PB Malherbe & D J Louw
Universiteit van Stellenbosch

Die dinamika tussen teologiese paradigmas en die verskynsel van uitbranding in die bediening

ABSTRACT

The dynamics between theological paradigms and the occurrence of burn-out in ministry

It seems that the occurrence of burn-out in ministry is growing at an alarming rate. Empirical data indicate that this is indeed the case. In this article we search for answers by investigating the influence of current cultural contexts on the minister and secondly we look at the systemic interplay between theological paradigms and burn-out. We also look at the potential effect certain theological paradigms can have on levels of tension in ministry. In the last instance we reflect on the possible role a Christian and theological understanding of spirituality could play in the prevention and management of stress and burn-out.

1. INLEIDING

Volgens Swart, Fourie en Scheepers (2000:341) toon navorsing dat predikante ’n hoërisiko- beroepsgroep is ten opsigte van uitbranding en dat hierdie verskynsel ’n realiteit by talle predikante van die NG Kerk is. ’n Ad hoc-kommissie van die Wes- en Suid-Kaap het ook onlangs bekend gemaak dat predikante onder groot druk verkeer en dat dit in talle gevalle aanleiding gee tot oormatige stres, uitbranding en depressie (Böhmer & Spangenberg 2001:6). Navorsing wat in hierdie sinodale gebied onder 157 predikante en 95 kerkraadslede onderneem is, toon dat 21% van die predikante (teenoor 14,3% van die algemene bevolking) tekens van depressie toon. Die angsvlakke van die predikante was ook beduidend hoër as dié van die kerkraadslede. Ongeveer die helfte van die predikante het bogemiddelde angsvlakke ervaar en 34,4% se angsvlakke was besonder hoog. Angs is ’n erkende emosionele manifestering van stres (Böhmer & Spangenberg 2001:10-11).

Die navorsing (waarvan hierdie artikel ’n uitvloeisel is) is by die navorser gesneller weens ’n persoonlike besorgdheid oor die implikasies wat hierdie tendense inhou in terme van die funksiebestemming en karakter van die kerk en bediening. Hoe rym ons byvoorbeeld die predikant se veronderstelde roeping en die veronderstelde onderlinge sorg van die geloofsgemeenskap met die uitbrandingsverskynsel? Omdat uitbranding op die vlak van ervaring/belewing van die predikant lê, ontstaan die vraag ook na die verband tussen uitbranding en die predikant se spiritualiteit. In hoe ’n mate beïnvloed uitbranding die predikant se spiritualiteit en in hoe ’n mate kan dit ’n rol speel in die hantering van uitbranding?

Omgekeerd behoort die vraag ook gestel te word: In hoe ’n mate beïnvloed die predikant se teologiese vermoëns en apparatuur sy/haar hantering van stres? Is daar ’n verband tussen die predikant se teologiese interpretasieskemas/teologiese kognisies en die faktor van uitbranding in die bediening?

In ’n poging om die basis van ons bespreking te lê, gee ons vervolgens in kort ’n omskrywing van die uitbrandingsverskynsel en die oorsake daarvan. Daarna probeer ons om aan te dui in hoe ’n mate die hedendaagse kultuurkonteks die teologiese paradigma1 van die predikant beïnvloed en hoe dit langs hierdie weg tot bedieningspanning en uitbranding kan aanleiding gee. In die derde plek kyk ons na teologiese paradigmas wat algemeen voorkom en dui ons telkens aan hoe elke afsonderlike paradigma op die uitbrandingsverskynsel inspeel. Laastens gee ons aandag aan die voorkoming van uitbranding. Ons fokus spesifiek op die rol wat ’n Christelike spiritualiteit kan speel in die voorkoming en hantering van uitbranding.

2. WAT IS UITBRANDING EN WAAR KOM DIT VANDAAN?

Odendaal (1984:1) definieer uitbranding as ’n “spesifiek gedefinieerde reaksie op werkspanning wat onder mense in mensgerigte beroepe voorkom”. Hy gaan verder deur daarop te wys dat dit uit drie komponente bestaan, naamlik emosionele uitputting, depersonalisering en geringskatting van persoonlike bekwaamheid wat onproduktiwiteit in die hand werk. Louw (in Combrink et al 1987:56) omskryf dit as ’n “individu se reaksie op ’n reeks spanningsvolle situasies sonder konstruktiewe uitlaatkleppe, beskermende buffers of ’n draende ondersteuningsisteem. Die gevolg hiervan is ’n emosionele toestand van vermoeidheid, ’n siniese lewensbeskouing en ’n tendens om die beroep negatief te evalueer”.

Wat die oorsake van uitbranding betref, het ons met ’n komplekse netwerk van faktore te make, waarop ons nie op die oomblik in detail kan ingaan nie. Congo (in Hunter 1990:112) wys daarop dat lang werkure, min terugvoering aangaande jou werk, ’n gebrek aan gesinstyd, ’n lae salaris, lewensverandering, onrealistiese verwagtinge, ’n gebrek aan aftye en ’n gebrek aan beheer van die faktore kan wees wat tot uitbranding aanleiding gee. Veral vanweë die geestelike aard van ’n predikant se werk het die gemeente, en die predikant self, dikwels baie hoë, onrealistiese verwagtings. Wanneer hierdie verwagtings nie in die praktyk realiseer nie, gee dit tot ontnugtering aanleiding wat maklik op die lange duur uitbranding in die hand kan werk.

As werksdefinisie van ons betoog kan ons konkludeer deur te sê: Uitbranding in die bediening is ’n emosionele reaksieverskynsel op bedieningspanning as gevolg van oormatige prikkels sonder ’n vermoë om te kan onderskei wat belangrik is (wat in die sentrum lê) en wat minder belangrik is (wat op die periferie lê). Die emosionele toestand van uitputting dreineer geestelike energie en lei tot ’n bedieningsmoedeloosheid met ’n gebrek aan motivering en visie. So ’n toestand korreleer met bepaalde negatiewe persepsies oor die bediening (niks werk meer nie) en destruktiewe perspektiewe wat die roepingsbewussyn van die predikant demp. Hierdie mislukkingsgevoel word onbewustelik op God oorgedra met die idee: God verwag van my om harder te probeer. Hierdie teologiese terugvegpoging sonder sinvolle uitlaatkleppe en buffers (ondersteuningstelsels) verskerp die belewing van uitbranding. Die verdere gevolg is ’n kortsluiting tussen teologiese teorie en bedieningspraktyk.

3. DIE SISTEMIESE VERBAND TUSSEN UITBRANDING EN DIE HEDENDAAGSE KULTUURKONTEKS

Ons gaan van die hipotetiese standpunt uit dat die hedendaagse kultuurkonteks ’n groot invloed op die teologiese paradigma van die predikant uitoefen en dat ontoepaslike paradigmas kan meewerk tot ’n kortsluiting tussen teorie en praktyk, en dus ’n rol kan speel in bedieningspanning en uitbranding. Ons is verder van mening dat die heersende denkpatrone, verwysingsraamwerke en filosofieë op drie maniere tot bedieningspanning by die predikant lei.

In die eerste plek is van die hedendaagse postmoderne tendense so kontrasterend met die tradisionele en premoderne aspekte van die predikant se geloof dat die toepassing en konkretisering van geloof in hierdie komplekse realiteit ’n ingewikkelde aangeleentheid geword het. In die tweede plek word die teologiese paradigma van die predikant ook deur die konteks gevorm deurdat gesekulariseerde beginsels, konsepte en idees (wat dikwels in stryd met die evangelie is) op ’n subtiele manier deel van die predikant se verwysingsraamwerk word. Dit kan ook spanning en/of kortsluiting tussen teorie en praktyk veroorsaak. In die derde plek kan die predikant in die bediening ook die ervaring hê dat die magte wat op die gemeente as kollektiewe entiteit en as individue inwerk groter en meer omvangryk is as die invloed wat hy/sy het of kan hê.

Ons is voorts van mening dat hedendaagse kulturele tendense die beste beskryf kan word in terme van die verskynsel wat as postmodernisme bekend staan.2 Die epistemologiese alternatief wat postmodernisme bied, is relatiewe waarheid. Die ontdekking van hermeneutiese raamwerke, kontekstualiteit en die feit dat almal met aannames werk, het ons idee van die waarheid verander. Dit het duidelik geword dat ons as mense geen finale greep op die waarheid het nie. Ons persepsie van waarheid is relatief tot ons perspektief (Hendriks 2001:42). Die antropologiese alternatief is die gedesentreerde self (vs die outonome self van modernisme). Die skandelikhede van moderne oorloë het aanleiding gegee tot ’n wantroue in logiese positiwisme. Die huidige samelewing vra weer na ’n balans tussen individualiteit en die gemeenskap, aangesien die individu se absolute outonomiteit aanleiding gegee het tot ’n situasie van uiterste betekenisloosheid. Die politieke alternatief van die postmoderne tydsgees is ’n pluralistiese samelewing (vs die volkstaat- sosiale kontrak). Globalisering het ons oë geopen vir diversiteit (Hendriks 2001:43). Ons leef in ’n wêreld met vele kulture waarin daar gestrewe word na gelyke erkenning van die geldigheid van elkeen.

Ons het dus verby die subjek-objek-denkskema asook oorsaak-en-gevolg-rasionaliteit beweeg. Die modernistiese produksiemasjien het gelei tot die vernietiging van verhoudings en tot massafikasie en konformiteit. Verhoudingsprobleme en ’n ekologiese krisis staar dus die postmoderne samelewing in die gesig. Ontnugtering na die optimisme en geloof in groei en ontwikkeling is ook kenmerkend van hierdie paradigma. Postmoderne mense leef in die hier en nou, in ’n virtuele realiteit, ’n simulasiekultuur waarin daar klem is op beelde en ervarings. Tyd en ruimte word geherdefinieer, wat ’n ernstige spanning skep tussen die virtuele realiteit van die informasie-samelewing en die realiteit van die regte wêreld. Groeiende wantroue het die resultaat dat outoriteit, lojaliteit en vertroue in institusies en leierskap aan die verdwyn is (Hendriks 2001:50).

Dekonstruksie is ’n sentrale konsep in postmodernisme. Volgens Raschke (in Altizer et al 1982:2-4) is dekonstruksie nie ’n ontwikkeling nie, maar ’n beweging binne die Westerse kultuur as geheel. Dekonstruksie is ’n openbaring van die leegheid van die “moderne” beskouing. Dit wys dat die logos van al ons “-ismes” en “-logieë”, insluitende teologie, niks anders geword het as ’n ritualistiese en kompulsiewe verdediging teen die vakuum nie. Die modernistiese verdraaiing, dat die mens sy/haar eie wêreld kan konstrueer langs die weë van introspeksie en rasionele analise, word dus blootgelê. Dit impliseer uiteindelik dat nóg taal nóg menslike selfbewustheid enige vorm van verwysing inhou van dinge soos dit werklik is. Alle konsepte, idees, ideologieë, ensovoorts word dus van hulle geakkumuleerde betekenis onbloot. Dit impliseer dus ’n volledige deurvoer van die fenomenologiese hermeneutiek ten opsigte van die sogenaamde vasstaande betekenisse van teologie. Postmodernisme sien dus kennis, oortuigings, waardes, norme en strukture as konstekstuele konstruksies binne ’n gegewe tyd en ruimte (Van der Ven 1998:5).

Van der Ven (1998:80) is daarvan oortuig dat die pastorale praktyk binne hierdie konteks toenemend gekenmerk word deur ambivalensie en onsekerheid in die lig van die kompleksiteit en multidimensionaliteit van die vrae, probleme en uitdagings waarvoor die predikant te staan kom. Die ambivalensie word verder versterk deur die dinamiek van vele religieuse veranderings wat plaasgevind het op die makrovlak van die samelewing, die mesovlak van die kerk en die mikrovlak van die individu. Die funksie van die pastor kan dus nie in ’n enkele formule vasgevat word nie (Van der Ven 1998:81). Die professionele veld van die pastor is so wyd soos religieuse probleme self. Daar is geen ruimtelike en tydelike beperkings aan die werk van die predikant nie.

Die ruimte vir spanning en frustrasie in die hedendaagse bediening is teen hierdie agtergrond duidelik. Die wetenskap is geneig om gestandardiseerde antwoorde op gestandardiseerde probleme te gee (Van der Ven 1998:82). Die predikant word egter nie eers deur probleme gekonfronteer nie, maar deur problematiese situasies wat as sodanig gekarakteriseer word deur ambivalensie, oneindige verskeidenheid en uniekheid. Standaardisering in bediening is ’n teenstrydigheid in terme.

Volgens Enderstein (1993:20) is daar in die kerk wat denkrigtings betref twee tendense: ’n konserwatiewe en ’n progressiewe tendens. Die privatisering van die maatskappy gee die pastor

’n gevoel van magteloosheid en bring hom in ’n identiteitskrisis. As gevolg van privatisering is hy/sy hoofsaaklik tot die kerklike ruimte beperk. Die predikant ervaar ’n spanning tussen sy/haar werk en die verwagtings van die gemeente. Hy/sy begrond sy/haar verwagtings en ideale vir die gemeente vanuit die Bybel en sy/haar teologiese agtergrond (opleiding), maar hierdie verwagtings en ideale strook nie met wat hy/sy in die praktyk beleef nie.

Verder is die predikant ook deel van die prestasiekultuur van die dag. Maatskappy-geldende maatstawwe vir prestasie kan egter nie op sy/haar werk toegepas word nie. Die predikant is weliswaar ’n onmisbare deel van die groot geheel, maar beklee sy/haar plek en staan min of meer alleen (Enderstein 1993:22). Hy/sy verteenwoordig ’n eie orde en ’n aparte golflengte, en daarom, gemeet aan algemeen geldende norme vir arbeidsprestasie en produktiwiteit, raak die pastor ’n vreemde figuur. Voeg hierby die veranderde posisie van die kerk in die samelewing weens sekularisering en die gepaardgaande waardedifferensiasie (elke deelsamelewing met sy eie waardes en norme) word dit duidelik hoe die predikant vasgevang word in ’n komplekse web van teenstrydige eise.

Die desakralisering van die wêreld het die gevolg dat sake en instansies wat voorheen tot die sakrale sfeer behoort het nou daarvan ontdaan is. God pas moeilik in die moderne mens se denk- en leefwêreld in (Enderstein 1993:23). Volgens die moderne mens kom objektiewe gesag van allerlei mitiese voorstellings wat vandag nie meer geld nie. Daar het dus ’n horisontalisering van gesag plaasgevind. Gesag is subjektief en gedemokratiseer; dit kom nie van God as gesag “oor ons” nie, maar van die mens as gesag “deur ons”. Sodoende het die predikant dus geen vanselfsprekende gesag meer nie. Die ampsdraer het ’n “gewone” mens geword; daar is geen sprake meer van die gesag en waardigheid wat die onbetwiste “man van God” in die verlede gehad het nie.

In samehang hiermee glo Roxburgh (2000:15) dat, hoe ons ook al die veranderings beskryf, ons ons bevind op een van daardie punte in die geskiedenis van die wêreld waar alles besig is om oor te beweeg tot ’n totaal nuwe wêreld. Ons bevind ons in ’n situasie waar die bekende vaardighede en gedrag nie meer met die nuwe realiteite korreleer nie (Roxburgh 2000:23-28). Die bekende wêreld van kerkidentiteit en -funksie het tot ’n einde gekom. Roxburgh (2000:29-57) is verder van mening dat ons ’n fundamentele paradigmaskuif benodig voordat ons die tussenin-fase van transformasie effektief kan aanspreek. Omdat hierdie oorgangsfase ’n komplekse web van verhoudings behels, is die modernistiese oortuiging dat die lewe liniêr is, onvanpas. Geen eenvoudige stel liniêre tegnieke sal alles regstel nie. Die ou wêreld van logika en rede sal in hierdie konteks nie die verlangde uitkomste verseker nie. Wat waarskynlik benodig word, is ’n nuwe stel interpretasieskemas, ’n verskuiwing na ’n hermeneutiese sleutel, in plaas van ’n verklarings- paradigma wat met behulp van oorsaak-en-gevolg-skemas kontrole oor die lewe wil uitoefen.

Die bekende wêreld van die predikant is besig om te verkrummel. Die wêreld wat sy/haar verwysingsraamwerk gevorm het, is aan die verbygaan. Teologiese paradigmas wat ten dele deur modernistiese denkskemas bepaal word (vgl die invloed van positiwistiese denkskemas op die teologie) “pas” nie meer op die hedendaagse konteks nie. Vanselfsprekend bring hierdie situasie ongekende onsekerheid en spanning mee. Die predikant weet nie meer wat om van al die veranderings te maak of hoe om daarop te reageer nie. Wat is die rol van die kerk in die heden- daagse konteks en hoe gaan ons te werk om daardie rol te vervul? As die huidige strukure, metodes en selfs tradisionele geloofsopvattings nie meer werk nie, waarmee gaan ons dit vervang? Ons gaan van die standpunt uit dat die kortsluiting tussen teorie en praktyk wat deur bogenoemde situasie veroorsaak word een van die groot faktore is wat tot bedieningspanning lei en grootliks meewerk tot die toename in uitbranding wat onder predikante bespeur kan word.

4. DIE INVLOED VAN TEOLOGIESE PARADIGMAS OP BEDIENINGSPANNING

Ons kyk vervolgens na algemeen heersende teologiese paradigmas wat op die oomblik meewerk tot persepsievorming binne die bedieningskonteks. Nadat ons die kenmerke van elke paradigma bespreek het, dui ons telkens op die dinamika tussen hierdie paradigmas en die verskynsel van uitbranding in die bediening.

(a) Die tradisionele paradigma: hiërargiese skemas en absolute sekerheid (beheer en kontrole)

Christelike gemeenskappe het sekere tradisies. Die mate waarin hierdie tradisies gesien word as normatief en onveranderbaar, asook die mate waarin daar sekere reëls is wat besluite en gedrag rig, is die mate waarin ’n sisteem as tradisioneel gesien kan word (Burton 1988:12). Tradisionele sisteme soek konstantheid en konformiteit word vereis. Hulle bewaar hulle terrein en kan baie selfbeskermend wees. Die sisteem is hoogs gedissiplineerd, beheersd en voorspelbaar.

Die geloofsisteem, soos dit altyd was, moet in sy geheel bewaar word (Burton 1988:16). God word gesien as die Skepper, Heerser, Gewer en Regter. Die mens is verlore omdat hy/sy in sonde gerebelleer het. Sonde het primêr ’n geestelike oorsprong. Daarom word ook ’n geestelike Verlosser benodig, Jesus Christus die Seun van God. Herstel bestaan daaruit dat mense hulle bekeer en dat God se heerskappy herstel word. Geloofsinhoude binne hierdie paradigma is vas en absoluut en ’n hoë premie word geplaas op Bybelse gesag (Burton 1988:18-20). Die pastor is die toppunt van die hiërargie en is soos God die insisiëerder.

Binne hierdie paradigma word daar dikwels van ’n eng ampsteologie uitgegaan waar die rol van die predikant as geroepene van God geïnstitusionaliseer en duidelik uitgespel word. So ’n ampsbeskouing word gevoed deur hiërargiese interpretasieskemas. Daar word van die predikant verwag word om duidelike en onbetwiste leiding te neem en die wil van God op ’n ondub- belsinnige manier uit te spel. Die basiese ekklesiologie sal van die herdersmodel af uitgaan, waar die predikant leiding gee deur middel van kontrole (hiërargies). Wat die identiteit van die predikant betref, is daar die gevaar van die identifisering van die persoon van die predikant met die amp. Binne hierdie paradigma sal daar druk op die predikant wees om ’n figuur te wees wat altyd in beheer is en ’n foutlose voorbeeld stel. Die spanning wat so ’n onmenslike verwagting op die predikant in die postmoderne konteks plaas, kan aanleiding gee tot ’n kortsluiting tussen teorie en praktyk, bedieningspanning en uitbranding.

(b) Die individualiserende paradigma: outonomie, belewing, ervaring en persoonlike behoeftes

In hierdie paradigma is verskeidenheid en subjektief geïndividualiseerde, eksitensiële waardes die norm (Burton 1988:28-34). Die ervaring van die hier en nou is belangrik, en nie die verlede of die toekoms nie. Die primêre fokus is op persoonlike individuele outonomiteit. Die rol van God is nie so duidelik in hierdie paradigma nie. God is ’n baie meer subjektiewe konstruk. Sy teenwoordig- heid word gemanifesteer in menslike ervarings en in gemeenskap. Daar is geen eksterne boosheid nie en die lewe gaan oor betekenis en beheer. Die taal van die Bybel is mities en ’n uitdrukking van metaforiese waarheid. Vryheid word ingeperk deur ’n gebrek aan kennis. Onkunde is die probleem en navorsing is die antwoord. Alle elemente van die (Christelike) tradisie wat as onversoenbaar met moderniteit gesien word, word agtergelaat. Inhoud en waarheid is relatief en subjektief.

’n Formele struktuur, organisering en leiding word teengestaan. Die paradigma soek na inno- vasie en verskeidenheid. Etiek is situasioneel. Veranderende situasies en idees verander die manier hoe die Bybel geïnterpreteer word. Daar is geen teologies of eties objektiewe absoluut nie en outoriteit is altyd in die individu gesetel. Hierdie paradigma staan enige idee van God in beheer teen. Die mens as sodanig is die inisiatiefnemer. Wat die mens van God skei, is ’n gebrek aan kennis. Die rede vir die inkarnasie van Jesus is om ons aandag te kry en om ons te oortuig van die liefde van God vir ons (Burton 1988:35-41).

Die individualiserende paradigma is dus die absolute teenpool van die tradisionele paradigma en die rol van die predikant is nie so duidelik gedefinieer nie. Binne hierdie paradigma moet die predikant tot elke prys daarna strewe om voorskriftelikheid te vemy. Elke persoon is ’n unieke individu en moet as sodanig gerespekteer word. Die kerk word bloot ’n samekoms van individue met feitlik geen onderlinge verbondenheid nie. Binne hierdie paradigma besit die predikant dus geen ampsgebonde gesag nie. Respek moet verdien word langs die weg van funksionaliteit. Sy/haar organisatoriese vermoëns raak dus in groot mate die norm vir sy/haar effektiwiteit. Daar is dus druk op die predikant om soveel moontlik te doen, maar die bydrae wat hy/sy kan lewer, is beperk, aangesien daar geen absoluut geldende waardes/waarheid is nie. Juis in die arena van die geloof, etiek en lewenswyse, waar die predikant tradisioneel leiding gegee het, is daar nou ’n outonomiteit en ’n vloeibaarheid wat die rol en identiteit van die predikant misken. Vanweë onsekerhede oor rol en identiteit word gegryp na bedieningsfoefies wat mense moet vermaak, die predikant se selfbeeld moet voed en ’n reeks burokratiese rompslomp in stand moet hou. Hierdie paradigma skep eweneens ’n situasie wat tot bedieningspanning en uitbranding kan aanleiding gee.

(c) Die relativerende paradigma

Verwant aan die individualiserende paradigma binne ’n postmodernistiese interpretasieskema is die faktor van suspisie. Binne hierdie paradigma word waarheid gerelegeer tot die individu of die groep. Waarheid word nie gebaseer op objektiewe bewyse nie, maar op persoonlike beskouings (Osborne, in Kennard 1999:94). Die kritiese of hermeneutiese aspek van hierdie paradigma redeneer vir die afwesigheid van enige finale “ware” betekenis.

Die leser eerder as die teks is die laaste besluitnemingsinstansie wanneer dit kom by die betekenis daarvan en alle interpretasies is sinchronies (gemaak op die basis van huidige verstaan en ervarings) eerder as diachronies (gemaak op die basis van vroeëre verstaan). Die verhouding tussen outeur en teks genereer dus nie meer betekenis nie, maar die bron van betekenis is die verhouding tussen teks en leser (Osborne, in Kennard 1999:97). Taal word gesien as retoriek en metafoor, wat impliseer dat daar ’n gebrek aan betekenis is by die kern. Daar is ’n eindelose reeks moontlike betekenisse en die enigste vorm van beheer is die leser se voorkeure. Die teks word gedekonstrueer van alle vorige interpretasies; dié van die oorspronlike outeur asook alle daarop- volgende interpretasies in die geskiedenis. Binne hierdie paradigma van suspisie is daar altyd ’n openheid, verdere moontlikhede en ’n gebrek aan finaliteit.

Die beskouing van die rol en identiteit van die pastor asook die funksiebestemming en karakter van die kerk is gedekonstrueer, dit wil sê ontneem van alle vorige betekenisse en interpretasies. Al hierdie konsepte moet dus konstekstueel gerekonstrueer word en hierdie rekonstruksie berus op die voorkeure van die predikant. Hierdie paradigma kan lei tot ’n bedieningsmodel van eksperi- mentering, veral in die liturgie. Weer eens kan ’n gebrek aan enige vorm van absolute waarheid aanleiding gee tot eindelose onsekerheid, spanning en uitbranding.

Die vraag kan nou gestel word: Is daar ’n moontlike alternatief?

(d) Die heuristiese paradigma van verkennende onderhandeling (“negotiation”), inter- preterende ontmoeting en voortdurende vertolking

Burton (1988:46-60) beskou die onderhandelende paradigma as die ontmoetingsplek van die beste kenmerke van sowel die tradisionele as die individualsitiese paradigmas en as sodanig as ’n model vir bediening in ’n pluralistiese kultuur. Hierdie paradigma het ’n induktiewe epistimologie, aangesien kennis op ervaring gebaseer word, insluitende eie ervaring en dié van ander. Dialoog en konsensus is die maniere waarop besluitneming in hierdie paradigma plaasvind. Die belewing van sowel konstantheid as verskeidenheid is belangrik sodat, terwyl daar tradisionele doelstellings mag wees, daar ook begrip sal wees vir die feit dat dit mag verander met tyd en met die verwerwing van nuwe kennis. Die storie is dus altyd in ’n proses van ontwikkeling en moet steeds hervertaal en vertolk word. Buigbaarheid (maar nie relatiwisme nie) is belangrik, dus is daar steeds

’n gevoel van gewortel wees. Daar is egter ook die varsheid van ’n nieoutoritêre benadering.

Die primêre eksistensiële probleem is relasioneel van aard, dit wil sê die skeiding tussen mense en God. Die bron van verlossing is kompleks en relasioneel. Verlossing is ’n samewerkende proses waarin God met mense werk wat met God en mekaar werk; handelend, bekerend, bevestigend, offerend en in die aanvaarding van genadige liefde en medelye met mekaar. Herstelde bestaan beteken ’n gemeenskap wat in ’n verbondsverhouding leef, saamgekom rondom die intimiteit van God se gemeenskap. Enigiets wat hierdie gemeenskap afbreek of vernietig, is boos en die Skepper streef na ’n verhouding van versoening om hierdie vervreemding teen te werk.

Binne hierdie paradigma is daar konfrontasie en dialektiek tussen die ander paradigmas. Alle reëls is relatief aangesien dit voortspruit uit menslike refleksie en beliggaam word in menslike gemeenskappe. Reëls bestaan nietemin en het sekere voordele. Reëls is die resultaat van refleksie oor die God-mens-ontmoeting soos dit beliggaam word in ons gemeenskap. Die pastor het as leier die verantwoordelikheid om sy/haar opinie te lug as die verteenwoordiger van God, maar ooreenkomstig die priesterskap van alle gelowiges word almal gesien as God se verteenwoordigers. Almal het dus die verantwoordelikheid om inisiatief te neem. Almal staan in ’n verhouding met God en die groter gemeenskap.

Die pastor funksioneer hier as tolk en gids. Dit beteken dat die pastor nie almal probeer indwing in sy/haar model van bediening nie, maar ’n leierskapsrol inneem wat bemagtigend is, maar nie wil beheer nie; versorgend sonder om onkrities te wees; betekenis skep, maar binne die konteks van verhoudings eerder as outonoom. Binne hierdie paradigma is daar ’n belewing van sowel konstantheid as verskeidenheid. Ons is steeds gewortel in onveranderbare waarhede, maar behou ook ’n kontekstuele buigbaarheid. Die liggaamsmodel kan as onderliggende ekklesiologie beskou word, met ’n groot klem op ons verhouding met God en met mekaar (koinonia). Binne hierdie paradigma het die predikant steeds ’n bydrae om te lewer as die verteenwoordiger van God binne die rol as fasiliteerder van die God-mens-ontmoeting. Aan die ander kant is die predikant egter nie die alleen-insiatiefnemer nie, aangesien die priesterskap van alle gelowiges ook verreken word. Hierdie paradigma minimaliseer bedieningspanning.

5. SPIRITUALITEIT AS VOORKOMING EN HANTERING VAN BEDIENINGSPANNING EN UITBRANDING

Die voorkoming van uitbranding hang in groot mate saam met die bepaling van prioriteite. Daar- om is dit belangrik dat ’n predikant sy/haar waardes sal uitklaar (Hart 1984:152-153). Deur sy/haar verhouding met God moet hy/sy leer om te fokus op dinge met ewigheidswaarde. Deur die essensiële van die nie-essensiële te skei, verkry die predikant die nodige perspektief. Ons het reeds in die inleiding melding gemaak van die nou verband tussen die teologiese paradigma waarvan die predikant vertrek en die spiritualiteit van die predikant. Vanweë hierdie verband is ons daarvan oortuig dat daar ’n herwaardering nodig is van ’n Christelike spritualiteit in die identiteitsvorming van die predikant ten einde mee te werk tot die voorkoming van uitbranding.

Spiritualiteit verwys nie slegs na sekere aspekte van die geloof of geloofsbelewing nie, maar na die totaliteit van die persoon se lewe in terme van sy/haar verhouding met God. Dit gaan om ons totale bestaan voor die aangesig van God (Smit 1989:189). Dit gaan dus om baie meer as vroomheid. Dit gaan om die totale lewenshouding en lewenspraktyk. Dit is iets anders as teologie of stigtelikheid of geloof. Dit is ’n lewensvorm waarin geloof ’n duidelike en daarom ook funksionele en geloofwaardige gestalte kry.

Op pad na uitbranding in die bediening gebeur dit dikwels dat die predikant sy/haar roepings- bewustheid verloor. Die predikant raak ’n leë persoon met geen duidelike sin van identiteit, geestelike krag, oortuiging en energie vir die bediening nie. Johnson (1988:18) interpreteer hierdie roepingsverlies as ’n uitnodiging. Die ervaring van vervreemding van ons geestelike diepte laat ons hulpeloos. ’n Alternatief vir die vermyding van hierdie pyn is om dit direk te konfronteer; om jou intensioneel tot die leegheid te keer en om na die stem van God in die stilte van jou siel te soek. Hierdie donkerte roep ons dus tot hernieude intimiteit met God.

Ten einde dan binne die teologie te skuif na die vertolkingsparadigma vir die bediening met ’n hoë premie op intimiteit, is ’n herwaardering van ons verstaan van God nodig. Die teologiese implikasie van so ’n paradigmaskuif is weg van die God in beheer en kontrole (God as Mags- faktor; God as Pantokrator) na God as “Partner” (verbondsmetafoor) en God as Vriend (Wegge- noot en Bondgenoot). ’n Dergerlike verskuiwing in Godsverstaan impakteer onmiddellik op ’n ekklesiologie vir die bediening. In plaas van ’n verstaan van die kerk van bo na onder (die piramide van die amp) kom daar ’n openheid vir ’n dwarsverstaan van die kerk. Daarmee word bedoel die onderlinge interaksie van die gelowiges (koinonia). Gesag verskuif weg van ’n enkele amp na onderlinge gemeenskap en sensitiewe sorg. Tergelykertyd word gesag gedeelde gesag en ontstaan daar ’n van-onder-af-na-bo-model: Die amp van die geloof word aanvullend vir al die ander ampte van die kerk. Op hierdie wyse kom daar ruimte vir ’n spiritualiteit van onderlinge ondersteuning en sorg. In plaas van ’n geburokratiseerde gemeentebestuur kom daar ruimte vir ’n pastorale gemeentebestuur.

Die kitssindroom, produksiementaliteit en prestasiesug, predisposisie tot afhanklikheid en die rasioneel analitiese benaderingswyse van die hedendaagse mens is alles remmende faktore op pad na die ontwikkeling van ’n integrale spiritualiteit (Enderstein 1993:59-60). Christelike spiritualiteit leer ons dat die voedingsaar vir die bediening geleë is in die God van die heil en die vervulde beloftes van die Skrif; daarom is dit dat die pastor langs die weg van ’n Geesvervulde spiritualiteit van sy/haar werksobsessie verlos word. Hy/sy ontdek die geheim van ’n bevryde bediening: nie dit wat hy/sy doen en weet is van belang nie, maar wie hy/sy op pastorale vlak vir mense is (Enderstein 1993:61). Hierdie verhouding met God is nie bloot ’n rasionele aangeleentheid nie – dit moet in stilte beleef en geoefen word. Die pastor moet die Bybel in ’n gesekulariseerde lewensbestel leef. Sy/haar lewenstyl moet die wêreld oortuig van die teenwoordigheid van God.

Gebed en meditasie kan hierin ’n sentrale rol speel. In meditasie word die swaartepunt van die belewenis van buite na binne verskuif (Enderstein 1993:69-70). Kalmering van jou gedagtes lei tot innerlike integrasie. In meditasie kom daar kontak tussen jou bewussyn en die dieper gevoelens in jou innerlike; jy leer om innerlike spanning beter te hanteer, te verstaan en te verwerk. Dit bring emosionele integrasie en kweek ’n diep rustigheid. Wanneer hierdie selfversameling voor God en in gesprek met Hom plaasvind, het dit geweldig baie waarde vir jou spiritualiteit. In hierdie proses verlewendig meditasie die kreatiewe kragte in die mens. Jy lewe rustig en naby jouself, het ’n beter intuïsie in jou omgang met mense en jy ervaar dikwels dat God jou denke verlig en jou nuwe moontlikhede laat sien (Enderstein 1993:71).

Omdat meditasie die predikant help om as geïntegreerde persoon voor die aangesig van God te lewe, ontwikkel hy/sy die vermoë om keuses volgens die wil van God te maak. Dit stel hom/haar in staat om meer volledig aandag te gee aan dit wat belangrik is en om makliker “nee” te sê vir die eise van buite. In die gejaagdheid bring meditasie ’n groter bewustheid van die teenwoordigheid van God in ’n mens se lewe (Endretsein 1993:76).

’n Integrale spiritualiteit help dus die predikant om sy/haar referensiepunt vanaf die “eksterne magte” (bv die kultuurkonteks en eiebelang) na die “innerlike magte” van die Woord en Gees te skuif en help sodoende die predikant om bedieningspanning konstruktief te hanteer. ’n Christelike spiritualiteit open vir die predikant ’n wêreldbeskouing van alternatiewe waardes, ideale en persepsies waar prioriteite anders gedefinieer word. ’n Deurleefde spiritualiteit word vir die predikant ’n integreringspunt waar die Goddelike werklikheid ’n realiteit word. Dit impliseer ’n skuif van die doen- na die wees-funksie. Die eensydighede en destruktiewe elemente wat vanuit die kultuurkonteks en wanbeskouings van die amp, kerk en bediening ontspring, word “genees”. Langs hierdie weg kan ’n verstaan, beoefening en dissipline in Chrsitelike spiritualiteit ’n groot rol speel in die voorkoming en hantering van bedieningspanning en uitbranding. Binne hierdie paradigma kyk die predikant met ander oë na die wêreld en na hom-/haarself. Die predikant ervaar die bevryding en energie wat gevorm word deur die rol as verteenwoordiger van Christus.

BIBLIOGRAFIE

Böhmer, A C & Spangenberg, J J 2001. Depressie en angs onder predikant van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaap. NGTT Deel 42 Nr 1 & 2 Mrt & Jun 2001.

Burton, L A 1988. Pastoral paradigms: Christian ministry in a pluralistic culture. Washington DC: Alban Institute.

Congo, D G 1990. Burnout, in Hunter, R J. Dictionary of pastoral care and counselling. Nashville: Abingdon Press.

Enderstein, D P v d B 1993. Die invloed van bedieningspanning op die identiteit van die pastor. Universiteit van Stellenbosch: Ongepubliseerde MTh-studie.

Hart, A D 1984. Coping with depression in the ministry and other helping professions. Waco, Texas: Word Books.

Hendriks, H J 2001. Doing missional theology in Africa. Universiteit van Stellenbosch: Ongepubliseerde studie.

Johnson, B C 1988. Pastoral spirituality: A focus for ministry. Philidelphia, VSA: The Westminster Press.

Louw, D J 1987. Bedieningspanning en die identiteitskrisis van die hedendaagse pastor, in Combrink, H J B, Lategan, B C & Muller, B A (reds). Bediening en bedienaar. Kaapstad: Lux Verbi.

Louw, D J 1998. Pastoraat as vertolking en ontmoeting: Teologiese ontwerp vir ’n basisteorie, antropologie, metode en terapie. Kaapstad: Lux Verbi.

Odendaal, F J 1984. Die predikant en uitbranding: ’n Sielkundige ondersoek. Johannesburg: RAU (ongepubliseerde MA-skripsie).

Osborne, G R 1999. Christianity challenges postmodernism, in Kennard, D W (red). The relationship between Epistology, Hermeneutics, Biblical Theology and Contextualization: understanding thruth. Queenston: Edwin Mellen Press.

Raschke, C A 1982. The deconstruction of God, in Altizer, T J J, Myers, M A, Raschke, C A, Scharlemann, R P, Taylor, M C & Winquist, C E. Deconstruction and theology. New York: Crossroad.

Roxburgh, A 2000. Crossing the bridge: Church leadership in a time of change. VSA: Percept.

Smit, A T 1989. Die dimensie van spiritualiteit in leierskapontwikkeling by die predikant. Universiteit van Stellenbosch: ongepubliseerde MTh-studie.

Swart, T, Fourie, C M & Scheepers, H F 2000. Aspekte van uitbranding by predikante van die NG Kerk: ’n teoretiese oorsig. NGTT XXXXI:336-349.

Van der Ven, J A 1998. Education for reflective ministry. Leuven, Belgium: W B Eerdmans.

1 Wanneer ons van ’n paradigma praat, verwys ons na ’n verwysingsraamwerk of denkskema, dws ’n bepaalde tradisie of manier vandink en verklaar. Louw (1998:22) se werksdefinisie van ’n paradigma lyk as volg: “die geheel van opvattinge, waardes en tegnieke wat deur mense/geleerdes vanuit ’n bepaalde ondersoekposisie hanteer word”. Teologiese paradigmas kan uiteindelik in die woorde van Burton (1988:4) beskryf word as uitdrukkings van teologie, sielkunde en etiek, wat bestaan uit storie, styl en struktuur.

2 Alhoewel die gebeure in die VSA op die 11de Septeber 2001 waarskynlik ’n nuwe era inlui, is dit nog te vroeg om enige afleidings maak.