Verster, P
Universiteit van die Vrystaat

’n Christosentriese benadering van die gereformeerde leer as uitgangspunt van die sending1

ABSTRACT

A Christosentric approach of the reformed doctrine as the foundation of mission

There can be no doubt that the holy love of God in Jesus Christ is central to the reformed doctrine. The kingdom of God should be viewed from the perspective of Christ as central to the reign of God. It is essential to base Christosentric reformed mission in the love of God. This means that the solae of reformed doctrine as well as the solus Christus, should be viewed from the perspective of the proclamation that Christ, the Son of God as God who became human, is the essence and centre of the reformed doctrine. Therefore, it is impossible to reject the powerful missionary commission of the Gospel or to view mission only from the perspective of service.

1. INLEIDING

Wat is die essensie van die gereformeerde leer soos wat dit neerslag gevind het in en na die Reformasie? Op watter wyse bepaal dit die sending? Kan die essensiële elemente wat geformuleer is wel nog die sending bepaal? Daar is inderdaad kernsake en -vrae wat tans aandag verlang. Nie alleen is dit belangrik om die vraag te stel: Wat is die wesenlike van die Reformasie en die gereformeerde leer nie, maar ook: Wat is die wesenlike van sending? Die verhouding tussen die twee is ook van belang. Daar bestaan redelike konsensus dat die begrip “koninkryk van God” sentraal is in die gereformeerde leer. Wat is egter die inhoud van die koninkryk en hoe word dit ook self weer bepaal? In ’n belangrike uitspraak wys Van de Beek (1999:105) daarop dat Christus self die sentrum van die Christelike geloof is: “Christelijke geloof vindt zijn orientatie in Christus Jezus. Vóór alles gaat het dus om zijn geschiedenis, als geschiedenis van God in onze menselijke wereld van plaatsen en datums.” Sou dit ook waar wees van die gereformeerde leer en bepaal Christus ook die koninkryk?

In hierdie artikel word die Christosentriese uitgangspunt van die koninkryk en die heilige liefde van God in Jesus Christus as die sentrale saak in die gereformeerde leer beskou. Dit word as riglyn geneem en die sending word vanuit dié perspektief op die solae benader.

2. DIE CHRISTOSENTRIESE BENADERING VAN DIE KONINKRYK TEN OPSIGTE VAN SENDING EN DIE REFORMASIE

In ’n onlangse studie beklemtoon Ferreira (2002) dat die koninkryk van God, in die lig van die Missio Dei, die bepalende uitgangspunt van sending moet wees. Wat is die inhoud van die begrip koninkryk?

Drie standpunte oor God se koninkryk word vervolgens kortliks bespreek.

Die eerste is dat die koninkryk van God vanuit die skeppingsgegewe en soos aangekondig deur Jesus Christus, ’n bepaalde ryk is wat die hele lewe en die hele wêreld bepaal en alle lewensuitinge moet beheers. Dit is reeds teenwoordig waar God in gehoorsaamheid gedien word, maar is ook nog komende. Heyns (1978:28) het die koninkryk van God as die sentrale saak in die Skrif beskou met as skopus van die skopus Jesus Christus: “Daarom moet ons sê: die sentrum van die Skrif is Gods Koninkryk en die sentrum van die sentrum is Jesus Christus.” Die ganse lewe van die gelowige word deur die koninkryk van God bepaal: “Die koninkryk staan nie vóór, naas of agter alle dinge nie; die koninkryk is alle dinge – in hulle betrokkenheid op en afhanklikheid van en beheersing deur God” (Heyns 1986:39). Hierdie saak is dus volgens Heyns sentraal in die gereformeerde beskouing. Heyns bevestig (1982:37) ook dat die koninkryk wel deeglik ’n teenwoordige werklikheid is. Hy dui aan dat waar die mens in gehoorsaamheid hom/haar aan God onderwerp, God se koninkryk deurbreek. Dit is egter in ’n voorlopige sin, want die gehoorsaamheidsgestaltes van die mens is nog fragmente van die toekomstige totale ryk van God. Die koninkryk van God is egter in Christus wel reeds teenwoordig.

Van Wyk (2003:19) sluit by Heyns aan deurdat hy die koninkryk as totale saak beskou. Hy verbind die koninkryk ook aan God se oorwinning en heerskappy oor die sonde, die dood en demone. Juis dié oorwinning tree volgens hom na vore by die kruis op Golgota en by die oop graf. Hy meen dat die vernuwende inwerking van die Heilige Gees nêrens duideliker is as met die Pinkstergebeure en wat daarop gevolg het nie. Die koninkryk is in dié sin dus wel Christologies bepaal. Volgens beide Van Wyk en Heyns staan die heerskappy van Christus dus sentraal: Christus as Middelaar van die gemeenskap binne die koninkryk sowel as Christus as Here van die koninkryk.

Van der Walt (1999:21) verduidelik die saak meer omvattend naamlik dat ’n reformatoriese lewensvisie ’n breë en omvattende visie is wat nie teosentries (net op God gerig) of kosmosentries (net op die skepping gerig) of nomosentries (net op God se wet gerig) is nie. “Dit sluit ’n visie op al drie in en toon die verband tussen hulle aan. Dit maak duidelik hoe ’n Christen God in die skepping dien deur sy wette te gehoorsaam. ’n Reformatoriese lewensvisie is ook positief en optimisties, idealisties maar terselfdertyd realisties, dit bied vastigheid maar is ook dinamies, dit kan werklik bevrydende perspektiewe vir ’n tyd soos hierdie bied. Dit stel ons in staat om te lewe vir iets, néé vir Iemand, veel groter as onsself. Daarom gee dit sin aan ons hele bestaan.”

In ’n tweede beskouing word die koninkryk as ’n alternatiewe lewenstyl waarin die bestaande orde uitgedaag word, beskou. Nel en Van Aarde (2002:1126) meen dat die uitsprake van Jesus aangaande die koninkryk nie eskatologies-apokalipties verstaan behoort te word nie, maar dat Hy eerder ’n alternatiewe lewenstyl in die hier-en-nou vir sy navolgers voorsien het. Hulle is van mening dat die begrip “koninkryk van God” wel sentraal in Jesus se boodskap gefigureer het. Nel en Van Aarde (2002:1130) beskou die koninkryk as dat Jesus die beliggaming van God se medelye was en dit handel dus oor geregtigheid. Die twee skrywers is van mening dat die passie vir geregtigheid daartoe gelei het dat Jesus altyd “die armes, verstotenes en gemarginaliseerdes in die samelewing opgesoek het en die godsdienstige en politieke elite (insluitende die ideologie van die Jerusalem-tempel as die sentrum van diskriminasie) se konvensionele wysheid ontbloot en gekritiseer het.” Dit is duidelik dat hulle die begrip koninkryk immanent lees en nie as omvattende begrip van God se heerskappy in Christus nie.

Interessant is dat Van de Beek (1999:216) wel die koningskap van God as uitgangspunt neem, maar traag is om van die koninkryk van God te praat, juis weens die gevaar dat koninkryk as bevestiging van kultuur beskou kan word. Die koningskap van God is egter van ’n geheel ander aard as die heerskappye van hierdie wêreld. Hy sluit aan by die gedagte dat Jesus juis die beskouings van die huidige wêreld aangaande mag uitdaag. Die enigste mag wat die koningskap van God werklik verheerlik is die mag van die liefde wat dien.

Die derde beskouing is dat die koninkryk juis eskatologies verstaan moet word. Dit het dan alles te make met die toekoms en minder met die huidige wêreld. God se koninkryk is nog komende, en sal vanuit die toekoms op die wêreld afkom. In aansluiting by Bloch (in Moltmann 1969:313-334) het Moltmann (1969:280-312) juis die hoop op die toekoms as uitgangspunt geneem. Die eksodus-gemeente reik uit na die koms van God se ryk: “Durch diese Hoffnung auf Gottes Zukunft wird diese Welt hier für den Glauben frei von allen Versuchen der Selbsterlösung oder der Selbstproduktion durch Arbeit, und sie wird offen für die liebende, dienende Entäus- serung zugunsten einer Humanisierung der Verhältnisse, zugunsten der Rechtsverwirklichung im Lichte des kommenden Gottesrechtes” (Moltmann 1969:312).

’n Vraag wat dikwels in die huidige omstandighede na vore kom is die vraag of die koninkryk ’n aanvaarbare metafoor aangaande die koms van God in die wêreld is. Moet daar nie van die koninkryk afgesien word en oorgeskuif word na die inkarnasie van God in die wêreld as sentrale metafoor nie (Moltmann 1976:184-267)? Die liefde van God in die huisgesin van God, of die koningskap van God wat nie veronderstel dat die koninkryk reeds in die huidige wêreld gestalte kry nie, word ook as metafore voorgestel (Van de Beek 1999:230). Alhoewel die saak van die koninkryk dikwels in die wêreld negatiewe implikasies het, is die wyse waarop dit in die Bybel aangewend word juis om aan te toon dat God anders as die mense regeer.

Om hierdie saak verder te ontleed, ook wat betref die implikasies vir die huidige tyd, is dit noodsaaklik om eers vas te stel wat essensieel vir die gereformeerde beskouing in die lig van die koninkryk is en hoe dit op die sending reflekteer. Calvyn2 dink inderdaad Christosentries.

Maar hoe lyk die regering van God? Word dit nie deur die liefde bepaal nie? Is en bly dit nie die essensie van die samevatting van die wet nie? Daarom kan God se koms in die wêreld nie anders as deur die liefde van God bepaal word nie. Hierin is die inkarnasie van Christus sentraal.

Van de Beek (1999:109-123 en 137-179) lewer in die verband ’n uiters belangrike bydrae. Daar moet inderdaad met hom saamgestem word dat die essensie van die Christelike geloof die Godheid van Jesus Christus is. Sonder dié belydenis, naamlik dat Jesus die Here waarlik die “aangesig” van God is, verloor die Christelike getuienis alle waarde. Dit raak die hart van die evangelie. Hier skei nie net die weë van Van de Beek en Kuitert nie, maar ook dié van die gereformeerde leer en die sogenaamde nuwe hervorming (vgl. Van de Beek 1999:110).

Volgens Van de Beek (1999:110) is die verbysterende gedagte dat God homself in ’n mens en dan nog verder, ’n Gekruisigde, manifesteer, wat eksplisiet deur Johannes en Paulus geleer word, ’n saak waaraan die sogenaamde “Third quest” en ook die nuwe hervorming hoegenaamd nie genoeg erkenning gee nie. Dit is juis hier waar die skandalon van die evangelie alle menslike insette aan die kaak stel en oortref en moet daar dus met Van de Beek saamgestem word. Wanneer hy egter ’n verdere konsekwensie trek dat God homself in Christus vervloek omdat Hy sélf verantwoordelikheid vir wêreld soos dit is aanvaar, word die kwaad aan die deur van God gelê en kan daardie konsekwensie nie aanvaar word nie.

Die klem op die Christologie is nie teenstrydig met huidige tendense om die Drie-eenheid van God in die teologiese besinning te beklemtoon nie. Juis vanuit die perspektief op die trinitariese moet die klem op die Christosentriese implikasies van die openbaring gelê word.

God is op ’n besondere wyse teenwoordig in die wêreld en eis geregtigheid, maar dit moet altyd binne die perspektief van sy heilige liefde in Christus verstaan word. Hierin speel die vrye genade van God ’n beslissende rol. Die koninkryk van God is dus geen strakke ryk wat volgens menslike insigte ingerig word nie. Dit is ’n ryk waar erken word dat God juis deur sy heilige liefde teenwoordig is en van ons onvoorwaardelike diens aan Hom en aan ander vra. Dit het natuurlik implikasies vir ons hele lewe en totale gehoorsaamheid (Heyns 1982), maar is ook meer: die erkenning van God se heilige liefde.

3. DIE IMPLIKASIES VAN HIERDIE UITGANGSPUNTE VIR DIE SENDING

Ferreira (2002:107) is van mening dat die Missio Dei as vertrekpunt, en die koninkryk van God as mees sentrale perspektief, die sending moet bepaal. Volgens hom kan die sending nie anders as om gerig te wees op en bepaal te word deur die koninkryk nie. Die Christosentriese aspek word deur hom behou. Jongeneel (1991:64) verduidelik dat: “Een missionaire Godsleer moet ten slotte ook het koninkrijk van God (drieënig) in een duidelijk missionair perspectief plaatsen.” Sending word dus vanuit die perspektief van die koninkryk beskou as die evangelie wat aan mense gebring word om hulle in die koninkryk van God in te lyf. Bosch (1991:9) beklemtoon die sending in die lig van die verhouding met God: “Christian Mission gives expression to the dynamic relationship between God and the world, particularly as this was portrayed, first, in the story of the covenant people of Israel, and then, supremely, in the birth, life and death, resurrection, and exaltation of Jesus of Nazareth.”

Die Christologie moet sentraal gestel word. Sonder God in Christus is die konsep van ’n koninkryk, óf blote gesag soos die keiserlike gesag, óf blote medemenslikheid en nie ingebed in die heilige liefde van God nie.

As die heilige liefde van God egter die bepalende element van die heerskappy van God is, het dit die implikasie dat die sending as bediening van die versoening ook die liefde van God sigbaar maak.

Hierdie aspek moet nou uitgewerk word in die lig van die beklemtoning van sekere hoofsake in die Reformasie. Die heilige liefde van God bepaal ook die solae van die Reformasie.

4. ’N CHRISTOSENTRIESE BENADERING VAN DIE SOLAE VAN DIE REFORMASIE

4.1 Sola Scriptura

Smit (2002:109) handhaaf die mening dat die Bybel vir Christene die Woord van God, die geïnspireerde en gesaghebbende bron van hulle kennis aangaande God is (Sola Scriptura). Sake is egter volgens hom nie so eenvoudig nie. Hy is van mening dat die vraag na die verstáán dus uiters belangrik is, juis omdat die Bybel baie tale praat. “Vir Christene is die Bybelse getuienis aangaande die Opgewekte Gekruisigde die bron van ons kennis en die gesaghebbende kriterium vir hoe hulle dink, glo en praat, maar wát die Bybel getuig en hóé hulle hulle op die Bybel kan beroep, is ’n ander saak.”

Hy maak dit duidelik dat die Bybel gesaghebbend is en nie die vertolking van die Bybel nie. Hy meen ook dat nie eers die direkte aanhaal van Bybeltekste noodwendig die probleem oplos nie, want die vraag bly steeds wie die tekste kies, waarom, en hoe hulle dit verstaan. “Die duidelikheid van die Skrifte sluit nie die noodsaak aan uitleg uit nie. Verantwoordelike Bybeluitleg is nie ’n eenvoudige saak wat met metodes gewaarborg kan word nie. Dit is die Géés wat lewend maak, spreek deur die profete en van Christus getuig” (Smit 2002:111). Dit is egter reeds duidelik hoe bepalend die Skrif is en hoe die Christologie weer daarin bepalend is. In dié verband kan na Tolmie (2003:165) verwys word wat meen dat die maatstaf van die waarheid van die evangelie sentraal is in Paulus se verduideliking in Galasiërs: “’n Mens kan die uitdrukking ‘die waarheid van die evangelie’ in vers 14 as die fokuspunt van hierdie perikoop beskryf omdat dit die saak is waaroor hierdie perikoop (en in groot mate die hele Galasiërs) handel. Paulus het dié uitdrukking ’n paar verse vantevore ook gebruik (2:5) toe hy die oogmerk van sy optrede in Jerusalem teen die ‘valse broers’ beskryf het as die handhawing van die ‘waarheid van die evangelie’”.

Dit is juis waar die belydenis van die Sola Scriptura ook sentraal vanuit die Christologie3 benader moet word en so ook in die sending ter sprake kom. Die Koran, Vedas, Bagavad Gita en ander geskrifte maak ook aanspraak op die volledige gesag van God. Moslems meen dat hulle ook oor die openbaring van God beskik. Die kernvraag is egter weer eens of die beklemtoning van God wat in Christus is, en sy heilige liefde volledig tot ons keer en mens word, nie duidelik die noodsaak van die sending aantoon nie. Die erkenning van die liefde van God is absoluut essensieel in die Skrif. Vergelyk ’n mens dit met byvoorbeeld die Koran en die Bagavad Gita, is dit so dat die liefde van God nie ’n sentrale rol speel soos in die Skrif nie. Hierin is dit ook duidelik dat die heilige liefde van God juis só as die menswording van Christus beklemtoon moet word. Dit is die liefde van God se geregtigheid en daarom die liefde in Jesus die gekruisigde.

4.2 Sola Fide

Geloof alleen bind die mens aan Jesus Christus, die Seun van God, God wat in ons lewens kom deel het. Dit word egter bevraagteken. Dit is nie meer so eenvoudig om te sê dat geloof die uitgangspunt en beginsel van die lewe met God is nie. Geloof bestaan uit meer as net begrip van geloof – geloof is geloof in God wat in ons lewe teenwoordig geword het.

Tolmie (2003:165) wys daarop dat Paulus die gedagte dat mense slegs deur geloof in Christus geregverdig word, aanbied as algemene kennis binne die Christendom. “Hy begin in vers 16 met die woord eidotes (sowel ek as jy, Petrus, weet tog …). Dit word gewoonlik deur eksegete verstaan as ’n aanduiding dat Paulus hier teruggryp na gedeelde kennis binne die vroeë Christendom ...”

Waaroor handel dit dan wanneer die geloof in Jesus Christus ter sprake kom? I W C Van Wyk (2002a:863, 864) toon duidelik aan dat regverdiging deur die geloof alleen begin en eindig met dit wat onsself nie kan skep nie; met dit wat ons uit genade slegs moet ontvang. Hy beklemtoon verder dat dit die gelowige daarvan red om te probeer “sin” skep. Dit beteken volgens hom dat ons bevry kan word van die groot lewensleuen, dat “sin” van menslike dade afhanklik is: “Die regverdiging sonder die werke van die wet, leer ons dat die mens nie sy daad is nie. Dit leer dat die mens niks vir sy heil kan doen nie.”

Geloof in Jesus is onontbeerlik om God se daad te aanvaar en om God in Christus te aanvaar. Sola fide veronderstel dat aanvaar word dat God en die openbaring van sy liefde in Jesus Christus gestalte gekry het en dat die liefde alleen in Christus aanvaar word.

Waarom is die uitgangspunt van sola fide so noodsaaklik in die sendingbediening? Omdat God wil dat die heil in Jesus Christus alleen verwerf word. Geloof bepaal dus juis die verhouding met die lewende God. Dit beteken dat die God van liefde erken, bely en gedien word omdat die wil van God bekend is. Nederige diens volg in gehoorsaamheid aan die God van liefde. Van Rooy (1997:323) dui aan dat ook die verbondshandelinge en die gehoorsaamheid aan die wet saamhang met die lewende gemeenskap met die God van liefde: “The fear of God thus attains a strong ethical element. It is no longer predominantly avoidance, as the Zulu and Xhosa peoples avoid INkosi yeZulu, but it becomes humble obedience in fellowship with a loving God.”

Geloof alleen beteken ook dat die geloof die verhouding met God bepaal. Hierdie geloof is egter geloof in Christus4. Die erkenning deur Moslems van Allah as één en Mohammed as sy profeet is ook ’n vorm van geloofsbelydenis, maar van ’n totaal ander aard. Die oortuiging dat Jesus die ware Seun van God is wat juis in ons ellende kom leef het en die verlossing bring, getuig van ’n lewende geloof in God wat onder ons kom woon het. Die verskynings van Vishnu, onder andere as Krishna is ook van ’n ander aard. Krishna is ’n redderfiguur, maar geen verteenwoordiger en plaasvervanger in ons plek nie.

Uiteindelik mond dit uit in die geloofsgemeenskap. Geloof is dus lewend en kragtig. Dit skep nuwe verhoudinge met God en medemens. Geloof word deur die liefde bepaal, maar bepaal ook weer die liefde. Pelser (2002:1482) maak dit baie duidelik dat die kerk ’n liefdes-gemeenskap is. Hy beklemtoon dat daar nie ’n begrip in die Nuwe Testament is wat meer beskrywend van kerkwees is as die begrip liefde nie. Hierdie liefde is liefde van God, vir God en vir mekaar. Hy beskryf dit soos volg: “Soos die liefde van God grensloos is deurdat dit ’n liefde is vir magteloses, vir goddeloses, vir sondaars, vir vyande (Rom 5:6-10), so moet die liefde van die gelowiges wees.”

4.3 Sola Gratia

Genade en genade alleen betrek die uitverkiesing. God se almag kom teenoor God se goedheid te staan. Waarom kies die almagtige God net sommiges? Dit kan alleen verstaan word vanuit die vrye genade in die liefde van Christus.

Sola gratia dui juis aan hoe God Hom in Christus aan die verlossing verbind. Kan dit anders verstaan word as dat die vrye genade ’n vrye noodmaatreël is om wel die heil van God in die wêreld gestalte te gee? Die uitverkiesing kan ook alleen verstaan word binne die kader van God se liefde. Dit is God se uiterste beslissing van liefde dat daar wel in Christus iemand gered sal word. Krüger (1981:137) verwys na Artikel 2 van die Dordtse Leerreëls en meen die artikel “stel dit duidelik as eerste werksaamheid van God met betrekking tot uitverkiesing, dat God, nadat Hy die ellende van die verdoemde mensdom aangesien het, sy liefde openbaar deur sy eniggebore Seun in die wêreld te stuur. En die doel is duidelik: sodat elkeen wat in Christus glo, gered kan word. Hier begin die Canones die uitverkiesing en op hierdie punt, naamlik ‘in Christus’, begin God sy verkiesende werksaamheid. In eintlike sin is hier drieërlei werksaamheid van God, te wete God openbaar sy liefde, God stuur sy Seun, God stel sy voorwaarde van geloof (1.2)”.

Dit is egter Jonker (1989:128) wat die uitverkiesing in Christus sentraal stel vir ’n beter begrip van die uitverkiesing. Ten spyte van verskille met Barth beklemtoon hy tog uitdruklik hoe belangrik die Christologiese begronding van die uitverkiesing is en noem hy ook dat dit fundamenteel vir die uitverkiesingsleer is.

Dit is inderdaad ’n juiste beskouing. Die uitverkiesing5 kan nie losgemaak of van Christus en sy liefde geskei word nie. Word dit gedoen, is dit ’n skolastiese ontwerp waarin die dinamiek van God se genade uitgeskakel word. In Christus word dit die wonder van God se verlossingswerk.

Wat die sending betref het die leer van die uitverkiesing dikwels wel die ywer vir sending beperk en geblus. Sending moet egter gedra word deur die sekerheid dat God diegene ken wat aan Hom behoort en hulle op goddelike en wonderbare wyse lei tot sy lig in Christus. Romeine 106 bevestig juis die goddelike wyse waarop dit plaasvind.

Indien die uitverkiesing in Christus verstaan word, dien dit tot die erkenning van die liefde van God en die bevestiging van die roeping tot die uitdra van die Woord in die totale wêreld.

Die genade van God in Jesus Christus is van ’n totaal ander orde as die beskikking van Allah of die wiel van Sansara. In die genade van God is dit juis die heilige liefde in Christus wat bepalend is. Hierin is juis sprake van God wat onder ons kom woon om ons uit genade sy heil deelagtig te maak.

4.4 Solus Christus

Verster (2000:248) beklemtoon die versoening in Jesus Christus as sentrum van die sending: “Vir ’n Christelike beskouing van die sending sal die versoening in Jesus Christus dus van uiterste belang te wees, en hierdie unieke karakter van die sending sal opnuut beklemtoon moet word. Die unieke boodskap van Jesus as Seun van God, as Gekruisigde, as Versoener, as Middelaar, sal ten sterkste en ten alle koste beklemtoon moet word.”

Daarmee word die Christosentriese karakter van sending bevestig. Die heil word volledig deur Christus bepaal. Hy skep die nuwe moontlikhede van sending. Dit is inderdaad ook betekenisvol dat die heil in Christus ook lewens verander. Die solus Christus bepaal egter baie duidelik dat die liefde van God sigbaar word in die liefde van Christus. Die noodsaaklike vraag wat dus deur die Reformasie beantwoord is, is dat God in Christus tot die mens gekeer het.

Die uniekheid van Jesus Christus is juis daarin geleë dat Hy geen godsdienstige leier of godsdiensstigter is nie. Hy is God wat by ons kom woon en volledig mens geword het tot ons verlossing. Hierdie belydenis aangaande Jesus is van ’n ander aard as dié van enige ander godsdienstige leiers of stigters.

5. VOORLOPIGE GEVOLGTREKKING

Vir die Reformasie was die kern van hulle belydenis die Godheid van Christus in sy heilige liefde wat die vrye genade veronderstel en dus ook die openbaring van God se liefde, genade en majesteit aan almal. Verster (1997:120) dui aan dat dit sal beteken dat die mens verantwoordelikheid moet aanvaar, ook vir dit wat hy/sy in die gemeenskap tot stand moet bring. Volgens hom is die uitdaging dus om lewens- en wêreldbeskouinge so te vernuwe dat die Christelike uitgangspunte wat daarin vergestalt word, sentraal staan. Die Reformasie was juis ’n kragtige inspuiting van die koningsheerskappy van Christus wat totaal vernuwe.

Die Reformasie lewer ’n kragtige getuienis aangaande Jesus Christus. Die liefde in Christus is die sentrale begrip van die gereformeerde leer en dit bepaal ook weer die sending. Die sending word ’n absolute noodwendigheid. Gereformeerde sending beteken dat die liefde van Christus ons dwing om die evangelie te verkondig. Dit sluit al die ander vorige perspektiewe vanuit die perspektief van Christus se liefde in.

Wat die Reformasie wou beklemtoon was ’n begrip van God se almag wat in sy heilige liefde in Christus uitmond, sodat God se goedheid en almag tog daardeur in verband met mekaar gebring word.

Vanuit hierdie perspektief kan sending nooit net ’n sosiale evangelie word nie. Die sending mag nie opgaan in die missionêre diakonaat nie. Sending is die allesomvattende bediening van die versoening in Jesus Christus, sodat die heilige liefde van God gestalte in die wêreld kry.

6. BIBLIOGRAFIE

Bosch, D J 1991. Transforming Mission: Paradigm shifts in Theology of Mission. Maryknoll, NY: Orbis.

Calvyn (Calvin), J 1947. Commentaries on the epistle of Paul the apostle to the Romans. (Tr and ed by John Owen). Grand Rapids, Mi.: Eerdmans

Calvyn (Calvin), J 1948a. Commentary on the epistle of Paul the apostle to the Corinthians. (Tr and ed by John Pringle, 2nd. Vol.) Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Calvyn (Calvin), J 1948b. Commentary on the epistle of Paul the apostle to the Galatians and the Ephesians. (Tr and ed by John Pringle). Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Calvyn, J 1956. Institutie of onderwijzing in de christelike godsdienst. Eerst Deel: Boek 1 en 11 (Vertaald door Dr A Sizoo, 7de druk). Delft: Meinema N.V.

Ferreira, I W 2002. Die kerk se sending in diens van God se koninkryk. ThM-skripsie. Potchefstroom: PU vir CHO.

Jongeneel, J A B 1991. Missiologie. II Missionaire theologie. ‘s-Gravenhage: Boekencentrum.

Jonker, W D 1989. Uit vrye guns alleen. Wegwysers in die Dogmatiek - oor uitverkiesing en verbond. Pretoria: NGKB.

Heyns, J A 1982. Teologiese Etiek. Deel 1. Pretoria: NGKB

Heyns, J A 1986. Teologiese Etiek. Deel 2/1. Sosiale Etiek. Pretoria: NGKB

Heyns, J A 1978. Dogmatiek. Pretoria: NGKB

Krüger, J C 1981. Die verhouding van die uitverkiesing tot bekering met spesiale verwysing na die Dordtse Leerreëls. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.

Moltmann, J 1969. Theologie der Hoffnung. München: Chr. Kaiser.

Moltmann, J 1976. Der Gekreuzichte Gott. München: Chr. Kaiser.

Nel, G C J & Van Aarde, A G 2002. Die koninkryk van God by Jesus: ’n Apokalipties- eskatologiese of eties-eskatologiese begrip? HTS Theological Studies 58(3): 2002: 1113-1133.

Pelser, G M M 2002. Kerkvorming en ontwikkeling in die Nuwe-Testamentiese tydvak. HTS Theological Studies 58(4) 2002: 1459-1485.

Smit, D J 2002. In diens van die tale Kanaäns? Oor sistematiese teologie vandag. Ned. Geref. Teologiese Tydskrif: 43 (1 & 2): 94- 127.

Tolmie, D F 2003. Die waarheid van die evangelie: Riglyne vir die prediking van Galasiërs 2:11-21. Ned. Geref. Teologiese Tydskrif. 44 (1 & 2): 161-170.

Van de Beek, A 1999. Jezus Kurios: De Christologie als hart van de theologie. Spreken over God 1,1 (3de druk). Kampen: Kok.

Van der Walt, B J 1999. Godsdiens en samelewing: Christelike betrokkenheid op die markplein. Potchefstroom: PU vir CHO.

Van Rooy, J A 1997. The Covenant with Abraham in the context of Africa. In die Skriflig 31(4): 311-326.

Van Wyk, J H 2003. Teologie van die verbond of teologie van die koninkryk? Dogmatiese nadenke oor die verhouding tussen die verbond en die koninkryk as sentrale teologiese temas. In die Skriflig 37(1): 1-26.

Van Wyk, I W C 2002. Die “Gemeenskaplike Verklaring oor die Regverdigingsleer” van 30/31 Oktober 1999. HTS Theological Studies 57(3 & 4): 835-867

Verster, P 2000. Sending rondom die eeuwending: steeds uniek Christelik? Acta Theologica 2000 Supplementum 1: 237-250.

Verster, P 1997. Armoede in Afrika – ’n lewens- en wêreldbeskoulike probleem? Tydskrif vir Christelike Wetenskap. 1997:1& 2: 108 -121.

1 Hierdie artikel is ’n uitvloeisel van ’n navorsingsprojek, Gereformeerde Sending, aan die UV. Graag verleen ek erkenning aan Ferreira (2002) se ThM-skripsie, onder leiding van prof F Denkema by PU vir CHO, wat besondere vrugbare insigte oor die onderwerp bied.

2 Alhoewel dit nie altyd duidelik is of Calvyn die liefde van God net op die uitverkorenes betrek nie, is dit tog duidelik dat hy van mening is dat God se liefde vir sondaars oorvloedig en bepalend is. Daarom kan tog afgelei word dat die liefde van God die sending bepaal. In die Institusie word dit sterk beklemtoon in die gedeeltes wat handel oor die vleeswording van Christus (Calvyn 1956:501 e.v.). Let ook op die kommentare: “For when we contemplate God without a Mediator, we cannot conceive of Him otherwise than angry with us: a Mediator interposed between us, makes us feel, that He is pacified towards us. As, however, this also is necessary to be known by us - that Christ came forth to us from the fountain of God’s free mercy, the Scripture explicitly teaches both - that the anger of the Father has been appeased by the sacrifice of the Son, and that the Son has been offered up for the expiation of the sins of men on this ground - because God exercising compassion towards them, receives them on the ground of such a pledge, into favour” (Calvyn 1948a: 237-238). Die liefde van God is duidelik: “He then confirms, that is, exhibits his love to us as most certain and complete, inasmuch as for the sake of the ungodly he spared not Christ his own Son. In this, indeed, his love appears, that being not moved by love on our part, he of his own good will first love us, as John tells us (1 Jn 3: 16) (Calvyn 1947:196). Die volledige verlossing kom van God en word van sy genade afgelei: “The whole of our salvation is here ascribed to the mercy of God” (Calvyn 1948b:224).

3 Daar is ’n tendens om die Ou Testament as volledig selfstandig naas die Nuwe Testament te plaas.

Vanuit die beskouing is daar geen Messiaanse tekste nie en allermins direkte verwysings na Christus. Selfs die belydenis van die Drie-eenheid word ook soms misken. Dit kom neer op omgekeerde Marcionisme. Die Skrif is ’n eenheid. Die God van die Ou Testament is God-Drie-enig. Word die Christologie uit die Ou Testament geteologiseer word die God van die Ou Testament ’n ander God as God-Drie-enig en kom omgekeerde Marcionisme voor. Die vroeë kerk het die Ou Testament Christologies gelees wat anders is as Christomonisties of fundamentalisties-Christosentries. Luther se uitgangspunt vir die oorweging van die kanon, naamlik “Christum treibt”, het inderdaad sin in die lig van God Drie-enig se Openbaring.

4 Joh 6:43-47; 6:68; 7:37-39; 12:44, ensovoorts.

5 Die klassieke teks in Efesiërs 1:4, wat dikwels totaal supralapsaries verstaan word, dui juis aan dat die uitverkiesing in Christus is en nooit los van Hom verstaan mag word nie.

6 Romeine 10:14-15 “Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur word nie? Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van die wat dié goeie boodskap bring.’”