Die interafhanklikheid en spanning tussen die bevordering van versoening en die bekamping van armoede
ABSTRACT
The interdependence and tension between the promotion of reconciliation and the combating of poverty
Promoting reconciliation and combating poverty in society have been identified by the Dutch Reformed Church as two important aspects of its ministry in the contemporary Southern African context. Previous approaches to these problems, such as communism, Western development, political liberation, and even separate development (as apartheid was sometimes called) have not been sufficient in Africa. The Belhar Confession also addresses these issues. It deals with three aspects, namely church unity, reconciliation and justice. The mutual bonds between these aspects are important. Promoting reconciliation and combating poverty are interdependent, but can also be in tension with each other. In order to find an approach that would establish synergy between them, a problem definition is proposed that could encompass both. Both can be seen as the result of the dysfunctional interactions between complex systems, especially modern Western culture, traditional African culture and the ecology. A systems theoretical approach, in which processes and products can be designed or constructed that would enhance beneficial interactions, is proposed.
Die standpunte wat die NG Kerk gedurende die grootste deel van die twintigste eeu oor die versoening tussen mense en die bekamping van armoede gehuldig het, kan opgesom word met die woorde “afsonderlik en gelyk” (Taute 1992:19). Apartheid is in ’n stadium afsonderlike ontwikkeling genoem. Dit word algemeen aanvaar dat hierdie benadering nie meer gehandhaaf kan word nie en dat nuwe oplossings nodig is in die een-en-twintigste eeu. Wat daardie nuwe oplossings moet wees, is nog nie duidelik nie. Ons is tans in ’n oorgangstyd, ’n tyd van soeke en die opweeg van moontlikhede.
In 1998 het die Algemene Sinode van die NG Kerk ’n ad hoc-kommissie, wat bekend geraak het as die VAM-kommissie, aangestel om die Kerk te dien met voorstelle ten opsigte van “sy groot verantwoordelikheid om saam met ander kerke in die land aan die volgende dringende sake aandag te gee: die bevordering van versoening, die bekamping van armoede sowel as die verval van morele waardes in Suid-Afrika” (Handelinge, 1998, p402). Hierdie kommissie vorm deel van die Kerk se oorgang na die nuwe bedeling, en is in Januarie 2002 opgevolg deur die Werkgroep vir Gesamentlike Missionêre Diakonaat (WGMD), wat sedert die Algemene Sinode van 2002 deur die Kommissie vir Diensgetuienis vervang is.
Intussen is die proses van versoening tussen die betrokke kommissies van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) ook aan die gang. Een van die vrae wat voortdurend opduik, is die vraag hoe die beplanning vir die bekamping van armoede met die proses van vereniging in die NG-familie geïntegreer moet word. Kerkvereniging is ’n komplekse en tydrowende proses – en dieselfde geld die bekamping van armoede. Sal die saambring van die twee prosesse nie dalk een van die twee prosesse met jare vertraag nie? Of sal albei juis vertraag word as hulle afsonderlik hanteer word?
In hierdie artikel word aandag gegee aan verskeie aspekte ten opsigte van die verhouding tussen twee van die sake, naamlik die strewe na versoening en die bekamping van armoede in die samelewing. Die volgende prosedure word gevolg:
• Eerstens word kortliks `n oorsig gegee oor die makro-agtergrond: die groot ideologie
• van die twintigste eeu en die groot kulture van ons tyd en plek (par 1, 2);
• Tweedens word kortliks aandag gegee aan die wyse waarop die NG Kerk en die VGK
• hierdie sake oor die afgelope paar dekades gehanteer het (par 3, 4);
• In die derde plek word die verhouding tussen die twee aksies bespreek, (par 5), gevolg deur ’n
• Kort bespreking van ’n paar maniere waarop die verhouding tussen hierdie twee sake
• dalk verbeter sou kon word (par 6,7).
1. ARMOEDE EN KONFLIK IN DIE GROOT IDEOLOGIE VAN DIE TWINTIGSTE EEU
Die vraag hoe armoede en konflik verband hou met mekaar, het verskillende antwoorde ontlok vanuit die groot ideologiese kampe wat die twintigste eeu oorheers het. Beide die kapitalisme en die kommunisme het groot antwoorde aangebied en hulle aansienlike ekonomiese, politieke en militêre mag aangewend om hulle ideologie in die wêreld te bevorder.
Die kapitalisme het die Westerse model van ekonomiese ontwikkeling en, meer onlangs, politieke demokrasie voorgehou as die metode om beide armoede en konflik op te los. Deur globalisering domineer hierdie ideologie vandag die internasionale politiek en ekonomie. In Irak word dit met militêre geweld afgedwing. Of globalisering armoede bekamp of vererger is ’n vraag wat sterk debatteer word; dat die proses veel weerstand wek, selfs gewelddadige weerstand, is nietemin ’n rede tot groot kommer.
Kommunisme, die ander groot internasionale ideologie van die twintigste eeu, het beide armoede en konflik gewyt aan die gaping tussen ryk arm. Hiervolgens is die oplossing van beide konflik en armoede as deel van een groot historiese proses beskou. Die kommunistiese beskouings het egter drasties invloed verloor. Wie glo nog dat die eindbestemming van die geskiedenis die klaslose staat is, waar ongelykheid en die gevolglike armoede en konflik beide tot ’n einde sou gekom het? Soos apartheid se “afsonderlik en gelyk”, maar op baie groter skaal, het die kommunisme se hoë droom van ’n klaslose staat gedegenereer tot ’n nagmerrie wat sy aanhangers vervreem het.
Selfs die heel realistiese siening dat die wêreldgeskiedenis voortgestu word deur die stryd tussen die besitters en die besitloses, en dat dit ’n stryd is om beheer te verkry oor beperkte materiële middele soos grond, kos, water en werksgeleenthede, dra nie meer soveel gewig as vroeër nie. Na die val van die kommunisme en die einde van die Koue Oorlog het plaaslike etniese en kulturele faktore al hoe meer die aandag getrek as oorsaak van konflik, dikwels ten koste van aandag aan armoede: “Since
1989, international conflicts have shifted emphasis from political and economic issues to ethnic and cultural issues. The resurgence of cultural identities based on ethnicity, language, tradition, religion and region has generated primal violence…” (Emminghaus et al 1998:126).
Waar konflik in die internasionale diskoers vroeër dikwels gesien is as die stryd om beperkte materiële middele, word daar tans al hoe meer ingesien hoeveel konflikpotensiaal daar is in sake wat in beginsel meer kwalitatief van aard is, soos waardes, identiteit, religie en taal.
Die verskuiwing van aandag na etniese en kulturele faktore word sigbaar in ’n lysie wat Eugene Weiner (1998:23-24), ’n akademikus en sosiale aktivis, opstel van akademiese dissiplines wat hy reken relevante bydraes kan lewer in die strewe na versoening: daar word verwys na Antropologie, Geskiedenis, Regte, Linguistiek, Filosofie, Godsdienswetenskap, Sosiologie en Sielkunde, maar nie na Ekonomie nie. Jakes Gerwel (2002:14) is dalk reg as hy sê: “Marx is dood en begrawe …”
Na die Koue Oorlog ontwikkel nuwe vorme van konflik. Daar is steeds konflik, maar in nuwe vorme van konflik tussen ryk en arm, want globalisering bring eilande van rykdom in arm lande tot stand. Daar is ook konflik van identiteite, want wêreldwyd kom die Westerse kultuur en waardes deur kulturele globalisering in konflik met plaaslike en eiendomlike kulture en waardes. Die verset van die Islam teen die Weste is ’n voorbeeld hiervan. Robert Mugabe van Zimbabwe is ’n tweede voorbeeld. Die wye steun wat hy in Afrika geniet is ’n aanduiding dat hy nie as ’n versteurde indiwidu gesien kan word nie: hy verteenwoordig ’n sterk stroming in Afrika.
Wat die hantering van kultuur betref, is Suid-Afrika ietwat uit pas met die res van die wêreld. Toe kultuur in die tyd na Hitler ’n ongewilde onderwerp was, is dit in Suid-Afrika tot kern van die apartheidsbeleid verhef. In ons tyd is daar groot simpatie vir die regte van minderheidskulture in die wêreld. Maar in Suid-Afrika wek dit nog by ons assosiasies met apartheid, wat ons wil vermy.
Tog speel kultuur steeds ’n deurslaggewende rol in die daaglikse gang van sake, in die lewens van mense en die lidmate van die kerk.
2. DIE EEUE OUE KULTURE VAN ONS PLEK
Gebeure in Suid-Afrika kan nie begryp word sonder om te verwys na die impak van aan die een kant, die moderne Westerse kultuur, en aan die ander kant, die tradisionele kulture van Afrika nie. Hierdie twee groot kulturele tradisies het uiteenlopende sienings van beide armoede en konflik.
In die eeue oue tradisionele Afrika-kulture, wat vandag nog baie robuust is, is dit nie moontlik om menslike verhoudings en besittings los van mekaar te hanteer nie. Die wyse waarop persoonlike besittings tradisioneel deur al die familielede en vriende gebruik word, is ’n voorbeeld.
Die Vendamense haal graag ’n spreekwoord aan wat sê: “Die kinders van die huis deel die kop van ’n sprinkaan”. As mense aan mekaar behoort, behoort hulle kos en besittings ook aan mekaar. ’n Mens mag wel iets besit, maar dit moet tot ander se beskikking wees. Volgens hierdie denkpatroon moet die versoening tussen mense onvermydelik uitloop op een of ander soort versoening tussen hulle besittings. So word armoede bekamp of versag.
Hierdie benadering is algemeen in Afrika-kulture. Vilakazi (1962:113,114) sê van die Zoeloe- tradisie: “Property is always viewed from the sociological angle, for it is considered right and proper that besides providing provender for the inmates of the house, it must always be used for the entertainment of visitors and the feeding of strangers ... These things give as much prestige to the Zulu as a favourable bank balance does to a European … There are not many things which can be treated on a purely personal basis … Articles of wear, for example, although they can be borrowed freely by members of the household, are definitely known to belong to individuals.” ’n Oromo-spreekwoord uit Tanzanië lui: “Die ete van ’n goeie mens word gedeel met ander” (Healey en Sybertz 2000:192).
Hierdie tradisie werk vandag nog op verskillende maniere en in baie gestaltes deur. Soms lyk dit egter of dit armoede eerder bevorder as bekamp. Baie mense wat ’n goeie inkomste verwerf, dra swaar aan die versorging van hulle uitgebreide familie.
In die tagtigerjare het ek iets daarvan ervaar. Ek was dosent by die Teologiese Skool Stofberg, by die Universiteit van die Noorde op Turfloop. Dit was ’n sentrum van die stryd teen apartheid. Daar was by tye ernstige en diverse spanninge tussen studente, personeel en bestuur. By een geleentheid het ons almal saam weggegaan na ’n rustige kampterrein, waar daar baie gepraat is. Versoening tussen mens en mens is bereik. Die eerste dag terug by die huis kom vra ’n student of hy my kar kan leen. Hy wil na sy huis toe gaan, meer as 200 km ver, dele daarvan slegte grondpad. Ons is mos nou weer saam. ’n Ander wou geld leen.
Die gemeenskaplikheid wat deel is van die Afrika-tradisie word dikwels met die woord “ubuntu”, “menslikheid”, beskryf. Dit lei tot vergewensgesindheid en ’n verlange na versoening. As dit egter intensiveer, word dit ’n dwingende mag wat min ruimte laat vir individuele vryheid en vooruitgang. Mbigi (1995:58) skryf in sy boek Ubuntu van “... the solidarity principle or UBUNTU. Individual conformity and loyalty to the group, is (sic) demanded and expected. The dark side of Ubuntu means failure to do so will meet harsh punitive measures such as evening ‘Dunlop treatment’ or ’necklacing’, burning of houses and assassination.’”
So ’n oormatige of “maksimalistiese” strewe na versoening demp individuele inisiatief en bevorder armoede. By Turfloop, toe die stryd hewig gewoed het, is die winkel van ’n swart eienaar naby die universiteit een nag afgebrand. Op my vraag waarom die mense dit gedoen het, het een student geantwoord: “Hulle sê, waarom moet hy lekker leef terwyl ons swaarkry? Hy moet saam met ons voel hoe ons sukkel.”
Enkele jare vantevore het Mongane Wally Serote, vandag ’n prominente persoon in die regering, in ’n gedig geskryf: “if we can’t have a home nobody must have a home” (1978:57). Dit is meer as net jaloesie. Dit is ’n dwang na gemeenskaplikheid tussen mense, ’n soort versoening waarin verskille in inkomste en besit as ’n hindernis tussen mens en mens beskou word; ’n hindernis wat uitgewis moet word – al veroorsaak dit armoede en ellende.
Hierdie onderliggende kultuurpatroon is die afgelope jare in Suid-Afrika minder sigbaar op nasionale vlak. Dit sou egter ’n fout wees om te dink dat dit heeltemal verdwyn het. In plaaslike gemeenskappe bly dit baie invloedryk. En in Zimbabwe kook dit tans sterk uit tot op nasionale vlak, gerig teen welvarende wit en swart mense. Net sekere gesagsfigure en politieke leiers, soos dit tradisioneel met die stamkapteins was, is uitgesluit van die reël dat die individu, ook wat besittings betref, moet konformeer aan die groep.
Die tradisionele denkpatrone kom in botsing met die moderne denkpatrone wat gerig is op vooruitgang, beheersing van die natuur deur die mens met sy wetenskap en tegniek, en die verheerliking van die indiwiduele presteerders.
In hierdie konteks het die NG Kerk gesoek na ’n manier waarop daar gestalte gegee kan word aan ons christelike belydenis – ’n soektog wat nog nie verby is nie, en waarin ’n verskeidenheid moontlikhede beproef is en word.
3. ONTWIKKELINGE IN DIE NG KERK SEDERT 1948
Die NG Kerk het dit nog altyd besonder moeilik gevind om die internasionale denke oor menseregte en gelykheid na te volg en tegelykertyd die kulturele spanninge wat in die daaglikse lewe ervaar word, te hanteer. Te veel beklemtoning van die kultuurverskille lok beskuldigings van rassisme op, wat uiters ongemaklik is om te hanteer. En tog gaan die kultuurverskille nie weg as ons dit probeer ignoreer nie.
In die apartheidsjare het die NG Kerk, as deel van die groter Afrikaner-magsblok, die kultuurverskille uitgewys as regverdiging vir die apartheidsbeleid. Kritiek vanuit die internasionale wêreld is soms met minagting afgewys omdat die NG-mense gevoel het dat die buitelanders nie die probleme ten opsigte van kultuurverskille verstaan het nie.
Verskillende studies het uitgewys hoedat die NG Kerk apartheid sterk ondersteun het rondom die middel van die twintigste eeu. Uit ’n analise wat Johan Marais gemaak het van amptelike sinodale stukke uit die jare 1948-1983, blyk dit dat die NG Kerk:
• Reeds voor 1948 by die regering aangedring het op die instelling van apartheidswetgewing (1986: ii);
• Besondere aandag aan die sosiale nood van blankes gegee het in die tyd, maar traag was om by die nood en armoede van anderskleuriges betrokke te raak; Marais praat van “sporadiese uitsprake” en “insidentele betrokkenheid” (1986: iii);
• Sy lidmaatskap en kerkbywoning “byna uitsluitlik beperk het tot blankes” en dat hulle konsekwent alle pogings tot strukturele eenheid van die NG Kerk-familie teengestaan het (1986: iii-iv).
Marais, saam met ’n groeiende groep predikante en lidmate, het gekonkludeer dat die NG Kerk sy skuld behoort te bely vir sy aandeel in die lyding wat apartheid vir anderskleuriges veroorsaak het (1986: iv).
Dit het die kerk intussen gedoen. Teen die einde van die eeu het die NG Kerk hom van apartheid gedistansieer. Die verandering word slegs ses jaar later reeds gereflekteer in Johan H F Taute (1992) se proefskrif, “Versoening en die versoeningsproses – ’n teologiese besinning oor die Suid-Afrikaanse debat”. Taute behandel die fase wat volg op die fase waaroor Johan Marais geskryf het. Sy proefskrif bevat ’n hoofstuk, NG Kerk Teologie, waarin ’n oorsig gegee word oor die NG Kerk se “vorige” (1974) en “huidige” beleidsdokumente (1986 en 1990). Daar is in die later jare ’n ander beleid as die een wat Johan Marais beskryf het. Na 1986 het die NG Kerk die apartheidsbeleid in beginsel en in praktyk afgewys as onbybels en ’n dwaling. Versoening en apartheid is as teenoorgesteldes gesien.
Hoe moet ’n mens oordeel oor die bekamping van armoede in die apartheidstyd? Daar was onreg en diskriminasie wat armoede veroorsaak het. Daar was ook ’n vermenigvuldiging van die aantal swart skoliere en swart studente; die verhoging van swart mense se lewensverwagting en groot verbeterings aan gesondheidsdienste; ontwikkeling van landelike gebiede (tuislande) sowel as groot behuisingsprojekte in die stede. Hieraan het die NG Kerk meegewerk (vgl van Niekerk 2002: “Apartheid en armoede: wat moet die NG Kerk bely?”). Min erkenning word deesdae aan hierdie aspek gegee, waarskynlik omdat dit oorheers word deur die negatiewe aspekte van apartheid.
Die negentigerjare kan beskou word as ’n tyd van onsekerheid in die NG Kerk. Die vergrype wat tydens die Waarheids- en Vesoeningskommissie op die lappe gekom het, het ’n groot rol gespeel om NG-mense te laat twyfel oor hulleself. Die NG Kerk verloor sy kragdadigheid. Die Afrikaner-magsblok, waarvan die NG Kerk deel was, verkrummel. Die kerk wil weer deel word van die Suid-Afrikaanse en internasionale gemeenskap van kerke. Die wyse waarop kultuurverskille gehanteer moet word, word ietwat op die agtergrond geskuif.
In die een-en-twintigste eeu is daar orals in die Kerk tekens van hoop, van ’n nuwe roepingsbesef teenoor die land, en van nuwe inisiatiewe ten opsigte van kerkvereniging en die bekamping van armoede.
Die Algemene Sinode van 2002 het hom in ’n sterk verklaring opnuut verbind “aan die Here wat ons kerk 350 jaar gelede hier geplaas het”; en hom opnuut verbind “tot ons vasteland, in die besonder Suider-Afrika” en “tot groter eenheid met ander kerke”. Die Sinode roep gemeentes op “om by die genesing van die land betrokke te raak”. Die Verklaring sluit af: “Ons het ’n Here. Ons is hier. Ons is sy kerk.”
Hierdie Verklaring dui op ’n oorgang van die vorige eeu met sy kragdadigheid wat oorgeslaan het in onsekerheid, na dalk ’n herontdekking van ’n dieper verbondenheid en roepingsbesef. Daarmee wil die NG Kerk sy plek en rol begin vind tussen ander kerke in die land.
Dit is belangrik dat die hoop lei tot realistiese antwoorde op die werklikhede van ons kontinent, wat aanleiding gee tot die wêreldwye wanhoop ten opsigte van beide die konflikte en die armoede in Afrika. As die uitdagings onderskat word, is die positiewe gesindheid nie volhoubaar nie.
Die NG Kerk het vennote nodig as ons enigsins iets wil bereik. Een van die eerste sake waaraan die NG Kerk moet aandag gee in die soeke na die regte vennote, is die Belydenis van Belhar, kortweg Belhar genoem. Belhar is ’n stem vanuit die NG-familie wat steeds ’n belangrike rol speel en tot heelwat dispute aanleiding gee.
4. DIE BELYDENIS VAN BELHAR
Die Belydenis van Belhar, wat deur die destydse NG Sendingkerk opgestel en in 1986 aanvaar is, het ’n sterk standpunt van versoening as teenvoeter teen apartheid gestel. Belhar is ook deur die Verenigende Gereformeerde Kerk, wat deur die (bruin) Sendingkerk en die (swart) NG Kerk in Afrika gevorm is, aanvaar as ’n belydenis.
Hoe moet Belhar verstaan word? Onlangs het een van die persone wat ’n belangrike rol gespeel het in die ontstaan van Belhar, Dirkie Smit (2000:161 en 164) soos volg oor Belhar kommentaar gelewer: Belhar bevat ’n voorwoord, ’n slot, en drie artikels, wat handel oor eenheid, versoening en geregtigheid.
Eenheid, sê Smit, is ’n gawe en verantwoordelikheid wat God gee aan die wat in Jesus Christus glo.
Die boodskap van versoening is aan die kerk toevertrou; God versoen gelowiges met Homself en onderling met mekaar; dit moet eerstens in die kerk gestalte kry, maar kan ook nuwe moontlikhede in die samelewing en die wêreld bring. Die uitwerking in die wêreld berus daarop dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap, oorwin het; die lewegewende moontlikhede word in die samelewing ingedra deur die gehoorsame lewe van die gelowiges. Op grond hiervan word gedwonge skeiding in die samelewing verwerp, omdat dit by voorbaat struikelblokke lê op die weg van versoening in die samelewing, en die vormende krag van die evangelie verloën, “in ’n land waarin daar so baie belydende christene is” (vgl ook Johan Botha, 2002:53: “…in a country that counts so many confessing Christians…”). Volgens Smit word daar in Belhar “geen praktiese politieke en sosiale moontlikhede” vermeld ten opsigte van die wyse waarop versoening onder christene “ongekende nuwe moontlikhede vir die samelewing” sal meebring nie; “Daar word slegs gepraat van die waagstuk om te gaan op ’n pad van gehoorsaamheid en versoening”.
Wat geregtigheid betref, sê Smit (2000:161) dat God “… in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydendes, die arme, en die veronregte is, en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin te volg”. Die armes kom hier ter sprake onder die tema onreg en vyandskap, maar armoede word nie as ’n afsonderlike saak hanteer nie. Ook in hierdie geval word die wyse waarop die kerk God in die praktyk moet navolg, nie uitgewerk nie.
Die onderlinge verbande tussen die drie artikels word beklemtoon: “dat die blywende relevansie van Belhar ... steeds in die beklemtoning van die onderlinge verbande geleë is” (Smit 2000 161). Soos die uitwerking van versoening in die samelewing, word die aard van hierdie “onderlinge verbande” nie verder uitgewerk nie. Dit moet nog verder konkrete gestalte vind.
Smit bied ’n aantal vertrekpunte wat baie belangrik is:
• Hy handhaaf die primêre verband tussen geloof in Christus en versoening.
• Hy bevind dat die blywende betekenis van Belhar daarin geleë is dat die onderlinge verbondenheid van die drie artikels, wat handel oor eenheid, versoening en geregtigheid, gehandhaaf word (vergelyk die bekende driehoek, kerugma, koinonia en diakonia, wat onder andere vergestalt word in die Verklaring van die Algemene Sinode van die NG Kerk in 2003).
• Hy sien twee brûe wat die oordrag van hierdie versoening na die samelewing buite die kerk moontlik maak. Eerstens is daar die oorwinning van God oor die magte van haat en dood, ook in die samelewing; dit open ongekende moontlikhede vir die samelewing. Tweedens is daar die gehoorsame lewe van “so baie Christene” in die samelewing.
• Hy wys daarop dat die wyse waarop die bogenoemde riglyne in die praktyk gestalte moet kry, nog uitgewerk moet word. ’n Mens lei af: Belhar gee die Bybelse riglyne wat in elke konteks geldig moet wees; die wyse waarop dit in ’n konkrete konteks uitgewerk moet word, sal saamhang met die bepaalde omstandighede.
Die volgende vrae kan wel gevra word:
• Smit weerhou hom van uitsprake oor die politieke vergestalting van die versoening in die samelewing, maar verwerp wel die gedwonge skeiding van mense in die samelewing. Geld hierdie standpunt ook in samelewings waarin daar nie soveel christene is as in Suid-Afrika nie? Wat gebeur as daar onversoenbare magte in ’n samelewing heers?
• Hoeveel kompromie kan die kerk met ander ideologieë en magte in die samelewing maak as dit kom by die uitwerking van ons belydenis in ’n omgewing waar ons nie noodwendig veel mag of invloed het nie?
• Moet armoede nie as ’n selfstandige tema naas konflik en vyandskap en selfs onreg gehanteer word nie? Het Belhar voldoende aandag aan kultuurverskille gegee, wat nie net tot konflik lei nie, maar wat ekonomiese gedrag sterk beïnvloed?
Daar word vervolgens verder aandag gegee aan die onderlinge verbondenheid van die drie artikels in Belhar, en in besonder dat die strewe na versoening en die bekamping van armoede interafhanklik is, maar soms in spanning met mekaar verkeer.
5. DIE VERHOUDING TUSSEN DIE STREWE NA VERSOENING EN DIE BEKAMPING VAN ARMOEDE
Die fundamentele probleem van die verhouding of versoening tussen ryk mense (wat oorwegend ’n Westerse kultuur of leefstyl het, en toenemend wit en swart mense insluit) en die brandarm kontinent waarop ons leef, is ook in Suid-Afrika nog nie opgelos nie. Beide versoening en die bekamping van armoede is nodig, maar die twee aksies het ’n komplekse interaksie.
5.1 Die interafhanklikheid tussen die twee aksies kom van beide kante:
5.1.1 Die bekamping van armoede is afhanklik van die strewe na versoening, want die ellende van die armste mense kan slegs doeltreffend bekamp word as daar betreklike rus en vrede is. Versoening is nodig in die vorm van gemeenskaplike doelwitte en samewerking tussen ryk en arm mense – al is daar dikwels ’n mate van spanning nodig om vloeibaarheid te bring in situasies wat gestagneer het.
5.1.2 Versoening, op sy beurt, is afhanklik van die bekamping van armoede, onder andere omdat armoede en rykdom in die “ou” Suid-Afrika sterk gekoppel was aan ras. Beide politieke mag en rykdom was in die hande van die blankes. In die “nuwe” Suid-Afrika ontstaan daar veelrassige klasse – maar solank as wat die rykes as klas al ryker word, en die armes al armer, kan kwalik van versoening gepraat word. Dit kan dan eerder beskryf word as ’n skikking tussen wit en swart elite of maghebbers, waarin beide versterk word en die armes verder gemarginaliseer word.
5.2 Tog is die twee aksies uiteenlopend van aard. ’n Paar aspekte hiervan word vervolgens bespreek:
5.2.1 Uiteenlopende prosesse en uitkomste: Versoening word, plaaslik en internasionaal, dikwels gesien as iets wat tussen mense gebeur. Piet Meiring (1999:389) beskryf dit in Elsa Joubert se woorde as “die trek van mens na mens, via die hart” en Christo Tesnaar (2001:41) skryf: “Op die wyse kan ons, soos Chris Spies dit stel ... vir mense plekke van veiligheid word waar hulle mekaar in hulle kwesbaarheid en verwondbaarheid kan ontmoet ... waar daar na mekaar se stories geluister kan word”. Tegnieke soos die narratiewe benadering, die sosiale (her)konstruksie van simboliese horisonne, en die hantering van innerlike en interpersoonlike psigiese prosesse is hier belangrik.
Versoening vereis ’n plek van veiligheid, ’n (tydelike) onttrekking van die magte wat ons as mense uitmekaar dryf en daarom gevaarlik is vir versoening.
As versoening in so ’n geval uiteindelik plaasvind en mense mekaar vind, word dit gewoonlik as ’n emosionele saak ervaar, wat met simboliese handelinge gepaard gaan: mense gee mekaar die hand of omhels mekaar, of voer sekere rituele uit. Die Nagmaal kan gevier word.
Die simbole van versoening is dikwels ’n belangrike uitkoms van die versoeningsproses.
Nadat mense versoen is in ’n plek van emosionele veiligheid, moet hulle teruggaan na onveilige plekke, waar dit gevaarlik is vir versoening. Die verhoudings word swaar getoets deur harde werklikhede, soos die feit dat party betrokkenes steeds oorvloed bly geniet terwyl ander gebrek ly; of hulle voortgaande ongelykheid in mag, kennis en geleenthede; of hulle diep gewortelde kulturele agtergronde wat uiteenlopende sienings meebring van sleutelfaktore soos oorsaak en gevolg en persoonlike verantwoordelikheid. Hoe nader mense aan mekaar kom, hoe erger kan hierdie verskille soms pla. Nabyheid maak die gaping tussen ryk en arm, byvoorbeeld, meer ervaarbaar.
Nadat die hoogtepunt van versoening bereik is, kan die konfrontasie met die komplekse werklikhede – waaronder die lang en moeilike arbeid om armoede te bekamp – as ’n frustrasie ervaar word.
Die bekamping van armoede het onvermydelik met die eksterne werklikhede te doen. Daar moet konkrete uitkomste wees, soos kos en water en inkomste en werk. Wat hier nodig is, naas die herkonstruksie van die innerlike werklikheid, is die konstruksie van konkrete produkte en prosesse wat kan funksioneer in die konteks wat daargestel is deur die groot magte, wat weier om hulle te skik volgens individuele mense se konstruksies van die werklikheid.
Die spanning tussen versoening en die bekamping van armoede het in die tyd van die stryd teen apartheid uiting gevind in die veelgenoemde “no reconciliation without liberation/justice”. Die spreuk klink deesdae minder op, want die politieke bevryding het gekom. Maar die probleem hoe om van versoening oor te gaan na die opheffing van armoede bly.
By die WVK het hierdie probleem ter sprake gekom. “Reparation for the trauma of the victims has – by its own admission – been the TRC’s biggest failure.” Volgens een van die WVK se amptenare, Yasmin Sooka, is die WVK se mislukking om die materiële omstandighede van slagoffers te verbeter, ’n bedreiging vir die versoening wat plaasgevind het (Krog 2002: 290). Charity Kondile, wie se seun Sizwe op Vlakplaas doodgeskiet en verbrand is, het verklaar: “It is easy for Mandela and Tutu to forgive … they lead vindicated lives. In my life nothing, not a single thing, has changed since my son was burnt by barbarians … nothing. Therefore I cannot forgive” (Krog 2002: 60,109,111). Versoening word hier afhanklik daarvan gestel dat onreg reggestel word, wat insluit dat die ellende van die armste mense bekamp word.
5.2.2 Stereotipering en veralgemening: ’n Verdere belangrike verskil tussen die bekamping van armoede en die bevordering van versoening is die verskil in houding teenoor stereotipering en veralgemening ten opsigte van groepe.
Betrokkenes by die strewe na versoening voel meestal ongemaklik met stereotipering. Dit is begryplik. Stereotipering is ’n hindernis op die pad van mens tot mens. Dit verhinder dat twee individuele mense mekaar as mense ontmoet, omdat elkeen die ander sien deur die bril van hulle stereotipering van mekaar. Daarom word versoening dikwels juis nagestreef deur stereotipes te probeer afbreek. Vir baie mense breek die oomblik van versoening aan as hulle ontdek dat die ander persoon agter al die stereotipes dieselfde is as wat hulle is. Ek ontdek myself in die ander. Ons is meer eenders as wat ons gedink het!
In die bekamping van armoede speel algemene en tipiese kultuurpatrone egter juis ’n sleutelrol. Armoede kan slegs doeltreffend bekamp word as daar oplossings is wat in soortgelyke gemeenskappe herhaal kan word, en om dit te bereik, moet die oplossings inpas in die tipiese gedragspatrone. ’n Oplossing wat net vir een mens werk, het beperkte nut. Maar ’n oplossing wat vir miljoene mense werk, is slegs haalbaar as die algemene en tipiese groepspatrone, eerder as die individuele mens in ag geneem is. Die transistorradio en die mielie het dwarsdeur Afrika versprei omdat dit ingepas het in al die algemene of tipiese sosiaal-kulturele, ekologiese en ander patrone. Hier gaan dit nie om ons konstruksies van die (individuele, innerlike psigiese) werklikheid nie, maar om ons konstruksie van oplossings wat inpas in die werklikheid wat groter as ons is, en ons vermoë om sinvol daaraan deel te neem, en in te speel op die groot patrone en prosesse.
Westerse ontwikkelingsprojekte in Afrika het juis so ’n swak rekord omdat die andersheid van Afrika misgekyk is, en Westerse mense dit wat vir hulleself gewerk het, net so hier wou toepas. ’n Voorwaarde vir die bekamping van armoede is dat ek of ons die eiesoortigheid en andersheid van ons eie kultuurpatrone en leefstyl, en van die ander kulture, ontdek. Ons is meer anders as wat ons gedink het.
Ons eendersheid en andersheid is albei gelyk waar.
5.2.3 Spanning tussen die nastrewe van versoening en die bekamping van armoede:
Die nastrewe van versoening en die bekamping van armoede kan mekaar soms wedersyds in die wiele ry. Dit gebeur op talle maniere. Die bekamping van armoede kan lei tot bevolkingsgroei wat konflik veroorsaak; ’n verhoogde lewenspeil lei dikwels tot nog meer verhoogde verwagtings wat dan nie bevredig kan word nie; onderwys lei tot groter bewustheid van ongelykheid en onreg. Peter L Berger (1974:122) beweer selfs dat mense wat rewolusie wil aanwakker, modernisasie en ontwikkeling soms met hierdie doel bevorder: hulle sien ontwikkeling as metode om konflikpotensiaal te verhoog.
5.3 Die onderlinge verbondenheid van die twee aksies.
Die christelike hoop het sterker fondamente as blote optimisme. Omdat dit sy oorsprong het in die opstanding van Jesus Christus uit die dood, bly die hoop behoue selfs in die aangesig van die dood. En in die Bybel word aangedui dat hierdie hoop alle dinge in die hemel en op die aarde omvat. In sy bydrae tot die Jaar van Hoop gee Fanie du Toit (2001) hierdie riglyn: versoening sonder geregtigheid is onregverdige vrede en sal nie lank hou nie; geregtigheid dui op die “totale genesing van verhoudings: tussen God, mense en die skepping”. Dit is uiteindelik gerig op alle verhoudings.
Dirkie Smit se stelling ten opsigte van die onderlinge verbondenheid van die artikels in Belhar stem hiermee ooreen. Dit kry besondere betekenis in die praktyk. Om elke aspek afsonderlik te bly nastreef sou die maklikste wees. Maar as hulle verbondenheid en wedersydse invloed op mekaar eers ingesien is, kan ’n mens dit nie meer ignoreer nie. Dan word die uitdaging meer ingewikkeld. Dan is die enigste benadering waarmee ’n mens nog tevrede kan wees, om ’n benadering te kry waarmee beide sake tegelykertyd of ten minste wedersyds versterkend hanteer kan word.
Benaderings wat op slegs een aspek, of konflik of armoede, gerig is, en die ander aspek vererger, moet dan beskou word as valse oplossings, bedrieglike oplossings wat uiteindelik die doel mis – afgesien van hoe goed die bedoelings was of met hoeveel geesdrif dit nagestreef is.
Hier mag daardie aspek van die groot gebod, wat sê dat ons die Here moet liefhê met ons hele verstand, nie verwaarloos word nie. Geesdrif-gevormde pogings is nie volhoubaar nie. Oormoed slaan te dikwels oor in teleurstelling en moedeloosheid; te veel idealisme lei tot te min idealisme en – in ons geval – tot Afro-pessimisme. Hierdie pendulumbeweging tussen oormoed en moedeloosheid word wêreldwyd ervaar. Die probleme is dringend en daar is baie mense wat daaraan begin werk, maar dikwels is dit vir ons te groot, en dan verdwyn die geesdrif weer.
Wat nou prioriteit is, is dat christene en die kerk maniere sal vind om die christelike hoop te laat deurwerk na die daaglikse werklikheid; om Dirkie Smit se taal te gebruik, dat die “praktiese en politieke moontlikhede” gevind word waarvolgens hierdie riglyne “ongekende nuwe moontlikhede vir die samelewing” kan meebring
Voordat ons egter ’n oplossing kan kry waarmee ons beide sake tegelykertyd kan hanteer, moet ons ’n probleemdefinisie formuleer wat albei sake, konflik en armoede, omvat.
So ’n gemeenskaplike probleemdefinisie kan wees: Beide armoede en konflik kan verklaar word as die disfunksionele interaksie tussen komplekse stelsels. Beide armoede en konflik word immers deur dieselfde veranderlikes, wat steeds wisselende kombinasies en breuklyne vorm, veroorsaak. Hierdie veranderlikes kan beskryf word as ’n aantal groot en kragtige stelsels en prosesse, waaronder die ekologie en die tegnologie, die ekonomie en die politiek, globalisering en Afrikanisering, die media, kulture wat verander en die opkoms van fundamentalisme, asook die rol van persoonlikhede – die interaksies van ’n menigte veranderlikes bring gedurig onverwagte kombinasies en verwikkelinge voort.
Waar daar sulke meervoudige veranderlikes is, is daar selde ’n eenvoudige of reglynige verband tussen oorsaak en gevolg. ’n Klein verandering kan ’n nuwe kombinasie van faktore veroorsaak wat dinge in ’n heel onverwagte rigting kan stuur. Pogings om een probleem op te los kan dikwels ’n ander probleem veroorsaak of vererger.
Indien beide armoede en konflik veroorsaak word deur die disfunksionele interaksie tussen komplekse stelsels, kan ons verwag dat die bestryding van hierdie twee probleme alleen moontlik sal wees as met ’n benadering wat ’n funksionele interaksie tussen hierdie stelsels bevorder. As daar in ’n projek of program met die een aspek van die groter geheel begin word, moet daar van die begin af duidelikheid wees hoe daar later van hierdie aspek af oorgegaan sal word na die geheel.
6. HOE VERENIG ONS DIE BEDIENING VAN VERSOENING EN DIE BEKAMPING VAN ARMOEDE IN DIE PRAKTYK?
In die bespreking hierbo het dit geblyk dat versoening tussen mense in die tradisionele Afrika- kultuur die verwagting van ’n soort gemeenskaplikheid in besittings meebring. Hierdie meer kommunale benadering ten opsigte van besittings kom onvermydelik in konflik met die benadering wat in die huidige ekonomie geld, waarin privaatbesit ’n sentrale beginsel is. Beide benaderings kan seker tot ’n mate bybels geregverdig word. Maar in die praktyk gebeur daar al te dikwels wat met die WVK gebeur het: ons weet nie hoe om van versoening af by die bekamping van armoede te kom nie. Daar kan verskeie redes wees hiervoor:
• Mense – ook christene – wat in ’n plek van emosionele veiligheid tot versoening gekom het, mag dit moeilik vind om sensitiewe vrae – byvoorbeeld oor die ongelykheid in lewenspeil – op ’n konstruktiewe wyse te bespreek. Die verhoudinge en onderlinge vertroue is waarskynlik nog nie sterk genoeg vir sulke emosioneel gelaaide en sensitiewe sake nie. Vertroue word immers gevestig oor tyd, as mense die geleentheid het om mekaar se optrede in verskillende omstandighede waar te neem – veral in moeilike omstandighede.
• Omdat versoening dikwels ’n emosionele gebeure is, wek dit verwagtinge wat dalk nie in die praktyk haalbaar is nie. Dit lei tot teleurgestelde verwagtinge, wat skadelik is vir versoening.
Daar kan gevra word tot watter mate huidige regeringsmaatreëls ten opsigte van, byvoorbeeld, belasting en regstellende aksie nie tog so ’n oorgang na die bekamping van armoede in werking probeer stel het nie? Is dit egter effektief? Hoeveel, of wat, moet individuele christene daarby voeg?
Dit is dalk meer haalbaar om eerder te begin met projekte wat op armoede gerig is, en op daardie wyse verhoudings te bou wat tot beter onderlinge begrip en vertroue kan lei, wat dan ’n basis kan bied waaruit versoening kan groei.
Indien daar met die bekamping van armoede begin word, is die verwagtinge van die begin af meer hanteerbaar, omdat die proses nie buite die konteks van die daaglikse praktyk beweeg nie. Die verhoudinge is minder emosioneel en meer saaklik. Die oorgang na versoening kan dan meer geleidelik plaasvind.
Wat die bevordering van versoening en die bekamping van armoede onder niechristene en in die samelewing in die algemeen betref, lyk dit ook makliker om eerder by die bekamping van armoede te begin. Christelike versoening is bewerk deur God, in Christus. Ons ontvang dit as genadegawe, deur die geloof (2 Kor 5). Die pad na versoening met niechristene loop via die versoening met God in Christus. Hier word die natuurlike kategorieë van eie belang, kultuur, stand en geslag getransendeer. Hier word die pad van mens tot mens geloop, via die hart. Mense vind mekaar in hulle mees fundamentele waardes, hulle allerheiligste geloof.
Wat van ’n meer algemene versoening, soos wat met die Waarheids- en Versoeningskommissie nagestreef is – waar ook niechristene hulle sondes kon bely en vergiffenis ontvang, sonder dat geloof in Christus noodwendig ter sprake gekom het? Kan dit geskied op grond van die kosmiese heerskappy van Christus, sy oorwinning oor die magte en kragte wat hierdie bedeling oorheers? ’n Soort anonieme funksionering van die Heilige Gees in die wêreld?
Dit mag dalk so wees. Tog lyk dit of die kerk se rol in die bekamping van armoede, daarenteen, veel makliker as versoening uitgebrei kan word na niechristene. Dit sluit wel – onder andere – die bedoeling in om mense daartoe te bring dat hulle hulle met God laat versoen deur in Christus te glo, maar stel dit glad nie as voorwaarde nie. Die christelike barmhartigheid en deernis is sonder meer bedoel vir niechristene ook. Dit blyk dat die “groot lyne” wat die Bybel ten opsigte van armoede trek, makliker na die samelewing oorgedra en daar toegepas kan word as die groot lyne wat die Bybel ten opsigte van versoening trek.
Wat die bekamping van armoede betref, is daar min spanning tussen die Bybelse riglyne en ons hedendaagse praktyk. Groot Bybelse waardes wat met die bekamping van armoede te doen het, soos hardwerkendheid, wysheid, soberheid, regverdigheid, persoonlike verantwoordelikheid en barmhartigheid teenoor alle mense wat ly, ons roeping om die skepping te bewerk en te bewaak - dit is alles direk noodsaaklike waardes vir die bestryding van armoede. Christene kan hulle hierin ten volle uitleef, teenoor ander christene sowel as teenoor niechristene.
Daarom lyk dit logies om die deernis van God met alle mense sterk uit te dra, beide as deel van ons woordgetuienis ten opsigte van die versoening in Christus, en in ons nastrewe van saambestaan met almal.
7. DIE HERONTWERP VAN ONS LEWENSTYL
Dirkie Smit beskou die blywende relevansie van Belhar as die beklemtoning van die onderlinge verbande van die christelike belydenis ten opsigte van eenheid, versoening en geregtigheid. Dit is ’n goeie riglyn. (sien Smit, 3.2 hierbo).
’n Praktiese toepassing van hierdie riglyn kan wees dat ons probeer om ’n strategie te formuleer wat soveel as moontlik aspekte van die geheel aantoonbaar positief betrek, eerder as ’n strategie wat slegs op ’n enkele aspek gerig is.
’n Voorbeeld van so ’n strategie kan wees: die transformasie van ons gerieflike en dikwels luukse lewenstyl, wat gedurende die afgelope eeu as vergestalting van die christelike geloof en as oplossing vir die armoede-probleem beskou is en wêreldwyd as sulks aangebied is. Dit is die resultaat van ’n lewensbenadering wat streef na ’n steeds stygende lewenspeil en wat berus op al meer menslike beheer oor en verbruik van die natuur. Wat die strewe na versoening betref, sowel as wat die bekamping van armoede betref, gaan hierdie lewenstyl gepaard met die volgende ernstige probleme:
• Dit is net ’n klein minderheid wat dit kan bekostig; die armes word steeds al armer en armer en meer, en die rykes al ryker en ryker.
• Hierdie proses lei tot al hoe groter weersin en verset van die armes teen die rykes, wat konflik verhoog.
• Groot getalle mense in Afrika maak eenvoudig nie die hele kultuur wat saamhang met die moderne lewenstyl, hulle eie nie (vergelyk die gebeure in Zimbabwe, en die wye steun wat dit in Afrika geniet).
• Die ekologie (skepping) kan toenemend nie die impak van die moderne lewenstyl wêreldwyd absorbeer nie, en verskynsels soos die kweekhuiseffek dwing die mens om sy lewenstyl aan te pas (“geregtigheid” sluit, soos Fanie du Toit aangetoon het, ons verhouding met die skepping in).
As konflik en armoede in die samelewing gesien word as die disfunksionele interaksie tussen komplekse stelsels, moet maniere gevind word om die interaksie meer funksioneel, dit is heilsaam, regverdig en volhoubaar te maak. Volgens die sisteemteorie moet die oplossing van een probleem op die volgende vlak van kompleksiteit inpas om effektief en volhoubaar te kan wees. As hierdie riglyn op ons onderwerp toegepas word, kan die volgende opmerkings oorweeg word:
• Versoening tussen individuele mense kan wel ’n belangrike rol speel in die verandering van strukture, want die verskeidenheid menslike stelsels word tot ’n groot mate in stand gehou deur mense, op individuele en/of kollektiewe vlak. Mense se behoeftes, begeertes, waardes, geloofsoortuigings en persepsies speel ’n belangrike rol in die funksionering van hierdie stelsels. Verskeie kerkleiers het in die tagtigerjare beklemtoon dat die kerk mense se gesindhede moet help verander. Dit is ’n belangrike sleutel tot die verbetering van interaksies tussen stelsels. Die kerk kan egter slegs hierdie bydrae maak as ons begryp watter gesindhede moet verander, en watter gesindhede in hulle plek nodig is. Tans het ons nie duidelikheid hieroor nie. Sedert die Renaissance is vooruitgang as goed beskou in die Weste. Vandag bedreig vooruitgang die globale ekologie. Het ons ander, meer gepaste antwoorde?
• Daar is ’n volgende vlak van kompleksiteit, waar disfunksionele interaksies nie deur die verandering van gesindhede opgelos kan word nie, maar deur beter vaardighede. Die opregte bedoeling om ’n motor te bestuur is sonder die nodige vaardighede ’n bedreiging vir alle betrokkenes. Opleiding en die oordrag van vaardighede met die doel om ekonomiese ontwikkeling aan te help geniet tans hoë prioriteit in die Suid-Afrikaanse bestel.
• Op ’n nog hoër vlak van kompleksiteit is gesindhede plus vaardighede ook nie genoeg nie. Dan moet nuwe tegnieke of substelsels herontwerp word. Dit vereis dat mense met die regte gesindhede en vaardighede deur praktyknavorsing die volgende doen:
• Identifiseer die belangrikste disfunksionele intervlakke tussen betekenisvolle stelsels;
• Analiseer die prosesse wat tot disfunksies lei;
• Identifiseer en/of ontwerp metodes om daardie disfunksies te verbeter;
• Toets die metodes wat aan die meeste kriteria voldoen in die praktyk;
• Verbeter die metodes soveel as moontlik, en
• Implementeer die metodes.
Hierdie benadering kan gebruik word om ’n aantal groot probleme in ons samelewing aan te pak, soos:
• Die tekort aan water (huidige metodes van waterbenutting is duur, vermorsend en onvolhoubaar, en daar is mense wat verwag dat die skaarste aan water wêreldwyd ’n belangrike bron van konflik sal word);
• Die tekort aan energie (fossielbrandstowwe sal in die nuwe eeu al hoe meer vervang moet word deur ander bronne van energie, soos kernkrag of hernubare energie. Die tegnologie wat gekies word kan destruktief wees, of dit kan die interaksies tussen verskillende aksies verbeter. As die produksie van grondstowwe vir die vervaardiging van bio-diesel na arm huishoudings gedesentraliseer word – iets wat tegnies moontlik lyk – kan dit interaksies op talle fronte verbeter.
• Die herverdeling van grond;
• Werkskepping;
• Versorging van weeskinders en ander brose kinders;
• Misdaadvoorkoming.
8. TEN SLOTTE
In die soeke na die gepaste benaderings vir kerklike diensgetuienis in die eeu wat voorlê, sal daar met ’n verskeidenheid alternatiewe eksperimenteer moet word. Die ervaring wat so opgedoen word, moet ten beste benut word om die lesse te leer wat nodig is.. In hierdie proses is daar ’n rol vir feitlik elke mens wat een of ander bydrae wil maak, want, veel meer as in die afgelope eeue, word alle aspekte van ons bestaan geraak.
BIBLIOGRAFIE
Berger, Peter L. et al 1974. “ The homeless mind” New York: Penguin.
Botha, Johan G 2002: “Accounting for the hope that is in us of embodied unity, true reconciliation and compassionate justice” in Van Houten, Richard L (red): “South Africa, Religious pluralism & Land reform” REC Focus 2:3, September, pp44-59.
Durand, Jaap 2002. “Hoe my gedagtewêreld verander het: van ewige waarhede tot gekontekstualiseerde metafore” Ned Geref Teologiese Tydskrif, 1&2, Maart en Junie 2002, pp64-70.
Du Toit, Fanie 2001: “Wat sê die Bybel?” in “Op pad na versoening. Bybelse en praktiese riglyne vir gemeentes” Uitgegee deur die VAM-kommissie van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Emminghaus, Wolf B. et al 1998: “Primal violence: illuminating culture’s dark side” in Weiner, Eugene (red): “The handbook of interethnic coexistence” New York: Continuum.
Gerwel, Jakes 2002: “Marx is dood en begrawe, maar wat van die armes?” Rapport 8 September 2002, p14
Handelinge van die tiende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria, Sondag 11 tot Saterdag 17 Oktober 1998, p402.
Healey, Joseph en Sybertz, Donald 2000: “Towards en African narrative theology” Nairobi: Paulines Publications Africa.
Krog, Antjie, 2002 “Country of my skull” (2de uitgawe) Johannesburg: Random House.
Marais, Johan 1986. “Die NG Kerk en die regverdiging van apartheid” Kerk en wêreld-reeks No. 8. Sovenga. Stofberg Teologiese Skool.
Mbigi, Lovemore 1995. “Ubuntu. The spirit of Africa transormation management” Randburg: Knowledge Resources.
Meiring, Piet 1999. Kroniek van die Waarheidskommissie” Vanderbijlpark: Carpe Diem.
Meiring, Piet 2001. “Ons konteks” in “Op pad na versoening. Bybelse en praktiese riglyne vir gemeentes” Uitgegee deur die VAM-kommissie van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Serote, Mongane Wally 1978. “Behold Mama, flowers” Johannesburg: Ad Donker.
Smit, D J 2000. “”Versoening in Belhar?” Gereformeerd Theologisch Tijdschrift 2000:4, pp 159-174.
Taute, J H F 1992: Versoening en die versoeningsproses - ’n teologiese besinning oor die Suid- Afrikaanse debat” D.Th. Proefskrif (ongepubliseerd), Universiteit van Stellenbosch.
Vilakazi, Absolom 1962: “Zulu transformations. A study of the dynamics of social change” Pietermaritzburg: University of Natal Press.
Weiner, Eugene 1998. “Coexistence work: a new profession” in Weiner, Eugene (red): The handbook of interethnic coexistence”, New York: Continium.