Die plek van die kerkreg en kerkregering in die nuwe konstitusionele bedeling
ABSTRACT
The position of the church law and church governance in this constitutional dispensation
In 1994 a new political dispensation came into effect in South Africa with the Constitution as the highest authority. The question that is being asked here is: “How does church law and church governance fit into this constitutional dispensation?”
Throughout the ages the Church in its creed (see NGB clause 36), its own constitution (read Church Order) as well as in its general participation in judicial processes, has acknowledged the state as governing power (and by implication, the Constitution) as the authority that must be obeyed and respected.
The Constitution in the applicable clause determines that the Bill of Rights is binding on a natural and legal persona. This means that the Church can call upon the Constitution for protection. Together with the rights and privileges that are entrenched in the Constitution, a number of responsibilities are placed on shoulders of the Church. The Church is undoubtedly subject to the Constitution.
In terms of clause 36, the state has the right to decree legislation that in some instances restricts the rights entrenched in the Bill of Rights. The Church will, in the event of its fundamental rights being threatened, have to prove that the restriction does not meet the requirements set out in clause 36 and that the restriction does not meet the proportionality test, in view of the fact that it is unfair, unjust, and unreasonable.
The challenge for the Church in the new constitutional dispensation depends on how it is going to accept and live with the protection of its rights that the Constitution provides. The Church will therefore have to fearlessly and without prejudice embrace to these fundamental rights as the champion of the Truth in an open and democratic society.
INLEIDING
In hierdie referaat word as agtergrond en inleidende gedagtes enkele aspekte geskryf oor die historiese ontwikkeling van die kerkreg. Daarna word ’n kort historiese oorsig gegee van die ontwikkeling van die verhouding tussen die kerk en die staat. Laastens word die toepassing van die Grondwet in die kerklike milieu verwoord.
1. KERKREGTELIKE ONTWIKKELING
Bouwman is van mening dat Kerkreg as selfstandige wetenskap eers teen die middel van die twaalfde eeu ontwikkel het. “De oude wetenschap bestond slechts in eene verzameling van rechtsbronnen1 en hare geschiedenis valt samen met die der rechtsbronnen.” Dit is baie duidelik dat daar van so vroeg soos die eerste eeu na Christus, die behoefte ontstaan het om die beginsels wat in die Woord van God neergelê is, so te verwoord dat daar op ’n praktiese manier uiting gegee kan word aan die belydenis en kerkregering van die Kerk.
Kortliks verwys ek na die ontwikkeling van die kerkreg:
1. Die eerste millennium
• Die Didaché: Die Didache, ook bekend as “Die Onderwysing van die Twaalf Apostels”, is in 1875 deur Philotheus Breyennius in Konstantinopel ontdek.
• Die Apostoliese Kerkorde, bekend as die kanones ekklesiastikoi ton hagion apostolon kom uit Egipte en dateer uit die derde eeu
• Die Didaskalia ton apostolon wat in die vierde eeu bygewerk is en later bekend gestaan het as die Constitutiones apostolorum
• Tussen 430 en 530 is wette wat deur die keisers vir die kerke ontwerp is, saamgebind in onder andere die Codex Theodosianus (438) en Codex Justinianeus (534)
• Tussen 1140 en 1150 verskyn die boek van Gratianus, later bekend as Decretum Gratiani, wat besondere betekenis het vir die ontwikkeling van die kerkreg.
Die Reformasie
• Luther en Calvyn
Ten spyte daarvan dat Luther met Rome gebreek het en sy skerp veroordeling van die papale stelsel van kerkregering, het hy nooit die Goddelike reg in die regering van die kerk bestry nie. “Trouens, na sy botsing met die Doperse leiers, kom hy na vore met die stelling dat ’n bepaalde regsorde vir die kerk wel prakties noodsaaklik is.”2 Calvyn het ’n groot rol gespeel in hierdie ontwikkeling en kan tereg as die vader van die Gereformeerde Kerkreg bestempel word.3
• Die Nederlandse Geloofsbelydenis
In 1561 stel Guido de Bres die Nederlandse Geloofsbelydenis op wat op die Sinode van Dordrecht (1618-1619) volledig aanvaar is. Hierin vind ons artikel 36 wat besondere betekenis het vir hierdie studie oor die verhouding kerk en staat.
2. DOEL EN BETEKENIS VAN DIE KERKORDE
Die naam “Kerkorde” dateer uit die sinode van Middelburg in 1581. In ’n kort uittreksel uit die besluite van die sinode word verwys na “... de van algemeene strekking waren en voor alle kerken belang hadden, samen en noemde die corpus disciplinae ofte kerkenordeninghe en daarop de approbatie (goedkeuring) der overheid te verkrijgen.”4 Jansen omskryf die wese van die kerkorde as “... dit bevat die algemeene regelen vir die goeie orde van die kerklike lewe.”5 Volgens hom moet die kerkorde van kerklike besluite (dekrete) en gewoonte onderskei word. ’n Kerklike besluit gee die toepassing van ’n algemene beginsel op ’n spesifieke en konkrete geval. Verder omskryf Jansen in artikel 1 van sy Kerkorde die doel soos volg: “Om goede orde in de gemeente van Christus te onderhouden.”6 Die Kerk dra dus nie net ’n mistieke karakter nie, maar ook institusionele karakter.
Daarom dra dit ’n regulerende karakter en nooit ’n dwingende karakter nie. Op die oog af klink dit of daar wel sprake is van die wetlike aspekte in Latyn (legittimus ordo of ecclesiastici ordinis articuli), maar hier het wetlikheid die betekenis van ’n sedelike karakter en nie die van wetlik/juridies karakter nie. Aangesien die kerkorde nooit staatkundige en/of maatskaplike verordeninge is nie, maar slegs kerklike verordeninge, is die kerkorde altyd beperk tot die welwese van die kerk.
3. VERHOUDING TUSSEN KERK EN STAAT
3.1 Inleidende opmerkings
Vorster skryf die Kerk het immers “van sy Koning wat aan hom sy lewensreëls en eie ampte gegee het, ’n eie lewensterrein ontvang. Kragtens sy wese is die kerk dus wel in die staat maar nie van die staat nie. Waar die kerk tot openbaring gekom het, moes die verhouding tussen kerk en staat bepaal word.”7 Volgens die Hervormers het die staat met die uitwendige lewe en verhoudings te doen, en regeer deur wetgewing en regspleging. Die kerk aan die ander kant reël die gesag oor siele, behartig die geestelike sy van die mens en rig hom op die onsienlike – die ewige lewe. “De regeering der kerk” volgens Bouwman, “raakt den inwendigen mensch of ziel, de regeering der overheid raakt de burgerlijke en openbare gerechtigheid en het zedelijk lewen”8 Aan die begin van die negentiende eeu kom die verhouding tussen die owerheid en die kerk met betrekking tot die kerkregering weer baie sterk na vore. Kerkleiers worstel met twee beginsels: “om die selfstandigheid van die kerk en die plig van die owerheid ten opsigte van die kerk, met mekaar te versoen sonder dat die kerk sy selfstandigheid prysgee.”9
3.2 Kort historiese blik op die verhouding tussen kerk en staat
Die geskiedenis leer dat tot laat in die agtiende eeu die staat kon ingryp in kerklike sake soos beroepe van leraars en besluite van kerkvergaderinge. Vorster skryf dat “selfs het die owerheid nie geskroom om in gevalle soos die sabbatskwessie, waaroor die gevoelens in die helfte van die 17de eeu hoog geloop het, in leerkwessies in te gryp nie.”10 In Utrecht is selfs ’n resolusie uitgevaardig wat eis dat predikante hulle van alle kritiek op die owerheid moet weerhou, en as sou hulle dit nie “onderteken is hulle nie tot die diens toegelaat nie.”11
Ons eie kerkgeskiedenis verwys na gevalle waar die staat direk toegetree het tot die regstelsel van die kerk – enkele voorbeelde:
• Die doop van ene Zwaan in 1723 aanboord ’n skip, is deur die Politieke Raad afgewys.
• Die Politieke Raad het verhoed dat ds. Bode in 1760 die beroep aanvaar.
• Kerkraadslede kon slegs na verkiesing en approbasie deur die owerheid in hulle amp bevestig word.
Tug wat ’n geestelike aksie en karakter dra, het baie dikwels in ’n tipe burgerlike straf verander. Die owerheid het dikwels die kerkraad geraadpleeg in sy toepassing van die tug en versorging van verwaarloosde kinders.12
Namate die Suid-Afrikaanse samelewing ontwikkel het in ’n soewereine regstaat, is die onafhanklikheid van die kerk al meer erken en het staatsinmening al minder plaas gevind.
3.3 Die plek wat die kerk aan die staat gee
In artikel 36 van die NGB gee die kerk aan die staat/owerheid ’n bepaalde status. Die artikel bepaal “... Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie ...”
Deur die eeue het die kerk dus aan die staat die status gegee om gehoorsaam te word as owerheidsgesag wat deur God daar gestel is. Verder skryf van der Linde dat “Kerk en staat is wesenlik van mekaar te onderskei, en om die mag van die kerk aan die owerheid op te dra, is ’n aanranding van die koningskap van Christus. Die taak van die owerheid hou alleen in dat dit die kerk moet beskerm en groei daarvan moet bevorder deur dit in staat te stel om sy roeping te vervul.”13
Die meeste van die ons gereformeerde Kerke se Kerkordes het ook artikels wat die verhouding tussen kerk en owerheid bepaal:
NGK – 1962 (artikel 65)
Die kerk as instituut onderwerp hom aan die gesag en wette van die staat vir sover dit sy deelname aan die regsverkeer en uitoefening van burgerlike regte betref.
Die kerk aanvaar met dankbaarheid die beskerming deur die owerheid asook die erkenning van sy onvervreembare reg tot die beoefening van vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms.
NGK – 2004 (Artikel 65)
65.1 In die lig van Romeine 13 erken die Kerk die staat as ’n dienaar van God tot ons beswil.
65.2 Die Kerk erken dat die staatsowerheid wat deur sy fisiese swaardmag in beheer van ’n bepaalde staatsgebied is, deur God beskik is en as sodanig eerbiedig moet word.
65.3 Christus is die Hoof van die kerk. Daarom beskou die Kerk sy reg op
vryheid van godsdiens, wat sy Bybels-profetiese getuienis teenoor die staatsowerheid en die wêreld waarin hy staan, insluit, as onvervreembaar. ....
NG Kerk in Afrika (Artikel 60)
“Op grond van die Woord van God aanvaar die kerk die owerhede as dienaars van God. Daarom is die kerk voorbidding aan die owerhede verskuldig sowel as gehoorsaamheid in alle sake wat tot die terrein van die staat behoort en nie strydig is met Gods Woord nie.”
AP Kerk (Artikel 60)
“Elke kerk as instituut onderwerp hom aan die gesag en wette van die owerheid in soverre die owerheid nie met die Woord van God in stryd kom nie.”
Gereformeerde Kerk (Artikel 28)
... is dit die plig van alle predikante, ouderlinge en diakens om die gehoorsaamheid en eerbied wat aan die owerheid verskuldig is, getrou ne ywerig by die gemeente in te skerp, ...”
In al hierdie artikels kom die woorde “gehoorsaam”, “eerbiedig” of “onderwerp” aan die owerhede telkens voor. Die Kerk erken dus daarmee die gesag en mag wat die owerheid oor die kerk het. Die vraag is nou: watter rol speel die kerkreg in die nuwe konstitusionele bedeling wat in 1994 in Suid-Afrika in werking getree het met die aanvaarding van die Grondwet van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996).
4. DIE PLEK VAN KERKREG EN KERKREGERING IN DIE NUWE KONSTITUSIONELE BEDELING IN SUID-AFRIKA
4.1 Omskrywing van kerkreg
Net soos in die salutêre reg, bepaal die kerkreg ook die bepaalde verhouding tussen die regsobjek en regssubjek. Dit reël dus die ordelike verkeer tussen die twee. In die Kerkreg of jus ecclesiasticum word daar onderskei tussen die jus constituendum en jus constitutum. Die jus constituendum is gerig op die reg soos dit volgens die Woord van God behoort te wees; die jus constitutum dui op die reg soos dit werklik bestaan. Daarom word die Kerkreg ook gedefinieer as “de wetenschap, die beschrijft het recht, dat in de zichtbaar geïnstitueerde kerk geldt en gelden moet.”14 Die jus constituendum is dus die beginsel wat ten grondslag van die stellige reg, jus constitutum, lê. “Die eerste is die wese, die laaste die vorm waarin die wese vasgelê is.15 Terwyl die jus constitutum feilbaar is, word in die jus constituendum die ideaal gedefinieer.”16
Uit ’n teologiese beredenering sou ons baie moeilik ’n erkende publieke regsfiguur vind waaronder die kerk geplaas word. Om ordelike regsverkeer te verseker en ook persone en eiendom te beskerm, is dit noodsaaklik om die kerk wel te groepeer in een van die erkende regsfigure wat tans bekend is. Die eerste onderskeiding wat ons kan maak is om die kerk onder die vaandel van die privaatreg te plaas. Verder is dit dan duidelik dat die kerk deur ons reg beskou word as ’n vereniging en dan meer spesifiek ’n vereniging deur vrye assosiasie. As vrye organisasie wat willekeurig asook onwillekeurig aan die normale regverkeer deelneem, sou die kerk dus nooit uitgesluit kon word van die bepalings van die Grondwet en ander statutêre wetgewing wat onder ons huidige konstitusionele bedeling val nie.
4.2 Die voorskriftelikheid van die Grondwet
Die finale Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika het op 4 Februarie 1997 in werking getree as die hoogste gesag in die land. Dit het ’n nuwe regsbedeling in Suid-Afrika te weeg gebring - vanaf ’n soewereine regstaat tot ’n nuwe konstitusionele bedeling.
Die eerste artikel in hoofstuk 1 van die Grondwet bevat terme en bepalings waarmee die kerk homself sou kon vereenselwig.
Die Republiek van Suid-Afrika is een, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:
4.2.1 Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede Nie-rassigheid en nie-seksisme17
Met terme soos waardes, menswaardigheid en die bereiking van gelykheid sou die kerk sy volle ondersteuning kan gee. Om teen rasse- en geslagsdiskriminasie duidelike standpunt in te neem, is eweneens Bybelse beginsels wat die kerk se denke oor menswees fundamenteel beïnvloed en rig.
Subartikel 1 (c) van die Grondwet verleen status aan die grondwet, nl. “Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.”18 Aangesien die kerk in sy belydenis (vgl. NGB artikel 36 asook Kerkordes) self hierdie erkenning aan die staat gee, sou die kerk nie die bedoeling van hierdie artikel in die Grondwet kon bevraagteken nie. Artikel 2 stel in geen onduidelike taal die oppergasag van die Grondwet nie: “Hierdie Grondwet is die hoogste reg van die Republiek; enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, is ongeldig, en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word.”19
Hiermee word bepaal dat die Grondwet die hoogste gesag in die land is en dat alle regsvoorskrifte daaraan gemeet moet word. Sou ons aanvaar dat die kerk dus ’n vrywillige organisasie is, met ’n eie “grondwet” (lees Kerkorde) sou die kerk dus aan die normale regsverkeer in die land kon deelneem binne die toepassing van die administratiefreg. Die sinsnede in artikel 2 “enige regsvoorskrif of optrede” sou dus beteken dat die kerk ook die Grondwet moet erken as die hoogste gesag in die land en al sy handelinge (lees kerkordelike) daaraan toets.
4.3 Administratief-regtelike verhoudinge in die kerk
Volgens artikel 33 van die Grondwet, Wet 108 van 199620 is die beginsels van administratiewe geregtigheid net op staatsorgane21 en funksionarisse en instellings wat behoorlik daartoe gemagtig is, van toepassing. Tereg kan gevra word wat die posisie is met betrekking tot vrywillige organisasies. Wanneer ondersoek ingestel word na sulke vrywillige organisasies (en veral hulle tugverhore), onstaan die vraag of hulle onderworpe sal wees aan die beginsels van die administratiefreg in die algemeen en die reëls van natuurlike geregtigheid in die besonder.
Vrywillige organisasies soos byvoorbeeld kerke, welsynsorganisasies en tennis- en jokkieklubs, het semi-professionele status en is dus nie administratiewe liggame nie22. Daar is geen magtigende wet wat sulke verenigings in die lewe roep nie en derhalwe beskik dit nie oor owerheidsmag (authoritative power)23 nie. Tog verwys die howe dikwels na hierdie vrywillige organisasies wanneer hulle met administratiewe aangeleenthede24 te doen het. Die rede is dat daar in hierdie organisasies (kerke, ander godsdienstige- en welsynsorganisasies en klubs) wel ’n interne verhouding bestaan wat op gesag berus. Daar is in hierdie organisasies wel ’n ongelyke gesagsverhouding waar die individu ondergeskik is aan die bestuur en in die geval van die kerk aan die kerkraad as gesagfiguur. Hieruit blyk dit dat die reg betreffende vrywillige organisasies analoog met die administratiefreg is.
4.4 Kenmerke van die administratief-regtelike verhouding
Daar is twee baie belangrike kenmerke van die administratiewe verhouding, naamlik:
4.4.1 Ten minste een van die regsubjekte moet ’n persoon of liggaam wees wat gesag uitoefen,
4.4.2 Hierdie gesagsposisie moet beklee wees deur ’n persoon of liggaam wat met gesag beklee is en wat in staat is om daardie gesag uit te oefen.25
Aan hierdie gesaghebbende persoon of liggaam moet dus die bevoegheid toegeken word om voor te skryf, te beperk en om in sekere gevalle te kan voorskryf hoe opgetree moet word. Dit beteken dus dat met hierdie gesagsuitoefening die regte en belange van ’n ander persoon of instansie geraak sal word. Bogenoemde word bevestig in die Middelburg Rugbyklub-saak26 waar die verrigtinge van die tugkomitee van die Rugbyunie deur die hof hersien is. Die Hof het bevind dat ’n vereniging soos ’n rugbyklub nie ’n administratiewe owerheidsliggaam is nie, maar dat dit wel oor ’n eie inherente gesagshiërargie en –verhoudinge beskik. Daarom kan die reëls van die administratiefreg en is administratiewe optrede van toepassing is. Ons kan egter argumenteer dat die gemene reg se beginsels van natuurlike geregtigheid toegepas behoort te word, om enige administratiewe optrede se billikheid te verseker. Let ook op dat artikel 8 van die Grondwet ook voorsiening maak vir die horisontale toepassing van die Handves van Regte (hoofstuk 2).
Die vraag is of vrywillige verenigings onderworpe is aan administratiewe optrede. In die 1996- Grondwet word administratiewe optrede nie omskryf nie. Artikel 33 dui aan dat die reg op administratiewe geregtigheid net van toepassing is op administratiewe optrede. Die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, Wet 3 van 200027 (hierna PAJA genoem) omskryf administratiewe optrede soos volg:
“administrative action” means any decision taken, or any failure to take a decision, by an organ of the state, when – …
a natural or juristic person, other than a organ of state, when exercising a public power or performing a public function in terms of an empowering provision, which adversely affects the rights of any person and which has direct, external legal effect, but does not include …
Artikel 1 van PAJA omskryf besluit (decision) soos volg:
“decision” means any decision of an administrative nature made, proposed to be made, or required to be made, as the case my be, under an empowering provision, including a decision relating to - …28
Hierdie wet impliseer dus dat daar altyd ’n ongelykheid of ondergeskiktheid moet wees. Artikel 1 van PAJA omskryf magtigende bepaling (empowering provision) as “a law, a rule of common law, customary law, or an agreement, instrument or other document in terms of which an administrative action was purportedly taken.”29
Verder bepaal PAJA dat die regte van enige persoon nadelig geraak moet word en daar ’n regstreekse eksterne regsgevolg moet wees.
In die lig van hierdie beoordeling van die reg, tree die kerk dus binne die reëls van die administratiefreg op wat in die besonder deur artikel 33 van ons Grondwet gereguleer en deur PAJA prakties toegepas word.
Verder word gevra of die kerk in alles aan die Grondwet onderworpe is, en of daar geleenthede is waar die kerk daarvan uitgesluit kan word. Vervolgens ’n ondersoek na die bepaling in artikel 36 in die Handves van menseregte in die Grondwet.
4.5 Beskerming van fundamentele regte in die Grondwet wat vir kerk van belang is
Hier word slegs na die artikels verwys wat op die kerk, sy instelling, bestuur, personeel en lede van toepassing mag wees. Sonder om dit te bespreek, word daarna verwys om sodoende in die volgende afdeling die moontlikheid te bespreek of die staat deur enige wetgewing die regte van die kerk kan beperk. (Artikels word ook nie volledig aangehaal nie. Vir die volledige teks verwys na die Grondwet 108 van 1996).30
Artikel 9 – elkeen is gelyk voor die reg en het gelyke beskerming en voordeel van die reg. Artikel 10 – Elkeen het ingebore waardigeheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word.
Artikel 15 – 1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening. 2) Godsdiensbeoefening kan by staats- en staatsondersteunde instellings geskied, mits ...
Artikel 16 – Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking ...
Artikel 18 – Elkeen het die reg op vryheid van assosiasie.
Artikel 30 – Elkeen het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kultuur lewe van eie keuse deel te neem, ...
Artikel 31 – Persone wat aan ’n kultuur-, godsdiens – of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap –
1. hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie.
2. kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.
Artikel 33 – Elkeen het die reg op administratiewe optrede wat regmatig, redelik en prosedureel billik is.
Ander artikels wat ook betrekking het, sluit in 11; 12; 14; 22; 23; 25 en 32.
Die laaste subartikel in die hoofstuk 2 van die Grondwet bevat ook ’n baie belangrike bepaling waarvan die kerk deeglik moet kennis neem. Artikel 39 (3) bepaal:
Die Handves van Regte ontken nie die bestaan van ander regte of vryhede wat deur die gemene reg, gewoontereg of wetgewing erken of verleen word nie, in die mate waarin daardie regte of vryhede met die Handves bestaanbaar is.31
Die vraag wat nou beantwoord moet word, is of hierdie regte wat deur die kerk uitgeoefen behoort te word, deur enige statutêre wetgewing beperk kan word.
4.6 Artikel 36 as uitsluitingsklousule
Die artikel lees as volg:
Die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens ’n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid , met in agneming van alle tersaaklike faktore, ...32
Volgens die Konstitusionele Hof behels die vereistes van redelikheid, regverdigbaarheid en nood- saaklikheid in artikel 36 die afweeg van verskillende belange deur middel van die proporsionaliteitstoets.33 Hierdie proporsionaliteittoets word duidelik uitgespel in die res van die artikel wanneer die volgende bepalende faktore omskryf word: die aard van die reg waarop die beperking geplaas word; die belangrikheid van die doel van die beperking; die aard en omvang van die beperking; die kousale verhouding tussen beperking en die doel daarvan; en laastens die soeke na ’n ander minder beperkende wyse om die doel van die beperking te bereik.
Om wel hierdie beperking van regte uit te oefen, moet twee faktore in ag geneem word; eerstens moet bepaal word of die doel waarom die reg beperk word, belangrik genoeg is om swaarder te weeg as die reg self; en tweedens, of die middel wat gebruik word om hierdie beperkende doel te bereik proporsioneel is tot die doel wat daardeur bereik wil word.
Die eerste vraag wat beantwoord moet word, is dus of die doelstelling van die betrokke wetgewing en/of administratiewe handeling belangrik genoeg is om enige beperking wat deur die regte in die Handves beskerm word, te regverdig. In hierdie proses moet eers gekyk word na die aard en belang van die betrokke reg en daarna na die uitkoms wat bereik wil word met die beperking op die betrokke reg.
Die tweede deel van die proporsionaliteittoets het te doen met die middel of metode wat gebruik word om hierdie doel te bereik. Dit staan in die reg bekend as die sogenaamde proporsionaliteitsvereiste. Dit word uiteengesit in die laaste drie subparagrawe van die artikel (a. 1c-e). In die eerste plek word vereis dat daar ’n duidelike en rasionele samehang of verband bestaan tussen die beperkende maatreël of wetgewing en die doel wat met die beperking bereik wil word. Die volgende toets vereis dat die beperking so min moontlik inbreuk moet maak op die reg wat beperk word. Dit beteken dat daar altyd gesoek moet word na ander maatreëls en/of metodes om te gebruik wat minder beperkend is om nog steeds dieselfde doel te bereik.34
SLOT
Uit dit alles is dit duidelik dat die Kerk dwarsdeur die eeue in sy belydenis (vgl. NGB artikel 36), sy eie konstitusie (lees Kerkorde) asook waar daar in die algemene regsverkeer deelgeneem is, aan die staat die erkenning gegee het as owerheidsorgaan (en met implikasie Die Grondwet) as gesagsliggaam wat gehoorsaam en eerbiedig moet word.
In die toepassingsklousule bepaal die Grondwet dat die Handves van Regte bindend is op _ natuurlike en regspersoon en toepasbaar is met inagneming van die aard van die reg en die aard van enige plig deur die reg opgelê.35 Dit beteken dat die kerk as regspersoon en sy lede as individue hul kan beroep op die beskerming wat die Grondwet aan elkeen bied. Die kerk en sy lede kan egter nie alleen hierdie regte opeis nie. Saam met die regte en voorregte wat in die Grondwet verskans is, word ook ’n aantal verantwoordelikhede op die skouers van die individu en kerk geplaas. Die kerk sal dus ongetwyfeld gebind wees deur die bepalings in die Grondwet asook nasionale en provinsiale wetgewing wat verorden word om aan hierdie regte gevolg te gee.
Die staat het die reg (en selfs in sommige artikels van die Handves die opdrag) om wetgewing (nasionaal en provinsiaal) te verorden wat in sommige gevalle die regte verskans in die Handves, op grond van artikel 36 beperk. Dit sal dus die kerk, indien sy voel dat ’nfundamentele reg bedreig word, se verantwoordelikheid wees om te bewys dat die beperking nie voldoen aan die vereistes gestel in artikel 36 nie. Die slotsom waartoe ek kom, is dat die kerk onomwonde gebind word deur nasionale en provinsiale wetgewing in ’n nuwe konstitusionele bedeling en slegs daarvan verskoon sal word indien bewys kan word dat die beperking nie aan die proporsionaliteitstoets voldoen nie, aangesien dit onregverdig, onbillik en onredelik is.
Hier dink ek veral die volgende wetgewing (word nie bespreek nie)
• Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997
• Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995
• Wet op gelyke indiensneming, Wet 55 van 1998
• Wet op werkloosheidsversekering, Wet 30 van 1966
• Wet op vergoeding vir beroepsbeserings en siektes, Wet 30 van 1993
• Wet op die ontwikkeling van waardighede, Wet 97 van 1998
• Wet op die bevordering op administratiewe geregtigheid, Wet 3 van 2000
Die uitdaging van die kerk in die nuwe konstitusionele bedeling lê daarin hoedat sy die beskerming van regte deur die Grondwet verleen, gaan opeis en uitleef. Die reg van vryheid van godsdiens (vgl. a. 15 van die Grondwet), vryheid van assosiasie (vgl. a. 18 van die Grondwet) en die beskerming van godsdiens- en kultuurgemeenskappe (vgl. a. 31 van die Grondwet) word nie statutêr deur nasionale wetgewing beheer nie - in die Grondwet word dit erken as fundamentele regte wat slegs in hoogs uitsonderlike gevalle van iemand ontneem mag word. Die kerk sal die uitdaging moet aanvaar om hierdie fundamentele regte onbeskroomd en onbevang uit te leef as die Vaandeldraer van die Waarheid in _ oop en demokratiese samelewing wat gebou is op die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid.
BIBLIOGRAFIE
HANDELINGE VAN DIE ALGEMENE SINODE
1. Acta, 1962 Konvensie van die Nederduitse Gereformeerde Kerke op las van die vyf sinodes, Kaapstad.
2. Acta, 1962 Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, Kaapstad.
3. Acta, 1966 Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, Bloemfontein.
4. Acta, 1994 Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, Pretoria.
5. Acta, 1998 Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, Pretoria.
6. Acta, 2002 Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, Pretoria.
KERKORDE VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK
1. Kerkorde 1962 Soos vasgestel op die eerste Algemene Sinode te Kaapstad, 1962
2. Kerkorde 1966 Nederduitse Gereformeerde Kerk, Pretoria: NGK Boekhandel, 1966
3. Kerkorde 1980 Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Silverton: Promedia Publikasies, 1980
4. Kerkorde 1982 Nederduitse Gereformeerde Kerk, Pretoria: NGK Boekhandel, 1982
5. Kerkorde 1998 Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wellington: Hugenote-Uitgewers, 1998
6. Kerkorde 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk, Wellington: Lux Verbi.BM, 2002
7. Kerkorde 1980 Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, Admin Buro, Potchefstroom, 1980
8. Kerkorde 2004 Afrikaanse Protestantse Kerk, Poelano Printers, Pretoria
ANDER BRONNE
Backer, W 2000. Die bestuur van dissipline - dis makliker as wat u dink. Pretoria: Bactus Personeelkonsultante.
Bouwman, H 1928. Gereformeerd Kerkrecht, Deel I. Kampen: JH Kok.
Bouwman, H 1934. Gereformeerd Kerkrecht, Deel II. Kampen: JH Kok.
Coertzen, P (red) 1999. Bestuursgids vir diensteverhoudinge in die Nederduiste Gereformeerde Kerk. Stellenbosch, NG Kerk Uitgewers.
Coertzen, P. Legal position of churches and church autonomy. In Scripta Canonica 3. Peeters: Leuven.
Currie I en Klaaren J 2001. The promotion of administrative justice benchbook.
Du Plessis, JA 1925. Die gereformeerde kerk en kerkregering. Bloemfontein: Nasionale Pers.
Eybers, JH 1934. Die kerkinrgting van die Neder-Duitse Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Proefskrif. Unisa.
HPCSA, 2002. Handbook on ethical rulings. Handboek uitgegee deur die Health Professions Council of South Africa. Pretoria.
Geldenhuys, FE o’B 1951. Die regsposisie van kerkraad, ring en sinode. Proefskrif. Pretoria: JL van Schaik.
Jansen, J 1952. Korte verklaring van de kerkorde der Gereformeerde Kerken Kampen: JH Kok
Kleynhans, EPJ 1982. Gerformeerde Kerkreg, Deel 1. Kerk en Amp. Pretoria: NG Kerkboekhandel Kleynhans, EPJ 1984. Gerformeerde Kerkreg, Deel 2. Kerk en Amp. Pretoria: NG Kerkboekhandel. Kleynhans, EPJ 1985. Gerformeerde Kerkreg, Deel 3. Kerkverband en Kerkvergaderinge. Pretoria: NG Kerkboekhandel
Pont, AD 1981. Die historiese agtergronde van kerklike reg, Deel 1. Pretoria: HAUM.
Rutgers, FL 1921. Kerklijke adviezen, Deel i en ii. Kampen: JH Kok.
Scholtz, GD 1950. Die geskiedenis van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika 1842-1885. Kaapstad: NGK-Uitgewers.
Spoelstra, B 1989. Gereformeerde kerkreg en kerkregering. Handboek by die kerkorde. Hammanskraal: Hammanskraalse Teologiese Skool.
Ungerer, L 2004. _ Ampsbevoegheidsraad vir die Nederduitse Gereformeerde kerk. ’n Administratiefregtelike ondersoek. Ongepubliseerde LLB-skripsie, UNISA
Van der Linde, GPL 1965. Die grondbeginsels van die presbiteriale kerkregeringstelsel. Potchefstroom: Pro Rege-Pers.
Van der Westhuizen, JM. Die kerk en sy ampte. Kaapstad: SA Bybelvereniging.
Van der Watt, PB 1976. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652-1824. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Van der Watt, PB 1977. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1834-1866. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Vlok, J. Die onchristelike christelike ban. Westdene: AGS Drukkers
Vorster, JD (red) 1978. Veelvormigheid en eenheid. Kaapstad: NGK-Uitgewers.
Vorster, JD 1956. Die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die Kompanjie 1652-1792. Potchefstroom: Pro Rege Pers.
Wiechers, M 1985. Administratiefreg. Durban: Buttersworths
WETGEWING
1. GRONDWET VAN DIE REPUBLIEK VAN Suid-Afrika, Wet 108 van 1996
2. WET OP ARBEIDSVERHOUDINGE, Wet 66 van 1995
3. WET OP BASIESE DIENSVOORWAARDES, Wet 75 van 1997
4. WET OP GELYKE INDIENSNEMING, Wet 55 van 1998
5. WET OP DIE BEVORDERING VAN ADMISINSITRATIEWE GEREGTIGHEID, Wet 3 van 2000
STUDIEGIDSE
1. Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) 2000 Administratiefreg Studiegids vir ADL 101-J saamgestel deur M Beukes
2. Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) 2000 Gevorderde Administratiefreg Studiegids vir LCP 404-L saamgestel deur YM Burns
3. Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) 2000 Fundamentele Regte Studiegids vir FUR 101-C saamgestel deur die Departement Staats- en Volkereg
HOFSAKE EN ANDER ONDERSOEKE
1. Theron v Ring van Wellington van die NG Sendingkerk in SA 1976 2 SA 1 (A)
2. Turner v Jockey Club of South Africa 1974 3 SA 633 (A)
3. Tugondersoek in die Ring van Pretoria-Noord, 2003, Vertroulike notule gehou deur die skriba van die ondersoekkommissie, Dr GHP Dreyer.
4. Tugondersoek in die Ring van Daspoort, 2004, Vertroulike notule gehou deur die skriba van die ondersoekkommissie, Ds. F Joubert in Januarie 2004
TREFWOORDE
Kerk, Staat, godsdiensvryheid, beperkings
KEY WORDS
Church, State, religious freedom, restrictions
KONTAKBESONDERHEDE
1 Bouwman, H Gereformeerd Kerkrecht, 1928, Deel I, bl. 31,32
2 Kleynhans, EPJ Gerformeerde Kerkreg, 1982, Deel 1, bl. 10
3 Kleynhans, EPJ Gerformeerde Kerkreg, 1982, Deel 1, bl. 11
4 Jansen, J Korte verklaring van de Kerkorde der Gereformeerde Kerken, 1952, bl, 1
5 Jansen, J Korte verklaring van de Kerkorde der Gereformeerde Kerken, 1952, bl. 2
6 Jansen, J Korte verklaring van de Kerkorde der Gereformeerde Kerken, 1952, bl. 2
7 Vorster, JD Die kerkregtelike ontwikkleing van die Kaapse Kerk onder die kompanjie, 1652-1792, 1956, bl. 21
8 Bouwman, H GEREFORMEERD KERKRECHT, 1928, Deel I, p. 248
9 Van der Linde, GPL. DIE GRONDBEGINSELS VAN DIE PRESBITERIALE KERKREGERING- STELSEL, 1965, p.178
10 Vorster, JD. Die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die kompanjie, 1652-1792, 1956, bl. 24
11 Vorster, JD. Die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die kompanjie, 1652-1792, 1956, bl. 25
12 vgl. Vorster, JD. Die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk onder die Kompanjie, 1652-1792, 1956, bl. 110
13 Van der Linde, GPL. Die grondbeginsels van die presbiteriale kerkregeringstelsel, 1965, bl.183
14 Bouwman, H. Gereformeerd Kerkrecht, 1928, Deel I, bl. 10
15 Geldenhuys, FE o’B. Die regsposisie van kerkraad, ring en sinode, 1951, bl. 24
16 Kleynhans, EPJ. Gerformeerde Kerkreg, 1982, Deel 1, bl. 5
17 vgl. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, artikel 1
18 vgl. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, artikel 1(c)
19 vgl. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, artikel 2
20 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996
21 Vir die omskrywing van wat staatorgaan beteken sien artikel 239 van die 1996-Grondwet
22 Verwys Prof. YM Burns se studiegids vir gevorderde administratiefreg aan UNISA, bl. 46
23 Verwys Prof. YM Burns se studiegids vir gevorderde administratiefreg aan UNISA, bl. 46
24 Vgl. Theron v Ring van Wellington van die NG Sendingkerk in SA 1976 2 SA 1 (A). Vgl. ook Turner v Jockey Club of South Africa 1974 3 SA 633 (A)
25 Verwys na Prof. M Beukes se studiegids vir administratiefreg aan UNISA, bl. 27
26 Middelburg Rugbyklub v Suid-Oos Transvaal Rugby Unie 1978 1 SA 484 (T33).
27 Slegs die Engelse weergawe nl “Promotion of Administrative Justice Act 3”, 2000 (PAJA)
28 Vergelyk Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, Wet 3 van 2000
29 Vgl. woordomskrywings van “Promotion of Adminisitrative Justice Act 3”, 2000 (PAJA)
30 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996
31 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, Artikel 39
32 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, Artikel 36
33 Vgl. Studiegids, Fundamentele regte, 2000, bl. 46
34 Vgl. Studiegids, Fundamentele regte, 2000, bl. 48
35 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, Artikel 8(2)