Wepener, C J
Universiteit van Stellenbosch

Die predikantsamp. Deel 3: Die take van die predikant in die Gereformeerde tradisie – histories en ekumenies beskou.

ABSTRACT

The office of the minister. Part 3: The tasks of the minister according to article 9 in historical and ecumenical perspective.

The office of the minister of the Word is currently faced with a very demanding South African ecclesiastical context. The way in which the Bible speaks about the office of the minister, or religious leaders in general, is also very complex without any easy answers. We have however seen that the demands of the context play a vital role in defining the role of the religious leader and that there are some constant features concerning leadership in the Bible. In this article the historical development of article 9 in the Church Order of the DRC will be traced, specifically looking at early French Church Orders, the 1559 Institutes, the Church Order of the Synod of Dordt 1618/9, and a selection of South African Dutch Reformed Church Orders. The same article (9) is then scrutinised in the Reformed Family World Wide. Such a synchronic and diachronic survey helps to highlight how the challenges and demands of a specific context finds expression in the formulation of the task of the minister, it show the specific identity of the task of the minister within the Reformed tradition and some tendencies can also be derived that can serve as stimuli for further reflection. These insights must lastly be weighed against the demands of our context in order to ask whether the current formulation of article 9 meets the South African contextual challenges whilst staying within the perimeters of the Reformed tradition. This will be done in the succeeding two articles of the series.

Volgens artikel 9 van die KO van die NG Kerk (NGK) van 2002, is die amp van die predikant of bediening van die bedienaar van die Woord, gerig op die Woordbediening in sy verskillende gestaltes. Hierdie verskillende gestaltes sluit in: die prediking, bediening van die sakramente, diens van gebede, leiding van eredienste, kerklike onderrig in samewerking met die ander ampte en gelowiges, herderlike sorg (veral huisbesoek) saam met kerkraadslede, ywer vir uitbreiding van die koninkryk van God, regering, organisasie, leiding en bestuur van die gemeente saam met die ouderlinge en diakens, uitoefening van opsig en tug en die leiding van kerkraads- en ander kerkvergaderinge, en verantwoordelikhede ten opsigte van die kerkverband.

Daar is in hierdie reeks artikels alreeds gewys op die uitdagings wat die Suid-Afrikaanse Nederduitse Gereformeerde konteks tans aan die amp van die predikant bied, asook na insigte vanuit die Bybel. In hierdie artikel word histories diachronies na die ontwikkeling van artikel 9 1 binne die Gereformeerde tradisie gekyk aan die hand van veral kerkordes en enkele kerkregtelike geskrifte van teoloë. Calvyn se eie beskouing word op die tafel geplaas, asook dié van twee vroeë Franse kerkordes 2 en daarna ook die Kerkorde van Dordt se omskrywing van hierdie artikel. Vervolgens word enkele voorbeelde van hierdie artikel in die geskiedenis van die NGK eksemplaries bespreek. Hierna word dieselfde artikel in die kerkordes van enkele geselekteerde Gereformeerde kerke wêreldwyd belig. Laastens sal enkele tendense aangetoon word wat vanuit hierdie diachroniese en sinchroniese peilings na vore kom.

Die idee is om in hierdie skrywe die ontwikkeling van hierdie artikel aan te toon in die Gereformeerde tradisie vanaf Calvyn tot en met artikel 9 van die KO van die NGK van 2002, en saam daarmee aan te toon wat in die Gereformeerde tradisie as die kern van hierdie amp gesien is en gesien word 3. Enkele inisiële opmerkings oor die radikale breuk van die Reformasie met die Rooms-Katolieke verstaan van die amp kan help om die inligting wat volg in perspektief te plaas.

1. DIE REFORMASIE

Die volgende ses punte som enkele van die belangrikste inhoudelike oortuigings van die Reformasie op aangaande die amp van die predikant teenoor ’n Rooms-Katolieke verstaan.

• Die amp is nie ’n verteenwoordiger van die afwesige Christus nie, maar ’n heenwyser na die lewende Christus. Die eerste probleem was met die gesag van die amp, deurdat geglo is dat die gesag in die kerk nie lê by die pous en sy funksionarisse nie, maar dat Christus self die kerk regeer deur sy Woord en Gees. Volgens Jonker (1981) het die groot verskil tussen Rome en die Reformasie te doen gehad met die werk van die Gees – hier spesifiek die manier waarop die opgestane Christus self deur die Gees en die Woord teenwoordig en werksaam is in die gemeente. So ’n verstaan verander die manier waarop gedink word oor die amp totaal. Die amp is nie ’n verteenwoordiger vir Christus (in sy afwesigheid nie), maar iemand wat voortdurend heenwys en herinner aan die teenwoordige Christus.

• Die sentrale aktiwiteit is nie die offer nie, maar die uitleg van die Woord. Waar vir Rome die sentrale aktiwiteit van die amp te doen gehad het met die herhaling van die offer, was dit vir die Reformasie die Woord en die uitleg en toepassing van die Woord in die gemeente wat sentraal kom staan het. Daarom het die swaai gekom van ’n sentraalstelling van die priesteramp tot ’n sentraalstelling van die profetiese amp. Die erediens van die gemeente se sentrale aktiwiteit is die lees en die uitleg van die Woord. Hier moet Woord en sacrament egter nie teenoor mekaar gestel word. Vir iemand soos Calvyn was die Nagmaal ’n integrale onlosmaaklike deel van die liturgie 4 en is iemand soos Gerrish (1993) van mening dat Calvyn se hele teologie as ’n eucharistiese teologie getipeer kan word. So ten spyte van die afwysing van die offer-gedagte wou Calvyn dus die noue verbondenheid wat daar tussen Woordbediening en Nagmaal bestaan vashou.

• Die amp is steeds uiters belangrik. Ons sal ’n fout maak as ons dink dat die amp vir die Reformasie onbelangrik was. Alhoewel die amp nie soveel gesag as by Rome gehad het nie, het dit nie beteken dat dit onbelangriker is nie. In sy Institusie (1559) praat Calvyn oor die belangrikheid van die amp, “Want nóg die lig en die hitte van die son, nóg voedsel en drank is so noodsaaklik om die huidige lewe te onderhou, as wat die apostoliese en pastorale amp is om die kerk op aarde te bewaar” 5. Ironies genoeg, indien ons kyk na Luther en Calvyn se eie lewens is dit op ’n manier veel bekender as enige pous van hulle tyd. Hoe dit ook al sy, hierdie nuwe verstaan van die amp het ’n geweldige impak, nie net op die kerk nie, maar op die ganse toekoms van Europa gehad.

• Die vergadering van leiers in plaas van een gevolmagtigde segspersoon. Die predikant tree nie op as die enigste leier nie, maar word bygestaan deur ’n raad van ouderlinge en diakens. Die werklike (laaste) menslike gesagsinstansie is die vergaderings van die leiers van die kerk.

• Die bedoeling van die ampsaktiwiteit is die opbou van die gemeente. Lering was vir die Reformatore baie belangrik aangesien hulle gedroom het van mondige en volwasse lidmate wat self die Bybel lees en hanteer, self coram Deo leef en self hulle vocatio voor die Here vind en uitleef.

• Leiers erken die mondigheid van lidmate. Gereformeerdes is ernstig oor wat die gemeente, die lidmate, kan en moet doen. Ons maak ’n groot fout as ons vanuit Calvyn se sterk hamartologie dink dat hy negatief was oor mense. Die teenoorgestelde is eerder waar. Rome het nie veel verwag van mense nie; Calvyn het (as gevolg van die volkome verlossingswerk van Christus en sy dinamiese verstaan van die werk van die Gees) baie verwag van sy lidmate. Daarom is ’n sisteem van pastorale besoeke deur die predikant en ouderling ingestel waartydens aanmoediging, versorging, en vermaning (en desnoods tug) gebeur het.

2. CALVYN (Vroeë Franse Kerkordes, kommentare en die 1559 Institusie) 6

Volgens Benoit (1947:11) 7 was Calvyn teoloog gewees ten einde ’n beter herder te kan wees. Teologie moes altyd by Calvyn die geloofslewe dien en alle kennis moes gerig wees op die lewe, en het hyself ook die opdrag van die leeramp, dit wil sê die herdersamp, aanvaar (Benoit 1947:12)8. Hierdie onderliggende ingesteldheid van Calvyn is belangrik wanneer daar gekyk word na sy bespreking van die amp van die predikant. En volgens Lekkerkerker (1971:146) bevat Calvyn se meervoud van amptelike take ’n harde kern waaraan moeilik getorring kan word sonder dat die hele Gereformeerde Protestantisme omver gewerp word. In die kern sien ons dat die amp hier om drie sake sentreer, naamlik prediking, lering en herderlike sorg. Vervolgens meer oor die amp van die predikant soos wat dit in verskillende geskrifte voorkom wat Calvyn geskryf of aan meegewerk het.

In die Kerklike Ordonnansie van 1541 9 word gesê dat die pastore se taak daaruit bestaan om:

• Die Woord van God te verkondig.

• Te onderrig.

• Te vermaan en sensureer, publiek sowel as privaat.

• Die sakramente te bedien.

• Om broederlike korreksies op te lê / in te skerp saam met die ouderlinge en kollegas 10.

• Verder ook siekebesoek en besoeke aan gevangenis 11.

• En die tug op spesifieke wyse bedryf 12.

• Ander take van die herders in hierdie dokument behels onder andere dat alle predikante elke week op ’n bepaalde dag moes saamkom om die Skrif te bespreek waartydens predikante beurtelings vir mekaar Bybelboeke uitlê. Só ’n reëling sou vir die beskerming van die suiwere leer help, asook om predikante teen luiheid te beskerm (Pont 1981:25–26).

Calvyn onderskei verder tussen tydelike (apostels, profete en evangeliste) 13 en blywende (herders en leraars) ampte. Die eerste drie het die Here aan die begin van sy koninkryk opgewek en wek hulle soms nog op afhangende van die noodsaak daarvan in ’n bepaalde tyd. In die kern van Calvyn se denke rondom die predikantsamp is dus ’n verstaan dat die tydsgewrig belangrik is vir die spesifieke eise wat aan die amp gestel word, en dat dít ’n insig is wat teruggevind word in die Skrif. Vervolgens meer oor herders en leraars en die verskil tussen die twee. Leraars:

• Hulle is slegs aangestel vir die vertolking van die Skrif met die oog daarop dat die leer opreg en gesond onder gelowiges behou word (en nie oor die dissipline, bediening van die sakramente, vermaning en aansporing nie). Die leraars het verder ook ’n ooreenkoms met die eertydse profete. “Die profetiese amp was meer uitstaande vanweë die besondere gawe van openbaring waarin hulle kragtig was maar oor die algemeen het die amp van leraars dieselfde grond en volstrek een en dieselfde doel”14.

Herders 15:

• Hierdie amp behels dissipline, bediening van die sakramente, vir vermaning en aansporing, asook die vertolking van die Skrif.

• Die taak van die herders is dieselfde as wat die van die apostels was, naamlik verkondiging, die wat glo, te doop tot vergiffenis van sondes en die Nagmaal te bedien.

• Persoonlike vermanings/tug.

• Calvyn voer verder ook aan dat die herders se amp ’n ooreenstemming toon met die eertydse apostels.

In sy bespreking van die ampte sê Calvyn dat hy slegs dié ampte in oorweging neem wat hulle op die bediening van die Woord toelê, want daar is sommige wat tydelik was soos die gawes van genesing en uitleg. Daar is egter twee wat blywend is, naamlik die regering en die versorging van armes 16. Die amp van die predikant hang by Calvyn saam met die wyse waarop God sy kerk regeer. Hierdie regering doen God self volgens sy Woord, maar dit word deur mense op plaasvervangende wyse verrig (Inst 4.3.1, 1317–1318A)17.

Oor die algemeen beskou is die amp van die leraar by Calvyn ’n ministerium en nie ’n officium nie, gerig op lering, regering en diens. Deur die verrigting van hierdie diens word Christus verteenwoordig, maar alleen in soverre dit ondergeskik en gehoorsaam is aan Christus en die Woord van God gedien en bedien word (Pont 1981:196–197). “Verder is dit duidelik dat die amp alléén kan funksioneer as dit omring word deur die gemeente, die gemeenskap van die gelowiges. Daar moet die ampswerk verrig word sodat die gemeente opgebou, geïnspireer en gerig word om die getuie van Christus in die wêreld te wees” (Pont 1981:198). En hierdie uitdaging vereis ’n eie omskrywing van die taak van die predikant – in lyn met Calvyn se Skriftuurlike doelstellings, maar omskryf na gelang van die vereistes van ’n bepaalde tydsgewrig. Self skryf Calvyn as volg daaroor: “So word die toerusting van die heiliges volbring; so word die liggaam van Christus opgebou; so groei ons deur alles in Hom wat ons Hoof is; en so groei ons saam; so word ons almal tot eenheid in Christus gelei...” (Inst 4.3.2, 1318B). Calvyn het hier dus veel meer as ’n “check list” van take in gedagte wat moet funksioneer as ’n soort posbeskrywing. Dit gaan hier, blyk dit, om ’n dinamiese soort leierskap wat in diens van die Heilige Gees toerus, opbou, laat groei en tot ’n eenheid lei. Dit gaan dus soos reeds vermeld oor prediking, lering en herderlike sorg.

Ten einde enige helderheid te verkry oor die onderskeie take van die verskillende ampte wat Calvyn bespreek word die volgende skema aangebied18:

Tabel 1

Apostels

Profete*

Evangeliste

Herders

Leraars

-Buitengewoon

-Gestuur (na hele

wêreld)**

-Verkondiging

-Buitengewoon

-Besondere openbarings

-Vertroos

-Vermaan

-Leer

-Uitnemende uitleggers van die Skrif

-Buitengewoon

-Soos apostels, maar met minder aansien

-Gewoon

-Regeer oor spesifieke kerk

-Dissipline

-Bediening

van sakramente

-Vermaning en aansporing

-Onderrig

-Verkondiging

-Vertolking van Skrif

-Suiwer leer

-Gewoon

-Vertolking van

Skrif

-Suiwer leer

*19

**20

Met hierdie voorlopige bespreking van Calvyn se siening van die amp van die predikant word volstaan. Vervolgens meer oor hoe hierdie leer aangaande die amp in die jare ná Calvyn binne die Gereformeerde tradisie tot sy reg gekom het.

3. DIE DORDTSE KERKORDE

Artikel 1 van die Kerkorde van Dordt sê oor die ampsbediening: “Om goede orde in der Gemeente Christi te onderhouden, zÿn daar in nodig de Diensten, te Zamenkomsten, opzicht der Leere, Sacramenten en Ceremonien en Christelÿke straffe” 21. In artikel 16 staan: “Der Dienaaren Ampt is in de Gebeden en bedieninge des Woords aan te houden, de Sacramenten uit te reiken, op haare Mede-broeders, Ouderlinge en Diakenen, mitsgaders de Gemeenten goede acht te nemen, en ten laatsten met de ouderlingen de Kerkelÿke discipline te oeffenen, en te bezorgen dat alles eerlÿk en met orde geschiede” (Kleynhans 1984:45).

Die werk van die bedienaar van die Woord val dus in drie dele uiteen, naamlik die bediening van die Woord (as eerste en hoogste taak) en gebede, die bediening van die sakramente, en die regering waaronder ook die beoefening van die tug en die handhawing van goeie orde ressorteer (Bouwman 1928:486). Bouwman (1928:488) wys verder daarop dat die huisbesoek volgens Dordt tot die taak van die ouderlinge hoort en nie regstreeks aan die bedienaar van die Woord gekoppel word nie, maar dat alles wat tot die taak van die ouderlinge hoort ook tot die taak van die predikante behoort.

In ouer kerkordes is daar nog allerlei besondere bepalinge vir die bedienaar van die Woord, maar dié is later weggelaat. “Zoo bepaalde de Synode van Dordrecht (1574, Art 39), dat men de ‘Zondagsche Evangeliën’, d.w.z. de pericopen van de Roomsche kerk niet zou gebruiken en niet te lange teksten zou kiezen; dat men liefst geheele Bijbelboeken vooral van het N. Testament achtereenvolgens zou verklaren (1578, Art 56); en dat men in het bestraffen van de zonden niet zoo persoonlijk zou zijn, zoodat elk kon merken wie bedoeld werd (1586, vr 3)” (Bouwman 1928:489). Al hierdie detail handel egter alleen oor ’n omskrywing van die presiese aard van Woordverkondiging wat direk gekoppel is aan die Reformatoriese konteks en tyd van hierdie kerkordes met die alomteenwoordige “Roomse gevaar”, en ’n poging om ’n eie identiteit daar te stel deur dit af te grens teen die van ander. Dit is ’n tendens wat deurgaans in hierdie periode waarneembaar is.

4. DIE KERKORDE VAN DIE NGK 22

In die KO van die NGK uit 1852 23 bevat artikel 43 die take van die predikant wat dit onder ses hoofpunte behandel. Eerstens moet die predikant die herderlike werk doen, tweedens preek, derdens katkisasie, vierdens huisbesoek, vyfdens siekebesoek en laastens die reëling van plegtighede by die openbare godsdiens. Elkeen van hierdie punte, veral die een oor die prediking, het omskrywings. Die omskrywing van die taak van die predikant fokus hier dus nog veral op die geestelik rol van die leraar. In die verloop van die volgende aantal dekades het die taak meer organisatoriese omskrywings bygekry soos blyk uit die Kerkordes vanaf 1873.

Die KO van 1903 24 omskryf die take van die predikant in artikel 5 in tien punte. Sekere punte soos die inhoud van die prediking word nog verder omskryf, die bediening van die sakramente kom eksplisiet by, ook die inseën van huwelike, belydenisaflegging, die bestuur van die kerkraadsvergaderings, beslissing oor watter leraars op die kansel toegelaat sal word, en die laaste taak behels om ook in Engels te preek (nog ’n konteks-gebonde ontwikkeling). Artikel 9 in die KO van 1970 25 (en almal tot en met vandag) behandel die amp van die leraar, maar is ’n bondage opsomming in sewe punte. Hierdie sewe word later weer tien punte soos dit ook nog in die mees resente KO’s voorkom.

Volgens Kleynhans (1984:45) is artikel 9 geen volledige opsomming nie, maar slegs ’n algemene omskrywing van die take van ’n predikant. Dit kom basies daarop neer dat ’n predikant se belangrikste taak die bediening van die Woord is, en dat al die ander take onder die bediening van die Woord in ’n breër sin gerangskik word 26. Verder onderskei Kleynshans die besondere ampswerk op drieërlei vlak: “aan hulle is die leiding van die openbare godsdiensoefening, die verkondiging van die Woord, die bediening van die sakramente, die bevestiging van huwelike en die optrede by teraardebestellings van lidmate toevertrou; hulle moet die kategetiese onderwys en die doen van belydenis behartig; en hulle is verantwoordelik vir die pastorale versorging van die gemeente deur die doen van huis- en krankebesoek” (Kleynhans 1984:45)27.

Met betrekking tot die amp van die leraar in die NGK sou twee liturgiese formuliere, te wete die “Formulier vir die bevestiging van leraars en sendelinge”, asook die “Klassieke formulier vir die bevestiging van bedienaars van die Woord”, ook as bronne kon dien ten opsigte van die take van die amp van leraar. Volgens laasgenoemde bron word take soos “wei”, “lei”, “beskerm” en “regeer”, aan die taak van die herder wat oor sy/haar 28 kudde aangestel is toegeskryf. Verder behels die taak eerstens die verkondiging van die Woord, ten tweede om die Naam van God in die openbaar vir die hele gemeente aan te roep, ten derde om die sakramente te bedien, en ten laaste die goeie orde en tug en om te regeer (Handboek 1987:122-136). Eersgenoemde formulier gee die taak van die leraar net so weer soos wat dit in artikel 9 staan, maar sit vyf persoonlike eise by29.

5. DIE TAAK VAN DIE PREDIKANT IN ANDER GEREFORMEERDE KERKORDES

’n Oorsigtelike verkenning van enkele groot Gereformeerde kerke in die wêreld se omskrywing van hierdie artikel help om lig te werp op die unieke identiteit van die amp van die predikant.

5.1 Verkondiging vir opbou

Artikel 11 van die Christian Reformed Church Government (1987:82-89) behandel die funksie van ’n VDM, en sê gewoon, “The calling of a minister of the Word is to proclaim, explain and apply Holy Scripture in order to gather in and build up the members of the church in Jesus Christ”. Hierdie funksie word dan in meer besonderhede omskryf in artikel 12 en sluit die volgende aspekte in: preek, sakramente bedien, eredienste waarneem, katkiseer die jeug, lei lidmate op vir Christelike diens, toesig (saam met ouderlinge) oor gemeente en mede-ampsdraers, vermaning en dissipline beoefen, toesien alles geskied gepas en ordelik, pastorale sorg en deelname aan en bevordering van evangelisasie.

5.2 Liturgies en pastoraal (of iets anders)

Die kerkorde van die GKN (1989:17) 30 se artikel 9 omskryf die taak van die predikant in drie hoofpunte. Die eerste hoofpunt behels die bediening van die Woord aan die gemeente en dié wat vervreemd is van die Evangelie, Jode en niegekerstende volkere. Saam daarmee ook die bediening van die sakramente, die uitspreek van die seën, en die leiding van alle orige amptelike werksaamhede in die kerkdienste (openbare belydenis van geloof, doen en bekendmaking van tug, bevestiging van ampsdraers, huwelike en kategese). Die tweede deel behels die herderlike sorg oor die gemeente, die opsig en vermaning, besoeke en om mense op ’n ander wyse as openbare verkondiging vir Christus te wen. En derdens handel dit daaroor dat indien die kerkraad aan ’n leraar ’n besondere opdrag gee, dat so ’n predikant van ’n deel van die eerste twee groepe opdragte vrygestel kan word.

5.3 Toerusting deur middel van Woord, sakramente en pastoraat

Volgens artikel 14 van The Basis of Union of the Uniting Church in Australia 31 (1992 ed.) word vrouens en mans uit hul lidmate geroep om die evangelie te predik, die mense in aanbidding te lei, te sorg vir die kudde, te deel in die regering en om diegene in nood in die wêreld te dien. Hiervoor herken en aanvaar hulle bedienaars van die Woord, ouderlinge of leiers (ouderlinge, diakens en leiers), diakonesse, asook lekepredikers. Wat die predikante aanbetref, “These will preach the Gospel, administer the sacraments and exercise pastoral care so that all may be equipped for their particular ministries, thus maintaining the apostolic witness to Christ in the Church”32. Daar is in hierdie formulering duidelik ’n onderliggende sendingverstaan aanwesig.

5.4 Alles by 5.3 plus leierskap

Volgens artikel 21 van The Basis of Union of The United Reformed Church in the United Kingdom het die bedienaars van die Woord die volgende take: “They are commissioned to conduct public worship, to preach the Word and to administer the Sacraments, to exercise pastoral care and oversight, and to give leadership to the church and its mission in the world” 33.

5.5 “...communicate its joy and its justice”.

In hoofstuk 6 nommer 2 van die kerkorde van die Presbiterian Church USA (1998/9) met die opskrif “The Church and its Officers”, word opvallend uitvoerig ingegaan op die taak van die predikant. “She or he is to be responsible for a quality of life and relationships that commend the gospel to all persons and that communicate its joy and its justice. The pastor is responsible for studying, teaching, and preaching the Word, for administering Baptism and the Lord’s Supper, for praying with and for the congregation. With the elders, the pastor is to encourage the people in the worship and service of God; to equip and enable them for their tasks within the church and their mission in the world; to exercise pastoral care, devoting special attention to the poor, the sick, the troubled, and the dying; to participate in governing responsibilities, including leadership of the congregation in implementing the principles of participation and inclusiveness in the decision making of the church, and its task of reaching out in concern and service to the life of the human community as a whole. With the deacons the pastor is to share in the ministries of sympathy, witness, and service. In addition to these pastoral duties, he or she is responsible for sharing in the ministry of the church in the governing bodies above the session and in ecumenical relationships” 34. Hierdie formulering is in ooreenstemming met hulle verbintenis om, “in response to God’s guidance and redemptive activity, to reforming the structures of the church in the light of Scripture and tradition, as needs and circumstances change”35.

5.6 Asook sewe liturgiese take

’n Laaste kerkorde waarna hier gekyk sal word is die kerkorde van die SoW- kerke in Nederland (2002). Hier handel artikel 9 oor die dienswerk van die predikant en word dit onder ses hoofpunte behandel, te wete die bediening van die Woord en sakramente; kategese en toerusting; verkondiging van die Evangelie in die wêreld; en soos hulle daartoe geroep word, die dien van die kerk in meerdere vergaderinge; die herderlike sorg, onder meer die besoek van lidmate; asook die opsig oor gemeentelede (laasgenoemde twee (2) saam met die ouderlinge)36. Van hierdie hoofpunte is slegs die bediening van die Woord en sakramente omskryf in sewe (7) liturgiese punte, naamlik die verkondiging van die Woord; voorgaan in die kerkdienste; bediening van die doop; bediening van die Nagmaal; afneem van openbare geloofsbelydenis; bevestiging van ampsdraers en die inleiding van iemand van ingestel word in die bediening; asook die lei van huweliksdienste, roudienste en gedenkdienste. Die konteks van die liturgiese bewustheid en invloed van die Liturgiese Beweging in Nederland, asook hulle gesamentlike werk aan ’n Dienstboek 37, het waarskynlik ’n invloed uitgeoefen op hierdie omskrywing van die taak van die predikant.

5.7 Die predikant in Gereformeerde wêreld

In hierdie voorafgaande uittreksels uit kerkordes oor die taak van die predikant kom die volgende punte in bykans almal voor wat as deel van die Gereformeerde identiteit van die amp van die predikant gesien kan word. Eerstens word die prediking op een of ander wyse in ’n meerdere of mindere mate genoem, en dikwels saam hiermee ander liturgiese take soos gebede en sakramente. Tweedens kom lering meestal voor soos wat dit op spesifieke wyses uiting vind in die gemeente. Laastens is die herderlike versorging van die gemeente ’n deurlopende gegewe. Hierdie deurlopende elemente korreleer met Calvyn se beskouing en ontwikkelinge na hom.

6. SLOT

Dit is opmerklik hoedat die huidige artikel 9 van die NGK in die Gereformeerde tradisie dikwels aangepas is na gelang van omstandighede en behoefte van ’n spesifieke tydsgewrig. Die sentrale drieslag van Woord/sakrament, lering en sorg/opsig is deurgaans behou, maar die spesifieke inkleding daarvan het gewissel. Die Skriftuurlike grondslag is dus behou, maar het telkens in gesprek getree met die tydsgewrig waarin hierdie waarhede geïnterpreteer en geïmplementeer moes word, wat in die lig van die tweede artikel in hierdie reeks juis by uitstek ’n Bybelse wyse is om daarmee om te gaan. Hierdie artikel toon aan dat só ’n omgaan, naamlik ’n interpretasie en inkleding van die amp na gelang van die nood van die tyd, ook ’n ware Gereformeerde wyse is om te handel. Ons sien dit al so vroeg as 1541 in Calvyn se eie Kerklike Ordonnansie waar hy die taak van die leraar omskryf na gelang van die omstandighede in Genève, maar ook deurgaans, tot en met die kerkorde van die NGK. Dit is ook duidelik in die spesifieke formulering van hierdie artikel in die kerkordes van Gereformeerde kerke wêreldwyd.

Met voorafgaande gegewens in gedagte sou ons dus vandag tereg kon vra of die inhoud van artikel 9 die spesifieke behoeftes wat daar tans in die NGK rondom leierskapsrol van die predikant bestaan voldoende akkommodeer? Vervolgens sal by hierdie voorafgaande gegewens soos wat dit na vore gekom het in die eerste drie artikels aangesluit word deur riglyne te gee vir die taak van predikante in die NGK vandag in die lig van die huidige konteks.

Tabel 2

DIE PREDIKANTSAMP. DEEL 3: DIE TAKE VAN DIE PREDIKANT IN DIE GEREFORMEERDE TRADISIE – HISTORIES EN EKUMENIES BESKOU

1843/1852/

1857/1863/

1870 (take)

Herderlike werk

Preek

Katkisasie

Huisbesoek

Siekebesoek

Plegtighede

1873/1890/

1903/1906/

1909/1915/

1919/1924/

1928/1932/

1940/1945/

1949/1953/ (opdragte)

Verkondiging

Sakramente

Lei openbare godsdiens- oefeninge

Huwelike inseën

Kategese

Belydenis van geloof

Huisbesoek Siekebesoek sorg

Bestuur KR- vergaderinge

Beslis geskille; wie tot kansel toelaat

Engels preek

1957/1961 (take)

Verkondiging

Sakramente

Lei openbare godsdiens- oefeninge

Huwelike bevestig

Kategese

Belydenis van geloof

Huisbesoek Siekebesoek sorg

Lei KR- vergaderinge

Beslis geskille; wie tot kansel toelaat

Indien afwesig sorg dat dienswerk waargeneem

Reg op jaarlikse vakansie van

maksimaal 6 wek

1970/1974/

1978/1982/

1986

(amp omvat)

Verkondiging en diens van gebede

Sakramente

Lei eredienste

Kategese

Regering en tug met KR

Huisbesoek en herderlike sorg

Lei KR- vergaderinge

1990/1994 (amp omvat)

Bedien Woord

Sakramente

Diens van gebede

Lei eredienste

Kerklike onderrig

Herderlike sorg, veral huisbesoek

Ywer vir uitbreiding

van koninkryk van God

Regering, organisasie, leiding en bestuur van gemeente met KR

Opsig en tug met KR

Lei KR- vergaderinge

1998 (amp of bediening gerig op Woord- bediening)

Prediking

Sakramente

Diens van gebede

Lei eredienste

Kerklike onderrig

Herderlike sorg, veral huisbesoek

Ywer vir uitbreiding

van koninkryk van God gemeente

Regering, organisasie, leiding en bestuur van

met KR

Opsig en tug met KR

Lei KR- vergaderinge

2002 (amp of bediening gerig op Woord- bediening)

Prediking

Sakramente

Diens van gebede

Lei ere- dienste

Kerklike onderrig

Herderlike sorg,

veral huisbesoek

Ywer vir uitbreiding van koninkryk van God

Regering, organisasie, leiding en bestuur van gemeente met KR

Opsig en tug met KR

Lei KR- en ander kerkver- gaderinge

Verantwoor delikhede tov kerk- verband

BIBLIOGRAFIE

Benoit, J-D 1947. Calvijn als zielzorger. Vertaal deur A J A Mondt-Lovink. Nijkerk: G.F. Callenbach.

Bouwman, H 1928. Gereformeerde Kerkrecht. Eerste Deel. Kampen: J H Kok.

Brink, W P en R R de Ridder 1987. Manuel of Christian Reformed Church Government. Grand Rapids: CRC Publications.

Burger, C W 2002. “Nagmaal in die NGKerk - tussen tradisie en vernuwing. Deel 3”. NGTT 43/3 & 4, 661 -669.

Calvyn, J 1541. “Draft Ecclesial Ordinances. September & October 1541”. In: Reid, J.K.S. (red.). 1984. Calvin: Theological Treatises. The Library of Christian Classics. Ichthus Edition. Philadelphia: The Westminster Press.

Calvyn, J 1972. Uitleggen op den Zendbrief van Paulus aan Efeze. Vertaal deur A M Donner. Tweede druk. Goudriaan: W A de Groot.

Calvyn, J 1972. Uitleggen op den Eersten en Tweeden Zendbrief van Paulus aan de Corinthiërs. Vertaal deur AM Donner. Tweede druk. Goudriaan: W A de Groot-Goudriaan.

Calvyn, J 1991. Institusie van die Christelike Godsdiens. Deel 4. Vertaal deur prof dr H W Simpson. Potchefstroom: CJBF.

Dienstboek een proeve. Schrift Maaltijd Gebed. 1998. Zoetermeer: Uitgeverij Boekencentrum.

Gerrish, B A 1993. Grace & Gratitude. The Eucharistic Theology of John Calvin. Minneapolis: Fortress Press.

Handboek vir die Erediens. 1988. Goodwood: NG Kerk-Uitgewers.

Jonker, W D 1981. Die Gees van Christus. Wegwysers in die Dogmatiek 4. Pretoria: NGKerk-Uitgewers.

Jonker, W D 1994. Bevrydende waarheid. Die karakter van die gereformeerde belydenis. Wellington: Hugenote-Uitgewers.

Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. 1989. Kampen: J H Kok.

Kerkordes/ Wetten en bepalingen van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika tussen 1843 en 2002. Kerken-Ordeninge gesteld in de Nationaale Synode Der Gereformeerde Kerken, te zamen beroepen en gehouden doot ordre van de H Mog. Heeren Staten Generaal der Vereenigde Nederlanden, binne DORDRECHT in de Jaaren 1618 en 1619.

Kleynhans, E P J 1974. Die Kerkregtelike Ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid- Afrika 1795-1962. Proefskrif Universiteit van Stellenbosch.

Kleynhans, E P J 1984. Gereformeerde Kerkreg. Deel 2: Kerk en Amp. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.

Lekkerkerker, A F N 1971. Oorsprong en funktie van het ambt. ‘s-Gravenhage: Boekencentrum N.V.

Office of the General Assembly Presbyterian Church (U.S.A.) 1996. A Ministry of Service. A Guide to the Meaning of Ordination and Church Office in the Presbyterian Church (U.S.A.). The Office of Theology and Worship.

Ons glo…Die Drie Formuliere van Eenheid en die Ekumeniese Belydenisse. Derde druk. 1996. Kaapstad: N.G. Kerk-Uitgewers.

Pont, A D 1981. Die historiese agtergronde van ons Kerklike Reg. Deel 1. Pretoria/ Kaapstad: HAUM.

The Constitution of the Presbyterian Church (U.S.A.) Part II. Book of Order. 1998-1999. Louisville: The Office of the General Assembly, G-6.0202.

Trimp, C 1990. “Het pastoraat van de kerk”. In: Van’t Spijker, W. et al (reds.). De Kerk. Wezen, weg en werk van de kerk naar reformatorisch opvatting. Kampen: Uitgeverij De Groot Goudriaan.

Van der Borght, A J G 2000. Het ambt her-dacht. De gereformeerde ambtstheologie on het licht van het rapport Baptism, Eucharist and Ministry (Lima, 1982) van de theologische commissie Faith and Order van die Wereldraad van Kerken. IIMO Research Publication 55. Zoetermeer: Meinema.

Van der Merwe, M 1991. “Jy het ’n unieke rol, dominee”. Stellenbosch: BUVTON.

Wepener, C J 2002. “Nagmaal in die NGKerk – tussen tradisie en vernuwing. Deel 1”. NGTT 43 / 3 & 4, 641-651.

Wepener, C J 2002. “Nagmaal in die NGKerk - tussen tradisie en vernuwing. Deel 2”. NGTT 43 / 3 & 4, 652-660.

Internet bronne

http://www.bibleviews.com/FCMstate.html

http://members.iinet.net.au/~jvd/ch-order.htm

http://www.kerkrecht.nl

http://www.uca.org.au/basis_of_union.htm

http://www.urc.rog.uk/manual/basis_of_union.htm

http://sowkerken.nl/synode/kerkorde/ordinantie3.htm

1 Artikel 9 van die Kerkorde van die NG Kerk omskryf die taak van die predikant.

2 Spesifiek die Ordonnances Ecclésiastiques van Genève uit 1541 en die Discipline Ecclesiastique van Frankryk uit 1559, alhoewel laasgenoemde kerkorde wat opgestel was vir ’n nasionale kerk in Frankryk oor weinig inligting oor die taak van die predikant beskik.

3 Dit is dus deurgaans noodsaaklik om ’n oog te hê vir klein verskille wat voorkom in die omskrywing van die taak van die predikant in die verskillende geskrifte, en saam hiermee die redes vir hierdie verskille na te speur. So ’n verkenning kan help om die taak van die predikant in die Gereformeerde tradisie te belig en dit op te weeg teen die eise wat daar tans aan hierdie amp gestel word. Sodoende kan die omskrywing van die taak van die predikant in artikel 9 geëvalueer word ten opsigte van die uitdagings wat die hedendaagse konteks bied en in die lig van die tradisie en die siening van die wêreldwye Gereformeerde familie oor hierdie saak.

4 Vergelyk in hierdie verband die reeks artikels oor die Nagmaal van Wepener en Burger (2002).

5 Calvyn, J 1991. Institusie van die Christelike Godsdiens. Deel 4. Vertaal deur prof dr H W Simpson. Potchefstroom: CJBF, Inst. 4.3.2 p. 1318, asook Calvyn, J 1972. Uitleggen van den Zendbrief van Paulus aan Efeze. Vertaal deur A M Donner. Tweede druk. Goudriaan: W A de Groot, p 60. Sien in hierdie verband ook Trimp se bespreking waarin hy onder andere die amp van die predikant by Calvyn soos gevind in vroeë kerkordes bespreek en onomwonde verklaar dat die kerkorde (wat uiteraard al die take van die predikantsamp insluit) in diens van die pastoraat gestaan het. Vergelyk, Trimp, C 1990. “Het pastoraat van de kerk”. In: Van’t Spijker, W et al (reds). De Kerk. Wezen, weg en werk van de kerk naar reformatorisch opvatting. Kampen: Uitgeverij De Groot Goudriaan, p. 155-156.

6 Sien Lekkerkerker (1971:133), asook Van der Borght (2000:109-205) vir die belangrikste bronne waarin Calvyn die ampte bespreek.

7 Vergelyk hier veral hoofstuk 1 getiteld “Calvijn en het herdersambt”.

8 By Calvyn staan die amp altyd ten dienste van die mens wie se waardigheid ontleen word van die feit dat God ’n persoon roep, en daarbuite geen waarde het nie maar in sonde verlore is. Die amp moet mense van die regte leer bedien, gegrond op die Woord, om hulle met hulle gewetensonrus te help en na vrede met God te lei. Benoit haal gepas aan uit ’n kommentaar van Calvyn op 1 Tessalonisense, naamlik: “De leraars zijn niet alleen daartoe verordend, dat zij de mensen in een dag of in een maand tot het geloof in Christus brengen, maar ook dat zij het begonnen geloof tot volmaking voeren”.

9 Afgesien van enkele wysigings wat aan hierdie dokument aangebring is was dit basies ’n skepping van Calvyn wat grootliks sy kerkregtelike denke weerspieël en spesifiek gerig was op die inrigting van die kerklike lewe in Genève. Vir die teks van hierdie dokument vergelyk, Calvyn (1541:56–72), asook die Afrikaanse vertaling en 1561 verwerking van hierdie dokument in, Pont (1981:22–47). In hierdie dokument word soms ook direk gesê dat omskrywings op “die swakheid van die tyd” berus, wat wys hoe die tydsgewrig ’n hele kerkorde beïnvloed en dus ook die spesifieke omskrywing van die taak en opdrag van die predikant. Sien Van der Borght (2000:189-191) vir ’n bespreking van die amp in La Discipline Ecclésiastique (1559).

10 Hierdie take word verder in die dokument in meer besonderhede omskryf onder verskeie opskrifte. Eerstens betreffende die prediking (die voorskrifte was gemik op die spesifieke konteks van Genève):

• Elke Sondag met dagbreek en op die gewone uur preek.

• In die middag kategismus vir die kinders.

• Teen 15:00 die middag van die Sondagmiddag die tweede preek.

• Twee preke op weeksdae, plus ’n preek in St Pieterskerk drie keer per week (Maandag, Dinsdag en Vrydag).

Tweedens moes die predikante die sakramente bedien:

• Doopbediening moet tydens ’n preekgeleentheid plaasvind.

• Nagmaal moet gereeld, ten minste eenmaal per maand, bedien word.

11 Niemand moet langer as drie dae in ’n siekbed wees sonder dat ’n predikant daaroor in kennis gestel is nie. Predikante moes ook gevangenes besoek op ’n Saterdag na aandete.

12 Predikante moet saam met ouderlinge elke Donderdagoggend versamel om die optrede van lidmate te bespreek en te doen wat nodig is vir die opsig en handhawing van die kerk.

13 Volgens Lekkerkerkeker (1971:134) was hierdie ampte spesifiek ingestel vir die tyd waarin die gemeentes opgerig moes word. Lekkerkerker lewer hieroor ook enige kritiek, naamlik dat Calvyn te gemaklik omgaan met die normale situasie in die gemeente waarin daar geen buitengewone ampte benodig word nie. Wanneer sal ’n situasie dan nou normaal wees? Sien hier ook Calvyn se kommentaar op 1 Korintiërs 12:28 (Calvyn 1972:218).

14 Inst. 4.3.5, p 1321.

15 Oor die amp van herder skryf Calvyn, “Hulle is naamlik so oor die kerk aangestel om nie ’n lamsakkige nering te beoefen nie maar om die (kerk)volk met die leer van Christus tot ware godsvrug te onderrig, die heilige sakramente te bedien en die regte tug te handhaaf en te beoefen”. Calvyn (1991:1322). Vir meer oor die verskil tussen herder en leraar by Calvyn, sien, Lekkerkerker (1971:134-135). Lekkerkerker verwys hier na Dankbaar se navorsing oor die amp by Calvyn en konkludeer dat “Calvijn niet gelukte de leraar duidelijk te onderskeiden van de herder, zodat hij soms de neiging heeft ze samen te brengen tot het éne ambt van ‘herder en leraar’”.

16 Vergelyk ook, Calvyn, (1972:60). Sien ook, Jonker (1994:78-79). Op hierdie punt lewer Lekkerkerker ook kritiek, naamlik dat Calvyn te vinnig heengaan oor sake soos die gawe van genesing en praat in tale deurdat hy laasgenoemde in Institusie 3.8 nie die moeite werd ag om lank by stil te staan nie. Lekkerkerker is van mening dat in sy tyd (1971) sou ’n houding jeens hierdie sake nie meer aanvaar sal word nie. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat Calvyn, soos Van der Borght (2000:147) tereg opmerk, nie die indruk wil wek dat hy oor die amp die laaste woord gespreek het nie, en dat Calvyn in die lig van sy tyd interpreteer en keuses maak.

17 Calvyn gebruik hier die vergelyking van ’n stuk gereedskap wat ’n vakman gebruik om sy werk te doen. ’n Beeld wat ook die gedagte dat God as vakman sélf aan die werk is en die amp deur Hom gebruik word bevestig.

18 Vir ’n bespreking van die onderskeie ampte by Calvyn sien ook, Van der Borght (2000:133-147).

19 Volgens Lekkerkerker (1971:134), het Calvyn te veel profesie meegemaak by die Wederdopers om besonder entoesiasties daaroor te wees, en dit gereken as ’n buitengewone amp van die begintyd. Calvyn merk self in sy kommentaar oor 1 Korintiërs op dat profete na sy oordeel nie die gawe van voorspelling besit nie, maar “de bezondere gave bezitten om niet alleen de Schrift uit te leggen, maar haar ook voorzichtig tot tegenwoordig gebruik toe te passen” (Calvyn 1972:218).

20 Hier is ’n belangrike punt van verskil tussen apostels en herders by Calvyn. Apostels moes die Evangelie aan die hele wêreld verkondig en nie slegs in sekere gemeentes nie. Hierteenoor het herders nie hierdie opdrag nie, maar wel die opdrag om sy gemeente te versorg wat aan hom toevertrou is (Calvyn 1972:218). Hierdie spesifieke lokaliteit waaraan ’n dienaar van die Woord gekoppel word kom ook tereg in die Kerkorde van Dordt. Artikel 7 lui dat niemand in die diens van die Woord beroep sal word sonder om in ’n spesifieke plek aangestel te word nie, en volgens artikel 15 kan predikante nie sonder die nodige toestemming van die ring of sinode in ’n ander gemeente gaan preek of die sakramente bedien nie.

21 Sien, Kerken-Ordeninge gesteld in de Nationaale Synode Der Gereformeerde Kerken, te zamen beroepen en gehouden doot ordre van de H. Mog. Heeren Staten Generaal der Vereenigde Nederlanden, binne DORDRECHT in de Jaaren 1618 en 1619. In artikel 2 van hierdie kerkorde word Calvyn se vierslag van Dienaar van die Woord, Doktor, Ouderling en Diaken gehandhaaf, en al die verdere artikels vanaf 3-17 handel oor die dienaar van die Woord.

22 Kleynhans (1974:105-109) argumenteer dat die Dordtse Kerkorde tot en met 1803 aan die Kaap gegeld het. In 1804 het sake egter verander deurdat die Kerkorde van De Mist in gebruik geneem is en sodoende die Gereformeerde lyn tot op hede verbreek het. In 1824 is die Algemeene Reglement Voor Het Bestuur Der Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika aanvaar wat die rigting volg van die sogenaamde “Algemeene Reglement” van 1816 wat deur koning Willem 1 van Nederland aan die Gereformeerde Kerke in Nederland opgelê is (Kleynshans 1974:119). Hierdie reglement het dus nie die Kerkorde van Dordt as uitgangspunt geneem nie, sodat Hanekom kon praat van “onkruid op die akker van ons godsdienstige lewe, wat ...veel kwaad gedoen het” (Kleynhans 1974:120). By die sinode van 1837 is besluit om die bestaan kerkorde te hersien en die resultaat was die sogenaamde Wette en Bepalinge van 1842. Hierdie kerkorde van 1842 en alle wysigings wat daarna ingetree het ten opsigte van die taak/plig van die predikant sal hier as uitgangspunt geneem word. Vergelyk Tabel 2 aan die einde van hierdie artikel vir ’n opsommende vergelyking van die take van die predikant in die Kerkorde van die NGK tussen 1842 en 2002.

23 Wetten en Bepalingen voor het bestuur der Nederduitsch-Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika. 1853. Kaapstad: N H Marais, p 28-29.

24 Wetten en Bepalingen voor het bestuur van de Nederduitsche Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika. 1904. Kaapstad: Aan het kerke kantoor, Hugenote Gedenkzaal, p 2.

25 Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met ’n aantal reglemente, bepalinge en formuliere volgens besluit van die Algemene Sinode van 1970. Pretoria: NGKB, p 3. Asook, Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met reglemente en besluite van kerkregtelike aard soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Oktober 1990. Pretoria: NGKB, p 3-4.

26 Bouwan (1928:486) sê dieselfde oor die Kerkorde van Dordt, te wete dat artikel nie ’n notariële omskrywing is nie, maar slegs die hoofpunte.

27 Vir ’n vergelykende opsomming van die ontwikkeling van die omskrywing van die taak van die predikant in die kerkorde van die NGK, sien tabel 2 aan die einde van hierdie artikel.

28 Hierdie formuliere benodig hersiening met die oog op meer inklusiewe taalgebruik ten opsigte van die vroulike voornaamwoord.

29 In kort: ’n egte geloofsverhouding; onder heerskappy van die Heilige Gees vir getroue, nederige diens; geen eer- of selfsug; gesin goed en met liefde versorg; geloofsgroei moet gemeente inspireer.

30 Volgens artikel 16 van die KO van CGKN (2001) behoort tot die taak van die predikant, “in de gebeden en in de bediening des Woords en der sacramenten volharden, dat zij als goede herders zorg en verantwoordelijkheid dragen voor hun mede-ambtsdragers, ouderlingen en diakenen, en voor de hele gemeente, tucht oefenen met ouderlingen en zich ervoor inspannen dat alles betamelijk en in goede orde geschiedt”. Sien, http://www.kerkrecht.nl

31 Die Uniting Church of Australia bestaan uit ’n vereniging in 1977 van die Kongregasionele-, die Metodiste- en die Presbiteriaanse Kerk.

34 The Constitution of the Presbyterian Church (U.S.A.) Part II. Book of Order. 1998-1999. Loiusville: The Office of the General Assembly, G-6.0202.

35 Office of the General Assembly Presbyterian Church (U.S.A.). 1996, p 5. Hierdie uitlating is in lyn met die Gereformeerde ecclesia reformata semper reformanda. Hierdie werk onderskei ook tussen ses sogenaamde kern funksies van die leraar, te wete “Authoritative Proclamation of the Word”, “Community Formation”, “Leadership in Governance”, “Prophetic Witness to God’s Reign and Purpose in the World”, “Edification of the Body” en “Celebrating the Sacraments”.

37 Vergelyk, Dienstboek een proeve. Schrift Maaltijd Gebed. 1998. Zoetermeer: Uitgeverij Boekencentrum.

Resensies

Vorster, N 2003. Kerk en menseregte binne ’n regstaat. Potchefstroomse Teologiese Publikasies. Bladsye: 538. Prys onvermeld

Die skrywer het vir die doel van sy publikasie ’n hoogs aktuele onderwerp gekies. Gegewe die rol van die Afrikaanse kerke onder die vorige bedeling, bly dit hoogs noodsaaklik dat grondig besin sal word oor die profetiese roeping van die kerk ten opsigte van die vestiging van ’n etos van menseregte in Suid-Afrika. Dit is ’n taak wat nog vir baie jare bo aan ons lys van prioriteite sal bly, aangesien selfs ’n regstaat met ’n Handves van Regte eers sal werk as daar onder die breë bevolking ’n wil is om dit te maak werk.

Hierdie boek is baie breed en wyd aangevoor. Die skrywer het duidelik die behoefte gevoel dat letterlik alle inligting noodsaaklik was vir sy doel. Dit blyk direk uit sy breë historiese oorsigte oor Suid-Afrika se menseregtegeskiedenis, wat hy behandel aan die hand van drie periodes, nl. 1652-1795, 1795-1910 en 1910-1999. Hierna bespreek hy die historiese ontwikkeling van die idee van menseregte, ’n geskiedenis wat hy ’n aanvang laat neem met sewentiende eeuse filosowe. Hy verwys in slegs enkele sinne na die tyd voorafgaande daaraan – iets wat sekerlik deur sommige lesers as nie voldoende nie beskou sou kon word. Sy bespreking van die Christelike tradisie sluit in ’n bespreking van die belangrikste konfessionele tradisies en ekumeniese besinning.

Die besondere waarde van die boek word pas vanaf hoofstuk 5 duidelik. Wanneer die skrywer die teologiese perspektiewe op die grondwaardes van die Suid-Afrikaanse grondwet behandel, gee hy blyke van ’n baie goeie teologiese navorsingsvaardigheid. Hy is vertroud met die relevante literatuur en openbaar ’n volwasse analitiese en gebalanseerde kritiese insig. Na die lang voorbereidende inleidings kom sy probleemstelling en navorsingshipotese nou skerp en duidelik na vore in wat die sentrale skopus van sy boek vorm. Hier, meen ek, vind ons ook sy belangrikste bydrae tot die vakgebied.

Na sy uiteensetting van ’n basiese teologiese benadering tot menseregte en die hermeneutiese sleutels vir die verstaan van menseregte, probeer hy die grondwaardes peil wat ten grondslag lê van die Suid-Afrikaanse grondwet. Wat van werklike oorspronklike navorsingswerk getuig, is veral sy weergawe van hoe die howe, met name die Konstitusionele Hof, interpretasies gee van hierdie grondwaardes in die periode na 1994. Dit was vir my persoonlik waardevolle inligting en ek meen dat dit tesame met die daaropvolgende hoofstukke ’n baie goeie bydrae tot ons vakgebied daarstel.

Die ou probleem van die posisie van die kerk in ’n neutrale regstaat, en daaruit volgend die probleem van die verhouding van die kerk tot die owerheid is ’n belangrike aspek van die skrywer se navorsing. Weer eens is daar ’n baie lang aanloop ten opsigte van die profetiese roeping van die kerk teenoor die owerheid, met name in verband met die vestiging van ’n etos van menseregte. Hy bespreek Ou sowel as Nuwe Testamentiese perspektiewe, verskillende sienings bunne die moderne Gereformeerde Tradisie, sowel as art. 36 van die NGB en etlike kerkordelike punte. Besonder waardevol, is die afdeling wat handel oor konkrete riglyne vir die beoefening van die profetiese roeping van die kerk en die tipe sake wat ter sprake sal kom – magsmisbruik, monitering van wetgewing, rassisme, diskriminasie, xenofobie, die regstelsel, armoede, vigs, kinder- en vroueregte, godsdiensvryheid en respek vir die lewe.

Sy slothoofstuk handel oor die uitgangspunte van ’n kerklike getuienis, die middele daarvan en die inhoud en praktiese gestalte van die verkondiging.

Daar sal beslis gesprek gevoer moet word oor die gedagte van ’n Gereformeerde-ekumeniese liggaam wat in ’n deurlopende gesprek met die owerheid moet bly. Daar is by my geen twyfel oor die noodsaak daarvan nie. Oor die besonderhede daarvan sal verskil word en daar sal lig opgesteek moet word by die Duitsers, maar ook by die Amerikaners wat vanuit ’n ekumeniese sentrum op Capitol Hill alle wetgewing sif en regeringslui oor sake spreek (“screening and lobbying”). Vrae soos waarom net Gereformeerd? Waarom ’n raad en nie bloot ’n kantoor nie? Wat van die SARK?, ens sal bespreek moet word. Dit is egter bloot praktiese detail wat niks afbreek deur aan die ter sake besinning en voorstelle van die skrywer nie.

Hierdie boek, wat in feite die publikasie is van ’n proefskrif waarop die skrywer sy doktorsgraad ontvang het, kan werklik sonder voorbehoud aanbeveel word vir ’n wye leserskring. ’n Mens hoop dat dit nie die laaste bydrae van hierdie skrywer op hierdie vakgebied sal wees nie.

D A DU TOIT

Universiteit van Stellenbosch