 Roeping vir ’n spesifieke taak of situasie

Daar bestaan ’n geweldige wisseling in die terme wat vir die amp gebruik word asook vir die presiese inhoud van die amp. Ons het in die kort oorsig van die Ou Testament leiers soos regters, konings, profete en priesters teëgekom. In die Nuwe Testament weer is daar sprake van onder andere diakens, ouderlinge, herders, apostels, dissipels, evangeliste, profete en leraars. Wat is die rede dan vir hierdie uiteenlopende gebruik van terme? Bes moontlik omdat die konteks en situasie verander; omdat die behoeftes van die volk skuif in byvoorbeeld grootte en kompleksiteit, en elke nuwe situasie spesifieke soorte leiers benodig. Vir hierdie veranderinge het die Christendom deur die eeue ’n groot gevoeligheid gehad. Kerke het ’n sensitiwiteit vir hierdie samelewingskuiwe en het dit soms ook gereflekteer, maar die belangrike saak is dat die vulling van die taak van die leier en die inhoud daarvan altyd te make het met geestelike sake.

4.3 Verbintenis aan God en kwaliteit van lewe

Die verbintenis aan en fokus op God is uiters belangrik in die diens van die amp en deurgaans die sjibbolet vir ware Bybelse leierskap. ’n Verbintenis, geloof, wat ’n invloed het op die lewe. Die wees-funksies van diensvaardige leiers is dus baie belangrik, naamlik ’n etiese gedrag en optrede. So wys Jakobus selfs daarop dat geloof sonder dade nutteloos is en dat leermeesters strenger as ander beoordeel sal word. Ook in Timoteus word die kwaliteit van ’n ouderling se gedrag hoog aangegee en omskryf met adjektiewe soos ondermeer onberispelik, nugter, verstandig, getrou, gasvry en inskiklik (vgl 1 Tim 3:1-7). Telkens word leiers in die Nuwe Testament hiertoe opgeroep om sodoende as rolmodelle te kan dien. ’n Uitstaande Nuwe Testamentiese teks in hierdie verband is Hebreërs 11-13 wat die belangrike rol van die geloofsgetuies artikuleer. Dit gaan verder in hierdie wees-funksie van etiese gedrag spesifiek om etiese gedrag wat vanuit die geloof gemodelleer is op Jesus Christus, dié Dienskneg by uitnemendheid, en nie op sondeloosheid nie.

Die Bybel toon deurgaans aan dat ook die groot leiers in die Bybel verteenwoordigend is van die Reformatoriese simul justus et peccator. Hier kan ons dink aan Abraham se leuens oor sy vrou, Dawid en Batseba en ook Petrus se verloëning van Christus. Ten spyte van hierdie gebeure is die belangrike konstante hier dat vanweë hulle geloof, hierdie voorvalle nie die laaste sê gehad het nie, maar dat die gebeure juis hulle geloof en verhouding met God verdiep het sodat hulle as leiers ook geloofsgetuies is.

Die leiers in die Bybel is mense wat wysheid met mense het. Hierdie leiers is nie mense wat met sake werk nie, maar wat met mense werk en as sodanig dus met verhoudings. En om met mense, met verhoudings, te werk, word wysheid benodig.

4.4 ’n Deurlopende diensmotief

Nou gekoppel aan leiers se verbintenis aan God, is dat leiers God se patos en hart moet verstaan. Hierdie konstante kan getipeer word as ’n gelyktydigheid van swakte en krag. Leiers in die Bybel, veral in die Nuwe Testament waar die verheerlikte Christus juis deur hulle bedien word, word gekenmerk deur ’n oënskynlike swak-sterk paradoks. Net soos Jesus Christus se krag van sy opstanding juis geleë is in die feit dat Hy dit verkry het via Golgota, net so merk die verheerlikte Christus die kern-identiteit van die amp van die predikant. Soos Jesus as Koning ook Kneg was en as Kneg Koning, net so kommunikeer Bybelse leiers se wees-funksie hierdie paradoks, ’n paradoks wat gesetel is in ware geloof. Hierdie waarheid is nie alleen sigbaar vanuit ’n bestudering van leiers in die Nuwe Testament nie, maar ook Ou Testamentiese leiers soos Abraham, Moses en Dawid se lewens en leierskap lê getuienis hiervan af. Hierdie motief word ook gekommunikeer deur tradisionele liturgiese kleredrag. ’n Wit kleed wat die opgestane Christus simboliseer, word gedra saam met ’n stola om die nek, simbool van die juk van Christus.

Leierskap in die Bybel vertoon verder deurgaans ’n dienskarakter, maar diens op ’n spesifiek Bybelse wyse. Hierdie punt sluit nou aan by die vorige (4.3), maar is tog ook anders deurdat dit gefundeer is in ’n oënskynlike paradoks. In die Nuwe Testament sien ons hoedat Christelike leierskap se bediening ’n voortsetting van die bediening van Christus en God is. Hier is die diensmotief baie belangrik ten einde ’n voortsetting van die diens van God en Christus te wees, en deurgaans word daar in die Nuwe Testament van die woord diakonia gebruik gemaak om aan te toon dat hier van dienswerk gepraat word. Hierdie term word in verband met die ampte gebring in die vroeë 1 Korintiërs 12, ’n generasie later in Efesiërs 4 word die woord weer gebruik. Ook in ander geskrifte soos Handelinge en 1 en 2 Timoteus word diakonia in verband met die ampte gebruik. Soos Jesus se opdrag in Markus 10: 43-44 tereg lui: “Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees” (sien Knox 1983:1).

4.5 Gedeelde leierskap

Leierskap setel verder selde in die Bybel net in een persoon. Dikwels, alhoewel nie altyd nie, word meer as een leier vereis, veral as die situasie meer kompleks begin raak. Hier kan ons dink hoe Moses hulp gekry het in die woestyn of hoe Paulus assistente gekry het. Die leierskap van die kerk het in die Pauliniese gemeentes gesetel in Paulus se apostelskap wat ondersteun is deur assistente wat hy ook apostels noem, asook ander hulpverleners soos Aquila, Priscilla, Stefanas om enkeles te noem (sien ook Tiller 1988:430-431). Verder het die dissipels van Jesus ook belangrike leierskapsrolle beklee, ten spyte van Paulus se prominente rol. Die twee groepe het mekaar gekomplimenteer in die Vroeë Kerk. In die Ou Testament het profete, priesters en konings ook tegelyk ageer binne een bepaalde konteks. Die belangrikheid van spanwerk vir Bybelse leierskap kom dus hier na vore.

4.6 Profeet, priester en koning

’n Poging om profeet, priester en koning te sien as drie basiese leiersfunksies van die Bybel sal in die laaste artikel van hierdie reeks (deel 5) volledig uitgewerk word.

5. SLOT

’n Voëlvlug deur die Bybel met die lens van leierskap het eerder as ’n klinkklare model, verrassings en ironieë opgelewer. Die amp van die predikant soos wat dit vandag, oftewel sedert die Reformasie funksioneer, kom nie net so in die Bybel voor nie. Indien enkele van die punte wat wél aangaande leierskap gesê kan word gesistematiseer word, is ’n mens nader aan ’n Bybelse siening of perspektief wat die hele Skrif in ag neem, in teenstelling met ’n rekonstruksie van die amp vanuit slegs een Bybelboek (wat uit ’n spesifieke konteks kom). Die aantal konstantes wat onder punt vier gesistematiseer is, sal later saam met die bevindinge van die ander artikels gebruik word om lig te werk op die identiteit van die amp van die predikant.

Vervolgens sal daar nou eers na die Gereformeerde tradisie sedert die Reformasie gekyk word ten einde aan te toon hoedat daar oor hierdie ingewikkelde saak gedink is en gedink word in die Gereformeerde wêreld.

BIBLIOGRAFIE

Barrett, C K 1985. Church, Ministry, & Sacraments in the New Testament. Exeter: The Paternoster Press.

Burger, C W 1995. Gemeentes in transito. Vernuwingsgeleenthede in ’n oorgangstyd. Kaapstad: Lux Verbi.

Grabbe, L L 1995. Priests, Prophets, Diviners, Sages. A Socio-Historical Study of Religious Specialists in Ancient Israel. Valley Forge, Pennsylvania: Trinity Press International.

Heitink, G 2001. Biografie van de dominee. Baarn: Uitgeverij Ten Have.

Hutton, R R 1994. Charisma and Authority in Israelite Society. Minneapolis: Fortress Press.

Knox, J 1983. “The Ministry in the Primitive Church”. In: Niebuhr, H R en D D Williams (reds.). The Ministry in Historical Perspective. With a new chapter by S E Ahlstrom. San Francisco: Harper & Row Publishers.

Kruse, C G 1993. “Ministry”. In: Hawthorne, G F en R P Martin (reds.). Dictionary of Paul and His Letters. Downers Grove/ Leicester: Intervarsity Press.

Kruse, C G 1997. “Ministry”. In: Martin, R P en P H Davids (reds.). Dictionary of the Later New Testament & Its Developments. Downers Grove/ Leicester: Intervarsity Press.

Manson, T W 1948. The Church’s Ministry. Londen: Hodder & Stoughton Limited.

O’Kennedy, D F 2003. “Wat sê die Bybel oor vernuwing en transformasie in die gemeente? (Deel1: Ou Testament)”. NGTT 44/ 1 & 2, 132-146.

Opperman, D J 1954. Engel uit die klip. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.

Tiller, J 1988. “Ministry”. In: Ferguson, S B en D F Wright (reds.). New Dictionary of Theology. Downers Grove/ Leicester: Intervarsity Press.

1 Die resultaat van navorsing wat hier in die vorm van ’n reeks artikels aangebied word, is deels ook (veral met betrekking tot die amp van die predikant in die Nuwe Testament) die produk van refleksie van die sogenaamde Ampnavorsingsgroep van Buvton wat saamgestel is uit predikante en teoloë.

2 Dié ontwikkeling is chronologies gegrond op die datering van die verskillende Nuwe Testamentiese geskrifte wat hy bestudeer, en hy kyk ook na die Pastorale Briewe.

3 Kruse (1997:743) is minder versigtig as Barrett en noem die episkopoi van Fillipense “ouderlinge” wat toesig moes hou oor die kudde en wag moes hou teen diegene wat mense wou mislei.

4 Sommige ondersoekers kom tot die konklusie dat amptelike leierskapsrolle eers in ’n laat- of post- Pauliniese periode na vore getree het toe leierskap weg van die spontane charismatiese na die meer geïnstitusionaliseerde beweeg het. Tog het Paulus sy briewe geadresseer aan die biskoppe en diakens (Fil 1: 1) en in 1Tes. 5: 12 word gepraat van “die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys”. Hierdie en ander bewyse uit die Nuwe Testament wys daarop dat die charismatiese bediening saam met die amptelike bestaan het in Pauliniese gemeentes (Kruse 1993:604). Hier kan ook gewys word op Hutton (1994) wat daarop wys dat die onderskeid tussen amp en charisma wat sedert Max Weber gewild is ’n oorvereenvoudigde siening van die saak is. Die verhouding tussen charisma en amp is heelwat meer gekompliseer wat ’n groot invloed kan hê op hoe leierskap in onder andere die Bybel gesien word. Charismatiese leierskap kan binne ’n geïnstitusionaliseerde samelewing (society) voorkom, asook binne die meer spontane gemeenskap (community), en is nie beperk tot een nie. Verder is Weber se romantisering van die charismatiese leier wat in anti-sosiale terme gedefinieër word, en daarteenoor Durkheim se romantisering van die kollektiewe bruisende werking van die groep met die charismatiese leier as die simboliese uitdrukking daarvan, twee pole ten opsigte van die begrip charisma. Albei word geromantiseer. En Weber sowel as Durkheim het geglo dat charismatiese leiers bedreig word deur uitwissing. Hutton breek met ’n bestudering van leierskap in die Ou Testament hierdie verkeerde teenstelling af, ’n bevinding wat ook hier van waarde is.

5 Barrett erken nietemin dat hierdie ’n problematiese parallel is om te trek en dat ’n inhoudelike ondersoek na die sewe briewe vrugbaarder sal wees.

6 Hierdie tweevoudige funksies kom ook na vore in Johannes 21 in die persone van Petrus en die geliefde dissipel, waar Petrus die herder van Christus se kudde is en die geliefde dissipel wat oor die dinge getuienis aflê (Barrett 1985:48–49).

7 Die naaste aan ’n voortgang van ampte is te vinde in Titus 1:5 met die amp van diaken en ouderling.