Wepener, C
Universiteit van die Vrystaat

Die mite én die rite.

Heuristiese oorwegings vir liturgiehistoriese navorsing na aanleiding van resente ontwikkelings in die liturgiewetenskap1

ABSTRACT

The myth ánd the ritual. Heuristic considerations for liturgical-historical research with reference to recent developments in liturgical studies

This article surveys developments in liturgical research in South Africa, specifically also the Reformed tradition and the discovery of the important link between liturgy and identity formation on the one hand. On the other hand developments within the field of Liturgical Studies, especially also as pertaining to the History of Liturgy is explored. It is concluded that in the light of these developments, there are a series of methodological considerations that should be taken into account by any research undertaken in the area of the history of the liturgy in South Africa which aims at implicating the connection, also in the past, between liturgy and identity formation.

In hierdie artikel word eerstens gewys word op die noue verbondenheid wat bestaan tussen liturgie of ritueel en identiteit en hoe hierdie samehang juis op ’n besondere wyse in Suid-Afrika in die afgelope 15 jaar of so ontdek is. Tweedens word resente ontwikkelinge binne die veld van die Liturgiegeskiedenis verken soos wat dit uitgedaag en beïnvloed word deur moderne Liturgiewetenskap2. Derdens word enkele implikasies van beide punte een en twee aangestip en verreken soos wat dit die heuristiese vertrekpunte van liturgiehistoriese navorsing kan beïnvloed.

1. INLEIDING3

Dit gaan in hierdie artikel eerstens oor ’n verkenning van goeie wyses waarop identiteit en identiteitsvorming nagevors kan word. Maklike antwoorde hiervoor ontbreek en kort antwoorde wat gewoon die sogenaamde ‘storievertel-proses’ met die oog op die genesing van geheues, die ideaal van versoening en selfs kerkhereniging wil aanhelp sonder diepgaande en noukeurige navorsing oor die verlede kan soms meer kwaad as goed doen. Om (goedbedoelde en baie prysenswaardige) herinneringsprosesse en –pogings alleen te skoei op sogenaamde ‘ervaringswaarheid’4 kan slegte gevolge hê. Schreiter praat van die ‘narratief van die leuen’ wat ’n bestel soos die van apartheid op mense afgedruk het (wat ook waar is van hele denominasies) en wat vervang moet word met die ‘narratief van die waarheid’5. Om hierdie ideaal na te streef, moet die informele pogings tot die vertel van ervaringswaarhede aangevul word met diepgaande wetenskaplik verantwoordbare navorsing oor die verlede.

Antjie Krog haal op hierdie punt die Chileense filosoof en aktivis, José Zalaquett aan, “A community should not wipe out part of its past, because it leaves a vacuum that will be filled by lies and contradictory, confusing accounts of what happened”. En verder ook, “Identity is memory…Identities forged out of half-remembered things or false memories easily commit transgressions”6. Die onthou-proses moet dus deeglik en verantwoord wees ter wille van die identiteit wat dit konfigureer en herkonfigureer. In dieselfde werk vra Krog haarself later af of waarheid werklik só nou gekoppel is aan identiteit en antwoord self, “It must be. What you believe to be true depends on who you believe yourself to be”7. So kan De Gruchy8 tereg ook opmerk dat die vraag na identiteit krities is in ons verstaan en bereiking van versoening. Volgens Hay is hierdie onthou-proses nie net vir individue belangrik nie, maar binne ’n konteks van sosiale versoening soos dié van Suid-Afrika gaan dit om ’n hele land. Die sosiale psige van ’n nasie wat getraumatiseer is, en die kollektiewe geheue van ’n samelewing wat beskadig is, moet genees word9. Hierdie geheues en waarhede word deur rituele en verhale gedra en so beïnvloed rituele en verhale identiteit. Hierdie gedagte sal onder punt 2 verder verken word.

In die lig van die verband tussen ritueel en identiteit, gaan dit tweedens ook oor die gevierde verlede met ander woorde – die liturgiegeskiedenis. Die Suid-Afrikaanse skrywer en historikus Karel Schoeman10 merk tereg in sy roman Verliesfontein op: “Die verlede is ‘n ander land: waar is die pad wat soontoe loop? Hoe moet mens begin? Teoreties is die moontlikhede onbeperk, en die verbeelding aarsel, oorweldig deur die oorvloed wat hom aangebied word. Beter is dit miskien om die vraag op meer konkrete en spesifieke wyse te herformuleer en te vra wáár mens moet begin”. Wel, indien die huidige identiteit van mense en hulle toekomstige identiteitsvorming as ’n belangrike doelwit vir die onthou-en-dokumentasie-proses gesien word, dan is mense se ritualiteit een goeie plek om te begin. Om ritualiteit te bestudeer is alreeds ’n groot uitdaging waarvoor ’n vakgebied soos die Liturgiewetenskap te staan kom. Om ritualiteit, die volledig gevierde ritueel, in die verlede te bestudeer is ’n ideaal wat sy eie uitdagings stel. Ontwikkelinge met betrekking tot navorsing in hierdie verband sal onder punt 3 aan bod kom.

Met hierdie uitdagings wat aan die Liturgiegeskiedenis gestel word gaan dit derdens oor nuwe opwindende moontlikhede vir navorsing in die Liturgiegeskiedenis in Suid-Afrika. Die bestudering van menslike (Christelike) ritualiteit in die verlede bied egter ’n aantal uitdagings aan beide die vakgebiede van die Liturgiek en die Kerkgeskiedenis soos wat dit uitspeel in moderne gestaltes van die Liturgiegeskiedenis11 as ’n volwaardige dissipline. Vervolgens sal die epistemologiese implikasies van hierdie ontwikkelinge verken word (onder punt 4). In essensie gaan dit dus in hierdie artikel oor metodologiese voorvrae wat verken moet word in die lig van ontwikkelinge binne die veld van die Liturgiewetenskap in die algemeen en Liturgiegeskiedenis in die besonder.

2. LITURGIE EN IDENTITEIT

2.1 Die Suid-Afrikaanse (Nederduitse Gereformeerde) konteks

Oor die verhouding tussen liturgie en identiteitsvorming en liturgie en lewe het heelwat Suid-Afrikaanse teoloë in die onlangse verlede bydraes gelewer. Die feit dat liturgie en lewe, ons Christelike rituele en wie ons is en wat ons as gevolg daarvan doen, mekaar wedersyds (moet) beïnvloed is al vanuit verskeie invalshoeke belig12. In hierdie bydrae sal die verband tussen liturgie en lewe weer ’n keer kortliks verken word, maar spesifiek aan die hand van een van die bekendste en oudste liturgiese spreuke, te wete lex orandi lex credendi, en spesifiek ook deur met die hulp van enkele gesoute liturgiste die geskiedenis van hierdie spreuk te verken. Die rede vir hierdie keuse is gegrond op die verhouding wat daar bestaan tussen rites of rituele of liturgie (die lex orandi) en mites (lex credendi)13.

Die opbloei in belangstelling in die liturgie waarna reeds verwys is (en die verhouding daarvan tot identiteit) hang uiteraard nou saam met die oorgang in Suid-Afrika na 1994, die ontwikkelinge rondom die WVK-sittings en die eenheidsprosesse binne die VGK, maar ook tussen die NGK en VGK, om maar enkele redes te noem. Vanuit verskeie oorde is die vraag gevra na identiteit in die kerk, maar ook in die breër samelewing. Die vrae na ‘wie is ek?’, ‘wie is ons?’ en ‘wie sal dan die sogenaamde ander wees?’, is dikwels gestel. En die wyse waarop individue en gemeenskappe hulle eie identiteit tot uitdrukking bring en dit ook meesal in afgrensing bring teenoor die sogenaamde ander, die wie hulle nie is of nie wil wees nie, is onder andere rituele. Op ’n besondere wyse word die sentrale waardes en simbole van mense in hul rituele opgeneem, geformaliseer en herhaal. So kommunikeer die rituele dan identiteit en oefen ook hierdie identiteit in. Afhangende van die soort ritueel wat ter sprake is, kan rituele ook help om identiteit te verander, soos byvoorbeeld Victor Turner se werk oor oorgangsrituele aangetoon het.14

Hierdie bewuswording dat rituele, en vir gelowiges dan spesifiek ook die Christelike liturgie, ’n groot invloed uitoefen op hul identiteit het soos reeds genoem ’n groot stimulus gebring vir die vakgebied Liturgiek in Suid-Afrika. Die sogenaamde waarde van simbole en rituele is ontdek, ’n hele paar proefskrifte en artikels15 is daaroor geskryf, alhoewel dit ook maar net van korte duur was. In essensie is die Gereformeerde tradisie ’n tradisie waarbinne navorsing oor die liturgie erg afgeskeep word16. Dit lyk asof die belangstelling in die identiteitsvormende kwaliteite van die liturgie in die middel negentigerjare van die vorige eeu ’n hoogbloei beleef het, dít voortgeduur het vir nog so ’n paar jaar, maar dat ons nou ’n fase betree waarin die nuut ontdekte liturgie as locus vir teologisering alreeds weer uit die mode begin raak en die woord ritueel ook weer merendeels bygelowige konnotasies (binne die Gereformeerde tradisie) begin kry (soos wat dit nog altyd gehad het).

Hoe dit ook al sy, die ware invloed van die liturgie op identiteitsvorming in die Gereformeerde tradisie in Suid-Afrika is nog vir ’n groot deel ’n haas onontginde veld, die enkele reeds vermelde voorbeelde uitgesluit. Hier word nog heelwat navorsing benodig sodat die rol van rituele en liturgie in hierdie verband beter verstaan kan word, veral ook soos wat dit in die verlede sigself uitgespeel het. Wat die studie van liturgie en identiteit vanuit ’n historiese invalshoek betref sou daar tereg van ’n vakuum gepraat kan word. Maar voordat die vakuum bespreek word, eers meer oor die spreuk lex orandi lex credendi.

2.2 Lex orandi lex credendi

Een van die minder verstandige dinge wat ’n Protestantse teoloog kan doen, is om jou op ’n diepgaande wyse oor ’n Latynse spreuk uit te laat. Daarom volg hierdie artikel eerder die gesoute Rooms Katolieke sakramentoloog en liturgis en voormalige direkteur van die Institut Supérieur de Liturgie Catholique de Paris, Paul De Clerck in hierdie verband. In ’n artikel getiteld “’Lex orandi, lex credendi’: The Original sense and Historical Avatars of an Equivocal Adage”17 kyk hy eerstens na die oorspronklike Latynse betekenis van die spreuk lex orandi lex credendi, daarna na die verskeie ‘avatars’ wat die spreuk deur die eeue beleef het en trek daaruit enige gevolgtrekkings.

Basies en direk vertaal beteken hierdie spreuk, “wet van gebed, wet van geloof” en dui dit op die wyse waarop liturgie en teologie tot mekaar verhou. Die dogma en die viering en die gesag wat die twee wedersyds op mekaar uitoefen of behoort uit te oefen en wat die aard daarvan kan/moet wees. De Clerck wys hoe hierdie verhouding wissel in tye van liturgiese stabiliteit en liturgiese verandering. In tye van geen of weinig liturgiese verandering – kyk hoe die kerk bid en jy sal weet wat die kerk glo. In sulke tye is die sentrale identiteitsvormende dogma van die kerk ook geformuleer en vervat in die kerk se belangrikste liturgieboeke, byvoorbeeld die Handboek vir die Erediens of Vir die erediens18, en sou ’n blik op die boeke wat voorskryf hoe die kerk behoort te bid baie kan verklap ten opsigte van wat die kerk glo. Laasgenoemde is uiteraard nie geldig in tye van verandering nie, want die idee van hervorming gee as sodanig voorkeur aan die inhoudelike kant van die geloof om eerder vanuit die liturgie te informeer19.

Die spreuk lex orandi lex credendi kom oorspronklik van een van Augustinus van Hippo se studente, ene Prosper van Aquitanië en het gelui: ut legem credendi lex statuat supplicandi (“the order of supplication determines the rule of faith”)20. Dit is afkomstig uit ’n geskrif wat hy, Prosper, gerig het teen die Semi-Pelagiane en waarin hy deur hom op 1 Timoteus 2:1-6 te beroep ’n argument ten gunste van sy leermeester Augustinus se teologie voer en spesifiek ten gunste van die noodsaak van genade ’n saak uitmaak. 1 Timoteus 2:1 (NAV) lui: “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid (die supplicandi of orandi) moet word vir alle mense,” en vers 4 wat praat van (verwysend na vers 3) God, ons Verlosser “wat wil hê dat alle mense gered moet word en tot kennis van die waarheid kom”. Die feit dat voorbidding benodig word, gebruik Prosper in sy argument (alhoewel hy baie subtiel God se ‘wil hê’ in sy argument ’n wet maak) as bewys dat genade inderdaad noodsaaklik is vir verlossing. Dus: die lex supplicandi of orandi wat noodsaaklik is, die gebede, is die lex orandi wat in die oorspronklike betekenis van die spreuk die lex credendi (spesifiek hier ’n soteriologiese leerstuk) bepaal. “The necessity of prayer for grace is a proof of the necessity of grace”21. Maar, en baie belangrik, nie sommer net enige gebed of liturgiese viering is ter sprake nie, maar die versoek tot gebede soos verkry in die Skrif (1 Tim.2), soos uitgevoer en verstaan in die tradisie van die kerk en ook soos uitgedruk in die liturgie, is die omvang en reikwydte van die lex orandi.

Hierdie verheldering van die oorspronklike betekenis wat De Clerck se navorsing bied, help om te waak teen ’n té ligte omgaan met die spreuk en dit te verstaan as dat jy gewoon net na die liturgie kan kyk, na hoe mense bid, en daaruit aflees wat hulle glo of nog verder dat hierdie wet van gebed (die liturgie as norm) die inhoud van die geloof moet bepaal. Beide hierdie gebruike van die spreuk van Prosper kom in resente literatuur daaroor voor. Prosper se oorspronklike betekenis dui op die intieme samehang van beide liturgie en teologie soos geformuleer vanuit die Skrif en tradisie en in samehang met die geleefde gevierde liturgie van gelowiges. Haldemanan22 toon tereg aan dat die Christelike liturgie nie op ’n reduksionistiese wyse as die enigste identiteitsvormer in liturgiese navorsing gesien moet word nie. Daar is baie ander rituele maar ook ander sake soos verhale of mites of teologieë wat ’n sterk invloed uitoefen. Dit is juis daarom dat beide liturgie en teologie in samehang bestudeer moet word. Byvoorbeeld, 1857 en die Nagmaal – hoe groot was die aparte Nagmaal se invloed op die totstandkoming van aparte kerke met hul onderskeie identiteite en in hoeverre was die tot standkoning van aparte kerke gewoon ’n uitvloeisel van ’n reeds bestaande oortuiging of teologie? En watter rol indien enige het die geestelike herlewing wat ook liturgies presies in daardie tyd tot uitdrukking gekom het in iets soos die totstandkoming van die Pinksterbidure gespeel? Sou ’n mens iets kan aflees daaruit dat hierdie geestelike verdieping aan die een kant en kerkskeuring aan die ander kant bykans op dieselfde tyd plaasgevind het? Dit is ’n oop vraag en nie so maklik te beantwoord nie. Die punt is gewoon dat beide liturgie en teologie bestudeer moet ten einde te begin om op die spoor van ’n antwoord te kom. In die dieselfde lyn kan Burger23 ook oor die liturgiese bewuswording in die NG Kerk van bykans ’n honderd jaar later opmerk: “In many ways it is ironic that this greater awareness of the liturgy happened during the same period when the DRC hardened its position on apartheid and the schism between the White and the Black and Coloured divisions of the DRC was growing. In retrospect, this does not serve the cause of the liturgy well.”

En dit is die punt en belang van lex orandi lex credendi vir liturgiewetenskaplike navorsing. Beide liturgie en teologie, beide die mite én die rite, beide die liturgie en die teologie (dogma) is in noue samehang identiteitsvormende elemente. So wys Santer ook hoe rituele en die stories wat ingebed is in die rituele gemeenskaplike identiteit handhaaf24. Dit is wat Lukken25 die verband tussen die rite en die mite noem. Die twee is onlosmaaklik verbonde, maar in sekere kontekste soos byvoorbeeld ’n sterk Reformatoriese teologiese tradisie neig die mite om die rite te verdring. So ’n situasie lei tot ’n verenging van die aandagsveld, maar dieselfde is waar van ’n té eksklusiewe konsentrasie op rituele sonder om ook die verhale wat hulle dra en die dogmas wat hulle omring te verken. So kan Small tereg in hierdie verband opmerk: “Theological convictions shape worship, which, in turn, shapes the faith of the worshipping community. The dynamic interaction between doctrine and liturgy is continuous”26. Beide die rituele en die verhale vorm saam aan geloofsgemeenskappe se identiteit. Om dus identiteit en identiteitsvorming van geloofsgemeenskappe soos wat dit oor jare ontwikkel het te verstaan, is dit nodig dat beide in samehang bestudeer moet word.

2.3 ’n Liturgiehistoriese hiaat

Die geskiedenis van die liturgie in die vakgebied Liturgiek in Suid-Afrika, asook die dokumentasie van die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse liturgie, kan beskou word as een groot hiaat. Wanneer daar wel op soek gegaan word na bronne, dan is dit meesal korter oorsigtelike artikels of klein onderafdelings van boeke wat eintlik ’n ander onderwerp as hooftema in die oog het27.

Die een werk wat egter uitstaan en genoem moet word is die van A.C. Barnard getiteld Die Erediens (1981), alhoewel daar in hierdie lywige boek van 608 bladsye, slegs hoofstuk 17 (7 bladsye) gewei word aan die erediens in Suid-Afrika self waarvan 17.3 getiteld is “Geringe ontwikkelinge op eie bodem”. ’n Enkele kort voorlopige blik na alleen die geskiedenis van die Nagmaal in Suid-Afrika laat dit eerder lyk asof daar wel inderdaad drastiese liturgiese ontwikkelinge op eie bodem aantoonbaar is.s.28

Hoe ’n navorser hieroor oordeel en ’n hoofstuk diensooreenkomstig betitel sal baie afhang van wat hy/sy beskou as die onderwerp van sy/haar studie29. Indien slegs amptelike dokumente van byvoorbeeld sinodes bestudeer word, soos byvoorbeeld die onderskeie hersienings van die Nederduits Gereformeerde Kerk se Nagmaalsformulier in Suid-Afrika, dan was daar inderdaad (Vir die Erediens uit 2007 uitgesluit) geringe ontwikkelinge op eie bodem. Het jy egter ’n oog vir die gevierde rituele praktyk, byvoorbeeld die wyse waarop die Doop en Nagmaal sedert 1652 in Suid-Afrika bedien is en veranderinge wat oor die eeue ingetree het in daardie verband, dan is daar ’n heel ander wêreld wat oopgaan.

In Suid-Afrika bestaan daar binne die veld van die Teologie ’n liturgiehistoriese leemte wat in die lig van die belangrikheid van rituele en hul vormende krag verdien om verdere invulling. Hierdie invulling moet egter meer wees as slegs ’n herhaling van wat in amptelike handboeke en sinodale studiestukke geskryf staan en werklik ’n poging wees om die gevierde liturgie uit die verf van die verlede te laat kom. Om die lex orandi werklik te herkonstrueer sodat dit vir ons meer kan vertel van die lex credendi, net soos teoloë en kerkhistorici se verkenninge van die lex credendi op hulle beurt vir liturgiste help om die lex orandi beter te verstaan. Ten einde laasgenoemde ideaal te bereik is dit vir die Liturgiegeskiedenis as vakgebied nodig om nuwe vriende te maak of alliansies te smee – en dit is waaroor die volgende afdeling handel.

3. LITURGIEGESKIEDENIS

Nuwe alliansies of samewerking tussen vakgebiede bring soos enige verhouding nuwe moontlikhede en uitdagings. Dit is veral waar vir ’n meer konserwatiewe en redelik elitisties vaktradisie soos die van die Liturgiegeskiedenis30 wat deur, so meen sommiges in die veld, moderne liturgiewetenskaplikes besoedel word met hulle flirtasies31 met ander velde soos die Kulturele Antropologie, om maar ’n enkele veld te noem. Maar eerstens moet die Liturgiegeskiedenis, Liturgiek en Ritual Studies as dissiplines se ontwikkeling eers binne historiese perspektief geplaas word aangesien hierdie ontwikkeling die noodsaak van die nuwe vriendskappe vir die Liturgiegeskiedenis sal aantoon.

3.1 Tradisionele liturgiegeskiedenis

Met die opkoms en bloei van die Liturgiese Beweging32 in die negentiende en twintigste eeu was die spreuk “terug na die bronne” die formulering van ’n sentrale waarde van die projek. En die eerste en mees begane roete om hierdie bronne vir liturgiese bewusmaking en vernuwing te ontsluit, was die Liturgiegeskiedenis. Liturgiese bronne33 uit die Patristieke tyd soos die Didaché, Justinus se Apologieë en die Apostoliese Tradisie, om enkeles uit te sonder, asook vergete liturgiese boeke uit die Middeleeue en Reformasie tydperk, is opnuut met ’n liturgiese bril bestudeer. Ten einde hierdie bronne te bestudeer was liturgiehistorici se belangrikste gereedskap ’n kennis van die grondtale waarin die bronne geskryf is (Latyn, Siries, Kopties ens.), asook vaardighede afkomstig uit vakgebiede soos die Paleografie en Filologie34. In hierdie ontwikkeling was die Liturgiegeskiedenis die veld wat voorkeur geniet het binne die breër veld van die Liturgiewetenskap en waarbinne die meeste werk gedoen is. So byvoorbeeld het daar gedurende die 20ste eeu etlike erg lywige geskiedenisse van die liturgie verskyn waarvan Dom Gregory Dix se The Shape of the Liturgy35 seker die invloedrykste was. Binne hierdie vaktradisie van Liturgiegeskiedenis word daar tot en met vandag steeds baie werk verrig .

Met verloop van tyd het ander benaderings tot die bestudering van die liturgie al meer vanaf die periferie na die sentrum beweeg. Enkele redes wat aangestip kan word is die werk van Vatikanum II rakende die liturgie en die publikasie van die “Konstitusie oor die Heilige Liturgie” in die 1960’s en die gepaardgaande skielike verandering van ou gevestigde en skynbaar onveranderbare liturgiese tradisies; die sogenaamde “antropologische Wende” wat ’n skuif in blikrigting behels wat ook die mens en sy/haar ritualiteit as ondersoeksobjek inkorporeer, asook die grootskaalse eksperimentering op die terrein van die liturgie en gepaardgaande sogenaamde “worship wars”. Vervolgens eers meer oor die Liturgiek en opkoms van die sogenaamde Ritual Studies.

3.2 Liturgiek en Ritual Studies

Binne die Liturgiek36 bestaan daar vele benaderings37 en ook verskeie plekke waar dit binne die teologiese ensiklopedie geplaas word. Soms kom die vakgebied as onderafdeling van die Praktiese Teologie tereg saam met die Homiletiek, maar heel dikwels ook binne die Sistematiese Teologie en veral gekoppel aan die Sakramenteleer of Ekklesiologie. Die presiese plek van die vak hang af van hoe liturgie as sodanig verstaan word38. Afgesien van die reeds vermelde bloei van historiese ondersoeke is daar ook groot werk gedoen in die veld van byvoorbeeld die Bybel en liturgie en teologie van die liturgie. ’n Sterk en steeds opkomende lyn is die bestudering van die liturgie as ’n komplekse geheel van simbole en rituele39 en dít binne ’n gelaagde en komplekse kulturele plasing. Hier word die werklik gevierde ritueel in sy kulturele plasing, maar ook binne die perspektief van verlede, hede en toekoms ondersoek deur gebruikmaking van ’n verskeidenheid van bronne. Die Liturgiek sal inderdaad nie die eerste wetenskap wees om presies dit te doen nie, alhoewel met ’n unieke doel voor oë. In die lig hiervan is dit nie nodig vir ’n liturgiese navorsingsprojek om die hele wiel van vooraf uit te vind nie, maar eerder om te gaan aanklop by vaktradisies waar rituele alreeds ’n belangrike ondersoeksobjek is. En hiervoor bied die Ritual Studies ’n goeie podium.

Die sogenaamde Ritual Studies is ’n baie jong domein/terrein40, al word rituele as fenomene al vir baie lank bestudeer. In 1771 maak die woord ‘ritueel’ vir die eerste maal sy verskyning in die Encyclopedia Britannica, waar dit dui op die voorgeskrewe orde vir die voltrekking van religieuse dienste, of op die boek waarin daardie orde opgeneem is. In 1910 word in Encyclopedia Britannica ’n lang artikel opgeneem oor ‘ritueel’, wat nou nie meer as ’n boek beskryf word nie, maar as ’n tipe simboliese gedrag wat in alle godsdienste, en selfs buite godsdienste, aangetref word41. Ritual Studies gaan uit vanaf hierdie breë betekenis van die begrip ‘ritueel’ wat ook van waarde is vir ’n liturgiehistoriese ondersoek aangesien die ondersoeksobjek dan veel meer as slegs die tradisionele erediens op ’n Sondagoggend is. Hierdie ontwikkeling rondom die begrip ‘ritueel’ het voortgeduur in die twintigste eeu, en in 1977 is die eerste konsultasie oor Ritual Studies in die VSA gehou. Daarvandaan het dit versprei en ontwikkel, met kursusse, konsultasies, werkswinkels en selfs ’n tydskrif getiteld The Journal of Ritual Studies (sedert 1985)42.

Teen 1995 merk Grimes egter op dat literatuur in die vakgebied Ritual Studies, na bykans twintig jaar, gekenmerk word deur stuksgewyse opstelle, eerder as volledige teoretiese modelle ten opsigte van ritueel. So merk Grimes dan ook in hierdie verband op, “the time for grand theory-construction is not now and that intellectual humility rather than totalizing explanatory schemes will characterize this generation’s reflection on ritual, as on many other matters”43. Groot modelle en teoretisering oor ritueel van wetenskaplikes soos Durkheim en Turner word nie totaal genegeer nie, alhoewel die wyse waarop teorieë die belange van dominante groepe dien, ontmasker word. Daarom word daar veral gereflekteer op die selfgesentreerde belange van teorieë, terwyl só ’n refleksie in effek nuwe teorieë tot stand bring44.

Met hierdie stand van sake binne Ritual Studies, stuksgewyse opstelle en ’n doelbewuste vermyding van teorievorming, “ritual studies is neither discipline nor field but merely an ill-defined topic in danger of being trampled by a herd of academic tourists”45. Ten spyte hiervan is Grimes tog van mening dat Ritual Studies alleen maar in sy kinderskoene is, en dat tyd nodig is om die gesprek verder te laat ontwikkel, asook tyd vir verdere samewerking tussen bestudeerders van rituele vanuit verskillende vaktradisies. Vanuit ’n oorsig oor die stand van literatuur in die veld, waarvan Grimes die data as ryk en polsend beskryf, is hy egter van mening dat die teoretiese raamwerke moeg (blote herhalings van Durkheim, Van Gennep en Turner) of grootliks onbekend is, aangesien geeneen van die huidige teoretici wye konsensus uitlok nie. “This generation’s intellectual task seems to be that of getting beyond Victor Turner”46.

So ’n bleek skets van die terrein en taak van Ritual Studies, laat ’n mens onwillekeurig wonder of dit dan ’n goeie gespreksgenoot is vir Liturgiek, en wat die toekoms van Ritual Studies is? Ten spyte van hierdie ontwikkelinge en vrae, is Ritual Studies nog in sy kinderskoene, en bestaan die vak hoofsaaklik uit interdissiplinêre insette. Wetenskaplikes, veral antropoloë, godsdienswetenskaplikes, liturgiste en liturge47, bestudeer almal al vir ’n geruime tyd onder andere rituele, maar fokus nie eksklusief op rituele soos Ritual Studies nie. Hierdie ondersoekers ontmoet mekaar op die platform wat Ritual Studies bied, tesame met persone uit ander aandagsvelde soos teaterwetenskaplikes48, waar almal saamgebind word deur die invalshoek wat die ondersoeksobjek, ritueel, bied. Wat nuut is aan Ritual Studies is die poging om die metodes van die Geesteswetenskappe en Sosiale Wetenskappe te konsolideer, en dit in ’n interkulturele en vergelykende konteks. Daarom tipeer Post Ritual Studies as, “een vrij zelfstandige en sterk methodologisch/theoretisch georiënteerde discipline op het snijvlak van godsdienswetenschap, theologie (liturgiewetenschap) en sociale wetenschappen (antropologie voorop)”49. En sien Grimes Ritual Studies as ’n veld wat ’n mens bewerk, eerder as ’n metode wat ’n mens toepas50.

Hierdie jong platform wat Ritual Studies bied, is dus by uitstek geskik vir kruisbestuiwing tussen dissiplines wat almal vanuit hul onderskeie perspektiewe rituele benader. Volgens Lukken kan ’n liturgiewetenskaplike ondersoek vanuit Ritual Studies ’n aansienlik stewiger empiriese basis verkry51.

Post52 wys in 2006 op veral vier kenmerke wat saam tans die gesig van Ritual Studies bepaal te wete:

a) Die sentrale objek is rituele handeling.

b) Multidissiplinariteit en saam daarmee ook metodepluraliteit waarin gestreef word om die metodes en insigte van ander vaktradisie te leer en toe te eien om te verwerk in ’n nuwe geheel.

c) Daar is ook ’n reeks kenmerkende Ritual Studies perspektiewe wat meer van ’n wetenskapsteoretiese aard is en enkeles sluit in: ’n sterk belang om teoreties en konseptueel die veld te ontwikkel; die neiging om vergelykend te werk; die benadering van die navorsingsobjek as ’n sintuiglike en liggaamlike gegewe; belangstelling in die rol van die navorser; belangstelling in alle vorme van rituele handeling en laastens ook die perspektief van rituele kritiek wat die rituele handeling wil evalueer.

d) Laastens as vierde hoofkenmerk praat Post van ’n kanon van temas in die Ritual Studies wat voortdurend wissel en ook terugkeer en temas insluit soos mag, plek, oorgangsrituele, mite/rite-verhouding en nog meer.

Hierdie jong podium het intussen sodanig ontwikkel dat die Radboud Universiteit Nijmegen ’n leerstoel vir Ritual Studies in 2005 ingestel het, die Universiteit van Tilburg het sy leerstoel Liturgie herbenoem tot Liturgie en Rituele Studies en daar is sprake dat ander nog hierdie voorbeeld sal volg.

3.3 Moderne liturgiegeskiedenis

Hierdie ontwikkelinge binne die Liturgiek, die verbreding van die aandagsveld van die navorsing te same met die alliansie met die Ritual Studies, kan die Liturgiegeskiedenis ongesiens verbygaan, of dit kan soos alreeds aangetoon gewoon deur liturgiehistorici gekritiseer word. ’n Ander en opwindende opsie is om die implikasies van hierdie ontwikkelinge vir die Liturgiegeskiedenis te probeer verreken. Dít het die Nederlandse liturgiehistorikus Van Tongeren53 onlangs gedoen en hierdie artikel wil by hom aansluit. Van Tongeren wys in sy artikel hoe die historiese benadering in die liturgie in die afgelope jare veelkleuriger geraak het en dit op veral vier wyses:

a) Metodiese verbreding: die tradisionele eksklusiewe literêre benadering word aangevul met metodes uit veral die Argeologie, Ikonografie, Argitektuur, Kerkmusiek/Himnologie, asook vakke soos die Kultuurgeskiedenis.

b) Ander bronne: tradisioneel word drie hooftipes in die Liturgiegeskiedenis hanteer, te wete eerstens en ook belangrikste die boeke (offisieel), tweedens ander literêre tekste (beskrywings uit die Vroeë Kerk ens.) en derdens en ook die mins gebruikte die nie-tekstuele bronne soos kerkgeboue en liturgiese kleredrag. Deesdae word hierdie bronne aangevul met bronne wat die liturgie van plaaslike gemeenskappe beskryf en so ook die algemene beeld wat uit die offisiële dokumente kom nuanseer. Saam met die belangstelling in bronne wat die plaaslike vieringe beskryf is daar ’n skuif in belangstelling van slegs die tekste na die aktuele Feiergestalt van die liturgie. Verder word die nie-tekstuele ook al meer vanaf die periferie na die sentrum geskuif.

c) Wysiging in vraagstelling: die verbreding van bronmateriaal wat ondersoek word bring noodwendig implikasies vir die vraagstelling. So skuif die vrae vanaf die belange van slegs die gesagsdraers en offisiële voorgeskrewe liturgie na die lidmate self en die geleefde alledaagse praktyk. Aandag skuif dus vanaf die skeppers van die liturgie na die elke daagse gebruikers daarvan. Hierdie skuif moet ook verstaan word binne die huidige konteks van globalisering en pluralisering waar die vraag na eie identiteit sterker gestel word. Dit kan juis met hierdie skuif in objek en vraagstelling des te beter gedoen word.

d) Wysiging in afbakening van die objek: al die voorafgaande in ag genome word die aandagsveld van die Liturgiegeskiedenis verbreed dat nie slegs die amptelike liturgie of erediens die onderwerp van studie is nie, maar ook ’n verskeidenheid van rituele (hier sou mens kon dink aan informele liturgieë soos die praktyk van huisgodsdiens)54.

Ten slotte sal nou enkele pylers gedistilleer word uit die voorafgaande wat van belang kan wees in navorsing wat beide teologie en liturgie betrek, spesifiek ook met die oog op die bestudering van identiteit.

4. HEURISTIESE OORWEGINGS

4.1 Vraagstelling

Die metodes wat in Ritual Studies algemeen in gebruik is, te wete deelnemende observasie en ook deelnemende aksie navorsing (alhoewel laasgenoemde heelwat minder)55 sou van waarde kon wees, ook met betrekking tot die formulering van vrae. Een moontlikheid is om in gemeentes in byvoorbeeld fokusgroepe vrae en probleme rakende identiteit te formuleer en om toe te laat dat hierdie werklike vrae van lidmate in ag geneem word wanneer die vraagstelling van navorsings geformuleer word.

4.2 Bronne

Tradisionele bronne vir die bestudering van die liturgie is boeke, te wete erediens handleidings, en moet steeds te same met sinodale stukke geraadpleeg word. Om die gevierde ritueel egter te rekonstrueer, sal bykomende bronne geraadpleeg moet word en ook alliansies met ander kenners gesmee word.

Benewens spesifiek kultuurhisteriese bronne soos Bun Booyens56 se boek oor die nagmaalsnaweek om een voorbeeld te noem, sal ook ander bronne wat die sosio-kulturele plasing van die liturgie kan help beskryf geraadpleeg moet word. Saam hiermee kan ook bronne soos kleredrag of foto’s en ’n vakgebied soos Kunsgeskiedenis57, in die Prostestantse tradisie verseker ook musikale bronne en ’n veld soos die Musikologie, en natuurlik ook ’n kykie na kerkargitektuur, die ruimte waarbinne die liturgie gevier is, geraadpleeg word. Die punt hier is dat teoloë dikwels nie oor die vaardigheid beskik om hierdie bronne te ontsluit nie en dat alliansies met ander vakgebiede en insette van ander wetenskaplikes benodig word.

’n Belangrike aspek met betrekking tot die raadpleging van bronne is die saak rakende benoeming en toe-eiening. In bronne soos die Acta Synodi en eredienshandleidings word aangegee hoe die liturgie gevier behoort te word, maar is nie altyd ’n getroue weerspieëling van wel plaasgevind het nie en ook nie ’n indikasie van hoe die mense wat daaraan deelgeneem het dit toegeëien het nie.

4.3 Algemene tendens beskrywings en partikuliere verkennings

Vir die Liturgiegeskiedenis in Suid-Afrika is dit nodig dat die geskiedenis van die liturgie in breë trekke verken en gedokumenteer word. Ten einde egter te waak teen veralgemenings en vervagings is dit ook nodig om enkele spesifieke gevalle te verken, soos die liturgie van ’n spesifieke plaaslike gemeente of die viering van ’n spesifieke fees of ’n spesifieke plek. Hier sal dit nodig wees om die kerkkantore van plaaslike gemeentes te raadpleeg, te same met (in)formele gesprekke en onderhoude met lidmate van die gemeente.

5. TEN SLOTTE

Al bogenoemde oorwegings maak navorsing in die Liturgiegeskiedenis ’n komplekse en uitdagende onderneming, maar inderdaad ook ’n opwindende een. Hierdie verkenning van die ontwikkelinge in die vakgebiede behoort egter ook aan te toon dat die bestudering van rituele noodsaaklik is as werklik uitgevoerde handelinge in die gelaagdheid van perspektiewe, maar dat liturgiste ander teoloë nodig het hiervoor en ook andersom, om saam die invloed van beide lex credendi én lex orandi op identiteitsvorming te verken.

KEY WORDS

Liturgy, Worship, Liturgical History, Ritual Studies, Identity

TREFWOORDE

Liturgie, Erediens, Liturgiegeskiedenis, Ritual Studies, Identiteit

Kontakbesonderhede

Dr. Cas Wepener

Navorsingsgenoot

Departement Praktiese Teologie

Fakulteit Teologie

Universiteit van die Vrystaat

Posadres:

Forestrylaan 63

Pinelands

7405

Tel.: (021) 5312401

E-pos: cwepener@kingsley.co.za

1 n Vroeëre weergawe van hierdie artikel was gelewer as ’n bydrae by ’n konferensie getiteld “Reconfiguring Ecclesial Identities” aangebied deur Buvton en die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie, Universiteit Stellenbosch, 6-7 Februarie 2007.

2 Binne die kader van die Liturgiese Beweging en die gepaardgaande opbloei in liturgiese navorsing het die sogenaamde Liturgiegeskiedenis as ’n selfstandige veld binne die breër Liturgiewetenskap of Liturgiek ontwikkel. Oor die algemeen beskou was die Liturgiegeskiedenis meer weerstandig teenoor resente ontwikkelinge in die breër Liturgiewetenskap, soos byvoorbeeld ’n kultureel-antropologiese benadering wat die uitgevoerde ritueel as vertrekpunt neem. Sien ook punt 3 hieronder.

3 Hierdie werk is gebaseer op navorsing wat ondersteun word deur die Nasionale Navorsingstigting GUN 65620. Enige opinie, bevindinge en gevolgtrekkings of aanbevelings in hierdie materiaal is die van die outeur en die NRF aanvaar geen aanspreeklikheid daarvoor nie.

4 Sien Deist, F.E. 1997. Vergewe en vergeet? Oor waarheid en versoening in Christelike perspektief. Pretoria: J.L. van Schaik Godsdiensboeke, p. 2. Deist verduidelik dat ervaringswaarheid iets anders is as dit waaroor dit in ’n formele hofsitting gaan. So byvoorbeeld kon mense voor die WVK hul verhale uit hul eie perspektief soos wat hulle dit ervaar het vertel. Hierdie ervaringswaarheid is uiters belangrik en dit sal van min waarde wees om formele geskiedskrywing hierteenoor af te speel, maar dit is tog van nut om aan te toon dat dit nie voldoende is om by ervaringswaarheid op te hou nie.

5 Sien Schreiter, R.J. 1992. Reconciliation. Mission and ministry in a changing social order. Maryknoll, NY: Orbis Books, p. 36-39.

6 Krog, A. 1998. Country of My Skull. Londen: Vintage, p. 35-36.

7 Ibid., p. 149.

8 Sien, De Gruchy, J.W. 2002. Reconciliation. Restoring Justice. Kaapstad: David Philip, p. 30.

9 Vergelyk, Hay, M. 1997. Ukubuyisana. Reconciliation in South Africa. Proefskrif Catholic Theological Union of Chicago, p. 163.

10 Schoeman, K 1998. Verliesfontein. Kaapstad: Human & Rousseau, p. 7.

11 Cf. Van Tongeren, L. 2006. ‘Een gemeenschappelijke oriëntatie. Over de Ritual Studies en ontwikkelingen binnen het liturgiehistoriesch onderzoek’. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 22, 135-151.

12 Sien eksemplaries enkele van Dirkie Smit se artikels oor die onderwerp, Smit, D.J. 1997. “Liturgy and life? On the importance of worship for Christian ethics”. Scriptura 62, 259-280; Smit, D.J. 1998. “Oor misverstande rondom die funksie van die erediens en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika”. NGTT 39/4, 334 – 343, Smit, D.J. 2002. “Politieke erediens? Vrae oor liturgie as lewensvorm” PTSA 17/2, 126-153, Smit, D.J. 2004. “Lex orandi, lex credendi, lex (con)vivendi?. Oriënterende indleiding tot liturgie en etiek”. NGTT 45/3&4, 887-907.

13 Vir meer oor hierdie verhouding sien Lukken, G. 1999. Rituelen in overvloed. Een kritische bezinning op de plaats en de gestalte van het christelijke ritueel in onze cultuur. Baarn: Gooi & Sticht, p. 55-58.

14 Cf. as een voorbeeld uit sy ouevre, Turner, V.W. 1996. “Liminality and communitas”. in: Grimes, R.L. (ed.). Readings in Rituals Studies. Upper Saddle River, NJ: Prentice Hall, p. 511-519.

15 Sien onder andere, De Klerk, B.J. 2000. “Liturgiese identiteitsvorming as antwoord op die invloed van die verbruikerskultuur”. In die Skriflig 34/4, 451-468; De Klerk, B.J. 2002. “Liturgie, transformasie en die Afrika Renaissance”. in: Barnard, M. en N. Schuman (reds.). Nieuwe wegen in de liturgie. De weg van de liturgie - een vervolg -. Zoetermeer: Meinema; Hanekom, A.R. 1995. Ritueel en simbool as instrumente vir geloofsvorming. Proefskrif ingelewer vir die graad doktor in die Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch; Hay, M. 1997. Ukubuyisana. Reconciliation in South Africa. Proefskrif Catholic Theological Union of Chicago; Müller, B.A. 2002. “The role of worship and ethics on the road towards reconciliation”. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 18, 27–44; Phillips, A.P. 1996. “Die plek van die Nagmaal in die gereformeerde spiritualiteit”. NGTT 37/2, 293–297; Pieterse, H.J.C. 1998. “Die rol van rituele en simbole in die identiteitsvorming van ’n geloofsgemeenskap – ’n Gereformeerde perspektief”. Skrif en Kerk. 19/2, 342–347; Smit, D.J. 1998, 334–343; Wepener, C.J. 2003. “Minder is meer. Die polisemantiese waarde van simbole”. NGTT 44/ 3&4, 596–606; Wepener, C.J. en J.C. Pauw. 2004. “Terug na die toekoms – oor die samehang tussen rituele tyd en identiteit”. Scriptura 86/2, 110-122; Wepener, C.J. 2008a. From fast to feast. A ritual-liturgical exploration of reconciliation in South African cultural contexts. Liturgia Condenda 19. Leuven: Peeters Pers.

16 Sien in hierdie verband ook Nicholas Wolterstorff se artikel “The Reformed liturgy” uit 1992 in: McKim, D.K. (red.). Major themes in the Reformed tradition. Grand Rapids: W.B. Eerdmans.

17 De Clerck, P. 1994. “’Lex orandi, lex credendi’: The Original sense and Historical Avatars of an Equivocal Adage”. Studia Liturgica 24, 178-200. Sien ook, Mulders, J. 1965. “Lex orandi lex credendi”. in: Brinkhoff, L. et al (reds.). Liturgisch Woordenboek II. Roermond: Romen & Zonen, p. 1486-1488.

18 Vir ’n bespreking van hierdie publikasie sien, Wepener, C.J. 2008b. “Liturgy on the edge of tradition” (verskyn eersdaags).

19 Cf. De Clerck, P. 1994, p. 179.

20 Ibid., p. 182.

21 Ibid., p. 186.

22 Sien, Haldeman, S. 2006. “Beyond Idealization: The Role of Liturgy in the (Trans)-Formation of Racialized Identities in the United States”. Studia Liturgica 36/1, p. 110.

23 Burger, C.W. 2003. “Reformed Liturgy in the South African Context”. in: Vischer, L. (red.). Christian Worship in Reformed Churches Past and Present. Grand Rapids/ Cambridge: William B. Eerdmans Publishing Company, p. 166.

24 Cf. Santer, M. 1998. “The Reconciliation of Memories”. in: Falconer, A. (red.). Reconciling Memories. Dublin: The Columbia Press, p. 31.

25 Cf. Lukken, G. 1999, p. 55-58.

26 Small, J. 2003. “A Church of Word and Sacrament”. in: In: Vischer, L. (red.). Christian Worship in Reformed Churches Past and Present. Grand Rapids/ Cambridge: William B. Eerdmans Publishing Company, p. 317.

27 Sien in hierdie verband die werk van Barnard, A.C. 1981. Die Erediens. Pretoria: NGKB Transvaal; ook Barnard, A.C. 1959. “Waar kom ons erediens vandaan?” Gereformeerde Vaandel (Oktober), 8-13; maar sien as ’n uitsondering in hierdie verband die twee boeke: Barnard, A.C. 1954. Die Pinksterfees in die Kerklike Jaar. Kampen: J.H. Kok en Barnard, A.C. 1960. Eeufees van die Pinksterbidure 1961-1961. Pretoria: N.G. Kerk-Uitgewers, waarin hy die ontstaan en ontwikkeling van die Pinksterviering in die NG-familie in Suid-Afrika liturgiehistories nagevors het; Burger, C.W. 2003; Du Toit, H.D.A. 1959. “II. Die Sakramentsbediening”, Handelinge van die 26ste Vergadering van die Raad van die Ned. Geref. Kerke van S.A; Du Toit, H.D.A. 1966.

“Die liturgie van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika”. Jaarboek voor de Eredienst van de Nederlandse Hervormde Kerk 1965 – 1966. ‘S-Gravenhage: Boekencentrum N.V., 28 – 42; Loff, C. 1983. “The history of a heresy.” in: De Gruchy, J. and C. Villa-Vicencio, Apartheid is a heresy. Cape Town: David Phillip; ook hoofstukke by Van der Watt, P.B. 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NGKB, p. 332-340 en laastens ook Wepener, C.J. 2002. “Still because of the weakness of some? – A descriptive exploration of the Lord’s Supper in South Africa, 1948 – 2002”. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 18, 139-158. In ’n gesprek met die Suid-Afrikaanse kerkhistorikus, prof. Dolf Brits, het hy hierdie situasie, naamlik die hiaat ten opsigte van Suid-Afrikaanse liturgiehistoriese bronne, bevestig.

28 Sien, Loff, C. 1983 en Wepener, C.J. 2002.

29 Sien met betrekking tot die onderwerp en doel van liturgiese navorsing, Wepener, C.J. 2006. “The object and aim of multi-disciplinary liturgical research”. Scriptura 93, 384-400.

30 Sien in hierdie verband byvoorbeeld Robert Taft se aanval op ‘n liturgis wat heuristiese instrumentaria vanuit velde soos die Kulturele Antropologie en Etnografie inspan soos Martin Stringer en Taft se verdediging van die tradisionele sogenaamde vergelykende liturgiewetenskap van Anton Baumstark. Taft, R.F. 1999. “Comparative Liturgy Fifty Years after Anton Baumstark (d. 1948): A Reply to Recent Critics”. Worship 73/6, 521-540.

31 Cf. ook Post, P.G.J. 2006. “Na de lange jaren zestig. Liturgiewetenshap en Ritual Studies: opkomst, typering en actuele uitwerking van een relatie”. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 22, p. 93.

32 Sien hiervoor, Lukken, G. 1980. De onvervangbare weg van de liturgie. Hilversum: Gooi & Sticht, p. 115-121; ook hoofstuk 3 van Keifert, P. 1992. Welcoming the Stranger. A Public Theology of Worship and Evangelism. Minneapolis: Fortress Press; asook, hoofstuk 4 getiteld “Worship in Transition” in, Pecklers, K. 2003. Worship. New Century Theology. Londen/ New York: Continuum.

33 Sien in hierdie verband Jones, C et al (reds.). 1992. The Study of Liturgy (Revised Edition). Londen: SPCK.

34 Vir meer hieroor en ander vakgebiede sien, Post, P.G.J. 2001. “Liturgical Movements and Feast Culture. A Dutch Research Program”. in: Post, P.G.J. et al. (reds.). Christian Feast and Festival. The Dynamics of Western Liturgy and Culture. Leuven: Peeters.

35 Dix, G. 1947. The Shape of the Liturgy. Westminster: Dacre Press. Vir meer resente werke sien onder andere Senn, F. 1997. Christian Liturgy. Catholic and Evangelical. Minneapolis: Fortress Press; Webber, R.E. 1994. Worship Old & New. A Biblical, Historical, and Practical Introduction. Revised Edition. Grand Rapids: Zondervan; of Wegman, H.A.J. 1991. Riten en Mythen. Liturgie in de geschiedenis van het christendom. Kampen: Uitgeverij Kok.

36 Die benaming Liturgiek is meer gebruiklik in veral Protestantse opleiding terwyl in Rooms Katolieke opleiding die terme Liturgiewetenskap of Liturgiologie meer gebruiklik is. Daar is nietemin deesdae ’n tendens om die begrippe Liturgiek en Liturgiewetenskap deurmekaar te gebruik, en word die onderskeid as onnodig bestempel, veral wanneer die metode kultureel-antropologies is. Vergelyk, Barnard, M. 1998. “Liturgiewetenschap als discipline”. in: Oskamp, P. en N. Schuman (reds.). De weg van de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk. Zoetermeer: Meinema, p. 90-91; Barnard, M. 2002a. “Tendensen in de dynamiek van cultus en cultuur: perspectieven in de liturgiewetenschap”. in: Barnard, M. en N. Schuman (reds.). Nieuwe wegen in de liturgie. De weg van de liturgie - een vervolg -. Zoetermeer: Meinema, p. 12; asook, Barnard, M. 2002b. “Prinses Diana als postmoderne heilige en een kerkdienst in een museum: Tendensen in de dynamiek van cultus en cultuur vanuit een West-Europees perspectief”. Verbum et Ecclesia 22/2, p. 211.

37 Dié benaderings behels onder andere ’n historiese, antropologiese, semiotiese, pastoraalliturgiese, ’n empiries-liturgiese, ’n benadering vanuit die kunste (beeld, musiek, ruimte, liggaamlike ekspressie/dans), ’n benadering vanuit die (Sistematiese) Teologie (Teologie van die Liturgie en Sakramenteteologie), asook ander benaderings, byvoorbeeld vanuit Vrouestudies of Spiritualiteit Vergelyk, Post, P.G.J. 1995. “Zeven notities over rituele verandering, traditie en (vergelijkende) liturgiewetenschap”. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 11, p. 19–20, asook, Wepener, C.J. 2005. “Researching Rituals. On the use of participatory action research in liturgical studies”. Praktiese Teologie in Suid-Afrika. 20/1, p. 111. Vir ’n oorsig oor die vakgebied, inklusief benadering, sien, Schattauer, T.H. 2007. “Liturgical Studies: Disciplines, Perspectives, Teaching”. International Journal of Practical Theology 11/1, 106-137.

38 Cf. Berger, T. 2003. “Liturgics”. in: Fahlbusch, E. et al (reds.). The Encyclopedia of Christianity J-O. Grand Rapids, MI/ Cambridge, UK: W.B. Eerdmans, p. 322.

39 Cf. Barnard, M. 2000. Liturgiek als wetenschap van christelijke riten en symbolen. Amsterdam: Vossiuspers.

40 Post praat van ’n domeinaanduiding wanneer hy na Ritual Studies verwys. Vergelyk, Post, P.G.J. 2001. “Personen en patronen. Literatuurbericht liturgiewetenschap”. Praktische Theologie 28/1, p. 88, asook, Post, P.G.J. 2001c. “Overvloed of deritualisering. Lukken en Grimes over het actuele ritueel-liturgische milieu”. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 17, p. 197.

41 Sien, Lukken, G. 1999, p. 45, asook, Boudewijnse, B. 1995. “The conceptualization of ritual. A history of its problematic aspects”. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 11, p. 31.

42 Vergelyk, Grimes, R.L. 1987. “Ritual Studies”. in: Eliade, M. (red.). The Encyclopedia of Religion. Volume 12. New York: Macmillan Publishing Company, p. 422, Grimes, R.L. 1995. Beginnings in Ritual Studies. Revised Edition. Columbia: University of South Carolina Press, p. xi, Grimes, R.L. 1996. “Introduction” in: Grimes, R.L. (red.). Readings in Rituals Studies. Upper Saddle River, NJ: Prentice Hall, p. xiii-xv, Grimes, R.L. 2000. “Ritual”. in: Braun, W. en R.T. McCutheon (reds.). Guide to the Study of Religion. Londen/ New York: Cassell, p. 263, asook, Post, P.G.J. 1997. “Liturgische bewegingen: een literatuurbericht”. Praktische Theologie 24/1, p. 64, Post, P.G.J. 2006, p. 89-111, en Lukken, G. 1999, p. 12-13, asook, Lukken, G. 2001. “De ‘overkant’ van het menselijk ritueel. Herbezinning vanuit fenomenologie en semiotiek op antropologische en theologische lagen in het christelijk ritueel”. Tijdschrift voor Theologie 41, p. 147.

43 Grimes, R.L. 1995, p. xii.

44 Vergelyk onder andere in hierdie verband, Grimes, R.L. 1995, “Preface to the revised edition”. Vergelyk ook hoofstuk 2 van, Grimes, R.L. 2000b. Deeply Into The Bone.Re-Inventing Rites of Passage. Berkeley/ Los Angeles/ Londen: University of California Press, p. 87–148.

45 Grimes, R.L. 1995,p . xiii.

46 Ibid., p. xvii.

47 Cf. Post, P.G.J. 2006, p. 95.

48 Sien, Post, P.G.J. 2001b, p. 88.

49 Ibidem

50 Vergelyk, Grimes, R.L. 1987, p. 422.

51 Sien, Lukken, G. 1999, p. 16.

52 Cf. Post, P.G.J. 2006, p. 96-99.

53 Cf. Van Tongeren, L. 2006.

54 Vir een van die min pogings wat hierdie ontwikkelinge alreeds in sy aanpak verreken het sien, Stringer, M.D. 2005. A Sociological History of Christian Worship. Cambridge: Cambridge University Press.

55 Cf. Wepener, C.J. 2006. “Participation and power: Opportunities for method and theory in liturgical research from a changing (Dutch Reformed) South African liturgical landscape”. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 22, 49-66.

56 Booyens, B. 1982. Nagmaalsnaweek deur die jare. ’n Kerkhistoriese studie. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

57 Sien Godby, M. 2005. Graven Images. Universiteit van Stellenbosch, asook, Wepener, C.J. en J.H. Cilliers. 2004.