Stellenbosch Theological Journal 2025, Vol 11, No 1, 1–23

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2025.v11n1.9

Online ISSN 2413-9467 | Print ISSN 2413-9459

2025 © The Author(s)

Die Verenigende Gereformeerde Kerk in SA: ’n vasgeloopte kerk?

Jurgens Hendriks

Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika

hjh@sun.ac.za

https://orcid.org/0000-0002-9890-4846

W.J. (Kobus) Schoeman

Universiteit van die Vrystaat, Suid-Afrika

schoemanw@ufs.ac.za/schoemanw@gmail.com

https://orcid.org/0000-0003-2454-9658

The Uniting Reformed Church in South Africa, in a dead-end alley?

Abstract

The article is based on PhD research in the Uniting Reformed Church of South Africa (URCSA) congregations of the Free State/Lesotho Synod. The main research question was: What does the missional development of small rural congregations look like in the URCSA Synod of the Free State/Lesotho (Pienaar 2024:10)? The article summarises and discusses the three empirical research chapters. Firstly, data from 11 presbytery interviews were collected. Secondly, data from 85 of the church’s 92 congregations that returned questionnaires were discussed. The third part discussed data from five focus group interviews. In the third part of the article, the outstanding findings from the first two sections were integrated with data from the focus group interviews. The last part of the article concludes with remarks on the findings. This article is the first comprehensive empirical research on the situation in the URCSA Synod of the Free State/Lesotho. It summarises the dissertation and suggests ways forward.

Trefwoorde

klein plattelandse gemeente; leierskap; missionaal; VGKSA; ekklesiologie

  1. Inleiding

Die artikel berus op PhD navorsing in die VGKSA gemeentes van die Vrystaat/Lesotho.1 Die hoof navorsingsvraag was: Hoe lyk die missionale ontwikkeling van klein plattelandse gemeentes in die VGKSA sinode van die Vrystaat/Lesotho (Pienaar 2024:10)?

Volgens die beskikbare gegewens van die VGKSA2 is daar 92 gemeentes in die sinode, verdeel in 11 ringe, met 36 predikante en 62 vakante gemeentes (Pienaar 2024: 86-87). Die totale lidmaatgetal is ongeveer 27,000 (:4). Gegrond op Alice Mann se navorsing oor klein gemeentes (Mann 2010:5), definieer Pienaar (:5) ’n klein gemeente as ’n gemeente met ’n lidmaattal tussen 100 en 500 mense.3 Hiervolgens is 50 van die 92 gemeentes in die VGKSA Vrystaat/Lesotho klein gemeentes. Die gemeentes is in ’n oorlewingstryd en word deur of ’n tentmaker, of meestal, konsulent bedien. Omdat die tipiese klein plattelandse gemeente in ’n herder-kudde model of kultuur vasgevang is (Hendriks 1992:12-24; Pienaar 2024:4), is hulle sonder ’n eie predikant so goed soos herderloos en net gefokus op oorlewing of instandhouding. Menslik beoordeel, is die gemeentes sterwend en is die voortbestaan van die Sinode en VGKSA kerk in gevaar.

Pienaar se navorsing is Prakties-Teologies van aard (Schoeman 2015; Anderson 2001:23) en hermeneuties missionaal (Guder 1998; Burger, Marais & Mouton, 2017, Niemand 2019). Dit wil die vraag beantwoord hoe die missionale ontwikkeling en transformasie van klein plattelandse gemeentes, ook die wat nie ’n predikant kan bekostig nie, daar uitsien. Hierdie artikel gaan fokus op Pienaar se prakties-teologiese analise van die Sinode en sy gemeentes, spesifiek sy klein gemeentes. Wat is hul konteks en wat is daar aan die gang? In wat volg verwerk ons die baie detail van die “mixed-method” empiriese PhD navorsing.

Die artikel gebruik Osmer (2008:4) se eerste twee prakties-teologiese vrae: “Wat is aan die gebeur?“ en dan: Hoekom gebeur dit? Die artikel gebruik inligting uit die drie empiriese navorsingshoofstukke om hierdie twee vrae te beantwoord.

Pienaar se doelwit is om te werk aan die vraag hoe die missionale transformasie van die klein plattelandse gemeente kan plaasvind. Die geloofsaanname is dat leierskap wat lidmate toerus en wat in die krag van die Heilige Gees, Jesus Christus herkenbaar begin leef, in die swaarkry omgewing van mense ’n verskil maak. Hoe word kleingemeentes gemeentes wat ’n verskil maak met ’n missionale identiteit (Niemand 2013:46) wat God verheerlik en vir ander mense omgee? Daar is voorbeelde wat die pad wys. In hierdie artikel fokus ons egter om die konteks en krisis van die klein plattelandse gemeentes in die Vrystaat/Lesotho uit die navorsing te beskryf.

  1. Die situasie in die elf ringe van VGKSA Sinode Vrystaat/Lesotho.

Pienaar beskryf die metodologie van sy vierde hoofstuk soos volg (2024:88):

Die navorser het met die voorsitters van die al die Ringe ongestruktureerde individuele gesprekke gevoer. Die rede waarom daar met die voorsitters in gesprek getree was, is omdat laasgenoemdes die amptelike mondstuk van die Ring is en beskik oor die mees akkurate data ten opsigte van die gemeentes wat ressorteer onder die Ringe. Die Ringe is as volg: Betlehem, Bethulie, Bloemfontein, Botshabelo, Heilbron, Kroonstad, Thabong, Vrede, Wesselsbron, Winburg en Witsieshoek. Die gesprekke het plaasgevind by die kerkgebou waar die betrokke voorsitter predikant was. Die vrae was as volg: Vertel my oor die streek waarin die Ring geleë is, wat is belangrik en interessant van die omgewing; Lys die name van die gemeentes in die Ring met hulle lidmaat getalle. Hoeveel van die gemeentes is vakant, hoeveel word bedien deur voltydse predikante, tentmakers, en konsulente? Hoe lyk die gemeentes se finansies? Watter sosiale probleme is hier in die konteks van die gemeentes? Wat doen gemeentes om die sosiale euwels aan te spreek? Die inligting soos vervat onder elke Ring was verkry uit genoemde gesprekke.

Die onderhoude het in 2014 plaasgevind. Die metodologie berus op gemeente-analise tipe vrae uit praktiese-teologiese literatuur (Nel 2015:256; Schoeman 2015:77; Hendriks 2004:69–191). In Hoofstuk 2 van die proefskrif is aandag gegee aan die missiologiese begronding van die missionale gemeente waarna, in Hoofstuk 3, die kenmerke van klein plattelandse gemeentes, hoofsaaklik uit Amerikaanse navorsing, bespreek is (Pienaar 2024:16–81).

Die gesprekke met die elf voorsitters van die ringe is aangrypend (:89–119). Die belangrike temas kom herhalend ter sprake. Die realiteite van die VGKSA Vrystaat/Lesotho ontvou voor die leser. Besondere aandag word aan die klein gemeentes gegee.

2.1 Die navorser het die statistiek van elke Ring aangeteken. Dit berus op die inligting wat hy tydens die elf onderhoude van die ringsvoorsitters gekry het. By meeste van die ringsonderhoude word gemeld dat die gemeentetalle van die lidmaatregisters gebruik is. By elke ring is ’n tabel van die ringsgemeentes wat per gemeente die lidmaattal en die leraarsposisie weergee. Die Ring van Bethulie het byvoorbeeld tien gemeentes, 3200 lidmate met net een voltydse leraar terwyl die ander nege gemeentes vakant is (Pienaar 2024:100).

Hiervolgens het die Sinode 92 gemeentes waarvan 62 vakant is. Daar is 36 leraars wat die gemeentes bedien4 waarvan heelwat (20) as tentmakers deurgaan. Alle leraars het dus konsulent verantwoordelikhede by verskeie gemeentes. Aangesien net vier leraars op skaal vergoed word (Pienaar: 88), het feitlik al die leraars alternatiewe inkomstebronne nodig. Dit beteken dat hulle nie hulle volle aandag en tyd aan die gemeentes kan gee nie.

Pienaar (:87) verduidelik een van die redes waarom gemeente-, ring- en sinodale statistiek soms van mekaar verskil:

Met die eenwording van die NGSK en die NGKA, het lidmaat en doop registers in die proses verlore geraak en/of is vernietig. Die eenwordingsproses het gepaard gegaan met erge konflik tussen die lede van die NGKA, dit wil die lede wat vir en teen die eenwording was. Die lede wat teen die eenwording gekant was, het die registers of verwyder of vernietig. Dit maak dat gegewens van sekere gemeentes nie akkuraat is nie. Die jaarboek se gegewens is nie volledig nie omdat inligting nie ingedien is nie.

Die proefskrif het nie ingegaan op die konflik tussen die VGKSA en NGKA in die Vrystaat nie. Dit het egter albei kerke baie ernstig geraak (Hofmeyr 1996:329–346; Plaatjies van Huffel 2012:1–7 en Saayman, 2017 119–130). Hulle reeds bestaande finansiële situasie het verder versleg.

Selfs in die proefskrif is dit duidelik dat die getalle wat gebruik word uit verskillende bronne en uit verskillende tye kom. Hoe frustrerend dit ook al is, die oorhoofse tendense is onbetwisbaar duidelik. Daar is ongeveer 27,000 lidmate in 92 gemeentes sê die statistiek van die 2017 agenda van die sinode (:87–88) maar as mens die getalle in die tabelle van die ringsgemeentes wat in 2014 besoek is bymekaar tel, is daar volgens die ringvoorsitters 91 gemeentes en 43,506 lidmate. Dit verskil baie van die 2017 sinodale agenda se 27,000 lidmate. Dit bevestig egter wat al die ringsvoorsitters gesê het, naamlik dat die kerk lidmate verloor! Let op dat oral vermeld word dat erediensbywoning nie as maatstaf gebruik kan word nie bloot omdat dit feitlik nooit sistematies nagegaan en opgeskryf word nie. Almal erken dat net ’n fraksie van die lidmate gereeld in die kerk kom. 50 van die sinode se 92 gemeentes is kleingemeentes volgens Pienaar se definisie (:5) en die meeste van hulle is plattelands. Nege van die 92 gemeentes gebruik Afrikaans as voertaal. By die ander is die Sesotho kultuur en taal gevestig. Wanneer nodig word Engels as kommunikasietaal gebruik.

2.2 Die sosiaal-maatskaplike prentjie in die elf ringe is hartseer. Verreweg die meeste gemeentes is geleë in die armste agtergeblewe woonbuurte. Waar die werkloosheidsyfers en dergelike statistiek bekombaar was, is die armoede en swaarkry oopvlek. ’n Groot aantal lidmate oorleef op regeringstoelaes. Die oorgrote getal gemeentes is plattelandse gemeentes waar werk skaars is. Misdaad is aan die orde van die dag. Kinders wat huishoudings bestuur, word telkens vermeld. Thabong se verslag vermeld dat hulle munisipaliteit in 2011 as die mees korrupte munisipaliteit (R2 biljoen vermis) uitgewys is.

2.3 Bogenoemde het natuurlik ’n ingrypende uitwerking op die gemeentes, ringe en sinode se finansies. Slegs vier gemeentes (Kroonstad, Heatherdale, Heidedal-Suid en Botshabelo (:98, 107) is finansieel gesond, betaal hulle leraars volgens sinodale skaal en kom hul kerkverband verpligtinge na. Die sosiaal-maatskaplike situasie waarin die oorgrote getal gemeentes verkeer, is ooglopend die rede vir die baie vakante gemeentes. Hulle kan nie ’n leraar bekostig nie. Dit is ook die rede waarom die oorgrote aantal leraars in die sinode van buite-inkomste afhanklik is en as tentmakers kwalifiseer. Nog ’n faktor wat hierin ’n rol speel, is die feit dat baie gemeentes nie ’n offervaardigheid kultuur ontwikkel het nie. Dit is deels te wyte aan die feit dat NGK sendelinge, wat deur die NGK gesalarieer is, baie van die gemeentes bedien het. ’n Uiters nadelige gevolg van hierdie situasie is dat geld die belangrikste agenda item in feitlik alle vergaderings geword het. Talle gemeentes voel hulle selfbeeld is gekoppel aan hulle bankbalans. Hulle is suinig om hulle leraars te gee wat hulle toekom. “Survival congregations” fokus op hulleself, hulle oorlewing en verstaan bitter min van missionale identiteit.

2.4 Die gemeentes se sosio-maatskaplike situasie en gepaardgaande finansiële probleme het baie nadelige gevolge. Die grootste daarvan is die gebrek aan doeltreffende leierskap. Die kerk het baie min predikante wat die krisissituasie kan hanteer. Die predikante wat daar is, veg vir hulle eie oorlewing en het soveel verantwoordelikhede van hul eie en ander gemeentes, dat hulle nie deeglike in-diepte teologiese en geestelike werk kan doen wat die groter problematiek aanspreek nie. In verreweg die meeste gemeentes is leierskap en die instandhouding van die basiese gemeentelike funksies van kerkraadslede afhanklik. Die meeste verslae verwys na uitbranding en ooreising van leiers as gevolg van die talle probleme en uitdagings. Slegs in twee uit die 85 gemeentes is vermeld van doelgerigte opleiding wat die konteks aanspreek. Die kerk se missionale identiteit verdrink in die heersende instandhouding- en oorlewingsgerigte kultuur van die gemeentes.

2.5nDie gebrek aan missionale leierskap het ander nadelige gevolge. Een daarvan is konflik in die gemeentes en ringe. Elke ringsverslag getuig daarvan en die meeste gee spesifieke voorbeelde. Dit is duidelik dat die stryd tussen patriarge en matriarge op kerkraadsvlak en ’n magstryd tussen kerkraad leiers en predikante of dan konsulente/tentmakers vrugbare opleiding en bediening lamlê. Nog ’n gevolg van so ’n gebroke situasie is dat die foute of oortredings van leiers nie aangespreek word nie en die betroubaarheid van leiers en van die kerk dus baie skade lei. Die noodwendige sekondêre gevolg hiervan is ’n daling in lidmaattalle wat in ’n bose kringloop die finansies verder verswak. Feitlik al die verslae noem dat lidmate die kerk verlaat om na charismatiese kerke oor te beweeg. As sodanig onderstreep dit die vorige punt van leierskap en leierskap opleiding. Gereformeerde kerke in Afrika het almal die probleem dat hulle nie die diep kontekstuele kultuur skuiwe insien en die missionale en leierskap implikasies daarvan prakties kan verwerk in die bediening nie (Soko, 2010).

2.6 Samevattend het die onderhoude met die ringsvoorsitters van die 11 ringe aangetoon dat die sinode vasgevang is in wat Pienaar gereeld ’n “ekklesiologiese kerkbegrip” noem. Dit beteken die bedieningsmodel is verkondigingsgerig, ’n Prediker wat preek vir ’n gemeente wat stilsit. Dit is ook bekend as die herder-kudde model. Die kerklike sisteem hou die model in stand en gevolglik speel finansies ’n sleutelrol. Omdat die prediking nie die gemeenskaps- en persoonlike problematiek en uitdagings van lidmate en gemeenskap doeltreffend aanspreek nie, maar net hulle geld soek, degenereer die kerk. Daar is nie hoop, visie, drome vir ’n beter toekoms nie. Pienaar pleit dus vir leierskap wat iets verstaan van ’n missionale kerkbegrip. Guder (1998:183) word aangehaal: “the key to the formation of missional communities is their leadership.” Niemand (2013:13) vra vir “nuwe leiers vir nuwe werklikhede.” Uit Harrison se artikel “Missional leadership and theological education” (in Burger, Marais en Mouton, editors, 2017:340) word die wese van ’n missionale ekklesiologie beskryf:

A missional ecclesiology sees the church existing because of and for the sake of God’s mission- a mission of which the purpose is the actualisation of the reign of God; a mission which is about being caught up in God’s self-giving, sending love; and which, as such, includes proclaiming God’s saving Word and enacting the Kingdom in liberating service.

  1. Die situasie in 85 gemeentes van die VGKSA in die Vrystaat/Lesotho

Dit was ’n prestasie om die eerste keer in die kerk se geskiedenis met behulp van ’n omvattende vraelys omvangryke feitelike kwantitatiewe inligting te verkry.5 Hoofstuk 5 van die proefskrif bespreek die proses (Pienaar 2024: 126–161). Die feit dat die navorser die vraelyste van 85 van die 92 gemeentes teruggekry het, spreek boekdele. Die ringonderhoude was kwalitatiewe navorsing. Die vraelyste kontroleer dit en vul dit aan. Konstruktiewe replikasie van die data van die elf ringsonderhoude het geskied.

Pienaar verduidelik (2024:126):

Die vraelyste wat gebruik was, is dieselfde wat gebruik word vir die Kerkspieël navorsing. Kerkspieël is ’n verslag van ’n landswye wetenskaplike opname van die Nederduits Gereformeerde Kerk. Die is ’n spieëlbeeld van die kerk vir die kerk. Die wetenskaplike ondersoek word gelei deur Prof. Kobus Schoeman en Dr. Jan Bisschoff. Die vraelys was aangepas deur die navorser om die konteks van die VGKSA te pas.

Oorsigtelik is die volgende sake deur die vraelys aangespreek:

  1. Die lidmaatgegewens van die gemeente: getalle, oorgekom en vertrek van lidmate, uitreik na nie-lidmate, vrae oor die wegbeweeg van lidmate en die redes daarvoor.
  2. Die eredienste van die gemeente: hoeveelheid dienste, tye, sang, taal (vertaal of tolkdienste) orkeste, kleredrag.
  3. Jeugbediening: alle aspekte van kategese en die jeug/jongmens bediening.
  4. Finansies: inkomstes, uitgawes, begroting gegewens, bestuur van finansies, vergoeding, behuising.
  5. Poste: vrae oor die leierskap en die verhoudings tussen leraars en kerkraadslede asook inligting oor dienswerkers.
  6. Funksionering van die gemeente: uitreike, doelwitstelling, belangrike gebeure, leierskapwyses of style, tegnologie en samewerking.
  7. Kleingroepe en bedieninge.
  8. Betrokkenheid in die gemeenskap: vrae oor sosio-maatskaplike kwessies (misdaad, rassisme, seksisme, MIV/VIGS, armoede).
  9. Verhoudings met kerkverband, ander kerke en gemeentes.
  10. Geleentheid vir kommentaar.

Dit behoort duidelik te wees dat al hierdie data wat saamgevat en verwerk is, die navorser en kerk insae gee in die konteks en situasie in sy gemeentes. Die verskil tussen die groter gemeentes en die 50 kleingemeentes het duidelike kontoere. Die navorser gee die volgende samevatting oor wat die magdom kwalitatiewe data oor die interne lewe van die gemeentes sê (:148–149):

Gemeentes toon afname in hul interne lewe. Die eredienste toon ’n afname. Die eredienste neem nie die behoeftes van die verskillende generasies in ag nie en is nie kinder- en jeugvriendelik nie. Die eredienste help nie lidmate om te groei nie. Die finansies van die gemeentes is krimpend en hou ’n bedreiging in. Die gemeentes het nie genoegsame fondse om hulle verpligtinge na te kom nie. Wat die funksionering van gemeentes aanbetref, funksioneer gemeentes oneffektief in die sin dat sake wat tot die kern van ’n gemeente behoort, disfunksioneel is. Laasgenoemde kan gesien word aan die kwaliteit van die gebedsbediening, gebrek aan ’n georganiseerde evangelisasie bediening, asook ’n oneffektiewe wykstelsel wat nie koinonia bevorder nie. Die disfunksionaliteit lê verder daarin dat gemeentes nie doelwitte daarstel wat rigting aan die gemeente gee nie. Die kern van geloof is om te onderskei na wie toe God Sy gemeente stuur, en dit is nie ’n prioriteit van gemeentes nie. Gemeentes is nie missionêre gemeentes nie, maar gemeentes wat met strukture aangaan wat nie die Missio Dei dien nie. Die gemeentes oorleef net. Die gemeentes is predikant-gedrewe gemeentes.

Wat die gemeentes so eksterne interaksie betref bevind die navorsing (:157):

SACLA het sewe reuse geïdentifiseer wat volgens hulle opnames die gemeenskappe bedreig, naamlik: HIV/Vigs, misdaad en korrupsie, geweld, armoede en werkloosheid, gesinskrissise, seksisme en rassisme. Die vraelyste het spesifiek die gemeentes getoets ten opsigte van hulle betrokkenheid by die euwels in gemeenskappe. Gemeentes erken die bestaan van die euwels, maar toon ’n lae persentasie betrokkenheid by die sosiale euwels. Die antwoorde bevestig dat die gemeentes meer na-binne gerig is as na-buite.

Konstruktiewe replikasie beteken dat een stel data (in hierdie geval die elf ringsonderhoude) deur ’n ander stel data wat op ’n ander wyse nagevors is, bevestig word en uitgebrei of aangevul word. Dit is inderdaad die geval met die inligting verkry deur die vraelyste. Terugskouend is dit duidelik dat die vraelys aanpassing nodig het om beter te kommunikeer met die VGKSA gehoor. Daar is egter ’n genoegsame platvorm geskep om die fokusgroep-onderhoude met vyf kleingemeentes sinvol te kon doen. Die data van die 85 gemeentes se vraelyste word in meer detail gebruik in die navorsing se bespreking van die vyf kleingemeente fokusgroep-onderhoude en kom dus in die volgende afdeling ter sprake.

  1. Data uit vyf fokusgroep-onderhoude met klein gemeentes in gesprek met die ander data

Elf ringsonderhoude en 85 inligtingryke gemeentelike vraelyste bevat baie data oor die 50 identifiseerbare klein plattelandse gemeentes in die sinode. Dit is egter nodig om van die klein plattelandse gemeentes self te hoor, om ’n aanvoeling te ontwikkel van hulle hartklop, om ’n prentjie te kry van hulle eiesoortige identiteit. Die vyf fokusgroep-onderhoude met vyf klein plattelandse gemeentes uit vyf munisipale areas in die Vrystaat gehou is, beantwoord aan hierdie doel (Pienaar 2024:162–210 en Addendums 4–8).

Vyf tot nege mense, mans en vrouens, hoofsaaklik kerkraadslede en die konsulente van die gemeentes, was saam met die onderhoudvoerders teenwoordig. Die navorser wat met die mense en konteks bekend was, het die gesprekke gelei. Die groepe het hom geken en vertrou. Prof Hendriks was ook teenwoordig en het die gesprekke genotuleer. Die ontmoetings het of in ’n kerkraadslid se huis of in die kerkgebou plaasgevind. Die nodige etiese klaring prosedure is verduidelik en die vorms is voltooi. Die navorser het Atlas TI rekenaar sagteware gebruik om die data te kodeer.

Die fokusgroep-onderhoude het vier vrae aan die verteenwoordigers van elke klein gemeente gevra. In Hoofstuk ses van die proefskrif is die vier vrae se antwoorde bespreek in die lig van die resultate van die 85 vraelyste se gegewens (weergegee in hoofstuk vyf van die proefskrif). Die basiese beginsels rakende die teologiese identiteit van die missionale kerk (proefskrif hoofstuk 2) is ook betrek. Die doel van die proefskrif se sesde hoofstuk was om aan te toon waarom die kerk en sy klein plattelandse gemeentes in ’n doodloopstraat verkeer.

Met ander woorde, die proefskrif beweeg van die groter konteks na ’n spesifieke situasie. Die sinodale tendense se uitwerking en effek op die klein plattelandse gemeente word duidelik. Dis asof mens uit ’n dorp na een van die klein huisies wat tipies van die dorp is, stap, ingaan en sien hoe die huisie binne lyk. Jy begin verstaan hoe leef die mense in ’n klein VGKSA plattelandse gemeente.

Die vyf groepsonderhoude is baie goed beskryf en die volledige teks van al vyf onderhoude is beskikbaar in die addendums van die proefskrif (Addendums 4-8). Dit bevat verduidelikende opmerkings ten opsigte van kultureel eiesoortige uitdrukkings en agtergrond. In die meeste onderhoude is drie tale gebruik, Sesotho, Engels en Afrikaans. As ’n vraag aan ’n gespreksgenote gevra is, was dit opvallend dat die antwoorde feitlik konsekwent in die persoon se moedertaal gegee is waarna die bespreking maklik na Afrikaans of Engels oorgeslaan het omdat minder tolkwerk dan nodig was. In sulke situasies kon almal al drie tale verstaan.

Die vier fokusonderhoudvrae word nou bespreek in ooreenstemming met die inhoud van die proefskrif se sesde hoofstuk.

4.1 Wat is die doel van die gemeente? Wat wil God met die gemeente bereik?

As mens die missionale ontwikkeling van die klein plattelandse gemeente wil verstaan en meet, moet dit goed beskryf word. Die navorser (Pienaar 2024:178) verstaan die wese van ’n gemeente soos volg:

  1. Die missionêre praxis van die Drie-Enige God, Skepper, Verlosser en Heiligmaker,
  2. en oor sy liggaam, die kerk, ’n apostoliese geloofsgemeenskap,
  3. op ’n spesifieke tyd en plek (in ’n kontekstuele situasie),
  4. waar lidmate betrokke is in ’n roepingsgebaseerde, konstruktiewe interpretasie van hulle huidige realiteite,
  5. wat in korrelasie gebring word met die Skrif as normatiewe bron en die geloofstradisie,
  6. in ’n strewe om binne hulle situasie die wil van God te onderskei (’n kritiese korrelatiewe hermeneutiek),
  7. om as geloofsgemeenskap ’n teken van die Koninkryk van God te wees, geloofspelgrims op pad na ’n eskatologiese werklikheid,
  8. terwyl hulle gehoorsaam betrokke is by transformasie op verskillende vlakke: persoonlik, kerklik, wetenskaplik, in die gemeenskap en in terme van die ekologie.

Heelwat literatuur verwysings word gebruik om die benadering te boek-staaf (Hendriks 2004:24; Bosch: 1991:392; Burger 1999:77; Gil Rendle & Alice Mann: 2003:3–5; Malan Nel 2015:200). Daarna word aangetoon hoe die klein gemeentes asook die 85 vraelyste gereageer het op die doel van ’n gemeente in terme van sy aanbidding, barmhartigheid, evangelisasie, koinonia, pastoraat, jeugbediening, morele gewete en onderrig of bestuur. Na die bespreking konkludeer die navorser (Pienaar 2024:185):

“In terme van bogenoemde is dit duidelik dat die klein plattelandse gemeentes van Vrystaat/Lesotho:

4.2 Watter verskil maak die gemeente in die gemeenskap?

Wanneer die 85 gemeentes se vraelys response met die 5 klein plattelandse gemeentes se data vergelyk word, met ander woorde as mens na die klein gemeentes se response luister in die lig van die realiteite van die groter streeks en provinsiale konteks, sien jy dat die klein gemeentes se vermoë om enigsins sonder effektiewe leiding van ’n toegeruste leier ’n verskil te maak t.o.v. misdaad, korrupsie, MIV/vigs, geweld, armoede ensovoorts, beperk is. Begrafnisse is belangrik in hierdie gemeenskappe. Daar help hulle mekaar en ander so goed as wat hulle kan. In terme van die groter geheel, maak hulle egter nie veel verskil nie. Die navorser vind op grond van die vraelyste en onderhoude dat dit deels te wyte is aan die afwesigheid van ’n missionale identiteit en leierskap (Pienaar 2024:194).

4.3 Hoe sou u die finansiële posisie van die gemeente beskryf, gee redes?

Na ’n opsomming van wat teologiese literatuur oor gemeentelike finansies sê (:195–197) word die vraelyste en onderhoude se navorsinggegewens bespreek. Oorhoofs is dit duidelik dat finansies die gemeentelike agenda oorheers. Die klein plattelandse gemeentes se gemiddelde maandelikse inkomste was ten tyde van die navorsing tussen R600 en R1 000 per maand met pensioenarisse die getrouste bydraers! ’n Gebrek aan offervaardigheid en konflik oor finansies is tiperend van die oorlewingstryd van hierdie gemeentes.

4.4 Wat dink u is die rol van die leierskap in die gemeente?

Na ’n opsomming van die teologie van missionale leierskap word die vraelyste en onderhoude se antwoorde op leierskapsvrae geanaliseer. Dit is duidelik dat die konsep van missionale leierskap nie verstaan word nie en dat die oorheersende model van leierskapdenke en -verwagtinge die herder-kudde model is. Leiers moet die gemeente in stand hou en sorg dat daar genoeg geld is vir die dominee / konsulent se besoldiging, eredienste, begrafnisse, huisbesoek en voortbestaan funksies. Die navorsing se inligting oortuig die navorser dat missionale leierskap van “bo,” van voltydse leraars tot tentmakers en konsulente, ontbreek. In die lig van die navorser se verstaan van ’n missionale ekklesiologie, hierbo saamgevat in agt stellings, is dit duidelik dat die sinode in die geheel, in sy groot en klein gemeentes, vasgeloop is. Die herders is nie toegerus of gemotiveerd (of weens hulle eie uitdagings om te oorleef) nie in staat om die kudde na groener weivelde te begelei nie.

  1. Slotopmerkings

Die navorsing toon duidelik: die gemeentes, met enkele uitsonderings, die VGKSA Sinode Vrystaat/Lesotho as kerk, is vasgeloop. Dit is op ’n afdraande pad waar daar beswaarlik omdraai hoop is. Dit is die eerste navorsing wat die situasie in die VGKSA Sinode van die Vrystaat/Lesotho onomwonde aantoon. Die tendense is in ander VGKSA sinodes, en die kerk in sy geheel sigbaar, hoewel nie so onomwonde met navorsing uitgespel nie.6

In sy tweede hoofstuk beskryf Pienaar missionale leierskap (2024:16–58). Die hipotese is dat missionale leierskap die sleutel bied tot die omdraai van ’n vasgeloopte situasie. Addendum 9: The Uniting Reformed Church Mariental, its plight and role in a rural society, is ’n gevallestudie van hoe dit in dié klein plattelandse gemeente in Namibië gedoen is. Dit is ’n opsomming van Pienaar se MTh studie (:1998). Een van die skrywers van hierdie artikel het destyds besoekers en finale jaar teologie studente Mariental toe geneem sodat hulle ’n klein plattelandse gemeente waar dit goed gaan en mense se lewens verander het, armoede opgehef word, en probleme effektief aangespreek word, fisies kan sien en beleef. Pienaar was twee keer op Mariental. Die eerste keer tussen 1993–1996, daarna te Steinkopf 1996–1998 en toe weer Mariental tussen 1998–2005. Daarna is hy beroep na Heatherdale, Bloemfontein, waar die proses van ’n gemeente en gemeenskap omdraai, duidelik waarneembaar was (2007–2015). Heatherdale was een van die 4 gemeentes in die VGKSA sinode wat al sy finansiële verpligtinge nagekom het. Die leraar is op skaal vergoed en die gemeenskap se grootste probleme is aangespreek. Die Pienaar familie moes ’n bitter prys vir die werk betaal toe hulle seun sy lewe daar verloor het. Pienaar het terugbeweeg Namibië toe en sy spoor kan daar gevolg word. Die punt is dit: Pienaar demonstreer en leef missionale leierskap. Tans is hy Predikant in Sinodale diens in die Ned Geref Kerk met opdrag: Kleingemeente ontwikkeling en Missionale Teologie. Hy reik uit of help klein gemeentes van al die hoofstroomkerke in Namibië.

Vasgelooptheid is nie onomkeerbaar in die VGKSA nie.

Die skrywers wil ten slotte na bronne verwys waar die tipe uitdagings wat in die proefskrif uitgewys word, bevestig word en hanteer word.

Die empiriese navorsing het telkens vermeld dat die kerk lidmate verloor wat na charismatiese kerk oorbeweeg. Al die Gereformeerde familie se kerke getuig hiervan. Lukas Soko (2010) se PhD navorsing het die tendens in Zambië beskryf. Sy studie is in drie artikels verwerk (Hendriks & Soko, 2011a, b en c). Sonder insig in en aanpassing by die spiritualiteit en die kultuur van Afrika, sal geen Westerse of dan Protestantse kerk van oorsprong tot die hart en siel van ons kontinent se mense kan deurdring nie.7 Gereformeerde kerke se klem op die Woord en Belydenisskrifte is goed en reg, maar meer as net ’n leer, of dan ’n sistematiese teologiese benadering, is nodig.8

Wat ook uit die navorsing duidelik is, is dat VGKSA lidmate in die Vrystaat/Lesotho sinode nie bemagtig is om die nood om hulle doeltreffend aan te spreek nie.

Dit is meer as bekend dat die vrouediens, die Women’s Guild, die aktiewe hart en wese van die kerk in Afrika is. In die Reformed Church in Zimbabwe (RCZ) het Rutoro belangrike navorsing in die verband gedoen. Deur die vrouediens en gewone lidmate te bemagtig, het dié kerk veel bereik om vroue toe te rus en om hulle in leierskap te betrek (Rutoro 2007 en Rutoro en Hendriks 2008).

Missionale leierskap is in die RCZ duidelik geïllustreer. Toe die Tonga mense se lande deur die bou van die Kariba dam oorspoel is, het die RCZ na hulle in hul bestaansnood doeltreffend uitgereik (Munikwa 2011; Munikwa en Hendriks 2011).

Daar is talle voorbeelde binne Gereformeerde kerke in Afrika van wat bereik kan word indien vroue en lidmate bemagtig word om nood aan te spreek. Die organisasie Network for African Congregational Theology (NetACT) is in 2000 in Lusaka, Zambië, gestig en sy eerste lede was die teologiese skole van die kerke wat uit die NGK se sendingwerk ontstaan het.9 Die netwerk is deur die realiteit van die HIV-VIGS pandemie gekonfronteer en moes onmiddellik optree om teologiese skole se kurrikulums aan te pas met programme wat die nood kon aanspreek.

Dit was binne twee jaar duidelik dat vroue die sleutel tot ’n suksesvolle HIV-VIGS bediening was. Drie boeke, waarin vroue se bydraes deurslaggewend was, sien die lig (Rachel Mash en ander 2007: Our church has AIDS; Elna Mouton, Elisabet le Roux en ander, 2012: Men in the pulpit, women in the pew; addressing gender inequality in Africa; Elna Mouton en ander, 2015: Living with dignity, African Perpectives on Gender Equality). NetACT het groot sukses in Afrika behaal omdat dit teologiese skole bemagtig het om met ’n missionale hermeneutiek te werk en omdat hulle vroue10 help bemagtig het (Hendriks 2015).

Gereformeerde kerke kan suksesvol in Afrika bedien en die Koninkryk van God sien kom. By die 2000 byeenkoms van die International Society for the study of Reformed Communities is tien referate uit ses Afrikalande gelewer, onder andere Pienaar se referaat oor Mariental (Pienaar 2001:16–23 in: Hendriks en ander, 2001). Die Europese en Amerikaanse kontingent teoloë was stomgeslaan oor die groei en aanpasbaarheid van die Afrikane. In een stadium is ’n referaat oor die groei van die kerk in Mosambiek onderbreek toe die Europese gehoor die voorsitter van die vergadering gevra het of dit regtig waar is wat die referent vertel (Chikakuda 2001). Die voorsitter kon dit bevestig want hy was in Mosambiek en het heelwat navorsing oor die groei tot sy beskikking gehad.

Die uitstekende artikel van Pieter Grove (2021) help ook om die konteks te verstaan, The Claims of Diversity: The Uniting Reformed Church, Diversity and Qualitative Unity, in Mary Anne Plaatjies-Van Huffel se Festschrift. Soos Russel Botman al in 1995 (:164–172) opgemerk het, is die geheim tot die verstaan en implementering van kerkeenheid, geleë in die hantering van diversiteit.

Grove behandel die stryd rondom kerkeenheid en diversiteit deur oorsigtelik die Suid-Afrikaanse situasie onder kolonialisme en apartheid te skets en hoe die Belhar belydenis die einde daarvan ingelei het.11 Die diverse groepe gereformeerdes in Suid-Afrika het toe, tot hulle skok, besef dat daar nie iets soos ’n outomatiese eenheid-struktuur as gevolg van een nuwe belydenis op hulle gaan neerdaal nie. Kultuur en mense is op baie maniere divers en daarmee moet rekening gehou word. Kerkreg en kerkorde-regering, behoud van mag deur bepaalde groepe of leiers, het gelei tot ontnugterende en duur hooggeregshofsake12 waarvan die VGKSA Sinode van die Vrystaan/Lesotho maar te bewus van is.

Grove wys daarop (2021:14) dat die kerk moet leer om binne eenheid-strukture ruimte te laat vir sosio-kulturele diversiteit. Politieke partye en kerke skep al te maklik ’n kultuur van “oorheersing-hieragieë.” Diversiteit word dan gebruik om bepaalde groepe eenkant te rangeer of om hulle te beheer. Die gevolg is dat die groepe dan nie tot hul reg kom en in die gesamentlike gemeenskap van gelowiges nie en of wegbreek of in die lidmate-verloor spiraal vasgevang raak.

Ten slotte: Bakengemeentes: nagedink oor roeping en getrouheid, (Bosman, Maritz en Van Jaarsveld, 2025) het pas verskyn. Die boek is ’n teksboek van hoe om te werk te gaan in ’n vasgeloopte gemeente.

Die slotopmerkings illustreer Pienaar se sleutelhipotese: die kerk het missionaal gefokusde leierskap nodig om in ’n totaal nuwe wêreld en konteks13 die Drie-Enige God se leiding te soek en volg.

Bibliografie

Adedibu, B.A., & Igboin, B.O. (editors). (2018). Changing Faces of African Pentecostalism, Akungba-Akoko, Ondo State, Nigeria, Adekunle Ajasin University Press.

Agenda van die Sewende Sinode sitting VGKSA-Vrystaat en Lesotho, 2–8 Oktober 2017.

Anderson, R. (2001). The Shape of Practical Theology. Empowering Ministry with Theological Praxis. Downers Grove, Illinois: IVP Academic. Intervarsity Press.

Bosch, D.J. (1991). Transforming mission: Paradigm shifts in theology of mission. Maryknoll: Orbis.

Bosman, Lourens; Maritz, Marelize en Van Jaarsveld, Mias, 2025, Bakengemeentes: nagedink oor roeping en getrouheid. Barnabas Academic Publishers, CLF Uitgewers, Wellington.

Botman, R. (1995). Dealing with diversity, in Buchanan, D. & Hendriks, J. Meeting the future. Randburg: Knowledge Resources.

Burger, C. (1999). Gemeentes in die kragveld van die Gees. Stellenbosch: BUVTON.

Burger, C., Marais, F. & Mouton, D. (editors), (2017). Cultivating Missional Change. The Future of Missional Churches and Missional Theology. Wellington, SA: Biblecor.

Chikakuda, W. (2001). The rapid growth of the Reformed Church of Mozambique, in Hendriks, H.J., Luidens, D.A., Nemeth, R.J., Smith, C.E. & Stoffels, H. Reformed encounters with modernity: Perspectives from three continents, Cape Town: Nasionale Pers. 42–47.

Forster, Dion & Wessel Bentley. (2008). What are we thinking? Reflections on church and society from Southern African Methodists. Methodist Publishing House, Cape Town.

Grove, P.J. (2021). The Claims of Diversity: The Uniting Reformed Church, Diversity and Qualitative Unity, https://orcid.org/0000-0002-4868-8612 In Studia Historiae Ecclesiasticae, Festschrift: Mary-Anne Elizabeth Plaatjes-van Huffel, Unisa Press Journals, Archives, 47(2) (2001):1–18. https://doi.org/10.25159/2412-4265/8286 [Online]. Available: https://upjournals.co.za/index.php/SHE/index ISSN 2412-4265 ISSN 1017-0499 (Print).

Guder, D.L. (Ed). (1998). Missional Church: A vision for the sending of the church in North America. Grand Rapids: William B. Eerdmans Publishing Company.

Harrison, M. (2017). Missional leadership and theological education (338-353). In Burger, C., Marais, F. & Mouton, D. (editors). Cultivating Missional Change. The Future of Missional Churches and Missional Theology. Wellington, SA: Biblecor.

Hendriks, H.J., Luidens, D.A., Nemeth, R.J., Smith, C.E. & Stoffels, H. (2001). Reformed encounters with modernity: Perspectives from three continents. Cape Town: Nasionale Pers.

Hendriks, H. Jurgens, Mouton, Elna, Hansen, Len & Le Roux, Elisabet (2012). Men in the pulpit, women in the pew? Addressing gender inequality in Africa. Stellenbosch: SUN Press.

Hendriks, H.J. & Soko, L. (2011a). Pentecostalism and schisms in the Reformed Church in Zambia 1996-2001. Dutch Reformed Theological Journal, 52(1&2):105–117.

Hendriks, H.J. & Soko, L. (2011b). Pentecostalism and schisms in the Reformed Church in Zambia 1996-2001: Listening to the people … Hervormde Theological Journal, 67(3). Theuns Dreyer Festschrift.

Hendriks, H.J. & Soko, L. (2011c). Pentecostalism and schisms in the Reformed Church in Zambia 1996-2001: Contextual and identity changes … Acta Theologica, 2:89–110.

Hendriks, H.J. (1992). Strategiese Beplanning in die gemeente. Wellington: Hugenote.

Hendriks, H.J. (2004). Studying Congregations in Africa. Wellington: Lux Verbi.

Hendriks, H.J. (2012). Die toekoms van die klein plattelandse gemeente. Hervormde Teologiese Studies, 68(20):1–8.

Hendriks, H.J. (2013). Contextualising theological education in Africa by doing theology in a missional hermeneutic. In I. Phiri & D. Werner (eds.). Handbook for Theological Education in Africa. Genève: WCC-Cluster.

Hendriks, H.J., Luidens, D.A., Nemeth, R.J., Smidt, C.E., & Stoffels, H. (2000). Reformed encounters with modernity, perspectives from three continents. South Africa: Print24.com.

Hofmeyr, J.W. (1996). Kerkvereniging en Kerkreg, Geskiedenis, beginsel en praktyk. Skrif en kerk, 17(2):329–346. ISSN 0257-8891.

Kalu, O.U. (2008). African Pentecostalism. An introduction. Cape Town: Oxford.

Konig, A. (1998). Vernuwe of verdwyn, Hoe oop is die NG Kerk vir verskillende vorme van aanbidding? Kaapstad: Lux Verbi.

Mann, A. (2010). CRG Congregational Resource Guide: The Smaller Congregation – Pathways in challenging times. [Online]. Available: www.congregationalresources.org

Mash, Rachel; Cilliers, Johan; Griffiths, Keith; Chemorion, Edith & Katani, Archwells (eds.) (2009). Our church has AIDS: Preaching about HIV and AIDS in Africa today. Stellenbosch: NetACT.

Mouton, Elna; Kapuma, Gertrude; Hansen, Len & Togom, Tomas, (Eds), (2015). Living with dignity, African perspectives on gender equality. Stellenbosch: Sun Press.

Munikwa, C, & Hendriks, H.J. (2011). The Binga outreach: Towards intercultural mission in the Reformed Church in Zimbabwe. Dutch Reformed Theological Journal, 52(3):453–464. [Online]. Available: http://ngtt.journals.ac.za/pub/article/view/55

Munikwa, C. (2011). The Binga outreach: contextualisation of mission in the Reformed Church in Zimbabwe. Ongepubliseerde proefskrif Universiteit van Stellenbosch. [Intyds]. Beskikbaar: http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/6598

Ndukwe, O. (2011). Celebration of life, religion and mission. The victims of society – a theological engagement. Nigeria: Preciousgrace Publishers.

Niemandt, N. (2019). Missional Leadership. Cape Town: Juta.

Niemandt, N. (2013). Nuwe Leiers vir nuwe Werklikhede. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Onwunta, U.A. (2010). Ethnicity and the mission of the church in Nigeria: A Presbyterian perspective. Elelenwo, Port Harcourt, Rivers State, Nigeria: Josany Press.

Osmer, R. (2008). Practical Theology. An Introduction. Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdmans Publishing Company.

Pienaar, Z.C. (1998). ’n Meganiese en organiese prosesanalise van die Verenigende Gereformeerde Kerk Mariental. Ongepubliseerde M.Th verhandeling. Universiteit Stellenbosch.

Pienaar, Z.C. (2000). The Uniting Reformed Church Mariental: Its plight and role in a rural society. In Hendriks, H.J., Luidens, D.A., Nemeth, R.J., Smith, C.E. & Stoffels, H., (2001). Reformed encounters with modernity: Perspectives from three continents. Cape Town: Nasionale Pers.

Pienaar, Z.C. (2024). Die missionale ontwikkeling van die klein plattelandse gemeentes: ’n empiriese ondersoek na die VGKSA Vrystaat/Lesotho. Ongepubliseerde PhD verhandeling, Universiteit van die Vrystaat.

Plaatjies-Van Huffel, M.A. &Van der Merwe, J.M. 2012, Die reis met kerkeenwording tussen die Verenigende Gereformeere Kerk in Suid-Afrika en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika. Verbum et Ecclesia, 33(1): Art. #724. http://dx.doi.org/10.3201/ve.v33i1.724

Plaatjies-Van Huffel, Mary-Anne & Leepo Modise, (editors). (2017). Belhar Confession; the embracing confession of faith for church and society. Stellenbosch: SUN Press.

Rendle, G. & Mann, A. (2003). Holy Conversations: Strategic Planning as a Spiritual Practice for Congregations. New York: The Alban Institute.

Rutoro, R. & Hendriks, H.J. (2008). Attitudes towards women in leadership structures in the Reformed Church in Zimbabwe. Dutch Reformed Theological Journal, 49(1&2):40–52.

Rutoro, R. (2007). Lay leadership development in the Reformed Church in Zimbabwe. Ongepubliseerde PhD proefskrif Universiteit Stellenbosch. SUNScholar. http://hdl.handle.net/10019.1/5490

Saayman, W. (2017). Unity and Diversity: An overview of the URCSA decisions on Church Unity since 1994. In Belhar Confession: The Embracing Confession of Faith for Church and Society, edited by Mary-Anne E. Plaatjies-Van Huffel and L. Modise. 119–130. Stellenbosch: African Sun Media

Sanneh, L., & Carpenter, J.A. (2005). The changing face of Christianity, Africa, the West and the world, Oxford: Oxford University Press.

Schoeman, W.J. (2015). Exploring the practical theological study of congregations. Acta Theologia, 35(Suppl. 22):64–84.

Soko, L. (2010). A practical theological assessment of the schisms in the Reformed Church in Zambia (1996-2001). DTh thesis, Stellenbosch University. Accessed: 15 Dec. 2010. http://hdl,handle,net/10019,1/5454

Stückelberger, C & Jesse N.K. Mugambi (editors). (2009). Responsible leadership: global and contextual ethical perspectives. Geneva: WCC publications.


  1. 1 Pienaar, Z.C. 2024, Die missionale ontwikkeling van die klein plattelandse gemeentes: ’n empiriese ondersoek na die VGKSA Vrystaat/Lesotho. Ongepubliseerde PhD verhandeling, Universiteit van die Vrystaat. Volg die volgende skakel en instruksies om die PhD af te laai: PhD tesisse van UOVS, Praktiese Teologie: https://scholar.ufs.ac.za/collections/fe80978b-8bc9-437c-a405-76042ddad243

  2. 2 Agenda van die sewende sinode sitting VGKSA-Vrystaat en Lesotho, 2–8 Oktober 2017.

  3. 3 Pienaar (2024:59–81) het ’n hoofstuk wat die literatuur oor klein (plattelandse) gemeentes bespreek. Die artikel werk teen die agtergrond daarvan.

  4. 4 Volgens Pienaar (:100) is die getalle ontleen aan die agenda van die sewende sitting van die V.G.K.S.A-Vrystaat en Lesotho wat tussen 2 tot 8 Oktober 2017 plaasgevind het. In die proefskrif verwys verskillende bronne na data wat soms grootliks verskil.

  5. 5 Die vraelys wat gebruik is, is in die PhD dissertasie volledig beskikbaar in Afrikaans, Engels of Sesotho (Addendums 1–3) Pienaar 2024:232–249.

  6. 6 ’n Uitstekende werk in die verband, wat in ’n heel ander konteks ontstaan het, maar wat die realiteit van kultuurverandering, diversiteit en aanpassings uitstekend teologies ontleed, is Adrio König, 1998, Vernuwe of verdwyn, hoe oop is die NG Kerk vir verskillende vorme van aanbidding? Lux Verbi, Kaapstad.

  7. 7 Van die bekendste werke wat die stelling bespreek is Kalu, O.U., 2008, African Pentecostalism. An introduction, Oxford, Cape Town. Die charismatiese beweging het egter baie gesigte in Afrika. In die verband is Adedibu, B.A., & Igboin, B.O., (editors), 2018, Changing Faces of African Pentecostalism, Akungba-Akoko, Ondo State, Nigeria, Adekunle Ajasin University Press, waardevol.

  8. 8 Goeie voorbeelde van hierdie prosesse in die Nigeriese Presbyteriaanse kerk in Afrika, gebore in die kolonialisme tydperk, is: Onwunta, U.A., 2010, Ethnicity and the mission of the church in Nigeria: A Presbyterian perspective, Josany Press, Elelenwo, Port Harcourt Rivers State, Nigeria; asook: Ndukwe, O, 2011, Among the nations: rebranding the Christian church for a disappointed world, Preciousgrace, Nigeria.. Wat die Metodiste betref is die volgende publikasie van hulp: Forster, Dion & Wessel Bentley, 2008, What are we thinking? Reflections on church and society from Southern African Methodists. Methodist Publishing House, Cape Town.

  9. 9 https://www.sun.ac.za/english/faculty/theology/Pages/NetACT.aspx;

  10. 10 ’n Waardevolle bron rakende vroue, die rol van vroue en die belangrikheid van die familie is: Stückelberger, C & Jesse N.K. Mugambi (editors), 2009, Responsible leadership; global and contextual ethical perspectives, WCC publications, Geneva.

  11. 11 Agtergrond oor die Belhar belydenis, sy ontstaan en invloed, is onontbeerlik vir die verstaan van die VGKSA. In die verband is ’n essensiële bron: Plaatjies-Van Huffel, Mary-Anne & Leepo Modise, (editors), 2017, Belhar Confession; the embracing confession of faith for church and society. SUN Press, Stellenbosch.

  12. 12 Supreme Court of Appeal of South Africa. Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (OVS) en ’n Ander versus Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika (536/1996) [1998] ZASCA 111 (27 November 1998) Copy; Media Neutral Citation [1998] ZASCA 111 Copy

  13. 13 Lamin Sanneh is altyd baie werd om Afrika te verstaan. Sanneh, L, & J.A. Carpenter, The changing face of Christianity, Africa, the West and the world, Oxford University Press, Oxford.