Taljaard, A
Dept Sistematiese Teologie en Ekklesiologie
Universiteit van Stellenbosch

Die nagmaal as middelruimte tussen ryk en arm gelowiges om sigbaarheid aan versoening in die samelewing te gee.

ABSTRACT

The Eucharist as middle space between rich and poor believers to embody reconciliation in society

The gap between the eschatological vision of reconciliation and the realities of social and political life cannot be bridged by words alone, but only by word that take on flesh and concreteness (De Gruchy 2002:75). I therefore propose a structure, a concreteness that could become a reconcile-reality between the rich and the poor, the structure being the middle space as the Eucharist. This article underlines the importance of the recognising of the unjust system and the acknowledgment of fellow human beings as our neighbours, our bothers and sisters. The article also shows that the relationship “between us” needs exploration. It then clarifies this space between us, by revering to the work of the South African artist Williamson and the narrative “Disgrace”. These works show within the South African context how time, the middle space and dialogue challenge and influence this relationship between us. In the light of this example, I propose then that the Eucharist could become the middle space where believers meet and where time and dialogue are transformed. Therefore, this middle space could open up the possibility firstly, to realise and to act our responsibility towards one another and secondly to embody this reconciliation and restorative justice in society.

DIE HERKENNING VAN DIE GAPING TUSSEN BEVOORREGTES EN MINDER- BEVOORREGTES

Dis ’n koue winteroggend in Guguletu en voor die kantoordeur staan daar ’n man ineengetrek. Sy gesig is vaal, opmerklik sterk, maar sy oë is moeilik om te lees of te beskryf. Ons groet. Hy kyk my vas in die oë: “I am a living corpse.” Ek deins terug. “Yes, I am a living corpse!” Vir ’n uur luister ek na sy verhaal van vlugtelingskap, hoe hy sy vrou, kinders en besittings verloor het. ’n Sudanees aan die suidpunt van Afrika wat blyplek soek vir sy moeë liggaam en poëtiese siel.

Teen die middag stap hy uit, die niet in, verdwyn hy weer in ’n onsigbare wêreld van oorlewing. Ons kon hom nie help nie, in die sekretaresse se woorde “xenofobia”. Ek staan onbeholpe rond, kyk hoe die maer lyf voortsleep en ek wens ek het die moed gehad om agter die man aan te gaan en hom na my huis te neem. Ek het nie.

Dis dieselfde dag en ons ontvang Amerikaanse besoekers van die organisasie “Open Arms”. Hulle dink daaraan om na Suid-Afrika uit te brei en wil veral na die voedingsprojek van die gemeente kom kyk. Ek wys hulle rond en hulle nooi my om aandete saam te eet.

Ek staar na my bord kos – ek is in die “Mount Nelson Hotel”, met kelners wat kraakskoon is en onberispelik optree. Mense wat glimlag en goedige grappies met die gaste maak. Swart kelners. Beelde van sinkhuisies en min kos bly by my opkom. Die gaping is te groot om in te neem, die absurditeit van die situasie bly my koggel. Rykdom en armoede, wêrelde uit mekaar. Ma’s wat sterf aan vigs, ’n lewende lyk, ’n duur stukkie vis op ’n bord en sagte kerslig.

Die volgende dag kan ek myself nie meer beteuel nie en konfronteer die vroue by die Bybelstudie.

“Hoekom word julle nie kwaad nie?” “Wat praat jy vandag?”

“Hoekom word julle nie kwaad vir al die onreg, vir die gaping tussen ryk en arm mense, vir die gesukkel nie. Hoekom bly julle sulke goeie mense?”

Daar is stilte en glimlagte op hulle gesigte. Dis ouer vrouens, vrouens wat elke dag vas staan, kinders, kleinkinders, buurkinders groot kry. Vrouens wat myle loop om siekes te besoek en die kerk in baie opsigte vergestalt.

Die een vrou hou haar Bybel vas, “Die Here leer ons.”

Ek staan verbysterd en weet dat ons die goedheid van ons medemens te ver dryf (De Gruchy 2002:208).

Binne die toetrede van hierdie konteks waar ek gekonfronteer is met die realiteit van die gaping, word dit voor die hand liggend, “common sense”, dat die balans onewewigtig is en herstel behoort te word. Die “sien” ontlok ’n erkenning, ’n bewustheid van onreg, ’n “ja dit is verskriklik en dit kan nie so aangaan nie”.

Hier te midde van stofstraatjies en sinkhuise word die herkenning, die “sien” van hierdie strukture van onderdrukking en ongeregtigheid ’n identiteitsvraag . Gaan ek maniere soek om gelykheid te bevorder of gaan ek eerder dit wat ek uit ’n vorige sisteem ontvang het, beskerm en verder uitbou? (De Gruchy 2002:185). Die antwoord lê in ’n groot mate opgesluit in hoe ek my verhouding tot die “ander” sien en in watter mate ek toelaat om die vraag binne ’n “Christelike paradigma” te stel. Ek kyk vervolgens na my verhouding tot die “ander”.

DIE HERKENNING VAN DIE “ANDER”, DIE MINDERBEVOORREGTE AS MY MEDEMENS

Ek, die buurvrou en die siek vrou, sit in die sitkamertjie van die drievertrekhuisie. “Weet jou kinders al dat jy besig is om te sterf?”

Sy skud haar kop en wanhoop staan orals geskryf. Dwars oor die los sinkplate, dwars oor die bakke wat druppende reën opvang en dwars oor haar siek, maer gesig en lyf.

“Sal een van jou susters na jou kinders kan omsien?”

Sy huil, sy skud weer haar kop, “Hulle is reeds begrawe, wat gaan van my kinders word? Wat gaan van my kinders word ...”

Minute later staan ons buite. Ek kyk op en af in die armoedige straat en skielik wens ek ek het haar nie ontmoet nie, ek wens dat ek hierdie vyftien minute besoek kon uitwis en dat ek nie met haar graad van armoede gekonfronteer is nie. Ek raak bewus van my ongemak met die besef dat hierdie vrou, hierdie mens, my medemens, my naaste is.

Die toetrede tot die konteks en hierdie “sien van die ander” het volgens Levinas in die bundel “Entre nous”, verdere implikasies. Levinas argumenteer dat in hierdie aangesig tot aangesig ontmoeting, ons mekaar sien en dat die “ek” primêr verantwoordelik vir die “ander” word. Dit is nie net ’n simmetriese verhouding nie, nie net ’n gelyke ontmoeting nie, maar ’n asimmetriese verhouding: “at the outset I hardly care what the other is with respect to me, that is his own business; for me, he is above all the one I am responsible for”. Hierdie is nie net ’n ontmoeting tussen ons nie, maar eerder ’n verbinding aan mekaar en vanuit hierdie verbinding moet etiek bedryf word (Levinas 1998:104).

DIE OPENING VAN ’N RUIMTE TUSSEN ONS

In die voorafgaande gedeelte word dit duidelik dat ryk en arm mense in ’n verhouding tot mekaar staan en dat hierdie partye nie kan versoen of regstellende geregtigheid beoefen, sonder dat die vervreemde partye mekaar ontmoet nie. Vervolgens wys ek dat hierdie ontmoeting, ons teenoor mekaar stel en dat daar dus ’n ruimte “tussen ons” oopmaak. Wat dan in hierdie ruimte “tussen ons” gebeur word die kritiese saak, ongeag die aard van die versoening wat ons soek. Ongeag of dit regverdiging by God is, die vernuwing van interpersoonlike verhoudings of die verandering van die samelewing. Dit is ’n vorm van geregtigheid wat te doen het met die heling van verhoudings, hetsy persoonlik of polities (De Gruchy 2002:2).

John de Gruchy beskryf aan die hand van die werk van ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar Williamson, hoe krities hierdie ruimte tussen ons raak.

Each of Williamson’s pictures is divide into three vertical panels. In the left-hand and right-hand panels Williamson has captured the photographic images of a victim and the perpetrator of the crime against that victim. They are looking, as it were, at each other face-to-face, but over through the middle space. This space is filled with images of the crime committed. One painting, for example, shows Winnie Madikazela Mandela in the right-hand panel, the abducted and murdered young black activist Stompie Sepai in the middle, and Stompie’s mother in the left-hand panel. There are several wooden rails fixed across each painting. Each rail has a groove along which a narrow board can be drawn by the observer from one side of the picture to the other and placed at any point. A pertinent quotation from the TRC hearing made by either the victim or perpetrator is written on each board. So by moving the boards from one side to the other you sense of a conversation that is taking place over and about the person or event on the panel between the two. “How could another mother do such a thing?” asks Stompie’s mother. “It was a horrible mistake,” confesses Winnie Mandela. It is not obvious or clear whether the two hear each other, or actually respond to one another. But the observer is drawn into the middle space, and thus into the conversation as he or she moves the sentences from one side to the other, identifying with victim on the one hand and with perpetrator on the other.

It is there, in the middle between the two, that the real interfacing and interaction occurs, for it is the murdered Stompie himself who becomes the one that draws his mother and Winnie Mandela into confrontation and conversation, and opens up the possibility of healing and reconciliation. But it is also there, in the space between the victim and perpetrator that those of us who view the painting have to struggle with our own experience as victim, perpetrator or bystander as we recall those people and events. The opening up of the space in between, drawing us into the confrontation and conversation, is the art of reconciliation at work, the taking of the first step if you like. It makes it possible for us to both see ourselves and to see the other, to recall and remember that which brought about destruction, alienation and dehumanisation, and to explore the possibilities of overcoming and transforming the past. The raw material for Williamson’s art of reconciliation is the TRC process, but the process she draws us into would apply to other forms and levels of reconciliation as well (De Gruchy 2002:149).

Die opening van ’n ruimte tussen ons. Hierdie middelruimte wat die moontlikheid van kommunikasie, konfrontasie, verstaan en heling inhou. ’n Ruimte waar die konteks en die tyd, verlede, hede en toekoms ingetrek word, maar nie die potensiaal van die middelruimte onderskryf nie. Hierdie onvoorspelbare ruimte wat ons van ons mag ontneem en op gelyke voet met ons medemens plaas. ’n Ruimte waar kreatiewe alternatiewe en heling moontlik is.

Die opening en toetrede van ’n middelruimte tussen ryk en arm mense in Suid-Afrika, is nie gegewe nie. Daar is wel kontak tussen ryk en arm mense maar in baie gevalle is die kontak van so aard dat dit slegs die rolle versterk. Die ryk persoon bly aan die kant van mag as die “gewer, redder, versorger” en die arm persoon bly aan die kant sonder mag as “behoeftige, bedelaar,weerlose, uitgelewerde”. Die interaksie is vooraf gedikteer, byvoorbeeld dat die bedelaar sal bedel en dat die ryke sal gee of weier om te gee. Hierdie tipe ontmoeting vind nie plaas vanuit die middelruimte, waar die onreg tussen ons staan en erken word en die partye as gelyke medemense ontmoet nie. Die middelruimte kan ons dus nie uitdaag om ’n breër identiteit te omarm nie. Die ontmoeting vind buite die middelruimte plaas waar geografiese, kontekstuele ruimtes en die verlede begin dien as grensdraad. Dit maak die toetrede van ’n middelruimte, ’n kreatiewe ruimte waar ons kan ontmoet en verander baie moeilik.

Die verhaal “Disgrace” verwoord onder andere die toetrede van die middelruimte in die Suid- Afrikaanse konteks en die uitdagings wat die geografiese, kontekstuele ruimtes en verlede aan hierdie ontmoeting stel. J M Coetzee verwoord hierdie ontmoeting in wat ek beskryf as ’n worsteling met ruimte, tyd en dialoog.

Ek noem dit spesifiek ’n worsteling, want binne die dialoog met “ander” en met “self”, is die verlede, hede en toekoms gelyktydig teenwoordig, asook bekende ruimtes en ongemaklike nuwe ruimtes. Hierdie worsteling van diverse komponente binne die dialoogruimte, vorm die agtergrond waarin die gesprek plaasvind. Die tipe interaksie en interpretasie tussen hierdie komponente beïnvloed die dialoog en moontlik die huidige keuses en bepaal sodoende die omarming of verwerping van ’n breër identiteit.

In die verhaal “Disgrace” word Lucy, ’n blanke boervrou deur drie swart mans verkrag. Sy raak swanger en besluit om haar baba te behou. Haar verhaal word verder gekompliseer wanneer, deur die saamvloei van omstandighede sy een van haar verkragters leer ken en hy haar buurman word. Haar vader David eis dat sy die onreg aan die kaak stel, geregtigheid soek, na ’n veiliger omgewing verhuis en ’n nuwe professie beoefen. Sy weier. Sy wil op haar stukkie grond bly. Sy wil boer. Sy sal die kind baar. Sy sal vir hom/haar lief word. Haar vader verstaan nie. Hy interpreteer haar besluit in die lig van die verlede, “Do you hope you can expiate the crimes of the past by suffering in the present?” (Coetzee 2000:112). Sy probeer haar nuwe posisie verduidelik en besluit dan dat verdere gesprek net die situasie gaan vererger. “Guilt and salvation are abstractions. I don’t act in terms of abstractions. Until you make an effort to see that, I can’t help you” (Coetzee 2000:112). Sy onttrek van verdere gesprekke en gaan voort om haar keuse uit te oefen.

Lucy is te midde hierdie interaksies en interpretasie van tyd, ruimte en dialoog. Haar swangerskap is ’n pynlike herinnering aan die verkragtingsdaad en verkragters. Verkragters wat in ’n onderdrukte en gewelddadige Suid-Afrika groot geword het. Haar hede is ingekleur met haar weerlose en uitgelewerde posisie as enkel swanger boervrou, gemerk met haar toenemende kontak met een van die verkragters en haar wil om te bly boer. Haar toekoms hou belofte in van nuwe lewe en selfs sterker verbindings met haar bure en met haar professie en ’n moontlike slegter verhouding met haar vader; ’n onsekere prentjie. Haar swanger liggaam gee sigbaarheid aan die verskuilde misdaad. Sigbaarheid aan haar keuses, sigbaarheid aan haar nuwe identiteit. In die toekoms sal haar kind iets van hierdie interaksie en interpretasie verteenwoordig, ’n Nuwe teken, gebore uit die worsteling met tyd, ruimte en dialoog.

Lucy en David staan aan weerskante van hierdie misdaad, die ongebore kind en haar keuse om te bly. Hierdie misdaad, keuses en familieverbintenis, trek hulle dan in die middelruimte in, sodat hulle begin kommunikeer as gelyke mense, “Dearest Lucy, with all the love in the world, I must say the following. You are on the brink of a dangerous error. You wish to humble yourself before history. But the road you are following is the wrong one. It will strip you of all honour; you will not be able to live with yourself. I plead with you, listen to me. Your father” (Coetzee 2000:161).

Sy skryf later terug: “Dear David, you have not been listening to me. I am not the person you know. I am a dead person and I do not know yet what will bring me back to life. All I know is that I cannot go away. You do not see this, and I do not know what more I can do to make you see. It is as if you have chosen deliberately to sit in a corner where the rays of the sun do not shine. I think of you as one of the three chimpanzees, the one with his paws over his eyes. Yes, the road I am following may be the wrong one. But if I leave the farm now I will leave defeated, and will taste that defeat for the rest of my life. I cannot be a child for ever. You cannot be a father for ever. I know you mean well, but you are not the guide I need, not at this time. Yours, Lucy” (Coetzee 2000:161).

Die uitkoms van hierdie ontmoeting in die middelruimte is nie voorspelbaar nie. Tog blyk dit dat Levinas se asimmetriese aard van die verhouding van kardinale belang is om ’n toetrede tot hierdie ruimte op te roep (Levinas 1998:105) Dis slegs wanneer ek primêr verantwoordelik is vir die ander, dat ek ’n ruimte sal soek om hierdie verantwoordelikheid te begin verstaan en op te neem.

Wanneer ons egter hierdie middelruimte binne die Christelike paradigma plaas, is dit nie slegs die onreg wat ons aan mekaar verbind nie, maar ook Christus en daarom behoort ek geroepe te voel om hierdie middelruimte te betree. Ek wys vervolgens hoe ryk die potensiaal van hierdie middelruimte kan wees.

DIE NAGMAAL AS MIDDELRUIMTE

Die struktuur wat ek wil voorstel wat ’n versoeningsrealiteit binne hierdie gaping tussen rykdom en armoede kan word, is die nagmaal as middelruimte. Om terug te keer na die kunswerk van Williamson – die arm gelowige is in die een paneel, die ryk gelowige in die ander paneel en die middelruimte, die nagmaal.

Die ruimte waar die onreg oorwin is

Die nagmaal word ’n ruimte waar ons as gelykes ontmoet, ’n ruimte waar die onreg van die sisteem nietig verklaar word deur die teenwoordigheid van die kruis. “The reconciliation of the world becomes possible through the death of Christ precisely because it signifies the ultimate defeat of the principalities and powers of this world and, at the same time, declares the power of God’s love and grace in overcoming sin and alienation” (De Gruchy 2002:135).

Die ruimte waar ons uniek aan verbind mekaar word

Ons herken mekaar dus oor hierdie ruimte van brood en wyn, gekruisigde en opgestane Heer, as medegelowiges. Ons word in die middelruimte ingetrek deur die teenwoordigheid van Christus en ons word bewus van ons verbinding en verantwoordelikheid vir mekaar.

Deur die gebruik van die nagmaal word ons as gelowiges saam gebind in Christus. In ’n verbinding wat vervreemding oorkom. Die tafel is simbolies van sowel die plek van teenwoordigheid as dié van ontmoeting. Die teenwoordigheid van Christus deur die Gees as verwelkomende gasheer en die ontmoeting van die familie van God rondom die tafel in gemeenskap met mekaar (De Gruchy 2002:99).

Dis nagmaal in die Guguletu-gemeente. Die atmosfeer is gelaai met ’n soort afwagting. Die sang vul die gebou en vir drie ure lank word ons omhels met ’n gevoel van behoort, ’n gevoel van gemeenskap.

Dis vir my ’n besonderse nagmaal, want ek begin nou mense in die gemeente ken. Ek voel nie meer soos ’n vreemdeling nie, want die gesigte begin name kry en die name word mense met stories. Mense wat my begin vertel wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Mense met wie ek in ’n verhouding begin staan. As ’n nuweling word ek dan ook genooi om by die tafel aan te sit. Ek sit oorkant ’n jong man en ’n ouer dame wat albei op die kerkraad dien. Tussen ons, die tafel, met brood en wyn.

Die predikant stel die tekens in en hy herinner ons aan die getrouheid van God. Daarna breek hy die brood en drink ons wyn uit dieselfde beker. Ek kyk op, ek sien die siek vrou en haar kinders, ek sien ’n ander jongvrou wat desperaat werk soek, ek sien een van die voorsangers wat moedeloos gesukkel is met haar rebelse jong tiener, ek dink aan die vlugteling. Ek sien hoe hierdie gelowiges die brood en wyn ontvang. Ons, ek en hulle deel van een liggaam, gevoed deur dieselfde brood en wyn.

Die ruimte waar tyd getransformeer word

Die klassieke anamnese-gedagte

Wanneer vervreemde partye in die nagmaalsruimte ontmoet verwys die verlede nie net na die onreg en historiese bewussyn nie, maar ook na ’n gekruisigde en opgestane Heer. Dit skep dus die moontlikheid van vergifnis oor die onreg en die wete dat Christus reeds oorwin het.

Die hede is nie net ’n daaglikse bestaan van oorlewing en pyn waar mense uitgelewer en wanhopig is nie. Tydens die middelruimte word hierdie gelowiges weer verbind aan ’n gemeenskaplike familie met ’n eskatologiese verlede en toekoms. ’n Ruimte waar pyn gedeel kan word omdat ons as een liggaam verbind is en Christus pyn ken en dit vir ons dra. Die toekoms is nie net wat menslik moontlik is nie, maar ’n wete van ’n nuwe koninkryk van God. ’n Toekoms waar mense moontlik anders kan dink oor hul medemens en weer kan hoop (Cavanaugh 1998:280).

Hierdie realiteit bied aan gelowiges die geleentheid om mekaar en die wêreld te dien, verbind te wees, vir nou en vir altyd. Die sakramente verbind die herinnering aan die verlede met hoop vir die toekoms op so ’n manier dat dit nou versoening moontlik maak. Dit is, die sakramente word die genade vir heling en vernuwing (De Gruchy 2002:100).

DIE SIGBARE RUIMTE BINNE ’N GEBROKE WÊRELD

Dit is egter nie net die gelowiges wat mekaar moet ontmoet nie, maar vanuit hierdie middelruimte waar ons reeds ontmoet en verbind is, behoort ons ’n sigbare ruimte van regstellende geregtigheid vir die samelewing te word.

Die nagmaal is nie net die deel in gemeenskap in die “breek van die brood” nie, maar ’n toewyding om ons lewe en besittings te deel met “ander” in nood en so die “brood vir die wêreld” te word (De Gruchy 2002:100).

Die nagmaal is nie net die ontmoeting van familie nie, maar ook die uitnodiging van ander na die feesmaal. Die uniekheid van die tafel as ruimte waar die nuwe gemeenskap ontmoet, verbind word, met mekaar deel – word ook ’n teken van versoening en geregtigheid wat God wil vir die samelewing as ’n geheel (De Gruchy 2002:99).

Hierdie beliggaamde ruimte, sigbare identiteit, getuig dan tot die samelewing van ’n verbinding en verantwoordelikheid (De Gruchy 2002:18). Dit hou die droom van ’n versoenende samelewing wakker. Dit help bou aan ’n menslike gemeenskap op so ’n manier dat die gaping tussen ryk en arm deur regstellende geregtigheid oorbrug word (De Gruchy 2002:100).

Dis die oggend na die Nagmaal, een van die jong pastore steek sy kop by my kantoordeur in. “You know, I don’t feel this ‘black and white thing’ between us. It feels good!”

Hy glimlag en stap verder. Ek sien ons saam aansit by gister se tafel, ek en hy met die tekens tussen ons. ’n Oomblik, ’n moment van sien, herken, verstaan, visualiseer, hoop, vir altyd gebind aan mekaar, verantwoordelik vir mekaar. Ek glimlag, die kreatiewe helingsmoment tussen vervreemdes. Die sigbaarheid van ’n bevoorregte aan die armes se tafel, ’n getuienis dat ons mekaar se ruimtes betree en toelaat dat ons identiteit kan verander, ’n eerste tree, ’n draai na mekaar deur die vrygewigheid van ons Vader. En deur hierdie genade word versoening in die samelewing stadig sigbaar.

BRONNELYS

Cavanaugh, William T 1998. Torture and Eucharist. Oxford: Blackwell Publishing

Coetzee, J M 2000. Disgrace. London: Vintage Random House

De Gruchy, J W 2002. Reconciliation Restoring Justice. London: SCM Press

Levinas, Emmanuel 1998. Entre nous thinking-of-the-other. London: The Athlone Press Ltd.