Enkele inleidingsakkoorde tot hierdie supplementum
Hoffie (JW) Hofmeyr
Universiteit van die Vrystaat
Bloemfontein, Suid-Afrika
linhof@mweb.co.za
Die beskrywing en analisering van die geskiedenis van enige instelling het baie waarde, en dit is ook die geval met die kerk van Christus. Die kerkgeskiedenis help om die kerk op die weegskaal van wat egte kerkwees impliseer, te plaas. Al was daar deur die hele geskiedenis, ook in die Christelike kerke vanaf die vroegste tye, baie afdraandes en opdraandes, het die kerk nie net negatiewe elemente of swakhede nie maar beslis ook positiewe kante. Hierdie supplementum van die Stellenbosch Teologiese Joernaal (STJ) met sy twaalf afsonderlike artikels, beperk tot ’n bepaalde tydsgleuf, wil dus eerstens te midde van die samelewingswerklikhede ’n historiese analise van die kerklike en teologiese konteks van die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika bied. Tweedens wil dit ’n histories-teologiese blik gee op die huidige stand van bepaalde temas en hoe dit tot hiertoe ontwikkel het, en derdens wil dit die betrokke temas met ’n aantal analises beredeneer om so tot ’n beter selfverstaan te kom. Oorkoepelend is dit die rol van hierdie ekklesiologiese denke in hierdie tydsgewrig en hoe dit ons tot beter verstaan kan bring. Indien daar wel verskuiwinge in die ekklesiologiese denke van hierdie kerke gedurende hierdie periode plaasgevind het, poog ons om dit te verreken en dan as gereedskapstuk aan te wend om die groter verlede-en toekomsprent te probeer verduidelik vanuit ons “verbeterde” verstaan daarvan.
Die benaderings- en werkswyse vir en van hierdie supplementum kan vervolgens soos volg saam gevat word: Ons wil in hierdie supplementum eerstens so objektief en eerlik as moontlik wees en op die negatiewe en kommerwekkende tendense van die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika wys, maar terselfdertyd ook verduidelik en uitwys dat daar tog ook positiewe en hoopvolle ontwikkelinge, tendense en bydraes is. Verder wil ons ook nie ’n doodsberig oor die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika skryf nie, maar veel eerder tot ’n lojaal-kritiese historiese herbesinning en revisie van en voorraadopname van hierdie kerke kom. Dit alles sal ons uiteindelik hopelik daartoe in staat stel om tot ’n redelike ewewigtige beoordeling van die verlede, ’n toekomsblik en ’n slotsom te kom.
Tweedens is aan elk van die outeurs die vryheid gebied om sy of haar eie invalshoek te gebruik. In dieselfde asem is die outeurs as kerkhistorici versoek om die bepaalde tema uit die resente geskiedenis van die Afrikaanse gereformeerde kerke tussen 1990 en 2020 wat aan hulle toevertrou is, hoofsaaklik histories-teologies onder die soeklig te plaas. Ons wil dus via ’n proses van dekonstruksie probeer verstaan wat die verskillende teologiese en historiese agtergronde, faktore en dryfkragte was wat hierdie kerke in die afgelope 30 jaar gestuur en gedryf het. Anders gestel, ons wil probeer vertel maar ook verduidelik wat in die gedagtes van hierdie vier kerke en in hul geskiedenis aangegaan het en wat toe daaruit in hul optredes en funksionering voortgevloei het.
Derdens is gevra dat die bydraes oorsigartikels moet wees – gebaseer op literatuurstudie. Die versoek is egter ook gerig dat daar minstens na ’n aantal primêre bronne van algemeen sinodale of ’n algemene agtergrond waar die fokus deur kerkvergaderings bepaal is, gekyk en verreken moet word. In sommige gevalle is ook meerdere ander primêre naas natuurlik verskeie sekondêre bronne geraadpleeg.
Vierdens is hierdie supplementum van die begin af onder vier verskillende subhoofde gestruktureer, naamlik a) die huidige tydsgees en enkele breë beginsels van kerkwees in die 21e eeu; b) die praktyk van kerkwees in die 21ste eeu; c) enkele aktuele kwessies vir die 21ste eeu; en d) enkele perspektiewe op die toekoms tot by 2030 en 2040. Sonder om op ’n samevatting van elk van die bydraes te fokus, behels die bydraes temas soos ’n analise van ons tydsgees; twee perspektiewe op Skrifgebruik en Skrifinterpretasie; uitdagings vir kerkreg in ons tyd; aanbiddingspraktyke; die vrou in die kerk; rasseverhoudinge; die missionale; die kerk en ekologie; armoede en ekumene; en dan uiteindelik enkele toekomsperspektiewe. Wat laasgenoemde betref, is doelbewus besluit om aan die versameling van artikels naas ’n hooftitel ook ’n subtitel te gee wat die toekomsbesinning sou insluit naamlik, Vier gereformeerde kerke in Suider-Afrika (1990-2020). Platform op pad na die toekoms: die onlangse verlede en die nabye toekoms van vier Afrikaanse gereformeerde kerke in Suider-Afrika. Hiermee word bedoel om ruimte te skep vir ’n terugblik, vir ’n bestek- of voorraadopname, en vir ’n kort vooruitskouing.
Ons vertrou dat die wyse waarop hierdie supplementum gestruktureer is en die temas wat aangespreek word, ten spyte van die uitgangspunte van die verskillende medewerkers, tog ’n mate van ’n goue lyn vir hierdie betrokke periode (vanaf 1990 tot 2020) sal vertoon. Die strukturering gee hopelik ’n redelike logiese en opbouende lyn wanneer dit as deel van ’n groter versameling bekyk word.
Hoewel daar gepoog is om die temas so te kies dat dit die belangrikste kwessies in die lewe van die genoemde kerke raak, kon die hele veld nie gedek word nie. Dit sou die werk eenvoudig te omvangryk maak. ’n Onderwerp wat byvoorbeeld tot die waarde van hierdie supplementum sou kon bydra, is die kwessie van die onderwys. Binne die huidige politieke bestel van Suid-Afrika is primêre, sekondêre en tersiêre onderwys in die brandpunt. In die verlede het die kerke dikwels saamgewerk om ouers op te skerp om hul doopbelofte na te kom. Daar was en is steeds pogings om sowel die openbare skolestelsel heilsaam te beïnvloed as om deur middel van gereformeerde privaatskole Skrifgefundeerde onderrig aan verbondskinders te verseker. Die kwessie van die opleiding van geroepe onderwysers en onderwyseresse in die lig van die Woord van God het ook in die agendas van kerklike vergaderings plek gekry. Hierdie onderwerp roep dus beslis tot latere indringende navorsing.
Die vraag kan tereg gevra word of kerke van gereformeerde of reform-atoriese agtergrond nog oor 10, 20 of 50 jaar in Suid-Afrika staande gaan bly. Om so ’n vraag te beantwoord hang met baie faktore saam waarvan ons eintlik net die belangrikste na vore wil bring.
Dit hang saam met die vraag of die hoofstroomkerke wêreldwyd besig is om te groei, te stagneer of weg te kwyn. Dat die hoofstroomkerke oftewel gevestigde kerke in ons tydsgewrig toenemend onder druk verkeer en dit soms wil lyk asof hulle stagneer en miskien selfs wegkwyn, kan nie ontken word nie. Onses insiens sal die hoofstroomkerke soos dit uit die totale geskiedenis van die kerk oor 20 eeue ook blyk, egter nooit geheel van die toneel verdwyn nie. Hierdie kerke vorm steeds een van die belangrike elemente in die ruggraat van die Christelike kerk. Leer en lewe speel ook ’n belangrike balanserende rol om die ekstreme elemente van, aan die een kant, diepgrypende en vervlakkende kerkwees wat deur teologiese relativisme of deur totale sekularisasie voortgedryf word, en aan die ander kant, die eweneens vervlakkende fundamentalistiese kerkwees wat soms deur eensydige beklemtoninge voortgestu word, teen te werk. Historici streef meestal na balans en daarom sal die opbeurende maar ook die hartseer werklikhede van die hoofstroom Afrikaanse kerke in Suid-Afrika en hul pad na die toekoms aan die orde gestel word.
Dat ons tans aan die einde van die tweede dekade en op pad na die derde dekade van die 21ste eeu deur geweldig uitdagende en selfs ontsettende moeilike tye wêreldwyd maar ook in Suid-Afrika beweeg, val nie te betwyfel nie. Wêreldwyd, maar ook veral in Suid-Afrika, was die jare sedert 1990 baie kritiese maar ook moeilike oorgangsjare. Dit het enersyds saamgeval met die val van die Berlynse Muur in 1989 en die realisering van ’n nuwe wêreldorde wat voorheen bipolêr was maar na 1990 multipolêr geword het. Andersyds was dit in Suid-Afrika die geboorteproses van ’n demokratiese Suid-Afrika met al die vreugdes en pyne wat dit ingehou het. So ’n geboorteproses het baie rimpelinge tot gevolg en dit lei ook tot baie onsekerhede en ook verskillende koersaanpassings vir baie instansies, en dus ook vir die kerk. Ons wil juis daarom dan nou meer spesifiek op ’n aantal algemene globale konteks-verskynsels en dan daarna op ’n aantal golfbewegings in die geskiedenis van die kerk van Christus wys.
Ons lewe in ’n baie komplekse wêreld en eweneens in baie komplekse tye. Ons wêreld word deur baie verskynsels gekenmerk. Ons wil hier slegs twee aspekte van hierdie kompleksiteit bespreek: die een is dié van konflik en die ander dié van verskillende faktore wat ons wêreld sterk beïnvloed.
Die vroeë dekades van die 21ste eeu word byna orals gekenmerk deur toenemende konflik en weerstand. Waar ons in die Koue Oorlog era tot 1990 veel meer te doen gehad het met ’n bipolêre wêreld tussen Washington en Moskou, word die 21ste eeuse wêreld gekenmerk deur ’n toenemende gevoel van wantroue in die hoofstroompolitiek, en van toenemende en gepolariseerde brandpunte in ons wêreld.
Baie historici en politieke wetenskaplikes analiseer voortdurend die tye waarin ons leef en hulle is dit taamlik eens oor ’n aantal tendense in ons wêreld. Massa-mobilisasie het ’n reuse-impak in die wêreld, sosio-polities asook ekonomies. Aan die een kant word byvoorbeeld in opstand gekom teen neoliberale hervormings wat burgerlike vryhede wil bedreig, terwyl aan die ander kant daar opstand is teen regerings wat nie die klimaatkrisis onder oë wil sien nie.
Een van die mees omvattende weerstande na die Koue Oorlog oor die sterkste ekonomiese stelsel van die tyd het sigbaar geword met die betogings in Seattle in die VSA in 1999. Hierdie betogings wou mense se kritiek op die ekstreme fasette van die kapitalistiese stelsel weerspieël. Die totstandkoming van die antiglobaliseringsbeweging in Seattle is gevolg deur omvangryke protesoptogte by groot byeenkomste van die wêreld se ekonomiese elite. Intussen het alternatiewe bewegings vir geregtigheid oral ter wêreld begin ontluik. Een van die belangrikste en vroegstes hiervan was die World Social Forum wat in 2001 in Brasilië tot stand gekom het. In die tye voor en rondom 2008 se ekonomiese krisis het betogings oor kos en oor besuiniging ook sterk vorm aangeneem.
In dele van die Midde-Ooste en Noord-Afrika het die Arabiese Lente vroeg in 2010 sy verskyning gemaak om een na die ander diktator te verwyder, weliswaar met wisselende sukses. In hierdie tyd het sosiale media ’n belangrike manier geword om die massas te mobiliseer. Daar ontwikkel ’n patroon waarin mense al minder geneig is om politici te aanvaar wat nie hul belange dien of verteenwoordig nie. Van Irak tot Libanon, van Chili tot Hongkong en van Venezuela tot Soedan het reusebetogings in die afgelope jare plaasgevind ten spyte van bedankings of toegewings deur politici.
Sedert Desember 2018 het algemene stakings ook in Frankryk oor president Macron se pensioenhervormings begin en dit het weerstand teen die regering verder na vore gebring. Dit moet in samehang met die Geelhemp-beweging gesien word wat teen die verhogings in brandstofpryse en die sukkelbestaan wat baie mense voer, betoog het. Die groeiende tendens van straatbetogings op verskillende plekke sal deur die klimaatkrisis nog verder aangehelp word.
Dit is volgens kenners duidelik dat ons in die 2020’s ongekende tye betree: noodtoestande wat klimaat en ekologiese probleme betref, broeiende finansiële krisisse, toenemende ongelykheid, en dreigemente van nog magsuitbreiding en militarisasie met gepaardgaande verdere konflik.
Intussen is daar vanweë verskillende redes ’n duidelike herlewing onder verregses en populiste in verskillende dele van die wêreld. Hierdie eensydige ontwikkelinge word gestimuleer deur partye en politici in dele van Europa, Brasilië, Indië en ook in die VSA. ’n Breekpunt sal bereik word as die krisisse saamvloei en dit kan tot verdere betogings en polarisasie lei. Die hervormings en aanpassings van regerings in reaksie daarop sal waarskynlik nie genoeg wees om te voldoen aan die verskillende ekonomiese en politieke eise nie. Vrae oor nuwe maniere van verteenwoordiging om populêre beheer oor die ekonomie te handhaaf sal verder groei en dit kan besliste implikasies vir die demokratiese stelsel inhou as populisme verder sou uitbrei. Sedert die val van die Berlynse Muur en die Sowjet-Unie 30 jaar gelede, aanvaar mense nie meer so maklik dat politici hul vryheid kan inperk nie. Toenemend is die vertroue in die hoofstroom politiek besig om agteruit te gaan. In die eerste twee dekades van die 21ste eeu het ongelykheid in die wêreld sterk toegeneem. Die onvermoë van die moderne kapitalisme om egter iets meer as oorlewing vir mense te verseker, en die algemene kritiek op neoliberalistiese kapitalisme, het ’n situasie geskep waarin meer en meer in die samelewing ter wille van protes, en dan dikwels straatproteste, verenig het.
Intussen duur baie onsekerhede in die wêreld voort. Die Midde-Ooste bly ’n kookpot van onrustigheid. Die burgeroorlog in Sirië is steeds aan die gang, Iran is vasberade om sy kernwapensprogram na te jaag, en Turkye bly steeds op sy eiesinnige pad. Intussen voer die Midde-Ooste baie van sy onstabiliteit uit na Europa in die vorm van terreur, vlugtelinge en asielsoekers. Europa reageer daarop deur na regse populisme te neig, maar dit is eweseer ’n bedreiging vir stabiliteit. Ook president Putin van Rusland wys sy spiere op verskillende maniere want hy wil graag weer as groot moondheid vrees inboesem. Intussen is ook China besig om ekonomies, polities en militêr al sterker te word en sy voetspoor in Afrika vergroot intussen by die dag. In hierdie onsekere en onstabiele scenario hou die selfgesentreerdheid van president Trump van die VSA met betrekking tot sy persoon en sy land op sy beurt besliste gevare in. Ons lewe dus steeds nie in ’n besonder stabiele wêreld met groot sekerhede nie: trouens, die wêreld word selfs meer onstabiel en meer deurmekaar.
Vervolgens dan nou ’n samevattende oorsig oor enkele konteks-kategorieë waarin die betrokke kerke in die huidige tydsgewrig vanaf 1990–2020 in Suid-Afrika funksioneer. Hoewel die historiese fokus van hierdie artikels eintlik teen 2017 eindig toe die navorsing vir die verskillende artikels in hierdie supplementum afgesluit is (juis ook die jaar waarin die Kerkhervorming se 500ste herdenking plaasgevind het), word hierdie artikels nou in 2020 tydens die vroeë fase van Covid-19 finaal geredigeer en vir publikasie voorberei. In die oorsig hieronder, hoewel daar elders in die boek meer aandag daaraan gegee word, sal die nuwe werklikheid wat die hele wêreld tegemoet gaan as gevolg van Covid-19 kortliks wel aan die orde kom.
2.1 Geopolities
Dat ons in die laaste tyd al hoe meer in ’n globale wêreld en konteks begin leef het wat ook sy eie globaliseringstendense inhou, kan nie betwyfel word nie. Hierdie globale werklikheid speel op verskillende terreine en maniere uit.
Op mikrovlak het die realiteit van die "global village" oftewel wêrelddorp al meer ’n werklikheid geword, alhoewel daar ook al meer ’n teenreaksie daarteen begin opbou.
Op makrovlak is die strategiese ligging van Suid-Afrika aan die suidpunt van Afrika en as beskermer van die seeroete om die Kaap, asook die feit dat hy oor baie minerale rykdomme beskik, beslis van groot belang. Hoewel ons nie in ’n oorlogsituasie leef nie, moet ’n mens nooit die ekonomiese naywer en die verdere potensiaal vir en bedreiging van konflik tussen bepaalde groot moondhede en verskillende magsgroeperinge onderskat nie. Magsblokke en ideologiese strydpunte bly by die mensdom en in ons wêreld steeds van kritieke belang. Subtiele sjarme-projekte en -pogings bly intussen aan die orde van die dag. Die groot moondhede wat steeds meeding met mekaar met die oog op die beheer en oorheersing van politieke, ekonomiese en ideologiese kwessies is veral Rusland, China en die VSA. Militêre basisse in Suider-Afrika wat ten opsigte van die genoemde lande onderskeidelik hierin ’n groot rol kan speel, is Pretoria self, Walvisbaai en dan ook die eiland noordwes van Suid-Afrika en Namibië in die Atlantiese Oseaan, naamlik St Helena.
2.2 Polities en demografies
In wese kan hierdie betrokke periode in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse samelewing baie sterk gekarakteriseer word deur die konsepte van verandering en nogmaals verandering. Die politieke wêreld is baie onstabiel en onvoorspelbaar, maar ook demografiese werklikhede speel ’n groot rol in ons wêreld.
’n Baie intense en soms ook fel kritiese debat woed tans in die Afrikaanssprekende kerke oor die dramatiese afname in lidmaatgetalle. Baie aspekte en faktore word in hierdie verband genoem. Sonder om hier te diep by die debat betrokke te raak omdat dit ook elders heelwat aandag geniet, kan die hoofredes vir hierdie verskynsel in uiteenlopende interne demografiese faktore gevind word, asook in die emigrasie na ander lande as gevolg van politieke kwessies binne Suid-Afrika self. Ook interkerklike migrasies, of doodgewoon net kerkloosheid of kerklosheid in die huidige tydsgewrig, is harde realiteite. Sommiges gaan so ver as om te sê dat ons in Suid-Afrika, in navolging van bepaalde patrone van lidmate se kerkverbintenisse in die noordelike wêreld, reeds ’n tyd gelede ’n post-kerk era begin betree het.
2.3 Die vierde industriële revolusie
Die wêreld waarin ons leef, beleef steeds haas ongekende tegnologiese ontwikkeling. ’n Werklikheid soos die vierde industriële rewolusie verdien daarom ook ons aandag hier in die eerste kwart van die 21ste eeu. Nie net neem tegnologiese ontwikkelinge geweldige afmetings aan nie maar artifisiële intelligensie en tegnologie met al sy dimensies van robot-aktiwiteite en virtuele en digitale projekte, stel nuwe eise aan ons snelveranderende samelewings, ook dié in Suid-Afrika. Watter omvattende effekte dit alles gaan hê, is meestal nog moeilik te bepaal en te peil. Een terrein egter waar dit ongetwyfeld geweldige invloede gaan hê, is dié van die arbeidsterrein. Aan die een kant gaan mense veel meer vanaf die huis werk, en aan die ander kant gaan dit veral ook sigbaar wees maar ook ’n effek hê op die terreine waar die mensdom voorheen met bepaalde prosedures of vervaardigingsprosesse besig was. In hierdie en in sulke gevalle gaan die rol van die mens veel kleiner en onbelangriker word, en dié van die robot of geoutomatiseerde apparate veel groter en belangriker. Al hierdie ontwikkelinge met betrekking tot die vierde industriële revolusie is intussen deur die gebeure rondom Covid-19 versnel, soos byvoorbeeld sosiale afstandskepping, mense wat vanaf die huis werk, aanlynvergaderings en skole en universiteite wat letterlik gesluit is maar wel met afstandsonderrig voortgaan.
2.4 Die ekonomie en ekonomiese nasionalisme
Wêreldwyd is ekonomiese werklikhede en ook voortdurende veranderinge skerp in fokus. Naas die feit dat ook hierdie tydsgewrig baie spesifieke ekonomiese krisisse, soos veral die van 1997 en van 2008 in die gesig gestaar het, is daar ook ander kwessies wat deurlopend op die tafel is. Dit gaan in die verband oor sake soos die vryemarkstelsel, sosialistiese stelsels en ander ideologiese kwessies. Ander sake is die van die groterwordende kloof tussen ryk en arm, groot tegnologiese ontwikkeling in die noordelike wêreld versus agtergeblewenheid in die suidelike wêreld, asook groter wordende ekonomiese nasionalisme. ’n Byna eensydige en ongebreidelde kapitalisme en ’n gesentraliseerde ekonomie en globalisering bring ook nie die nodige ekonomiese groei tot stand nie. Dit wil lyk asof die groter wêreld nie bereid is om die verskillende implikasies van ’n globale benadering om ekonomiese middele breër te versprei, wil realiseer of implementeer nie. Van die grootste drywers van ekonomiese nasionalisme is Donald Trump van die VSA en Boris Johnson van die Verenigde Koninkryk (VK). Vir hulle gaan dit grootliks oor Amerika en die VK eerste. Onder Biden is die rigting nog onseker.
2.5 Multikulturaliteit
’n Mens kan nie werklik aan Suid-Afrika dink sonder om ook aan ’n multikulturele of interkulturele werklikheid te dink nie. Dan moet dit nie verkeerd verstaan word as iets waaragter ’n mens skuil nie, maar as ’n gegewe waaraan ’n mens nie kan ontkom as gevolg van taal, kultuur en opvoedingsverskille. Interkulturaliteit word veral as gevolg van die werklikhede en die toeganklikhede met betrekking tot taalgebruik ook in kerke gesien. Intussen is multikulturele bedieninge egter tog ook besig om te groei. Veral in middestede is dit nie meer ’n vreemde konsep nie. Hierdie bedieninge fokus sterk op gemeenskapsdiens, op MIV en vigs- en TB-projekte en ander maatskaplike nood in die middestadsgebiede.
’n Aantal jaar gelede in 1992 het Attie van Niekerk die bekende publikasie Saam in Afrika die lig laat sien. Sommiges het dit as ’n eerlike weerspieëling van werklikhede gesien, terwyl andere dit weer as ’n gemanipuleerde verskoning vir afsonderlikheid beskou het. Hoe dan ook, Van Niekerk was doodgewoon eerlik en het die werklikheid nie met politieke korrektheid beskryf nie maar in eerlikheid betoog dat dit juis die evangelie is wat ons kan help om die verskille wat die verbygegane beleid van apartheid sou kon bevorder, te deurbreek en te oorbrug.
Die feit dat ons saam in Afrika en ook in Suid-Afrika is, kan nie ontken word nie. Ons is dus deel van ’n diverse samelewing met uiteenlopende kulture, tale en lewensbeskouings. Die vraag is hoe leef ons as diverse samelewing saam in Afrika, al verstaan ons soms nie mekaar of selfs die situasie nie. Wat maak ons met kwessies soos rituele rondom geboortes en sterftes, aanrandings en die misbruik en molestering van vroue en kinders, vernietiging van infrastruktuur, grondverdeling, en die verering van afgestorwenes, om ’n paar voorbeelde te noem. Van Niekerk het dit duidelik gestel dat die uitdaging vir diegene wat ’n Bybelse lewens- en wêreldbeskouing het, is om begrip en kennis van ander Afrika lewens- en wêreldbeskouings op te bou en te ontwikkel. Intussen sê hy is baie van ons swart broers en susters soos ons ook reeds lank gekersten, terwyl ons almal tot op ’n sekere hoogte steeds aan ons Westerse of Afrika-naelstringe vashou. Aan ons, sê Van Niekerk egter, is die boodskap van versoening teenoor mekaar in Christus toevertrou, aldus 2 Kor 5:18–21. Daarom moet ons eweneens as versoende gesante optree met die boodskap, “Laat julle met God versoen.”
2.6 Ekologie
Soos hierbo aangedui, staan ons wêreld nie net in die teken van ongekende bevolkingsgroei nie maar daarmee saam ook die werklikheid van meerdere behoeftes van die mensdom en omvangryke nywerheidsontwikkeling. Dit alles het tot gevolg dat die hele skepping eintlik onder enorme druk staan ten opsigte van natuurlike hulpbronne, die vernietiging van die ekologie, die omvattende besoedeling wat aan die gang is, asook epidemies. Die natuur het eintlik ’n groot behoefte daaraan om tot rus te kom en asem te skep van die mensdom se soms vernietigende aksies en van die heersende verbruikersmanie.
2.7 Teologiese stromings
Terwyl die geskiedenis deur verandering en aanpassing gekenmerk word, staan ook teologiese nadenke in hierdie tydsgewrig sterk in die teken van verandering en aanpassing te midde van die nuwe dampkring van die postmodernisme.
Die oorsig wat ons in hierdie twaalf artikels aanbied, word ook naas die
groter teologiese diskoerse uit hierdie betrokke periode in die Suid-Afrikaanse konteks geplaas. Hierdie diskoerse kan basies soos volg saamgevat word: Die eerste is die Afrikaanse reformatoriese kerke se houding teenoor en hul antwoord op (post)sekularisasie in ’n postmoderne era; tweedens, hoe die kwessie van Skrifgesag, Skrifgebruik en sieninge op die belydenis in die Afrikaanse gereformeerde kerke in dié tyd verstaan word; en derdens, die realiteit van ’n ingrypende oorgangsfase vir die kerk te midde ook van baie nuwe etiese uitdagings in die nuwe Suid-Afrika in die dekades na 1990.
2.8 Verdere verskuiwinge en toenaderingsprosesse in die Afrikaanse kerklike wêreld
Tesame en dikwels kort op die voetspore van ingrypende verskuiwings in Suid-Afrika wat na die 1990’s in die postmoderne maar ook in politieke verband in Suid-Afrika plaasgevind het, het daar ook in die gereformeerde kerke baie veranderings op pad na 2020 ingetree. Op baie plekke is die samewerking tussen verskillende gereformeerde of reformatoriese kerke reeds opvallend. Ook oor ander kerk- en kultuurgrense is daar begin om al hoe meer hande te vat en na groter eenheid te soek. Verskeie gemeentes van hierdie kerke het sterk begin fokus op uitreikaksies en op omvattende maatskaplike dienste; in middestadsgebiede word dikwels interkulturele bedieninge gevestig wat naas gemeenskapsdiens ook fokus op MIV en vigs en TB-projekte; verskillende kerke op die platteland bied reeds gesamentlike kerkdienste aan; eredienste in veral die stede vind al hoe meer in ’n minder rigoristiese styl plaas met ’n minder gestruktureerde liturgie en ’n spontaner en gemakliker aanbiddingstyl; kleingroepe binne gemeentes is aan die orde van die dag en met hul fokus op uitreiking, het die sendingveld verskuif van buite die landsgrense na binne ons leefruimte. Kerke het vanweë verskillende teologiese, ekonomiese en ander redes uit hul gemaksones begin beweeg en vat hande met ander kerke om die gemeenskap beter te bedien.
Soos De Klerk en Van Helden duidelik uitgespel het in ’n belangwekkende artikel in 2011 oor “Oorsake van kerkkrimping binne die tradisioneel Afrikaanssprekende gereformeerde kerke in Suid-Afrika”, is dit besonder interessant dat daar in die laaste 2 000 jaar van die Christendom se ontwikkeling, feitlik elke 500 jaar golfbewegings is wat klaarblyklik onstuitbaar voortrol en manifesteer. Hulle verwys na die hoogaangeskrewe Phyllis Tickle wat in 2008 in haar boek The great emergence stel dat hierdie golfbewegings waarskynlik toegeskryf kan word aan die Gees se aktiwiteit wat gevestigde godsdiensuitlewing wysig, en opnuut dan nuwe omstandighede daarstel om weer vernuwende uitbreiding van die evangelie te verseker (Tickle 2008). Na die eerste Christene in Antiochië die Christelike godsdiens aanvaar het, is ’n eerste golfbeweging teen ongeveer 500 nC bespeur, grootliks deur die toedoen van Gregorius die Grote. Die tweede golf van 500 jaar neem ’n aanvang met die verdwyning van die Romeinse Ryk en bereik teen ongeveer 1054 ’n hoogtepunt met die groot skeuring tussen Katolisisme (Rome) en die Griekse Ortodoksie (Kontantinopel). Die derde golfbeweging beweeg na sy hoogtepunt teen 1517 met Luther se 95 stellings teen die Slotkerk van Wittenberg. Die vierde golfbeweging is tans hier aan die begin van die 21ste eeu besig om na ’n piek te beweeg, terwyl dit onderweg is na die vyfde golfbeweging.
Van Helden-hulle bevestig hierdie perspektief in die volgende woorde: “Gelowiges van die 21ste eeu verkeer derhalwe midde [in] ’n onafwendbare oorgangsfase” (De Klerk en Van Helden 2011:2). Van Helden en De Klerk gaan dan voort en stel volgens hul insig en in aansluiting by die bogenoemde Tickle dat hierdie ontluikende verskuiwing waarskynlik nie op die vernietiging van godsdiens dui nie, maar wel dat ’n byna onstuitbare mag ’n totaal nuwe uitlewing van godsdiens voorhou.
Van Helden-hulle gaan voort en beskryf dan hoe die historiese hartland en kern van die Protestantisme geleë was in die sogenaamde blanke lande in die ontwikkelde dele van die Noordelike Halfrond. Van hieruit is die evangelieboodskap vir eeue lank uitgedra deur sendingaksies of deur kolonisasie. Hierdie enkulturasieproses ontkiem egter teen die einde van die 20ste en die begin van die 21ste eeu in ’n nuwe oorgangstyd, en dit lewer verskillende vrugte op hierdie vroeëre sendingaktiwiteite. Dit beteken ’n verskuiwing van die noordelike Christelike hartland na Asië en die Suidelike Halfrond, naamlik Suid-Amerika en Afrika, veral suid van die Sahara. “Die geweldige golfbeweging toon ’n ontsaglike opbou in momentum binne lande in die ontwikkelende wêreld, waar kerke op multikulturele en sinkretistiese wyse die Christelike geloof binne die charismatiese interpretasiewyse aanneem” (De Klerk en Van Helden 2011:2). Soos die bekende internasionale skrywer en historikus Paul Jenkins beweer, oortref die charismatiese stroom met sy bemagtiging van die “have-nots” (diegene sonder sosiale of finansiële sekuriteit) verreweg die tradisionele gereformeerde hoofstroom getallegewys. Daar is dus in ons tyd ’n duidelike inkrimping van die tradisionele hoofstroom aan die gang.
Daar bestaan egter volgens P Jenkins (2007), D Barret (2001) en ook J Hendriks (1999) die gevaar van ’n gevaarlike golfbeweging, waarskynlik ook in Suid-Afrika, en wel deur die toedoen van die groeiende charismatiese stroom wat bekend staan as die swaaideur-sindroom (revolving-door syndrome). “Hiervolgens kan die magtige charismatiese stroom, weens onvolhoubare bemagtiging van die enorme getalle, ’n 'advance and recession'-tendens (vooruitgang en insinking) ervaar wat tot kerkloosheid kan lei. Die beweging van die suidelike Christendom kan volgens hierdie tendens grootliks oorgaan in nihilisme” (De Klerk en Van Helden 2011:2). Hulle stel dan dat intussen “by die kwynende gereformeerde kerke word die soeke na identiteit en herstrukturering gekniehalter deur ’n onvermoë om denke radikaal volgens Romeine 12:2, die Groot Opdrag en die nuwe-wyn-nuwe-sak-beginsel (Matt 9:17) aan te pas. Stagnasie of onveranderlikheid van hartsdenke is in die proses om tot verdwyning van die tradisionele stroom te lei” (De Klerk en Van Helden 2011:2).
Vervolgens ook enkele opmerkings oor golfbewegings binne die gereformeerde kerke veral in Nederland. Die teoloog R Brouwer en sy mederedakteurs bedink naamlik in 2007 in terme van die lewensiklus van gemeentes in Nederland die groei- en krimpfases van geloofsgemeenskappe aldaar. Die groeifase behels die geboorte-, kleuter-, tiener- en fleurstadia. Die krimpfase behels die volwasse-, aristokratiese-, burokratiese- en sterfstadia.
Coenie Burger (1995) op sy beurt besin oor die tradisionele hoofstroomkerke in Suid-Afrika wat aan die begin van die 21ste eeu almeer in ’n oorlewingstryd gaan wees. Indien daar wel ’n verandering of herlewing plaasvind, manifesteer dit as ’n groei- (societas-) golfbeweging binne die lewensiklus. Hierdie verandering kan plaasvind deurdat nuwe aktiwiteite, benaderings of programme daargestel word of deur die toedoen van ’n nuwe pastor. Indien die groeibeweging kwyn, tree die krimpings- (communitas-) beweging in en golf die lewensiklus maar net bloot voort. De Klerk en Van Helden kom dan tot die volgende gevolgtrekkings in hierdie verband: “Blywende herlewing kan bewerkstellig word, deurdat elke geslag bewus is van voortdurende denkverandering, bekering en reformasie. Bereidheid tot diepgaande verandering in die wete dat beweging die reël binne gemeentelike lewe is, is verder noodsaaklik, terwyl die status quo wat lei tot krimping bewustelik voorkom moet word” (De Klerk en Van Helden 2011:3).
In soortgelyke trant stel Leonard Sweet dat die boodskap van Christus wat die kerk en die gelowige moet uitdra ook in Suid-Afrika eintlik soos ’n virus moet wees, ten spyte van die negatiewe aspekte verbonde aan ’n virus. Gewone virusse het die kuns bemeester om verspreiding te realiseer. Die groot verskil is dat die evangeliese “virus” op sy beurt moet poog om gesond te maak en herstel te bring. Terwyl ’n normale virus konstant vermeerder en muteer, het dit ook die vermoë om gedurig te kan aanpas en nuwe kontekste te infiltreer. So moet die evangeliese “virus” wees wat deur die kerk moet versprei in die veranderde en veranderende wêreld van die 21ste eeu.
Om ’n perspektief te bied op die vraagstelling hierbo wil ek graag wys op drie prominente denkers en outeurs in die Suid-Afrikaanse gereformeerde of reformatoriese kerke wat in die afgelope paar dekades ernstig nagedink het oor vrae wat met die verlede, hede en toekoms van hierdie kerke te make het. Hoewel hierdie nadenke nie uit die onmiddellike verlede kom nie, is dit dermate invloedryke perspektiewe deur eweneens invloedryke verteenwoordigers van die betrokke kerke, sodat dit met groot vrug hier aangesny kan word. In die slothoofstukke sal egter meer uitgebreid op die meer resente gesprekke gefokus word.
Koos Vorster vanuit die GKSA fokus in 2013 op kerkwees in ’n post-sekulêre paradigma. Hy spreek die vraag aan hoe die kerk en veral die boodskapverkondiging ingeklee moet word om die mens in die groeiende post-sekulêre era te bereik. Dit in die besonder met die wete dat post-sekularisme nie noodwendig dui op ’n terugbeweeg van mense na die gevestigde kerke nie.
Vorster haal vir Brueggeman aan volgens wie die soeke na belewenis en meelewing ’n kenmerk van die hedendaagse mens geword het. Sommige denkers gaan, aldus Vorster, egter so ver as om te pleit vir ’n post-kerklike teologie. Hierin word die klem verskuif van die kerk as struktuur na die kerk as gemeenskapsbelewing. Die tradisionele instituutmodel van die kerk word nie meer as doeltreffend beskou in die mens se soeke na gemeenskap nie. Ook die tradisionele pastorale dienste van die predikant is in ’n groot mate oorgeneem deur verskillende professionele dienste in die gesondheidsveld, as gevolg van hul meerdere insigte op hierdie terrein. Volgens Vorster het die kerk as ondersteuningsisteem steeds baie groot waarde, “veral omdat dit ’n unieke gemeenskap is waar die sosiale groeperingsnorme van die samelewing nie teenwoordig behoort te wees nie. Moontlik kan die herwaardering van die kerk as gemeenskap die sleutel bied om ’n nuwe en ruim bestaansruimte vir die kerk oop te sluit in die ontwikkelende post-sekulêre werklikheid” (Vorster 2013:614).
Vorster stel dat die verskuiwing van die benadering van Christelike getuienis vanaf ’n monologiese krities-veroordelende getuienis na ’n dialogies-verduidelikende betrokkenheid, realiseer deur die meta-narratiewe van die Skrif toe te pas om vraagstukke van die samelewing aan te spreek. Waar die getuienis van kerke in die verlede te veel apologeties en konfronterend was, is dit in ons tyd nodig dat hierdie getuienis ’n dialoog word met die samelewing om dan vanuit die dialogiese betrokkenheid op ’n solidêre wyse rigting te gee op grond van die Bybelse moraal. Reaktiewe veroordelende uitsprake op grond van kerklike gesag spreek mense met ’n postmodernistiese lewensuitkyk nie meer aan nie. Mense wil deel wees van die vormingsproses van denke en die kerklike getuienis moet deel word van hierdie proses. Kerklike getuienis moet met die mens van vandag saam op weg gaan in die ervaring van die werklikheid. As ’n profetiese gemeenskap kan die kerk op hierdie dialogies-betrokke wyse veel doen om die post-sekulêre mense deur die ingewikkelde werklikheid na God te lei (Vorster 2013: 614).
Volgens Vorster is daar dus drie sake met betrekking tot die toekoms van die kerk in ’n post-sekularistiese werklikheid wat dringende aandag moet kry en dit is die kerk as profetiese gemeenskap, die kerk as terapeutiese gemeenskap en die kerk as morele gemeenskap (Vorster 2013:613–614).
Theuns Dreyer, vanuit die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), worstel in 2003 reeds met ’n visie vir die Hervormde Kerk op pad na die toekoms. Hy wys daarop dat waar Harvey Cox reeds in 1965 in sy boek, The Secular City, voorspel het dat die modernisme se sekularisasieproses tot die ondergang van godsdiens sal lei, hy in 1995 moes erken dat hy verkeerd was. Die teenoorgestelde was waar naamlik dat spiritualiteit besig was om sekularisasie hok te slaan. Die mees dramatiese groei, volgens Dreyer, het in die geledere van die charismatiese en onafhanklike kerke plaasgevind (2003:1047). Ooreenkomstig Dreyer se gedagtes kan uit hierdie tendense bepaalde afleidings gemaak word:
Dreyer gaan dan voort en dui aan dat die reformatoriese kerke in Suid-
Afrika se markaandeel van 33% in 1911 gedaal het tot 16% in 1991. Sedertdien het dit nog meer dramaties verder gedaal. Dreyer is dit grotendeels eens met Jurgens Hendriks dat die kwyn van die gevestigde denominasies gewyt kan word aan ’n gebrek aan aanpassingsvermoë, dinamiese leierskap en visionering. ’n Kerk wat uiteindelik kontak met die behoeftes en wêreld van die lidmaat verloor en wie se energie opgaan in ’n selfgesentreerde instandhoudingsbediening, verval op die duur in ’n afwaartse spiraal van agteruitgang. Dit wil sê, reformasie bly steeds die wagwoord en uitdaging.
Vervolgens is die nadenke van Jurgens Hendriks van die NGK, soos saamgevat in sy professorale intreerede in 2003, besonder waardevol. Slegs enkele aspekte daarvan word hier uitgelig.
Hendriks formuleer sewe prioriteite wat die kerk in hierdie tye behoort na te streef:
Interessant is dit hoe Hendriks ook aandui dat daar bepaalde lesse uit die Vroeë Kerk se geskiedenis tot ongeveer 350 nC is wat rigtingaanduidend is. Hy noem vyf daarvan:
Ten slotte stel Hendriks reeds in 2003 dat ons in ’n oorgangstyd is en dat ons grootliks in ’n postmoderne era leef. Die waardes en voorveronderstellings van die moderne tyd in die eeue voor 2000 gaan geweeg en soms te lig bevind word. Die kerk van die toekoms gaan in baie opsigte anders lyk as tot vandag toe, maar die kerk gaan altyd ’n toekoms hê. Die kerk van die toekoms volg egter in Christus se voetspore op sy kruisweg wat volgens Hendriks paradoksaal “sowel lydensweg as oorwinningsweg is” (Hendriks 2003:15).
Die Afrikaner van die meer ontwikkelde deel van Suid-Afrika vertoon as deel van die ontwikkelende wêreld ’n ander werklikheid as dié van ’n postkoloniale Afrika. Selfs ook godsdiens word deur die twee wêrelde verskillend benader en beleef. “Die swygende meerderheid Afrikaners vrees die toekoms en die voortbestaan in Afrika; dit verduidelik die onvermoë tot Afrika-dienswilligheid. Die onverskilligheid, oppervlakkigheid en ylgelowigheid manifesteer konkreet in die krimping van tradisionele kerke” (De Klerk en Van Helden 2011:5). Volgens Herman Giliomee is ’n wesenskenmerk van die Afrikaner wat nog nie volledig gemanifesteer het nie, die dialektiek wat in die Afrikaner voorkom naamlik “aan die een kant ’n fatalistiese afwagting van ’n gewisse kollektiewe nederlaag en finale ondergang, maar aan die ander kant is daar ook ’n misterieuse lewenskragtigheid” (Giliomee 2004: 663).
Die Afrikaner is soms onbewus van ’n hartsverandering wat eintlik op alle terreine moet plaasvind. As gevolg van die afsydige houding teenoor en die onttrekking aan godsdienstige instellings, verdiep die onkunde met betrekking tot die missionêre taak soos in die Groot Opdrag saamgevat. Van die allergrootste belang is die volgende perspektief soos saamgevat deur De Klerk en Van Helden en bevestig deur die bogenoemde visie van Giliomee: “Bekering terug na Christusgesentreerde denke aan die hand van die nuwe-wyn-nuwe-sak-beginsel is ’n verdwynende verskynsel en getuig van sterwende kerke, tensy die ‘lewenskragtigheid’ op ‘misterieuse’ wyse spoedig begin manifesteer” (De Klerk en Van Helden 2011:6). Dit beteken om in hierdie oorgangstyd reformerend tot dade oor te gaan en ’n totaal nuwe en anderse identiteit te bekom wat geskik is vir die 21ste eeu. Hulle stel dan: “Die ontluikende omstandighede in Suid-Afrika kan dan vierkantig in die oë gekyk word en die hand aan die ploeg geslaan word ter wille van kerkgroei onder al die nasies in hierdie land …” (De Klerk en Van Helden 2011:9).
Waar daar wel in bepaalde gevalle groei plaasgevind het, was die redes daarvoor hoofsaaklik die volgende: Die algehele omkeer op alle terreine (kerkplanting, evangeliebediening aan buitekerklikes, en verhoudingsbou, onder andere) om gehoorsaam te wees aan die Groot Opdrag; beweging vanuit die noorde van Suid-Afrika na die suidelike dele; en die uit- en inbeweeg van lidmate wat relatief konstant is. Van Helden sluit in ’n volgende artikel onder andere af deur te stel dat hoewel die wêrelde van wit en swart gemeentes skynbaar ligjare verwyderd van mekaar skyn te wees, dat wanneer eers ’n lewende missionale bediening aanvaar word, eenheid reeds grootliks bedink is. Hierdie en ander rigtings van ontwikkeling soos gemeentebou en ander strategieë “is ’n bemoedigende en uitvoerbare rigtingwyser wat in die loop van die volgende dekade nuwe geleenthede vir gemeentes daar kan stel. Deur van die tendense bewus te word, kan … leraars, kerkrade en gemeentelede gehoorsaam omkeer en in gebedsafhanklikheid missionaal beplan” (Van Helden 2016:8–9).
“Die gereformeerde ‘oorlewingstryd’ wat weens ontoereikende kerklike praktyke binne gemeentes beleef word, versterk die verlamming wat in gemeentes heers” (De Klerk en Van Helden 2011:6). Hierdie verlamde en verlammende denkwyse getuig van onkunde of blote vergeetagtigheid rakende die feit dat onstabiele tye dikwels die teelaarde is vir die voortgang van die evangelie, en dat gelowiges voortdurend gerat moet wees om dienooreenkomstig denk-aanpassings te maak.
Die 20ste eeu is ingrypend en bepalend deur die opkoms van nasionalisme, die ekonomiese insinking as gevolg van die Groot Griep van 1918 en die Depressie van die vroeë 1930’s, die vernietiging en tragedie van twee Wêreldoorloë, asook verskillende ander ontwikkelinge beïnvloed. Daar was ook ’n skerp konflik tussen godsdiens en volksnasionalisme wat onder andere ook rasse-ideologieë en ekstreme nasionalisme behels het. Dit lei tot etniese konflik en tot volksmoorde van verskillende aard en omvang. Hierdie aspekte word onder andere ook in die bekende novelle, naamlik 1984 van George Orwell weerspieël wanneer hy sê “He who controls the past, controls the future. And he who controls the present, the past” (Orwell 2008:298).
Die 21ste eeu is tans nog nie eens volledig kwartpad gevorder nie, en daarom is dit baie moeilik om iets sinnigs daaroor te sê. Die enkele pennestrepe wat ons wel daaroor kan maak, kom voorlopig op die volgende neer. Dit kan moontlik eerstens ’n besonder spirituele eeu word waarin die verskeidenheid van spiritualiteite van mense wêreldwyd kan groei. Vanweë die feit dat die wêreld waarskynlik nie minder kompleks nie, maar eerder meer kompleks gaan word, gaan die mensdom se behoefte aan ’n anker en ’n mag groter as sigself waarskynlik toeneem.
Ook die fisiese werklikhede en uitdaginge van die 21ste eeu gaan waarskynlik ook al meer van ’n kritiese bedreiging inhou. Ons hoef in hierdie verband eintlik maar net te verwys na groeiende bevolkingsgetalle, na ’n noodsaaklike lewensbron soos water wat ernstige tekorte kan begin vertoon, na aardverwarming en ekologiese vernietiging wat geweldige implikasies het vir die mensdom met betrekking tot fisiese ongemak,
meer beperkte voedselvoorsiening, die styging van seevlakke en die moontlikheid van epidemies en pandemies. Vroeg in 2020 is die hele wêreld inderdaad toe met die Covid-19 pandemie gekonfronteer, wat in die laaste 100 jaar byna iets totaal ongekends was. Dit stel die mensdom, die totale samelewing en dus ook die kerk voor uitdagings waarop daar geen eenvoudige antwoorde is nie. Veral in die laaste twee hoofstukke word meer uitgebreid daaraan aandag gegee.
Met betrekking tot die prosesse van sekularisasie wat in die laaste aantal dekades haas ongebreideld oor die wêreld heen gespoel het, is daar op enkele punte klein tekens van reaksie daarteen. Slegs nog relatief kort gelede het die New Atheist-beweging sterk en dinamies vorentoe beweeg met die bekende bioloog Richard Dawkins wat die kruistog teen godsdiens en teen die laaste bakens van die Christendom in die Weste vuriglik bepleit en bevorder het.
’n Groep optimistiese ateïste het byvoorbeeld begin dink dat sodra as wat God onttroon en verban is, sou die mens as volwassene en mondige self die utopiese projek en samelewing kon bou en volvoer waarin ’n toekoms geskep kan word, gebaseer op ’n geloof in die mens self. Hierdie skeptici was dus skepties oor alles behalwe oor die inherente goedheid van die mens, terwyl hul geen metafisiese of bo-aardse gronde gehad het om dit met stelligheid te kon beweer nie. Genoegsaam is dit oor baie eeue heen reeds bewys dat die mens nie van nature goed is nie. Selfs net die laaste eeu het dit oorvloediglik weer bevestig met die bloed van miljoene mense wat, hetsy deur oorloë, massamoorde of op welke wyse dan ook, langs die pad lê. Selfs nog in 2015 het Dawkins byvoorbeeld beweer dat kinders teen hul ouers se godsdiensbeskouinge of teen beïnvloeding beskerm moet word. Teen 2018 sê dieselfde Dawkins dat die goedaardige Christendom moontlik vervang kan word deur ’n meer kwaadaardige sisteem. Daar is in die tyd sedert 2018 deur hom en ander intelligente ateïste gesê dat hulle miskien ’n stap terug moet neem en tot ’n vorm van herbesinning moet kom.
Terwyl die Christendom en godsdiens in die laaste aantal jare besig was om verder in die verskiet te verdwyn, het intelligente ateïste al meer begin besef dat die opkoms van die rasionalisme en die verligtingsdenke waarskynlik slegs sukses kon behaal het omdat dit ’n invloed op die Christelike kultuur en wêreldbeskouing uitgeoefen het. Daar word selfs soms die vraag gevra of ’n samelewing gebaseer op verligtingswaardes hoegenaamd moontlik is sonder die Christendom. Daar word selfs in ons tyd in sekere kringe gedink dat die ateïstiese projek ’n hopelose en hooplose saak is.
6.1 Die apologetiese en denominasionalistiese benadering van vroeër
Hierdie veel ouer benadering tot kerkgeskiedskrywing in Suid-Afrika behels eintlik grootliks ’n kroniekmatige en ook apologeties denomi-nasionalistiese benadering tot die kerkgeskiedenis. Hoewel tematiese lyne soms in fokus gekom het, is dit veels te beperk. Reeds in 1950 publiseer F.A. van Jaarsveld ’n klein publikasie getitel Apologetiek en objektiwiteit in ons kerkgeskiedskrywing. Hy bevind in hierdie metodologies-kritiese ondersoek dat die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis baie apologeties en subjektief, besonder “swart en wit”, is (1950:5). Hy ondersoek dus taamlik uitgebreid (1950:35–51) die kerkgeskiedenis van S.P. Engelbrecht onder die titel, Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, waarvan die eerste uitgawe in 1936 verskyn het. Aspekte wat ter sprake kom, is die metodiese opbou van die werk, die geskiedenisbeeld en beginsels en motiewe van die outeur. Van Jaarsveld se oordeel hieroor is dat dit volgens hom die beste verteenwoordiger van die apologetiek ten behoewe van een denominasie in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis is.
T.N. Hanekom, die kerkhistorikus van die Universiteit Stellenbosch,
bevestig in 1956 dat kerkisme die grootste vyand van die kerkgeskied-skrywing in Suid-Afrika is. Met sy intreerede in 1960 bou hy dit verder uit. Behalwe vir die kerkistiese aard van die beoefening van kerkgeskiedenis, gaan dit ook mank aan ’n kultureel gekleurde, etnies ingeperkte en aardrykskundig afgebakende geskiedskrywing. In ’n groot mate is dit eintlik maar kerklike outobiografie.
In die jonger verlede het hoofsaaklik individuele kerkgeskiedenisse van die verskillende kerke wat deel van die hoofstroom van gereformeerde of reformatoriese kerke uitmaak, die lig gesien, naamlik dié van onder andere P.B. van der Watt en G.S. Hofmeyr (NGK), B. Spoelstra en JP Jooste (GKSA), W. Dreyer en A.D. Pont (NHK), J.C. Adonis en C. Loff (Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) en Verenigende Gereformeerde Kerk van Suider-Afrika) (VGKSA). Verder is daar ook enkele algemene oorsigte oor hierdie familie van kerke en dan wel in ekumeniese perspektief soos dié van byvoorbeeld P.J. Strauss, J.W. Hofmeyr en andere. Oor die groep of familie van hoofstroom gereformeerde of reformatoriese kerke in Suid-Afrika is daar nog min van hervertolkende aard gepubliseer.
6.2 Die ekumeniese benadering
Hierdie benadering behels sedert die 1960’s ’n nuwe aksent, naamlik weg van denominasionalistiese en nasionalisties apologetiese aksente na ’n meer ekumeniese, allesomvattende en hervertolkende benadering.
Dit was veral in die tweede helfte van die 20ste eeu dat ’n meer universalistiese trek in die kerkgeskiedenis as vakgebied na vore begin kom het. In ooreenstemming met die gees van hierdie tyd word die veranderde lewensituasie en die eenheid van die menslike lotsgemeenskap nou al sterker beklemtoon. Soos J.A. Stoop dit beredeneer (1982: 121–154), die wêreldverloop kan nie meer oor verskillende aparte geskiedenisse versplinter nie. Moderne kerkhistorici soos veral Ernst Benz beklemtoon die feit dat die kerkgeskiedenis wat op sigself ’n universele grootheid is, as ’n universele element gesien en verstaan moet word. Dit was in sy bekende werk, Kirchengeshichte in ökumenischer Sicht (1961), dat Benz sy visie op ekumeniese kerkgeskiedenis as vak en ekumeniese kerkgeskiedskrywing as ’n historiografiese metode uitvoerig bespreek het. Benz en ander kerkhistorici soos Peter Meinhold loop albei onder andere in die spore van die Amerikaner Kenneth Scott Latourette wat pionierswerk gelewer het met van sy werke soos A History of Christianity en A History of the Expansion of Christianity, waarby hy ook die sendinggeskiedenis insluit.
In die groter Afrika-konteks was dit veral die Nigeriër Ogbu Kalu wat baie belangrike verdere pionierswerk gedoen het om die ekumeniese en teologiese dimensies van kerkhistoriografie binne gekontekstualiseerde verband verder uit te bou. Vir hom is die vakgebied van die kerkgeskiedenis by uitstek “about the understanding of God’s activity among the poor (and others [JWH]) and their responses to the presence of the Kingdom in their midst” of anders uitgedruk, die verhaal van God se pelgrims en hul ervarings van God se genade te midde van hul omvattende en uitgebreide kontekste (Kalu, ea 2005: 15).
6.3 Die histories-teologiese benadering
Hierdie benadering het gedurende die afgelope twee dekades sterk op die voorgrond getree. Dit behels in wese veel meer van ’n multidissiplinêre benadering, met veral die kerkgeskiedenis en die dogmatiek wat in nouer verband met mekaar geplaas word.
Historiese teologie is ’n ietwat enger begrip as kerkgeskiedenis. Daarenteen is dit tog ook ’n algemene term vir ’n redelike breë studieveld. Dit kan op verskillende maniere verstaan word. Vir sommiges is dit die bestudering van die geskiedenis van Christelike dogma, hoofsaaklik ter wille van die teologiese formulering van leerkwessies in ons tyd. Vir andere is dit ’n analise van die groot dogmas van die kerk, maar dan wel in ’n bepaalde isolasie van die gebeure wat in die kerkgeskiedenis plaasvind. Een van die mees prominente kenners van die teorie van die Historiese Teologie as vakgebied is egter die Amerikaner van Grand Rapids, Michigan, naamlik Richard Muller, wat met die volgende perspektief historiese teologie duidelik definieer en kwalifiseer:
In the first place, the documents of historical theology are, with few exceptions, the same as those of church history, particularly in the patristic period. The difference between the disciplines lies in the approach the historian takes to the documents and the kind of information that are elicited from them … the great burden of writing historical theology is to do justice to the sources – to the intention of their authors – while eliciting from them the materials that belong to one, somewhat artificially defined, part of this history. Historical theology or history of doctrine must be done in such a way as not to lose sight of the original location of the ideas and the original purpose behind the documents in which the ideas are found (Bradley & Muller 1995:7).
Historiese teologie kan gesien word as ’n vertakking van teologie wat die sosiohistoriese en kulturele meganismes ondersoek wat die bedding is vir die ontstaan van teologiese idees, standpunte en sisteme. Hierdie invalshoek van die historiese teologie fokus dus daarop om langs die weg van dekonstruksie op die wisselwerking tussen teologie en konteks, sowel as op die hoof teologiese en filosofiese invloede op verskillende rolspelers en temas te fokus.
Die beskrywing en analisering van die geskiedenis van enige instelling het dus baie waarde, en dit is ook die geval met die geskiedenis van die kerk van Christus. Na hierdie kort oorsig oor die verskillende benaderingswyses, bevestig ons dat ons grootliks die derde benadering naamlik die histories teologiese een in hierdie supplementum gevolg het.
Dat die reformatoriese of gereformeerde kerke in Suid-Afrika in die loop van die totale Suid-Afrikaanse kerk- en samelewingsgeskiedenis ’n baie besliste rol gespeel het, kan vir geen oomblik ontken word nie. Omdat ons nie maar net met Christus se kerk nie maar ook met die mens binne die kerk van Christus te doen het, is hierdie verhaal egter ook ’n eg menslike een met sy beperkings. Ons hoop dat die hieropvolgende artikels in hierdie supplementum daarin sal slaag om die gordyn minstens effens te lig op hierdie verhaal, dat dit sal bydra tot ’n beter selfverstaan van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika met hul lang bestaande waardering vir Gods Woord en die gereformeerde belydenis, maar dat dit ook alles enkele riglyne vir die voortgesette gesprek en debat binne hierdie kerke en in die samelewing sal uitspel. Dit alles met die oog uiteindelik gerig op die toekoms van die Kerk van Jesus Christus.
Bibliografie
Barret, D.T., Kurian, G.T. & Johnson, T.M. 2001. World Christian Encyclopedia: a comparative survey of churches and religions in the modern world, Vol 1. Oxford: Oxford Press.
Benz, E. 1961. Kirchengeschichte in ökumenischer Sicht. Leiden-Köln: sn.
Bradley, J.E. and Muller, R.A. 1995. Church History: an introduction to research, reference works and methods. Grand Rapids, Eerdmans.
Burger, C. 1995. Gemeentes in transito:vernuwingsgeleenthede in ’n oorgangstyd. Kaapstad: Lux Verbi.
Cloete, G.D. 2018. Vrede vloei soos ’n rivier: Oor die strome van my lewe. Wellington: Bybel-Media.
De Klerk, B. en Van Helden, P. 2011. Oorsake van kerkkrimping binne die tradisioneel Afrikaanssprekende gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Verbum et Ecclesia,32(1).
Dreyer, T.F.J. 2003. Statistieke vertel ’n storie: ’n Visie vir die Hervormde Kerk op pad na 2010. Hervormde Teologiese Studies, 59(4):1045–1062.
Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners: ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.
Hendriks, J. 1997. Kerklike “megatrends”: bedieningsimplikasies. NGTT, 38:27–38.
Hendriks, J. 1999. Verwagting vir die nuwe millennium: gaan gereformeerde kerke groei, kwyn of verdwyn? Woord en Daad, 13:17–19.
Hendriks, J. 2003. “Die toekoms van die kerk, die kerk van die toekoms”. Intreerede: Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.
Hofmeyr, J.W. 1979. Die huidige stand van die beoefening van die kerkgeskiedenis in Suid-Afrika. In Viljoen, A.C. (Red.). Ekumene onder die Suiderkruis. Pretoria: Unisa.
Jenkins, P. 2007. The next Christendom: the coming of global Christianity. Oxford: University Press.
Kalu, O.U., Hofmeyr, J.W. & Maritz, P.J. 2005. African Christianity: an African Story. Pretoria: Dept of Church History, University of Pretoria.
Orwell, G. 2008. Nineteen Eighty-four. London: Penguin.
Stoop, J.A. 1982. Kerkgeskiedenis. In Eybers, I.H., König, A. & Stoop, J.A. Inleiding in die Teologie. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Tickle, P. 2008. The great emergence. Grand Rapids, Michigan: Baker Books.
Van Helden, S. 2016. Waar is die Gereformeerde lidmate dan? In die Skriflig, 50(1):1–9.
Van Jaarsveld, F.A. 1950. Apologetiek en objektiwiteit in ons kerkgeskiedskrywing. Johannesburg: Voortrekkerpers.
Van Niekerk, A.S. 1992. Saam in Afrika. Kaapstad: Tafelberg.
Vorster, J.M. 2013. Kerkwees in ’n post-sekulêre tyd. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(4), Desember 2013.