Stellenbosch Theological Journal 2022, Vol 8, No 1, 1–24
DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2022.v8n1.a14
Online ISSN 2226-2385 | Print ISSN 0028-2006
2022 © The Author(s)
“Staande, eenparig …”? Die aanvaarding van die kerkorde deur die NG Kerk in 1962. ’n Ondersoek van beduidende bronne
britz.dolf@gmail.com
nelpetrusjacobus@gmail.com
Abstract
“Standing, unanimously …”? The acceptance of the Church Order by the Dutch Reformed Church in 1962. An investigation of significant sources
In 1962, the differentiated Dutch Reformed Churches of South Africa united in one General Synod. This was done on the basis of a mutual Church Order. The Dutch Reformed Church experienced this as a distinctive moment of significance in its history. The “Message to all the members of the Dutch Reformed Church” reflected the Synod’s complacency. The General Synod was envisioned as the new flagship of the Dutch Reformed Church, which at that time, was aware of the high flourishing in its existence and influence in the country. Functional value was assigned to the new church order. However, there was a small minority of pastors and theologians, most notably W.D. Jonker, who assessed the role of the Church Order differently. For them, it had to be an instrument to reform the Church, a document to bring its theology and ecclesiology to account. The Church Order could, for that matter, address the theological justification of a policy of separation. This article deals with the way in which the Church Order was accommodated in the pragmatic, functional theology of the Dutch Reformed Church. The opportunity to deploy it as a core document for the sake of reformation in the Church’s life was lost.
Keywords
Concept Church Order 1959; Church Order of the Dutch Reformed Church; General Synod 1962; church unity; Church Order of Dordt; W.D. Jonker
Trefwoorde
Konsep Kerkorde 1959; Kerkorde NG Kerk, Algemene Sinode 1962, Nederduitse Gereformeerde Kerk, Kerkvereniging, Kerkorde van Dordt, W.D. Jonker
Inleiding
Die voorstel van ds. P.S.Z. Coetzee en ds. D.P.M. Olivier is “staande, een-
parig” aanvaar. Ds. J.H. Steenkamp en prof. H.D.A. du Toit gaan voor in gebed. Toe sing “die hele vergadering spontaan Ps. 146 vers 1,” teken die skriba aan (Agenda 1962:232). Dit was Vrydag 12 Oktober 1962, Kaapstad, Hugenote Saal. Vir die Konvensie van NG Kerke was dit beslissende oomblikke. “Op grond van die goedgekeurde Kerkorde deur die verteenwoordigers van die vyf Ned. Geref. Sinodes (t.w. Kaapland, Natal, O.V.S., Transvaal en S.W.A.) wat reeds deur die sinodale besluite toestemming verleen het, besluit die Konvensie nou tot herstel van die organisatoriese kerkverband deur die stigting van die Algemene Sinode
van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Vervolgens besluit die Konvensie dat die Federale Raad van Kerke ontbind sal word” (Agenda 1962:232). Die NG Kerk het ’n Algemene Sinode en ’n kerkorde – as basis vir kerklik-sinodale vereniging – ontvang. “Dit is van die Here”, sou prof. E.P. Groenewald in die openingsrede opmerk. Die saamval van die datum, die plek en die tekskeuse (Sagaria 6:13) met dié van die Sinode van die NG
Kerk in Suid Afrika presies ’n eeu tevore, sien hy “as getuienis dat hierdie saak waarvoor ons (as sinode) byeen is, van die Here is” (Notule 1962:279). In die gees hiervan is besondere betekenis – kerkhistories en ekkle-
siologies – aan die aanvaarding van die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk toegeskryf (Kleynhans 1973:148–152; Coertzen 1991:246; Strauss 2010:7–14; Nel 2019:1–34).
Die NG Kerk(e)1 het juis gedurende die jare 50 van die vorige eeu ’n hoogtepunt beleef. Die Kerke was ’n miernes van bedrywighede tot ver buite die grense van Suid-Afrika. Daar was byna geen aspek van die samelewing waarby die NG Kerke nie in een of ander vorm of vennootskap deurslaggewend betrokke was nie. In die voormalige Christelik-nasionale bestel was sy stem publiek gereken en met mening gegee. Die vergestalting van die NG Kerk in een Algemene Sinode was ’n natuurlike uitvloeisel van sy historiese identiteit en teologiese selfverstaan. Van besondere belang is dat die doelbewuste keuse vir ’n kerkorde as verenigingsdokument hierin ’n bepalende rol gespeel het. Daar was destyds te midde van die entoesiasme en hoogbloei, uit eie geledere ook aandrang op regstelling van die NG Kerk. ’n Gereformeerde kerkorde kon hierin die deurslag bepaal, is gemeen. Alles was teologies nie pluis nie. Het die aanvaarding van die Kerkorde 1962 dus ’n nuwe teologiese uitgangspunt vir die NG Kerk in die hand gegee? Of is die nuwe kerkorde geakkommodeer by ’n goed gestruktureerde praktiese ekklesiologie met ’n kenmerkende en tradisionele Nederduitse Gereformeerde evangelies-gesinde inslag? Is aan die nuwe kerkorde eerder funksionele as konfessionele waarde toegeken? Hoe “eenparig” was die broers toe hulle op daardie dag Psalm 146 gesing het?
Op hierdie vrae spits die artikel hom toe. Die bronne word aan die woord gestel om daarop te antwoord. Die eerste paragraaf gee ’n tiperende oorsig van die teologiese identiteit van die NG Kerk toe kerklike vereniging aan momentum gewen het. Daarna verskuif die aandag na die keuse om die vereniging op grond van ’n gemeenskaplike kerkorde te verwesenlik. Wat is van die kerkorde as basis van kerkvereniging gekoester? Is dit teologies gemotiveer? Hoe is dit geïmplementeer? Terselfdertyd is ’n vlaggie opgesteek. Stadig oor die klippe, is vermaan. Die aanvaarding van ’n kerkorde beteken reformasie van die kerk. Hierdie aspek in die verhaal van die akkommodering van ’n kerkorde by die NG Kerk word dus vervolgens uit die bronne toegelig en bespreek. Die “Boodskap van die Algemene Sinode aan al die lidmate van die NG Kerk” sinspeel op watter waarde die Algemene Sinode teologies aan die nuwe kerkorde toegeken het. Die laaste deel van die artikel ontknoop dit en kom dan tot ’n gevolgtrekking.
Die teologie van die NG Kerk gedurende die jare 50
Die vier selfstandige NG Kerke het ongetwyfeld in die jare na die Tweede Wêreldoorlog ’n hoogtepunt in hulle geskiedenis beleef. Die Kerke, elk met ’n eie presbiteriaans-sinodale struktuur, het met mekaar op weg gegaan in die Raad van die NG Kerke van Suid-Afrika, soos hierdie oorkoepelende liggaam van hoë openbare aansien, bekend gestaan het. Sedert konstituering in 1907 (Van der Watt 1988:438–443) het elk van die Kerke afgevaardigdes gestuur om in ’n federale struktuur kerklike sake te bespreek en die sinodes met advies en aanbevelings te dien, met die oog op eenvormige besluitneming. Mettertyd is aan ’n eie organisasie gevolg gegee. Federale Rade, soos byvoorbeeld vir Armesorg, Evangelisasie en Sending, het nie net die ingeburgerde sinodale strukture gedupliseer nie, maar het kerklike beleid bepaal, ondersoeke geloods, konferensies op nasionale vlak georganiseer, kortom, in talle kerklike aangeleenthede die voortou geneem.
Die Kerk en Volk-reeks,2 uitgegee deur die NG Kerk-Uitgewers vroeg in die sesde dekade, gee ’n beeld van die omvangryke werksaamheid en teologiese identiteit van die NG Kerk.3 Die vlag dek die volle lading. Ds. H.S. Theron beskryf die gemeente as ’n dinamies-georganiseerde bedrywigheid in Die kerklike byekorf (Theron s.d.). “Mobilisasie” vanuit “die amp van die gelowige”, noem ds. P. du Toit dit (Du Toit 1955:160). Hy sluit die georganiseerde vrouebewegings, wat hulle ontstaan en bestaan ontleen aan omvattende en konkrete Christelike dienslewering en versorging, hierby in (Du Toit 1955:73–79): die Vroue Sendingbond (Crafford 1982:525–547), die Afrikaanse Christelike Vroue Vereniging (Lambrechts and Theron 1959), die Oranje Vroue Vereniging, die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie, die Natalse Christelike Vroue Vereniging en die Bond van Dienaresse (Du Toit 1955:122–126). Die Kinderkrans met takke in talle gemeentes was ook grootliks te danke aan die toewyding van vrouelidmate (Crafford 1982:548–552). Christelike verengings is by die Kerke geakkommodeer en het kerklike werksaamhede geïnisieer en volhoubaar ondersteun. Trouens, in hierdie georganiseerde verenigings het lidmate, klein en groot, hulle uitgeleef.
Du Toit doen moeite om die uitgebreide en goedgeorganiseerde barmhartigheidsdiens van die NG Kerk te onderskei na gelang van die gemeentelike, rings-, sinodale en die Federale Raad se werksaamhede (Du Toit 1955:67–73). Vennote hierin is die “hulpverenigings” en die staat. Albertyn beeld Die funksie van die Staat en Kerk in die volkslewe uit as die twee volkspilare (Albertyn 1951). Vir hom is dit ’n uitgemaakte saak dat die staat en kerk as vennote hande moet vat in samewerkingsooreenkomste. Hoe dit in die praktyk neerslag vind, beskryf ds. Piek in Die Kerk se skatte (Piek s.d.:22-136). Deel 10 van die reeks handel oor Kerk en Volk en skrywer Hanekom omskryf dit as ’n verhouding tussen Afrikaanse lewenskringe (Hanekom s.d.) wat hy teologies en histories motiveer. “Ons Nederduitse Gereformeerde Kerk is die Kerk vir die Afrikaner, maar nie van die Afrikaner alleen nie” (Hanekom s.d.:138), kom hy tot die gevolgtrekking.
Piek se indrukwekkende lys “Inrigtings vir nie-Blankes” lewer oortuigende bewys van die wyse waarop die NG Kerke buite die omheining van die blanke en Afrikaner samelewing waarin hy gesetel was, en oor die lengte en breedte van Afrika, op dieselfde wyse geskep, gewerk en ondersteun het (Piek s.d.:137–164). Die ondersteuningsnetwerke hiervoor het die honderde takke gemeentelike Kinderkranse, die Manne- en Vrouesendingbond, vroue en jeugverenigings ingesluit. ’n Omvattende sending-gerigte bediening word hierin afgeteken. Dit is geen wonder nie dat Gerdener die wording, wese en werking van die NG Kerk se sendingbeleid kon peil as Reguit koers gehou (Gerderner 1951). Wie Cronjé (1981), Crafford (1982:175–589) en Van der Watt (1987) vandag weer lees, staan in verwondering oor wat die NG Kerk bewerk het.
Die sinodale arbeid is uitnemend georganiseer aan die hand van voltydse personeel en predikante met opdrag sending, barmhartigheid, jeug en ampsbediening en evangelisasie (Van der Watt 1987:381-385). In elke sinodale streek was kantore en argiefbewaarplekke ingerig. Tewens, in die Vrystaat het die NG Kerk ’n splinternuwe sinodale gebou wat modern ontwerp is in 1964 by sy sinodesitting in gebruik geneem. In Kaapstad is die historiese Hugenote Saal ontruim vir ’n indrukwekkende sinodale gebou aan die bo-punt van Queen Victoriastraat wat met 1965 se sinodesitting amptelik in gebruik geneem is (Skema van Werksaamhede 1965:9). In Pretoria was die Voortrekkergedenksaal en kantoorblok die sinodale sentrum. Die kerk het nie op hom laat wag nie. Daar was inspirerende momentum om groots oor die toekoms te dink. In suidelike Afrika was die NG Kerk inderdaad met woord en daad op die voorgrond. Die NG Kerk se bediening was met mening en betekenisvol. Dit het ’n verskil in die publieke domein gemaak. In sy geledere is kundigheid gebundel wat dikwels in openbare belang benut is. Die Kerk het alles feil gehad vir die evangelie. En, die Kerk het alles feil gehad vir die volk.
By die nasionale gedenkdatum 6 April 1652, was die NG Kerk leier, ds. A.J. van der Merwe, voorsitter van die Sentrale Komitee van die grootse Van Riebeeckfees (Sentrale Komitee van die Van Riebeeck-fees 1952:8) waar die geboorte van “ons volk” langs Christelike nasionale lyne kerklik bekragtig is (Britz 2004:11–19). Ons bou “’n nasie” is dit in die Feesboodskap aan ons Kerk en Volk deur die Van Riebeeckfeeskommissie van die NG Kerk gedoop (Ons bou ’n Nasie 1952). ’n Onderliggende evangeliseringsmotief loop soos ’n goue draad by die herdenking en konfronteer lesers met ’n plegtige onderneming om voortdurend te ywer vir die “handhawing van die Christelike grondslae van ons volksbestaan, getrou te bly aan die kerk van ons vaders, die huisaltaar steeds brandende te hou en die grootmaking van die Naam van die Here die enigste reël van ons lewe te stel” (Ons bou ’n Nasie 1952:47). Dit was die gees van die NG Kerk. ’n Geleentheid is benut ter wille van evangelisering.
In Desember 1954 kon die afgevaardigdes hulle harte uitpraat by die
“Inter-Racial Conference of Church Leaders” rondom die tema “God’s Kingdom in Multi-Racial South Africa” (God’s Kingdom 1955). Die Sendingkommissies van die Kaapse en Transvaalse NG Kerke het daarin geslaag om verteenwoordigers van die Wêreldraad van Kerke, die Internasionale Sendingraad en van nie minder nie as 33 Suid-Afrikaanse kerke en sendingorganisasies, wit en swart (God’s Kingdom 1955:136–140), van 7–10 Desember in Johannesburg bymekaar te bring. Daar is egter ooreengekom “not to discuss those problems of which everyone is conscious”, dit wil sê, apartheid (God’s Kingdom 1955:1) of, soos die Kerklike Kongres van die Gefedereerde NG Kerke dit in 1950 gestel het, die “Naturellevraagstuk” (Referate 1950). Vir ’n herhaling van uiteenlopende standpuntstelling en meningsverskille, ook binne die eie kring van die NG Kerk, soos dit by die Federale Sendingraad se konferensie in Pretoria (1953) oor “Christian Principles in Multi-Racial South Africa” (Christian Principles s.d:142–177) uitgespeel het, is nie weer kans gesien nie. Op uitnodiging van die Federale Sendingraad was professor F.R. Tomlinson toe ook teenwoordig (Christian Principles s.d.:184). Immers, toe die Nasionale Party regering die Tomlinson Ondersoek van stapel laat loop het op soek na metodes om die Bantoe-tuislande ’n lewensvatbare oplossing te maak, was die NG Kerk se verteenwoordigers leidinggewend ten opsigte van die kerklike aspek deel daarvan.
By die 1955 konferensie kry die praktyk voorkeur bo die beginsel. Ook hier moes daad by die woord gevoeg word. In sy voorwoord sinspeel Aartsbiskop Geoffrey Clayton (Church of the Province of South Africa) daarop dat die uiteenlopende standpunte oor die “probleme” wat desnieteenstaande die voorneme in die konferensie deurgebreek het, “had their roots in profound theological differences” (God’s Kingdom 1955:5). “Theology is supposed to be unpractical”, merk hy op, “but the fact is that without theology nothing can be done” (God’s Kingdom 1955:6). Dít het die NG Kerk egter goed geweet. Sy teologie was deur en deur prakties. Vier van sy professore aan die Fakulteit Teologie Afdeling B in Pretoria het apartheid voorwaardelik en prakties-teologies regverdig (Groenewald 1947:40–67; Kritzinger 1947:22–31; Rex 1949:763–765; Du Preez 1950a:502–504, 1950b:554–555, 1950c:620–621). In eie geledere het die protesstem teen die Skriftuurlike regverdiging van ’n landsbeleid nie goed afgegaan nie (Lubbe 2002:57–58). ’n Gevoelige snaar is aangeraak en het onmiddellik onderling spanning in die hand gewerk. Dit was as lewenskwessie beskou waaroor uit een mond gepraat mos word.
Dit is hierdie Kerk(e), met talle strukture, verenigings, organisasies, vennote, beleide, belange, reglemente, bepalinge, deurdrenk van ’n evangeliese teologie, wat op 12 Oktober 1962 in Kaapstad deur ’n konvensie die Algemene Sinode “gestig” het. Die proses is deur die Federale Raad geïnisieer. Hoe is dit aangepak? En, is die effek daarvan goed deurgedink?
Kerkvereniging by die Raad van Kerke
Die vertrekpunt by die Raad van Kerke was dat “daar een algemene sinode sal wees waarop elke kerk verteenwoordig sal word” (Handelinge Raad van Kerke 1953:50). In 1953 voorsien die Transvaalse afgevaardigde by die Raad en redakteur van Die Voorligter, ds. A.J.V. Burger, “dat daar provinsiale- of streeksinodes sal wees om aanbevelings by die Algemene Sinode te doen en verder uitvoering te gee aan opdragte deur die Algemene Sinode gegee” (Handelinge Raad van Kerke 1953:50). Binne ’n eenheidstruktuur neem die voormalige selfstandige NG Kerke hiervolgens hulle plekke as streeksinodes in, wat aan die Algemene Sinode advies gee. Dit was makliker gesê as gedaan, juis omdat die prysgawe van finale besluitnemingsbevoegdheid deur die selfstandige Kerke aan ’n nuwe Algemene Sinode moes opweeg teen die aandrang op vereniging van die NG Kerke. Geen besluit is derhalwe geneem nie.
By die volgende vergadering (1955) het die afgevaardigdes van die Transvaalse Kerk na aanleiding van ds. Burger se beskrywingspunt voorgestel dat die “Raad van die Kerke homself ten gunste van organiese kerkvereniging uitspreek” (Handelinge Raad van Kerke 1955:72, 84). Dit word aanvaar as ’n beginselstandpunt van die Raad. ’n Tweede deel van hul voorstel vra vir die benoeming van ’n “kommissie om in die reses in die lig van die veranderde omstandighede praktiese voorstelle te formuleer om kerkvereniging te bevorder” (Handelinge Raad van Kerke 1955:72, 84). Die tydelike regskommissie doen ook aan die hand dat “die vier actuarii … benoem (word) op ’n permanente Kommissie van Actuarii” (Handelinge Raad van Kerke 1955:90). Aan hierdie nuwe Kommissie word “opgedra om ’n kerkorde op te stel in oorleg met die Kommissie vir Kerkvereniging” (Handelinge Raad van Kerke 1955:90). Waarom die keuse op ’n kerkorde val, is nie aangeteken nie.
Die wiel is aan die rol gesit. Waarmee sou die Kommissie van Actuarii vorendag kom?
’n Nederlandse kerkorde word oorgeneem en aangepas
Om uit die teologie, bedieningstruktuur, geskiedenis en presbiteriaans-sinodale tradisie van die NG Kerk ’n kerkorde uit te werk, is klaarblyklik as ’n onbegonne taak beskou. By die Raad se vergadering in 1957 beveel die actuarii aan om nie ’n nuwe kerkorde op te stel nie, maar eerder “aandag te skenk aan die hersiene kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland in soverre as wat dit vir ons van waarde mag wees” en “dit ’n staande opdrag te maak waaraan die Kommissie kan voortwerk” (Handelinge Raad van Kerke 1957:74).
Die Raad besluit egter eers op oorhoofse strategie. Daar moes seker gemaak word dat die onderskeie NG Kerke deur middel van hul sinodes inkoop op die proses van kerkvereniging. Derhalwe word “die sinodes gevra om hulle uit te spreek ten gunste van die ideaal van kerkvereniging” (Handelinge Raad van Kerke 1957:87). Vervolgens word hulle ook gevra om te verklaar dat “dit ’n praktiese moontlikheid is wat nou met die oog op die tyd in die praktyk uitgewerk moet word” (Handelinge Raad van Kerke 1957:87). Eenstemmigheid hieroor sou in beginsel alle voorbehoude om die ideaal van “eenheid” te realiseer, ter syde stel. As die selfstandige Kerke dus die beginselstandpunt van die Raad van Kerke oorneem, sou ’n konkrete besluitebasis geskep word. Sonder om die besluite hieroor af te wag, gee die Raad aan die Kommissie van Actuarii wel opdrag om by die volgende vergadering ’n “konsep kerkorde” voor te lê wat “(i) kan dien as basis van vereniging en (ii) waaruit dit duidelik sal blyk wat die verhouding tussen die verskillende sinodes, provinsiaal en nasionaal, sal wees en wat die magte en bevoegdhede van die verskillende sinodes sal wees” (Handelinge Raad van Kerke 1957:87). ’n Teologiese motivering om ’n kerkorde te aanvaar, ontbreek.
Twee jaar later is die Kommissie van Actuarii gereed om aan die “Weleerwaarde Raad van die Kerke ’n konsep kerkorde as basis vir kerkvereniging voor te lê” (Notule Raad van Kerke 1959:50). Die konsep kerkorde (Handelinge Raad van Kerke 1959:135–148) is inderdaad geknip op die patroon van die hersiene Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland (Nauta 1971:43–485), maar beduidend aangepas by NG Kerk voorbehoude en voorkeure. Gerugsteun deur sinodale beginselbesluite ten gunste van die ideaal van kerkvereniging, sou die konsep kerkorde ’n kernrol in die voltrekking van een algemene NG Kerk speel.
Die kerklike weg waarlangs die konsep kerkorde aanvaar is
Die Kommissie van Actuarii het terselfdertyd ’n strategie uitgewerk om die onderneming om ’n Algemene Sinode op basis van ’n kerkorde daar te stel, desbetreffend suksesvol deur te voer. Daarmee was die Raad van Kerke ingenome. Die goedgekeurde Kerkorde word “tesame met die besluite van die Raad van die Kerke daaroor na die verskillende sinodes verwys vir behandeling en aanvaarding” (Handelinge Raad van Kerke 1959:50, 124). Dit is die eerste stap. Elke “Sinode” kies dan, beveel die Raad aan, afgevaardigdes na die “te worde gestigte Algemene Sinode” (Handelinge Raad van Kerke 1959:124). Die Moderatuur van die Raad van die Kerke neem die leiding om die eerste vergadering van die “Nasionale Sinode” in Kaapstad, op te roep. Die onderskeie sinodes “word versoek om wysigings wat hulle aan die Kerkorde wens aan te bring aan die afgevaardigdes van die Algemene Sinode, wat vir die doel eers in ’n Kerklike Konferensie4 sal saamkom, voor te lê vir oorweging en finale beslissing” (Handelinge Raad van Kerke 1959:124). Die “finale basis van ooreenkoms” (Handelinge Raad van Kerke 1959:124) word by hierdie konferensie vasgestel waarna die eerste Algemene Sinode sou konstitueer. Die bedoeling is dat die kerkorde wat deur die Algemene Sinode aanvaar sal word, dus die kerkorde sal wees van die samestellende kerke, of liewer, streeksinodes. Die Agenda vir die eerste vergadering sal voorberei word deur die “Moderatuur van die Raad van die Kerke plus die Moderature van die konstituerende Kerke” (Handelinge Raad van Kerke 1959:124). Die voormalige selfstandige NG Kerke sou sodoende by die Algemene Sinode inskakel.
Die Federale Raad van Kerke vind self ook ’n heenkome in die Algemene Sinode. Die bestaande strukture (Rade) waarin die Raad sy werksaamhede georganiseer het, word “nou ‘mutatis mutandis’ kommissies van die Algemene Sinode met passende reglemente” (Handelinge Raad van Kerke 1959:124; Handelinge Raad van Kerke 1961:75). Hoewel voorsien is dat die Raad sou ontbind, sou hy met sy uitgebreide netwerk werksaamhede toonaangewend tot die Algemene Sinode van die NG Kerk toetree.
Die plan was eenvoudig, deursigtig, prakties en dra sorg daarvoor dat in geen enkele opsig afbreuk gedoen sou word aan die presbiteriaans-sinodale tradisie en uitgebreide organisasie en teologie van die NG Kerk nie. Die wissel word op hoogste vlak oorgegooi. Die Federale Raad tree toe tot die Algemene Sinode. Dit sou die minste rimpeling veroorsaak. Trouens, is geglo, nuwe momentum sou gegee word aan die NG Kerk en sy roeping in ’n onstuimige dekoloniserende en “gevaarlike” Afrika.
Nie so haastig nie! Teologiese voorbehoud gestel
Vir die waarnemende Aktuarius van die Sinode van die NG Kerk van Suid-Transvaal, dr. W.D. Jonker, kon alles nie so netjies in kruike en kanne kom nie. Hy wou nie dat daar so haastig gemaak word met die nuwe kerkorde nie. Hy vra dat die “… finale redaksie van die kerkorde meer sal … wees as die resultaat van enkele deskundiges se moeitevolle arbeid” (Jonker 1961:146). “Die kerk in sy geheel moet ook by ons die geleentheid kry om aan die nuwe kerkorde mee te werk”, skryf hy in Die Kerkbode van 1 Februarie 1961 (Jonker 1961:145–147). Syns insiens moet die ringe en selfs kerkrade die voorgestelde kerkorde noukeurig bestudeer (Jonker 1961:146). Immers, beklemtoon hy, “… as die Kerk ’n nuwe kerkorde wil invoer, moet hy weet wat hy doen, want hy verrig ’n daad wat betekenis gaan hê vir geslagte tot in ’n moontlike verre toekoms. ’n Kerkorde stempel die Kerk vir eeue” (Jonker 1961:145). “As enigste stipulasie behoort daarby gestel te word dat die kerkorde in finale redaksie niks moet bevat wat in stryd is met Gods Woord en die beginsels van die gereformeerde kerkregering soos dit veral in art. 30–32 van die Nederlandse Geloofsbelydenis tot uitdrukking kom nie” (Jonker 1961:148).
Vir Jonker was daar meer op die spel as om met die aanvaarding van ’n kerkorde “… die gereformeerde karakter van ons Kerke te bestendig en te bevestig” (Jonker 1959: 795), as sou dit in ooreenstemming wees met die Dordtse tradisie (Vorster 1960:13; Strauss 2016:1–2, 8; Duursema en Jonker 2017:362–363; Nel 2019:5–10). Hoeveel waardering hy persoonlik vir die histories-gereformeerde tradisie van die NG Kerk daarop nagehou het (Kleynhans 1973:148–154) en hom met die strewe om die “hereniging” van die Kerke vereenselwig het, was die opstel en aanvaarding van ’n kerkorde vir hom ten diepste ’n kwessie van gehoorsaamheid aan Christus by die ordening van die kerklike lewe. Die aanvaarding van ’n kerkorde moes verder strek as uitklaring van onderlinge sinodale magte en bevoegdhede, of die daarstel van ’n basis vir ’n kerklike eenheidstruktuur.
Omdat die Dordtse Kerkorde hierdie uitgangspunte so goed onder woorde bring, is hy begeesterd dat hierdie kerkorde deur die NG Kerk toegeëien moet word (Jonker 1959:795–796, 800, 1959b:853–857, 1959c:870–871, 883, 1961:145–147; Duursema en Jonker 2017:362–363). Die Dordtse Kerkorde gaan daarvan uit dat dit in ’n kerkorde nie oor menslike versinsels en wette gaan nie, maar oor die orde wat Christus vir sy kerk ingestel het. Dit gaan daarin nie om die hóé van saamwees en saamleef wat die kerk konstitueer nie, maar om die Here, wat deur sy Woord en Gees vergader, beskerm en onderhou. Niemand en niks anders kan dit doen nie. Die Dordtse Kerkorde is hieroor duidelik: Net die Hoof van die Kerk, en sy Gees kan dit doen (Erasmus 1994:132–142; Britz 1995:56–65). Die Kerkorde van Dordt bevat sonder twyfel “die beste beginsels … wat in ooreenstemming met die Skrif en die belydenis van ons Kerk is”(Jonker 1959a:796). ’n Kerkorde na hierdie formaat sou dus nie net die binne-kerklike lewe vanuit die diens van die ampte verdiep nie, maar die NG Kerk in sy optrede na buite, en in sy deelname aan die samelewing, hartgrondig vernuwe. Dit sou ook die verhouding met sy “dogter of sendingkerke” op gelyke voet voor en onder die regering van Christus bring (Jonker 1962). Dit het vir die NG Kerk ’n geleentheid gebied om van nuuts af oor die wese van sy bestaan en bediening te besin. Uit Jonker se oogpunt moes die aanvaarding van ’n kerkorde wat uit die Dordtse tradisie kom, dus die NG Kerk by niks minder as ’n oomblik van gereformeerde reformasie bring nie. Hy sou ook dikwels daarop aandring (Jonker 1959a:795–796, 800, 1959b:853–857, 1959c:870–871, 883, 1960:33–37, 1965:24, 28, 31).
Dit is dus duidelik waarom Jonker nie metterhaas die nuwe kerkorde wou laat intree in die kerklike organisasie van die NG Kerk nie. Hy, en sy geesgenote (Jonker 1998:hoofst.2:1)5 het, anders as die Raad van Kerke, hul beywer om die teologiese en kerkregtelike skeefgroei in die NG Kerk reg te stel. Die Kerkorde moes soos ’n suurdeeg in die hele kerk ingeknie word. Ds. Beyers Naude wat sy ondersteuning aan Jonker en sy medestanders in die saak gegee het (Jonker 1998:hoofst.2:1), bring die insigte van Jonker, wat op daardie tydstip in Nederland met studieverlof was (Duursema 2017:100), as ’n beskrywingspunt by die vergadering van die Raad van Kerke in Maart 1961 ter sprake. In beheer van sake, wou die Raad nie hierdie weg opgaan nie en volstaan met die prakties haalbare prosedure vir kerkhereniging soos uiteengesit by sy vorige vergadering (Handelinge 1961:43,65). ’n Geleentheid om die nuwe kerkorde tot op gemeentevlak behoorlik na teologiese en ekklesiologiese betekenis te deurdink, is deur die vingers laat glip. Die koeël was deur die kerk.
Die aanvaarding van die Kerkorde van 1962
Soos deur die Raad van Kerke in 1959 voorsien is, het “die eerste vergadering van die hoogeerwaarde Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk
van Suid-Afrika” gedurende Oktober 1962 in Kaapstad saamgekom (Handelinge Raad Kerke 1959:124; Agenda 1962:223). Die Sinodes van die onderskeie NG Kerke het die konsep kerkorde goedgekeur (Agenda 1962:224). In ’n konvensie is die konsep kerkorde oorweeg om “by goedkeuring daarvan, voort te gaan tot die konstituering van die Algemene of Nasionale Sinode van die Ned. Geref. Kerk van Suid-Afrika” (Agenda 1962:222).
Die oorgang van ’n adviserende Federale Raad, insluitende “federale en gefedereerde liggame”, na ’n besluitnemende en arbeidsame sentrale Algemene Sinode het seepglad verloop. Aan die stuur van sake is ’n Breë Moderatuur gestel wat na afloop van die vergadering benewens opdragte, “sake van spoedeisende aard gedurende die reses” (Kerkorde 1962:8) moes hanteer. Die middele was beskikbaar om die NG Kerk se sinodale struktuur met nog een uit te bou. ’n Omvattende erflating van die Raad van Kerke het hom gestruktureer en sy werksaamhede aan die hand van reglemente bepaal (Kerkorde 1962:9). Terselfdertyd gee Artikel 36 die versekering dat “Die samestellende kerke of sinodes … volle seggenskap oor hul eiendomme, finansies, werksaamhede, ens.” behou (Kerkorde 1962:7) en dat dit hulle, soos Artikel 37 lui, “vry staan om met behoud van alle regte, voorregte, besittinge, naam, ens. uit die verband te tree …” (Kerkorde 1962:7). Identiteite en belange is verskans. Mure is as voorsorg gebou. Die aandrang van ’n groep jong predikante op die herstel van die gereformeerde karakter van die kerk (Jonker 1998: hoofs.2:1), het die onderspit gedelf. Daar was reguit koers gehou.
Die Algemene Sinode wou nie sy lidmate in die koue buite laat staan nie. In die gees van die vergadering is met “Die sinodale boodskap aan alle lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk” (Handelinge 1962:275) uitgereik. Hulle is daarmee aan die hand geneem.
Die boodskap van die Algemene Sinode aan NG Kerklidmate
Sonder stamp of stoot, sonder onderbreking, is die Algemene Sinode van (en vir) die NG Kerk in rekordtyd te water gelaat. Aan boord was sy strukture, tradisies, sy teologie, sy lidmate. Vir almal ’n geestelike tuiste. Sonder enige twyfel bedoel om die vlagskip van die NG Kerk te wees. Die Algemene Sinode was volstoom op geykte en vaste koers. Die Sinode het baie op die hart gehad, en wou dit met volle gesag meedeel. “Onder leiding van die Heilige Gees het ons nou vrymoedigheid om hierdie boodskap aan u te rig”, begin die “boodskap”. Immers, “voor die aangesig van die Heilige God het ons die afgelope tien dae gesoek na die kennis van sy wil vir die kerk” (Handelinge 1962:275). Die “hereniging van die kerk”, word lidmate ingelig, is afgehandel. “Ons verwag dat ons gesamentlike getuienis vir die Here met nuwe krag en helderheid verneem sal word tot heil van die volk en vaderland” (Handelinge 1962:275). Die Algemene Sinode is ook vervul met die verwagting dat op talle gebiede “die werk van die kerk na buite meer doeltreffend” georganiseer sal word en dus met groter krag voortgesit sal word.
Hy is egter diep bewus van die omvattende bedreigings wat in die gesig gestaar word en is “bekommerd oor die gerustheid van lidmate” wat voortlewe asof daar geen gevaar bestaan nie. Een daarvan word uitgelig, naamlik die “Kommunisme wat dreig ons beskouings en lewenswyse te vervorm” (Handelinge 1962: 275). Kennelik bedoel die Algemene Sinode nie dat NG lidmate die knie sou buig voor hierdie sisteem nie, maar dat ander Suid-Afrikaners deur die “vlei-stem van die Kommunisme” op sleeptou geneem word. “Dit is nie ons taak om staatkundige middele aan te dui vir die bewaring van die vrede nie, maar die plig rus op ons en op elke gelowige om intelligent kennis te neem van landsake, om voorbidding te doen vir hulle wat belas is met die staatsbestuur en om deur ons verhouding tot mekaar en tot die ander groepe in ons veelrassige samelewing die algemene gesindheid van die vrede te bevorder” (Handelinge 1962: 275). Ten slotte: “As ons gelowig die reg en die waarheid soek en volg, sal Hy ons bewaar en gebruik tot sy eer”(Handelinge 1962:275).
Die Algemene Sinode maak ’n derde en laaste punt. “Toe die paaie in 1862 vir ons kerk uiteengegaan het”, word geskryf, “het tegelykertyd die grootste geestelike herlewing ons kerk verkwik wat Suid-Afrika nog ooit ondervind het” (Handelinge 1962:276). Die versekering word gegee dat die vertroude evangelies-gesinde tradisie van die NG Kerke, dus steeds in veilige hande is. Die Sinode omhels hierdie geestelike tradisie. Daarin kom hy tot sy reg. “Mag God gee, nou dat ons paaie weer saam geloop het, dat die Gees van God andermaal kragtiglik in ons midde sal werk sodat ongelowiges na die Here gebring mag word, die kinders van die Here ’n voller ondervinding van sy genade mag geniet en beide kerk en volk bewaar mag bly vir sy diens en verheerliking” (Handelinge 1962:276).
Die “boodskap” het die taal gepraat wat lidmate lank reeds geken het. Met trajekte soos “gesamentlike getuienis vir die Here met nuwe krag”, “tot heil van kerk en vaderland”, die bedreiging van “die vlei stem van die Kommunisme”, verhoudings in “ons veelrassige samelewing” en die verkwikking van die “geestelike herlewing ons kerk” kon hulle identifiseer. Die Kerk en Volk-reeks is deur hierdie sentimente gedra. God se koninkryk in Suid-Afrika is langs hierdie lyne ingeskat.
Die mees opvallende van die “boodskap” is dat van die nuwe kerkorde en die teologiese betekenis daarvan, geen woord op die uithangbord van die Algemene Sinode staan nie. Waarom nie? Hoeveel is daar in werklikheid met hierdie ooglopende weglating, of swye, gesê? Hierdie vraag dring aan op ondersoek. Nietemin, die voorgestelde kerkorde is voetstoots aanvaar en het sy intrede in die NG Kerk op Algemene Sinodale vlak gemaak. Funksioneel het dit as basis gedien vir die “hereniging”6 van die NG Kerke en is daar nie geoordeel dat dit die Christelike lewe van gemeentes en lidmate sou bepaal nie.
Die Kerkorde 1962: teologiese impak?
In 1965 wys Jonker op die teologiese betekenis wat die aanvaarding van nuwe kerkordes vir kerke in Europa ingehou het. In Duitsland was daar voor en na die Tweede Wêreldoorlog beduidend meegewerk om die juridiese en reglementêre kollegialistiese bestuur van die kerk te vervang met ’n “vorm van kerkregering waaruit duidelik sal blyk dat die kerk ’n Christokratiese broederskap is” (Jonker 1965b:24). In Nederland het die Hervormde Kerk, skryf hy, ’n “nuwe kerkorde aanvaar … wat in alles opsigte bedoel was om terug te keer tot die presbiteriale kerkreg” (Jonker 1965b:24). Jonker meen dat dit vir die ganse Christelike kerk ’n gebeurtenis van groot betekenis was, “omdat dit ’n openbaring is van ’n teologiese verandering van onberekenbare groot gewig” (Jonker 1965b:24). Hy is ingenome met die feit dat die “nuwe kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland” dit in ’n groot mate verdiskonteer het “om lidmate met skriftuurlike besware nie te dwing om mee te werk aan die uitvoering van besluite waaroor hulle beswaard voel nie” (Jonker 1965b:31). Wat hy in die oog het, is die toepassing van Artikel 31 van die Dordtse Kerkorde, waarin die “bindendheid van ’n kerklike beslissing afhanklik gestel (word) van die vraag of dié beslissing nie in stryd met die Woord van God of die kerkorde is nie” (Kerkorde 1620: Artikel 31; Jonker 1965b:28).
Merkwaardig rep Jonker geen woord oor die aanvaarding van ’n kerkorde (nogal in die Dordtse tradisie!) deur die historiese NG Kerk in Suid-Afrika nie. Dit kan net aan een rede toegeskryf word, naamlik dat Jonker in 1965 nie oortuig was dat die NG Kerk se kerkorde teologies en kerkregtelik die gewenste inslag gevind het waarvoor hy en ander gepleit het nie. Hy het dit aan eie lyf gevoel toe hy Die Sendingbepalinge van die Ned. Gereformeerde Kerk van Transvaal (Jonker 1962) krities aan die uitgangspunte van die nuwe kerkorde onderwerp het en juis dit met mag en mening in die NG Kerk verwerp is (Hanekom 1963:272–273; Jonker 1963:271–272; Duursema 2017:195–227). Lees ’n mens dus sy beoordeling van die “liberale kerkreg” in Om die regering van Christus in sy kerk, sowel as sy kritiese aantekeninge by die genoemde nuwe Europese kerkordes, is die toepaslikheid daarvan op die NG Kerk onmisbaar duidelik. Hy vind dit byvoorbeeld jammer dat die nuwe kerkordes nie duideliker uitspel dat “die Woord van God die grens is van alle kerklike gesag en dat kerklike beslissings voortdurend onderwerp moet word aan die kontrole van die Skrif” nie (Jonker 1965b:28). Daar kan volgens hom nie “eenvoudig uitgegaan word daarvan dat besluite van kerklike vergaderinge bindend is en uitgevoer moet word en dat besware daarteen, al word dit op die Skrif gegrond, alleen langs ’n moeilike ompad … onder die aandag gebring kan word” (Jonker 1965b:28-29). So word die indruk gelaat, merk hy op, “dat as die Sinode gepraat het, alles afgehandel is, so goed as wat dit sou geld: Roma locuta, causa finita est” (Jonker 1965b:28).
Die sentraliserende tendens in die Europese kerkordes, om ter wille van effektiewe funksionering die regering van die kerk in die hande van enkeles, van klein uitvoerende moderamina, te plaas, bevraagteken hy. In die Dordtse Kerkorde gaan dit nie om effektiewe funksionering nie, maar of die “effektiewe beskerming van die Christus-regering in die kerk” (Jonker 1965b:26). Dit moet “vir ons die vernaamste beginsel van die kerkorde bly” (Jonker 1965b:26), stel Jonker sy oortuiging. ’n Mens kan met ’n stok aanvoel dat sinodale besluite in verband met die Cottesloe Kerkeberaad (1960), die protesstem teen die teologiese regverdiging van apartheid, die gesag van die Algemene Sinode om bindende besluite oor byvoorbeeld die “rassekwessie” te neem, die instelling van die Breë Moderatuur, ensovoorts, in Jonker se agterkop was.
Dit is dus nie om dowe neute nie dat Jonker sy intreerede by die Universiteit van Suid-Afrika op ’n uiteensetting van die regering van Christus in sy kerk rig nie. Reeds in sy afskeidspreek op 16 Mei 1965 “Jesus leer ons bid vir God se saak – sy Naam, nou sy Koninkryk” (Jonker 1965a) aan die hand van die Heidelbergse Kategismus Sondag 48, bring hy dit onder woorde. “Die Kerk is net kerk solank die Woord van God daarin regeer; ’n kerklike vergadering het slegs gesag solank die Woord van God daar regeer. Anders nie. Dit weet die duiwel en daarom sal hy alles probeer beweeg om die Kerk af te trek van die Woord van God alleen, om die Kerk te laat beheers deur allerlei ideologieë en mensgemaakte skemas. Daarom moet dit die Kerk gebid word: Laat U koninkryk kom …” (Jonker 1965a).
Hoewel hy in sy intreerede wat hierop volg die NG Kerk nie noem nie, of na hom verwys nie, was dit van voor tot agter van toepassing op die Kerk wat klaarblyklik deur die aanvaarding van ’n kerkorde nog nie die teologiese konsekwensies daarvan ingesien het nie. Die reformatoriese rimpeleffek, waarvoor Jonker gepleit het (Jonker 1959a:795–796, 800, 1959b:853–857, 1959c:870–871, 883, 1960:33–37, 1961:145–147), het nie gerealiseer nie. Selfs ten spyte daarvan dat die NG Kerk sy leer en belydenis in die nuwe kerkorde verskans het. Die eerste artikel stel dit duidelik: “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met Gods Woord bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Enigheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618–1619, naamlik die sewe-en-dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls” (Kerkorde 1962:2). Om die nuwe Kerkorde aan hierdie grondslag te laat toets deur die hele kerk, is deur die Raad van Kerke afgewys. Die nuwe kerkorde het die NG Kerk nie by ’n waterskeidingspunt gebring nie.
Gevolgtrekking
Die eerste Algemene Sinode is stuurvas geloods. Omvattend, oorkoepelend en gesaghebbend is hy onbestrede die hoogste en finale uitdrukking van die identiteit van die NG Kerk. ’n Spieëlbeeld van sy teologie. Die Algemene Sinode was toe verenig deur ’n kerkorde, ’n waaksame skans. ’n Veilige vesting vir die Kerk en haar lidmate. Ondersoeke het dit bevestig (Brown 1973:1–47, 1979:277–304, 1988:153–165; Britz 1985:432–451, 1995:56–65; Duursema 2017:1–424, 2018:1–7; Nel 2019:147–185). Die Kerkorde het nie aan die Algemene Sinode gevolg gegee nie, maar is op ’n pragmatiese werkswyse by en in die bestaande strukture (insluitende die Raad van Kerke) van die NG Kerk geakkommodeer. Aan ekklesiologiese formasie eerder as gereformeerde reformasie is die hoofrol toegeken. Jonker, en sy geesgenote, het dit as ’n klein minderheid besef. Die punt wat hierdie artikel gevolglik maak is dat die manier waarop die kerkorde as ’n fundamentele dokument toegetree het tot die NG Kerk, om funksionele eerder as konfessionele redes was.
Toe afgevaardigdes in die Hugenote Saal op 12 Oktober 1962 “Prys die HEER met blye galme, o my siel, daar ‘s ryke stof!” (Die berymde Psalms 1976: Psalm 146:1) uit volle bors gesing het, is hulle op hulle voete gebring deur die aangryping van die oomblik. “Staande, eenparig”. Hoeveel van die afgevaardigdes het, desnieteenstaande, tóg van die Kerkorde meer verwag as ’n samebindende dokument? Wie het nie, soos Jonker, in omhelsing van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk die hoop gekoester dat die Kerkorde reformasie sou bring, vanuit die regering van Christus deur die Gees en Woord nie. Daar is dus goeie rede vir die vraagteken in die titel van hierdie ondersoek.
Bibliografie
Agenda van die eerste vergadering van die Hoogeerwaarde Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. 1962. Elsiesrivier: Nasionale Handelsdrukkery Beperk. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Agenda_1962.pdf.
Albertyn, J.R. 1951. Die twee volkspilare. Die funksie van die Staat en Kerk in die volkslewe. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers (Kerk en Volk-reeks, 6).
Britz, R.M. 1985. Oor die kerkbegrip en die ordening van die kerklike lewe by die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 3 (xxvi), 432–451.
Britz, R.M. 1995. Driehonderd en vyftig jaar later nagedink oor die Dordtse Kerkorde uit die geledere van die NG Kerk, in Strauss, S.A. en Britz, R.M. (reds.). Dordt na 375 Jaar. 1619-1994. Bloemfontein: Pro Christo-Publikasies (U.V. Teologiese Studies), 56–65.
Britz, R.M. 2004. Reflections on the ecclesiastical interpretations of 6th April 1652 as a South African symbolic date. Acta Theologica, 24(1). [Intyds]. Beskikbaar: http://scholar.ufs.ac.za:8080/bitstream/handle/11660/7160/theolog_v24_n1_a1.pdf?sequence=1&isAllowed=y.
Brown, E. 1973. A historical profile of the Nederduitse Gereformeerde Kerk (Dutch Reformed Church) in South Africa. The University of Zululand (Seminar on Christianity and the non Western World, iii).
Brown, E. 1979. Die Spoor wat die Ned. Geref. Kerk in sy Kerkregering en Kerkreg gedurende die 20ste eeu gevolg het. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, xx :277–304.
Brown, E. 1988. Amp en belydenis, in Rossouw, P.J. (red.). Gereformeerde Ampsbediening. Pretoria: NG Kerk Boekhandel, 153–165.
Christian Principles in Multi-Racial South Africa. A Report on the Dutch Reformed Conference of Church Leaders. Pretoria 17-19 November 1953 (s.d.). Johannesburg: Voortrekkerpers.
Coertzen, P. 1991. Gepas en ordelik. Pretoria: V & R (RGN – Studies in Metodologie).
Crafford, D. 1982. Aan God die Dank. 1. Geskiedenis van die sending van die Ned. Geref. Kerk binne die Republiek van Suid-Afrika en enkele aangrensende Buurstate. Pretoria: NG Kerk Boekhandel.
Cronjé, J.M. 1981. Aan God die Dank. 2. Geskiedenis van die sending van die Ned. Geref. Kerk binne die Republiek van Suid-Afrika en enkele aangrensende Buurstate. Pretoria: NG Kerk Boekhandel.
Die berymde Psalms in gebruik by Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Skrifberymings in gebruik by die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (1976). Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Du Preez, A.B. 1950a. Die Skrif en rasseverhoudinge. Die Kerkbode, Lxv 11:502–504.
Du Preez, A.B. 1950b. Die Skrif en rasseverhoudinge Die Kerkbode, Lxv 12:554–555.
Du Preez, A.B. 1950c. Die Skrif en rasseverhoudinge. Die Kerkbode, Lxv 13:620–621.
Du Toit, H.D.A. 1955. Olie op die wonde. Die diakonaat in teorie en praktyk. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers (Kerk en Volk-reeks, 11).
Duursema, G.J. 2017. Communio Sanctorum: Gereformeerde kerkreg versus kerklike geskeidenheid: ’n biografiese bibliografie van W.D. Jonker, 1955-1968. Doktorale verhandeling. Universiteit van die Vrystaat.
Duursema, G.J. 2018. The Distinctive Character of Ecclesiastical Decisions within the Dortian Church Order. Ecclesiastic Authority. Paper read at The International Conference 400 Years Synod of Dordt, Dortrecht, the Netherlands.
Duursema, G.J. en Jonker, W.D. 2017. Die regering van Christus in sy Kerk: geskiedenis van die ontwikkeling van die Gereformeerde Kerkreg. Onder redaksie van G.J. Duursema. Willie Jonker Digitale Argief.
Erasmus, L.M. 1994. Sola Ecclesia? ’n Kritiese verantwoording van die kerkbegrip van die gemeentebouteologie in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Doktorale verhandeling. Universiteit van die Oranje-Vrystaat. [Intyds]. Beskikbaar: http://historiaeecclesiasticae.co.za/wp-content/uploads/2021/07/Sola-ecclesia.pdf.
Gerdener, G.B.A. 1951. Reguit Koers gehou. Die wording, wese en werking van die NG Kerk se sendingbeleid. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers. (Kerk en volk-reeks 5).
God’s Kingdom in Multi-Racial South Africa. A Report on the Inter-Racial Conference of Church Leaders. Johannesburg 7 to 10 December, 1954. 1955. Johannesburg: Voortrekkerpers.
Groenewald, E.P. 1947. Apartheid en voogdyskap in die lig van die Heilige Skrif, in Cronjé, G. (red.). Regverdige Rasse-Apartheid. Stellenbosch, Oudtshoorn, Johannesburg: C.S.V. Boekhandel, 40–67.
Handelinge van die drie-en-twintigste vergadering van die Raad van die Kerke. 1953. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/RK_Handelinge_1953.PDF.
Handelinge van die eerste vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk asook van die Konvensie en die ontbinding van die Raad van die kerke. 1962. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Notule_1962.pdf.
Handelinge van die ses-en-twintigste vergadering van die Raad van die Ned. Geref. Kerke van S.A. 1959. VB. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/RK_Handelinge_1959.pdf.
Handelinge van die sewe-en-twintigste vergadering van die Raad van die Ned. Geref. Kerke van S.A. 1961. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/RK_Handelinge_1961.pdf.
Handelinge van die vier-en-twintigste vergadering van die Raad van die Kerke. 1955. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/RK_Handelinge_1955.PDF.
Handelinge van die vyf-en-twintigste vergadering van die Raad van die Kerke. 1957. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/RK_Handelinge_1957.PDF.
Hanekom, T.N. 1963. Repliek van prof. T. N. Hanekom. Die Kerkbode, xci (8):272–273.
Hanekom, T.N. s.d. Kerk en Volk. Die verhouding tussen Afrikaanse lewenskringe. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Jonker, W.D. 1959a. Die nuwe Kerkorde – I. ’n Voorwaartse Stap op Dordtse Grondslag. Die Kerkbode, Lxxxiv (20):795-796; 800.
Jonker, W.D. 1959b. Die nuwe Kerkorde – II. Die Kerkbode, Lxxiv (21): 853–857.
Jonker, W.D. 1959c. Die nuwe Kerkorde – III. ’n Voorwaartse stap op Dordtse grondslag. Die Kerkbode, Lxxxiv (22):870–871; 883.
Jonker, W.D. 1960. Die bevoegdheid van die streeksinodes volgens Art 35 van die nuwe Konsep Kerkorde. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 1 (ii):33–37.
Jonker, W.D. 1961. Die nuwe Kerkorde. Nie haastig wees nie! Pleidooi vir voorlopige aanvaarding. Die Kerkbode, Lxxxvii (5):145–147.
Jonker, W.D. 1962. Die Sendingbepalinge van die Ned. Gereformeerde Kerk van Transvaal. Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein: Ned. Geref. Kerkboekhandel (Kerk en wêreld. Teologiese studies oor die sending van die kerk in die wêreld, 4). [Intyds]. Beskikbaar: https://www.williejonker.co.za/wp-content/uploads/boeke/Sendingbepalinge.pdf.
Jonker, W.D. 1963. Korrespondensie: verweer teen resensie. Die Kerkbode, xci (8):271–272.
Jonker, W.D. 1965a. Jesus leer ons bid vir God se saak. Willie Jonker digitale argief. [Intyds]. Beskikbaar: https://williejonker.co.za/19650516-2/
Jonker, W.D. 1965b. Om die regering van Christus in sy kerk. (Mededelings van die Universiteit van Suid-Afrika, A39). [Intyds]. Beskikbaar: https://williejonker.co.za/toesprake_1965/.
Jonker, W.D. 1998. Die kentering. My ervaring van die kentering in die kerk. Willie Jonker Digitale Argief. [Intyds]. Beskikbaar: https://williejonker.co.za/19980201-2/.
Kerkorde opgesteld in de Nationale Synode van de Gereformeerde Kerken gehouden te Dordrecht 1618/1619. 1620. Utrecht: Salomon de Roy. [Intyds]. Beskikbaar: http://kerkrecht.nl/book/export/html/439.
Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. 1962. Kaapstad-Pretoria: NG Kerk-Uitgewers. [Intyds]. Beskikbaar: https://kerkargief.co.za/doks/acta/AS_KO_1964.pdf.
Kleynhans, E.P.J. 1973. Die Kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1795 - 1962. Bloemfontein: N.G. Sendinguitgewers.
Kritzinger, J.H. 1947. Rasse-apartheid in die lig van die Skrif. Op die Horison, 9:22–31.
Lambrechts, H.C. & Theron, E. 1959. Vrouevolksdiens. Die werk van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging. Pretoria-Kaapstad: HAUM.
Lubbe, J. 2002. Kleur verskil. ’n Perspektief op die NG Kerk in 1948 en apartheid as kerklike beleid. Bloemfontein: Barnabas.
Nauta, D. 1971. Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: J.H. Kok.
Nel, P.J. 2019. A theological-historical investigation of the reception of the Church Order of Dort (1619) and the General Regulation (1816) in the church orders of reformed churches in South Africa. Ongepubliseerde Meestersverhandeling. University of the Free State. [Intyds]. Beskikbaar: http://scholar.ufs.ac.za/xmlui/handle/11660/9831.
Ons bou 'n Nasie. Feesboodskap aan ons Kerk en Volk, (1952). Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Piek, H.J. s.d. Die Kerk se skatte. Inrigtingsorg van die Ned. Geref. Kerke. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers (Kerk en Volk-reeks, 12).
Referate van die Kerklike Kongres van die Gefedereerde N.G. Kerke insake die Naturellevraagstuk, Bloemfontein, 4-6 April 1950. Bloemfontein: NG Sendingpers.
Rex, L.V. 1949. Opening van Teologiese Fakulteit. Die Kerkbode, Lxiv (13):763–767, 772.
Sentrale Komitee van die Van Riebeeck-fees (1952). 1952. Amptelike program van die Van Riebeeck-fees (1952).
Skema van werksaamhede voorgelê aan die vyf-en-dertigste vergadering van die Hoogeerwaarde Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. 1965. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/WK_Agenda_1965.pdf.
Strauss, P.J. 2010. Kerk en orde vandag met die klem op die NG Kerk. Bloemfontein: Sun Press.
Theron, H.S. s.d. Die Kerklike Byekorf. Die Ontstaan, Werksaamhede en Organisasie van ʼn Gemeente. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers (Kerk en Volk-reeks, 8).
Van der Watt, P.B. 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (1905-1975). Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Van der Watt, P.B. 1988. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652-1905. Tweede hersiene druk. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Vorster, J.D. 1960. Die Kerkorde vir die Ned Geref Kerke: besware daarteen en betekenis daarvan. Nederduitse Gereformeerde Tydskrif, 1 (iii):12-18.
1 In omgangstaal is dikwels na die NG Kerk verwys, terwyl dit in werklikheid om vier selfstandige Kerke gegaan het, naamlik die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, Nederduitse Gereformeerde Kerk in Natal, Nederduitse Gereformeerde Kerk in die O.V.S., en die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Transvaal.
2 In die reeks het die volgende boekdele verskyn: W. Nicol, Die trouring, J.J. Müller, Die jeug se lekkergoed, C.R. Kotzé, Verdwaalde vroomheid, P.J. Viljoen, My aardse paradys, G.B.A. Gerdener, Reguit koers gehou, J.R. Albertyn, Die twee volkspilare, P. du Toit, Aanskou die rots, H.S. Theron, Die kerklike byekorf, A.J.V. Burger, ’n Stad bo-op ’n berg, T.N. Hanekom, Kerk en Volk, H.D.A. du Toit, Olie op die wonde en H.J. Piek, Die kerk se skatte.
3 Die indruk bestaan dat die onderskeie NG Kerke op ’n haar na dieselfde was. Tog moet die verskille nie onderskat word nie. Dit wag egter nog op ondersoek en uitklaring.
4 Waarom en op watter manier die tradisioneel bekende begrip “Konferensie” verruil is vir “Konvensie” wag op kerkhistoriese en teologiese uitklaring.
5 Jonker noem sommige van hierdie groep: Attie Barnard, Murray Janson, Gert Erasmus, Frans Kocks, Carel Boshoff, Nico Smith, Karl Struwig, Frans van Staden, Jan van Rooyen.
6 Hoewel die artikel nie daarop ingaan nie, is die skrywers bedag daarop dat die totstandkoming van die Algemene Sinode in 1962 uiteraard nie ’n “hereniging” van die onderskeie NG Kerke was nie. Geen kerk het met die NG Kerk in Suid-Afrika (die Kaapse Kerk) verenig nie. Hierdie Sinode het ook nie as roepende Kerk ’n algemene sinode saamgeroep nie. Die Algemene Sinode was ’n ander regspersoon en kerklike struktuur, waarin die Federale Raad opgegaan het en waarheen die NG Sinodes afgevaardigdes gestuur het. Kerkhistories lê die belangrikste effek van die 12 Oktober 1962 besluit in die gegewe dat NG Kerke afsonderlik hul selfstandigheid verloor het.