Kan die historikus God se hand in die geskiedenis lees?1
ABSTRACT
Can the historian reveal God’s hand in history?
Theologians often speak of the God of history. This article discusses historians’ reactions to these claims and their strong scepticism about any effort to discover hidden designs in history. But at the same time historians recognise the powerful influence of religion on people who are the real subjects of history. Using two aspects of the Afrikaner’s history as an example the article discusses on the one hand the dangers inherent in negating any understanding of religious influences on history or on the other hand a metaphysical acceptance of Divine intervention. Comparing American claims to rediscover God in American history to Afrikaner efforts to explain certain events in their history in terms of a special relationship with God the article concludes that even in a period in history marked by such strong secularism as is currently the case in Western societies future historians will need more than just their academic and intellectual tools to understand and explain historical events.
By besondere geleenthede gebruik predikante en teoloë dikwels die aanhef in hulle gebed “God van die geskiedenis”.2 Vir historici en studente van die geskiedenis open dit dadelik die vraag na wat dit sou beteken en impliseer vir die studie van die geskiedenis? Het teoloë ’n kennis en insig in die geskiedenis waaroor ernstige studente van die geskiedenis nie beskik nie? Bestem die geskiedenis dit inderdaad dat bepaalde historiese gebeure plaasvind om die wil van God tot uitdrukking te bring? Kan die historikus enigsins aan hierdie gesprek en debat deelneem?
Historici sou met reg kon vra of dit nodig of wenslik is om hierdie vraag hoegenaamd aan die orde te stel as dit vandag in die historiese wetenskap algemeen aanvaar word dat geskiedenis die nederigste van alle akademiese dissiplines is, want dit bied geen toegang tot ’n beskermde professie met ’n professionele raad nie, dit bied geen oplossings vir die samelewing se probleme nie en dit matig hom geensins aan om enige wetmatighede in die menslike verlede te ontdek nie. Dit matig hom ook geen transendentale of metafisiese insigte aan nie. Historici is trouens ver verwyderd van die talle pogings in die verlede om die gang van die geskiedenis aan een of ander transendentale mag, positivistiese doel of skema te onderwerp.
Waarom dan die vraag? Omdat daar daagliks voorbeelde na vore kom van uitsprake wat oor God in naam van die geskiedenis gemaak word. Trouens die Bybel, Ou en Nuwe Testament, is vol daarvan. ’n Mens hoef maar die Psalms te lees of Paulus se uiteensetting van die heilsgeskiedenis om te begryp dat dit ’n inherente deel van mense se lees van die Bybel kan word. Dr Allan Boesak se preek op 6 Augustus 2006 by geleentheid van die herenigingsdiens van die NG Ring van Stellenbosch is ’n moderne voorbeeld daarvan. Einde 2006 het daar in Amerika ’n boek verskyn deur die voormalige Speaker van die Huis van Verteenwoordigers, Newt Gingrich, met die titel Rediscovering God in American History. Die boek, sowel as die kandidatuur van ’n Mormoon soos Mitt Romney vir die nominasie as Republikeinse kandidaat vir 2008 se Amerikaanse presidentsverkiesing, bied eintlik ’n besondere blik op die groot kultuurtwis in die VSA tussen gelowiges en sekulariste oor die rol van godsdiens in die Amerikaanse samelewing. Godsdiens speel so ’n ernstige rol in die Amerikaanse presidentsverkiesing dat die nuustydskrif Time verwys het na die feit dat elke kandidaat dit nodig vind om erkenning te gee aan die rol van godsdiens in die verkiesing. Nóg die Demokrate nóg die Republikeine kan dit bekostig om kandidate te hê wat nie “the right tone on religion” aanslaan nie.3
Kragtens die 1996-grondwet word daar in Suid-Afrika doelbewus gepoog om enige saak van godsdienstige betekenis uit te sluit uit die openbare lewe en veral uit die politieke lewe. Juis daarom word die vraag oor God se hand in die geskiedenis des te ernstiger in bepaalde groeperinge in Suid-Afrika gevra. In wit, en veral Afrikaanse geledere, was daar na 1996 heelwat sprake van die totstandkoming van ’n Christen-Demokratiese Party soos in heelwat lande in Europa die geval is. Verrassend genoeg het so ’n party eerder uit swart geledere ontspring – die African Christian Democratic Party. By implikasie wil hierdie denke sê dat God se hand in die geskiedenis ’n leidraad in die bepaling van die huidige verloop van die politieke gebeure moet speel.
Van al die bevolkingsgroepe in Suid-Afrika word die Afrikaner se geskiedenis die meeste met die soeke na God se hand in die geskiedenis verbind. Interessant genoeg is dit veral Amerikaners wat hulle al dikwels oor die Afrikaner se civil religion uitgespreek het. Maar dit is nie tot Afrikaners beperk nie. By bruinmense, en selfs ook by swartmense soos aartsbiskop Desmond Tutu, kom uitsprake voor wat op ’n besondere wyse God se hand in ons geskiedenis meen te lees. Ruimte laat net toe dat nadere ondersoek ingestel word na die twee mees algemene uitsprake oor die Afrikaner en sy godsdiens. Dié uitsprake illustreer stellig die problematiek van die soeke na God se beskikking in konkrete historiese gebeure die beste.
Daar word male sonder tal geskryf oor God se roeping vir die Afrikaner en die besondere band wat die Gelofte tussen God en Afrikaners geskep het. Dit is opvallend dat van Angel-Saksiese kant, veral in die VSA, die Afrikaner se geskiedenis redelik stofgetrap is oor hierdie besondere uitsprake. Van Afrikaanse kant het een poging tot ’n historiese uitleg oor die geskiedenis as geheel in Engels verskyn – WA de Klerk se The Puritans in Africa.4
Interessantheidshalwe moet vermeld word dat daar selde so aktief oor die Engelse se rol in Suid-Afrika geskryf word. Diegene wat hulle wel daarmee besig hou, soos prof John Lambert van die Universiteit van Suid-Afrika, word skerp uit Engelse geledere gekritiseer oor die blote idee dat daar iets soos ’n Engelse rol bestaan.5 Ons Engelse, word geredeneer, is so ’n diverse gemeenskap dat niks ons onder een noemer kan saamtrek nie, selfs nie die politieke geskiedenis van die last outpost of die geskiedenis van liberalisme in Suid-Afrika nie. Terwyl ’n aantal boeke oor die rol van die Jode in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verskyn het, is daar weinig bydraes oor die Engelse ervaring as sodanig geskryf Daarteenoor is die tema van Afrikaner-geroepenheid en die Gelofte van 1838 as beelding van ’n spesiale verhouding tussen God en die Afrikaner ’n onderwerp van deurlopende aandag, veral in Engelse publikasies. ’n Mens dink spontaan aan 15 boeke waarin die tema ter sprake kom,6 wat almal voor die seminale werk van Giliomee7 van 2003 verskyn het. Hierdie twee temas het ook gereeld by kerk- en kultuurvergaderings van Afrikaanse kant aandag geniet en talle teoloë, historici en ander het artikels daaroor geskryf of toesprake daaroor gemaak.8
By drie geleenthede is die kwessie op akademiese byeenkomste interdissiplinêr bespreek: by die 1979-konferensie wat deur die Departement Sistematiese Teologie van die Universiteit van Suid-Afrika aangebied is,9 ’n bespreking op die Historiese Genootskap van Suid-Afrika se tweejaarlikse konferensie by die Universiteit van Pretoria in 198810 en in Oktober 2006 se konferensie van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument.11
Voordat daar spesifiek na die Afrikaner se geskiedenis verwys word, is daar twee aspekte van die dissipline geskiedenis wat aandag moet kry. Die eerste is die onderskeid tussen geskiedenis- as-wetenskap (die kenteoretiese vraag) en geskiedenis-as-betekenis (die ontologiese vraag). Daarmee saam moet ook aan die twee terreine wat hulle albei op ’n studie van die geskiedenis beroep, aandag gegee word: die onderskeid tussen heilsgeskiedenis en profane of sekulêre geskiedenis. Die twee vrae is so nou met mekaar verweef dat hulle geriefshalwe as twee eenhede behandel word.
GESKIEDENIS AS WETENSKAP
Dit is eers in die laat agtiende, maar veral die vroeg neëntiende eeu, dat geskiedenis hom losgemaak het van die teologie en die filosofie en sy wetenskapsfilosofiese grondslae begin bepaal het. Dit het veral behels dat die historikus hom met primêre bronnestudie besig hou ten einde die oorspronklike ervaring van die verlede uit die mond of hand van diegene wat die akteurs van die geskiedenis was, te ken. Dit het meegebring dat ’n hele metodologie om die soeke na die ware rekonstruksie van die verlede moontlik te maak, ontstaan het. Dit het sake behels soos die bepaling van die egtheid van bronne, die vind van bronne, kon die bronne die waarheid meedeel, wou hulle die waarheid meedeel, watter tydsfaktore en belange het hulle sieninge beïnvloed en hoe betroubaar is die bronne. Die bestudering van hierdie bronne bied die buitelyn van gebeure. Die binnewerk moet deur die historikus ontwikkel word deur die lê van verbande, die bepaling van oorsake en gevolge, die oorweging van die rol van tientalle meewerkende faktore wat almal ’n invloed uitoefen op die historikus se interpretering van die inligting tot sy beskikking. Anders as die filosowe en teoloë het die grondleggers van die geskiedenis as wetenskap hulle mikpunt laag gestel. Hulle wil net vertel wat eintlik gebeur het. Dit het spoedig geblyk dat hierdie vertel van baie dinge afhanklik is. Dit is afhanklik van die taalvermoë van sowel die historikus as die skrywer van die bronne, van albei se waardestelsels en belange, van die soort vrae wat aan die verlede gestel word, wie die vrae vra, watter insigte hulle deur die gebruik van ander kennisvelde in hulle onderwerp verkry ten einde te verstaan wat gebeur het en uiteindelik te kan verklaar waarom dit so gebeur het. In hierdie proses het ’n aantal krities belangrike probleemareas ontwikkel. Die kausaliteitsvraagstuk het te doen met die wyse waarop oorsake en gevolge en die verbande tussen gebeure gerekonstrueer of gerasionaliseer word. Dit het die probleem van die rol van toeval of die noodlot in die geskiedenis na vore gebring. Watter magte en kragte het ’n bepalende invloed op die verloop van gebeure? Watter rol speel idees en denke en die skeppende vermoë van mense in die verstaan van gebeure? Watter rol speel die toeval? Hoe ontwikkeld is die historikus se historiese verbeelding wat hom in staat moet stel om verbande raak te sien wat nie ooglopend is nie? Watter rol speel veralgemening, daardie basiese onderskeidende kenmerk van die wetenskap, in geskiedenis? Hoe verifieerbaar is die korrektheid van die feitelike weergawe van gebeure? Hoe versoenbaar is die bestaan van verskillende vertolkings van dieselfde gebeurtenis met die aanspraak op wetenskaplike kennis? Wat is die nut en waarde van kennis van geskiedenis? Watter funksie vervul geskiedenis in verskillende tydperke en samelewings?
Die historikus kan die verlede nooit ten volle ken nie. Die verlede bly ’n geslote boek totdat historici begin om stelselmatig die seël te breek. Hoe suksesvol hulle dit doen, hang nie net van hulle wetenskaplike metode af nie. Dit hang ook van die gehalte van hulle vrae en insig af. Dat die vraagstelling voortdurend in die lig van veranderende omstandighede in die hede verander, is ’n gegewe. Historici kan net menslike optrede bestudeer en beoordeel. Hulle mag nooit veroordeel nie, wat nie beteken dat hulle geen waarde-uitsprake mag maak nie. Hulle kan aandui wat na sy oordeel goed of kwaad, reg of verkeerd was, maar hulle kan nie as regter oor die geskiedenis sit nie. Regter Hillary Squires se uitspraak in die Shabir Shaik-saak wat op televisie uitgesaai is, is ’n mooi voorbeeld van hoe historici te werk gaan. Hy het die skriftelike en mondelinge getuies wat voor hom gelewer is een vir een stelselmatig ontleed om te bepaal wat werklik gebeur het. Met behulp van hierdie ontleding het hy ’n rekonstruksie gemaak wat hulle uiteindelik tot ’n bevinding gelei het. Tot hiertoe het hy soos ’n historikus opgetree met een verskil: hy het ’n duidelike maatstaf gehad waaraan hy dinge kon meet, nl die wet. Maar omdat hy regter is, kon hy dit nie daar laat nie. Hy moes ’n vonnis uitspreek. Daar is baie historici wat aktief aan skuldigbevindings in die geskiedenis deelneem. Maar dit is altyd ’n hoërisiko-onderneming wat gesien moet word in terme van die maatstawwe wat aangelê word om daardie skuld toe te deel. Die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing was nog altyd vol van die skuldvraagstuk. Dit kan moeilik anders wees. Maar dit is nie die maatstaf waaraan ’n goeie historiese werk gemeet word nie. Die werklike maatstaf is dat enige ingeligte leser na die lees van so ’n werk die boek mag toemaak en sê: Nou verstaan ek dinge beter.
Historici hou hulle met verskillende grade van mikro- en makro-geskiedenisse besig. Makro- geskiedenis is ’n meer holistiese geskiedskrywing daarop gemik om die groter geheelprent van ’n die Westerse beskawing, die geskiedenis van die wêreld of die geskiedenis van Afrika of Suid- Afrika baie moeilik om te skryf omdat dit ’n besonder ensiklopediese kennis en verstaan van die verlede vereis. Daarom verkies talle historici om hulle liewer tot mikro-geskiedenisse te beperk waar hulle veiliger voel in die beheer van ’n tema se dokumentasie. Maar hierdie makro- geskiedenisse is heeltemal iets ander as die werke wat daarop gemik is om ’n interpretatiewe verklarende geskiedenis van die mensdom of van beskawings te skryf ten einde die groot singewing aan die menslike verlede te ontsluit. Hoewel daar historici is wat hulle aan hierdie vorme van geskiedskrywing gewaag het, staan historici uiters skepties teenoor wat hulle spekulatiewe geskiedskrywing noem en wat hulle eerder aan die filosowe, teoloë en deesdae ook aan die sosioloë oorlaat.
GESKIEDENIS AS BETEKENIS
Die Engelse begrip the meaning of history word dikwels in Afrikaans vertaal en gebruik as die sin van die geskiedenis.12 Dit is ’n saak waarteenoor historici besonder skepties staan, hoewel van die wêreld se bekendste historici ook probeer het om stelsels en sisteme in die geskiedenis te ontdek wat op die sin van die geskiedenis dui. Die bekendste en moontlik mees gelese historikus in hierdie verband is die Britse historikus Arnold Toynbee met sy monumentale tiendelige studie.13 In volume 9 handel Toynbee met The law of God in die geskiedenis. In ’n afsonderlike studie14 bespreek hy die belangrikheid daarvan dat die historikus ’n empatiese begrip moet hê van die rol wat verskillende beskawings se godsdiens in hulle geskiedenis gespeel het. Daarsonder kan hulle geskiedenis nie verstaan word nie. In sy bespreking van die geskiedenis van die Westerse beskawing lê hy dan ook besondere klem op die rol van die godsdiens en die kerk. In die deel van volume 9 oor The Law of God beklemtoon hy dat Man does not live under the Law of Nature only, but also under the Law of God, which is the perfect freedom.
Ten spyte van Toynbee se soms insiggewende en prikkelende verklarings distansieer historici hulle vandag van hierdie soort soeke na die sin van die geskiedenis. Dit is die terrein vir filosowe en teoloë, nie vir die feitgebonde historikus nie. Hierdie spanning tussen die filosowe en teoloë en die historici se omgang met die verlede loop dwarsdeur die geskiedenis van die Westerse beskawing. Trouens dit is een van die kenmerke, selfs grondpilare, van die Westerse beskawing. Godsdiens, wetenskap, tegnologie, kapitaal en ’n historiese bewussyn is grondkenmerke van die Westerse beskawing.
Die hele idee van sin van die geskiedenis is ’n idee wat uit die Joods-Christelike godsdiens voortvloei. Die Jode se Messiasverwagting en die Christelike eskatologie met die verwagting van die wederkoms van Christus, is albei toekomsgerigte optimistiese geskiedbeskouings wat die geskiedenis interpreteer as die ontvouing van God se plan met die mens. Die antieke beskawings, in besonder die Grieke en Romeine, het ’n sikliese geskiedbeskouing gehad. Die menslike lewe is soortgelyk aan die natuurlewe. ’n Beskawing ontstaan, groei en bloei om uiteindelik te verweer en te sterf. Augustinus is die vader van die gedagterigting van die verdeling van die geskiedenis in ’n heilsgeskiedenis en ’n profane geskiedenis wat mekaar in die telos sal ontmoet. Hierdie beskouing het vir 1 400 jaar van die Westerse beskawing se groeiproses denke bepalend beïnvloed. Maar Giambatista Vico het reeds in die 15de eeu, sonder dat hy dit bewustelik bedoel het, die grondslag vir die emansipasie van die sekulêre geskiedenis gelê. Dit is egter Voltaire en die agtiende en neëntiende eeue wat hierdie proses voltrek het. In die plek van die Christelike eskatologie het die sekulêre gekom van Hegel se geloof in die Skeppende Gees, Auguste Comte se positivistiese emansipasie en Proudhon en Marx se ekonomiese gedetermineerdheid tot die twintigste eeu se verplasing van dieselfde waardes as wat die Christelike leer verteenwoordig het met die idee van menseregte. Dit is nie meer God se beskikking deur liefde en genade wat die wêreld beheer nie, maar die mens se vermoë om liefde en vooruitgang te skep deur wette en sosiale organisasie en instellings.
Die opkoms van die geskiedwetenskap in Duitsland en sy kragtige uitbreiding in die Westerse wêreld het die funksie van geskiedenis op ’n ander vlak geplaas. Rekonstruksie van gebeure in die verlede, om so ’n getrou moontlike weergawe daar te stel van wat werklik gebeur het, het die norm geword. Maar in die tweede helfte van die neëntiende eeu het die skeptisisme oor die vermoë om daardie “objektiewe” verhaal te kan vertel, sodanig gegroei dat die betekenis van die studie van geskiedenis gesien is in die verstaan van die verlede in sy eie konteks en die soeke na logiese en rasionale verklarings vir wat gebeur het. Beskrywende verstaan en verklarende beskrywing het die wagwoord van historici geword.
Daarom kon die Cambridge historikus Herbert Butterfield in 1950 skryf: If men have found neither philosophy nor religion in their actual experience of life, it can hardly be claimed that the academic study of history – the mere concrete study of the working of events – will itself provide the remedy, or that the attempt to learn more scientifically when things happened or how they happened can solve the whole problem of human destiny or achieve anything more than a better statement, a better laying out, of the essential riddle.15 In die woorde van ’n bekende Afrikaanse teoloog op die 1979-konferensie: die probleem van God in die geskiedenis is ’n onopgeloste probleem.16
Die teoloog Karl Löwith17 het weer daarop gewys dat die onopgeloste aard van hierdie probleem vir historici, teoloë en filosowe tot ’n bepaalde erkenning dwing: The modern world is as Christian as it is un-Christian because it is the outcome of an age-long process of secularization. Compared with the pagan world before Christ, which was in all its aspects religious and superstitious and therefore a suitable object of Christian apologetics, our modern world is worldly and irreligious yet dependent on the Christian creed from which it is emancipated. The ambition to be “creative” and the striving for a future fulfillment reflect the faith in creation and consummation, even when these are held to be irrelevant myths.
IRRELEVANT MYTHS? – DIE DEBAT OOR GOD IN DIE AFRIKANER SE GESKIEDENIS
Daar is waarskynlik nie nog ’n aspek in die Afrikaner se geskiedenis waar daar meer oor die bestaan van mites geskryf is as oor God se beskikking oor die Afrikaner se lot en die Slag van Bloedrivier en die Gelofte van 1838 nie. ’n Hele literatuur het oor die onderwerp ontwikkel.18 Die aard van die debat kan die beste toegelig word deur die teenoorstaande standpunte van Afrikaanse historici te vergelyk.
Dit is interessant dat die geesteswetenskappe, en in besonder geskiedenis, graag na sy verouderde kennis as mites verwys. Dit word gedoen omdat bepaalde opvattings van gebeure en bepaalde oortuigings aangaande die verlede dikwels nie deur werklike historiese ondersoek gelei word nie, maar deur dit wat populêr weg deur mense aanvaar en geglo word. Daar word vervolgens baie kortliks ingegaan op die twee sake wat as mites van die Afrikaner se geskiedenis beskryf word. Die eerste is die geroepenheid van die Afrikaner om as draer van die Christelike Westerse beskawing in Suider-Afrika op te tree. Daarmee saam gaan die beklemtoning van ’n strakke Calvinistiese denke as die bepalende faktor in die Afrikaner se geestes-, politieke en kulturele lewe. Dit word ook dikwels gekoppel aan sulke historiese nieverwante sake soos die gebed van Jan van Riebeeck by sy aankoms in Suid-Afrika op 6 April 1652, die koms van die Franse Hugenote, die Gelofte, die bewind van Paul Kruger en die stigting van die beweging vir Christelik-Nasionale skole in 1903. Die tweede is die Slag van Bloedrivier wat voorgestel word as ’n wonderwerk en ’n direkte ingryping van God om die Voortrekkers in staat te stel om hulle geroepenheid as draers van die Christelike beskawing uit te voer. Die Gelofte en die plig wat dit op al die nageslagte sou lê om die Gelofte na te kom en uit te voer, ’n plig wat gebruik is om ’n enge Afrikaner nasionalisme of ’n civil religion te bevorder, word as sentrale historiese gebeure gestel. Daar is so baie literatuur en voorbeelde dat hier net op kernsake gekonsentreer kan word ten einde die vraag te beantwoord watter interpretasie ons vandag aan hierdie interpretasies van gebeure kan heg.
In die debat oor die geroepenheid van die Afrikaner en oor sy spesiale verhouding met God gebaseer op die gedagte dat hy ’n verbondsvolk is, is dit nodig om daarop te let dat ernstige historici nie die skeppers daarvan is nie, maar populariseerders van die geskiedenis, onderwysers, predikante en teoloë, politieke en kultuurleiers en joernaliste en ander skrywers. Dit is ook belangrik om te let in watter stadium in die geskiedenis verskynsels na vore tree wat met hierdie vertolking verbind kan word. Die eksplisiete formulering van sodanige uitsprake kom eers in die tydperk van groot stryd om oorlewing ná 1836 en veral ná 1877 voor. Dit is ’n reaksie op ’n ander aanspraak op geroepenheid en uitverkorenheid: die Angel-Saksiese geloof dat die Boere en Afrikaners en die ander inheemse inwoners van Suid-Afrika met die seëninge van die Britse imperialisme en die Engelse Christendom opgehef moet word uit hulle barbaarsheid of semi- barbaarsheid. Dié opvatting begin op ’n baie eenvoudige manier reeds in 1795 maar bereik sy sterk groei na 1820 en veral na 1877. Die Britse sendelinge, in die besonder dr John Philip en die Londense Sendinggenootskap, het ongekwalifiseerd geglo dat dit hulle roeping is om die Britse beskawing, waarvan die Christendom vir die sendelinge die belangrikste kenmerk was, uit te dra. Daarom kon radikale swart skrywers in die 1950’s praat van the missionaries in conquest.19
Die Hollander AD Biewenga het in sy proefskrif20 aan die Vrye Universiteit van Amsterdam aangetoon dat die Kaapkolonie tussen 1652 en 1730 al die basiese kenmerke van die Nederlandse plattelandse samelewing vertoon het. Daardie samelewing is deur diep godsdienstigheid en deur die sterk invloed van die kerk gekenmerk. Die Kaapkolonie was ’n kosmopolitiese versameling van mense uit verskillende dele van die wêreld maar die Nederlands-gereformeerde stempel is doelbewus en met sukses op die samelewing geplaas. Dat daardie stempel na 1795 toenemend uitgedaag en weggekalwe is deur die koms van die Britse gesag het dit nie vernietig nie. Dit het verswak maar nie verdwyn nie. Die gebeure na 1836 en die stigting van Boererepublieke in die noorde, en die ontwaking van ’n politieke bewussyn aan die Kaap, veral na die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 en die Afrikanerbond in 1879, is almal reaksies op ander gebeure, nie selfingenome optredes van Afrikanerpioniers nie. Reisigers uit Europa wat Suid- Afrika besoek het, is gewoonlik eerstens geïmponeer deur die plante en dierelewe en deur die inheemse stamme se lewenswyses en gewoontes. Maar deurgaans loop ’n subtema deur hulle waarnemings: ten spyte van hulle onontwikkeldheid is die veeboerpioniers op die voorposte diep godsdienstige mense wat die daaglikse verskynsels waarmee hulle in aanraking kom, moet hanteer en interpreteer in terme van hulle basiese kennisbron, die Bybel. Dit is dan ook begryplik dat hulle die besondere ervaringe van ’n veeboer, die droogtes en die gereelde rooftogte, as ’n geskiedenis vergelykbaar met die van die volk van Israel gesien het. Vir hulle was dit geen mite nie, dit was ’n werklikheid. Met die toenemende optrede van militaristiese Britse imperialisme en die koms van groot getalle fortuinsoekers na die diamant- en goudmyne, is dit des te meer begryplik dat hierdie pioniers moes soek na ’n verstaan en regverdiging van hulle bestaan. Dat hulle gereformeerde godsdiens daarin ’n groot rol gespeel het, is histories verstaanbaar. Die konsepte geroepenheid en uitverkorenheid is op relatief beperkte skaal deur leiers, geestelik en polities, aangewend om hierdie mense te help om hulle te verskans teen die opvatting dat Victoriaanse Engeland was Gods own people. Dit was op die jaarlikse en toenemend entoesiastiese herdenking van Geloftedag (of Dingaansdag soos dit destyds bekend gestaan het) en Majubadag vanaf 1881 waar hierdie twee konsepte gereeld aandag van predikante en orators gekry het. Daarom is hierdie eerste interpretasie van die Afrikaner se historiese ervaring in terme van ’n besondere band met God, noodwendig ineengevleg met die tweede stel gebeure, nl die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 en die aflegging van die Gelofte deur Sarel Cilliers op 8 Desember by Danskraal en die feit dat dit daarna elke aand in die laer herhaal is tot die slag plaasgevind het.
Dit is onmoontlik om in enige besonderhede op hierdie gebeure in te gaan. Dit is jammer want besonderhede is noodsaaklik om die verloop in perspektief te sien. Per slot van sake The devil is in the details. Daar is ’n aantal Afrikaanse historici wat oor die wonder van die Slag van Bloedrivier geskryf het. Net een voorbeeld word hier gebruik omdat dit die enigste is wat met historiese feitelikheid as uitgangspunt hierdie aanspraak probeer “bewys” het. In ’n artikel in Die Huisgenoot van 18 Desember 1970 het ’n historikus, prof DJ Kotzé, probeer aandui hoe bepaalde insidente ten tye van die Slag van Bloedrivier dui op die direkte ingryping van God in die gebeure om sodoende nuwe inhoud en betekenis aan die Gelofte te gee. In hierdie uiteensetting word die volgende wonderdade van God aangedui: Terwyl die Zoeloes by Bloukrans en Weenen in die nag aangeval het, het hulle dit nie by Bloedrivier gedoen nie maar in die oggend aangeval sodat hulle duidelike teikens vir die Voortrekkers se geweervuur was. Die mis wat in die nag oor die rivier toegesak en wat as uitstekende versteking vir die Zoeloekrygers kon gedien het, het in oggend opgeklaar. Laastens het dit nie, soos daardie tyd van die jaar verwag kan word nie, op 16 Desember gereën nie.
’n Kenner van die Voortrekkers se geskiedenis en ’n biograaf van Andries Pretorius, prof Ben Liebenberg, het hierop gereageer deur aan te toon dat al drie hierdie “wonderwerke” uit natuurlike oorsake verklaar kan word. Die Zoeloes se krygsgeskiedenis dui duidelik aan dat hulle heel selde in die nag aangeval het. Dit was hulle tradisie om in die dag aan te val. Die mis langs die rivier kom gereeld voor en klaar altyd op wanneer die son opkom. Die reënpatroon van die omgewing maak dit heeltemal waarskynlik dat die kanse redelik was dat dit op 16 Desember nie sou reën nie. Die weergawes wat Zoeloe historici verlede jaar by die konferensie gegee het, verskil geheel en al van die tradisionele wit weergawe. Sommige ontken selfs dat so ’n slag plaasgevind het. Selfs wat getalle en die kwessie van bloed in die water betref, verskil hulle radikaal van die tradisionele weergawe. Wie se weergawe is korrek? Die tradisionele geskiedskrywing is gebaseer op ’n aantal tydgenootlike bronne van deelnemers en betrokkenes wat nagelaat is. Die Zoeloe weergawe berus op ongetoetste aansprake wat meer as ’n eeu later versamel is.
Wat was die implikasies van die Slag en van die aflegging van die Gelofte? Daar het verskillende beskouinge met die verloop van tyd hieroor ontwikkel. Dit is gesien as ’n bevestiging van God se spesiale verhouding met die Afrikaner. Dit is beoordeel as ’n bewys dat die Afrikaners bestem is om as draers van die evangelie, en daarmee saam die Westerse beskawing, in Suid-Afrika op te tree. Dit is gebruik om blanke voogdyskap oor die inheemse bevolkings te regverdig omdat hulle nog nie Christene is nie en nog nie die Westerse beskawing aanvaar het nie. Dit is ook gebruik as ’n belangrike motiveringsfaktor om Afrikaners aan te moedig om nie, na die verwoestende Anglo-Boereoorlog, te gaan lê nie maar weer op te staan. Dit word dikwels verkeerdelik voorgestel dat die Nasionale Party na sy stigting in 1914 hierdie dinge gekaap het om sy eie belange in die naam van Afrikaner nasionalisme te bevorder. Daar is bepaalde waarheid daarin, maar dit is nie die volle prentjie nie.
Talle Afrikaners binne en buite die Nasionale Party was sterk ondersteuners van ’n ander betekenis van die Gelofte. Dit het ’n hele aantal teoloë, predikante en ander leiers ingesluit. ’n Voorbeeld van so ’n persoon is FS Malan wat so ’n belangrike rol in die Afrikaanse politieke en kultuurlewe gespeel het. Wat was hierdie alternatiewe interpretasie wat hulle aan dié geskiedenis gegee het? Die Gelofte versimboliseer ’n universele verskynsel: die besef by gelowiges van alle nasies en kulture dat hulle in tye van krisis die Christelike hoop net maar op God kan rig omdat hulle menslike hoop en vernuf die grense van sy vermoë bereik het. Daarom is die Slag van Bloedrivier en die Gelofte ’n Christelike daad wat tot alle mense kan spreek. Dit is soortgelyk aan die optrede van die vroeë Christelike martelare, aan die rol van die Hugenote in Europa, die Hervormers voor die Vrede van Utrecht in 1648, van die Pilgrim Fathers in Amerika en van die Covenanters in Skotland in 1557. Daarom gaan dit nie om die vraag hoe God ingegryp het nie, maar hoe het mense se geloof in God hulle versterk om in ’n krisis oomblik die skynbaar onmoontlike te kan verrig.
Op die 1979-konferensie by Unisa het aartsbiskop (hy wat toe nog net biskop) Desmond Tutu oor hierdie selfde Christelike hoop die volgende gesê soos dit in die opsomming van sy rede vervat is: he fully acknowledged the hazards ... as regards human attempts to find God in history, but he was not prepared to agree ... that one should in principle remain silent on the subject of God’s presence in history. In the existence of Blacks – an existence marked by suffering – this presence is vital to make sense of a harsh and afflicted life. Tutu insisted that to Blacks God stood for a promise, that in this faith they can manage to face the morrow despite their apparently futureless existence. It is paradoxical that Blacks should still believe in God in the face of realities that drive them to atheism.21
Maar hoe hanteer die historikus sulke kwessies in sy geskiedskrywing? Hy kan op geen manier hom die reg aanmatig om ’n eksplisiete ingryping van God se hand in die geskiedenis meen te ontdek nie. Maar hy kan erkenning gee aan die rol wat mense se geloof in God gespeel het om hulle in staat te stel om op te tree soos hulle opgetree het. Maar dan moet hy hulle Godsbeskouing in hulle eie tyd plaas en nie met moderne meer humanistiese interpretasies van God se rol in mense se lewe gebeure van lank gelede probeer interpreteer nie. Daarom is prof Degenaar se opmerking by die 1979-konferensie so toepaslik: dit gaan nie om spekulatiewe sisteme te ontdek wat die teoloog of filosoof of selfs die aanmatigende historikus in staat stel om die sin van die geskiedenis te ontdek nie, maar om die soeke na sin in die geskiedenis. En die erkenning van hoe geloof deur individue of groepe mense sin aan hulle optrede gegee het, al vind latere geslagte hulle optrede vreemd, is volledig op die terrein van die wetenskaplike geskiedenis. Dit is Johan Huizinga wat nadruk gelê het daarop dat die historikus besonder bedag moet wees op primêre gemoedsbewegings wat ’n suiwer rasionalistiese benadering van die geskiedenis onvanpas maak. Empatiserende verstaan, wat iets anders is as simpatiserende verstaan, is die taak van die historiese verbeelding.22
Dit kan met enkele voorbeelde geïllustreer word. In die driedelige werk Geskiedenis van die Westerse Beskawing tot 1945 word in verskillende hoofstukke uitvoerig oor die groot rol en invloed van die Christelike godsdiens op die Westerse beskawing gehandel. Nêrens word gepoog om God se hand in die geskiedenis te beskryf nie, maar orals word met historiese empatie erkenning gee aan die groot rol wat mense se geloof in God in hulle handelinge en denke gespeel het. Dit is nie ’n eksplisiete erkenning van God se hand in die geskiedenis nie, dit is ’n implisiete erkenning. Dit pas by die nederigheid van die historikus wat verwonderd staan voor die dramatiese veranderinge in die geskiedenis te midde van ’n stil amper onopmerklike stroom van kontinuïteit. Dit staan die Islam, of Hindoe of Boeddhistiese geskiedskrywer vry om dieselfde te kan doen, sonder om sy rol as wetenskaplike in enige opsig te kompromitteer. Indien gewone gelowiges, of ’n kultuurgemeenskap soos die Afrikaners, aan hierdie rol erkenning gee, soos met Bloedrivier en die Gelofte gebeur het, maar op ’n baie meer verfynde manier as wat dikwels in die verlede gedoen is, is daar geen fout mee te vind nie. Trouens elke gelowige individu leef uit die Christelike hoop dat hy of sy ook ’n eie roeping het. Groot genade is vir baie nodig om daardie roeping as ’n nederige een te kan sien en nie as ’n magsvervullende een nie. ’n Roeping wat die teoloë en die kerkleiers ook dikwels nie verfynd genoeg verstaan het nie. Daarom is ’n uitspraak oor die Ariaanse kontroversie in die vroeë Christelike kerk van die vierde eeu oor die goddelikheid van Christus, nog altyd op interpretasies van groot historiese oomblikke van toepassing. Die meeste biskoppe en ’n hele aantal Pouse in die sestig jaar wat die debat geduur het said what they should not have said, or did what obscured and compromised revealed truth ... there was nothing after Nicaea, of firm, unvarying, consistent testimony, for nearly sixty years.23
Humility het die Suid-Afrikaanse historikus Rodney Davenport dit genoem: Partisan history, history poured into precast moulds, or even history which purports to be scientific or objective, all suffer from certain defects, when measured against the need to determine the truth. What becomes each kind of historian, therefore, is a certain humility, and a more than ordinary vigilance, as he seeks to avoid being partisan, or doctrinaire, or taken in by his own self-assesment as an impartial and open-minded scholar.24
Die historikus moet saam met die bekende Britse historikus Paul Johnson erken: The lesson of the 20th century, in my view, is that humanity, even with the religious restraints, is a force for horror as well as progress. Without them [d.i. religious restraints], its turpitude knows no bounds.25
As historikus spreek hy dus in die een en twintigste eeu dieselfde sentiment uit as die Katolieke teoloog Karl Rahner lank tevore: If ever belief in God disappears, and the image of God is eradicated from human minds, we will become nothing more than incredibly clever apes – and the ultimate fate of humanity will be too horrible to contemplate.
Op die Oktober 2006 konferensie het ’n hedendaagse Afrikaanse teoloog die volgende uitspraak oor die Slag van Bloedrivier en die Gelofte, en dus ook oor die vraag van God se hand in die geskiedenis, gemaak:
Omdat God Drie-enig volgens artikel 1 van die Nederlandse Geloofsbelydenis en op grond van die Skrif ‘’n enige en enkelvoudige geestelike wese’ is, spreek dit eintlik vanself dat sy hand in die geskiedenis nie sintuiglik bewysbaar is nie. As gelowiges word Christene egter daarvan verseker dat God se hand altyd en oral oor hulle is (Psalm 39) en dat niks met hulle sal gebeur buite die wil van hulle Hemelse Vader nie (Matt 6). Gebede en geloftes word deur God gebruik om sy wil in die geskiedenis uit te voer, maar dit is soms gewaag om die uitkoms van ’n bepaalde gebeurtenis reglynig en direk na God terug te voer. Redding kan bloot ’n genadedaad wees, en nie noodwendig ’n bevestiging van die meriete of geldigheid van bepaalde gebede nie. Boonop is daar vanuit Bybelse oogpunt nie so iets dat gebede outomaties (ex opera operato) werk of verhoor word nie. Sy wil en seën kan afgebid word op sake wat Sy goedkeuring wegdra of wat in Sy oë meriete het. Mens kan dus daarop reken dat God die goeie wil seën en positief wil gebruik. As dit dus in die Gelofte om die redding van die Trekkers gegaan het omdat hulle op eie voorwaardes wil oorleef, was hulle buite hierdie ‘woord’ of belofte van God. Maar omdat hulle in die Gelofte op die eer van God gekonsentreer het, kon hulle sy seën vra. Daarom kan die uitkoms van Bloedrivier nie van die seën en ingrype van God losgemaak word nie.
In die lig van hierdie betoog is dit ook nie vergesog om te beweer dat die Here ook by Bloedrivier beskik het deur die handelinge van mense nie ...
Om te belowe dat jy jou aan die Christelike samelewingswaardes sal wy, is binne God se wil. Daarom kan sy kinders uit sy genade leef, aanspraak maak op sy seën sonder om hulle daarop te beroem. Seën bly immers genade.
En juis daarom maak die Gelofte vandag nog – in 2006 – op die Christen-Afrikaners se gewete ’n appél.
DIE VRAAG VIR TOEKOMSTIGE HISTORICI
Rediscovering God in American History – is dit ’n ideologiese wens of ’n egte geloofsdaad? Rediscovering God in South African and Afrikaner history – is dit ’n regse fundamentalistiese reaksie op en teenstand teen verandering of ’n verdieping van ’n verstaan van die gelowige se plek in die Nuwe Suid-Afrika en van die betekenis van eenheid in versoening? Historici sal eendag op hierdie vrae ’n antwoord moet gee. Dan sal hulle ook, soos die kerk soveel male in sy geskiedenis moes doen, verdigsel en egtheid van mekaar moet skei. Daarvoor sal hulle nie net hulle wetenskaplike apparaat kan aanwend nie, maar ook hulle historiese gevoel. Dit is in sigself meer as wetenskap – daarin is vir die Christen historikus ook ’n groot stuk genade.
BIBLIOGRAFIE
Biewenga, Ad: De Kaap de Goede Hoop. Een Nedelandse vestigingskolonie, 1680-1730. Prometheus-Bert Bakker, Amsterdam, 1999
De Klerk, WA: The Puritans in Africa Rex Collings, Londen, 1975..
Dreyer, PS: Inleiding tot die Filosofie van die Geskiedenis. HAUM, Pretoria, 1974.
Fischer, John: The Afrikaners. Cassell, Londen, 1969..
Giliomee, Hermann: The Afrikaners. Biography of a people. Tafelberg, Kaapstad en University of Virginia Press, Charlottesville, 2003.
Hexham, Irving: Irony of apartheid: the struggle for national independence of Afrikaner Calvinism against British Imperialism. The Edwin Meller Press, Leviston, NY, 1981.
Huizinga, JH: Cultuurhistorische Verkenningen. Tjeenk Willink, Haarlem, 1929,
Huizinga, JH: Wetenschap der Geschiedenis. Tjeenk Willink, Haarlem, 1936.
König, Adrio en H Keane (reds): The meaning of history. Miscellanea Congragalia 13, Unisa, 1980.
Leach, Graham: The Afrikaners. Their Last Trek. Macmillan. Londen, 1989.
Le May, GHL: The Afrikaners. An Historical Interpretation. Blackwell, Oxford, 1995.
Hooker, Le Roy: The Africanders. A Century of Dutch-English feud in South Africa. Rand, McNally & Co, Chicago, 1900.
Mayeke, N: The missionaries in conquest. Geen plek of datum.
Moodie, Dunbar: The Rise of Afrikanerdom. University of California Press, Berkeley, 1975.
Munger Edwin S(red): The Afrikaners .Tafelberg, Kaapstad, 1979.
Munger, Edwin S: Afrikaners and African Nationalism. Oxford University Press vir die Institute of Race Relations, Oxford, 1967.
Patterson, Sheila: The Last Trek. A Study of the Boer People and the Afrikaner nation. Routledge & Kegan Paul, Londen, 1957.
Stals, E en PH Kapp: Bibliografie van Nederlandse en Afrikaanse publikasies in Suid-Afrika 1875-1995. Laserskyf uitgee deur Sun Press, Stellenbosch, 2002. Afdelings 28 en 36.
Toynbee, Arnold: A Study of History. Volumes 1-3 het in 1934 verskyn, 4-6 in 1939 en 7-10 in 1954 uitgegee deur Oxford University Press. ’n Samevatting in twee bande is deur DC Somervell in 1947 en 1957 uitgegee en in 1960 in een enkele volume saamgevat.
Toynbee, Arnold: An historians approach to religion. Oxford UP, Londen, 1956.
William Vatcher: White Laager. The Rise of Afrikaner nationalism. Pall Mall Press, Londen, 1965.
TREFWOORDE
Historiese metode, Historiese interpretasie, Geloof en historiese bewussyn, Godsdiens en geskiedenis, Kerk en geskiedenis, Afrikaner geskiedenis, Bloedrivier, Geloftedag
KEY WORDS
Historical method, Religion and history, Belief and historical consciousness, Church and history, Afrikaner history, Blood River, Day of the Covenant
KONTAKBESONDERHEDE
1 Gebaseer op ’n voordrag gelewer voor die besprekingsgroep Wetenskap en Godsdiens van Stellenbosch.
2 Die mees onlangse pertinente voorbeeld was op 11 April 2007 toe die dekaan van die Fakulteit Teologie aan die US haar gebed by die inhuldiging van die nuwe rektor, die eerste teoloog om rektor van die US te word, so begin het.
3 Time, 5.2.2007, p. 20.
4 WA de Klerk: The Puritans in Africa. Rex Collings, Londen, 1975.
5 Vgl uitsprake hieroor op die debat tydens die Historiese Genootskap van Suid-Afrika se konferensie in
6 Le Roy Hooker: The Africanders. A Century of Dutch-English feud in South Africa. Rand, McNally & Co, Chicago, 1900; Edwin S Munger (red): The Afrikaners .Tafelberg, Kaapstad, 1979; Edwin S Munger: Afrikaners and African Nationalism. Oxford University Press vir die Institute of Race Relations, Oxford, 1967; John Fischer: The Afrikaners. Cassell, Londen, 1969; GHL Le May: The Afrikaners. An Historical Interpretation. Blackwell, Oxford, 1995; Graham Leach: The Afrikaners. Their Last Trek. Macmillan. Londen, 1989; Sheila Patterson: The Last Trek. A Study of the Boer People and the Afrikaner nation. Routledge & Kegan Paul, Londen, 1957; William Vatcher: White Laager. The Rise of Afrikaner nationalism. Pall Mall Press, Londen, 1965; Dunbar Moodie: The Rise of Afrikanerdom. University of California Press, Berkeley, 1975; Irving Hexham: Irony of apartheid: the struggle for national independence of Afrikaner Calvinism against British Imperialism. The Edwin Meller Press, Leviston, NY, 1981.
7 Hermann Giliomee: The Afrikaners. Biography of a people. Tafelberg, Kaapstad en University of Virginia Press, Charlottesville, 2003.
8 Vir volledige verwysings kyk E Stals en PH Kapp: Bibliografie van Nederlandse en Afrikaanse publikasies in Suid-Afrika 1875-1995. Laserskyf uitgee deur Sun Press, Stellenbosch, 2002. Afdelings 28 en 36.
9 Gepubliseer as The meaning of history met Adrio König en H Keane as redakteurs. Miscellanea Congregalia 13, Unisa, 1980.
10 Kyk Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal 20 (1988) artikel deur Ben Liebenberg: Mites rondom Bloedrivier en die Gelofte.
11 Die doel van die konferensie was om Zoeloe, Afrikaanse en ander sieninge met mekaar te vergelyk. Die tekste van die voordragte is in die handel op laserskyf beskikbaar: Die Slag van Bloedrivier 16 Desember 1838, Referate gelewer op die simposium van 13-14 Oktober 2006 . Die Erfenisstigting, Pretoria, 2006.
12 Vergelyk PS Dreyer: Inleiding tot die Filosofie van die Geskiedenis, hoofstuk 5. HAUM, Pretoria, 1974.
13 Arnold Toynbee: A Study of History. Volumes 1-3 het in 1934 verskyn, 4-6 in 1939 en 7-10 in 1954 uitgegee deur Oxford University Press. ’n Samevatting in twee bande is deur DC Somervell in 1947 en 1957 uitgegee en in 1960 in een enkele volume saamgevat.
14 An historians approach to religion. Oxford UP, Londen, 1956.
15 Herbert Butterfield: Christianity and History, p.21. G Bell and Sons, Londen, 1954.
16 Jaap Durandt: God in History – an unresolved problem, in König en Keane: The meaning of history, pp. 171-177.
17 Karl Löwith: Meaning in History, p.201. University of Chicago Press, 1949.
18 Enkele voorbeelde: FA van Jaarsveld: Die ontmotoligisering van die Afrikaner se geskiedsbeeld, in Die Afrikaner se Groot Trek na die stede, pp.296-324. Perskor, Johannesburg, 1982; A Historical mirror of Blood River, in The meaning of history, pp. 8-59; BJ Liebenberg: Mites rondom Bloedrivier en die Gelofte, Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal 20, 1988, pp. 17-32.
19 N Mayeke: The missionaries in conquest. Geen plek of datum.
20 Ad Biewenga: De Kaap de Goede Hoop. Een Nederlandse vestigingskolonie, 1680-1730. Prometheus- Bert Bakker, Amsterdam, 1999.
21 König en Keane: The meaning of history, p.219.
22 JH Huizinga: Cultuurhistorische Verkenningen, p. 53. Tjienk Willink, Haarlem, 1929; Wetenschap der Geschiedenis, pp. 65 en 85. Tjink Willink, Haarlem, 1937.
23 Aangehaal deur Vader Bonaventura Hinwood, The meaning in history, p. 147.
24 Rodney Davenport: Which bed for Goldilocks? The meaning of history, p. 100.
25 Paul Johnson se bespreking van Niall Ferguson se boek The War of the World in National Review, 25 September 2006.