“Here, leer ons bid.” Jesus se onderrig oor gebed volgens die Lukasevangelie
ABSTRACT
“Lord, teach us to pray.” Jesus’ teaching on prayer according to the Lukan gospel
Prayer was a subject of great interest to the writer of Luke. In the third Gospel prayer features more largely than in the other Gospels. Two aspects are prominent – the example of Jesus’ prayer life and his direct instruction on prayer. Although commentators had noted that Luke made many references to the subject little is said of the implications of this. In an attempt to fill this gap this article focusses on the latter of the above mentioned aspects by investigating Jesus’ instruction on prayer. It is only Luke who gives us the extended teaching of Jesus on this subject, illustrated by parables and following the request of the disciples.
1. INLEIDING
Ten spyte daarvan dat baie Christene wat getrou bid, besit baie van hulle nogtans ’n verskraalde beskouing van gebed. Hulle redeneer bloot dat as Jesus gebid het, hulle ook moet bid. Volgens Lukas is die eintlike basis vir gebed in die heilsgeskiedenis geleë. Jesus het ’n nuwe era ten opsigte van gebed betree. Christene mag hierdie bedeling in navolging van Hom ook binnegaan. Die bedoeling van hierdie artikel is om op grond van Jesus se onderrig oor gebed in die Lukas- evangelie die teologiese plek van die gebed binne die ontplooiing van die heilsgeskiedenis aan te toon. Dit kan tweeledig hanteer word. Aan die een kant kan gefokus word op die gebede van Jesus as sodanig, en aan die ander kant op die onderrig wat Jesus oor gebed gee. In hierdie artikel word op laasgenoemde faset gefokus, nadat oorkoepelende motiewe oor die gebed by Lukas as konteks aangetoon is.
2. LUKAS SE BESONDERE KLEM OP GEBED
Lukas gee in sy geskrifte baie aandag aan die gebed van Jesus en die vroeë kerk. O’Brien (1973:127) merk op “prayer is a significant motif in the Lukan writings as both terminology and the context make plain”. Statistiek ondersteun dit. προσεύχομαι (om te bid) kom negentien keer in die evangelie voor, teenoor die tien keer in Markus en vyftien keer in Matteus. As die voorkoms van die woord in Handelinge bygevoeg word, word die woord vyf en dertig keer deur die outeur gebruik (uit ’n totaal van agt en sestig kere in die Nuwe Testament). Hoewel Paulus in sy dankseggings, gebede, en paranetiese en didaktiese dele dikwels na gebed verwys, kom die woorde προσεύχομαι en προσευχη gesamentlik net drie en dertig keer in die Corpus Paulinum voor, teenoor die vyf en veertig keer in die Lukaanse geskrifte. Ander woorde wat ook betrekking het op gebed, naamlik δέομαι1, δέησις2, αίνέω3, εύλογέω4 en εύχαρισѓεω5, kom ook in ukas se evangelie voor (O’Brien 1973:113; Won 1999:32-37).
By die sinoptiese evangelies is daar ’n ontwikkeling in die onderrig oor gebed merkbaar (Edmonds 1980:143). Markus gee die minste inligting terwyl sy onderrig oor die gebed gefokus is op gewone mense. Matteus lê weer die klem op die gebede van die dissipels. Lukas fokus op die gebede van die Here Jesus Christus wat as die model en voorbeeld van gebed voorgehou word. Wanneer Lukas se evangelie met die ander sinoptiese evangelies vergelyk word, is dit opvallend hoe talle van Lukas se verwysings na Jesus se onderrig oor gebed net by Lukas voorkom (Conn 1972:6; Harris, 1966:21). Lukas berig van nege van Jesus se gebede, waarvan sewe slegs in Lukas voorkom. Net Lukas vertel dat Jesus aanhou bid het tot die hemel geopen het met sy doop (3:21). Net Lukas vertel dat Jesus alleen in Caesarea Filippi gebid het toe Hy vir sy dissipels gevra het: “Wie, sê die mense, is Ek?” (9:18). Net Lukas berig dat Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saamgeneem het na die berg van verheerliking om te bid (9:28, 29). Net Lukas berig dat sy dissipels Hom versoek het “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het” (11:1). Net Lukas beskryf die gelykenisse van die vriend wat teen middernag vir brood gevra het (11:5- 8), die weduwee wat die regter aanhou smeek het (18:1-8) en van gebede van die Fariseër en die tollenaar (Lukas 18:9-14). Net Lukas berig van Jesus se gebed vir Petrus omdat die Satan hom sou sif (22:31-32) en dat Jesus sy dissipels gevra het om te bid terwyl Hy in Getsemane worstel (22:40). Markus gee baie min aandag aan die tema van gebed, slegs in Markus 11:24, 25; 13:18 en 14:38. Die “onse Vader-gebed” kom nie in Markus voor nie. Die kere dat daar wel van gebed melding gemaak word, is dit nie die primêre saak waaroor dit gaan nie. Die inligting oor die gebed by Matteus is meer as by Markus wat gedeeltes insluit wat ook by Lukas voorkom, naamlik in Matteus 6:5-8, 14 e.v.; 18:19 e.v.; 21:22 en 24:20. Nogtans toon Matteus nie die sistematiese belangstelling in gebed soos dit by Lukas die geval is nie (O’Brien 1973:116). Benewens die feit dat Lukas meer gereeld as die ander evangeliste en op kritieke plekke beskryf dat Jesus gebid het, bied Lukas ook ’n meer uitgebreide beskrywing van die onderrig wat Jesus oor gebed aan sy dissipels gegee het. Hierdie klem op gebed word voortgesit in Lukas se opvolgboek, Handelinge, waarin daar besondere aandag geskenk word aan die gebed van die vroeë kerk.
Hoewel kommentare dikwels daarna verwys dat Lukas baie inligting oor gebed bied, word daar selde gevra waarom Lukas soveel aandag aan dié tema gee. Die gevolg is dat hulle dan faal om in Lukas se beskrywing die verhouding tussen Jesus as die Messias, die koms van die Koninkryk en gebed te identifiseer.
3. DIE KOMS VAN DIE MESSIAS, DIE KONINKRYK EN GEBED
Lukas se beskrywing van gebed moet binne eskatologiese perspektief verstaan word - in terme van die koms van die Messias en die Koninkryk. Met die koms van die Messias het die nuwe era van hoop aangebreek. God gaan op ’n nuwe wyse met die mens om.
Die Ou-Testamentiese profete beskryf die koms van die Koninkryk as ’n tyd wanneer gebede beantwoord sal word. Jesaja het die volk gewaarsku dat God, vanweë die sonde van die volk, hulle gebede nie meer sal hoor nie: “As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak ...” (Jes 1:15) en “dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie” (Jes 59:2). Maar daar sal ’n tyd kom dat God sy volk opnuut sal kom besoek: “Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek!” (Jes 58:9), en “voor julle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl julle nog praat, sal Ek julle gebede verhoor” (Jes 65:24). Lukas beskryf hoe hierdie nuwe era van hoop aangebreek het. God het vir Jesus as Redder gestuur. Die deur van gebed word oopgemaak.
Die kontras tussen die openingsgesig van Sagaria (Luk 1:10 e.v.) en die slotverse toon die aanbreek van die nuwe era aan. In Lukas 1 word beskryf hoe Sagaria besig is met tempeldiens en gebed. Sagaria het egter nie hoop dat sy gebed verhoor sal word nie. Toe die engel kom berig dat sy gebed verhoor is, glo hy dit nie (Luk 1:13e.v.). Daarteenoor eindig die Evangelie (Luk 24:52- 53) met ’n beskrywing van die dissipels wat die heil van die Messias leer ken het, hoe hulle die Here aanbid het en Hom met groot blydskap in die tempel geprys het. God hoor weer die gebede van sy mense. Lukas verduidelik dat Jesus hierdie heil kom bewerk het.
Die koms van die Koninkryk en die aanbreek van die era van heil word met gebede ingelui. Die volksmenigte staan buite die tempel en bid, terwyl die engel aan Sagaria verskyn (Luk 1:10). Maria sing haar gebed tot lof van die Verlosser wat gekom het (Luk 1:46 e.v.). Sagaria bid profeties met ’n loflied, omdat God sy volk in genade opgesoek het (Luk 1:67 e.v.). Simeon neem die kindjie Jesus in sy arms en bid, omdat Hy die verlossing van die Here gesien het (Luk 2:29 e.v.). Anna het die verlossing gesien en God oor die Kindjie gedank (Luk 2:38).
Met Jesus se doop is ’n nuwe era in die heilsgeskiedenis ingelui toe die Heilige Gees op Hom neergedaal het – juis terwyl Hy besig was om te bid (Luk 3:21, 22). Die gebede in Lukas hou verband met die kritieke momente in die heilsgeskiedenis en word onlosmaaklik verbind aan die dinamiese werking van die Heilige Gees (Floor, 1988:23; Hur, 2004:191; Smalley, 1973:62; Viljoen & Stoltz, 2005:260). In Lukas 17:20 en 21 beskryf die evangelis hoe Jesus vir die Fariseërs gesê het: “die Koninkryk van God is hier by julle”. Hiermee verklaar Jesus die reeds en die nog nie van die Koninkryk van God. Die Koninkryk van God het reeds met Jesus se koms ’n werklikheid geword, maar sal volledig kom met sy wederkoms. Die nuwe lewe het in beginsel begin, maar die volmaaktheid lê nog voor. Met die oog op die koms van daardie dag (in die interim) is die werking van die Heilige Gees in antwoord op gebede noodsaaklik. Die band tussen gebed, die Koninkryk van God en die Heilige Gees is besonder sterk (du Preez 1980:40). Smalley (1973:63) beskryf die verhouding as Gebed-Koninkryk-Gees. Dit blyk onder andere uit Lukas 11:13 waarvolgens die Heilige Gees as antwoord op die gebed ontvang sal word om gelowiges toe te rus vir hulle diens in die Koninkryk (O’ Brien 1973:114).
Gebed beklee ’n belangrike funksie in die struktuur van Lukas. Lukas het ’n didaktiese doel met die gebede (Ott, 1965:13). Aan die een kant hou Lukas die gebede van Jesus as voorbeeld voor, en aan die ander kant bestee hy besondere aandag aan Jesus se onderrig oor gebed. Jesus het gereeld gebid en Hy leer sy dissipels om dit ook te doen. Jesus se gebedslewe dien as voorbeeld vir sy dissipels om na te volg.
4. JESUS SE GEBEDSLEWE AS BASIS VIR SY ONDERRIG
Die beskrywing van Jesus se gebedslewe begin by sy doop. Terwyl Hy aan die bid was, het die Heilige Gees in die gestalte van ’n duif op Hom neergedaal (Luk 3:21). ’n Nuwe era van hoop breek aan soos wat die duif ook in die tyd van Noag die simbool van ’n nuwe begin van God met die mens gesimboliseer het (Gen 8:8 e.v.). Die hemel is oop. Gesprek tussen God en die mens is weer moontlik.
Jesus bid by keerpunte in sy bediening: voor die keuse van die dissipels (Luk 6:12), voor Petrus se belydenis (Luk. 9:18), op die berg van verheerliking (Luk 9:28), in Getsemane (Luk 22:41). Hy sonder Hom af om te bid en doen dit dikwels deur die nag (Luk 6:12; 10:26). Hy bid terwyl Hy aan die kruis hang: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:46) en “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk. 23:46). Hierdie heilshistoriese momente toon die koms van die Koninkryk aan. Dit gaan gepaard met die Messiaanse stryd binne konteks van gebed. Lukas voer aan dat God deur gebed die bediening van Jesus as die Redder doelgerig gelei het.
5. JESUS SE ONDERRIG OOR GEBED
Jesus se onderrig oor die gebed kom hoofsaaklik in Lukas 11 en 18 voor. Vier van die paranetiese dele kom in die vorm van gelykenisse (11:5-8; 11:11-13; 18:1-8 en 18:9-14). Daarbenewens word op drie ander plekke genoem dat Jesus sy dissipels opdrag gee om te bid, naamlik Lukas 6:28, 10:2 en 21:36.
Die onderrig oor gebede hou verband met dissipelskap in die Koninkryk van God (du Preez 1980:42; Han 2000:687). Met die koms van die Jesus as Messias het die Koninkryk in beginsel reeds gekom. Daarom is dit moontlik om weer in gebed met God te kan kommunikeer. Maar vir die ontplooiing van die Koninkryk is voortgaande gebed en diens van Jesus se volgelinge nodig. Die reeds en die nog nie veroorsaak spanning, wat ’n uitwerking op dissipelskap het. Die huidige Koninkryk (reeds) maak dissipelskap moontlik wat gekenmerk word deur die hoop op die voleinding (wat nog nie gekom het nie). Gevolglik het die koms van die Koninkryk eskatologiese en etiese implikasies (Smalley 1973:63). Hierdie implikasies blyk uit die volgende teksgedeeltes waarin Lukas Jesus se onderrig oor gebed beskryf.
5.1 Lukas 6:286
Die etiese en eskatologiese implikasies van die koms van die Koninkryk blyk daaruit dat Jesus aan sy dissipels opdrag gee om te bid vir die mense deur wie hulle sleg behandel word. Hierdie opdrag staan binne die konteks van sy opdrag aan hulle om hulle vyande lief te hê. Hierdie liefde vereis groot verdraagsaamheid en eskatologiese perspektief.
5.2 Lukas 10:27
Lukas beskryf vir die tweede keer dat Jesus sy dissipels opdrag gee om te bid. Die oes is groot en die arbeiders min. Daarom moet gebid word dat die Here van die oes dit in die harte van mense moet lê om bereid te wees om alles prys te gee om die evangelie van die Koninkryk te gaan verkondig. Jesus se opdrag dui daarop dat die oes reeds in proses is, maar dat daar nog baie oeswerk gedoen moet word (Marshall 1978:416). Die gebed van die dissipels is nodig, sodat die oesproses in volle swang kan begin en uiteindelik afgehandel kan word. Hierdie oesproses vorm ’n wesentlike deel in die koms van die Koninkryk – en daarvoor moet gebid word (Barnard 2004:8; du Preez 1980:35; Smalley 1973:61). In antwoord op die gebed, voorsien God die arbeiders en rus hulle toe vir hulle taak. Lampe (1955:169) beskou een van die mees kenmerkende eienskappe van Lukas se onderrig oor gebed dat die evangelis gebed beskou as “the means by which the dynamic energy of the Spirit is apprehended”. Gebed is “complementary to the Spirit’s activity since it is the point at which the communication of divine influence becomes effective for its recipients” (Lampe 1955:169).
Na Jesus se bevel om vir die oes te bid, beskryf Lukas die uitsending (10:3-20). Hierdie beskrywing word afgesluit met Jesus se gebed in 10:21-24 (“Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde …”) wat parallel teenoor Jesus se opdrag om te bid staan. Eenvoudige mense het die insig ontvang om die evangelie te glo. Die Heilige Gees is aan die werk. Die Koninkryk is besig om te kom.
5.3 Lukas 11:1-48
Jesus begin sy onderrig oor gebed deur aan sy dissiples die modelgebed te gee. Lukas skryf dat Jesus die modelgebed aan sy dissipels geleer het na aanleiding van Jesus se eie gebed (Nolland 1993:612). Dit is egter nie net Jesus se voorbeeld wat die dissipels laat vra het dat Jesus hulle moes leer bid nie, maar ook wat hulle gesien het van Johannes se dissipels (Lukas 5:33). Dit was gebruiklik dat bepaalde godsdienstige groepe sekere formuliergebede gehad het wat deur hulle leermeesters aan hulle volgelinge geleer is. Die feit dat groepe dieselfde gebedswoorde gebruik het, het hulle aan mekaar verbind (Evans 1990:478; Groenewald, 1989:153). Voorbeelde hiervan kom voor by die Fariseërs, die Qumran-gemeenskap en klaarblyklik by die volgelinge van Johannes die Doper (Conn 1972:7). Teen hierdie agtergrond vra een van die dissipels “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het”.
Jesus het gebid, en sy lewe het gebed in aksie gedemonstreer (Barnard 2004:60). In navolging van hulle Here wou hulle sy voorbeeld volg. Sy dissipels het besef hoe belangrik gebed was vir die bediening van Jesus. Hulle vra nie vir Jesus om hulle te leer preek of wonderwerke te doen nie, maar om hulle te leer bid. Hulle herken en erken die krag van gebed. Hulle besef dat Jesus Hom vir die koms van die Koninkryk van God beywer en dat dit ook hulle opdrag is. Hulle wou in God se teenwoordigheid kom om ook die rykdom, wysheid en krag van Hom af te bid.
In antwoord op hulle versoek gee Jesus aan hulle die “(ons) Vader”-gebed. Hierdie modelgebed bied ’n samevatting van Jesus se onderrig oor gebed, in sy lewe en deur sy gelykenisse (Edmonds 1980:140). Wat vorm betref, is Lukas se weergawe van die gebed korter as dié van Matteus. Lukas bied waarskynlik die oudste weergawe van die gebed ten opsigte van lengte en bewoording (Edmonds 1980:141; Evans 1990:476; Jeremias 1974:93; Marshall 1978:455).
Deur die weglating van “ons” voor “Vader” in Lukas se weergawe, word die Vadernaam sterk beklemtoon. Jesus het heel moontlik die Aramese vorm, “Abba”, gebruik (Marshall 1978:456). Dit is ’n baie intieme aanspreekvorm wat inderdaad vreemd sou wees vir Jode (Versteeg, 1991:15). In die mond van sy volgelinge sou dit beteken dat hulle in dieselfde verhouding tot die Vader betrek word as waarin Jesus gestaan het.
In die vorm soos Lukas dit weergee, is daar twee bedes wat met die saak van God te doen het, en drie wat op die behoeftes van die mense gerig is:
1. God se eer:
• Sy Naam moet vereer word,
• Sy koninkryk moet kom.
2. Menslike behoeftes:
• Daaglikse versorging,
• Skuldvergifnis,
• Hulp om nie in versoekinge sonde te doen nie.
Jesus leer sy dissipels hoe om te bid in die nuwe bedeling wat aangebreek het. Die kern van die gebed is die hoe die koms van die Koninkryk gerealiseer moet word. Die Naam van God moet geheilig word. Sy Naam behels sy wese en alles wat aan Hom behoort. Die mens wat bid, moet ’n medewerker word in die proses om dié Naam te verheerlik. Edmonds (1980:142) dui op die nou verwantskap wat daar bestaan tussen die modelgebed en die gelykenis van die vriend om middernag (11:5-8). Die gebed van die vriend in nood fokus op die vriend in die huis. Hy maak dus aanspraak op die wese en integriteit van die vriend in die huis om sy nood te opper. Net so bid die gelowige tot sy Vader. Die Een op Wie se wese en integriteit die gelowige altyd kan staatmaak. Ook sy Koninkryk moet kom. Sy koningsheerskappy moet erken word en realiseer. Die wêreld moet van wanorde en wanbestuur bevry word om plek te maak vir ’n wêreld van geregtigheid en vrede waar die liefde van God woon. Bidders hoop daarvoor en werk met toewyding daaraan mee (Han 2000:689). Daarom val die geskiedenis van die Koninkryk saam met die geskiedenis van gebed.
Die drie bedes vir die nood van die mens het eers met die liggaamlike behoefte en daarna met die geestelike welsyn te doen. Die gelowige is elke dag van sy hemelse Vader afhanklik vir sy versorging. Die geestelike behoefte is om van sondes vergewe te word. Die laaste bede is dat die Vader die bidder daarvan moet bewaar dat hy in versoeking val. Omdat elke mens vatbaar is vir versoeking is hierdie gebed elke dag nodig.
Die gelykenisse van om te vra, te soek en te klop (11:9-10) en van die vader wat vir sy kind sorg (11:11-13), staan parallel tot die die bedes oor die menslike behoeftes. Die Versorger is bereid om uitkoms te gee. Hy weet wat nodig is. Hy weet ook wat goed is vir die mens. Net soos ’n pa sy seun se nood verlig deur vir hom te gee wat goed is, sal God ook daagliks in die lewe van bidders voorsien.
5.4 Lukas 11:5-89
Direk na die modelgebed beskryf Lukas Jesus se gelykenis oor die vriend om middernag (11:5-8). Hierdie gelykenis is deel van die Lukas Sondergut10 . Met hierdie gelykenis benadruk Jesus dat die gebed beantwoord sal word van elkeen wat met vrymoedigheid en vertroue bid, al kom dit ook hoe ontydig volgens die mening van ’n mens. Die uur van ’n mens se verleentheid is die uur van gebed.
Die man wat kom vra, het staatgemaak op die integriteit van die vriend in die huis (Waetjen 2001:704). Die een wat vra, het geweet waar hy kon gaan vra. Daarom vra hy met vrymoedigheid, onbeskaamd, sonder om hom te steur aan die omstandighede en tyd van die nag. Hy ken sy vriend in die huis en hy ken sy integriteit. Hy weet dat sy vriend sy versoek sal beantwoord, nie omdat dit hy is wat vra nie, maar omdat sy vriend in die huis se gesindheid teenoor hom reg is.
Jesus leer met hierdie gelykenis vir die dissipels iets van die karakter van die Vader. Daarom kan bidders met vrymoedigheid en sonder skaamte na die Vader gaan (Marshall 1978:462; Waetjen 2001:707). Die klem lê op die “nog baie meer”-gedagte (11:13). Die kind van God kan met dieselfde vrymoedigheid in gebed tot God nader. Die gelowige bid nie op grond van sy eie geloofstatus of sondelose aard nie, maar op grond van God se integriteit. Hy is die goeie Koning wat nou reeds met deernis oor sy Koninkryk regeer (Sider 1985:11).
5.5 Lukas 11:9-1011
In die direk opvolgende perikoop (11:9-10) gaan dit weer oor die gesindheid van die een wat bid. Hierdie materiaal kom ook in Matteus voor. Terwyl Matteus dit binne konteks van die Bergrede plaas, plaas Lukas dit as deel van opeenvolgende leringe van Jesus oor gebed. Terwyl Matteus die klem laat val op die feit dat die gebed beantwoord sal word (“want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word” (Matt 7:8)), plaas Lukas die klem op die aanmoediging om met vrymoedigheid aan te hou om te “bid”, te “soek” en te “klop” (Luk 11:9) (Goldsmith 1989:254). Die gesindheid van die een wat bid moet so wees asof God reeds die gebed beantwoord het. In hierdie verhouding is die vraer nie moedeloos nie, maar vrymoedig en hoopvol (Marshall 1978:465).
Die sekerheid dat God die gebed sal verhoor, word deur die simmetriese opbou van die onderrig beklemtoon (Goldsmith 1989:255):
9. A1 Bid, en vir julle sal gegee word; B1 soek, en julle sal vind;
C1 klop, en vir julle sal oopgemaak word.
10. Want elkeen wat
A2 bid, ontvang; en hy wat
B2 soek, vind; en vir hom wat
C2 klop, sal oopgemaak word.
Die imperatiewe in vers 9 word uitgebrei deur die simmetriese deelwoorde in vers 10. ’n Bepaalde leefwyse word aangeleer: wees voortdurend vraende, soekende, kloppende, omdat jou Vriend, op grond van sy integriteit en wese, jou sal antwoord, selfs beter as wat ’n aardse vader jou sal antwoord. Jesus beklemtoon voortdurende gebedsaktiwiteit (O’Brien 1973:121). Wie bewus is van sy behoefte, bly smeek om uitkoms.
5.6 Lukas 11:11-1312
In die gelykenis waarin die pa vir sy seun gee wat hy vra, gaan dit veral om die verstaan van die gesindheid van die een wat antwoord. Met hierdie gelykenis bevestig Jesus weereens dat ’n gelowige nie moet huiwer om met sy behoeftes na die hemelse Vader te kom nie.
Hierdie gelykenis bevestig weereens die integriteit van die een wat antwoord. As ’n sondige vader weet om vir sy kind die goeie te gee, hoeveel te meer die hemelse Vader (Abba). Daarvoor staan die Vader in die hemel borg (Groenewald 1989:156). Die Vader gee reeds hier en nou uitkoms. Dit is die reeds van die Koninkryk waarin die gelowiges deel het. Waar Matteus praat van ’n “klip” vir ’n “brood” gee, verskerp Lukas die uitspraak deur te skryf van ’n “skerpioen” vir ’n “eier”. In plaas van die “goeie dinge” by Matteus, skryf Lukas “die Heilige Gees”. Daarmee noem hy die belangrikste gawe wat die Vader aan die gelowige gee. Dit is ’n tipiese Lukaanse variant. Ook elders verwys Lukas na die gawe van die Heilige Gees in antwoord op gebede. In Lukas 3:21 beskryf hy hoe die Heilige Gees op Jesus neergedaal het in antwoord op sy gebed. In Handelinge 1:14, 2:1-4, 4:23-31 en 8:15-17 word telkens verwys na gebed om die Gees of vervulling met die Gees in antwoord op die gebed van gelowiges. “The Holy Spirit given in answer to prayer ... is a significant theme in the Lukan writings” (O’Brien 1973:119). In antwoord op die gebed van ’n gelowige, kom die werk van die Heilige Gees aan die werk (Barnard 2004:8; Won 1999:55, 160). Die Heilige Gees gee ’n verskeidenheid van gawes vir gelowiges. Hy doen egter veel meer. Hy kom self na die gelowige toe en kom woon in sy hart (Barnard 2004:62).
5.7 Lukas 18:1-813
Slegs Lukas het die gelykenis van die weduwee en die regter opgeteken. In hierdie gelykenis word die doel van die gelykenis reeds in die eerste vers bekendgemaak - ’n mens moet aanhou bid. Gebed is ’n eskatologiese aktiwiteit wat uitdrukking gee aan die spanning in afwagting van die volmaaktheid van die Koninkryk wat aan die kom is (du Preez 1980:11; Marshall 1978:669; Nolland 1993:866).
Na sy inhoud is hierdie gelykenis verwant aan die gelykenis van dié man wat in die nag by sy buurman aanklop vir brood (11:5 e.v.). In aansluiting by 17:20-37 het dit ook betrekking op die wagtyd voor die wederkoms van die Seun van die mens. In dié tyd moet die gelowige volhard in gebed. Al sou dit lyk asof God talm om te reageer, moet die bidder nie moedeloos word nie (Evans 1990:635; Goetz 1997:96; Mitchell 1984:161). Om volhardend te bid mag egter nie verwar word met ydele herhaling van woorde nie. Daar bestaan dus nie iets soos ’n formule of magiese krag in die herhaling van woorde nie; dit word deur Christus verbied (Mitchell 1984:167).
Op grond van die regter se gesindheid en lewenshouding weier hy aanvanklik. Hy het geen eerbied vir God nie, en ook geen agting vir enige mens nie. Die arme weduwee het egter geen seggenskap of man gehad om haar in die regsaak te verteenwoordig nie. Daar bestaan ook geen verhouding tussen die regter en die weduwee nie. Inherent het sy niks wat hom kan oorreed om enigsins van plan te verander nie. Tog volhard die weduwee in haar oproep tot die regter om haar te help. Sy hou aan met vra. Selfs in sy argeloosheid merk die onregverdige regter die houding van die weduwee op. As die onregverdige regter tog die weduwee help, hoeveel te meer sal God sy uitverkorenes help!
In die gelykenis trek Jesus ’n parallel in die vorm van ’n paradoks tussen die onregverdige regter en God, en ’n parallel tussen die weduwee en die gelowige. Alles wat die regter is, is egter nie God nie en alles wat God is, is die regter nie (Mitchell 1984:164). Anders as die regter wat hom aan God en mens nie steur nie, is God die onveranderlike geregtigheid self. Die punt van vergelyking tussen God en die regter is die uitgestelde antwoord op die noodkreet van die weduwee. Die regter stel sy reaksie uit as gevolg van sy eie selfsugtige redes, terwyl God antwoord op die regte tyd in liefde teenoor sy kind, omdat alles onder sy beheer is. Met liefde wil Hy graag sy kinders verhoor wat tot Hom roep in gebed. Goetz (1997:97) skryf “God rules the world in consultation with those who pray”. Op hierdie belofte kan gelowiges vas vertrou, al lyk dit asof God ’n mens soms lank laat wag op ’n antwoord. God se antwoord op die gebed van gelowiges kan om verskillende redes uitgestel word. Dit kan wees om hulle geduld te leer, om hulle geloof te verskerp of dat die tyd nog nie reg is nie (de Ru 1971:385; Goetz 1997:99; Mitchell 1984:165).
Dit wil voorkom asof Lukas vir gelowiges skryf wat onder swaar vervolging gebuk gaan en dreig om hulle geloof te laat vaar. Vers 8 b “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?14 “ suggereer ’n ernstige krisis. God sal binnekort sy dienaars te hulp kom. Die parousia is naby. Gelowiges moet onthou dat die parousia oordeel sal bring oor die vervolgers, maar ook vir die Here se dienaars. Sal hulle nog getrou wees met sy koms? Lukas moedig sy lesers aan om getrou te bly tot die parousia. Binne die konteks van swaarkry (17:20 – 18:14) blyk dit dat hierdie gelykenis bedoel is om die lesers aan te moedig om vol te hou met hulle smeking dat die Here moet kom. Die lesers word bemoedig om nie hoop te verloor nie.
Hierdie gelykenis is tussen twee antwoorde van Jesus oor die tyd van die koms van die Koninkryk geplaas (17:20 en 18:8b) (Han 2000:691). Die klem lê op die voortdurende karakter wat die gelowige se gebed in die tyd moet inneem. God sal spoedig reageer op die gebede van die gelowiges en daarom is voortdurende gebed nodig van die dissipels wat die Koninkryk se koms spoedig verwag. Dit gaan hier nie net oor die toekoms nie, maar ook oor die hede. Dit impliseer die huidige toestande waarin die gelowiges hulle bevind, omdat hulle nou reeds deel het aan die Koninkryk van God. Jesus berei homself deur sy gebede voor vir die kruis, terwyl die gelowiges hulself deur gebede voorberei vir die lyding in die hier en die nou (Han 2000:693). Die gebed van Jesus volgens Lukas laat die fokus veral op die kruis en dissipelskap val. Gebed speel ’n belangrike rol in die vestiging van die Koninkryk asook die voorbereiding vir die toekomstige Koninkryk (Conn 1972 :290)15.
5.8 Lukas 18:9-1416
Nadat Jesus gewys het hoe noodsaaklik dit is om aan te hou bid (Luk. 18:1-8), vertel Hy direk daarna nog ’n gelykenis om die verskil aan te toon van gesindheid van mense wat bid. Ook hierdie gelykenis kom net in Lukas voor.
In hiperboliese styl skep Jesus deur die “ek”-gerigte gebed van die Fariseër ’n karikatuur van ’n bidder wat arrogant en vol selfvertroue is. Dit is tekenend van ’n verkeerde gebedshouding (Holmgren 1994:254; Marshall, 1978:679). Die manier waarop ’n mens bid, hang af van wat die bidder van hom- of haarself dink. Sommige mense bid, maar hulle besef hoegenaamd nie dat hulle afhanklik van God is nie. Op grond van eie verdienste is hulle van mening dat hulle saak met God reg is. Hulle vertrou op hulle eie geregtigheid. Daarteenoor vergelyk hulle hulleself met ander mense en sien op hulle neer.
Tog is die Fariseër in vele opsigte ’n modelgelowige. Hy is moreel suiwer, ritueel getrou en gee sy volle tiende. Maar juis op grond daarvan is hy van mening dat hy nie regtig vir God nodig het nie. Hy hoef nie vir God om genade te smeek nie. In sy gebed herinner hy bloot vir God aan sy gewaande verdienste. Jesus toon dat so ’n gebed geen waarde het nie. Die Fariseër was in sy eie oë godsdienstig onberispelik en het op sy eie vermoë vertrou. Die tollenaar daarenteen is bewus van sy sonde en onwaardigheid. Hy het byna nie die vrymoedigheid om God aan te spreek nie. Hy besef sy totale afhanklikheid van God. Dit is God alleen wat die mens regverdig. Deur direk hierna te vertel hoe Jesus die kindertjies seën, brei Lukas uit op die nederige gesindheid wat nodig is om die seëninge van gebed te ervaar uit (Luk 18:15-17).
In die twee voorafgaande episodes hanteer Lukas die saak van die hangende oordeel (17:20-37) waartydens daar streng geoordeel sal word (18:1-8). Wie sal regverdig bevind word? Die gelykenis bied die antwoord.
5.9 Lukas 21:3617
As deel van die profetiese rede waarsku Jesus sy dissipels om waaksaam te bly en te bid. Soos in die geval by 6:28 en 10:2 word ’n bevel van Jesus weergegee en nie onderrig as sodanig nie. Hierdie bevel toon egter hoe die gebed in praktyk werk.
Die mens moet nugter bly en leef asof hy die Here enige oomblik verwag. Dit kan gebeur dat gelowiges perspektief verloor en meegesleur word deur die gees van die wêreld. Die beste manier om dit te voorkom, is om volhardend te bid. Wie biddend lewe, sal by God genade vind. Hy sal deur die verdrukking heen bewaar bly om begenadig voor die Seun van die mens te staan wanneer Hy kom. Christene leef in die laaste dae, die dae tussen die twee magtige pole van Christus se koms en sy wederkoms. Hulle leef uit die krag van die verlossing van sy eerste koms en met die verwagting van die finale oorwinning van sy wederkoms. Die gebed van gelowiges hou hierdie verwagting en troos lewend in tye van swaarkry en selfs ernstige vervolging ter wille van die Koninkryk (Barnard 2004:246). Eers met die wederkoms sal die Satan en sy magte finaal vernietig word. Die bose bestry die Koninkryk van God op talle maniere. In God se stryd teen die bose skakel Hy gelowiges met hulle gebede in. Deur die gebed word hulle een met die wil van God.
6. GEVOLGTREKKINGS
Gebed is ’n kenmerkende motief in Lukas se evangelie. Dit blyk uit die terminologie wat hy gebruik asook die omstandighede waarbinne hy die gebed behandel.
In vergelyking met die ander evangelies bied Lukas die omvattendste beskrywing van Jesus se onderrig oor gebed. Lukas verduidelik dat gebed ’n belangrike medium is waarmee God sy volk lei. Deur gebed bepaal God die gang van die heilsgeskiedenis.
Jesus se onderrig oor gebed is hoofsaaklik in Lukas 11 en 18 opgeteken. Voorafgaande in 6:28 (gebed vir diegene wat gelowiges sleg behandel) en 10:2 (gebed om arbeiders vir die oes) en daarna in 21:36 (gebed om krag tydens verdrukking) is opgeteken hoe Jesus sy dissipels opdrag gee om te bid. In hierdie gedeeltes word aangetoon hoe belangrik gebed vir gelowiges is in hulle gesindheid, medewerking en verwagting van die koms van Koninkryk, veral in tye van swaarkry. Onderrig (oor gebed) as sodanig kom egter in Lukas 11 en 18 aan die orde. Jesus maak gebruik van direkte lering asook gelykenisse om dit te doen. Al hierdie onderrig staan binne die kader van die koms van die Koninkryk.
Die aanleiding tot die onderrig in gebed is die pertinente versoek van Jesus se dissipels (Luk. 11:1). Lukas toon aan dat gebed noodsaaklik is vir dissipelskap. Lukas maak dit duidelik dat gelowiges met vrymoedigheid en vertroue mag bid. Gelowiges ken die gesindheid en integriteit van die Een tot wie hulle bid. Hulle bid nie tot ’n onbetrokke vader of onbetroubare vriend nie. Dit word beklemtoon deur die intieme “Abba”-aanspreekvorm wat in die modelgebed geleer word (11:2), die gelykenis van die vriend om middernag (11:5-8) en die gelykenis van die pa wat vir sy seun gee wat hy vra (11:11-13).
Benewens die gesindheid van God tot wie die gebede gerig is, gee Lukas ook besonder aandag aan die gesindheid van die een wat bid:
• Die bidder mag met alle geestelike en liggaamlike behoeftes na die Vader kom, soos veral blyk uit die modelgebed (11:2-4) en die gelykenis van die pa wat vir sy seun gee wat hy vra (11:11-13).
• Die bidder moet met vertroue en vrymoedigheid bid, soos veral blyk uit sy onderrig om te bid, te soek en te klop (11:9-10).
• ’n Gelowige moet gereeld en met volharding bid. Dit blyk uit die gelykenis van die vriend wat om middernag brood vra by sy buurman (11:5-8) en veral uit die gelykenis van die weduwee en die regter (18:1-8).
• Die bidder moet in nederigheid besef dat hy deur en deur afhanklik is van God se genade en guns. God antwoord ’n mens nie op grond van die mens se waardigheid nie, maar net omdat God genadig is. Dié feit word beklemtoon met die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar (18:9-14).
Lukas bring die gebed van die gelowige binne konteks van die werk van die Heilige Gees. Die Heilige Gees voorsien die bidders met die nodige gawes en middele om te volhard in hulle diens in die Koninkryk. Maar meer nog, die Heilige Gees self kom deur die bidder aan die werk.
BIBLIOGRAFIE
Barnard, A 2004. Die pad van God na ons toe. Fokus op meer as 200 vrae oor gebed wat elkeen graag wil weet. Wellington: Lux Verbi.
Conn HM 1972. Luke’s Theology of Prayer. Christianity Today, 17(22):6-8.
Du Preez J 1980. Gebed – ’n teologiese besinning. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
De Ru G 1971. De gelijkenis van de onrechtvaardige rechter. Nederlands Theologisch Tijdschrift, 25:397-392. Evans CF 1990. Saint Luke. London: SCM Press.
Floor L 1988. Persoon en werk van de Heilige Geest. Kampen: Kok.
Groenewald EP 1989. Die evangelie volgens Lukas. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Goetz R 1997. On petionary prayer : Pleading with the unjust judge. Christian Century, 114(29):96-99.
Goldsmith D 1989. “Ask, and it will be given…”. New Testament Studies, 35(2):254-265.
Han KS 2000. Theology of Prayer in the Gospel of Luke. Journal of the Evangelical Theological Society, 43(4):675-693.
Harris LO 1966. Prayer in Luke-Acts: a study in the theology of Luke. Nashville: Vanderbilt University. (Ph.D. dissertation.)
Holmgren FC 1994. The Pharisee and the Tax Collector: Luke 18:9-14 and Deuteronomy 26:-15. Interpretation, 48:252-261.
Hur J 2004. A Dynamic reading of the Holy Spirit in Luke-Acts. London: T&T Clark.
Jeremias J 1974. The Prayers of Jesus. London: SCM.
Marshall IH 1970. Luke. Historian and Theologian. Exeter: Paternoster.
Marshall IH 1978. The Gospel of Luke. A commentary on the Greek text. Exeter: Paternoster Press (NIGTC).
Mitchell CC 1984. The case for persistence in prayer. Journal of the Evangelical Theological Society, 27:161-168.
Nolland J 1993. Word Biblical Commentary 35 B. Luke 9:21-18:34. Dallas: Word Books.
O’Brien PT 1973. Prayer in Luke-Acts. Tyndale Bulletin, 24(24):111-127.
Ott W 1965. Gebet und Heil: Bedeutung der Gebetsparänese in der lukanischen Theologie. München : Kösel.
Smalley SS 1973. Spirit, kingdom and prayer in Luke-Acts. Novum Testamentum, 15(1):59-71.
Versteeg JP 1991. Het gebed volgens het Nieuwe Testament. Amsterdam: Buijten & Schipperheijn.
Viljoen FP 2003. Luke, the Gospel of the Saviour of the world. Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 44(1&2):199-209.
Viljoen FP & Stoltz, HJ 2005. Die Heilige Gees in die Evangelie volgens Lukas. Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 46(1&2):260-273.
Waetjen HC 2001. The subversion of “world” by the parable of the friend at midnight. Journal of Biblical Literature, 120 (4):703-721.
Won P-H 1999. Lucan Pneumatology: The work of the Holy Spirit through prayer in Luke-Acts. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. (Th.M. dissertation).
TREFWOORDE
Gebed, Gebed in Lukas, Lukas 11 en 18, Onderrig oor gebed
KEY WORDS
Prayer, Prayer in Luke, Luke 11 and 18, Teaching on prayer
KONTAKBESONDERHEDE
1 8 keer in die evangelie en 7 keer in Handelinge.
2 3 keer in die evangelie.
3 3 keer in die evangelie en 3 keer in Handelinge.
4 13 keer in die evangelie en 2 keer in Handelinge.
5 4 keer in die evangelie en 2 keer in Handelinge.
6 “Seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie hulle sleg behandel word.”
7 “Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir die oes.”
8 Jesus was êrens op ’n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: Vader, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom. Gee ons elke dag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie.”
9 Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het ’n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, want ’n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie ...’ Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.
10 Gelykenisse waarin Jesus onderrig gee oor gebed wat net deur Lukas beskryf is, is die gelykenis van die vriend om middernag (11:5-8), die onregverdige regter (18:1-8) en die Fariseër en die tollenaar (18:9- 14).
11 En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.10. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.
12 Is daar ’n pa onder julle wat as sy seun vir hom ’n vis vra, vir hom ’n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ’n eier vra, vir hom ’n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.
13 Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Hy het gesê: “In ’n sekere stad was daar ’n regter wat geen eerbied vir God of agting vir ’n mens gehad het nie. En in dieselfde stad het ’n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’ ’n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan ’n mens steur ek my nie, maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.” Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”
14 Dit wil voorkom asof hierdie ’n byvoeging van Lukas was, hoewel die moontlikheid nie uitgesluit kan word dat dit ook ’n uitspraak van Jesus was nie.
15 Mitchell (1984:167) beskryf die waarde van volharding in gebed:
• Christus maak nooit bekend waarom daar ’n tydsverloop tussen die gebed en die antwoord op die gebed moet wees nie.
• Christus maak ook nooit bekend waarom volhardende gebed nodig is tot God wat reeds ’n sterk welwillendheid teenoor die gelowige het nie.
• Christus leer nooit dat volhardende gebed die doel het om God uit te put of te vermoei met klagtes en versoek nie.
• Volhardende gebed het nooit ten doel om God te verander nie, God is immers onveranderlik.
• Volhardende gebed het ten doel om die bidder te verander.
• Volhardende gebed word deur God gebruik om positiewe voordele vir die bidder te bewerk.
• Volhardende gebed het nie ten doel om God toegeefliker te maak nie, maar om die bidder meer ontvanklik te maak – dus om die mens se vermoë te vergroot om te ontvang en te hanteer wat God graag wil gee.
• Net soos God die mens ontwikkel deur voortdurende Bybelstudie, net so ontwikkel Hy die mens deur volhardende gebed.
• Volharding het dikwels helderheid en duidelikheid tot gevolg.
• Volharding is die bewys dat ons dit wat gevra word van God alleen verwag.
• Volharding dien as suiwering van die gedagtes en verwagtinge.
• Volharding suiwer ook die bidder self – dit dien as suiwering van die siel.
• Volharding versterk verwagting.
• Volharding is ’n geloofsdaad en dit versterk die geloof – soos ’n spier wat geoefen word.
• Volharding maak die bidder meer en meer bewus van sy afhanklikheid van God.
• Volharding in gebed is ’n Bybelse gebedsbeginsel.
16 Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’ “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ “Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”
17 Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’ “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ “Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”