“Pous van die Kaap”: Koot Vorster en ultra-verkrampte politiek in die 1960’s1

Ruhan Fourie

Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika

ruhan.fourie@gmail.com

Abstract

“Pope of the Cape”: Koot Vorster and ultra-right politics in the 1960s

The Dutch Reformed Church (DRC), with an entrenched relationship with Afrikaner nationalism and apartheid, had to face socio-political changes in Afrikaner society in the 1960s. International pressure on the state, economic prosperity of Afrikaners, cultural exposure to the West, and internal criticism from cultural and academic spaces began to crack the bastion of Afrikanerdom during this decade. While the state had so-called dangers from outside under control at the time, it was the DRC’s focus to strengthen the people from within against unseen dangers such as liberalism and communism. In this context, Dr Koot Vorster emerged from the Cape NG Church as a leading national figure of Afrikaner anticommunism when he became head of
the newly established National Council for the Fight against Communism in 1964.
This article shows how Vorster was in fact a foreman for an ultra-right political
pressure group from the Transvaal. Vorster is therefore considered here as a
churchman and “organisation man”, as termed by N.P. van Wyk Louw, within verkrampte ranks. As the political winds blew against the verkramptes under the leadership of Koot’s brother, Prime Minister John Vorster, Koot also stood more and more on the periphery of popular politics as he tested the boundaries at the right of Afrikaner politics. As an organization man he would then stand on the periphery, but as a church man he did not lose his prestige.

Keywords

Koot Vorster; Andries Treurnicht; Dutch Reformed Church; Afrikaner nationalism; anticommunism; Cape Church; apartheid; National Council for the Fight against Communism; Afrikaner Broederbond

Abstrak

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk), met ’n verskanste verhouding met Afrikanernasionalisme en apartheid, moes sosio-politieke veranderings van die Afrikaner samelewing in die 1960s trotseer. Buitelandse druk op die staat, ekonomiese vooruitgang van Afrikaners, kulturele blootstelling aan die Weste, en interne kritiek uit kulturele- en akademiese ruimtes het in die dekade krake begin maak in die
bastion van Afrikanerdom. Terwyl die staat in die tyd sogenaamde gevare van buite onder beheer gehad het, was dit die NG Kerk se erns om die volk van binne te versterk teen onsigbare gevare soos liberalisme en kommunisme. In hierdie konteks ontwaak dr. Koot Vorster uit die Kaapse NG Kerk as ’n leidende nasionale figuur van Afrikaner antikommunisme toe hy in 1964 as hoof van die nuutgestigte Nasionale Raad vir die Bestryding van Kommunisme geraak het. Hierdie artikel wys hoedat Vorster inderwaarheid ’n voorman was vir ’n ultra-verkrampte politieke drukgroep uit die Transvaal. Vorster word dus hier as ’n kerkman én “organisasie man”, soos verstaan deur van N.P. van Wyk Louw, binne verkrampte geledere geag. Soos die politieke winde teen die verkramptes onder leiding van Koot se broer, Eerste Minister John Vorster, sterker gewaai het, het Koot ook al hoe meer aan die periferie van die volkspolitiek gestaan soos hy die regtergrens van Afrikaner-politiek getoets het. As “organisasie-man” sou hy dan op die periferie beland, maar as kerkman het hy sy aansien nie
getaan nie.

Trefwoorde

Koot Vorster; Andries Treurnicht; NG Kerk; Afrikaner nasionalisme; antikommunisme; Kaapse Kerk; apartheid; Nasionale Raad vir die Bestryding van Kommunisme; Afrikaner Broederbond

Inleiding

In die 1960’s was die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk), met ’n lang verbintenis met Afrikaners, Afrikanernasionalisme, en Afrikanermag vasgevang in onvermydelik sosio-politieke strominge. Teen die 1960’s het hierdie instelling steeds die grootste reikwydte en diepste invloed in die alledaagse lewens van Afrikaners gehad, waarvan sowat 80 persent die banke van plaaslike NG gemeentes Sondag na Sondag vol gesit het.2 Maar Afrikaners was op ’n ander voet as in die verlede. ’n Reeks ingrypings
om stedelike wit werkloosheid gedurende die 1930’s onder die Verenigde Party-regime aan te pak, gevolg deur die oorlogsekonomie wat enige oorblywende armblankes in die arbeidsmag ingetrek het, het die sogenaamde armblanke-probleem teen die middel-1940’s tot groot mate uitgewis. Gedurende die eerste dekade van die NP-bewind het Afrikaner werkers grootliks na beter beroepe gevorder en hoef hulle nie meer direk met swart werkers, wat laer posisies ingeneem het, meeding nie. Dit het beteken dat Afrikaner werkersklas nie meer deur die Afrikaner-bourgeois “gered” hoef te word nie.

Hoë ekonomiese groei gedurende die 1960’s het verdere verbetering in die algemene voorspoed in Afrikanergemeenskappe meegebring. Dit het egter ander ekonomiese verdeeldhede en kulturele verskuiwings binne die volk meegebring. Sterk klasse-differensiasie onder Afrikaners het uit ’n vroeëre sluimering ontwaak en die verdelende rol van sosiale status het ’n groeiende kommer vir sommige NG Kerk-predikante geword. Dr. Kosie Gericke, moderator van die Kaapse NG Kerk in die laat 1960’s, het hieroor kommer uitgespreek toe hy die snelle verstedeliking van die 1920’s en 1930’s die skuld gegee het vir die skep van ’n kloof tussen “welvarende Afrikaners en hul minder gegoede landgenote”. Hy het beklemtoon dat daar “’n aansienlike mate van snobisme” in die Afrikaner-samelewing ontstaan het.3 Die veranderende ekonomiese posisie van Afrikaners, en die opkoms van die middelklas, het vereis dat die NG Kerk wegbeweeg van haar paternalistiese rol teenoor werkersklas-Afrikaners van die verlede.4 Gericke se bekommernis het ook klem gelê op ’n nuwe fokus op sosiale status, materiale akkumulasie, en die verbruikerskultuur wat onder Afrikaners posgevat het. Die groei van ’n stabiele middelklas en ’n entoesiastiese omhelsing van verbruikerswaardes het geleidelik die samestelling en voorgestelde visie van ’n eensgesinde, beskeie “volk” wat bereid was om aansienlike opofferings namens ’n groter ideaal te maak, verander, aldus Albert Grundlingh.5

Daarby was dit ’n dekade waar daar binne die sfeer van volks- en kultuurpolitiek ’n groeiende tradisie van volkskritiek aan die groei was, wat die Afrikaner se verhouding met apartheid gekritiseer en dekonstrueer het. Die Sestigers het op literêre vlak sekularisasie, moderniteit, rasverdraagsaamheid, en seksuele vryheid omhels. Afrikaner-intellektuele soos N.P. van Wyk Louw, Breyten Breytenbach en Johannes Degenaar, as filosoof, het as morele gewete vir die Afrikaner begin optree. Hierin is die politieke verbeelding van die Afrikaanse leserspubliek op subtiele dog diepgaande maniere verskuif, weg van die bestaande geskiedenisbeeld dat Afrikaners as ’n volk vasbeslote was om alle bedreigings vir hul voortbestaan te vernietig.6 Daar was ’n duidelik wig tussen die volkskritici en die politieke magshebbers met laasgenoemde wat ope teenstand, selfs sensuur en politieke onderdrukking gebied het teen andersdenkende Afrikaners.7

Daar word dikwels na die 1960’s in Suid-Afrika as die bloeitydperk van apartheid verwys, toe dié beleid onder leiding van Eerste Minister
H.F. Verwoerd uitgerol is. Sy opvolger B.J. Vorster, beskryf Verwoerd as die leier wat “namens elkeen van ons [Afrikaners] gedink het”.8 Apartheid het geleidelik meer en meer fasette van die Suid-Afrikaanse samelewing bepaal en die Nasionale Party (NP) het by die stemlokale van krag tot krag gegaan. Verwoerd het ook ’n era van sogenaamde “positiewe” weergawes van apartheid onder die vaandel van “afsonderlike ontwikkeling” ingelei, met ’n groter politieke konsolidasie tussen Afrikaners en die Engelssprekende gemeenskap wat daarmee gepaardgaan. Hierdie tweede fase het egter wrywing binne die Afrikaner nasionalistiese establishment meegebring, aangesien dit wegbeweeg het van die tradisie van eksklusiewe Afrikanerpolitiek na ’n breër inklusiewe politiek van wit belange. Krake in Afrikaner-nasionalistiese politiek, veral tussen aartskonserwatiewe en meer hervormingsgesinde faksies, het in die laaste helfte van die dekade ’n kenmerk van die Afrikaner-samelewing geword, alombekend as die verligte-verkrampte skeiding. Dit sou Afrikaner-eenheid stadigaan erodeer, vanaf 1966 tot die einde van Afrikanermag.9

Tog het die Afrikaner-bastion steeds sterk na buite vertoon. Binnelandse verset teen apartheid is ook effektief onderdruk ná die gebeure by Sharpeville op 21 Maart 1960 toe 69 swart betogers deur die polisie doodgeskiet is. Verwoerd se regering het met mag teen die Pan Africanist Congress (PAC) en die African National Congress (ANC) opgetree deur hulle te verban. Die staat het daarvoor gesorg dat eksterne bedreigings, werklik of verbeeld, weggehou word. “To most white South Africans the ANC now appeared finally broken”, het die Britse joernalis Anthony Sampson oor dié tyd geskryf. Vir Afrikaners, in hul alledaagse lewe binne die apartheid orde, “Mandela was out of sight and out of mind.”10 Weens die reeds genoemde krake binne die bastion, was daar in hierdie tyd die opkoms van wat N.P. van Wyk Louw genoem het die “organisasie-manne” wat gepoog het om die Afrikaanse kultuurlewe te kanaliseer in die rigting wat die politieke en kulturele leiers wou hê. In sy kritiek teen hierdie
manne sê Van Wyk Louw in 1957 ’n volk “is nie ’n sekte, of kliek of assosiasie met ’n vaste program nie. Van die grootste vyande van ons volk is diegene wat ’n geestelike eenrigtingverkeer verlang en hul eie eng visie wil afdwing vir hierdie tyd en ewigheid.”11

“Organisasie-manne” was nie net te bespeur binne kultuurruimtes nie, maar ook, soos hierdie artikel argumenteer, in die kerk. Hierdie artikel plaas die NG Kerk binne die bogenoemde konteks van stadig-veranderende sosio-politieke strominge binne die Afrikanerdom in die 1960’s, met die fokus op ’n sentrale kerkleiers van die Kaapse Kerk, dr. Koot Vorster. Deurgaans word daar ook gewys op sy besonderse verhouding met mede-kerkman van die Kaap, dr. Andries Treurnicht, wat meer onthou word vir sy latere rol as politikus. Gedurende die 1960’s was albei dié mans gesiene kerkleiers wat, soos hierdie artikel sal uitwys, nasionale invloed gehad het. Hierdie artikel ag Vorster wel nie net as bloot ’n kerkleier nie, maar ’n “organisasie-man”, wat homself binne ’n bepaalde politieke stroming van Afrikanerdom geplaas het, en hiervolgens sy aksies gerig het.

Die Cottesloe-beraad van 1960 word as historiese vertrekpunt gebruik
waar Vorster, asook Treurnicht as invloedryke figure binne die Kaapse
asook die breër NG Kerk na vore tree. Stoere teenstand teen enige
versteuring van die apartheid-orde of Afrikanernasionalisme plaas vir Vorster nie net binne die verkramptes nie, maar soos hierdie artikel sal argumenteer, in die ultra-verkrampte vleuel van Afrikanerdom in die 1960’s. Dit is dus veral in die antikommunistiese front waar Vorster floreer. Antikommunisme word hier nie beskou as ’n blote afkeur van die ideologie van kommunisme nie.

Markku Ruotsila tref ’n onderskeid tussen antikommunisme, wat die
basiese opposisie teen die onderdrukkende praktyke van staatskommu-nisme is, en antikommunisme, ’n meer genuanseerde begrip van ’n breë ideologie wat alle progressiewe bewegings van hervorming teëstaan.12 Hierdie breër definisie neem dan ook antikommuniste se misbruik van die term “kommunisme”, en enige ideologiese posisie wat daarmee geasso-
sieer word, in ag. In die geval van Afrikaner-antikommunisme in die twintigste eeu was ’n rits “ismes”, soos humanisme en liberalisme met kommunisme verbind. Inderwaarheid was dit enige iets wat nie as nasionalisties genoeg beskou was nie. Die artikel wys dat eers wanneer Vorster ingespan word deur bondgenote in die noorde, hy as gesant van die ultra-verkramptes binne ’n breër politieke stryd begin om ’n nasionale profiel te bou. Maar dis ook juis in die milieu, en as gevolg van ’n veranderende dinamika binne Afrikanerpolitiek, ironies genoeg onder Koot se jonger broer John Vorster, waar hy in taamlike onguns met die NG Kerk, en breër Afrikanerdom beland.

Cottesloe en daarna

In die nadraai van die Sharpeville-slagting op 21 Maart 1960 was daar ’n hernude fokus en streng veroordeling deur die internasionale gemeenskap van die rassesituasie in Suid-Afrika. Daar was ook uit ekumeniese kringe
’n oproep om in te tree teen veral die Afrikaanse kerke se sterk onder-steuning van apartheid. Afgevaardigdes van die Wêreldraad van Kerke (WRK), die grootste internasionale ekumeniese liggaam, het in Desember 1960 met al agt van sy Suid-Afrikaanse lidkerke in Johannesburg vergader om die rasse situasie in die land te bespreek. Die byeenkoms sou bekend raak as die Cottesloe-beraad.13 ’n Christelike begrip van sosiale kwessies met spesifieke verwysing na ras, en die rol van die kerk met betrekking tot geregtigheid en sendingwerk, was sentraal tot die Cottesloe-agenda.14 Vergaderings, werkgroepe en die akkommodasie was alles veelrassig, hoewel die meeste afgevaardigdes wit was. Aan die einde van ’n weeklange beraadslaging het die beraad ’n verklaring vrygestel. Die verklaring het bevestig dat mense van alle rassegroepe gelyke burgers van die land is. Dit het verder segregasie in die kerk verwerp, die staat se verbod op rasgemengde huwelike veroordeel, die trekarbeidstelsel en die beleid van werkreservering gekritiseer en die reg van alle mense om grond te besit, bevestig.15

Die Cottesloe-verklaring het woeste reaksie binne Afrikanergeledere ontlok. Nie net was die inhoud ’n streng aanklag teen die staat nie, maar wat dieper gesny het, was die feit dat die Transvaalse sowel as die Kaapse NG Kerke lidkerke van die WRK was en alle afgevaardigdes van die kerke het die verklaring onderteken. En daarby was die meerderheid van die verklaring se inhoud gebaseer op die verslag wat die Kaapse Kerk aan die vergadering voorgelê het. Albei die Transvaalse en Kaapse Kerke se voorleggings aan die vergadering was deur die begaafde predikante van die NG Kerk opgestel, maar hulle het dit uitdruklik gestel dat die verslae die standpunte van sy bydraers was en herbevestig dat die sinodes die finale sê oor die kerk se standpunt oor rassebeleid het.16

Met enkele uitsonderings kon die NG Kerk afgevaardigdes beskryf
word as gematigde pragmatiste, wat volgens geskiedkundige Tracy Kuperus die implementering van apartheid ondersteun het, maar dit beskou het
as ’n praktiese, dog vervangbare beleid. Daarenteen was daar ’n sterk faksie van ideologiese puriste in die NG Kerk wat oortuig was dat rasse-differensiasie ’n goddelike ontwerp was, en was daarom voorstanders van totale apartheid as die wil van God.17 Die pragmatiste was klaarblyklik in die minderheid van die breër NG Kerk geledere. Die reaksie uit die Afrikaner establishment het wel getoon dat die politieke wind saam met die puriste gewaai het.

Die hoogtepunt van die teenreaksie op Cottesloe het van Verwoerd self gekom, in sy Oujaarsaandboodskap aan die land. Die Eerste Minister het gewaarsku dat teenstanders van afsonderlike ontwikkeling die indruk skep dat “ons kerke”, wat ’n mens kan aanneem ’n verwysing na die NG Kerk is, hul amptelike oordeel teen die beleid gegee het. Dit, het hy verseker, was eenvoudig nie waar nie. Die ondersteuning vir die Cottesloe-verklaring het gekom van individue wat in hul persoonlike hoedanigheid opgetree het en “die kerke het inderdaad nog glad nie gepraat nie”.18 Volgens Verwoerd sal die kerk se mening eers amptelik wees nadat al die stemme gehoor is, en nadat hul onderskeie sinodes plaasgevind het. Verwoerd is glo deur die vooraanstaande Kaapse NG Kerk-predikant JS Gericke ingelig, toe ook visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, wat die Eerste Minister na die Cottesloe-beraad besoek het om hom mee te deel dat die NG Kerk nog nie die kwessie bespreek het nie, en dat die sinodes die laaste sê sal hê.19 Dit was ’n duidelike vertoning van die nabyheid tussen eendersdenkende apartheidsideoloë in die topvlak van die NG Kerk en die regering. Gericke was ’n prominente figuur in die ideologiese puristiese kamp van die kerk, wat sterk by die staat se rassebeleid aangesluit het. ’n Openbare verklaring van hierdie aard deur die eerste minister het die ideologiese puriste se posisie versterk, terwyl Verwoerd meer steun vir sy beleidsimplementering vanuit die NG Kerk sou kry as die puriste hul invloed in die kerk vergroot.

Ná Verwoerd se toespraak is ’n proses aan die gang gesit om die NG Kerk van enige andersdenkende stemme en sogenaamde onpatriotiese invloede te suiwer. Die NG Kerk se standpunt oor apartheid en steun vir die staat is in die openbaar bespreek en in rubrieke, hoofartikels en briewe in koerante bespreek, maar dit was agter geslote deure waar die stryd afgespeel het.

Verwoerd het die AB egter as instrumenteel gesien om sy doelwit van Afrikaner-eenheid te bereik wat die organisasie opnuut weer aangewakker het.20 In die nasleep van Cottesloe het die AB, waarvan die meeste lede NG Kerk-predikante was, ’n buitengewone omsendbrief aan sy 400 afdelings uitgestuur wat Verwoerd se Nuwejaarsboodskap herbevestig het. Tydens ’n vergadering in Februarie 1961 het die AB se Uitvoerende Raad (UR) hul teleurstelling uitgespreek in Broederbonders – die meerderheid van die NG Kerk-afgevaardigdes na Cottesloe was in werklikheid AB-lede – wat teen die beginsels van die Bond by Cottesloe ingegaan het. Met hierdie lede
moes geredeneer word in ’n poging om hulle van die “werklike feite” te oortuig.21 Hierdie poging tot “beredenering” het daarna in die sinodevergaderings wat daardie jaar gevolg het, in ’n afrekening van die NG Kerk se pragmatici ontaard. ’n Reeks sinodesittings is deur die loop van 1961 gehou, waar die druk van die AB sterk bespeur kon word. Die Transvaal en Kaapse NG Kerk het albei hul lidmaatskap van die WRK onttrek, en die meeste Cottesloe-manne is uit leierskapposisies gestem.22

Cottesloe het die hoogtepunt van die pragmatiese gematigdes se invloed binne die NG Kerk verteenwoordig. Dit het ’n verdelende terugveg ontketen waarin die ideologiese puriste in die NG Kerk, bygestaan deur die AB en ondersteun deur Verwoerd, die oorhand gekry het. Oud-Broederbonder, wat hom later van die AB distansieer het, prof. Nico Smith, het dit later as die grootste triomf van die Broederbond in kerksake geag.23 ’n Mens kan redeneer dat die AB sy standpunt op die NG Kerk afgedwing het deur sy mobilisering teen die Cottesloe-manne. Dit is tot ’n mate waar, maar die feit dat teenkanting teen hierdie proses so swak was, met slegs ’n paar eensame afkeurende stemme, is ’n sterk aanduiding dat die AB en NG Kerk se standpunte fundamenteel ná Cottesloe ooreenstem. Kerkhistorikus, Johann Kinghorn, wys daarop dat die NG Kerk met sy verwerping van Cottesloe die weg gekies het om apartheidsteologie te dogmatiseer, in plaas van ’n etiese beoordeling daarvan. Hy beklemtoon verder dat hierdie lank reeds die posisie van die NG Kerk was, maar dat Cottesloe ’n toets van die vastigheid daarvan was.24

Die nadraai van Cottesloe het dit duidelik gemaak wat die gekose pad van die NG Kerk was. Die pragmatiese minderheidsfaksie, wie se standpunte in die Cottesloe-verklaring verteenwoordig was, se monde is effektief gesnoer. Die puristiese faksie het daarna die NG Kerk se onomwonde steun aan apartheid en vir die staat gegee. Vir die volgende ses-en-twintig jaar het die NG Kerk hom weerhou van enige kritiek op die staat se implementering van apartheid.

Dit het beteken dat die NG Kerk sy posisie as vormende krag in die Afrikaner-rassediskoers laat vaar het. In plaas daarvan was die kerk nou ’n ondersteuner van die staat, wat morele legitimiteit aan sy rasse-onderdrukking verskaf het, en die volk inskiklik tot die status quo gehou het. Dit het nog makliker vir die staat geword om met die NG Kerk te skakel toe die kerk in 1962 van ’n gefragmenteerde federale struktuur na ’n verenigde nasionale kerk geherstruktureer is. Provinsiale sinodes, met streeksinodes, is onder die gesentraliseerde leierskap van ’n Algemene Sinode gebring, met sommige voortgesette streeksvariasies.25 Daar was dus nou ’n era van totale institusionele onderdanigheid aan die staat en implementering van apartheid. Die kerkgeskiedkundige, prof. Flip van der Watt, wys daarop dat die NG Kerk deur die terugslag ná Cottesloe verlam is en deur die hele 1960’s byna geen onafhanklike posisie op die sosio-politieke front gehad het nie.26

Koot en kie ontwaak uit die Kaap

Gemoedere na Cottesloe was beduidend anders in die Kaap as in die Transvaal. Die Afrikaanse koerante in die noorde, byvoorbeeld, het Cottesloe summier as “liberalisties” veroordeel en dit as ’n aanval op Verwoerd se regering onder die dekmantel van godsdiens beskou.27 Daarenteen was Die Burger, onder die redakteurskap van die meer verligte maar uiters invloedryke Piet Cillié, se hoofartikels en rubrieke meer simpatiek teenoor die NG Kerk-afvaardigings wat by Cottesloe was.28 Daarby was die Broederbond oorwegend ’n noordelike organisasie en het hulself vermoedelik sterker in die Transvaalse sinode laat geld.

In sy boek oor Cottesloe vermeld Abraham Lückhoff die Transvaalse sinodesitting in 1961 “het ’n politieke atmosfeer gehad wat sondebokke wou vernietig. Daar was twee argumente: 1) Moenie die regering in die verleentheid stel nie; en 2) staan by ons tradisionele beleid.”29 ’n Populistiese houding het onder Transvaalse puriste ontstaan waarvolgens politieke argumente, veral oor ras, in teologiese regverdiging en in emosioneel gelaaide taal gelewer was. Die Cottesloe-afgevaardigdes is aan ’n stortvloed van beskuldigings onderwerp, onder meer dat hulle die toekoms van Afrikaners op die spel geplaas het, wat hulle in die oë van die puristiese afgevaardigdes tot volksverraaiers gemaak het.30 Die Kaapse sinode daarenteen “het in veel kalmer waters by die bespreking van die Cottesloe-besluite en die lidmaatskap van die WRK gevaar as wat geval by die … Transvaalse NG Sinode was.” Daar was ook geen Cottesloe-ongevalle toe die sinode nuwe leiers verkies het nie, maar die leierskap was duidelik verdeeld tussen pragmatiste en puriste.31

Tog, uit die Kaap het ’n leidende figuur van die dogmatiese, of puristiese faksie van die NG Kerk ontwaak. Koot Vorster, dominee van Tafelberg-gemeente en aktuarius van die Kaapse Kerk sedert 1953, was deels verantwoordelik vir die verwerping van Cottesloe en om ondersteuners daarvan binne die Kaapse Kerk te berispe. Jare later sou Vorster dit as die hoogtepunt van sy vier dekade lange loopbaan in die kerk beskou.32 Volgens hom het die Cottesloe-verklaring die “goed” van apartheid as beleid geïgnoreer.33 Hy het geglo dat Cottesloe ’n aanval op die kerk was, wat op sy beurt ’n aanval op die volk was, en dit beskryf as die “skerpste aanslag van die liberalistiese element om Afrikanerpolitiek te vernietig”.34

Vorentoe sou een van Vorster se hoofdoelwitte wees om liberalisme, wat sou lei na kommunisme, in die kerk en volk te bekamp. In hierdie stryd het Vorster ’n sterk kameraad en protégé in Andries Treurnicht, wat van Maart 1960 as die redakteur van die Kerkbode aangestel was, gehad. In die nadraai van die Cottesloe-beraad het Vorster vir Treurnicht gebel en gevra: “Hoe kan ons help om teen hierdie aanslag teen die kerk te verdedig?”35 Vir Treurnicht, was die verdediging van die dogmatiese stand van die kerk sentraal tot sy redakteurskap van die Kerkbode wat hy beskou het as “’n swaard in die stryd teen liberalisme.”36 Hy het al sy energie in ’n veldtog van verguising om die NG Kerk-afvaardiging te ondermyn gewerp, en die Cottesloe-verklaring as ’n poging tot ’n staatsgreep teen die regering veroordeel.37 Die posisie by die Kerkbode het Treurnicht se profiel aansienlik verhoog en hy is van 1965 verkies as assessor van die Kaapse Kerk.38

Vorster, asook Treurnicht, was in ’n Kuyperiaanse, of neo-Calvinistiese verstaan van die wêreld geanker. Abraham Kuyper was die invloedryke Nederlandse neo-Calvinistiese denker en teoloog wat die politiek betree het as die leier van die antiliberale Anti-Revolusionêre Party en wat van 1902 tot 1905 as Nederland se eerste minister gedien het. Sy filosofie van sosiale sfere, onafhanklik van die staat, en om slegs aan God onderworpe te wees, het ’n diepgaande invloed op bogenoemde twee mans gehad.39 Of hierdie mans, of Afrikaner neo-Calviniste oor die algemeen, Kuyper korrek of
billik geïnterpreteer het, is nie hier ter sprake nie, maar wel die gevolge hiervan.40 Kuyper se omvattende Christelike lewens- en wêreldbeskouing, waar God heerskappy het oor alle sfere van die samelewing, is gesien as
die antwoord in die stryd teen alle ongewenste “ismes” in die samelewing – spesifiek humanisme, liberalisme, kommunisme, en modernisme.41 So was ’n binêre verbeelding tussen Christenskap en alle beweerde vyande daarvan geskep. Kuyper se filosofie is verder as kulturele en rasse differensiasie toegepas, wat dan voorgestel het dat apartheid, wat albei die mans konsekwent verdedig het, nie op wit oppergesag geskoei is nie, maar op kulturele verskille. Om dus rasse apart te hou, is die enigste manier vir verskillende rasse om vreedsaam saam te leef. Christenskap, Afrikaner-identiteit en apartheid was in Vorster en Treurnicht se oë onafskeidbaar.
Die 1960’s was dus ’n era waarin Vorster en Treurnicht dit wat nie nasionalisties genoeg was nie, veroordeel het as enige “afwykende” “isme”, spesifiek liberalisme en sy gevaarliker en groter broer kommunisme.

Hertzog-manne

’n Dinamika was aan’t ontwikkel in die noorde van die land waar ultra-verkramptes die grense van Afrikaner nasionalisme na regs wou trek. Om nasionalistiese eenheid te bewaar het Verwoerd toegelaat dat regse randfigure van die verkrampte aksie, gelei deur LP Jaap Marais en kabinetslid dr. Albert Hertzog, ’n politieke narratief van naderende kommunistiese bedreiging ontwikkel.42

Hertzog was lank reeds ’n aktiewe mobiliseerder agter die skerms met ’n sterk voetspoor in die noordelike vakbondwese van die 1940’s waar Afrikaner werkers vir die nasionalistiese saak gewen is. Hieruit het hy ’n klein netwerk van eendersdenkende nasionaliste gevestig op wie hy
kon staatmaak om ’n ultra-verkrampte agenda binne ’n verskeidenheid Afrikaner organisasies te dryf, insluitend die Broederbond en sy frontorganisasie die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Hierdie “Hertzog-groep”, soos joernalis Hennie Serfontein hulle bestempel het, het gepoog om hierdie organisasies te beïnvloed deur met eendersdenkende lede saam te werk of te verseker dat Hertzog-manne, soos ultra organisasie-manne, tot invloedryke posisies verkies word. Hulle fokus was beperk tot hul betrokkenheid by kultuurpolitiek in ’n poging om ’n politieke atmosfeer te skep wat Afrikaner-partypolitiek in ’n meer fundamentalistiese rigting kon rig43. Die Hertzog-groep se invloed was merkbaar, dog minimaal, en binne die sfeer van die hoofstroom Afrikaner nasionalisme van die 1950’s en 1960’s het die groep hom aan die regse grens van Afrikaner politiek bevind.

Die piek van Hertzog-groep se invloed was op die antikommunistiese front gedurende die 1960’s. Antikommunisme is reeds van die 1930’s ’n saamtrekpunt vir verskeie groeperings binne die Afrikaner nasionalistiese beweging.44 Die Hertzog-manne het hierdie konsensus as vrugbare
grond beskou waaraan hulle ’n ultra-verkrampte agenda kon aanhaak. Gedurende die 1950’s het Hertzog-manne strategies te werk gegaan om Antikom, gestig in 1946, ’n interkerklike organisasie van die Afrikaanse susterkerke wat ten doel gehad het om die volk geestelik teen kommu-
nistiese subversie te versterk, te infiltreer en as front te gebruik. 45 Die hoogtepunt van Antikom se aktiwiteite wat deur die Hertzog-groep-gedomineer was, was die samekoms van die Volkskongres oor Kommunisme in 1964.46 Onder die tema “Christenskap teen Kommu-nisme” was hierdie die grootste byeenkoms van die Afrikanerdom se geloofs- en kultuurorganisasies wat hulle bemoei het met vrese van kommunistiese aanvalle op die volk. Aan die einde van drie dae se toesprake deur invloedryke kerk- en kultuurmanne, is daar besluit om ’n nasionale antikommunistiese organisasie te stig. Die volkskongres was ’n katalisator om antikommunistiese sentimente in ’n breër basis te laat herleef en om ’n meer ambisieuse organisasie te stig, wat herinner aan die massa ekonomiese beweging van die 1940’s, wat antikommunistiese tentakels in elke sektore van die Afrikaner samelewing sou hê. ’n Mandaat is by die kongres aan ’n uitgelese groep gegee om ’n organisasie te skep wat kommunistiese aanvalle sou afweer en vir die bevordering van die Christelik-Nasionalisme as bolwerk teen kommunisme sou veg. Hierdie groep is, nie verbasend nie, deur Hertzog-manne oorheers.47 So word die Nasionale Raad vir die Bestryding van Kommunisme in Suid-Afrika (NRBK) gestig. Dit is tot stand gebring in die gees van groter samewerking oor die kultuurpolitieke spektrum, wat Antikom vir die Afrikaanse kerke was, uitgebrei na die georganiseerde Afrikanerdom in die breë.

Vir NRBK om ’n legitieme plek as nasionale organisasie te hê was dit
belangrik vir die Hertzog-groep, asook die Broederbond wat verant-woordelik was vir die befondsing van die liggaam, om ’n gesoute anti-kommunis met ’n morele standpunt binne die Afrikaner-samelewing as leier te hê. Volgens hierdie ultra-verkramptes van die Transvaal was daar niemand meer gepas as Koot Vorster nie. Teen daardie tyd was hy amper ’n dekade lank die aktuaris van die Kaapse kerk en was hy ’n sentrale figuur in die vestiging van die Algemene Sinode in 1962 waar hy ook as aktuarius verkies is. Hy het dus ’n nasionale profiel gehad, en was ’n uitgesproke antikommunis.

Die Broederbond, die Hertzog-groep en Vorster se persepsie van ’n kommunistiese komplot wat alle fronte in Suid-Afrika aanval, is deur die NRBK se struktuur weerspieël met komitees wat op alle sfere van die samelewing moes funksioneer. Vorster het teen daardie tyd die de facto woordvoerder van die puristiese in die NG Kerk geword. Sy idees was in lyn met die Hertzog-groep. Hy was nie lid van die Broederbond nie, maar is genooi om by die AB aan te sluit en die pos as hoof van die NRBK te aanvaar – wat hy in 1964 gedoen het.48

Teen die (hoof)stroom

Koot Vorster het nou van die kerkregkenner van die Kaap tot ’n nasionale “organisasie-man” ontwikkel en die gesig van die antikommunistiese front geword, wat agter die skerms deur die Hertzog-groep gedryf is. Sy nuwe posisie het hom op die kruispunt geplaas tussen Afrikaner antikommunisme, regse politiek en die NG Kerk se morele aansien in die samelewing. Hierdie sfere was in hul opposisie teen kommunisme verenig, maar hul verskille in antikommunistiese klem het dit moeilik gemaak vir Vorster om ’n balans te vind. In reële terme moes Vorster die NG Kerk se oproep om die volk moreel en geestelik te versterk teen kommunistiese subversie balanseer met die regse opportuniste se pogings om politieke invloed deur antikommunisme te verkry.

Kort na sy aanstelling as die voorsitter van NRBK het dit duidelik geraak dat Vorster homself by die regse opportuniste skaar. Dit het na vore gekom ná twee anonieme artikels in Antikom se mondstuk, Antikom Nuusbrief, sterk anti-Semitiese stellings gemaak het.49 Ná sterk veroordeling uit Joodse geledere het Vorster dadelik ingetree om hierdie artikel te verdedig. In ’n onderhoud met die SA Jewish Times het Vorster die aansprake wat in die Antikom-artikels gemaak is, weer sterk beklemtoon. Hy het verder beweer dat ’n buitensporige aantal Jode by kommunistiese aktiwiteite betrokke was. Vorster het daarna die Joodse gemeenskap gekritiseer as die enigste groep in die Suid-Afrikaanse samelewing wat nie by die breër stryd teen kommunisme aangesluit het nie.50 Vorster het die openbare ondersteuning van Antikom gehad. Volgens die SA Jewish Times was Vorster en die Afrikaner antikommunistiese beweging diktatoriaal en buite orde.51

Vorster en Antikom het nie net in die oë van die Joodse gemeenskap van Suid-Afrika ’n grens oorskry nie. Hulle is in eie Afrikaner kring, insluitende die NG Kerk, getugtig vir hul anti-Semitiese sienings. Anti-Semitisme was lank reeds aanwesig op die rand van Afrikaner-politiek en het sy hoogtepunt bereik tydens die Tweede Wêreldoorlog met die groeiende prominensie van die Ossewabrandwag (OB).

Teen die 1960’s was hierdie sentiment egter tot die uiterste rande van Afrikaner-politiek geskuif as gevolg van groter Afrikaner ekonomiese welvaart en ’n politieke atmosfeer van wit eenheid.52 Die meerderheid van die Hertzog-manne was oud OB-lede, asook Vorster. Dit was dus nie totaal verbasend dat daar ’n stroom van anti-Semitisme in hulle antikommu-nisme geloop het nie. Vir Die Burger was die Antikom Nuusbrief-artikels onteenseglik anti-Semities, wat op ’n “soort pseudo-kontemplasie” gebaseer was. Anti-Semitisme, het die Kaapse koerant aangevoer, was net so ’n “ewe vreemde en slinkse ideologie” in Suid-Afrika as kommunisme. Vorster en Antikom se anti-Semitisme het Die Burger se vroeëre kommer teenoor Vorster-hulle se antikommunisme bevestig: “dat openbare antikommunistiese aksie, net soos die Kommunisme self, aantreklik is vir sekere minder gebalanseerde mensetipes wat daarin emosionele ontlading vind, maar in die proses die saak groot skade aandoen deur punte aan die vyand present te gee.”53 Die stroom van antikommunisme wat deur Vorster en Antikom gepropageer is, was dus binne sommige Afrikaner-kringe erken as iets wat aan die regse rand van die Afrikanerdom pas. Daarby was daar kritiek op Vorster vanuit die invloedryke, dog verligte dagblad wat soggens deur talle Afrikaners in die Kaap gelees is. Terwyl Vorster in pas was met die noordelike verkramptes, het hy dus regs begin skuif van die politieke sienings in Kaap.

Die siening dat Vorster en Antikom se antisemitisme die grense van die antikommiunistiese konsensus getoets het, is ook in die kerk weerspieël. Die NG Kerk het hom amptelik van die Antikom Nuusbrief se artikels gedistansieer en Vorster se verdediging daarvan. Dr. A.J. van der Merwe, moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, het met die versekering gereageer dat “jy in geen van die provinsies ’n sinode van die NG Kerk vind wat hom sal ondersteun of leen tot enige beweging wat ten doel het om die Jode te vervolg nie. Hulle keur dit ten sterkste af.”54 Dr. Frans O’Brien Geldenhuys, ’n leier in die Transvaalse sinode, het die artikels in die openbaar aan die kaak gestel en gesê dat dit nie “die houding van die NG Kerk weerspieël nie”.55 Die Kaapse Sinode, waarvan Vorster aktuarius was, was versigtiger in sy kritiek en het Antikom versoek om ’n interne ondersoek oor die saak te loods om so ’n oordeelsfout in die toekoms te voorkom wat in werklikheid bloot ’n tik oor die vingers was. Vorster het, na die oorwinning van die post-Cottesloe dogmatiese faksie, as ’n sterk en ietwat dominerende figuur in die Kaapse Sinode gestaan en kritiek teen hom was skynbaar moeilik. Daar was ook tasbare spanning wat “baie keer voelbaar aanwesig in die Hugenote-kerksentrum was” tussen Vorster en die jarelange skriba van die Kaapse sinode en Cottesloe-man,
W.A. Landman.56 Tog was dit nou duidelik uit die NG Kerk se reaksie dat die regse antikommunistiese koalisie van Antikom en Vorster, as leier van die NRBK, hul hand oorspeel het. Hierdie antikommunistiese klomp het hulle op die periferie binne die breër NG Kerk bevind.

Broedertwis

Op 6 September 1966, is Hendrik Verwoerd op die vloer van die Volksraad deur ’n parlementêre boodskapper vermoor met geen onmiddellike ooglopende motief nie. Verwoerd, wat ’n onwrikbare geloof in die apartheidsbeleid gehad het en geen ruimte vir kritici gelaat het nie, is deur die Minister van Justisie en jonger broer van Koot Vorster, John Vorster, opgevolg. Met sy geskiedenis as Minister van Justisie van die imple-mentering van drakoniese veiligheidsmaatreëls om swart opstandigheid hok te slaan, was Vorster die gekose kandidaat van verkramptes binne die NP.57 Hy is deur verkrampte politici “geprys vir sy aanvalle op kommuniste en liberale as ondermynende elemente wat die sosiale orde ondermyn”.58

Koot Vorster was oortuig daarvan dat sy broer ’n goddelike roeping gehad het om Suid-Afrika van alle vorme van kommunisme te bevry. Volgens Koot Vorster het drie pilare die broers verenig: hul liefde vir God, hul liefde vir hul volk, en hul diepe haat teenoor kommunisme.59 John was egter veel meer pragmaties as sy voorganger en het apartheid benader as bloot ’n metode om die doel van Afrikaner-selfbehoud te bereik. Terwyl Verwoerd vrye teuels aan die verkramptes van sy party gegee het, het Vorster die verligtes die vryheid gebied om te agiteer vir geleidelike hervormings.60 Die Herzog-groep se politieke ambisies het toenemend ’n kwessie geword vir die meer hervormingsgesinde John Vorster. Hy was versigtig vir die regse nasionaliste wat sy gesag ondermyn en sy pogings tot geringe hervorming belemmer. Hertzog en die verkramptes was in werklikheid sterk gekant teen John Vorster se toenemende steun vir samewerking tussen Engelse en Afrikaners, groter outonomie vir die tuislande, sy beleid om verhoudings met ander Afrika-leiers te smee, en die toegewings wat hy gemaak het om die sport-isolasie te verbreek.61 Hulle opposisie het ’n hindernis geword vir die Eerste Minister wat besef het dat Afrikaner-oorlewing afhang van wit eenheid, en die verkrampte strewe na Afrikaner-meerderwaardigheid het hierdie deurslaggewende eenheid bedreig.

John Vorster het aansienlike steun in die AB gevind, en hy het dit gebruik om die regse randfigure af te weer. In 1968 het hy formeel versoek dat die Afrikaner-Orde (AO) – die Hertzog-groep se geheime vereniging binne die AB – ontbind word. Dit is onmiddellik ondersteun en deur leier van die Broederbond, Piet Meyer, geïmplementeer.62 Meyer het teen hierdie tyd besef dat die regse Hertzog-groep besig was met ’n futiele stryd om politieke oorlewing. Namate John Vorster se steun en mag toegeneem het, het Meyer besluit om homself by die Eerste Minister te skaar om sodoende sy eie posisie te verstewig. Hertzog het daarna byna al die invloed wat hy in die AB gehad het, verloor. Vorster het Hertzog en sy groep die laaste slag toegedien deur hom in 1969 van sy kabinetspos te onthef.63

Met die Broederbond se verskuiwende houding jeens ultra-regses en Hertzog se afdanking het die gety amptelik teen die Hertzog-groep gedraai. Dit het ’n direkte uitwerking op die NRBK gehad, wat tot dusver die Hertzog-groep se mees ambisieuse projek was. Die AB-bestuur, nou in lyn met die John Vorster-faksie van die NP, het ’n groeiende ongemak getoon met die slegte publisiteit wat die NRBK en sy leier ontvang het. Daar was ook ’n groeiende gevoel dat die NRBK se werk deur die interkerklike Antikom gedoen kon word, mits dit die nodige ondersteuning kry. In Junie 1969 het ’n AB-afvaardiging die NRBK-sekretaris, en ook leier, GH Beetge, ’n Hertzog-man, genader om hom mee te deel dat hulle die sluiting van die raad oorweeg.64 Die proses sou diskreet wees, en die administratiewe personeel sou na ander organisasies oorgeplaas word.65

Toe hierdie nuus Koot Vorster bereik, het hy dadelik antwoorde geëis. Die AB-bestuur het aan hom verduidelik dat die NRBK ’n duur projek word, en dat hulle nie ’n toekoms sien waar die raad finansieel onafhanklik kan word nie. Hulle het ook beklemtoon dat die meer lewensvatbare opsie is om Antikom te ondersteun wat ’n bewese rekord het om geld op voetsoolvlak
in te samel. Vorster se argument dat Antikom te beperk was in sy reik-wydte, dat dit ’n onmoontlike taak was om finansieel onafhanklik te word, en dat dit nou belangriker as ooit was om die euwels van kommunisme te beveg, was nie genoeg om die AB-leiers te oortuig om die NRBK aan die gang te hou nie. 66 Dit alles was vir Vorster “’n diepe teleurstelling en skok”. Sy ontnugtering was duidelik in ’n brief aan die AB op 22 November 1969:

En wat des te meer krenk is die feit dat u sonder raadpleging met my of die Raad die ontbinding van die Raad aankondig. En dit in ’n streng formele brief sonder ’n woord van dank vir die werk wat gedoen is! Ek het dit nie verdien nie, en my Raad ook nie! 67

Vorster het teësinnig die einde van die NRBK aanvaar. Die hoof Afrikaner-antikommunistiese organisasie was nou weer Antikom, wat nou die informele steun van die herbelynde AB gehad het. As die AB werklik die NRBK se modus operandi as die pad vorentoe vir die antikommunistiese saak beskou het, sou daar waarskynlik meer geld in sy bedrywighede belê word. Die sluiting van die organisasie se antikommunistiese liggaam, wat die beliggaming van Suid-Afrika se antikommunistiese kruisvaarders was, het gewys op die toenemende irrelevansie van die stroom van antikommunisme wat deur die ultra-regses voorgestaan word,

Die NRBK se sluiting was ook ’n direkte slag vir die Hertzog-groep. Hulle was nie net aan die rand van Afrikanerpolitiek nie, maar was ook nou uit
die formele Afrikaner politieke laer verwerp, wat volks- sowel as party-politiek betref. Hertzog moes ’n ander voertuig vir sy politieke agenda vind en het besluit om van die NP weg te breek, en die Herstigte Nasionale Party (HNP) in Oktober 1969 te stig en om in die 1970-verkiesing mee te ding. Die stigters was almal van die Hertzog-groep. Joernalis Hennie Serfontein skryf dat die HNP so regs was dat sy beleid nie “terug na Verwoerd of selfs Strijdom was nie – dit is terug na vóór 1920”.68 Sy handelsmerk van stoere konserwatisme het irrelevant gelyk vir die kontemporêre Afrikaner samelewing van die laat 1960’s. Die HNP kon nie eers een setel in die 1970-verkiesing wen nie, en het nooit meer as 15 persent van Afrikaner kiesers in die daaropvolgende verkiesings getrek nie. Giliomee het opgemerk dat die HNP “’n etniese splinter verteenwoordig, nie ’n skeuring nie”.69

Dit het bevestig dat die Hertzog-groep se ideale en agenda op die rand van Afrikaner politiek sowel formeel as kultureel was. Sy opportunisme het tot ’n einde gekom. Die AB het voortgegaan om HNP-leiers, insluitend Hertzog, van sy organisasie te suiwer en sy steun vir die hervormings-rigting van die NP-regering herbevestig.70 Die ultra-verkramptes kon in die 1960’s nie daarin slaag om politieke mag te verkry nie. Tog het hulle ’n kritiese rol gespeel om ’n antikommunistiese agenda te bepaal. Hul
radikale retoriek sou ’n blywende uitwerking hê op die persepsies oor kommunisme binne die wit Suid-Afrikaanse samelewing. Koot Vorster het ’n sentrale rol hierin as “organisasie-man” gespeel.

In die loop van die 1970’s en vroeë 1980’s het die politieke winde al hoe sterker in die gesig van “Koot en kie” gewaai. Sy ou kameraad Andries Treurnicht is in 1967 as redakteur van Hoofstad in Pretoria aangestel, wat hy gebruik het as propagandablad vir verkrampte idees. Verkramptes het hierdie aanstellings met ’n groot gejuig begroet en hy het gou ’n geestelike leier vir die groep geraak. Daar was ’n sterk verwagting dat die kerkman, nes D.F. Malan en Abraham Kuyper, ná sy redakteurskap die politieke arena sou betree en Eerste Minister sal word om sodoende die redder van Afrikaners te word.71 Dit was dus, nes met Vorster die geval, eers toe Treurnicht deur die noordelike verkramptes raakgesien is en hy ’n sterk nasionale profiel gekry het. Albei manne was op die punt om in 1969 hulle gewig agter Hertzog se HNP te gooi, maar ná Koot Vorster ’n oop en eerlike gesprek met sy broer gehad het, het hy openlik die NP ondersteun.72

Treurnicht het weer besef dat Afrikaner kiesers nie so gekant was teen John Vorster se hervormings nie, en het ook gevoel die HNP bied nie ’n werklike alternatiewe beleidsproposisie as die NP nie.73 In 1971 word Treurnicht verkies as ’n LP vir NP waar hy uit die staanspoor sy geïnterpreteerde Kuyperiaanse beginsels van aparte sosiale sfere en die eksklusiwiteit van etniese nasionalisme beklemtoon.74 ’n Jaar later word hy as voorsitter van die Broederbond verkies, maar volgens ’n amptelike geskiedenis van die AB deur E.L.P. Stals was sy voorsitterskap te kort om enige werklike impak op die werksaamhede en visie van die AB te gemaak het. Stals voer ook aan dat Treurnicht verblind was deur sy eie politieke ambisie wat sy sienings as voorsitter beperk het.75 Nes met Hertzog die geval was, het John Vorster vir Treurnicht gekoöpteer om vrede tussen verligtes en verkramptes in sy party te hou deur hom as Adjunkminister van Bantoe-administrasie en -onderwys in 1976 aan te stel. In die pos het hy direk bygedra tot die Soweto opstande van 16 Junie 1976.76 In 1979 word Treurnicht deur die verkramptes beloon toe hy die senior verligte kabinetsminister, Fanie Botha, in ’n verkiesing vir leier van die Transvaalse NP verslaan het. Maar P.W. Botha, wat in 1978 by John Vorster die leisels oorgeneem het, het min ooghare vir Treurnicht gehad. ’n Uitval ná Treurnicht se sterk openbare verwerping van Botha se voorstel vir ’n Driekamerparlement was genoeg vir die Eerste Minister om Treurnicht in 1982 te skors.

Teen dié tyd het Koot Vorster, wat in 1979 uit die bediening afgetree het, sy eie ontnugtering met die NP se hervormings bekendgemaak. Dit was alombekend dat hy sterk van sy broer se sportbeleid verskil het, en volgens hom het Botha te ver wegbeweeg van Verwoerd se vertikale apartheid.77 In sy laaste openbare toespraak op 27 Februarie 1981, het Vorster homself
finaal van die NP gedistansieer. Hierna is hy deur verskeie mede-ultraverkramptes, insluitend die leier van die Afrikaner Weerstands-beweging (AWB) Eugene Terre’Blanche, genader om die leier van ’n regse politieke beweging te wees.78 Volgens Terre’Blanche, wie se organisasie bekend was vir hulle verregse, militaristiese stroom van Afrikanernasionalisme en wit oppergesag, was Vorster dus ’n gesiene leier en segsman.

Maar Vorster self was van mening dat Treurnicht die ultra-verkramptes moes herenig en lei. Vorster het reeds in 1981 stilweg met die beplanning gehelp vir ’n nuwe politieke party vir wanneer daar ’n skeuring kom. Skaars ’n maand ná Vorster se dood is Treurnicht geskors en is die Konserwatiewe Party (KP) gestig.79 Daar was aanvanklik noemenswaardige steun vir die KP. Maar die krake en skuiwe binne die Afrikaner samelewing wat teen die 1960’s begin het, het teen dié tyd ’n beduidende politieke neerslag gevind. Treurnicht se ultra-verkramptheid het Afrikaners al hoe meer vervreem, veral toe die KP openlike steun vir die AWB gebied het. Volgens die geskiedkundige, Alex Mouton, het Treurnicht se ultra-verkramptheid die NP uiteindelik in ’n posisie geplaas om ’n groot meerderheid Afrikaners saam met hulle op ’n pad van hervorming te neem.80

Gevolgtrekking

Weens die NG Kerk se verhouding met die apartheid regime word daar dikwels na die kerk verwys as die NP in gebed. Terwyl hierdie verhouding nie betwis kan word nie, is die aard daarvan nie liniêr nie. Nasionalistiese bewegings is inderdaad nie homogeen nie. Die persoon van Koot Vorster, die kerkman van die Kaap wat die Afrikaner antikommunis van die ultra-verkramptes geraak het, wys ons hierop. Vir die Hertzog-groep uit die noorde, waar verkrampte politiek die oorhand gehad het, was Vorster, weens sy sterk aansien as kerkman in die Kaap, ’n doelmatige voorman om aan hulle projek morele legitimiteit te gee. Na hierdie koöptering van Vorster het hy al hoe meer die regse grense van die Afrikaner politieke spektrum tot so mate getoets dat dit gelei het tot sy eie irrelevansie in die volkspolitieke sfere, en uiteindelike politieke uittog van die ultra-verkramptes. In hierdie geval kan die verhouding van Koot en sy jonger broer John Vorster nie geag word as ’n simbool van die nabye verhouding tussen kerk en staat in die 1960’s nie. Dis juis John se pragmatisme rondom apartheid wat die ultra-verkramptes, en Koot, meer reaksionêr gemaak het. Maar binne die Kaapse Kerk, en die breër NG Kerk, was Koot steeds ’n gesiene kerkregkenner wat gemaklik sy leierskapsampte behou het in die tyd waarin hy as “organisasie-man” die grense van sy kerk en Afrikaner politiek getoets het. Dit is dus belangrik, soos hierdie artikel illustreer, om kerkmanne ook te kan ag as N.P. van Wyk Louw se idee van “organisasie-manne” van Afrikanernasionalisme om die fyn breuklyne van die projek te bespeur, en om die verhouding tussen kerk, staat, en ander organisasies en strominge vas te stel. John Vorster, uit pure irritasie vir sy ouer broer se verkrampte stuiptrekkings, het dus tereg na Koot Vorster verwys as die “Pous van die Kaap”.81

Bibliography

Christendom teen Kommunisme: Referate Gelewer by die Volkskongres oor Kommunisme. Pretoria: Volkskongres oor Kommunisme, 1964.

De Gruchy, J.W. “Grappling with a Colonial Heritage: The English-speaking Churches under Imperialism and Apartheid”, in R. Elphick & R. Davenport (eds.), Christianity in South Africa: A Political, Social & Cultural History (Cape Town: David Philip, 1997), 155–172.

Fourie, R. Christian Nationalism and Anticommunism in Twentieth-Century South Africa. Routledge: London, 2024.

Giliomee, H. “Broedertwis: Intra-Afrikaner Conflicts in the Transition from Apartheid.” African Affairs 91, no. 364 (1992): 339-364.

Giliomee, H. Die Laaste Afrikanerleiers: ’n Opperste toets van mag (Cape Town: Tafelberg, 2012.

Giliomee, H. The Afrikaners: Biography of a People. Cape Town: Tafelberg, 2012.

Grundlingh, A. “Are We Afrikaners Getting too Rich?” Cornucopia and Change in Afrikanerdom in the 1960s’, Journal of Historical Sociology 212, no. 3 (June/ September 2008): 143-165.

Kinghorn, J. Die NG Kerk en Apartheid. Johannesburg: Macmillan, 1986.

Kleynhans, E.P.J. Die Kerkregtelike Ontwikkeling van die Nederduitse Geroformeerde Kerk in Suid-Afrika, 1795–1962. Published PhD thesis, Stellenbosch University, 1973.

Kuperus, T. State, Civil Society and Apartheid in South Africa: An Examination of Dutch Reformed Church-State Relations. London: MacMillan Press, 1999.

Langner, D.J. Teen Die Hele Wêreld Vry: J.D. Vorster as ’n Neo-Calvinis in die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1935–1980. PhD thesis, University of the Free State, 2004.

Laplan, I. Area Handbook for the Republic of South Africa. USA: U.S. Government Printing Office, 1971.

Lombard, R.T.J. Die Nederduitse Gereformeerde Kerke en Rassepolitiek, met spesiale verwysing na die jare 1948–1961. Silverton: NG Kerkboekhandel, 1981.

Louw, L. (ed.), Dawie 1946–1964: ’n Bloemlesing vir die geskrifte van Die Burger se politieke kommentaar. Cape Town: Tafelberg, 1965.

Lubbe, J. “Half-known”: A perspective on a contentious phase in the reception of Abraham Kuyper in South Africa, 1960–1990”, in M. Plaatjies-Van Huffel & R. Vosloo (eds.), Reformed Churches in South Africa and the Struggle for Justice: Remembering 1960–1990. Stellenbosch: Sun Press, 2013, 173–185.

Lückhoff, A.H. Cottesloe. Kaapstad: Tafelberg, 1978.

Moodie, T.D. The Rise of Afrikanerdom: Power, Apartheid, and Afrikaner Civil Religion. Berkley: University of California Press, 1975.

Mouton, F.A. “’Dr No’: A.P. Treurnicht and the Ultra-Conservative Quest to Maintain Afrikaner Supremacy, 1982–1993”, South African Historical Journal 65, no. 4 (2013): 577-595.

Olivier, A. Bode op die Spoor van die Woord: 150 jaar met Die Kerkbode (Lux Verbi: Kaapstad.

Pelzer, A.N. Verwoerd aan die Woord. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1963.

Ruotsila, M. British and American Anticommunism before the Cold War. London: Frank Cass, 2001.

Sampson, A. Black and Gold: Tycoons, revolutionaries and apartheid. London: Hodder & Stoughton, 1987.

Serfontein, J.H.P. Die Verkrampte Aanslag. Human & Rousseau: Cape Town, 1970.

Shain, M. “Antisemitism and the Far Right in South Africa, 1930–1994” in M. Baumgarten, P. Kenez, B. Thompson, Varieties of Antisemitism: History, Ideology, Discourse. University of Delaware Press: Newark, 2009, 277–291.

Smith, N. Die Afrikaner Broederbond: Belewinge van die binnekant. Lapa: Pretoria, 2009.

Stals, E.L.P. Die Broederbond: Die geskiedenis van die Afrikaner Broederbond 1918–1994. Johannesburg: Die Afrikanerbond, 2021.

van der Watt, P.B. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905–1975. Pretoria: NG Kerkboekhandel, 1988.

Vosloo, R. “The Dutch Reformed Church and the Poor White Problem in the Wake of the First Carnegie Report (1932): Some Church Historical and Theological Observations’, Studia Historiae Ecclesiasticae 37, no. 2 (September 2011): 67–85.

Welsh, D. The Rise and Fall of Apartheid. Cape Town: Jonathan Ball, 2009.

Wilkins, I. & Strydom, H. The Super-Afrikaners, inside the Afrikaner Broederbond. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers, 2012.

Other Sources

‘Aangename Kennis, Mnr. Haim Golfmann’, Antikom Nuusbrief, August 1964, 5.

“Wie het die Kommunisme in Rusland gevestig?”, Antikom Nuusbrief, August 1964, 7–8.

‘Dr. Vorster “Warns the Jewish Community”, South African Jewish Times, 6 November 1964, 1.

“Antikom-berigte nie N.G. Kerk se Houding”, Dagbreek, 8 November 1964, 6.

“Dr. Vorster’s Threat”, South African Jewish Times, 6 November 1964, 12.

“Dr. Vorster’s Threat”, South African Jewish Times, 6 November 1964, 12.

“Onnodige Twisgesprek”, Die Burger, 6 November 1964.

Die Erfenisstigting, Afrikaner-Broederbond Versameling (ABV), AB 1/1/130/1, “Verslag van ’n Samespreking oor die Voortbestaan van die Nasionale Raad teen Kommunisme 9 Junie 1969.”

ABV, AB 1/1/130/1, “Verslag oor onderhoud met U.R. komitee op 17 September 1969 in Johannesburg.”

ABV, AB 1/1/130/1, G.H. Beetge – Unknown, 18 Julie 1969.

ABV, AB 1/1/130/1, J.D. Vorster – G.H. Beetge, 22 November 1969.

Die Transvaler, 29 December 1960.

Die Vaderland, 28 December 1960.


1 John Vorster het geïrriteerd na sy ouer broer Koot Vorster verwys as die “Pous van die Kaap” weens Koot se verkrampte stuiptrekkings. D.J. Langner, Teen Die Hele Wêreld Vry: J.D. Vorster as ’n Neo-Calvinis in die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1935–1980 (PhD thesis, University of the Free State, 2004), 184.

2 Statistiek verwerk uit R.T.J. Lombard, Die Nederduitse Gereformeerde Kerke en Rassepolitiek, met spesiale verwysing na die jare 1948–1961 (Silverton: NG Kerkboekhandel, 1981), 282; I. Laplan, Area Handbook for the Republic of South Africa (USA: U.S. Government Printing Office, 1971), 98.

3 A. Grundlingh, “Are We Afrikaners Getting too Rich?” Cornucopia and Change in Afrikanerdom in the 1960s’, Journal of Historical Sociology 212, no. 3 (June/ September 2008): 149.

4 R. Vosloo, “The Dutch Reformed Church and the Poor White Problem in the Wake of the First Carnegie Report (1932): Some Church Historical and Theological Observations’, Studia Historiae Ecclesiasticae 37, no. 2 (September 2011): 67–85.

5 Grundlingh, “Are We Afrikaners Getting too Rich?”

6 H. Giliomee, The Afrikaners: Biography of a People (Cape Town: Tafelberg, 2012), 554–556.

7 Giliomee, The Afrikaners, 556.

8 Giliomee, The Afrikaners, 530.

9 D. Welsh, The Rise and Fall of Apartheid (Cape Town: Jonathan Ball, 2009), 42.

10 A. Sampson, Black and Gold: Tycoons, revolutionaries and apartheid (London: Hodder & Stoughton, 1987), 183.

11 Giliomee, The Afrikaners, 554.

12 M. Ruotsila, British and American Anticommunism before the Cold War (London: Frank Cass, 2001).

13 Vir ’n volledige bespreking oor die aanloop na en gebeur van die Cottesloeberaad, sien A.H. Lückhoff, Cottesloe (Kaapstad: Tafelberg, 1978).

14 Lückhoff, Cottesloe, 32.

15 J.W. de Gruchy, “Grappling with a Colonial Heritage: The English-speaking Churches under Imperialism and Apartheid”, in R. Elphick & R. Davenport (eds.), Christianity in South Africa: A Political, Social & Cultural History (Cape Town: David Philip, 1997), 162.

16 Lückhoff, Cottesloe, 59.

17 T. Kuperus, State, Civil Society and Apartheid in South Africa: An Examination of Dutch Reformed Church-State Relations, (London: MacMillan Press, 1999), 83–85; Kinghorn, Die NG Kerk en Apartheid, 105.

18 A.N. Pelzer, Verwoerd aan die Woord, (Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1963), 404.

19 N. Smith, Die Afrikaner Broederbond: Belewinge van die binnekant (Lapa: Pretoria, 2009), 124.

20 Giliomee, The Afrikaners, 525.

21 Giliomee, The Afrikaners, 528.

22 Lückhoff, Cottesloe, 138; 145.

23 Smith, Die Afrikaner Broederbond, 187.

24 J. Kinghorn, Die NG Kerk en Apartheid (Johannesburg: Macmillan, 1986), 121.

25 E.P.J. Kleynhans, Die Kerkregtelike Ontwikkeling van die Nederduitse Geroformeerde Kerk in Suid-Afrika, 1795–1962 (Published PhD thesis, Stellenbosch University, 1973), 322–337.

26 P.B. van der Watt, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905–1975 (Pretoria: NG Kerkboekhandel, 1988), 114.

27 Lückhoff, Cottesloe, 105. Sien die hoofartikels van Die Transvaler, 29 December 1960; Die Vaderland, 28 December 1960.

28 L. Louw (ed.), Dawie 1946–1964: ’n Bloemlesing vir die geskrifte van Die Burger se politieke kommentaar, (Cape Town: Tafelberg, 1965), 202–205. Cillié het nie hierdie waarneming gemaak uit lojaliteit aan die NG Kerk nie. In teendeel, hy was nie besonder toegewyd aan die NG Kerk, of enige kerk vir die saak nie – hy was die enigste lid van die AB wat uitdruklik nie deel was van enige Afrikaanse protestantse kerk nie. E.L.P Stals, Die Broederbond: Die geskiedenis van die Afrikaner Broederbond 1918–1994 (Johannesburg: Die Afrikanerbond, 2021). 273.

29 Lückhoff, Cottesloe, 144.

30 Lückhoff, Cottesloe, 140.

31 Lückhoff, Cottesloe, 145.

32 Lückhoff, Cottesloe, 130, 148–149; Langner, “Teen Die Hele Wêreld Vry”, 121.

33 Van der Watt, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 108.

34 Langner, “Teen Die Hele Wêreld Vry”, 114.

35 Langner, “Teen Die Hele Wêreld Vry”, 117.

36 F.A. Mouton, “Dr No”: A.P. Treurnicht and the Ultra-Conservative Quest to Maintain Afrikaner Supremacy, 1982–1993, South African Historical Journal 65, no. 4 (2013), 580.

37 Mouton, “A.P. Treurnicht and the Ultra-Conservative Quest”, 580.

38 A. Olivier, Bode op die Spoor van die Woord: 150 jaar met Die Kerkbode (Lux Verbi: Kaapstad), 148.

39 Mouton, “A.P. Treurnicht and the Ultra-Conservative Quest”, 579; Langner, “Teen die Hele Wêreld Vry”, 49.

40 Sien, J. Lubbe, “Half-known”: A perspective on a contentious phase in the reception of Abraham Kuyper in South Africa, 1960–1990, in M. Plaatjies-Van Huffel & R. Vosloo (eds.), Reformed Churches in South Africa and the Struggle for Justice: Remembering 1960–1990 (Stellenbosch: Sun Press, 2013).

41 Kinghorn, NG Kerk en Apartheid, 60.

42 Giliomee, The Afrikaners, 547–548.

43 Vir ’n oorsig van die Hertzog-groep, sien J.H.P. Serfontein, Die Verkrampte Aanslag (Human & Rousseau: Cape Town, 1970).

44 T.D. Moodie, The Rise of Afrikanerdom: Power, Apartheid, and Afrikaner Civil Religion (Berkley: University of California Press, 1975), 251.

45 Sien R. Fourie, Christian Nationalism and Anticommunism in Twentieth-Century South Africa (Routledge: London, 2024)

46 Christendom teen Kommunisme: Referate Gelewer by die Volkskongres oor Kommunisme (Pretoria: Volkskongres oor Kommunisme, 1964).

47 Christendom teen Kommunisme, 271–272.

48 Stals, Die Broederbond, 272.

49 ‘Aangename Kennis, Mnr. Haim Golfmann’, Antikom Nuusbrief, August 1964, 5; “Wie het die Kommunisme in Rusland gevestig?”, Antikom Nuusbrief, August 1964, 7–8.

50 ‘Dr. Vorster “Warns the Jewish Community”, South African Jewish Times, 6 November 1964, 1.

51 “Dr. Vorster’s Threat”, South African Jewish Times, 6 November 1964, 12.

52 M. Shain, “Antisemitism and the Far Right in South Africa, 1930–1994” in M. Baumgarten, P. Kenez, B. Thompson, Varieties of Antisemitism: History, Ideology, Discourse (University of Delaware Press: Newark, 2009), 284.

53 “Onnodige Twisgesprek”, Die Burger, 6 November 1964.

54 “Dr. Vorster’s Threat”, South African Jewish Times, 6 November 1964, 12.

55 “Antikom-berigte nie N.G. Kerk se Houding”, Dagbreek, 8 November 1964, 6.

56 Olivier, Bode op die Spoor van die Woord, 156

57 H. Giliomee, Die Laaste Afrikanerleiers: ’n Opperste toets van mag (Cape Town: Tafelberg, 2012), 93.

58 Giliomee, The Afrikaners, 550.

59 Langner, “Teen Die Hele Wêreld Vry”, 182.

60 Giliomee, Die Laaste Afrikanerleiers, 93.

61 I. Wilkins & H. Strydom, The Super-Afrikaners, inside the Afrikaner Broederbond (Johannesburg: Jonathan Ball Publishers, 2012), 182.

62 Serfontein, Die Verkrampte Aanslag, 149

63 Wilkins & Strydom, The Super-Afrikaners, 187.

64 Die Erfenisstigting, Afrikaner-Broederbond Versameling (ABV), AB 1/1/130/1, “Verslag van ’n Samespreking oor die Voortbestaan van die Nasionale Raad teen Kommunisme 9 Junie 1969.”

65 ABV, AB 1/1/130/1, G.H. Beetge – Unknown, 18 Julie 1969.

66 ABV, AB 1/1/130/1, “Verslag oor onderhoud met U.R. komitee op 17 September 1969 in Johannesburg.”

67 ABV, AB 1/1/130/1, J.D. Vorster – G.H. Beetge, 22 November 1969.

68 Serfontein, Die Verkrampte Aanslag, 218.

69 H. Giliomee, “Broedertwis: Intra-Afrikaner Conflicts in the Transition from Apartheid.” African Affairs 91, no. 364 (1992), 348.

70 Wilkins & Strydom, The Super-Afrikaners, 189.

71 Mouton, “A.P. Treurnicht and the Ultra-Conservative Quest”, 581.

72 Langner, “Teen die Hele Wêreld Vry”, 170.

73 Mouton, “A.P. Treurnicht and the Ultra-Conservative Quest”, 581

74 Mouton, “A.P. Treurnicht and the Ultra-Conservative Quest”, 582

75 Stals, Die Broederbond, 248.

76 Mouton, “A.P. Treurnicht and the Ultra-Conservative Quest”, 583

77 Langner, “Teen die Hele Wêreld Vry”, 177.

78 Langner, “Teen die Hele Wêreld Vry”, 177–178n

79 Langner, “Teen die Hele Wêreld Vry”, 178

80 Mouton, “A.P. Treurnicht and the Ultra-Conservative Quest”.

81 Langner, “Teen Die Hele Wêreld Vry”, 184.