Meijer, G

Universiteit van die Vrystaat

Die notae van ’n Skriftuurlik- verantwoorde kerklike appèlproses

ABSTRACT

The notae of a scripture-based ecclesial process of appeal

Worldwide in churches the right to appeal is considered with utmost care and with attention to the finest detail. Most church communities have a comprehensible appeal procedure on paper. It seems nonetheless that Scriptural grounding for the fact of appeal and the way in which to appeal, is deficient.

An attempt is being made to identify and put in writing a few distinguishing marks (notae) in the light of Scripture considering the appellant, his/her appeal, the judge, the way of conduct during the appeal and the settlement thereof. The focus falls especially on appeal as a way to resolve injustice and aid in the restitution of peace.

OPSOMMING

Wêreldwyd word daar in kerke deurgaans diepgaande en tot in die fynste besonderhede oor die reg tot appèl besin. Die meeste kerkgemeenskappe het ’n duidelik omskrewe appèlprosedure. Dit blyk egter dat Skriftuurlike verantwoording vir die feit van appèl en die manier waarop geappelleer word, tot ’n groot mate ontbreek.

’n Poging word aangewend om in die lig van die Skrif enkele duidelike wesenskenmerke (notae) ten aansien van die appellant, sy/haar appèlsaak, die regter, die hantering van die appèlsaak en die finalisering daarvan te identifiseer en beskryf. Die fokus val veral op appèl as ’n middel om onreg reg te stel en tot vrede by te dra.

1. ALGEMEEN, MAAR HOE DIEP?

Die reg tot appèl kom algemeen in die kerklike lewe voor. Deurgaans word dit uitdruklik en deeglik in ’n kerkorde en verwante prosedures omskryf. So bevat die Codex Iuris Canonici van die Rooms Katolieke Kerk 13 Canones waarin noukeurig bepaal word wat in geval van appèl gedoen en nie gedoen moet word nie1.

In Protestantse kerke word daar eweneens heelwat aandag aan die reg tot appèl gegee. Die kerkorde van die Orthodox Presbiterian Church bestaan uit drie dele, waarvan die tweede breedvoerig oor appèlle handel2. Artikel 30 van die Kerkorde van die Christian Reformed Church in North America is met drie supplemente aangevul waarin prosedure-reëls vir appèlsake uitgespel word3. In die Kerkorde van die Free Church of Scotland kom die reg tot appèl in verskillende artikels ter sprake4. Die Protestantse Kerk in Nederland het in hulle Kerkorde ’n volledige

ordinansie – bestaande uit twaalf artikels, wat elkeen weer uit verskeie paragrawe saamgestel is – met betrekking tot die behandeling van besware en geskille5. Ook die Gereformeerde Gemeenten in Nederland het ’n volledige handleiding en toeligting by die kerklike regspraak gepubliseer6, terwyl die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) in 2003, na ongeveer tien jaar van intensiewe studie, ’n nuwe reëling vir die appèlprosedure vasgestel het7. Plaaslik word daar in die kerke voortdurend aandag aan verfyning van regsprosesse geskenk. Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het tydens hulle laaste Nasionale Sinode besluit om opnuut die hantering van appèlsake te ondersoek8. Ook in die NG Kerk word daar voortdurend studie oor dié saak gedoen9.

Nieteenstaande die menigte praktykgerigte prosedures, ordinansies en bylaes is dit opmerklik dat daar oor die skriftuurlik begronding en verantwoording van die appèlreg min gepubliseer is. Bouwman, ’n kerkregtelike in die Gereformeerde Kerke van Australië en Kanada, merk in dié verband op dat daar in die kerkreg heelwat Skrifaannames is, maar dat Skrifbewyse ontbreek10. Die doel met hierdie artikel is om die gebrek aan Skriftuurlike verantwoording van die appèlproses aan te spreek.

2. DIE TITEL TOEGELIG

In ooreenstemming met die titel word die artikel in drie opsigte afgebaken en toegespits.

2.1 Kerklike appèlproses

Daar word in die titel doelbewus nie na ’n appèlprosedure verwys nie, maar na ’n appèlproses. ’n Prosedure dui op die wyse waarop iets gedoen word11, terwyl ’n proses die verloop en ontwikkelingsgang van ’n saak of geding aandui12. Prosesse is lewendig en bewegend. Prosedures word in plek gestel om die lewendige, bewegende, voortstuwende prosesse te bestuur, te rig en te monitor. Hierdie artikel gaan op die aktiewe prosesse insake appèl in, en nie soseer op tegniese prosedures nie. ’n Verdere afbakening lê in die woord ‘kerklike’ opgesluit. In die burgerlike reg is daar eweneens van appèl sprake. In hierdie artikel word slegs na die kerklike appèlproses gekyk. Meer besonder: die appèlproses in die Gereformeerde kerkreg, soos verwoord in Artikel 31 van die Dordtse Kerkorde13. Daarmee word nie gesuggereer of voorgegee dat daar geen raakvlakke tussen en punte van ooreenkoms met byvoorbeeld die Roomse kerkreg en selfs die burgerlike reg sou wees nie. Die fokus val egter in besonder op die appèlposes in kerke op ’n gereformeerde grondslag.

2.2 Skriftuurlik verantwoord

Dit word algemeen aanvaar dat kerklike appèl, soos wat dit in Artikel 31 van die Dordtse Kerkorde voorkom, nie op duidelike en/of direkte Skrifuitsprake rus nie14.

Die feit dat die Skrif geen uitdruklike verwysing na of beskrywing van appèl in die kerklike lewe gee nie, dui egter nie sonder meer op ’n non liquet nie.

Uit ’n menigte relevante Skrifgegewens15 word na twee begrippe verwys om aan te dui dat die saak van appèl wel deeglik uit die Skrif verantwoord kan en behoort te word. Die Ou Testamentiese tsa’aq ‘al is ’n regsbegrip, wat ‘beroep doen op’ beteken16. Tsa’aq ‘al gaan uit van iemand wat in ’n staat van onreg is, sy verontregting uitwys en op regsherstel aanspraak maak17. In aansluiting daarby dui sjafat op die gelowige wat verontreg is, en kragtens God se verbondsbelofte op regspraak geregtig is18. Die Griekse ekwivalente vir die Hebreeuse tsa’aq al is boao en epikaleomai tina19. Die Nuwe Testamentiese boao en epikaleomai tina is eweneens begrippe met ’n juridiese belading20. Dit kom met die Latynse appellare en provocare ooreen21.

Die Skrif gee genoegsame en deurslaggewende getuienis vir die feit dat daar geappelleer kan word, die wyse waarop dit behoort te geskied, asook die behandeling en afhandeling van ’n appèl tot eer van God en die herstel van die versteurde geloofsgemeenskap.

2.3 Notae

In die Gereformeerde dogma oor die kerk word na die notae ecclesiae – die kenmerke van die kerk – verwys. By kenmerke van die kerk gaan dit oor die vraag waaraan die kerk van Christus geken en uitgeken word. Kenmerke is herkenningstekens22; dit word duidelik van eienskappe onderskei. Die kerk se eienskappe is dat sy een, heilig, algemeen, Christelik en apostolies is23. Die kerk se kenmerke is suiwer bediening van die Woord, sakramente en tug24.

Die begrip notae in hierdie artikel word in dieselfde sin as notae ecclesiae gebruik. Daar word ondersoek gedoen na die merktekens waaraan ’n Skriftuurlik verantwoorde kerklike appèlproses uitgeken word. Soos wat die ware kerk op grond van haar notae maklik uitgeken kan word25, behoort die ware kerk se appèlproses (en –prosedure) aan duidelik omskrewe notae geken te word.

3. VERANTWOORDING UIT DIE SKRIF

Die kerklike appèlproses is omvangryk. Heelwat persone, sake en regsbeginsels is deurgaans daarby betrokke. Ter wille van oorsigtelikheid en bevatlikheid word die appèlproses soos volg onderverdeel: die appellant, die appèlsaak, die regter, regspraak, regsherstel. Elkeen van dié onderdele word kortliks vanuit die Skrif belig.

3.1 Die Skrif oor die appellant

’n Appellant is iemand wat daarvan oortuig is dat hy of sy onreg aangedoen is. Dikwels lei onreg tot konflik. In die Ou sowel as Nuwe Testament word van sodanige onreg, verongelyking en gevolglike konflik melding gemaak.

3.1.1 Die appellant se reg

Elke verontregte Israeliet, ook die vreemdeling, het die reg gehad om hom op regters te beroep26. Psalm 43:1-2 werp besondere lig op die reg van die verontregte. Soos in enkele ander Psalms27, word in Psalm 43 ’n persoonlike beroep op God gedoen: doen aan my reg28. Die vraag na reg in Psalm 43 is niks anders nie as ’n versoek om verdedig te word29. In die Nuwe Testament kom die verontregte se reg op regspraak volkome na vore. Aan die kruis het Christus die reg op regspraak ontbeer en sodoende die sekerheid verwerf dat almal wat in sy Naam tot God om hulp roep deur Hom gehoor word30.

3.1.2 Die appellant se motief

Die slotwoorde van 2 Kronieke 19:11 is veelseggend oor die motief waarmee die verontregte sy saak stel: ‘En mag die HERE met die goeies wees!’ Die ‘goeie’ is iemand wat eerlik in sy soeke na reg is31. Dit is nie vanselfsprekend dat die motief van die verontregte goed is nie. As gevolg van die mens se sondige aard kan talle negatiewe faktore, soos persoonlike gegriefdheid32, wraakgierigheid33, eiegeregtigheid34, selfverontskuldiging35, strydlus36, veragting37 en koppigheid38 die motief vir die aangaan van ’n regsaak beïnvloed39. Daarom word daar in Psalm 43:3 gevra: ‘Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge’. God se lig verdryf die duisternis van sondige selfgerigtheid40.

Teenoor eiegeregtigheid en selfhandhawing beklemtoon Matteus 18:15 dat intense droefheid oor die skuld van die naaste voor God die diepste dryfveer vir bestraffing van die skuldige naaste moet wees. Iemand wat onreg aangedoen is se eerste reaksie behoort te wees: die onreg van die teenparty is verskriklik in die oë van die Here41. So ’n reaksie forseer die verontregte terug na die persoon of persone wat hom onreg aangedoen het. Die beginsel van Levitikus 19:17 (teregwysing) en Matteus 18:15 (bestraffing) is die vertrekpunt vir die aangaan van ’n regsgeding. Eers as dit blyk dat die

teenstander die onreg handhaaf, gaan die teregwysing en bestraffing oor in ’n formele klag42. Geen regsaak kan goeie vrugte dra as dit nie uit liefde vir God, respek vir die gemeenskap van gelowiges en erkenning van persoonlike geringheid hanteer word nie43. Daarby moet onthou word dat die persoon wat van onreg kla, self ’n sondaarmens is vir wie die reël van Galasiërs 6:1 geld: ‘Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy nie ook versoek word nie’.

3.1.3 Die appellant se doel

Soeke na reg veroorsaak in mindere of meerder mate stryd, spanning, droefheid, onsekerheid en leed in die mens se binneste44. Psalm 43 leer dat daar te midde van stryd op God gehoop moet word. Hoop is om onder alle omstandighede aan God te bly vasgryp en onwrikbaar op Hom te bly wag45. Die primêre doel met regspraak is volgens Weiser46 nie, maar die herstel van reg voor die Here. nie die verlossing van die verontregte

In aansluiting by die suiwer motief waarmee die verontregte na regsherstel soek, word dit uit Matteus 18:15-20 duidelik wat die mikpunt van die verontregte moet wees, naamlik dat die sondaar sy onreg voor God sal erken en bely47. Skuldbelydenis voor God sal noodwendig herstel van versteurde broederbande en vrede tot gevolg hê48. In die geval van berou en skuldbelydenis is daar wins: in die hemel én op aarde49. Die sondaar wat deur sy sonde verlore was, is langs die weg van berou en bekering weer gevind50.

3.2 Die Skrif oor die appèlsaak

In Psalm 43:1 word daar uitdruklik na die saak van die verontregte verwys. Die woorde ‘verdedig my regsaak’ is ’n weergawe van die Hebreeuse we’rib’ah rib’i. Rib dui op ’n regstryd wat deur ’n verontregte persoon gevoer word51. Die vervolg van Psalm 43:1 verbind die inhoud van die regsaak direk aan die party waarteen die regstryd gevoer word. Sodoende word die inhoud van die verontregte se saak duideliker omlyn. Die party waarteen die regstryd gevoer word, word bestempel as ’n onbarmhartige volk, ’n nie-getroue volk, ’n volk wat hom nie aan God en God se verbondstrou steur nie52. Die ‘man van bedrog en onreg’ kan kollektief of individueel verklaar word53. Bedrog (mir’mah) het die algemene betekenis van verraad, gemene spel, arglistigheid, slinksheid54. Onreg (aw’lah) dui op verkeerdheid, slegtheid, alles wat nie met God verbind kan word nie55.

Die verwante Griekse naamwoord adikos dui op ‘onregverdig, onbillik, dit wat nie met die sedes en regte ooreenkom nie, oneerlik, ongelyk-waardig, partydig, sleg, onwettig, onnoukeurig, verkeerd’56. Die saak van die verontregte kan in een woord saamgevat word: onreg. Die onreg wat aangedoen is, kan uiteenlopend van aard wees. Tog is daar ’n gemeenskaplike faktor in alle onreg. Wanneer iets nie met die wil van God ooreenkom nie, is dit onreg.

3.3 Die Skrif oor die regter

3.3.1 Die regter se posisie

Die Here is Regter van die hele aarde57. Hy is die hoogste beroepsinstansie vir sy volk58. Hy het die reg lief en eis dat sy onderdane die reg ook sal liefhê59.

Vir geen oomblik doen God van sy Regter-wees afstand nie. Tog roep Hy sekere mense en maak Hy hulle bekwaam om sy reg op aarde te bedien.

Uit die verskeidenheid van toepaslike Skrifgegewens blyk dat die posisie van die God- aangestelde regter deur die loop van die Ou en Nuwe Testament voortdurend ontwikkel het60. Aanvanklik het oudstes reggespreek61. Met Israel se vestiging in Kanaän het regspraak in die stadspoort geskied62. Later het die koning as hoogste regter op aarde reggespreek63. Die koning het egter toegesien dat regspraak primêr plaaslik geskied64. Regters (meervoud) is aangestel; meer as een per stad, omdat dit nie goed is dat die regspraak by een persoon berus nie. In ’n kollege van regters is meer kennis en wysheid saamgevoeg65. ’n Kollege van regters het ook beter waarborge teen korrupsie of eensydige beoordeling van sake66.

Nadat Israel uit ballingskap teruggekeer het, het die Sanhedrin as regsprekende liggaam tot stand gekom67. Die Sanhedrin is uit skrifgeleerdes, owerpriesters en ouderlinge – almal wettige volksleiers en voorgangers in die tempel en sinagoge68 – saamgestel. Behalwe die Sanhedrin was daar egter ook steeds kleiner regbanke wat gewoonlik uit sewe lede bestaan het, en wat sake plaaslik hanteer het69.

Ná Christus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster het ’n prinsipiële onderskeiding tussen burgerlike en kerklike regering (inklusief regspraak) ingetree70. Burgerlike owerhede is van Godsweë vir die burgerlike regering verantwoordelik71 . Die apostels72, en in die na-apostoliese tyd die ouderlinge van die gemeentes73, is voortaan vir die kerkregering verantwoordelik. Christus bewerk ook ’n gemeenskap tussen kerke om mekaar onderling van hulp en raad te bedien74. Die krag van die gemeenskap tussen kerke blyk in besonder uit Handelinge 15, waar gemeld word wat die apostels in geval van kerklike geskille gedoen het75.

.3.2 Die regter se gawes en ingesteldheid

Regters moet bereid wees om die HERE en hulle naaste te dien76. Daarvoor is geloof, wysheid, onderskeidingsvermoë, liefde77, betroubaarheid, eerlikheid78, versigtigheid, deurtastendheid en deskundigheid79 nodig. Regters moet in hulle optrede onbevooroordeeld wees80, sonder aansien des persoons oordeel81, besondere aandag vir swakkes en verdruktes hê, sonder om hulle voor te trek82 of om hulle reg te verdraai83, konsekwent in hulle regspraak wees84.

Kruger85 maak op grond van die regters se gespesialiseerde en veeleisende werk die afleiding dat regters bepaalde gawes en skoling nodig gehad het. Oor die nodigheid van gawes bestaan daar in die lig van die Skrifgegewens geen twyfel nie, maar oor die skoling van regters is daar geen direkte Skrifuitspraak nie. Gebrek aan sodanige uitspraak maak die afleiding egter nie ongegrond nie. Omdat die bediening van die regter-amp diepgaande kennis en onderskeidingsvermoë vereis, kan aanvaar word dat opleiding onontbeerlik was. In ooreenstemming met opleiding van ander ampsdraers86 kan dit verder aanvaar word dat bestaande regters nuwe regters opgelei het.

3.3.3 Die regter se taak

Die regter se taak word noukeurig in die wetboek87, die historiese boeke88, sowel as die wysheidsboeke89 weergegee. Hy is geroep om juridiese ewewig, wat as gevolg van onreg versteur is, te herstel. In die pastorale briewe beklemtoon Paulus dat die kerk ooreenkomstig God se Woord regeer moet word90. Kerkregering, kerklike regspraak en kerklike optrede moet te alle tye aan pastorale bewoënheid geken word91. Daar moet vir wysheid van bo gebid92 en teen ’n gees van veglustigheid gewaak word93.

Bo en behalwe regspraak, het regters ook ’n toerustingstaak gehad94. Elke Israeliet moet die wet van God ken en onderrig word oor ’n lewe in ware Godsvrees95. Die onderrig (tsahar) dui veral op waarskuwing96.

3.4 Die Skrif oor regspraak

3.4.1 Bekendmaking van vermeende verontregting

Die manier hoe daar op regspraak beroep gedoen word, word noukeurig in God se Woord omskryf. In 2 Kronieke 19:1097 word ’n woord van vermaning gerig. Voordat die regsaak begin, moet die partye gewaarsku word98. Die betrokkenes moet nog eenmaal hulle regsgronde in afhanklikheid van die Here ernstig ondersoek en, indien nodig, hulle fout(e) erken voordat die regskollege ondersoek instel en regspraak lewer99. Die waarskuwing van 2 Kronieke 19 weerklink in Matteus 18:15 - ‘En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen’.

Die vervolg van Matteus 18 spel die pad uit wat geloop moet word indien die sondaar-broeder hom nie van sy sonde bekeer nie: ‘maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan’ (vers 16). Die behoud van die sondaar staan weereens in die sentrum. Gelowiges moet as soekende herders oor mekaar wag hou 100. Die saamneem van getuies101 is nodig ter wille van die bearbeiding van die sondaar, maar ook om getuienis in ’n regsproses wat mag volg te kan lewer102. ‘En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente’103. Wanneer die sondaar volhard in sy weiering om aan die opdrag tot berou, bekering en herstel gehoor te gee, moet dit aan die ekklesia104 bekend gemaak word. Op die ekklesia word ’n beroep gedoen om oor die aangedane onreg uitspraak te lewer.

3.4.2 Ondersoek van vermeende verontregting

2 Kronieke 19:11 onderstreep die erns waarmee regters die klagte, wat voor hulle ingebring word, moet bejeën: ‘julle moet sterk wees en dit doen’. Omdat regters aan groot druk – waaronder die gevaar van omkopery en onregmatige bevoorregting – blootgestel is, word hulle opgeroep om nie daaraan toe te gee nie, maar aan God gehoorsaam te wees105.

Deuteronomium 17:4 verwys na die verantwoordelikheid van die regter om in alle sake wat voor hom dien ‘terdeë ondersoek in te stel’. Die Griekse begrip anakrino verwys na die regsproses, wat meestal die vorm van ’n geregtelike ondervraging aangeneem het106. Daar mag nie op gerugte afgegaan word nie. ’n Integrale deel van die ondersoek is om alle betrokke partye in die regsaak aan te hoor107 . In die hantering van die klag word die aangeklaagde eers geleentheid gegee om sy saak persoonlik teenoor die klaer te stel. Sake is meestal mondeling108, maar soms ook skriftelik gestel109. Nadat die klaer en die aangeklaagde aangehoor is, kry beide geleentheid om getuies op te roep. Getuies moet weet dat hulle getuienis ’n saak van groot erns is, aangesien hulle deel word van vonnis-voltrekking110.

Net soos in die Ou Testament, is daar in die Nuwe Testament besonder klem op hoor en wederhoor – die audi alteram partem-reël – geplaas111. So het Christus voor Annas, Kajafas, Pilatus én Herodes verskyn alvorens ’n uitspraak gelewer is112. Paulus is deur die Joodse Raad, die Romeinse owerste oor duisend, Felix, Festus én Agrippa aangehoor voordat hy in appèl na Rome gaan om deur die keiser self gehoor te word113.

Deur middel van ondervraging en deeglike ondersoek moet die inhoud van die klag van verontregting sover moontlik gekontroleer en geverifieer word114. Regters moet seker maak dat die feite op grond waarvan hulle moet oordeel, vasstaan115.

Billikheid is ’n skriftuurlike eis met betrekking tot regspraak116. In Psalm 58:2 kla Dawid dat die billikheid (misjoor) by regspraak ontbreek117. Billikheid hou rekening met die uniekheid en eiesoortigheid van elke saak. Plek, tyd en omstandighede speel ’n belangrike rol in die billike beoordeling van feite. Elke saak moet op eie meriete oorweeg word. Dit is onmoontlik om alle omstandighede in ’n regsreël vas te lê118. Regters moet hulle verstand gebruik en vroom wees. In die Skrif val die klem op die spoed waarmee die materie van ’n regsaak hanteer moet word.119 Onreg moet so gou moontlik aangewys en weggedoen word. Die verongelykte se reg moet haastig herstel word.

3.4.3 Regsuitspraak

Die resultaat van ’n geregtelike ondersoek is: die saak staan vas120. Blykens Deuteronomium 17:9 het die priesters en die regter die gesamentlike taak om na afloop van die ondersoek ’n regsgeldige, en daarom bindende uitspraak (letterlik: woord van reg) te lewer121. Die regter moet ooreenkomstig God se wet die skuldige straf en die onskuldige (verdrukte) verlos. Uit Matteus 18:17 word dit duidelik dat, indien ’n sondaar die vermaning van die hele ekklesia in die wind slaan, ’n regsdaad plaasvind: afsnyding122. Hierdie regsdaad impliseer nie dat die draad van soekende liefde geheel en al verbreek word nie123. Die hoop bly altyd bestaan dat die sondaar oor wie daar reg gespreek is, tot inkeer sal kom. Intussen moet die erns van die uitspraak wat op aarde gelewer word, nie onderskat word nie. ‘Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees’124. Die aksies van bind en ontbind verwys terug na die bevoegdheid van Petrus en die ander dissipels om die leer van Christus met gesag te bedien125. Die regsuitspraak op aarde het geldigheid voor God, die Regter op die hemelse troon126.

3.5 Die Skrif oor regsherstel

Uit die Skrif blyk dat die taak van die regter was om die geskil te besleg deur op te kom vir regverdigheid. Die regter was baie meer ’n verdediger van die reg (Amos 5:10) as ’n bestraffer van misdaad. Die uitspraak in ’n regsaak kan en mag gevolglik nie bloot formeel geskied nie. In die uitspraak van regters moet klaers en aangeklaagdes die hand en stem en leiding van die HERE bemerk127.

Regsuitsprake wil mense oortuig, en hang ten nouste saam met liefde, barmhartigheid en wysheid128. ’n Goeie regter is herderlik, pastoraal, onderwysend, vermanend, waarskuwend, oorredend besig129. Die uitspraak word op sigself ’n appèl op die broederhart.

Onreg moet uitgesuiwer word en plek maak vir reg. Konflikte in die onderlinge omgang tussen lede van die verbondsvolk moet opgelos word130. As sake só verloop, vind reg en vrede mekaar131 Vrede sal slegs ’n werklikheid word as die uitspraak van die regter in gehoorsaamheid aan God eerbiedig word132. Omdat die uitspraak die wil van die HERE in die gegewe omstandighede is, mag dit op geen manier in die wind geslaan word nie. Verontagsaming van ’n regsuitspraak is niks anders nie as verontagsaming van die HERE. Vandaar die herhaling in Deuteronomium 17:10 - ‘en jy moet sorgvuldig doen’.

Regverdige regters, ’n regverdige regstelsel en wyse regshandhawing is nodig om ’n rustige emeenskap te skep; ’n gemeenskap waarin mense mekaar onderling kan vertrou133.

4. IDENTIFISERING VAN NOTAE

Vanuit die ryk verskeidenheid van relevante Skrifverwysings, waarop in die voorafgaande paragrawe ingegaan is, kan bepaalde duidelike notae met betrekking tot die appèlproses onderskei word. Ooreenkomstig die indeling wat gemaak is, word die notae aangeteken.

4.1 Notae van die appellant

Die appellant wat ooreenkomstig die Woord van God in appèl gaan, word geken aan sy:

• oortuiging dat hy uit genade om Christus wil reg op regspraak het;

• bewussyn van eie swakheid en sondigheid;

• stryd teen eiegeregtigheid en selfhandhawing;

• onvermoeide ywer om sake onderling op te los alvorens tot ’n openbare regsaak oorgegaan word;

• soeke na die eer van God en die herstel van reg.

4.2 Notae van die appèlsaak

Die saak waaroor die appellant ooreenkomstig die Woord van God appelleer, word geken aan:

• bewyslewering dat en hoe die betrokke optrede of besluit teen die wil van God ingaan (onregmatig is), en die samelewing en –werking tussen gelowiges versteur.

4.3 Notae van die regter

Die regter (beroepsintansie) wat ooreenkomstig die Woord van God die appèl behandel, word geken aan sy:

• belydenis dat God die eintlike Regter is, in Wie se diens alle aardse regters staan en aan Wie verantwoording oor regspraak gedoen moet word;

• erkenning van eie beperkings en soeke na gemeenskaplike beraadslaging en regspraak;

• pastorale bewoënheid sowel as regverdige optrede by die behandeling van die regsaak;

• gebed om wysheid van bo;

• begeerte om niks anders as die wil van God te laat seëvier nie.

4.4 Notae van regspraak

Regspraak ooreenkomstig die Woord van God word geken aan:

• spoedige behandeling van regsake;

• deeglike ondersoek, met in agneming van die audi alteram partem-reël;

• regsekerheid oor die feite wat beoordeel word;

• billikheid in die beoordeling van feite en toepassing van regsreëls;

• duidelik en oortuigend gefundeerde bevinding;

• ’n uitspraak wat, indien nodig, die konsekwensies van die regspraak uitspel.

4.5 Notae van regsherstel

Die effek van regspraak ooreenkomstig die Woord van God word geken aan:

• bereidwilligheid van alle betrokkenes om die regspraak in gehoorsaamheid aan God te eerbiedig;

• herstel van rus en vrede op grond van God se reg wat seëvier.

Daar sal ongetwyfeld meer kenmerke met betrekking tot ’n Skrifverantwoorde appèlproses geïdentifiseer en beskryf kan word. Met hierdie poging word ’n breë raamwerk daargestel waarby, so word gehoop, die kerke in hulle regspraak baat kan vind.

BIBLIOGRAFIE

Albertz, R 1979. Theologisches Handwörterbuch zum Alten Testament (Band II). Herausgegeben von Ernst Jenni unter Mitarbeit von Claus Westermann. München: Chr. Kaiser Verlag.

Biesterveld, P & Kuijper, HH 1905. Kerkelijk handboekje bevattende de bepalingen der Nederlandsche Synoden en andere stukken van beteekenis voor de regeering der kerken. Kampen: Bos.

Bouwman, C 2000. Spiritual Order for the Church. Winnipeg: Premier Publishing.

Bromiley, GW 1985. Theological Dictionary of the New Testament, edited by Gerhard Kittel and Gerhard Friedrich, translated by Geoffrey W. Bromiley. Abridged in one volume. Devon: Pater Noster Press.

Büchsel, F 1950. Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament, herausgegeben von Gerhard Kittel. Band III. Stuttgart: Union Druckerei GmbH.

Calvyn, J sj. Het boek der Psalmen verklaard door Johannes Calvijn, vertaald en uitgegeven onder toezicht van J. Boer Knottnerus. Eerste deel. Utrecht: H. ten Hoove.

Calvyn, J 1559. Institusie van die Christelike Godsdiens. Uit die Latyn vertaal deur prof. dr. H.W. Simpson. Vierde deel. Potchefstroom: CJBF.

Christian Reformed Church In North America. 2005. Church Order and rules for synodical procedure. Grand Rapids: CRCNA.

Codex Iuris Canonici, 1983. Soos gepromulgeer deur pous Johannes Paulus II op 25 Januarie 1983. Internet: www.kerkrecht.nl

Cremer, H 1915. Biblisch-theologisches Wörterbuch der Neutestamentlichen Gräzität. Zehnte, völlig durchgearbeitete und vielfach veränderte Auflage herausgegeben von J Kögel. Gotha: Friedrich Andreas Perthes A-G.

Danker, FW 2000. A Greek-English Lexikon of the New Testament and other early Christian Literature. Third Edition. Chicago: Chicago Press.

Deddens, P 1953a. Het recht in Christus’ kerk naar Deuteronomium (2). De Reformatie, 28(29):235-236, Apr.

Deddens, P 1953b. Het “horen” van partijen in het licht van Schrift en Historie. De Reformatie, 28(48):370, Sep.

Deddens, P 1953c. De letter van de Kerkenorde. De Reformatie, 28(49):378-379, Sep.

Deddens, P 1953d. Synodale hiërarchie. De Reformatie, 28(50):386, Sep.

Deddens, P 1953e. Synodale hiërarchie. De Reformatie, 29(3):19, Okt.

Deddens, P 1953f. Appèl onder Israel? De Reformatie, 29(4):26-27, Okt.

Deddens, P 1953g. Appèl door de Heilige Schrift niet toegelaten? De Reformatie, 29(5):35, Okt.

Deddens, P 1954. Arbitrale pacificatie. De Reformatie, 29(26):208, Apr.

De Kock, DJ 1982. Appèlreg volgens Artikel 31 Kerkorde. Potchefstroom: PU vir CHO. (Skripsie - Th.B.)

Delitzsch, F 1894. Biblischer Kommentar über die Psalmen. Leipzig: Dörffling & Franke.

De Vaux, R 1973. Hoe het oude Israël leefde (deel 1). Roermond: Romen.

Duvenage, SCW 1981. Die dékor van die Nuwe Testament. Kaapstad: Nasionale Boekdrukkery.

Free Church of Scotland. 1995. The Practice of the Free Church of Scotland in her several courts. Eighth Edition (revised). Edinburgh: Knox Press.

Frey, H 1952. Das Buch der Heimsuchung und des Auszugs. Des zweiten Buches Mose. Kapitel 1-18. Stuttgart: Calwer Verlag.

Gereformeerde Gemeenten. 1999. In orde. Handleiding en toelichting bij de kerkelijke rechtspraak. Houten: Den Hartog.

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 2006. Handelinge van die nege-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 4 Januarie 2006 en volgende dae. Pretoria: V&R Drukkery.

Gesenius, W 1886. Hebräisches und Aramäisches Handwörterbuch über das Alte Testament. Zehnte verbesserte und vermehrte Auflage. Leipzig: Verlag van FCW Vogel.

Grosheide, FW 1922. Het heilig evangelie volgens Mattheus. Kommentaar op het Nieuwe Testament. Amsterdam: HA van Bottenburg.

Grundmann, W 1972. Das Evangelium nach Matthäus. Theologischer Handkommentar zum Neuen Testament. Berlin: Evangelische Verlaganstalt.

Heaton. EW sj. Het dagelijks leven in de tijd van het Oude Testament. Vertaling: J.F. Kliphuis. Baarn: Bosch & Keuning N.V.

Hendriksen, W1976. The Gospel of Matthew. New Testament Commentary. Edinburgh: The Banner of Truth.

Holladay, WL 1971. A concise Hebrew and Aramaic Lexicon of the Old Testament. Grand Rapids: William B. Eerdmans Publishing Company.

Holwerda, B 1957. Oudtestamentische voordrachten. Deel III - Exegese Oude Testament (Deuteronomium). Kampen: Copiëerinrichting v.d. Berg.

Koehler, L & Baumgartner, W 1958. Lexicon in Veteris Testamenti Libros. Leiden: Brill.

Kraus, HJ 1960. Psalmen. 1. Teilband. Biblischer Kommentar Altes Testament. Neukirchen: Neukircherner Verlag.

Kruger, MA 1986. ’n Ander prosedure vir beswaarskrifte en appèlle? In die Skriflig, 20(79):45-48, Sept.

Kruger, MA 1992. Regspraak volgens artikel 31 van die Kerkorde van die GKSA. _ Skriftuurlike beoordeling. In die Skriflig, 26(1):65-73, Mrt.

Liedke, G 1979. Theologisches Handwörterbuch zum Alten Testament (Band II). Herausgegeben von Ernst Jenni unter Mitarbeit von Claus Westermann. München: Chr. Kaiser Verlag.

Lion-Cachet, FN 1994. Die begronding van geregtigheid. _ Perspektief op die wettebundels van die Pentateug. In die Skriflig, 28(2):247-259, Jun.

Meijer, GJ 1988. Handelinge 15. _ Kerkregtelik-etiese studie. (Ongepubliseer)

Meijer, GJ 2006. Appèl met die oog op regsherstel. Potchefstroom: PU vir CHO. (Proefskrif - PhD)

Moscati, S 1953. Geschichte und Kultur der Semitischen Völker. Stuttgart: W. Kohlhammer Verlag.

Muller, F & Thiel, JH 1969. Beknopt Grieks-Nederlands Woordenboek. Elfde druk. Bewerkt door dr. W. den Boer. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Nederduitsche Gereformeerde Kerk. 1894.

Noordtzij, A 1938. De boeken der Kronieken. Deel II. Korte Verklaring van de Heilige Schrift. Kampen: J.H. Kok N.V.

Noth, M 1959. Das zweite Buch Mose. Das Alte Testament Deutsch. Göttingen: Hubert & Co.

Odendal, FF red. 1985. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Johannesburg: Perskor. 1378 p.

Ohmann, HM sj. Kronieken van het Koninkrijk. Bijbelstudie in schetsen III,2. Bedum: Scholma Druk.

Orthodox Presbyterian Church. 2000. The Book of Church Order. 2000 edition. Including all revisions effective on January 1, 2000. Willow Grove: OPC.

Pop, FJ 1984. Bijbelse woorden en hun geheim. ‘s Gravenhage: Boekencentrum B.V.

Ridderbos, J 1958. De Psalmen II. Commentaar op het Oude Testament. Kampen: Uitgeversmaatschappij J.H. Kok.

Rienecker, . 1953. Das Evangelium des Matthäus. Wuppertaler Studienbibel. Wuppertal: Verlag R. Brockhaus.

Roeleveld, L 1972. Beginselen van kerkelijke rechtspraak. In die Skriflig, 6(21):41-51, Mrt.

Roubos, K 1972. II Kronieken. De Prediking van het Oude Testament. Nijkerk: Uitgeverij G.F. Callenbach N.V.

Schmidt, KL 1950. Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament Band III. Stuttgart: Union Druckerei GmbH.

Schrenk, G 1950. Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament. Herausgegeben von Gerhard Kittel. Band II. Stuttgart: Union Druckerei GmbH.

Smit, CJ 1995. Die kerkregtelike toepassing van die reëls van ’natuurlike geregtigheid’ op grond van die Skrif. In die Skriflig, 29(3):395-412, Sept.

Stauffer, E 1949. Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament Band I. Herausgegeben von G. Kittel. Stuttgart: Verlag von W. Kohlhammer. 793 p.

Te Velde, M 1994. Hoger beroep in de kerk. De Reformatie, 69(30):580-582, Apr.

Trimp, C 1982. Ministerium. Een introductie in de reformatorische leer van het ambt. Groningen: Uitgeverij De Vuurbaak BV

Valeton, JJP 1912. De Psalmen. Eerste deel. Nijmegen: Firma H. ten Hoet.

Van Bruggen, J 1990. Matteüs. Het evangelie voor Israel. Commentaar op het Nieuwe Testament. Derde serie. Kampen: Uitgeversmaatschappij J.H. Kok.

Van Den Heuvel, P red. 2004. De toelichting op de kerkorde van de Protestantse Kerk in Nederland. Zoetermeer: Boekencentrum.

Van Genderen, J 1990. De kenmerken van de kerk. In De Kerk. Wezen, weg en werk van de kerk naar reformatorische opvatting. Kampen: Groot Goudriaan. 283-297.

Van Veelen, M 1995. Conflicten in de Bijbel. In Borgdorff-Hendriks, JCP ea. Conflicthantering. GSEV-reeks 32.) Barneveld: De Vuurbaak. 31-50.

Weiser, A 1950. Die Psalmen I / Psalm 1-60. Das Alte Testament Deutsch. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Wiskerke, JR 1964. Synode-indrukken. De Reformatie, 40(10):76-77, Des.

TREFWOORDE

Verontreg, Reg van appèl, Appèlprosedure, Artikel 31 Kerkorde, Kerkreg

KEY WORDS

Injustice, Right of appeal, Procedure for appeal, Article 31 Church Order, Church polity

KONTAKBESONDERHEDE

Dr GJ Meijer

Navorsingsgenoot, Departement Ekklesiologie

Universiteit van die Vrystaat

Posbus 339

Bloemfontein

9301

1 CIC, 1983. Titel 8, Hoofstuk 2, Canones 1628 tot 1640.

2 OPC, 2000. Kerkorde deel 2, veral hoofstukke 3, 4 en 7.

3 CRCNA, 2005:49-63

4 FCS, 1995:188-189

5 Van den Heuvel, red., 2004:235-253

6 GG, 1999. In Orde.

7 GKV, Acta Generale Sinode Zuidhorn 2002-2003, Artikel 50 bylae III 10

8 GKSA, 2006:824-827

9 Vergelyk artikel 23 van die NG Kerkorde, asook die moontlikheid en wenslikheid van kerklike tribunale wat oor tughandelinge insake predikante moet handel. Inligting oor laasgenoemde is beskikbaar by www.ngk.org.za

10 Bouwman, 2000:127

11 Odendal, red., 1985:863

12 Odendal, red., 1985:863

13 Die amptelike redaksie van Artikel 31 Dordtse Kerkorde lees soos volg: ‘Soo yemant hem beklaeght deur de uytsprake der minder Vergaderinghe verongelijkt te zijn, die selve sal hem tot een meerder Kerkelijcke vergaderinghe beroepen moghen: ende ‘t ghene door de meeste stemmen goet gevonden is, sal voor vast ende bondich ghehouden worden. Tenzy datte bewesen worde te strijden tegen het woordt Gods, ofte teghen de Artijckelen in desen Generalen Synodo besloten, soo langhe als de selve door gheen ander Generale Synode verandert zijn’ (Biesterveld en Kuijper, 1905:234).

14 Vergelyk Deddens, 1953e:19; Roeleveld, 1972:46; De Kock, 1982:24

15 Vergelyk Meijer (2006:22-25) vir _ vollediger uiteensetting van Skrifverwysings

16 Gesenius, 1886:722; Koehler en Baumgartner, 1958:810; Holladay, 1971:308; Albertz, 1979:567

17 Albertz, 1979:571-575

18 Liedke, 1979:1002

19 Stauffer, 1949:627; Muller en Thiel, 1969:281; Danker, 2000:180

20 Cremer, 1915:569; Schmidt, 1950:498; Albertz, 1979:575

21 Schmidt, 1950:498; Danker, 2000:373

22 Van Genderen, 1990:283

23 Artikel 27 NGB, Sondag 21 HK

24 Artikel 29 NGB

25 Slotsin van Artikel 29 NGB

26 Lion-Cachet, 1994:254

27 Psalms 7:9, 9:5, 26:1 en 35:1

28 Valeton, 1912:25; Luther, 1962:133

29 Calvyn, s.j.:562; vergelyk Kraus (1960:321): ‘’… der Verfolgte appelliert an den Richter Jahwe und bittet ihn um sein Einschreiten’

30 Markus 15:34

31 2 Samuel 18:27 en Spreuke 12:2, 13:22, 14:14; vergelyk Roubos, 1972:189

32 Jakobus 4:1

33 Matteus 18:30

34 Spreuke 25:8

35 Galasiërs 6:1

36 Matteus 5:23-26

37 Spreuke 14:21

38 Spreuke 28:13

39 Van Veelen, 1995:32-41

40 Calvyn, s.j.:563; Delitzsch, 1894:324

41 Hendriksen, 1976:698; Trimp, 1982:161

42 Deddens, 1953d:366

43 1 Korintiërs 6:1-9; Calvyn Institusie 4,20,21

44 Weiser, 1950:227

45 Helberg, 1991:6

46 Weiser, 1950:227

47 Psalm 32:5; Psalm 51:6

48 Grundmann, 1972:418

49 Van Veelen, 1995:37

50 Lukas 15:32 - ‘hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword’.

51 Koehler en Baumgartner, 1958:888-889

52 Delitzsch, 1894:324; Luther, 1962:133

53 Ridderbos, 1958:19

54 Koehler en Baumgartner, 1958:567

55 Koehler en Baumgartner, 1958:688-689

56 Muller en Thiel, 1969:13; vergelyk Schrenk, 1950:184-186

57 Genesis 18:25

58 Psalm 43:1

59 Psalm 37:28; Spreuke 1:3; Jesaja 5

60 Heaton, s.j.:150; Moscati, 1953:142; De Vaux, 1973:271-276; Pop, 1984:423; Kruger, 1986:47; Kruger, 1992:67

61 Eksodus 18:14-26; Frey, 1952:207; Noth, 1959:121

62 Deuteronomium 16:18-17:13 - ‘Regters en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme’. Die regter (sjofet) is _ wettig aangestelde ampsdraer (Holwerda, 1957:416-418). Oor die persoon van die opsigter (sjatar) is daar geen algehele duidelikheid nie. Waarskynlik is die opsigter as ondergeskikte amptenaar by die regsproses betrek: _ hulp vir die regter (Holwerda, 1957:418-419; Deddens, 1953a:235).

63 2 Kronieke 19:4-11; vergelyk Dawid se regspraak (2 Samuel 8:15), asook Salomo (1 Konings 3:28).

64 Noordtzij, 1938:234, Moscati, 1953:142; Roubos, 1972:186

65 Geen footnote verwysing

66 Ohmann, s.j.:125

67 Onder andere Matteus 5:22, Markus 14:55 en 15:1, Lukas 22:66, Johannes 11:47, Handelinge 4:15 en 22:30

68 Handelinge 5:26-27, 23:5

69 Moscati, 1953:142; Duvenage, 1981:142-149

70 Calvyn bespreek die prinsipiële onderskeid breedvoerig in sy Institusie (3,19,15 en 4,20).

71 Romeine 13:1-7

72 Matteus 16:19; Johannes 20:21-23; Handelinge 1:15-26

73 1 Timoteus 5:17-20; Titus 1:5-9; 1 Petrus 5:1-4; vergelyk Deddens, 1953f:27

74 2 Korintiërs 8 en 9; Kolossense 4:16; 2 Johannes:1,13; Openbaring 1:9-20

75 De Kock, 1982:24; Meijer, 1988:20-51

76 Deddens, 1953b:370; Te Velde, 1994:581; Smit, 1995:399-405

77 Sagaria 7:9

78 Eksodus 23:6-9, Deuteronomium 16:18-20

79 Eksodus 18

80 Deuteronomium 1:17; Spreuke 18:5

81 Levitikus 19:15

82 Eksodus 23:3

83 Eksodus 23:6

84 Spreuke 20:10

85 Kruger, 1986:47

86 Vergelyk 1 Samuel 1-3; 1 Konings 2; 2 Konings 2

87 Eksodus 23:8; Deuteronomium 25:1,2

88 1 Konings 8:32; 2 Kronieke 6:23

89 Psalm 72; Psalm 82

90 Vergelyk 1 Timoteus 5; 2 Timoteus 2:14-26; Titus 2:1-10

91 1 Timoteus 5:1-2; Jakobus 2:4

92 Jakobus 3:13-18

93 Jakobus 4:1-3

94 Levitikus 10:11; Deuteronomium 33:10; 1 Kronieke 23:4; Maleagi 2:7; vergelyk Gispen, s.j.:49

95 Eksodus 18:20; Gispen, s.j.:49

96 Holladay, 1971:87

97 Spreuke 25:8 is eweneens van toepassing: ‘Gaan nie haastig uit om te twis nie; anders, wat sal jy ten slotte doen as jou naaste jou in die skande steek?’

98 Roubos, 1972:188

99 Noordtzij, 1938:237

100 Hendriksen, 1976:699; Van Bruggen, 1990:349

101 Deuteronomium 19:15

102 Grosheide, 1922:219; Trimp, 1982:162

103 Matteus 18:17a

104 Die ekklesia verwys na Christus se uitspraak in Matteus 16:18. Ten tye van sy omwandeling op aarde het die ekklesia nog nie die vorm van _ georganiseerde gemeente met ampsdraers aangeneem nie. Van Bruggen (1990:349-350) toon oortuigend aan dat die ekklesia die gesamentlike byeenkoms van leerlinge, in onderskeid van _ klein groepie leerlinge is. In aansluiting by die ‘volk’ en die ‘inwoners van die stad’ wat by regsake in die Ou Testament betrokke was, is die Nuwe Testamentiese gemeenskap van gelowiges ook in geheel by die regsaak betrek (Grundmann, 1972:420).

105 Noordtzij, 1938:236

106 Lukas 23:14; Handelinge 4:19; vergelyk Büchsel, 1950:944-955; Bromiley, 1985:473-475

107 1 Konings 7:7

108 Deuteronomium 1:16, 21:20; 1 Konings 3:16-22; Spreuke 18:17

109 De Vaux, 1973:277

110 Deuteronomium 17:7; 1 Konings 21:13; Handelinge 6:11-13, 7:58

111 Deddens, 1953b:370

112 Lukas 22:63-23:25

113 Handelinge 22 tot 26

114 Holwerda, 1957:447-448

115 Deuteronomium 13:14, 17:4, 19:18

116 Deddens, 1953c:378

117 Jesaja 11:4. Jesaja profeteer dat billikheid die beginsel is waarvolgens die Messias sal regspreek.

118 Deddens, 1953c:379

119 Deddens, 1954:208

120 Deuteronomium 16:18b; Deuteronomium 17:4

121 Vergelyk Eksodus 20:24; Psalm 132:9; Holwerda, 1957:474

122 Calvyn, 1971:76-77; Trimp, 1982:158-168

123 Rienecker, 1953:256; Van Bruggen, 1990:350

124 Matteus 18:18

125 Matteus 16:19

126 Trimp, 1982:155

127 Te Velde, 1994:580

128 Wiskerke, 1964:76

129 Te Velde, 1994:581

130 Te Velde, 1994:581; vergelyk Moscati, 1953:142

131 Psalm 85:11-14

132 Dit word in Deuteronomium 17:10 beklemtoon: ‘En jy moet handel ooreenkomstig die uitspraak wat hulle jou te kenne sal gee, uit dié plek wat die HERE sal uitkies; en jy moet sorgvuldig doen net wat hulle jou sal leer’.

133 Lion-Cachet, 1994:257