Crafford, J D
Universiteit van Pretoria

Die groei van hoop na mastektomie

ABSTRACT

The growth of hope after mastectomy

Cancer is a life threatening and hope inhibiting disease. Furthermore, as in the case of breast cancer and the concomitant loss of an intimate body part, it is an identity threatening disease. The disease, the mastectomy, as well as the treatment place high demands on the process of hope for the whole family.

In various ways, the family is constantly busy constructing a hopeful story for the future. Hope develops from a conjunction of a rich variety of factors that consciously or unconsciously have an influence on the process of hope.

Kanker is ’n lewensbedreigende en hoopbedreigende siekte (Aldredge-Clanton 1998b:2) en met die gepaardgaande liggaamsveranderinge, ook ’n identiteitbedreigende siekte (Aldredge-Clanton 1998a:96). ’n Kankerdiagnose en in hierdie navorsing die diagnose met borskanker, bring onmiddellik die vraag na hoop op die voorgrond. Hoe en waarin vind mense met kanker hoop? Hoe groei hierdie hoop? Hierdie artikel, wat voortvloei uit gesprekke met Dina en Dougie Davidson ná Dina se mastektomie, beskryf ’n verskeidenheid faktore wat verband hou met die groei van hoop te midde van hierdie driedubbele bedreiging. Aan die begin van elke afdeling word in fyner, kursief gedrukte skrif, verwys na grepe uit die navorsingsgesprekke.

Hoop, het ek uit die navorsing geleer, groei uit ’n ryke verskeidenheid faktore. Ná hierdie artikel sal nog veel meer oor die groei van hoop geskryf kan word. Maar die diepste grond van die Christelike hoop is geleë in die opstanding van Jesus Christus, wat aan ons ’n lewende, onsterflike hoop gee. Die Christelike hoop, sê Moltmann (1967:18), is opstandingshoop. Waar die grense wat die einde van alle menslike hoop aandui, deurbreek word in die opstanding van die gekruisigde, daar kan en moet geloof uitmond in hoop (Moltmann 1967:20).

Hiermee my dank en waardering aan Dina en Dougie wat my deel gemaak het van hulle verhaal en my met hulle verhale vertrou het.

1. MASTEKTOMIE, IDENTITEIT EN HOOP

Op ’n vraag oor die effek van die mastektomie op haar identiteit as vrou, het Dina gesê dit was “terrible.” Sy het in haar liggaam ’n groot verlies beleef. Sy het gevoel “mens gaan nooit weer volkome vrou wees nie … Dit gaan net nooit weer dieselfde wees nie.” Menslike lewe bestaan uit verhale. Ons leef verhale vanaf geboorte tot ons dood. Ons konstrueer ons bewustheid van identiteit uit bewuste én onderdrukte verhale (Lester 1995:29), wat sosiaal konstruksionisties deur kulturele diskoerse beïnvloed word (Burr 1998:51). Soos ons deur die lewe gaan word nuwe ervarings nie net geïntegreer in die ontwikkeling van kern narratiewe (“core narratives”) nie, dit bring ook verandering in hierdie kern narratiewe. Ons selfbewustheid, ons identiteit, word stuk vir stuk gebou soos ons ons ervarings in verhale laat vorm aanneem en dan hierdie verhale in ons voortgaande kern narratiewe integreer. “The core narratives communicate a person’s values, purposes, and unique characteristics, which allow us to imagine an identity” (Lester 1995:30). ’n Ineenstorting (“breakdown”) in hierdie kern narratiewe maak ’n mens kwesbaar vir wanhoop (Lester 1995:30).

Die borsverhaal/-diskoers vervul reeds van jongs af ’n belangrike rol in die vorming van die vroulike identiteit. Zuckweiler (1998:47) beskryf haar ervaring met die ontwikkeling van haar borste as jong dogter en sê dan: “We all have a story about what it was like to come into our breasts”. Borste is ’n belangrike uiterlike teken van die vroulike adolessent se oorgang na vrouwees en is dus ’n integrale deel van haar nuut ontwikkelende vroulike identiteit (Isemann 1994:45). Vir die volwasse vrou vorm dit ’n sentrale deel van haar liggaamsbeeld, haar selfbegrip en haar identiteit as vrou (Nel 1977:60). Borste maak dus ’n integrale deel uit van die vrou se kern narratiewe oor haar vroulike identiteit en kan ’n mastektomie gevolglik beleef word as ’n aantasting van en ingryping in hierdie kern narratiewe. “Verlies of skending van die bors is ’n gevreesde ervaring vir meeste vroue aangesien hul selfagting, trots in die liggaam en gevoel van sosiale en seksuele aanvaarbaarheid so intiem afhanklik is van die borste as eksterne simbole van vroulikheid” (Nel 1977:61). Mastektomie word nie net as liggaamlike beskadiging beleef nie, maar ook as ’n pynlike verminking van die identiteit (Nel 1977:150). Die trauma van borsverlies, sê Strydom (1977:160), lê in die feit dat ’n vrou nie net ’n deel van haar liggaam verloor nie, maar ’n deel van haar bewustelike en onbewustelike psige (vgl. Lester 1995:29 soos hierbo aangehaal). “Her archetypical concept of femininity is affected” (Strydom 1977:160).

Verliese, sê Capps (1995:61), “are a major cause of a felt sense of deprivation and are therefore of great importance to the subject of hope”. Dit is vir die vrou (én haar gesin) van uiterste belang om ná die traumatiese ervaring van borskanker en borsverlies ’n hoopvolle toekomsverhaal te ontwikkel. Hoop is fundamenteel vir menslike lewe en ons het dit net so nodig soos brood en water (Fitzgerald 1979:1).

In die diskoers met betrekking tot die vroulike bors word die klem (veral in die media) steeds swaar geplaas op die simboliese betekenis van die bors ten opsigte van vroulikheid, moederskap en seksualiteit en kan die persepsie geskep word dat ’n vrou se identiteit, haar menswees, simbolies in een bepaalde liggaamsdeel gesetel is (Aldredge-Clanton 1984:198). As gevolg van dié diskoers kan die verlies van ’n bors/-te ’n groot invloed hê op hoe ’n vrou haarself as persoon sien (selfbeeld), hoe sy oor haarself voel (selfagting) en hoe sy na haar liggaam kyk (liggaamsbeeld) (O’Hare 1987:68). “Thus, like women’s bodies elsewhere and everywhere, the female body with breast cancer is a site of struggle over meanings in both social and medical contexts” (Langellier & Sullivan 1998:2).

Indien die borsverhaal in ’n vrou se lewe egter nie oorheersend is ten opsigte van haar selfbeeld, selfagting en liggaamsbeeld nie, indien haar hoop op hierdie terreine dus nie hoofsaaklik in haar borsverhaal gevestig is nie, kan die trauma van die mastektomie makliker gehanteer word. Die belangrikheid wat ’n vrou aan haar borste heg sal grootliks haar reaksie op die verlies bepaal, sowel as die mate van ontwrigting wat dit sal veroorsaak (Nel 1977:383; Gyllensköld 1982:243; O’Hare 1987:69; Fourie 1992:35). “Although the breasts are important to the patient’s identity and self- valuation, they do not constitute an irreplaceable part of her self-esteem” (Gyllensköld 1982:94). Hiermee word die impak van die trauma geensins genegeer of geminimaliseer nie. “A mastectomy can be devastating to our self-esteem and body image” (Zuckweiler 1998:111). Dit bly immers steeds “the loss of something very sacred” (Henderson 1996:217) en Strydom (1977:54) vergelyk dit selfs met die verlies van ’n kind deur die dood, maar haar waarde as persoon word nie deur haar borste gedefinieer nie, alhoewel hulle sekerlik ingesluit is in haar selfdefinisie (Zuckweiler 1998:47). Haar hoop vir die definiëring, die belewing van haar vrouwees ná mastektomie, groei uit baie ánder verhale, want haar lewensverhaal bestaan uit veel meer as nét haar borsverhaal. Daar is “A Universe of Stories” (Parry 1991) wat vertel wie sy is. Sy ís nie net één verhaal nie. ’n Storie is nie ’n lewe nie (Parry 1991:43), en ’n siening is nie dié siening nie (Parry 1991:52). “… our self is formed from a number of diverse … stories” (Jensen 1984:218). Sy ìs “A Universe of Stories”.

Baie mense beskryf hulle kanker ervaring as die begin van ’n totaal nuwe lewe (Aldredge- Clanton 1998a:19). Olmstead (1996:257) sluit haar boek oor haar eie borskanker ervaring af met die woorde: “Breast cancer is not the end. It’s a new beginning”. Die lewe na mastektomie is ’n nuwe hoofstuk, ’n nuwe verhaal, ’n verhaal van steeds groeiende hoop. Daar groei hoop uit al die ander wonderlike eienskappe wat sy besit, uit die ondersteuning wat sy ontvang, uit die aanvaarding, uit die groei wat sy en haar gesin beleef. Daar groei hoop uit die nuwe potensiaal wat sy en haar gesin ontdek het, dat hulle ook weer vir ánder kan hoop gee. Ten diepste groei die hoop uit haar (en húlle) geloof in God en die bemoediging wat sy (en húlle) in die Woord van God gevind het. Hoop groei waar die V(v)erhale een word en die H(h)orisonne versmelt en ’n mens se verhaal deel word van DIE VERHAAL VAN HOOP (Müller 2000:71). Hoop groei waar sy haar nuwe veranderde liggaamsbeeld in haar identiteit as vrou integreer.

Die restourasie van hoop, skryf Aldredge-Clanton (1998a:107), begin wanneer na hulle verhale van pyn en rou oor die veranderinge wat hulle liggame gely het, geluister word. Deur hulle verhale met ander heilige verhale (“sacred stories”) te verbind, insluitend ons eie verhale van verwonding, kan hulle verder hulle beeld van hulleself as heel persone restoureer, ongeag hulle verliese. Die beweging na heelheid gaan voort deur pastorale intervensies wat mense uitnooi om God as verwond te sien. Die beeld van ’n “Divine Lover” wat saam met hulle ly en dus al hulle worstelinge verstaan, bring troos en heling. “Believing that they are in the image of the Divine, even in their imperfections, inspires them to walk into the future with hope and power”.

2. REKONSTRUKSIE EN HOOP

Op die vraag of die gevoel van “volkome vrou” weer teruggekom het en indien wel, op watter stadium, het Dina geantwoord dat sy dit in ’n mate weer na haar rekonstruksie, wat ’n sukses was, ervaar het – “ek voel weer gebalanseerd”.

Die terugkeer van ’n gevoel van balans en heelheid na ’n rekonstruksie-operasie word deur verskeie navorsers bevestig (Berger & Bostwick 1984:149; Hopwood & Maguire 1988:49; Aldredge-Clanton 1998a:98; Langellier & Sullivan 1998:9). Aldredge-Clanton (1998a:98) berig oor een vrou wat haar gevoel beskryf het as “being put back together again”. Wanneer Bornemann (1984:188) vir mense van haar borskanker en komende operasie vertel het, het sy terselfdertyd ook oor die rekonstruksie gepraat – “It was my way of saying that I would be back to normal as quickly as possible”. Sommige vrouens voel dat rekonstruksie sal help om hulle “feminine silhouette” terug te bring (Kneece 2001:47). In ’n gesinstudie wat Berger & Bostwick (1984:150) onderneem het met Bill en Diane Ross, beskryf Bill Diane se rekonstruksie ervaring as volg: “With breast reconstruction, she is her old self again, filled with enthusiasm. Her zest for life has returned. Reconstruction was the icing on the cake for Diane. It put back what surgery took away and completed her rehabilitation”.

Alhoewel rekonstruksie baie voordele vir die vrou inhou wat kan meehelp om haar hoop en entoesiasme vir die lewe na mastektomie te laat groei en baie dit baie positief ervaar, deel baie vrouens ook in Dina se ervaring dat dit nooit weer dieselfde sal wees nie. Aldredge-Clanton (1998a:98) sê dat alhoewel ’n vrou se borste na rekonstruksie net so aantreklik of selfs aantrekliker kan wees as voor haar mastektomie, sy altyd sal rou oor die verlies van haar oorspronklike borste! “No matter how beautiful her reconstructed breasts are, they are not her original breasts, and they do not have the same sexual feelings”.

Rekonstruksie is ’n hulpmiddel in die groei van hoop in soverre dit die vrou se liggaamsbeeld help herstel, haar ’n gevoel van balans en heelheid gee en haar gevoel van vrouwees versterk.

3. AANVAARDING EN HOOP

“Die operasie het toe plaasgevind en ek kan baie goed onthou toe ek teruggekom het in die saal en ek wakker geword het, het Dougie my meegedeel hoe het dit gegaan en my meegedeel dat my bors verwyder is en daar is kwaadaardigheid. Ek het ’n ongelooflik kalm, rustigheid beleef, wat ek glo net die Here vir my kon gee daardie tyd. Vir my was dit ’n nuwe pad, ’n draai in my pad wat ek moes loop en ek het dit aanvaar, heeltemal aanvaar. Dit was vir my ’n pad wat ek saam met God, eintlik teenaan God, van toe af sou loop”.

Volgens Shapiro et al (2001:505) “maintaining a positive sense of control in the face of breast cancer was significantly related to adaptation at six-month follow-up”. Hulle sê ook verder: “Acceptance (positive yielding) is a unique feature of control that is often overlooked in Western psychology, … and yet, the literature demonstrates that acceptance is a crucial component in gaining an optimal sense of control … women with breast cancer using a balanced mode of control including both assertiveness and acceptance showed the best psychosocial adjustment”.

Bagby (1998:2) vra, “How can healing or hope emerge after such cardinal losses? … How do those who lose find hope in the absence of full recovery? … How do people find healing and hope in the debris of major loss?” Hy sê dan alhoewel rou, bitterheid en frustrasie gewoonlik deel is van die pad na heling en hoop, “these survivors recorded those experiences as chapters in their journey toward a new sense of self that included peace of mind and acceptance of themselves with their loss”. Persone wat hulle veranderde toestand aanvaar het, “seem to have found an acceptable new identity, a redefined center to their purpose”. Hulle sien hulleself nie as slagoffers van ’n wrede noodlot nie, maar as “survivors of a near catastrophy” (Bagby 1998:3). Heling het ingetree wanneer hulle hulle verlies as onvermydelik aanvaar het, gekies het om te fokus op dít wat hulle oor het en begin glo het “in their altered self as useful and worthwhile”. Die vermoë om ’n verlies as slegs ’n klein gedeelte van ’n mens se selfidentiteit te ervaar, is deurslaggewend vir hierdie emosionele herstel. “Hope is born in the emergence of this healing, as the griever learns to focus not on what she has lost - but what she has left”. (My kursivering). Emosionele genesing/heling is dan die vermoë om emosioneel te herstel van onomkeerbare verliese. ’n Keuse word gemaak om die fisiese gebeurtenis te oorwin “by taking charge emotionally of how life will be interpreted”. Hoop word beleef in die lig van ’n positiewe interpretasie van die hede en die toekoms (Bagby 1998:4,5).

Bagby (1998:5) sluit sy bespreking oor “Physical loss and Hope” af met dié woorde:

Hope, in the aftermath of physical loss then, depends on a long journey of process inner pain, and tenaciously rehearsing a positive personal attitude that lift the survivor’s spirit above the physical loss. The willingness to accept the present loss, imagine a positive self, and embrace a worthwhile future - all contribute to emotional healing and personal hope in the face of irreversible loss. (My kursivering).

4. ONDERSTEUNING EN HOOP

“Ek het baie ondersteuning van my man gekry en my kinders, my familie en vriende wat vir my ontsettend baie beteken het. As so ’n groot krisis ’n mens tref in jou lewe, besef ’n mens wat beteken jou familie en vriende vir jou. Soveel gebede, soveel belangstelling, besoeke, blomme, het vir ’n mens soveel krag gegee en moed, positiwiteit”.

Hoop groei in verhoudings (Lynch 1974:24; Fitzgerald 1979:12: Lester 1995:94) in ’n sosiaal- konstruksionistiese proses. Weingarten (2000:401), wat ook borskanker gehad het, was in gesprek met ’n vrou wie se borskanker versprei het na haar heup en skelet en wat aan Weingarten gesê het: “I am hopeless. I have no hope”. Weingarten (2000:402) se antwoord aan haar was: “Of course, you feel hopeless. It is not your job to feel hope. Rather, it is the responsibility of those who love you to do hope with you”. Sy sê verder:

Hope is something we do with others. Hope is too important – its effects on body and soul too significant – to be left to individuals alone. Hope must be the responsibility of the community. Where this is so, there will be a sense of wonder, which has been called the abyss where radical amazement occurs. There is an abyss. Often. We can look across or we can look in. We can find ourselves in it or know others who are. When we enter the abyss, when we see it, then radical amazement is ours. Ours. Together. With hope.

Hanna (1998:3) sê hoop is noodsaaklik omdat teenspoed ’n onvermydelike deel van die menslike bestaan is. Dit is die geloof dat oorlewing moontlik is en dat ons selfs oorlewing kan transendeer en floreer. Hoop kan beïnvloed word, geblus word, uitgenooi en aangemoedig word deur interaksie met ander. Dit is ook ’n vennoot van innerlike geestelike krag (“resilience”). “Resilience is the triumph over adversity. Ignited by hope, it is the flame of refinement that brings strength to prevail in the face of difficulty. Resilience is also the discovery of strength we did not know we had. As such, it becomes a catalyst for new hope to emerge”. So groei hoop en innerlike geestelike krag hand aan hand in ’n interaksionele proses met ander.

Verskeie studies toon aan dat vrouens met borskanker wat goeie sosiale ondersteuning ontvang, ’n langer verwagting van remissie en beter lewenskwaliteit geniet (Penninx et al. 1996:231; Weihs 1996:91; Shapiro et al. 2001:506).

Weihs (1996:90) sê “Secure relationships provide a platform upon which redefinition of self in response to breast cancer can occur. The integration of this unwelcome reality into a woman’s identity takes place within the intimate, communicative transactions of everyday life”. Dit is moeilik vir ’n vrou om haarself as waardevol en bemind (“lovable”) te sien indien geliefdes na aan haar nie op so ’n wyse reageer nie. Die behoeftes van die vrou wat borskanker het, werp nuwe lig op verhoudings en die betekenis van verhoudings word geherdefinieer saam met die pasiënt se verstaan van haarself (Weihs 1996:91).

Intieme, liefdevolle verhoudings het kragtige genesende potensiaal (Aldredge-Clanton 1998a:93) en het die vermoë om hoop te produseer (Lester 1995:95). “Hope is closely allied with trust (or faith), and therefore with love. Without faith and love, hope is not firmly rooted; it gains its depth from its associates in the triad. It is “listening love” that evokes hope and grounds it in the experience of human solidarity. Hope grows in a network of human caring” (Fairchild 1980:58) (My kursivering).

5. POSITIWITEIT

Na aanleiding van ’n gesprek met die radioloog, het Dina gesê: “En ’n eenvoudige boodskap wat hy vir my gegee het en vir my baie beteken het – hy het vir my gevra hoe gaan dit hier (hy het so gewys na sy kop), hier bo. Toe sê ek dit gaan goed. Dit gaan regtig goed met my. Toe sê hy: ‘Onthou net, dis baie belangrik dat ’n mens hier bo positief moet bly en jou kop positief moet hou.’ En daai eenvoudige boodskap, menslikergewys, het vir my baie baie beteken vorentoe”.

Dina se positiewe ingesteldheid het vir haar besonder baie beteken in die verwerking van die hele proses. Daar is beslis ’n wisselwerking en nou verband tussen positiwiteit en hoop. Haar positiwiteit het ook hoop gegenereer vir haar familie.

Dit beteken egter nie dat sy die proses minder traumaties beleef het as enige ander vrou nie. Die chemoterapie was vir haar ook “’n onaangename ervaring”; die verlies van haar hare was “’n groot stopteken” in haar lewe; sy het ook die onsekerheid “oor hierdie ander bors” en opvolgvrese beleef; die verlies van haar bors was “terrible” – (“Dit het vir my gevoel soos ’n gat wat in my liggaam gelaat is. Ek het ongebalanseerd gevoel. Ek het in my liggaam ’n groot verlies beleef.”) Sy het gevoel sy “gaan nooit weer volkome vrou wees nie”. Haar positiwiteit het egter bygedra tot die wyse waarop sy die trauma verwerk het en sodoende ’n groei in haar lewe beleef het.

Positiwiteit beteken ook nie om onrealistiese verwagtinge ten opsigte van genesing te hê nie. Dina sê ook “veronderstel mens het nie gesond geword nie, gaan die hoop nie ophou nie, want hierdie hoop is nie net hoop om gesond te word nie, maar hoop baie wyer en groter, hoop in Christus word juis dán, dink ek, net sterker, inniger, hegter, sinvoller”. Dina se positiwiteit, gepaard met ’n realistiese benadering, was gewortel in haar hoop in Christus. As haar gesondheid nie sou terugkom nie, sou Hy nog altyd dáár wees vir haar!

Dit gebeur ongelukkig egter dat mense met kanker dikwels onder emosionele druk geplaas word om onder alle omstandighede positiewe denke te beoefen en te behou. Positiewe denke word as voorwaarde vir genesing gestel. Die gevolg is dat skuldgevoelens ontwikkel wanneer hulle toestand nie verbeter nie, of selfs versleg. Die fout moet dan in hulleself gesoek word. Dalk glo hulle nie reg nie, of dalk bid hulle nie reg nie. Enige sweem van negatiewe gedagtes beteken dan dat hulle sélf verantwoordelik is vir hulle toestand – dat hulle as’t ware met negatiewe gedagtes en woorde die siekte “oor hulleself spreek”.

Holland & Lewis (2000:13) noem dit “The Tyranny of Positive Thinking,” en Barraclough (2000:47) praat van die “Prison of Positive Thinking”. Vir die meeste pasiënte is kanker die moeilikste en vreesaanjaendste ondervinding wat hulle ooit beleef het. “All this hype claiming that if you don’t have a positive attitude and that if you get depressed you are making your tumor grow faster invalidates people’s natural and understandable reactions to a threat to their lives. That’s what I mean by the tyranny of positive thinking” (Holland & Lewis 2000:14). Hierdie mites en gelowe lei ook daartoe dat die persoon geblameer word dat hy/sy kanker gekry het (Holland & Lewis 2000:15).

Ons weet wel hoe houdings en emosies ons endokriene en immuunsisteme kan affekteer wanneer ons op stres reageer. Dit is egter nie duidelik of houdings en emosies in sigself ’n interne proses kan verander om ’n impak te maak op die groei van ’n tumor of die liggaam se reaksie daarop nie. “We don’t know whether the blips in hormone and immune levels due to stress have any connection to cancer at all or, should there be any such connection, how it works” (Holland & Lewis 2000:19).

Daar word te veel foute en premature aannames gemaak op grond van onvolledige navorsing (Holland & Lewis 2000:19). Dit is gevaarlik om te veralgemeen oor houdings en die impak wat dit op kanker het sonder meer inligting. Die hedendaagse tirannie van positiewe denke viktimiseer soms mense. Elkeen moet die vryheid hê om sy/haar kanker te hanteer op dié wyse wat vir hom/haar werk. “If thinking positively works for you, well and good. If it doesn’t, use the coping style that’s natural to you and has worked in the past” (Holland &Lewis 2000:20; vgl. ook Barraclough 2000:47 “each individual has to cope with cancer in his or her own way”). Deur voor te gee dat dit goed gaan terwyl jy in werklikheid baie bang en ontsteld is, kan jou afsny van ander se hulp en ondersteuning. Angs en depressiewe gevoelens kan verlig word wanneer dit met die dokter bespreek word (Holland & Lewis 2000:20).

Barraclough (2000:48) vat dit goed saam: “It is misguided and naïve to expect all cancer patients to be consistently positive, without being allowed to express feelings of sadness or anger, or giving themselves time to absorb and adapt to their experience”. Om sleg te voel en bang te wees en dit ook te sê, beteken nie dat ’n mens negatief en klein- of ongelowig is nie. Iemand met kanker moet die vryheid en vrymoedigheid hê om sy/haar emosies te verwoord en uit te spreek. Die positiwiteit lê nie opgesluit in die gebruik van positiewe woorde nie, maar in die hoop wat ’n mens in die slegste omstandighede laat volhard, en jou tragedie in ’n triomf laat verander.

6. GEESTELIKE GROEI – DIE TRANSFORMASIE VAN GELOOFSNARRATIEWE

“As ek moet oor kies, dan kies ek weer dieselfde pad, want die geestelike ervaring, die geestelike groei, is onvergelykbaar – dit wat ek in my verhouding met God kon beleef. Ons praat baie maklik oor geloof, om te glo, maar wanneer ’n mens dit prakties aan jou lyf voel, besef jy dan eers hoe ’n wonderlike voorreg het ek beleef om dit te moes deurmaak”.

Die diagnose van kanker is sekerlik nie iets waaroor ’n mens bly is nie, maar baie mense met kanker het al hulle waardering uitgespreek vir die winste wat hulle deur die ervaring ontvang het. Kanker kan ’n geleentheid word vir mense om hulle geestelike ervaring te herevalueer terwyl hulle worstel met vrae oor siekte en gesondheid, skuld en genade, wanhoop en hoop, dood en lewe. Baie mense beskryf hulle kanker ervaring as die weg tot ’n geheel nuwe lewe (Aldredge-Clanton 1998a:19). “I determined to allow the divine Potter to use this unwanted cancer for His glory and my growth. I needed to learn submission to His moulding hand in all of the unpleasant daily details associated with the tests and treatments” (Packo 1991:45,46). Verwysend na die “ten goede” van Rom. 8:28 en die gelykvormigheid aan die beeld van Christus in Rom. 8:29, sê Packo (1991:148) dat kanker ’n brug kan word wat ons na Christusgelykvormigheid kan lei.

Elke krisis is ’n geleentheid vir ’n persoon om meer te leer oor sy of haar geloofsperspektief, insluitend die potensiaal om ’n dieper begrip te ontwikkel vir die “sacred story”. “The sacred story represents a progressive narrative … This progressive, hopeful sacred story has the power to overcome a dysfunctional, regressive story and bring transformation into a person’s faith narrative. (My kursivering). The future is opened and a person’s horizons are expanded. The God who calls us into an open-ended future, who grants grace for the present moment and energy for the journey, is ‘discovered’ “ (Lester 1995:152). Geestelike groei kan dus in narratiewe sin getipeer word as die transformasie van geloofsnarratiewe. In hierdie transformasieproses word ’n mens se verhouding met God op ’n nuwe manier beleef, die horisonne verruim en ’n hoopvolle, dinamiese, toekomsverhaal ontwikkel waarby die “hopeful sacred story” geïnkorporeer is.

Tydens ’n Wayne Oates konferensie oor “Hope As A Dynamic For Healing”, het Shurden (1998:1) ’n referaat gelewer oor “The Dynamic of Hope in Families”. Die dinamiek van hoop kan nie maklik verduidelik word nie. Die gebruik van beelde is meer gepas. Hoop is soos saad wat as ’n jong saailing deur die harde, vasgepakte aardkors breek. Hoop is ’n reisiger wat met ’n skaars sigbare pad deur ’n digte woud stap. Hoop is ’n kunstenaar wat worstel met ’n skildery wat in wording is. Hoop is ’n eenjarige kleuter wat ’n tentatiewe tree gee, val, opstaan, en nog ’n paar treë gee. Hoop behels altyd stryd. Dit is nie ’n statiese staat van wag vir iets om te gebeur, vir iemand anders om die situasie te verander nie. Hoop is dinamies, dit skep verandering. Alhoewel ons elkeen ’n eie beeld van hoop het, is die gemeenskaplike draad wat deur al die beelde loop, groei (Shurden 1998:1).

Hoop en groei komplementeer mekaar. Hoop skep verandering in die geestelike ervaring en ín hierdie verandering, ín hierdie transformasie van die geloofsnarratiewe, word die “broken future stories” (Lester 1995:57) vervang met die toekomsgerigte “hopeful sacred story” en groei die hoop.

7. VERTROUE EN HOOP

“Die Engelse woordjie ‘trust’ het ook vir my baie beteken: God voor my, God agter my en Jesus voor my. En dan is ‘trust’ geskryf met die ‘t’ as ’n kruisvorm en die laaste ‘t’ ook in ’n kruisvorm. Die ‘rus’ in die middel, wat dan as ‘trust’ geskryf is, rus in aanhalingstekens, druk die ware rus vir ’n mens uit wat ’n mens nodig het in hierdie onstuimige tye wat ’n mens beleef in jou kop”.

Capps (1995:98-136) beskryf die drie hoof bedreigings van hoop as wanhoop, apatie en skaamte en die drie hoof bondgenote van hoop as vertroue, geduld en beskeidenheid (Capps 1995:137-162). Die mees algemene betekenis van vertroue is ’n hoopvolle verwagting, antisipasie, of hoop vir die toekoms. Daar is dus ’n verband tussen vertroue en hoop. Ander, meer spesifieke betekenisse van vertroue werp meer lig op hierdie verhouding. Een daarvan is dat vertroue ’n vaste geloof (“firm belief or confidence”) is in die eerlikheid, integriteit, verhouding, of regverdigheid van ’n ander persoon of ding (Capps 1995:138). Vertroue is om te weet dat daar op iemand staat gemaak kan word, dat ongeag die omstandighede, die ander ons nie in die steek sal laat nie (Capps 1995:139). Vertroue behels die stilswyende, onbevraagtekende geloof in die betroubaarheid van iemand anders (Capps 1995:140). Vertroue is ’n noodsaaklike voorwaarde vir hoop, juis omdat dit ons vrese relativeer, en ons in staat stel om onsself in ’n onseker toekoms in te waag (Capps 1995:145). Wanneer ons onsself aan God toevertrou, is ons in staat om die vrese en verskrikking vir die lewe met gemoedsrus en moed te stil (Capps 1995:143). Hy is die “reliable Other” (Capps 1995:162) in Wie ons vertroue en hoop gevestig is. “Religion counsels us to trust in Being and to entrust ourselves and that which we value to God. From such trust, hope is born” (Capps 1995:147). (My kursivering).

Lester (1995:62) beskryf die woord hoop teologies as ’n persoon se vertrouende antisipasie van die toekoms, gebaseer op ’n verstaan van ’n God wat betroubaar is en wat ons ’n oop (“open-ended”) toekoms in roep. Hierdie God hou beloftes van verlossing, bevryding en saligheid. Die hoop proses vind natuurlik plaas deur narratiewe strukturering. Ons ontwikkel voortdurend toekomsverhale wat ons antisipasie van die toekoms uitdruk en, daarom, ons hoop (Lester 1995:63).

In wat hy self ’n oorvereenvoudiging noem ter wille van meer konkrete denke, stel Lester (1995:63) twee kategorieë van hoop voor: “finite hope” en “transfinite hope.” Die “finite hope” gaan oor “finite objects, desires and processes” (Lester 1995:63). Ons vorm toekomsverhale oor byvoorbeeld salarisverhogings, aanvaarding in ’n spesifieke skool, ’n goeie gradering, om ’n wedstryd te wen, ensovoorts. Met “transfinite hope” beskryf hy hoop wat geplaas is in subjekte en prosesse wat fisiologiese waarneming en die materiële wêreld te bowe gaan. Dit gaan ook oor “transfinite” idees en konsepte (Lester 1995:64). “The deepest level of hope is an open-ended, trusting stance toward existence that perceives a future horizon that transcends the finite hopes expressed in our specific objectives” (Lester 1995:65). Hierdie hoop word belê in bronne wat die menslike toestand transendeer. So ’n betekenisvolle hoop moet diep wortels hê en gekommunikeer word deur heilige verhale (“sacred stories”) (Lester:1995:65).

Ten diepste is die fondament van die Joods-Christelike tradisie gewortel in die karakter van God, die Skepper en Verlosser van die heelal. Die verbond het God se karakter aan die Hebreeuse mense geopenbaar en hulle persepsies is bevestig deur God se magtige dade, soos die uittog. Die volgelinge van Jesus het ’n verdere openbaring oor die aard van God ontvang. Hulle hoop is gebou op die karakter van God soos geopenbaar in die lewe, dood en opstanding van die skrynwerker van Nasaret. Wat is die karakter van God? Dit gaan oor sy liefde wat geopenbaar is in Jesus Christus. Hierdie God wat ons meer liefhet as wat ons onsself kan voorstel, is betroubaar (“trustworthy”) en hou sy beloftes. Hy het ons lief ten spyte van ons voortgesette onvermoë en/of onwilligheid om met gepaste vertroue, gehoorsaamheid en betroubaarheid te reageer. Ons hoop is in ons verhouding met hierdie betroubare God wie se karakter gekenmerk word deur ’n betroubare, standvastige liefde vir ons. “Hope is our creaturely response to the Creator upon whom we cannot make demands” (Lester 1995:66). Omdat hierdie hoop uit ons ervaring van God se liefde groei, omdat dit gebore is uit hierdie vertrouende verhouding, het ons nie nodig om na spesifieke dinge en konkrete versekeringe te soek nie. “Our security is in the relationship and not the particular events. Trusting in the character of God frees us from investing our deepest hope in specific objects, events, or processes” (Lester:1995:66). Wanneer daar wel “sacred stories” uit die verlede herroep word oor hoe God in verskillende situasies voorsien het, groei daar hoop vir die toekomsverhaal uit die vertroue dat Hy ook net so in die toekoms sal voorsien (Aldredge-Clanton 1998a:115). Vanuit God se “unique outcomes” word die noodverhaal herskryf na ’n verbeelde toekomsverhaal wat saamsmelt met DIE VERHAAL VAN HOOP.

8. REALISME EN HOOP

Dougie het gesê: “Ja, ’n ou wil nie net die slegste sien nie, maar op daai stadium moet jy realisties wees, jy moet sê: Ja, ons staan voor hierdie kruispad, ons glo dit gaan beter, maar ja, ons moet ook aan die realiteit dink, wat kán gebeur”.

Hoop en realisme sluit mekaar nie uit nie. Nadat Moltmann (1967:24) die oormoed van die vroeë negentiende eeuse idealisme in Duitsland en die wanhoop van die middel twintigste eeuse eksistensialiste bespreek het, maak hy die konklusie dat daar nie in oormoed óf in wanhoop die mag lê om lewe te vernuwe nie, maar alleenlik in die hoop wat blywend en seker is. Slegs hoop kan “realisties” genoem word, omdat net hoop die moontlikhede ernstig neem waarmee alle realiteit bedreig word (Moltmann 1967:25).

Fitzgerald (1979:32) kontrasteer “magic hope” (vergelyk hieronder Lester se fantasie en illusie) met “realistic hope”. Realistiese hoop is gebaseer op ’n poging om die konkrete toestande van die lewe te verstaan, om ’n mens se rol daarin raak te sien en om toepaslike, deurdagte aksie te probeer neem. Vals hoop, skryf Simmons (1998:3), is wensdenkery of dagdromery, op ’n manier wat die realiteit ontken. “It is a way of construing the alternatives open to a person in a way that denies or refuses to assess entirely predictable but unpleasant outcomes.”

Hoop is in realiteit gewortel. Mense wat hoop, het nie nodig om die feite te ontduik of om die objektiewe data te verduister nie. Hoop funksioneer nie as ’n opium wat mense die realiteit laat ontken nie. Inteendeel, hoop verskaf die moed om enige chaos of trauma in die oë te kyk. Hoop probeer nie die pyn van ons beperkte bestaan vermy nie en is ook nie naïef met betrekking tot lyding nie (Lester 1995:85). Hoop staan teenoor fantasie en illusie, wat as disfunksionele toekomsverhale/vals verhale tot vals hoop lei. Ware verhale is gewortel in realiteit en bied funksionele toekomsverhale wat vol hoop is (Lester 1995:86). Clinebell (1998:3) beskryf dit as gesonde realiteit-gebaseerde hoop wat die sleutel is waarmee die deur ontsluit word om ’n beter toekoms in te gaan. Hierdie realiteit-gebaseerde hoop “is an essential dynamic in facilitating both healing and growth in wholeness” (Clinebell 1998:2).

Pastorale sorg help mense om te evalueer hoe hulle toekomsverhale binne hulle kern narratiewe (“core narratives”) met die realiteit verbind is. Funksionele hoop is nie ’n resultaat van die najaag van pypdrome of die verabsolutering van een deel van die realiteit nie. Die persoon moet in staat gestel word om die realiteit van enige gegewe situasie in die oë te kyk en uitgedaag word om nuwe, hersiene toekomsverhale van daardie punt af te begin bou. Om in kontak te bly met die realiteit beteken om ’n mens se vryheid te aanvaar om projeksies in die toekoms te maak en om jou eie toekomsverhale te skep (Lester 1995:88).

Holland & Lewis (2000:163) sê “At the center of all pastoral counseling is the effort to help marshal hope in facing suffering and an uncertain future … Hope, to be authentic, must be based on reality, taking into account the obvious meaning of a tragic or life-threatening event, but then it seeks other perpectives that people welcome, for example, finding meaning in ‘transcendent hope’”.

Die dinamiek van hoop bring groei vanaf illusie, deur disillusie, na realisme (Shurden 1998:11). Hoop en realisme is dus in voortdurende interaksie met mekaar. Hoop is in realiteit gewortel (Lester), maar hoop laat groei ’n mens ook weer tot aanvaarding van die realiteit (Shurden).

Die simbool van die kruis van Jesus Christus bevestig dat lyding ’n realiteit is van die menslike bestaan. Maar die kruis herinner ons ook aan ’n ánder realiteit: God met ons. “God is present with us in our deepest suffering, understanding and sharing our pain” (Lester 1995:87).

9. LEWENSDOEL EN HOOP

Dougie het gesê: “Ons gaan leer hieruit, ons gaan beter mense uitkom, ons gaan sterker in die geloof uitkom anderkant en ons gaan weet wat die doel van die lewe ook is. Die lewe het ’n spesifieke doel, dat ons is hier vir mekaar, ons is nie net ’n klomp wat bymekaar gesit is nie, ons is met ’n doel bymekaar, om mekaar te ondersteun en te onderskraag, om vir mekaar lief te wees en liefde teenoor mekaar te betoon”.

Dougie se opmerking hierbo bring ons by Frank (1998:203) se quest story, die soeke na betekenis en lewenslesse. ’n Lewensvatbare geloofsisteem met betrekking tot die doel van bestaan help om ’n fondament van betekenis en hoop vir ’n persoon se lewe te voorsien. Die oortuiging dat ’n mens se bestaan ’n doel het, ten spyte van die onvermydelike tragedies van die lewe, rus mens toe om meer voluit te lewe te midde van daardie tragedies. “Hope in a meaningful future is a central motivation for growth. But to be sustained hope must be grounded in what the individual perceives as real. A sense that life has a larger spiritual meaning keeps hope alive in what would otherwise be a hopeless situation” (Clinebell 1979:116). Daar is niks in die lewe wat ’n mens só effektief help om selfs in die slegste omstandighede te oorleef nie, as die wete dat daar sin in ’n mens se lewe is (Frankl 1984:126). Op ’n manier hou lyding op om lyding te wees op die oomblik wat dit sin vind (Frankl 1984:135). Wanneer ons bewus word daarvan dat ons nie nodig het om van ons pyne te ontsnap nie, maar dat ons dit kan mobiliseer in ’n soeke na lewe, word daardie pyne getransformeer van uitdrukkings van wanhoop na tekens van hoop (Nouwen 1999:93).

’n Lewebedreigende siekte soos kanker kan by mense die begeerte wek om die waarheid te ontdek oor wie húlle werklik is en waaroor dit in die lewe gaan. Kanker kan ’n katalisator vir mense wees om ontslae te raak van gemaklike illusies en bewus te word van hulle werklike waardes. Mense wat kanker het ontdek dikwels dat baie dinge wat hulle vroeër gedink het belangrik is, nie blywende waarde het nie (Aldredge-Clanton 1998a:20). Packo (1991:152) plaas dit in teologiese perspektief as hy sê: “It is a well documented fact that a person can much more easily bear up under suffering if he or she can find meaning in it. Seeing suffering from God’s viewpoint brings meaning, hope and encouragement. When we come to the place where we see cancer as a means of receiving spiritual good, we can better cope with the stresses it forces upon us”.

10. OPSTANDING EN HOOP

Dina: “Hierdie selfde kragtige werking van sy mag, soos wat Jesus opgewek is uit die dode, is tot ons beskikking. … Dit maak my sommer hartseer gelukkig om dit te besef”.

Die Christelike hoop is gewortel in die opstanding van Jesus Christus. Dieselfde krag waarmee God Jesus uit die dood opgewek het, is ook deur die Heilige Gees werksaam in die gelowige. Die Heilige Gees pas hierdie goddelike krag toe in die gelowige se lewe. Die krag van die Heilige Gees is niks anders nie as die toepassing van die opstandingskrag van Jesus. Hiérin is die hoop gesetel: daar is ’n geestelike, goddelike krag waarin die gelowige lewe, die krag waarmee die dood oorwin is, die krag waarmee lewe verkry is. Dit is deur die toepassing van hiérdie krag dat die Heilige Gees die wedergeboorte in ’n mens bewerkstellig en daardeur die vermoë aan die mens gee om op God te hoop.

Die Christelike hoop is nie net gerig op die hiernamaals nie, maar is ook gerig op, en word geleef in, die hiernoumaals. Hoop gaan oor ’n lewe wat ín hierdie krag gelewe word; dit gaan oor ’n onwrikbare vashou in die geloof dat hiérdie krag altyd beskikbaar sal wees, ongeag die omstandighede; dit gaan oor die sekerheid dat hierdie krag mens in staat stel om die moeilikste omstandighede en traumas te hanteer en te bowe te kom en in Christus meer as oorwinnaar te wees. Hierdie hoop, die lewe in hiérdie krag, bly lewe, selfs al sou omstandighede nie verander nie. Hierdie hoop is die boustof van ’n hoopvolle toekomsverhaal. Dit is onaantasbaar en onsterflik.

Ons hoop nie op hoop nie, sê Newman (1998:10), ons hoop op God en sy opstandingskrag. Hoop wat lyding verdra is nie ’n spel, of breingimnastiek nie. Dit is nie ’n oefening in positiewe denke of visualisering nie. Ware hoop, in sy kern, is ’n toewyding (“commitment”) aan die God van die Skrifte. Dit is ’n robuuste hoop wat gegrond is in die kruis en opstanding as die groot voorafskaduwing van alles wat God beoog om te doen. “Hope comes from God and is anchored by the Resurrection. In fact, the Resurrection configures our hope – it breaths the breath of life into our hopeless souls. We hope in God and his power” (Newman 1998:10). Hoop vier die opstanding as ’n demonstrasie dat God die magte van die bose dodelik gewond het (Newman 1998:11).

Die Christelike hoop is opstandingshoop (Moltmann 1967:18). Waar die grense wat die einde van alle menslike hoop aandui deurbreek word in die opstanding van die gekruisigde, daar kan en moet geloof uitmond in hoop (Moltmann 1967:20).

SLOTOPMERKINGS:

Kanker is ’n lewebedreigende en hoopbedreigende siekte en ook, soos in die geval met borskanker en die gepaardgaande verlies van ’n intieme liggaamsdeel, ’n identiteitbedreigende siekte. Dit raak direk die kernnarratiewe van mense se bestaan en skep onmiddellik ’n bedreiging vir die toekomsverhaal. Nie net die vrou wat borskanker gekry het word hierdeur geraak nie, maar ook haar hele huisgesin. Die siekte, die mastektomie én die behandeling stel hoë eise aan die hoop proses vir die hele familie.

’n Vrou wat ’n mastektomie ondergaan het, het ’n liggaamsdeel verloor wat van jongs af intiem verweef is met die kernnarratiewe van haar vrouwees. Die verlies van haar bors(-te) wat ’n sentrale deel vorm van haar liggaamsbeeld, haar selfbegrip en haar identiteit, kan beleef word as ’n aantasting van, en ingryping in, hierdie kernnarratiewe. Dis ’n pynlike verminking van haar identiteit wat haar kan laat wanhoop aan haar toekomsdrome terwyl sy worstel om sin te vind in wie sy is na al die veranderinge wat sy moes verduur. Die borsverhaal is egter nie die enigste verhaal wat haar identiteit, selfbeeld, selfagting en liggaamsbeeld bepaal nie. Haar hoop vir die definiëring, die belewing van haar vrouwees ná mastektomie, groei uit baie ánder verhale, want haar lewensverhaal bestaan uit veel meer as net haar borsverhaal.

Op verskillende maniere is die familie voortdurend besig om ’n hoopvolle toekomsverhaal te konstrueer. Hoop is nie ’n enkelvoudige, geïsoleerde eienskap van die mens nie. Naas geloof as primêre bron van hoop, groei hoop ook uit die kombinasie en wisselwerking van ’n groot verskeidenheid bewustelike én onbewustelike faktore waarvan maar net ’n paar in hierdie artikel bespreek is.

Hierdie hoop is só groot, só diep, só omvangryk, dat dit nie in enkele woorde saamgevat en gedefinieer kan word nie. Dit kan net beleef word en geleef word, en aan god al die eer gegee word!

BIBLIOGRAFIE

Aldredge-Clanton, J 1984. The Female Chaplain’s Contributions to Breast Cancer Management. The Journal of Pastoral Care, XXXVIII(3): 195-199.

Aldredge-Clanton, J 1998a. Counseling People with Cancer. Westminster John Knox Press: Louisville, Kentucky.

Aldredge-Clanton, J 1998b. How much time do I have? The many faces of Hope and Healing. Wayne E Oates

Institute. http://bsd.oates.org/hope/nov_98_online_conference/papers/aldredge-clanton.htm

Bagby, D G1998. Hope when the body wont heal. Wayne E Oates Institute.

http://bsd.oates.org/hope/nov_98_online_conference/papers/bagby.htm

Barraclough, J 2000. Cancer and Emotion. A Practical Guide to Psycho-oncology. John Wiley & Sons, Ltd.

Berger, K & Bostwick, J 1984. A Woman’s Decision: Breast Care, Treament, and Reconstruction. New York: Mosby.

Bornemann, E O 1984. A Personal Experience with Breast Cancer. In: Pfeiffer, K N & Whilliken, J D 1984. Caring for the Patient with Breast Cancer. 175-190. Reston: Prentice Hall.

Burr, V 1995. An Introduction to Social Constructionism. Routledge.

Capps, D 1995. Agents of Hope. A Pastoral Psychology. Fortress Press Mineapolis.

Clinebell, H 1979. Growth Counseling – Hope-Centred Methods of Actualizing Human Wholeness. Nashville: Abingdon.

Clinebell, H 1998. Reality-Based Hope: An Essential Dynamic in Healing Persons by Healing the Earth. Wayne E Oates Institute. http://bsd.oates.org/hope/nov_98_online_conference/papers/clinebell.htm

Fairchild, R W 1980. Finding Hope Again. A Guide to Counseling the Depressed. Harper & Row, Publishers.

Fitzgerald, R (Ed). 1979. The Sources of Hope. Pergamon Press.

Fourie, L J 1992. Die Voorspelling van Aanpassing na Diagnose van Borskanker. Proefskrif ingelewer vir die graad van Doktor in die wysbegeerte aan die Universiteit van Stellenbosch.

Frank, A W 1998. Just Listening: Narrative and Deep Illness. Families, Systems & Health 16(3):197-212.

Frankl, V E 1984. Man’s Search for Meaning. Washington Square Press.

Gyllensköld, K 1982. Breast Cancer. The Psychological effects of the disease and its treatment. Tavistock Publications Ltd.

Hanna, S 1998. Hope, Resilience, and the paradox of adversity. Wayne E Oates Institute. http://bsd.oates.org/hope/nov_98_online_conference/papers/hanna.htm

Henderson, I 1996. Matters Close to the Heart: Pastoral Care to Mastectomy Patients. In: Moessner, J S (Ed). 1996. Through The Eyes of Women. Fortress Press Minneapolis

Holland, J C & Lewis S 2000. The Human Side of Cancer. Living with Hope, Coping with Uncertainty. HarperCollins Publishers Inc.

Hopwood, P & Maguire, G P 1988. Body Image Problems in Cancer Patients. British Journal of Psychiatry (1988), 153(suppl. 2): 47-50.

Isemann, S H 1994. A comparison of self concept and body image in lumpectomy and mastectomy patients. Submitted in partial fulfillment of the requirements for the degree Master of Social Science (Clinical Psychology) in the Department of Psychology, University of Natal.

Jensen, M 1984. Some Implications of Narrative Theology for Ministry to Cancer Patients. The Journal of Pastoral Care, 1984, XXXVIII(3).

Kneece, J C 2001. Helping Your Mate Face Breast Cancer. EduCare Publishing, Columbia.

Langellier, K M & Sullivan, C F 1998. Breast Talk In Breast Cancer Narratives. Qualitative Health Research, Jan 98, 8 (1): (Ebscohost: Academic Search Fulltext Elite).

Lester, A D 1995. Hope in Pastoral Care and Counseling. Westminster John Knox Press: Louisville, Kentucky.

Lynch, W F 1974. Images of Hope. Imagination as Healer of the Hopeless. University of Notre Dame Press. London.

Moltman, J 1967. Theology of hope. S C M Press Ltd.

Muller, J 2000. Reis-geselskap. Die kuns van verhalende pastorale gesprekvoering. Lux Verbi.BM.

Nel, D M 1977. Die Post-Mastektomiepasiënt – ’n Klinies-Sielkundige Ondersoek. Voorgelê ter vervulling van ’n deel van die vereistes vir die graad Magister Artium (Kliniese Sielkunde) in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte Universiteit van Pretoria.

Newman, C C 1998. A Hope that Can Sustain: A Pastoral Response to Suffering. Wayne E. Oates Institute. http://bsd.oates.org/hope/nov_98_online_conference/papers/newman.htm

Nouwen, H J M 1999. The wounded Healer. Darton, Longman and Todd.

O’Hanlon, B 1994. The Third Wave. The Family Therapy Networker, Nov/Dec: 19-29.

O’Hare, P 1987. The Psycho-Social implications of Mastectomy for Married Women and their Spouses. Dissertation accepted in the Faculty of Arts (Dept. of Psychology) of the Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in fulfilment of the requirements for the degree Magister Artium.

Olmstead, L 1996. Breast Cancer and Me. Christian Publications: Camp Hill, Pennsylvania.

Packo, J E 1991. Coping with Cancer and other Chronic or Life-Threatening Diseases. Christian Publications: Camp Hill, Pennsylvania.

Parry, A 1991. A Universe of Stories. Family Process, 30:37-54.

Penninx, B W J H. (et al) 1996. Differential Effect of Social Support on the Course of Chronic Disease: A Criteria-Based Literature Study. Families, Systems & Health 14(2):223-244.

Shapiro, S L (et al). 2001. Quality of Life and Breast Cancer: Relationship to Psychosocial Variables. Families, Systems & Health 57(4):501-519.

Shurden, K 1998. The Dynamic of Hope in Families. Wayne E Oates Institute. http://bsd.oates.org/hope/nov_98_online_conference/papers/shurden.htm

Simmons, P 1998. False Hope in the ICU: Faith and Healing in Extremis. Wayne E Oates Institute. http://bsd.oates.org/hope/nov_98_online_conference/papers/simmons.htm

Strydom, M 1977. Psychotherapy with the Mastectomy Patient. Submitted in partial fulfilment of the requirements for the degree of Master of Arts (Clinical Psychology) in the Faculty of Arts, University of Pretoria.

Tarkan, L 1999. My Mother’s Breast. Daughters Face Their Mother’s Cancer. Taylor Publishing Company. Dallas, Texas.

Weihs, K 1996. Dilemmas in Coping with Breast Cancer. Families, Systems & Health 14(1): 89-93.

Weingarten, K 2000. Witnessing, Wonder, and Hope. Family Process 39(4): 389-402.

Zuckweiler, B 1998. Living in the Postmastectomy body. Hartley & Marks, Inc.