Bevry om te bely en te beliggaam
’n Ekklesiologiese besinning oor die kerkorde van die VGKSA
ABSTRACT
Liberated to Confess and Embody. An Ecclesiological reflection of the church order of the URCSA.
On the 14th of April 1994 the eagerly awaited unification between the former Dutch Reformed Mission Church in South Africa (DRMC) and the Dutch Reformed Church in Africa (DRCA) was validated. This had as result the coming into being of the Uniting Reformed Church in Southern Africa (URCSA). The unity of this church is built on a new church order which attempts to express the liberating character of the Belhar Confession (Belhar). This means that the church order of the URCSA can be seen as an embodiment of Belhar and as a liberating expression of the broader ecclesiology of the URCSA. Therefore this article will review the relation between Ecclesiology, church orders and confessions whillst specifically looking into the church order of the URCSA giving special attention to the relation between this church order and the Confession of Belhar.
1. INLEIDING
Die Belydenis van Belhar (Belhar) het ’n onlosmaaklike en regmatige plek gevind binne die teologie van die familie van NG Kerke. Dit is (her)bevestig met die wording – en wese - van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) en (het) gebeur op meer as een manier. Enersyds het Belhar op hierdie dag ’n amptelike plek gekry in die teologiese grondslag van die VGKSA en wel as vierde amptelike belydenisskrif. So het die verhaal, die identiteit, die teologiese aard van die VGKSA op meer as een manier ’n nuwe fase betree. Andersyds – en inderdaad gelyk hiermee – het hierdie kerk ’n nuwe kerkorde aanvaar, gebou op Belhar, waardeur haar nuutgevonde eenheid vergestalt is. Op grond van die Skrif het hierdie kerk vir die eerste keer ’n kerkorde daargestel wat gestalte gee aan wie sy is. Op hierdie manier het die VGKSA vas bly staan in haar gereformeerde identiteit, getrou aan haar Bybelse karakter, en in lyn met die gereformeerde tradisie ook haar kerkorde gebou op haar belydenisskrif(te). Terselfdertyd het die VGKSA, wat haar ekklesiologiese opbou betref, ’n nuwe rigting ingeslaan en so finaal weggebreek van ’n geskiedenis van onderdrukking en oorheersing. Die basis van hierdie bevryding kan gevind word in die Skrif en daarom het dit as produk ’n Skrifgefundeerde Belydenis (Belhar), die volgehoue strewe na kerklike hereniging en dan veral binne die familie van NG Kerke, asook ’n kerkorde wat getuig van hierdie skriftuurlike bevryding en wat op grond hiervan uitgaan vanuit breër beginsels. Daarom kan daar inderwaarheid gesê word dat die VGKSA bevry is om juis dit wat sy bely, te beliggaam. Om dit te verstaan, moet daar gelet word op die historiese konteks van die VGKSA.
Wat betref die inhoud van die kerkorde van die VGKSA moet daar krities gekyk word na juis hoe Belhar beliggaam word in die kerkorde van die VGKSA.1 Daar kan tereg gevra word of die bevrydende karakter van hierdie Belydenis inderdaad weerspieël word in die kerkorde van die VGKSA en of die kerkorde reg daaraan laat geskied. Gelyk hiermee moet daar ook gekyk word na die implikasie(s) hiervan veral met die oog op kerklike hereniging binne die familie van NG Kerke met spesifieke verwysing na die plek van Belhar binne hierdie proses. Gevolglik is dit belangrik om te vra na die verhouding tussen kerkbegrip, belydenis en kerkorde.
2. DIE VERHOUDING TUSSEN KERKBEGRIP, BELYDENIS EN KERKORDE.2
Daar kan tereg gevra word wat die juiste verhouding tussen ’n kerkorde en ekklesiologie is? Verder moet daar gevra word wat die verhouding tussen belydenis en kerkorde is. In antwoord op hierdie vrae kan daar in die eerste plek onomwonde gesê word dat ’n kerkorde nie ’n teologies-neutrale dokument is nie. Dit is immers veronderstel om ’n dokument te wees wat in wese die aard van die betrokke kerk weerspiëel. Daar skuil ’n diepgewortelde teologie asook ’n bepaalde verstaan van kerklike identiteit en aard agter die dokument. So word dit nooit in ’n lugleegte geskryf en uitgeleef nie. Die historiese situasie bly gevolglik altyd belangrik. Soos Dingemans dit stel: ‘Een kerkorde is gestructureerde en in praktijk gebrachte theologie. Of nog preciezer gezegd: een kerkorde is een in rechtsregels vertaalde ecclesiologie. Wat een kerkgemeenschap denkt over haar eigen wezen en gestalte, over haar positie in de wereld, haar vormgeving en inrichten, word in een kerkorde vertaald in rechtsregels, die gelden voor het functioneren van de gemeenschap’.3 Gelyk hiermee kan myns insiens gesê word dat ’n/die kerk se plek en posisie in verhouding tot die res van die samelewing/wêreld vanuit haar ekklesiologie vertaal word in haar kerkorde.
Daar is egter vele gevalle waar dit duidelik is dat ekklesiologie en die kerkreg in spanning staan teenoor mekaar. Hier dan veral ’n spanning tussen harde juridiese taal en die ekklesiologie. Hierdie spanning tree juis in as die kerk haarself wil verantwoord in verhouding tot (ander) verenigings in die burgerlike samelewing. In dié verband moet daar onthou word dat die kerkorde nie in die eerste plek ’n juridiese dokument is nie juis omdat dit sterk teologies bepaal is. Alhoewel dit soms moeilik is om hierdie spanning in ewewig te handhaaf, is dit uiters waardevol en inderdaad noodsaaklik om dit te probeer behou. Tog is Dingemans van mening dat ‘harde juridische structuur van het kerkrecht het voortdurend lijkt te winnen van de open ecclesiologie van de dogmatiek’.4 En juis daarom is dit uiters noodsaaklik om voortdurend die fondamente van die kerkreg te ondersoek en om voortdurend te vra of die kerkorde ‘zoals we die nu hebben, inderdaad de beste uitdrukking (is) van wat we theologisch en ecclesiologisch met elkaar willen?’.5 Kerkordes in die gereformeerde tradisie vind beide gestalte binne die ekklesiologie van die betrokke kerk as wat dit die ekklesiologiese opbou en dus die aard van die kerk bepaal. Hierin speel belydenisse ’n deurslaggewende rol omdat die belydenisse spesifieke gestalte vind in kerkordes. Met verwysing na die beliggaming van Belhar in die kerkorde van die VGKSA noem Tshaka dat ‘…confessions also call for embodiment both in ecclesiology and in ethics, both in church order and in church life’.6 Dat daar dus ’n gesonde wisselwerking is en inderdaad moet wees, is verseker.
Vanuit die geskiedenis van gereformeerde kerke regoor die wêreld is dit duidelik afleibaar dat daar ’n nou band bestaan tussen ’n belydenis (as ’n sistematiese samevatting en vertolking van die Skrif op ’n spesifieke tyd) en ’n kerkorde. Coertzen maak dit duidelik dat ‘die belydenis vóór die kerkorde gaan en dat die kerkorde op die belydenis, as gesistematiseerde samevatting van die Woord, gebou is.7 Waarskynlik die bekendste voorbeeld van juis hoe dit prakties tot uitdrukking om kan gevind word in die kerkorde van Dordt wat ’n groot en blywende invloed gehad het op gereformeerde kerkordes wat na 1619 daargestel is.8
Belydenisskrifte staan nie los van kerkordes nie en daarom moet daar by die opstel van ’n kerkorde juis rekening gehou word met die belydenisskrifte van die betrokke kerk/kerklike tradisie.9 Dit is om hierdie rede dat Dirkie Smit van mening is dat ook die kerkorde ’n vorm van belydenis is.10 Binne die konteks van die VGKSA word hierdie punt duidelik geïllustreer deur Tshaka as hy noem dat ‘(T)he Belhar Confession impels the church to cultivate its unity. It understands the unity has already been given in Christ. More significantly, the church order stands in a strategic position to deal with the end result of how this unity will be attained among members of the church of Christ. By looking at ways of instilling true unity, the church order has to take cognisance of the socio-economic and political situation which the URCSA has inherited from the apartheid regime. Unity therefore is not merely something that is thought of abstractly, but concretely.’11
Uit bovermelde blyk dit duidelik dat daar ’n direkte verband en wisselwerking is tussen kerkbegrip, belydenis en kerkorde. Met inagneming hiervan sal daar nou gekyk word na die ekklesiologiese opbou van die kerkorde van die VGKSA. Om dit te kan doen is dit belangrik om kortliks te let op die historiese opbou van hierdie kerk.
3. EKKLESIOLOGIE IN HISTORIESE KONTEKS. DIE VERHAAL VAN DIE VGKSA
Ten diepste moet die identiteit van die VGKSA gedefinieer word. Wie is die VGKSA? Hoe verstaan hierdie kerk haar identiteit as kerk in en deur Christus? In die eerste plek moet dit bevestig word dat die VGKSA, as Gereformeerde kerk, deel in die gereformeerde erfenis en identiteit van gereformeerde kerke regoor die wêreld. Juis daarom is die VGKSA ingebed in die konteks van Suidelike Afrika. Die beantwoording van hierdie vrae moet geskied teen die agtergrond van die geskiedenis van die VGKSA vanaf 1881 met die onstaan van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika (NGSK) en 1910 met die onstaan van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (NGKA), die eenwording van hierdie twee kerke in die vorming van die VGKSA in 1994, en die verloop van hierdie kerk se geskiedenis tot en met 2007.12 In hierdie verhale lê die boustene van die VGKSA se ekklesiologie. Met ander woorde hoe hierdie identiteit vergestalt word deur die VGKSA hang nou saam met die geskiedenis van hierdie kerk en dus hoe hierdie kerk haar identiteit uitleef, op grond van die Skrif, in haar spesifieke konteks. Dit gee natuurlik karakter aan die identiteit van die VGKSA as kerk van en in Christus. Ook die geskiedenis en verhale van die VGKSA is nie vasgevang in tyd nie, maar kom lewend en bevrydend tot uitdrukking in die wese van die VGKSA vandag, in wie sy is! Dit beïnvloed die wyse waarop die VGKSA teologie beoefen, haarself teologies verantwoord.
Wanneer daar gelet word op die geskiedenis van die NGSK en die NGKA is dit duidelik dat hierdie kerke ’n geskiedenis van voogdyskap en onderdrukking het. As sogenaamde “dogterkerke” was hulle kerkregtelik ten volle ondergeskik aan die NG Kerk as “moederkerk”.13 Dit was waar vanaf stigting in 1881 en 1910 onderskeidelik tot laat in die 1970’s/1980’s. In die lig hiervan beskryf Chris Loff die geskiedenis van die voormalige NGSK as een van bevryding (van onderdrukking) tot eenwording.14 Presies dieselfde kan myns insiens gesê word van die NGKA aangesien die verhouding van die NGK teenoor hierdie kerk dieselfde rigting ingeslaan het as vergelyk word met die verhaal van die NGSK. Kriel is van mening dat die geskiedenis van die NGSK tot en met 1975 in drie dele verdeel kan word, nl. “’n tydperk van volkome ondergeskiktheid aan die Moederkerk 1881 tot 1916, die tydperk van beperkte outonomie onder die grondwet: 1916 tot 1958 en die typerk van groei van die grondwet tot akte van ooreenkoms – 1958 tot 1975”.15 Hieruit blyk ’n duidelike beweging van absolute ondergeskiktheid tot ’n posisie waar hierdie kerk(e) grotendeels “selfstandig” kon funksioneer. “Selfstandigheid” en dus ook bevryding het myns insiens eers ingetree met die totstandkoming van die VGKSA op die basis van ’n nuwe en eiesoortige kerkorde.16 Op grond hiervan sou ek ’n vierde fase onderskei vanaf 1975 tot 1994. Hierdie nuwe fase in die geskiedenis van die kerke word ingelei aan die einde van die 1970’s/begin van die 1980’s met hierdie kerke se strewe – en inderdaad stryd - na “selfstandigheid” en eenheid binne die familie van NG Kerke.17 Die uitstaande kenmerk van hierdie fase sou bevryding wees. Hiermee word verstaan ’n proses waar hierdie kerke bevry is van oorheersing en voogdyskap, iets wat vir dekades lank die werking en wese van hierdie kerke bepaal het. Hierdie proses van bevryding hang sterk saam met die NGSK en die NGKA se verwerping van Apartheid as strydig met die Skrif en met ’n soeke na kerkeenheid veral binne die familie van NG Kerke. Die keerpunt van hierdie verwerping het ingetree met die aankondiging van ’n status confessionis deur die NGSK deur haar Sinode van 1982 en die gepaardgaande belydenisvorming.18 Hierdie gebeure het natuurlik ’n geweldige impak op die aard van beide hierdie kerke gehad.19
Met die belydenisvorming deur die NGSK het daar ’n groter bewustheid ontstaan dat daar inderdaad in alle erns gestreef moet word na strukturele eenheid binne die familie van NG Kerke. Hierdie proses(se) het gaandeweg momentum gekry en dit het uiteindelik die daarstel van die VGKSA tot gevolg gehad.20 Dit is interessant dat, met verwysing na die onstaan van die VGKSA op 14 April 1994, Nyatyowa drie bene noem wat saam die fondament van die eenwording van die NGSK en die NGKA in die VGKSA vorm nl. (1) die verslag van die dialoogkommissie vir kerkeenheid en hierdie kommissie se bespreking van kerkeenheid, versoening en geregtigheid, (2) die eerste Algemene Kerkorde van die VGKSA, (3) en die Belhar Belydenis (in hierdie volgorde).21 Ek meen dat dit uiters belangrik is om hierdie drie dokumente in verhouding tot mekaar te verstaan wanneer daar probeer bepaal word hoe die VGKSA haar bevryding verstaan en hoe dit in haar identiteit vergestalt word, asook hoe sy hierdie identiteit uitleef. Wat wel duidelk na vore tree in hierdie dokumente is dat hierdie proses van bevryding, op grond van die Skrif, hand aan hand loop met ’n proses van eenwording. Daarom is dit te verstane dat, wat die daarstel van die nuwe kerkorde van die VGKSA betref, daar geen sprake kon wees van ’n soort integrasie met die bestaande kerkordes van die NGSK en die NGKA nie. Smit maak dit duidelik dat ‘die bestaande kerkordes immers self kerkvisies gereël (het) wat vir die nuwe kerk problematies, onaanvaarbaar, teologies onhoudbaar (was). Dit was nodig om in die eerste plek te vra watter soort visie die nuwe kerk vir homself het.’22
Uit bovermelde het ek kortliks probeer aandui dat die NGSK en die NGKA vir die grootste gedeelte van hul bestaan direk of indirek beheer is deur die NG Kerk veral met betrekking tot bestuurs- en besluitnemingsprosesse.23 Daarom vra Adonis tereg die volgende vraag. ‘(I)ndien die kerkregtelike ontwikkelinge van die voormalige NGKA en NGSK in oënskou geneem word, waarom getuig dit van oorheersing van en onderwerping aan die NG Kerk, eerder as van bevryding in die kerkregtelike sin van die woord?’.24 Gaandeweg het hierdie kerke egter groter “selftandigheid” bereik wat dan ook reflekteer in hul teologie. Hiervan getuig die daarstel van die VGKSA.
5. BELHAR EN DIE KERKORDE VAN DIE VGKSA.25
In haar opbou poog die kerkorde van die VGKSA om uitdrukking te gee aan die onfeilbare Woord van God en dan spesifiek op die wyse waarop dit gestalte vind in die gereformeerde belydenisskrifte, by name die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.26 Maar dan ook meer. Hierdie kerkorde is gebou op die Belydenis van Belhar soos aanvaar deur hierdie kerk ‘soos wat dit tans van die kerk in die Suider-Afrikaanse situasie vereis word’.27 In hierdie verband noem Adonis dat ‘(A)angesien die kerkorde op die Bybel en belydenis gebou is, dit juis iets van die bevryding waarvan die Belhar belydenis spreek, (wil) aksentueer. Daarom sal die opmerkinge oor hierdie kerkorde op ’n besondere wyse by die inhoud van die Belhar belydenis betrek word’.28
Wanneer daar gelet word op die struktuur van die kerkorde van die VGKSA is dit opvallend dat dit redelik eenvoudig is. Dit vergelyk goed met ander gereformeerde kerkordes met die opmerklike verskil dat dit bestaan uit 12 redelik kort artikels. Dit val natuurlik saam met die gedagte dat hierdie kerkorde van basiese Bybelsverantwoordbare beginsels moes uitgaan, in lyn met die gereformeerde tradisie, om sodoende ruimte te laat vir praktiese reëlings spesifiek tot die streeksinodes van hierdie kerk. So probeer hierdie kerkorde uitdrukking gee aan haar bevrydende karakter waar daar wegbeweeg word van streng voorgeskrewe reëls wat op geen manier die aard van die kerk weerspieel nie. Aangesien die NGKA en die NGSK in die vorming van die VGKSA in ’n proses is om na mekaar en inderdaad in mekaar te groei is daar juis besluit op ’n kerkorde wat ruimte hiervoor sal laat. In hierdie verband noem Adonis dat ‘(Die) kerkorde juis bevrydend (wil) wees en lidmate, ampsdraers en kerkvergaderings aanmoedig om die inisiatief te neem om aan die hand van die kerkorde in hulle verskillende situasies verantwoordelike besluite te neem’.29
Wanneer daar gelet word op die inhoud van die kerkorde van die VGKSA is dit duidelik dat Belhar ’n sterk invloed daarop uitgeoefen het. Hiervan getuig elk van die 12 Artikels van die kerkorde van die VGKSA. Dit is in lyn met die gereformeerde verstaan van ’n belydenis en die praktiese uitvloeisels daarvan, veral ook in en deur ’n kerkorde. In lyn met die doksologiese styl van Belhar beskryf Art 1 van die kerkorde die VGKSA as deel van die kerk van Jesus Christus ‘wat deur die Woord van God en deur sy Gees byeengeroep is’.30 Dit stem ooreen met die inleiding van Belhar nl. ‘(O)ns glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees wat deur sy Woord en Gees sy Kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe’.31 Met hierdie artikel gee die VGKSA uitdrukking aan haar stewe om eenheid met die kerk oor alle eeue en plekke. Sodoende anker hierdie kerk haarself in haar geloofstradisie op grond van die Skrif.
Art 2 moet saam met Art 1 gelees en verstaan word. In Art 2 grond die VGKSA haarself verder as deel van die Christelike kerk wat gestalte vind in haar spesifieke konteks en daarom vind ons in Art 2.2. die byvoeging van die ekumeniese belydenisskrifte asook die gereformeerde belydenisse tesame met Belhar.32 Dit is natuurlik nie per toeval dat daar, behalwe die melding van die drie formuliere van eenheid en Belhar, ook melding gemaak word van die drie ekumeniese belydenisse nie. Hierin kan ’n direkte uitdrukking van ’n groter gestalte en strewe na eenheid gesien word. En daarom moet hierdie artikel in lyn met Art 12 gelees word. So kom hier ’n finale breuk in ’n geskiedenis van ekumeniese isolasie.33
In ’n kort sin verklaar die VGKSA belydend in Art 3.1. dat ‘(D)ie geloof in Jesus Christus is die enigste voorwaarde vir lidmaatskap van die Verenigende Gereformeerde kerk in Suider-Afrika’.34 Met hierdie een, byna terloopse sin, word ’n geskiedenis van meer as 100 jaar se aparte aanbidding, aparte samekomste in aparte geboue en later die vestiging van kleur- en kultuur spesifieke kerke belydend afgewys. ‘Hierdie saak was dwarsdeur die geskiedenis van die NG Kerk-familie ’n uiters belangrike, maar ook omstrede kwessie.’35 Bevry hiervan slaan die VGKSA dus ’n nuwe weg in, gebou op haar ekklesiologie en bevestig deur haar belydenis op grond van die Woord van God.
Art 4 verklaar die verantwoordelikhede van die gemeente. Hier gaan dit om diens(baarheid) op grond van die getuienis van God.36 Woorde soos ‘diens’, ’nood’, ‘smart’ waarmee hierdie artikel opgesom kan word, herinner sterk aan die algemene bewoording van Belhar. Nêrens kom dit so duidelik tot uitdrukking as in Art 4.4. waar daar inderwaarheid ’n woordelikse opsomming van die 3 sentrale artikels van Belhar voorkom, nl. dié van Eenheid, van Versoening en van Geregtigheid.37 Dit is duidelik dat gemeentelede deur middel van hierdie artikel aangemoedig word om verantwoordelikheid te neem vir mekaar beide ten opsigte van spirituele- en materiële behoeftes.38 Op hierdie wyse vind die belydenis en inderdaad die ekklesiologie van die VGKSA gestalte in die wese van elke gemeente, van elke lidmaat.
Art 5 handel oor die Dienste in die Gemeente en hier dan spesifiek die openbare samekomste van die gemeente. Dit is duidelik dat dit die middelpunt van die beliggaming van Belhar in elke gemeente is.39 Die wese van elke gemeente moet getuig van wie die kerk is, wat sy bely. In hierdie verband is dit interessant om te let op liturgiese voorstelle soos opgestel deur die verskillende Sinodale Kommissies van die VGKSA. Met die lees van hierdie liturgiese voorstelle tree dit duidelik na vore dat die vermelde voorstelle sterk leun op Belhar en inderdaad op die breër ekklesiologie van die VGKSA.40
Drie woorde in Art 6 gee besondere uitdrukking aan geregtigheid nl. dié ten opsigte van ‘mans-of vrouelidmate’.41 Die veelseggendheid van hierdie sinsnede kan en mag nie onderskat word nie. Dit wys weg van ’n geskiedenis gekenmerk deur die marginalisering van vroue veral ook binne die kerk.42 Bevry hiervan word op die manier duidelik verklaar dat geregtigheid in die kerk, soos vasgelê in haar belydenis, ook geslagsgelykheid impliseer en juis hoe dit nagestreef word deur die VGKSA.
Art 7 verklaar in lyn met gereformeerde belydenisse regoor die wêreld die volgende: ‘Jesus Christus regeer die gemeente deur sy Woord en Gees deur die Ampte’.43 Soos in die geval van Art 3 moet mens let op die geskiedenis van die NGSK en die NGKA as mens die veelseggendheid van hierdie belydenis vir die VGKSA wil begryp.44 In ’n geskiedenis waar hierdie twee kerke direk beheer en bestuur is deur òf die verskillende sinodale sendingkommissies òf deur plaaslike NG- gemeentes, het daar weinig tereg gekom van die alleenheerskappy van Christus oor sy kerk. Met hierdie artikel word die erg onderdrukkende houding van die een kerk oor die ander vir goed afgewys. Bevry hiervan kry hierdie eeue oue belydenis dus ’n vars betekenis in die ekklesiologie van die VGKSA.
Verder word die amp van die gelowige ook in hierdie artikel beklemtoon. Die basiese omskrywing van hierdie kerkorde word op ’n besondere manier in Art 7.4. uitgedruk.45 Die kerkorde beklemtoon hiermee dat elke lidmaat een of ander gawe ontvang het spesifiek met die oog op dienswerk in die gemeente. Op hierdie manier verklaar die VGKSA beide haar strewe na’n groeiende diverse samestelling gekenmerk deur Bybelse eenheid asook ’n bevrydende ekklesiologie waar dit beklemtoon word dat elke lidmaat aangespoor word tot aktiewe betrokkenheid in die plaaslike gemeente.
Art 8-11 handel oor die verbintenis tussen gemeentes en hoe dit spesifiek tot uitdrukking kom in die vergaderinge van die kerk by name dié van die Ring, die Gebiedsinode en die Algemene Sinode. Die besondere karakter van elk van hierdie vergaderinge word ingekleur deur Belhar as 9.2. noem dat dit deel is van die verpligtinge van die Ring dat daar ‘beraadslaag word oor die maniere waarop gemeentes geestelik en materieel toegerus kan word met die oog op die gesamentlike dienswerk…’46, 10.3. verklaar duidelik dat daar deur middel van die Gebiedsinode ‘aandag gegee moet word aan die besondere nood en behoeftes van gemeentes wat nie binne ringsverband hanteer kan word nie…’47, en in die woorde van 11.10 dat die soeke na ‘die aktiewe uitvoer van die Bybelse opdrag van kerkeenheid deur betrokkenheid by en inisiëring van kerkverenigingsprosesse met kerke van gereformeerde belydenisgrondslag…’48 ’n opdrag van die Algemene Sinode is. Deur hierdie artikels blyk dit duidelik dat die VGKSA streef na die kenmerke en inderdaad na die uitleef van dit wat sy bely ook in en deur haar vergaderinge. Dit is in lyn met kerkregering binne die presbiteriaal-sinodale kerkregeringstelsel waarin daar spesifieke eienskappe toegeskryf word aan die verskillende – en gelyke – vergaderinge.
Art 12 handel oor die VGKSA se verhoudinge na buite. In hierdie verband word die roeping van die VGKSA onderverdeel in ’n koninklike-, profetiese-, en priesterlike taak. Die laaste artikel van die kerkorde gee, soos die ander, direkte uitdrukking aan Belhar met 12.4. wat onomwonde heenwys na kerklike eenheid.49 Alhoewel dit glad nie vreemd is dat hierdie artikel die slotartikel van hierdie kerkorde is nie bly die inhoud daarvan steeds merkwaardig. Hiervolgens word gestreef na kerklike eenheid wat in die eerste instansie tot uiting kom in eenheid binne die familie van NG Kerke. Maar dit is ook van verdere belang as daar spesifiek verwys word na die kenmerke van die kerk waarna hier gestreef word. En daarom voltooi hierdie artikel die sirkel vanaf Art.1.
Ter opsomming: dit is meer as duidelik dat die kerkorde van die VGKSA op ’n besondere manier uitdrukking gee aan haar wese as gereformeerde kerk. Hiervan getuig elk van die 12 Artikels – elk met ’n eie uitgangspunt. Daar is voorbeelde in verskeie artikels waar Belhar byna woordeliks aangehaal word. Daarom kan daar inderdaad gesê word dat ’n behoorlike interpretasie van Belhar en dan veral die uitwerking van Belhar in die lewe van die VGKSA nie verstaan kan word sonder om dit saam met die kerkorde van hierdie kerk te doen nie.50 Die vraag kan natuurlik gevra word of hierdie ‘kerkorde dien as waarmaker van die belydenis’51 d.w.s of dit genoegsaam uitdrukking gee aan Belhar en of die VGKSA deur haar kerkorde aangespoor word tot dieper en daadwerklike beliggaming van Belhar? ‘Geen kerkode kan waarborg dat die soort kerk wat daarin bely word daadwerklik uitgeleef gaan word nie. Die kerkorde is immers nie self die doel nie. Dit bied slegs die ruimte waarbinne die belydenis prakties moet word, konkreet, sigbaar, en ervaarbaar.’52 Dat dit egter ’n werktuig kan wees om gestalte te gee aan ’n belydenis in die sin dat dit kan help om dit wat bely word, te belligaam in die lewe van gelowiges, is vir seker. Dit moet veral ook binne die VGKSA nagestreef word. En daarom kan daar krities gevra word of die kerkorde van die VGKSA genoegsaam uitdrukking gee aan Belhar? Smit kan dus, met spesifieke verwysing na die rol van die erediens as ruimte waar wat bely word inderdaad ook beleef kan word, krities vra ‘(H)et die VGKSA genoeg gedoen, veral rondom die erediens van die plaaslike gemeente, om te verseker dat die belydenis in die Kerkorde ’n neerslag gevind het ook waarlik beliggaam word?’.53
7. SAMEVATTING
Met die aanvaarding van die nuwe kerkorde deur die eerste Algemene Sinode van die VGKSA in 1994, breek hierdie kerk inderdaad met haar vorige kerkordes en beweeg insgelyks ook weg van ’n geskiedenis gekenmerk deur oorheersing en ondergeskiktheid. Uniek hieraan is dat die VGKSA hierdeur daadwerklik gestalte gee aan haar aard; aan haar ekklesiologies opbou. Hierdie aard en ekklesiologiese opbou kan nie losgemaak word van Belhar nie. Wanneer daar gekyk word na die geskiedenis van die VGKSA asook na die breër ekklesiologiese opbou van hierdie kerk, kom dit meer as duidelik na vore dat die kerkorde van die VGKSA ekklesiologies uitdrukking gee aan die aard van hierdie kerk. Hiervan getuig die beliggaming van Belhar in hierdie kerkorde. En juis om hierdie rede het hierdie kerkorde ’n sterk bevrydende karakter beide in die sin dat dit ’n breuk met onskriftuurlike beginsels van die verlede aandui asook weens die feit dat die kerkorde vanuit basiese beginsels uitgaan en so ruimte laat vir die plaaslike kerk om haarself verder in te rig. Dit getuig inderdaad van ’n nuwe rigting wat die VGKSA ingeneem het. Hierdie rigting is sterk gegrond op haar Bybelse bewustheid en ingebedheid in haar konteks.
Ook wanneer die kerkorde van die VGKSA vergelyk word met ander Gereformeerde kerkordes is dit duidelik dat hierdie kerk ’n unieke rigting ingeslaan het. Dit word duidelik wanneer daar vergelykend gelet word op die kerkordes van die ander kerke binne die familie van NG Kerke asook
dié van die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) en die Presbytarian Church of the United States of America (PCUSA).54 Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die verhouding tussen Belhar en die kerkorde van die VGKSA asook die geskiedenis van hierdie kerk. Met betrekking tot die inhoud, struktuur en karakter van die kerkorde van die VGKSA noem Adonis die volgende:
‘(D)ie kerkorde is op dieselfde basiese beginsels van die gereformeerde kerkregering- stelsel gebaseer. Na inhoud en struktuur, dui dit egter ’n fundamentele breuk met die verlede aan. Die ongereformeerde kerkregeringsvorm van ondergeskiktheid en bevoog- ding waaraan die voormalige twee swart kerke vir so lank onderwerp was, is daarmee finaal verwerp. ’n Belangrike karaktertrek van die gereformeerde teologie, bevryding, het baie sterk die inhoud van hierdie kerkorde bepaal. Hierdie kerkorde is gebaseer op die Bybel en die belydenis, en dan veral die Belydenis van Belhar’.55
Vanuit bovermelde teks het duidelik geblyk dat die nuwe rigting wat die VGKSA ingeneem het, toegeskryf kan word aan haar ekklesiologiese opbou en dan spesifiek as produk van die geskiedenis van hierdie kerk. Dat die kerkorde dus ’n produk is van die aard van die VGKSA is duidelik. Ek noem kortliks die belangrikste redes hiervoor. Eerstens kan genoem word dat dit vir die VGKSA belangrik en skriftuurlik is dat haar kerkorde ’n sterk bevrydende karakter moet dra in lyn met Belhar. Hiervan getuig haar beoefening van kerkreg en dan spesifiek die wyse waarop dit gestalte vind in haar kerkorde. Die klem val dus sterk op die beliggaming van haar belydenis deur die kerkorde in elke unieke konteks. Tweedens is dit belangrik om te verstaan dat die kerkorde ’n nuwe oorgang was waarop ’n nuwe kerk gebou is. Dit is dus uiters noodsaaklik om binne haar kerkorde genoeg ruimte te laat vir kontekstuele ontwikkelinge in die groei van ’n verenigende kerk. Op ’n besonderse manier gee dit weer uitdrukking aan haar ekklesiologiese opbou in lyn met die strewe na groter kerklike hereniging binne die familie van NG Kerke. Verder is dit in lyn met ’n verstaan van ’n bevrydende kerkorde wat slegs breër riglyne vir organisering bied.56 Bovermelde hang natuurlik saam met die doel waarmee hierdie kerkorde die lig gesien het. En dit blyk duidelik te wees: dit wys heen na Christus, die Hoof van sy Kerk.57 en versoenende karakter tot verdere uitdrukking bring.
Die kerkorde wil juis hierdie bevrydende Dat Belhar op ’n besonderse wyse vergestalt word in die kerkorde van die VGKSA is meer as duidelik. Maar meer nog. Die ekklesiologiese identiteit van die VGKSA poog om bevrydend uitdrukking te gee aan die Skrif en op hierdie belydenis wat behoort tot die wese van die VGKSA. Dit het natuurlik direkte implikasies vir die daarstel van nuwe kerkordes en dan veral ook met die oog op kerkhereniging binne die familie van NG Kerke. In die lig van ’n moontlike kerkorde vir ’n verenigde kerk moet daar inderdaad gevra word na die plek van Belhar nie net as amptelike (4de) belydenis nie, maar ook met betrekking tot die verhouding tussen hierdie belydenis en die kerkorde. Dis is veral belangrik as daar gelet word op die aard en ekklesiologiese opbou van die VGKSA. In hierdie verband is daar vele uitdagings.
BIBLIOGRAFIE
Acta Synodi. VGKSA. Belhar. 1994
Adonis, H. 1998. ’n Gereformeerde Kerkorde?. Opmerkings oor die kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika’. In Boesak WA en Fourie PJA (red). 1998. Vraagtekens oor Gereformeerdheid. 112-124. Belhar: LUS Uitgewers.
Coertzen, PC. 1991. Gepas en Ordelik. ’n Teologiese verantwoording van die orde vir en in die kerk. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Pretoria: Sigma-Pers.
Die belydenis van Belhar, ’n Eenvoudige uitleg. 1988. Belhar: LUS.
Dingemans, GDJ. 1992 ‘Kerkorde als ecclesiologische vormgeving’. In van’t Spijker, W & Van Drimmelen, LC. (red) 1992. Inleiding tot de studie van het Kerkrecht. Kampen: JH Kok.207-220.
Du Toit, PR. 1991. ‘Die uitleg van ’n kerkorde’. In Strauss, PJ. (red). 1991. Byderwets en Gereformeerd.
Kerkregtelike opstelle opgedra aan PB van der Watt. 46-64. Bloemfontein: NG Sendingpers.
Handelinge van die stigting- en eerste Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, 14 tot 17 April, 1994. $
Jonker, WD. 1994. Bevrydende Waarheid. Die karakter van die gereformeerde belydenis. Wellington: Hugenote-Uitgewers.
Kerkorde en Reglemente van die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika. Soos aangeneem en gewysig deur die derde Algemene Sinode, Upington, 2001.Kaapstad: Newave Digital Junxion.
Kriel, CJ. 1981. Die Eerste Eeu. Die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika.1881-1981.Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.
Nytyowa, TS. 1999. The unification process in the family of the Dutch Reformed Churches from 1975-1994: A critical evaluation. Unpublished Masters Thesis. Bellville: University of the Western Cape.
Tshaka, RS. 2005. Confessional theology? A critical analysis of the theology of Karl Barth and its significance for the Belhar Confession. Unpublished doctoral dissertation. Stellenbosch: Stellenbosch Universiteit.
Smit,DJ. 2002. ‘Bely en beliggaam’. In Coertzen, P (red). 2002, 350 Jaar Gereformeerd. 1652-2002. Bloemfontein: CLF Drukkers. 357-371.
TREFWOORDE
Kerkorde, Belydenis van Belhar, Bevrydend, Beliggaming, Identiteit
KEY WORDS
Church Order, Belhar Confession, Liberating, Embodiment, Identity
CONTACT DETAILS
1 Vir die doel van hierdie studie maak ek gebruik van die Kerkorde en Reglemente van die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, soos aangeneem en gewysig deur die derde Algemene Sinode, Upington, 2001, Kaapstad: Newave Digital Junxion. 2001.
2 Dat die Kerkeg deel uitmaak van die Ekklesiologiese vakke is iets wat in die geskiedenis van gereformeerde teologie duidelik na vore getree het. Vir ’n bespreking in hierdie verband sien JA Heyns en WD Jonker, Op weg met die Teologie, 286-291.1974. Pretoria: NG Kerkboekhandel. Vgl ook PJ Strauss, ‘Wat is Ekklesiologie – en Kerkeg?’. In PJ Strauss (red), Byderwets en Gereformeerd. Kerkregtelike opstelle opgedra aan PB van der Watt. 10-22. 1991. Bloemfontein. NG Sendingpers. Verder word dit aanvaar dat ‘wat in die wetenskap kerkreg gevind en “geproduseer” word, moet uiteindelik neerslag vind in ’n kerkorde…’. Pieter Coertzen, Gepas en Ordelik. ’n Teologiese verantwoording van die orde vir en in die kerk. 1991, 175. DIt word dus aanvaar dat kerkordes noodwendige “produkte” van die kerkreg is wat gebou is op ’n/die Ekklesiologie.
3 GDJ Dingemans, ‘Kerkorde als ecclesiologische vormgeving’. In W van’t Spijker en LC van Drimmelen (eds), Inleiding tot de studie van het Kerkrecht, 1992, 207. Dingemans gaan verder en noem dat ‘(T)egelijkertijd moet men zeggen, dat een kerkorde ook voortdurend ecclesiologische knopen doorhakt of compromissen sluit’. Dingemans in Van’t Spijker en Van Drimmelen (red), Inleiding, 1992, 207. Sien verder PR du Toit, ‘Die uitleg van ’n kerkorde’. In PJ Strauss, Byderwets en Gereformeerd, 1991, 51.
4 Dingemans in Van’t Spijker en Van Drimmelen (red), Inleiding, 1992, 210.
5 Dingemans in Van’t Spijker en Van Drimmelen (red), Inleiding, 1992, 220.
6 Rothney Tshaka, Confessional theology? A critical analysis of the theology of Karl Barth and its significance for the Belhar Confession, 2005, 259.
7 Coertzen, Gepas en Ordelik, 1991, 142.
8 Die Kerkorde van Dordt wou spesifiek uitdrukking geen aan die hoofskap van Christus en daarom is dit ook die grondgedagte van hierdie kerkorde. Vgl. AD Pont, Die Historiese Agtergrond van ons Kerklike Reg, Deel 2. Pretoria: Kittel. 1991. 1-2. Kleynhans is van mening dat dit selfs ’n invloed gehad het op die 1962 kerkorde van die NG Kerk. Vgl EPJ Kleynhans, ‘Vereistes vir ’n kerkorde’. In PJ Strauss, Byderwets en Gereformeerd, 1991, 44.
9 ‘Wesentlik behoort ’n kerkorde dus altyd met die belydenis rekening te hou. In die belydenis se konstatering van die unieke aard van die kerk en Christus se heerskappy deur die Woord, Gees en dienste sou selfs ’n wesentlike eenheid tussen belydenis en kerkorde gekonstateer moet word’. Sien Coertzen, Gepas en Ordelik, 1991, 182.
10 Smit, ‘Bely en Beliggaam’. In Coertzen (red), 350 Jaar, 2002, 360. ‘Die punt is duidelik. Die vraag hoe die kerk georden behoort te word, is vir die gereformeerde tradisie ’n belydenisvraag – omgekeerd is die belydenis aangaande die evangelie vir die gereformeerde tradisie ’n vraag oor die konkrete beliggaming van hierdie evangelie in die kerk, sy sigbare gestalte en sy konkrete dienste en handelinge in die openbare lewe.’ Sien Smit, ‘Bely en Beliggaam’. In Coertzen (red), 350 Jaar, 2002, 360.
11 Tshaka, Confessional theology?, 2005, 261
12 Dit is belangrik om daarop te let dat, wanneer daar gekyk word na die geskiedenis van die VGKSA daar inderdaad gekyk moet word na die geskiedenis van ’n hele aantal kerke by name die NGSK, die NGSK in die Oranje Vrystaat, die NGSK in Transvaal, die NGSK in Natal, en die NG Bantoekerk in Suid- Afrika (die laaste vier kerke het in 1963 verenig om die NGKA te vorm). Vir ’n oorsig in hierdie verband sien NJ Smit, ‘Die planting van afsonderlike kerke vir nie-blanke bevolkingsgroepe deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid–Afrika’, Annale. Vol. 34. Serie B no.2. Stellenbosch: Stellenbosch Universiteit. 1973. Alhoewel hierdie kerke tot stand gekom het onder verksillende kulturele groepe deel hierdie kerke, veral wat hul geskiedenis betref veel met mekaar en inderdaad ook met die vele ander kerke wat ontwikkel het vanuit die komprehensiewe sendingaktiwiteite van die verskillende NG Kerke. Vgl. D Crafford, Aan God die dank: die geskiedenis van die sending van die Ned. Geref. Kerk binne die Republiek van Suid-Afrika en enkele aangrensende buurstate, 1982. Pretoria: NG Kerk Boekhandel.
13 Hannes Adonis, ‘’n Gereformeerde Kerkorde?. Opmerkings oor die kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika’. In WA Boesak en PJA Fourie (red), Vraagtekens oor Gereformeerdheid, 1998, 114.
14 Vir ’n oorsig vanuit die konteks van die NGSK sien Chris Loff, Bevryding tot Eenwording. Die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika. 1881-1994, 1998. Gepubliseerde Doktorale dissertasie. Kampen: Teologiese Universiteit Kampen.
15 CJ Kriel, Die Eerste Eeu.Die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika.1881-1981.1981, 158-164.
16 Kriel is van mening dat “kerkregtelike selfverwesenliking” by die NGSK reeds bereik is met die ondertekening van die Akte van Ooreenkoms (1975). Sien Kriel, Die Eerste Eeu, 1981, 163. Dit kan egter grootliks bevraagteken word juis op die basis van hierdie ooreenkoms.
17 Dirk Smit beskryf hierdie strewe as ’n ‘stryd om die ekklesiologie, om die aard van die kerk van Jesus Christus’. Sien DJ Smit, ‘Bely en beliggaam’. In P Coertzen (red), 350 Jaar Gereformeerd. 1652-2002. 2002, 360
18 Vgl. Daan Cloete & Dirk Smit (red), A moment of truth. The confession of the Dutch Reformed Mission Church 1982. 1984. Grand Rapids, Eerdmans.
19 Dit is belangrik om in ag te neem dat ons hier te make het met ’n stelselmatige proses gekant teen onderdukking en die posisie van die sogenaamde “swart dogterkerke” teenoor die NG Kerk asook ’n groeiende teenkanting teen Apartheid as sosiale stelsel en veral teen die teologiese regverdiging en verdediging daarvan deur die NG Kerk. Sien in hierdie verband die Acta Synodi’s van die NGKA en die NGSK vanaf 1974 – 1991.
20 Acta Synodi, VGKSA, 1994, 290-292. Sien verder, Loff, Bevryding tot Eenwording, 1998 267-274, asook Adonis, ‘Bevryding tot eenwording en getuienis. Die geskiedenis van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika 1950-2001’. In Coertzen, 350 Jaar Gereformeerd, 2002, 12-58.
21 TS Nytyowa, The unification process in the family of the Dutch Reformed Churches from 1975-1994: A critical evaluation. Unpublished Masters Thesis. 1999, 79-91. Vgl. Acta Synodi, VGKSA, 1994, 10-27.
22 Smit, ‘Bely en Beliggaam’. In Coertzen (red), 350 Jaar, 2002, 366. Wanneer die huidige kerkorde van die VGKSA vergelyk word met van die vorige kerkordes van die NGSK en die NGKA is dit duidelik dat hierdie kerkordes byna glad nie met mekar vergelyk kan word nie. Vgl. Kerkorde, Bepalinge en Reglemente van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika, 1978, Die Kerkorde en Aanvullende Bepalinge vir gebruik in die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika. Vasgestel en hersien deur die Sinode van 1990, asook die hersiende Kerkode van die NG Kerk in Afirka, Acta Synodi, NGKA, 1991, 426-440. Selfs wanneer die laaste kerkorde van die NGSK vergelyk word met die eerste kerkorde van die VGKSA is dit meer as duidelik dat daar ’n weentlike verskil tussen die twee dokmente is. Alhoewel Art 1.1. van die kerkorde van die NGSK die Belydenis van Belhar meld as 4de Belydenisskrif, is die effek van hierdie belydenis glad nie sigbaar in die res van die kerkorde nie. Sien die kerkorde van die NGSK, 1990, 1. Aangaande die riglyne wat aan die kerkorde Kommissie gegee is by die opstel van ’n konsep-kerkorde vir die VGKSA sien Acta Synodi, VGKSA, 1994, 7-8. So word daar genoem dat ‘die nuwe kerkorde slegs breë beginsels in eenvoudige nie-vakkundige taal formuleer omdat bestaande kerkordes na die menind van die kommissie te veel gedetaileerd is’. Acta Synodi, VGKSA, 1994, 7.
23 Hier het die verknegtende sendingbeleid van die NG Kerk ’n groot rol gespeel. Vgl Hannes Adonis, Die afgebreekte skeidsmuur weer opgebou. Die verstrengeling van die sendingbeleid van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika met die praktyk en ideologie van die Apartheid in historiese perspektief, 1982, Amsterdam: Rudopi.
24 Adonis in Boesak & Fourie (red), Vraagtekens, 1998, 114.
25 Met die ‘kerkorde van die VGKSA’ word verstaan die huidige 12 Artikels wat die kerkorde van die VGKSA uitmaak. Dit sluit nie die daaropvolgende en uitbreidende Reglemente in nie. Sien die Kerkorde en Reglemente van die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, 2001.
26 KO van die VGKSA. Art 2.2. 2001. 2.
27 KO van die VGKSA. Art 2.2. 2001. 2.
28 Adonis in Boesak & Fourie (red), Vraagtekens, 1998, 116.
29 Adonis in Boesak & Fourie (red), Vraagtekens, 1998, 115.
30 Art 1, KO vd VGKSA, 2001, 2.
31 Die belydenis van Belhar, ’n Eenvoudige uitleg, In die Reeks: Toegerus vir dienswerk TD2/1, ’n publikasie van die NG Sendingkerk in Suid-Afrika, 1988, 1.
32 Art 2, KO vd VGKSA, 2001, 2.
33 Vgl Adonis in Boesak & Fourie (red), Vraagtekens, 1998, 123. Saam hiermee kan genoem word ’n breuk met ’n geskiedenis gekenmerk deur kerklike verskeurdheid op grond van kulturele verskille.
34 Art 3, KO vd VGKSA, 2001, 4.
35 Adonis in Boesak & Fourie (red), Vraagtekens, 1998, 116.
36 Art 4, KO vd VGKSA, 2001, 4-6.
37 Art 4, KO vd VGKSA, 2001, 6. Vgl. Die belydenis van Belhar, 1988, 1-14.
38 Vgl. Tshaka, Confessional Theology?, 2005, 260.
39 Art 5, KO vd VGKSA, 2001, 6-8.
40 Sien in hierdie verband ‘Wenke vir ’n erediens in aansluiting by Wêreld Vigsdag’ waarby ingelyf die ‘VGKSA se verklaring en standpunt oor MIV en VIGS’ (2001)soos uitgee deur die Algemene sinodale kommissie vir Publikasies en Kommunikasie.
41 Art 6, KO vd VGKSA, 2001, 8
42 Vgl Leslie van Rooi, Die vrou in die leraarsamp binne die Verenigende Gerformeerde Kerk in Suider- Afrika: ’n histories-kerkregtelike beoordeling. Ongepubliseerde MDiv-Tesis. 2005. Stellenbosch: Stellenbosch Universiteit.
43 KO vd VGKSA, 2001, 8.
44 Dit is dan ook geen wonder dat Belhar afsluit met ’n aanhaling vanuit 1 Pet 3:15-18 met die woorde Jesus is die Heer.
45 KO vd VGKSA, 2001, 10.
46 KO vd VGKSA, 2001, 10.
47 KO vd VGKSA, 2001, 12.
48 KO vd VGKSA, 2001, 14.
49 ‘Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika staan verder in ’n besondere verhouding tot alle ander kerklike instellings in die samelewing. Die Kerk wil met al hierdie kerke gemeenskap beoefen vir sover dit binne die grense van die ekumeniese belydenisskrifte moontlik is. In hierdie gemeenskapsbeoefening wat op gemeentelike, rings,- en sinodale vlak plaasvind, streef die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika na die volle openbaring van die eenheid van die kerk van Christus sodat, in Jesus se woorde, “die wêreld kan weet dat U my gestuur het en hulle liefhet net soos U my liefhet” (Joh 17:23)’. KO vd VGKSA, 2001, 16.
50 Tshaka, Confessional Theology?, 2005, 260-267. ‘Embodiment of that which is confessed in this Confession is not of cardinal importance for the church today. However, the Belhar Confession cannot be used to implement these issues, hence the church order, which was designed essentially to deal with the questions relating to relationships among Christians. The Belhar Confession is usually interpreted without taking the new church order into account. This interpretation creates the impression that the issues which are discussed in the Confession are abstract issues.’ Vgl. Tshaka, Confessional Theology?, 2005, 265.
51 Sien Coertzen, Gepas en Ordelik, 1991, 182.
52 Smit, ‘Bely en Beliggaam’. In Coertzen (red), 350 Jaar, 2002, 370. Vgl Coertzen, Gepas en Ordelik, 1991, 176.
53 Smit, ‘Bely en Beliggaam’. In Coertzen (red), 350 Jaar, 2002, 370. ‘Na belydenis , en ná die eerste beligaaming in die kerkorde, volg vir die gereformeerde egter die eintlike beliggaming, in die lewe. Die grondslag is hier gelê. Hoe daar op dié grondslag gebou word, dít is die volgene jare moet leer.’ Sien Smit, ‘Bely en Beliggaam’. In Coertzen (red), 350 Jaar, 2002, 371.
54 Sien in hierdie verband Die kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met Reglemente, Kerkordelike riglyne en funksionele besluite soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Oktober 2004. Wellington: Lux Verbi. BM, Kerkorde en ordinanties van de Protestantse Kerk in Nederland inclusief de overgangsbepalingen, 2004, Zoetemeer: Uitgeverij Boekencentrum, Book of Order. The Constitution of the Presbyterian Church (USA), Part II, 2005/2007.Louisville: Office of the General Assembly.
55 Adonis in Boesak & Fourie (red), Vraagtekens, 1998, 123.
56 In hierdie verband volg die kerkorde van die VGKSA ’n vroeëre lyn en stem dit ooreen met die werke van Bouwman waarin die klem val op die aanbeveling dat die kerkorde en bepalinge beperk moet word. Betreffende die karakter van ’n kerkorde noem Bouwman ‘dat zij de regelen angeeft, welke op grond van het Woord Gods, in overstemming met de belijdenis der kerk, voor de goede orde in de kerk noodig zijn’. Sien H Bouwman, Gereformeerd Kerkrecht, Deel I, 1928, 327. Vgl EPJ Kleynhans, ‘Vereistes vir ’n Kerkorde’. In PJ Strauss (red), Byderwets en Gereformeerd, 1991, 40-42.
57 Du Toit is van mening dat ‘(D)ie doel van ’n kerkorde dus nie net sy lengte en omvang (bepaal) nie, maar is bepalend by die uitleg daarvan’. Hy gaan verder deur te noem dat ‘’n Kerkorde-artikel ook altyd geplaas (moet) word binne die geheel van die teologiese tradisie van die kerk’. Sien PR du Toit, ‘Die uitleg van ’n kerkorde’. In PJ Strauss, Byderwets en Gereformeerd, 1991, 49.