Soorte vrae in 1 Korintiërs 1–4
ABSTRACT
Types of questions in 1 Corinthians 1–4
The approach in this article differs from that of traditional grammars and commentaries, where all questions are classified as either true or rhetorical, and their functions mainly described as part of the diatribe-style or as expressing vivid emotion. The identification of questions here is based on a model developed from speech act theory, which distinguishes six main and various sub-categories of non-true questions. This model is briefly summarised, followed by a systematic investigation of all the questions in 1 Cor 1–4.
The conclusion is that the proposed model is useful for distinguishing various types of questions within a scientific framework and for determining their communicative functions, thereby contributing to the translation and exegesis of the passages involved.
1. INLEIDING
Die vraagvorm as konstruksie word tot ’n meerdere of mindere mate in alle Griekse grammatikas en kommentare op die NT bespreek. Daar word gewoonlik net tussen egte vrae en retoriese vrae onderskei, terwyl inligting oor die funksies van die vraagvorme grootliks ontbreek. In die standaard grammatika van Blass, Debrunner en Funk (1967:262) word byvoorbeeld genoem dat retoriese vrae gebruik word om dialektiese gedeeltes duideliker te maak en emosies soos verbasing en verontwaardiging uit te druk, terwyl enkele kommentare ook sporadiese opmerkings daaroor bevat. Die soorte vrae met hulle funksies is egter nog nie sistematies ondersoek of binne ’n bepaalde teoretiese raamwerk beskryf nie.
Die doel van die artikel is om in die behoefte te voorsien aan die hand van ’n model, gebaseer op die taalhandelingsteorie. Die stof word soos volg verdeel:
• Soorte vrae in tradisionele grammatikas en kommentare.
• Die taalhandelingsteorie as raamwerk vir die onderskeiding van verskillende soorte vrae.
• Soorte vrae en hulle funksies in 1 Kor 1 – 4.
• Konklusie.
2. SOORTE VRAE IN TRADISIONELE GRAMMATIKAS EN KOMMENTARE
’n Tipiese voorbeeld van die wyse waarop Griekse grammatikas vrae as kategorie aan die orde stel, is die drie volumes van Moulton se Grammar of the New Testament Greek. In die eerste volume het Moulton (1908:287) dit oor die onderskeiding tussen mē/mēti en ou vrae. Die tweede volume bevat uiteraard geen bespreking van vrae nie, terwyl die derde volume (van Turner) oor sintaksis dit hoofsaaklik het oor die onderskeiding tussen direkte en indirekte vrae, en verder oor formele sake soos die verwarring tussen relatiewe en vraende voornaamwoorde, die beraadslagende vraag, partikels wat vraagvorme inlei en die gebruik van direkte vraende voornaamwoorde.
Soortgelyke sake is aan die orde in die meeste ander grammatikas soos dié van Winer (1882:373-376), Robertsen (1919:1043-1046; 1175-1177); Chamberlain (1957:204-210); Goetchius (1965:228-233); Argyle (1965:20, 105-106) en Nunn (1973:82, 127). Burton (1955:76-78) onderskei tussen “questions of fact and questions of deliberation”, asook tussen “interrogative or real questions and rhetorical questions”, terwyl die grammatika van Blass, Debrunner en Funk (1967:272) vier soorte vrae onderskei: direkte vrae, indirekte vrae, retoriese vrae en dubbele vrae. Veral laasgenoemde twee grammatikas is vir ons doel belangrik en ván hulle onderskeidinge word hieronder (by 4.2) verder gevoer.
In die eerste Afrikaanse grammatika op die Griekse NT, getitel Grieks met Begrip, word vraagsinne behandel onder die hoofde informatiewe vrae, nie-informatiewe of retoriese vrae, vraagsinne ingelei deur vraende voornaamwoorde en indirekte vrae (1995:415-420). Die onderskeiding tussen informatiewe en nie-informatiewe of retoriese vrae bevat ’n interessante bespreking van vrae waarop die antwoord “ja” en dié waarop die antwoord “nee” verwag word, met bruikbare voorstelle vir die vertaling hiervan in Afrikaans.
Standaard kommentare op 1 Kor soos dié van Groenewald (1967), Conzelmann (1975), Fee (1988) en Thiselton (2000) beskou alle vrae as retoriese vrae. Conzelmann bespreek hulle as deel van Paulus se diatribe/dialogiese styl, Fee gee veral aandag aan die funksies van dié soort vrae om ’n argument te begin of af te sluit, terwyl Thiselton die vertaling van mē/ou vrae en die gevoelswaarde van retoriese vrae uitlig. Bratcher (1982), in sy bydrae tot die reeks Translator’s Handbook, fokus uiteraard ook op vertaling en is ten gunste van die herskryf van die meeste retoriese vrae in 1 Kor 1–4 as stellings – iets wat oorweging verdien, mits dit nie die kommunikatiewe impak van die vrae verswak nie.
Saamgevat: Tradisionele grammatikas onderskei basies tussen informatiewe en nie-informatiewe/retoriese vrae (met enkele opmerkings oor die funksies van laasgenoemde) en die vertaling van mē/ou vrae, terwyl kommentare slegs die retoriese vraag ken en sporadiese opmerkings daaroor maak.
Die probleem is egter dat die soorte vrae met hulle funksies nie hiermee uitgeput of aan die hand van ’n bepaalde raamwerk sistematies ondersoek is nie. In wat volg wil ek dit probeer doen deur ’n model, voorgestel deur Pieter Verster (1999) en gebaseer op die taalhandelingsteorie, op 1 Kor 1–4 toe te pas. In die proses word die interpretasie en vertaling van vrae deur kommentatore en vertalers bespreek en word (waar nodig) aanbevelings gemaak. Die voorstel van Verster word ook aangevul met relevante literatuur.
3. DIE TAALHANDELINGSTEORIE AS RAAMWERK VIR DIE ONDERSKEIDING VAN VERSKILLENDE SOORTE VRAE
In sy studie van nie-egte vrae in die Romeinebrief het Verster (1999:1) ook gevind dat kommentatore alle soorte vrae in die brief as retoriese vrae beskou. Dit het daartoe gelei dat hy begin soek het na ’n teorie wat fyner onderskeiding moontlik maak. Die doel van sy studie was om ’n model uit relevante literatuur oor die taalhandelingsteorie af te lei, nie-egte vrae aan die hand daarvan in te deel, die model in die Romeinebrief te toets, en dit dan – indien nodig – aan te pas (1999:1-2).
Sy eerste hoofstuk handel oor die grondslae van die taalhandelingsteorie (1999:3-28). Dit word opgevolg deur ’n deeglike bespreking van nie-egte vrae as taalhandelinge (1999:29-54), waarna hy eers egte en nie-egte vrae van mekaar onderskei en dan ses kategorieë nie-egte vrae identifiseer. By egte vrae maak die mededeler (M) gebruik van die vraagvorm om inligting te bekom, terwyl nie-egte vrae wel die vraagvorm vertoon, maar nie inligting of ’n duidelike antwoord verlang nie. Elke kategorie nie-egte vrae is voorsien van ’n aantal kriteria op grond waarvan dit van die ander onderskei kan word (1999:55).
Die ses kategorieë nie-egte vrae is die volgende (Verster 1999:56-68):
• Vrae wat aksie verlang (waaronder direktiewe, wat die vraagvorm gebruik vir opdragte, versoeke en uitnodigings).
• Vrae wat stellings maak (waaronder vraagstellings, waar die vraagvorm ’n gewone stelling maak en as sodanig herskryf kan word – gewoonlik nie met absolute sekerheid nie; retoriese vrae, wat stellings met besondere intensiteit en sekerheid maak; en meta-kommunikatiewe retoriese interrogatiewe, waar die vraagvorm gebruik word om gevolgtrekkings te maak oor ’n aksie wat deur die ontvanger (O) geneem is).
• Leë vraagstellings, waar M reageer op ’n taalhandeling van O en ’n negatiewe stelling maak, waardeur die gesprek onderbreek word.
• Vrae wat emosie oordra (waaronder jubelvrae en lamentasies, waar nie inligting verlang word nie en M die vraagvorm gebruik om ’n bepaalde emosie te versterk of sy eie emosie uit te druk. Dit is vraagvorme waar ’n eksterne O afwesig kan wees).
• Monologiese selfgerigte vrae, wat van ander nie-egte vrae onderskei word daarin dat hulle doelbewus aan M self (“ek” of “ons”) gerig is. Hulle kan primêr emosioneel of primêr rasioneel wees.
• Rasioneel-argumentatiewe vrae (waaronder vraagappèlle, wat nie ’n reaksie van O verwag nie, maar sy/haar aandag wil kry vir ’n nuwe tema of ’n stelling wat M self wil maak; en ironiese retoriese interrogatiewe, waar die betekenis van die nie-egte vraag nie lê in die oppervlak nie, maar in die teenoorgestelde van wat deur die vraag geïmpliseer word. Die vraag moet uit die konteks verstaan word as ’n ironiese toespeling). Vraagappèlle en ironiese vrae dien albei om ’n argument te ontwikkel – daarom is hulle onder hierdie hoofkategorie ingedeel.
Om bogenoemde soorte vrae te onderskei, is die onmiddellike konteks waarin hulle voorkom, maar veral die konteks van die brief as geheel, van deurslaggewende belang. In die taalhandelingsteorie word na laasgenoemde verwys as Gedeelde Kontekstuele Kennis (GKK). Dit berus op die aanname dat albei partye in die kommunikasieproses die volgende deel: kennis van sosiale sisteme; kennis van tradisionele gewoontes en gebruike; kennis van die spesifieke gespreksituasies; en kennis van die sosiale verbintenis wat daar tussen spreker en hoorder bestaan (Verster 1999:70-71). Die vier aspekte word gewoonlik toegelig deur ’n bespreking van die skrywer, lesers, inhoud en doel van ’n brief, wat almal nodig is om die soorte vrae in die brief reg te onderskei.
Vervolgens word bogenoemde model gebruik om die verskillende soorte vrae in 1 Kor 1–4 te identifiseer en hulle funksies binne konteks te bepaal.
4. SOORTE VRAE EN HULLE FUNKSIES IN 1 KOR 1 – 4
4.1 Inleiding
Inligting oor die skrywer, lesers, doel en inhoud van die brief is in elke goeie kommentaar te vind en kan soos volg weergegee word:
Volgens 1:1-2 het Paulus die brief geskryf “aan die gemeente van God wat in Korinte is”. Dit was ’n jong gemeente, wat in ’n korrupte wêreldstad met verskeie vraagstukke te kampe gehad het. Die gelowiges uit die heidendom moes duidelikheid kry omtrent die Christen se houding teenoor ’n verskeidenheid gebruike en beskouinge in hulle omgewing. Hieroor het hulle leiding gesoek by Paulus, maar in die proses ook partyskappe gevorm.
Die eerste doel van die brief was juis om die partyskappe en onderlinge twiste in die gemeente aan te spreek. “Die mense van Chloë” (1:11) het Paulus hieroor ingelig en waarskynlik ook die brief, waarna in 7:1 verwys word, aan hom oorhandig. Hierdie onderlinge twiste het implikasies gehad vir sy apostoliese gesag en moes aangespreek word. Die probleme was hoofsaaklik intern en het uitgeloop op partyskappe tussen die gemeentelede onderling. In sy kommentaar argumenteer Fee (1988:6) egter oortuigend dat daar ’n groter probleem was, naamlik die verdeling tussen Paulus as die stigter van die gemeente aan die een kant, en sekere invloedryke leiers wat die hele gemeente in ’n anti-Paulus rigting wou stuur, aan die ander kant. Vir Paulus het hierdie groter konflik ’n krisis nie slegs vir sy apostoliese gesag nie, maar ook vir die waarheid van die evangelie wat hy verkondig, ingehou. Skrifverklaarders stem saam dat die belangrikste verskilpunt was wat dit beteken om pneumatikos te wees. Die Korintiërs se belangstelling in sophia (wysheid) en gnōsis (kennis) het uitgeloop op kauchēsis (selfverheffing of roem), wat radikaal ingedruis het teen Paulus en sy boodskap.
’n Tweede doel van die brief was om te reageer op sekere praktiese aangeleenthede wat in die brief, waarna in 7:1 verwys word, geopper is. Die belangrikste hiervan was die huwelik en seksualiteit (hoofstukke 5-7); die eet van vleis wat aan die afgode geoffer is (8:1-11:1); gemeentelike orde en die gawes van die Gees (11:2-14:40) en die opstanding (15:1-58). ’n Addisionele doel van die brief was om leiding oor hierdie – hoofsaaklik etiese – kwessies te gee.
Die breë inhoud van die brief blyk duidelik uit bogenoemde twee doelstellings. Die eerste een, wat handel oor die partyskappe, word in hoofstukke 1–4 bespreek en baken die vier hoofstukke af as ’n eenheid vir ondersoek. In die hoofstukke probeer Paulus sy lesers oorreed om sy gesag as apostel en stigter van die gemeente te erken. Hy argumenteer vir die eenheid van die gemeente en verduidelik nogeens die kernwaarhede van die evangelie ten einde hulle van hulle hoogmoed te bevry. In die proses maak hy van verskillende soorte vrae gebruik. Om hulle te identifiseer en saaklik te bespreek, is die hoofdoel van hierdie artikel.
4.2 Soorte vrae in hoofstukke 1–4
Egte vrae
’n Egte vraag verlang inligting en berus op die aanname dat O die vraag as ‘n informatiewe vraagvorm sal beskou en die inligting sal verskaf.
Slegs een voorbeeld van ‘n egte vraag is in 1–4 gevind:
1 Kor 4:21 – Moet ek met ‘n slaanding na julle toe kom, of in liefde en in ‘n gees van vriendelikheid?
Die vraag word gestel aan die einde van 4:14-21 en berus op die vader-kind analogie waarmee in 4:14-15 begin is: as hulle geestelike vader het Paulus die reg om op een van twee maniere na hulle toe te kom.
Met die vraag word sy apostoliese gesag oor die Korintiërs bevestig. Die agtergrond daarvan is waarskynlik hulle selfverheffing oor hulle menslike wysheid: as hulle dit nie laat vaar nie, sal hy hulle moet kom tug; laat vaar hulle dit, sal hy kom in ’n gees van liefde en vriendelikheid (Fee 1988:193-194).
Die Korintiërs moet gewoon hulle keuse uitoefen en Paulus dienooreenkomstig inlig. Volgens Conzelmann (1975: 93) is 4:21 ’n naklank van die ironie wat die voorafgaande seksie (4:7-10) kenmerk. My probleem hiermee is dat 4:7-10 gevolg word deur gedeeltes wat geen ironie bevat nie (4:11-13 en veral die vader-kind analogie in 4:14-21). Verder word ’n ironiese vraag in hierdie studie op ’n spesifieke manier verstaan, wat Conzelmann se interpretasie onmoontlik maak (sien 4.2.6 hieronder).
Nie-egte vrae
Van die ses hoofkategorieë nie-egte vrae is drie in 1Kor 1–4 geïdentifiseer. Geen voorbeelde van vrae wat aksie verlang (direktiewe), leë vraagstellings en monologiese selfgerigte vrae is gevind nie. Die drie, met hulle onderafdelings, is die volgende:
Vrae wat stellings maak:
4.2.1 Vraagstellings
Vraagvorme wat gewone stellings maak en as sodanig herskryf kan word, is gevind in: 1 Kor 1:13b: Is Paulus miskien vir julle gekruisig?
In kommentare word die drie vraagvorme in 1:13 gewoonlik saam hanteer en almal beskryf as retoriese vrae, wat gebruik word om die dwaasheid van die partyskappe en mense-verering onder die Korintiërs aan te spreek (Groenewald 1967:27; Barrett 1979:46; Fee 1988:58-60; Conzelmann 1975:35). Hoewel dit die doel van die drie vrae is, is daar in Grieks ’n duidelike onderskeid in die sin dat die tweede een (1:13b) gemerk is deur die partikel mē, terwyl die derde vraag ’n bespreking van die doop in 1:14-17 inlei. Gevolglik behoort hulle fyner onderskei te word.
Al die kommentatore en vertalers wys natuurlik op die inleidende mē in 1:13b, wat ’n negatiewe antwoord verwag. Hulle verskil egter oor die vertaling daarvan. Die 1933/1953 Afrikaanse vertaling het die negatiewe respons versterk deur “miskien” in te voeg. Thiselton (2000:137) wil alle onsekerheid uit die weg ruim en vertaal: “Surely Paul was not crucified for you, was he?” Daardeur kom die partikel mē (Latyn num) volledig tot sy reg. In Grieks met Begrip (1995:416) word voorgestel dat die woorde “tog seker nie” gebruik kan word om ’n vraag ingelei met mē (en gevolg deur ’n werkwoord in die indikatief) mee te vertaal: “Paulus is tog seker nie vir julle gekruisig nie?”
Die vraag self is so duidelik (en absurd!) dat dit sonder meer vertaal kan word met:” Is Paulus miskien vir julle gekruisig?” Omdat die vraagvorm as ’n negatiewe stelling herskryf kan word, hoort dit onder die kategorie vraagstellings.
1 Kor 3:3: Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?
Hierdie vraagvorm is in die Grieks gemerk met die partikel ouchi, wat ’n positiewe antwoord verwag. Volgens Grieks met Begrip (1995:416) word die soort vraag goed weergegee deur dit te negativeer en woorde soos “dan” of “mos” toe te voeg: “Is dit dan nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?” Of: “Dit is mos omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra, nie waar nie?”
Bratcher (1982:27) reken dat 3:3 as ’n stelling vertaal moet word: “There is jealousy among you and you quarrel with one another. This proves ...” In hierdie afdeling (4.2.1) is dit telkens onseker of ’n vraagvorm as ’n vraag of ’n stelling vertaal moet word. Die probleem word veroorsaak deur die feit dat ons slegs ’n geskrewe teks voor ons het. In gesproke taal is die probleem nie so groot nie, omdat die intonasie van die spreektaal ons help om ’n sinsvorm – met die fatiese struktuur van ’n stelling – as ’n vraag te verstaan. Vergelyk:
“Jy weet nie?
Jy weet nie”. (van Jaarsveld 1982:292, wat Van Heerden aanhaal).
In gesproke taal hoef hier geen onduidelikheid te wees nie. In geskrewe taal kan slegs die konteks en die gang van die argument ons help om tot ’n mate van duidelikheid te kom. Slegs in ’n mate, omdat ons nooit absoluut seker kan wees nie.
Dit is veral die TEV wat neig om vraagstellings as stellings te vertaal. Wanneer dit gebeur, gaan die dialogiese aard van die vraag egter verlore en word die kommunikatiewe effek daarvan afgeskaal. Gevolglik is dit beter om 3:3 as ’n vraag te vertaal, veral in ’n argumentatiewe konteks soos 1Kor 1–4. As vraag of stelling het dit die modifikasie van ’n berisping, soos Barrett (1979:54) tereg opmerk. Die berisping is nodig vanweë die wêreldse gedrag van die Korintiërs, soos blyk uit hulle partyskappe.
1 Kor 3:4: As een van julle sê: “Ek is vir Paulus”, en ’n ander: “Ek is vir Apollos”, is julle dan nie nog wêrelds nie?
Die vraagvorm word ook gemerk met die partikel ouk en verwag ’n positiewe antwoord. Dieselfde opmerkings as hierbo geld dus ook hier. Die vraagvorm behoort behou te word, hoewel dit as ’n positiewe stelling herskryf kan word. Dit het ewe-eens die modifikasie van ’n berisping, met dieselfde funksie as by 3:3.
Grosheide (1954:81) identifiseer 3:4 as ’n retoriese vraag en beskryf dit as “a device which contains less sharpness than a positive statement and which suits the cautious type of argument used here and throughout the epistle”. Hierteenoor toon Cronjé (1993:38-39) tereg aan dat retoriese vrae – volgens Demetrius in sy Peri Hermeneias – juis gebruik word as ’n kragtige oorredingsmiddel. Klassieke handboeke uit dié tyd ken ook die onderskeiding tussen informatiewe (egte) vrae en nie-informatiewe (nie-egte of retoriese) vrae. Laasgenoemde kan – volgens Cronjé – in vyf verdere kategorieë ingedeel word. Belangrik vir ons doel is dat die soort nie-egte vraag in 3:4 sterker is as ’n gewone positiewe stelling en dus in vertaling behou moet word. Verder word verskeie oorredingsmiddele wat in klassieke handboeke as kragtig beskou is (soos metafore, woordkeuses, teenstellings en ander stylfigure) in die eerste vier hoofstukke gevind, wat ook Grosheide se opmerking weerspreek.
1 Kor 3:16: Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?
Die vraagvorm is ook gemerk met ’n inleidende ouk en impliseer ’n positiewe antwoord. Dit sou goedskiks as ’n vraagappèl hanteer kon word, omdat dit aandag vra vir die stelling wat volg. Aangesien dit egter die laaste (en sterk gemodifiseerde) ou-vraagvorm in die eerste vier hoofstukke is, word dit hier bespreek. Verder kan dit maklik as ’n stelling herskryf word (soos Bratcher 1982:31 voorstel en die TEV gedoen het).
Groenewald (1967:53) en Fee (1988:146) wys daarop dat die vraag ’n wending in Paulus se argument verteenwoordig en dat dit (as retoriese tegniek) nog tien keer in die brief gebruik word. Hier in 3:16 dui dit op “Paul’s intensity of feeling (surely you know this!) and his belief that the principle at issue is axiomatic for the Christian and should not have been escaped attention as a cardinal element in Christian thinking (eie kursivering). Die veronderstelling is dat die Korintiërs beskik het (of behoort te beskik het) oor die kennis waarna gevra word.
In die lig hiervan het die vraagvorm die modifikasie van ’n verwyt. Tot by 3:15 beskryf Paulus die belangrikheid van die fondament en die gebou. Nou word die rede vir goeie bouwerk verskaf: hulle weet mos, of behoort tog te geweet het, dat hulle niks minder as ’n tempel van God is nie. Hoe kon dit dan gebeur dat hulle in partyskappe verval het?
Om die positiewe antwoord wat verwag word te verseker, kan die woordjie “dan” in die vertaling ingevoeg word: “Weet julle dan nie dat julle ’n tempel van God is … nie?”
4.2.2 Retoriese vrae
Die retoriese vraagvorm word ook gebruik om ’n (positiewe of negatiewe) stelling te maak, maar dan met groot stelligheid of besondere intensiteit (Verster 1999:57). Hoewel dit moeilik is om die soort vraagvorm te onderskei en daar altyd verskil van mening sal wees, wil dit voorkom of Paulus dit slegs twee keer in die vier hoofstukke gebruik:
1 Kor 1:13a: Is Christus in stukke verdeel?
Die vraagvorm is die eerste van drie waarmee Paulus sy kritiek op die partyskappe in die gemeente begin (Conzelmann 1975:35). As inleidende vraag – en daarby bondig geformuleer – word dit met groot stelligheid gemaak. Omdat dit egter nie met ou of mē gemerk is nie, verskil kommentatore en vertalers oor die antwoord wat verwag word. Verder is daar nogeens verskil van mening of dit as ’n vraag of ’n stelling vertaal moet word. Die twee verskilpunte hang ten nouste met mekaar saam.
Wat die kwessie van vraag of stelling betref, wys Barrett (1979:46) daarop dat die meeste manuskripte nie die inleidende partikel mē bevat nie, maar dat dit wel as ’n vraag vertaal moet word, omdat die volgende vraagvorm met ’n mē begin en al twee van hulle negatiewe antwoorde verwag. Die rede waarom die mē in 1:13a weggeval het is (volgens Barrett) omdat dit gevolg word deur ’n werkwoord met gelykluidende klanke (memeristai). Hy verkies dus dat 1:13a as ’n vraag vertaal word wat, soos 1:13b, ’n negatiewe antwoord impliseer. Die standpunt word gedeel deur Groenewald (1967:27), Fee (1988:58-60) en Thiselton (2000:137).
Hierteenoor reken Lightfoot (soos aangehaal deur Thiselton 2000:137) dat die vraagvorm ’n positiewe antwoord verwag, omdat dit voortvloei uit vers 12 (“ek is vir Paulus…ek is vir Apollos…ek is vir Sefas…ek is vir Christus”). Hy grond sy interpretasie op 1 Kor 12:12-13, wat handel oor die een ligaam met baie lede. Die Korintiërs het egter die liggaam in dele verdeel met hulle partyskappe, en daarom is die antwoord op die vraagvorm in 1:13a positief: Ja, julle Korintiërs het Christus inderdaad in stukke verdeel! Vir Lightfoot het dit dan die betekeniswaarde van ’n beskuldiging.
In aansluiting hierby het die gesaghebbende TEV 1:13a as ’n positiewe stelling vertaal: “Christ has been divided into groups!” – waarop Bratcher (1982:9) soos volg kommentaar lewer: “the Greek text may be punctuated as a rhetorical question (RSV), or as a statement (TEV). Paul is saying that the loyalty of believers to Christ cannot be divided among others, but must go exclusively to Christ; so when different factions appear in a church, the result is a division of Christ himself... The unity of Christ has been broken up into pieces”.
Watter interpretasie is die beste? Om mee te begin: 1:13a kan as ’n retoriese vraag beskou word, omdat dit ’n stelling met besondere intensiteit maak. Op ’n kort en kragtige wyse lei dit die reeks van drie vrae in. Verder sluit dit ten nouste aan by vers 12 se “ek is vir Christus”, wat die intensiteit daarvan verhoog. Hoewel dit nie gemerk is deur ou of mē nie, reken die meeste kommentatore dat ’n negatiewe antwoord verwag word, omdat die volgende twee vrae albei negatiewe antwoorde impliseer. Na my mening is dit die beste interpretasie wat juis (soos Lightfoot beweer) voortvloei uit die slot van vers 12: nadat Paulus die verskillende faksies genoem en afgesluit het met die een wat sê “ek is vir Christus”, volg hy dit direk op met die skerp vraag: “Is Christus dan verdeel?” Binne konteks is die antwoord hierop (teenoor Lightfoot) negatief: Hy is nie verdeel nie! Hy behoort nie net aan ’n sekere groep nie, maar aan almal vir wie hy gesterf het en wat in sy Naam gedoop is.
Die konteks bevestig dus die intensiteit waarmee die stelling gemaak word en onderskei 1:13a as ’n retoriese vraag, wat as ’n vraag vertaal moet word ten einde die kommunikatiewe impak daarvan te verseker.
1 Kor 4:7c: As jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?
Die vraagvorm is – as die laaste van drie – in ’n beklemtoonde posisie. Dit veronderstel die antwoord “niks” op die tweede vraag, terwyl al drie bedoel is om die Korintiërs te laat besef hoe aanmatigend hulle optree deur hulleself tot regters te verhef (Groenewald 1967:59). Die antwoorde wat op al drie vrae verwag word, is negatief.
Waarom is 4:7c ’n retoriese vraag? Om dit te beantwoord moet weer bepaal word of hier sprake is van groot stelligheid. Op die oog af lyk dit na ’n gewone vraagstelling, maar wanneer die konteks in ag geneem word, is die intensiteit daarvan duidelik. Die intensiteit blyk onder andere uit die herhaling van sleutelbegrippe in vers 7 as geheel (wat Conzelmann (1980:86) tereg beklemtoon), asook uit die opbou van die drie vrae, waarvan 4:7c die langste is en aan die einde geplaas word. As klimaks het dit ’n bepaalde intensiteit.
Die vraag is – soos alle nie-egte vrae – nie bedoel om inligting te bekom nie, maar om inligting te verskaf. Dit kan as ’n skerp teregwysing beskou word: omdat die Korintiërs alles wat hulle het ontvang het, het hulle nie die reg om hulle op enige-iets te beroem nie.
4.2.3 Vrae wat primêr emosie oordra
Anders as by vraagstellings, waar die vraagvorm in stellingvorm oorgeskryf kan word, gaan dit in hierdie kategorie nie in die eerste plek om ’n stelling wat gemaak word nie, maar om ’n emosie wat oorgedra word. Die vraagvorme word dus – ook in die TEV! – as vrae vertaal. Hulle is nie-egte vrae, omdat hulle nie ’n antwoord of inligting verlang nie. Die fokus is op die emosie van M, nie in die eerste plek op die reaksie van O nie (Verster 1999:100-105).
Die kategorie word verdeel in jubelvrae (waar die triomfantelike aspek bepalend is) en lamentasies (wat ’n negatiewe emosie uitdruk) (Verster 1999:60-63). Slegs voorbeelde van eersgenoemde is in 1 Kor 1–4 gevind.
4.2.3.1 Jubel- of triomfvrae
Vyf van dié soort vrae is geïdentifiseer.
• 1 Kor 1:20: Waar is die wysgeer?
• Waar die Skrifgeleerde?
• Waar die slim woordvoerder van hierdie wêreld?
Die drie vraagvorme word saam behandel en onderskei van die vierde een (“Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie?”), wat ’n lang bespreking oor die wysheid van God teenoor die wysheid van die wêreld inlei (1:21-2:16) en deur die TEV as ’n stelling vertaal is. Al drie vraagvorme kan as jubel- of triomfvrae beskou en in vertaling net so behou word. Dit is vrae waarin die fokus val op Paulus se sterk emosie – ’n emosie wat voortvloei uit die argument en aanhaling in 1:18-19 en die triomf van God se wysheid besing. Kommentatore (Conzelmann 1975:43; Barrett 1979:53; Fee 1988:70 en Thiselton 2000:162) stem almal saam dat die drie vrae ’n eenheid vorm en gebruik word om die argument in 1:18-19 af te rond, eerder as om ’n nuwe een te begin. Hulle beskou die vrae egter – soos gewoonlik – as “retoriese” vrae.
Conzelmann (1975:43) vestig die aandag op die lengte van die derde vraag en beskou dit as die klimaks van die drie, terwyl Grosheide (1954:43) hulle as retoriese vrae tipeer, dit wil sê vrae wat nie enige antwoorde verwag nie, maar die effek of krag van uitroepe het. Laasgenoemde opmerking van Grosheide stem feitlik ooreen met ons interpretasie, waar hulle net verder verfyn word om die triomf van God se wysheid te beklemtoon. Hulle is egter nie retoriese vrae nie, omdat dié soort vrae net stellings met groot stelligheid maak, sonder om hulle noodwendig as jubel- of triomfvrae te kenmerk.
Die antwoorde op al drie vrae is natuurlik negatief, maar dit is ondergeskik aan die sterk emosie wat oorgedra word. As sodanig versterk dit die kontras tussen die wysheid van God (= die kruis van Christus) en die wysheid van die mense (waarop die Korintiërs hulle so beroem).
• 1 Kor 2:16: Wie ken die gedagtes van die Here?
• Wie sal Hom raad gee?
Die twee vrae is ’n aanhaling uit Jes: 40:12 e.v., wat weer gebruik word aan die einde van ’n argument oor die wysheid van God (= die kruis) – ’n wysheid wat slegs geken kan word deur hulle in wie die Gees van God woon (2:6-16). Meer spesifiek gaan dit in verse 14-15 oor die teenstelling tussen die geestelike en die natuurlike mens. Laasgenoemde verstaan nie dat die Gees van God in die gelowiges woon en hulle lei om Christus te volg nie. Daarteenoor het die geestelike mens juis die nodige insig om dit te doen, omdat hy/sy die Heilige Gees ontvang het. Om die waarheid tuis te bring, haal Paulus aan uit Jes 40:12 e.v., waar die profeet die grootheid en wysheid van God – soos geopenbaar in die skepping – besing (Groenewald 1967:470).
In 2:16 juig Paulus ook oor die wysheid van God, wat lank verborge was maar nou geopenbaar is in die kruis van Christus. Met die aanhaling gee hy uiting aan ’n sterk emosionele ervaring, wat op homself gerig is en nie in die eerste plek op die reaksie van die ontvangers nie. En soos in 1:20 a,b,en c is die antwoorde op hierdie twee vrae negatief, maar ondergeskik aan die emosie wat oorgedra word.
4.2.4 Rasioneel-argumentatiewe vrae
Die kategorie bevat net twee soorte vrae, naamlik vraagappélle en ironiese retoriese interrogatiewe.
4.2.4.1 Vraagappèlle
Die vraagvorm word gebruik met die betekeniswaarde van ’n appél, m.a.w. die vraag is daarop gerig om die aandag van O te kry. Geen verbale reaksie word van O verwag nie, omdat M self die antwoord verskaf. Die doel van die vraagappél is om ’n nuwe argument in te lei of om die bestaande argument verder te voer. M formuleer ’n logiese vraag wat n.a.v. die argument ontstaan en verskaf dan self die antwoord. Vraagappélle is nuttige instrumente om ’n argument rasioneel en argumentatief op te bou. Die intensiteit van aandag wat M wil trek, bepaal die wyse waarop die vraag geformuleer word (Verster 1999:65-66).
Die volgende vyf vraagappèlle is in 1Kor 1–4 gevind, gevolg deur enkele opmerkings oor die antwoord wat Paulus self verskaf:
1 Kor 1:13c: Is julle in die naam van Paulus gedoop?
Die vraag lei ’n kort bespreking van die doop in, waarin Paulus ’n verkeerde siening onder die Korintiërs wil regstel (4:14-17). Die doop is ’n inlywing in Christus, waardeur sy eiendomsreg op die dopeling verseël word. Om dus te dink dat iemand “van Paulus” is omdat hy hom gedoop het, is gewoon dwaas.
Die vraag is nie bedoel om ’n antwoord van die Korintiërs te kry nie, maar om hulle aandag te vra vir ’n saak wat Paulus self aan die orde wil stel as deel van sy argument oor die onsinnigheid van partyskappe (1:10-17).
1 Kor 1:20d: Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie?
Met hierdie laaste van vier vrae begin Paulus sy argument deur hom te beroep op wat God in Christus gedoen het. In die kruis, so argumenteer hy, het God die wysheid van hierdie wêreld tot onsin gemaak. Die vraagvorm, ingelei met ouchi, verwag ’n positiewe antwoord en word onderskei van die eerste drie, wat as triomfvrae geïdentifiseer is en negatiewe antwoorde verwag (vergelyk 4.2.3.1 hierbo).
Die antwoord begin by 1:21 en strek tot by 1:31.
1 Kor 2:11: Watter mens ken die verborge dinge van ’n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is?
Om die vraagappèl in die vers duideliker na vore te bring kan dit, saam met sy antwoord, in drie dele verdeel word – soos Bratcher (1982:22) voorstel. Die appèl lees: “Watter mens ken die verborge dinge van ’n mens?” En dan antwoord Paulus self:” Slegs die mens se gees wat in hom is. So ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God”.
1 Kor 3:5: a Wat is Apollos dan? b Wat is Paulus?
Die vraende voornaamwoord in die oorspronklike is ti (wat) en nie tis (wie), soos die 1933/1953 Afrikaanse vertaling en die TEV dit vertaal het nie. Deur dit persoonlik te vertaal, word die krag van die twee vrae afgeskaal. Die oorspronklike ti dui daarop dat Apollos en Paulus slegs instrumente is waardeur God sekere dinge doen. Daar is geen rede om hulle tot leiers van partye te verhef nie. Deur dit te doen, oorskat hulle die twee en bewys hulle net hulle menslike denkwyse (Groenewald 1967:49).
Albei vrae is kort en kragtig geformuleer ten einde die intensiteit van aandag te verhoog. Die vraende voornaamwoord ti berei die lesers voor vir die antwoord wat Paulus self in 3:5c-9a verskaf.
1 Kor 4:21a: Wat verkies julle?
Die vraagappèl is ook bondig geformuleer en lei die enigste egte vraag in die vier hoofstukke in. Vraagappèlle vra dus aandag vir wat volg – of dit ’n saaklike antwoord is, ’n uitgebreide argument of ’n volgende vraag. Hier word die vraagappèl verder gevoer deur die alternatiewe gestel in die egte vraag van 4:21b (sien 4.2.1 hierbo).
4.2.4.2 Ironiese retoriese interrogatiewe
Die soort vraagvorm word gebruik om ’n nie-egte vraag uit te druk waarvan die betekenis nie lê in die oppervlak van die vraag nie, maar in die teenoorgestelde van wat deur die vraag geïmpliseer word. Die vraag moet uit die konteks verstaan word as ’n ironiese toespeling, wat gebruik word om die argument verder te voer (Verster 1999:67-68). Wanneer die betekenis dus die teenoorgestelde van die oënskynlike vraag is, het ons met ’n ironiese interrogatief te doen.
Twee voorbeelde van dié soort vrae is in die vier hoofstukke gevind – albei in 4:7:
1 Kor 4:7: a Wie maak jou so belangrik? b En wat het jy wat jy nie ontvang het nie?
Gelees op die oppervlak, is die Korintiërs belangrik. Dit word deur die vraag in 4:7a geïmpliseer. Die werklikheid is egter presies die teenoorgestelde : hulle is nie belangrik nie (Bratcher 1982:37). As sodanig kan dit as ’n ironiese vraag beskou word.
Dieselfde geld van die vraag in 4:7b. Die betekenis daarvan is weer die teenoorgestelde van wat geïmpliseer word. Die vraag impliseer dat die Korintiërs baie besit. In feite besit hulle egter niks nie (behalwe dit wat hulle van God ontvang het). Die teenstelling stempel die vraag ook as ’n ironiese interrogatief.
Dat 4:7a en b as ironies verstaan kan word, blyk uit die breër konteks waarin hulle voorkom – met name vers 8 (“Julle het mos al klaar alles wat julle begeer ...”). Conzelmann (1975:87) wys op die noue verband tussen die twee verse, soos blyk uit die feit dat albei bestaan uit drie sinsdele, met ’n uitbreiding in die derde een. Verder kan die sinsdele in vers 8 – op voetspoor van vers 7 – ook beskou word as “retoriese” vrae. Dat vers 8 suiwer ironie is, word deur alle kommentatore aanvaar. Die ooreenkomste tussen verse 7 en 8 steun dus ons interpretasie dat die eerste twee vrae in vers 7 verstaan kan word as ironiese interrogatiewe. Die funksie van die ironieë is om die hoogmoed van die Korintiërs op ’n effektiewe wyse aan te spreek.
Die vraagvorm in 4:7c (“As jy dit dan ontvang het…”) is nie ironies nie. Dit is reeds hierbo (4.2.2) bespreek as ’n retoriese vraag, met die betekeniswaarde van ’n teregwysing.
KONKLUSIE
Die doel van die artikel was om die soorte vrae in 1 Kor 1–4 sistematies te ondersoek aan die hand van ’n model, wat gebaseer is op die taalhandelingsteorie en reeds met goeie gevolg op die brief aan die Romeine toegepas is. Die model het ook hier bruikbare resultate gelewer. Een voorbeeld van ’n egte vraag is in die vier hoofstukke gevind, terwyl drie kategorieë nie-egte vrae (met hulle onderafdelings) geïdentifiseer is.
Deur die soorte vrae te onderskei (en nie maar alle vrae as retoriese vrae te beskou nie), is probeer om ’n bydrae tot die eksegese en vertaling van die betrokke gedeeltes te lewer. Die gevolgtrekking is dat Paulus die verskillende soorte vrae in 1 Kor 1–4 gebruik om die partyskappe onder die Korintiërs, asook hulle hoogmoed (gegrond op wêreldse wysheid), op ’n effektiewe wyse aan te spreek.
BIBLIOGRAFIE
Argyle, AW 1965. An Introductory Grammar of New Testament Greek. New York: Cornell University.
Barrett, CK 1979. A Commentary on the First Epistle to the Corinthians. London: Black.
Blass, F, Debrunner, A & Funk, RW 1967. A Greek Grammar of the New Testament and other Early Christian Literature. Chicago: University Press.
Bratcher, RG 1982. A Translator’s Guide to Paul’s First Letter to the Corinthians. Helps for Translators Series. New York: UBS.
Burton, EdeW 1955. Syntax of the Moods and Tenses in New Testament Greek. Edinburgh: T & T Clark.
Chamberlain, WD 1957. An Exegetical Grammar of the Greek New Testament. New York: MacMillan.
Conradie et. al. 1995. Grieks met Begrip. ’n Inleidende Grammatika, toegespits op die Griekse Nuwe Testament. (Die Werkgroep vir Griekse Onderrig). PU vir CHO: Departement Sentrale Publikasies. (Vyfde hersiene uitgawe).
Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians: A Commentary on the First Epistle to the Corinthians (Trans.). Hermeneia. Philadelphia: Fortress.
Cronjé, JV 1993. “Demetrius on forcible style”. Acta Patristica et Byzantina 4:33-42.
Fee, GD 1988. The First Epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans. (Reprint).
Goetchius, EvN 1965. The Language of the New Testament. New York: Scribner.
Groenewald, EP 1967. Die Eerste Brief aan die Korinthiërs. Kaapstad – Pretoria: NG Kerk Uitgewers.
Grosheide, FW 1954. Commentary on the first epistle to the Corinthians. London: Marshall, Morgan & Scott.
Moulton, JH 1908. A Grammar of New Testament Greek. Vol.1. Edinburgh: Clark.
Nunn, HPV 1973. A Short Syntax of New Testament Greek. Cambridge: Cambridge University Press.
Robertson, AT 1919. A Grammar of the Greek New Testament in the Light of Historical Research. New York: Hodder & Stoughton (and) George H Doran.
Thiselton, AC 2000. The First Epistle to the Corinthians. A Commentary on the Greek Text. NIGTC. Grand Rapids, Michigan, Cambridge: WB Eerdmans Publishing Company.
Van Jaarsveld, GJ 1982. “Vraagstellings” in: Wat sê jy? Studies oor taalhandelinge in Afrikaans (red. GJ van Jaarsveld). Johannesburg: McGraw-Hill, 279-304.
Verster, P 1999. Nie-egte vrae in die Romeinebrief: ’n Taalhandelingsperspektief. Ongepubliseerde MA verhandeling. Bloemfontein: UV.
Winer, GB 1982. A Treatise on the Grammar of New Testament Greek. Edinburgh: T & T Clark.
TREFWOORDE
Taalhandelingsteorie, Egte vrae, Nie-egte vrae, Funksies van nie-egte vrae, 1 Kor 1–4
KEY WORDS
Speech Act Theory, True questions, Non-true questions, Functions of non-true questions, 1 Cor 1–4