Redaksionele voorwoord
Ons bied graag in hierdie 2022-uitgawe van die Stellenbosch Teologiese Joernaal (STJ) 40 portuur-geëvalueerde akademiese artikels en ses boekresensies aan. Tien van dié artikels (STJ Vol. 8 No. 2 ) is in die afdeling van die “Society of Practical Theology in South Africa” (SPTSA; met Anita Cloete as uitvoerende redakteur) gepubliseer. Hierdie artikels bied ’n grondige bemoeienis met temas in die akademiese dissiplines van pastorale sorg, gemeenskapsontwikkeling, homiletiek, liturgiek en jeugbediening. Die artikels in pastorale sorg fokus op sake soos aktivisme, inheemse heling, gemeenskapsorg, veroudering en afsterwe. Die artikels wat op homiletiek en die liturgie fokus, spreek aktuele sake aan soos grendeltyd-liturgieë, profetiese prediking en hoe die liturgie met morele besluitneming saamhang. Die artikels in jeugbediening en gemeenskapsontwikkeling bied weer insig in huidige uitdagings, asook die rol van organisasies om transformasie deur die bevestiging van menswaardigheid te bring.
Onder die 30 akademiese artikels in STJ Vol. 8 No. 1 is vier artikels te vinde wat deel vorm van ’n spesiale afdeling wat Prof Dirkie Smit – nou die Rimmer and Ruth deVries Professor of Reformed Theology and Public Life by Princeton Teologiese Seminarium – ter geleentheid van sy 70ste verjaarsdag huldig . Dié artikels (deur Rachel Baard, Ernst Conradie, Ella Myer en Hannah Reichel onderskeidelik) is die eerste keer aangebied in Oktober 2021 as deel van ’n aanlyn-seminaar wat op Smit se teologiese nalatenskap gefokus het. Dit is gesamentlik deur Princeton Teologiese Seminarium, die Universiteit van Wes-Kaapland en die Universiteit Stellenbosch georganiseer.
Ingesluit in hierdie STJ-uitgawe is ’n spesiale afdeling wat 4 artikels bevat wat as voordragte gelewer is by ’n konferensie van die Gender Eenheid by die Universiteit Stellenbosch in samewerking met Noordwes-Universiteit en die Universiteit van KwaZulu-Natal. Die tema was “We are family: Theological and ethical reflections on family in South Africa” (en die byeenkoms is deur Manitza Kotzé, Funlola Olojede, Nina Müller-Van Velden en Nadia Marais georganiseer).
Die ander 22 artikels fokus op ’n wye verskeidenheid van teologiese temas en bied ’n blik op die lewenskragtigheid en kreatiwiteit van huidige teologiese akademiese besinning, insluitend hoe dit met die werklikheide van (Suider-)Afrika worstel.
As redaksie wil ons graag drie nuwe gerespekteerde akademici as deel van ons adviesraad verwelkom. Hulle is Prof Musa Dube (Candler, Emory Universiteit), Prof Rachel Baard (Union Presbiteriaanse Seminarium, Richmond) en Prof Hannah Reichel (Princeton Teologiese Seminarium).
Ons wil graag ook hulde bring aan ’n hele aantal Suid-Afrikaanse teologiese reuse wat in 2022 oorlede is, en wie se werk ’n diep impak op die akademie, kerk en samelewing gehad het. Onder hulle tel Jaap Durand, Albert Nolan, Klaus Nürnberger, Hennie Rossouw, en Wentzel van Huyssteen. Hulle werk is dikwels in die NGTT en STJ aan die orde gestel. Ons eer hul merkwaardige lewens en werk. Hul nalatenskap sal sonder twyfel aanhou om ons te vorm en te inspireer.