Burger, C W
BUVTON, Universiteit van Stellenbosch

Die predikantsamp. Deel 4: Predikantwees in die Gereformeerde tradisie in die 21ste eeu – nuwe uitdagings en nuwe tendense

ABSTRACT

The office of the minister. Part 4: On being a minister in the Reformed tradition in the 21st century – new challenges and new tendencies.

The argument from the previous three articles is taken a bit further in this fourth article. In this article the focus is specifically on newer developments regarding the office of the minister in the Reformed tradition. Firstly traditional views is highlighted, especially looking at developments in the 20th century. Thereafter five new accents are looked at that came to the fore in the last twenty years. These accents are not very different to the accents of Calvin concerning this office, but it helps us to understand these accents within a new context. What is however still needed is the integration of these insights within a coherent whole – and this will be the aim of the last article of this series.

1. INLEIDING

Hierdie artikel sluit aan by die vorige drie in die reeks en neem die argument ’n entjie verder. In die eerste artikel is gefokus op die groeiende onduidelikheid oor wat presies die voltydse predikantsamp in ons tyd behels. Daar is aangetoon dat hierdie onduidelikheid tot roepingsverlies en grootskaalse beroepsongelukkigheid by predikante kan aanleiding gee. Daar is gesê dat die onduidelikheid veelvlakkig is (daar is nie net een oorsaak nie) en dat dit as sodanig ’n omvattende antwoord of model benodig om die probleem te ondervang. En hiervoor word verdere navorsing benodig wat in hierdie reeks artikels in ’n eerste rondte aangespreek sal word. In die tweede artikel is ’n eerste poging tot helderheid geloods deur na leierskap in die Bybel te kyk en te wys op aspekte waaroor die Bybel wel konstant is in hierdie verband. In die derde artikel is die ontwikkeling van die amp van die predikant in die Gereformeerde tradisie nagespeur en enkele gevolgtrekkings gemaak.

In hierdie artikel word gekyk na belangrike nuwer ontwikkelings en gedagtes rondom predikantwees en predikantswerk. Omdat ons reeds in die Ou- en Nuwe Testament gesien het dat die kanon nie alle aspekte van ampswerk en -verpligtinge presies afbaken nie, moet ons voortdurend in gesprek bly met die konteks oor die vraag hoe ons ons ampswerk die beste (dit is getrou en effektief) kan doen. ’n Ideaal wat ook eie is aan die Gereformeerde tradisie wat deur die eeue die pligte van die predikant, sonder die verlies van die kernidentiteit van hierdie amp, in terme van die konteks vertaal het.

2. TRADISIONELE BESKRYWINGS VAN DIE PREDIKANTSROL IN DIE GEREFOR- MEERDE TRADISIE

In die Gereformeerde tradisie was dit vir baie lank so dat die predikantsrol rondom veral drie take gedraai het naamlik prediking, lering en herderlike sorg. In die vorige artikel het dit ook so aan die lig gekom, naamlik dat dit die sentrale sake is waarom die amp van die predikant by Calvyn ressorteer en as sodanig as die raamwerk gesien kan word waarbinne fyner omskrywings moontlik is. Hierdie driedeling kom ook as sodanig na vore in die werk van teoloë in die twintigste eeu.

Dieselfde beklemtonings by Leith (1990) vind ’n mens by James Smart in 1960 in sy boek The Rebirth of Ministry. Die drie take van prediking, lering en pastoraat, staan sentraal alhoewel Smart ook teologisering as ’n vierde taak inbring. Ongeveer dieselfde beklemtoning word deur die Nederlandse studiestuk uit 1971 (60) Wat is er aan de hand met het ambt? aangereik, te wete Woordbediening, lering, herderlike sorg en diakonaat. Nog ’n dekade later handhaaf Firet (1982:109-121) dieselfde driedeling deur die grondvorme van pastorale optrede te tipeer as prediking, kategese en sielsorg. Die nuansering van hierdie drievoudige take van die leraar in die Gereformeerde tradisie word deur Leith (soortgelyk aan die ander vermelde bronne) as volg ingevul.

Hy gaan in sy boek From generation to generation (1990) in op die amp van die predikant, en nadat hy die kerk en die amp bespreek het, laat hy die volgende drie hoofstukke ook uiteenval in prediking, lering en pastorale sorg. So merk hyself op, deur te delf in die tradisie van die Gereformeerde Christenheid, “…, the well-being of the church depends above all else on the people who are hearing the gospel, the church, and upon the competence and dedication of ministers whom the people call to preach, teach, and exercise pastoral care” (Leith 1990:81). Verder sê hy, “When churches take seriously preaching, teaching, and pastoral care, congregations generally thrive, even in a secular society” (Leith 1990:177). Vervolgens meer oor elk van hierdie drie roepings volgens hom.

Wat prediking aanbetref, is dit vir Leith (1990:84) imperatief dat die prediker ’n roeping moet hê om te preek, en hierdie roeping is die enigste regverdiging vir prediking. Predikers preek, nie omdat hulle betaal word of omdat sy of hy die predikant van ’n bepaalde gemeente is nie, maar enkel en alleen omdat hy/sy ’n roeping het om dit te doen. En wat die prediking self betref, is Leith (1990:83–84) van oortuiging dat daar ’n behoefte bestaan aan goeie teologiese prediking van die hoogste graad, preke met teologiese diepte, en predikers wat die preeksmaak van gemeentes in hierdie rigting kan verander. “It means that the homiletician must be a person knowledgeable in the theology and in the Bible if the preacher is to stand in the Reformed tradition” (Leith 1990:89). Die prediking is God se werk en die mens se werk, maar die uiteindelike respons tot die preek is geleë in die verkiesende genade van God. En om dié rede behoort prediking proklamasie te wees en nie ander sake soos lering, uitleg, die gee van ’n lesing of ’n redevoering nie, maar ’n aktuele toesegging van God se verkiesende genade aan die toehoorders. Hierdie genade wat God vir die mens bewerk het, moet ook toegepas word op mense se lewens, binne ’n Bybelse en teologiese visie van die werklikheid en op só ’n wyse dat die bemiddeling van God se genade gemeenskap tot stand bring (Leith 1990:93)1 . En hierdie tipe prediking wat vandag benodig word en wat een van die sentrale take van die predikant is, “…requires personal commitments, scholarly competences, and technical skills” wat Leith (1990:113) in vyf punte opsom: die hernuwing van geloof, herlewing van die Christelike gemeenskap, herontdekking van die Bybel en teologiese vaardigheid, herontdekking van ’n teologiese raamwerk en laastens die herontdekking van helder duidelike taal.

Wat lering aanbetref, wys Leith daarop dat, anders as enkele jare gelede, die Christelike tradisie in ’n sekulêre en pluralistiese samelewing nie meer deur ander instansies as die kerk oorgelewer word nie. Daarom is dit van integrale belang dat die kerk sélf die geloof leer, aangesien niemand anders dit gaan doen nie. Lering is anders as prediking maar toon ook ooreenkomste. Waar prediking proklamasie is, is lering die verduideliking van prediking, alhoewel prediking ook lering bevat (Leith 1990:116). Verder is lering in die kerk, anders as lering op ander terreine, ’n saak wat met die bewussyn van die heilige begin, en daarom kan Leith (1990:120) opmerk, “Teaching in the church is above all the explication of what God has done for human salvation”. En dit wat inhoudelik geleer word, moet sentreer om die Bybel as die persoonlike dade van God en die Woord van God en begin by die basiese instruksies van die kerk soos die geloofsbelydenisse, gebooie, gebede, sakramente en algemene pligte van Christene (Leith 1990:124-126). En die vier sake waaroor die kerk lering moet verskaf is die Skrif, teologie, die interpretasie van die menslike bestaan in die wêreld in die lig van die Christelike geloof en vierdens oor die pligte en praktyke van die Christelike lewe.

Met betrekking tot pastorale sorg sê Leith was die term pastor die voorkeurdefinisie van Calvyn vir ’n leraar. En om pastorale sorg vandag te definieer binne die Gereformeerde tradisie meen hy dat vier teologiese dogmas hier van belang is ten einde dit van ander sekulêre terapieë te onderskei2. Hierdie Gereformeerde leerstellings bring hom by ’n verstaan van pastoraat as die inkorporasie van mense in die lewe van die kerk. Daarom is die taak van die pastor om mense aan te moedig om te vergader met God se volk, saam te aanbid, die prediking te hoor en die sakramente te ontvang. Só word mense in die gemeenskap van gelowiges ingebring (Leith 1990:153). En prakties gesproke berus die taak van die leraar as pastor by huisbesoek, siekebesoek, besoeke aan diegene in nood of wat in die moeilikheid is en besoeke aan voornemende lidmate (Leith 1990:156-157).

Daar was egter – om verstaanbare redes – ’n voortdurende ongemaklikheid om net dit te sê. In die derde artikel (oor die uitbreidings van Art 9 in bestaande Kerkordes) is aangetoon, het nuwe situasies waarmee Gereformeerde kerke gekonfronteer is telkens uitbreidings en nuansering van die aanvanklike ampsbeskrywing meegebring. Dit is ook so in die era waarin ons tans leef.

3. VYF NUWE BEKLEMTONINGS

In die res van hierdie artikel gaan gekyk word na vyf sulke relatief nuwe beklemtonings of nuwe nuanserings ten opsigte van predikantswerk wat in die laaste twintig jaar na vore gekom het.

Dit moet van meet af duidelik wees dat hierdie beklemtoning nie bedoel is om die essensie van die Reformatoriese ampsbeskrywing te vervang nie, maar om dit te profileer en uit te brei.

3.1 Die gemeente as primêre draer van die evangelie: opkoms van gemeentestudies

Die eerste nuansering hang saam met die oortuiging dat nie die predikant nie, maar die gemeente en haar lewe die primêre getuie van die evangelie is. Dit beteken dat die werklike meting van ons werk nie bloot aangelê kan word op wat ons as leraars doen of nie doen nie, maar eerder op die vraag tot watter mate ons bediening die gemeente help om haar getuienis te dra. Predikantswerk is bemiddelingswerk en moet as sodanig beoordeel en verstaan word.

Daar is ook ’n eenvoudige teologiese rede voor. Die werklike draer van die waarheid van die Evangelie is nie die amp nie, maar die gemeente (vergelyk Burger en Nell 2002). Wat die wêreld gaan oortuig van die waarheid is nie die getuienis van die amp of sekere individue nie, maar die lewe van die gemeente. Newbigin (1989:222) het dit baie raak geformuleer toe hy die gemeente die primêre uitlegger van die evangelie genoem het. Daarom ook is die eerste draers van die drie ampte van Christus naamlik profeet, priester en koning, nie die leraar en die ander ampsdraers nie, maar die gemeente self (vergelyk Wainwright 1997:115). So byvoorbeeld gaan die profetiese amp nie in die eerste plek oor die prediking van die leraar in die gemeente nie, maar oor die lewe en die getuienis van die gemeente in die wêreld.

Peter Hodgson (1988:98) som dit goed op as hy skryf: “The fundamental purpose of ministry is to guide and serve the process of ecclesial formation, ecclesial preservation and ecclesial mission – that is, to enable the church to realize its ecclesial essence, to be a community of faith, hope and love, a sign and sacrament of the kingdom of God”.

Dit is onnodig om te sê: as ’n mens ampswerk so verstaan maak dit ’n yslike verskil. Dit maak die saak aan die eenkant makliker, maar aan die anderkant ook moeiliker. Dit gaan nou nie meer net om wat die predikant self doen nie, maar oor die uiteindelike effek daarvan op die opbou en lewe van die gemeente. Ons verstaan predikantswerk wesenlik verkeerd as ons daaraan dink as ’n bediening aan die gemeente of selfs in die gemeente. Ons sou dit eerder kon noem ’n bediening deur die gemeente (aan die wêreld).

Dis nie moeilik om te sien hoe die professionalisering van die amp die probleem vererger het nie. Professionalisering het saamgehang met ’n fase waar predikante gevoel het dat hulle soos ander professionele mense hanteer wil word met afgebakende pligte, ure, verwagtings, ensovoorts. Hulle wou afgebakende spesialispligte hê en nie gemeet word aan breë, algemene doelwitte nie, maar aan hoe hulle hulle spesialispligte verrig het. Dit het beteken dat die predikant nie langer (alleen) verantwoordelikheid vir die geheel wou aanvaar nie. Hulle wou op ’n manier vry wees van die las of dit wat die gemeente in die geheel doen, as geslaagd gesien is of nie.

Ongelukkig is dit nie so maklik nie. Iemand moet na die geheel kyk en oor die geheel dink. ’n Gemeente is meer as net ’n aantal individue. ’n Gemeente is ’n unieke entiteit wat volgens haar eie unieke reëls en prosesse werk. ’n Gemeente is nie ’n iets nie, veral nie ’n statiese iets nie, maar ’n proses, ’n aksie, ’n beweging van die Gees – ’n liggaam met haar eie persoonlikheid en styl.

Vir baie predikante was hierdie nuwe taal wat hulle nie geken of geleer het nie. Hulle het geleer om te preek en huisbesoek te doen. Hulle het geleer van die Bybel en in die sestiger en sewentiger jare, met die opkoms van die Sielkunde, het hulle ’n bietjie meer geleer oor individue, maar min van ons het veel geweet van kleingroep- en veral grootgroep-dinamika.

In die sewentigerjare het dit gelei tot ’n totaal nuwe studierigting in die Praktiese Teologie naamlik Gemeentestudie of Gemeentebou. Die nuwe perspektief hier is dat die groot proses of sisteem belangriker is en ’n prioriteit het bo kleiner prosesse of sisteme. As ons byvoorbeeld reg en goed wil preek, moet ons probeer bedink – teologies en empiries – hoe die prediking funksioneer binne die groter geheel van die Gees se bewegings in die gemeente. Dieselfde geld vir pastoraat, die erediens, lering, dienslewering, ensovoorts.

Die sien van hierdie groter sisteem as ’n werklikheid in ons bediening en ’n onbehae dat daar net in sosiaalwetenskaplike taal daaroor geskryf is, het op ’n manier ’n wending in my eie teologiese werk gebring. Sedert 1990 was die grootste deel van my eie werk gefokus daarop om meer duidelikheid te kry oor die geheimenisse van hierdie groter bewegings van die Gees in en deur die gemeente3.

Hierdie skuif vra ander denkprosesse. Jy kan nie langer net konsepte dink of individue dink nie; jy moet probeer verstaan hoe groter groepe en groter sisteme funksioneer, beide empiries en teologies. Nie net die deelfunksies van die bediening soos prediking, pastoraat, lering, ensovoorts is belangrik nie, maar ook die groter, totaalsisteem van die bediening. En die predikant is by uitstek die persoon wat voortdurend moet dink oor en moet omsien na die bymekaar kom van die kleiner bedienings in die groter sisteem.

Dit vra ook nuwe en ander vaardighede. Dit vra van die leraar dat hy of sy ’n gemeen- skapsbouer sal wees. Dit is baie interessant dat die PCUSA in een van hulle amptelike stukke dit as een van die take van die predikant formuleer.

3.2 Fokus op die predikant as leier van die gemeente

Daar word in die laaste tyd ook in duideliker taal gepraat oor die leierskapsfunksie van die predikant. Die bedoeling daarmee is om te sê dat die predikant nie net een of ander funksionaris is wat ’n spesialistaak vervul nie, maar dat die predikant ook op een of ander manier die leier van die gemeente is. Hodgson skryf: “The fundamental role of ministry is that of leadership – leadership in the community of Jesus Christ. Rarely is it noted that the words ‘priest’ and presbyter derive from the Indo-European root similar to the Sanskrit purugava meaning ‘guide’ or ‘leader’. …This was the original and most fundamental function of the ministry” (Hodgson 1988: 98-9).

Dit is nie asof hierdie ’n totaal nuwe perspektief is nie. In die kerk was daar nog altyd die verwagting dat predikante die soort rol in die gemeente sou vervul. Dit is net dat daar in ons eie tradisie soms huiwering was om in te sterk taal te praat oor die leierskapsrol van die leraar alleen. Hierdie huiwering was vanweë twee redes: eerstens het ons geweet dat leierskap in die kerk ’n ander betekenis het as leierskap in wêreldse organisasies. Dit was ’n diens wat verrig moes word ten behoewe van ander. Tweedens was dit so dat die leraar die leierskap van die gemeente gedeel het met ’n span van ouderlinge en diakens. Die werklike segsinstansie in die gemeente was nie ’n persoon nie, maar ’n vergadering van verkose leiers.

Die probleem was dat hierdie soort redenasie soms so ver gevoer kan word dat die predikante nie meer oor hulself as leiers (ge)dink (het) nie. Saam met die professionalisering van die amp het dit veroorsaak dat ons ’n geslag van predikante gekry wat hulself nie in die eerste plek as leiers gesien het nie maar eerder as predikers of pastors, dit is iemand wat ’n bepaalde deelfunksie in die gemeente behartig.

Ek onthou ’n insident wat instrumenteel was om ’n denkproses oor hierdie saak in my eie lewe aan die gang te sit. Ek het in die vroeë tagtigerjare te doen gekry met ’n predikant wat vir my gesê het dat die eerste grondreël van sy eie bediening in die gemeente die woord van Paulus aan die Filippense (3:17) was: “Wees my navolgers.” Ek onthou dat ek myself moeilik daarmee kon identifiseer. Dit was nie hoe ek geleer was om oor die amp te dink nie. Hoewel iets in my nog steeds terugdeins as ek aan die teks dink, glo ek vandag dat ’n predikant moet weet dat jy iets hiervan op jou neem as jy ‘ja’ sê vir die amp.

As ons sê dat die predikant wel ’n leiersrol het, moet ons onmiddellik begin om dit te kwalifiseer, nie met die bedoeling om dit te neutraliseer nie, maar om die unieke Bybelse inhoud van leierskap tot sy reg te laat kom. Oor hierdie unieke aard van Christelike leierskap het Andrew Clarke ’n baie oortuigende argument gevoer is sy boek Serve the Community of the Church: Christians as Leaders and Ministers. Hy wys daarop dat hoewel die Nuwe Testamentiese leiers se taakomskrywings duidelike ooreenkomste vertoon met die sekulêre leiersfunksies van die tyd is die verskille selfs meer opmerklik. Die duidelikste verskil kom daarby in dat die Christenleiers nie outoritêre heersers was nie, maar mense was wat hul gemeenskappe in nederigheid gedien het. Dit kom ook uit in die terminologie wat die Nuwe Testament gebruik. Die gangbare woord vir leier naamlik argon word glad nie in die Nuwe Testament gebruik nie; daar word gekies vir die term diakonos, dit is ’n dienskneg.

Kan ’n mens die positiewe kant van die predikant se leiersrol duideliker omskryf? Dit is belangrik om te sê dat dit nie gaan oor gesag of outoriteit nie, maar eerder oor inspirasie, voorbeeld en toewyding. Meer mense verwys na die leier as die persoon wat die visie van die gemeente beskryf en dra: “Ministerial leadership involves at bottom articulating a vision of what the church is, of its essential being and purpose, and enabling this vision to become a productive ideal that infuses all church activities and all participants” (Hodgson 1988:99).

Benewens hierdie visioneringsrol het die leier ook die taak om toe te sien dat die visie omgesit word in maakbare planne en strategieë. Colin Williams (1967:149) verduidelik die verskil tussen visie en werkbare planne baie helder: “We know that a coherent minority with a strong vision can have an inordinate effect on the life of an institution in which the majority live in comparative aimlessness. There is a political responsibility for that minority to turn its vision into an ordered program. To wait for the Spirit without accepting organizational responsibility is a theological failure. It is ‘docetism’ – a failure to see that word must become flesh an isea institution before the saving life become incarnate.” Dit help nie ons het groot en helder visies, maar weet nie hoe om gelowig te begin beplan en te werk aan die realisering van die visie nie. Die predikant het as leier ook ’n verantwoordelikheid ten opsigte van dié deel van die proses.

Dit is onnodig om te sê: die ideaal is dat die predikant of predikante hierdie leiersrol nie alleen sal vervul nie, maar dit sal doen saam met die ander ampte. Vir Gereformeerdes is leierskap op sy beste ’n gedeelde funksie of ’n spanfunksie. Hoe meer hulle gehelp word daarmee, hoe beter sal die leierskap van die gemeente wees.

3.3 Die predikant as begeleier

Daar is ’n derde funksie wat deur al hoe meer skrywers beklemtoon word as ’n wesenlike deel van predikantswerk. Dit is die rol van begeleier (“to enable, to empower”) of toeruster. Waaroor dit hier gaan, sluit ten nouste aan by die eerste beklemtoning naamlik, dat nie die predikant nie, maar die gemeente die primêre getuie of draer van die evangelie is. Dit geld van die gemeente as ’n geheel, maar ook van elkeen van die lidmate in besonder. Die gemeente as geheel se getuienis het alles te doen met die afsonderlike lewens van elkeen van die lidmate en die mate waarin hulle hulle geloof in Christus getrou, sinvol en vrugbaar beleef. Hierin moet hulle bygestaan word deur die leiers van die gemeente. “The minister as a leader should empower the common ministry of the whole people” (Hogdson 1989: 99).

Hierdie is ook nie werklik ’n nuwe gedagte nie. Dat alle gelowiges gehelp moet word om hulle priesterskap te beleef en uit te leef was vir beide Luther en Calvyn een van die belangrike motiewe van die Reformasie. Calvyn self het baie moeite gedoen in die strukturering van die gemeente en die bediening om reg te laat geskied aan hierdie punt. Sy sterk klem op lering het presies dit in die oog gehad. Lidmate moes opgelei en toegerus word om hulle geloof te begryp en dit uit te leef na buite. Deel hiervan was dat hulle hulle lewensroeping of vocatio, wat dit ook al was, uit die hand van die Here ontvang het en daarmee moes woeker – tot eer van God.

Of hulle ver genoeg gegaan het hiermee en of hulle regtig geslaag het in wat hulle wou doen, is ’n tweede vraag. Ons weet dat dit presies een van die wesenlike punte van kritiek van die Radikale Reformasie (die Doperse groepe) op Luther en Calvyn was dat hulle nie genoegsaam die bediening van die kerk aan die gewone gelowiges teruggegee het nie. Na hulle mening setel te veel gesag nog in die ampte (al was dit by Calvyn die ouderlingsamp) sodat die volk van God nie regtig vry is om hulle bediening op te neem nie.

In die laaste klompie jare het die saak van “empowering ministry” al hoe belangriker geraak. Gemotiveeer vanuit Efesiërs 4:11 se beskrywing van die amp word die een van die heel grootste uitdagings van die predikant die mate waarin hy of sy werklik die gewone gemeentelede kan help, kan motiveer, kan bemagtig, kan inspireer om die dienswerk waartoe elke gelowige geroep word, op hulle te neem.

In ’n stukkie informele navorsing wat ons by BUVTON gedoen het, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat op ’n lys van tien kenmerke van lewende en getroue gemeentes (opgestel uit resente literatuur) die aktivering van gewone lidmate die hoogste telling gekry het. Ons waarneming is ook dat gemeentes met energie baie dikwels gemeentes is waarin hierdie saak goeie aandag kry. Daar is mense wat meen (vergelyk oa Greenwood 1994) dat hierdie die heel grootste uitdagings vir die ouer Protestantse kerke is.

3.4 Die predikant as liturgiese voorganger

Een van die opwindende ontwikkelings in die Praktiese Teologie die laaste klompie jare is dat daar by Gereformeerdes ’n groeiende belangstelling in die Liturgie is. Iets hiervan is ongetwyfeld nuut. Hoewel Gereformeerdes bekend was vir die moeite wat hulle met die prediking gedoen het, was die res van die liturgie gewoonlik maar skraal en sonder veel verbeelding. Die meeste kerke het ’n vaste erediensorde gehad, waaraan nie veel verander kon word nie en waaroor daar ook nie te veel nagedink is nie. Dit is gereflekteer in die feit dat min Gereformeerde en Presbiteriaanse seminariums spesialiste in Liturgie gehad het. Dit was gewoonlik ’n korterige kursus wat deur die homileet aangebied is4.

Die nuwe belangstelling kom op uit die besef dat mense se belewing van die erediens nie net bepaal word deur die preek nie, maar gewis ook deur wat in die res van die erediens gebeur. Predikante besef dat hulle nie net iets van prediking moet weet nie, maar ook iets moet verstaan van die vloei van die diens, van simbole en rituele, van die gebruik van die sakramente, van die krag van sang, van die sinvolle inrigting van aanbiddingsruimtes.

Nog ’n faktor wat ’n deegliker kennisname van liturgie belangrik maak, is die groeiende divergensie ten opsigte van erediensstyl. Dit wil lyk of daar na twee kante afgewyk word van die tradisionele Gereformeerde erediens. Daar is by heelwat Gereformeerde kerke ’n besliste beweging in die rigting van ’n ryker liturgiese erediens, waarmee bedoel word ’n sterker benutting van simbole, rituele, en ander gebruike uit die ouer liturgiese tradisie van die kerk. By ander kerke is daar ’n beweging na wat genoem word “blended worship”. Dit moet nie verwar word met ’n erediens op charismatiese styl nie. Dit is eerder ’n erediens wat vernuwende elemente inbring, maar nog steeds die kenmerke van die klassieke Protestantse geloof wil behou. Thomas Long se Beyond the worship wars: building vital and faithfull worship gee ’n baie goeie beskrywing hiervan.

Die nuwe liturgiese bewustheid bestaan in sy kern daarin dat predikante verstaan dat hulle in die erediens nie net profete is wat woorde van God tot die gemeente spreek nie, maar ook priesters is wat saam met die volk voor God verskyn en hulle moet lei in gebed – dit is gebed in al sy vorms: aanbidding, lof, skuldbelydenis, klag en voorbidding. In hierdie leiding gaan dit ook nie net om wat die predikant as liturgiese voorganger doen nie, maar ook oor wie hy is. Thomas Long het bevind dat sterk, visionêre en sorgende leierskap in die erediens ’n groot verskil maak aan mense se ervaring van die diens.

Dit het tot gevolg dat heelwat predikante tans veel meer moeite doen met die voorbereiding van die erediens as vroeër. In baie gemeentes doen die predikant dit nie alleen nie, maar is daar ’n werkgroep wat nie net diens verrig tydens die erediens nie, maar ook help beplan aan die verloop van die diens.

3.5 Meer aandag aan predikante se roeping en persoonlike geloofsverbintenis.

In sekere kringe word die laaste tyd sterk gefokus nie net op wat die predikant doen nie, maar ook op wie en wat die predikant as mens – veral as mens voor God – is. Hierdie gesprek is vir ’n deel ’n reaksie op negatiewe ervarings met ’n te sterk geprofessionaliseerde verstaan van die amp (vergelyk eerste artikel) en ’n reduksie van die bediening tot tegnieke en slim planne.

Gereformeerdes kon deur die eeue op twee maniere oor die saak praat. Aan die eenkant het hulle geloof in die vrymagtige werking van God en van sy genade hulle geleer dat die voortgang van die evangelie nooit afhanklik is van mense en hul vroomheid nie. Alleen God kan mense verander deur sy genade en deur die kragtige werking van sy Gees en Woord. Die menslike agent speel hierin geen wesenlike rol nie. Die bewys hiervoor was altyd dat die Here ook selfs mense wat nie glo nie (soos Kores), as werktuie vir die koms van sy koninkryk kon gebruik.

Onnodig om te sê, is hierdie gedagtelyn nie sonder gevaar as dit nie gebalanseer word deur ’n tweede oortuiging nie. Gereformeerdes, op hul beste, het ook geweet dat hoewel God ’n reguit hou met ’n krom stok kan slaan, Hy tog stokke wat meer reguit is, verkies. Die ganse Bybel praat net te veel en te duidelik oor die belangrikheid van geloof en vertroue op God, van heiligmaking, gehoorsaamheid, egte vroomheid en godsvrug, dat ons kan voorgee dat dit nie so belangrik is nie.

Dit is so dat die evangelie nie net werk deur wat ons doen nie, maar dat wie en wat ons is ook deel is van die heilsbemiddelingsproses. Of predikante dit wil weet of nie, of hulle daarvan hou of nie, hulle is “symbols of God”, sê Urban Holmes. Dit beteken dat mense soms na ons kyk – wie en wat ons is en doen – en hulle afleidings maak, en meer nog hulle besluite neem, oor wie ons God is.

Meer as enigiemand anders was dit Eugene Peterson wat predikante met hierdie proses gehelp het. Peterson, vir lank leraar in ’n Presbiteriaanse gemeente, was baie bedug op ’n bediening waarin te veel gesteun word op professionele tegnieke en prosesse. Hy skryf oor die “unbusy pastor” wat tyd neem vir God, vir nadenke, vir gebed, sodat hy ’n bediening kan hê waarin daar integriteit en integrasie is. Hy skryf heelwat oor roeping en bring die essensiële bediening van die predikant terug na gebed.

Peterson help ons ook om die verband met die tradisie op te neem. Hy lê baie sterk klem op die Woord. Die God wat ons verkondig is die God wat ons in die Woord leer ken. Daarom moet omgang met die Woord ’n wesenlike rol speel nie net in ’n predikant se bediening nie, maar ook in sy of haar persoonlike lewe.

Hierdie beweging word tans versterk deur die lewendige gesprek oor geloofsdissiplines en geloofsdeugde.

Lesslie Newbigin som hierdie saak pragtig op as hy in sy The Gospel in a Pluralist Society (1989:241) skryf dat die predikant of gemeenteleier nie net ’n evangelis en pastor moet wees nie, maar in die eerste plek ’n dissipel van Jesus.

Op ’n manier kulmineer die saak waaroor ons hier praat in wat genoem word onderskeidingsvermoë (discernment) en wysheid. Dit is nie menslike wysheid nie, maar die wysheid wat God gee en vorm in ons. Dit bestaan bo alles in die vermoë om ook in donker tye God en die werking van sy Gees te kan naspeur. Gereformeerdes glo vas dat Jesus Christus opgestaan het en dat Hy onder ons leef – al sien ons Hom nie altyd helder nie. Ons glo ook dat Hy besig is om sy werk te doen en ons roep om sy medewerkers te wees. Ons siening van die bediening is nie dat die Here ons na vreemde plekke stuur waar Hyself nie wil wees nie. Hy gaan voor ons uit en roep ons om Hom na te volg.

As ons Hom net kan sien en hoor…

Dit is waarvoor ons onderskeidingsvermoë nodig het – sodat ons God se werk in ons, in ander en rondom ons kan sien. ’n Predikant se taak is om die gemeente heen te wys na die lewende, werkende en reddende Christus op so ’n manier dat hulle Hom ook kan sien en hoor. Dit het alles te doen met dissipelskap en die navolging van Christus. As ons nie ernstig is om Hom na te volg en naby Hom te leef nie, sal ons baie moeilik ander daarmee kan help.

4. SLOT

Is die vyf beklemtonings iets totaal anders as dit waaroor Calvyn en die Gereformeerde Vaders gepraat het? Ek dink nie so nie. Gereformeerdes behoort nie moeite te hê om al hierdie punte in ons beskrywing van predikantswerk op te neem nie. Die meeste daarvan lê in die verlengstuk van bestaande take en word reeds in sekere kerkordes erken.

Die grootste uitdaging gaan wees om dit te belyn en te integreer met bestaande pligte op só ’n manier dat dit nie lei tot ’n verdere onmoontlike belasting van die predikante en ’n versnippering van sy/haar bediening in tallose klein takies nie.

In ’n volgende artikel sal ons wil argumenteer dat die ou beproefde Gereformeerde drie-ampteleer (munus triplex) ons dalk kan help om nuwe fokus en integrasie in die predikantswerk te bring.

BIBLIOGRAFIE

Burger, C W en I Nell (reds.) 2002. Draers van die waarheid: Nuwe-Testamentiese visies vir die gemeente. Gemeente en bediening 7. Stellenbosch: Buvton.

Burger, C W 1999. Gemeentes in die Kragveld van die Gees. Oor die unieke identiteit, taak en bediening van die Kerk van Christus. Gemeente en bediening 4. Stellenbosch: Buvton/Lux Verbi.

Burger, C W Gemeentes in transito. Vernuwingsgeleenthede in ’n oorgangstyd. Gemeente en bediening 3. Kaapstad: Lux Verbi.

Burger, C W 1991. Die dinamika van ’n Christelike geloofsgemeenskap. Nuut gedink oor gemeentes. Gemeente en bediening. Kaapstad: Lux Verbi.

Clarke, A Serve the Community of the Church: Christians as Leaders and Ministers

Firet, J 1982. Het Agogisch Moment in het Pastoraaal Optreden. Kampen: Uitgeversmaatschappij J.H. Kok.

Greenwood, R 1994. Transforming priesthood: a new theology of mission and ministry. Londen: SPCK.

Hodgson, P C 1988. Revisioning the Church: Ecclesial Freedom in the New Paradigm. Philadelphia: Fortress Press.

Holmes, U 1980. A history of Christian spirituality: an analytical introduction. San Francisco: Harper & Row.

Leith, J H 1990. From Generation To Generation. The Renewal of the Church According to Its Own Theology and Practice. Louisville: Westminster/John Know Press.

Long, T 2001. Beyond the worship wars: building vital and faithfull worship. Bethesda: The Alban Institute.

Newbigin, L 1989. The Gospel in a Pluralist Society. Grand Rapids: Eerdmans.

Peterson, E 1994. The contemplative pastor: the returning to the art of spiritual direction. Grand Rapids: W.B. Eerdmans.

Smart, J D 1960. The Rebirth of Ministry. A Study of the Biblical Character of the Church’s Ministry. Philadelphia: The Westminster Press.

The Constitution of the Presbyterian Church (U.S.A.) Part II. Book of Order. 1998 - 1999. Louisville: The Office of the General Assembly, G-6.0202.

Wainwright, G. 1997. For our salvation: two approaches to the work of Christ. Grand Rapids: W.B. Eerdmans.

Wat is er aan de hand met het ambt? Studierapport over het ambt, aangeboden door de generale synode van de nederlandse hervormde kerk, krachtens besluit van haar vergadering van 18 februarie 1969. ‘s-Gravenhage: Boekencentrum N.V.

1 Leith (1990:93-100) wys ook op ’n aantal sake wat vandag ’n groot risiko bied aan die prediking, te wete die vermaak, kultuur, moderne kommunikasie tegnieke, die afwesigheid van ’n oorkoepelende koherente siening van die menslike werklikheid in die wêreld, teologiese opleiding sonder ’n koherente teologiese raamwerk waaruit gewerk kan word en die nuwe gehoor vir wie gepreek moet word.

2 Die vier dogmas is die skeppingsleer (spesifiek ’n teologiese antropologie), die hamartologie, die soteriologie en ekklesiologie (Leith 1990:142–152).

3 Vergelyk in hierdie verband die publikasies, Burger CW (1991; 1995 & 1999).

4 Daar was natuurlik ook lofwaardige uitsonderings. Op Suid-Afrikaanse bodem het mense soos Attie Barnard en Bethel Müller heelwat aandag aan die liturgie gegee.