Stellenbosch Theological Journal 2026, Vol 12, No 1, 1–22

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2026.v12n1.a18

Online ISSN 2413-9467 | Print ISSN 2413-9459

2026 © The Author(s)

Die “Algemeen Reglement” van 1824.
Die invloed van Skots-Presbiteriaanse ekklesiologie op die eerste Kerkorde in Suid-Afrika

GJ Duursema

Universiteit van Pretoria

gertduursema@outlook.com

Abstract

The “Algemeen Reglement van 1824”.
The influence of Scottish Presbyterianism on the first church order in South Africa

The first General Synod of the Dutch Reformed Church in 1824 undertook to draft ecclesiastical regulations to curb disorderly conduct by some ministers and church members. To this end, the Algemeen Reglement voor het bestuur der Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika was formulated. The prevailing narrative maintains that the church order of 1824 corresponds largely with its 1816 Dutch counterpart. This article will show that Scottish Presbyterian ecclesiology and polity played the decisive role, rather than Dutch ecclesiology and polity.

This is brought to light through comparing the 1824 Algemeen Reglement and the 1816 Algemeen Reglement voor het bestuur der Hervormde Kerk in het Koninkrijk der Nederlanden. The study thoroughly examined and analysed relevant primary sources, archival materials, and pertinent secondary literature.

South African circumstances also compelled the Synod to introduce tailored ecclesiastical regulations. Thus, multiple traditions also shaped the development of this regulation.

Keywords

Church order; General Reglement; General Synod; Netherlands; Presbyterian; Scottish

Trefwoorde

Algemeen Reglement; Algemene Sinode; Nederlands; Presbiteriaans; Skots

Die kerkregtelike ontwikkeling in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (voortaan NGK) in die vroeë negentiende eeu, is meer gekompliseerd as wat algemeen aanvaar word. Die tradisionele inbeelding is dat “kerkorde” van 1824, die Algemeen Reglement voor het bestuur der Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika (voortaan AR-1824) nie alleen in naam nie, maar ook inhoudelik in ’n groot mate met die Nederlandse Algemeen Reglement voor het bestuur der Hervormde Kerk in het Koningrijk der Nederlanden van 1816 (voortaan AR-1816) ooreenstem. Volgens Coertzen is daar duidelike aanduidinge dat AR-1824 hom aan die Skrif en belydenisskrifte wou hou.1 Kleinhans skryf dat hy – soos ook prof. F.J.M. Potgieter en dr. J.D. Vorster – oortuig is dat AR-24 grondig na die beginsels van die Dordtse Kerkorde gewysig was.2 Hieronder word aangetoon dat hierdie standpunte nie water hou nie, maar ook dat die Nederlandse invloed heelwat kleiner is as wat bogenoemde geleerdes en ander vermoed.

Die artikel sal vanuit die primêre bronne aantoon dat verskeie teologiese tradisies die formulering van AR-1824 beïnvloed het. Op die tafel was die Kerkorde van de Mist en AR-1816. Die Nederlandse tradisies wat predikante wat daar studeer het, met hulle saamgebring het, asook die Skots-Presbiteriaanse kerkreg en ekklesiologie wat die Skotse predikante en –sendelinge op hulle beurt saamgebring het, het ook ’n rol gespeel.3 Ook die ekklesiologie van evangelikaliese herlewings in Brittanje, die Nederlandse Réveil, die piëtisme en puritanisme kan nie buite rekening gelaat word nie. Plaaslike omstandighede het die sinode genoodsaak om eiesoortige order-reëlings te tref. Die navorsing toon egter aan dat die Skots-Presbiteriaanse kerkreg en ekklesiologie ’n beduidende – selfs die grootste invloed gehad het – groter as dié vanuit Nederland.

  1. Die NGK in die negentiende eeu

Daar was geen meerdere vergadering om hulp te verleen wanneer byvoorbeeld ’n kerkraad nie daarin kon slaag om orde te herstel nie, of waarheen geappelleer kon word wanneer ’n lidmaat of ’n kerkraad verontreg gevoel het deur die gang van sake nie. Ook is ’n begeerte aan ordereëls om onordelike en onverskillige lewenswyses van sommige predikante en lidmate hok te slaan, uitgespreek. Die formulering van AR-1824 was die belangrikste werksaamheid van die eerste Algemene Sinode van die NGK.

Die fungerende ordereëls waarkragtens die eerste Algemene Sinode van die NGK byeengeroep was, is in artikel 46 van die Kerkorde van de Mist van 1804 vervat. Dié kerkorde, soos trouens die hele Bataafse bestel, adem die liberale gees van die Verligting en noem die Kerk uitsluitlik ’n kerkgenootskap.4 Die Kerk word as ’n vrye vereniging of genootskap beskou – taaleie aan die genootskaplike (kollegialistiese) kerkreg. Ook praat hy uitsluitlik van die “Hervormd Kerk-genoodschap”. AR-1824 sou nie hieraan verander nie.

Die NGK was in die negentiende eeu nie demografies, kerklik of teologies homogeen nie. Dertien predikante is afgevaardig na die sinode van 1824. Hulle het uit verskillende teologiese tradisies gekom. Die Suid-Afrikaans gebore moderator van die Algemene Sinode, ds. J.C. Berrange het ná sy opleiding twee gemeentes 22 jaar lank in Nederland bedien.5 Op 45-jarige ouderdom word hy deur die Britse regering na Swellendam verplaas.6 Hy was bekend met die Nederlandse kerkregtelike inrigting. Ses ander, di. H. von Manger, Abraham Faure, Cornelis Mol, J. Scholtz, J. Spijker en J.R. Kicherer is kerkregtelik deur prof. H.J. Royaards aan die Utrechtse Universiteit gevorm.7 Die dominante teologiese stroming in dié periode aan Utrecht was dié van die supranaturalisme. Bogenoemde predikante het gevolglik ’n supranaturalistiese vertolking aan AR-1816 gegee.8 Ds. Tobias Herold het in Leiden gestudeer.

Vier predikante by die sinodesitting was voormalige sendelinge van die Londense Sendinggenootskap: die Suid-Afrikaans gebore Abraham Faure, J.J. Kicherer (van Duitse afkoms) en die Skotte, dr. George Thom en John Taylor. Vier Skotse predikante: Andrew Murray (sr.), Alexander Smith, Colin Fraser en Henry Sutherland was ook teenwoordig. Hulle is in die Skots-Presbiteriaanse ekklesiologiese geskool. Uitgesonderd Kicherer, het hulle onder die invloed van die piëtisme en puritanisme wat in daardie jare ’n hoogbloei in Brittanje beleef het, gekom. Kicherer het op sy beurt onder die invloed van die Nederlandse Réveil gekom. Abraham Faure studeer aanvanklik aan ’n puriteinse kollege vir sendelinge in Gosport, Engeland, en is nie onbekend met die Skots-Presbiteriaanse kerkreg nie.

Die benaming van die “kerkorde” van 1824, Algemeen Reglement voor het bestuur der Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika, stem byna verbatim met die titel van die Nederlandse Algemeen Reglement voor het bestuur der hervormde kerk in het Koningrijk der Nederlanden van 1816 ooreen. Op die klank van die woord af, sou die eerste reaksie wees dat die twee reglemente tot ’n groot mate met mekaar ooreenstem. Prof. H.J. Royaards – een van die beste verteenwoordigers van die kollegialistiese kerkreg9 – was ook dié mening toegedaan. Hy skryf: “Niet alleen in de hoofdtrekken, maar evenzeer in bijzondere bepalingen zoekt men telkens de Nederlandsche instellingen, […] over te nemen en bij beraadslagingen zich daarnaar te regelen”.10

Andrew Murray (sr.) was ’n ander mening toegedaan. In ’n brief gedateer 20 Januarie 1842 (10 maande voor die volgende vergadering van die Algemene Sinode), reageer hy op navraag van sy seuns, John en Andrew, wat in Skotland studeer, en wat hom versoek het om die “Constitution of the D.R. Church in South Africa” te beskryf. Hy antwoord: “This church is Presbyterian, has its Sessions (kerkrade), Presbyteries (ringe) and Synod”.11 Die brief is geskryf voordat ’n nuwe kerkorde in 1842 aanvaar is, en reflekteer dus die kerkregtelike situasie sedert 1824 soos hy dit verstaan het.

  1. Die invloed van dr. George Thom en die Skotse kerkreg

Thom was invloedryk. Hy word allerweë beskou as die stigter van die Presbiteriaanse Kerk in Suid-Afrika.12 Aanvanklik was hy superintendent van die Londense Sendinggenootskap aan die Kaap. Hy verlaat die genootskap omdat hy met die genootskap ontnugterd geraak het oor die immorele gedrag van sommige sendelinge, die verkwisting van fondse, onderlinge naywer en jaloesie, swak salarisse, ensovoorts. J Evans en John Taylor het hom nagevolg. Thom word deur lord Charles Somerset in 1818 aangestel as leraar van die Gemeente op Caledon. Hy word later deur Somerset versoek om Skotse predikante vir Suid-Afrika te werf. Genoemde vier Skotse predikante is deur hom gewerf. Die Universiteit van Glasgow ken in 1821 ’n eredoktorsgraad aan hom toe.13

Thom sou ’n belangrike stem by die sinode wees. Hy dien as assistent-skriba vir die vergadering.14 Hy dien twee “beskrywingspunte” in. Die eerste bestaan uit vyf-en-twintig artikels: Proposed Fundamental Regulations, to be considered by the Very Reverend the Synod of the Colonial Reformed Churches in convocation 2nd November 1824. Later lê hy ’n verdere agt Temporary Propositions and Regulations voor.15 Van Thom word geskryf: “He made a most valuable contribution by drafting rules which dealt with certain aspects of the church discipline and administration of the Dutch Reformed Church in South Africa.”16. In ’n MA-verhandeling geskryf onder leiding van die historikus, professor D.J. Kotze, was dié voorlegging, die bespreking en implementering van dié dokumente, die belangrikste bydrae by die sinode. Hy was die enigste predikant wat vooraf voorstelle aan die sinode voorgelê het. Botha voer aan dat die kerkorde wat deur die Sinode aanvaar is, grotendeels ’n uitbouing van Thom se voorstelle was.17

Thom kom uit ’n tradisie van Skots-Presbiteriaanse kerkreg en ekklesiologie18 met Puriteinse ondertone. Hy studeer aan die Gosport Academy onder Dr David Bogue, ’n stigterslid van die Londense Sendinggenootskap. Gosport was sterk beïnvloed deur die Puriteine. En “George Thom was a product of the Evangelical Revival in Great Britain”.19

2.1 Wysigings deur Thom voorgestel

Voorstel 25 van dr. Thom se Proposed Fundamental Regulations stel egter voor dat “[t]hat all the regulations of the Dutch and Scottish Reformed Churches, so far as they apply to this Colony, should be examined and applied here (Kursief aangebring)”.20. Klaarblyklik dien AR-1816 as basisdokument vir AR-1824. Dit blyk dat die sinode wel Thom se voorstel gevolg het, en dit het meegebring dat daar substansiële verskille tussen AR-1816 en AR-1824 voorgekom het.

Die eerste opvallende verskil is dat die onderverdeling van die twee dokumente aansienlik verskil. AR-1816 het sewe afdelings met 93 artikels, terwyl AR-1824 net vyf afdelings het, met ’n aantal onderafdelings en hoofstukke van onderskikkende verband, asook 137 artikels. Daarbenewens het AR-1824 ’n reglement vir “Personen welke begeeren oefening te houden” met agt artikels waarvan artikel vier ses onderafdelings het. Inderwaarheid stem slegs (die opskrifte van) drie onderafdelings van die twee reglemente ooreen, maar binne dié afdelings is daar verskille.

Sowel AR-1816 as AR-1824 se eerste twee afdelings handel oor “Algemene Bepalings” en oor die “Algemene Sinode”. AR-1824 se derde afdeling handel oor die gemeente terwyl dit in AR-1816 eers aan die einde in afdeling 7 aan die beurt kom. Verder het die “Algemene Bepalings” van AR-1824 net uit agt artikels bestaan, terwyl AR-1816 uit vyftien artikels bestaan het. So bestaan afdeling twee (oor die “Algemene Sinode”) van AR-1824 net uit tien artikels, terwyl AR-1816 uit vyftien artikels bestaan. Oor gemeentes het AR-1824 een artikel minder as AR-1816 opgeneem – nege en tien respektiewelik. Saamgevat: net 27 van AR-1824 se 137 artikels stem min of meer ooreen met die artikels in AR-1816. Daarbý is dit nie kopieë van AR-1824 nie, maar daaraan is (soms) substansiële veranderinge aangebring.

Ook op 9 November 1824 word ’n aantal van Thom se Fundamental Regulations bespreek. Voorstel 13, dat predikante nie sonder toestemming in ’n ander gemeente ampswerk mag verrig nie, is opgeneem in AR-24, artikel 25 (dit het raakpunte met die Dordtse Kerkorde, artikel 15). Ook voorstelle 14 en 15 met min of meer dieselfde strekking, is aanvaar en respektiewelik opgeneem in artikels 26 en 27. Voorstel 16 – dat predikante moet omsien na die versorging van sy gemeente tydens ’n langdurige afwesigheid – word in artikel 28 opgeneem.21 Die Presbiteriaanse Second Book of Discipline, hoofstuk 4.5 het ’n gelykluidende regulasie. Geeneen van bogenoemde bepalings kom in AR-1816 voor nie.

Thom het voorstelle oor die hantering van kerklike geskille, tughandelinge en appèl gemaak wat formulerings hieromtrent beïnvloed het22. ’n Lang tugreglement van 92 artikels (art. 44-136 – twee derdes van AR-1824 se 137 artikels) is deur die sinode aanvaar. Dit bevat ’n onderdeel met algemene bepalings, en twee “hoofstukke” met bepalings vir die kerkraad: een oor kerklike opsig en tug, en ’n tweede oor die hantering van kerklike geskille. Die derde onderafdeling bevat bepalings vir die ringe hieromtrent, en ’n onderafdeling vir die hantering van appèlle. ’n Vierde afdeling vir die Algemene Sinode bevat net voorskrifte oor appèlle, en twee artikels oor aansoeke om besluite in revisie te laat neem.

Die beginsels van talle artikels is terug te lees in die Skotse Second Book of Discipline, hoofstuk 7: “Of the Elderships and Assemblies and Discipline”. Van die gebruik van Nederlandse kerkordes (bv. die Dordtse Kerkorde) is geen duidelike, direkte aantoonbare spoor te vinde nie, hoewel daar tussen die Nederlandse en Skotse kerkordes talle raakpunte geïdentifiseer kan word. John Knox was immers een van die groot reformators, het baie by Calvyn geleer, en is diepgaande deur hom beïnvloed. Calvyn het ook in die Skotse ekklesiologie neerslag gevind.23

2.2 Ander invloede

2.2.1 Naas die presbiteriaanse beïnvloeding, was daar ook ander invloede wat op AR-1824 ingespeel het. Sekulêre jurisprudensie is een daarvan. Sir John Truter, eerste hoofregter van die Kaapkolonie en ’n invloedryke persoon, was die politieke kommissaris, wie die owerheid by die sinode verteenwoordig het. In die acta van die sinode lees ’n mens telkens dat die Kommissaris Politiek tussenbeide getree het (intercessie), óf instemming betuig (concurrentie) het, advies gegee het, óf voorstelle aan die hand gedoen het, modifikasies, byvoegings en veranderings aangebring het artikels goedgekeur het, en selfs twee artikels vir die “Reglement vir die hou van Oefeninge” geformuleer het.24 Thom het ook die staat in twee voorstelle betrek.25

Die sinode wou ’n kerkorde hê wat wetlik afdwingbaar moet wees. Daarom adviseer Truter dat die sinodesitting agter geslote deure gehou moet word, omdat “[...] al de te maken Regulatien natuurlijk de sanctie van het Gouvernement behoefden, om de kracht van Wetten te erlangen”.26 AR-1824 artikel 12 en 19 bepaal dat die kerklike reglemente en verordeninge aan die regering voorgelê moet word ten einde goedkeuring daarvoor te bekom. Artikel 19 word aan die sanksie van die regering onderworpe gemaak en wanneer teen kerklike besluite geappelleer word, kan die appellant as laaste uitweg hom op die goewerment beroep.27 Die kerkorde is dan ook fiat die goewerneur Lord CH Somerset onderteken wat dit die krag van ’n bindende edik gee.

Dit is jammer dat ’n konfessionele benadering wat uitgaan van die oppergesag Jesus Christus en die Skrif, nie gevolg is nie, maar sekulêre reg die deurslaggewende rol gespeel het.28 Had die Skrif en die gereformeerde kerkreg die basis vir die nuwe kerkorde gevorm, was die saak dalk anders. Tereg betreur A Moorrees, dosent in kerkgeskiedenis aan die Kweekskool, Stellenbosch, dit dat die sinode nie liewer die Dordtse Kerkorde tot grondslag geneem het nie en dat die kerklike bestuursvorme hulle gedurig moes skik na die veranderde tydsomstandighede.29

2.2.2 Hiermee saam het puriteinsgesinde predikante se sieninge ingespeel op AR-1824. Hierbo is reeds genoem dat voormalige sendelinge van die Londense Sendinggenootskap predikante in die NGK geword het omdat hulle ontnugterd was met die dikwels immorele lewens van ander sendelinge van die genootskap. Hulle was besmoontlik puriteins beïnvloed. Soos George Thom, begin Abraham Faure ook sy studies by dr. David Bogue te Gosport. Bogue was ’n non-konformis en sterk deur die Puritanisme beïnvloed.

Die Presbiteriaanse stelsel wat aanvanklik deur soepelheid in die toepassing van gereformeerde kerkordelike bepalings gekenmerk het, word verplaas deur ’n beskouing dat die kerkorde wette is wat met gesag toegepas word.30 Dié stroming wou ’n “pure church” en ’n “pure life” daarstel.31 In 1564 is vir die eerste keer – spottenderwys – na hulle verwys as “Puriteine”.32 Kort voor lank identifiseer hulle hul volkome met die sogenaamde “Evangelicals” (Piëtiste) wat ’n entoesiastiese vroomheid met sterk klem op die leer voorgestaan het. Thom se eerste voorstel wat hieronder aan die beurt kom, is waarskynlik deur hierdie sentimente beïnvloed.

In dié lig moet AR-1824, artikel 45 (wat tot ’n groot mate ooreenstem met AR-1816, artikel 9) gelees word: “Behalven dat deze onderscheidene vergaderingen zich tot hoofddoel stellen de handhaving van den Godsdienst, byzonder der Hervormde Leer en de Zuiverheid van zeden welke haar is aanbevolen; zoo neemen zy daar en boven kennis van daden en handelingen, die stryden tegen de kerkelyke wetten en verordeningen.”

Dit is kenmerkend van die genootskaplike (kollegialistiese) kerkreg dat die kerklike lewe tot in die fynste besonderhede gereglementeer word. Die Kerk word beskou as ’n gewone vereniging, of soos telkens in AR-1824 genoem, ’n genootskap. Die regering van die Kerk vind plaas volgens die bepalings van ’n reglement, nie volgens die Skrif nie. Dade en handelinge wat strydig is met die kerklike wette en verordening, is strafwaardig (tugwaardig) – nie dade en handelinge wat strydig is met die Skrif en belydenis nie. AR-1824, artikel 45 handel oor die handhawing van die godsdiens, die hervormde leer, en sedes wat die sinode aanbeveel. Die Skrif staan op die agtergrond. Die tug is nie meer kerklike tug nie, maar verenigingstug, reglementstug, en waarsku dat dit dan nie anders kan nie as dat juridiese elemente in kerklike bepalings insluip en die tug van sy ware karakter beroof word.33 Deur die staat by die kerkregering te betrek, word verder gegaan as die Kerk in Skotland. Dit sou die NGK duur te staan kom, want in 1843 word die gewraakte Ordinansie 7 uitgevaardig wat teweeggebring het dat die regering in kerklike sake kon inmeng totdat die regulasie in 1961 herroep is.

  1. Ongepaste en onordelike gedrag

Die onordelike en onverskillige lewenswyse van sommige predikante en lidmate het die meerderheid in die Kerk dwars in die krop gesteek. Moorrees skryf dat toestande in veral die “buitegemeentes” “onhoudbaar” en “ondraaglik” geword het. Dit het die hou van ’n sinode om ’n behoorlike kerkorde op te stel, dringend gemaak. Dit word gewyt aan ’n gebrek aan behoorlike toesig en bepaalde voorskrifte.34 Dit blyk dat “behoorlike toesig” in tipies Puriteinse terme afhanklik gemaak is van “bepaalde voorskrifte” en regulasies – die voorskrifte van die Woord is nie meer voldoende en duidelik genoeg nie!

3.1 Een van die predikante wat probleme veroorsaak het, was J. Scholtz van Zwartland, wat in 1815 dooplidmate wat die kerkraad van Kaapstad nie wou toelaat om belydenis van geloof af te lê nie, maar deur hom as lidmate van die gemeente Zwartland “aangeneem” is.35 In 1820 bevestig hy ’n paartjie in die huwelik en doop hul kind – nogeens, lidmate van die gemeente Kaapstad. Korrespondensie en verwyte tussen die kerkraad en ds. Scholtz vlieg oor en weer. Kaapstad lê ten einde raad ’n klag by die goewerneur, sir Rufane Donkin, wat ds. Scholtz daarna skriftelik streng berispe.36

Tulbagh ondervind dieselfde probleme. Ds. Scholtz doop kinders, en laat jongelinge toe tot belydenis van geloof wat deur die leraar, Kicherer, “niet bekwaam is bevonden”.37 Thom versoek in drie onderskeie artikels kerkregtelike bepalinge hieromtrent.38

3.2 In die Paarl het twee vroue sogenaamde “oefeninge” gehou (dit is byeenkomste waar lidmate as “onderwysers” ’n aantal persone “toespreek” oor “Goddelyke waarheden”). Die vroue het aan die hand van Bybeltekste “eene predikatie uit hun hoofd” gelewer – luidens ’n brief van ouderling G. van der Byl, gedateer 19 Maart 1821 aan die kerkraad van Kaapstad. Volgens ’n ou gereformeerde gebruik mag slegs ouderlinge by ’n erediens ’n preek voorlees – nie voordra nie. ’n Eie preek wat voorgedra is, en dit nog deur ’n vrou, was streng verbode .

Thom se voorstel 17 versoek dat die “oefeninge” verbied word, en stel voor dat dit nie gehou mag word voordat die “onderwyser” behoorlik deur die Kerk ondersoek en toestemming by die plaaslike leraar verkry is nie. Die sinode neem ’n besluit, en bepaal in AR-1824 artikel 32 dat ’n reglement hieromtrent so gou doenlik opgestel word. Opvallend word in artikel 32 die woorde “alsmede aangaande den kring en den aard van de werkzaamheden der Zendelingen” daaraan toegevoeg. Klaarblyklik het sendelinge ook sulke konventikel-byeenkomste gehou. In die reglement wat die sinode geformuleer het, lees ’n mens egter niks oor die sendelinge nie. Dat Thom uit Caledon voorgestel het dat die sinode ’n regulasie daaromtrent opstel, suggereer dat dié soort “konventikelagtige” byeenkomste redelik wydverspreid voorgekom het.

Die reglement bepaal dat diegene wat leiding neem, vooraf deur die plaaslike kerkraad binne wie se grense die byeenkomste gehou word, ondersoek moet word ten opsigte van hul gedrag en lewenswyse. Indien dit bevredigend is, word hul kennis van die “Hervormde Kerkleer” getoets. Indien ook dit bevredigend is, sal toestemming onder bepaalde voorwaardes waarby hulle streng moet hou, verleen word.39 Hierna moes die persone ’n sestal (wydlopende) beloftes maak. Toestemming sou net geldig wees binne die gemeentegrense waar dit verleen is. Artikel ses van die reglement het bepaal dat geen gesensureerde lidmate en ander onbevoegde persone “en vrouwen in het byzonder” van optrede geweer sal word – desnoods, met behulp van die Magistraat.

  1. Hiërargie

Dit is opvallend dat AR-1816, artikels 1 en 2 wat handel oor lidmaatskap van die kerkgenootskap, geheel weggelaat is. Geen gereformeerde kerkorde bevat bepalings oor lidmaatskap nie. Dit is onwaarskynlik dat dit om die rede weggelaat is aangesien dit in 1842 heropgeneem is. ’n Moontlike verklaring mag wees dat vrae moontlik bestaan het oor van die Skotse predikante se lidmaatskap. Daar kon byvoorbeeld geen bewys van lidmaatskap in die registers van Graaff-Reinette van ds. Andrew Murray (sr.) gevind word nie. Dit is bes moontlik dat Thom se regulasie 21 bepalend was: “That as great irregularity has crept in with regard to knowing who are and who are not members of the Reformed Church […]

AR-1824 begin met ’n artikel wat vergelykbaar is met artikel 3 van AR-1816. Dit bepaal: “[h]et bestuur der Hervormde kerk wordt synodaal, provinciaal, classicaal en gemeentelijk uitgeoefend”. Artikel 1 van AR-1824 lui egter: “Het bestuur der Hervormde Kerk wordt uitgeoefend, Gemeentelyk, Ringswyse en Synodaal.”

4.1 Die verandering in die volgorde waarin kerklike vergaderings genoem word, is veelseggend. AR-1824 noem gemeente eerste en sinodaal laaste (“bottom-up”); in AR-1816 is dit omgekeerd (“top-down”). Voorstel agt van Thom se Proposed Regulations40 gebruik dieselfde volgorde. Hy stel voor dat die sinode ’n regulasie aanvaar wat bepaal dat “[t]hat charges against Ministers are only to be brought by the Consistories (kerkraad) to which such belong, and from there to Presbyteries, from which either may appeal to the Synod.”

Die Handelinge van die sinode van 1842 – met ds. Andrew Murray (sr.) as moderator – bevat nie alleen ’n kerkorde in Nederlands nie, maar ook ’n Engelse weergawe: Laws and Regulations for the direction of the Dutch Reformed Church in South Africa.41 Die Engelse vertaling (art. 3) lui: “The Direction of the Reformed Churches is exercised by Consistories, Presbyteries and the General Church assembly.” Die terminologie is eie aan die Presbiteriaanse kerkreg en word gebruik in die hoofstuk: “Of Church-Government, and the several sorts of Assemblies for the same” van The Form of Presbyterial Church Government – die fungerende kerkorde van die Presbyterian Church of Scotland.42 Dieselfde volgorde word in AR-1824, artikel 6 gebruik. Dié artikel handel oor appèl, en bepaal dat dit “trapsgewys” moet geskied. Geen saak mag voor die Algemene Sinode dien voordat dit voor die ring gedien het nie. In AR-1816, artikel 8, is die ooreenstemmende artikel te vinde, maar die trapsgewyse prosedure ontbreek. Dit is duidelik dat hierdie “bottom-up” volgorde, ’n Skots-Presbiteriaanse herkoms het.

Dié verskil tussen die twee reglemente is betekenisvol. Bronkhorst wys tereg daarop dat uit die volgorde van AR-1816 “[...] blijkt al dadelijk het groote beginsel dezer Kerkorde: het recht komt van boven af.”43 Daarteenoor was daar by die Skotse Kerk ’n skerp, selfs fanatieke, afwysing van hiërargie en bekamping van die episkopalisme.44

4.2 Tog is albei artikels in AR-1816 en AR-1824 objektief beskou, hiërargies. Daar is ’n bepaalde historiese agtergrond vir hierdie graduasie van kerkvergaderings in die Presbiteriaanse ekklesiologie. In Skotland het die volk vir die Reformasie gekies, maar daar was geen georganiseerde protestantse gemeentes nie. ’n Organisasie moes daargestel word om die reformasie deur te voer. John Knox het hiervoor gesorg, en hierdie wyse van optrede speel steeds ’n deurslaggewende rol in die Skotse verstaan van kerkvergaderings.45 Daarteenoor is AR-1816 ’n reglement wat deur die regering (koning) sonder inspraak van die kerk, ingestel is. Kerkregtelik het wanorde in die negentiende eeu geheers. Die meeste predikante en professore was vervreemd van egte gereformeerde opvattings. AR-1816 is sonder veel weerstand deurgevoer.46

Die Algemene Sinode van die Presbiteriaanse Kerk dien as die “highest court of the Church”. Thom se regulasie 20 vra vir ’n bepaling dat [...] only Commissioners should be in church courts who are members of the Reformed Church […]. Ook Presbyterianism deur John MacPherson, die kerkreg-handboek wat aanvanklik aan die Kweekskool in Stellenbosch gevolg is, gebruik dié terminologie. Deel 2 hoofstuk II handel oor die “Gradation Of Church Courts”. Hy skryf: “[t]he courts essential to a regularly developed Presbyterian constitution are the Kirk-session, the Presbytery, and the Synod.” 47

Die Skotse Kerk het die Reformasie so verstaan dat daar geen sprake mag wees van hiërargie van persone of ampte nie, maar wel ’n hiërargie van vergaderings. Elke meerdere vergadering het ’n hoër gesag as die mindere.48 Nogtans gaan Knox en die Presbiteriaanse kerkreg van die standpunt uit dat die opbou van die plaaslike gemeente fundamenteel is vir ’n gesonde kerklike lewe.49 Dit is ’n belangrike klem in die Skotse Kerkreg wat nie misgekyk mag word nie, en lewer opheldering vir die “bottom-up” volgorde in AR-1824 artikel 1.50

4.3 Ook is AR-1824, artikel 2, beïnvloed deur die Skots-Presbiteriaanse kerkreg. AR-1816, artikel 4 lui: “De Leden der Collegia, waaraan dit onderscheiden bestuur, volgens na te meldene bepalingen, wordt opgedragen, stemmen altyd hoofdelyk zonder eenigszins gebonden te zijn aan lastbrieven van de vergaderingen of kerken, voor welke zij kunnen geacht worden te verschijnen”. Die eerste gedeelte rakende hoofdelike stemming, is verbatim oorgeneem, maar die laaste gedeelte rakende lasbriewe is weggelaat. Dit impliseer dat in AR-1816 gemeentes by meerdere vergaderings buite die rekening gelaat word, terwyl lasbriewe juis die plaaslike Kerk betrek. Die lasbrief gee ouderlinge inspraak in die breë kerkverband.51 Presbiterianisme gaan juis daaroor dat kerkrade se stem en standpunt duidelik op meerdere vergadering gehoor word.

  1. Ringe

Op 5 November 1824 besluit die sinode – op voorstel van Thom “[t]hat the Colony be divided into (Classes)”52 – om die gemeentes in drie ringe in te deel.53 Die benaming “ring” in plaas van die gebruiklike Nederlandse “classis” kom hier vir die eerste keer in amptelike kerklike dokumente voor. Dit is ’n term eie aan Suid-Afrikaanse ekklesiologie, en beperk tot gebruik deur net die NG en Hervormde kerke. Die sesde afdeling van AR-1816 gebruik wel die term “ring”, maar dit is uitdruklik nie ’n klassis nie. Ringsbyeenkomste is vir predikante alleen, en “[...] niet ter uitoefening van eenig kerkelijk bestuur, maar, ter onderlinge opscherping en versterking van den band der broederlijke liefde”. Thom plaas “Classes” na die woord “Presbyteries” tussen hakies. Dié terme is klaarblyklik vir Thom identies, en word “ring” gebruik om sowel die Skotse “presbytery” as die Nederlandse “classis” te “vertaal”.

  1. Gereformeerd?

Thom maak twee voorstelle waaroor positief geoordeel moet word.

6.1 Voorstel 1 van sy Fundamental Regulations vra dat die sinode erkenning sal gee aan en deel gemaak word van die “[...] Fundamental Law of both the Established Reformed Churches of Scotland and Holland that no Minister by age, situation, title, character or talents should have a preeminence above his Brother Ministers […]”54 Dit reflekteer die bekende sogenaamde anti-hiërargiese beginsel, die eerste artikel van die eerste gereformeerde kerkorde – dié van die Sinode van Emden, 1571. Sedertdien is dit opgeneem in alle gereformeerde kerkordes (bv. Dordtse Kerkorde, art. 84). Die Skotse Second Book of Discipline, hoofstuk 3, artikel 7 het ’n soortgelyke bepaling.

6.2 Die tweede is vervat in voorstel 24 waarin gevra word “[t]hat the Heidelbergsche Catechism should be required to be preached and expounded, agreeably to the Reformed Church in Holland, (volgens die Dordtse Kerkorde, art. 68 moes elke Sondag tydens die middagdiens ’n kategismuspreek gelewer word) in every church within this colony, and at least once every month in country districts.”55 Die kommissie wat daarmee moes handel, het die voorstel “eenigermate duister” gevind, en was onseker onder “welke rubrieken” dit geplaas moes word.56 Van die voorstel het niks gekom nie.

Helaas is die twee voorstelle van Thom nie in AR-1824 opgeneem nie.

  1. Die verhouding tussen die NGK en die Kerk in Skotland

Een van die mees verreikende voorstelle van Thom se Temporary Propositions is die vierde waarin voorgestel word dat die Algemene Vergadering van die Kerk van Skotland genader sal word met die versoek dat “[...] they may formally recognise us and remain in communion with us […]”.57 Dit moet saam gelees word met sy negende voorstel insake appèlle, dat “[...] a final appeal may be made to the General Assembly of the Church of Scotland”.58 Die sinode notuleer dat “na rijpe deliberatie unaniem geoordeeld” is dat “verbroedering met deze Kerk van wezenlijk belang zoude zijn”, maar dat die proses om so ’n besluit toe te pas, baie problematies sou wees.59 Die sinode oordeel dat sodanige bande “van wesenlike belang” sou wees, maar besluit om voorlopig nie ’n finale besluit te neem nie.60 Dié aangeleentheid is egter nooit weer bespreek nie.

Sir John Truter is ’n ander mening toegedaan. Hy skryf in sy verslag aan Lord Charles Somerset: “[...] we were not of opinion with the Synod, that a Union of the Scottish Church […] with the Colonial Reformed Church, would be to the interest of the latter.” Hy skryf ook dat belangrike lede van die NGK nie oortuig was dat die “[...] doctrine and discipline of the Scots and Reformed Churches agree entirely in every respects (sic).” Volgens hom – anders as wat die Handelinge van die sinode notuleer – was dié ongemak van so ’n ernstige aard dat dit tot skeuring en wanorde in die Kerk sou lei, en dit die publieke rus en vrede kon verstoor.61

Beoordeling

AR-1824 het AR-1816 as basisdokument gebruik, maar slegs 27 artikels kan na AR-1816 teruggespoor word. Die invloed van dr. George Thom en die Skotse predikante het ’n beduidende invloed uitgeoefen waardeur AR-1824 ’n definitiewe, identifiseerbare Skots-Presbiteriaanse inkleding gekry het.

Die presbiteriaanse Form of Church Government is baie nader aan die Bybelse beginsels van die regering van Christus in die Kerk as AR-1816 – wat dit vanuit ’n gereformeerde oogpunt meer aanvaarbaar maak as laasgenoemde kerkorde. Daar is egter tekortkominge soos byvoorbeeld die hiërargie van vergaderings, dat deurgaans van meerdere vergaderings as “courts” gepraat word, en artikels en terminologieë gebruik word wat afwyk van Bybelse, gereformeerde beginsels.

Plaaslike omstandighede het ’n belangrike rol gespeel, en ’n groot aantal reëls is geformuleer wat nie in die Skotse of Nederlandse kerkordes voorkom nie. Dit toon ’n tendens om die kerklike lewe tot in die fynste besonderhede te reguleer, en laat weinig vryheid dat die Kerk haar deur die Heilige Gees in ooreenstemming met die Skrif kan laat lei.

Dit is diep te betreur dat die Kerk homself nie as ’n instelling sui generis teenoor die staat gehandhaaf het nie, maar homself aan die staat ondergeskik gestel het om sy ordes die krag van ’n amptelike edik te gee. Die Kerk het eiehandig homself aan die aanspraak van die staat en die sekulêre regbank prysgegee.

Die mengsel van invloede op die NGK – wat homself dikwels ’n genootskap of denominasie genoem het – het hom met ’n genootskaplike (kollegiale) ekklesiologie en kerkreg gelaat wat tot vandag toe invloed uitoefen.

Bibliografie

Botha, D.C. (1982) “Die Kerk op Tulbagh”, MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Bouwman, H. (1928) Gereformeerd Kerkrecht I. Kampen: JH Kok.

Britz, R.M. (1985) Oor die kerkbegrip en die ordening van die kerklike lewe by die Nederduitse Gereformeerde Kerk. NGTT deel xxvi, September.

Bronkhorst, A.J. (1945) Op weg naar een nieuwe Kerkorde; de beteekenis van de komende Generale Synode voor de Nederlandsch Hervormde Kerk. Amsterdam: W. ten Have.

Brown, E. (1992) Die hervertolking van die paradigma in verband met die Kollegialisme om die Afrikaanse kerke kerkregtelik te verstaan. HTS Teologiese Studies, Vol 48(3/4):691-715.

Coertzen, P. (1991). Gepas en Ordelik: ’n Teologiese verantwoording van die orde vir en in die Kerk. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

De Wet, C.J.H. (1921) Die kollegiale kerkreg. Amsterdam: Bottenburg.

Du Plessis, J. (1920) Het Leven van Andrew Murray. Kaapstad: Zuid-Afrikaanse Bijbelvereniging.

Du Toit, P.R. (2022) South Africa’s Reformed Churches improved aspects of the Dutch church polity in the 19th century. Verbum et Ecclesia. [Intyds]. Beskikbaar: https://verbumetecclesia.org.za/index.php/ve/article/view/2544/5898 [Toegang: 26 Junie 2025].

Hodge, C. (1879) The Church and Its Polity. London: T. Nelson.

Jonker, W.D. (1964) Die Liberale Kerkreg en die Veelheid van Kerke. NGTT, 5(1):Januarie.

—. (1981) Die Gees van Christus. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Jonker, WD en GJ Duursema. 2022. Die Regering van Christus in Sy Kerk : Geskiedenis van die ontwikkeling van die Gereformeerde Kerkreg. Pretoria: Lig in Duisternis Uitgewers.

Kleynhans, E.P.J. (S.a., S.L.) Die kerkregtelike ontwikkeling van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika 1795-1962.

Lechler, G.W. (1854) Geschichte der Presbyterial- Und Synodalverfassung seit der Reformation: Gekrönt von Der Haager Gesellschaft zur Vertheidigung Des Christenthums. Leiden.

Macpherson, John. (s.a.) Presbyterianism. Edinburgh: T & T, Clark

Moorrees, A. (1937) Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, 1625-1873. Kaapstad: Suid-Afrikaanse Bybelvereniging.

Neethling, Maria Murray. (1909) Unto Children’s Children: Lives and letters of the parents of the home at Graaff Reinet, with short sketches of the life of each of the children, and a register. Londen: Hopkins & Son.

Royaards, H.J. (1848) De Nederduitsch-gereformeerde kerk in Zuid-Afrika (Kaap de Goede Hoop), in haren kerkregtelijken toestand, vooral in betrekking tot Nederland. Leiden: Luchtmans.

Spoelstra, B. (1989). Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering : ’n Handboek by die Kerkorde. Hammanskraal: Hammanskraalse Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Smit, A.P. (1944) Gedenkboek van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Beaufort-Wes (1820-1945). Eie uitgawe, NG Kerkraad, Beaufort-Wes, gedruk deur die Nasionale Pers, Beperk, Kaapstad.

van Loon, J.C.A. (1942) Het algemeen reglement van 1816. Wageningen: Zomer & Keuning.

van Lieburg, F.A. en J. Roelevink (red.). (2018) Ramp of Redding? 200 Jaar Algemeen Reglement voor het bestuur der Hervormde Kerk in het Koninkrijk der Nederlanden 1816-2016. Zoetermeer: Boekencentrum.

van Rinsum, H.J. (2006) Sol Iustitiae En de Kaap: Een Geschiedenis van de Banden van de Utrechtse Universiteit Met Zuid-Afrika. Hilversum: Verloren.

Wolf, Erik. (1961) Ordnung Der Kirche; Lehr- Und Handbuch Des Kirchenrechts Auf Ökumenischer Basis. Frankfurt am Main: V. Klostermann.

Argivale bronne

S1/1 Acta Synodi: G. Thom “Proposed Fundamental Regulations”.

S1/7 Acta Synodi: “Laws and Regulations for the direction of the Dutch Reformed Church in South Africa revised in the General Assembly of the Church held in Cape Town on the first of September and following days of the year 1842” Argiefbewaarplek: NG Kerk in SA, Stellenbosch.

S3/2 Ingekomen Brieven by den Actuarius Synodi 1827-1842. Argiefbewaarplek: NG Kerk in SA, Stellenbosch.

Gem/K 1014: Notules 1813-1817 “Notule van die Kerkraadsvergadering van Kaapstad van 6 Maart 1815.” Argiefbewaarplek: NG Kerk in SA, Stellenbosch.

Gem/K 1015: Notule 1817-1821(a): “Notule van die Kerkraadsvergadering van Kaapstad van 7 Augustus 1820. Argiefbewaarplek: NG Kerk in SA, Stellenbosch.

Gem/K 1015: Notule 1817-1821(b): “Notule van die Kerkraadsvergadering van Kaapstad van 2 April 1821”. Argiefbewaarplek: NG Kerk in SA, Stellenbosch.

Gem/K 2369: 1806-1829: “Notule van die kerkraadsvergadering van Tulbagh van 18 Januarie 1818.” Argiefbewaarplek: NG Kerk in SA, Stellenbosch.

Acta sinodi

Handelingen der eerste vergadering van de Algemeene Synode der Nederduitsche Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika: 1824. Kaapstad: Machine Drukkerij van G. J. Pike, 1857.

Handelingen der zesde vergadering van de Algemeene Synode der Nederduitsche Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika. Van De Sandt De Villiers & Co., 1858.

Elektroniese bronne

Church law. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.churchofscotland.org.uk/about-us/general-assembly/church-law. [Toegang: 20 Oktober 2024].

Dominees, (s.a.) [Intyds]. Beskikbaar: https://www.dominees.nl/overleden.php?q=overl1827 / (Toegang: 24 Julie 2025].

Du Toit, P.R. (2022) South Africa’s Reformed Churches improved aspects of the Dutch church polity in the 19th century. Verbum et Ecclesia 43(1):a2544. https://doi.org/10.4102/ve.v43i1.2544 (Besoek: 26 Junie 2025). [Intyds]. Beskikbaar:

https://kerkrecht.nl/node/5945/. [Toegang: 26 Junie 2025].

Thom Scottish Pioneer in SA, 1990. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.christianstudylibrary.org/article/george-thom-1789-1842-scottish-pioneer-south-africa. [Toegang: 20 Oktober 2024].

Westminster Standards (1643–1649). [Intyds]. Beskikbaar: https://thewestminsterstandard.org/form-of-presbyterial-church-government/ [Toegang: 20 Oktober 2024].


  1. 1 Coertzen, P. (1991) Gepas en Ordelik: ’n Teologiese verantwoording van die orde vir en in die Kerk. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, 244.

  2. 2 Kleynhans, E.P.J. (S.a., S.L.) Die kerkregtelike ontwikkeling van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika 1795–1962, 124. Hy wy die volgende bladsye (124–130) daaraan om die substans van sy standpunt te verduidelik

  3. 3 Vgl. Britz, R.M. 1985. “Oor die kerkbegrip en die ordening van die kerklike lewe by die Nederduitse Gereformeerde Kerk” in NGTT deel xxvi, September 1985, 422 en Brown E. 1992. “Die hervertolking van die paradigma in verband met die Kollegialisme om die Afrikaanse kerke kerkregtelik te verstaan” HTS Teologiese Studies, 1992, Vol 48(3/4):702–3.

  4. 4 Vgl. Coertzen, a.w., 243; Brown a.w., 701; Spoelstra, B. 1989. Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering: ’n Handboek by die Kerkorde. Hammanskraal: Hammanskraal Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 21.

  5. 5 Vanaf 18 November 1792 die gemeente Spankeren en vanaf 30 Julie 1797 tot 23 Augustus 1814, Bloemendaal.

  6. 6 Sien https://www.dominees.nl/overleden.php?q =overl1827/

  7. 7 Sien van Rinsum, H.J. (2006) Sol Iustitiae En de Kaap: Een Geschiedenis van de Banden van de Utrechtse Universiteit Met Zuid-Afrika. Hilversum: Verloren, 31–2.

  8. 8 Sien Brown, a.w., 705; van Rinsum, a.w., 36.

  9. 9 Sien Jonker, WD. 1964. “Die Liberale Kerkreg en die Veelheid van Kerke” in NGTT, 5(1):4.

  10. 10 Royaards, H.J. 1848. De Nederduitsch-gereformeerde kerk in Zuid-Afrika (Kaap de Goede Hoop), in haren kerkregtelijken toestand, vooral in betrekking tot Nederland. Leiden: Luchtmans. 47–8.

  11. 11 Neethling, Maria Murray. (1909) Unto Children’s Children: Lives and letters of the parents of the home at Graaff Reinet, with short sketches of the life of each of the children, and a register. Londen: Hopkins & Son. 20.

  12. 12 Sien: https://www.christianstudylibrary.org/article/george-thom-1789-1842-scottish-pioneer-south-africa.

  13. 13 Sien Botha, D.C. (1982) “Die Kerk Op Tulbagh”, MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch, 146–8.

  14. 14 Handelingen der eerste vergadering van de Algemeene Synode der Nederduitsche Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika: 1824. Kaapstad: Machine Drukkerij van GJ Pike, 1857. 2

  15. 15 S1/1 Acta Synodi, 22–9

  16. 16 https://www.christianstudylibrary.org/article/george-thom-1789-1842-scottish-pioneer-south-africa.

  17. 17 A.w., 146.

  18. 18 Vir ’n omvattende beskrywing van die kerkregtelike ontwikkeling in Skotland, sien Jonker, W.D. en G.J. Duursema. 2022. Die Regering van Christus in Sy Kerk: Geskiedenis van die ontwikkeling van die Gereformeerde Kerkreg. Pretoria: Lig in Duisternis Uitgewers, 117–145, 221–225 en 334–355.

  19. 19 https://www.christianstudylibrary.org/article/george-thom-1789-1842-scottish-pioneer-south-africa.

  20. 20 S1/1 Acta Synodi:26

  21. 21 Handelingen 1824, 11

  22. 22 Sien “Fundamental Regulations” voorstelle 3, 4, 8 en 9.

  23. 23 Sien Jonker en Duursema, a.w., 125. Hoewel hulle dieselfde terminologie gebruik het, is dit egter ’n vraag of die Skotse predikante en die “Hollandse” predikante dieselfde daaronder verstaan het en of hulle nie elkeen ’n sin van sy eie gehad het nie – sien Brown, a.w., 703. Brown skryf voorts: “’n Verstaan van die regering van ’n besondere kerk in terme van ’n kerkregtelike paradigma vereis ’n bronnestudie, en die verstaan van die bepaalde kerkhistoriese konteks en problematiek, aannames en oorwegings eie aan die grondgedagte of uitgangspunte en die kerk ter sprake.” Dit val egter buite die skopus van dié artikel.

  24. 24 Sien Handelingen 1824, 7, 8, 9, 12; 15–6.

  25. 25 Sien Thom Fundamental Regulations art. 10 en 20 asook Temporary Propositions art. 6.

  26. 26 Ibid., 2; vgl. ook 13, 22 en 30.

  27. 27 Sien art. 11.

  28. 28 Sien Brown, a.w., 692

  29. 29 Moorrees, A. 1937. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, 1625–1873. Kaapstad: Suid-Afrikaanse Bybelvereniging, 553.

  30. 30 Jonker en Duursema, a.w., 225

  31. 31 Sien Bouwman a.w. 262–7.

  32. 32 Vir die samevloeiing van Puritanisme en Presbiteriane, vlg. Lechler, G. V. 1854. Geschichte der Presbyterial- Und Synodalverfassung seit der Reformation: Gekrönt von Der Haager Gesellschaft Zur Vertheidigung Des Christenthums. Leiden, 102–9; 174–196. Sien ook Hodge, C. 1879. The Church and Its Polity. London: T. Nelson, 101–2; Wolf, Erik. 1961. Ordnung Der Kirche; Lehr- Und Handbuch Des Kirchenrechts Auf Ökumenischer Basis. Frankfurt am Main: V. Klostermann, 343, 520

  33. 33 Vgl. Jonker en Duursema, a.w., 235–6

  34. 34 Sien Moorrees, a.w., 537–40.

  35. 35 Gem/K 1014: Notules 1813–1817(a): 6 Maart 1815

  36. 36 Gem/K 1015: Notule 1817–1821(a):7 Augustus 1820

  37. 37 Gem/K 2369 Notules: 1806–1829: 12 Januarie 1818

  38. 38 Proposed regulations Art. 13, 14: en Temporary Propositions: art. 7.

  39. 39 Sien art. 2.

  40. 40 Sien S1/1 Acta Synodi, 23

  41. 41 S1/7 Acta Sinodi.

  42. 42 Sien: Westminster Standards, 1643–1649.

  43. 43 Bronkhorst, AJ. 1945. Op weg naar een nieuwe Kerkorde; de beteekenis van de komende Generale Synode voor de Nederlandsch Hervormde Kerk. Amsterdam: W. ten Have, 21.

  44. 44 Jonker en Duursema, a.w.:129–30, 131, 133–4

  45. 45 Jonker en Duursema, a.w., 117–20.

  46. 46 Jonker en Duursema, a.w., 248–59, 271–4. Vgl. van Lieburg en Roelevink (red.), 2018.

  47. 47 MacPherson, s.a.:119–131. Die Skotse Kerkreg noem kerkvergaderings deurgaans courts. Sien: Jonker en Duursema, a.w.: 2022:133; vgl. MacPherson, a.w.,103–4.

  48. 48 Jonker en Duursema, a.w., 133–4.

  49. 49 Jonker en Duursema, a.w., 122. Vgl. Lechler, 1854:88.

  50. 50 Vgl. MacPherson, a.w., 119, e.v.; Jonker en Duursema, a.w., 119.

  51. 51 Bronkhorst, a.w., 23

  52. 52 Sien voorstel 2 van die Proposed Regulations, S1/1 Acta Synodi, 22

  53. 53 Sien voetnoot by artikel 1, Handelingen, 1824, 7.

  54. 54 S1/1 Acta Synodi, 22.

  55. 55 Volgens die Dordtse Kerkorde, art. 68 moes elke Sondag tydens die middagdiens ’n kategismuspreek gelewer word.

  56. 56 Handelingen 1824, 6.

  57. 57 S1/1 Acta Synodi, 27.

  58. 58 S1/1 Acta Synodi, 27.

  59. 59 Handelingen 1824, 18–9.

  60. 60 Handelingen 1824, 23.

  61. 61 S3/2 Ingekomen Brieven, 1827–1842.