Prins, J M G
Universiteit van Stellenbosch

Die doelstellings en evaluering van kerklike jeugprogramme – met spesifieke verwysing na die praktyk in die N G Kerk

ABSTRACT

Goals and assessment of church youth programmes – with reference to the practice in the Dutch Reformed Church.

Youth programmes are a very important aspect in the ministry of the Church and therefore it is crucial that these programmes should be as relevant and effective as possible. In this regard the formulation of specific goals and the assessment of programs are essential. In this article a theoretical exposition of the function of these two aspects in youth ministry is given. The relationship between the concepts of accountability, the formulation of specific goals, intentionality and assessment is explained. Special attention is paid to the theological legitimisation of the implementation of assessment in youth ministry.

Reference is made of an empirical research of youth programmes that were conducted in the Dutch Reformed Church and in which responses referring to goals and assessment were obtained inter alia. The results show a great neglect of these two aspects. Finally guidelines for the implementation of assessement in youth ministry are given.

Baie energie, tyd en soms ook geld word deur ’n groot aantal gemeentes bestee aan die daarstelling van programme vir die jeug. Met jeugprogramme word bedoel dit wat georganiseer en aangebied word om ’n spesifieke geloofsidentiteit by die jeug te help vestig en om hulle te begelei tot geloofsvolwassenheid. Met die oog op die goeie funksionering van sulke programme het die vasstelling van doelstellings en die evaluering van die programme ’n noodsaaklike funksie te vervul. Hieroor handel hierdie artikel. Eers word ’n teoretiese fundering gegee van die funksie van doelstellings en evaluering1 in kerklike jeugprogramme. Daarop volg ’n verslag oor die vasstelling van doelstellings vir en die evaluering van jeugprogramme in die N G Kerk. Ten slotte word riglyne vir die toepassing van evaluering in die kerklike jeugwerk aangebied.

1. DOELSTELLINGS IN JEUGBEDIENING

Die uiteindelike doel van die kerk is dat God verheerlik sal word. Naas hierdie hoofdoel bestaan die kerk ook terwille van sy eie opbou in die geloof en die uitdra van die Evangelie in die wêreld.

Uit die aard van die saak kan die kerk se jeugwerk nie ander uiteindelike doelstellings as dit hê nie2. In die kerklike bediening is die uiteindelike doelstellings egter geen doel in die gewone sin van die woord nie. Hierdie doelstellings word eers op die jongste dag gerealiseer wanneer God alles sal wees vir almal (1 Kor 15:28). God is deur die werk van die Heilige Gees gerig op ’n eskatologiese doel waaroor ons nie beskik nie (Jentsch, 1970:358)3. Tog is die kerklike bediening in al sy fasette op hierdie doelstellings gerig. Die gelowige moet immers “al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word” (2 Kor 3:18). Die doel word hier nooit volledig bereik nie, maar daar kan vordering wees op die weg daarheen.

Binne die raamwerk van hierdie doelstellings het baie gemeentes in die laaste aantal jare daartoe oorgegaan om ’n eie visie en missie te formuleer. Onder missie kan verstaan word ’n uiteensetting van hoe ’n gemeente sy roeping in terme van sy eie identiteit en konteks verstaan. Die visie is ’n kernagtige samevatting van die missie om die essensie daarvan weer te gee (Hendriks1992:184). Die jeugbediening as wesenlike deel van die gemeentelike bediening behoort uiteraard ook gerig te wees op die visie en missie van die gemeente.

1.1 Verantwoordbaarheid/Verantwoording doen

’n Belangrike begrip wat tans meesal in samehang met die begrip evaluering gebruik word, is die begrip verantwoordbaarheid (Engels: accountability). Dit is ’n moeilik definieerbare begrip met ’n verskeidenheid van betekenisse wat saamhang met die kontekste waarbinne dit gebruik word (Odendaal 1997:5). Een betekenis wat redelik deurlopend voorkom, is dié van verslag doen of rekenskap gee van ’n gebeurtenis of saak. Dit is ook ’n konsep wat ’n belangrike rol speel in die lewe van die Christen. Sy/haar lewe word as ’n opdrag van God gesien naamlik om as profeet , priester en koning op alle lewensterreine te funksioneer (1 Pet 2:9). Oor die uitvoering van hierdie opdrag, sal daar aan God verantwoording gedoen moet word (rekenskap gegee word) (Rom 14:12; Mat 18:23). Dit speel ook in die funksionering en dienswerk van die gemeente ’n rol. Met die oog op die orde en doeltreffende funksionering van die gemeente, het elke plaaslike kerkraad die roeping van toesig en kontrole. Dit beteken prakties ook dat die verskillende aksies in die gemeente aan hierdie liggaam rekenskap moet gee van hoe die werksaamhede verrig is. Die verslaggewing behoort veral te gaan oor die mate waarin daar geslaag is om die doelstellings te bereik al dan nie en wat die redes daarvoor kan wees.

1.2 Algemene en spesifieke doelstellings

In die didaktiek word die term uitkomste gebruik. Dit word op verskillende vlakke gebruik. Op die vlak van die leerder se leer is daar algemene of generiese leeruitkomste en dan spesifieke leeruitkomste wat binne die raamwerk van (gewoonlik) ’n lesplan/leereenheid of ’n leermodule bereik moet word. Daar is egter ook programuitkomste, module-uitkomste en uitkomste van elke geleentheid wat gespesifiseer word vir bepaalde doeleindes. Elke leeruitkomste/of groepering van uitkomstes het bepaalde kriteria waaraan dit moet voldoen. Vir die doel van hierdie artikel en in die lig van wat ons reeds vermeld het oor die gebruik van die begrip doelstellings gebruik ons dan verder die onderskeiding van algemene- en spesifieke doelstellings.

Die formulering van doelstellings vir die jeugbediening word in die praktyk meesal beperk tot algemene doelstellings soos die geloofsvorming van die jeug, hulp met lewensvrae en probleme en betrokkenheid in die kerk. Dit is egter noodsaaklik dat die gemeente ook spesifieke doelstellings vir die jeugbediening4 sal uitspel (Trimmer 1994:34). Die algemene doelstellings vorm die legitimering van die spesifieke doelstellings en gee die rigting aan waarbinne die spesifieke doelstellings geformuleer word. Spesifieke doelstellings vir die jeugbediening kry in die algemeen egter nog heel weinig aandag. (Dean 1991: 72). Waar dit ontbreek, vind gewoonlik nie doelgerigte beplanning plaas nie en bestaan daar uiteraard nie duidelike kriteria om die programme van die jeugbediening te evalueer nie.

1.3 Intensionaliteit

Intensionaliteit het te doen met die gerigtheid op doelstellings. Waar daar nie duidelike spesifieke doelstellings is nie, word die intensionaliteit verlaag en is die moontlikheid baie groot dat belangrike aspekte van die geloofsvorming nie die nodige aandag sal kry nie. Juis vandag, in ’n tyd van groot veranderinge, behoort die formulering en herformulering van spesifieke doelstellings deurlopend aandag te kry. Sake waarvoor in die verlede nie intensionele aandag nodig was nie moet nou doelbewus op die agenda geplaas word.

Lee ( 1991:237) wys daarop dat die begrip bediening ’n vaag omlynde begrip is en dus aanleiding gee tot ’n gebrek aan spesifieke doelstellings. “The word ministry is an amorphous term having no real parameters and therefore having no real inbuilt axis of intensionality. The term ministry more often than not tends to be as vacuous as it is inflationary”. Hy verwys na navorsing in die VSA wat aangetoon het dat waar die jeugwerk as “opvoeding” geïdentifiseer word, die doelstellings duideliker is, meer doelwitformulering plaasvind en die gerigtheid meer intensioneel is as waar van bediening gepraat word. Bediening is na ons mening egter ’n beter beskrywende term vir dit wat in jeugwerk gedoen word.

1.4 Die vasstelling van spesifieke doelstellings

Soos aan die begin van die artikel aangedui, moet die spesifieke doelstellings uiteraard boustene wees wat bydra tot die verwesenliking van die uiteindelike doelstellings. Dit moet dus op holistiese wyse benader word. Dit behels dan allereers ’n antropologiese gesigspunt. Daar moet met die vermoëns, bevatlikheid, en spesifieke probleme van die kind en jongmens in elke fase van ontwikkeling rekening gehou word. Die kosmologiese gesigspunt vereis dat die geloofsvorming lewensgetrou moet wees. Die konteks waarin die kind en jongmens verkeer, die eise wat dit stel en die invloede wat dit uitoefen, moet in ag geneem word. Die basiese en oorkoepelende gesigspunt is die teologiese gesigspunt. Dit gaan primêr om die kind en jongmens se verhouding met God in Christus en om hulle verbintenis met die kerk as die liggaam van Christus.

In die lig van bogenoemde is ’n raamwerk opgestel waarvolgens doelstellings vir die kerk se jeugbediening en programme opgestel kan word. Hierdie raamwerk is ook as basis gebruik vir die vraelyste wat aan predikante, jeugleiers, kinders van graad ses en sewe, tieners en naskoolse werkende jongmense gestuur is (Bylae A).

2. EVALUERING

Terminologie

Aanvanklik is assessering en evaluering dikwels as wisselterme gebruik. Die gebruik van die konsep uitkomsgerigte onderwys het egter meegebring dat onderskeid tussen hierdie twee terme gemaak word (Van der Horst en McDonald 2003:168). Assessering het te doen met die verkryging van insigte, kennis en data ten opsigte van ’n persoon se kennis, gedrag , waardes en houdings. Dit konstateer die feite5 en is ’n poging om aan te dui hoe ’n persoon ten opsigte van die betrokke aangeleentheid holisties waargeneem word. Met evaluering word weer geoordeel oor ’n saak, program, bedryf ens. Daar word geoordeel oor die mate van kennis wat ’n leerder het, of oor sy/haar gedrag en waardes. ’n Sekere waarde word aan hierdie aspekte toegeskryf. Toegepas op die jeugbediening kan ons dus sê dat ons die jeug wat in die jeugbediening betrokke is, assesseer ten opsigte van die mate waarin sekere doelstellings van die jeugbediening in hulle lewens gerealiseer word. Die data wat so verkry word, help ons om die jeugbediening te evalueer.

2.2 Evaluering gepas in jeugbediening?

’n Belangrike vraag is nou of evaluering in die kerklike bediening gepas is? Die doelstellings van die kerklike bediening is tog in ’n sekere sin onmeetbaar. ’n Objektiewe evaluering van die verborge werking van die Gees van God in menselewens is tog nie moontlik nie. Beteken ’n gebrek is aan sigbare vrug noodwendig dat daar swak kommunikasie van die Evangelie was? Wat die geloofslewe betref, moet ons egter daarmee rekening hou dat selfondersoek, toetsing, op die proef stel en dergelike begrippe wesenlik deel is daarvan. Paulus skryf byvoorbeeld: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe” (2 Kor 13:5). In sy kommunikasiemodel waarin Groome (1980:217) die relevansie van die evangelie duidelik na vore wil bring, laat hy klem val op die dialektiese hermeneutiek tussen die storie van die deelnemers en die “Storie” van die Bybel. In essensie gaan dit om die vraag: “What does the community’s Story (die Skrif, JMGP) mean for (affirm, call in question) our stories, and how do our stories respond to (affirm, push beyond) the community Story?” Die element van evaluering is hiervolgens noodsaaklik om tot ’n verbetering van die Christelike praxis te kom.

Hierdie beginsel word dus ook in die Praktiese Teologie beoefen. Die laaste fase van die Prakties Teologiese metodologie bestaan daarin dat die bevindinge van die ondersoek “reflekterend op ’n hermeneutiese wyse (verstanend) in aksie gebring word met die bestaande prakties teologiese teorie…” (Heyns en Pieterse1990:86). Dean (2002: 222) toon ook aan dat die Prakties Teologiese ondersoek eindig met ’n fase van ontdekking en evaluering. Die vraag wat veral beantwoord moet word is: “ How well are we doing by God’s standards?”

Die verwaarlosing van evaluering op die terrein van die kerklike bediening hou waarskynlik verband met gevoel dat die werk van die Heilige Gees nie gemeet kan word nie. Van der Ven (1982:643) gee in hierdie verband ’n verhelderende verduideliking. Hy wys op die paradoks van die geloofsvorming. Aan die een kant word die transendensie van die doelstellings van geloofsvorming beklemtoon, maar aan die anderkant word die ontwikkeling van programme en metodiek met die oog op die geloofsvorming ook onderstreep. Die oplossing van die paradoks lê dan daarin dat geloof aan die een kant as ’n genadegawe van God gesien word. Van die menslike kant weer is daar ’n ontvanklikheid, ’n bekering nodig. Hiervoor kan die godsdienstige vormingswerk van die kerk die gunstige voorwaardes skep. Hierdie voorwaardes kan in spesifieke doelstellings omskryf word en dit kan geleer en onderrig word en dus ook ondersoek en evalueer word.

Daar moet egter omsigtig omgegaan word met terminologie en metodes. Die unieke aard van die kerk en die kommunikasie van die evangelie moet nie misken word nie. Die kommunikasie van die Christelike boodskap moet as ’n kategorie op sy eie gesien moet word en dus nie benader kan word soos ander vorme van kommunikasie nie. Dit word immers nie op grond van menslike oorweging verkondig nie, maar op grond van ’n goddelike drang . Dit dra die openbaring van God sodat die ontvangers nie bloot van God sal leer nie, maar God sal leer ken. Die appél is nie in die eerste plek om te verstaan nie, maar om te glo (Kraemer 1957:22).

2.3 Die doel van evaluering

Die doel van evaluering is nie bloot om teoretiese kennis te verkry oor wat die vormingsproses opgelewer het nie. Dit wil antwoorde verskaf op ’n tweeledige vraag, naamlik in watter mate die doelstellings bereik is en indien nie, wat die oorsake van die gebrek aan sukses is en hoe die proses verbeter kan word? (Van der Ven 1982: 636,645). Dit wil dus tot ingeligte besluite ten opsigte van die proses lei en ’n probeer–en–tref benadering vermy (Radcliff 1991:241). Die basiese kriterium waaraan die kerk se bediening gemeet word, is die kongruensie tussen God se dade en die geloofsgemeenskap se dade. Was die gemeente getrou aan God se opdrag? In hierdie lig gesien, is dit dus duidelik dat evaluering nie ’n toevallige aktiwiteit in die jeugbediening is nie, maar ’n wesenlike element daarvan.

2.4 Verskillende areas van evaluering

Daar kan in hoofsaak twee soorte evaluering onderskei word, naamlik produkevaluering en kurrikulum- en prosesevaluering (Van der Ven 1982:636)

2.4.1 Produk-evaluering (-assessering)

Dit gaan kort en bondig om die vraag: “Wat het ons bereik?” Die gevaar is dat “produk” as ’n soort prestasie opgevat sou kon word. Dit hang egter af van die wyse waarop die saak hanteer word. Daar moet ook daarmee rekening gehou word dat evaluering altyd ’n gebrekkige proses bly (Watson 1987:69).

2.4.2 Kurrikulum/Proses/metode evaluering

Uit produkevaluering blyk die mate waarin algemene doelstellings bereik is, terwyl hierdie evaluering aandui wat die faktore is wat die bereiking van die algemene doelstellings bevorder of teengewerk het. ’n Essensiële vraag in hierdie verband is of die programme daarin geslaag het om die funksionering van die belangrike prosesse van geloofsvorming te fasiliteer6.

2.4.3 Evaluering van die uiteindelike doelstellings

In die lig van gegewens wat deur die kurrikulum- en prosesevaluering verkry word, moet die uiteindelike doelstellings ook weer telkens oorweeg word.

2.4.4 Die evaluering van die beginsituasie

Die jeugbediening moet by die jeug se beginsituasie aansluit. Die beginsituasie is dit wat die jeug aan kennis, ervaring, gevoelens, motivering en sosiale agtergronde met hulle saambring (Dingemans 1986:201). Dit speel ’n rol by die bepaling van die weg waarlangs ons hulle na die eindpunt, die doelstellings, wil begelei. Ontsporings in die vormingsproses kom dikwels voor omdat daar met ’n veronderstelde beginsituasie gewerk word in plaas van met die werklike situasie (Van der Ven 1982:661)7.

Evaluering van die produkassessering

Die wyse waarop die eindresultaat assesseer word, moet ook telkens krities onder oë geneem word.

3. EVALUERING IN DIE JEUGBEDIENING VAN DIE N G KERK

In ’n onlangse empiriese ondersoek van die N G Kerk8 se jeugprogramme is ook enkele vrae gestel oor die doelstellings. ’n Vraelys is na 208 van die kerk se 1 220 gemeentes gestuur9. Voltooide vraelyste is van 78 gemeentes ontvang10. Drie verskillende stelle vraelyste is uitgestuur vir die drie terreine van die kerklike jeugwerk naamlik die laerskoolkind, die hoërskool leerder en die naskoolse werkende jongmens. Die gemeentes wat betrek is het elk net een van die stelle ontvang.

3.1 Doelstellings volgens predikante en jeugleiers

Die vraag is gestel: “Wat wil die gemeente bereik met die programme wat vir die kinders (of vir tieners of werkende jongmense) aangebied word?” Die jeugleiers moes slegs respondeer ten opsigte van die groep by wie hulle betrokke was, maar die predikante moes die vraag ten opsigte van al drie groepe beantwoord. Sake wat aangedui is, is onder ’n aantal temas ingedeel. Die gewig wat aan elkeen van die temas toegeken is, word in tabel 1 in persentasies uitgedruk.

Tabel 1: Die response van jeugleiers en predikante ten opsigte van die doelstellings van die kerklike jeugwerk in persentasies uitgedruk.

Laerskool kinders

Tieners

Naskools

Jeugleiers

Predikante

Jeugleiers

Predikante

Predikante

Pers Geloof 45

Pers Geloof 42

Pers Geloof 46

Pers Geloof 50

Pers Geloof 28

Kennis 29

Kerkl betrokke 17

Kerkl.betrokke 22

Chr lewensw 22

Chr lewensw 15

Kerkl.betrokke 10

Kennis 16

Chr lewensw 12

Kerkl.betrokke 11

Kerkl.betrokke 13

Chr lewensw 8

Chr lewensw 9

Sosialisering 10

Kennis 6

Sosialisering 8

Probleme 3

Dienswerk 5

Kennis 8

Probleme 3

Probleme 5

Dienswerk 3

Ontspanning 3

Ander 2

Ontspanning 3

Kennis 4

Ander 2

Probleme 2

Dienswerk 3

Dienswerk 4

Sosialisering 2

Ander 2

Ander 23

3.1.1 Persoonlike geloofslewe

Dit behels items soos die verhouding met die Here, geloofsekerheid, geloofsgroei, toewyding aan die Here en geestelike toerusting. Dit het verreweg die sterkste gewig gedra in elke afdeling. Indien spesifieke doelstellings nie ook geformuleer word nie, is daar ’n groot gevaar dat veronderstel kan word dat die programme op een of ander manier daarby uitkom terwyl dit te min spesifieke aandag kry.

3.1.2 Kennis

Alle beklemtoning van meer kennis van God of die Bybel of ander sake is hier ter sprake. By die kinderbediening word dit die tweede grootste aksent gegee, veel groter as by die tienerbediening en naskoolse jongmense. Dit was veral die jeugleiers wat dit by die kinderbediening beklemtoon. By die werkende jongmense word dit laaste geplaas en by die tienerbediening byna laaste. Die jeugprogramme bied, naas die kategese, ’n uitstekende geleentheid om kennis op ander maniere, veral indirek, by te bring en te internaliseer. Die kenniselement behoort dus nie in jeugprogramme verwaarloos te word nie.

3.1.3 Betrokkenheid by die kerk

By die kinderbediening word hierdie aspek die derde meeste genoem. By die tienerbediening kry dit saam met Christelike lewe/waardes die tweede meeste beklemtoning. Wat egter opvallend is, is dat die jeugleiers die betrokkenheid by die kerk twee keer so veel noem as die vorming van die Christelike lewe en waardes terwyl dit by die predikante presies andersom is. By die werkende jongmense kry die Christelike lewenswandel en die betrokkenheid by die kerk ongeveer dieselfde beklemtoning.

Dit is belangrik dat betrokkenheid by die kerk nie bloot verstaan word as die inskakeling by jeugdienste en jeugprogramme nie, maar as ’n geïntegreerde deel wees van die lewe en werk van die gemeente wat identifikasie met die geloofsgemeenskap meebring. Dit kan net effektief aandag kry as die verskillende aspekte in spesifieke doelstellings omskryf word.

3.1.4 Christelike lewe/waardes

Hier word doelstellings betrek wat met ’n Christelike lewenswandel te make het. By die kinderbediening kry dit van die jeugleiers sowel as predikante die vierde meeste klem. By die tieners gee die jeugleiers dit die derde plek en die predikante die tweede. By die werkende jongmense plaas die predikante dit ook tweede. Dit is ’n aspek wat veel meer intensionele aandag behoort te kry as wat tans die geval is (Prins 2002:24).

3.1.5 Sosialisering

Die jeugaksies bied die geleentheid bied om binne ’n Christelike konteks mekaar te ontmoet en te leer ken. By die kinderbediening kry dit min beklemtoning. By die tieners word dit deur die jeugleiers byna net so veel beklemtoon as Christelike lewenswaardes. Daarteen oor kry dit van die predikante feitlik geen vermelding nie. By die werkende jongmense beklemtoon die betrokke predikante dit ook nie sterk nie.

3.1.6 Hulp met lewensprobleme/vrae

By die kinderbediening kry hierdie aspek min aandag. By die tienerbediening word dit net deur predikante vermeld en dan net 3 keer. By die werkende jongmense word dit in die vyfde plek geplaas. Dit is verbasend dat hierdie aspek so min beklemtoon word. Veral in die lig daarvan dat

Samevatting van die response oor doelstellings

Dit is duidelik dat groot klem op die geloofsvorming gelê word. Die ander temas wat vermeld is, kry egter veel minder beklemtoning en dit laat die vraag ontstaan of daar genoeg balans in die jeugprogramme is. Kontekstuele kwessies word nie hoog aangeslaan nie asook belangrike sake soos dienslewering en die spesifieke probleme waarmee kinders en jongmense te doen kry. Slegs enkele respondente het spesifieke doelstellings aangedui.

3.2 Die evalueringspraktyk in die jeugbediening van die N G Kerk

Elke predikant moes ten opsigte van die jeugbedieningsterrein waarvoor hy/sy ’n vraelys moes voltooi, reageer op die vraag: “Word die programme van tyd tot tyd geëvalueer? Indien wel, hoe dikwels en aan die hand van watter kriteria?” Ons rapporteer oor die drie terreine van die jeugbediening elkeen afsonderlik.

3.2.1 Die bediening aan die laerskoolkind

Evaluering vind in 65% van die responderende gemeentes plaas. Dit vind veral jaarliks of kwartaalliks plaas. Bykans die helfte vermeld dat dit by wyse van gesprekke van die jeugleiers/kategete plaasvind. Sommige betrek ouers, kundiges of jeugkommissielede by die gesprek. In 4 gevalle was ’n peiling by die kinders gedoen (gesprek of vraelyste). Slegs 8 van die 22 gemeentes waar evaluering plaasvind, maak van kriteria melding. Die kriteria wat genoem word, is die aantal kinders wat betrek word (6 keer) en die algemene doelstellings van die kinderaksie (2 keer).

3.2.2 Die bediening aan tieners

Van die responderende gemeentes het 12 uit 23 (52%) vermeld het dat die programme evalueer word. Slegs 7 het rapporteer hoe dikwels die evaluering plaasvind. Dit wissel by 5 gemeentes van 4 tot 1 keer per jaar. Daar was twee gemeentes by wie dit onderskeidelik elke twee en elke drie jaar plaasvind.

Wat die wyse van evaluering betref, word daar in 1 geval vermeld dat ’n vraelys elke tweede jaar aan gemeentelede gestuur word, in 5 gevalle word dit gedoen deur die persone wat by die tienerbediening betrokke is. In 1 geval word die verslag aan die kerkraad as evaluering gesien en in 1 gemeente word met die tieners ’n gesprek gevoer. Net 4 predikante het na kriteria verwys. In 3 gevalle is bywoningsgetalle die kriterium en in 1 die behoeftes van die jeug.

Die bediening aan werkende jongmense Net 2 van die 20 gemeentes wat gerespondeer het, vermeld dat evaluering van die programme plaasvind. By een kry dit elke kwartaal by die kerkraadsvergadering aandag, by ’n tweede doen die jongmense self die evaluering.

3.3 Samevatting van response oor evaluering

Net 47% (37 uit 78) van die gemeentes wat oor die evaluering van die programme respondeer het, vermeld dat plaasvind. Hiervan het net 12 enige kriteria vermeld en 9 het die bywoningsgetalle as kriterium genoem. Evaluering kry dus weinig aandag en daar is baie min sprake van evaluering aan die hand van doelstellings. Evaluering wat nie intensioneel op doelstellings gerig is nie, sal in die oorgrote meerderheid van gevalle belangrike aspekte nie onder oë neem nie en dus gebrekkige insigte oplewer vir die voortgaande beplanning van die gemeente se jeugbediening.

4. RIGLYNE VIR DIE EVALUERING VAN KERKLIKE JEUGPROGRAMME

(i) Die doelstellings van die Ned Geref Kerk se jeugbediening is uiters algemeen geformuleer. Dit behoort herformuleer te word om in terme van die antropologiese, kosmologiese en teologiese gesigspunte (sien 1.4) duideliker riglyne aan die kerk se jeugwerk te bied.

(ii) Die vormingsproses in die jeugbediening kan gesien word as die gebeure waarin jeugleiers en jeug saam die weg van die beginsituasie tot die doelstellings aflê. Binne hierdie proses hoort twee vrae tuis naamlik of die doelstellings in ’n voldoende mate bereik is en wat die redes daarvoor is as dit nie die geval is nie. Die antwoorde word deur evaluering verkry. Evaluering behoort dus ’n onmisbare komponent in die beplanning en funksionering van die gemeente se jeugwerk te wees. (iii) Die volgende persone behoort as ’n span by die vasstelling van die spesifieke doelstellings van die gemeente se jeugbediening sowel as die evalueringsproses betrokke te wees.

Jeugleiers. Die jeugleiers is in ’n unieke posisie omdat hulle ervaringskennis behoort te hê van die jeug se betrokkenheid, voorkeure, kritiek, vlak van motivering, vordering in geestelike groei, probleme ens.

Predikant/kerkraad. Die instansie wat uiteindelik verantwoordelik is vir die oorhoofse missie en visie van die gemeente, behoort ook betrokke te wees by die vasstelling van die doelstellings en die evaluering van die bereiking daarvan.

Ouers. Die vormingswerk wat deur die ouers verrig word, is die veronderstelde fondament waarop die gestruktureerde kerklike bediening wil voortbou. Dit is belangrik dat daar ’n samewerking en wisselwerking tussen die vormingswerk van die ouer en die kerklike bediening sal wees.

Die jeug self. As diegene wat in ’n groot mate aan die “ontvangkant” van die programme staan, kan hulle in ’n groot mate oordeel of die bedoelings van programme gerealiseer het en of daar ’n gebrekkige kommunikasie was.

(iv) Gemeentes verskil wat hulle geskiedenis, samestelling en konteks betref. Elke gemeente behoort dus binne die grense van die algemene doelstellings soos deur die betrokke kerklike liggame bepaal, sy eie spesifieke doelstellings vas te stel.

(v) Aanvanklik sou ’n gemeente ’n hele aantal spesifieke doelstellings kon bepaal, maar mettertyd behoort aan enkele doelstellings prioriteit verleen te word.

(vi) Evaluering behoort op ’n beplande wyse en hand aan hand met die vasstelling van die doelstellings te verloop.

(vii) Die hele kwessie van die vasstelling van doelstellings en die evaluering van programme, behoort in programme van leierskapsopleiding ingesluit te wees.

(viii) Deur hulle betrokkenheid by en identifikasie met die gemeente word die jeug ingelei in die weg en lewe van die gemeente. Dit impliseer dat die vasstelling van algemene en spesifieke doelstellings geïntegreer moet wees met die missie en visie van die gemeente.

(ix) ’n Holistiese benadering moet by die vasstelling van doelstellings en evaluering gevolg word. Aan die een kant moet daar met die behoeftes en wense van die jeug rekening gehou word, maar aan die ander kant moet die behoefte en belange van die geloofsgemeenskap nie geïgnoreer word nie. Beide pole en die konteks waarbinne die jeug en gemeente funksioneer, moet in gedagte gehou word.

(x) Evaluering moet nie simplisties aangepak word nie, maar al die areas van geloofsfunksionering moet ingesluit word, te wete die kognitiewe, die affektiewe en die gedragskomponente. Dit kan dus hoegenaamd nie soos ’n eksamen hanteer word nie. Die geloofsvorming bevat wel die oordrag van kennisinhoude en die mate waarin dit plaasgevind het, kan met behulp van kennisvrae bepaal word. Die affektiewe komponent speel ook ’n baie ’n belangrike rol. Dit is egter ’n area waarin evaluering moeiliker is. Selfbeskrywende tegnieke kan gebruik word om meer van die kind/jongmens se belewings te wete te kom. Ten slotte bevat die geloofslewe ook ’n gedragskomponent wat veral deur waarnemingstegnieke geëvalueer kan word.

TEN SLOTTE

Waar die uitgangspunt van die jeug ten opsigte van die talle aanbiedinge van die lewe, dus ook ten opsigte van die Evangelie, hoofsaaklik een is van: “Watter waarde het dit vir my?” is dit uiters noodsaaklik dat die jeugbediening die evangelie so relevant en effektief moontlik sal kommunikeer. Die vasstelling van duidelike en relevante algemene en spesifieke doelstellings, ’n intensionele bediening en ’n verantwoorde evalueringsproses is essensiële elemente in hierdie kommunikasie. Dit is egter elemente wat tans die jeugbediening veels te weinig aandag kry en waaraan die betrokke kommissies van die kerk en plaaslike kerkrade dringende aandag sal moet gee.

BIBLIOGRAFIE

Algemene Jeugkommissie, 1989. Jeugbediening: Handleiding vir die Ned Geref Kerk. Deel 1: Uitgangspunte. Bloemfontein: Algemene Jeugkommissie.

Dean, K 1991. A synthesis of the research on, and a descriptive overview of Protestant, Catholic, and Jewish religious youth programs in the United States.Commissioned by the Carnegie Council on Adolescent Development.

Ongepubliseerde verslag.

Dean, K C 2002. The Tasks of Practical Theology: Detecting Our Convictions and

Evaluating Our Practices, in Dean, Clark & Rahn. Starting Right. Thinking Theologically about Youth Ministry

Dean, K C, Clark, C & Rahn, D 2001. Starting Right. Thinking Theologically about Youth Ministry. Grand Rapids: Zondervan

Dingemans, G D J 1986. In de leerschool van het geloof. Kampen:Kok

Groome, T H 1980. Christian religious education. San Francisco: Harper

Hendriks, H J 1992. Strategiese beplanning in die gemeente. Wellington: Hugenote uitgewers.

Heyns, L M en Pieterse, H J C 1990. Eerste treë in die Praktiese Teologie. Pretoria: Gnosis

Jentsch, W 1970. De Einfluss Tillichs auf die Religionspádagogik der Gegenwart. Der Evangelische Erzieher, 22(9), 345-364.

Kittel, H 1970. Evangelische Religionspådagogik. Berlin: Walter de Gruyter.

Kraemer, H 1957. The Communication of the Christian Faith. London: Lutterworth Press.

Lee, J M 1991. Procedures in the Religious Education of adolescents, in Ratcliff, D and Davies, J A Handbook of Youth Ministry.

Nel, M 2001. Jeugbediening. ’n Inklusiewe gemeentelike benadering. Bloemfontein: Barnabas

Odendaal, R 1997. Accountability in higher education. SA Journal for Higher Education. 11(2), 5-7.

Prins, Rian 2002. Values to be Caught and Taught: The Response of the Church to the Teenage Moral Dilemma. Journal of Youth and Theology. 1 (2), 23-35.

Radcliff, D and Davies, J A 1991. Handbook of Youth Ministry. Birmingham: Religious Education Press

Richards, L O 1988. Childen’s ministry. Grand Rapids: Zondervan

Trimmer, E A 1994. Youth Ministry Handbook. Nashville: Abingdon Press.

Van der Horst, H en McDonald, R 2003. Outcomes-based Education. Irene: Tee Vee Printers.

Van der Ven, J A 1982. Kritische Godsdienstdidactiek. Kampen: Kok

Watson, B 1987. Education and Belief. Oxford: Basil Blackwell.

Websters Third International Dictionary of the English Language, (1961). London: G Bell and Sons

BYLAE A

’n RAAMWERK VIR DIE VASSTELLING VAN DIE DOELSTELLINGS WAAROP KERKLIKE JEUGPROGRAMME GERIG KAN WORD

1. Ontwikkelingsielkundige aspekte (Kindgetrou):

Fisies / psigomotories

1.4

Sosiaal

Emosioneel

1.5

Godsdienstig

Kognitief / Wil

2. Sosio-maatskaplik (Lewensgetrou)

Materialisme

2.5

Elektroniese media

Pluralisme

2.6

Versluierde toekomsverwagting

Individualisme

2.7

Multikulturaliteit

Gesinsverbrokkeling

2.8

Armoede

3. Kerklik / Teologies (Geloofsgetrou)

Deel wees van die verbondsgemeenskap (Geloofsidentiteit,Gesin en gemeente).

Deelname aan die lewe en werk van die verbondsgemeenskap

Navolging van rolmodelle (Gesin en gemeente)

Eenheid van onderrig en lewe (Informele konteks, geloofsekologie)

Maak van keuses (geloofsbeslissing, lewenskeuses, morele keuses)

1 In die opvoedkunde word tans van die begrippe uitkomste en assessering gebruik gemaak. Vir die doel van hierdie artikel gebruik ons egter die terme doelstellings en evaluering. Ons gebruik “doelstellings” in aansluiting by die konsep “doel” soos dit in die Skrif funksioneer (Fil 3:12-16) en “evaluering” omdat ons daarmee die aktiwiteit wil aandui waarmee vasgestel word of die programme geskik is en op gepaste wyse aangebied word.

2 Die doel van die Ned Geref Kerk se jeugbewegings word dan ook soos volg geformuleer (Algemene Jeugkommissie 1988 1(29)

• Die eer en verheerliking van God: Die hoogste doel van alle diens aan God en van die hele bediening van die kerk op alle vlakke is die eer en verheerliking van God. Dit is ook die doel van die jeugbediening – sodat “God alles sal wees vir alles” (1 Kor15:28). Dit beteken dat God se wil in alles gedoen sal word en dat die koms van die koninkryk bevorder sal word totdat hy kom.

• Toegespitste jeugbedieningsdoel: Dit is om deur ’n gemeentelike bediening die jeug te begelei tot volwasse lidmate van die kerk van Christus - wat God reg ken liefhet en dien - sodat die Vader Seun en Heilige Gees verheerlik word, die koninkryk kom en God se wil gehoorsaam word.

3 Daarom verkies Kittel (1970:324) byvoorbeeld die term “aufgabe” (opdrag, opgaaf) bo “ziel” (doel).

4 Ons verstaan jeugbediening so dat dit in twee dimensies (wat telkens kan oorvleuel) funksioneer: In die dimensie van die breë gemeentelewe waar ook met kinders en jongmense, as lede van die gemeente, se behoeftes en bydraes rekening gehou moet word, asook die toegespitste dimensie waar die kinders en jongmense as afsonderlike ouderdomsgroepe bedien word en betrek word (Nel 2001:88).

5 In Websters Third International Dictionary of the English Language (1961) word assessering beskryf as: “To analize critically and judge definitely the nature, significance, status or merit of…”. Evaluering word beskryf as: “to examine and judge concerning the worth, quality, significance, amount, degree or condition of …”

6 Richards (1988: 76) noem 5 basiese prosesse: Prosesse wat deel wees van die geloofsgemeenskap kommunikeer, deelname aan die lewe van die geloofsgemeenskap bevorder, navolging (modellering) van lede van die geloofsgemeenskap fasiliteer, Bybelse onderrig as interpretasie van die lewe voorsien en die beoefening van persoonlike keuse bevorder.

7 Die situasie met die kerk se kategese is ’n tipiese voorbeeld. Dikwels veronderstel die kurrikulum en die metodiek dat katkisante tuis die nodige basiese geloofsvorming ervaar het en dat dit gemotiveerde katkisante is wat die kategese bywoon. Die werklike situasie sien daar egter heeltemaal anders uit.

8 Die ondersoek is om 3 redes tot die N G Kerk beperk. Dit was nie finansieël haalbaar om die ondersoek na meer kerke uit te brei nie, die navorser het maklik toegang tot die N G Kerk se infrastruktuur en het ook die vermoede gehad dat daar nie ’n groot verskil sal wees van die situasie in die meerderheid van kerke in die RSA nie.

9 Die gemeentes is op ’n ewekansige wyse uit die lys van gemeentes in die Kerkjaarboek bepaal en is eweredig volgens die aantal lidmate per sinodale streek versprei asook volgens die grootte van gemeentes in die kategorieë < 600 lidmate, 601 – 1200 en > 1200.

10 Die 208 leraars is deur die navorser persoonlik per telefoon geskakel en hulle belofte tot samewerking is verkry. ’n Veel groter reaksie as die 38% was dus verwag.