J C Adonis
Universiteit van Stellenbosch

Kerkgeskiedskrywing in Suid-Afrika: ’n kritiese evaluering

ABSTRACT

Church Historiography in South Africa: a critical evaluation

Church Historiography, and the reinterpretation of South African Church History, is a subject, which in the recent past had been debated, by colleagues and historians on various occasions. Aspects such as the relationship between church and general history and the various tendencies in Church Historiography are some of the most important issues, which are up for discussion. Another important aspect in South African Church History in particular, is the perspective from which church history had been described during the past decades. Special thought has been given to the presuppositions of scientists in this academic activity. The appeal that is being made in this regard is that South African Church Historiography should not be seen and practised as separate histories of various denominations, but as a unit, which is being described from various perspectives.

INLEIDEND

Verskillende navorsers in die kerkgeskiedenis en in ander verwante vakgebiede het in die jongste verlede ’n oproep gedoen tot die hervertolking en herskrywe van die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis.1 Kerkgeskiedskrywing as onderwerp is ook al by verskillende geleenthede deur die Kerkhistoriese Werkgemeenskap van Suid-Afrika bespreek en die resultate daarvan is in hulle tydskrif Studia Historiae Ecclesiasticae (SHE) gepubliseer.2 Tydens een van hierdie byeenkomste (1988) het N D Southey, dosent in Geskiedenis aan Unisa, ’n voordrag oor Geskiedenis en Kerkgeskiedenis in Suid-Afrika gelewer. Dit het later duidelik geword dat hierdie voordrag van Southey by ’n aantal kerkhistorici (D P Whitelaw, G J Pillay en ander) asook by historici soos J de Bruyn, C Saunders en ander die nodige reaksie ontlok het. Die versoek vir die noodsaaklike hervertolking en herskrywe van die kerkgeskiedenis word met verskillende beweegredes gemotiveer. Een van die motiewe hiervoor is die belang wat geskiedenis as wetenskap daarby het.

Hierdie onderwerp het egter ook in wyer verband die nodige aandag gekry. In die geledere van die “Ecumenical Association of Third World Theologians” (EATWOT) is die bestudering en herskrywe van die kerkgeskiedenis sterk benadruk.3 In 1983 is daar by die sesde konferensie van EATWOT besluit tot die oprigting van “a Commission on Church History” waarin die bekende Enrique Dussel (koördineerder, Mexico) en die Nigeriese hoogleraar Ogbu Kalu gedien het. Hierdie kommissie vir kerkgeskiedenis het in 1983 (Genève), in 1984 (Bombaai) en in 1986 (Nairobi) verskillende konsultasies gehou en die resultate daarvan is in die volgende publikasies saamgevat: Towards a History of the Church in the Third World, Bern, 1985; Lukas Vischer (red), Church History in Ecumenical Perspective, Bern, 1985, en Ogbu Kalu, African Church Historiography: an Ecumenical Perspective, Bern, 1988.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat kerkgeskiedskrywing in die algemeen en die hervertolking en herskrywe daarvan in die besonder heelwat aandag ontvang het. Dit blyk ook dat ’n aantal aspekte van hierdie onderwerp die afgelope tyd besondere aandag ontvang het. Die aspekte waarna ek wil verwys, is die verband tussen geskiedenis en kerkgeskiedenis en die praktiese implikasies wat dit inhou vir die beoefening van kerkgeskiedskrywing en die vraagstuk van die metodologie van kerkgeskiedskrywing.

Dit is egter noodsaaklik om eers ’n beeld te kry van wat die stand van kerkgeskiedskrywing in Suid-Afrika is en watter tendense hierin bespeur kan word.

Die stand en tendense van kerkgeskiedskrywing

Wat is die stand van kerkgeskiedskrywing in Suid-Afrika en watter tendense kan hierin bespeur word?

Voordat hierdie vraag beantwoord word, moet ons eers ’n beeld kry van die kerke en Christelike geloofsgroepe wat hulle in die loop van die geskiedenis hier gevestig en uitgebrei het. In hierdie historiese oorsig is dit uiteraard nie moontlik en nodig om oor al die kerke en geloofsgroepe te rapporteer nie.4 Ek wil eerder die kerke volgens hulle eie belydenisse en geskiedenis groepeer om dan op grond hiervan ’n beeld te verkry.

Die indeling van kerke

In dié verband maak ek graag gebruik van J W de Gruchy se bekende boek The Church struggle in South Africa5 waarin hy die volgende indeling gee van die kerke wat hulle in die loop van die geskiedenis hier kom vestig het of wat hier ontstaan het.

Setlaar-/Sendingkerk

Die koms van die Nederlanders, Duitsers, Franse en Engelse na die suidpunt van Afrika in die 17de en 18de eeu was ook die begin van die Gereformeerde, Lutherse, Anglikaanse, Presbiteriaanse, Kongregasionalistiese, Baptiste- en Metodistekerke hier. As gevolg van die anti­Rooms-Katolieke beleid van die Nederlandse owerheid van die tyd kon hierdie kerk hulle eers in 1837 in die land vestig. Gedurende hierdie periode en veral gedurende die 19de eeu het ’n aansienlike aantal sendelinge en verskillende sendinggenootskappe sendingwerk onder die outogtone bevolking en ander groepe gedoen. Uit hierdie godsdienstige bedrywighede van sommige kerke en sending het ’n aantal “sendingkerke” tot stand gekom. George Schmidt (1737-1744) van die Morawiese sending het as eerste werker onder die Koikoi in Genadendal gewerk en uit hierdie werksaamheid het die latere Morawiese Kerk ontstaan.6 Die NGK7 wat met die koms van die Nederlanders (1652) hier gevestig is, het eers met hulle eerste sinodesitting in 1824 amptelik met sendingwerk begin en uit hierdie werksaamhede het daar in die loop van die geskiedenis drie sendingkerke ontstaan.8 Die Lutherse Kerk het ook na ’n lang stryd gedurende die Nederlandse periode erkenning verkry.9 Die duidelike onderskeid wat daar gemaak is tussen die kerke van en vir die setlaars en dié van die bekeerlinge uit die sending is opvallend. Hierdie onderskeiding het in die latere geskiedenis selfs die identiteit van die onderskeie kerke bepaal. Die bekende Londense Sendinggenootskap (LSG) het ook in 1799 hulle opwagting aan die Kaap gemaak. Uit hierdie sendingarbeid het die “Congregational Church” gegroei.10

Afrikanerkerk/Engelse Kerk

Met hierdie onderskeiding wil De Gruchy nog ’n kategorie van kerke aandui wat in die loop van die geskiedenis veral in die noordelike deel van die land ontstaan het. Dit gaan hier veral om die kerke wat as gevolg van die stryd tussen die Afrikaners en die destydse Britse owerheid tot stand gekom het en wat gelei het tot die Groot Trek, naamlik die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) in 185311 en die Gereformeerde Kerk (GK) in 1859.12 Hierdie onderskeiding verwys egter ook na die NGK en die “Engelssprekende” kerke13 van Britse oorsprong in die 18de en 19de eeu. Die verwysing na “Engelssprekende” kerke is egter verwarrend omdat Engels nie die enigste taal is wat deur die betrokke kerke gebruik word nie.

Swart Kerk/Blanke Kerk

Volgens De Gruchy kon swart mense (Afrikane, Kleurlinge en Indiërs) drie keuses uitoefen ten opsigte van aansluiting by ’n bepaalde kerk. Ten eerste kon hulle aansluit by bestaande sendingkerke wat onder die beheer en gesag van sendelinge en sendingrade geressorteer het (bv die voormalige NG Sendingkerk en NGK in Afrika). Tweedens kon hulle lede word van die veelrassige Engelse kerke wat ook deur blankes gedomineer word. Laastens kon hulle bogenoemde twee kerke verlaat en hulle eie kerke stig. Laasgenoemde groep kerke verwys na die onafhanklike kerke of ook “selfgeïnisieerde” kerke.14

Daar is egter ’n aantal kerke wat nie gemaklik in bogenoemde kategorieë van De Gruchy ingedeel kon word nie. Die Rooms-Katolieke Kerk15 en die Pinksterkerkeis16 voorbeelde hiervan. Tog het hierdie kerke ’n groot aanhang onder Suid-Afrikaners en het hulle in die geskiedenis ook geen geringe rol gespeel nie.

Graag wil ek nog ’n vierde kategorie of afdeling by bogenoemde drie voeg, naamlik die ekumeniese beweging, wat self nie ’n kerk is nie, maar ’n groep kerke in sigself betrek. Die ekumeniese beweging in Suid-Afrika het ’n geweldig belangrike rol in die geskiedenis van ons land gespeel. Dit is ’n beweging wat uit die wêreldsending ontstaan het.17 Ook in Suid-Afrika het hierdie beweging vanaf 1904 uit die sending gegroei en later ontwikkel in die bekende Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (in 1968), waarby ’n groot aantal kerke en ander Christelike bewegings aangesluit het.18

Wat is tiperend van hierdie kerkgeskiedskrywing waarna ons tot dusver verwys het? Kerkhistorici soos J W Hofmeyr, C Landman, C W Cook, E Brown en G J Pillay het by verskillende geleenthede hulle standpunte hieroor verwoord.19 Hofmeyr is van oordeel dat E Brown waarskynlik die meeste moeite gedoen het om die huidige stand van die beoefening van kerkgeskiedenis in Suid-Afrika te beoordeel en te evalueer. Volgens Brown het die geskiedskrywing in Suid-Afrika te veel plaasgevind volgens individuele kerklike tradisies en kulturele agtergronde en belange. Hy stel voor dat dit meer teologies en wetenskaplik moet geskied. In hierdie opsig het hy groot waardering vir die werk van J du Plessis, A History of Christian Missions in South Africa (1911). Pillay is ook positief oor J du Plessis se boek as die eerste algemene kerkgeskiedenis,20 hoewel hy konstateer dat hierdie werk geskryf is as die sendinguitbreiding van die Europese en Britse kerke, met ander woorde in die allernouste verbondenheid met die lande van herkoms.

Die “stryd” tussen die Afrikaner en Engelse kan beslis teruggevoer word na die koloniale en sosio-ekonomiese wortels in die tyd – vandaar die duidelike skeiding tussen Engelse en Afrikanerkerke. Hierdie sosio-politieke en kulturele (taal-) faktore by die vestiging van kerke onder bepaalde rasse- en etniese groepe het ’n groot rol in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedskrywing gespeel. Die kerkgeskiedskrywing het dus beslis bepaalde ideologiese invloede ondergaan. Dit is in hierdie verband dat ook David P Whitelaw die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedskrywing as apologeties, polemies en partydig beskou.21

TENDENSE

Watter tendense kan in hierdie geskiedskrywing bespeur word? Die antwoord is nie so voor die hand liggend nie, omdat dit strek oor ’n lang periode waarin verskillende rolspelers vanuit verskillende voorveronderstellings funksioneer. J de Bruyn en N Southey, twee historici van Unisa, onderskei vyf duidelike tendense in hierdie verband in hulle artikel “The Treatment of Christianity and Protestant Missionaries in South African Historiography”.22

Die eerste periode identifiseer hulle as die “reverential” fase. Gedurende hierdie fase was die geskiedskrywing hoofsaaklik ’n uitbreiding van die sendingywer en sendingaktiwiteite. Die hoofdoel van geskiedskrywing, in watter vorm ook al, was om evangelisasie te bevorder. Voorbeelde van hierdie tipe geskiedskrywing is veral waar te neem in die biografieë van belangrike sendingfigure, soos Edwin Smith se lewensbeskrywing van Daniel Lindley en dié van C Northcott oor Robert Moffat.23 Hierdie werke reflekteer die bewondering wat die skrywers vir hierdie sendelinge gehad het, maar nie een van die twee sendelinge was werklik geïnteresseerd in die opvattings en belange van die “heiden” nie. Voorbeelde van hierdie tipe geskiedskrywing in Suid-Afrika is die bekende werk van J du Plessis (A History of Christian Missions in South Africa) en B Krüger se uitvoerige werk oor die Morawiese sendingstasies The Pear Tree blossoms. Dit sal egter verkeerd wees om hierdie pioniers en hulle belangrike werk te diskrediteer omdat die rol wat swart mense daarin gespeel het nie na waarde geskat word nie.

’n Tweede tendens val in die periode van 1950-1960 waarin die sendelinge en ander werkers as agente van kolonialisme en voorlopers van koloniale oorwinning voorgestel word. In hierdie verband kan die twee biografieë van die beroemdste en mees omstrede sendelinge in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis, naamlik Johannes van der Kemp, geskryf deur Ido Enklaar, en John Philip, geskryf deur Andrew Ross, genoem word.24 Albei outeurs was sendelinge en kenners van die sending en kerkgeskiedenis en was dus in staat om werk van goeie gehalte te lewer. Die studie van Enklaar word selfs as ’n standaardwerk beskou wat nog lank normgewend sal wees. Tog is De Bruyn en Southey van mening dat Enklaar weinig aandag bestee het aan die wyse waarop Van der Kemp sy boodskap aan die Xhosa en Koikoi aangebied het, asook aan die reaksie wat hy daarop ontvang het. In haar kritiek op Enklaar konstateer Elizabeth Elbourne dat hierdie studie baie naby aan die geskiedenis van ’n heilige kom en “she has criticised its lack of awareness of the ambiguity and complexity of missionary activity and historical contexualization”.25 Ten opsigte van die biografie van Andrew Ross oor John Philips is De Bruyn en Southey van oordeel dat Ross vir Philip verdedig teen alle kritiek wat teen hom ingebring is.26 Hulle kom egter tot die gevolgtrekking dat “Andrew Ross’s book does shed light on early intellectual influences on this influential missionary’s life and does help one to understand Philip’s missionary zeal and strong convictions, but this knowledge does not serve to change the persistent image of this missionary as an agent of imperialism and capitalism”.27

’n Derde fase in die kerkgeskiedskrywing van die vroeë koloniale periode teken Afrika as ’n verhoog waarop Europeërs as akteurs optree. So ’n beeld het uiteraard ’n reaksie van die swart mense opgeroep en dit was die begin van ’n bepaalde geskiedskrywing wat nie net die inisiatiewe van swart mense nie, maar ook die rol van sendelinge as voorlopers van koloniale oorwinning beklemtoon het.28 De Bruyn en Southey verwys in hierdie verband na ’n aantal voorbeelde waarin swart mense reageer op die werk en optredes van sendelinge op die Afrikaverhoog. In dié verband verklaar C T Keto: “… the mission was many times a disruptive force that created political cleavages too often exploited by the expansionist thrust of white societies”.29 Hierdie tema is al eerder verdiskonteer in die geskiedenis van die sending waarby die rol van sendelinge en die maatskaplike verandering in Suid-Afrika ter sprake gekom het. Wat dit betref, word daar verwys na die studie van Dora Taylor in 1952, wat onder die skuilnaam Nosipho Majeke skryf oor die “Role of Missionaries in Conquest” en konstateer dat die sendelinge die weg na die onderwerping van Afrikaanse opperhoofde en die kapitalistiese indringing voorberei het.

“It is against this background of fast economic forces that the influence of missionaries to the colonies acquires meaning. The missionaries came from a capitalist Christian civilization that unblushingly found religious sanctions for inequality, as it does to this day, and whose ministers solemnly blessed its wars of aggression.”30

In dieselfde verband het Betram Hutchinson in 1957 verklaar: “Many of the modifications in Bantu living which the missionary favoured encouraged the gradual transformation of the Bantu population into a reservoir of labour for the growing European economy, while rudimentary education, European crafts and Christian (or Protestant) individualism, which the missionary taught, contributed to the same end. For this reason, and because of their pacifying influence upon tribes antagonistic to the Europeans, the missionaries enjoyed the support of colonists urgently in need of an amendable labour force.31

Dit is interessant en opvallend hoe verskillende historici wat hulle met hierdie onderwerp besig gehou het, met mekaar ooreenstem. Iemand soos Colin Bundy stem in groot mate saam met bogenoemde verklaring van Hutchinson. Bundy verklaar: “Missionary enterprise, ultimately was concerned to transform social institutions and practice that were alien or incompatible with capitalist society into ones that were compatible, and hence to encourage a total change in the worldview of the people in whose midst they lived.”32

Uit bogenoemde is dit duidelik dat sendelinge nie slegs betrokke was by die verspreiding van die evangelie nie, maar ook by sake wat die politieke en ekonomiese lewe van die samelewing waarin hulle gewoon het, geraak het. Hierdie betrokkenheid in die samelewing het dikwels beteken dat die Christenheid direk of indirek betrek is by die bevordering van die ekonomie.

’n Volgende tendens in die geskiedskrywing is dat die reaksies van die Afrikane op die werksaamhede van die sendelinge ook nie uitgebly het nie. Gedurende die periode van die laat sestiger- en sewentigerjare van die vorige eeu het historici die sienings van Afrikane oor sendelinge en hulle preke, die weerstand teen sendingaktiwiteite en die wyse waarop hoofmanne sendelinge vir politieke en ekonomiese gewin uitgebuit het, begin bestudeer. Een van die belangrikste studies is dié van Martin Legassick, “The Griqua, the Sotho-Tswana and the Missionaries, 1780-1840: The Politics of a Frontier Zone”.33 Hierdie studie handel oor die reaksie van die Sotho-Tswana en die Griekwa op die sendingwerksaamhede in die Noord-Kaap. In hierdie reaksie van die Afrikane het die twee wêreldbeskouinge, dié van die Afrikane en dié van die Europeërs, met mekaar gebots en die gevolge daarvan is in ’n aantal studies ontleed.34

Gedurende 1970 kan ’n vierde tendens onderskei word wat gerig is op die ontmoeting tussen die Afrikaan en die sendeling wat die simboliek, rituele, mites en teologie betref. Ten einde die sosiale en godsdienstige veranderinge in die geskiedenis te verstaan, moet die maatskaplike agtergrond van die sendelinge terdeë geken word. In hierdie verband verklaar Beidelman: “We must examine the culture of the missionaries themselves to determine how they extended their Christian beliefs into a broader framework of social life. The character of such a picture clearly varied not only with the theology but with the class, economic, and national attitudes of the missionaries.”35 ’n Goeie voorbeeld van ’n dergelike studie is dié van Norman Etherington, “Preachers, Peasants and Politics in Southeast Africa, 1835-1880: African Christian Communities in Natal, Pondoland and Zululand”.36

Nog ’n tendens wat waargeneem kan word, is hoe die sending die kulturele en politieke prosesse in die gemeenskappe van die Afrikane beïnvloed het. Volgens Du Bruyn en Southey gaan dit hier om die wyse waarop die sendeling se handel en wandel kolonialisme deurdring het.37 In hierdie verband word verwys na die werk van Jean en John Comaroff wie se histories­antropologiese studie aangetoon het hoe die Tswanas deur die sendelinge beïnvloed is. Die Comaroffs toon in hulle studies aan hoe die sendelinge gedryf is deur “a universalising ethos whose prime object was to engage the Africans in a web of symbolic and material transactions that would bind them ever more securely to the colonizing culture”.38 Die reaksie van die Tswanas was verskillend, maar die meeste van hulle het hierdie beïnvloeding van die sendelinge weerstaan en het hard gestry om beheer te behou oor “ruimte, plek, woorde en water”.39

DIE VERBAND TUSSEN KERKGESKIEDENIS, GESKIEDENIS EN ANDER AANVERWANTE VAKRIGTINGS

Vervolgens word die vraag gestel: Wat is die verband tussen kerkgeskiedenis, geskiedenis en ander aanverwante vakrigtings en watter praktiese implikasies het dit vir die beoefening van kerkgeskiedenis?

Die probleem wat hier aan die orde kom, is dat die twee wetenskappe, naamlik geskiedenis en kerkgeskiedenis, in isolasie van mekaar beoefen word. By sommige universiteite in ons land word kerkgeskiedenis in die Fakulteit Teologie en geskiedenis in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte gehuisves. Verskillende historici het al in die verlede daarop gewys dat waar hierdie twee vakrigtings in isolasie beoefen word, dit beslis ’n negatiewe uitwerking op hulle produkte sal hê. Dit is juis hierdie aspek wat N Southey tydens die kongres van die Kerkhistoriese Werkgemeenskap in 1988 te Pretoria so sterk belig het.40 Hy konstateer dat baie kerkhistorici vasgevang is tussen die wetenskappe van geskiedenis en teologie en dat sommige kerkhistorici hulle posisie verdedig met ’n beroep op teologiese argumente sonder om die insigte en kennis van die geskiedeniswetenskap te verdiskonteer. Hy is van mening dat “the history of the church remains integral to the history of Southern Africa, and is best served within the mainstream of history” en dat “church history be practised in an open, integral fashion”.41 ’n Bekende voorbeeld van hierdie soort kerkhistoriese werk waarna telkens verwys word, is die kritiek van F A van Jaarsveld in sy studie “Van apologetiek en objektiwiteit in ons kerkgeskiedskrywing” teen ’n bepaalde kerkgeskiedskrywing wat in isolasie geskied.42

Soos al vroeër daarop gewys is, het hierdie voordrag van Southey heelwat reaksie by kerkhistorici ontlok. Na my oordeel is die kern van Southey se voordrag dat daar ’n gebrek aan “kruisbevrugting” tussen die twee wetenskappe (ander wetenskappe ingeslote) bestaan. Volgens Pillay kan die debat oor hierdie onderwerp verder verryk word deur die bydraes wat kom van die wetenskappe van sosiologie, antropologie en ekonomie. Interaksie tussen hierdie wetenskappe kan alleen maar die geskiedenis as wetenskap bevoordeel. Die skeiding wat soms gemaak word tussen dié twee wetenskappe, so asof elkeen van hulle verskillende objekte bestudeer, hou egter nie water nie. Kerkhistorici sou dan alleen kerkgeskiedenis en aanverwante temas bestudeer, terwyl historici die geskiedenis van die samelewing as objek sou bestudeer. Aangesien godsdiens een van die magtigste sosiale en kulturele invloede – en vir lang periodes in die geskiedenis was dit ’n dominerende invloed – in die samelewing gehad het, spreek dit vanself dat historici nie die geskiedenis van die godsdiens kan ignoreer nie. Dit is dus duidelik dat die bestudering van kerklike temas nie geskei kan word van die algemene historiese temas nie, en aan die ander kant is die bestudering van kerklike (godsdienstige) temas ook nie die prerogatief van kerkhistorici nie.43

Pillay is van mening dat hierdie akademies gefundeerde verhouding tussen die twee onderhewige wetenskappe ’n gevestigde en erkende werklikheid in kerkgeskiedskrywing is. In hierdie verband verwys hy na Von Harnack wat in 1904 tydens ’n kongres ’n voordrag gelewer het met die titel “The relation between ecclesiastical and general history”. Von Harnack se slotsom is dat “… the history of the church is part and parcel of universal history and can be understood only in connection with it”.44 In hierdie voordrag wys Von Harnack op vier gebiede waar die geskiedenis en die kerkgeskiedenis op mekaar inwerk, naamlik politieke geskiedenis; die geskiedenis van godsdiens in die algemeen; die geskiedenis van die filosofie en kennis as ’n geheel, en ekonomiese geskiedenis.

Die kerkhistorikus David Whitelaw wat ook ’n aantal jare aan Unisa verbonde was, ondersteun die opvattings van Southey soos hier bo vermeld. Hy is ook ’n sterk voorstander dat kerkgeskiedenis in die nouste verbondenheid met geskiedenis beoefen moet word. Hy konstateer dat “the call is to move from exclusion, which leads to the problems of introspection and polemicism, to open interdisciplinary work, without surrendering the church historian’s function of testing Christianity’s claims against itself”.45

Suid-Afrikaanse kerkgeskiedskrywing was baie oop vir ideologiese invloede wat gelei het tot konserwatiewe denominasionele geskiedenisse eerder as om Suid-Afrikaanse Christenheid te sien in sy ekumeniese en katolieke dimensies. Dit is eers met die opkoms van swart en Afrikateologieë in die sestigerjare van die vorige eeu dat herinterpretasies ’n meer outentieke historiese beeld van die Christenheid gegee het. Mondelinge tradisies het ’n belangrike rol in hierdie verband gespeel.

Whitelaw vergelyk die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse geskiedskrywing van die Christenheid (kerkgeskiedenis) met mekaar en kom tot die volgende gevolgtrekkings:

• In Suid-Afrika is daar ’n oplewing in die noodsaaklikheid van nouere gemeenskap met mekaar.

• In Suid-Afrika begin kerkhistorici die noodsaaklikheid insien om hulle vak in openheid met ander historici en met gebruikmaking van interdissiplinêre metodes te beoefen. Laasgenoemde moet egter gedoen word sonder dat kerkhistorici hulle unieke taak, naamlik “to critique the practice and profession of Christianity”, verwaarloos.

• Die Suid-Afrikaanse samelewing het die enorme taak van die heropbou van die struktuur en karakter van menslike gemeenskappe na ’n periode van ernstige en volgehoue geweld.

• In die VSA is die soeke na identiteit vergestalt in die vraag na gemeenskap in onder­steunende groepe. In Suid-Afrika is die vraag egter of die Christelike identiteit wel ’n basis bied vir menslike samehorigheid.

• In die VSA is die rol van die godsdiens ’n belangrike deel van mense se identiteit in die samelewing en wat hulle in staat stel om positief te reageer op verandering en verskeidenheid. Terwyl hierdie opvatting oor die rol van die godsdiens in die VSA algaande afneem, is die grondslae waarop die Europese strukture in Suid-Afrika gebou is, afgebreek om ruimte te maak vir nuwe moontlikhede.46

Samevattend is dit dus duidelik dat Whitelaw ’n integrale geskiedskrywing bepleit. Hy konstateer verder: “No one perspective can provide the whole truth, inter-perspective inter-connectedness is needed. Historical understanding is basically a hermeneutical problem. History is shaped by theories about the past and is determined by questions pertaining to both individuals and their societies.47 Church historians must experiment with multiple factor explanations and analyses, and relate their work to that of historians in general. All these perspectives on the past must be brought into critical conversation with one another. Only thus can denominational, racial, cultural, gender or national particularities be transcended and something catholic (whole) achieved.48 Church history deals with the human story and requires a human face. A convergence of these concerns in fact emerge in this decade in a major interdisciplinary event in South Africa.”49

Wat word bedoel met die metodologie van kerkgeskiedskrywing?

By die metode van kerkgeskiedskrywing word gewoonlik ’n teoretiese afdeling ingesluit waarin die formele aspekte van kerkhistoriese navorsing aan die orde kom. Die verkryging van bronne maak ’n belangrike onderdeel hiervan uit. Hiermee saam is daar ’n afdeling waarin die geskiedsfilosofieë wat ten grondslag lê van die voorveronderstellings van die ondersoeker, behandel word. ’n Derde afdeling is ’n praktiese deel waarin die kerkgeskiedenis verskillende vorme by verskillende ondersoekers aanneem. Ek is terdeë bewus daarvan dat hierdie afdelings ’n hegte eenheid vorm, bewustelik of onbewustelik, en ook as sodanig beoefen word. Tog wil ek in hierdie afdeling die nadruk laat val op die bronne en die subjekte van geskiedskrywing. Die motivering vir hierdie bepaalde beklemtoning het enersyds te doen met wat J du Bruyn en N Southey in hulle bydrae gedoen het en andersyds met die insigte van G J Pillay en ander kerkhistorici.50

Indien die kerkhistoriese literatuur, waarby die geskiedenisse van kerke, sendinggenootskappe of ander kerklike of Christelik-godsdienstige instellings ingesluit is, geëvalueer word, kan daar veral twee opmerkings hieroor gemaak word:

(i) Dit blyk dat die meeste van hierdie tipe geskiedskrywing (veral dié wat oor die geskiedenisse van kerke gaan) gedoen is op ’n wyse waarin die institusionele karakter van die kerklike lewe sterk benadruk is. Hiervolgens is die instellings van die kerklike lewe, die leiersfigure (veral die sendelinge), die belangrikheid en gesag van kerklike vergaderings, kerklike geboue, skole en hospitale, ensovoorts sterk beklemtoon. Daar is weinig aandag gegee aan die lewe van die mense in die algemeen, asook aan die sosiale, politieke en ekonomiese konteks waarbinne mense geleef het. Ook die betekenis van hulle kultuur het in hierdie verband nie die nodige aandag ontvang nie.

(ii) In hierdie geskiedskrywing word die plaaslike inwoners teenoor die Westerse buitelanders geplaas. Die Westerse geskrewe bronne word sterk beklemtoon ten koste van die mondelingse bronne. In bepaalde gevalle is die mondelingse bronne selfs verswyg en soms verdraai. Daarbenewens is die plaaslike inwoners gesien as objekte en nie as subjekte nie van hulle eie geskiedenis. Daarmee saam is ook hulle bydrae tot die vestiging en opbou van die kerk ontken.

Die meeste geskiedskrywers, insluitende kerkhistorici, het dus in hulle werk, wat grotendeels op geskrewe dokumente gebaseer was, die idees en persepsies van die heersende maghebbers vertoon. Die weerstand van die inheemse Christene, alhoewel dit in sommige gevalle nie openlik waargeneem kon word nie, is nie ernstig opgeneem nie. Toe die oomblikke van publieke weerstand wel waargeneem is, soos in die afskeiding van inheemse Christene van Westers georiënteerde kerke, is dit uit allerlei verkeerde motiewe verklaar.

Pillay is verder van mening dat daar veral na die opkoms van die swart en Afrikateologie in die sestigerjare van die vorige eeu allerlei pogings was om die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedskrywing te herinterpreteer. Die bedoeling was om ’n meer betroubare beeld van die Christenheid in Suid-Afrika te gee, anders as die tradisionele weergawe wat gebaseer is op die sending, offisiële kerkstandpunt en regeringsbronne.51 Vanuit verskillende oorde is daar aangedring dat die geskiedenis van die Christenheid beskryf moet word vanuit die perspektief van die swart Suid-Afrikaners, met ander woorde vanuit die perspektief van dié wat in die afgelope geslagte nie gehoor is nie.52 Dit is ’n geskiedenis van onderdrukking en “van benede”, met ander woorde van die ervaring van armoede, magteloosheid en om na die kant toe geskuif te word. Die beskrywing en interpretasie van so ’n kerkgeskiedenis is gebaseer op meer as net ’n deeglike ondersoek (navorsing) van sending en die amptelike bronne van die kerk. Die rol wat swart mense gespeel het in die geskiedenis van die kerk is fundamenteel belangrik. Daarsonder is die beeld van die kerk nie volledig nie.

• Hulle was die mense wat die eerste kontak na buite met die Afrikakultuur bewerkstellig het.

• Hulle het die deur na hulle “stam”- en kulturele instellings geopen.

• Hulle was die kulturele bemiddelaars.

• Hulle was die eerste gidse en vertolkers.

• Sonder hulle hulp en medewerking was die grammatikas en woordeboeke wat die sendelinge opgestel het nie moontlik nie.

Samevattend kan ons verklaar dat sonder die belangrike bydraes van die gewone Christene, die verchristeliking van die bevolking van die land nie moontlik was nie.53

Watter plek beklee hierdie gewone Christene in die kerkgeskiedenisboeke wat deur die leiers van die kerke geskryf is? Hoe word hulle bydraes gewaardeer in die talle verslae wat na sendinggenootskappe in die buiteland gestuur is?

Hoe belangrik was mondelinge bronne vir kerkgeskiedskrywing? Pillay is van mening dat “the collation of oral testimony required the historian to go outside the confines of the archives. The other human sciences such as anthropology, sociology and social psychology were advocated as ancillary fields to assist historians to cross the cultural and nonliterary barrier. They were required to listen and not merely to read; to share in the indigenous experience of history and not to be merely judges of written ‘facts’”.54

Beteken dit dan nou dat die geskiedenisse van blankes alleen deur blankes of dié van swartes slegs deur swart mense beskryf mag word? Pillay verwys na so ’n redenering en verklaar egter: “… on the contrary, it reaffirms the need for all South Africans jointly to reinterpret their own and each other’s history because historical basis are often merely the uncritical repetition of the familiar, especially if the familiar is confirmed to limited experience. In South African society experiences have been unnaturally confirmed and limited by race, language and legislation.”55

Daarteenoor bevestig hy opnuut die noodsaaklikheid van die “eie denominasie” wat voortdurend in verbinding gebring moet word met die geheel (die katolieke): “English and Afrikaans; black and white; mainline and independent. These are not separate histories but aspects of the one history and it is in the critical dialogue between them that a meaningful picture of the whole emerges.”56

Vir Pillay is kerkgeskiedenis ’n bepaalde kyk op die geheel van die geskiedenis en nie ’n aparte geskiedenis of ’n onderafdeling daarvan nie, aangesien die kerk in sy katolisiteit en ekumeniese karakter slegs gesien kan word in sy bestaan in en vir die geskiedenis in diens van die koninkryk van God wat in hierdie wêreld is.57 “Church history must seek to understand the whole history from its vantage point as a theological discipline seeking to understand the historical nature of Christianity in the world.”58

Die vraag kan tereg gestel word hoe kerkhistorici hulle van ander historici onderskei. Wat hulle van mekaar onderskei, is die kerkhistorici se spesiale belangstelling in die historiese aard van die Christenheid, maar meer nog, as teoloë is hulle verantwoordelik “for testing Christianity’s claims about itself against its own practice in the world; the critical assessment of words and deeds; theory and practice”.59

Hy is van mening dat kerkhistorici hulle daarom tot hulle eie nadeel van Suid-Afrikaanse historici geïsoleer het. Hy is verder van mening dat kerkhistorici moet deelneem aan die debatte tussen liberale en Marxistiese historici omdat deelname aan hierdie debatte kerkhistorici sal vrywaar van die “institutional mould that has fostered ecclesiastical parochialism”.60

Tereg bepleit hy verder die deelname van kerkhistorici aan die debat met liberale en revisionistiese historici omdat dit eersgenoemde kan bevoordeel. In hierdie verband kan daar verwys word na die uitstekende werk van James Cochrane, “Servants of Power. The role of English-speaking Churches 1903-1930”.61 Hierdie werk maak ’n grondige analise van die rol van die Anglikaanse en Metodiste­kerke in die genoemde periode. Volgens N Southey is dit die eerste belangrike revisionistiese studie van die kerk. Cochrane toon met stelligheid aan hoe die sendelinge kapitalistiese en rassistiese waardes op die swart mense in landbougebiede afgeforseer het, en dit terwyl die twee kerke funksioneel afhanklik was van die kapitalistiese en koloniale politieke ekonomie. As gevolg van hierdie politieke en ekonomiese gevangenskap kon die kerke nie hulle profetiese taak behoorlik uit­voer nie. Inteendeel, hulle het verkies om eerder gehoorsaam te wees aan die politieke en ekonomiese magte van hulle dag en dus nie langer te kwalifiseer as “servants of God” nie. Die kerke was sowel onwillig as nie in staat om die belangrikste sosio-politieke sake van die tyd effektief teen te gaan nie en het verder hopeloos misluk in hulle roeping om armoede onder die armes effektief aan te spreek. Dit is duidelik dat die kerke vasbeslote was in hulle diens aan die sekulêre magte van die tyd.

GEVOLGTREKKINGS

Uit hierdie kort en beperkte oorsig oor die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedskrywing is dit duidelik dat ’n groot deel van hierdie soort geskiedskrywing veral geskied het vanuit die perspektief van die heersende maghebbers van die tyd. Hierdie heersende maghebbers is die politieke owerhede asook die kerklike en sendinggenootskaplike leiers van die tyd. As reaksie op bogenoemde perspektief en veral na die opkoms van die swart en Afrikateologie is daar deur verskillende rolspelers aangedring op ’n geskiedskrywing vanuit die perspektief van die gemarginaliseerde gemeenskappe. Vandaar die oproep van EATWOT (“Ecumenical Association of Third World Theologians”) wat vra dat die kerkgeskiedenis vanuit die perspektief van die gewone mense in hulle verskillende kontekste belig moet word. Onder gewone mense word veral gedink aan vroue, kulturele minderhede, slawe en ander verdrukte groepe. Die aandrang dat kerkgeskiedskrywing vanuit die perspektief van die swart mense moet geskied, beteken egter nie dat blanke geskiedskrywing van hierdie verantwoordelikheid uitgesluit word nie. Inteendeel, ek ondersteun volledig die standpunt van Gerald Pillay wat sê dat die kerkgeskiedskrywers ’n ekumeniese visie moet hê. Hulle moet egter ’n ekumeniese benadering nastreef wat die volgende behels:

• Om die verskillende Christelike tradisies in gesprek met mekaar te bring ten einde die tradisies bespreekbaar te maak sodat die verskillende kontekste en leefsituasies verstaan mag word.

• Om te verstaan hoe hierdie verskillende tradisies in verskillende kontekste en tye (periodes) ontstaan het om sodoende die Christelike boodskap te kontekstualiseer.

• Om duidelik te maak hoe elkeen van hierdie kontekstualiserings nie volgens willekeur ontstaan het nie, maar ’n poging was om die katolisiteit van die Christelike boodskap bekend te maak.62

Uit die voorafgaande blyk verder dat kerkgeskiedskrywing in die verlede in isolasie van geskiedenis en ander aanverwante wetenskappe beoefen is. Verskillende kerkhistorici en historici het hulle mening hieroor gegee. Tog het daar in die jongste verlede ’n aantal publikasies verskyn wat juis die samewerking wil stimuleer en kontinueer. Ek verwys in hierdie verband na die volgende werke: Bredekamp, H & Ross, R (reds), Missions and Christianity in South African History63; Elphick, R & Davenport, R 1997 (eds), Christianity in South Africa. A Political, Social & Cultural History64; De Gruchy, J W (ed) 1999. The London Missionary Society. Historical essays in celebration of the bicentenary of the LMS in Southern Africa (1799-1999).65

Die opvallendste in bogenoemde werke is die groeiende getal kerkhistorici en historici wat saam publiseer. Dit is verblydend om daarvan kennis te neem. Persoonlik ondersteun ek die standpunte van historici soos J du Bruyn, N Southey, G Pillay en D Whitelaw wat almal aandring op groter samewerking tussen die genoemde wetenskappe in belang van die wetenskap van die geskiedenis. Nog ’n kerkhistorikus wat haar steun verleen aan bogenoemde standpunt, verklaar verder dat die debat tussen die liberale en radikale historici oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis veral twee belangrike voordele vir die kerkhistorikus inhou, naamlik: “The church forms part of the society in which it is grounded, and a grasp of secular interpretations of South African history can reveal the ways in which dominant political, economic, and social trends in the world have affected and distorted the life of the church; that insight can be the beginning of repentance and reform. Also, the mission of the church is increasingly understood in a broader political, social and economic context; and insights and interpretations from secular history can inform and enrich the formulation of policy for, and the practice of the church’s mission in the world.”66

By die herinterpretasie en herskrywe van die kerkgeskiedenis is die vraag na die gebruik van bronne nie onbelangrik nie. Ook hier kom baie filosofiese en metodologiese vrae rakende die aard (soort) en gebruik van bronne na vore. Die besondere nadruk wat daar regdeur die geskiedenis op die gebruik van geskrewe bronne geplaas is, word deur gerespekteerde akademici vermeld.67 Die gebruik van mondelinge geskiedenis en tradisie is in die verlede deur baie wetenskaplikes van minder waarde geag of met groot suspisie bejeën. In Suid-Afrika is die gebruik van laasgenoemde nog lank nie ’n algemene praktyk nie. Inteendeel, die vooroordele daarteen is, volgens bepaalde uitsprake van sommige historici, ’n bevestiging daarvan.

Gelukkig is daar ’n groeiende en gerespekteerde getal kerkhistorici in ons land wat die waarde en belangrikheid van mondelinge geskiedenis en tradisie as van groot waarde beskou.68 Deur die gebruik van mondelinge bronne het die historikus toegang tot die ervarings van sosiale groepe wat in die geskiedenis “verborge” gebly het en vir ’n groot deel nie in die amptelik gedokumenteerde geskiedenis opgeneem is nie. Dit is die geskiedenis van onderdrukte groepe, vroue en armes. Daarby kom nog dat ons hier te doen het met die geskiedenis “in en deur die woorde van gewone mense”. Dit is hierdie soort geskiedenis wat ook genoem word “a history from below”. Hierdie nuwe ontwikkeling herinner sterk aan die Afrikaspreuk wat soos volg lui: “Until the lions have their historians, tales of history will always glorify the hunter.”69 Die geskiedenis gebaseer op mondelinge en ander bronne wil die verhaal van die leeus vertel.

1 N Southey; J Du Bruyn; C Saunders; G J Pillay, en D P Whitelaw.

2 Studia Historiae Ecclesiasticae (SHE) IX, Jan 1983. Die Wetenskap van Kerkgeskiedskrywing. Voordragte is gelewer deur proff J A Stoop (Unisa), B J Odendaal (Universiteit van Zoeloeland), C Landman (Unisa), C W Cook (Rhodes), E Brown (US), S J Botha, SHE XIV 25-27 Jan 1988, Pretoria. Voordragte is ook gelewer deur mnr H C Bredenkamp, proff D Crafford, E Brown, J W Hofmeyr, C Landman, G J Pillay, dr M E Donaldson, E van Niekerk en mnr N D Southey.

3 Hofmeyr, J W 1988. Tendense in die kerkgeskiedskrywing van die derde wêreld en Suid-Afrika, in SHE XIV, Jan 1988, p 50-67.

4 Froise, M (red) 1999/2000. South African Christian Handbook, uitgegee deur Christian Infor, pp 56-65. Die kerke word in drie kategorieë verdeel, naamlik Mainline Churches: totale aantal Christene: 30 058 742 = 74%; Pentecostal/Charismatic Churches & other churches: totale aantal Christene = 2 139 344 = 5,3%, en African Independent Churches: totaal = 10 668 515 = 26,3%.

5 De Gruchy, J W 1979. The Church struggle in South Africa. Grand Rapids, Michigan: WB Eerdmans, pp 1-52.

6 Dagboek en briewe van George Schmidt (1737-1744). Getranskribeer deur dr B Krüger en pastor H Plüddemann, vertaal deur mev J du P Boeke, geredigeer deur H C Bredenkamp en J L Hatting, Bellville: UWK Drukkery, 1981; Krüger, B 1966. The Pear Tree Blossoms, Genadendal; Krüger, B & Schaberg, P W 1918. The Pear Tree Bears Fruit, Genadendal; Bredekamp, H C, Flegg, A B L & Plüddemann, H E F, The Genadendal Diaries, Vol 1: 1792-1794.

7 Spoelstra, C 1906. Bouwstoffen voor de geschiedenis der Nederduitsch Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika, deel 1, Amsterdam; Van Broekhuizen, H D. Die wordingsgeskiedenis van die Hollandse Kerke in Suid-Afrika 1652-1804, Amsterdam; Moorrees, A 1937. Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, 1652-1873, Kaapstad; Hanekom, T N 1952. Ons Nederduitse Gereformeerde Kerk, Kaapstad; Gerdener, G B A 1930. Bouwstowwe vir die geskiedenis van die Ned Geref Kerk in die Transgarieb, Kaapstad; Van der Walt, P B. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Vier Dele 1976-1987, Pretoria: NG Kerkboekhandel.

8 Kriel, C J 1963. Die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika. Paarl: Paarlse Drukpers; Loff, C J A 1998. Bevryding tot Eenwording. Die NG Sendingkerk in Suid-Afrika 1881­-1994, Theologische Universiteit van de Gereformeerde Kerken Nederland te Kampen; Crafford, D 1982. Aan God die dank. Geskiedenis van die Ned Geref Kerk binne die Republiek van Suid-Afrika en enkele aangrensende Buurstate, Deel 1, Pretoria: NG Kerkboekhandel.

9 Hoge, J 1983. Die geskiedenis van die Lutherse Kerk aan die Kaap. Argiefjaarboek, Jaargang 1, Deel 2, pp 21-149; Florin, H 1967. Lutherans in South Africa. Durban: Lutheran Publishing Company.

10 Ross, A 1986. John Philips (1775-1851): Missions, Race and Politics in South Africa, Aberdeen; Enklaar, I H 1988. Life and Work of dr J Th van der Kemp 1747-1811, Rotterdam: AABalkema; De Gruchy J (red) 1999. The London Missionary Society in South Africa, Kaapstad: David Philip.

11 Engelbrecht, S P 1953. Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Kaapstad en Pretoria.

12 Kruger, B R 1957. Die ontstaan van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, Pretoria; Spoelstra, B 1963. Die “Doppers” in Suid-Afrika 1760-1899, Kaapstad; Jooste, J P. Die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859-1959.

13 Page, B T 1947. The harvest of good hope. SPCK; Hinchliff, P 1963. The Anglican Church in South Africa, Londen: Darton, Longman & Todd; Ive, A 1966. The Church of England in South Africa, Kaapstad; Whiteside, J 1906. History of the Wesleyan Methodist Church of South Africa, Londen; Edmunds, A 1936. Agreat adventure. The story of the founding of Methodism in Southern Africa, Palmerton; Hewson, L A 1950. An introduction to South African Methodists, Kaapstad; Shaw, W 1970. Memorials of South Africa, Kaapstad: Struik; Balia, D 1991. Black Methodists and White Supremacy in South Africa. Durban: Madiba Publishers; Batts, H J M D. The story of a hundred years 1820-1920 being the history of the Baptist church in South Africa, Kaapstad: Maskew Miller; Hudson-Reed, S 1970. By water and fire 1820-1877. An account of Baptist beginnings in Southern Africa 1820-1877, South African Baptist Press; Briggs, D R & Wing, J 1970. The Harvest and the Hope: United Congregational Church in Southern Africa, Johannesburg; Shepherd, R H W (nd). Lovedale, South Africa, 1841-1941, Lovedale Press, ongedateer; Davies, H & Sheperd, R H W 1954. South African Missions 1800-1950, Thomas Nelson; Ferguson, G P 1940. CUSA. The story of the Congregational Union of South Africa, Paarl Fisher.

14 Sundkler, B G M 1961. Bantu Prophets in South Africa. Londen: Oxford University Press; Kamphausen, E 1976. Anfänge der kirchlichen Unabhängigkeitsbeweging in Südafrika: Geschichte und Theologie der äthiopischen Beweging, 1872-1912. Frankfurt: Peter Lang; Makhubu, P 1988. Who are the Independent Churches? Johannesburg: Skotaville; Verryn, T D 1971. A History of the Order of Ethiopia. Transvaal: Central Mission Press; ICT 1985. Speaking for ourselves. Johannesburg: Institute for Contextual Theology; Du Toit, C W & Ngada, M H (reds) 1999. Hearing the AIC-voice, Pretoria: Research Institute for Theology and Religion, Unisa; Pretorius, H & Jafta, L 1997. A Branch springs out, African Initiated Churches, in Elphick, R & Davenport, R (reds). Christianity in South Africa, Kaapstad: David Philip, pp 211-226; Chidester, D 1992. Religions of Southern Africa, Londen & New York: Routledge, pp 112-147; Vilakazi, A 1986. Shembe: the Revitalization of African Society, Johannesburg: Skotaville.

15 Brown, W E 1960. The Catholic Church in South Africa, Londen: Burns & Oates; Brain, J B 1975. Catholic beginnings in Natal and beyond Durban: TW Griggs; Brain, J & Denis, P (reds) 1999. The Catholic Church in Contemporary Southern Africa, Pietermaritzburg: Cluster Publications.

16 V d M Burger, I 1988. Geloofsgeskiedenis van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika 1908-1958, Johannesburg: Evangelie-Uitgewers; Lapoorta, J J (nd). Unity or Division? The unity struggle of the black churches within the Apostolic Faith Mission of South Africa, Kaapstad: Salty Print; De Wet, C R 1989. The Apostolic Faith Mission in Africa: 1908-1980, PhD-tesis, Universiteit van Kaapstad; Du Plessis, I G L 1979. Pinkster Panorama. ’n Geskiedenis van Die Volle Evangelie Kerk van God in Suidelike Afrika. Irene: Die Volle Evangelie Drukpers.

17 Rouse, R & Neill, S C. A History of the Ecumenical movement 1517-1948, Vol 1; Fey, H E. The Ecumenical Advance. A History of the Ecumenical Movement 1948-1968, Vol 2.

18 Strassberger, E 1974. Ecumenism in South Africa 1936-1960, Johannesburg: SACC, p 135; sien ook Thomas, D G 1979. Councils in the Ecumenical Movement in South Africa 1902-1910; Alberts, L & Chikane, F (reds) 1991. The Road to Rustenburg. The Church looking forward to a new South Africa, Kaapstad: Struik Christian Books.

19 Hofmeyr, J W 1988. Tendense in die kerkgeskiedskrywing van die derde wêreld en Suider-Afrika, in SHE XII, 25-27 Jan 1988, Unisa, Pretoria, pp 50-67; Landman, C. Presuppositions to the writing of church history in South Africa, in SHE XIV, 25-27 Jan 1988, Unisa, Pretoria, pp 68-77; Pillay, G J. The problem of interpreting the history of Black churches and writing the history of Christianity in South Africa, in SHE XVII, 12, pp 121-148.

20 Pillay, G J. The problem of interpreting the history of Black churches and writing the history of Christianity in South Africa, in SHE XVIII, 2, pp 121-148.

21 Whitelaw, D P. Tapestries and Trajectories in the new South Africa: Contrasts and Comparisons with Patterns of Church Historiography on the North American Continent, in SHE XXII, 2 Des 1996, p 156.

22 Du Bruyn, J & Southey, N. The Treatment of Christianity and Protestant Missionaries in Southern African Historiography, in Bredekamp, H & Ross, R (reds) 1995. Missions and Christianity in South African History. Witwatersrand University Press, pp 27-47.

23 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 36.

24 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 37.

25 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 37.

26 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 37.

27 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 37.

28 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 38.

29 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 38.

30 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 38. (Sien ook Saunders, Making of the South African Past, pp 137-138; Smith, The Changing past, pp 158-159 by Du Bruyn, J & Southey, N.)

31 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 38.

32 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 38.

33 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 39.

34 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 46. (Sien die studies van Elphick, R 1981. Africans and the Christian Compaign in Southern Africa, in Lamar, H & Thompson, L (reds). The Frontier in History: North America and Southern Africa compared. New Haven en Londen, pp 270-307.

35 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 39.

36 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 40.

37 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 40.

38 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 40.

39 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 40.

40 Southey, M D 1988. History and Church History in South Africa. Some reflections, in SHE XIV, Pretoria, pp 107-123.

41 Du Bruyn, J & Southey, N. aw, p 42.

42 Van Jaarsveld, F A 1953. Van apolegetiek en objektiwiteit in ons kerkgeskiedskrywing. Elsiesrivier.

43 Pillay, G J. The relation between Church History and general history: Reflections on Adolf von Harnack’s view, in SHE, XX, 2 Des 1994, pp 156-168.

44 Pillay, G J. aw, p 158.

45 Whitelaw, D P. aw, pp 156-157.

46 Whitelaw, D P. aw, pp 159-160.

47 Whitelaw, D P. aw, p 175.

48 Whitelaw, DP. aw, p 177.

49 Whitelaw, DP. aw, p 158.

50 Du Bruyn, J & Southery, N. The Treatment of Christianity and Protestant Missionaries in South African Historiography, in Bredenkamp, H & Ross, R 1995. Misisons and Christianity in South African History. Johannesburg: Witwatersrand University Press. Pillay, G J. The problem of interpreting the history of black churches and writing the history of Christianity in South Africa, in SHE XVIII, 2 Des 1992, pp 121­-148.

51 Pillay, G J. aw, pp 121-148.

52 Pillay, G J. aw, p 125. (Sien ook Ajayi, J F & Ayandele, E A 1969. Writing African Church History, in The Church crossing frontiers. Uppsala, pp 126-127.)

53 Pillay, G J. aw, p 125.

54 Pillay, G J. aw, p 125. (Sien ook Denis, P, Lotshwa, T M & Mukuka, G (reds) 1999. The Casspir & The Cross. Voices of black clergy in the Natal Midlands. Pietermaritzburg: Cluster Publications.)

55 Pillay, G J. aw, p 128.

56 Pillay, GJ. aw, p 143.

57 Pillay, GJ. aw, p 134.

58 Pillay, GJ. aw, p 137.

59 Pillay, GJ. aw, p 137.

60 Pillay, GJ. aw, p 138.

61 Cochrance, J 1987. Servants of Power. Braamfontein: Ravan Press.

62 Pillay, GJ. aw, p 142-143.

63 Bredekamp, H & Ross, R (reds) 1995. Misisons and Christianity in South African History. Johannesburg: Witwatersrand University Press.

64 Elphick, R & Davenport, R 1997. Christianity in South Africa. A Political, Social & Cultural History. Kaapstad: David Philip.

65 De Gruchy, J 1999. The London Missionary Society in Southern Africa. Kaapstad: David Philip.

66 Goedhals, M M. Liberals and radicals in South African Historiography: The implications for South African Church History, in SHE XX, 2 Des 1994, p 96.

67 Thompson, P. The Voice of the Past. Oral History. Oxford, VK: Oxford University Press; Vasina, J 1985. Oral Tradition as History. Wisconsin: The University Press; Henige, D 1982. Oral Historiography. Londen: Longman.

68 Oosthuizen, G C. The use of oral information in the Writing of the History of African Indigenous Churches, in SHE XIX, 1 Jun 1993, pp 64-80; Claasen, J W. Church Historiogrpahy from a multi-cultural perspective, in SHE XXI, 2 Des 1995, pp 1-23.

69 Potenza, E 1992. The Broken String. An Integrated Approach to Southern African History. Kaapstad: Maskew Miller Longman.