Ontstaan en groei van ’n seminarium aan die Fakulteit Teologie Stellenbosch en ander ontwikkelinge in die teologiese opleiding van die Ned Geref Kerk in die Sinode van Wes-Kaapland.
’n Kritiese refleksie oor die deurbrake, kompleksiteite en uitdagings van teologiese opleiding
frederick@hugenote.ac.za
Abstract
The article focuses on the developments of theological training in die Western Cape Synod of the Dutch Reformed Church (DRC) in the last decade. In this era a Seminary was founded to facilitate ministerial formation for the DRC; Uniting Reformed Church and the Evangelical Lutheran Church of South Africa (ELCSA). The article unpacks the historical, demographic, and especially pedagogical complexities of theological education that aims to build missional leadership capacities. The theology and missional ecclesiology, rhetorical pedagogy and capacity theories are some of the building blocks that the synod utilise to build a new era for theological education.
Keywords
missionale teologie en ekklesiologie; kurrikilum-ontwikkeling; teologiese opleiding; kompleksiteitsteorie
Anekdote: Die storie waar dit begin het
Sedert 2000 was ek verantwoordelik vir gemeentebegeleiding in die Weskaap Sinode. Na ongeveer tien jaar het ’n groep van ons ’n sistemiese analise gedoen om ondersoek in te stel na die faktore wat die mees langdurige invloed op gemeentes uitoefen. Ons het ’n aantal veranderlikes geïdentifiseer en ’n sisteem-analitiese metode gebruik om te bepaal watter van die faktore die grootste invloed uitoefen (Senge, 1990). Tot ons groot verbasing het teologiese opleiding asof vanuit die niet na vore gekom as dié faktor wat die grootste invloed op die lewe van gemeentes uitoefen.
Die Diensgroep Gemeentebegeleiding het met die kuratorium in gesprek getree om vanuit gemeentebegeleiding te help nadink oor wat nodig is in die opleiding van leraars om missionale transformasie te ondersteun. Die Dagbestuur van die Kuratorium het die Diensgroep vriendelik en uitnodigend ontvang en dit was ook die geval by die Algemene Kuratorium. Daar was ’n openheid en gewilligheid om saam te dink en het die voorstelle van ons kant af oor die moontlikheid van die ontwikkeling van ’n “seminarium” verwelkom waar studente deur die kerk in vormende geloofspraktyke begelei kan word.1 Dieselfde het ook vir die VGK en later ook die ELCSA gegeld.
Prof Jaco Hamman, ’n alumni van die Fakulteit Teologie van Stellenbosch wat in daardie stadium by Western Seminary in New Holland, Michigan, klas gegee het, was op besoek aan Stellenbosch en het goedgunstiglik ’n kurrikulum in geloofsvorming vir studente in teologiese opleiding soos aangebied deur Western Seminary met ons gedeel. Dit sou die kern uitmaak van die eerste konseptuele voorstelle aan die kuratoria van die NGK Weskaap en VGK Kaapland.
Die NGK Kuratorium het die voorstelle aan die VGK kuratorium deurgegee, en ook hulle was gretig om saam te werk met die ontwikkeling van ’n seminarium van die VGK en NGK aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Stellenbosch.2
Hierdie artikel vorm deel van die Stellenbosch Teologiese Joernaal (STJ) se spesiale uitgawe oor die viering van die tweehonderd jarige bestaan van die NG Sinode van Wes-Kaapland. Teologiese opleiding is vir ’n belangrike deel van hierdie tweehonderd jaar van die Sinode se werksaamhede. (Teologie, 2000) Hierdie artikel fokus op ’n resente ontwikkeling in teologiese opleiding met die totstandkoming en groei van die Seminarium van die VGK, NGK & ELKSA aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch. Ek was self betrokke by die aanvanklike motivering vir die ontstaan van die seminarium, die eerste ontwerp van die program asook die bestuur van die seminarium vir die eerste aantal jare. My poging tot ’n kritiese refleksie is dus nie objektief nie en moet gelees word as ’n refleksie van ’n “deelnemende praktisyn”.
Die refleksie sal in die vertel van die verhaal teologiese aspekte (amps-teologie, roepingsteologie en ekklesiologie), pedagogiese oorwegings, kerklike demografiese tendense, samelewings kompleksiteite en historiese oorwegings as lense gebruik. Die refleksie is dus nie ’n inhoudelike verslag en beoordeling van die program van die Seminarium in die eerste plek nie. Sake soos ampsteologie, ekklesiologie en roepingsteologie sal die kern van die refleksie vorm met ’n integrasiepunt op die pedagogie van die program van die Seminarium.
Teologiese opleiding in die NGK in die algemeen maar ook in die Sinode Wes-Kaapland kan in die volgende era gekarteer word volgens die verslag van die Algemene Kuratorium by die Algemene Sinode 2023 (Kuratorium, 2023:16-19). Aangesien hierdie artikel bedoel is om ’n bydrae te lewer tot die historiese ontwikkeling van teologiese opleiding in die Wes-Kaapland, is die fases soos in die verslag ontwikkel, verwerk ten opsigte van wat in die Wes-Kaapland gebeur het.3
’n Eerste waarneming is dat die kerk se eienaarskap en beheer oor teologiese opleiding oor tyd gevarieer het. Aanvanklik is in fase 1 opleiding oorsee gedoen, daarna volg twee fases, 2 en 3, waarin die kerk volledig in beheer van opleiding was. Fases 4 en 5 is byna ’n tyd van uitkontraktering, fakulteite doen teologiese opleiding namens die kerk terwyl fase 6 ’n tydperk van sterker vennootskapvorming met die fakulteite is waar die kerk beheer neem van kerklike opleiding naas die akademiese opleiding.
Ongeveer die laaste vyftig jaar van die vorige eeu was die NGK in die bevoorregte posisie om by drie fakulteite teologiese opleiding aan te bied waar die NGK in beheer was. Aanvanklik was die opleiding 7 jaar lank, maar 40 jaar gelede was daar ʼn grondige herbesinning en is die sogenaamde geïntegreerde kursus vir die opleiding van predikante goedgekeur en met die drie fakulteite ooreen is. Dit is gedoen in ʼn tyd toe die drie fakulteite in beheer van die NG Kerk was en die kerk aan die fakulteite kon voorskryf hoe en wat gedoseer moet word.
Sedert 2000 het die fakulteite een na die ander verander van NG Fakulteite na Ekumeniese Fakulteite met verminderde inspraak van die NGK ten opsigte van aanstellings en kurrikulumontwikkeling. Die NGK het nou by elkeen van die fakulteite ʼn vennootskaplike verhouding met die Fakulteite (Van der Walt, 2023).
Sedert 2012 en later het elkeen van die kuratoria by die Fakulteite die sogenaamde kerkeie-opleiding uitgebou. Drie van die kuratoria het seminariums ontwikkel. Naas die akademiese programme aan die Fakulteite, moet studente nou ook die programme van die kerkeie (later word dit Kerklike Opleiding) opleiding suksesvol voltooi, om in aanmerking te kom vir legitimasie.
Die totstandkoming van die Seminarium op Stellenbosch en later ook in Bloemfontein en Windhoek, moet verstaan word vanuit ’n groeiende konsensus wat daar sedert 2000 in die NGK ontwikkel het, naamlik ’n Missionale Ekklesiologie. By die Algemene Sinode van 2013 het daar ’n verslag gedien, “Raamwerk-dokument vir Missionale Ekklesiologie” waaraan ’n verskeidendheid kommissies saamgewerk het en uiteindelik deur prof Nelus Niemandt finaal geredigeer is. Die dokument is eenparig deur die Sinode aanvaar en word wyd gesien as ’n waterskeiding in die NGK se denke oor die kerk en die roeping van die kerk. Vanuit hierdie konsensus sou daar nuut gedink word oor byna elke aspek van die kerk, insluitende ampsbediening en teologiese opleiding. Dit is opvallend dat daar in die periode hierna onder leiding van die kuratorium en ander taakspanne van die Wes-Kaapland en Algemene Sinode ’n aantal publikasies met missionaliteit as tema sou verskyn. Om ’n paar te noem: Cultivating Missional Change (2020); Missional Ecclesiology (Burger, Marais, & Van der Walt, Missional Eccelsiology Participating in the Missio Dei, 2022); Reframing. Novel metaphors for reimagining the church and the Bible; Participating in God’s unfolding story, Marius J. Nel (2023) en ’n gemeentehandleiding met die titel In pas met die lewende God: Ritmes en gewoontes van roepingsgetroue gemeentes (Cordier, Van der Walt, & Bosman, 2020).
’n Sleutel tot die verstaan van die denke van die Sinode oor teologiese opleiding is dié van kompleksiteit, wat reeds voor die COVID-19 pandemie teenwoordig was, maar wat tydens en na die pandemie versnel het.4 In kompleksiteitsteorië word die akroniem VUCA (volatility, uncertainty, complexity and ambiguity) om die aard van die kompleksiteite en teenstellende aansprake te verduidelik (Van der Merwe, 2018). Met COVID-19 het ons ’n dieper blik op hierdie temas gekry, maar die spoed waarop ons daarop moes reageer, het versnel. Dit is duidelik dat die pandemie meer as net ’n tydelike globale ongemak meegebring het en dat daar ’n nuwe normaal na die pandemie sal uitspeel wat elke sektor van ons samelewing sou raak, insluitende en dalk meer so opleiding aan universiteite en kolleges (Niemandt & Marais, 2023). Een voorbeeld hiervan was die getal teologiese studente wat verkies het om aanlyn opleiding te ontvang en wat eksponensieel tydens en na die pandemie sou groei (Kuratorium, 2023; Potgieter & Du Toit 2023).
By die volgende Algemene Sinode in 2019 het daar twee verslae vanaf die Algemene Kuratorium gedien wat hierdie kompleksiteite probeer aanspreek het. Die eerste verslag het oor ampsteologie gehandel (Burger 2019) en die tweede “Raamwerk vir Missionale Bedieningsvorming”.5
Die besinning oor die ampte was ’n tydelike kommissie van die Algemene Kuratorium met opdrag om vanuit die missionale ekklesiologie na te dink oor vraagstukke wat reeds vir ’n geruimte tyd deur die kuratoria bespreek is. Dit is belangrik om die onderskeie vraagstukke te noem sodat die kompleksiteite waarmee die kuratorium te make gehad duidelik kan wees. Dit is juis die gebrek aan begrip vir hierdie kompleksiteite, meestal polariteite wat gesprekke oor teologiese opleiding vir baie lank benadeel het (Johnson, 2016). Polariteitsbestuur verskuif die aandag van “versus” na “en”. Dit is byvoorbeeld duidelik dat die kuratorium uitgaan van die standpunt dat teologiese opleiding, akademiese opleiding sowel as kerklike vorming insluit. Deur die lens van kompleksiteitsteorië is dit ook duidelik dat teologiese opleiding beter verstaan word as ’n ekosisteem van ’n verskeidendheid instellings wat rolspelers is. Die nadenke wat nodig was moet dus sistemiese kragte en teenkragte verstaan, asook die wederkerigheid en interafhanklikheid van die rolspelers binne die ekosisteem van teologiese opleiding (Senge, 1990). Verder is dit duidelik uit die onderstaande vraagstukke, dat die kuratorium na die ontwerp van oplossings wat scenarios vir die toekoms bou, sou moes beweeg, eerder as om net punt-vir-punt oplossings vir individuele vraagstukke te probeer gee. In kort, ’n nuwe era het aangebreek en die kuratorium sou ’n nuwe verbeelding vir teologiese opleiding moes ontwikkel.
Vraagstuk 1: Lidmate wat ampswerk verrig sonder ampsbevoegdheid
Hieronder sou die posisie van jeugwerkers en anders persone in gemeentes tel wat betaalde ampswerk verrig, maar sonder dat hulle in die ampstruktuur van die kerk opgeneem word. In daardie stadium is geraam dat daar ’n paar honderd van hierdie persone as jeugwerkers, pastorale werkers en ook gemeenskapswerkers diens verrig het. Daar was egter nie ’n bevredigende ampsreëling met hulle nie. Alhoewel baie van hulle die Woord bedien en verskeie ander ampswerk verrig het, het hulle dit as vrye agente gedoen. Hulle het dikwels nie eers op kerkrade gedien nie en daarom ook nie op meerdere vergaderings nie.
Een van hierdie persone het die volgende aan my vertel. “Ek werk al tien jaar in ’n gemeente as jeugwerker. In hierdie tyd het ek aansoek by die bank gedoen vir ’n lening en moes my beroep aangee. Ek verduidelik toe na die beste van my vermoë aan die amptenaar wat my beroep is. U is dus ’n dominee, antwoord die bankamptenaar vriendelik. Nee, antwoord ek, ek is ’n jeugwerker. Die amptenaar was verward en het toe maar op die aansoek ingevul dat ek ’n werker van die kerk is.”
Vraagstuk 2: Tweede loopbaanstudent
Die kuratoria het ook toenemend aansoeke ontvang van persone wat as sogenaamde tweede loopbaanstudent teologie wou studeer. Die bestaande reëlings ten opsigte van teologiese opleiding het beteken dat indien hulle, sou hulle wou studeer om predikante te word, hulle vir ’n aantal jare voltyds moes teologie moes studeer om gelegitimeer te kon word. Vanweë die persone se beroepe was voltydse studies onmoontlik en was dit dringend noodsaaklik om die bestaande reëlings te hersien. Dit is ironies dat dit gesien is as ’n vraagstuk of selfs probleem en ʼn klassieke voorbeeld waar ʼn bekende sisteem, die verbeelding vir die geskenk van nuwe toetreders tot die amp, verberg. Dit is ook ironies dat ’n gereformeerde kerk wat vanuit roeping oor die amp dink, vir so lank sou toelaat dat voornemende geroepe studente nie kon studeer nie.
In die 2023 verslag van die AK aan die Algemene Sinode word bogenoemde uitdaging soos volg verduidelik:
4IR verwys na nuwe maniere waarop tegnologie in die samelewing, en selfs die menslike liggaam, ingebed word. Dit sluit konsepte soos AI (Kunsmatige intelligensie), die internet van dinge, robotika, nanotegnologie, genetiese manipulasie en die impak van kriptografie (blockchain) in. Dit is die integrasie van die fisiese, digitale en biologiese wêrelde en daag selfs die konsep van menswees uit. Dit het groot impak op opleiding en onderrig, aangesien die klassieke konsepte van verskillende lewenstadia versmelt tot ʼn nuwe geïntegreerde model.
(Kuratorium, 2023: 29-30)
Bogenoemde skemas is byna profeties in die sin dat die kuratorium reeds voor COVID-19 en beslis tydens en daarna ’n groeiende groep aanmeldings vanuit die “multistage life” ontvang het. Lidmate uit verskillende lewensfases het vir teologiese studies aangemeld. Die probleem van die tweede loopbaanstudente het nou ’n lewensaar vir die kerk geword.
Vraagstuk 3: Missionale kontekste
Die Suider-Afrikaanse konteks is een van ’n diverse en vloeibare demografie. (ekonomiese, opvoedkundige, kulturele en taaldiversiteit) Die Kuratoria van Wes-Kaapland en Namibië moes byvoorbeeld uitdagings van kontekste aanspreek waar daar gemeentes van die kerk is wat so uniek van aard is dat geroepe lidmate uit daardie gemeenskappe nie maklik aan die vereistes vir legitimasie sou kon voldoen nie. Die gevolg sou wees dat hulle eie geroepenes uitgesluit sou bly van die amp van leraar. Dit het gemeentes in die Khoi-San gemeenskappe in Namibië en die gemeentes dowe lidmate ingesluit.
Terwyl die kerk besig was om missionaal uit te reik en geloofsgemeenskappe te stig, was die realiteit dat ons teologiese opleiding en ampsbeskouing histories deur die uitdagings en realiteite van die wit middelklas gevorm is, met ’n predikant wat soos die ander professies in hierdie gemeenskap as professionele “ampsdraer” funksioneer. Dit was ’n klassieke geval van selfontmagtiging en selfsekularisering. Die kerk wil missionaal uitreik en diversifiseer, maar sy eie reëls maak dit onmoontlik om die ideaal te realiseer.
Vraagstuk 4: Akademiese versus teenoor of saam met kerklike opleiding en vorming?
Die vierde vraagstuk hang nie direk saam met die verbreding van die ampte nie, maar wel met die opleiding van lidmate wat geroepe is tot ampsbediening. In paragraaf twee is die eras van teologiese opleiding behandel. Sedert 2000 met die Fakulteit Teologie wat ’n ekumeniese fakulteit geword het, het die kerk se inspraak in die opleiding aan die Fakulteit verminder. Dit is te verstane dat die kerk besorg was hieroor en dat een of ander meganisme ontwikkel moes word waar die kerk, naas akademiese opleiding, ook kerklike vorming en opleiding sou wou doen.6 Die lyn tussen akademiese opleiding en kerklike vorming is al hoe duideliker getrek deurdat die Fakulteit vanweë sy posisie aan ’n publieke universiteit en ook die ekumeniese aard van die opleiding, dit duidelik gemaak het dat dit nie binne sy skopus val om kerklike opleiding te doen nie. Dit het vir die kuratorium duidelik geword dat die kerk die verantwoordelikheid het om kerklike optelding aan studente te verskaf wat naas die akademiese opleiding aan die Fakulteit sou plaasvind.
Pieter van der Walt reflekteer oor hierdie dinamika in ’n onlangse artikel, “Theological education and the modern university”, deur ’n aantal intreeredes van profesore aan die Teologiese Fakulteite met mekaar in gesprek te bring (Van der Walt, 2023).
Terwyl Van der Walt oor die dinamika van teologiese opleiding aan ’n universiteit reflekteer, kyk Cas Wepener en Ian Nell na die dinamika van wit manlike dosente wat teologie in die konteks van publieke universiteite doseer (Wepener & Nell, 2021). In hulle refleksie gee hulle aandag aan belangrike antropologiese, pedagogiese en episominologiese verruiming en beste praktyke om in gedagte te hou wanneer dosente bewustelik omgaan met hulle bevoorregte agtergrond, ras en identiteit om ’n bewussyn te skep wat noodsaaklik is om die gapings tussen hulle en studente te oorbrug. Hulle wys na ’n tweede naïwiteit wat ook dosente moet soek, “(T)his is potentially a move towards vulnerability, even though we are aware of the fact that we remain very privileged, but to our minds it is a necessary move and fundamentally different to how our position has been viewed in the past.” (Wepener & Nell, p. 2) 7 Wat ontwikkel moet word is ’n “spiritualiteit van kwesbaarheid” vir sowel die dosent as die student. Hoewel hierdie refleksie op die dinamika van die “wit” dosent in ’n oorwegend “swart” studentekorps fokus, is die relevansie vir ’n kerk soos die NGK se teenwoordigheid aan ’n publieke universiteit vanselfsprekend. Dit is belangrike oorwegings om in gedagte te hou vir die uitbou van die kerk se vennootskap met die Fakulteit Teologie en Hugenote Kollege. 8
Vraagstuk 5: Vloeibare kerklike demografie – die kerk kan toenemend nie meer voltydse leraars bekostig nie
Opleiding geskied nie in isolasie nie, maar word met die oog op diens in ’n bepaalde gemeenskap gedoen – in hierdie geval, gemeentes van die NGK. In Wes-Kaapland, soos ook in die ander sinodes van die NGK, het ’n groeiende groep gemeentes laat blyk dat hulle nie meer ’n voltydse leraar kan bekostig nie – hul lidmaatgetalle het te min geword. Gemeentes is dan volgens die orde van die kerk vakant. Dit is ’n teenstrydigheid dat met die afwesigheid van een van die ampte, ’n gemeente “vakant” genoem word. ’n Mens kan tereg vra of die ander ampte, tog gelykwaardig aan die amp van die leraar, met die afwesigheid van die amp van die leraar “vakant” word. Die vloeibare demografie vra aan die kerk vrae soos bogenoemde.
So byvoorbeeld het dit in 2014 geblyk dat die myne in die Ring van Namakwaland wat in ’n uitgestrekte en yl bevolkte gebied geleë is tydelike opbloei in die gemeenskappe gelewer het totdat die myne uitgemyn is. Uit die lys van elf gemeentes, Namakwaland (Springbok), Garies, Kamieskroon, Port Nolloth, Simon van der Stel (Nababeep), Oranjemund, Alexander-baai, Boesmanland (Springbok se tweede gemeente), Aggeneys, Pofadder en Grootmist, is voorsien dat net drie of vier gemeentes leraars sou kon bekostig. Die vraag van die gemeentes by ’n Ringskonferensie in 2014 was, as ons nie ’n leraar kan bekostig nie, watter bediening is moontlik of moet ons ons deure sluit? In 2023 het drie van die gemeentes, Alexanderbaai, Port Nolloth en Grootmist in kombinasie gegaan, aanvanklik met een leraar wat hulle deel en in 2023/24 word daar ’n bedienaar vir elkeen van die gemeentes opgelei om die prediking en erediensleiding te kan behartig. Die gemeentes word dus nie toegemaak nie, maar bedien deur ander ampte onder leiding van die konsulent. In die verslae van 2019 en 2023 van die Algemene Kuratorium word uitgebreide aandag gegee aan die inpak wat kerklike demografie op die ampsbediening in die gemeentes het. In die verslag van 2023 word die volgende implikasies vir teologiese opleiding aan die hand van demografiese realiteite gemaak:
Hierdie vraagstukke is in die tydperk 2012 tot 2019 deur verskillende komitees van die Algemene Kuratorium bespreek en uiteindelik in die verslag, “Raamwerk vir Missionale Bedieningsvorming in die NG Kerk” voorgelê en beredeneer. Die verslag is goedgekeur en ’n hele nuwe era vir teologiese opleiding is daardeur moontlik gemaak. By die vergadering van die Algemene Kuratorium in Mei 2024 is bereken dat daar 240 lidmate met teologiese opleiding in die verskillende bane besig is.
In sy refleksie oor demografiese vloeibaarheid van die Suider-Afrikaanse konteks, insluitend die demografiese verskuiwings onder NGK lidmate, skep Nelus Niemandt die begrip “missionale mobiliteit” (Niemandt, 2023). Hy bepleit ’n kultuur van mobiliteit en ondersteunende aanpassende kerklike strukture wat aanpasbaar genoeg is om te kan aanpas by demografiese mobiliteit. 9 Met die aanpasbaarheid van die bane in opleiding, gepaardgaande met die moontlikheid tot artikulasie van een baan na ’n ander, gee dit aan die NGK die moontlikheid om “missionale mobiliteit” te ontwikkel om die bedieningsuitdagings soos wat dit ontvou die hoof te kan bied. (Sien weer die bespreking van die uitdagings van die Ring van Namakwaland hierbo).
In reaksie op bogenoemde vraagstukke het die Algemene Kuratorium in 2019 en later in 2023 ’n opleidingsisteem ontwerp wat ’n hele reeks ingrypende voorstelle ingesluit het. Die voorstelle is in geheel deur die Algemene Sinode goedgekeur (Kuratorium, 2019). (Kuratorium, Geroep, Gevorm & Gestuur Inligtingsblad van die Algemene Kuratorium oor Teologiese Opleiding in die NG Kerk, 2023)
Die goedgekeurde nuwe ontwerp het die volgende ingesluit:
1. Vroeë weerstand
Die Seminarium het in 2012 met die tweedejaarsklas begin en in 2013 na ’n konfrontasie met een van die fasiliteerders ’n petisie onderteken het wat die kuratorium versoek het om die bykomende werk te staak wat hulle nou naas die akademiese werk moes doen. Dit is te verstane dat die studente wat reeds in hul eerste jaar gewoond geraak het om slegs op hul akademiese werk te fokus nou die bykomende werk as ’n onnodige ekstra gesien het. Dit verduidelik ook hoe die denke van wat teologiese opleiding behels gefunksioneer het. Akademiese werk is gesien as die eintlike werk met die vormende werk van die Seminarium as ’n nie-noodsaaklike ekstra.
Die klas van twaalf studente is deur die seminarium se personeel ontmoet en ons het aan hulle ruim geleentheid gebied om hul probleme en frustrasies oor te dra. Elke student kon afsonderlik ’n lys van watter foute gemaak word, voorlê. Dit is noukeurig opgeteken sodat die studente kon sien dat hulle gehoor word. Hulle het ook ’n kans gekry om voorstelle te maak van hoe die program verbeter kon word.
Aan die einde van die drie ure was die konflik ontlont en het hulle entoesiasties begin word oor wat die program vir hulle kan beteken. Vandag is verskeie van hierdie klasgroep of mentors of fasiliteerders in die program van die seminarium.
Die eintlike geboorte van die seminarium het in hierdie gesprekke gebeur, gesprekke waarin die personeel saam met studente kon reflekteer wat ’n vormende kurrikulum werklik is.10
2. Ruimte vir versoening en herstellende geregtigheid
In 2015 het die #FeesMustFall die kampusse van Suid-Afrika geruk en Stellenbosch was nie ’n uitsondering nie. Op ’n gegewe oggend het die protesterende studente groepfoto’s van die kweekskoolklasse wat teen die mure gehang het, almal van die mure afgehaal en op die grond gesit. Daar was ’n nota by dat die foto’s nie verteenwoordigend van al die studente was nie en in werklikheid wit oorheersing simboliseer (Ian Nell se refleksie hieroor).
Die Seminarium het ingestem om die foto’s te verwyder en in die argief te bewaar. ’n Verklaring is deur die personeel uitgereik waarin ons as personeel simpatie met die gevoel van uitsluiting verwoord het. Ook later in die proses toe die spanning op die kampus breekpunt bereik het, was dit die personeel van die Seminarium wat saam met die Raad vir kerklike Samewerking, as bemiddelaars tussen die studente en die bestuur van die US opgetree het.
In 2021 het die M Div klas tydens ’n module oor versoening en herstellende geregtigheid erge verdeeldheid beleef, onder andere oor die feit dat die studente van die onderskeie kerke nie dieselfde beurse ontvang het nie. Dit het die ongelykheid en voortgaande bevoorregting van die NG studente beklemtoon.
Ons het die studente genooi vir ontlontingsgesprekke by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit. Die onmiddellike konflik is ontlont maar toe het die studente met ’n gesamentlike verklaring na die kuratorium gekom om die onreg van die ongelykheid van die beurse te onderstreep. Die NG studente het ten koste van hulleself aangedring dat hul beurse verminder moet word en gedeel moet word met die VGK studente.
Die kuratoria van die twee kerke het vergader onder leiding van die twee voorsitters, Peet Bester en Walter Philander. Hulle het besluit op ’n narratiewe benadering en die proses stadig en diep gemaak sodat die lede van die kuratoria self hul eie verhale kon vertel. Uit hierdie gesprekke is ’n ooreenkoms gebore wat gelyke beurse aan die studente gestruktureer het. Dit het ’n dieper band van eenheid tussen die kuratoria gebring.
3. COVID en die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (AMSS)
Die AMSS is in 2019 ingewy en kort daarna in Maart 2020 het COVID en die realiteit van grendeltyd ons getref. Een van die gevolge hiervan was dat die Seminarium besluit het om die klasgroepe nie meer saam vir ’n jaarlikse kamp te neem nie maar as gevolg van die COVID-maatreëls besluit om die klasgroepe in kleiner groepe vir ’n retraite oor ’n naweek by die sentrum te ontvang. Dit het onmiddellik ’n inpak gemaak op die geloofsvormende effek van die Seminarium se program. Die studente het baie goed gereageer op die kans om by die sentrum tot stilte te kom en dit het ’n jaarlikse instelling geword met ’n 100 persent bywoningsyfer van studente oor die afgelope vyf jaar.
Darrell Guder, die missioloog van Princeton Theological Seminary, maak in die laaste hoofstuk van sy boek The Continuing Conversion of the Church die volgende opmerking: “(t)he problem is how the institution has taken over and shaped the mission. The institutional take over has invariably been reductionistic of the gospel and the church missional vocation” (Guder, 2000:182). Hierdie stelling van Guder is in besonder waar van die wyse waarop die kerk geroepe lidmate begelei het om deur middel van teologiese opleiding toegerus te word vir hulle roeping. Dit is spesifiek waar van die pedagogie wat onderliggend was aan teologiese opleiding vir baie jare.
Sias Meyer, dosent in Ou Testament aan die Fakulteit Teologie by UP, sluit sy roepingsverhaal met die volgende af: “Na dertien jaar besef ek dat roeping ’n onweerstaanbare krag is waarteen ’n mens nie verweer het nie. Roeping is soos genade, onweerstaanbaar” (Knoetze, 2023:68). Meyer ego hiermee die woorde wat oor en oor gebruik word wanneer lidmate vir teologiese studies aanmeld. Marnus Havenga se verwoording van Balthasar se roepings-teologie kon ook net sowel een van die kandidate gewees het:
“For Balthasar, what is striking about these encounters is the way in which they typically lead to the sending of the person who has come face-to-face with Jesus. Time and again, those who meet Christ are ‘given a personal commission’ and entrusted ‘with something unique to do’. According to Balthasar, Christ’s mission, and especially the mission’s last ‘syllable’, namely his resurrection, open up a new ‘acting area’, where all are invited, encouraged and enabled, through the Spirit, to share in and re-perform the missio Christi through the unique mission of their own lives. ‘God does not play the world drama all on his own’, Balthasar writes, but ‘makes room for man to join in the acting’. As death turns ‘into life’ – also ‘in our hearts’ – we, too, are called ‘to play our part’ in God’s drama of salvation and liberation. The Christ-drama invites and challenges us ‘to leave the auditorium, step onto the stage and resolutely join in the action’” (Havenga 2019).
Die reduksie van roeping, insluitende die bedieningsruimte om die roeping uit te leef, aan die hand van die reëls van die instituut, kerklik sowel as akademies, word deur die missionale teologie uitgedaag. Missionale teologie vra vir ’n nuwe pedagogie in teologiese opleiding wat die karakter van die persoon (etos), die karakter van die boodskap (logos) en die karakter van die gemeenskap wat bedien word (patos) ontwikkel. In die vroeë negentiger jare voer Pat Keifert en Donald Huel ’n reeks gesprekke met fakulteitslede van die Luther Seminarie op soek na ’n pedagogie wat bogenoemde insluit (Keifert, 2004). In die eksperiment kom hulle tot die gevolgtrekking dat roeping, verstaan vanuit missionale teologie, veel meer is as teoretiese kennis en kies hulle vir die ontwikkeling van ’n retoriese kurrikulum. Tom Smit neem dit verder in sy proefskrif en latere artikels oor ’n missionale pedagogie (Smith, 2023). In die inligtingsblad van die Algemene Kuratorium word bogenoemde soos volg grafies verbeeld:
’n Missionale kurrikulum is onder andere ’n “container” waarin “geloofsonderskeiding”, “kenotiese leefstyl” en “geestelike leierskap” gevorm word deur die oordrag van wegspringkennis11, in-oefening van vaardighede, ondersteun deur waardes en houdings en oordraagbare gewoontes (Smith, 2023:58). Die sestien kapasiteite wat deur die Algemene Kuratorium ontwikkel is, word bespreek om die kennis, vaardighede, houdings en oordraagbare gewoontes van elk van die kapasiteite te verduidelik (Kuratorium 2023). Hier onder is ’n voorbeeld van hoe die Taakspan vir Kerklike Opleiding dit grafies verduidelik ten opsigte van die eerste Etos kapasiteite:
Die Seminarium het deur die loop van die jare die retoriese raamwerk ontwikkel om ’n roepingspedagogie te realiseer. In die ontwerp van hierdie roepingspedagogie is daar deurgaans gebruik gemaak van die volgende verhoudings waarbinne die roeping van die studente ontwikkeling kan word: mentors, klaskamer en studie, leergemeenskappe, retraite, deelname in gemeente en deelname in gemeenskap.
In die nuutste weergawe van die Seminarium se kurrikulum word die kapasiteite in ’n pedagogiese proses ontwikkel wat verdeel in vier interafhanklike elemente. Dit is duidelik dat die Seminarium intensioneel werk om die student diep in die tradisie van die kerk te anker deur die Woord, sakramente en gebed as sentrale momente herhalend te laat inspeel op die liturgie van die byeenkomste. Visueel word dit soos volg uitgebeeld.
(Kuratorium 2023:7)12
Hierdie raamwerk word dus liturgies (oordraagbare gewoontes) vasgelê in ’n weekliks groepsliturgie of “Izikos”. 13
Iziko Gathering Liturgy
1. Check-in with journal
2. Lighting of candle
We light this candle to become aware that we are in God’s presence.
As children of God, we want to listen to and respect each other,
Sharing honestly our faith and our doubts,
With humility and openness.
Silence
O Lord, let my soul rise up to meet you
As the day rises to meet the sun.
3. Psalm
Psalm 121
I lift up my eyes to the hills
from where will my help come?
My help comes from the Lord,
who made heaven and earth.
He will not let your foot be moved;
he who keeps you will not slumber.
He who keeps Israel
will neither slumber nor sleep.
The Lord is your keeper;
the Lord is your shade at your right hand.
The sun shall not strike you by day
nor the moon by night.
The Lord will keep you from all evil;
he will keep your life.
The Lord will keep
your going out and your coming in
from this time on and forevermore.
Glory to the Father, and to the Son, and to the Holy Spirit,
As it was in the beginning, is now, and will be forever. Amen
May the peace of the Lord Christ go with you: wherever he may send you;
May he guide you through the wilderness: protect you through the storm;
May he bring you home rejoicing at the wonders he has shown you;
May he bring you home rejoicing once again into our doors.
Weekliks word die student dus blootgestel aan ’n groepsliturgie waarin die inhoud van die teologie wat aan hulle gedoseer word in die akademiese program (Logos) geïntegreer word in ’n liturgie wat invra na die deelnemers se persoonlike en geestelike welstand (etos) maar hulle ook rig en oriënteer ten opsigte van gehoorsaamheid aan die uitleef van hulle roeping in die samelewing.
There is no learning without reflection!
Teologiese opleiding is ’n komplekse saak en diegene wat daaroor nadink sal die teenstrydighede en kompleksiteite waarmee dit alles te make het voortdurend in die oog moet hou. Eenvoudige “fixes“ sal die kerk en die koninkryk groot skade berokken. Met die koms van die Seminarium en die ontwikkeling van kerklike opleiding as ’n selfstandige en gestandaardiseerde deel van die opleiding naas die akademiese opleiding wat studente deur-loop, het die kerk gekies om vir ’n meer holistiese pedagogie. Daar sal diegene wees wat aan albei kante van hierdie polariteit (roepings- en akademiese vorming) die een pool teen die ander afspeel, maar die waarheid is dat albei pole noodsaaklik is en nie die een of die ander nie.
Die vermeerdering van die bane in teologiese opleiding; die gepaargaande meervoudigheid van geleenthede in ampsbediening en die verruiming in ampsteologie, gee aan die kerk die vermoë om in kontekste te bedien waar ons in die verlede eenvoudig bedieninge en gemeentes gesluit het. Vir ’n diverse konteks soos Suider-Afrika is hierdie beweegruimte noodsaaklik.
In die bundel oor missionale ekklesiologie (2022) voorsien ek dat teologiese opleiding een van die belangrikste komponente sal wees in die realisering van ’n missionale ekklesiologie (Marais 2022). Ek is meer as ooit oortuig hiervan.
God roep steeds mense tot die bediening. Dit is die taak van die kerk om die mens wat God roep om aan die missio Dei deel te neem, toe te rus en aan hulle geleenthede te voorsien waarin hulle die onweerstaanbare roeping wat hulle van God ontvang het, kan uitleef.
Bibliografie
Burger, C. 2019. Besinning oor die Ampte. Boksburg: Algemene Sinode.
Burger, C., Marais, J.F. & Van der Walt, P. 2022. Missional Ecclesiology Participating in the Missio Dei. Wellington: BM.
Burger, C., Mouton, D. & Marais, J.F. 2020. Cultivating Missional Change. Wellington: BM.
Coertzen, P. (red). 2000. Teologiese opleiding Stellenbosch 150+ Die verhaal van teologiese opleiding op Stellenbosch – die mense en die geboue. Wellington: Bybel Media.
Cordier, G., Van der Walt, P. & Bosman, L. 2020. In pas met die lewende God: Ritmes en gewoontes van roepingsgetroue gemeentes. Pretoria: NG Kerk.
De Gruchy, J.W. 2021. The Monastic Moment: The War of the Spirit & the Rule of Love. Eugene: Cascade Books.
Evans, B.B. 2016. Designing your Life. Random House.
Gemeentebediening, A.K. 1994. Amp en Ampswerk. In Agenda Algemene Sinode 1994, pp. 275–283. Pretoria: Algemene Sinode.
Guder, D.L. 2000. The continuing Conversion of the Church. Grand Rapids: Eerdmans.
Havenga, M.J. 2019. Performing Christ A South African Protest Play and the Theological Dramatic Theory of Hans Urs von Balthasar . Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.
Havenga, M.J. 2020. Christ as performance: On Hans Urs von Balthasar’s dramatic Christology from below. Stellenbosch Theological Journal 6, no. 4, pp 139–158.
Marais, J.F. 2022. A missional re-imagination of the church as institution and decision making practices. In C. Burger, J.F. Marais & P. van der Walt, Missional Ecclesiology, pp. 261–283. Wellington: BM.
Johnson, B. 2016. Polarity Management. Pelham: HRD Press.
Keifert, P. 2004. A Rhetorical Approach to Theological Education. Assessing an Attempt to Re-Vision a Curriculum. In D.S. Cunningham, To Teach, To Delight, and To Move: Theological Education in a Post-Christian World (pp. 281–296). Eugene: Cascade Books.
Knoetze, J. 2023. Geroep-Gevorm-Gestuur/Created-Called-Commissioned. Wellington: Barnabas Publishers.
Knoetzen, H. 2002. Teologiese motiewe vir ʼn missionêr diakonale bediening van die kerk. Op weg na ʼn begronding van die missionêr diakonale ekklesiologie. Pretoria: Universiteit van Pretoria.
Kuratorium 2019. Verslag van die Algemene Kuratorium aan die Algemene Sinode 2019. Pretoria: Algemene Sinode NG Kerk.
Kuratorium 2023. Geroep, Gevorm & Gestuur Inligtingsblad van die Algemene Kuratorium oor Teologiese Opleiding in die NG Kerk. Pretoria: Algemene Kuratorium.
Kuratorium 2023. Verslag van die Algemene Kuratorium aan die Algemene Sinode 2023. Pretoria: Algemene Sinode NG Kerk.
Marais, J.F. 2020. Missional Formation and Discipleship. In J.F. Marais, D. Mouton, & C. Burger, Cultivating Missional Change. Wellington: BM.
Marais, J.F. 2019. Discernment as Generative Dialogue. In K. Schoeman, & C. Hermans, Theology in an Age of Contingency, pp. 90–155. Munster: Lit Verslag.
Marais, J.F. 2021. Kenosis as a missional strategy for a church in need of conversion. In H. Kwiyani, Africa Bears Witness Mission Theology and Praxis in the 21st Century, pp. 59–73. Theological Network Press.
Marais, J.F. 2022. The way forward for missional ecclesiology. In
C. Burger, J.F. Marais, & P. van der Walt, Missional Ecclesiology,
pp. 202–214. Wellington: BM.
Marais, J.F. 2024. Kenosis as Missional Strategy for a Church in Need of Conversation: Reimagine Mission in Post-Apartheid South Africa. In H. Kwiyani, Africa Bears Witness: Mission Theology and Praxis in the 21st Century, pp. 61–75. Carlisle: Langham.
Marais, J.F., Niemandt, N., Schoeman, K., Simpson, N., & Van der Walt, P. (2022). Missional Research Methodology. In C. Burger, J.F. Marais, & P. van der Walt, A research strategy for missional transformation,
pp. 283–315. Wellington: BM.
Nel, M.J. 2023. Reframing Novel metaphors for reimagining the church and the Bible. Participating in God’s unfolding story. Wellington: BM.
Nel, M.J. 2023. Reframing Participating in God’s unfolding Story. Wellington: BM.
Nell, I. 2021. Covid-19 in Congregations and Communities An Exploration of the influence of the Coronavirus pandemic on Congregational and Community life. Stellenbosch: Naledi.
Niemandt, C.J. 2023. Missionale Mobiliteit. STJ, Vol 9, no 3, p. 1–17.
Niemandt, N., & Marais, J.F. 2023. Default or Reset? Missional Leadership Challenges for church leadership in COVID-19 en route to a new normal. In L.G. du Toit, & A. Brunsdon, Theological Perspectives on Reimagining Leadership in Post-Covid-19 Africa, pp. 143–149. Durbanville: OASIS.
Palmer, P. 1993. To Know as we are Known. Education as a Spiritual Journey. San Francisco: Harper.
Philander, N. 2023. Ecclesiological review of the development of the Seminary of the Uniting Reformed Church in Southern Africa and the Dutch Reformed Church in South Africa. In P. van der Walt, & M.J. Nel, Facilitating God’s Preferred Future, pp. 163–182. Wellington: BM.
Potgieter, A. & Du Toit, A. 2023. Exploring Online Theological Education at Hugenote Kollege. STJ, Vol 9, no 3, pp. 1–18.
Senge, P. 1990. The Fifth Discipline: The Art and Practice of the Learning Organization. Chatham: Randomhouse.
Smit, G. 2023. Aristotle to Bloom: Theological Formation and curriculum development for Lay ministers in the Dutch Reformed Church. In M.J. Nel, & P. van der Walt, Facilitating God’s Preferred Future, pp. 213–225. Wellington: BM.
Smith, J.K. 2009. Desiring the Kingdom Worship, Worldview and cultural Formation. Grand Rapids: Baker Academics.
Smith, T. 2023. An ecology of formation for missional leadership – reflections on Dr. Frederick Marais’ influence on my missional imagination. In M.J. Nel, & P. van der Walt, Facilitating God’s Preferred Future, pp. 139–148. Wellington: BM.
Smith, T.J. 2022. Designing and developing a “Rhythm of Life” as a pedagogy that assists in the cultivation of missional disciple formation. Pretoria: University of Pretoria.
Van der Merwe, I. 2018. “Fiat Lux.” Navigating Chaos through Sensing Leadership. Stellenbosch Theological Journal. Stellenbosch Theological Journal, pp. 1–19.
Van der Walt, P. 2021. Epilogue. In I. Nell, Covid-19 in Congregations and Communities, pp. 259–266. Naledi.
Van der Walt, P. 2023. Theological education and the modern university. In M. Nel, & P. van der Walt, Facilitating God’s Preferred Future,
pp. 156–166. Wellington: BM.
Wepener, C. & Nell, I. 2021. White males teaching Theology at (South) African universities? Reflections on epistemological and ontological hospitality. Academia Letters, Article 3304, pp. 1–5.
1 Gemeentebegeleiding het in hierdie tyd bewus geword van die noodsaak van geloofsvorming van leiers om gemeentes in die onderskeidende prosesse van missionaliteit te begelei. Vir meer hieroor sien my refleksie in die bundel Cultivating Missional Change, Missional Formation and Discipleship (Marais, 2020).
2 Dr. Natie Philander het die geskiedenis van die ontstaan van die Seminaruim netjies in ’n artikel met die titel: “Ecclesiological review of the development of the Seminary of the Uniting Reformed Church in Southern Africa and the Dutch Reformed Church in South Africa” opgeteken (Philander, 2023).
3 Hierdie moet gesien word as ’n eerste poging om fases in die ontwikkeling van teologiese opleiding in die Wes-Kaapland te ontwikkel en kan beslis verder verfyn en verbeter word.
4 Pieter van der Walt skryf in ’n epiloog tot ’n bundel oor die effek van COVID-19 op gemeentes en die kerk, dat die pandemie soos ’n “versneller” en ’n “vergrootglas” bestaande vraagstukke in die gemeenskap oopgemaak en blootgelê het maar dat dit ook tendense versnel het. (Van der Walt, 2021)
5 Dit val buite die skopus van hierdie artikel om die volle verhaal van ampsteologie in die NGK te vertel. Dit is wel belangrik om kennis te neem dat in prof AB du Toit in 1994 ’n verslag oor die ampte geskryf het vir die Algemene Sinode. Die verslag bevat ingrypende voorstelle oor die verbreding van die ampte in die kerk, maar aangesien die ekklesiologiese verbeelding nie geskuif het nie, het daar van die voorstelle niks gekom nie. Hierdie skuiwe sou eers in 2019 gebeur in opvolging van die 2013 verbreding van die kerk se ekklesiologie na missionale ekklesiologie. (Gemeentebediening, 1994)
6 Hierdie vraagstuk is nie beperk tot die Sinode van Wes-Kaapland en die NGK nie. Ekumenies en internasionaal het kerke hierdie uitdaging verskillend aangespreek. Die Protestantse Kerk van Nederland (PKN) het byvoorbeeld ’n privaat universiteit, die PThU, geskep waar studente ’n driejarige meestergraad doen nadat hulle ’n B-graad aan ander universiteite verwerf het. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.pthu.nl/onderwijs/master/master-theologie/
7 Dit is interessant dat hulle melding maak van epistemologiese verruiming, “(O)ur primary aim in teaching is to capture the head and heart of students with the aim of teaching, but also of formation”, en nie ook verwys na die ontwikkeling van die “patos” van studente vir hul diens in die gemeentes en gemeenskappe nie (Wepener & Nell, 2021, p. 3). Hul refleksie, hoewel vanuit ’n ander hoek verwoord, kom naby aan ’n eie refleksie oor “kenosis” as ’n noodsaaklike missionale houding vir NGK gemeentes (Marais J. F., 2024).
8 In 2023 verskyn daar ’n publikasie met roepingsverhale van dosente in teologie, Geroep- Gevorm- Gestuur/ Created-Called-Commissioned (Knoetze, 2023). Die bundel bevat 21 aangrypende roepingsverhale wat die retoriese struktuur, etos, logos en patos van die Raamwerk vir missionale Bedieningsvorming van die Algemene Kuratorium ondersteun.
9 Guillaume Smit se refleksie oor die opleiding van “leke” bediening in die NGK is belangrik. Die konslusie in sy artikel is dat dit eintlik vreemd is dat ’n gereformeerde kerk in die verlede so min gedoen het om die amp van die gelowige met teologiese opleiding te ondersteun. Vir ’n tradisie waar die “gelykheid” van die ampte ’n uitgangspunt is, sou dit verwag word dat die opleiding van al die ampte ewe veel aandag kry (Smit, 2023).
10 Dit is eintlik vreemd dat die Seminarium se program ontwikkel is sonder deeglike deelname van die studente aan die ontwerpsproses. Hierdie “opstand” vanuit studentegeledere was eintlik ’n regstelling van ’n ontwerpfout van die Seminarium se kant.
11 Wegspringkennis, of “minimum knowledge” is genoegsame kennis om ’n persoon tot aksie te laat oorgaan. Keifert en andere is oortuig dat ’n teoretiese model van opleiding, of maksimum kennis, die persoon ontmoedig om tot aksie oor te gaan en te waag om ’n nuwe leefstyl in te oefen.
12 In die volledige lys van die sestien kapasiteite sien weer die “Inligtingsblad Geroep, Gevorm & Gestuur”, p 7–26.
13 Let daarop dat die liturgie in Engels gedoen word aangesien die studente van die VGK en ook die ELCSA teenwoordig is.