Stellenbosch Theological Journal 2022, Vol 8, No 1, 1–17

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2022.v8n1.a10

Online ISSN 2226-2385 | Print ISSN 0028-2006

2022 © The Author(s)

 

Liturgie en geloofsvorming:
’n Kort verkenning

Cas Wepener

Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika

cwepener@sun.ac.za

https://orcid.org/0000-0002-7468-1481

 

Abstract

Liturgy and faith formation. A brief exploration

The relation between liturgical action and faith formation is the theme of this article. By means of a literature study this relation is explored and critically reflected upon. The literature scrutinised in this regard include liturgical-, practical theological- and cultural anthropological sources. It is argued that there is indeed a relationship
between liturgical practices and faith formation, however, this formation can be of a positive and negative nature, depending on the quality of the liturgical practice. Therefore, it is critical to often revisit the theme of liturgy and faith formation and simultaneously critically scrutinize the quality of the lived liturgical practice of individuals and communities.

Trefwoorde

liturgie; geloofsvorming; ritueel; simbool; praktyke; Praktiese Teologie

Inleiding

Is daar ’n verband tussen liturgie en geloofsvorming en, indien wel, wat is die aard van daardie verband? Om hierdie vraag te verken, word daar in hierdie artikel begin in die Teologie en die konsep ‘liturgie’. Daarna word beweeg na die Praktiese Teologie en gekyk na die aard van geloofspraktyke. Vervolgens word vanuit die veld van die kulturele antropologie die konsepte simbool en ritueel verken. Deurgaans word belangrike literatuur vanuit hierdie drie velde geraadpleeg om lig op die verband tussen liturgie en geloofsvorming te werp. Die oogmerk is ʼn ontdekking van wat liturgie teologies en antropologies gesproke behels en om sodoende insig te verkry oor die potensiële verband tussen liturgie en geloofsvorming. Liturgie is ʼn teologiese aangeleentheid, maar dit is ook ’n praktyk wat mense doen, en as praktyk is enige liturgie en liturgiese ritueel opgebou uit simbole en rituele. Kennis oor die teologiese en rituele aard van liturgie is nodig om insig te bekom oor hoe liturgie geloof potensieel vorm.

Die oogmerk van hierdie verkenning is dus nie om ’n strategie vir geloofsvorming in en deur liturgie te ontwerp nie. Inteendeel, soms is dit veel eerder ʼn kwessie dat die liturgie gesnoei of gesaneer word om van ’n paar sake ontslae raak ten einde weer by die kern sake uit te kom (vgl. Wepener & Van der Merwe1) en so te sien wat liturgie in wese is en as sodanig reeds potensieel kan doen. Hierdie studie bestaan enersyds uit ’n hernude waardering vir die aard van en potensiaal van liturgie gegewe geloofsvorming en andersyds wil dit die liturgie, juis vanweë die vormende potensiaal daarvan, ook krities onder die loep neem.

Geloofsvorming gebeur potensieel reeds deur die liturgie, ten goede en soms nie ten goede nie. Stap een, voor gekyk word na vernuwing van die erediens met die oog op geloofsvorming, is daarom om te verstaan wat in die liturgie gebeur sodat daar kreatief én krities gedink kan word oor ’n vormende praktyk soos die liturgie. In die gees van die “ancient-future” benadering van die liturgis Robert Webber2, wil die hoofstuk argumenteer dat die toekoms van ’n sinvolle verband tussen liturgie en geloofsvorming ingebed sit in ʼn herontdekking in ons eie dag van die verlede en dit wat daar reeds is in bestaande liturgiese praxis en in ’n lewende liturgiese tradisie. Hierdie hoofstuk is dus getrou aan die Gereformeerde benadering tot liturgie en erediens en ʼn verkenning wat terugkeer na (die) bronne (sien Old3; Smit4; Wolterstorff5) terwyl die huidige liturgiese praktyk deur middel van rituele kritiek (vgl. Post6) krities beskou word. Metodologies is hierdie studie ’n literatuurstudie.

Teologie

’n Belangrike spreuk in die liturgie is lex orandi lex credendi soos ons bid, so glo ons.7 Die spreuk kan ook omgedraai word sodat dit lees – soos ons glo, so bid ons. Met bid word bedoel erediens. Hoe mense glo, beïnvloed hoe hulle eredienste inrig. Hoe hulle eredienste inrig, het ’n impak op hoe en wat hulle glo. Daar is dus ’n voortdurende wederkerigheid tussen teologie en liturgie. Die woord “ontmoeting” som die Gereformeerde oortuiging oor wat liturgie is en wat daar gebeur goed op. In die verlede is die woord “gesprek” graag gebruik, en dis sinvol, maar die ontmoeting tussen God en mens in die liturgie bestaan uit veel meer as net woorde en praat. Die volgende definisie van liturgie is ’n poging om iets van hierdie dinamika onder woorde te bring:

Liturgie is die ontmoeting tussen God en mens deurdat God en mens uitbeweeg na mekaar, ’n beweging waarin God se handeling primaat het bo dié van die mens, sodat daar so op ’n teonoom resiproke wyse ’n dialogiese kommunikasie in en deur rituele en simbole tot stand kom waarby die mens op ’n liggaamlike wyse betrokke is en die mens so sy/haar hoogste doel op aarde kan verwesenlik, naamlik om God te prys en Hom vir ewig te geniet.8

God ontmoet mense en mense ontmoet God in die erediens en mense word deur God wat hulle as wesens wat ook lywe, dus ook sintuie en harte en nog soveel meer, ontmoet – nie net deur hulle verstand nie (vgl. Lukken9; Williams10). ’n Belangrike teologiese aksent is dat die inisiatief vir die ontmoeting by God geleë is. God ontmoet mense in die liturgie en mense reageer in en deur liturgiese rituele wat hulle uitvoer. So vorm wat mense glo die liturgie en vorm hoe hulle die liturgie vier wat hulle glo. Wanneer hier ʼn ontsporing plaasvind, ontspoor die wyse waarop liturgie inwerk op geloofsvorming insgelyks.

Daar is verskeie Bybelverhale wat hierdie beskrywing ondersteun, alhoewel daar geen liturgiese bloudrukke in die Bybel voorkom nie. Die Emmausverhaal van Lukas 24 werp lig op die God-mens ontmoeting van die liturgie. In hierdie verhaal stap twee bedroefde mense ʼn pad met ʼn vreemdeling. Hulle gebruik hulle lywe om byvoorbeeld te stap, te praat, te luister en te eet. Hulle gaan op weg soos erediensgangers in ʼn erediens na ʼn kerkruimte gaan. Die twee reisigers ontdek dit eers later, maar daar op die pad is die opgestane Here Jesus reeds teenwoordig en stap saam met hulle. Daar is dus koinonia, onderlinge verbondenheid tussen die mense op die pad, maar dis ook ʼn verbondenheid met Christus. Die reis is ook ʼn besondere saam-wees waar hulle hul teleurstelling kan deel. Dan lê die Vreemdeling die Skrifte uit aan hulle wat troos, uitdaag en leer. Die Vreemdeling maak in Emmaus of hy wil verder reis, maar hulle sê: “Bly by ons, want dit is amper aand, en die dag is reeds verby.” Hierdie woorde is ʼn eeue oue gebed: “Bly by ons, Here.” In die woning gaan hulle aan tafel en die Gas word self Gasheer van die tafel. Hy neem, seën, breek en deel die brood, en hulle oë gaan oop en hulle herken vir Jesus. Daarna deel hulle dat hulle harte warm geword het en hulle kom in beweging. Hulle gaan vertel. Lukas 24 se verhaal is ʼn beskrywing van ʼn Godsontmoeting in die vorm van samekoms, Woordbediening, die gebed, tafeldiens en uitsending (sien Schuman11; Wepener12) wat illustreer hoe ʼn liturgiese saamwees ʼn impak op mense kan hê.

Hierdie ontmoeting tussen God en mens kry ons in vele liturgiese vorme in die NG Kerk – klassieke liturgieë, meditatiewe eredienste, ook meer informele dienste. Dit is deel van wie die kerk en haar mense is en ook besig is om te word. Dit is verder ʼn liturgiese diversiteit wat ook nuwe vorme aanneem in ʼn netwerk kultuur en liturgie te midde van die Vierde Industriële Revolusie en ten tyde van ʼn pandemie.13 Wat belangriker is as ʼn spesifieke vorm wat gekies word, is die dieperliggende aard van die ontmoeting – God ontmoet mense, God doen dus, handel in en deur die elemente van die erediens, die mense doen ook in reaksie op dit wat God doen en handel ook in en deur die elemente van die erediens. Ten diepste staan alles wat in die liturgie gebeur in die sfeer van anamnese, naamlik om in die hede die verlede te onthou met die oog op die toekoms. Ander geformuleer sou anamnese beskryf kon word as – God het; God kan en gaan weer; dit verander my hede. Hierdie anamnese van die liturgie laat week na week oë oopgaan en harte warm word en laat elkeen wat deel daarvan was, na afloop van die ontmoeting, anders dink en doen. Wat so bewerk en gevorm word, is geloof. Die erediensgangers ontvang ook in geloof dit wat God in die erediens doen. In die erediens word hierdie geloof ook aan wie hulle is en aan wie hulle aan die word is, vasgeknoop deur die Heilige Gees.

Die onderliggende liturgiese ordo van die NG Kerk se Handleiding vir die Erediens14 verwoord iets van hierdie God-mens ontmoetingsgebeure in vier bewegings. Vanaf ʼn informele lof- en aanbiddingsdiens tot by ʼn klassieke nagmaaldiens, is daar volgens die Handleiding vir die erediens altyd vier bewegings in die liturgiese ontmoeting tussen God en mens. Eerstens ʼn toetrede: deur die eeue neem God inisiatief en versamel mense in God se teenwoordigheid. Daarna die Woorddiens: die versamelde mense word geleer en getroos en uitgedaag deur die Skriflesing en prediking. Die derde beweging is die tafeldiens waar, onder meer deur die tekens van brood en wyn, mense herinner en versterk word. Die vierde beweging is die uitsending sodat erediensgangers op grond van die belewenis van daardie ontmoeting opnuut na die erediens van die lewe gestuur word om geloof wat in die liturgie gevorm is te gaan leef.15

Thomas Long16 praat in hierdie verband, en in die lig van hierdie vier bewegings, van die drama van die erediens. Long vra tereg na die drama of storie van ʼn gegewe erediens en beklemtoon die belang daarvan dat beide voorgangers en erediensgangers die interne teo-logika van die liturgie verstaan. Die kern plot van daardie God-mens ontmoetingsverhaal bly altyd grotendeels dieselfde, maar na aanleiding van die seisoen of feesdag op die liturgiese kalender, die Bybeltekste wat vir die Skriflesings en prediking gebruik word, die plaaslike en internasionale nuusgebeure, die lief en leed van die plaaslike gemeente, is daardie verhaal elke Sondag in elke gemeente ook uniek. Die geloofsvorming wat deur die liturgie bewerk word, is dus ook gegewe plek en tyd nooit identies nie. Indien voorgangers die betekenis verstaan van hierdie drama of liturgiese storie waaraan hulle aktief deelneem, is die kans groter dat die erediensgangers dit ook as sodanig gaan beleef met ’n ervaring oor hoe hulle eie lewensverhale inpas by God se verhaal en die moontlikheid om dit as betekenisvol toe te eien. Wanneer hierdie drama of storie wat ingebed sit in die liturgiese ordo duidelik is, word die verloop van die erediens minder soos die agenda van ’n vergadering waardeur gewerk moet word en meer soos ’n God-mens ontmoeting wat elke Sondag tegelyk ’n sentrale plot en ʼn unieke storielyn volg. So word erediensgangers opgeneem en aktiewe deelnemers van die teo-drama van die erediens.

Matthaei17 omskryf geloofsvorming as deelname in God se werk waardeur mense ingenooi word in ’n verhouding met God, self, ander en die skepping. Hierdie definisie van Matthaei kan bykans ook ’n definisie vir geloofsvorming wees. In die lig van die bespreking tot op hede, asook in die lig van hierdie omskrywing van geloofsvorming van Matthaei, is liturgie bykans per definisie geloofsvorming. Die titel van hierdie artikel, te wete “Liturgie en geloofsvorming” sou selfs kon lui “Liturgie as geloofsvorming” aangesien liturgie die innooi van mense in God se teenwoordigheid is wat
al hierdie verhoudings dien. Dit maak ook die verband tussen liturgie en lewe, of liturgie en etiek, deel van die bespreking deurdat dit duidelik
maak dat die God-mens verhouding, implikasies het vir al die verhoudings waarin ’n persoon staan. Die vraag oor hoe viering in die erediens in verband staan met die res van ’n erediensganger se lewe, dus die liturgie se verhouding tot die liturgie van die lewe en hoe dit potensieel diegene wat deelneem aan die liturgie se daaglikse lewens en optrede beïnvloed, kom, so ter sprake.

Hierdie bespreking oor liturgie en teologie het begin deur die spreuk lex orandi lex credendi aan die orde te stel. Teoloë soos Dirkie Smit18 het hierdie spreuk uitgebrei na soos ons bid so glo ons, maar so leef ons en so leef ons saam – lex orandi lex credendi lex vivendi lex convivendi. Bethel Müller19 het weer die term lex agendi in plaas van lex vivendi gebruik en met ander woorde ʼn klem geplaas op hoe die wat aanbid ook handel. Al hierdie weergawe van die oorspronklike spreuk kom daarop neer dat die erediens ’n voortgaande vormende rol uitoefen op wie mense is en wie hulle besig is om te word. Dit geld vir individuele gelowiges, maar ook die formasie van die kollektiewe geloofsgemeenskap.

Die liturgis Claudio Carvalhaes20 bied in sy werk ’n oortuigende argument aan om lex orandi lex credendi lex vivendi nie te skei nie en skryf: “The lex orandi (law of prayer) is born out of the law of life (lex vivendi), the daily life of the poor, as it gives shape to their joys, concerns, and beliefs (lex credenda, the law of belief). The task of the theologians is to attend to the lex orandi-vivendi-credendi of the poor, listening to their prayers and learning with them how to properly pray.” Carvalhaes skryf dat gebed, ook liturgie as vorm van gebed, die lewensasem van die wêreld is. Dit is lewensasem wat die vloei van gebeure en die web van verhoudings kan roer. Gebed is volgens Carvalhaes ʼn voortsetting van Jesus se aardse lewe. Dit is ʼn voortsetting daarvan omrede gebede en liturgie diegene wat dit doen heroriënteer in die wêreld – hulle begin anders kyk na die wêreld en na mekaar en sodoende ook anders doen. Gebed verander die wêreld, want dit verander mense in die wêreld wat die gebede bid. Dit is daarom volgens Carvalhaes belangrik om gebed as ’n daad van “with-ness” te beoefen. Dit gaan dus nie net om die uitvoering van gebed as handeling nie, maar om in solidariteit met die pyn in die wêreld te bid.21

Jamie Smith se insigte werp verdere lig op hoe liturgie vormend inwerk op mense. Smith22 skryf dat mense begerende wesens is. Anders gestel, mense is nie net rasionele wesens nie, hulle dink nie net nie, maar het ook lief en is volgens hom ook harte. Wat mense liefhet, oftewel wat hulle begeer, rig hulle lewens en hoe hulle leef. Smith se argument in sy boek Desiring the kingdom is belangrik gegewe die verhouding liturgie en geloofsvorming. Volgens Smith23 is al die “liturgieë” waaraan mense deelneem, by die kerk en by die winkelsentrum (hy verwys na die liturgie van die winkelsentrum en ander soortgelyke praktyke as kulturele liturgieë), voortdurend besig om deelnemers te kalibreer, aangesien praktyke vormend op mense inwerk. So kan ’n mens met ʼn hart wat liefhet en dus antropologies beskou as ʼn begerende wese gesien kan word, vergelyk word met ’n kompas met ʼn naald. Elke liturgie (kerklike en profaan) waaraan iemand deelneem, trek sy of haar hart in ’n sekere rigting, net soos wat ’n magnetiese noord ’n kompasnaald trek. In alle sfere van die lewe geld hierdie insig, naamlik dat mense se mees basiese oriëntasie tot die wêreld die van liefde is, aldus Smith. Ook dat mense in die rigting van daardie liefde leef. Verskillende praktyke trek deelnemers se harte soms in verskillende en selfs teenoorgestelde rigtings. So vorm liturgie, asook soveel ander praktyke waaraan mense deelneem, hulle identiteite en ook die identiteit van die groepe waaraan hulle behoort.24

Aangesien al die kulturele liturgieë, ook kerklike liturgieë en spesifiek ook die Gereformeerde erediens mense se lewens rig, behoort daar ook normatief na liturgie gekyk te word deur te vra wat ’n Gereformeerde erediens behels wat op n sinvolle wyse die identiteit van lidmate, gemeentes en denominasies vorm? Op hierdie punt is dit nodig om terug na die toekoms te gaan, waar opnuut ontdek word en ook vergete aspekte afgestof moet word sodat dit wat daar reeds is, waardeer kan word. Dit gaan dus oor ’n hernude waardering en omhelsing van die liturgiese skat in die tradisie, maar nie op ’n onkritiese wyse nie. Wat die teologiese inhoud van so ’n herwaardering behels, som John Witvliet25 goed op met die volgende vraag: “Kan ek na afloop van die erediens sê dat hierdie erediens my werklik gehelp het om God Drie-enig te aanbid?” Met ander woorde, is die liturgie wat gevier word ’n vorm van aanbidding wat die aanbidding van die God van die Bybel dien? Indien daar aspekte van liturgie is wat hierdie fokus verskuif, behoort dit in ’n kritiese lig beskou te word. Wanneer liturgie wél die aanbidding van die Drie-enige God dien, kalibreer eredienste spesifieke soort mense. In die Gereformeerde tradisie sal dit vorming wees wat erediensgangers te help om te weet aan wie hulle behoort; wat hulle help om voor God se aangesig elke dag te lewe; wat hulle help met ’n lewe van dankbaarheid.26

Dirkie Smit27 stel dit treffend deur te sê dat die Gereformeerde erediens se eie aard gaan oor die aard van God se teenwoordigheid, die aard van die teenwoordige God en dan ook die aanbidding van hierdie God. En verskeie teoloë het oor die laaste dekades opgemerk dat die erediens die erediensgangers help om telkens weer in die regte rigting kyk. Dit is belangrik om gereeld teologies te besin oor presies wat daardie sogenaamde regte rigting is, want soos wat die erediens rig, vorm dit ook geloof. In ons eie dag, en gegewe soveel uitdagings soos verbruikerisme, is dit belangrik om seker te maak dit is nie in die rigting van die soort troos wat die winkelsentrum bied nie, maar die rigting van ons enigste troos soos die Heidelbergse Kategismus daaroor getuig.

Praktiese Teologie

Christelike liturgie is ʼn praktyk van die Christelike godsdiens. Die godsdienswetenskaplike Birgit Meyer28 merk tereg op dat godsdiens by uitstek iets is wat mense doen. Sy plaas dus die aksent op godsdiens as praktyk en handeling en een bron van kennis wat nie oorgesien mag word nie, is die uitgevoerde handeling. Wanneer dit by die liturgie kom, is hierdie praktyk die uitgevoerde liturgie self. Nie net die gedrukte teks van die eredienshandleiding nie, maar ook die geleefde en gevierde liturgie. In die handeling self, in die praktyk, sit kennis ingebed en die uitvoering van die praktyk is op sigself ’n kenbron. Gegewe die tema liturgie en geloofsvorming is dit van kritiese belang om opnuut die klem te laat val op die feit dat mense kennis opdoen, nie alleen deur te lees en te praat en te luister nie, maar deur alle vorme van doen. Dit is dus ʼn lyflike en liggaamlike kennis wat hier ter sprake is.

In sy klassieke artikel oor rituele met die titel “On ritual knowledge” skryf die teoloog Theodore Jennings Jr.29 oor godsdienstige praktyke soos
rituele en die menslike liggaam wat handel, wat doen, as bron van kennis produksie. Dit is kennis wat opgedoen word deur aan rituele, soos eredienste, deel te neem. Hy noem hierdie kennis “knowledge gained in action of action” wat daarop ingestel is om uit te vind hoe om op te tree. Ritueel, en sodoende ook liturgie, is vir Jennings30 ’n “ontological or cosmogonic praxis” en om deel te neem aan die ritueel, is om uit te vind wat gaan gebeur. Die beeld van deelname aan ’n dans word dikwels hier in navolging van Gerardus van der Leeuw31 gebruik, aangesien mense wat nie aan ’n dans deelneem nie, nie gaan uitvind wat gaan gebeur nie. “Ritual knowledge” is dus volgens Jennings32 kennis wat verkry en oorgedra word in ritueel deur middel van aksies wat menslike liggame uitvoer en wat gemik is op transformasie.33

Vele (praktiese) teoloë het ook al op hulle eie wyse die waarde van deelname aan praktyke verken. Russel Botman34 skryf byvoorbeeld oor Christologie en dissipelskap dat “concretisation must be done in such a way that the philosophical rivalry between the quest for an act of God (divine praxeology) and an act of humanity (human praxeology) – on metaphysical ground – as conclusively and biblically subverted.” Hy betoog vir die intersubjektiewe deelname van Christus en gelowiges in praktyke en sê: “there are goods internal to an activity which are only really learned and formed when practiced and that this is not merely individual action or practice, but communal and communicative.” Deur aan ʼn praktyk soos ʼn erediens deel te neem word dinge geleer wat alleenlik daar, in die liggaamlik-sintuiglike deelname aan die praktyk verkry kan word. Verder is dit in daardie Christelike praktyk waar God teenwoordig is en gelowiges inskakel in God se handeling. Hierdie insigte is ook sinvol deur Andrew Root35 in sy boek Christopraxis verken waar hy ʼn praktiese teologie van die kruis voorstel waarin en waardeur gelowiges ingeskakel word by die teenwoordige en handelende Christus wat hy ’n “ministerial praxis” noem. Dit is die voortgaande bediening van Christus waar gelowiges ingeskakel word in en deur praktyke. Hierdie teologiese verstaan van praktyke, praktyke soos liturgie, help ons om die geloofsvormende potensiaal van liturgie beter te verstaan.

Kulturele (en sosiale) antropologie

Daar is teoretici volgens wie ritueel fundamenteel nie-funksioneel is. Met ander woorde rituele is net, hulle bewerk en beteken niks nie. Ek sluit hier aan by die meerderheid wat nie daardie mening huldig nie, maar op eiesoortige wyses artikuleer wat rituele wél doen sonder om rituele te instrumentaliseer. ’n Sterk argument kan uitgemaak word vir die nie-funksionaliteit van liturgie, dat liturgie nie bewustelik in diens van enige doelwit gestel moet word nie, ook nie geloofsvorming nie. Deur liturgie te laat liturgie wees, soos tot op hede bespreek, is liturgie by uitstek ʼn geloofsvormende praktyk. Ek skaar my dus by die nie-funksionele of nie-instrumentalistiese verstaan van die liturgie, maar belig wel dit wat liturgie in elke geval doen. En om dit beter te verstaan is kennis van simbool en ritueel onontbeerlik. Gegewe die tema van liturgie en geloofsvorming kies ek om hier slegs drie temas baie kortliks te belig, naamlik simbool, ritueel en oorgangsritueel.

’n Simbool is volgens Lukken anders as ’n teken wat net een betekenis kan en mag hê. ’n Simbool is meersinnig, dit praat vir sigself en berus nie op verklaring of uitleg nie, dit bring verlede en toekoms saam in die hede en dit betrek die hele persoon. “Het heeft een grensoverschrijdende brugfunctie. Het verwijst naar een diepere werklijkheid, een verdere horizon, een ruimer landschap.”36 ʼn Verkeerslig is byvoorbeeld ’n teken en die rooi lig beteken net stop. Die water, brood en kerslig van die liturgie is weer as simbole boordensvol betekenismoontlikhede en betrek diegene wat dit beleef in die gelaagde moontlikhede wat dit bevat. Dit verbind erediensgangers met dit wat dit simboliseer en laat hulle ook daardie werklikheid betree. ʼn Verkeerslig laat ’n persoon nie in verwondering nie, maar die opsteek van die Paaskers op Paasmôre onder klokgelui kan gelowiges wel oor daardie brug na ʼn ander werklikheid laat loop.

’n Kern element in rituele is simbole en in rituele kom simbool, simboolhandeling en simbooltaal saam, aldus Lukken.37 Een definisie van rituele lui:

Rituele is dikwels herhaalde, vanselfsprekende, simboliese handelinge, wat altyd interaktief en liggaamlik is, soms vergesel van tekste of formules, gerig op die oordrag van waardes in die individu of die groep, en waarvan die vorm en inhoud altyd kultuur-, konteks-, en tydgebonde is, sodat die betrokkenheid op die werklikheid wat in die ritueel teenwoordig gestel word, altyd ’n dinamiese gegewe bly.38

Rituele is dus liggaamlike praktyke met die hele mens betrek in sy of haar volle sintuiglikheid en lyflikheid. Rituele is as simboliese praktyke ook handelinge wat mense intrek in bepaalde simboolwêrelde. Die simboolwêreld van Christelike rituele kommunikeer beelde soos “koninkryk van God” en betrek die deelnemers aan die Christelike rituele ook in daardie visie.

Baie belangrik is die herhalingsaspek van rituele wat behels dat rituele gewoonlik nie eenmalige praktyke is nie, maar by uitstek simboliese handelinge is wat weer en weer uitgevoer word. In en deur daardie her-haling vind ’n bepaalde vorming plaas. Lukken39 lig verskeie dimensies van rituele uit, byvoorbeeld ’n sosiale dimensie waardeur rituele mense en groepe heg bind en ’n terapeutiese dimensie wat daaroor gaan dat rituele mense help om van hul eie pogings af te sien en die oorstygende werklikheid in hul lewens toelaat. In die lig van die tema van liturgie en geloofsvorming kan die sogenaamde etiese dimensie van rituele uitgesonder word, naamlik dat dit wat in die ritueel gesimboliseer word na ’n totale lewens- en wêreldbeskouing verwys. In soverre die ritueel dus daardie verwysingsraamwerk inskerp en mense aan die ritueel deelneem, vorm dit die karakter van die deelnemer aan die ritueel en kan dit die lewe en optrede van so iemand beïnvloed. Dit is belangrik om in te sien dat liturgie uit simbole en rituele bestaan, dat dit as praktyke mense op ʼn liggaamlike wyse betrek en deur middel van herhaling voortdurend aan ’n sekere lewens- en wêreldbeskouing blootstel en hulle dieper daarin betrek. Oorgangsrituele doen dít op ’n unieke wyse.

Wanneer na die algemene struktuur van ’n oorgangsritueel gekyk
word, dan is teoretici soos Arnold van Gennep40 en Victor Turner41 van mening dat daar dikwels drie fases onderskei kan word. Dit kom basies neer op ’n eerste fase van skeiding; daarna ’n fase van liminaliteit (oftewel die tussenin- of drumpelfase) en laastens ’n fase van herintegrasie of herinkorporasie waardeur die oorgang voltooi word. Alle rituele is nie oorgangsrituele nie, maar sekere Christelike rituele soos die by doop, huwelik en dood, is inderdaad ook oorgangsrituele wat op ’n diep en performatiewe vlak die status en identiteit van sommige deelnemers verander, byvoorbeeld van ongetroud na getroud.42

Aanvullende opmerkings

Tot op hede is liturgie as praktyk aan die hand van bronne verken om beter te verstaan wat reeds in die liturgie gebeur en hoe dit potensieel vormend inwerk op diegene wat daaraan deelneem. Daar is verskeie outeurs wat elk op hul eie wyse hierdie tema sinvol belig het wat aanvullende insigte bring tot dit wat reeds bespreek is. In hierdie laaste deel sonder ek enkele stemme uit en betrek hulle insigte in hierdie bespreking.

Breedweg gesien is dit krities belangrik om te beklemtoon dat liturgie binne die gemeentelike lewe nie in isolasie funksioneer nie. Daar moet sinvolle kongruensie wees tussen wat in die liturgie gebeur en die hele gemeentelike bediening. Matthaei43 benadruk dit dat die geloofsgemeenskap se praktyke die omgewing skep waarbinne geloofsvorming kan plaasvind en daarom is daar die groot belang van “an intentional ecology of faith.” Liturgie moet dus gekonnekteer wees aan die hele bediening sodat praktyke mekaar nie weerspreek nie en kompartementalisering moet voorkom word. Hierdie kongruensie kan ook uitgebrei word na klein aspekte, soos byvoorbeeld die persoon van die liturg en die praktyk van voorgaan in ’n erediens – tussen wie die liturg is en hoe daar voorgegaan word, moet daar ’n sinvolle verband wees.

’n Liturgis soos Van Ommen verken die verhouding tussen liturgie en pastoraat. Liturgie is nie pastoraat nie, en tog doen liturgie dinge wat ook in pastoraat gebeur. Hy skryf:

When we hear confessions, absolve sins, bless, care, love, this all forms people into the image of God. All these help people become who they are – beloved children of God. Through care-ful liturgy nd prayerful pastoral care, the community and its leaders participate in liturgical formation of the people.44

Van Ommen se insigte onderstreep die ekologiese aanpak en die verband tussen liturgie en pastoraat kan uitgebrei word na al die aspekte van die gemeentelike lewe en teologie.

ʼn Belangrike aspek na verwant aan hierdie ekologiese klem en wat meer aandag behoort te geniet, is dat almal saam kom in die liturgie en saam vier in een erediens. So gebeur dit soms dat ʼn sekere teologie en antropologie skuilgaan in die wyse waarop ’n liturgie gevier word. So byvoorbeeld word (raserige) kinders, mense met (verstandelike) gestremdhede, ouer mense, mense met demensie, nie altyd bewustelik ingesluit in die liturgie nie of soms selfs uitgesluit. Eintlik werk sulke “perfekte” eredienste met ’n sekere God- en mensbeeld wat nader beweeg aan geïdealiseerde stereotipes van ons dag en ’n soort perfeksionisme en verbruikerisme as aan Bybelse aanbidding waar die armes, kreupeles, blindes en verlamdes by uitstek diegene is wat aansit by God se tafel in die koninkryk. ’n Liturgie wat moeite doen om almal in te sluit in een ruimte, is eintlik ’n sterk kontra-kulturele profetiese praktyk in ons eie dag wat die vormende impak van die liturgie van die winkelsentrum uitdaag met die liturgie van die koninkryk van God.

Coenie Burger45 het in die negentigerjare in sy boek Gemeentes in transito daarop gewys dat drumpeltye leertye kan wees en dat liturgie en ritueel, spesifiek ook liminaliteit (drumpeltyd) as deel van sekere liturgieë en rituele, van groot belang kan wees. Burger het op die oorgang in Suid-Afrika van apartheid na demokrasie as drumpeltyd gereflekteer. In ons eie dag kan nog drumpelbelewenisse van lidmate hierby gevoeg word. Daar is gemeenskaplike drumpels soos die Covid-19 pandemie wat niemand ontsien het nie, maar ook individuele drumpels wat ’n uniek vormende potensiaal vir individuele gelowige het.46

John Witvliet47 gebruik weer die beeld van ’n taalskool om die vormende potensiaal van liturgie te bespreek. Soos wat sy kinders nie op ’n natuurlike of spontane wyse geleer het om “asseblief”, “dankie” en “jammer” te sê nie, so doen gelowiges dit ook nie van nature nie. Sy kinders het dit deur middel van herhaling oor ’n langer tydperk leer doen. In en deur liturgiese praktyke as dialogiese kommunikasie met God in die erediens word hierdie taal ook aangeleer wat as sodanig ‘n impak op geloofsvorming het. Die inhoud van die kommunikasie van erediensgangers verskil uiteraard onderling, aangesien hulle lewens verskillend is. Dit is in hierdie verband wat die taalskat van die Psalms wat die volle reikwydte van menslike belewenisse omvat, inkom. So leer mense in die liturgie ʼn gedeelde taal aan wat hulle geloof vorm. Witvliet48 voeg by: “ … good liturgy is not merely expressive of what we already experience but transforms us for something greater. Liturgical participation is all about the daily dying and rising with Christ that constantly hones, shapes, and re-converts us to Christ more faithfully.”

Gevolgtrekking

In hierdie artikel is die potensiële verband tussen liturgie en geloofsvorming verken. Die NG Kerk se eredienshandleiding beskryf die erediens soos volg:

Die erediens is die sentrale gebeurtenis in die voortgaande lewe van ʼn Christelike gemeente. In die erediens gaan dit immers oor die ontmoeting tussen God en sy gemeente: God nader tot die gemeente en die gemeente nader tot God. In hierdie ontmoeting neem God die inisiatief. Hy roep sy gemeente om uit die normale gang van die lewe terug te tree; Hy bring hulle saam met die oog daarop om hulle geloof op te bou en te versterk; en Hy stuur hulle weer terug na die gewone gang van die lewe om tot sy eer te lewe.49

Hierdie ontmoetingsgebeure werk op verskillende maniere vormend in op diegene wat daaraan deelneem, soos dit na vore gekom het uit beide die liturgiese, prakties teologiese en kultureel antropologiese bronne wat geraadpleeg is. Die geloofsvorming kan egter op ’n positiewe wyse geskied, maar die aard van die vorming kan ook maklik ontspoor sodat liturgiese deelname ’n geloofsvorming dien wat nie ideaal is nie. Dit is daarom van belang om gereeld oor die verband tussen liturgie en geloofsvorming te besin én om bestaande liturgieë ook krities onder die loep te neem.50

1 C.J. Wepener en I.J. van der Merwe, reds., Ontdekkings in die erediens (Wellington: Lux Verbi.BM, 2009).

2 R.E. Webber, Worship Old & New. A Biblical, Historical, and Practical Introduction. Hersiende weergawe (Grand Rapids: Zondervan Publishing House, 1994).

3 H.O. Old, Worship. Reformed According to Scripture (Louisville, KY: WJK, 2002).

4 Dirkie Smit, “Ontdek die eie aard van die Gereformeerde erediens,” in Ontdekkings in die erediens, reds. C.J. Wepener en I.J. van der Merwe (Wellington: Lux Verbi.BM, 2009), 87–108.

5 N. Wolterstorff, “The Reformed Liturgy,” in Major themes in the Reformed tradition, red. D.K. McKim (Grand Rapids: W.B. Eerdmans, 1992), 311–329.

6 P. Post, Rituelen, Theorie en praktijk in kort bestek (Almere: Uitgeverij Parthenon, 2021).

7 P. De Clerck, “‘Lex orandi lex credendi’: The Original Sense and Historical Avatars of an Equivocal Adage,” Studia Liturgica 24, (1994):178–200.

8 Cas Wepener, Van vas tot fees. ʼn Ritueel-liturgiese verkenning van versoening in Suid-Afrikaanse kultuurkontekste, (DTh verhandeling, Universiteit Stellenbosch, 2004), 33.

9 G. Lukken, Liturgie en zintuiglijkheid : over de betekenis van lichamelijkheid in de liturgie (Hilversum: Gooi & Sticht, 1990).

10 K.J. Williams, “Love your flesh. The power and protest of embodied worship.” Liturgy 35, (2020):3–9.

11 N. Schuman, “Vertrekpunte,” in De weg van de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk, reds. P. Oskamp en N. Schuman. (Zoetermeer: Meinema, 1998), 23–38.

12 Cas Wepener, Aan tafel met Jesus (Wellington: Bybelmedia, 2010).

13 M. Barnard, “Liturgical Formation in the Network Culture,” Studia Liturgica 46, no. 1 (2016): 180–194; C. Wepener en J. Cilliers, “Lockdown liturgy in a network culture. A ritual-liturgical exploration of embodiment and place,” in COVID-19 in Congregations and Communities. An exploration of the influence of the Coronavirus Pandemic on Congregational and Community Life, red. I. Nell (Cape Town: Naledi, 2021), 30–50.

14 F. Clasen, C. Carstens, A. Bartlett en F. Schoeman, reds., Handleiding vir die erediens (Wellington: Bybel-Media, 2010).

15 Vergelyk ook Cas Wepener, Soos ʼn blom na die son draai. ʼn Liturgiese bronboek (Wellington: Bybelmedia, 2011).

16 T.G. Long, Beyond the worship wars. The Alban Institute, (Plymouth: Rowman & Littlefield, 2001).

17 S.H. Matthaei, “Rethinking faith formation,” Religious Education 99, (2004): 57.

18 D.J. Smit, “Lex orandi, lex credendi, lex (con)vivendi? – oriënterende inleiding tot liturgie en etiek,” NGTT 45, no. 3&4 (2004): 887–907.

19 B.A. Müller, “The role of worship and ethics on the road towards reconciliation,” Jaarboek voor liturgie-onderzoek 18, (2002): 27–44.

20 C. Carvalhaes, Praying with every heart. Orienting our lives to the wholeness of the world (Eugene: Cascade Books, 2021), 5.

21 Carvalhaes, Praying with every heart. Orienting our lives to the wholeness of the world. Cf. ook Cas Wepener, “Ek slaan my oë op … vanuit die stal: ʼn Adventkalender.” Kerkbode, 3 Desember, 2021, 10–11.

22 J.K.A. Smith, You are what you love. The spiritual power of habit (Grand Rapids: Brazos, 2016).

Ook: J.K.A. Smith, Desiring the kingdom. Worship, Worldview, and Cultural Formation (Grand Rapids: Baker Academic, 2008).

23 Smith, Desiring the kingdom. Worship, Worldview, and Cultural Formation, 2008.

24 Wepener, C.J. en J.C. Pauw, “Terug na die toekoms – oor die samehang tussen rituele tyd en identiteit,” Scriptura 85, no.1 (2004): 110–122.

25 J. Witvliet, So You’ve Been Asked to … Lead a Worship Service. (CRC Pamphlet, 1999).

26 B.A. Gerrish, Grace & Gratitude. The Eucharistic Theology of John Calvin (Minneapolis: Fortress Press, 1993).

27 Smit, “Ontdek die eie aard van die Gereformeerde erediens,” 87–108.

28 B. Meyer, “Geleefd geloof. Religie is iets wat mensen doen,” Experiment (2015): 92–95.

29 T.W. Jennings. Jr., “On ritual knowledge,“ in Readings in ritual studies, red. R.L. Grimes (Upper Saddle River, NJ: Prentice Hall, 1996), 324–334; sien ook E.B. Anderson, “Liturgical catechesis: Congregational practices as formation,” Religious Education 92, no.3 (1997): 349–362.

30 Jennings Jr., “On ritual knowledge,” 324–334.

31 Gerardus van der Leeuw, Sacred and Profane Beauty: The Holy in Art, vert. David E. Green (Nashville, TN: Abingdon Press, 1963).

32 Jennings Jr., “On ritual knowledge,” 324–334.

33 Sien in hierdie verband ook C.J. Wepener, “‘Bliksem!’ / Damn it!: ritual-liturgical appreciation of a deadly sin,” Verbum et Ecclesia 36, no. 3 (2015): 8 pages. doi: 10.4102/ve.v36i3.1422; B. Weyel, W. Gräb, I. Lartey en C. Wepener, “Introduction,” in Handbook of Practical Theology, reds. B. Weyel, W. Gräb, I. Lartey, en C. Wepener (Berlin: De Gruyter, 2022) 1–9; Ted A. Smith, “Theories of Practice,” in The Wiley-Blackwell Companion to Practical Theology, red. Bonnie J. Miller-McLemore, sagteband uitgawe, eerste publikasie, The Wiley Blackwell companions to religion (Chichester: Wiley-Blackwell, 2014) 244–254.

34 H.R. Botman, “Discipleship and Practical Theology: The Case of South Africa,” International Journal of Practical Theology 4, (2000): 209.

35 A. Root, Christopraxis: A practical theology of the cross (Minneapolis, MN: Fortress, 2014).

36 Lukken, Liturgie en zintuiglijkheid : over de betekenis van lichamelijkheid in de liturgie, 21

37 Lukken, Liturgie en zintuiglijkheid : over de betekenis van lichamelijkheid in de liturgie, 21–29.

38 Wepener, Van vas tot fees. ʼn Ritueel-liturgiese verkenning van versoening in Suid-Afrikaanse kultuurkontekste, 2004, 75.

39 Lukken, Liturgie en zintuiglijkheid : over de betekenis van lichamelijkheid in de liturgie, 58–70; sien ook C.J. Wepener en I.J. van der Merwe, “Ontdek die kenmerke en waarde van simbole en rituele,” in Ontdekkings in die erediens, reds. C.J. Wepener en I.J. van der Merwe (Wellington: Lux Verbi.BM, 2009), 195–214.

40 A. Van Gennep, The Rites of Passage (Chicago: University of Chicago Press, 1960).

41 V.W. Turner, The forest of symbols: aspects of Ndembu ritual (Ithaca, NY: Cornell University Press, 1967), spesifiek die hoofstuk getiteld “Betwixt and between: the liminal period in rites de passage”, 93–111.

42 Sien ook Cas Wepener en Anandie Greyling, reds., Ongekaart. ʼn Bronboek met roetemerkers vir oorgange (Wellington: BybelMedia, 2019).

43 Matthaei, “Rethinking faith formation,” 57.

44 L. Van Ommen, “Pastoral Care and Liturgical Formation: An Exploration of the Relationship Between Liturgy, Ritual, and Pastoral Care,” Societas Liturgica, (2015): 11.

45 C.W. Burger, Gemeentes in transito (Kaapstad: Lux Verbi, 1995).

46 Vgl. Wepener en Greyling, Ongekaart. ʼn Bronboek met roetemerkers vir oorgange.

47 J. Witvliet, The Biblical Psalms and Christian Worship (Grand Rapids: Eerdmans, 2007a). Asook: J. Witvliet, “Liturgy as God’s Language School,” Pastoral Music 31, no.4 (2007b): 19–23.

48 Witvliet, “Liturgy as God’s Language School,”, 23.

49 Clasen et al., Handleiding vir die erediens, 3–4.

50 C.J. Wepener, en B.A. Müller, “‘Liturgiese kitsch?’ – liturgiewetenskaplike verkenning van ’n Gereformeerde ritueel,” NGTT 42, no. 3 & 4 (2001):480–493.