Die relevansie van Calvyn en ’n gereformeerde kerkreg vandag
ABSTRACT
The relevance of Calvin and a Reformed church polity today
In this article the point of departure is that a church polity and a church order is relevant – even today – if it serves the government of the church by Christ as the one and only Head of the church. A headship He exercises through His Word. Obedience to the Word makes the church relevant. Four factors serve the church in reaching this goal: the use of the principle of Sola scriptura, recognition of and a differentiation between constant principles and their application in a certain time, a church order without the tendency to regulate in detail and church polity as a servant of the church. These broad factors can be traced back to the reformer John Calvin and a reformed church polity of which Calvin is regarded as the spiritual father.
PROBLEEMSTELLING
Die noodsaak of nut van kerkreg en ’n kerkorde is nie vir alle lidmate van gereformeerde kerke in ons tyd ’n vanselfsprekendheid nie.
Die nuutste is die onlangse opmerking deur die redakteur van ’n plaaslike kerkblad dat ’n kerkorde met sy neiging tot voorskriftelikheid in ’n toenemende post-moderne klimaat negatief beleef word. Sy vraag: “Het die Kerkorde nog plek en hoe skep ons ruimte daarvoor sonder om lidmate met ’n post-moderne ingesteldheid te vervreem?” (Prisma 2/2009:17).
Kortliks kom sy vraag daarop neer dat ’n relativerende post-modernisme wat wegskram van ’n algemene normatiwiteit nie ruimte laat vir iets soos ’n normatiewe kerkreg en ’n bindende kerkorde nie. Dat die post-modernisme as uitgangspunt vir sekere “kerkmense” meer aanvaarbaar is as ’n Skrifgefundeerde kerklike orde. Dat die post-modernisme as ’n denkgier ook bepalend moet wees vir die orde – of word dit dan wanorde!? – in die kerk.
Ek het ’n vermoede dat die Prediker, indien hy in die gereformeerde kerkreg sou belang stel, hierop óók meewarig sou laat hoor het: “Daar is niks nuuts in hierdie wêreld (1983-Nuwe Afrikaanse vertaling of NAV) of onder die son nie (1933-Afrikaanse vertaling)”.
“Wat is, was alreeds”1. Nou egter uit ’n ander hoek en ’n ander motivering.
Dit was immers Rudolf Sohm wat in 1892 in sy werk oor die kerkreg vanuit sy Luthers georiënteerde natuur-genade denkskema met ’n, syns insiens, reformatoriese drif gekom het en die kerkreg as vreemd teenoor die kerk verklaar het (1923:1,22,26vv). Dieselfde denkskema vier hoogty onder spiritualiste wat die kerklike “instituut” reeds van voor ons tyd as ’n “inferieur niveau” vir die werk van die Heilige Gees afmaak. Gesete in Nederland as ’n waterland, tipeer Trimp hierdie houding só: “Wat heeft een levende bron te maken met het getemde kanaalwater?” (Trimp 1988:237).
Selfs gereformeerdes met ’n getemperde waardering vir Sohm sluit by dié gedagterigting aan. Britz is ongekwalifiseerd van mening dat dit onmoontlik is om die heerskappy van Christus deur ordereëls te handhaaf: “Dit doen Hy tog self – deur die bediening van die Woord waarin die Heilige Gees deel” (Kerkbode 13:09:1991). Vir hom staan Woord en “ordereëls” in spanning met mekaar.
Ook resente Roomse kerkregtelikes gebruik dié natuur-genadeskema as hulle kerkreg as “heilig” en staatsreg as “profaan” beskryf (Torfs 2003:270). Vanuit hierdie benadering is dit ’n kort treetjie om die reg in die algemeen as vreemd teenoor die kerk te bestempel. Heilig en profaan is immers nie kalwers van een hok nie.
Dan is daar ook die modernistiese menseregte-benadering in die demokratistiese klimaat van die huidige Suid-Afrika (Kleyn en Viljoen 1999:253vv) wat in die vertrekpunte van ’n gereformeerde kerkreg en kerkordes ’n bedreiging sien (Strauss 2008a:282). In ’n gereformeerde benadering val die klem nie op menseregte, menslike vryheid en menslike behoeftes nie, maar op wat God aanvaarbaar vind.
In die lig hiervan die vraag: Waarin lê die relevansie van Calvyn en ’n gereformeerde kerkreg en kerkordes – Calvyn word as die vader van die gereformeerde tradisie beskou (De Jong 1987:208vv; vgl Kleynhans 1982:11 wat woordeliks dieselfde beskrywing vir Calvyn gebruik) – vandag? Wat hier benadruk word, is dat dit om die relevansie van ’n gereformeerde kerkreg gaan: ’n kerkreg met ’n bepaalde prinsipiële inslag.
Relevansie word bepaal deur die uitgangspunte, oogmerke en maatstawwe van diegene wat die relevansie bepaal. ’n Post-modernisme wat skerm vir die reg van die indiwidu om sy eie maatstaf te wees, sal beslis nie in ’n Skrifgefundeerde algemeengeldende norm relevansie vind nie. Bloot omdat sy uitgangspunte wat gediens moet word, daarteen stry.
Die post-modernisme met sy neiging tot ’n relativisme van waarhede en sy weerstand teen ’n algemene normatiwiteit stam in sy kern van die humanistiese indiwidualisme af wat van die enkeling sy eie wetgewer maak. In die modernisme gaan dit hierin om die reg van elke indiwidu om sy eie rede as normatief te volg (De Jong 1987:254vv). Die post-modernisme is egter ook humanisties-indiwidualisties omdat dit die indiwiduele rede as maatstaf vervang of aanvul met elkeen se indiwiduele gevoel of belewenis. ’n Gevoel of belewenis wat vereenvoudig word tot die geldiggewaande normatiewe “verhaal” van elke indiwidu. ’n Valse geldigheid omdat dit – humanisties – die effek van die sondeval en gebrokenheid op die indiwiduele mens in sy herkenning van Bybels gefundeerde norme ignoreer (De Jong 1987:152-153).
Tipies post-modernisties word enige soort kerkeenheid – wat per Bybelse definisie draai om gemeenskaplik aanvaarde geloofswaarhede (Ef 4:11-16) – verskraal tot die konsensus dat mense verskil. Eenheid word post-modernisties afgeskaal tot die gemeenskaplike of eenheid in erkenning dat daar verskille of verskillende verhale by verskillende mense is!
Op 10 Julie 2009 was dit 500 jaar sedert die die Geneefse Hervormer Johannes Calvyn die eerste lewenslig aanskou het. Hoewel Calvyn self verklaar het dat hy vir baie van sy insigte op die skouers van sekere teoloë voor hom staan, het hy as ’n uiters begaafde sistematiseerder en konsolideerder van die denke van die Hervorming, belangrike boustene vir die uitbouing van ’n gereformeerde kerkreg gelewer (Kleynhans 1982:12).
Daarom die vraag: Waarin lê die relevansie van Calvyn en die gereformeerde kerkreg – en kerkordes – vandag? ’n Relevansie wat, diep bewus van teenkanting, vanuit ’n aantal beweegredes of faktore – vanuit ’n aantal hoofsake of –lyne – saangetoon word. Die klem val op ’n opsommende en sistematiserende benadering.
RELEVANSIE VAN DIE SOLA SCRIPTURA-BEGINSEL
In die reformatoriese kerkreg (téénoor Rome et al) word daar sedert die 16e eeu gewaak teen enige sweem van menslike heerskappy of hiërargie. Daarom dat Otto Noordmans dit in die twintigste eeu uitjubel dat Calvyn die pous skaakmat gesit het toe hy op die kerklike skaakbord die pion van die ouderling getrek het. ’n Skuif wat Noordmans toeskryf aan Calvyn se gevoel van ’n mistiese noodsaak vir ’n anti-hiërargiese benadering van die kerklike ampte (aangehaal deur Bronkhorst 1947:154).
In sy Institusie verklaar Calvyn dat Petrus onder die eerstes tel wat die kerk gebou het. ’n Verhaal wat in Matteus 16 duidelik word. Tog het dit volgens Calvyn nie beteken dat Petrus daarmee heerskappy oor die ander gehad het nie. Die apostels het Petrus in hulle vergaderings toegelaat om die woord te voer. Van ’n mag wat hy oor hulle sou gehad het, was daar egter nie sprake nie (sa:114-115).
Volgens Calvyn moet die kerklike regspraak of geestelike mag van die kerk “geheel gescheiden worde van het recht van het swaard” (van die staat) en nie na die goeddunke van net een mens “bediend worde”, maar deur ’n wettige kerklike vergadering (sa:242).
Behalwe die sterk anti-hiërargiese lyn wat hiermee by Calvyn deurskemer, maak hy deur sy klem op ’n wettige vergadering die opening vir gelykheid voor die Woord wat dit vir die lede van ’n gereformeerde kerkvergadering moontlik maak om mekaar in die lig van die Woord te korrigeer. Vir Calvyn regeer Christus as die Hoof sy kerk deur sy Woord. ’n Regering waarvoor Hy ook mense gebruik (sa:54vv; vgl Jonker 1965:8).
In die geskiedenis van gereformeerdwees was daar van die begin af ’n anti-hiërargiese inslag. Die anti-hiërargiese vertrekpunt is deurgetrek na die verhouding tussen die ampte en tussen die indiwiduele gemeentes.
So begin die eerste artikel van die Nasionale Sinode van Emden (1571) met die volgende woorde: “Gheen Kercke sal over een ander Kercke, gheen Dienaar des Woorts, gheen Ouderlinck, noch Diaken sal d’een over d’ander heerschappie voeren…” (Biesterveld en Kuyper 1905:35). Die eerste gereformeerde sinode in die geskiedenis, die Sinode van Parys van 1559, stel dit reeds in artikel 1 van sy Disciplines Ecclesiastique dat geen kerk of gemeente hom voorrang of heerskappy bo ’n ander mag aanmatig nie (Pont 1981:50).
Gereformeerde kerkregtelikes noem die implementering van die anti-hiërargiese beginsel ’n beslissende moment in die reformasie van die kerk. Volgens die vermaarde FL Rutgers staan of val die hele Reformasie by hierdie punt. Die reg, roeping en vryheid daarvan is op die erkenning van die selfstandigheid van die plaaslike kerk gegrond. Die stryd om die gelykheid tussen die kerke en die ampte is vir hom die (kerkregtelike? PS) hoofpunt van die konflik met Rome (1918:154-155). Jansen glo dat hiërargie tussen die gemeentes of ampte, indien die Reformasie daaraan sou toegee, die beweging veroordeel sou gelaat het (1952:365). Hovius noem die invoering van die anti-hiërargiese beginsel ’n beslissende punt in die Reformasie (1972:14).
Prinsipieel beskou is waaksaamheid teen enige vorm van menslike hiërargie in die kerk ’n middel om die Christusregering of -hiërargie – die hiërargie van sy Woord en Gees – in die kerk te verseker (Hovius 1972:13). So bly Christus die enigste Hoof van sy kerk omdat Christusgesag Woordgesag is (Jonker 1965:12).
In die gemeente moet die ampsdraers mekaar op ’n gelyke voet in die lig van die Woord kan korrigeer. In die vergaderings van die kerkverband moet die ampte of afgevaardigdes van gemeentes mekaar eweneens op ’n gelyke voet in die lig van die Woord kan korrigeer. Dit gaan hier immers om ’n soeke na die eerbiediging van die Sola Scriptura-beginsel. Geen menslike hiërargie mag in die pad hiervan staan nie.
Dieselfde tendens word in verskeie moderne gereformeerde kerkordes aangetref. Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika handhaaf ’n gelykheid tussen die gemeentes of kerke in hulle afvaardiging van die gemeentes na die klassis (Van der Linde 1983:156). Die Ned Geref Kerk handhaaf ampsgelykheid deur die gelyke waarde van die stemme van ouderlinge, diakens en predikante in kerkvergaderings (2007:14-18). Boonop bepaal die Ned Geref Kerk in sy Kerkorde dat die ampte gelykwaardig is, maar in “opdrag en werk” onderskei word (2007:1). Laasgenoemde het min of meer dieselfde bepaling ten opsigte van die 4 kerkvergaderings wat hy erken. In artikel 20-47 word dit by implikasie bepaal dat hierdie vergaderings naamlik kerkraad, ring, sinode en die Algemene Sinode, gelyk in gesag is, maar in opdrag en werk onderskei word (2007: 11-20).
Twee gevolgtrekkings op hierdie punt dui op die relevansie van gereformeerde kerkreg vir gereformeerde kerke vandag.
Die eerste is die feit dat moderne gereformeerde kerke steeds die anti-hiërargiese beginsel aanhang en in praktyk behou. Daarmee handhaaf hulle ’n prinsipiële lyn wat vanaf die 16e eeu tot op vandag deurloop in gereformeerde kerkregering en kerkordes.
Die tweede is die erkenning van die reformatoriese Sola Scriptura-beginsel wat sedert die Reformasie as ’n algemeengeldende of konstante onder gereformeerdes van alle tye erken word. Die hele Reformasie staan of val beslis by hierdie punt.
Die erkenning van die Sola Scriptura-beginsel in die kerk is altyd relevant. Dit maak die kerk kerk én erken die Hoofskap van Christus in sy kerk. En, as ’n instrument om die Sola Scriptura te laat seëvier, bly die anti-hiërargiese beginsel ook relevant en modern. ’n Relevansie wat verhoog word deur die huidige demokratiese golf wat oor die Westerse wêreld spoel. In hierdie klimaat word die gelykheid van mense as die uitgangspunt van geregtigheid beskou. ’n Gelykheid wat vanuit die humanistiese idees van die Verligting van 1650 en later gevoed word en beslis ook anti-hiërargies en selfs anti-gesag is (Strauss 2008a:242).
In die gereformeerde kerkreg gaan dit egter oor ’n gelykwees voor die Woord sodat niks mensliks tussen ’n lidmaat en sy direkte kontak met die Woord en Gees van God inskuif nie. God regeer – so loop die gereformeerde stelreël – sy kerk direk deur sy Woord en Gees en indirek deur die ampte en vergaderings. Van ’n demokrasie is hier slegs sprake in soverre die meerderheid bou op Gods Woord. Die “demo”-krasie of die regering van die volk word vervang met die “teo-“ of “Christo-“krasie. Dit is: die regering van God of van Christus. Christus bly immers die Hoof van die kerk (Jonker 1965).
“Demokrasie” in gereformeerde kerkregering kan hoogstens dui op ’n saamluister na en saambesluit oor die implikasies van die Woord van God. Hier gaan dit nie om ’n buig voor die stem van die meerderheid nie, maar om ’n buig voor die Woord waartoe die meerderheid moet help. ’n Meerderheid van gelowiges wat elkeen aanspraak maak op die leiding van God.
RELEVANSIE VAN KONSTANTES EN EIETYDSE KONKRETISERINGS
’n Tweede faktor in die gereformeerde kerkreg wat ’n potensiële dryfkrag vir die eietydse relevansie daarvan is, is die gereformeerde stelreël dat dit eie aan ’n gereformeerde kerk is om voortdurend te reformeer: ecclesia reformata semper reformanda. Hierdie stelreël huisves die gedagte dat die kerk vanuit sekere Bybelse konstantes lewe wat suiwerend op die kerklike praktyk inwerk .
Reformasie as ’n begrip wat die aard van verandering aandui, impliseer dat daar, gemeet aan konstantes of maatstawwe, ’n voortdurende, geleidelike verandering tot verbetering kom. Kerklike reformasie beteken dat ’n kerk voortdurend groei in die Bybelse opdrag tot heiliging of in die “beginsels” of konstantes van die Woord (vgl Ef 4 en vir die begrip “reformasie” sien by Bavinck 1967:749).
Dit is ook reformasie as die kerk nuwe situasies met nuwe eise rondom ou sake met nuwe antwoorde of nuwe toepassings vanuit dieselfde konstantes van die Woord benader. Dit gaan hier oor ’n onderskeid tussen konstantes en die eietydse toepassing daarvan. Indien konstantes as vaste, bo-tydelike, geldige Bybelse norme die vertrekpunt is, kan dit in nuwe tye relevant en met nuwe, eietydse variasiemoontlikhede toegepas word (Du Toit 1998:217). Indien die toepassing van die norm in die verlede in plaas van die norm self egter die vertrekpunt word, skep dit restorasie of stagnasie met ’n gebrek aan relevansie (Strauss 2008b).
Die praktiese neerslag van die relevansie van die onderskeid tussen Bybelse konstantes en hulle konkretisering in die gereformeerde kerkreg, word gevind in die opvatting dat ’n kerkorde uit tydsgerigte ordemaatreëls bestaan wat van Bybelse konstantes uitgaan, maar in hulle toepassing eietyds is. Hoewel anders verwoord, is saaklike steun hiervoor te vind by gereformeerdes soos Calvyn (sa:196vv), Bouwman (1985a:324) en Smit (1984: 90). Al drie bepleit ’n erkenning van die omstandighede en tyd waarbinne kerke hulle bevind.
Calvyn wys ondermeer daarop dat twee diens- of ampsfunksies as konstantes in die kerk bly: die regering van die kerk waaronder hy die bediening van die Woord tuisbring en die versorging van die armes. Sekere ampte ag hy tydsgebonde en van ’n verbygaande aard: die apostels, profete en evangeliste wat noodsaaklik was by die stigting of begin van die kerk, maar later plek maak vir herders en leraars (sa: 402-403). Hy wys uit die Bybel en die kerkgeskiedenis (twee “bronne” vir die kerkregering wat hy in hierdie volgorde van belangrikheid hanteer) hoe die inhoud van die amptelike dienste binne die raamwerk van ’n sekere ampsfunksie bly, maar na hulle inhoud aanpas by die behoefte van die situasie (sa:406-409) .
’n Saaklike, “relevante” vergelyking tussen die Dordtse Kerkorde (DKO) van 1619 en die Ned Geref Kerkorde (NGKO) van 1962 illustreer navolging van Calvyn op hierdie punt.
Beide die DKO en die NGKO handhaaf die Bybelse konstantes van ’n lerende, regerende en dienende funksie by die kerklike ampte in die regering van die kerk. Beide lê klem op die dienskarakter van hierdie ampte. Waar die DKO egter na die ampte in sestiende eeuse gereformeerde taal as “dienste” verwys (Biesterveld en Kuyper 1905:225), praat die NGKO van die kerklike ampte as “dienswerk” en deelname aan God se werk in sy koninkryk (2007:1). Beide handhaaf die konstante dat die amp niks anders as dienswerk kan wees nie, maar elkeen in hulle eietydse kerklike terme.
Tipies van sy tyd en op voetspoor van Calvyn onderskei die DKO vier besondere dienste: die Bedienaar van die Woord, ouderling, diaken en “doctor” in die Teologie (Biesterveld en Kuyper 1905:225vv). Die NGKO ken net die eerste drie. Dit voeg egter ’n eietydse, verrykende uitbreiding van die anti-hiërargiese beginsel by: dat die ampte “gelykwaardig is, maar in opdrag en werk onderskei word” (2007:1). ’n Verwoording wat aan die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke van 1959 ontleen word (Nauta 1971: 47) wat op sy beurt ’n eietydse replika van die DKO wou wees (Vorster 1960:13). Daarmee gee die DKO en die NGKO blyke van die volgende: hoewel die kerklike ampte uitgaan van vaste konstantes, weerspieël dit as ’n konkretisering of toepassing hiervan wisselende eietydse moontlikhede sowel as die moontlikheid van ’n reformasie of ’n ryker verwoording van kerkorde-artikels.
Beide die DKO en die NGKO plaas ’n premie op die eie aard van die kerk en kerklike vergaderings. Beide wil die kerk kerk hou in die uitdra van sy boodskap en besluite. Beginsels of konstantes wat ons agter hierdie proses aantref en wat dit relevant maak in 1619 sowel as 2007.
Die DKO praat in die tradisie van die sestiende en vroeg sewentiende eeuse Nederlandse gereformeerde kerkreg van “Kerckeljke saecken” op “Kerckelijke wijse”. ’n Formulering wat teruggaan op die Nasionale Sinode van Middelburg van 1581 (Biesterveld en Kuyper 1905:147). Die NGKO illustreer ’n meer grondige besinning én voortgaande reformasie oor die saak – hy staan immers al byna 400 jaar verder! – as hy reël dat kerkvergaderinge alle sake vanuit “kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse hanteer” (NGKO 2007:12)2. Die NGKO is dus weg van die moontlikheid van ’n kompartementering van kerklike sake soos by die DKO en werk met die besef dat alles met alles in die verskeidenheid van God se skepping saamhang (Strauss 1991:108).
Beide bepalings word ’n geruime tyd deur die betrokke kerk onveranderd gelaat wat op die relevansie of beproefdheid daarvan in hulle tyd dui.
DIE RELEVANSIE VAN NIE-REGLEMENTERENDE KERKORDES
Bouwman se oordeel dat die getal bepalings in ’n kerkorde “zoo klein mogelijk” gehou moet word (1985a:327), spruit uit die oortuiging dat die kerk primêr deur die Woord en nie menslike maatreëls nie, regeer moet word. Onder gereformeerdes leef die oortuiging dat ’n kerkorde met te veel praktiese detail die deurwerking van Skrif en belydenis as die sogenaamde basisdokumente in die kerk, strem. Die klem moet op Skrif en belydenis bly omdat Christusgesag Woordgesag is en kerklike belydenisse geglo en bely word omdat hulle met die Skrif ooreenstem (NGKO 2007:1)3.
Calvyn ken aan Christus die alleenreg toe om die voorsitter van alle kerkvergaderings – hy praat van konsilies – te wees. Hierin kan geen mens die “waardigheid tot metgezel” aanneem nie. Christus is die voorsitter as Hy die hele vergadering deur sy Woord en Gees “bestuurt”. Die gesag van kerkvergaderings setel in die Woord en hulle gehoorsaamheid aan die Woord en nie menslike bepalings nie (sa:182vv). Daarom moet ’n kerkorde as ’n menslik-geformuleerde dokument so kort as moontlik gehou word.
Te veel menslik-bepaalde detail wat bind, kan lei tot ’n kerklike deformasie en beperk die direkte hervormingskrag wat daar in die Woord en sy kernwaarhede (soos verwoord in gereformeerde belydenisse) opgesluit lê. Hierdie oortuiging spruit uit die erkenning van die Sola Scriptura-beginsel en wil die onbelemmerde impak van die Woord in die lewe van die kerk bevorder (Rutgers 1971:44).
’n Reglementering van die kerklike lewe of die optrede van mense in die kerk, herinner aan ’n gedetailleerde handves van godsdiensregte geskoei op die menseregtedenke van die Verligting of Aufklärung van omstreeks 1750. Dit dui op ’n verskansing van die regte van lidmate teenoor mekaar en verloor uit die oog dat mense in die greep van die Woord mekaar in elke geval reg en liefdevol hanteer. As herstelde nuwe mensheid in Christus word kerklidmate innerlik gedryf deur Christelike geloofswaarhede wat hulle ook in die regte verhouding tot en teenoor mekaar stel.
Die Skrif as basis is eenvoudig ’n beter en meer soliede fondament as ’n menslikbepaalde handves van regte.
Die kerk is nie ’n mensgestigde vereniging van gelykgesindes wat dieselfde van God en die Bybel glo en mekaar se regte soos vryheid van godsdiens en spraak deur die kerkorde as “akkoord” van kerklike gemeenskap of ’n handves van godsdiensregte waarborg nie. Die kerkorde moet bloot ’n kanaal wees waardeur die gesag en inhoud van Skrif en belydenis in die kerk bevorder word (Smit 1984:99).
Die gereformeerde klem op nie-reglementerende kerkordes as kanale vir die heerskappy van die Woord in die kerk, is ook ’n stut téén stagnasie en vír bevryding deur die Woord.
Daarom versterk nie-reglementerende kerkordes wat net kanale is vir die deurwerking van Skrif en belydenis in die kerk, die relevansie van gereformeerde kerkreg.
DIE RELEVANSIE VAN KERKREG AS ’n DIENENDE REG
Indien ’n kerk kerk van die Woord is en in dié proses deur sy regeringstelsel en kerkorde gedra word, is dié kerk mét sy kerkregtelike kante relevant. Immers, om aan Christus as die hoof van die kerk gehoorsaam te wees, is om relevant te wees.
Hoewel Calvyn nie die moderne uitdrukking van die kerkreg as ’n dienende reg gebruik nie, is die saak tog by hom aanwesig. In sy inleiding tot die orde – “door welke de Here wil, dat zijn kerk bestuurd wordt” – van die kerk stel hy dit dat die Here die kerk regeer, maar in die proses ook van die diens van mense as “plaatsvervangende werkzaamheid” gebruik maak. God behou sy reg en eer in die regering van Sy kerk, maar Hy doen sy werk ook deur hulle monde en hande (sa:54).
Teen hierdie agtergrond het Plomp ’n dekade of twee gelede die meer moderne Lutherse oortuiging dat kerkreg ’n dienende reg moet wees, in gereformeerde kringe ingevoer (1992:40 vgl Barth 1967:679vv; Wolf 1961:8, 24, 73vv).
Plomp gebruik die woordjie “dienstrecht” as een van die kenmerke van ’n verantwoorde kerkreg. Die kerkreg dien volgens Plomp as dit die erediens orden, diensbaar of lewend bly vir veranderinge wat deur Bybelse riglyne gestimuleer word en in sy intern-kerklike gestalte vir die res van die samelewing ’n voorbeeld is van ’n regsorde. ’n Eiesoortige regsorde wat by die eie aard van die kerk pas en aan die kerk noodsaaklike diens lewer (1992:40).
Twee deurslaggewende oorwegings steun hierdie benadering van Plomp. Oorwegings wat verband hou met die eksterne én interne samehange van die kerk met die reg. Twee temas wat beide in die kerkreg voorkom (Kleynhans 1988:190vv). .
Die eerste is die kerk se verband met die eksterne staatsreg soos getipeer deur die kerkreg in sy houding oor die verhouding kerk en staat. As ’n samelewings- of geloofsverband bestaan die kerk binne ’n staat of state as regsverbande4. In laasgenoemde het die reg – normatief gesproke – die leidende funksie. Staatsburgers kan daarom die verwagting hê dat die staat deur sy organe aan hulle reg verskaf. ’n Deel van hierdie regstaak is om die regsruimte te verskaf waarbinne bona fide nie-staatlike lewensvorme volgens hulle eie aard kan funksioneer. Nie-staatlike lewensvorme waarby die burgers om nie-politieke redes en nie as staatsburgers nie, inskakel: as gelowiges by die kerk; as biologiese ouers by gesinne as liefdeseenhede; as lede van ‘n vereniging met ’n doel waaraan die lede meewerk; as ekonomies suksesvolle bestuurders van sake-ondernemings (Kleyn en Viljoen 1999: 11vv).
In sy omskrywing van die verhouding kerk en staat is dit duidelik dat ’n verantwoorde kerkreg uitgaan van die veronderstelling dat die staat aan die kerk die regsruimte verskaf waarbinne laaasgenoemde sy aard kan uitleef (Smit 1984:1). So dien die kerkreg die kerk in die nakoming van sy roeping en taak. ’n Deeglike kerkreg sal ’n behoorlike ontleding gee van die bevoegdheid van die kerk teenoor die staat of die samelewing waarbinne dit funksioneer. Dit sal aantoon op watter gronde en in watter sake die kerk met reg (my kursivering, PS) regsbeskerming van die staat kan verwag. Wat die aard en die grense van die bevoegdheid van die kerk as geloofsverband is.
Die tweede oorweging hou verband met die interne kerkreg.
Die Christelike geloof of ’n sekere geloofsbelydenis is prinsipeel die rede waarom mense aan ’n bepaalde kerk behoort. Daarom moet hulle by toetrede tot die kerk of gemeente belydenis van geloof doen of – indien hulle van elders kom – bewyse van hulle belydenis voorlê. By die vorming van ’n kerkverband tussen gemeentes praat gereformeerde kerkregtelikes van die belydenisse betrokke as die akkoord van kerklike gemeenskap (Bouwman 1985b: 556).
Die interne kerkreg is ingestel op steun aan die opbou en uitbou van hierdie geloof. Dit handel oor daardie sake waarna Plomp verwys as hy kerkreg as diensreg motiveer en word omskryf as die interne verbandsreg van die kerk. Dit raak sake soos die interne reg van ampsdraers, kerkvergaderings en die geldigheid van kerklike besluite.
Interne kerkreg bepaal die vereistes vir die toelating van bevoegde predikers, besielde liturge, pastorale beraders wat goed luister en om sekere titels soos proponent en dominee te kan gebruik (vgl Kleynhans 1984).
Kerkreg, intern en ekstern, is dienende reg wat die kerk in die uitvoering van sy taak moet dien. Hierdie dienskarakter versterk die relevansie van die gereformeerde kerkreg wat regsteun aan die kerk verskaf om sy Skriftuurlike geloofstaak uit te voer.
SLOT
Die relevansie van die kerk, Calvyn en die gereformeerde kerkeg word gemeet aan hulle gehoorsaamheid aan Gods Woord of die Sola Scriptura-beginsel. Relevansie is nie in die eerste plek ’n menslike eis wat aan die drifte en behoeftes van mense gemeet moet word nie. Vir die kerk, Calvyn en die gereformeerde kerkreg is relevansie in die heel eerste plek afhanklik van die vraag of dit aan Gods eise voldoen.
BIBLIOGRAFIE
Barth, K 1967. Church Dogmatics IV. Edinburgh: T en T Clark.
Bavinck, H 1967. Gereformeerde Dogmatiek IV. Kampen: Kok.
Biesterveld, P en Kuyper, HH 1905. Kerkelijk Handboekje. Kampen: Bos.
Bronkhorst, AJ 1947. Schrift en Kerkorde. Den Haag: Suid-Hollandse Boek- en Handelsdrukkery.
Calvyn, J sa. Institusie III. Delft: Meinema (vertaling van A Sizoo).
De Jong, OJ 1987. Geschiedenis der Kerk. Nijkerk: Callenbach.
Du Toit, A 1998. Ondersoek na ’n Nuwe Testamentiese basis vir ’n heraanpassing van die bedieningstruktuur in die Ned Geref Kerk. Sl:sn.
Hovius, J 1972. Notities betreffende de Synode te Emden 1571 en haar artikeln. Kampen: Kok.
Jansen, J 1952. Korte verklaring van de Kerkorde. Kampen: Kok.
Jonker, WD 1965. Om die regering van Christus in sy kerk. Pretoria: Unisa.
Kerkbode 13:09:1991.
Kleyn, D en Viljoen, F 1999. Beginnersgids vir regstudente. Kenwyn: Juta (2e druk).
Kleynhans, EPJ 1982. Gereformeerde Kerkreg I. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Kleynhans, EPJ 1988. Gereformeerde Kerkreg IV. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Nauta, D 1971. Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: Kok.
Ned Geref Kerk (aangedui as NGK) 2007. Die Kerkorde. Wellington: Bybelmedia.
Plomp, J 1992. Kerk en recht. In: Van’t Spijker, W en Van Drimmelen, LC. Inleiding tot de studie van het kerkrecht. Kampen: Kok, 32-42.
Pont, AD 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg I. Pretoria: HAUM.
Prisma 2/2009.
Rutgers, FL 1918. Verklaring van de kerkenordening van de Nationale Synode van Dordrecht van 1618-1619 IV. Rotterdam: Libertas.
Rutgers, FL 1971. De geldigheid van de oude kerkenordening der Nederlandse gereformeerde kerken. Amsterdam: Ton Bolland.
Smit, CJ 1984. God se orde vir sy kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel van Transvaal.
Sohm, R 1923. Das Kirchenrecht I. Leipzig: Von Dancker en Humbolt.
Strauss, PJ 1991. “Kerklike sake op kerlike wyse” – kan dit so gehandhaaf word? In: Strauss, PJ (red). Byderwets en gereformeerd. Bloemfontein: Pro Christo.
Strauss, PJ 2006. Die Dordtse tradisie en binding aan die belydenis. In die Skriflig 40/4, 649-666.
Strauss, PJ 2008. Die NG Kerkorde 1962 – die Dordtse kerkorde aangepas by die eise van die dag? Ned Geref Teologiese Tydskrif 49/3 en 4, 274-285.
Strauss, PJ sa. Die kerk en die staat as regsorgaan. Ongepubliseer.
Torfs, R 2003. Rechtsbescherming in de kerk. Nabeschouwingen. In: Torfs, R, Martens, K, Koffemans, L en Coertzen, P. Recht op recht in de kerk. Leuven: Peeters, 259-284.
Trimp, C 1988. Ambt als dienst. In; Rossouw, PJ. Gereformeerde ampsbediening. Pretoria: NG Kerkboekhandel, 233-240.
Van der Linde, GPL 1983. Die Kerkorde. Potchefstroom: PTP.
Vorster, JD 1960. Die kerkorde van die Ned Geref Kerke. Ned Geref Teoligiese Tydskrif 1/4, 12-18.
Wolf, E 1961. Ordnung der Kirche. Frankfurt am Main: Vittorio Klostermann.
TREFWOORDE
Sola scriptura, Konstantes en eietydse konkretiserings, Nie-reglementerende kerkordes, Kerkreg ’n dienende reg
KEY WORDS
Sola scriptura, Constant principles and the application of it in a certain time, Church orders without regulating detail, Church polity as a servant in the church
KONTAK BESONDERHEDE
1 Prediker 1:9,10.
2 Vir ’n beredenering van “Kerklike sake op kerklike wyse” – kan dit so gehandhaaf word? Strauss, PJ 1991:105vv.
3 Hierdie basis vir die aanvaarding van die kerklike belydenisse is Dordts en word verwoord in artikel 1 van die NGKO, Strauss, PJ 2006:663vv.
4 Die kerk is prinsipieel van ‘n ander aard as die staat met sy swaardmagmonopolie oor ‘n bepaalde staatgebied. Die kerk word nie deur die grense van ‘n staatsgebied beperk nie, maar lê so wyd soos die omvang van sy geloofsbelydenis onder mense. Die kerk strek tot daar waar die mense woon wat aan hom behoort, afgesien en losgedink van hulle staatsverband, vgl Van der Watt 1973:120vv.