Die lang pad van bekering. Deel 5. Wat kan Gereformeerde kerke leer uit die kategumenaatproses?
ABSTRACT
The long road of conversion. Part 5. What Reformed churches can learn from the cathecumenate?
In this last article the process and content of the catechumenate is evaluated. The question is asked: What we can learn from this ancient liturgical-didactic process for today? With this question in mind this contribution to the series aims to look at the principles inherent to the catechumenate and ask what this means for the rest of our congregational practices today.
In hierdie laaste hoofstuk wil ons die kategumenaat na sy inhoud en as proses evalueer en vra wat uit die proses geleer kan word vir ons dag. Ons het in die vorige artikel reeds verwys na kerke wat tans die kategumenaat in minder of meerder aangepaste vorm gebruik. Dit is een moontlikheid. Die tweede moontlikheid is dat ons die beginsels onderliggend aan die proses verstaan en vra wat dit vir die res van ons gemeentepraktyke en -bedienings beteken. Dit is wat ons in hierdie artikel wil doen.
1. INLEIDEND
Die ontdekking en rekonstruksie van die kategumenaatproses wat in die vroeë Christelike kerk gebruik is om bekeerlinge uit die heidendom in die Christelike kerk in te bring is ’n groot wins vir die kerk van ons tyd. Die Rooms Katolieke Kerk het reeds vroeg al begin om navorsing te doen oor wat te leer is uit die proses en hoe dit vandag gebruik sou kon word. Ander kerke soos die Lutherane en Anglikane het mettertyd gevolg, maar kerke van gereformeerde belydenis het eers heelwat later by die proses bygekom (sien deel 4). Die Reformed Church in America het ’n program wat op die kategumenaat gebaseer is goedgekeur, terwyl die PCUSA nog in ’n ondersoekfase is met hulle proses.
Die stadiger reaksie van die kerke van Gereformeerde belydenis het waarskynlik te doen met die feit dat die gesprek oor kategumenaat vir ’n lang tyd gevoer is in die kringe van die Nuwe Liturgiese Beweging. Omdat Gereformeerdes hulleself nie soseer as ’n liturgiese kerk nie, maar eerder as ’n woord-kerk sien, was hulle deelname aan die liturgiese beweging nooit so aktief nie. In ’n ander sin is die stadige reaksie vreemd want op ten minste twee ander vlakke lê die dieper motiewe van die kategumenaat naby aan beklemtonings wat vir Gereformeerdes belangrik is. Die kategumenaat het nie net ’n sterk liturgiese kant nie, maar ook ’n baie sterk lerings- of didaktiese kant – ’n klem wat Gereformeerdes deur die eeue na aan die hart gelê het. Verder is dit so dat die kategumenaatproses sy vertrekpunt daarin neem dat geloof en deelgenootskap aan die kerk ’n ernstige saak is wat ’n duidelike verbintenis van mense vra. Ook vir hierdie sentiment behoort Gereformeerdes heelwat waardering hê.
Dit is duidelik dat Gereformeerdes ernstiger as wat hulle tans doen, behoort te besin oor die kategumenaatproses omdat daar ook vir hulle veel daaruit te leer is. Dit is te meer waar in ’n tyd waarin heelwat Protestantse kerke groot probleme met hul jeug ervaar en strome van hul jongmense verloor. ’n Groot persentasie van die kinders verdwyn eenvoudig nadat hulle belydenis van geloof afgelê het. Volgens Rick Osmer (1996:3v) het die probleme onder andere te doen met die opkoms van ’n nuwe lewensfase naamlik adolessensie wat die ou gevestigde kerklike patroon van kategese en belydenisaflegging op ouderdom 16 of 17 heeltemal deurmekaar krap.
’n Bykomende rede vir die Westerse Kerke se probleme met hul kategeseproses is dat die era van die Christendom na 17 eeue in die Weste aan die opbreek is. Die kategetiese patroon wat in die na-reformatoriese tyd gevestig is, het vir bykans vyf eeue gehou omdat die kerk binne ’n Christendom-paradigma gefunksioneer het. Die aanduiding is dat die Weste (sekerlik Europa) nou ’n tyd tegemoetgaan waarin toestande meer vergelykbaar sal wees met dié van die voor- Konstantynse kerk. Dit is die era waarin die kategumenaatproses ontwikkel is.
Ons meen – saam met vele ander – dat Protestantse kerke en ook Gereformeerdes in die situasie baie kan leer uit die kategumenaatproses. Daar moenie verwag word dat die proses van destyds net afgestof en geïmplementeer kan word nie – so kan ’n mens nie met die geskiedenis werk nie. Maar ons is van oordeel dat daar baie wysheid ten grondslag van die proses lê waaruit ons veel kan leer vir ons hedendaagse bedienings.
Vir kerke wat die kinderdoop aanvaar en wil handhaaf, kan die kategumenaatproses nooit die antwoord op alle vrae rakende kategetiese werk wees nie. Die kategumenaat kom uit ’n sterk sending-era en was ontwerp om mense wat glad nie deel was van die kerk nie te begelei tot geloof en dissipelskap. Tog is daar ’n paar wesenlike uitgangspunte wat in die kategumenaatproses vervat is, waaruit alle kerke kan leer.
2. GELOOF IN JESUS CHRISTUS EN DEELGENOOTSKAP AAN SY KERK IS NIE ’n GOEDKOOP SAAK NIE
Die eerste punt wat ’n mens opval as jy ’n meer volledige prentjie kry van die kategumenaatproses en wat dit alles van deelnemers gevra het, is dat dit ’n ernstige en gewigte saak was. Geloof in Jesus Christus en deelgenootskap aan sy liggaam het nie teen ’n goedkoop prys gekom nie. In die begin was dit ’n proses wat ongeveer vier jaar kon neem om tot voltooiing te kom. Op die pad was daar meer kere geleenthede waar soekers moes besluit of hulle diep genoeg gegryp is deur die saak van die evangelie om nog verder te gaan daarmee.
Dit val te meer op in ’n tyd waar baie kerke lidmaatskapstandaarde verlaag het en nogmaals verlaag het en mense toegelaat word om hulle eie verstaan van geloof te formuleer – alles in ’n vergeefse poging om meer lidmate vir die kerk te werf.
Die rol wat geheimhouding in die hele proses gespeel het, is baie interessant. Mense is tree vir tree in die geloof ingelei. So byvoorbeeld moes die soekers die erediens verlaat na die Woorddiens voordat die sakramente bedien is. Hulle eerste kennis en kontak met die nagmaal was aan die einde van die proses as hulle as volwaardige lidmate toegelaat is. In dieselfde lyn moes hulle die geloofsbelydenis uit hulle kop leer omdat die teks daarvan nie neergeskryf kon word nie weens vrees vir profanisering. Dit is so dat vrees vir vervolging in die beginfase waarskynlik een van die redes vir die geheimhouding was. Daar kan egter geen twyfel wees dat die geheimhouding mettertyd die indruk bevestig het dat die evangelie ’n skat van groot waarde was waarmee nie ligtelik omgegaan kan word nie.
Dit is nie vreemd nie dat al hoe meer teoloë uit die Anabaptistiese tradisie tans ywerig navorsing doen oor die kategumenaat (vgl. o.a. die werk van Kreider,1999 en Webber, 2001). Die het veral te doen met die hoë standaarde en die veeleisende proses. Gereformeerdes behoort hierdie belangstelling te deel omdat ’n mens by Calvyn dieselfde erns oor die evangelie en die vrees vir profanisering aantref.
As mens daar na die praktyk beweeg, sal die volgende konkrete aanbevelings ter oorweging gegee kon word:
2.1 Om die evangelie en lidmaatskap van die kerk goedkoper te maak in die hoop dat jy daarmee lidmate gaan wen, is ’n bedenklike praktyk waarmee die kerk net kan verloor. Om dit te doen sou ontrou wees aan die evangelie en aan die voorbeeld van Jesus. Dit is een ding om ywer te hê vir die evangelie en voortdurend te bly dink hoe mense tot geloof gehelp kan word, maar om die waarheid van die evangelie in die proses af te swak is nie ’n oplossing nie.
Die bitter ervaring van vele Protestantse kerke die afgelope paar dekades was dat dit in elk geval ook nie werk nie. In die middel jare sewentig het Dean Kelly (1972) reeds geskryf dat sy navorsing eerder op die teendeel dui: hoe strenger en meer konserwatief kerke is, hoe beter groei hulle. Hoewel heelwat ander navorsers Kelly se tese bevraagteken het (vgl. Hoge & Roozen, 1979), sal min mense vandag ontken dat hy iets van die waarheid beetgehad het. In haar uitstekende publikasie oor jeugwerk in die kerk bevestig Kenda Dean (2004:xi-xv) dit as sy sê dat jongmense passie soek – iets om voor te sterf – en dit nie altyd in die kerk kry nie.
2.2 Die groot vraag is wat dit vandag vir die situasie van die gevestigde kerke beteken? Daar is heelwat kerke wat weer kyk na die oplossing van die Anabaptiste tradisie naamlik om die kinderdoop op te hef en mense eers as lidmate van die kerk toe te laat en te doop as hulle persoonlik belydenis van hulle geloof kan aflê. Na ons mening is dit nie ’n opsie vir Gereformeerdes nie. Die kinderdoop is een van die weinige helder simbole van God se voorkomende genade in ons lewe. Hierdie aspek het te doen met die hart van die evangelie en kan nie geoffer word nie. Daar is ook meer as genoeg Skrif- en historiese getuienis om die kinderdoop te regverdig. Ons sal die oplossing in ’n ander rigting moet soek. Die fout lê nie by die doop nie, maar by wat na die doop gebeur – of beter gesê, dikwels nie gebeur nie (vgl in die verband Burgess, 2005 se uitstekende boek After Baptism).
As die gevestigde kerke hul standpunt oor die kinderdoop handhaaf, gaan dit wel van hulle vra om ernstig te kyk na die praktyke rondom die doop. Ons het na hierdie studie geen twyfel dat studie en nadenke oor die herwinning van die waarde van die kinderdoop een van belangrikste uitdagings vir die ouer Protestantse kerke is nie.
2.3 Calvyn en ander reformatore se intensie was om die erns van die geloof te handhaaf en te bevestig onder andere deur die praktyk van die kerklike tug. Dit was veronderstel om ’n wesenlike onderdeel van die geloofsorg na die doop te wees. In die praktyk het die tug egter op vele plekke ’n negatiewe kleur gekry – wat meer skade gedoen het aan die beeld van die evangelie as wat dit gehelp het. Kingdon (2004) se werk in verband met Calvyn se konsistoriegesprekke in Genève het veel gedoen om ’n beter perspektief te gee op die pastorale kant van die proses. Verdere navorsing en veral vertalingswerk in die verband is egter nodig. Gereformeerdes soek na ’n manier om die idee agter die tug op ’n liefdevolle, positiewe en ondersteunende wyse toe te pas. Die kritiese punt gaan wees dat mense in die proses steeds met respek en op ’n nie-outoritêre wyse behandel sal word.
2.4 Alan Roxburgh het in Missional Church (1998:183-220) ’n voorstel gemaak wat ons dalk verder op die pad kan help. Hy kyk na gemeentes na aanleiding van die sosiologiese onderskeiding tussen die sogenaamde centered sets en bounded sets. ’n Mens sou in Afrikaans kon praat van ’n gefokusde groep en ’n omgrensde groep. ’n Omgrensde (bounded set) gemeenskap werk met baie duidelike grense. Die identiteit van die groep word by die grense en deur die grense bepaal. Die grense definieer wie kan deel wees van die groep en wie nie. In ’n gefokusde groep (centered set) verskuif die fokus na die middel: ’n duidelike definisie van die kern. Terwyl die grense meer oop en vaag is, is die kern baie duidelik – en gewoonlik ook positief en aantreklik omskryf. Roxburgh meen dat die keuse vir die hoofstroomprotestantisme dié is van ’n centered set-groep. Dit beteken dat daar baie duidelik gedefinieer word wat dissipelskap en geloof werklik beteken en vra. Dit beteken ook dat al die dissiplines en praktyke van die gemeente mense daaraan herinner en hulle tot so ’n lewe wil begelei. In ons dag sal onselfsugtige en nie-dwingende diens aan ander ’n wesenlike deel van so ’n definisie van Christelike geloof moet wees.
Dit beteken ook dat die buitegrense van die kerk meer oop kan wees – sodat vreemdeling en besoekers vrylik kan kom en gaan. Terwyl die gemeente hulle telkens opreg verwelkom met gasvryheid en liefde – ook in die erediens (vgl. Keifert, 1992 se Welcoming the Stranger) – word daar geen emosionele of morele druk op hulle geplaas om voortydig ’n besluit oor dissipelskap te neem nie.
3. INHOUD VAN BEKERING AS GELOOF, GEDRAG EN BEHOORT
Wat ’n mens ook opval as jy na die hele program van die kategumenaat kyk, is dat geloof in al sy veelkantigheid hier aan die orde kom. Alan Kreider (1999:xiv-xvii en 86-107) meen dat die krag van die kategumenaat daarin gelê het dat dit behoorlik aandag gegee het aan drie wesenlike kante van bekering naamlik geloof (beliefs, bedoelende geloofsinhoude), gedrag of lewenstyl (behaviour) en deelgenootskap van ’n groep (belonging of behoort). As ’n mens gaan kyk na die verskillende fases van die proses is dit duidelik dat Kreider reg is en dat al drie die sake bykans in elke fase aan die orde gekom het.
Wat kan gereformeerde kerke hieruit leer vir hulle gemeentelike praktyk?
3.1 Reformatoriese kerke, en veral dan kerke van Gereformeerde belydenis, word dikwels daarvan beskuldig dat hulle ’n oormatige sterk klem lê op die rasionele verstaan van die geloofsinhoude van die evangelie. Hoewel ’n mens versigtig moet wees met veralgemenings, moet erken word dat die beskuldiging nie sonder grond is nie. Dit het veroorsaak dat in die kategese byvoorbeeld die oorwig van tyd gegee is aan verduideliking van die geloofsinhoude. Die veronderstelling is gewoonlik dat as mense die inhoud reg verstaan en reg kan weergee, die res min of meer vanself sal volg.
Dit is nodig om van meet af te sê dat hierdie lyn van denke meer Luthers as Calvinisties is en in ieder geval eerder ’n erfenis van die na-Reformatiese tyd as van die Reformasie self is. Calvyn het duideliker as Luther die nodigheid van onderlinge, etiese vermaning en ondersteuning in die geloofsgemeenskap goed verstaan (vgl die konsistoriegesprekke en tug). ’n Mens kan egter nie ontken dat in die praktyk van gereformeerde bedienings rondom kategese en opvoeding daar dikwels ’n eensydige klem op die rasionele was nie.
3.2 Die kategumenaatproses leer ons dat daar van meet af duidelik gepraat moet word oor die gedragkant van die evangelie. Dit het veral in die eerste twee fases van die proses baie sterk aan die orde gekom. Daar is rede om te vermoed dat dit reeds in die eerste fase baie sterk teenwoordig was. As gevolg van die arkan-dissipline het buitestanders nie altyd veel geweet van die werklike inhoud van die evangelie nie; wat hulle in die eerste rondte gesien het, was die andersoortige gedrag en lewenstyl van die Christene. Die vermoede is dat presies dit ’n prominente tema in die eerste geloofsgesprekke was. Mense het van meet af geweet waarvoor hulle hulleself gaan inlaat in terme van gedrag en optrede – selfs nog voordat hulle die inhoud van die evangelie werklik verstaan het.
Dit is belangrik om by te voeg dat die Nuwe Testament ook hierdie patroon volg. ’n Mens sien dit veral sterk in Jesus se bediening. Hy was van meet af uitgesproke oor wat die evangelie van mense vra (bv Matt. 16:24). Hy het die eise van dissipelskap duidelik uitgespel – reeds wanneer Hy iemand geroep het om Hom te volg.
’n Mens sou moeilik kon sê dat Calvyn self nie ernstig was hieroor nie. Dit blyk uit sy preke en veral uit die sterk klem wat hy deurentyd op die wet geplaas het. Anders as vir Lutherane was die wet nooit vir Gereformeerdes ’n probleem nie; hulle het verstaan dat dit deel is van die evangelie. Die probleem het later begin.
• ’n Regstelling op hierdie vlak gaan van ons vra dat ons die plek van die wet of imperatief as ’n wesenlike deel van die evangelie opnuut reg sal verstaan en die nodige aanpassings in ons kerklike bediening en praktyke maak om die wet weer sy regmatige plek te gee. Dit beteken eerstens dat die wet in ons onderrig – tuis en by die kerk – veel meer aandag sal kry. Volgens Burgess (2005) is dit een van die dinge wat verkeerd geloop het in die opvoedingsproses van gedoopte kinders. Die doop vra nie net dat die sakrament verstaan en toegeëien sal word nie, maar ook om die geloofs- en morele implikasie daarvan met ons kinders deur te praat – aan die hand van die wet.
• Dit vra ook dat ons in die erediens weer aan die wet sy regmatige plek sal gee. Dit is veelseggend dat gereformeerdes een van die weinige tradisies is waar die wet gereeld in die erediens gelees word – ’n praktyk wat die laaste tyd besig is om in onbruik te raak. As ons die praktyk herstel sal ons ook weer oor die plek waar die wet gelees word, moet praat. Om die wet te lees as deel van die verootmoediging en skulderkenning is sekerlik nie verkeerd nie, maar veel meer Luthers as gereformeerd. Dit help nog nie lidmate om te verstaan dat die wet deel is van die evangeliese lering wat ons by die heil wil bewaar nie.
• In ’n demokratiese samelewing behoort die morele kant van die evangelie nie net in die prediking aan die orde te kom nie, maar behoort dit ook die tema van gesprekke in die gemeente te wees. Gemeentes behoort jaarliks te besin oor wat die aktuele en morele sake is waaroor mense behoort te praat en oop gesprekke daaroor te reël. In die gesprekke moet erns gemaak word met alle wetenskaplike inligting oor die saak en mense se ervarings en sentimente daaroor. Dit alles behoort dan onder die lig van die Woord gebring te word. Dit is hoe volwassenes leer om gelowig en moreel te dink.
3.3 Daar sal ook meer aandag gegee moet word aan die behoort-kant van die evangelie. Die evangelie gaan nie net oor wat ons glo nie (geloofsinhoude) en oor wat ons moet doen nie, maar ook oor wie ons is. Die Reformasie het dit teologies baie goed verstaan. Die rol van die sakramente en spesifiek die doop, is in dié verband baie belangrik. Die bedoeling van die doop is dat dit ons ’n nuwe naam en identiteit in Christus wil gee. As die geloofsrealiteit reg opgevolg word na die doop kan dit ’n groot verskil maak in die lewe van die kerk.
Daar moet ook weer besin word oor hoe die erediens, verskillende elemente van die erediens (bv sang, gebede, prediking, nagmaal), maar veral mense se ervaring van die totale diens hulle in die verband kan help. Die erediens is veronderstel om ’n plek te wees waar Christene tuiskom, ’n tweede huis. Dat dit inderdaad so is, word bevestig deur die veelvuldige gebruik van die huis- of familiemetafoor as daar in die Nuwe Testament oor die kerk gepraat word (vgl Joubert, 2002:235-242). Dit beteken dat die erediens te midde van alles wat daar gebeur, ook ’n ruimte moet wees waar mense die vriendelikheid, warmte en aanvaarding van die evangelie kan sien en beleef.
3.4 Terwyl daar meer aandag gegee moet word aan die gedragkant en behoort-kant van die geloof, beteken dit nie dat die geloofsinhoudkant verwaarloos moet word nie. Waar hier bo gesê is dat Gereformeerde kerke ’n eensydige klem gelê het op die rasionele kant van die geloof, beteken nie vanselfsprekend dat dit altyd goed gedoen is nie. Die rol van verstaan in ’n sinvolle Christelike geloof kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie. ’n Mens het die indruk dat die deursnee lidmaat van Gereformeerde kerke minder Bybel lees en minder erns maak met geloofskennis as die lidmate van ’n paar dekades gelede. Daar sal maniere gevind moet word waardeur lidmate gehelp kan word, nie net om die Bybel nuut te lees nie, maar dit op so ’n manier te doen dat hulle die betekenis en relevansie daarvan vir ons eie tyd opnuut ontdek.
4. GELOOF EN BEKERING IS NIE IETS WAARIN ’N MENS GEBORE WORD NIE, MAAR WAT JY LEER DOEN ONDER LEIDING VAN DIE GEES
Die stelling soos bo geformuleer, kom van Tertullianus (sien deel 1). Gereformeerdes sal dit waarskynlik effens anders formuleer uit vrees dat die genade- en geskenkkant van geloof nie genoegsaam in die stelling erken word nie. Tog is dit duidelik wat die skrywers bedoel het: hulle reageer teen die misverstand dat jy outomaties ’n gelowige is omdat jy binne ’n Christelike gesin of kerk gebore word. Die kategumenaat het met die veronderstelling gewerk dat Christenskap iets is wat die natuurlike, sondige mens in ons nie verstaan nie en nie vanself gaan aanvaar of doen nie. Dit is iets waarmee ons gehelp moet word en wat nie sommer oornag aan ons gegee word nie.
Daarom het lering ’n baie sterk rol gespeel in die proses. In die eerste fase was dit vriende of kennisse wat na die beste van hulle vermoë die fundamentele grondslae van Christenskap en geloof aan die soeker verduidelik het. Ons indruk is dat die implikasies van geloof in terme van gedrag en lewenswyse hier heelwat aandag gekry het. Mense moes weet waarvoor hulle hulleself inlaat as hulle deel word van die kerk. In die tweede fase het die werklike dieper lering begin. Die patroon was dikwels dat soekers vroegoggend voor werk die biskop ontmoet het en dat hy die inhoud van die Christelike geloof stap vir stap aan hulle verduidelik het. Die vermoede is byvoorbeeld dat die preke van Cyril van Jerusalem boodskappe was wat in die tweede deel van die proses aan die soekers verduidelik is.
Ook in die derde, maar veral weer in die vierde fase het lering ’n vaste plek gehad. Die verduideliking van die betekenis van die sakramente is gehou vir heel laaste – dit was deel van die mysterion van die geloof. Dit was ook ’n soort kort begrip of opsomming van al die lering omdat die vroeë kerk geglo het dat die sakramente die wese van die evangelie verbeeld.
Ook vir hierdie aspek van die proses behoort Gereformeerdes baie waardering te hê:
4.1 Die herstel van lering was inderdaad een van die sentrale sake vir die kerke van die Reformasie (vgl deel 3). Die lerende preek het die sakrament vervang as die sentrale moment van die Protestantse erediens. Die idee van kategismusse as leerdokumente van die kerk is ook iets wat in dié tyd ontstaan het.
By Calvyn het dit selfs nog ’n belangriker rol gespeel as by Luther. Dit is bekend dat Calvyn sy eie bekering in terme van lering en leerbaarheid (conversion ad dociliatem – a conversion to teachability) beskryf het.
In die meeste Protestantse kerke – Gereformeerde kerke ingesluit – het lering lank nie meer die plek wat dit ’n paar dekades terug gehad het nie. Dit is verdring deur die sterker behoefte aan ervaring en aktivisme. Dit is ironies dat terwyl die pendulum in baie Protestantse kerke nog aan die wegswaai is van lering af, het ’n groot klomp evangeliese en charismatiese kerke ’n nuwe waardering vir die belangrikheid van lering ontwikkel. Terwyl ons sekerlik in ons gemeentelike praktyke meer plek moet maak vir ervaring en aktiwiteit, kan ’n Gereformeerde kerk moeilik sinvol funksioneer sonder ’n sterker lering-bediening. Die res van die praktyke van die gemeente is eenvoudig nie sterk genoeg en deurdag genoeg om die bediening te dra nie.
4.2 As daar gepleit word vir die herstel van lering beteken dit nie dat vergange praktyke net so teruggebring kan word nie. Deel van die probleem waarom lering in onbruik geraak het, het waarskynlik te doen gehad met die feit dat die prosesse en metodes waarin die inhoude verpak is, nie meer tred gehou het met die tyd nie. Daarom sou ’n tweede kyk na die kategumenaat as proses ons kon baat:
• Daar is al verwys na die feit dat die proses nie net gefokus het op geloofsinhoud nie maar ook op die gedrag en behoort-kante van die geloof. Almal wat die evangelie kan verduidelik, glo dit nie noodwendig self nie en dit waarborg ook nie dat iemand die onderskeid tussen reg en verkeerd ken en daarvolgens leef nie. Ons kan nie net die heilsfeite verduidelik nie; geloof is veel meer as dit. En die meer moet deel wees van die kurrikulum van die geloof.
• Daar was ook ’n duidelike besef dat die Christelike geloof bepaalde gemeentelike en persoonlike dissiplines of praktyke veronderstel. Die dissiplines is verduidelik en mense het die geleentheid gekry om dit aan te leer.
• Die volgorde waarin elemente van die geloofslewe aan die orde gestel is, is ook interessant. So byvoorbeeld wil dit lyk of die morele implikasies of eise van die evangelie redelik vroeg in die proses aan die orde gekom het, terwyl ons neiging is om eers al die heilsfeite te verduidelik en dan te praat oor die etiese implikasies daarvan.
• Ons kan waarskynlik oor leer uit die manier waarop lering en ritueel mekaar afgewissel het in die proses (vgl volgende punt).
• Daar is waarskynlik ook te leer uit die metodes wat gebruik is. So byvoorbeeld was dit gewone gelowiges wat in die eerste rondte die geloof aan die soekers verduidelik het – die biskop was nie die enigste persoon wat lering kon doen nie. Daar is ook rede om te glo dat daar in die proses volop tyd was vir gesprek en vrae – dus is ’n patroon van induktiewe lering gevolg.
4.3 Refleksie oor die kategumenaat as leerproses sal ons ook dwing om meer aandag te gee aan die uiteenlopende maniere waarop kinders en volwassenes leer. Die kategumenaat was ’n leerproses wat gerig was op volwassenes. Dit is duidelik dat daar ’n groot stuk prakties-teologiese wysheid oor hoe volwassenes gehelp kan word om te leer ingebou is in die proses. Die grootste uitdaging gaan egter wees om te vra wat ons uit die proses kan leer oor hoe ons kinders begelei op hulle pad van lering. Hoewel dit ’n baie andersoortige proses vra, meen ons dat hier wel bepaalde beginsels is waaruit ons kan leer. Hoewel hy dit nie in soveel woorde sê nie, is ons van oordeel dat Osmer (1996) se interessante standpunte oor kategese en bevestiging deur insigte uit die kategumenaat beïnvloed is.
4.4 As ’n mens, soos Calvyn, dink oor lering en bekering as ’n lewenslange proses, sal ’n tweede waarneming van Robert Browning en andere (1989) se voorstelle oor geloofsbegeleiding in terme van die verskillende lewensfases ons baat. Browning se voorstelle is eintlik ’n Protestantse alternatief vir die katolieke sakramentsbediening. Dit is moontlik om die Katolieke sakramentsbediening te sien as ’n manier om mense deur hulle lewensfases van die wieg tot die graf te begelei met sakramente. Browning (1989) wys tereg daarop dat ons nie noodwendig sakramente nodig het vir al die oorgange nie en dat daar ook ander maniere is waarop ons mense kan voorberei vir die fases en hulle kan help om die oorgange werklik biddend en in die geloof te doen.
In hierdie voorstel word die feit dat geloof ’n lewenslange groeiproses is absoluut ernstig geneem. Die veronderstelling is dat die uitdagings en take van die geloof in die verskillende fases verskil en van ons vra om na ’n volgende stasie te beweeg en te verdiep in ons verstaan en ervaring van ons geloof in Christus.
4.5 In die proses behoort die Reformatore se klem op ’n persoonlike vocatio vir elke gelowige ook weer ontgin te word. In ’n sekere sin is die vind van jou eie roeping die kulminasiepunt van geloof en van die navolging van Christus.
5. BINDING AAN DIE GEMEENTE
Nog ’n baie positiewe kant van die proses was die rol wat die gemeente of binding aan die gemeente gespeel het. Daar was in die tyd feitlik nie sprake van geloof in Christus as ’n persoonlike saak buite die kerk of gemeente om nie. Die kategumenaat het gegaan oor deelgenootskap van die gemeente. En dit was sinoniem met geloof in Christus.
Die gemeente was op die een of ander manier deel van elk van die fases. In die eerste fase was dit ’n gewone gemeentelid wat op ’n vriendskapsvlak met die soeker oor geloof en die kerk begin praat het. In die tweede fase het die biskop bygekom. Die derde fase het begin as die soekers hulle naam opgegee het as mense wat graag deel wil word van die gemeente (let wel: nie ’n Christen wou word nie!). In die volgende twee fases was die fokus baie sterk op die toelating tot die gemeente en die voorbereiding van die soekers met die oog op hulle ontvangs van die sakramente waardeur hulle deelgenootskap aan Christus en sy liggaam beseël sou word.
Hierdie klem op behoort of deelgenootskap van die gemeente is ’n fundamentele deel van die Christelike geloof, ’n deel wat ongelukkig tans deur die meeste Westerse kerke verwaarloos word.
’n Mens is bewus van die feit dat moderniteit met sy klem op die individu vir ’n groot deel verantwoordelik gehou kan word vir die ontwikkeling, maar dit verminder helaas nie die gevaar hiervan nie. Die plek waar die kerke die negatiewe effek van hierdie ontwikkeling die duidelikste voel, is in terme van identiteitsonsekerheid. Individualiteit kan jou ’n hele reeks interessante moontlikhede of vryhede gee, maar dit help nie veel met identiteitsforming nie. Dit was deur die eeue so dat die groepe of kringe of instansies waarvan ons deel is ’n baie belangrike rol gespeel het in die stempeling van ons identiteit.
Westerse kerke behoort dringend meer aandag aan hierdie aspek van die Christelike geloof te gee. Ons moet ons regmaak vir ’n opdraande stryd hier omdat dit lynreg teen die moderne gees van individualiteit en persoonlike vryheid ingaan. Hierdie aspek is een van die plekke waar ons sekerlik nie kan hoop om die patroon van die kategumenaat net so in ons tyd te dupliseer nie. Ons leef in ’n ander wêreld waarin mense anders dink oor groepslojaliteit en deelname aan groter instansies of strukture.
’n Mens is dankbaar vir die nuwe klem op die rol van gemeentes wat in die laaste tyd te sien is in heelwat Westerse Protestantse kerke. As die beweging meer teologiese diepte kan kry, kan dit ’n ommekeer teweegbring in die benadering van die hoofstroomkerke. By meer van die voorafgaande punte is reeds praktiese opmerkings gemaak wat verband hou met die rol van die gemeente.
6. DIE ROL VAN LITURGIES-RITUELE MERKERS IN DIE KATEGUMENAATSPROSES
Een van die heel interessantste aspekte van die kategumenaatproses is die wyse waarop kategetiese lering en liturgiese of rituele handelinge in een proses verenig is. Die patroon van die vroeë kategumenaat was dat dit deur vier fases geloop het en dat die soekers telkens deur ’n liturgies- rituele handeling van die een fase na die ander oorgegaan het.
Heelwat is reeds geskryf oor hierdie integrasie van liturgie en lering. Ons is van oordeel dat juis Gereformeerdes op hierdie punt veel kan leer. Deur die eeue was daar ’n neiging by Gerefor-meerdes om die twee sake uitmekaar te haal. Daar was waarskynlik ’n vrees dat te veel liturgie of rituele die lering sou ontkragtig of verdring. As die saak reg hanteer word, sal dit nie gebeur nie. Inteendeel, wanneer die lering ingebed word in liturgiese handeling kan dit juis help om die resepsie en internalisering daarvan op ’n dieper vlak te bring.
Ons het reeds verwys na Browning (1989) se voorstel oor geloofsbegeleiding in terme van lewensfases. Browning se ideaal is dat mense na lering en voorbereidende gesprekke oor ’n nuwe lewensfase formeel deur een of ander geloofsritueel ingelei word in die nuwe fase. Op die manier word lering en liturgie bymekaar gehou en pluk ’n mens die vrugte van ’n konstruktiewe wisselwerking.
Die feit dat die moderne Liturgiese Beweging uiteindelik sterker deurgebreek het na die Protestantse kerk help ook met die vraag hoe hierdie kombinasie in die erediens gedoen kan word.
7. DIE KATEGUMENAAT AS ’N EVANGELISASIEPROSES
Een van die hartseerste werklikhede van die moderne Protestantisme is sy onvermoë tot evangelisasie. In die laaste paar dekades is dié werklikheid van verskillende kante op die tafel van die kerke geplaas. Daar is by verskeie groepe in feitlik al die Protestantse kerke ’n groeiende oortuiging dat die kerk is sy wese missionêr is en dat kerkherstel niks minder vra as dat die kerk sy missionêre aard moet herontdek en met nuwe drif moet opneem nie (vgl byvoorbeeld die GOCN-groep met Missional Church uit 1998 as hul vlagskippublikasie).
Een van die uitdagings in so ’n tyd is om praktyke te ontwikkel wat hierdie ingesteldheid kan help vestig. Ook in hierdie verband is ’n goeie waarneming van die kategumenaat meer as die moeite werd. Dit was in sy diepste wese ’n missionêre praktyk wat ten doel gehad het om mense van buite die kerk te help tot geloof in Christus en deelgenootskap van sy liggaam. Heelwat kerke is alreeds besig om die kategumenaatproses in die verband te gebruik (vgl. deel 4).
Van die elemente van die proses wat opgeneem behoort te word in ’n eietydse evangelisasiemodel is:
die feit dat lidmate se spontane getuienis ten grondslag van die proses lê. Dit beteken dat die opleiding en toerusting van lidmate een van die hoekstene van so ’n proses is.
die rol van die gemeente as draer en gestaltegewer van die evangelie en as sender en ontvanger van mense sal ook tot sy reg moet kom.
die evangelie sal in al sy veelkantigheid aan mense verduidelik moet word: na sy geloof-, gedrag en behoort-kante.
Die feit dat geloof en bekering ’n lang pad is wat ’n mens loop, sal van meet af duidelik moet wees. Op die pad word mense nie gedwing en gemanipuleer nie, maar met liefde en respek begelei en aangemoedig. Die evangelie vra nie net dat ons aandag sal gee aan God en sy evangelie nie, maar ook dat ons mense, hulle vrae en hulle lewenspaaie baie ernstig sal neem.
8. SLOT
Die herstel van die kategumenaat is sekerlik nie die antwoord op al ons vrae nie – veral nie vir kerke wat vashou aan die legitimiteit van die kinderdoop nie. Ons leef in ’n totaal ander era met sy eie unieke probleme en uitdagings. Tog glo ons dat ’n deeglike kennisname van die proses Gereformeerde kerke op meer as een vlak kan help.
Saam daarmee is ’n gesprek nodig oor hoe ons van die elemente van die kategumenaat kan vertaal na ons eie situasie. Hoewel meer mense sê dat ons in ’n na-Christendom era is wat sterk herinner aan die situasie van die vroeë kerk, is die verskille tog wesenlik. Ons sal die uitdaging om ’n eie beslag aan die proses te gee, nie kan ontkom nie.
Ons hoop dat hierdie artikels ’n tree op die pad kan wees.
BIBLIOGRAFIE
Browning, R.L. (red.) 1989. The Pastor as Religious Educator. Birmingham, Alabama: Religious Education Press.
Browning, R.L. en Reed, R.A. 1995. Models of Confirmation and Baptismal Affirmation. Liturgical and Educational Issues and Designs. Birmingham, Alabama: Religious Education Press.
Burgess, J.P. 2005. After Baptism. Shaping the Christian Life. Louisville, KY: Westminster John Knox Press.
Calvyn, J. 1989. Institutes of the Christian Religion. Translated by Henry Beveridge. Grand Rapids: W.B. Eerdmans.
Dean, K. C. 2004. Practicing Passion - Youth and the Quest for a Passionate Church Grand Rapids: W.B. Eerdmans.
Guder, D.L. (red.) 1998. Missional Church. A Vision for the Sending of the Church in North America. Grand Rapids, Michigan/ Cambridge, U.K.: W.B. Eerdmans.
Hoge, D.R. & D. Roozen.1979. Understanding Church Growth and Decline 1950-1978. New York: Pilgrim Press.
Joubert, S. 2002. “Deel van die nuwe familia Dei: ’n Nuwe Testamentiese venster op Jesus se mense”. in: Burger, C.W. en I. Nell (reds.). Draers van die Waarheid: Nuwe-Testamentiese visies vir die gemeente. Gemeente en bediening 7. Stellenbosch: BUVTON.
Keifert, P.R. 1992. Welcoming the Stranger. A Public Theology of Worship and Evangelism. Minneapolis: Fortress Press.
Kelly, D.M. 1972. Why Conservative Churches are Growing. New York: Harper & Row.
Kingdon, R.M. 2004. “Catechesis in Calvin’s Geneva”. In: Van Engen, J (red.). 2004. Educating People of Faith. Exploring the history of Jewish and Christian Communities. Grand Rapids: W.B. Eerdmans.
Kreider, A. 1999. The Change of Conversion and the Origin of Christendom. Christian Mission and Modern Culture. Harrisburg: Trinity Press International.
Osmer, R.R. 1990. A Teachable Spirit: Recovering the Teaching Office in the Church. Louisville, KY: Westminster John Knox Press.
Osmer, R.R. 1996. Confirmation. Presbyterian Practices in Ecumenical Perspective. Louisville, KY: Geneva Press.
Roxburgh, A.J. 1998. “Missional Leadership: Equipping God’s People for Mission” in Guder, D.L. (red.) 1998. Missional Church. A Vision for the Sending of the Church in North America. Grand Rapids, Michigan/ Cambridge, U.K.: W.B. Eerdmans.
Van Engen, J. (red.) 2004. Educating People of Faith. Exploring the History of Jewish and Christian Communities. Grand Rapids: W.B. Eerdmans.
Webber, R.E. 2001. Journey to Jesus. The Worship, Evangelism, and Nuture Mission of the Church. Nashville: Abingdon Press.
TREFWOORDE
Kategumenaat, Lering, Belydenisaflegging, Doop, Liturgie
KEY WORDS
Catechumenate, Teachng, Confirmation, Baptism, Liturgy
KONTAKBESONDERHEDE