Opstanding in die boek Daniël
ABSTRACT
Resurrection in the Book of Daniel
Daniel 12:1-3 refers to the resurrection but the exegesis of these verses is complicated and causes various problems for researchers. Questions arising out of the exegesis are: Does Daniel 12:1-3 teach a general resurrection, a resurrection for Israel, or a resurrection of a chosen group such as the martyrs from the Antiochan persecution? Is the resurrection tradition Israelite in origin or is it based on other religions and its traditions? Is resurrection defined as a life of eternal bliss and suffering for the righteous and evil respectively? Is it limited for a certain period? Is the image of resurrection related to individuals or to the corporate nation of Israel? In this article an exegesis of relevant themes in Daniel 12:1-3 is undertaken before a theological synthesis is given. The conclusion is that Daniel 12:1-3 contributes in various ways to Judaist thinking about the topic of resurrection, vindication of the righteous, and judgment of righteous and evil people.
1. INLEIDING
Daniël 12:1-4 verwys ongetwyfeld na die opstanding van die dooies, maar dié uitspraak is gekompliseerd en veroorsaak verskeie probleme vir navorsers. Die rede hiervoor is te vinde in verskeie onopgeloste eksegetiese probleme wat deur die teks veroorsaak word. Vrae wat hieruit ontstaan, is onder andere: Verkondig Daniël 12:1-4a ´n algemene opstanding van die dooies, of is die opstanding slegs op Israel gerig, of is die opstanding slegs op ´n uitverkore groep binne Israel gerig? Is die belofte van die opstanding gerig aan die adres van die martelare van die Makkabese oorlog, of is dit gerig aan almal wat nie die hellenistiese party onder die Jode steun nie? Is die uitspraak oor opstanding ´n egte Israelitiese geloofstradisie of is dit gebaseer op tradisies van ander godsdienste, byvoorbeeld die Zoroastriese godsdiens? Is die mense wat opstaan beperk tot ´n lewe op aarde, kan hulle verwag om ewig te lewe, of is hulle bestaan gekoppel aan die hemel? Dié en soortgelyke vrae vereis dat navorsers noukeurig en sorgvuldig na die eksegetiese navorsing van Daniël 12:1-4a kyk.1
2. EKSEGESE VAN DANIËL 2:1-4a
Daniël 12:1-4a is deel van die visioen wat strek van Daniël 10:1 tot 12:13. Dit is die langste en mees omvattende visioen in die Daniëlboek, met die meeste verwysings na historiese gebeure.
Die genre van dié gedeelte is ´n apokalips, en dié subseksie van die Boek van Daniël pas volledig die definisie wat Collins (1979:9) vir ´n apokalips bied: “a genre of revealed literature with a narrative framework, in which a revelation is mediated by an otherworldly being to a human recipient, disclosing a transcendent reality which is both temporal, insofar as it envisages eschatological salvation, and spatial, insofar as it involves another, supernatural world”. Apokalipse val volgens die SML-definisie in twee subgenres: dié met buite-wêreldse reise en dié met ´n historiese oorsig. Daniël 10-12 val binne die subgenre van “historiese apokalipse”, wat gekenmerk word daardeur dat die historiese gegewens aangebied word as kwasi-profesieë wat lank vantevore opgeteken is maar eers in die huidige tyd openbaar gemaak mag word (sogenaamde ex eventu-profesieë).
Redelike konsensus bestaan tussen navorsers dat Daniël 10-12 in drie seksies verdeel kan word: ´n inleiding (10:1-11:1), die openbaring self (11:2-12:4) en ´n epiloog (12:5-13). Navorsers stem egter nie saam hoe die inleiding gestruktureer is nie.
Daniël 9 sowel as 10-12 is volgens Lucas (2002:264) se klassifisering epifanie-visioene, terwyl Daniël 7 en 8 simboliese visioene is.2 Die struktuur van Daniël 9 en 10-12 toon verskeie ooreenkomste.
Die openbaring (11:2-12:4) kan soos volg geanaliseer word:
Inleidende opmerking - 11:2a
Konings van Persië – 11:2b
Baie sterk koning – 11:3-4
Konflikte tussen suidelike en noordelike konings – 11:5-9
Opkoms en val van die koning van die noorde – 11:10-19
Koning wat belasting invorder – 11:20
Loopbaan van ´n veragtelike persoon – 11:21-45
• Sy opgang – 11:21-24
• Sy aanval op die suide en heilige verbond – 11:25-28
• Nog aanvalle op die suide en heilige verbond – 11:29-35
• Sy aanval op die God van die gode – 11:36-39
• Sy finale aanval, en ondergang – 11:40-45
Uitkoms vir die getroues – 12:1-3
Gevolgtrekking: opdrag om boek te verseël – 12:4a
´n Hemelwese verskyn op die toneel om die hoorder vir die visioene voor te berei (10:1-19). Daarna word die openbaring beskryf (10:20-12:3). Dit word as die hoogtepunt van die boek voorgehou – Daniël ontvang twee maal ´n openbaring (10:1 ´n egte of ware openbaring), wat moeilik is om te verstaan. In die laaste deel (12:5-13) word oor die tyd van die vervulling van die openbaring gepraat.
Die doel van die skrywer is om voor te stel wat in die toekoms gaan gebeur, tot die tyd van die vervulling van die visioen. Dat dié gebeure opgeskryf kan word, beteken dat dit vasstaan, met ander woorde dat God dit vasgestel het. “History will proceed according to this script” (Anderson 1984:128). Dié gedagte het troos ingehou vir gelowiges wat onder Antiochus se hellenisasiebeleid gely het vir hulle getrouheid aan die Joodse godsdienstige tradisie – niks méér kan gebeur nie as wat God bepaal en laat opskryf het.3
Daniël 10:4 verduidelik dat die openbaring drie weke voor 24 Nisan (die eerste maand) geplaas word. Dit beteken dat Daniël nie die Paasfees of die fees van die ongesuurde brode gevier het nie omdat hy getreur en gevas het. Die leser sou die datum herken het en heel moontlik daarin ´n verwysing na Antiochus IV se verbod om die godsdienstige feeste te vier, gesien het. Of moontlik was dit ´n voorbereiding van Daniël se kant om die openbaring te ontvang (Le Roux 1995:121). Porteous (1979²:151) meen dat die verwysings in Esra 8:21 en 2 (4) Esdras 5:20 impliseer dat Daniël se vas beteken dat hy homself verneder het sodat hy gereed sou wees om die openbaring te ontvang.
Dat die geloofsheld nie in die tradisionele vier bekers wyn en ongesuurde brood van die fees van die ongesuurde brode deel nie, het vir latere Joodse kommentators hoofbrekens verskaf. So meld Anderson (1984:121) dat Ibn Ezra meen dat die eerste maand nie na die kalenderjaar verwys nie maar na die tyd wat Kores (Cyrus) die troon bestyg het. Dit veroorsaak dan dat Daniël se vastyd nie in die belangrike vastyd val nie.
Die openbaring vind plaas in die derde regeringsjaar van Kores van Persië, wat na die jaar 537 vC. verwys, wat beteken dat die eerste groep Joodse ballinge reeds na Jerusalem teruggekeer het. Daniël sou dan saam met talle van sy volksgenote agtergebly het.
In Daniël 12 projekteer die skrywer die finale veldslag waarin Antiochus IV tot sy einde gaan kom, op die hemel om te toon dat God by alles betrokke is. Migael tree as Israel se verteenwoordiger en beskermengel op om die oorwinning namens Israel te behaal.
Daniël 12:1-4a bestaan dan volgens dié indeling as ’n selfstandige eenheid uit drie segmente:
1. In die eerste segment (Dan 12:1a; 1b) word die situasie van Israel beskryf;
2. In die tweede deel kondig die skrywer die redding aan van almal wat uitverkies is (Dan 12:1c);
3. En in die derde deel gaan dit om die inhoud van die redding: hulle sal opstaan uit die dood (Dan 12:3).
Die derde deel vorm die hoogtepunt van die spanningslyn (Hasslberger 1977:294-296).
Die drievoudige gebruik van bā’ēt hahi’, wat terug verwys na die begin van Daniël 11:40, dui aan dat die gebeure steeds in die periode van Antiocheense vervolging val, en nie op ´n gebeure in die verre toekoms wys nie (vgl ook Dan 8:17, 19; 11:35, 40). In daardie tyd sal Migael opstaan oor die Jode. Dié beeld neem die leser agter die skerms sodat hy/sy sien wat in die hemel gebeur, en wat bepalend is vir die uitslag van die stryd op aarde wat tot die swaar tyd aanleiding gee, swaarder as wat Jode nog ooit beleef het. Young (1972:255) en Lacocque (1979:242) voer aan dat Migael se optrede in militêre terme verstaan moet word. Nickelsburg (1972:11-27) voer weer aan dat die gebruik van ‘md op ´n geregtelike stryd dui, soos in Sefanja 3:1. Dié beskrywing dien dan as ´n parallel vir die oordeelstoneel in Daniël 7:9-10. Collins (1993:390) oordeel dat Migael se rol as beide juridies en militêr beskou moet word – hy verteenwoordig Israel in die hemelse hof en voer God se oordeel uit wanneer die besluit ten gunste van Israel geneem is.
Die begrip, ēt tsārāh, kom slegs sewe keer in die Hebreeuse Bybel voor. Vers 1 funksioneer moontlik teen die agtergrond van ´n verwysing na Jeremia 30:7. Jeremia praat met die ballinge in Babel, en beskryf die swaar tye wat hulle beleef as ongeëwenaar in die geskiedenis van Israel. Nou word die Antiocheense vervolging in dieselfde terme beskryf. Wat die Jode nou beleef, kan vergelyk word met die Judese ballingskapsgebeure, wat die potensiaal ingehou het dat die uitverkore volk vernietig kon word.
In daardie tyd sal diegene uit die Joodse volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. Die “boek” is nie die boek van die waarheid van Daniël 10:21 nie, en ook nie een van die boeke van oordeel wat geopen word waarvan Daniël 7:10 vertel nie. Die eerste lesers sou eerder dink aan die “boek van die lewe” van Eksodus 32:32-33, asook aan die lys van vromes in Israel (Ps 69:28[29]; 139:16; Mal 3:16-18) en die Godsvolk van die eindtyd (Jes 4:3; Ps 87:6). Dié boek bestaan uit die name van almal wat lede van die verbondsgemeenskap is, maar bevat ook die name van mense wat die boosheid nagestreef het (Ps 149:9; Jes 65:6; vgl Haag 2002:134). In 4Q504, die Qumrandokument bekend as Die Woorde van die Hemelse Ligte, kom ´n parallelle teks voor, wat ´n gebed afsluit met die woorde: “red u volk Israel...elke mens wat ingeskryf is in die Boek van die Lewe” (Lucas 2002:294). Aan die geregtelike kant is Migael se ingryping gebaseer op hierdie lys van mense wie se name vir die lewe opgeskryf is. Die “redding” kan dui op bewaring in en deur die versoeking of, in die geval van die martelare, die uiteindelike redding van die dood waarvan die volgende verse vertel.
Daniël 12:2-3 is die enigste duidelike stelling wat van die opstanding van dooies in die Hebreeuse Bybel getuig. Ander verwysings na die onderwerp verwerp enige opstanding, soos Job 14:12, of gebruik dit metafories vir die terugkeer van die volk uit ballingskap (Eseg 37; Hos 6:2; Jes 26:19). Die moontlikheid is geopper dat Daniël 12:2-3 ook na die herstel van die volk verwys, maar die verwysing na “baie van dié wat dood is” asook dat sommige die lewe sonder einde sal ontvang terwyl ander vergeld sal word met skande en veragting wat nooit ophou nie, versterk die indruk dat hier eerder van ´n werklike opstanding van die dooies sprake is. Ook die verwysing in vers 3 na verstandige leiers of wyses skep dié indruk, omdat van spesifieke individue sprake is.
Die beelde van “slaap” en “wakker word” kom gereeld in die Hebreeuse Bybel voor as metafore vir dood en opstanding (2 Kon 4:31; Jes 26:19; Jer 51:39, 57; Job 14:12; vgl Schüpphaus 1970:1032-1035). Haag (2002:135; vgl Esterhuise 2009:135) wys op die analogie met die Kanaänitiese Ba’algodsdiens waar die vegetasiegod jaarliks sterf en opstaan, en meen dat dit die agtergrond verskaf vir die Daniëlbeeld van opstanding as “wakker word uit die doodslaap”.
In Job 17:16 dien “stof” as parallelisme vir “Sjeool”. Talmon (1960:167-168) is van opinie dat Daniël 12:2 se verwysing na “land” in “land van die stof” ´n sekondêre byvoeging is as die skrywer twee sinonieme saamvoeg. Dit is eerder ´n direkte verwysing na Genesis 3:19.
Oor die begrip “baie” in vers 2 bestaan daar sterk meningsverskil onder navorsers. Jeremias (1968:536-545) het reeds aangetoon dat die term vir “almal” gebruik kan word, en dat die vers dus na ´n algemene opstanding verwys. Die preposisie wat daarmee saam gebruik word, min, word die beste in partitiewe sin verklaar, wat impliseer dat slegs sommige uit die dood sal wakker word en uit die graf sal opstaan. Die konteks (11:33-35; 12:3) stel voor dat dié beperkte groep uit die getroue Jode bestaan wat vir hulle geloof gesterf het. Hulle sal die “ewige lewe” geniet. Dié uitdrukking kom slegs hier in die Hebreeuse Bybel voor. Ander, by implikasie die vervolgers, sal opstaan tot ewige skande en veragting. Die enigste ander plek waar die term dir’ôn voorkom, is in Jesaja 66:24. Daar verwys die term na die verrottende liggame van die mense wat teen God in opstand gekom het en wat afgryslik is vir die mense wat dit sien. Jenny (1997:856) meen die konstruksie “baie ... party” dui nie op twee groepe wat uit die dood opstaan nie, maar kontrasteer eerder dié wat opstaan (tot die ewige lewe) teenoor dié wat in die graf bly (tot ewige skande en veragting). Hartman & DiLella (1978:308) en Lacocque (1979:243-244) stem saam terwyl ander navorsers eerder na twee groepe kyk wat opstaan, elk tot onderskeie lotsbestemmings (Plöger 1965:171; Lebram 1984:134; Collins 1993:393). Daniël 12:2 gaan verder as Jesaja 66:24 om die lot van die bose te beskryf, alhoewel dit nie hierop uitwei nie.
Die term “ewige” dui volgens Jenni (1997:853) nie noodwendig op “ewigheid” in die aanvaarde Westerse sin nie maar eerder op die basiese betekenis van “most distant time”, met verwysing na die verlede of die toekoms, of beide. Mettertyd het dit die betekenis gekry “as a kind of range between ‘remotest time’ and ‘perpetuity’”. Die term kan in Daniël 12:2 na “tyd sonder einde” verwys, maar goedskiks ook na “´n baie lang tyd”.
“Die wyses” word beskryf in terme van “hulle wat baie tot geregtigheid lei” (v. 3; Jeffery 1956:543). Die woordbeeld “wyses” saam met die participium hiphil van lkv het in die kousatiewe stam die betekenis van “om insig te hê, te verstaan” (Haag 2002:137). Die twee frases word parallel gebruik, en Ginsberg (1953:247) meen dat “die wyses” geïdentifiseer word met die dienskneg van Jesaja 52:13-53:12. Die begrip “goed gaan met” in Jesaja 52:13 kom van dieselfde wortel as die woord wat vir “wyses” in Daniël 12:2 gebruik word, en kan ook die betekenismoontlikheid van “om wys te wees” hê. Vir die “dienskneg wat baie wys sal maak”, vergelyk Daniël 12:3 wat die verhoging van die wyses in dieselfde terme beskryf as die verhoging van die dienskneg in Jesaja 52:13. Die skakeling met die lydende dienskneg verleen ook ondersteuning aan die gedagte dat die (martel)dood van “die wyses” ’n plaasvervangende effek het en dat dit die manier is waarop hulle baie tot geregtigheid lei (Lacocque 1979:230). Dié gedagte kom egter nie self in Daniël voor nie. Daniël 12:3b moet eerder parallel aan Daniël 11:33a gelees word, wat aandui dat dit deur hulle lering is dat die wyses die nodige effek het, en dat dit die hoofverdienste van die wyses is. In albei gevalle dui “baie” op daardie Jode wat getrou aan JHWH en sy Tora gebly het. “Der Ausdruck ‘die Vielen’ ist darum vermutlich ebenso wie die Redeweise von den ‘Verständigen’ ein apokalyptisches Motivwort, mit dem man in der Zeit des makkabäischen Religionskampfes den Rest Israels bezeichnet hat, der in der als Läuterungsgericht erfahrenen Enddrangsal seiner Vollendung gläubig entgegenging” (Haag 1986:79-80).
Die beeld dat dié wat opgewek is, sal “skitter” hou ook verband met Jesaja 26:19b. Lacocque (1979:244-245) asook Collins (1993:393-394) meen die belofte dat “die wyses” soos die sterre sal skitter verwys daarna dat hulle soos die engele sal word. Collins staaf sy argument deur te verwys na Henog 104:2-6: “Wees vol hoop, want vroeër is julle deur ellende en siekte tot skaamte gedwing, maar nou sal julle skyn soos ligte van die hemel, julle sal skyn en julle sal gesien word, en die poorte van die hemel sal vir julle oopgemaak word” (v 2, vertaal deur Combrink 1994:102). Goldingay (1989:308) meen eerder dat die frase “soos die sterre” “compares the discerning of these, but does not necessarily thereby suggest that they will be located among them, still less will become stars/angels” (ook Nickelsburg 1972:26 se standpunt). Haag (2002:139) herinner dat die werkwoord rhz ´n dubbele betekenis het, “om te skyn” en “om te waarsku”. Wat hier gebeur, is dat die visioen apokaliptiese taal gebruik wat vroeër in Skrifgedeeltes gebruik is om hoop te verwoord (Jes 26:19; 52:13; 53:12). Goldingay (1993:301) meen dat Daniël 12:1-3 handel oor die vernuwing van aardse lewe soos ook in Esegiël 37, Jesaja 26:19-20 en 66:18-24 beskryf, maar daarmee saam moet vermeld word dat die indruk in Daniël is dat ´n groot transformasie van een of ander aard gaan plaasvind. Die gedeelte is egter te kripties om enige definitiewe afleidings oor die aard en omvang van die transformasie te maak. Lederach (1994:255) is korrek as hy hierin ´n duidelike kontras en ironie sien: Antiochus is die wyse een wanneer dit by intriges kom en hy reik na die sterre. Maar hy word omgekeer deur die werklike wyses wat nie na die sterre reik nie maar die gawe ontvang om soos die sterre te skyn, en nie slegs vir ´n leeftyd nie maar vir ewig (of baie lank).
Vers 4a bevat die opdrag om die boek te verseël, soos ook in Daniël 8:26. Weer kom die troosvolle geloofswaarheid voor dat God in sy beplanning van die geskiedenis van die aarde die lot van sy uitverkorenes in die eindtyd bepaal het – “die Aufstehungsherrlichkeit in der Lebensgemeinschaft mit ihm bereithält” (Haag 2002:140). Die visioen word verbind aan ´n figuur uit die ou tyd en die bevel om die boek te verseël, dien die funksie om die narratief as kwasi-profesie voor te hou. Trouens, die plasing van die opdrag in Daniël 12:4a, aan die einde van die visioene, impliseer dat die opdrag op die hele boek toegepas moet word. Moontlik kan hierin ook ´n aanduiding wees dat beide die stories en visioene onbekend buite die kringe van “die wyses” was, wat dit bewaar het tot dit nodig geword het om dit te openbaar in die tyd van Antiochus IV.
3. OPSOMMEND OOR DANIËL 2:1-4A
Daniël 12:1-4a bevat die enigste duidelike bevestiging van geloof in die opstanding in die Hebreeuse Bybel (vgl Haag 1986:31-93; ekskursie oor opstanding in Collins 1993:394-398). Ou-Israel het geglo dat mense wat doodgaan ´n skaduagtige bestaan in Sjeool voer waar hulle geen kontak met die wêreld het nie behalwe in buitengewone omstandighede, en ook JHWH nie kan prys nie (Pss 6:5; 30:9; 88:10-13 [11-14]; 115:16-17; Pred 9:5-6). Oorledenes het bloot in die gedagte van afstammelinge geleef en wanneer die laaste afstammeling uiteindelik van hulle vergeet, gaan hulle in die grysheid van die doderyk se vergetelheid op. Volgens Job 14 wens die hoofkarakter dat die opstanding kan plaasvind as antwoord op sy teodisee-probleem maar kom dan tot die gevolgtrekking dat so iets nie moontlik is nie (vv 11-12): “Tot die hemele ophou bestaan, sal hulle nie weer wakker word of uit hulle slaap gewek word nie” (NLV-weergawe).
Mettertyd het daar in Israel drie gedagterigtings ontstaan wat in die laaste deel van die Hebreeuse Bybel gereflekteer word en wat voorsien dat daar betekenisvolle lewe ná die dood moontlik kan wees.
´n Eerste gedagterigting kom in enkele psalms voor waarin die digter se intieme verhouding met JHWH, wat voortspruit uit ´n ervaring van swaarkry en lyding, tot die gevolgtrekking lei dat nie eens die dood hierdie verhouding kan verbreek nie (Pss 16:9-11; 73:23-26 en moontlik 49:15[16]). Oor die aard van so ´n bestaan word niks verder gesê nie.
´n Tweede gedagterigting kom in enkele gedeeltes voor wat die herstel van die volk Israel metafories as ´n opstanding beskryf, wat volg op die oordeel van God soos ervaar in die Babiloniese ballingskap. Hosea 6:2 se “Hy sal ons na twee dae laat aansterk en op die derde dag weer laat opstaan sodat ons in sy teenwoordigheid kan lewe” is duidelik metafories. Dieselfde gebeur met die treffende beeld in Esegiël 37 waar die vallei van droë bene in lewende wesens verander. Dié bene is die hele huis van Israel. Hulle word bedreig deur die sterk mag van die dood, wat as analogie vir die fataliteit van ballingskap dien. Die vlakte verwys na die oop gebiede in Mesopotamië, waar Israel in ballingskap is, as geografiese teenstelling met die berge in die land van Israel (Noordtzij s.a.:110; Aalders 1957:197). En wat belowe word, is die terugkeer van die ballinge uit Babel en die herstel van die volk in hulle tuisland (v 12). Soos onder die vorige punt aangedui, speel Jesaja 26:19-21 ook ´n belangrike rol in die gedagte van opstanding. Sommige sien hierin ´n hoop vir individuele opstanding terwyl ander dit in dieselfde metaforiese sin lees as wat in Esegiël voorkom (Hasel 1980:267-284 bespreek standpunte van navorsers aan beide kante). Die gedeelte verwys na die dood van inwoners van die aarde (v. 21), wat eers oor Israel regeer het, terwyl Israel nou anders behandel gaan word. Die konteks stel myns insiens voor dat ´n metaforiese interpretasie van die gedeelte die beste verduideliking bied.
´n Derde gedagterigting kom in die boek Job voor, met Job 19:23-27 as crux interpretum. Die gedeelte het verskeie eksegetiese, leksikale en teksprobleme. In verse 23-24 spreek Job drie maal die wens uit dat sy saak permanent opgeteken kan word (bv aan die begin van v 23). Die rede hiervoor word in die volgende verse gebied (vv 25-27). Job se woorde in vers 25, ek, ek weet, word elders gebruik om sekerheid uit te druk (bv in 9:2, 28; 13:18). Job is seker dat sy Losser (go’el) leef, die een wat sy saak sal behartig sodat sy onskuld bewys sal word, selfs ná sy dood. Dit is moeilik om te bepaal of die drievoudige uitdrukking, “om God te sien”, ´n uitdrukking van sekerheid of van hoop is. Die oortuiging word waarskynlik onder woorde gebring dat Job verwag dat hy bewus sal wees van die dag dat hy geregverdig sal word as die onskuldige. Wat belangrik is, is dat die Jobboek die geloof verwoord dat die teodisee-probleem opgelos sal word deur eskatologiese regverdiging van vroom mense, as ´n wyse waarop sin gemaak word van onregverdige lyding in hierdie lewe wat nie voor die dood reggestel word nie. Die Diensknegliedere van Jesaja bevat dieselfde gedagte. Die regverdige mens se deelname aan God se werk lei noodwendig tot lyding, verwerping en selfs die dood maar die dienskneg sal geregverdig en beloon word, selfs verby die dood (Jes 52:13-53:12 en veral 53:10-12). Die aard van bestaan ná die dood word nie in Job of Jesaja 53 beskryf nie. Die klem val eerder op beloning van regverdiges verby dié lewe.
Die gedagte van opstanding kan moontlik sover teruggevoer word as die skeppingsverhaal in Genesis 2, waar vers 7 sê: “Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ’n lewende wese geword het.” Opstanding is ´n herbevestiging van die skepping van die mens, soos in Esegiël se beelde duidelik word, dat die mens uit die aarde herskep word en God sy asem in die mens se neus blaas. Dié asem of gees word dikwels in Ou Testamentiese denke in verband met God se werk gebring (Ps 104:29; Gen 6:3, 17; 7:15, 22; Num 16:22; 27:16; Job 10:12; 12:10; 17:1).
Elkeen van die drie gedagterigtings dra by tot die uitdrukking van geloof in die opstanding in Daniël 12:1-3. Die verhale in Daniël 3 en 6 wys dat God mense wat getrou aan Hom bly, nie sal verlaat nie wanneer hulle voor die dood te staan kom. Dit was egter die verdrukking onder Antiochus IV, wat die sentrum van Daniël 7-11 vorm, wat aanleiding gegee het tot die uitdruklike geloof in die opstanding en die gepaardgaande oordeel ná die dood. Weer eens is die klem op beloning van regverdiges verby dié wêreld. Die refleksie van Jesaja 52:13 en 53:11 in Daniël 12:3 dui aan dat die gedagte ontstaan het in Jesaja se bespreking van die regverdiging van die dienskneg wat ly. Die aanvaarding dat mense uit die dood sal opstaan en oor hulle dade geoordeel sal word, bied antwoorde vir belangrike vrae wat die Antiocheense vervolging opgeroep het. Towner (1984:180) som die “theological truth-claims” wat hier gemaak word, so op:
1. Die wyse waarop God skynbaar met die boosheid wat in die wêreld voorkom, handel en wat moeilik vir mense is om te verstaan, sal ten einde laaste geregverdig word;
4. God neem dán boosheid ernstig op en gooi dit finaal en volledig omver;
5. Die gehoorsaamheid en getrouheid van mense wat regverdig voor God geleef het, sal geregverdig word. Ook dié wat vir hulle geloof gesterf het, sal geregverdig word deurdat hulle op een of ander manier beloon sal word;
6. Daarom kan gelowiges getrou aan God bly te midde van die historiese krisis waarin hulle hulle bevind, omdat God se goeie doel met hulle lewe uiteindelik sal triomfeer en dat nie eens die dood hulle sal kan skei daarvan nie.
Goldingay (1989:318) stel dit dat in Daniël se visioen geloof in ‘n persoonlike lewe ná die dood nie van geloof in die finale bereiking van God se doel geskei kan word nie. Individue staan op uit die dood maar nie met die doel dat hulle as individue heil beërwe nie. Die individu word deurgaans in verband gebring met die nuwe lewe en heerlikheid van die volk van God. So dui die “baie” van Daniël 12:3 op die korporatiewe herstel van die volk van God ná Antiochus IV sy verwoestingswerk voltooi het en deur God vernietig is. Dié punt kan maklik misgekyk word in ons Westerse samelewing se wêreldbeeld met sy klem op individualisme.
Daniël 12:1-3 bevestig geloof in opstanding en oordeel ná die dood maar geen ander inligting word gegee nie. Die gedeelte sê nie dat liggame opgewek sal word nie alhoewel die verwysings in Esegiël 37 en Jesaja 26 (wat soos geredeneer, nie na fisieke opstanding verwys nie) dikwels saamgelees word sodat die gedagte wyd aanvaar word dat die opstanding liggaamlik sal wees. Die lot van die bose mense word beskryf in terme van skande en veragting wat nooit ophou nie maar dit veronderstel nie noodwendig dat hulle sal ly nie, soos wel in die Nuwe Testament veronderstel word (bv in Mark 9:44-48). In Judaïsme, in die tyd dat die Daniëlboek ontstaan, bestaan reeds verskeie weergawes van geloof in die opstanding en oordeel. Die belangrikste hiervan word nou vermeld.
2 Makkabeërs 7, geskryf tussen 125 en 100 vC. (Van der Watt & Tolmie 2005:388), het met die oog op die lotgevalle van Joodse martelare in die tyd van die Makkabese godsdiensoorlog die leer van restitusie vir die vromes ontwikkel waarvan die belangrikste element die opstanding van die dode is, in duidelike teenstelling met hellenistiese voorstellings van die onsterflikheid van die mens (Kellerman 1979 bespreek die gegewens in besonderhede). Die verhaal handel oor die marteling van ´n moeder en haar sewe seuns wat deur hulle geloof in die uiteindelike regverdiging van vroom mense standvastig aan hulle geloof in JHWH bly, selfs in marteling en die dood. In die woorde van die vierde broer: “Ek wil graag deur mense doodgemaak word omdat ek op God hoop om my lewe vir my terug te gee. Maar wat julle betref: vir julle sal daar geen tweede kans vir ´n opstanding tot ´n nuwe lewe wees nie” (7:14; Van der Watt & Tolmie 2005:411-412). Die moeder redeneer: “... dit is die Skepper van hierdie wêreld wat elke persoon van die begin af skep. Hy is die oorsprong van alles. Uit sy genade sal Hy weer vir julle asem en lewe teruggee omdat julle nou ter wille van die wet bereid is om nie aan julleself te dink nie” (7:20; Van der Watt & Tolmie 2005:412). 2 Makkabeërs 12 verwys na Judas wat geld na Jerusalem stuur met die doel om ´n offer te bring vir die manne wat gesterf het met die doel dat hulle sondes vergewe kon word. Die rede vir sy optrede word beskryf in verse 43-45: “Hy het in gedagte gehou dat dooies weer opgewek gaan word. Immers, as hy nie verwag het dat daardie dooie manne weer lewendig sou word nie, sou dit geen sin gemaak het om vir die dooies te bid nie. Dit sou eintlik belaglik gewees het. Maar as hy dit gedoen het met die oog op die wonderlike beloning wat op die vroom mense wag wat reeds dood is, is dit ´n heilige en baie goeie daad. Daarom het hy ´n offer gebring sodat hulle sondes vergewe kon word en hulle weer God se vriende kon wees” (Van der Watt & Tolmie 2005:428).
Die Henogliteratuur glo baie duidelik in opstanding en oordeel, en dit sluit die oudste strata van die tradisie in wat uit die vroeë tweede eeu vC. dateer. Henog 22 beskryf hoe die geeste van die dood in afsonderlike vertrekke gehou word terwyl hulle op die oordeelsdag wag. Henog 27 beskryf die plek waar sondaars geoordeel sal word. Verwysings na die opstanding van regverdiges kom in Henog 91:10 en 93:2 voor. Henog 104:1-6 bring die regverdiges wat sterf in verband met die hemelse leërs.
Qumran se getuienis oor opstanding en dood is dubbelsinnig. Die fragmentêre 4Q521 het ´n duidelike verwysing na die opstanding: “Hy sal die verwondes genees en die dooies opwek en goeie nuus bring aan die armes” (kol 1 lyn 12). Die onderwerp is moontlik God, maar dit kan ook na die messias verwys. En Vermes (1992:58) beklemtoon dat die rol wat dié dokument in die Qumrangemeenskap gespeel het, onduidelik is. Die Hôdājôt is liedere wat deur die gemeenskap gebruik is, en 1QH 11:12 verwys moontlik na liggaamlike opstanding, wat deur Vermes (1995:223) vertaal word: “that bodies gnawed by worms may be raised from the dust”. Die taal is egter obskuur en die vertaling bied ook ander moontlikhede. Geloof in beloning en straf ná die dood is baie duidelik verwoord in die Qumran Gemeenskapsreël, waar 1QS 4:7 praat van “nimmer eindigende seën en ewige vreugde in die lewe sonder einde, ´n kroon van heerlikheid en ´n kleed van ewigdurende majesteit in lig wat nooit eindig nie” vir dié mense wat God vrees, vergeleke met “ewige verdoemenis deur die wraakgeldende woede van God, ewige foltering en eindelose skande saam met skandelike uitwissing in die vuur van die donker gebiede” vir die bose.
Die Wysheid van Salomo (hoofstukke 2–5) beskryf bestaan ná die dood in terme van onsterflike geeste eerder as opgewekte liggame terwyl dit ook duidelik stel dat alle mense ná die dood geoordeel, en beloon of gestraf sal word. Jubilees handhaaf dieselfde standpunt as dit die bestaan van die regverdiges na die dood beskryf: “hulle bene sal in die aarde rus en hulle geeste sal baie vreugde hê, en hulle sal weet dat dit die Here is wat oordeel uitvoer” (23:31).
Die Wysheid van Ben Sirag reflekteer die ouer standpunt dat daar geen betekenisvolle bestaan ná die dood is nie, slegs die skaduagtige bestaan van Sjeool (17:27-28; 30:17; 41:4). Tog is Ben Sirag bewus dat die bose mense dikwels vergelding in dié lewe ontsnap. Sy antwoord daarop is dat God met mense handel op “die dag van die dood” (11:20-28). Die oordeel vind plaas in die laaste oomblikke van ´n mens se lewe, op ´n wyse wat nie vollediger beskryf word nie.
Dié verskeidenheid van standpunte kom ook in die Nuwe Testament voor, as die Sadduseërs glad nie in die opstanding glo nie (Mark 12:18). Paulus speel juis in op dié sentiment as hy as gewese Fariseër voor die Joodse Raad verskyn, volgens Handelinge 23:6-8. Paulus glo dat die opstanding van Jesus gebeur het “volgens die Skrifte” (1 Kor 15:3-9).
Die kort oorsig oor Ou Testamentiese gegewens rakende die opstanding dui aan dat Daniël 12:1-3 ´n omvangryke en grondliggende bydrae tot dié onderwerp gelewer het. Dié gedeelte bevat moontlik die enigste bevestiging van geloof in opstanding in die Hebreeuse Bybel, teenoor ou-Israel wat geglo het dat mense wat sterf, in Sjeool ´n skaduagtige bestaan voer, waar hulle geen kontak met JHWH kan hê nie en ophou bestaan wanneer hulle uit die gedagtenis van mense verdwyn.
Daniël 12:1-3 is gebaseer op die beelde wat in Esegiël 37 en Jesaja 26 voorkom, maar dáár word opstanding as metafoor vir die terugkeer van die Judeërs uit ballingskap gebruik. Die rede hoekom geloof in opstanding in Daniël verwoord word, het te doen met die situasie waarin die Jode hulle bevind, met Antiochus IV se verpligte hellenisasiebeleid wat Jode voor die keuse stel om hulle geloof te kompromitteer of vir hulle geloof te sterf. Die gevolg was dat daar heelwat Judese martelare was, en hieruit groei die vraag na hulle regverdiging. Die antwoord wat Daniël 12 bied, is dat gelowiges wat ter wille van hulle getrouheid aan JHWH sterf, in ´n oordeel ná die dood, tydens die opstanding, geregverdig en ook beloon sal word.
Dié weergawe van bestaan ná die dood is nie die enigste wat rondom die tweede eeu vC. geformuleer word nie. Die boeke van 2 Makkabeërs asook Henog ondersteun die gedagterigting wat in Daniël 12 bestaan terwyl Qumran se getuienis dubbelsinnig is, die Wysheid van Salomo lewe na die dood in terme van ´n nie-liggaamlike bestaan as onsterflike geeste beskryf en die Wysheid van Ben Sirag, soos ouer geskrifte, geen ruimte laat vir enige sinvolle bestaan ná die dood nie.
LYS VAN AANGEHAALDE WERKE
Aalders, G Ch 1957. Ezechiël. Commentaar op het oude Testament. Kampen: J H Kok.
Anderson, R A 1984. Signs and wonders. A Commentary on the Book of Daniel. Grand Rapids: Wm B Eerdmans.
Bentzen, A 1952. Daniel. HAT 19. Tübingen: Mohr-Sibeck.
Collins, J J 1979. The Jewish apocalypses. Semeia, 14, 1-59.
--- 1993. Daniel: A Commentary on the Book of Daniel. Hermeneia. Minneapolis: Fortress.
Combrink, J 1994. Die boek van Henog. Mosselbaai: Libanon.
Esterhuyse, W 2009. God en die gode van Egipte. In die voetspore van die onsienlike ... Wellington: LuxVerbi.BM.
Ginsberg, H L 1953. The Oldest Interpretation of the Suffering Servant. Vetus Testamentum 3:400-404.
Goldingay, J E 1989. Daniel. WBC. Dallas, TX: Word.
Goldingay, J 1993. Story, vision, interpretation: Literary approaches to Daniel, in Van der Woude, A S (ed) 1993. The book of Daniel in the light of new findings. Leuven: Leuven University Press, 295-314.
Haag, E 1986. Seele und Unsterblichkeit in blblischer Sicht, in Breuning, W (Hg.). Seele, Problembegriff christlicher Eschatologie, 31-93. QD 106. Freiburg: Herder.
--- 2002. Daniel 12 und die Auferstehung der Toten, in Collins, J J & Flint, P W (eds.). The Book of Daniel. Composition and Reception. Vol 1. Boston, Leiden: Brill.
Hartmann, L F & DiLella, A A 1978. The Book of Daniel. AB 23. New York: Doubleday.
Hasel, G F 1980. Resurrection in the Theology of Old Testament Apocalyptic, Zeitschrift für die Alttestamentliche Wissenschaft 92:267-284.
Hasslberger, B 1977. Hoffnung in der Bedrängnis. Eine formkritische Untersuchung zu Dan 8 und Dan 10-12. St Ottilien: Eos.
Jeffery, A 1956. The Book of Daniel, in Buttrick, G A et al (eds). The Interpreter’s Bible, 6:339-549. Nashville, TN: Abingdon.
Jenni, J 1997. ~l’A[, in Jenni, E & Westermann, C. Theological Lexicon of the Old Testament, 852-862. Peabody: Hendrickson.
Jeremias, J 1968. Polloi, in Theological Dictionary of the New Testament, 6:536-545. Grand Rapids: Wm B Eerdmans.
Kellerman, U 1979. Auferstanden in den Himmel. 2 Makkabäer 7 und die Auferstehung der Märtyrer. Stuttgart: Katholisches Bibelwerk.
Lacocque, A 1979. The book of Daniel. Translated by David Pellauer. London: SPCK.
--- 1988. Daniel and his time. Studies of personalities of the Old Testament. Columbia: University of South Carolina Press.
Lebram, J C 1984. Das Buch Daniel. Züricher Bibelkommentare AT 23. Zürich: Theologischer Verlag.
Lederach, P M 1994. Daniel. Believers Church Bible Commentary. Scottdale, PA: Herald.
Le Roux, C 1995. Profeet en Politiek. Daniël. Die Woord vir die mense. Halfway House: Orion.
Lucas, E C 2002. Daniel. Apollos Old Testament Commenatry. Leicester: Apollos. Downers Grove: InterVarsity.
Montgomery, J A 1927. The Book of Daniel. ICC. Edinburgh: T & T Clark.
Nickelsburg, G W E 1972. Resurrection, immortality, and eternal life in Intertestamental Judaism. Cambridge: Cambridge University Press.
Noordtzij, A s.a. De profeet Ezechiël. Opnieuw uit de grondtekst vertaald en verklaard. Kampen: Kok.
Plöger, O 1965. Das Buch Daniel. Kat 18. Gütersloh: Mohn.
Porteous, N (1979². Daniel. Old Testament Library. Revised edition. London: SCM.
Schüpphaus, J 1970. ןשי, in Botterweck, G J & Ringgren, H (eds.). Theologisches Wörterbuch zum Alten Testament, 3.1032-1035. Stuttgart: Verlag Katholisches Bibelwerk.
Talmon, S 1960. Double readings in the Massoretic Text, Textus 1:167-168.
Towner, W S 1984. Daniel. Interpretation. Atlanta, GA: John Knox.
Van der Watt, J & Tolmie, F 2005. Apokriewe Ou en Nuwe Testament. Verlore boeke uit die Bybelse tyd. Vereeniging: CUM.
Vermes, G 1992. Qumran Forum Miscellanea I. Journal of Jewish Studies 43:303-304.
--- 1995. The Dead Sea Scrolls in English. 4th edition. Harmondsworth: Penguin.
Young, E J 1972. Daniel. Geneva Commentaries. Edinburgh: Banner of Truth.
TREFWOORDE
opstanding, martelare, Antiocheense vervolging, regverdiging, Sjeool
KEY WORDS
resurrection, martyrs, Antiochan oppression, justification, Sheol
Prof Marius Nel
1 Nuttige eksegetiese werk is gedoen in onder andere Montgomery (1927); Bentzen (1952); Porteous (1979²); Plöger (1965); Lacocque (1979, 1988); Hartmann & Di Lella (1978); Lebram (1984); Collins (1993) en Lucas (2002).
2 Daar is byna net soveel klassifikasies as navorsers, wat aantoon hoe gekompliseerd die verskynsel van apokaliptiek is.
3 Vgl. hiermee saam Dan 2:21, deel van Daniël se lied oor God se albestuur.