Strauss, P J
Universiteit van die Vrystaat

Nie-kerkraadslede op sinodes?

ABSTRACT

Only the members of a consistory delegated to synod?

The author discusses the possibility that confessional members of congregations who are not members of their consistories, may also be delegated to join major assemblies and, specifically, synods in the denomination. The question is alternatively approached from a church historical and a church political angle. The conclusion is that the same standard which should be applied in the election of members of consistories, should be applied in the delegation of members of major assemblies, namely ability for the job at hand. The practical situation, however, could show that consistories normally have people capable of taking up the responsibilities of major assemblies in their midst so that the delegation of a member from outside the consistory would be an exception.

INLEIDEND

Die ingewyde in die gereformeerde kerkreg sal weet dat die ontwikkeling van hierdie vakgebied, soos trouens van alle ander vakgebiede, nooit sal of mag ophou nie. Alles in die gereformeerde kerkreg en kerkregering is nie afgerond en finaal in kanne en kruike gegiet nie. Gereformeerde cononici wat vanuit dieselfde grondoortuiging werk, verskil byvoorbeeld soms oor die konkretisering daarvan in ’n bepaalde situasie, terwyl die kerkreg as dienende reg – vir die kerk om beter kerk van die Here te kan wees – van tyd tot tyd in sy deurvoering ’n menslike of pastorale kant openbaar wat dit vir die logiese, konsekwente denker moeilik maak om te verstaan: Vir hom is dit ’n kwessie van “As jy A sê, moet jy tog ook B sê…”, terwyl die gereformeerde kerkreg op punte soms juis nie die spreekwoordelike beginsel tot in sy verste konsekwensie deurtrek nie1.

’n Werkbare onderskeid wat tradisioneel in die gereformeerde kerkreg gemaak word, bly steeds die van die ius constitutum (die gepositiveerde of heersende kerkreg) en die ius constituendum (die normatiewe sy van die kerkreg of dit wat dit behoort te wees)2. Hierdie onderskeiding is juis ’n erkenning van die feit dat die kerkreg voortdurend voor die Skriftuurlike eis staan om te onderskei tussen konstantes of onveranderlikes en die konkretisering of toepassing daarvan in ’n bepaalde konteks. Maar, en dit is die gees van egte reformasie, beide die kerkregtelike se verstaan van die ius constitutum én die ius constituendum moet ook voortdurend aan hersiening of reformasie onderworpe wees3. Teen hierdie agtergrond moet hierdie artikel ook gelees word.

Die vraag wat sommige geeste in gereformeerde kerke in Suid-Afrika die afgelope tyd vra, is of nie-kerkraadslede of belydende lidmate van gemeentes wat nie ’n amp in die gemeente beklee nie, ook na meerdere vergaderings afgevaardig kan word4. Daarom word hier ingegaan op die geskiedenis van hierdie saak in die kerk, die aard van kerkverband en die gesag van meerdere vergaderings binne daardie kerkverband en die implikasies hiervan vir die antwoord op die vraag of nie-kerkraadslede op sinodes mag sitting neem.

NIE-KERKRAADSLEDE OP SINODES: DIE GESKIEDENIS

Sinodes as kerklike vergaderings het ontstaan uit ’n besef van die eenheid van die kerk en uit die behoefte om mekaar in moeilike tye met raad en daad te ondersteun. Volgens H Bouwman het die sinodes in die eerste eeue n C bestaan uit afgevaardigdes “der kerken” naamlik biskoppe, presbiters, diakens en “gewone gemeenteleden”. Hierin het daar in die derde eeu ’n geleidelike verandering begin intree met die opkoms van die monargiese episkopaat of episkopaalse kerkregeringstelsel. Sinodes is omvorm tot biskoppesinodes5.

Die Reformasie van die sestiende eeu wou met alle menslike hiërargie in die kerkregering breek. Veral die gereformeerde Protestantisme sou wegdoen met die biskoppe. Vir hulle het dit gegaan om die heerskappy van Jesus Christus as die Hoof van sy kerk deur sy Woord en sy Gees: ook wanneer dit gaan om mense wat in diens van Christus hulle hoof en hand aan die kerkregering waag. Christusgesag moes Woordgesag wees. Die regering van die kerk moes volgens hulle immers uitgaan van die sola scriptura-beginsel. Om die Woord reg te verstaan en menseheerskappy tot die minimum te beperk, moes geen kerk oor ’n ander of geen amp oor ’n ander heers nie6 én kon die ampte alleen gesamentlik of in vergadering God se Woordgesag uitoefen. Die maatstaf vir alle besluite en handelinge moes die Woord wees aan die hand waarvan die ampte kontrolerend op mekaar moes inwerk7. Vandaar dat die woord “dienste” gebruik is om hierdie soort werk as ’n diens vir Christus – ’n ministerium en nie die Roomse sacerdotium nie – te beskryf8.

Dit beteken nie dat die reformatore in hulle reaksie teen die episkopaat by Rome die ampte of dienste onderwaardeer het nie. Die ouderling of presbiter met sy opdrag om ’n herder van die kudde of bestuurder van die huishouding van God te wees, het in die proses ’n sleutelrol gekry. Hy moes saam met sy ander ouderlinge én, by geleentheid, saam met gemeentelede luister na die Woord en die gemeente daarvolgens versorg. Om Oepke Noordmans se bekende uitdrukking aan te haal: “Toen Calvijn op het bord de pion van de ouderling trok, zette hij daarmee den paus (én biskop, PJS) schaakmat9.

By die ontwikkeling van sinodes in die gereformeerde Protestantisme – die eerste was die Franse Sinode van Parys in 1559 – is daar skynbaar sonder meer deur alle gereformeerdes aanvaar dat ouderlinge daarheen afgevaardig word10. Sinodes is kerkregeervergaderings en God het die regering of versorging van die kerk tog aan die presbiters toevertrou. Wat die teenwoordigheid van die diakens op die kerkraad én meerdere vergaderings betref, sou die paaie egter uiteenloop. By die Franse is die diaken op beide die kerkraad en meerdere vergaderings soos sinodes as lede aanvaar, terwyl die Nederlanders dit alles – vanaf die Konvent van Wezel in 1568 – vir die ouderling sou reserveer. Die Nederlandse Geloofsbelydenis wat op die Confessio Gallicana van 1559 (Parys) geskoei is en wat in artikel 30 bepaal dat die diakens saam met die predikante en die ouderlinge die kerkraad vorm, staan op hierdie punt egter in die Franse gereformeerde tradisie11 .

En tog sou beide tradisies nie hulle opvattings oor die samestelling van kerkvergaderings op die spits dryf nie. By die Hollanders kon diakens in meerdere vergaderings die plekke van ouderlinge inneem as daar nie ander ouderlinge beskikbaar was nie. Wat meer is, “gewone gemeentelede” is by geleentheid ook na meerdere vergaderings afgevaardig. So het die Sinode van Overijssel, omdat die bekende Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-1619) Latyn as spreektaal gebruik het, twee “ghequalificeerde persoonen, die professie deeden van de Gereformeerde Religie” en wat op die vergadering diens gedoen het “als ouderlingen”, na hierdie byeenkoms afgevaardig. Die norm was klaarblyklik dat hulle wat die werk van die Here op die betrokke vergadering die beste kon doen, gestuur moes word12. Werk wat oënskynlik nie vereis het dat jy ’n amp in die gemeente beklee nie. Voetius wys ook daarop dat daar aan die buitelandse afgevaardigdes by dieselfde sinode keurstem in leersake toegeken is sonder dat hulle deur ’n Nederlandse partikuliere sinode afgevaardig is13. Bouwman noem dit egter ’n geoorloofde maatreël slegs in “een geheel abnormalen tijd”. Ongewone omstandighede kan, wanneer die geloofsbelang van die kerk dit vereis, buitengewone maatreëls meebring.

Dieselfde soort verskynsel tref ons onder die Franse gereformeerdes aan. So is daar aan Calvyn se opvolger in Geneve, Theodore Beza, keurstem verleen op die Sinodes van La Rochelle (1571) en Nîmes (1572), sonder dat hy deur ’n Franse mindere vergadering afgevaardig was. Hoewel Bouwman hom gunstig hieroor ook uitspreek, waarsku hy tog dat dit in die gewone gang van die kerklike lewe onnodig en ongewens is14.

Dit wil dus voorkom asof Bouwman oordeel dat nie-kerkraadslede in die eerste eeu van die gereformeerde Protestantisme (tot 1629), die eeu waarin talle belangrike kerkregtelike beginsels en praktyke in hierdie tradisie hulle beslag gekry het, op grond van hulle kundigheid van die agenda en buitengewone omstandighede as afgevaardigdes na sinodes toegelaat is. Wat kundigheid aanbetref, was dit waarskynlik deurslaggewend in beide die gevalle van Overijssel en Beza. Wat buitengewone of abnormale omstandighede betref, is dit moeilik om te beoordeel tot watter mate dit in Beza se geval waar was. Was sy kundigheid nie van so ’n aard dat die gemeentes geoordeel het dat hy in elke geval die werk van Christus op die sinode beter as enige iemand anders sou doen nie? Wat was in 1571 en 1572 vir die gereformeerdes in Frankryk abnormaal behalwe dat hulle vervolg was? En was Beza met sy internasionale statuur nie ’n groter veiligheidsrisiko as ’n plaaslik minder bekende nie?

Dit is bekend dat die vermaarde sewentiende eeuse gereformeerde canonicus, Gisbertus Voetius (1589-1676)15, in sy beskouing ook plek gemaak het vir die afvaardiging van die sogenaamde laici na meerdere vergaderings. Sy voorwaarde was egter dat omstandighede dit moet noodsaak. Voetius het dit veral teen die episkopalisme waarin die biskop iure suo, of uit hoofde van sy amp, outomaties sy plek in die sinode inneem en waarin die sinode tot ’n biskoppesinode verword. Hyself ag deelname aan ’n meerdere vergadering onmoontlik sonder delegasie van die vergaderings wat veronderstel is om hierin saam te kom. Wettige deelname spruit nie uit die amp nie, maar uit delegasie. Kerke of kerkrade kom in meerdere vergaderings byeen deur middel van hulle afgevaardigdes. In hierdie konteks praat hy in sy verwysing na die sinode nêrens van die ampte nie. Op ’n ander plek sê hy dat beide die amp en delegasie ’n wesenskenmerk van meerdere vergaderings is. Eersgenoemde gee aan so ’n vergadering sy amptelike karakter. Nie- kerkraadslede kan op sinodes sitting neem, maar dit moet die uitsondering wees wat die reël dat sinodes uit ampsdraers bestaan, bevestig16. Voetius staan dus op dieselfde standpunt as H Bouwman.

Die afvaardiging van nie-kerkraadslede na meerdere vergaderings is in die jare wat op die Dordtse Sinode van 1618-1619 volg, nie hoog op die agenda van gereformeerde kerke en kerkregtelikes nie. In die stewiger vestiging van hierdie kerke word dit mettertyd ’n geykte, onbetwiste bepaling in kerkordes dat ampsdraers – dit is predikante, ouderlinge en in sommige gevalle diakens – na meerdere vergaderings afgevaardig word. ’n Feit wat tot in die een en twintigste eeu in kerkordes van gereformeerde kerke weerspieël word17. Hierdie oortuiging en praktyk is waarskynlik ook die rede waarom baie kerkregtelikes sedertdien hulle nie met uitsonderings op hierdie punt besighou nie. Diegene wat dit wel doen, doen dit boonop hoofsaaklik in kommentaar op bogenoemde voorbeelde uit die geskiedenis18.

Opgesom kom hierdie kort historiese skets daarop neer dat nie-kerkraadslede in sommige gereformeerde kerke in die (verre) verlede wel voluit aan sinodes kon deelneem. Daar was egter twee voorwaardes aan verbonde: dit kon alleen in ongewone of “abnormale” omstandighede en hulle spesifieke kundigheid moes dit noodsaak. Dit laat ons met die vraag of hierdie verskynsel ’n ongereformeerde “abnormale” maatreël is en of dit ’n gereformeerde “normale” maatreël in ’n abnormale of besondere situasie kan wees? Of is dit doodgewoon prinsipieel aanvaarbaar om op ’n gereelde basis gebruik te word?

Hierdie vrae bring ons by die aard van kerkverband en sinodes. Die aard van hierdie twee sake – prinsipieel gesien – vorm die agtergrond vir die besinning oor die vraag na die toelaatbaarheid van nie-kerkraadslede as afgevaardigdes op sinodes.

DIE AARD VAN KERKVERBAND

Daar bestaan ’n breë konsensus onder gereformeerdes dat kerkverband ’n verband van gemeentes is. Of jy nou na een of ander vorm van ’n sinodale of ’n federale verband kyk, prinsipieel kan dit nooit iets anders wees nie as ’n verband van gemeentes as komplete kerke of ecclesiae completae. Hierdie kerke of gemeentes tree normaalweg met mekaar in verband omdat hulle in belydenis een is en daarin juis die eenheid van die kerk bely, maar ook omdat hulle mekaar in ’n sekere omgewing of gebied wil help en ondersteun en wil saamwerk in die sake wat hulle nie alleen kan behartig nie of waarin gesamentlike optrede nodig is. Dat hulle komplete kerke is, beteken nie dat hulle volmaakte kerke of die hele kerk is nie. Dit beteken eenvoudig dat die merktekens (kenmerke) van die ware kerk – op grond van Bybelse lyne soos saamgetrek in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis – slegs in die gemeente aangetref kan word19.

Die erkenning van die gemeente as komplete kerk impliseer dat dit oor ’n relatiewe kerklike selfstandigheid – nie outonomie nie, dít lê by Christus alleen! – beskik wat nie opgehef word by toetrede tot kerkverband nie. Daarby lê die besluitnemingsbevoegdheid in ’n gemeente Christokraties gesien by die kerkraad aan wie die opsig, regering en tug – die geestelike versorging – van die gemeente toevertrou is. Die gemeente vorm nie ’n demokrasie waarin die meerderheid lidmate beslis nie20.

Meerdere vergaderings beteken vergaderings van meer as een gemeente. En omdat dit in die reël prakties onmoontlik is om ’n sinvolle vergadering van alle kerkrade saam te hou, vergader die betrokke gemeentes in ’n meerdere vergadering deur middel van hulle afgevaardigdes21. So funksioneer sinodes binne ’n sinodale verband as vergaderings van gemeentes deur middel van hulle afgevaardigdes. Hierdie toedrag van sake maak van delegasie – en daarmee saam geloofsbriewe om afvaardiging dokumentêr te bevestig – so ’n belangrike punt by sinodes. Delegasie beteken niks anders nie as dat die betrokke kerkraad namens die gemeente besluit wie die werk van Christus – dit kan niemand anders se werk wees nie omdat dit alleen sy kerk is – op die betrokke meerdere vergadering moet gaan doen. Juis omdat dit gaan oor ’n delegasie van werk, gaan niemand outomaties sinode toe op grond van die amp wat hy of sy in die gemeente beklee nie. Selfs predikante moet geloofsbriewe wat van afvaardiging getuig, by die konstituering van ’n sinode hê22.

Hierdie reg op delegasie is prinsipieel egter iets anders as ’n gesagsreg waardeur die betrokke kerkrade hulle gesag na bewering deur middel van delegasie of afvaardiging na ’n meerdere vergadering sou af-delegeer: die ou Doleansiestandpunt wat aanvoer dat kerkrade oor eintlike en meerdere vergaderings oor afgeleide kerklike gesag beskik23. Christokraties beskou beskik geen kerkvergadering oor meer as ’n van-Christus-verleende gesag nie: oor meer as die bevoegdheid om ’n taak van Christus te ontvang en in sy krag uit te voer nie. Geen vergadering kan namens Christus aan ’n ander vergadering gesag gee nie, omdat slegs Christus as Hoof in die kerk oor eintlike of oorspronklike gesag beskik. Jy kan nie iets waaroor jy nie beskik nie, aan iemand anders gee nie. Hoewel dit gemeentes is wat in meerdere vergaderings deur middel van hulle afgevaardigdes vergader, ontvang byvoorbeeld die sinode sy gesag – as ’n verleende bevoegdheid – van Christus en nie van die gemeentes nie. Die gemeentes se reg op delegasie is dus nie ’n gesagsreg nie, maar bloot ’n soort plasingsreg24.

Hierdie klem op delegasie verhinder dus die “outomatiese” sittingsreg van iemand in ’n amp of diens in die gemeente op ’n sinode. Dit is egter nie die enigste argument teen so ’n outomatiese oorgaan soos by die episkopalisme nie. Vanuit die Skrif en die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 29 (oor die ware kerk) en 30 (oor die geestelike bestuurswyse van die kerk) het die gereformeerdes oor die jare heen geglo dat die ampte of dienste deel van die gemeente is en nie sonder beroeping van een gemeente na ’n ander oordraagbaar is of op een of ander wyse by die kerkverband tuishoort nie. Jy is nie predikant of ouderling of diaken – of lidmaat!25 – van die kerkverband nie, maar van die gemeente. Daarom bevat byvoorbeeld artikel 9, 16 en 17 van die kerkorde van die N G Kerk in sy omskrywing van hierdie drie dienste geen enkele verwysing na deelname aan meerdere vergaderings nie. Die konsekwensie hiervan is dat jy volledig ouderling kan wees sonder om ooit op ’n sinode sitting te neem. Met ander woorde, dat die werk van sinodes en ander meerdere vergaderings nie noodwendig ampswerk – soos in die gemeente – is nie. Wat ook kan beteken dat jy nie noodwendig kerkraadslede na sinodes moet afvaardig nie. Gemeenteregering deur die ouderlinge is nie noodwendig kerkregering deur die sinode nie. Daarop word later teruggekom.

Vanuit sowel die geskiedenis van gereformeerde kerkregering asook die aard van kerkverband en meerdere vergaderings soos sinodes wil dit dus voorkom asof bekleding van ’n amp of diens in die gemeente nie as ’n verabsoluteerde vereiste vir afvaardiging na sinodes of meerdere vergaderings kan geld nie. Dit laat ons met die vraag na watter vereistes vir die persoon van die afgevaardigde dan moet geld.

VEREISTES VIR AFGEVAARDIGDES

In hulle beskouinge oor die vereistes waaraan afgevaardigdes na sinodes moet voldoen, bestaan daar ’n sterk oortuiging onder gereformeerde canonici dat bekwaamheid voorop staan. Bouwman wys byvoorbeeld op die situasie wat soms by die stigting van nuwe gemeentes in ’n sendingkonteks voorkom waarin daar, juis as gevolg van die jeugdigheid en gebrek aan ervaring van die gemeente, nie “een bekwaam man” in die gemeente is om die besondere sake wat op ’n sekere meerdere vergadering voorkom, te hanteer nie. Omdat bekwaamheid of geskiktheid vir hom die deurslag gee, is hy van oordeel dat so ’n kerkraad selfs ’n persoon van buite die gemeente na so ’n vergadering kan afvaardig. Dit moet egter “de hooge uitzondering” wees, want vir Bouwman is die afvaardiging van nie-kerkraadslede na meerdere vergaderings steeds ’n maatreël in ’n abnormale situasie26.

Rutgers propageer rotasie of “toerbeurt” by die afvaardiging na meerdere vergaderings wanneer daar tussen meer as een predikant en/of ouderling gekies moet word. “Daar is veel voor te zeggen”. Tog sien hy dit nie as ’n absolute reël nie. Geskiktheid bly belangrik27. Alle predikante en ouderlinge het volgens Rutgers nie die gawes om die sake wat op ’n sinode voorkom, te hanteer nie. As die Dordtse Sinode van 1618-1619 nie uit bekwame en ervare manne bestaan het nie, kon dit op ’n ramp afgestuur het. ’n Persoon se geskiktheid vir die amp in die gemeente maak hom nie noodwendig geskik en ervare vir die soort kerkregering wat deur sinodes uitgeoefen moet word nie. Geskikte persone vir effektiewe sinodes – sodat die werk van Christus op hierdie terrein die beste gedoen kan word – is noodsaaklik28. Van Dellen en Monsma stel dit ronduit dat sinodes uit die “best qualified men” van die klasses wat afvaardig, moet bestaan29.

Teenoor Voetius en Bouwman wat die afvaardiging van nie-kerkraadslede na meerdere vergaderings as ’n uitsonderlingsmaatreël aanvaar, staan daar gereformeerde canonici wat van die standpunt uitgaan dat die amptelikheid van hierdie vergaderings juis in die feit lê dat hulle uit ampsdraers bestaan30. Van der Linde glo dat mindere vergaderings soos kerkrade wat uit ampsdraers bestaan slegs ampsdraers na meerdere vergaderings kan afvaardig omdat die van- Christusverleende-gesag wat volgens hom aan kerkvergaderings toevertrou is, aan die ampte alleen toevertrou is. Die afvaardiging van nie-kerkraadslede sou dan onbybels wees en boonop stry teen die Nederlandse Geloofsbelydenis31. Hy oordeel dat Voetius en Bouwman se ruimte vir die afvaardiging van laici na byvoorbeeld sinodes uit twee, onaanvaarbare motiewe spruit: hulle wou aan die owerheid die geleentheid gee om persone soos kommissarisse-politiek na sinodes te stuur én dit is ’n oordrewe reaksie teen die Roomse episkopalisme32. Behalwe dat hierdie standpunt Bouwman se ideaal van geen inmenging van die staatsowerheid in kerksake nie, miskyk33, negeer dit beide se voorkeur vir geskiktheid as ’n vereiste vir afgevaardigdes na sinodes. Waar Van der Linde se opvatting van kerklike gesag as Christus- en Woordgesag én ’n verleende gesag in soverre as wat mense dit uitoefen, uit ’n Christokratiese oogpunt aanvaarbaar is34, loop hy met hierdie standpunt die gevaar om ampsbevoegdheid in die gemeente na meerdere vergaderings uit te brei en op die Doaleansieglybaan van eintlike en afgeleide gesag te beland.

Laasgenoemde gevaar word ’n werklikheid by Jansen. Vir Jansen setel ampsmag in die reg om te kan afvaardig en in die amp van hulle wat afgevaardig word35. Kerklike regeergesag of “mag” beteken vir hom dus ampsgesag, terwyl hy die plasingsreg van mindere vergaderings verwar met ’n gesagsreg. Dit vervang die uitgangspunt van die Christokrasie dat alle kerklike regeergesag in Christus setel, met die moontlikheid dat hierdie gesag in die amp setel. Die kerkraad bestaande uit ampsdraers delegeer sy gesag deur middel van ampsdraers na meerdere vergaderings. ’n Lyn uit die Doliansiekerkreg wat ons ook by Jansen aantref 36. In plaas van ’n Christokrasie huiwer hier ’n offisiokrasie.

Om kerklike regeergesag tot ampsgesag te beperk is Rooms en episkopaals. Daar is meer dienste in kerke as net ampsdiens wat óók met die sanksie en toerusting van Christus en sy Gees gedoen moet word. Ampsgesag in die reformatoriese sin van die woord is slegs ’n van-Christus- verleende gesag of bevoegdheid om Christus in die uitvoering van die betrokke ampstaak te kan dien. Christus kan ook nie-ampsdraers vir ’n besondere taak roep en deur sy roeping aan hulle die bevoegdheid of gesag gee om die taak uit te voer. As jy goed gereformeerd betoog dat die amp in die gemeente setel, maar dat alle kerklike regeergesag ampsgesag is, maak jy van meerdere vergaderings uitgebreide kerkraadsvergaderings en van die amp ’n saak van die kerkverband. Die konsekwensie van hiervan is dat daar dan by die oorweging van ampsgeskiktheid as ’n vereiste om tot die kerkraad verkies te word, ook na so ’n persoon se geskiktheid vir bepaalde meerdere vergaderings (die ring of klassis verskil van die sinode) gekyk moet word. So nie, is die alternatief dat ten minste ’n “kwota” 37 van die kerkraadslede verkies moet word met die oog op geskiktheid vir hierdie vergaderings. Hierdie “kwota” moet dan natuurlik ook groot genoeg wees om die moontlikheid van ’n hiërargie uit te skakel (sic!) Boonop word meerdere vergaderings dan nie meer vergaderings van kerke of gemeentes deur middel van hulle afgevaardigdes nie, maar van ampsdraers.

AMPTELIKHEID VAN KERKVERGADERINGS

Die amptelikheid van kerkregeervergaderings soos sinodes setel nie in die gebruik dat dit uit persone bestaan wat ampte in die gemeente beklee nie, maar in die feit dat sulke vergaderings verantwoord saamgestel en deur God geroep is om ’n bepaalde agenda op gesag van Christus af te handel. Hierdie samestelling beteken natuurlikerwys of, om Bouwman se uitdrukking te gebruik, normaalweg dat ouderlinge, of waar dit verantwoord is, diakens saam met die ouderlinge as wettige afgevaardigdes of gedeputeerdes ageer. Omdat dit hier egter om die werk van die verband gaan, is dit nie noodwendig ouderling- of diakenswerk nie. Dan sou dit in die gemeente gedoen moes word waar ampsdiens tuishoort. Die werk van die verband is eerder werk wat vir en namens die gemeentes gedoen moet word omdat die verband daar is om gemeentes in hulle afsonderlike en gesamentlike werk te steun. Dit is dus ’n plus by sy gemeente- of ampsdiens waarvoor ’n geskikte ouderling of diaken spesifiek toegerus moet wees en waarvoor God, indien nodig, ook nie-kerkraadslede kan gebruik. Op die terrein van die kerkraad moet lede juis gekies word vanweë hulle geskiktheid vir die amp en nie omdat hulle alreeds in die amp staan nie. Waarom sou dieselfde nie ook ten opsigte van delegasie of verkiesing na meerdere vergaderings soos sinodes kon geld nie? Is ’n gereformeerde kerk vanuit die Skrif en daarom vanuit die ius constuendum beskou, nie ook ’n charismatiese kerk waarin mense geroep en in die proses met sekere genadegawes (charismata) beklee word, nie?

Dit is op hierdie punt dat Van Dellen en Monsma, in hulle bekende kommentaar op die destydse Kerkorde van die Christian Reformed Church in North America in die 1960’s, veelseggend opmerk dat meerdere vergaderings bestaan uit “office bearers who are there only as representatives of their churches38. Meerdere vergaderings is vergaderings van gemeentes deur middel van hulle afgevaardigdes en nie – ongekwalifiseerd – vergaderings van ampsdraers nie. Die taak van hierdie vergaderings is ook die van die verband en nie van die ampte in die gemeentes nie.

’n Verdere vraag is of die begrip deputasie39 in die ruimer sin van die woord nie hierdie lyn van argumentasie versterk nie? Geld die begrip deputering wat ’n opdrag(te) en verantwoording aan ’n verkiesende/opdraggewende liggaam soos ’n kerkraad behels, nie inderwaarheid van elke kerkraadslid, kerkraadskommissie of -deputaatskap en daarom ook van afgevaardigdes na meerdere vergaderings nie? Wat is prinsipieel die verskil? Daar is natuurlik ’n tydsverskil in die sin dat kerkraadslede verslag moet kan doen vir die duur van hulle amp, terwyl deputaatskappe of afgevaardigdes net met een opdrag belas kan word. Daarby neem afgevaardigdes na meerdere vergaderings deel aan vergaderings wie se besluite nie aan mindere vergaderings vir goedkeuring of ratifisering voorgelê hoef te word nie. Dit alles verander egter nie aan die beginsel van deputering of delegasie nie. Buitendien is dit reeds ’n uitgemaakte saak dat lede van deputaatskappe of kommissies nie lede van hulle opdraggewende vergadering hoef te wees nie én dat geskiktheid vir die taak hier ook die wagwoord moet wees40.

Die hele betoog tot dusver kom daarop neer dat dit strategies goed is om kerkraadslede na meerdere vergaderings af te vaardig omdat hulle deel is van die kerkraad, maar dat dit nie ’n vaste, onbeweeglike reël moet wees nie. Geskiktheid is belangriker as die bekleding van ’n amp in die gemeente. As daar dus nie uit die kerkraadslede geskikte persone kom nie, moet daar verder gekyk kan word. Of hierdie beskrywing aan Bouwman se vereiste van ’n abnormale situasie voldoen, is onseker, maar moontlik. Daarom is dit nie ’n abnormale maatreël in ’n abnormale situasie nie, maar ’n normale maatreël in ’n abnormale situasie of, beter, ’n normale maatreël in ’n besondere situasie.

Dit bring ons by ’n laaste rondte. As nie-kerkraadslede dan na meerdere vergaderings afgevaardig kan word, hoe moet ons die presbiteriaal-sinodale stelsel van kerkregering verstaan en watter aanduidings kom daar vanuit die Skrif vir hierdie saak?

PRESBITERIAAL-SINODAAL

’n Breë tradisionele verstaan van die presbiteriaal-sinodale stelsel kom daarop neer dat alle kerkregeervergaderings vergaderings van ouderlinge (by sommige ook die diakens) van gemeentes is41. Kerkregering is eie aan die amp van die sogenaamde presbiter (ouderling) sodat slegs ouderlinge geskik is as afgevaardigdes na meerdere vergaderings. Die presbiteriale sy van so ’n verband loop dus ook deur na die sinodale verband toe, terwyl die breër verband die gemeente in sy kerkwees moet versterk. Vandaar die naam presbiteriaal-sinodaal.

Indien jy nou volgens sommige nie-kerkraadslede of, volgens ander, nie-ouderlinge tot meerdere vergaderings soos sinodes toelaat, trek jy ’n streep deur hierdie benaming en die stelsel.

Vanuit die ius constuendum gesien, kan die geldende kerkreg – die ius constitutum – egter nooit die finale woord wees nie. Indien die betoog tot dusver dus ’n nuwe naam noodsaak, of stry met bestaande gebruike, moet dit so wees. Gereformeerde kerkregering gaan uit van die sola scriptura-beginsel en nie van bestaande tradisies nie. Daarby is dit ’n vraag of presbiteriaal- sinodaal in die gereformeerde sin van die woord nie ook kan beteken dat jy gemeenteregering as die regering van ouderlinge kan paar met regering in die verband – die sinodale – as ’n verband van gemeentes wat in vergaderings saamkom deur hulle afgevaardigdes (ongekwalifiseerd) nie. Boonop is gereformeerde kerkreg nooit wetties en dwingend nie, maar ingestel op die welsyn of die op- en uitbou van die kerk, sodat uitsonderingsmaatreëls nooit uitgesluit is nie.

Beide voor- en teenstanders van die afvaardiging van nie-kerkraadslede na meerdere vergaderings maak gebruik van elemente van die sogenaamde apostelkonvent waarna Handelinge 15 verwys. Hier is sprake van die ouderlinge en apostels wat vergader (vers 6), van laici wat saam met Paulus en Barnabas deur Antiogië afgevaardig is na Jerusalem (vers 2) en die apostels, ouderlinge en die hele gemeente wat besluit (vers 22)42. Behalwe dat belangrike elemente van ’n moderne sinode (Bouwman noem Handelinge 15 “een beginsel van een synode”, 189) hierin ontbreek, sal dit gewaag wees om meer te sê as dat hierdie vergadering ’n uitdrukking verteenwoordig van die optrede van twee gemeentes gesamentlik43. Dit is meer vanuit ’n beginsel agter kerkverband as van ’n sinode waarop hier gewerk word. Daar is in elke geval nie ’n handleiding vir kerkverband en meerdere vergaderings in die Skrif nie, sodat ons op hierdie punt hoogstens met Skrifbeginsels of konstantes kan werk.

Teenstanders van die afvaardiging van nie-kerkraadslede mag M Bouwman se argument dat Voetius hiermee meer anti-Rooms en vanuit sy simpatie met kongregasionalis Robert Parker as prinsipieel reageer, teen hierdie soort afvaardiging aanwend met die verwyt dat dit die kerkregering demokratiseer. So ’n bewering word ontkrag deur die feit dat kerkraadslede ook uit die laici verkies word. En as geskiktheid of bekwaamheid hier die norm is, waarom nie ook by die samestelling van meerdere vergaderings soos sinodes nie? Christokraties beskou verteenwoordig lede van kerkvergaderings altyd in die eerste plek vir Christus op hierdie vergaderings, nie diegene wat hulle afvaardig of verkies nie. Aan die ander kant wil dit voorkom asof al hoe meer gereformeerde kerke die nut van ’n wye raadpleging van gemeentes en gemeentelede in ons oordrewe menseregteklimaat met sy klem op stemreg en verteenwoordiging insien44. ’n Raadpleging wat natuurlik nie hulle primêre taak om na Christus te luister, kan ewenaar of vervang nie.

SLOT

Die gereformeerde kerkreg het nie alles in kruike en kanne nie. Daar is nog lank nie oor alles klaar gedink nie. Die beperkte kere wat nie-kerkraadslede as ’n normale maatreël in ’n besondere situasie na meerdere vergaderings soos sinodes afgevaardig sal word, dui aan dat dit ook nie ’n kernsaak is wat op die spits gedryf moet word nie. Maar, juis omdat dit nie ’n kernsaak is nie, hoef die invoering daarvan ook nie die mure van ’n gereformeerde kerk te laat bewe nie. Wat dit wel sal doen, is om ’n groter klem op bekwaamheid vir die werk van Christus by die sinode en ander meerdere vergaderings te plaas. Dit is hoog tyd dat ons die sola scriptura-beginsel opnuut en met alles tot ons beskikking weer in ons kerklike lewe sal toepas. As bekwaamheid in die Woord by die werk van die sinode die maatstaf vir afvaardiging is, verminder dit in elke geval die neiging tot demokratisering.

1 Hier kan byvoorbeeld na die kwessie van die ampsbevoegdheid van predikante verwys word. Normaalweg is dit iets – prinsipieel beskou – wat net vir predikante wat in die diens van ’n gemeente of gemeentes is, gereserveer word. En tog het geen gereformeerde daarteen beswaar dat ’n geëmeriteerde dominee met ampsbevoegdheid en behoud van die ampsnaam aftree nie, NGK 2002a. Die Kerkorde. Wellington: Lux Verbi. BM, 42.

2 Kleynhans, E P J 1982. Gereformeerde Kerkreg 1. Pretoria: NG Kerkboekhandel, 5.

3 Vgl Celliers, A 2003. Skrif en Kerkorde - enkele konstantes vanuit ’n veelkantige beeld. Bloemfontein: UV (Ongepubliseeerde DTh-proefskrif).

4 NGK 2002b. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn, 561.

5 Bouwman, H 1985. Gereformeerd Kerkerecht 1. Kampen: De Groot Goudriaan, 135.

6 Strauss, P J 1989. Geen kerk oor ’n ander… Acta Theologica 9/1, 1vv.

7 Jonker, W D 1965. Om die regering van Christus in sy kerk. Pretoria: Unisa, 5.

8 Jonker, 8.

9 Aangehaal by Bronkhorst, A J 1947. Schrift en Kerkorde. Den Haag: N V Zuid-Hoilland, 154.

10 Pont, A D 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg. Pretoria: HAUM, 48vv.

11 Pont, 49; Haitjema, Th L 1951. Nederlands Hervormd Kerkrecht. Nijkerk: Callenbach, 184.

12 Bouwman, H, 135.

13 Voetius, G sa. Politica Ecclesiastica IV, Sl:sn, 199.

14 Bouwman, H 1985, 135-136.

15 De Jong, O 1986. Nederlandse Kerkgeschiedens. Nijkerk: Callenbach, 190.

16 Voetius, G, 194,199; Bouwman, M 1937. Voetius over het gezag der synoden. Amsterdam: Bakker, 90-92. M Bouwman meen dat Voetius se weersin teen die episkopalisme wel ’n rol kon gespeel het in sy standpunt oor die laici op sinodes. Hierbenewens openbaar Voetius ook simpatie vir Robert Parker met sy demokratisering van die kerkregering.

17 Vgl Van der Linde, G P L 1965. Die grondbeginsels van die Presbiteriale kerkregeringstelsel. Potchefstroom: Pro Rege, 143 vir ’n samevattende evaluering in dié verband; vir enkele grepe Pont, A D, 180vv; Nauta, D 1971. Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: Kok, 177; Brink, W P en De Ridder, R R 1980. Manual of Christian Reformed Church Government. Grand Rapids: Christian Reformed Church, 163; Harmannij. K 1980. Wegwijs in de kerkorde. Barneveld: De Vuurbaak, 69,70; NGK 2002a, 15vv; Protestantse Kerk in Nederland, 2004. Kerkorde en Ordinanties. Ongepubliseerde kopie, ordonansie 4, artikel 3,14 en 25. Vir die huidige Christelike Gereformeerde Kerke in Nederland kyk op die webwerf www.dlinde.nl; vir die huidige Gereformeerde Kerke in Nederland (vrygemaak) kyk www.gkv.nl; vir die huidige Christian Reformed Churches in North America kyk www.CRChurches.net.

18 Vgl Bouwman, H, 135vv; Bouwman, M, 90-92.

19 Strauss 1989, 4vv.

20 NGK 2002.

21 Pont 1981, 228; Rutgers, F L sa. Dictaat Kerkrecht I. Sl:sn, 282 stel dit uitdruklik dat meerdere vergaderings nie vergaderings van persone nie, maar van kerke (gemeentes) is. Bowendien is “ieder plaatselijke kerk” die “plaatselijke openbaring van het liggaam van Christus. Alle kerken staan gelijk”, 288.

22 NGK in die OVS, 2003. Handelinge van die 49e Sinode. Sl:sn, 429; Rossouw, P 1979. Kerkvergaderings. Pretoria: NG Kerkboekhandel, 31; Rutgers, F L, 282.

23 Vir ’n meer uitgebreide beredenering hiervan kyk Strauss, P J 1997. Ecclesiastical assemblies possess, each according to its own character, an ecclesiastical authority entrusted to them by Christ. In: Neuser, W H en Selderhuis, H J. Ordenlich und fruchtbar. Leiden: Groen en Zoon, 80.

24 Strauss, P J 1997, 91vv.; Jansen, J 1952. Korte Verklaring van de Kerkorde. Kampen: Kok, 208 (3e druk) vermeng hierdie plasingsreg met ’n gesagsreg as hy die amptelikheid van ’n meerdere vergadering grond op die “ambsmacht” van ampsdraers in die minderde vergaderings wat daarheen afvaardig en die “eigen ambtsmacht” van diegene wat daarheen afgevaardig is. Bybels gesien setel hierdie gesag of “mag” nie in die gemeente of die amp nie - laasgenoemde is Rooms - maar in Christus.

25 Vgl Sadler, T H N 1991. Lidmaatskap - gebruike in die N G Kerk. In Strauss, P J (red). Byderwets en Gereformeerd. Bloemfontein: Pro Christo, 65vv.

26 Bouwman, H, 136.

27 Rutgers, F L sa, 286.

28 Rutgers, F L 1921. Kerkelijke Adviezen I. Kampen: Kok, 259.

29 Van Dellen, I en Monsma, M 1967. The revised church order commentary. Grand Rapids: Zondervan, 181.

30 Nauta, D, 177.

31 Van der Linde, G P L, 143.

32 Van der Linde, G P L, 164.

33 Bouwman, H, 204vv.

34 Strauss, P J 1997, 88vv.

35 Jansen, J, 208.

36 Jansen, J sa. De bevoegdheid der meerdere vergaderingen. Kampen: Kok, 10vv; vgl Strauss, PJ 1997, 82vv.

37 In Suid-Afrika is die begrip “kwota” tans ’n politiek gelaaide en omstrede woord!

38 Van Dellen en Monsma, 145. Die uitdrukking “representatives” is egter ongelukkig omdat die lede van meerdere vergaderings nie hulle gemeentes nie, maar Christus op hierdie vergaderings moet verteenwoordig.

39 Vgl Rutgers, H C sa. Kerkelijke Deputaten. Kampen: Kok, 17vv; Botha, M C 1987. Die Kommissie- struktuur in die NG Kerk. Pretoria: UP (ongepubliseerde DD-proefskrif), 273;

40 Botha, M C, 119vv.

41 Van Wyk, B J 1991. Die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip. Pretoria: Kital, 85.

42 Van der Linde, G P L, 164.

43 Celliers, A, 314.

44 NGK 1994. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn, 439.